Vir sy navorsing vir die weeklikse Regsalmanak-rubrieke maak Gustaf Pienaar grotendeels van Juta Law se aanlyn biblioteek gebruik. Hierdie regsbiblioteek is ‘n omvangryke naslaanbron van hofsake, wetgewing en ons land se dinamiese grondwetlike ontwikkeling. Juta Law stel hierdie bronne goedgunstiglik tot Gustaf se beskking vir die skryf van hierdie rubrieke. Vir nadere besonderhede besoek www.jutalaw.co.za.
'n Jaar of wat gelede lees ek ‘n artikel oor wit leuentjies in die sakewêreld. "Moenie bekommerd wees nie, die tjek is in die pos" is gewild by mense wat suinig met die waarheid is. Jy het seker ook al geleer om dié soort storietjies met 'n knippie sout te neem.
Maar wat is die regsposisie as die tjek die dag wél in die pos is en dan gesteel word? Wie moet die risiko vir die verlies dra: die persoon wat die tjek gepos het, of die persoon aan wie dit gestuur is? Dié soort geskille is al meermale in ons howe uitgespook. ‘n Saak wat in 1974 voor die hooggeregshof in Pretoria gedien het,[i] is ‘n goeie voorbeeld.
Ene mnr Vorster was 'n lid van sy werkgewer se pensioenfonds. Ingevolge die reëls van die fonds was hy geregtig op terugbetaling van sy bydraes tot die fonds as hy die dag uit sy betrekking sou bedank. Toe hy wel na 'n tydperk bedank het, het hy 'n vorm ingevul wat min of meer so gelui het: "Ek magtig en versoek hiermee so-en-so Pensioenfonds om 'n tjek betaalbaar te maak aan JA Vorster by die volgende adres: ...”, en dan volg 'n straatadres in Boksburg.
Let daarop dat mnr Vorster nie in soveel woorde versoek het dat die tjek per pos aan hom gestuur moes word nie.
'n Paar weke later is die tjek toe wel aan mnr Vorster by die adres in Boksburg gepos. Hy het dit egter nooit ontvang nie, want dit is êrens voor aflewering gesteel. Uiteindelik het dit in die hande van 'n klerewinkel beland – straks omdat die dief klere daarmee gaan koop het.
Die hooggeregshof moes uiteindelik beslis oor wie die risiko van verlies gedra het nadat die tjek aan Vorster gepos is by die adres wat deur hom gekies is: Was dit die pensioenfonds of was dit Vorster self?
In sy uitspraak bevestig die regter 'n ou regsbeginsel: as ‘n skuldeiser (soos Vorster) ‘n skuldenaar (soos die pensioenfonds) versoek om betaling op 'n spesifieke manier te doen – byvoorbeeld, om 'n tjek vir hom per pos te stuur – en die skuldenaar doen presies dít, is die risiko vir verlies die skuldeiser (in dié geval Vorster) s'n.
Daar is tydens die hofsaak aangevoer dat Vorster nie in soveel woorde in die vorm wat hy ingevul het, die pensioenfonds versoek het om die tjek aan hom te pos nie. Hy het hoogstens die wyse van betaling, naamlik per tjek, gemagtig en daarnaas 'n adres verstrek waar die betaling moes geskied.
Die hof het hierdie argument verwerp en beslis dat in die lig van moderne sakepraktyke mnr Vorster nooit in sy wildste drome kon verwag het dat die pensioenfonds die tjek persoonlik aan hom by sy adres moes gaan aflewer nie. Die regter het beslis dat toe Vorster versoek het dat hy per tjek betaal moes word, hy by noodwendige implikasie ook versoek het dat die tjek per pos aan hom gestuur moes word. Gevolglik was die risiko van 'n verlies syne, en het daar geen plig op die versekeringsmaatskappy gerus om 'n tweede tjek aan hom te stuur nie.
Die feite in ‘n ander, meer onlangse saak[ii] (2014) oor hierdie beginsel was die volgende: ‘n maatskappy genaamd Stabilpave was in die bevoorregte posisie dat die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SARS) aan hom ‘n belastingterugbetaling moes maak. Die bedrag ter sprake was ‘n stewige R724 000. SARS het nie Stabilpave se bankbesonderhede gehad nie, en toe maar ‘n tjek vir daardie aansienlike bedrag in die pos gegooi. Die tjek is gesteel en die dief het seker vir hom ‘n nuwe Mercedes loop uittrek en op ‘n luukse bootvaart gegaan.
Stabilpave het daarna ‘n eis teen SARS ingestel. Die saak het uiteindelik voor die hoogste hof van appèl geëindig. SARS se verweer was dat hulle Stabilpave betaal het en dat die risiko van ‘n verlies in die pos Stabilpave s’n was.
Nou moet ek eers vir jou kortliks iets oor ‘n besondere aspek van die siviele prosesreg verduidelik. Die algemene reël is: “Hy wat beweer, moet bewys.” Dit beteken, normaalweg, dat die eiser in ‘n siviele geding die bewyslas het: hy moet sy saak op ‘n oorwig van getuienis bewys. Normaalweg moet hy ook met sy saak voor die hof begin.
Wanneer ‘n verweerder – soos SARS – egter beweer dat hy ‘n eiser (soos Stabilpave) betaal het, verskuif die bewyslas na hóm (SARS, die verweerder) en verskuif die plig om in die hof met sy saak te begin óók na hom. Immers: “Hy wat beweer, moet bewys.”
In die meeste van hierdie geskille sal die verweerder hom maklik van sy bewyslas kan kwyt as hy ‘n kwitansie vir betaling wat die eiser aan hom uitgereik het, aan die hof kan voorlê.
Maar SARS het in sy geding met Stabilpave ‘n verweer met ‘n kinkel gehad: toe Stabilpave sy besonderhede op SARS se rekenaarstelsel geregistreer het, het hy die keuse gehad om óf sy bankbesonderhede (vir elektroniese transaksies) te registreer, óf terugbetalings per tjek te aanvaar. Stabilpave het egter nie een van daardie opsies uitgeoefen nie. Daardeur – so het SARS aangevoer – het Stabilpave by noodwendige implikasie verkies dat hy terugbetalings per tjek (én per pos) sou aanvaar. Sodoende, het SARS aangevoer, het Stabilpave ook die risiko van ‘n diefstal van die terugbetalingstjek aanvaar.
Die Noord-Gautengse hooggeregshof het in SARS se guns beslis, maar op appèl na Bloemfontein was Stabilpave die uiteindelike wenner.
In ‘n eenparige uitspraak het die appèlhof beslis dat ‘n krediteur, soos Stabilpave, die risiko van verlies van ‘n tjek dra slegs indien –
- hy die wyse van betaling – dws by wyse van ‘n tjek, versend deur die poskantoor – sou gekies of goedgekeur het, én
- die skuldenaar (in dié geval SARS) daardie keuse sou aanvaar het.
Daar moes dus ‘n ooreenkoms tussen die partye gewees het (dit kon wel stilswyend tot stand gekom het).
Na ‘n versigtige ontleding van die feite het die hof beslis dat die vereiste ooreenkoms tussen die partye nooit tot stand gekom het nie en dat SARS op sy eie, eensydig, besluit het om die tjek per pos te versend.
Die verlies van die tjek en die gevolglike skade was dus SARS s’n – wat net maar beteken ek en jy moes uiteindelik opdok (ook die koste van hierdie duur hofgeding).
Dit lyk of ons howe nie meer lank die voorreg sal hê om in geskille van hierdie aard geleerde uitsprake te lewer nie. Sedert so ver terug as die Romeinse Ryk ‘n eeu voor Christus is die tjek al ‘n erkende wyse van betaling, maar sy dae is in baie lande van die wêreld getel. Die outomatiese banktellers (OTM’s) moet die eer daarvoor kry. In die meeste lande van die Europese Unie word tjeks nie meer gebruik nie en in Brittanje word dié wyse van betaling in Oktober 2018 uitgefaseer. Verbasend genoeg is tjeks egter nog gewild in die VSA: dáár word miljarde tjeks nog jaarliks uitgereik.
Volgens etimologiese woordeboeke spruit die finansiële betekenis van die Engelse “cheque” (die Franse skryf dit “chèque”) uit ‘n waaksaamheid teen bedrog. Op sy beurt het dit ontstaan uit die uitroep “check!” in skaak wat weer van die Persiese woord “sjah” (“koning”) afkomstig is.
Nou het ek jou lekker verwar, nie waar nie?
Vergun my ten slotte, as jy wil, ‘n paar nostalgiese opmerkings oor tjeks in my besit. Sedert my laerskooldae versamel ek as ‘n stokperdjie handtekeninge van beroemdes en berugtes. Ek merk dat ander handtekeningjagters hul toenemend begin toespits op die versameling van bekendes se tjeks. Dié gogga het my nou ook gebyt. Ek noem vier voorbeelde van sulke tjeks in my versameling.
Die oudste (uit 1915) is ‘n tjek deur Bismarck von Molkte Louw, die vader van NP Van Wyk Louw en sy ewe begaafde broer, WEG Louw. Oom Bismarck was ‘n gerekende prokureur op Sutherland, waar hy by Standard Bank sake gedoen het. Hy het straks nie baie sterre vir skoonskrif op skool gekry nie ...
Nog ‘n interessante tjek is dié een, wat op 14 September 1949 deur die bekende Stormbergse skrywer en kunstenaar Johannes Meintjes getrek is:
Ná die skouspelagtige viering van die Republiek van Suid-Afrika se vyfde bestaansjaar in Pretoria op 31 Mei 1966 het die destydse premier, Hendrik Verwoerd, en sy vrou, Betsie, vir ‘n paar dae by hul plasie aan die Vaalriver, Stokkiesdraai, gaan uitrus. Gedurende daardie vakansie het die premier sake gedoen met Saamwerk Handelaars op Heilbron, en het hy betaal met ‘n tjek wat op oom Bossie se bank, Volkskas, getrek is. Dit was minder as drie maande voor Verwoerd se dood:
Laastens, ‘n tjek van iemand wat my na aan die hart lê: Jan van Wijk, die argitek van die Taalmonument op Paarlberg en van my alma mater, die Randse Afrikaanse Universiteit (nou UJ.) Jan se weduwee, Erna, het dit vir my present gegee:
Bron: Cheques, Wikipedia
[i] HK Outfitters (Pty) Ltd v General Assurance Society Ltd 1975(1) 55 (TPA)
[ii] Stabilpave (Pty) Ltd v South African Revenue Service 2014 (1) SA 350 (SCA)
The post Regsalmanak: "Die tjek is innie pos" appeared first on LitNet.