Dis die eerste maal in 19 maande dat ek voor die imposante wit teater in Kampsbaai staan. Die ligte binne is aanloklik; ’n paar rokers staan en gesels opgewek buite, en van binne kom die klanke van iemand wat op ’n klavier tokkel en mense wat oor glase yskoue witwyn of gin en tonics lag en gesels.
Dit voel asof inperking ’n slegte droom was; maar ook nie. Want die masker op my gesig maak my nog steeds benoud en ek kom met uitgestrekte hande vir handreiniger en temperatuurmeet aangestap na die deur.
Ek moes lag vir die stukkie uit die persverklaring: “Maskers verpligtend ... inenting aanbeveel ... sin vir humor noodsaaklik!” Wánt, is dit nie juis humor wat daardie eerste paar weke van vlak 5-inperking draagliker gemaak het en ons steeds deurdra nie?
.......
Ek moes lag vir die stukkie uit die persverklaring: “Maskers verpligtend ... inenting aanbeveel ... sin vir humor noodsaaklik!” Wánt, is dit nie juis humor wat daardie eerste paar weke van vlak 5-inperking draagliker gemaak het en ons steeds deurdra nie?
.......
In die voorportaal kry almal iets te drinke en die roterende televisieskerms wissel met beelde van ’n koerantplakkaat met die woorde “Welcome back, we’ve missed you”, die volgende vertoning by die teater en ook Pieter-Dirk Uys se vertoning. ’n Vrou hou langs my haar kamera gereed vir die koerant om ’n foto te neem; ek wag vir Uys se gesig om ’n foto vir sosiale media te neem.
Sy staan langs my, ons albei skimme agter ons maskers.
“Ek voel skoon aperig om teater toe te kan kom!” vertel sy half verleë, sonder om haar oë van die skerm te haal. En gaan dan voort: “My vriende gaan nie glo waar ek is en boonop met ’n Pieter show nie.”
Toe die ligte uitdoof, kom die gewone boodskap van “selfone af, asseblief”, maar dan voeg Pieter se stem in die donker by dat hierdie nie Skype of Zoom is nie. “We are back. And so are you.” Die gehoor fluit en klap hande en skree vreugdeskrete.
Pieter-Dirk is terug met verskeie uitrustings, pruike en natuurlik tannie Evita, wat al sedert 1981 aan sy sy is. Hy het nie sy slag met die gehoor verloor nie en gou-gou eet almal uit sy hand. Sy politieke waarneming is steeds vlymskerp deur die stemme en kostuums van die Joodse Nowell Fine wat groot vreugde uit die twee klein stekies geput het; Boris Johnson se agterstevoor en onderstebo reëls van gesinne wat nie mag saamwees in hul eie huise nie; en dan ’n skreeusnaakse vertolking van William Shakespeare wat eintlik van die Bosveld af gevlug het Engeland toe en daar sy naam van Willie Wikkelspies verander het en hoe hy inperking in Stratford-upon-Avis (!) ervaar.
.......
Pieter-Dirk is terug met verskeie uitrustings, pruike en natuurlik tannie Evita, wat al sedert 1981 aan sy sy is. Hy het nie sy slag met die gehoor verloor nie en gou-gou eet almal uit sy hand.
........
Evita Bezuidenhout deel haar waarhede pre-Covid en post-vlak 3 as kok in Luthuli Huis.
Daar is oomblikke wanneer Pieter-Dirk vertel van hoe hy – alleen in sy huis op Darling – die vrees aan sy lyf gevoel het toe ons soveel reëls en regulasies gehad het; hoe hy “binne twee dae afgetree het sonder dat hy ’n sê gehad het” toe al wat teater regoor die aarde waar hy sou optree, sy vertonings kanselleer het. Jou hart wil breek vir wat die regulasies aan die kunstenaars en hul drome en inkomstes gedoen het.
Maar dan ook hoe hy sy tuin ontdek het: die wieging van die bome, die stilte daar en die ryk voëllewe. Goed wat hy nooit voorheen gesien het nie, want hy was altyd op reis.
Daar is komiese oomblikke met maskers – of soos een man in die Spar-tou op Darling daarna verwys, “bek-bra” – en hoe mense nie verstaan het hoe om dit te dra nie; hoe ons alles met Dettol afgewas het; en vele ander stories.
Hier is dit nie grappies nie; dis die skerp waarnemingsvermoë van ’n meester wat koppe laat knik en mense ver laat terugdink.
......
Hier is dit nie grappies nie; dis die skerp waarnemingsvermoë van ’n meester wat koppe laat knik en mense ver laat terugdink.
........
Toe hy sê dat mense aanvanklik vertel is jy sal dalk nie eers weet as jy die virus het nie, maar dat jy ander kan aansteek, vergelyk hy dit met die virus van apartheid. “En voor ons weet, is daar 46 jaar van apartheid!”
Wanneer hy agter sy grimeerspieëltjie gaan sit en mompel: “Dis so weird om dieselfde ouderdom as ou mense te wees,” skater die (baie ouer) gehoor. Daar is kameraderie in daardie lag.
In die motor op pad huis toe is ek en my geliefde vir ’n hele ruk stil. Die ervaring van iets wat ons vir so lank nie beskore was nie, moet nog insink. Oplaas laat hy hoor dat dit darem vreemd is dat mens kan lag terwyl jou hart ineen krimp van die vrees wat die pandemie gebring het. Dat niks meer voel soos voorheen nie. Dis oral: van die gemaskerde gesigte wat deur die dowwe teaterligte verlig word, tot die twee sitplekke oop tussen julle en die volgende paartjie, of die intekenregister met jou besonderhede en temperatuur in die voorportaal. Maar dat ’n aand in die geselskap van Suid-Afrika se voorste satirikus, meesterlike storieverteller en iemand wat weet hoe om ’n gehoor vir 70 minute vasgenael te hou met sy kwinkslae en politieke skertse, net so ’n welkome lafenis is as die nuus destyds dat ’n inentingsveldtog op pad is.
Maandag in die tou om te stem sal ek weer Pieter-Dirk se woorde uit die vertoning onthou: “Jy moet reg stem in die munisipale verkiesing, sodat wanneer die land teruggaan na vlak 4 toe, Donderdag, jou munisipale amptenare die beste inperking-omstandighede vir jou sal verseker!”
Daar is geen pouse nie. Alle Covid-riglyne word by die teater gevolg en net 50% van die teater mag gevul word.
Met: Pieter-Dirk Uys
Theatre on the Bay
Tot 6 November. Begin 20:00.
Kaartjies word in pare van twee verkoop teen R200 elk en is deur Computicket.com by (0861) 915 8000 / (011) 340 8000 of https://tickets.computicket.com/event/pieter_dirk_uys_lockup_lockdown/7174185 beskikbaar.
Die Theatre on the Bay-kaartjieskantoor is oop van 10:00 tot 17:00.
The post Humor is wat ons deurdra: ’n resensie van Pieter-Dirk Uys se Lockup/Lockdown appeared first on LitNet.