Quantcast
Channel: LitNet
Viewing all articles
Browse latest Browse all 20654

Wilbur Smith, ’n gewone man wat vir gewone mense skryf

$
0
0

Foto van Smith van sy amptelike webruimte

...
“I wrote about black people and white. I wrote about hunting and gold mining and carousing and women …”
...

Wilbur Smith het my tienerwêreld verbreed, en hy was een van die mense wat my lewenslank aan lees verslaaf gemaak het. Ek het ’n hele aantal Smiths verslind voor ek na meer verwikkelde werk aangeskuif het.

Waar ek in De Doorns grootgeword het, was daar net enkele mense wat Engels gepraat het. Selfs my Engels-onnie was Afrikaans – tot in standerd 5.

In standerd 6 was daar skielik ’n eksotiese mens wat met ’n Alfa gery het. Vir ’n jaar lank was die Engels-klasse iets om by te woon, al was dit ook net om na die jong, blonde wese te staar. Sy het ook net ’n jaar uitgehou en is toe deur die diplomatieke diens opgeraap, of so het ek gehoor.

Meer as staar was nie juis iets wat ons in die platteland gedoen het nie, want ons enigste toegang tot die geheime van vroue was in die lees van skrywers soos Wilbur Smith.

As ek terugdink, sou ek sê Hammond Innes, Dick Francis en Wilbur Smith het my meer van die wêreld geleer as enige van die vakke wat ek moes neem. Hierdie drie het my ook as onskuldige kind verduidelik wat mans en vroue nou eintlik doen ...

Sonder skrome kan ek ook sê dat hulle drie my Engels met rasse skrede verbeter het.

Later jare het ek aan beweeg en het dus nie veel meer van Smith se werk gelees nie, maar dat ek hom bly bewonder het vir sy ywer en werkvermoë, dit is gewis.

Verban in Suid-Afrika

Die goed wat Smith aan ’n plattelandse seun oor vroue vertel het, is nie met genoeë deur die morele polisie in Suid-Afrika ervaar nie. When the lion feeds, die boek wat hom bekend gemaak het, is vir baie jare verban in ons land terwyl dit orals in die Britse Gemenebes soos soetkoek verkoop het.

Smith was aspris. Een voorbeeld – ek dink dit was in Gold mine­ – wat my steeds bybly, was toe die wit mynbestuurder se vrou seksueel deur een van die swart mynwerkers geprikkel word. Die beskrywing van haar opwinding terwyl sy ten volle geklee in haar stoel na die verhoog sit en kyk, het my veel meer van die vroulike geslag geleer as die blou boekie van dr Goedhart wat my pa aan my probeer afsmeer het.

G’n wonder nie dat diegene wat oor ons sedes moes waak, ongemaklik was.

Oor ras én klas heen

In Suid-Afrika het enkele mense gegrom oor hy nie rasgrense gerespekteer het nie, maar sy karakters het ook klas nie ernstig opgeneem nie.

In The power of the sword glip Tara die aand voor haar verlowing uit by die “tradesmen’s entrance”. ’n Skynbaar onskuldige oomblik van passie, maar dit verklaar baie oor haar, dit sê iets oor haar gesin en haar status – en dit vertel ook dus, heel onderduims, hoe klas deur Smith se stories ondergrawe word.

Smith kon ook as spreker lekker spot – op ’n baie mooi manier. Só was hy glo in Londen kort na een van sy boeke verskyn het. Dit is gebruiklik vir ’n uitgewer om ’n aantal kopieë aan ’n skrywer te pos, en Smith is verwittig dat die pakkie gereed is.

“Laat ek dit kom haal,” was sy antwoord.

Hy stap toe daarheen en kondig by ontvangs aan dat hy ’n pakkie vir Wilbur Smith kom haal.

Ontvangs verduidelik toe: “The tradesman’s entrance is around the corner.” Waarop Smith soheentoe stap, dieselfde boodskap gee en totale konsternasie veroorsaak toe die uitgewers besef een van hulle beste verkopers staan rustig in die tradesman’s entrance en wag ... Waarskynlik met ’n enorme glimlag op sy gesig.

Nie altoos stinkryk nie – wel soms stink

Smith is gebore in die destydse Noord-Rhodesië, nou Zambië.

As tiener het Smith polio opgedoen, maar was gelukkig om nie ernstig geskaad te word nie.

Sy skoolloopbaan in Suid-Afrika was “eight years of drudgery and misery”.

Hy het aan Michaelhouse gematrikuleer (net soos John van de Ruit wat die skool in fiktiewe vorm sou beroemd maak in die Spud-reeks). Dit was nie ’n goeie ervaring nie, maar hy het daar leer skryf:

My sole achievement of any note was to start a school newspaper for which I wrote the entire content, except for the sports pages. My weekly satirical column became mildly famous, and was circulated as far as afield as Wykham Collegiate and St Annes, the two girls schools famous for having the prettiest girls for a hundred miles around. (Bron: Sy webruimte)

Boeke was sy redding: “I had my opiate. I had my books.”

Sy pa wou opsluit dat die dromer ’n ordentlike werk moes kon kry, dus is Smith na Rhodes-universiteit om as rekenmeester te kwalifiseer.

Ten spyte van ’n opvoeding by Michaelhouse was daar ’n tyd in Smith se lewe dat hy dit nie breed gehad het nie.

As twintigjarige het hy ’n ruk lank op ’n vissersboot gewerk. Hy onthou:

Those first weeks aboard the Kingfisher were back-breaking. Never had I put my body through so many sustained trials. Though I was barely twenty years old, my joints ached and my muscles groaned – and only after days of hard work did I grow accustomed to the grind. (Bron: Sy webruimte)

Met groot humor vertel hy ook van ’n poets wat op hom gebak is: Die skip se ingenieur het hom gestuur om iets te gaan haal en toe hy sy arm, soos voorgeskryf, in die balie druk, besef hy dis die ingenieur se latrine ...

Ek vermoed Smith se vermoë om vir gewone mense te skryf lê juis in die feit dat hy gewone mense geken en bestudeer het.

Smith sou uiteindelik as rekenmeester kwalifiseer en toe, met sy pa se wense nagekom, is die tikmasjien in alle yl nader getrek. When the lion feeds is gebore.

Die res, wel ... sy uitgewer beweer dat ’n 140 miljoen kopieë van sy boeke verkoop is.

In sy eie woorde: “I wrote about Black people and white. I wrote about hunting and gold mining and carousing and women …” (Voa News).

Die ongewone gewone man

Smith se boeke het van hom ’n vermoënde man gemaak, in so ’n mate dat hy ’n ruk lank ’n deel van ’n eiland in die Seychelle besit het.

Só verduidelik hy dit ’n aantal jare gelede aan die Britse koerant The Sunday Times:

From when I first read Robinson Crusoe, as a child, I had wanted an island of my own. I thought it sounded like good fun – especially if you had a Man Friday to do all the hard work for you. So, when I was 40, I bought an island. Well, that’s what I used to call it, but I’m given to exaggeration. It was really 22 acres of an island called Cerf, in the Seychelles.

Smith se passie vir lees het van hom ’n skrywer en verteller van formaat gemaak.

Daar is dikwels erge goed oor Smith in die pers gesê. Sy eerste twee huwelike het glad nie goed geëindig nie, en veral sy verhouding, of gebrek aan ’n verhouding, met die kinders uit daardie huwelike het soms die koerante gehaal.

Sy derde huwelik, met Danielle Thomas, was egter ’n sukses. Hulle was byna dertig jaar getroud en hy was tot haar dood aan breinkanker met haar.

Kort daarna het hy met Niso Rakhimova getrou. Hulle was tot Smith se dood bymekaar. Niso, ’n regsgeleerde, help ook tans om die stigting wat in hulle name (The Wilbur and Niso Smith Foundation) opgerig is, te bestuur.

Ek het Smith nooit geken nie, maar wel ontmoet.

Ek en Karin Simpson, nou by Oxford University Press, was op OR Tambo-lughawe op pad terug Kaap toe ná ’n reeks vergaderings.

Ons was effens vroeg en het reg oorkant Exclusive Books sit en werk toe niemand anders nie as Wilbur en Niso langs ons kom sit.

Ek het hom dadelik herken, maar niemand anders het hulle aan die man gesteur wat ’n pakkie gekoopte biltong sit en knibbel het nie.

Drie meter van ons af het stapels Wilbur Smith-boeke gestaan. Hy en Niso het rustig gesels oor watter toebroodjie hulle sou koop.

Taamlik ordinêre mense het al ’n vloermoer gegooi as hulle nie dadelik in die een van die “lounges” op die lughawe toegelaat is nie, Smith kon op daardie stadium ’n privaatvliegtuig koop as hy sou wou. Tog ... soos ’n gewone mens het hy op een van die staalstoele gesit en toebroodjies eet. Niso het later vir hom ’n whiskey (enkel met ’n bietjie ys) gaan koop.

Wat ook al oor die man geskryf is, die warm, liefdevolle glimlag op sy gesig toe die petit Niso ’n plastiekglasie in sy hand stop, bly my nou nog by.

O, en natuurlik amper alles wat hy my in sy boeke oor vroue geleer het, dié onthou ek ook nog.

The post Wilbur Smith, ’n gewone man wat vir gewone mense skryf appeared first on LitNet.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 20654

Trending Articles


Wiskunde, graad 6: Vraestel en memo (November)


Weer 'n kans op geluk (Deel II)


Maak jul eie reënmeter


Hoe om ’n aangebrande pot of oondbak skoon te maak


8 Wenke om water te bespaar


Die beste tyd van my lewe


Koshuiskaskenades


’n Beoordeling van die vertaling van σάρξ (vlees) in die Direkte Vertaling...


Welkom in die wêreld, Baba Strauss!


Warrelwind skep my op in die lug…los my op ‘n Wolk se rug


Een vakansie tydens my kinders se sporttoere ...


Graad 4-wiskundevraestel en -memorandum (November)


Mikrogolf-vrugtekoek


18 unieke kosse wat net Suid-Afrikaners sal ken


Gedig: Populiere


Breekpunt deur Marie Lotz: ’n lesersindruk


Graad 6, 2016: Vraestelle en memoranda


Wonder ek oor die volgende ….


Die oplossing vir yl hare is hier


Kyk watter glanspaartjie is verloof!



<script src="https://jsc.adskeeper.com/r/s/rssing.com.1596347.js" async> </script>