Die afgelope tyd is daar in die openbaar, op sosiale media en ander plekke verskeie uitlatings wat bevestig waar die “morele verhewe posisie” tans manifesteer.
Dit is duidelik dat dit gesetel is met die vryheidstryd en dan gepaardgaande “teen apartheid” standpunte. Veral op sosiale media maar ook in die openbaar word alle standpunte uit geledere “meesal wit, maar soms ook ander” as ongeldig afgemaak aangesien persone wat die “voordeel van apartheid” beleef het, hetsy direk of indirek, nie geldige standpunte het nie en word dit onverwyld afgemaak, meesal as “verlange na die vorige bedeling en gepaardgaande voorregte soos toe gegeld het”.
Die standpunte rondom gebeure soos korrupsie, verswakking van infra-struktuur en andere word dus doodeenvoudig geïgnoreer asof dit nie saakmakend kan wees nie. Wat natuurlik hiertoe bydra is die apologetiese standpunte deur die groepe. Enige reaksie op kritiek in die verband word natuurlik beantwoord met die kwalifikasie dat daar besef word dat die verlede verkeerd was, maar ... Dit vernietig in elk geval enige argument wat dan voorwaardelik sou wees. Die argumentering wat dan nie apologeties is nie word dan in elk geval as enersyds “rassisties” en /of as nie geldig nie vanweë die konteks van bevoorregting waarbinne dit geskied. Hier word verwys na behoorlik gefundeerde standpunte wat nie “rassisties” is nie en definitief ook nie haatspraak, wat wel gebeur, verteenwoordig nie.
Hoe het tog ’n bepalende deel van die bevolking en gesaghebbende segment, wat tot ’n groot mate die “eerste wêreld-infrastruktuur” veral mbt tot finansiële instellings daargestel het, in die situasie beland. Meer nog hoe kan dit omgekeer word sodat ’n konstruktiewe bydrae gelewer kan word en alternatiewe standpunte wat sinvol oorweeg word daargestel kan word.
Miskien het ’n party soos die DA die regte metode waar die standpunte dan nou deur “swart geledere” geuiter word. “Die DA verteenwoordig egter slegs ’n gedeeltelike standpunt – die liberale demokrasie”- en word alle standpunte uiteraard na daardie raamwerk verwys. Die konserwatiewe/behoudende standpunte word nie rêrig êrens waar dit saak maak gereflekteer nie. Hierdie standpunte word op arrogante manier as “rassisties” en glad nie van belang in die “nuwe demokratiese Suid-Afrika” afgemaak. Dit is asof konserwatisme gelyk gestel word aan hoogverraad teen die nuwe bedeling. Konserwatisme in Suid-Afrika is ook anders as bv in Europa waar die vryemarkstelsel hoog voorop gehou word. Die standpunte aldaar wat “tradisioneel” die sg “liberale demokrasie” (Die standpunte is erg vereenvoudig om die punt te beklemtoon) verteenwoordig het as ekonomiese onderbou eerder sosialistiese of dan staatsbetrokkenheid kenmerke wat heeltemal teenstrydig is met die standpunte van bv die DA. Sulke verskille maak die situasie nog meer kompleks, veral wanneer individue na die stembus moet gaan of uiting gee aan sekere waardes en beginsels.
Dws geldige argumente rondom die “dienslewering” en infra-strukturele krisisse uit die geledere word gereduseer “tot nie intellektuele” standpunte wat geen aandag verdien nie.
Dr Piet Croukamp het ook onlangs verwys na die gebrek aan standpunte wat die saak van die denkrigting stel. Om die standpunte dan daar in die openbare domein te kry sal waarskynlik oor die medium tot lang termyn plaasvind. Om aan sodanige standpunte legitimiteit te verleen sal die “sektor”, wat as deel van die meerderheid in die Suid-Afrikaanse konteks, die waardes en standpunte moet ondersteun. In die huidige tydgleuf sal sodanige sektor, weens die beswaddering van sulke standpunte, bitter moeilik sulke standpunte en waardes in die openbaar ondersteun.
Op die politieke terrein is dit waarskynlik slegs die ACDP wat enigsins die standpunte huldig en kan bevorder, maar is tans, in die lig van die geweldige openbare aandag aan die 2 partye wat die amper ongesonde obsessie het met die verwydering van die President, benewens beperkte steun, amper irrelevant.
Groete
Fanie Cronje
The post Die morele “hoë grond” in Suid-Afrika appeared first on LitNet.