- Thomas Mollett was veral bekend vir privaatondersoeke rondom hoëprofielsake, soos dié van Inge Lotz, Shrien Dewani en Oscar Pistorius. Hy was ook betrokke by die LitNet-debat rondom Die omstrede God en, in samewerking met Erns Grundling en Etienne van Heerden, by die publikasie van 'n boek met die gelyknamige titel.
Thomas Mollett, die forensiese konsultant en skrywer wat verlede Vrydag op 50-jarige ouderdom dood is, was by uitstek ’n soeker na die immer ontwykende waarheid.
Dit was egter ook die soeke na waarheid in sy eie lewe wat hom soos baie ander waarhede telkens ontwyk het.
Ek het hom net na die draai van die eeu leer ken as ’n selfstandige denker wat nie skroom om die water te roer en omstrede sake aan die orde te stel nie. Hy was een van die samestellers van die boek Die omstrede God: Bestaan God of nie?. Die mederedakteurs was Erns Grundling en Etienne van Heerden.
.......
Ek het hom net na die draai van die eeu leer ken as ’n selfstandige denker wat nie skroom om die water te roer en omstrede sake aan die orde te stel nie. Hy was een van die samestellers van die boek Die omstrede God: Bestaan God of nie?. Die mederedakteurs was Erns Grundling en Etienne van Heerden.
........
Die boek, wat uit 400 briewe uit die debat op LitNet saamgestel is, was die resultaat van ’n onstuimige gesprek wat maande lank op LitNet gewoed het. Hierdie diskoers in Afrikaans oor God se bestaan al dan nie het Thomas se verbeelding aangegryp terwyl hy in Taipei gewoon het.
Etienne van Heerden vertel in die voorwoord: “[T]erwyl die LitNet-redaksie nog oor die moontlikhede van ’n boek oor die God-debat bespiegel het, het ’n jong Afrikaanse expat, Thomas Mollett, vanuit Taiwan laat weet dat sy diensplig as trekswael tot ’n einde kom en dat hy met LitNet wil gesels oor die moontlikhede van ’n boek oor die gespek oor geestelike sake op LitNet. Van meet af aan was hy die dryfkrag agter hierdie boek, en het hy ook die grootste inset gelewer.”
Dit was die eerste keer dat ’n debat oor God op hierdie skaal in die openbaar in Afrikaans gevoer is. Dit is vandag nog steeds een van die grootste gesprekke daaroor in Afrikaans.
Thomas se persoonlike lewe het net soos die onstuimige God-debat op LitNet dikwels wipplank gery. Slegs sy naby vriende en naasbestaandes was bewus van die moeilike stryd wat hy jare lank teen depressie gevoer het.
Tussen al die opwinding, intellektuele diskoerse en vasberade soeke na die waarheid deur was daar ook gesellige luimige tye met ’n koue Black Label in die hand of ’n pizza saam met sy vriende. Maar altyd was daar die soeke na antwoorde op moeilike vrae en onopgeloste raaisels wat hom gedryf het.
Van 1997 tot 2003 het hy grotendeels in Londen en Taipei gewoon. In Londen het hy sy eerste boek, London made simple, gepubliseer.
Die laaste klompie jare van sy lewe is gekenmerk deur ’n ongekende entoesiasme en vasberadenheid om groter lig te werp op hoëprofielmoordsake in die land. Twee sulke gevalle is die moorde op Inge Lotz en Reeva Steenkamp.
Albei hierdie moorde het Thomas en sy broer Calvin, as amateur-forensiese kundiges, aangespoor om dieper te delf en na antwoorde te soek.
In hulle soeke na geregtigheid het dié twee broers onder andere ’n boek die lig laat sien waarin hulle gehoop het om antwoorde te gee op van die tergende vrae en bespiegelings toe Oscar Pistorius sy meisie Reeva Steenkamp op Valentynsnag 14 Februarie 2013 in sy huis doodgeskiet het. Die boek se titel is Oscar vs The Truth.
Die twee Mollett-broers was ook die skrywers van die boeke Bloody lies en Bloody lies too wat oor die Lotz-moord handel.
Hulle het onlangs ook ’n e-boek die lig laat sien oor Shrien Dewani wat na bewering sy vrou vermoor het maar skotvry losgekom het. Die titel van hierdie boek is The bloodied bride – did Shrien Dewani get away with murder?.
Ten tye van sy dood was Thomas besig met sy meestersgraad in biomediese forensiese wetenskap aan die Universiteit van Kaapstad (UK).
In ’n onderhoud wat ek vir LitNet met hom gevoer het, beskryf hy hom en sy broer as van nature nuuskierige en weetgierige siele. Dit het nie noodwendig vir hom gegaan oor ’n buitengewone belangstelling in moordsake as sodanig nie.
“Dit bevredig ons op ’n dieper vlak om aan sulke sake te werk. Die feit dat dit moordsake is, is nie noodwendig ’n bepalende dryfveer nie. Ons voel wel gemotiveer deur die bydrae wat dit moontlik tot die samelewing en geregtigheid kan lewer,” het hy aan my vertel.
Tydens sy jare in die uitgewersbedryf by Griffel Media was dit reeds deel van sy werk om sin te maak van inligting en ’n fyn oog te hê vir konteks. “In baie gevalle is die ontleding van moordsake nie veel anders nie,” het hy verduidelik. “Dit gaan oor sin maak van inligting, verslae van getuienis, ens.”
Bloody lies, wat gehandel het oor die moord op Inge Lotz wat in Stellenbosch in haar woonstel vermoor is, het wye reaksie uitgelok. Sommige het dit geprys en ander het dit afgemaak as prul.
Vir Thomas en sy broer het dit in die eerste plek daarom gegaan om ’n einde te probeer maak aan wat hy genoem het “waansinnig swak ondersoekwerk” en die hantering van bewyse. Deur daaroor te skryf wou hy die swak plekke uitwys sodat dit in die toekoms dalk voorkom kan word en prosesse verbeter kan word
Die skrywer en digter Fanie de Villiers, ook bekend as Kleinboer, vertel hy het Thomas ongeveer 15 jaar gelede ontmoet toe Thomas hom gekontak en gevra het om hom by ’n restaurant in Melville te ontmoet. “Ek het ingestem, en die pyprokende Hendrik Venter was saam met hom. Hulle was kollegas, en Thomas het gevra of ek maandeliks ’n rubriek vir hulle webwerf sou skryf. Ek het dit dan ook vir sowat ses maande gedoen, en Thomas nog ’n paar keer in Melville ontmoet. Hy was ruimhartig en het altyd aangedring om te betaal.”
Thomas het in 1989 aan die Hoërskool Victoria-Wes matrikuleer. Daarna het hy sy militêre diens by 1 Spesiale Diensbataljon, Tempe, Bloemfontein verrig. Na 'n keuringsproses is hy oorgeplaas na die Pantserskool in Tempe, waar hy 'n jaar lange Junior Leierskapkursus ondergaan het om 'n troepleier vir die Eland 90-pantservoertuig-gevegsregime te word.
Hy voltooi sy studie in 1993 aan die Universiteit Stellenbosch en verwerf ’n BSc-graad. In 1997 ondergaan hy opleiding as sekuriteitsbeampte in Londen, waar hy vir groot kleinhandelwinkels soos Woolworths en Mark & Spencer gewerk het.
In 2005 het hy betrokke geraak by die uitgewersbedryf, as skrywer, maar hoofsaaklik as ontwerper en redakteur. Dit is daar waar sy waardering vir besonderhede en ontwerpvaardighede geslyp is en wat hy later ook in sy forensiese werk toegepas het.
In 2017 het hy gehelp om honderde grafte uit te grawe in 'n begraafplaas wat eeue terug dateer, onder die toesig van die forensiese antropoloog Victoria Gibbon en osteoloog Jacqui Friedling, albei van die UK se Departement Menslike Anatomie. Dit het die verwydering en skoonmaak van oorblyfsels ingesluit, en om oorblyfsels saam te voeg om 'n soort identiteit te bepaal.
Die afgelope klompie jare het hy, behalwe die hoëprofielmoordsake, ook 'n paar minder bekende en private sake op 'n genooide konsultasiebasis ondersoek. Dit het sake ingesluit van brandstigting tot beweerde verkragting, en 'n verdagte seeverdrinkingsvoorval.
Tydens hierdie ondersoeke het hy onder meer deur Europa getoer om meer forensiese insigte te verkry en verskeie forensiese leiers ontmoet, onder meer Cristophe Champod van die Skool vir Strafregspleging aan die Universiteit van Lausanne en verskeie ander.
Sy ondersoek aan die Oscar Pistorius-saak (soos gedokumenteer in Oscar vs the Truth), het wêreldwyd nuus gemaak.
Ten spyte van sy groot belangstelling in forensiese ondersoek het hy homself nie beskou as “forensiese deskundige” nie. Hy wou ook nie hê ander moet hom so sien nie.
“Want wat presies is 'n forensiese deskundige? Forensika is 'n wye veld, en presies hoeveel kwalifikasies en ondervinding moet jy hê voordat jy as 'n 'forensiese deskundige' geag word?” wou hy weet as hy daaroor gepols is.
Vir mense wat hulself as kenners uitgee sonder om resultate te kon toon, het hy min agting gehad. Daarvoor was daar volgens hom te veel “forensiese deskundiges” wat oor die laaste jare skokkende getuienisse in ons howe gelewer het.
Dit het vir hom in die eerste plek daaroor gegaan om nuuskierig te wees, om 'n oog en respek te hê vir besonderhede, om gretig te wees om te leer, om aan te hou leer, om saam met die tyd te beweeg, om jou dissipline te respekteer, om die literatuur te respekteer, om 'n robuuste benadering te volg en bo alles om eerlik te wees.
Een van sy gunstelingaanhalings oor forensiese ondersoeke was van Shunryu Suzuki: “In die beginner se gedagtes is daar baie moontlikhede; in die kundige se gedagtes is daar min.”
Thomas word oorleef deur sy dogter, Alta (14), sy ma Margaret, sy broers Aidan en Calvin en sy suster Catherine Rossouw.
Lees ook:
The post In memoriam: Thomas Mollett appeared first on LitNet.