(Met apologie aan Wolfgang Borchert)
"Dié land vra water en hy kry bloed" – Breyten Breytenbach, 1976
’n Week het een Dinsdag.
’n Jaar, ’n halwe honderd.
’n Rewolusie het baie Dinsdae.
Op hierdie Dinsdag
het die leerders hoofletters in sinne geoefen. Juffrou Adri se bril het nie rame gehad nie. Die dik glase het haar oë sag laat lyk.
Dertig kinders het kort-kort opgekyk na die swartbord en geskryf: "Ons moedertaal is Afrikaans. Boggem en Voertsek het saam gelewe waar die Hantamberge pryk. Ons land het ’n regverdige Grondwet."
Chané se tong het in een mondhoek gehuiwer. Die juffrou het teen haar gestamp: Jy het Grondwet sonder ’n r geskryf. Verstaan jy dan nie? Sy het ’n rooi streep onder die sin getrek. Dit is Grondwet, soos in graf. Skryf dit nou tien keer uit, in jou rofwerkskrif. Maandag kom juffrou Engela proef.
Ja, het Chané gesê en gedink: die vroumens en haar rofwerkskrif.
Op die speelgrond het ’n maer hond geloop en snuffel vir weggooibrood.
Op hierdie Dinsdag
het kaptein Barend Boshoff en sy vrou vir hulle dogter, Engela gaan proefrokkies koop. Sy was die skaam kind met die geheime en sywurms en dik boeke wat sy met niemand gedeel het nie.
As ek proef, gaan ek dié polkadot-een aantrek. Haar vingers het deur die ander gestreepte en geblomde rokke aan die hangers geblaai. Baie dankie, Pa, het sy gesê en haar kop weggedraai, want die oomblik was te groot om Pappa te sê.
Kaptein Boshoff se selfoon het vibreer in sy broeksak, maar hy het nie na die nuusberig gekyk nie.
Jy sal altyd ’n goeie toekoms in die onderwys hê, het hy geglimlag.
Nog ’n gebou op ’n kampus was aan die brand.
Op hierdie Dinsdag
het mevrou Marieta Boshoff vroeg die oggend reeds ’n klomp weggooikos in ’n plastieksak saamgeknoop. Dit was vir ’n bedelaar. Sy het Sondag die kerk se liefdesmaal, waartydens die gemeente se dames vir die arm mense ’n ete kook, misgeloop. Sy het geneurie terwyl sy die kos uitskep:
U maak my vir ’n fees gereed,
terwyl my vyand kyk.
U maak van my ’n eregas
U maak my lewe ryk.
Sy het die sushi wat sy by ’n nuwe Chinese kitskoswinkel gekoop het, bo-op ’n halwe brood gedruk. Daar is niks so kommin soos goedkoop sushi nie.
By die oop vullishouer voor Mr Price het sy gepeins: Die linkerhand weet nie wat die regterhand doen nie, maar die Vader in die hemel weet, en dit is genoeg.
Engela het goedkeurend geknik.
Op hierdie Dinsdag
het meneer Hendrik Winter kliniek toe gegaan.
Hierdie moesie in my nek pla my, dokter, het hy met sy bejaarde Donald Duck-stem gesê en sy kliniekkaartjie en ID-boek uit ’n outydse eksamensak gehaal.
Dokter Posthumus het sy wenkbroue gelig. Die bloeiknop van die dood.
Ek gaan jou na die hospitaal verwys vir toetse, het hy saaklik gesê en in die lêer voor hom begin skryf.
Meneer Winter het sy ID omhoog gehou en onverwags begin praat. Ek dra nog die ou ID-boek met my saam, die een met die huweliksertifikaat in en sonder die barcode. Maar ek het ’n fotostaat van die nuwe een.
Dokter Posthumus het stip na die ou man se wysvinger gekyk wat al hoe langer gerank het soos hy na die boekie wys. Daar het gebreekte hare, soos ’n varing, uit sy ore gegroei.
Ek sien, en hy het sy kop laat sak om verder te skryf.
Die superette was ’n paar meter van die kliniek af. Meneer Winter het met kraanvoëltreë geloop; sy rekkortbroek hoog opgetrek bo die kerkskoene en lang kouse. In die verbygaan het hy die bedelaar, wat besig was om ’n asblik te myn, gegroet.
Dit was pensioendag en hy het gekoop: polonie, ’n brood, ’n koekie groenseep, ’n Chomp en twee vyf-en-vyftig rand lugtydkoeponne.
Die kassiere, Thandi Radebe, se hand het die items afwesig verby die skandeerder gesleep en meneer Winter het gewonder waarom kassieres se naellak altyd roes.
Op hierdie Dinsdag
het mevrou Boshoff ’n broekpak aangepas en hande op die heupe voor die vollengtespieël rondgedraai. Nie sleg vir vyf-en-veertig nie, het sy vir die vrou in die spieël geglimlag.
Hulle het kaartjies vir die laataandvertoning van Modder en Bloed gehad.
Op hierdie Dinsdag
het Thandi Radebe deur die winkelsentrum geloop, toiletsleutel in die hand.
In die verbygaan op pad na die openbare kleedkamer het sy weer die elkedagbedelaar, Samuel Ndhlovu gesien. Hy het op ’n muurtjie gesit en iets met ’n kitskosvurkie uit ’n plastieksak geëet. Sy moes haar oë skreef teen die skerp lig, want die son was reg agter sy kop en het ’n verblindende stralekrans om hom gevorm.
Op hierdie Dinsdag
het meneer Winter die emmers reënwater voor sy woonstel op die potplante omgekeer; die rantsoen stikstofwater dúúr opgevang uit die vorige aand se bui. Dit het darem 20 mm gereën. ’n Spinnekop het ’n draad tussen twee potplante gespan, het hy verras opgemerk.
Hoe groot is God nie.
Maar dit was té warm, té droog.
Dan het hy agter sy rekenaarskerm ingeskuif en die lugtydkoeponne geaktiveer. Facebook: eensaamheid het die fyn kuns van sosialisering geword.
Die vorige week het meneer Winter sy eerste gedig op Facebook geplaas. Hy het aangesluit by ’n gemeenskap van vierduisend stoepsitters wat hulle diepste hartsgedagtes met mekaar deel.
Hy het veertien likes gekry vir ’n stukkie uit Prediker 12.
Dit is die tyd wanneer die deure na die straat toe toegemaak word,
die geluid van die meul dof word,
die tyd wanneer ’n mens opstaan as die voëls begin sing
al hoor hy geen lied meer nie.
Op hierdie Dinsdag
het dokter Posthumus Samuel Ndhlovu uit die rigting van die winkelsentrum sien dwaal.
Hy het onthou: twee maande gelede het hy hom na-ure behandel vir steekwonde nadat hy in ’n geveg met ’n Nigeriër betrokke was. Die klinieksuster het geweier om ’n lêer vir hom te open, want sy wou nie probleme met amakwerekwere hê nie.
Sy oë het hom straataf gevolg. Die nood het ingetrek in sy maer lyf, tot in sy gebeente. Hy het kort-kort stilgestaan en vorentoe geruk. Mevrou Boshoff se liefdesoffer het sy tol begin eis.
Dokter Posthumus het afgetrokke bly kyk. Die wind het aan sy oorgroot trui gepluk, asof dit hom tart.
Die dokter het gesug en oor sy oë gevryf. Dit is altyd so met bedelaars, het hy gedink. Die dringende doodleef van ’n oomblik wat jou anderpad laat kyk.
Op hierdie Dinsdag
het meneer Winter ingegaan op sy Facebook-rekening en gelees dat sy jarelange mater Buks Bezuidenhout op sy plaas naby Cullinan vermoor is. Daar was spikkels en vingermerke in sy bril. Hy het stil na die skerm voor hom gestaar. Hulle was albei bywonerskinders; het saam wintersoggende met hulle voete in stomende beesmis gestaan voor hulle daaroor gespot is by die volkskool.
Hy het bly staar tot sy lugtyd opgeraak het. Toe eers het hy gehuil. Die snikke het deur sy boggelrug geskeur en die trane het sonder ophou oor sy geparste gesig, soos droë rivierlope, vertak.
Op hierdie Dinsdag
het die president verjaar en die dag saam met sy gesin op sy landgoed, Nkandla, gevier. Sy boodskap in die pers aan die burgery was kort en kragtig: As alle Suid-Afrikaners kan saamstaan, waarborg dit ’n beter toekoms vir almal.
Op hierdie Dinsdag
het Samuel Ndhlovu onopgemerk tussen die struike voor ’n huis in Leegstraat gaan lê. Die huis was ’n halwe kilometer van die kliniek. Die huis het nie honde gehad nie.
Die straatligte het aangeflits en gestraal oor sy gesig; sy oë bloedstollend in sy kop. Hy kon die stuiptrekkings nie keer nie, en het op sy sy gedraai en sy bene opgetrek teen sy maag. In die voorstedelike aandstilte het hy skielik sy ma hoor sing, soos toe hy klein was.
Hy het sy oë toegemaak.
Baba Jacob, Baba Jacob
Usalela, Usalela
Amasilongo esonto ayakhala,
Amasilongo esonto ayakhala
Ding dong del,
Ding dong del.
Op hierdie Dinsdag
het Chané hoofletters in sinne in haar rofwerkskrif geoefen.
"Ons land het ’n regverdige Grondwet.
Ons land het ’n regverdige Grondwet."
Sy het dit tien keer uitgeskryf. Met ’n r in Grondwet, soos in graf.
Verwysing
Bellmann, W. 2004. Wolfgang Borchert: An diesem Dienstag. In Klassische deutsche Kurzgeschichten. Interpretationen. Stuttgart: Reclam.
The post Op hierdie Dinsdag appeared first on LitNet.