wit soos walvismae
wit soos walvismae
swem wolke verby
deur die uitspansel
se akwamaryn
stertklappend
spuit hulle water
die hele hemel vol
al is dit nog vroegdag
stig die son oral brand
stook ywerig die hoogoond
hier benede gaan dit
’n snikhete dag wees
terwyl die walviswolke
woelig kattemaai
anderkant
die lug se breekwater
in die wye baai
van opaalblou
en neusoptrekkerig
amper meerderwaardig
laggend
op ons neerkyk
The post wit soos walvismae appeared first on LitNet.