Soos familie: Stedelike huiswerkers in Suid-Afrikaanse tekste deur Ena Jansen
Protea Boekhuis
EAN: 9781869199531
Lees ook: 'n Onderhoud met Ena Jansen oor Soos familie
Dit is moeilik om Ena Jansen se Soos familie: stedelike huiswerkers in Suid-Afrikaanse tekste (Pretoria: Protea Boekhuis, 574 bladsye) voldoende aan te prys. Méér as inligting word hier meegedeel, meer as insig in ‘n komplekse en durende sosiale en literêre verskynsel. As leser voel ‘n mens dat jy deur Jansen se respekvolle en menslike benadering ook deurgaans opgevoed en gestig word.
Die belangrikheid van hierdie indrukwekkende monografie is meteen duidelik. Oor die swart arbeider en dié se verknegting binne ‘n groeiende kapitalistiese stelsel in Suid-Afrika bestaan daar ‘n aansienlike literatuur, met Van Onselen se boeke oor Johannesburg en sy The seed is mine die glansrykste voorbeelde. Wat die swart vrou betref, sien die situasie minder gunstig daar uit. Hoewel Jansen in haar boek kan staatmaak op belangrike werk van ‘n aantal vroeër navorsers, veral Jackie Cock en Shireen Ally, is die vroulike huiswerker ‘n betreklik onlangse aankomeling in sosiale en literêre ontleding.
Dis hierdie leemtes en stiltes wat Jansen probeer vul – en sy doen dit met prysenswaardige deeglikheid en nuanse, in ‘n geskrif waaraan ongeveer tien jaar gewerk is. Van die hoeveelheid navorsing en onvermoeide snuffelwerk wat sy verrig het, is nouliks ‘n indruk te gee. Maar veel meer as dit is op die spel. Miskien is die blywendste indruk wat Soos familie op ‘n mens maak, hoe Jansen se onblusbare nuuskierigheid gekombineer word met ‘n etiese impuls en ‘n emosionele passie vir haar onderwerp.
Jansen se vriendskap met haar eie huiswerker in Melville, Nomahobe Cecilia Magadlela, het uiteindelik so uitgekring dat dit ‘n oorsig en ontleding van die huiswerker in die Suid-Afrikaanse samelewing vanaf Van Riebeeck tot in die hede geword het. Vóór enigiets anders is Soos familie ‘n projek van argivale restitusie waarin Jansen op soek gaan na vroue soos Cecilia, “vroue met kappies en kopdoeke wat in die harte van die kombuise gestaan het, […] wat anders by die agterdeur uit ons herinnering sal verdwyn” (461).
Hierdie agterdeur is die drumpel na ‘n lewe wat afspeel in voorstedelike agterplase en swart woonbuurte, want die beperking wat Jansen aan haar projek opgelê het, is dat die boek sal handel oor werkers in stede: mense wat van die platteland gekom het om hulle heil in die stad te soek en ten spyte van “instromingsbeheer” (wie onthou nog dié vreeslike woord?) met verloop van tyd stedelinge geword het. Vir ander navorsers lê daar nog baie werk voor oor die situasie op plase en in dorpe.
Deel van die restitusie is om aan vroue wat volgens algemene gebruik onder ‘n infantiliserende naam in wit huise gewerk het, ‘n eie naam, ‘n van en ‘n geskiedenis te gee. Meer as ‘n honderd huiswerkers uit ‘n vyftigtal tekste word bekendgestel: naas baie bekende figure ook werkers uit romans, kortverhale en memoires van wie baie lesers soos ek hier vir die eerste keer bewus gemaak word. Al ontledend vertel Jansen ook hulle verhale (een rede waarom dit ‘n lywige boek geword het) en plaas hulle binne die politieke en sosiale kader wat in die tekste sélf so dikwels gerieflik buite die gesigsveld bly.
Die individuele besprekings word voorberei deur ‘n grondige stuk historiese navorsing wat tot aan die 17de eeu strek, maar gefokus is op ontwikkelinge aan die Witwatersrand vanaf die begin van hierdie eeu. In teenstelling met baie ander literêre navorsing in Afrikaans, wat daartoe neig om slegs minimaal kennis te neem van werk op ander vakgebiede, is Jansen se boek ‘n voorbeeld van hoe ‘n stiplees van tekste deur historiese en sosiologiese kennis uit Suid-Afrika en elders aangevul en verryk kan word. Die lang hoofstuk 3 oor “Migrante-vroue en huiswerk in die stad” sit die dekade lange konfrontasie van die swart huiswerker met wit mag in Johannesburg op voorbeeldige wyse uiteen.
Die geskiedenis van die uiteindelik mislukte pogings om die vestiging van die swart vrou in die stad te verhinder lewer verrassende insigte op. Vir die vroue wat in die stede werk gaan soek het, was hierdie inisiatief heel dikwels ook ‘n vrywillige poging om aan ‘n verdrukkende patriargale sisteem in landelike gebiede (meestal in die Oos-Kaap) te ontsnap. Hulle was nie altyd slagoffers nie, maar baie dikwels ook ondernemende figure met ‘n begeerte na onafhanklikheid en agentskap. Ironies genoeg het die wit bewindhebber in die stad dikwels op die swart man se samewerking staatgemaak om beheer oor swart vroue uit te oefen. Baie beheermaatreëls is aangekondig, maar nooit geïmplementeer nie, en eers in die jare vyftig sou swart vroue ná hewige protesaksies pasdraers word.
Die praatjies oor die gevaar van vroulike instroming het op voorspelbare wyse gepaard gegaan met ‘n demonisering van die swart vrou as ‘n veronderstelde bedreiging vir mediese en sosiale higiëne. De Kiewiet het dit al in 1957 in sy A history of South Africa raakgesien: soos wat swart en wit al hoe meer ekonomies met mekaar verstrengel geraak het, is ‘n ideologie in die lewe geroep om swart mense op ‘n afstand te hou. Die Verwoerdiaanse diskoers was ‘n halsstarrige ontkenning van die sigbare werklikheid in Suid-Afrika.
Vir die toetrede van die swart vrou tot die huishoudelike arbeidsmark – en die verdringing van die swart man, wat in die vroeë Johannesburg die meeste van hierdie werk gedoen het – was daar, soos Jansen aantoon, reeds ‘n raamwerk beskikbaar. Dit word gebied deur die wyer historiese perspektief van die eerste slawe wat in die Kaap aangekom het. Die patrone van interaksie wat toe gevestig is, het oor die eeue heen wesenlik dieselfde gebly.
Hoewel Jansen haar gevolgtrekkings beskeie hou, is dit moontlik om twee dinge te sê: dat “die bediende” een van die oudste sosiale instellings in Suid-Afrika is, met sy eie konvensies wat weerstand bied teen amptelike ingryping; en – ‘n bietjie meer omstrede – dat die aantasting van individuele waardigheid en bewegingsvryheid wat hiermee saamhang, van bediendewerk ‘n vorm van slawerny gemaak het.
In haar slothoofstuk argumenteer Jansen dat Mary Louise Pratt se konsep van ‘n kontaksone in haar Imperial eyes (1992) nie voldoende rekenskap gee van die spanning wat die verhouding tussen werkgewer en werknemer kenmerk nie. Hierteenoor stel sy die term “grensgebied” voor, wat die omstandighede inderdaad veel skerper omlyn. Die grensgebied is ‘n plek waar toegang beheer word, waar dokumentasie aangevra word, waar ‘n onderhandeling moet plaasvind.
Hierdie grensgebied is per definisie ‘n sone van konflik en spanning, en die ironie van die uitdrukking “soos familie” word telkens onderstreep as Jansen daarop wys hoe wit werkgewers hulle getroos het aan die mite (soms ook wel die waarheid) dat die huiswerker “soos familie” is. Hoe intiem die kontak by tye ook mag gewees het, was hierdie bevoogding, en die daarmee gepaardgaande vergoeilikende perspektiewe in literêre tekste, ‘n manier om eie aandadigheid aan ‘n stelsel van ongelykheid en onderdrukking te ontken. Soos Van Tonder se Roepman op pynlike wyse uitbeeld, het apartheid vereis dat die baas en die miesies op hulle eie erf ‘n verlengstuk van staatsgesag moes word. Die voorwaarde vir die sentimentele omskepping van die huiswerker tot “familie” het binne die groter bestel berus op die vernietiging van die moontlikheid dat sy self ‘n koherente gesinslewe in stand kon hou.
Jansen bring telkens na vore hoe die intimiteite van die “grensgebied” waarin die huiswerker gefunksioneer het, ‘n groot spektrum van magsverhoudings, komplekse onderhandelinge en statustransaksies teweeggebring het. So byvoorbeeld is dit tot vandag toe moeilik vir beskermende wetgewing om reële verandering te bring in ‘n situasie wat oor dekades heen sy eie interne konvensies ontwikkel het. Dit is geen verrassing nie om te lees dat baie huiswerkers groter bedingingsmoontlikhede vind in die informele mag wat hulle met verloop van tyd gevestig het in plaas van deur vakbonde en amptenare – Antjie Krog se “Bediendepraatjies” is hiervan ‘n goeie voorbeeld.
Uiteraard is die belangrikste fokus in Jansen se boek op die voorstelling van die vroulike huiswerker in literêre tekste. Soos Edward Said, die belangrikste grondlegger van postkoloniale perspektiewe op kulturele produksie, is Jansen indringend, sensitief en genuanseerd in haar ontledings. Terwyl haar kennisname van navorsing in die sosiale wetenskappe ‘n buitengewoon ingeligte benadering in die hand werk, is die omgekeerde ook waar: die voorstellings van die werker in die letterkunde word ‘n lens waardeur die Suid-Afrikaanse geskiedenis van die afgelope eeu, en die navorsing daaroor, veel skerper en in groter, meer menslike besonderhede in perspektief kom.
Ná die lees van Soos familie is dit moeilik om van Jansen te verskil waar sy sê: “Huiswerkers is vanweë hulle posisie in die kontakgebied tussen ‘ras’ en klas perfek geposisioneer om die belangrikste tolke en vertalers in die Suid-Afrikaanse samelewing te wees: tussen ryk en arm, stad en platteland, werkgewers en werknemers. Hulle is die sterkste skakels in die ketting van intermenslike verhoudings in die land: van die sewentiende eeu tot nou” (31). Jansen vergeet egter nooit dat fiktiewe tekste meer behels as sosiale getuienis nie; dat hulle ook simboliese vorme is.
Dit is besonder waardevol dat Jansen ook tekste uit die Engelstalige Suid-Afrikaanse letterkunde betrek. Sodoende word Soos familie, soos sy dit self stel, ‘n bydrae tot “’n nuwe oorkoepelende literatuurgeskiedenis, ‘n vergelykende benadering van die Suid-Afrikaanse letterkunde waarin verskillende temas sentraal kan staan” (482). As sodanig is dit ‘n onontbeerlike aanvulling by Attridge en Atwell se onlangse geskiedenis van die Suid-Afrikaanse letterkunde en ‘n navolgenswaardige voorbeeld vir die baie kritici wat oor die Suid-Afrikaanse letterkunde skryf sonder om kennis van die Afrikaanse letterkunde te neem. As nieleser van inheemse Afrikatale het Jansen ook by ‘n kenner gaan uitvind wat op hierdie gebied beskikbaar is.
‘n Paar dinge val ‘n mens in hierdie vergelykende perspektiewe op. Die eerste is dat die Suid-Afrikaanse kritiek se fiksasies op die plaasroman sedert hierdie genre in JM Coetzee se White writing geheilig is, ‘n onderbeklemtoning van rasse- en arbeidsverhoudinge in stedelike omgewings teweeggebring het, ook in gevalle waar die tekste self hierom vra. Verder blyk dit hoe dikwels blankes uit uiteenlopende klasse en van verskillende politieke oortuigings wel één ervaring gemeen gehad het: ‘n huishouding wat van swart vroulike arbeid afhanklik was.
Dit is moeilik om jou ‘n beter-ingeligte, meer bedagsame en skerpsinniger gids as Jansen voor te stel vir ‘n tog deur die verskeidenheid voorstellings van die huiswerker. Ná n inleiding en hoofstukke oor die tyd van die VOC en die migrantevrou in konfrontasie met wetlike maatreëls word die res van die boek tematies georganiseer, maar met ‘n chronologiese struktuur in elke hoofstuk.
Agtereenvolgens bespreek Jansen dan die wit meisie en ander blanke huiswerkers (hoofstuk 4), outobiografiese vertellings (hoofstuk 5), tekste waarin huiswerkers self vertellend optree (hoofstuk 6), huiswerkers en kinders (hoofstuk 7), huiswerkers en seksualiteit (hoofstuk 8), huiswerkers ten tye van politieke onrus (hoofstuk 9) en huiswerkers in postapartheid romans deur wit en swart skrywers (hoofstukke 10 en 11).
Dit is onmoontlik om in ‘n bespreking soos hierdie selfs oppervlakkig rekenskap te gee van die rykdom aan inligting en insigte wat hierdie hoofstukke bevat. Daarom volstaan ek met enkele aanduidings van wat vir my na belangrike aspekte lyk.
Deurgaans opvallend is die blootlegging van wat miskien wel ‘n tipies Suid-Afrikaanse verskynsel is: die kombinasie in dieselfde leefruimte van intieme lyflike nabyheid enersyds en radikale materiële en politieke ongelykheid andersyds. ‘n Mens sou kon spekuleer dat hierdie huislike vertroudheid ten spyte van alle historiese trauma tog ‘n wedersydse simpatie gevestig het wat ‘n politieke versoening help moontlik maak het. ‘n Mens sou eweneens kon spekuleer dat die sistematiese benotting ? van die swart persoon se lewensmoontlikhede en status, oor dekades lank volgehou, één verklaring is vir die rassehaat en rasseskaamte wat deesdae in die sosiale media te voorskyn kom en daardie einste versoening, saam met die ideaal van ‘n nuwe gelykheid op grondwetlike basis, in gevaar kan stel. Jansen se boek is ‘n tydige herinnering aan hoe deurtastend hierdie sosiale strukture was – en aan hoe maklik dit is om daarvan te vergeet.
Om hierdie rede is die uitgebreide aandag wat Jansen gee aan tekste waarin swart mense self aan die woord kom, van groot betekenis – nie alleen literêr nie, maar vir ‘n groter begrip van sentrale aspekte van die Suid-Afrikaanse geskiedenis. Van belang is hier onder meer die getuienis in Vukani Makhosikazi: South African women speak en Sindiwe Magona se To my children’s children.
In die literatuurgeskiedenis-in-die-kleine wat deur Jansen se belangstellings belig word, beklee tekste wat andersins as betreklik marginaal beskou word, ‘n veel belangriker posisie. Dit is byvoorbeeld die geval met Elsa Joubert se kortverhaal “Melk”: ‘n indringende bevraagtekening van ‘n situasie wat in Elisabeth Eybers se “Amos en Tabita” nog as byna vanselfsprekend uitgebeeld word. Barbara Fölscher se Reisgenoot word uitgesonder vir die wyse waarop die skrywer pynlik eerlik die beskamende aspekte van haar verhouding met haar huiswerker en dié se kinders konfronteer. Jansen oortuig ‘n mens dat Wilma Stockenström – ‘n nog nie na waarde geskatte skrywer nie – se Abjater wat so lag ‘n merkwaardige ontleding van bediendestatus is, al handel dit dan oor ‘n “witmeisie”.
Jansen toon ook herhaaldelik aan hoe die kritiek dikwels te min aandag gegee het aan die sentrale rol van die bediende in tekste. Dit is byvoorbeeld die geval met Leroux se Die eerste lewe van Colet. In Jansen se beskouing is Florence, die bediende in JM Coetzee se Age of iron, net so belangrik as Vercuiel, aan wie in die kritiek tot dusver veel meer aandag gegee is. Die ontleding van twee Ingrid Winterbach-romans ondersteun Jansen se gevolgtrekking dat hulle dit vir die wit hoofkarakters moontlik maak om hulle eie geskiedenis in sy deurvlegtheid met “die ryk feite van die land se verloop” te probeer volg.
Die tekste wat in Soos familie aan bod kom, bied boeiende voorbeeldmateriaal vir ‘n ontleding van hoe kompleks die interaksie tussen ras en klas in Suid-Afrika was en nog steeds is. Die aanname dat swart vroue “gemaak” is vir sekere vorm van handearbeid, het in gevaar gekom in gevalle waar wit vroue in diens geneem word. In die jare dertig byvoorbeeld is daar ‘n hele gepieker in Die Huisgenoot oor die blanke diensmeisie, ‘n verskynsel waaroor ook MER skryf.
Daar is veel meer om te noem. Uiteindelik is die verhaal wat Jansen in Soos familie vertel, gelukkig ook ‘n geskiedenis van emansipasie waarin die huiswerker van stille aanwesigheid en diensbare “familielid” groei tot iemand met ‘n eie stem en ‘n uitdagende, soms selfs konfrontasionele, teenwoordigheid. Die kostelikste voorbeeld hiervan is die omkeer van rolle in Zukiswa Wanner se The madams, waar ‘n swart vrou ‘n wit vrou in diens neem. Parodie is ‘n vorm van bevryding – waarmee nie geïmpliseer word dat aan alle ongelykhede en bevoogding ‘n einde gekom het nie. In watter mate die huidige bewindhebber en werkgewers werklik belang stel in die opheffing van die armes bly ‘n ope vraag, om die minste daarvan te sê.
Jansen se laaste twee hoofstukke bied ‘n indrukwekkende bespreking van postapartheid romans deur sowel wit as swart skrywers: André P Brink, Imraam Coovadia, Damon Galgut, Kopano Matlwa, Zakes Mda, Jackie Nagtegaal, Jo-Anne Richards, Zukiswa Wanner, Zoë Wicomb en Ingrid Winterbach. Dis ‘n ontleding wat aandui hoe die grensgebied van die huiswerker nou ook ‘n terrein geword het waar ‘n komplekse onderhandeling tussen kwellings uit die verlede en ‘n onsekere toekoms hom afspeel – en waarskynlik sal bly afspeel.
Een van die dinge wat literêre ontleding belangrik maak, is die vermoë om ‘n mens opnuut te laat dink oor wat as vanselfsprekend geag is, om nuwe perspektiewe te open. Jansen verdien ‘n wye leserskring vir die wyse waarop sy insiggewend, genuanseerd en met respek oor omstrede en emosionele aangeleenthede skryf sonder om ooit in sentiment te verval. Dit behaag my om ook te kan sê dat die uitleg en ontwerp van Soos familie, met ‘n pragtige en vanpaste buiteblad en die insluiting van werk deur bekende kunstenaars, ten volle reg laat geskied aan die toewyding en sorg wat uit die teks self spreek. Protea Boekhuis se uitgawe toon dat akademiese en intellektuele boeke ook esteties voortreflik kan wees, en lekker om in die hand te hou.
Gerrit Olivier
The post LitNet Akademies-resensie-essay: Soos familie deur Ena Jansen appeared first on LitNet.