Die ATKV-Tienertoneelfinaal 2015 het van 6 tot 10 Oktober plaasgevind. Hier volg die uitslae.
Hoër Meisieskool Bloemhof van Stellenbosch is die nasionale wenner van die
51ste ATKV-Tienertoneelkompetisie met vyf: ’n dokumentêr.
Dié toneelgroep ontvang R30 000 en die ATKV-Tienertoneelwisseltrofee. vyf: ’n dokumentêr is ’n werkswinkelproduksie, saamgestel deur die hele geselskap. Dit is verbatimteater, ’n vorm van dokumentêre teater, wat ondersoek instel na die psige van ’n eietydse tienermeisie. Vir die eerste keer word die deure van ’n meisieskool met ’n skrefie oopgestoot vir die publiek.
Daar is 704 leerders met 704 stories, alles is gedistilleer om beide die banale en die grootse ervarings van ’n tienermeisie te ontbloot: die neurose, vrese, angs, paniek en vreugde van vyf jaar se groeipyne waar “maanskyn en rose” ’n gedig is wat jy in graad 10 behandel. ’n Privaat blik in ’n wêreld waar jou matriekafskeidrok ’n staatsgeheim is, waar “bad hair days” jou laaste kommer is en waar ’n A-gemiddeld die standaard is. ’n Wêreld van die matriarg.
Elke woord is verbatim gebruik.
Die regisseur is André Gerber en die hulpregisseur is Elizabeth Munro.
Hier is hulle saam met Sandra Prinsloo (links) en Japie Gouws (regs).
Die produksie ontvang ook die toekenning vir beste ensemblewerk.
Hoër Meisieskool Bloemhof het ook in 2012 met Spektakel en in 2013 met
Sneeuwitjie en die Sewe Zombies dié gesogte titel verower.
Randfontein High School is die naaswenner en ontvang R20 000 prysgeld vir Die Einde. Dit is die heel eerste keer dat hierdie skool aan ATKV-Tienertoneel deelneem. Die Einde is ’n oorspronklike, kragtige drama wat die wrede bendekultuur in ons jeugstrafstelsel uitbeeld. Dit is ’n eerlike en dikwels uitdagende uitbeelding van ’n skynbaar vergete samelewing.
Twee spelers van Randfontein High School het ook individueel geskitter met hulle rolle in Die Einde. Cantona James (links) as General X in Randfontein is aangewys as die beste manlike akteur in ’n hoofrol en Antonio Martin (regs), wat die rol van Cupcakes vertolk het, is as die mees belowende speler tydens die finaal aangewys.
Die toekenning vir beste regisseur(s) is oorhandig aan Stephen Kotze en Amanda Jankowitz
vir Die Einde.
Hoërskool Zwartkop se Hospitaner, geskryf deur Johann Smith, is in die derde plek aangewys.
Die toneelgroep ontvang R10 000 prysgeld.
Linda van der Walt van Hoërskool Zwartkop is die beste vroulike speler in ’n ondersteunende rol.
Ben Blignaut, ook van Hoërskool Zwartkop, en Loyame Mlawuli van Randfontein High School deel die toekenning vir beste manlike speler in ’n ondersteunende rol.
Hier is Loyame Mlawuli van Randfontein High School saam met Sandra Prinsloo.
Potchefstroom Gimnasium se As die trein kom het vierde geëindig en Hoërskool Noordheuwel se DubbelDrie vyfde. Potchefstroom Gimnasium het die toekenning ontvang vir beste hantering van tegniese aspekte, asook vir die beste aktrise in ’n hoofrol vir Charlize Barnard se rol as Nine (regs op die foto).
Hier is Charlize Barnard met haar prys by Sandra Prinsloo.
Vanjaar het die ATKV drie nuwe toekennings bekendgestel by die finaal om die tegniese leerders wat net so hard agter die skerms werk te beloon: die beste verhoogbestuurder, die beste klankoperateur en die beste beligtingsoperateur.
Die heel eerste ontvangers van hierdie toekennings is Zander Brits van Port Natal Skool se
Vergeet om te vergeet as beste verhoogbestuurder.
Inge Heins van Hoër Meisieskool Bloemhof was die beste klankoperateur vir haar aandeel aan vyf: ’n dokumentêr.
Mokgadi Mabitsela van Randfontein High School was die beste beligtingsoperateur vir sy bydrae in Die Einde.
So lyk die wisseltrofee.
Altesaam 180 toneelstukke het vanjaar aan die 51ste ATKV-Tienertoneelkompetisie deelgeneem, met ongeveer 3 000 hoërskoolleerders wat die verhoë warm gespeel het. Tien streeksfeeste het gedurende Augustus plaasgevind, waarna die tien beste produksies na die finaal uitgenooi is. Die doel van hierdie projek, die ATKV se oudste projek, is om ’n liefde vir Afrikaanse toneelspel en -kyk by hoërskoolleerders te kweek sodat leerders hulle kreatiwiteit en talente daardeur kan ontgin en ontwikkel.
Die nasionale wenner van die 51ste ATKV-Tienertoneelkompetisie in 2015 is Hoërskool Meisieskool Bloemhof met vyf: ’n dokumentêr.
Die naaswenner is Randfontein High School met Die Einde.
Hoërskool Zwartkop, met Hospitaner, was derde.
Potchefstroom Gimnasium, met As die trein kom, was vierde.
Hoërskool Noordheuwel, met DubbelDrie, was vyfde.
Die ander finaliste was Hoërskool Eldoraigne met Vriendin, Hoërskool Wilgerivier Frankfort met Mallewales, Hoërskool Jan van Riebeeck met Jaarblad, Hoërskool Upington met Kaplyn en Port Natal Skool met Vergeet om te vergeet.
Die beoordelaars was Elma Postma, Hennie van Greunen, Ilse Oppelt, Ira Blanckenberg, Marí Borstlap, Pedro Kruger en Wilhelm van der Walt.
Die ATKV moedig die skep van nuwe tekste aan wat gehore kan aanspoor om weer én meer die teater te besoek, asook die daarstelling van goeie, opvoerbare, nuwe eenbedrywe vir skole. Al die nuutgeskrewe tekste wat ingeskryf word vir ATKV-Tienertoneel kom ook in aanmerking vir die prys vir die beste nuutgeskrewe Tienertoneelteks van die volgende jaar.
Altesaam 88 nuutgeskrewe Tienertoneeltekste van 2014 is deur die loop van die jaar deur Wim Vorster, Ilne Fourie en Ilse Oppelt beoordeel om die beste nuutgeskrewe Tienertoneeltekste te bepaal. In die derde plek is Brink Nelson vir Klonkie. Hy ontvang ’n brons-ATKV-erepenning en R1 000 prysgeld. Die naaswenner is Marí Borstlap vir haar teks WolkKop. Sy ontvang ’n silwer-ATKV-erepenning en R3 000 prysgeld. WolkKop het verlede jaar die ATKV-Tienertoneelkompetisie gewen en ook ’n speelvak tydens vanjaar se Absa KKNK gehad. Die prys vir die beste nuutgeskrewe Tienertoneelteks is toegeken aan Nico Scheepers vir Na ’n ander aarde. Hy ontvang R5 000 en ’n goue ATKV-erepenning.
Hier volg die volledige lys van nominasies en wenners van die individuele pryse:
Die nominasies vir beste verhoogbestuurder is:
- Stacey-Ann Phillips van Randfontein High School se Die Einde
- Tamen Slabbert van Hoërskool Eldoraigne se Vriendin
- Zander Brits van Port Natal Skool se Vergeet om te vergeet.
Die wenner is Zander Brits.
Die nominasies vir beste klankoperateur is:
- Franco Rossouw vir Hoërskool Jan van Riebeeck se Jaarblad
- Inge Heins vir Hoër Meisieskool Bloemhof se vyf: ’n dokumentêr
- Ruan van der Merwe vir Hoërskool Noordheuwel se DubbelDrie.
Die wenner is Inge Heins.
Die nominasies vir beste beligtingsoperateur is:
- Carel du Plessis vir Hoërskool Noordheuwel se DubbelDrie
- Lisa Zondagh vir Hoërskool Eldoraigne se Vriendin
- Miranda Joubert vir Hoër Meisieskool Bloemhof se vyf: ’n dokumentêr
- Mokgadi Mabitsela vir Randfontein High School se Die Einde.
Die wenner is Mokgadi Mabitsela..
Die nominasies vir die beste hantering van tegniese aspekte:
- As die trein kom van Potchefstroom Gimnasium
- Die Einde van Randfontein High School
- vyf: ’n dokumentêr van Hoër Meisieskool Bloemhof
Die wenner is Potchefstroom Gimnasium vir As die trein kom.
Die nominasies vir die beste ensemblewerk is:
- Die Einde van Randfontein High School
- Hospitaner van Hoërskool Zwartkop
- vyf: ’n dokumentêr van Hoër Meisieskool Bloemhof.
Die wenner is Hoër Meisieskool Bloemhof.
Die nominasies vir die mees belowende spel in ’n rol gedurende die ATKV-Tienertoneelfinaal 2015 is:
- Antonio Martin as Cupcakes in Randfontein High School se Die Einde
- Ben Blignaut vir verskeie rolle in Hoërskool Zwartkop se Hospitaner
- Juliana van der Merwe in Hoër Meisieskool Bloemhof se vyf: ’n dokumentêr
- Linda van der Walt vir verskeie rolle in Hoërskool Zwartkop se Hospitaner
- Martinette Muller as Malie in Hoërskool Wilgerivier Frankfort se Mallewales.
Die wenner is Antonio Martin van Randfontein High School.
Die nominasies vir beste vroulike speler in ’n ondersteunende rol is:
- Jeani Heyns in Hoër Meisieskool Bloemhof se vyf: 'n dokumentêr
- Juliana van der Merwe in Hoër Meisieskool Bloemhof se vyf: 'n dokumentêr
- Linda van der Walt vir verskeie rolle in Hoërskool Zwartkop se Hospitaner
- Mieke van Schoor in Hoër Meisieskool Bloemhof se vyf: 'n dokumentêr
- Saretti MzaLimbo vir verskeie rolle in Hoërskool Zwartkop se Hospitaner.
Die wenner is Linda van der Walt van Hoërskool Zwartkop.
Die nominasies vir beste manlike speler in ’n ondersteunende rol is:
- Antonio Martin as Cupcakes in Randfontein High School se Die Einde
- Ben Blignaut vir verskeie rolle in Hoërskool Zwartkop se Hospitaner
- Loyame Mlawuli as Einstein in Randfontein High School se Die Einde.
Hierdie toekenning word hierdie jaar gedeel deur: Ben Blignaut van Hoërskool Zwartkop en Loyame Mlawuli van Randfontein High School.
Die nominasies vir die beste aktrise in ’n hoofrol is:
- Ané Cloete in Hoërskool Jan van Riebeeck se Jaarblad
- Charlize Barnard as Nine in Potchefstroom Gimnasium se As die trein kom
- Janhé Goussard as Esmé la Grange in Hoërskool Upington se Kaplyn
- Liza du Plessis as Alicia in Hoërskool Eldoraigne se Vriendin.
Die wenner is Charlize Barnard van Potchefstroom Gimnasium.
Die nominasies vir die beste akteur in ’n hoofrol is:
- Cantona James as General X in Randfontein High School se Die Einde
- Erick Lourens as Frikkie in Hoërskool Wilgerivier Frankfort se Mallewales
- Werner Tolmay as Joshua in Hoërskool Noordheuwel se DubbelDrie.
Die wenner is Cantona James van Randfontein High School.
Die nominasies vir beste regisseur is:
- André Gerber en Elizabeth Munro vir Hoër Meisieskool Bloemhof se vyf: ’n dokumentêr
- Johann Smith en Pieter Alberts vir Hoërskool Zwartkop se Hospitaner
- Pierre-André Viviers en Heilet Zaaiman vir Potchefstroom Gimnasium se As die trein kom
- Stephen Kotze en Amanda Jankowitz vir Randfontein High School se Die Einde.
Die wenner is Stephen Kotze en Amanda Jankowitz vir Die Eindes.
Teks: Lizanne Basson
Foto's: Izak de Vries
- LitNet KlasKamer is ’n ruimte vir almal wat belangstel in die onderrig van Afrikaans op hoërskool.
The post Uitslae: ATKV-Tienertoneelfinaal 2015 appeared first on LitNet.