...
Wat my betref – met respek aan Madiba – was dít die werklike vreugdevolle dag in ons oorgang en was dít die dag toe die nuwe Suid-Afrika gebore is. Ons behoort Frederik Wilhelm de Klerk altyd daarvoor te huldig, hy wat nou die einde van sý laaste trek bereik het.
...
“Dit was ’n vreugdevolle dag,” skryf oudpresident FW de Klerk in sy outobiografie, Die laaste trek – ’n nuwe begin. “Dit was ook ’n dag van bevryding – nie net vir swart Suid-Afrikaners nie, maar ook vir ons wit Suid-Afrikaners.”
“Ons wit Suid-Afrikaners” was nou ontslae van die juk wat hulle vir 350 jaar lank op hul skouers gedra het, het hy geglo. Hulle kon nou vir die eerste keer al hul landgenote sonder skuldgevoelens of vrees en as gelykes en mede-Suid-Afrikaners groet.
Of soos die digter-filosoof Adam Small vroeër oor “my verlore broer, FW de Klerk” gesê het, “ons wit Suid-Afrikaners” het nou ook “huis toe gekom”.
Dit was weliswaar nie oor 2 Februarie 1990 dat De Klerk, wat vanmiddag op 85 gesterf het, dit in sy verwysing na ’n “vreugdevolle” dag gehad het nie. Op daardie dag, 2 Februarie 1990, skaars ses maande nadat hy as president by PW Botha oorgeneem het, het hy vernaamlik die ANC en ander bevrydingsbewegings ontban, die doodstraf afgeskaf en aangekondig dat Nelson Mandela en ander politieke gevangenes binnekort vrygelaat sou word.
Die dag waaroor hy so verheug was, was ook nie 11 Februarie 1990 toe Mandela in die Bolandse son uit Victor Verster-gevangenis in die Paarl na vryheid gestap het nie. Hierna was De Klerk en Madiba wel gesamentlike ontvangers van 1993 se Nobel-prys vir vrede, maar dit het nie beteken De Klerk het Mandela se “skerp en ongegronde aanvalle op my” vergeet nie; en Mandela kon weer nie ontslae raak van sy “diepe agterdog” oor De Klerk se “rol en oogmerke” nie.
Toe De Klerk die oggend van die dag waarna hy in die inleiding verwys, wakker word, was hy steeds die president gewees. Toe hy die aand gaan slaap, skryf hy in Die laaste trek, het daardie mantel van hom na Mandela oorgegaan.
“Die Nuwe Suid-Afrika is op 10 Mei 1994 gebore, die dag toe Nelson Mandela as president van Suid-Afrika ingehuldig is,” skryf De Klerk. Nou, vir die eerste keer in die geskiedenis, “het ons ’n regering gehad wat werklik verteenwoordigend van al sy mense was”.
Die inhuldigingseremonie vir Madiba was vir De Klerk die “magtige skoonheid” in Van Wyk Louw se gedig “O wye en droewe land”; dit was die oomblik toe hy gevoel het die “daad” in die gedig het geskied. ’n Welverdiende klop gee hy homself dan op die skouer: “Min staatshoofde kon hul hoë amp met groter voldoening afgelê het as ek (...).”
Maar De Klerk se heengaan sou altyd uiteenlopende menings oor sy nalatenskap ontlok. Selfs hý sou dit tog te wagte gewees het. “Ek wil nie my eie grafskrif skryf nie,” sê hy in ’n onlangse dokumentêr wat Kabous Meiring vir kykNET vervaardig het.
Mense vra hom dikwels hoe hy onthou wil word, vertel hy aan die onderhoudvoerder. Hoe antwoord hy daarop? “Hopelik as iemand wat ’n wesentlike verskil gemaak het om ’n beter lewe vir almal ... om ’n ramp af te weer, om ’n verskil te maak, maar ek laat dit aan historici oor om my rol in die geskiedenis van Suid-Afrika te definieer en te beoordeel.”
Toe ek vir die doel van dieselfde dokumentêr gevra is hoe ek De Klerk sal onthou, het ek gesê: “Hoe hy onthou sal word, is tot ’n mate deur homself bepaal.”
Wat ek daarmee bedoel het, was dat dit sy meer onlangse uitsprake was oor, sê maar, apartheid, wat vir talle swart landsburgers aanstoot gegee het; en daarteenoor sou ’n mens nog gereeld in koerante se briewekolomme lees en op radio-inbelprogramme hoor hoeveel Afrikaners hom nog nie vergewe het omdat hy kwansuis in 1994 sou boedel oorgegee het nie.
In sy “Versoeningsgebed vir FW de Klerk” spreek Small ook die oudstaatshoof oor sy standpunt aangaande apartheid aan: “Ek het jou tog / reg verstaan, glo ek / dat jy sover gekom het om / te dink apartheid / is ’n troostelose verkeerdheid. / Maar jy het nooit uitdruklik so wou sê. / Iets in dier voege / het jy / geprewel, ja (...).”
Wat waar is oor De Klerk se eerste vrou, Marike, se uitsprake oor bruin mense, is ook waar in De Klerk se geval wat betref sy “kwalifisering” van apartheid. Jy kan jouself net eenvoudig nooit behoorlik daaruit losdraai nie. Dit sal jou altyd agtervolg.
Nie te lank gelede nie het die oudpresident homself weer in omstredenheid bevind toe hy hom uitgelaat het oor die vervolging van oortreders van menseregtevergrype in die voor-1994 bedeling. Wat die ANC-regering nie uit die oog moet verloor nie, het hy toe gesê, is dat daar ’n ooreenkoms met die oorgangsonderhandelings aangegaan is wat as’t ware alle oortreders sou vrywaar teen vervolgings – of indien daar dan wel vervolgings plaasvind, moes dit na albei kante toe sny: die apartheidstaat sowel as die bevrydingsbewegings se oortreders.
...
Wie ook al nie daarvan hou nie, wil ek nou byvoeg, sal hom kan kritiseer so lank en heftig soos hulle wil, maar sal nooit die feit van 2 Februarie 1990 in ons gedeelde, dog betwiste, geskiedenis kan uitskryf of uitwis nie.
...
Nou ’n bekentenis, waaroor ek my so ver terug as 1993 reeds in ’n gesprek by die Suidoosterfees uitgelaat het en ook iewers agterna daaroor geskryf het: In 1994 het ek my stem vir FW de Klerk gegee. My redenasie was eenvoudig: Selfs al was ek ook op skool deel van die bevrydingstryd, wou ek help verseker dat ons land nie van ’n (wit) Nasionale Party-oorheersing na ’n (swart) ANC-oorheersing oorgaan nie.
Dit het uiteraard nie veel gehelp nie, maar ten minste beweeg ons vandag skynbaar weer nader aan die regering van nasionale eenheid wat van 1994 tot 1996 onder Mandela se leierskap regeer het. In die verre Denemarke kon ek die jaar daarna nie besluit of ek meer huis toe verlang het oor De Klerk se uittrede uit die politiek of oor die dood in dieselfde tyd van prinses Diana nie.
Maar hoe ook al, dit tref my nou dat my laaste interaksie met De Klerk ’n besoek by die stigting se kantore in die noordelike voorstede was. Ek het oor sy verhouding met en indrukke van Small gaan praat – en ek het Small se laaste bundel, Klawerjas, saamgeneem sodat De Klerk die gedig oor hom kon lees; en hy was beleefd genoeg om heelwat tyd vir my af te staan. Wat my bybly, as ’n kind van die platteland, is dat hy my ook altyd formeel as “meneer” aangespreek het.
’n Ander keer, heelwat vroeër as daardie besoek, dalk hier in 2012 rond, het hy sonder aarseling ingestem om ’n spesiale brief aan die Worcester-skrywer Abraham Phillips te skryf om hom geluk te wens met die twintigjarige herdenking van sy roman Die verdwaalde land, waarin hy De Klerk prys vir sy Februarie 1990-stap. Dié brief het ek laat raam met ’n afskrif van die boek se voorblad daarby, en by die herdenkingsfunksie in wat nou bekend is as die Suid-Afrikaanse Sentrum vir Nederland en Vlaandere het André P Brink dit aan Phillips oorhandig. Die waardering wat Brink vir Phillips se boek gehad het, het herinner aan sy waardering vir spesifiek Small se drama Kanna, hy kô hystoe.
...
Wat my bybly, as ’n kind van die platteland, is dat hy my ook altyd formeel as “meneer” aangespreek het.
...
Om dan terug te keer na De Klerk se nalatenskap, noudat ek my belange verklaar het en hy ons ontval het: Ek dink nie daar moet enigsins twyfel daaroor wees nie, soos ek ook in die Meiring-dokumentêr gesê het, dat sy nalatenskap altyd gerespekteer moet word deur dié van ons wat weet wat Suid-Afrika vóór sy 2 Februarie 1990-toespraak was. Wie ook al nie daarvan hou nie, wil ek nou byvoeg, sal hom kan kritiseer so lank en heftig soos hulle wil, maar sal nooit die feit van 2 Februarie 1990 in ons gedeelde, dog betwiste, geskiedenis kan uitskryf of uitwis nie.
Wat my betref – met respek aan Madiba – was dít die werklike vreugdevolle dag in ons oorgang en was dít die dag toe die nuwe Suid-Afrika gebore is. Ons behoort Frederik Wilhelm de Klerk altyd daarvoor te huldig, hy wat nou die einde van sý laaste trek bereik het.
The post ’n Daad het geskied: FW de Klerk se nalatenskap appeared first on LitNet.