Amraal deur Marinda van Zyl (2016)
Tafelberg
ISBN: 9780624075615
Amraal is ‘n historiese roman met die laat 18de en vroeë 19de eeu as agtergrond, spesifiek die geskiedenis van die groepe wat met mekaar kontak gemaak het noord van die Garieprivier buite die grense van die toenmalige kolonie, in wat vandag as Namibië bekend staan. Vir minstens ‘n eeu lank – tot die grens “gesluit” is, soos historici dit noem – het die kontak tussen Oorlams, Afrikaners (afstammelinge van die vermenging van trekboere en Khoi), Namas, Damaras, Boesmans en Herero’s gesorg vir ‘n onstuimige tyd van gewapende konflik oor weiding en toegang tot waterbronne, gepaard met veerowery en grootskaalse jagtogte, asook smokkelary. Name van geskiedkundige figure uit hierdie tyd, soos dié van Jonker Afrikaner en Hendrik Witbooi (uit ‘n latere tydperk), mag vir sommige lesers bekend klink.
Die roman neem as boustof die lewe van Lammert – ‘n ware historiese figuur – wat in 1774 in die Olifantsvallei gebore word as die kind van Oorlams, oftewel verwesterste Khoi-plaaswerkers. As jong volwassene werk hy as “inboekeling”, basies as slaaf, tot hy by die Hottentot-korps aansluit. Hierna dros hy ná die slag van Blaauwberg en begin hy vir sy eie onafhanklikheid sorg, hoofsaaklik deur olifantjag. Om verder vorm te gee aan sy sin vir onafhanklikheid verander hy sy naam na Amraal. Hy bou geleidelik ‘n gevolg op, onder meer deur sendelinge goedgesind en behulpsaam te wees en te streef vir die vreedsame naasbestaan van verskillende groepe.
Struktureel gesien is die roman ‘n kroniek, hoofsaaklik dus ‘n aaneenskakeling van gebeure, soos die geval met die meeste goeie gewilde prosa, eerder as ‘n diepsinnige verkenning van die innerlike lewens van karakters. Dis egter ‘n benadering wat gepas is vir die gegewe, want die karakters is “gewone” mense, nie psigies belas met teenstrydighede en eksistensialistiese kwellings nie. Die klem op gebeure laat die roman ook aansluit by twee ander genres wat met populêre letterkunde geassosieer word, naamlik avontuur- en liefdesverhale.
Die gebruik van ware historiese gebeure as boustof sorg egter dat die roman ‘n dieper dimensie verkry: dit kan gelees word as ‘n gebaar van “regstelling” deurdat Amraal en sy pasifistiese ingesteldheid die aandag en erkenning kry wat dit nie in die historiografie gekry het nie. Hierdie eer val eerder kragdadiger figure te beurt, soos Witbooi, Maharero en ander, wat “groot” dade verrig het. Implisiet lees die roman in hierdie opsig soos ‘n betoog dat Amraal se lewensverhaal die soort (verydelde) ideaal beliggaam wat met Mandela geassosieer word – ‘n reënboognasie-idee waar dit moontlik is vir mense van verskillende bevolkingsgroepe om in vrede saam te leef.
Dié regstelling kritiseer ook die manier waarop ras- of groepsbewustheid ingryp in die lewens van “gewone” mense, mense wat maar net wil leef, of oorleef. Hoe kinders soos Rut – Amraal se moeder – as gelyke grootword saam met Elsie, ‘n blanke vrou, maar as volwassenes gedwonge die heersende sedes moet aanvaar, al beteken dit hulle moet hul eertydse vriendskap verloën en mekaar oor ‘n sosiale grens aankyk.
In Afrikaans het die stormagtige Khoi- en Nama-geskiedenis al gefigureer in Jan Rabie se Bolandia-tetralogie, veral Die Groot Anders-maak (1964) en Waar jý sterwe (1966), asook in WA de Klerk se Drie swerwers in Suidwes (1949), Die gésel van Namaland (1953) en Die laer (1964). In die Rabie-romans, sowel as in Die laer, is die hoofkarakters tussenfigure wat verskeur leef tussen botsende aansprake van verskillende bevolkingsgroepe. Die hoofkarakter in Die laer, Will Jordan, ‘n man van gemengde afkoms, beywer hom, net soos Amraal, vir vrede, maar sterf uiteindelik tragies, vermoor deur ‘n bondgenoot. In hierdie opsig is Amraal baie meer optimisties as Die laer, wat dit verwant maak aan Dalene Matthee se Fiela se kind (1985), waarin die Khoi-gegewe en die verhouding tussen verskillende groepe ook ‘n belangrike rol speel.
Amraal staan in ander opsigte ook nader aan Fiela se kind as aan die ander genoemde tekste deurdat dit geklassifiseer kan word as “goeie gewilde fiksie” sonder die eksistensialistiese onderbou van Rabie en De Klerk se werke. Lesers wat die werk van Irma Joubert geniet, sal waarskynlik ook veel genot uit Amraal put.
The post Resensie: Amraal deur Marinda van Zyl appeared first on LitNet.