Marlene Malan met Pieter Fourie gevoer het toe sy debuutdigbundel in 2017 verskyn het. Hierdie onderhoud is nog nie elders gepubliseer nie en word goedgunstiglik en met toestemming op LitNet gepubliseer.
Vraaggesprek tussen Marlene Malan en Pieter Fourie (11 Augustus 2017)
Pieter, jou debuutbundel, Knapsekêrel, het pas by Naledi verskyn. Die poësie was klaarblyklik jou eerste liefde, want jy het DJ Opperman se diglaboratorium bygewoon. Waarom het jy die poësie versaak en toe ’n leeftyd aan die teater gewy?
Op daardie stadium was my agtergrond en verwysingsveld in die letterkunde maar uiters skraal. Die onmiddellikheid van die teater het my aangetrek. Ook die feit dat dit ’n groepskuns is. ’n Ensemble met voortdurende en indringende kruisbestuiwing en interaksie tussen dramaturg, regisseur, akteur, ontwerpers en gehore.
En hoe kom jy toe weer by die digkuns uit?
Met 16 dramas op die rak, verskeie rolle as akteur, 69 stukke as regisseur en verskeie verbintenisse mbt artistieke beheer en teateradministrasie, oa by Kruik (Kunstekaap) 16 jaar en KKNK vyf jaar, het ek op 70 besluit om die gordyn te laat val. Mens kan maar sê oumense moenie in die water mors nie, die kinders wil dit drink.
Toe besluit ek om terug te keer na ’n ou liefde wat glo nooit roes nie. En toe is dit jou wrintiewaar die waarheid!
’n Opvallende kenmerk van jou bundel is jou intieme kennis van byna uitgestorwe ambagte: putgraaf, seepkook, bok-oppas, asook die ou gebruike van die platteland, soos die plaasskuurdans, veldkos eet. Hunker jy terug na hierdie gebruike, na die sogenaamde ou dae?
Nie soseer ’n hunkering nie, maar ’n herwaardering en evaluering van kwaliteit en die vermoë om onder moeilike omstandighede selfversorgend te wees. Op afgeleë dorpies is jy uitgedaag om aan te pas en by te bly, en die gesin was die groot bindende element van die gemeenskap. Dit was nie ’n uitsondering om op veertigjarige leeftyd jou eerste roomys te eet of nooit in jou lewe die see te gesien het nie.
.......
Dit was nie ’n uitsondering om op veertigjarige leeftyd jou eerste roomys te eet of nooit in jou lewe die see te gesien het nie.
........
Jy het dus as ’n volwassene nog baie gebeure en dinge met die onskuld van ’n kind ervaar. Ervaring van die lewe was jou groot leermeester. Die skool- en kerkbanke het ’n weetgierige kind afgestomp op talle terreine van menswees.
Jy het vroeg ervaar en gesien die skeidslyn tussen beplanning en knoei. Dit is iets waarvoor jy lewenslank op jou hoede moet wees, en die barmhartige Samaritaan en huigelaar is bloedfamilie.
Ambagsmense het my fassineer. Hul hande was hul trots en toerusting vir die skep van ’n lewe. En hulle was trots daarop.
Hier is “putgrawer”:
uitgespit
die put se buitelyn
pik
graaf
koubeitel
hamer
koevoet
sink
duim vir duim
die sirkel in
tot piksteeldiep
smyt skopgraaf
fluit-fluit
die losgrond uit
nou
blikbak-bedinksel
rouriemstring
katrol
handlanger
trek op
die brokkies aarde
loskarnuffel
voet vir voet
die aarde in
later jaart vir jaart
vingers blom waterblase
vir almiskie
’n klammigheid
dan
deur toonklofies
bars frummeltjies
modderslym
kyk op
hygenthert
helderoordag
sienderoog
die sterre skyn!
En jy het kennis van die natuur, soos ek kan sien in ’n hele afdeling oor voëls, “veervolk”. Waar kom jou liefde vir die natuur vandaan? Of hoe het dit so ’n groot deel van jou lewe geword?
Om ná skool, op vakansie, seksuele ontwaking, ens in die natuur deur te bring was altyd ’n intense en verrykende ervaring. Om die gekoer van ’n tortel perfek na te boots het jou soos ’n komponis laat voel en om ’n miskruier dop te hou het groot vrae en bespiegelinge in jou gedagtewêreld laat krioel. Hennie Aucamp het gesê: “Kultuur is getemde natuur.” Hy was reg. Ek het in ’n leeftyd tussen dié twee pole volkome mens probeer word. Dit is ’n rykdom wat selde in die eksklusiewe speelvelde van die materiële gevind kan word.
Hier is ’n voëlgedig met ’n teaterverwysing:
tortel
opgepof
pronk hy
hop-hop
agter haar
bly jag
bo-op
boggelruggie
paar
grinnik
richard III
in koninklike drag.
Daar is jou meegevoel met die plaasarbeider: Waarom? En watter rol het plaaswerkers in jou lewe gespeel?
Ek het saam met en tussen hulle grootgeword. Eerbiedwaardige mense. Mentors in die natuurlewe en -verskynsels. Praatjiemakers en storiegooiers uit die boonste rakke. Kosmakers van dinge wat jy nooit andersins te ete sou kry nie: rooimiere, vlieërsprinkane, marog, waterskilpad, springhaas, ens.
In my opgroeijare het ons nooit ’n plaas besit nie, maar naweke en skoolvakansies was dit saam met van my skoolmaats ons heimat. Ons was te alle tye op gelyke vlak in speel en die verwondering van die wêreld om ons.
Jou kennis van die Griekwas en hul taal, asook streektaal in die algemeen – dieselfde vrae as hier bo: Waar en hoe het dit in jou lewe ontstaan? Watter rol het hierdie groep mense (of individue, dalk) in jou lewe gespeel?
My eerste sewe lewensjare was op Philippolis. Dit was Adam Kok se wêreld en daar was nog baie Griekwa-gesinne en –nasate ook op die nabygeleë Lückhoff, waar ek vanaf sewejarige ouderdom opgegroei het. Op die plaas Strydam in hierdie distrik het ek naweke en skoolvakansies deurgebring. ’n Griekwa-egpaar, Koela en Feia, was soos ’n oupa en ouma vir my. Hul Afrikaans het my aangegryp en deur die jare was albei van hulle mentors in my lewe.
In my drama Die plaasvervangers is albei belangrike karakters in die stuk. Ook in van my ander werk het hulle figureer, maar dan onder ander name.
In die gedig “bokwagter” uit my digbundel Knapsekêrels is dit die nimlike Koela wat die bokwagter is. So ook in die gedig “ystervark”:
wolkloos die nag
wag in dor brakpannetjie
windaf
strooi snyseltjies
raap, radys en wortel
so vyftien trëe slaplinks voor jou
siekrit is
die volmaan reg bo jou kop
moet sorg dat jou skaduwee
’n erdvarkgat presies na-aap
vlak voor jou voete
’n ontvlugtingskag
staan penorent tjoepstil
knopkierie in die regterhand
wag
bid vir job se geduld
daar kom die bokker
snuffelneus en waggelstap
honderd treë verder
’n helse slag
teen leë petroldrom
ystervark kies
die hasepad na erdvarkgat
die kierie tref
harsingsekuur!
Ook as volwassene was ek nooit ’n sosiale mens nie. Met die uitsondering van my 16 jaar in Kaapstad het ek op klein posseëlplasies nesgeskrop: Kapteinskloof in die Sandveld (ook vroeër Adam Kok se wêreld), Schoemanshoek naby die Kangogrotte en La terra de Luc buite Franschhoek.
My grootste vriendekring was altyd die werkers en almal wat aards gelewe het.
Al bogenoemde aspekte laat my dink jy voel sterk daaroor om ’n verbygegane, of vergange, kultuur te wil bewaar. Is dit vir jou belangrik dat groepe mense se kultuur bewaar word?
Wêreldwyd het “kultuur” ’n gerieflike speelbal geword vir nasionalismes wat oor ander kulture, gelowe en denkers wou triomfeer. My sin vir die bewaring van ’n eie kultuur is nie per se nie, maar gekoppel aan dit wat inherent positief en kwalitatief vir ’n beter en groter wêreld kan wees.
By ons het ’n blinde en steriele vasklou aan sogenaamde eie kultuurgoedere ontaard in ’n kilheid teenoor medemense. Ons deel ’n land saam met miljoene der miljoene verontagsaamdes en geïgnoreerdes, geskep en gestimuleer deur bewaarders van “eie kultuurgoedere”. Dit is nie net onaanvaarbaar nie, maar uiteindelik selfvernietigend.
.......
By ons het ’n blinde en steriele vasklou aan sogenaamde eie kultuurgoedere ontaard in ’n kilheid teenoor medemense. Ons deel ’n land saam met miljoene der miljoene verontagsaamdes en geïgnoreerdes, geskep en gestimuleer deur bewaarders van “eie kultuurgoedere”. Dit is nie net onaanvaarbaar nie, maar uiteindelik selfvernietigend.
...........
In jou gedigte lees ek ook van jou teater-ervaring, en veral jou kennis van Shakespeare kom duidelik na vore. Ek ontdek van sy karakters in jou gedigte as diersoorte – kalkoen (Malvolio), makou (Horatio), duif (Richard III). Dus, jy verafrikaans Shakespeare. En anders as die bekende “Wikkelspies”, noem jy hom op ’n lekker nuwe Afrikaanse naam: Skudlat. Effens spottend, nie waar nie? Watter rol het Shakespeare en sy dramas in jou lewe gespeel?
Dié man is ná meer as vier eeue nog net so springlewendig as toe hy nog self die planke bewandel het. Hy het met sy volle teaterskap die lewe en die mens gekonfronteer. Hy het die menslike psige gedissekteer, ontrafel en ontbloot soos niemand voor of na hom nie. Om sy werk te lees, daarin te speel of daarna te gaan kyk op ’n verhoog sal enige mens emosioneel en intellektueel verryk.
Die essensie van sy karakters sien ons nie alleen universeel in die mens nie, maar soms ook in die fauna en flora. Dis heerlik om van hulle as diere op ’n plaaswerf te sien gedy. Malvolio sou moes uithaal en wys met sy lang geel kouse teenoor Kalkoen se gespande vlerk rondom die hen!
Skudlat is ’n stoutlekker stukkie skunnigheid! Daar word hoeka al van toeka af geskinder die ou was in die kas. En Lady Macbeth kan ’n paar dingetjies by mevrou Bidsprinkaan kom leer!
Jy praat ook oor die politiek: die Grensoorlog, selftevrede politici. Is jy ’n politieke denker? Of irriteer die hedendaagse – veral Suid-Afrikaanse – politiek jou?
Die kunstenaar bly maar deur die eeue heen die vlermuis van die samelewing. Onaansienlik, oënskynlik blind, ’n nagding, en hy maak aaklige geluide: “Die nag se wrede spotprent van ’n vlinder.” Ek dink dis Uys Krige se woorde.
Die tortel sit op ’n tak en koer oor die mooi van die lewe. Die vlermuis hang onderstebo aan dieselfde tak en kyk na dieselfde lewe uit ’n heel ander hoek.
Ek geniet dit om vlermuis te wees. Die politici hou nie daarvan nie!
Watter digters het die grootste rol in jou lewe en digkuns gespeel – ek kan sien DJ Opperman, Boerneef. Wie nog? En wie beïndruk jou deesdae veral?
Uit die verre verlede beslis Boerneef, DJ Opperman, die Klipwerk-reeks van NP Van Wyk Louw, en Peter Blum. My versaking van die poësie was gruwelik verskralend en oor ’n baie lang tyd. Ek lees maar min, want ek werk besield en intens. Die vakmanskap en toeganklikheid van digters soos Antjie Krog, Daniel Hugo en Johann de Lange stimuleer my.
Nog ’n opvallende kenmerk van jou werk is dat jou verse klankryk is, ook staccato amper. Baie is kripties – presies die teenoorgestelde van deesdae se prosaverse. Dit is woordspel op sy beste. Beskryf vir my jou benadering tot die digkuns – waarom verkies jy hierdie manier van dig?
Ek dink my teateragtergrond verklaar my omgang met die klankgevoeligheid in ’n gedig. In ’n teater word die taal in die eerste plek gehoor en dis in die hoor van die woord wat ’n fyner en wyer register van nuanses geskep kan word. Ek kan my indink dat daardie fyner nuanses wat klank bring, in prosa met die volsin bereik moet word.
Terug by woordspel: Jy speel met Afrikaans, sy klanke en sy betekenis. Verduidelik hoe jy te werk gaan. Gaan sit jy met woordeboeke en soek klanke en samestellings wat sal werk? Of lê jy wakker in die nag en die nuutskeppings, assosiasies, klankvriende kom aangesweef na jou (of in jou drome, dalk)?
Dit kom hoofsaaklik spontaan nadat ek geprikkel is deur ’n visuele insident, ’n treffende geluid of enige ander sintuiglike ervaring of fantasie. Ek lees woordeboeke met ’n passie en luister intens ontvanklik as mense praat. Taal is ’n ongeëwenaarde minnares as die kwinte en kwale met hul aftakeling op eie werf kom koggel.
Jy praat van verbygaan – die dood. En dis asof jy ironies na die lewe kyk, soos in “Graf”:
nommerpas
letterkraag
marmerjas
perdalks
kleikalbas
kraaktraag
beenmeelas.
Dink jy dan dikwels aan die dood? Dit terwyl jy debuteer op 77. Daar lê mos nou ’n hele nuwe lewe voor!
Ek besef al hoe meer ironie is die onderliggende slagaar van al my dramas. Dit is ’n nuk wat homself ’n lêplek in my werk gun. Dit verbaas dan nie as hy homself ook in sommige van my gedigte kom tuismaak nie.
Die dood dryf my nie tot vrees of ’n onverteerbare verslawing aan nostalgie nie. Hierdie knaap gooi sy flikkers universeel en tydloos. Hy’s ook nie kieskeurig nie. Hy maak sy afsprake met al wat leef en adem heef. Mens kan maar sê ek is ’n verwonderde en gefassineerde aanhanger.
Ek het verlede jaar so half-en-half met hom die blad geskud in ’n Londense hospitaal. Hy was egter heel redelik met my.
Ek hoor jy het ‘n nuwe digbundel gereed?
Ja, maar hy het my vinnig en onverhoeds betrap. Hy moet nou eers ’n paar maande in inkubasie lê.*
Jou werk van 56 jaar as dramaturg: Watter dramas lê jou die naaste aan die hart? Wat het al die bekronings, en die eredoktorsgraad van die Vrystaatse Universiteit, vir jou beteken?
Om ’n witbroodjie tussen jou kinders uit te wys sal afstuur op huismoles. Maar Die joiner kan ek tog fluister. So ook Die koggelaar.
Ek is innig dankbaar vir enige vorm van erkenning. Dis ’n stimulus vir voortgesette skepping.
* Pieter Fourie het nog twee digbundels die lig laat sien, beide uitgegee deur Naledi: Bidsnoer (2018) en Stof en ster (2019).
Lees ook:
Resensie: Pieter Fourie: Teatermaker – ’n huldiging deur Fanie Olivier (redakteur)
The post ’n Vraaggesprek met Pieter Fourie – teaterman, digter en woordkunstenaar appeared first on LitNet.