Vincent
Verf winterblou oor jou skilderdoek
laat die aarde bloei in Namib-bruin
olyfgroen verskroei in suurlemoen;
verkoel in skadu’s van blou, en bruin
verdor ’n sonneblom se sombergeel
en koring is soos ’n see wat dein
oor heuwels waar vrees in onweer speel.
’n Impasto van die lewensgang
waar raafswart sorge jou vrede steel.
In die kolk van onstuimigheid hang
die môrester aan ultramaryn
’n sterrekoor verhef ’n lofsang.
want God het tussen mense kom bly –
uit liefde gelewe en gely.