Quantcast
Channel: LitNet
Viewing all articles
Browse latest Browse all 20654

Jy het 'n wenresep!

$
0
0

Carmen Niehaus (fotobron: http://www.viatv.co.za)

Carmen Niehaus vertel vir Naomi Meyer, en vir enigeen wat glo hulle het 'n wenresep, van die vyf-sterre-beginsel wat sy op die kanaal Via se kookprogram Jy het 'n wenresep! toepas.

Hallo Carmen, jy werk op 'n vyf-sterre-beginsel om 'n wenresep te kies. As jy meen 'n resep moet vinnig en veelsydig wees, verduidelik asseblief hoe vinnig is “vinnig” en hoe verstaan jy “veelsydig”? Is veelsydig dieselfde as meervlakkig, ten opsigte van smaak of aanwending?

Vinnig beteken nie blitsig soos in 15 minute nie, maar ete moet darem op tafel kan wees binne 'n uur. Ek kyk veral na tyd wat voorbereiding neem en dit moet min moeite wees. 'n Eenskottelgereg wat oond toe gaan se gaarmaaktyd pla my nie, want dit neem nie van jou eie tyd op nie. 'n Voedselverwerker is my een moet-hê-apparaat in die kombuis, so enigiets wat jy aangepas het om sommer vinnig daarin aan te maak kyk ek intens na, veral as dit nie eers nodig is om die bakke tussen-in te was nie!

Veelsydig – ek hou van geregte wat jy met 'n paar tweaks in iets anders kan omtower, dus aanwending, maar dit kan ook smaak wees as jy die geure aanpas – dink byvoorbeeld aan 'n degie wat nou 'n koekie dan 'n pizzakors of dan 'n tertkors kan wees (en boonop lekker is as jy dit rou eet – ja, ek's gek na rou deeg ... sommer net 'n grappie).

Carmen Niehaus (foto verskaf)

Bestanddele: Beskou jy 'n wenresep as iets wat voorberei moet kan word uit bestanddele wat algemeen in Suid-Afrikaanse winkels beskikbaar is?

Geredelik beskikbaar in supermarkte en deli's, maar as jy in jou eie tuin kweek is dit sommer baie reg.  Foraging is nog vir my 'n moeilike een, want nie almal het al toegang nie en markte het 'n geneigdheid om aan die duur kant te wees – ja, bekostigbaarheid word definitief ook na gekyk.

Gesonde geregte kry 'n ster - maar dis ook deesdae in dispuut. Is gesond vir jou iets wat gebalanseerd is, of hoe gemaak met die Banters? 

Ek kyk na 'n resep spesifiek. Daar moet 'n poging aangewend word om dit gesonder te maak – ek kyk veral na suikergebruik, so 'n meelkoek of koekie waar jy gepoog het om suiker en vetinhoud te verminder, kry punte. As dit spesifiek 'n Banting-resep is, met ander woorde meer vet sonder of met min koolhidrate, dan is dit ook reg, met ander woorde jy bak dan nou met amandelmeel of klappermeel (as jy sommer jou eie meel maak deur amandels of klapper in die voedselverwerker fyn te maak, neem ek dit veral in aanmerking. Daar het al 'n hele paar Banting-resepte gewen! En botter en eiers beskou ek glad nie as sondebokke nie. Margarien en suiker is volgens my tans die groot “NO GO”. Vars? Ek wil mense aanmoedig om sover as hulle kan met vars kruie (dink ook varsgemaakte pesto) en speserye te kook en baie vars groente (neute en sade, opsioneel) inwerk waar hulle kan.

In 'n ander onderhoud met jou het jy al gesê dat dit vir jou goeie raad is om binne geurprofielbane te kook. As jy dus 'n ster toeken aan vernuwing, beteken dit vir jou dat die deelnemers moet bly by die land se kosgeure van hul keuse as hul die resep aanpas of herdefinieer?

Geurprofiele bly vir my die basiese riglyn wat mense kan volg as hulle nuut in die kombuis is. Dit vorm die basis. As jy eers vertroud is met hoe daardie geursamestellings werk, kan jy begin aanpassings maak. Dink byvoorbeeld die nuwe ding van soet wat nou sout bykry of koeke met kruie by. (Ek het al net so baie agtergekom mense is onseker oor wat pas by wat en op die ou einde land alles in daardie pot.) So begin by die basiese en werk daarvandaan af. Ek het byvoorbeeld vandag koeksisters gemaak met 'n suurlemoenstropie waarby daar basilie ingemeng is. Die kombinasie is onverbeterlik.

'n Ster vir smaak. Sjoe, dis 'n moeilike een – want smaak verskil tog, of hoe?

Ja, definitief. Maar ons is darem 'n paar op stel wat proe en weer proe (en die kameramanne proe ook). Ek hou van vars en geurige smake en ligter eet, so ja, dit sal altyd by my 'n regmerkie kry (mag ek dit 'n meer gesofistikeerde smaak noem?). Swaar, ryk en baie soet kosse gaan nou maar een maal nie die ding vir my doen nie. Die uitdaging is net soveel groter as jy nie sommer net alte lekker kan laat waai met die soet tot dit lekker is nie.

 

The post Jy het 'n wenresep! appeared first on LitNet.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 20654

Trending Articles


Wiskunde, graad 6: Vraestel en memo (November)


Weer 'n kans op geluk (Deel II)


Maak jul eie reënmeter


Hoe om ’n aangebrande pot of oondbak skoon te maak


8 Wenke om water te bespaar


Die beste tyd van my lewe


Koshuiskaskenades


’n Beoordeling van die vertaling van σάρξ (vlees) in die Direkte Vertaling...


Welkom in die wêreld, Baba Strauss!


Warrelwind skep my op in die lug…los my op ‘n Wolk se rug


Een vakansie tydens my kinders se sporttoere ...


Graad 4-wiskundevraestel en -memorandum (November)


Mikrogolf-vrugtekoek


18 unieke kosse wat net Suid-Afrikaners sal ken


Gedig: Populiere


Breekpunt deur Marie Lotz: ’n lesersindruk


Graad 6, 2016: Vraestelle en memoranda


Wonder ek oor die volgende ….


Die oplossing vir yl hare is hier


Kyk watter glanspaartjie is verloof!



<script src="https://jsc.adskeeper.com/r/s/rssing.com.1596347.js" async> </script>