Titel: My lewe in drie tale
Skrywer: Koos Oosthuysen
Uitgewer: Privaat
ISBN: 9780620922630
Gratis aan LitNet-lesers: Kry dit hier.
Titel: Dit laat my nie koud nie en ander onthou-stories
Skrywer: Lucia Oosthuysen
Uitgewer: Privaat
ISBN: Geen
Gratis aan LitNet-lesers: Kry dit hier.
Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer geskryf en aan LitNet gestuur.
Die twee kort en selfgepubliseerde boeke van Lucia en Koos Oosthuysen, onderskeidelik Dit laat my nie koud nie en ander onthou-stories en My lewe in drie tale, weerspieël ’n sending-egpaar wat dmv hul afsonderlike en gesamentlike doen en late die siening dat sending ’n medemenslike lewenswyse is, duidelik gestalte laat kry het.
Lucia skryf sketse en Koos herinneringe – sketse en herinneringe oor voorgeslagte, grootword, skoolgaan, studies, werk, trou, kinders, familie, Xhosa-mense, andere in nood, reis en boeke en Bybelvertalings. Beide boeke sentreer rondom mense en Lucia en Koos se betrokkenheid by en verhoudinge met daardie mense.
Sinlose dood en spanning
Met inagneming van die titel van Lucia se boek is dit van pas om te lees hoe sy vertel van Steve Biko wat by hulle aan huis in Qonce (King William’s Town) eksamen geskryf en ekstra Afrikaanse lesse van Lucia ontvang het. Na afloop van so ’n tuisles het Biko sy groen boekie daar vergeet en nooit weer opgedaag nie. Hulle het later oor die radio van Biko se arrestasie en dood verneem, maar “dit laat my nie koud nie”, skryf Lucia.
Een Paasnaweek, waartydens daar jaarliks ’n groot kerkfees van vier dae en nagte lank gevier is, het hulle op pad terug huis toe van Chris Hani se sluipmoord verneem. Te midde van daardie klompie dae se hoogspanning het ’n ouderling vir hulle gebid en gevra dat die Here hulle tog asseblief moet bewaar, “want hulle kan dit tog nie help dat hulle wit gebore is nie”.
Ander onthou-stories
Lucia vertel ook van hul jare lange huishulp se lief en leed; van gemeentemoeders se bidure op Donderdagmiddae; van ’n verslae klein seuntjie op die biblioteek se stoep wat later groot hoogtes in sy lewe bereik het; van hul blyplek vir behoeftige swart seuns en hul toekomstige vordering; van swart troues van Xhosa-kinders en -studente wat hul paaie gekruis het; van haar lees- en skryfklasse aan ongeletterde volwassenes en van haar vrywillige betrokkenheid by ’n skuiling vir straatmeisies.
Kontraste
Lucia en haar suster onderneem vier dae lank ’n avontuurlike rondkuier in Switserland. Hul bewonder die asemrowende omgewing, sukkel met ekstreme stiptelikheid en verdwaal waar alles net té klokslag werk.
En toe die Mthatha-fees om die 1996-Xhosa-vertaling van die Bybel te vier.
Gedurende die straatoptog merk Lucia ’n plakkaat op: “Abortion. Same day home. No pain. Why pay R300. Come for R250.” Vir die aand se groot geleentheid is slegs ’n handjievol mense betyds. Die volgende dag sê Lucia sy’s jammer vir al die onregverdige lyding wat swart mense gedurende apartheid moes ervaar, maar “ek vra nie vir vergifnis nie, ek sê net jammer.”
Saam met studente, familie en vriende vaar hulle ander Afrikalande in. Hierdie storie het my laat terugdink aan ’n groep teoloë en teologiese studente wat vroeg in die negentigerjare ’n “Afrika-toer” onderneem het en daarna ’n boek met die titel Into Africa gepubliseer het, so asof ons as Suid-Afrikaners nie deel van hierdie kontinent is nie. Lucia en Koos het egter “ander lande” van ons Afrika besoek ten einde ons mede-Afrikane en ons kontinent, met al sy mooi en moeilikhede, beter te leer ken en om geestelike en praktiese diens te lewer.
En as Lucia gaan stap en die natuur geniet, dan maak die helikopters wat “waterdrops” op die gemeenskap “anderkant die muur” uitvoer, haar bewus van die onderskeie wêrelde waarin ons nog steeds afsonderlik woon.
Seerkry, misdaad en herstel
In ’n stoorkamertjie van ’n skool luister Lucia na die stories van kinders wat met diepliggende probleme worstel, en in haar klein swart koffertjie dra sy hul seerkrybriefies. Toe ’n onderwyseres na ander leerders as die “lost group” verwys, staan sy saam met hulle in ’n kring waar hul veilig voel en hul verlies van hul ouers met mekaar deel.
Lucia skryf ook met deernis oor die “gemors” van gevangenes en oor moordenaars, verkragters en ander geharde misdadigers wat met hul eie families, families van slagoffers en met slagoffers self versoen.
Hoop
En toe kom kuier ’n swart kollega en sy vrou van in hul tagtigerjare ...
Terwyl Lucia afsonderlike stories skryf, verpak Koos sy herinneringe in ’n aaneenlopende kronologiese formaat. As egpaar van sestig jaar is dit vanselfsprekend dat hulle boeke gedeelde ervaringe en selfs hier en daar oorvleuelings sal insluit.
Ontmoetings en herontmoetings
Kort na Koos se geboorte te Port St Johns in Pondoland doop ds Ockie Cloete hom in die Xhosa-kerkie in Isilimela. Sewe-en-twintig jaar later bevestig die einste ds Cloete vir Koos en Lucia in hul huwelik. Ds Cloete was Lucia se pa.
Koos het as kind hoofsaaklik Xhosa-maats gehad. Sewentig jaar later stap hy op ’n strand langs die Wildekus en loop een van sy kindervriende raak. Nkuhnu het vir Kwesi (Koos) aan sy stem herken.
Vanaf Queenstown ry Koos trein om sy studie op Stellenbosch te begin. Saam met hom in die kompartement was Dirk Odendaal en Bertie Groenewald. Vanaf die middel sewentigerjare werk Koos en Dirk saam aan die nuwe en funksionele vertaling van die Bybel in Xhosa en in die vroeë tagtigerjare trou Dirk se seun en Bertie se dogter met mekaar.
Koos vertel ook van sy gesondheidsprobleme. Op reis in Nederland beleef hy ’n krisis en word na ’n uroloog verwys. Dis toe niemand anders as ‘n persoon wat hulle ’n klompie jare vantevore tydens ’n reis in een van ons buurlande ontmoet het nie.
Aan die einde van Koos se boek vertel hy van hul lewe te midde van Covid. Aan die begin skryf hy hoe sy oupa gedurende 1918/19 op ’n komitee gedien het wat na die versorging van mense tydens die Spaanse Griep moes omsien. Nes nou was dit ook destyds ’n tragiese pandemie, in so ‘n mate dat een van die komiteelede sou sê: “People are dying who have never died before.”
Skoolgaan, studies en sport
Koos vertel van sy skooldae in ’n klein Xhosa-skooltjie en sê dat hy ’n bietjie met Afrikaans gesukkel het, maar baie met Engels, maar dat hy nie kan onthou dat hy ooit probleme met Xhosa gehad het nie. Toe nefies kom kuier, sê hy een oggend vir hulle: “Let’s spit the sand with a grave.”
Later is hy op kosskool in Mthatha en Kokstad. In rugby speel hy slot, stut en haker en in krieket word hy vir die skoolspan gekies omdat “daar nie tien nie, maar elf spelers in die span moes wees”. Die ryker kinders speel polo met perde, maar die res van hulle doen dit met fietse.
Hy word prefek en hoofseun en die skoolhoof verwag dat hulle amptelike skoolkleure en “cheesecutters” dorp toe moet dra. Hy protesteer en word toegelaat om ‘n veldhoed te dra, mits dit omring is met ’n band wat die skoolkleure verteenwoordig. Toe Koos later by Yale in Amerika gaan studeer en rondtoer, koop hy vir hom ’n cowboyhoed. En so het almal vir Koos met sy verskeidenheid hoede leer ken.
Op Stellenbosch geniet hy veral die krities-denkende dosente, en tussen hom en sy vriende Louis Heyns en Pieter Conradie stig hulle ’n “maatskappy” wat gedikteerde lesings vermeerder en verkoop. Koos sluit ook by die Berg- en Toerklub (BTK) aan.
Hy word gekies as lid en later voorsitter van die BTK se houtkomitee. Hy klim die leer en word die voorsitter van die BTK, maar veel belangriker is dat hy in die BTK vir Lucia ontmoet het.
Koos word ook tot sekretaris van die Studenteraad verkies en lei ook op ’n stadium ’n Afrikaanse Studentebond- (ASB-) toer deur Europa, al maak hy en Louis Heyns dit vir hulle moeilik met standhoudende kritiek tov die ASB se Christelik-Nasionale beleid.
Dominee en vertaler
Sommer van kindsbeen af het Koos homself aan mense voorgestel as “Jacobus Christiaan Dominee Oosthuysen”. Na sy legitimasie begin Koos met nagraadse studie, maar ’n familiekrisis steek ’n stokkie in die wiel. Hy bedien ’n aantal gemeentes en word ook tot aktuaris en moderator van die NG Kerk in Afrika en later VGKSA verkies. Koos se blywende nalatenskap lê egter in sy menswees en ‘n menigte vertalingswerke opgesluit.
Sy oorsig oor die jare lange prosesse van die vertalings van die Bybel in Xhosa is insiggewend. Saam met andere vertaal hy vele werke in Xhosa, maar sy betrokkenheid by die nuwe en funksioneel-vertaalde Xhosa-Bybel het reeds ’n verskil in baie mense se lewens gemaak en gaan dit beslis vorentoe nog doen. Antjie Krog se huldeblyk kort na Koos se onlangse afsterwe bied ’n dieper insig in Koos se literêre bydrae.
Lucia en wyle Koos sal en sou die eerste wees om te erken dat hul sketse en herinneringe hoegenaamd nie twee volmaakte lewens probeer weerspieël nie. Hul twee kort en selfgepubliseerde boeke herinner my wel aan wat Dons Kritzinger seker meer as dertig jaar gelede gesê het. Op daardie stadium was die Instituut vir Sendingwetenskaplike Navorsing (ISWEN), onder leiding van Dons, besig met ’n projek genaamd “Die onvoltooide sendingtaak”. As ek sê dat Dons dit gesê het, kan dit ook dalk wees dat hy dit geskryf het: “Dis nie die sweepklappende aanhitsing tot sending wat ’n verskil maak nie, maar die alledaagse medemenslike lewenswyses van gelowiges.”
The post Sending as medemenslike lewenswyse – ’n lesersindruk oor die outobiografieë van Koos Oosthuysen en Lucia Oosthuysen appeared first on LitNet.