Lees ook: Waardigheidsdoding (eutanasie)
Die wil om te oorleef manifesteer normaalweg as ʼn basiese primêre motiverende faktor wat uitermate sterk by die mens geïnternaliseer is. Die ervaring van hoop asook sin en betekenis in die lewe vorm meestal die fondament van ʼn bewuste of onbewuste strewe om te wil leef en oorleef.
Hierdie stelling word doeltreffend geïllustreer deur die opspraakwekkende geval van die Duitse rotsklimmer Toni Kurz, wat in 'n sneeustorm twee nagte lank aan ʼn klimtou gehang en vergeefs vir sy lewe geveg het teen die loodregte noordfront van die Eiger. Hy het ná ʼn dramatiese reddingspoging enkele meters bo die reddingspan letterlik doodgevries omdat ʼn koop in die reddingstou nie deur ʼn karabynhaak kon gly nie.
Onder sekere omstandighede kan die intensiteit van die wil om te sterf egter die wil om te leef oorskry. Chroniese siektetoestande wat met onhanteerbare en ondraagbare fisieke pyn gepaardgaan is voorbeelde van so ʼn situasie.
Psigiese pyn kan op sigself of in kombinasie met fisieke pyn ook die motivering van ʼn doodswens vorm, soos treffend in die volgende aanhaling uit Job 3:20-23 getoon word: “Waarom moes God dan die lewenslig gee vir ʼn man wat net swaarkry, waarom moes Hy die lewe gee aan ʼn man wat so bitter ly, aan iemand wat tevergeefs hunker na die dood, wat daarna soek soos ʼn verborge skat, wat maar te bly sou wees om in die graf te kom en daaroor te jubel?"
Daarteenoor interpreteer Paulus sy hoogs stresvolle lewensomstandighede heeltemal anders in terme van sy rotsvaste geloof wanneer hy verklaar: “Maar om te sterf sal aan die ander kant ook nie vir my sleg wees nie. Ek moet regtig erken, as ek tussen lewe en dood moet kies, weet ek nie watter een ek sou kies nie.” (Fil. 1:21-22; Die Bybel in hedendaagse Afrikaans).
Die doel met hierdie artikel is om enkele resente perspektiewe oor waardigheidsdoding (of eutanasie) in die internasionale literatuur te belig en die implikasies daarvan te ontleed en krities te bespreek. Die omskrywing en die verskillende definisies van eutanasie kan hier nagegaan word.
Transgender-operasies en eutanasie
Heylens, Elaut, Verschelden en Cuypere (2016), verbonde aan die Gent Universiteitshospitaal in België, bespreek ‘n gevallestudie van ‘n 62-jarige trans-genderpasiënt wat ná ‘n reeks mislukte geslagsveranderingoperasies aansoek om eutanasie doen. Geslagsbevestigende churigie is ‘n bewese strategie om geslagsdisforie as ‘n simptoom te verlig en die sielkundige funksionering van transgenderpasiënte te verbeter.
‘n Persoon wat met geslagsdisforie gediagnoseer word, ervaar ‘n intense konflik tussen sy/haar werklike geslagsidentiteit (expressed gender) en die toegewysde geslagsidentiteit (assigned gender). Die geestesgesondheidsprobleme (oa verhoogde depressie en angs) wat dikwels in hierdie pasiënte waargeneem word, is meestal ‘n reaktiewe simptoom wat met diskriminasie en stigmatisering verband hou. Heylens et al. (2016) stel die hipotese dat die assosiasie tussen die voorkoms van geslagsdisforie, die aanwesigheid van verwyte oor mislukte geslagsbevestigende behandeling, die keuse van selfdood en/of eutanasie as ‘n uitkoms nog nie behoorlik ondersoek is nie.
Volgens die Belgiëse Wet op Eutanasie van 2002 word bepaal wanneer ‘n nieterminale pasiënt om eutanasie aansoek doen, die geneesheer wat die eutanasieprosedure uitvoer
(a) ‘n eksterne spesialis in psigiatrie raadpleeg en die redes vir die eutanasieversoek aan laasgenoemde moet verduidelik. Die gekonsulteerde psigiater moet die mediese verslag/rekords noukeurig nagaan, die pasiënt volledig evalueer, en moet oortuig wees van die ondraagbare aard van die pasiënt se fisieke en/of psigiese pyn en lyding wat nie verlig kan word nie.
Hy moet ook oortuig wees van die vrywillige, oortuigende en herhalende aard van die eutanasie versoek.
(b) Laastens moet die praktisyn wat die eutansieprosedure uitvoer een volle kalendermaand toelaat tussen die ondertekening van die eutanasieversoek en die uitvoering van die proses.
Die navorsers maak ‘n saak uit dat eutanasie as ‘n uitweg kan voorkom dat transgender pasiënte ná mislukte chirurgie selfmoord pleeg. Volgens waarnemings deur die navorsers het selfdood ‘n groter negatiewe impak op die agtergeblewe gesinslede as ‘n eutanasieprosedure. Die skrywers beklemtoon ook die belangrikheid van ‘n deeglike kliniese assessering voordat die eutansieprosedure begin, voorgesette professionele gesinsterapie gedurende die proses en ná afloop daarvan.
Orgaanoorplantings en eutanasie
Die eerste geval van ‘n orgaanoorplanting in België ná afloop van eutanasie het in 2005 gebeur. Hierdie prosedure is eers drie jaar later in die euro-oorplantingsone as aanvaarbaar beskou (Bollen, Ten Hoopen, Ysebaert, Van Mook, en Van Heurn 2016).
Belgiese oorplantingsentra het as voorvereistes gestel dat toewysing van die organe net ‘n opsie sou wees in daardie lande wat eutansie deur wetgewing toelaat, en dat die twee prosesse, eutanasie en orgaanskenking, sover moontlik van mekaar geskei word, maw dat die twee prosedures nie noodwendig outomaties met mekaar geassosieer word nie.
Sedert Desember 2015 is vyftien gevalle reeds in Nederland aangeteken waar orgaanskenking op eutanasie gevolg het.
Verskeie etiese implikasies vloei hieruit voort, byvoorbeeld eutanasiepasiënte verkies meestal om tuis te sterf waar net die dokter wat die eutanasikum toedien teenwoordig is. Indien orgaanskenking en eutanasie egter gekombineer word, moet die pasiënt gehospitaliseer word ten einde optimale orgaanherwinning te verseker asook om die oorplantingsproses te optimaliseer. Gevolglik moet die gesin/familie en die pasiënt sy laaste ure in ‘n “koue” hospitaalomgewing deurbring. Verder moet die afgestorwene onmiddellik ná eutanasie na die teater afgevoer word. Die naasbestaandes moet dus die pasiënt finaal groet voordat die eutanasikum geadministreer word omdat die tydsverloop tussen die dood en orgaanskenking geminimaliseer moet word.
Dit kan vertolk word as ‘n ekstra las vir eutanasiepasiënte, wat reeds ‘n ondraaglike lyding moet deurmaak, asook die naasbestaandes.
Uit die dokter se oogpunt ontstaan ‘n verdere dilemma indien die eutanasiepasiënt nie vooraf toestemming vir orgaanskenking gegee het nie. Sou die dokter ‘n sodanige voorstel aan die pasiënt maak, kan dit bykomende druk op die pasiënt plaas omdat hy/sy dalk verplig kan voel om in te stem.
Dit kan selfs tot ‘n vertrouensbreuk tussen dokter en pasiënt aanleiding gee omdat die indruk geskep kan word dat die dokter die eutanasieprosedure uitvoer ter wille van orgaanskenking deur die pasiënt.
Orgaanskenking vereis voorts dat spesifieke voorbereidende mediese prosedures uitgevoer moet word om die kwaliteit van die organe te bepaal. Hierdie ondersoeke mag egter nie inmeng met die mediese behandeling van die pasiënt nie. Dit mag wees dat ‘n middel soos heparin toegedien moet word. Die eutanasiepasiënt is by sy volle bewussyn en die implikasies van sekere voorbereidende prosedures vir orgaanskenking moet dus in detail met die persoon bespreek word. Is dit moreel-eties verantwoordbaar om so iets te doen? Die dood- skenkerreël bepaal (tans) dat orgaanskenking nie die doodsmoment mag verhaas nie.
Persepsies van ‘n groep mediese studente
In Duitsland (Anneser, Jox, Thurn en Borasio 2016) is geassisteerde selfdoding en eutanasie tans ‘n strafbare oortreding op grond van wetgewing wat gedurende November 2015 deur die Duitse parlement gevoer is. Voor daardie datum was pasiënt-geassisteerde selfdoding nie kragtens die wet ‘n verbode handeling nie.
Aneser et al (2016) het ‘n opname gedoen onder 301 mediese studente in hul vierde jaar aan die Tegniese Universiteit van München. Die respondensiekoers was 80% en 83,3% van die steekproef was ten gunste van die onthouding van palliatiewe sedasie, kunsmatige voeding en hidrasie om die doodsproses te versnel, terwyl 51,2% geassisteerde selfdoding as eties regverdigbaar beskou het. Slegs 19,2% het eutanasie as moreel en eties regverdigbaar beskou.
Die skrywers beveel aan dat die leerplanne in mediese skole met modules in geassisteerde selfdoding en eutanasie kwaliteits- en frekwensiegewys uitgebrei en ontwikkel word, gesien teen die agtergrond van die relevansie van die onderwerp en veranderende wetgewing in hierdie verband.
Samevatting
Lande soos Nederland en België neem tans beslis die leiding op internasionale gebied met navorsing oor eutanasie en begeleide selfdoding. Duitsland het onlangs wetgewing goedgekeur waarin die uitvoer van eutansie onwettig verklaar word.
Psigiese pyn en lyding as ‘n faktor in die toepassing van eutanasie tree tans meer dikwels op die voorgrond. Mislukte transgenderoperasies en -chirugie en hul gevolge is tans voorbeelde van prosedures wat voorop die snykant van internasionale literatuur is.
Orgaanoorplantings wat volg op eutanasie bring ‘n reeks unieke etiese implikasies na vore waarby nie alleen die mediese praktisyn en pasiënt betrokke is nie, maar weldeeglik ook die gesinslede en na-familie van die pasiënt.
Slegs ‘n klein proporsie van ‘n steekproef Duitse senior mediesestudente was ten gunste van eutanasie. Dit mag wees dat in Duitsland, met ‘n geskiedenis van gedwonge waardigheidsdoding tydens die Tweede Wêreldoorlog, daar steeds ‘n stigma aan eutanasie in mediese kringe kleef.
Bibliografie
Anneser, J., R.J. Jox, T. Thurn en G.D. Borasio. 2016. Physician-assisted suicide, euthanasia and palliative sedation: attitudes and knowledge of medical students. GMS Journal of Medical Education. Aanlyn gepubliseer op 15 Februarie 2016: DOI: 10.3205/zma001010
Bollen J., R. ten Hoopen, D. Ysebaert, W. van Mook, en E. Van Heurn. 2016. Legal and ethical aspects of organ donation after euthanasia in Belgium and the Netherlands Journal of Medical Ethics. Aanlyn gepubliseer op 24 Maart 2016: DOI: 10.1136/medethics-2015-102898
Heylens G., E. Elaut, G. Verschelden en G.D. Cuypere. 2016. Transgender persons applying for euthanasia in Belgium: A case report and implications for assessment and treatment. Journal of Psychiatry, 19 (347): DOI: 10.4172/2378-5756.1000347
The post Enkele perspektiewe op waardigheidsdoding (eutanasie) appeared first on LitNet.