Hoe lyk die wêreld waarbinne ons leef? Niemand weet nie. Ons beskou dit deur die skerms van slimfone. Ons leef onmiddelliker as vroeër; deel links en regs likes en dwarsklappe op die sosiale media uit. Met 'n skerm tussen ons en die beleweniswêreld, maak empatie nie juis saak nie. Dus raak ons hiervan ontslae.
Op Saterdagmiddag 7 Mei is 'n groep mense gedwing om iets te beleef en te voel - by die Dansende Digtersfees op die Spierlandgoed buite Stellenbosch.
2.30pm
Conversation III
Even the angel of history cannot bear to look.
Efe Paul Azino, Maram al-Massri and Hans ten Berge in a discussion on displacement, refugees, exile and the potential of the writer to communally enlarge the space for humanistic comprehension.
Op die verhoog gesels paneellede oor vlugtelingskap - 'n onderwerp waarvan die meeste Suid-Afrikaners gewoonlik terloops notisie neem. Ons het 'n versadigingspunt bereik betreffende ons eie en mekaar se pyn en lyding.
Die gehoor hoor van die bootjies wat oor die see na Europa dobber.
'n Vertaler van Breyten Breytenbach se werk is die gespreksfasiliteerder. Maram al-Massri, een van die digters op die verhoog, is die middelpunt. Sy woon in Frankryk, haar land van herkoms is Sirië. Elke digter op die verhoog vertel hul eie en hul land se storie ten opsigte van vlugtelingskap. Die wêreld sal nie ineenstort as hulle hul harte en hul lande vir mekaar oopmaak nie, sê een van die paneellede. 'n Ander paneellid opper 'n praktiese kwessie: hoe gemaak met ekonomiese uitdagings as daar vir al die vlugtelinge in Europa 'n heenkome gebied moet word? Dis 'n komplekse gesprek en, soos 'n goeie gedig, word 'n antwoord nie gebied nie. Net stof tot nadenke.
Toe die gesprek verby is, is dit tyd vir vrae.
En toe, onverwags, 'n onverwagse vraag.
'n Vrou in die gehoor staan op. Haar liggaamstaal is aggressief terwyl sy na die paneel kyk.
"You speak of economic challenges," sê sy vir een van die mense op die verhoog, die een wat die vraag hieromtrent versigtig gevra het.
Hoe durf jy as mens van Europa hieroor gesels? gaan sy voort. Ék ken ekonomiese probleme; ek, en almal in die sinkplaatdorpe waar daar nie lopende water in die woonplekke is nie.
Daar is 'n geritsel in die gehoor.
Nie relevant nie! roep iemand uit.
Dit maak die vrou nog kwater.
En sy sê dit, nou spreek sy die paneel en die res van die gehoor toe: "I am talking about white privilege."
Die temperatuur in die saal styg. 'n Harde woordewisseling breek uit.
Hierdie is nie die plek en ruimte hiervoor nie! Jy haal die persoon wat van ekonomiese uitdagings gepraat het, buite konteks aan! word uitgeroep.
En sy reageer: Die meeste van julle wat hier sit, is wit. Natuurlik sal julle my nie hóór as ek praat nie.
Toe dit na tien minute van argumentering stiller word, sê 'n ander lid van die gehoor, voordat sy 'n vraag aan die paneel stel oor die vlugtelingekwessie: "I thought I was attending a poetry reading ..."
Inderdaad. Ons het almal so gedink. Die internasionale gaste, asook die oorwegend wit maar beslis ook swart lede van die gehoor. Ons wou net die dansende digters kom sien.
Op pad terug van die fees af, ry ek agter 'n bakkie waarop 'n vrag mense in tuinwerkersklere sit en skommel.
En ek dink aan Tertius Kapp se bydrae oor feeste en protes: Met bier en bloed en dans en trom.
Ons geslag, ons wat laat gebore is, ons wat alle vertroue in kollektiewe aksies verloor het, ons moet eers terugkeer na die grot. Ons moet in die modder gaan krap saam met ons medegevangenes, vuurvliegies volg, die skaduspel beskou, en al dieper teen die rotswand vas staar. Totdat dit kraak.
Ek dink aan 'n ongemaklike, selfkonfronterende busrit saam met Nicola Hanekom en Stian Bam op hulle Trippie.
Ek dink aan protes oor taal by die Universiteit Stellenbosch. Ek dink aan protes deur Breyten Breytenbach, ek dink aan protes deur Lovelyn Nwadeyi.
En ek dink aan protes by ander feeste: Franschhoek, die US Woordfees.
Ek dink ook aan lojale feesgangers wat geleenthede by feeste kom bywoon te midde van stygende inflasie, ook al gaan al die pryse van verbruikersitems op en nie hul maandelikse salarisse nie. Ek dink aan feesorganiseerders wat laat in die nag nog beplan en bedink hoe hulle 'n fees vlot kan laat verloop.
Ek dink aan hierdie fees, die fees van die dansende digters - waar elke kultuur in die wêreld omhels word.
Wás hierdie vrou se woedende tirade relevant? Het dit deel gevorm van die dansende digters se fees?
Belangriker nog: was hierdie die tyd, ruimte en konteks om al die vrou se griewe te opper?
Die vraag is egter nie meer of hierdie soort opmerkings en protes by literêre feeste gehoor sal word nie. Dit word inderdaad hier gehoor, of dit nou relevant of goeie maniere of die tyd en plek is of te nie.
Marilyn Martin skryf in 'n artikel oor kunsverwydering en die verwydering van die Rhodes-standbeeld by die Universiteit van Kaapstad hoe protes kan uitwys hoe magtig 'n kunswerk, soos 'n standbeeld, is:
I applaud the sudden awareness that lies behind this, that statues actually have significance. They are not simply blocks of stone, granite or whatever …
Nog nooit is die krag van kuns so intens raakgesien nie.
Daardie woedende vrou by die fees het self nie kuns gepleeg nie, maar wat is die poësie dan anders as protes?
Daar was dalk nie poëtiese diepte en fyn woordkeuse in haar uitbarstings hoorbaar nie.
Maar daar was 'n losse raakpunt tussen wat haar woede veroorsaak het en waaroor daar op die verhoog gesels is. Hier is gedeelde pyn tussen mense in dobberende bote en mense in sinkplaathuise.
Vanmiddag het ons in 'n soort antieke amfiteater gesit, soos feesgangers deur die eeue, nie as wit en swart en bruin nie. Ons het daar gesit as individue wat gevoelig is vir mekaar. Wat mekaar sien en iets voel.
Sowaar, by hierdie fees is gedans. Sommige feesgangers het in woede voete gestamp. Ander het met ekstatiese woorde gedans. Maar dans is daar gedans.
En dan klink Breyten Breytenbach se woorde in die programboekie:
The world, the planet on its endless and limitless swing through the stars, human history and human consciousness ... all of these constitute one continuum. We are not doing anything new. Everything has existed since all time, and yet each time we interact with words and rhythms and silences and space it is to create everything all over again as if there were nothing before the moment of being. And we find ourselves in one another.
- 'n Volledige feesoorsig verskyn spoedig op LitNet.
The post Protes by die Dansende Digtersfees appeared first on LitNet.