...
My kinders verstaan nie die hel van apartheid nie. En dít is ’n voorreg. Die dice het uiteindelik beter geval, oom Adam. My kinders is geseënd.
...
Magies – dit is steeds hoe ek aan 2 Februarie 1990 dink.
Daar was geen waarskuwing nie.
Om die waarheid te sê: Ek, en baie ander vriende, het daardie dag ons radio’s aangeskakel met ’n vae hoop dat hierdie kaalkop wit omie genaamd FW nie nog méér konserwatief sou wees as die bedonnerde kaalkop wit omie genaamd PW nie.
Ek bedoel: Regtig? PW, FW?
Ons het vae aanduidings gehad dat Pik, ook ’n Botha, se hand in die as geslaan is ten tye van die Nasionale Party (NP) se leierskapstryd toe PW se beroerte té sigbaar geword het. Pik het ten minste die diplomatieke korps agter hom gehad. Hy het die naam Namibië lank voor die ander ministers gebruik.
Maar FW? Griet.
Dis hoekom ek geluister het. Ons hoop was dat hierdie nuwe oom met die F nie die land nog verder gaan op-f nie.
Ongelukkig was daar op die oog af nie veel hoop nie.
Tydens die 1989-verkiesing het die Konserwatiewe Party (KP), onder Andries Treurnicht, se steun gegroei.
’n Paar dae voor daardie verkiesing was ek die maître d’ by ’n swartdasgedoente vir die KP. Hulle was uitbundig.
Ek, ook in ’n swart manel en met ’n strikdas, was daar toe Ferdi Hartzenberg en Andries Treurnicht opdaag. (Een ding wil ek noem: Dié twee manne wat gehoop het om die land oor te neem, het sonder ligte, sonder motorfietse, en selfs sonder lyfwagte in Hartzenberg se ligblou Volkswagen opgedaag. Ek dink dit was ’n Jetta. Hartzenberg het bestuur.)
Ek het dus geloer, gemik en die deur vir Treurnicht gaan oopmaak. Hy was sy normale, sjarmante, warm self. Daarna het ek omgestap, gewag dat Hartzenberg sluit en hom toe die hand gegee. Die oubaas se handdruk was ferm, maar daar was min warmte in sy oë.
Die KP se boodskap daardie aand was duidelik: Die mense is moeg vir die NP. Hou die land wit.
...
FW kon dus, soos Israel, aan die wêreld ’n middelvinger gewys het.
...
Hoe sou FW op 2 Februarie reageer?
Sy party het nou wel nie die 1989-verkiesing verloor nie, maar die NP kon slegs 48% van die stemme trek.
So, op 2 Februarie 1990 het daar in die groen banke oorkant die kaalkop oom FW ’n opposisie gesit wat met 19 setels gegroei en ’n allemintige 31,5% van die stemme getrek het.
Sou hy bang word en hulle kiesers probeer paai?
Of sou hy elders kyk, na Zach de Beer van die Demokratiese Party (DP)?
Onder De Beer het die DP ook gegroei. In die 1989-verkiesing het hulle 15 nuwe setels gewen en 20% van die stemme getrek.
Vir ons, voor die radio, was die somme maklik: 68% van die mense het die KP se regse rammelinge verwerp, maar ons het ook geweet: FW se party het 21 setels in die 1989-verkiesing verloor ...
Wat sou dié man doen?
Dit is nou mode om te sê De Klerk had geen keuse nie. Ons ekonomie was in sy moer.
Tog ... kyk na Israel. Daar gaan die fascisme steeds voort, sonder brieke.
FW sou byvoorbeeld, soos sy voorganger, nog ’n Rubikon-oomblik kon skep deur ’n vierde kamer aan te kondig waar Lucas Mangope, Bantu Holomisa en die ander tuislandhoofde sou kon hande vat met die sogenaamde uithouers soos Mangosuthu Buthelezi. So iets sou Buthelezi se openlike vrees vir die ANC kon misbruik. Hy sou steeds elke jaar eindelose toesprake kon afsteek.
Onthou ook: Die oorlog in Namibië was verby; al daardie gebreinspoelde troepe sou maklik in die townships ontplooi kon word.
FW kon dus, soos Israel, aan die wêreld ’n middelvinger gewys het.
FW hét ’n keuse gehad.
Een voorbeeld, waaraan ek myself moes herinner, is dat die noodtoestand nie op 2 Februarie verdwyn het nie. Dit was eers toe Mandela genoeg geraas gemaak het in Parys dat De Klerk op 7 Junie 1990 daartoe ingestem het.
So, wat sou FW daardie dag doen?
Sy eerste paar woorde op 2 Februarie 1990 was taamlik pedanties, maar toe, sonder enige waarskuwing, kom die aardskuddende woorde: Alle politieke partye sal ontban word. Politieke gevangenes gaan vrygelaat word ...
Pienk Frikkie, soos die KP graag na FW verwys het, was toe tóg radikaal.
Daar voor my radio was die oomblik enorm: 2 Februarie 1990 was ’n groter dag as wat baie woke kinders vandag dink.
Gister het FW gesterf.
In my eie huis is die jongmense glad nie gebodder oor die ou wit man wat gister uiteindelik gesterf het nie. Ek? Ek kyk na die bontspul in my huis en ek weet: Op 2 Februarie 1990 sou hulle nie as gelykes in my huis kon gewees het nie. Al sou hulle wou, sou my kinders nie daardie dag saam met my na die radio kon geluister het nie. My kinders verstaan nie die hel van apartheid nie. Ek wil dit amper herhaal: My kinders verstaan nie die hel van apartheid nie. En dít is ’n voorreg. Die dice het uiteindelik beter geval, oom Adam. My kinders is geseënd.
FW was nie sonder foute nie.
Maar vir my is 2 Februarie 1990 steeds een van die grootste dae in my lewe.
Daarvoor sê ek vir die kaalkop wit oom met die naam FW, opvolger van die kaalkop wit oom met die naam PW, baie dankie.
- Fotoinligting: Agtergrondfoto deur die skrywer, voorgrondfoto van FW de Klerk, Januarie 1992. (Kopiereg: World Economic Forum, Creative Commons Attribution-Share Alike 2.0 Generic license).
The post FW hét ’n keuse gehad appeared first on LitNet.