Vlug
Wilna Adriaanse
Tafelberg
ISBN 978-0-624-09260-5
ISBN 978-0-624-09261-2 (epub)
“Sy weet nie of sy dit meer hartseer kan noem nie. Dalk omvorm hartseer in ’n gewig wat jy die res van jou lewe saamsleep” (bl 7).
Milla Roux, ’n veearts werksaam by ’n rehabilitasiesentrum vir sjimpansees in die DRK, het uit Suid-Afrika gevlug na ’n persoonlike tragedie en die posttraumatiese stres wat daarop gevolg het. Sy het bloot aangehou ry totdat sy by Ephraim gestop het. Ephraim, die Kongolees met die goeie hart wat in ’n afgeleë deel van die DRK ’n rehabilitasiesentrum vir sjimpansees begin het. Daar het sy weer ’n holte vir haar voet gevind saam met die res van die personeel, veral die Franse Albėrt en die Kongolese Paulina en Agnes.
Graham Saunders, ’n dokter verbonde aan Médecins Sans Frontières (Dokters sonder grense), het self uit Suid-Afrika gevlug as gevolg van ’n insident uit sy verlede waarvoor hy homself nie kon vergewe nie. Ook hy het ’n rusplek vir sy siel gevind in die DRK – as mediese versorger by een van die talle vlugtelingkampe.
Afrika, en die DRK in die besonder, is egter geen paradys sonder slange nie. Die jare lange voortslepende geweld en interne oorlogvoering kruip al nader en veroorsaak dat Milla en Graham vir hulle lewens moet vlug; as die bewakers van drie klein sjimpanseewesies wat desperaat in ’n Cruiser die Suid-Afrikaanse grens probeer bereik. Tussen hulle en hulle bestemming lê daar duisende kilometer, vyandige magte, geweld, die magte van die natuur, Ebola-uitbrake, bykans geen begaanbare paaie nie, en die feit dat Milla ernstig beseer is tydens ’n aanval.
Die tema en agtergrond van die roman is uiters relevant in ’n tyd van hernude omgewingsbewustheid en die voortslepende konflik in Afrika. Die kontras tussen die geveg om te oorleef en die vernietiging van die natuur wat daaruit voortspruit, word effektief geïllustreer deur die sjimpansees wat, aan die een kant, ’n bron van voedsel kan wees om ’n gesin van ’n andersins gewisse hongerdood te red, maar, aan die ander kant, juis as gevolg daarvan uitwissing in die gesig staar. Eenvoudige antwoorde is daar nie.
Die tragedies van oënskynlik sinlose en eindelose geweld, die invloed daarvan op gemeenskappe en die hartverskeurende werklikheid van verkragtings en kindersoldate word ook aangespreek. In Milla se gedagtes: “Het iemand al ooit vir hulle verduidelik van balans en dat elke aksie ’n gevolg het? Dalk nie altyd ’n sigbare gevolg soos dat jy tronk toe gaan as jy ’n moord gepleeg het nie. Sommige gaan nooit tot rekenskap geroep word nie, maar jou siel kan nie ongeskonde bly nie” (76).
Ek moet bieg: Die sinopsis het my aanvanklik benoud gehad – ek kan enige riller lees, en doen dit ook, maar grafiese geweld teenoor diere kan ek glad nie hanteer nie – en ek was doodbang dat hierdie roman my daarmee sou konfronteer. Vir diegene wat my vrees deel: Wees gerus, die tonele wat geweld insluit, is deurgaans relevant, bevat geen doelbewuste skok- of grubeskrywings nie en is veilig vir sensitiewe lesers.
.......
Die spanning bly egter snaarstyf en ek het myself doelbewus verbied om net gou te loer of almal nog lewe op die volgende bladsy ...
........
Die spanning bly egter snaarstyf en ek het myself doelbewus verbied om net gou te loer of almal nog lewe op die volgende bladsy ... Die hoofkarakters word, deur middel van beskrywings van hulle verlede en hulle gevolglike persoonlikhede en keuses in die hede, baie lewend vir die leser. Selfs die sekondêre karakters laat die leser nie onaangeraak nie en mens hoop deurgaans dat almal veilig sal bly in ’n Afrika waar enigeen die vyand kan wees en niemand kan voorspel wat die dag van môre mag inhou nie.
Die dubbelsinnigheid van die titel verdien spesifieke aandag. Die twee hoofkarakters se mees prominente vlug is dié vanuit die DRK na Suid-Afrika. Hulle vlug vanaf dit wat as gevaar geag word, na dit was as veiligheid geag word. Beide se vlug het egter reeds met hulle onderskeie vertrekke uit Suid-Afrika begin: Albei het weggevlug van omstandighede wat hulle as versmorend en hartverskeurend ervaar het na plekke waar hulle, al was dit tydelik, rus kon vind. Daar kan egter geargumenteer word dat laasgenoemde plekke bloot tussenverposings was, nie eindbestemmings nie, en dat die oorspronklike vlug as’t ware eers deur hulle terugkeer na Suid-Afrika voltooi word.
Die vlug is egter ook van ’n figuurlike aard. In beide Milla en Graham se verledes is daar insidente waar hulle voel dat hulle iemand in die steek gelaat het; dat hulle versuim het om andere veilig te hou en te beskerm. Dit verklaar waarom Milla, al is dit onbewustelik, die babasjimpansees ten alle koste aan die lewe wil hou; dis haar boetedoening vir haar verwyte uit die verlede; haar tweede kans; haar geleentheid tot versoening met dit wat haar jaag sodat haar vlug tot ’n einde kan kom. Dieselfde argument is waar van Graham: Deur Milla veilig te hou, kan hy soortgelyke spoke in sy verlede besweer.
Die insluiting van Ijeoma Umebinyuo se gedig “Diaspora blues” in die roman se aanhef is besonder gepas en sluit treffend by die teks aan:
So,
here you are
too foreign for home
too foreign for here.
Never enough for both.
Milla en Graham ervaar hierdie gevoel van nie inpas nie, letterlik, veral wanneer die skrille kontras tussen die behandeling van plaaslike DRK-bewoners en buitelanders, soos hulle, tydens noodontruimings geopenbaar word.
Die slot van die roman sal ongetwyfeld deur sommige lesers as “oop” beskryf word, veral deur diegene wat duidelike antwoorde en ’n uitgespelde finaliteit by ’n slot verkies. Ek verskil egter daarmee – die slot was vir my besonder suksesvol en uiters gepas; alhoewel daar onsekerhede en moontlikhede vir die toekoms onbeantwoord gelaat word, is dit tog ’n volledige slot wat die begrip vlug betref. Die hoofkarakters het in werklikheid aanvanklik gevlug omdat hulle nie in hulle Suid-Afrikaanse omstandighede met hulle onverwerkte trauma kon saamleef nie. Tydens die vlug – veral die terugvlug – groei hulle egter as karakters en keer terug as emosioneel volwassenes wat hulle toekomskeuses met vrymoedigheid kan oorweeg. Die vlug is op ’n einde; die sirkel is voltooi.
.......
Die roman verdien die beskrywing “blitsblaaier” as etiket – die hoofstukke is kort en die spanningslyn neem eerder toe as af. Ek het reeds enkele vorige romans van die skrywer gelees (en geniet) maar ek dink hierdie een is my gunsteling van haar.
.......
Die roman verdien die beskrywing “blitsblaaier” as etiket – die hoofstukke is kort en die spanningslyn neem eerder toe as af. Ek het reeds enkele vorige romans van die skrywer gelees (en geniet) maar ek dink hierdie een is my gunsteling van haar. Interessant genoeg is die roman ’n verwerking en uitbouing van ’n kort vervolgverhaal wat etlike jare gelede in Vrouekeur verskyn het. Die roman is egter ’n volledige verhaal en die lees van die destydse vervolgverhaal is geensins ’n vereiste nie. Die roman sal aanklank vind by ’n wye verskeidenheid van lesers – liefhebbers van spanningsverhale sal dit ongetwyfeld geniet, maar die karaktergedrewendheid daarvan sal tot ’n baie groter groep lesers spreek.
The post <em>Vlug</em> deur Wilna Adriaanse: ’n resensie appeared first on LitNet.