Die Statuut van die US definieer die hoofbelanghebbers as die Raad (wat beleid maak), die Bestuur (wat beleid deur die fakulteite uitvoer), en die Konvokasie (wat die alumni verteenwoordig). Laasgenoemde twee, fakulteite ingesluit, het ook verteenwoordiging op die Raad. Die minister van hoër onderwys en opleiding se vyf verteenwoordigers op die Raad verteenwoordig die nasionale belang in die universiteit.
Die Raad word hiermee die arena waarbinne die gedefinieerde belanghebbers toutrek oor die taalbeleid, en die onlangse besluit dat die Raad self aktief aan die beleidsvorming moet deelneem, is ’n positiewe stap.
Die SR en sommige studentegroepe word natuurlik ook geraadpleeg, hoewel dit selektief blyk te geskied en sommige gesprekke deur die howe plaasvind. Buitestanders soos kultuurorganisasies het egter ’n ietwat tweederangse posisie as belanghebbers en hulle pogings om taalbesluite te beïnvloed, word met ’n gewisse argwaan as “inmenging van buite” bejeën.
En juis hierdie sentiment raak aan die kern van die saak: Wie is die geldige belanghebbers in die US se taalbeleid? Wie ’n belanghebber van die taalbeleid is, word bepaal deur die gevolge van die beleid.
Die gevolge van die konsepbeleid vir die US is die verengelsing van die universiteit. Swak taalbestuur by die US oor die afgelope paar jaar het ’n praktyk geskep waarin Afrikaans stadig maar seker afgeskaal is. Die konsepbeleid formaliseer en verdiep hierdie praktyk deur Engels effektief die verstektaal te maak. Hierdie “meertalige” beleid bevat ook geen taalteikens en geen meganismes om die belofte van ’n “vaste plek” vir Afrikaans gestand te doen nie.
Die wyer gevolge van die konsepbeleid hou onder andere verband met die feit dat die US nie net nóg ’n universiteit is waar Afrikaans gebruik word nie. Dit staan in ’n see van Afrikaans wat oor die grense van drie tot vier provinsies strek. Dit is die enigste universiteit waar die taal op lang termyn demografies werklik lewensvatbaar is. Om Afrikaans by hierdie instelling af te skaf, of selfs net af te skaal, verteenwoordig dus ’n historiese kantelpunt vir die taal.
Die gevolge van die beleid sal dus ver oor die grense van die US self strek en die belange van ’n wye verskeidenheid van mense raak.
Oor die belangrikheid van die hoër funksies van Afrikaans en die rol wat dit in die ontwikkeling van die ander inheemse tale, veeltaligheid en die land se politieke bestel sou kon speel, is al volumes geskryf, en veral Neville Alexander is ter sake. Die konsepbeleid sal Afrikaans se status drasties aftakel en haar sigbaarheid in die samelewing verminder. Dit sal haar sprekers se taalkulturele selfvertroue en Afrikaans as taal van aspirasie ernstig knou.
Daarmee sal die beleid die taalverskuiwing wat in so baie gemeenskappe deur die land ontvou, in die hand werk. In hierdie opsig werk die voortslepende verengelsing van die US en onsekerheid oor Afrikaans alreeds ’n geruime tyd direk in op die belange van derduisende kinders. Dit sluit in al dié kinders uit veral arm gemeenskappe of die platteland wat hulle in Afrikaans vir universiteit voorberei; dié wat in Engelse klasse gesit word “omdat die universiteit mos Engels word”; ook dié wat met onderontwikkelde Engels as moedertaal by die skool opdaag.
“Hierdie kinders sukkel geweldig,” sê ’n onderwyseres. “Ons is besig om ons kinders te leer om te misluk. Hulle haal die ander nooit in nie en dis húlle wat so kwesbaar vir die bendes is.”
Hoe kan ’n mens nog sê die bevordering van Afrikaans (of Xhosa) as akademiese taal is nie die verantwoordelikheid van die universiteit nie? As gevolg van die impak van die US se taalbeleid op hulle, is hierdie kinders en families immers ook direkte belanghebbers en tel onder die vele stemme wat nog nie in die besluitnemingsproses gehoor is nie.
Dit is goeie internasionale praktyk om die impak van ’n beleid, goed en sleg, te bepaal voordat dit geïmplementeer word. In hierdie geval is dit ooglopend dat die konsepbeleid Engels tot die nuwe taal van uitsluiting by die US verhef, ’n daad wat ’n uiteenlopende en komplekse stel taalkundige, kulturele, sosio-ekonomiese en ekonomiese gevolge sal hê. Teen hierdie agtergrond is dit ewe ooglopend dat besluite oor taal by die US nie gereduseer kan word tot ’n burokratiese proses in die hande van tegnokrate – wat nie die waarde van taal erken of verstaan – nie.
Laat ons dus hoop dat die Raad sal besluit om alle belanghebbers in ’n ope en gelyke onderhandelingsproses te betrek, een wat mik op kompromisse eerder as oorwinning. Onderhandelinge is die enigste manier om álmal se belange – ook dié van diegene wat sukkel met Afrikaans of vervreemd voel deur die US se kultuur – op ’n regverdige wyse by die US te akkommodeer en die universiteit weer op gelyke kiel te plaas.
In hierdie opsig is dit dalk ook tyd om terug te keer na Jakes Gerwel se denke oor onder andere die US in die dae toe daar nog van twee Afrikaanse universiteite gepraat is:
The acid test for the designated institutions [die US en Noordwes-Universiteit] is whether they can entertain a scenario where non-Afrikaners Afrikaans speakers, who love their Afrikaans but whose base of social power is weak in relation to the power behind “official Afrikaans”, can be allowed to evolve into a (more) dominant social presence on campus. Were that to happen, Afrikaans may survive as a vibrant language without being a tool of cultural exclusivity. (Gerwelkommissie 2001)
Hierdie woorde is vandag net so insiggewend en geldig soos destyds. Die US kan steeds kies om ’n waarlik verteenwoordigende, veeltalige universiteit te word, een wat op ’n gesonde manier verbind is tot die taalkundige, kulturele en sosio-ekonomiese ontwikkeling van plaaslike gemeenskappe in hulle tale van voorkeur. Hiervoor is ’n splinternuwe taalbeleid nodig, een wat die klem op ware meertaligheid lê en met duidelike taalteikens en prosesse om hierdie teikens te bereik; een wat die uiteenlopende belange in die universiteit onder een hoed bring.
Die drukgang waarin die US hom op kort termyn bevind – hofsake oor die universiteit se taalpraktyk, ’n “onmoontlike situasie” in die lesingsale, en wye opposisie teen die konseptaalbeleid – word kwalik opgehef deur die uitspraak van ’n aangestelde regter. Die US moet veel eerder begin praat, óók met diegene wat gekant is teen die Engelse eentaligheid in die hart van die konseptaalbeleid.
Die eerste nodige stap is om die vertrouensbreuk wat tussen die Bestuur en verskeie belangegroepe binne en buite die universiteit ontstaan het, reg te stel.
The post Wie is die belanghebbers in die US-taalbeleid? appeared first on LitNet.