Kyk na foto's van die Dansende Digtersfees
Die jaarlikse dansende digtersfees het Saterdag 7 Mei by die Spier-landgoed buite Stellenbosch plaasgevind. Die feeskurators is Breyten Breytenbach, die skrywer Dominique Botha en die komponis Neo Muyanga. Die feesdag, bestaande uit ’n publieke gespreksreeks en voorlesings deur ’n groep gerekende plaaslike en internasionale digters, word voorafgegaan deur ’n week lange saamtrek waar die deelnemende digters gesprek voer en debatteer, voorlees, skryf, vertaal en saam op reis gaan.
Vanjaar se deelnemers was Suid-Afrika se nasionale hofdigter Keorapetse Kgositsile, die dissidente digter James Matthews, Yvette Christiansë (’n Suid-Afrikaanse digter wat in die VSA woon), asook die Nederlandse veteraan Hans C ten Berge, die Siriese digter Maram al-Masri (wat in Frankryk woon) en die jong Nigeriese uitvoerende digter Efe Paul Azino. Die Fransman Michel Deguy kon om gesondheidsredes nie die fees bywoon nie, maar sy werk is steeds vertaal en voorgelees.
Tydens die week voor die feesdag het Efe Paul Azino werkswinkels aangebied met die Lingua Franca Poetry Collective en die InZync Poetry Collective en die digters het onder andere na ’n vertoning van Evita Bezuidenhout / Pieter-Dirk Uys gekyk en die Weskus Nasionale Park en die plaas Kersefontein buite Hopefield besoek. Daar was ook ’n informele voorlesing by die Breytenbach Sentrum op Wellington saam met die Mengelmoes-digters, onder leiding van Diana Ferrus, en verskeie sessies by die UWK, waar individuele digters met studente van verskillende departemente in gesprek getree het. Tydens die UCT Lecture Series by GIPCA het die digters geluister na ’n voorlesing en bespreking deur Finuala Dowling en psigiater Sean Baumann, wat tans werk aan ’n opera getiteld A Song of Madness.
Vrydagaand kon die publiek die InZync Poetry Session by AmaZync in Kayamandi bywoon, waar Matthews, Kgositsile, al-Massri en Muyanga opgetree het saam met lede van die InZync InKredibles-program. Enigiemand wat wonder oor die relevansie van poësie in die samelewing, of wat dink dat jongmense nie die digkuns waardeer nie, kan gerus ’n draai maak by een van InZync se poësie-aande: dis luidrugtig en energiek, maar die respek vir die woord en vir die digters wat voorlees is opvallend. Die dansende digters wat voorgelees het, is met baie warmte en entoesiasme ontvang en deur die jeugdige gehoor omarm. Muyanga se musikale stel aan die einde van die aand was ’n besliste hoogtepunt.
Saterdag se verrigtinge het afgeskop met drie publieke gesprekke wat gefokus het op temas met spesifieke relevansie tot die huidige Suid-Afrikaanse en internasionale sosiale en politieke werklikheid. Die eerste gesprek se onderwerp was die verwoesting van standbeelde en ander simbole van die geskiedenis en het die vraag gestel of dié praktyk eintlik die gewapende vleuel van politieke korrektheid is. Die digters wat aan dié gesprek deelgeneem het, was Breytenbach, Kgositsile en Christiansë, en hulle is op die verhoog vergesel deur Dominique Botha.
Christiansë het besonder interessante punte gemaak rondom die potensiaal om oomblikke van die impuls tot verwoesting te gebruik om studente in geskiedenis te onderrig, asook die noodsaaklikheid daarvan om die fragmente van dit wat oorbly wanneer simbole vernietig word, te behou as tekens en merkers van die geskiedenis.
Botha se belangrikste punte het gegaan oor die idee dat ons die reg het om nie geaffronteer te word nie, en dat hierdie wanopvatting lei tot ’n “freedom from speech” eerder as “freedom of speech”.
Kgositsile het uitgewys dat daar tans skynbaar ’n tekort is aan ’n alternatiewe, betekenisvolle plan om teenoor verwoesting as ’n emosionele impuls en gut-reaksie te staan.
Die tweede gesprek het gegaan oor die geskiedenis van protes in poësie en musiek, maar het natuurlik ook gekyk na kontemporêre protesaksies. Breytenbach, Muyanga, Kgositsile en Azino het begin deur hulle onderskeie persoonlike ontwakings tot protes te bespreek, wat etlike interessante staaltjies uit Kgositsile en Muyanga se tyd in die buiteland opgelewer het. Die gesprek het ook geraak aan die feit dat daar dikwels van sogenaamde proteskunstenaars verwag word om nie ook ander soorte kuns te skep nie, maar Kgositsile het dit duidelik gemaak dat hy self nie spesifiek daarop uit is om protespoësie te skryf nie, maar eerder gedigte skryf as reaksie op dinge wat hom diep raak: “What I am most responsive to at the moment of writing is what will come out.”
Die laaste gesprek, wat gefokus het op migrasie en veral die migrantekrisis in Europa, is ongelukkig oorskadu deur die kwaai kommentaar van ‘n UWK-student wat die laaste gedeelte van die gesprek ontwrig het. In die gesprek het Georges Lory gesels met Maram al-Masri, Hans ten Berge en Efe Paul Azino. In die nadraai van die ontwrigting het die gesprek se fokus verander na die belangrike vraag oor die relevansie van die digkuns in reaksie op die verskrikking wat sulke massamigrasies veroorsaak. Die digters het uiteenlopende sienings oor hierdie onderwerp: terwyl Ten Berge voel dat dit moontlik meer prakties is om joernalistiek te beoefen as jy die wêreld wil verander, glo al-Masri onomwonde dat digters en skrywers ‘n verskil maak.
In ‘n opsommende opmerking uit die gehoor het Yvette Christiansë die rol van die skrywer só opgesom: “We have an obligation of attending to those in need of every form of articulation.”
’n Interaktiewe wynproe wat van Spier se lekkerste wyne aan gaste bekendgestel het, het die aand se voorlesings voorafgegaan. Die aand se verrigtinge is afgeskop met ’n musieknommer deur die Siyaya Choristers onder leiding van Bongani Magatyana, waarna Keorapetse Kgositsile voorgelees het, gedeeltelik met begeleiding deur Neo Muyanga.
Maram al-Masri was tweede aan die beurt. Sy het haar gedigte, wat die lewens van gewone mense in Sirië asook die ervarings van vlugtelinge in die buiteland opteken, in Arabies voorgelees. Engelse en Afrikaanse vertalings van haar werk wat uit die Franse weergawes van die gedigte gedoen is deur Catherine du Toit en haar studente aan die Universiteit Stellenbosch is tydens die voorlesing geprojekteer.
Yvette Christiansë het in Engels voorgelees: haar gedigte speel af in die verskillende leefwêrelde wat sy al bewoon het en haar nuwe werk kyk ook na gender.
Die laaste digter voor die pouse was Breyten Breytenbach, wat sy voorlesing gedoen het met begeleiding deur Schalk Joubert en Laurinda Hofmeyr. Hofmeyr het ook ‘n toonsetting van een van Breytenbach se gedigte gesing.
Die koor het gaste weer na die pouse vermaak, en toe het Catherine du Toit, Lungelo Sikhakhane en Georges Lory die gedigte van die groot Franse digter Michel Deguy in Frans, Zoeloe, Engels en Afrikaans voorgelees. Hans ten Berge was die tweede digter wat na die pouse voorgelees het. Hy is veelbekroond en in Nederland veral bekend as die stigter van die literêre tydskrif Raster. Hy het onder andere ’n gedig gelees wat ‘n reis deur die Klein Karoo na Montagu beskryf wat tydens sy eerste besoek aan Suid-Afrika plaasgevind het.
Daarna het die gehoor die besonderse voorreg gehad om vir James Matthews te hoor lees: dié digter is al 86 jaar oud, maar het ’n keur uit sy werk gelees en gespot dat hy homself deesdae, anders as destyds, toelaat om oor dinge soos skoenlappers te skryf.
Die laaste digter van die aand was Nigerië se Azino, wat met sy ritmiese en energieke voorlesing van gedigte wat die politiek van sy vaderland aansny, die aand op ’n kragtige wyse afgesluit het.
Soos met die vorige twee feeste is daar in die nadraai van die voorlesings gedans, en alhoewel die luim merkbaar minder uitbundig was as vorige jare – die wêreld het immers hierdie jaar ’n paar donker draaie geneem – was die handjievol dansers wat alles ten spyt voete gestamp en lywe geskud het, bewys dat niks die digkuns of die dans sal stuit nie.
The post Dansende Digtersfees 2016: Dans, digters, dans appeared first on LitNet.