Die gesprek tussen my en Karina M Szczurek begin November 2014 op Twitter. Ons twiet vir twee of drie maande oor ons gemeenskaplike uitgewer, oor ʼn voorliefde vir ʼn mooi voorblad, oor Pole, en sommer ditjies en datjies.
Toe sterf my geliefde broer, RB, en elf dae later sterf Karina se geliefde man, André.
Ek stuur vir haar ʼn private boodskap, maar steeds op Twitter. “I am so sorry.” Wat anders sê mens? Teen daardie tyd was ek al keelvol vir die onvanpaste goed wat mense teenoor my kwytraak.
Ongeveer ʼn week later reageer sy en ons begin ʼn gesprek, steeds in 140 karakters, maar darem agter die Twitter-skerms. Ons gesels oor rou, die fases van rou, die goed en die sleg, die mense wat jou mooi oppas, en daardie geliefde hemp of trui wat ons dra wat nog na hulle ruik.
Ons ontmoet wanneer die een in die Kaap of die ander in Joburg is.
Op 21 April is Karina toe in Joburg. Flame in the Snow, ʼn kompilasie van André P Brink en Ingrid Jonker se liefdesbriewe, word by Love Books bekendgestel. Karina het die projek behartig en sy gesels met Zelda la Grange daaroor.
Ek het nie vir André, of natuurlik vir Ingrid, geken nie, maar ek ken wel vir Karina (ʼn bietjie). Met dié gedagte in my agterkop luister ek na die roerende gesprek. Alhoewel daar vanselfsprekend baie vrae is oor Ingrid en André se verhouding, word daar ook gepraat oor Karina en André se liefde.
Karina sê daardie aand iets wat my altyd sal bybly. Ek parafraseer: om verlief te raak is reeds ongelooflik, maar om dan saam met daardie persoon te kan groei en ʼn lewe te bou, is besonders.
Liefde is dan die onderwerp, liefde en die verloor daarvan.
Ek moet die praatjie kortknip om by die Markteater uit te kom. Plant vir my ʼn boom, André, gaan, ironies genoeg, ook oor die verhouding tussen André en Ingrid.
Ek vra om verskoning dat ek vroeg moet waai. Karina noem dat mense sterk reageer op die stuk, maar haar afraai om dit te gaan kyk. Die rolstoel, meen hulle, sal te veel wees vir haar. Ek knik, en sê ja, ek het nie daaraan gedink nie. My boet was sy lewe lank in ʼn rolstoel.
Die teater is verrassend vol vir ʼn Woensdagaand. Ek merk eers die onopgesmukte stel op. Boeke wat aan vislyn hang, ʼn lessenaar vol papier en briewe in die middel van die verhoog (waar Erik Holm reeds sit toe ons instap), en boeke wat agter die lessenaar in ʼn halfsirkel gestrooi is. Die vou van papier, die opfrommel daarvan, die uitpak en wegpak van boeke, asook die loop op boeke, word vir my amper so belangrik soos die dialoog. Dit is eenvoudig, maar treffend.
As Tinarie en Erik nie so meesleurend was nie, sou ek my oë kon toemaak en bloot na die woordespel tussen Jonker, Brink en Steinmair luister. Gelukkig is die draaiboek nie bloot ʼn literêre skepping nie, maar ook ʼn roerende, emosionele ervaring wat my onmiddellik toevou in hul wêreld.
Deborah Steinmair het Brink en Jonker se werk geneem en ʼn portret geskep van hul liefde, van Brink as die jong man in twee geskeur en van Ingrid as die gekweste siel. Tog gaan die toneelstuk oor meer as die ikone. Haal hulle name uit en dit sal net so geslaagd wees.
Erik Holm is geloofwaardig as die jong man in ʼn tweestryd gewikkel tussen die magiese nimf en sy eie stabiliteit, maar ook as die bitter ou man wat smag na viriliteit, na liefde. Sy frustrasie sit net onder die vel. Tinarie van Wyk Loots is ʼn tour de force as Ingrid, as ʼn tragiese figuur op soek na ʼn vaderfiguur, na koestering, en na liefde.
Liefde is dan die onderwerp, liefde en die verloor daarvan.
Ek ry terug deur die strate van Joburg en ek wonder wat Karina van die stuk sal dink. Ek wonder of die rolstoel haar sal pla? Die rolstoel.
The post Oor liefde, oor verlies en oor Plant vir my 'n boom, André appeared first on LitNet.