.........
Die program beskryf dit as “’n veelvlakkige buitelug-aanbieding en een wat uit reaksie op die pandemie gebore is. Om ’n inkomste te genereer vir mense wat in die kulturele sektore werk wie se inkomstes uitgewis is; én vir diegene wie se honger vir die lewe, betekenisvolle ontmoetings en veilige toegang tot die natuur, kan saamkom.”
..........
Die tweede seisoen van die bekroonde teatermaker Brett Bailey se Constellations keer in samewerking met Third World Bunfight en Spier Wynlandgoed terug na die plaas en word op die oewer van die Eersterivier gehou.
Die program beskryf dit as “’n veelvlakkige buitelug-aanbieding en een wat uit reaksie op die pandemie gebore is. Om ’n inkomste te genereer vir mense wat in die kulturele sektore werk wie se inkomstes uitgewis is; én vir diegene wie se honger vir die lewe, betekenisvolle ontmoetings en veilige toegang tot die natuur, kan saamkom.”
Bailey het onlangs teruggekeer van ’n suksesvolle toer na Frankryk en Spanje met Third World Bunfight se bekroonde produksie Samson.
.......
Constellations se 2021-tema is “Into the woods” en Bailey verduidelik hoe woude en wilde plekke in die mitologie en verhale van baie volke aanwesig is en dikwels voorgestel word as vreemde streke buite gestruktureerde bekendheid en burgerlikesamelewingskodes.
.........
Constellations se 2021-tema is “Into the woods” en Bailey verduidelik hoe woude en wilde plekke in die mitologie en verhale van baie volke aanwesig is en dikwels voorgestel word as vreemde streke buite gestruktureerde bekendheid en burgerlikesamelewingskodes.
“Neem byvoorbeeld die storie van Gouelokkies en Hansie en Grietjie," sê hy. "Sulke verhale konfronteer vreemde en wonderlike karakters; in Xhosa-folklore skuil woestyndiere langs die brose grense wat huis definieer. Ook word woude dikwels geassosieer met drome, verbeelding en die onbewuste, en vanuit die ekoperspektief word hulle gekoester as wildparadys wat waardeer en beskerm moet word.”
Ons arriveer skuins na ses om ons piekniekmandjie en bottel wyn by die plaaskafee en deli te kry. Oorkant die dam by die proelokaal wag ’n afgesonderde bankie en tafel vir ons. Die son maak pienk patrone in die lug terwyl ons smul aan die kerrieblomkool, hoenderboudjies, baguette en kaas. Die Spier 3 rooi versnit is net die regte medisyne teen die luggie wat onverwags koud gedraai het na die warm dag.
Voëls kom huis toe, ’n bleshoender en haar kuikens trap-trap oor die waterlelieblare om goggas te vang.
’n Bruin kuifkopvisvanger sit op ’n droë tak en bespied die wateroppervlak vir enige beweging wat dalk ’n sappige aandete kan word.
Met die son aan’t ondergaan stap ons verkwik oor na die proelokaal. Hier wag sowat 30 ander mense. Elkeen het ’n glas wyn geniet en staan en wag met ’n bottel water en kussing met ’n gekleurde band vir Brett se woorde.
“Die gidse sal julle oor die drumpel lei. Los al jul geselsies hier, dit sal net in die pad wees; gee eerder oor aan die woud en die ruimtelikheid daarvan.” Die optrede is in drie kleurroetes verdeel, elkeen met sy eie gidse in ooreenstemmende kleure. Ons stap van die proelokaal om die dam, tot teen die rivier. Die gidse van die groen roete stap tussen ons en klokke word gelui soos ons stap. Dit word ’n ritmiese dreunsang met elke voeteval.
Onder ’n boom voor ’n brug oor die rivier na regs en die reusebome na links word ons in groepe verdeel en bykans elke paartjie geskei. Elkeen kry ’n sterk flits en word gevra om versigtig te trap; stil te wees terwyl ons stap; maar so interaktief om die vuur te wees as waarmee ons gemaklik voel.
Altesaam 27 kunstenaars span in hierdie produksie sam: die Fire Guardians (met die musikante Odwa Bongo, Manu Grace, Moodship, FreeMan locs, Jak Tomas, Nkosenathi Koela, Thandeka Mfinyongo, Miles Sievwright en Dizu Plaatjies); optredekunstenaars Nwabisa Plaatjie, Gaetan Schmid, Thando Doni, Rehane Abrahams, Qondiswa James, Wessel Pretorius, Nico Athene, Siphenathi Mayekiso, Louise Westerhout, Megan Choritz en Odidi Mfenyana; digters en storievertellers Philippa Kabali-Kagwa, Liza Scholtz, Malika Ndlovu en Toni Giselle Stuart; en die mistici en vrydenkers Rod Suskin, Lindi Dlamini en Tapiwa Gurza.
My groepie van drie volg ons gids. Om haar middellyf is beesklokkies geknoop wat saggies onder haar inheemse lapdoek klingel. Ons eerste stop is by die vuur van Liza Scholtz, akteur, skrywer en digter.
Ek probeer om die woorde wat sy saggies fluister terwyl sy om die vuur stap, te onthou. Dit voel asof elke woord vir my bedoel is; asof ons ou vriende is wat mekaar jare laas gesien het, wat nou sit en waarhede oor die lewe uitruil. Ek vind egter dat my konsentrasie danksy die pandemie verswak het, dat daar altyd ’n effense gejaagdheid in my asem is; my hartklop effe vinniger; asof ek heeltyd op die uitkyk vir gevaar is.
Ek fokus op haar woorde om inspirasie daaruit te put, maar besef dat die kabbelende rivier agter my, die groot knetterende vlamme in die vuurput voor my voete en die naggeluide uit die bome my aandag hier en daar vir rukke gevange hou. Dis ook asof ek só gewoond is om ’n mooi foto te wil neem, só gewoond is om terug te praat, só gewoond is om na die ander mense in die groep te wil kyk vir hul insae dat ek sukkel om haar wyshede te absorbeer.
Die nuus dat my land weer terug op die wêreld se rooilys is, is pas aangekondig en die onrus maal deur my kop, wil-wil my bene lam maak. Ons is so pandemievoos.
Tog is daar begrippe en frases wat vashaak; asof nie alles deur die groot sifgate in my brein val nie. Sy fluister:
The tides of change usher in an invitation to deep self-discovery
And are we not all travellers?
Whether stagnant or in motion
You feel far away from yourself
Because you are standing still and moving forward
At the same time.
You know where you are
And you know where you want to be
And the space between feels vast as an ocean
You wonder whether you will sink or swim
You hope for the courage to do both.
Dit voel asof sy tot in my siel gekyk het. Hóé kan ek my nie vereenselwig met die reusevakuum tussen waar ek wil wees en waar ek tans vasgevang sit nie.
Die tweede stop is by die ervare teatermaker, regisseur en akteur Megan Choritz wat die storie van haar geboorte, grootwordjare en die dood van haar pa vertel. Sentraal in haar storie is ’n oppasser wat vir 14 jaar onlosmaaklik deel van haar lewe was, bome en kraaie. Sy vertel van die verlies van vertroue omdat sy uit jaloesie haar verhouding met haar oppasser vernietig het, die dood van haar jong kêrel en die laaste oomblikke van haar pa se lewe. Die rivier raas só hard agter my rug dat haar stem soms wegraak in die gedruis. Maar hier probeer ek niks wyshede vasvang nie, ek gee my net oor aan die storie. Ek is in elke oomblik om daardie vuur. Toe sy ons later ’n goeie reis na die volgende vuur toewens, is ek spyt die storie is klaar.
By ons laaste ervaring, speel Miles Sievwright op sy kitaar. Sy stem soms so sag dat jy dit skaars hoor bo die mistieke klanke wat jou na die Ooste, oor Wes-Afrika en terug voer. Daar om die vuur is dit net die musiek, die rook wat soms in my neus opdwarrel en die effense koue wat in my rug kom sit. Dis al.
Ek voel hoe my hande, wat krampagtig vasgeklou het aan die ruwe klippe van vrees, woede en angs wat die pandemie oor ons gebring het, oopvou, skietgee. Hoe die klippe een vir een uit my hande val en saggies in die riviersand hul lê kry. Hoe my longe diep teue aandlug inasem; die sterre deur die takke sigbaar word soos die nag aanskuif.
Ek is opnuut bewus daarvan dat ek meer as 19 maande laas só vredig, sorgeloos om ’n vuur gesit het. Ek is nie eers bewus van die ander mense in die kring nie, hoewel die vlamme hul gesigte in goud hul en ek seker dieselfde tipe oorgawe daarin sou lees.
Ek ruik die paraffienlampe wat aan pale buite die vuurkring hang. Die 30 minute daar is ook hopeloos te gou verby.
.......
Dis wonderlik om te ervaar hoe al die kunstenaars die inisiatief neem met hoe hulle hulle “Into the Woods”-interpretasie uitleef.
.........
Dis wonderlik om te ervaar hoe al die kunstenaars die inisiatief neem met hoe hulle hulle “Into the Woods”-interpretasie uitleef.
Toe ek en my geliefde na twee uur herenig word, ons flitse in ’n mandjie plaas en die ander groet, is ek steeds bewus van die afwesigheid van angs en woede wat te wyte aan Covid so deel van my alledaagse lewe geword het.
Die terugstap om die dam waar die maan nou silwerpatrone oor die water gooi, die paddakoor wat luidkeels in stemme kwaak, en die koue aandluggie wat my wange pienk laat uitslaan van die koue, is wat ek saamdra motor – en huis – toe.
“Toeskouers sal terugkeer na die stad met die reuk van rook in hul klere, hul siele verryk en hul verbeelding verbreed,” was Bailey se belofte voor ons vertrek.
Dis al.
Constellations
Met: Odwa Bongo, Manu Grace, Moodship, FreeMan locs, Jak Tomas, Nkosenathi Koela, Thandeka Mfinyongo, Miles Sievwright, Dizu Plaatjies, Nwabisa Plaatjie, Gaetan Schmid, Thando Doni, Rehane Abrahams, Qondiswa James, Wessel Pretorius, Nico Athene, Siphenathi Mayekiso, Louise Westerhout, Megan Choritz and Odidi Mfenyana, Philippa Kabali-Kagwa, Liza Scholtz, Malika Ndlovu, Toni Giselle Stuart, Rod Suskin, Lindi Dlamini en Tapiwa Gurza.
Regie: Brett Bailey
Spier Wynlandgoed, Stellenbosch
Tot 18 Desember
Tot 8 Desember, Woensdag tot Saterdag; daarna Donderdag tot Saterdag
Ouderdomsbeperking: Geen onder 12’s
Kaartjies teen R180 elk is aanlyn beskikbaar by www.webtickets.co.za. Kaartjies sluit ’n glas Spier-wyn in. Pieknieks kan ook vooraf bespreek word.
The post <em>Constellations</em> by Spier: Teater in die woud maak kop skoon appeared first on LitNet.