- By die huldiging van Hennie Aucamp in erkenning van sy groot geldelike nalatenskap aan die WAT
My dank aan Willem Botha vir die uitnodiging om by vandag se besondere geleentheid ’n kort praatjie oor Hennie Aucamp te lewer. Dit is vir my ’n vreugde en voorreg om oor Hennie as skrywer te praat, want sy skenking aan die WAT is die sprekende getuienis van wat sy skrywerskap en Afrikaans vir hom beteken het .
Dis ’n uitdaging om binne ’n kwartier ’n sinvolle oorsig van Hennie se groot oeuvre te gee, maar ek sal probeer om die essensie daarvan saam te vat deur stil te staan by sy posisie binne die vernuwing in die prosa van Sestig, die ontwikkeling in sy oeuvre van kortverhaal tot egodokument en by hom as romantikus en Dekadent.
Ná die verskyning van Lobola vir die lewe van André P Brink in 1962, verskyn van hom in 1963 Die Ambassadeur. In 1962 het ook Etienne Leroux se epogmakende Sewe dae by die Silbersteins die lig gesien. Die jaar 1962 verteenwoordig dus kennelik die oorgang van die ouer prosa – deur Van Wyk Louw getipeer as in die algemeen “gemoedelike lokale realisme” – na die nuwe prosa van die Sestigers.
Hennie Aucamp debuteer in 1963 met ’n dun beskeie bundel kortverhale, Een somermiddag. In 1964 word ’n nuwe nog voorheen ongepubliseerde verhaal van Aucamp, “Au Clair de la Lune”, in die bloemlesing Windroos: verhale van 10 sestigers, opgeneem. Hy is dus wel as Sestiger erken, alhoewel hy nie tot die binnekring gereken is nie.
Menslike lotgevalle het in die ouer prosa afgespeel teen die milieu van die platteland, die dorp en die plaas. Dit was nie ’n aanleiding vir Hennie om die plaas, Rust-mijn-ziel op die Stormberge waar hy grootgeword het, af te sweer as agtergrond vir sy verhale in ’n gedwonge strewe na vernuwing nie. Hy het die boeremense van die Stormberge teen dié milieu waarmee hy intiem vertroud was in hulle volle menswees geteken. Teen die agtergrond van die plaas beleef Hennie in Een somermiddag sy kindertyd en in dié prilbegin was sy skrywerskap in essensie reeds beslote. Vanuit sy Stormbergse jeug ontwikkel het tot veelsydige skrywer wat meerdere genres beoefen.
Die sewentigerjare van die twintigste eeu staan in die teken van die hoogbloei van Hennie se kortkuns waarvoor hy in 1982 met die Hertzogprys bekroon is vir Volmink met inagneming van die res van sy kortverhaaloeuvre; in die tagtigerjare skryf hy liedtekste wat hulle bestemming vind in sy kabarette wat hierdie dekade oorheers.
In die negentigerjare publiseer hy twee geredigeerde dagboeke, Gekaapte tyd (1996) en Allersiele (1997 ). Die dagboekinskrywings in Skuinslig wat in 2003 verskyn dateer ook uit die negentigerjare. Die inskrywings in al drie dagboeke het hy gekies uit die dagboeke wat hy sedert sy vyftiende jaar hou. Dié redigering het hom reëlreg gelei na nog twee outobiografiese werke, Bly te kenne (2001) en In die vroegte (2003).
Hennie Aucamp is deur kritici en op 'n tydstip deur homself in sy rekenskap oor eie werk geïdentifiseer as romantikus en Dekadent. Die regmatige konteks van die Romantiek is die negentiende eeu wat sy hoogbloei beleef het in Frankryk, Engeland en Duitsland.
Wat betref Hennie se werk, herken ’n mens in sy kortverhale die romantiese argetipes soos die eensame, rustelose soeker en die reisiger met sy drang na ervarings wat nooit ten volle bevredig nie. Juis omdat die soektog nimmereindigend is, oortref die wêreld van die verbeelding altyd weer die werklikheid.
Daarnaas is Hennie ook die reisiger na ruwe, klipperige landskappe soos Delos en die Karoo, omdat net dié landskappe in hulle ooreenkoms met die Stormberge sy verlange stil. Hennie is ook die selfverklaarde voyeur de la vie in sy waarneming van die randfigure van die samelewing; in die sewentigerjare, op reis in die groot stede van Noord-Europa, van die hippies en afgetakeldes; van hul menswaardigheid ontneem deur die slopende magte van die lewe.
Hennie se lied- en kabarettekste is ook ’n integrale en belangrike deel van sy omvattende oeuvre. In sy memoires in In die vroegte (2003) identifiseer hy sy lewensgevoel wat sy kabarette geïnspireer het as die “herfstige wyshede” van Prediker in die Ou Testament en hy bring dit in verband met Eugène Marais se gedig “Skoppensboer”.
Van sy hoërskooldae af was Hennie in vervoering met die gedig van Marais en Prediker 12 en verklaar hy dat wat hy aangevoel het vir hom die sekerheid geword het dat “twee somber digters mekaar oor eeue heen die hand reik”.
Dié sinisme wat hy by hulle ontdek het, sluit ook aan by die Dekatentisme waarvan Hennie eweneens ’n eksponent is. Die Dekadentisme word gekenmerk deur kunsmatigheid as alternatief vir ’n onaanvaarbare werklikheid wat spreek uit Oscar Wilde se uitspraak: “Life itself … as … the first, the greatest of arts.” Aucamp eggo Wilde se uitspraak as hy sê die dagboek se skakel met die literatuur is dat die dagboekskrywer “algaande ’n storie van sy lewe maak”.
Vandag se byeenkoms is ’n viering van ’n voorste Afrikaanse skrywer vir wie die taal van al die genres wat hy beoefen het, sy enigste en onverhandelbare instrument was. Sy skrywerskap was die sin van sy lewe en sy skenking aan WAT sy belegging in die oorlewing van die enigste taal waarin sy Godgegewe talent vir die woord uitdrukking kon vind.
Woordeboeke is die lewensbloed van enige taal en elke taal van aansien het sy groot, alombekende verklarende woordeboek; in die geval van Afrikaans is dit die WAT, die Groot Woordeboek van die Afrikaanse Taal. Dit het Hennie geweet, en ook dat elke taal se voortbestaan net verseker is deur die gebruik van sy woordeskat - nie net in die alledaagse omgang nie, maar op die hoogste vlakke van denke, wetenskap en literatuur.
Mag ons na die voorbeeld van Hennie Aucamp doen wat ons hand vind om te doen vir die oorlewing van Afrikaans wat lank nie meer vanselfsprekend is nie.
The post WAT: Om Hennie Aucamp te onthou appeared first on LitNet.