Quantcast
Channel: LitNet
Viewing all articles
Browse latest Browse all 20654

Daar is 'n olifant in die kerk

$
0
0

Ná die NG Kerk se onlangse sinodale besluit, skryf Jean Oosthuizen oor netelige kwessies in die kerk. 

Daar was ʼn olifant in die vertrek tydens die NG Kerk se afgelope algemene sinode toe hulle ja gesê het vir gay-troues. Die olifant se naam is Skrifgesag.

Totdat hierdie olifant raakgesien word en lidmate verstaan hoe mens die Bybel moet lees, sal die eindelose debatte oor homoseksualiteit, saamwoon voor die huwelik, die bestaan van die duiwel, evolusie, maagdelike geboorte en vele ander sake soos ʼn neet op die kerk se agenda bly vasklou sonder om die olifant op die naam te noem.

Die diep verdelingslyne oor die gesag van die Bybel strek wêreldwyd tot in die hoogste vergadersale van kerke.

Te veel mense glo nog alles wat in die Bybel staan is onaantasbaar terwyl hulle self ook maar na willekeur kies en keur watter dele van die Bybel hulle pas.

Selfdegeslagverhoudings is maar net die seekoei se oortjies wat uitsteek. Dit is slegs één van talle morele impasses waarin kerke hulle vandag bevind.

"Daar moet 'n brawe dag kom waar die Kerk bloot erken: die Bybel is hieroor verkeerd. Dit help nie ons probeer met breingimnastiek Bybeltekste so verduidelik dat die ‘konteks’ vandag anders gelees moet word nie,” sê Ronell Bezuidenhout van die NG gemeente Fontainebleau in Gauteng.

“Slawerny? Die Bybel is daaroor verkeerd. Dis net so eenvoudig. Daar was dalk 'n tyd dat mense gedink het dit is reg. Maar dit is verkeerd! So is dit dieselfde met die siening dat die man die hoof van die vrou is. Dit is seksisties. Dit is verkeerd. Ons moet dit nie ‘reg’ probeer praat nie. Dit is verkeerd. Dieselfde dat vroue nie predikante kon wees nie. Dit is verkeerd. Dieselfde oor uitsprake van gays in die Bybel. Die Bybel is uitgesproke homofobies. Dit is verkeerd. Ons moet braaf genoeg wees om dit te sê. Paulus was dalk homofobies – dan was hy verkeerd,” sê Bezuidenhout.

Sulke helder uitsprake is nie oral in die kerk gewild nie.

In Amerika word daar gepraat van “The Battle of the Bible”. ʼn Oorlog om oorlewing  tussen twee uiteenlopende sienings van die Bybel.

Teen hierdie agtergrond het 200 afgevaardigdes (oorwegend ouer heteroseksuele mans) van ʼn diep verdeelde kerk vroeër die maand in Pretoria teen alle verwagting ʼn waterskeidingbesluit oor homoseksuele verhoudings geneem. Die rimpeleffek daarvan is besig om landwyd uit te kring in kerkraadsvergaderings en gesprekke onder lidmate.

Die debat oor Skrifgesag strek egter baie wyer as net homoseksualiteit. Die wyse waarop mense die Bybel lees, raak byna elke lewensterrein. Dit strek as’t ware van die regbank tot die vermaaklikheidswêreld. Dit bepaal hoe Christene voel oor sake soos saamwoon, homoseksualiteit, aborsie, dobbelary, egskeiding en andere sake.

Bybelse antwoorde op dié kwessies is nie meer so glashelder soos voorheen nie.

Die eksklusiwiteit van die kerkorde sal nog verder uitgedaag moet word as die kerk ʼn manier wil vind om die enorme diversiteit binne die kerk te akkommodeer en as ‘n geleentheid te benader pleks van ʼn bedreiging.

Die beleidsdokument “Kerk en Samelewing” is in Oktober 1986, 29 jaar gelede, deur die algemene sinode van die NG Kerk aanvaar. Daarmee het die NG Kerk finaal afskeid geneem van apartheid. Die aanvaarding van hierdie dokument het tot grootskaalse reaksie in die kerk, en uiteindelik tot die ontstaan van die Afrikaanse Protestantse Kerk (APK) in 1987, gelei.

Ongelukkig weeg die vrees vir kerkskeuring meermale swaarder as die profetiese stem waarop die kerk graag roem.

Destyds het byna 8 000 lidmate die NG Kerk verlaat om die APK te stig. Dit het die NG Kerk in die grootste storm van sy geskiedenis gedompel.

Vanjaar het die NG Kerk se algemene sinode, soos 29 jaar gelede met die aanvaarding van “Kerk en Samelewing”, weer die regte ding gedoen en ʼn dapper besluit geneem.

Terugskouend was die wins wat saam met “Kerk en Samelewing” gekom het, groter as die verlies, sê Johan van der Merwe van die Universiteit van Pretoria in ʼn akademiese artikel wat hy vier jaar gelede geskryf het.

“As die aanvaarding van ‘Kerk en Samelewing’ die NG Kerk byna 8 000 lidmate gekos het, moet die vraag gevra word of die kool die sous werd was. Was dit inderdaad die worsteling en die pyn van 'n kerkskeuring werd?”

Byna 30 jaar later vertel die geskiedenis dat dit inderdaad ʼn tydige koerswysiging was wat die kerk in ʼn posisie gestel het om die reis op pad na ʼn postapartheid Suid-Afrika mee te maak, sê Van der Merwe.

Net soos met “Kerk en Samelewing” kan die reaksie van predikante en lidmate oor die kerk se gay-besluit basies in vier groepe verdeel word. Eerstens is daar ʼn stille meerderheid wat dit bloot aanvaar het. Tweedens is daar ʼn groep wat van mening is dat dit “too little too late” is. ʼn Derde groep het gejuig oor die besluit wat geneem is, terwyl ʼn laaste en luidrugtige groep sê: “Ons is verraai.”

Dalk is daar nog te veel ouer wordende mans wat die kerk wil beheer en bestuur. Daardie nuwe geslag ooms wat met verbysterende vaardigheid gesout geraak het in die beplanning en uitspeel van strategieë. Maar hulle is besig om vinnig uit te sterf, soos wat die NG Kerk se afgelope sinode bewys het.

Ongeveer 33% van die NG Kerk se lidmate is tussen 60 en 80 jaar oud. Slegs 27 van die 200 afgevaardigdes na vanjaar se algemene sinode was vroue – en wat predikante betref, was slegs ses van die 100 afgevaardigdes vroue.  

Nie almal in die kerk is blind vir die kerk se impasses nie. Dink net hoeveel beter kan dit nog wees as meer jongmense en vroue van Bezuidenhout se kaliber in die kerk se leiersposisies dien.

Baie progressiewe teoloë en lidmate wil graag uit die netelige posisie kom waarin die kerk hom bevind. Daarvan getuig talle weldeurdagte studiestukke – soos die taakgroep se verslag oor selfdegeslagverhoudings – wat sinode na sinode met groot moeite en erns deur kundiges aan sinodegangers voorgelê word vir oorweging maar dekades neem voordat dit aanvaar word.

Oop gesprekke op sosiale media word dikwels verdwerg deur die luidrugtige rumoer van fundamentaliste wat teen enige verandering gekant is en hardkoppig bly vassteek by uitgediende dogmas wat nie die toets van die tyd kan deurstaan nie. Dit skrik kerkleiers maklik af en laat hulle laer trek.

Hoeveel studiestukke is nóg nodig om vas te stel of die duiwel ʼn persoon is of nie? Hoeveel keer moet gay lidmate nóg die vernederende onderwerp van kerke se verdere studie wees? Dit terwyl sielkundiges en beraders moedeloos met hulle hande in die hare sit omdat die meeste kerke steeds nie hulle woord wil aanvaar dat kernhomoseksualiteit nie kan verander nie.

Die gesag of “heiligheid” van die Bybel skep baie verwarring onder lidmate. Predikante het ʼn groot verantwoordelikheid om mense oor die onderwerp te begelei.

Totdat kerke werklik ʼn oop gesprek voer oor Skrifgesag en al die ander netelige kwessies, sal die olifant in die vertrek al hoe groter word en kerke al hoe leër. Dan mag die dag dalk net aanbreek wanneer die kerk besef dit was inderdaad “too little too late” en self ʼn wit olifant word. 

 

Hierdie LitNet Akademies-webseminaar sluit ook in:

Sinode se gay-besluit: keuse vir verantwoordelike gebruik van die Bybel

André Bartlett
Seminare en essays 

Homoseksuele predikante: ’n Regs- en morele dilemma

Helena van Coller
LitNet Akademies (Godsdienswetenskappe)

Homoseksualiteit en sewe klassieke Bybelse tekste: Antigay of misverstaan?

Ernest van Eck, Ralph Barnard
LitNet Akademies (Godsdienswetenskappe)

 

The post Daar is 'n olifant in die kerk appeared first on LitNet.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 20654

Trending Articles


Wiskunde, graad 6: Vraestel en memo (November)


Weer 'n kans op geluk (Deel II)


Maak jul eie reënmeter


Hoe om ’n aangebrande pot of oondbak skoon te maak


8 Wenke om water te bespaar


Die beste tyd van my lewe


Koshuiskaskenades


’n Beoordeling van die vertaling van σάρξ (vlees) in die Direkte Vertaling...


Welkom in die wêreld, Baba Strauss!


Warrelwind skep my op in die lug…los my op ‘n Wolk se rug


Een vakansie tydens my kinders se sporttoere ...


Graad 4-wiskundevraestel en -memorandum (November)


Mikrogolf-vrugtekoek


18 unieke kosse wat net Suid-Afrikaners sal ken


Gedig: Populiere


Breekpunt deur Marie Lotz: ’n lesersindruk


Graad 6, 2016: Vraestelle en memoranda


Wonder ek oor die volgende ….


Die oplossing vir yl hare is hier


Kyk watter glanspaartjie is verloof!



<script src="https://jsc.adskeeper.com/r/s/rssing.com.1596347.js" async> </script>