Die LitNet-gesprekke oor die US se voorgestelde taalbeleid bied stimulerende leesstof. Breytenbach skop af met 'n aandrang op die erkenning en versterking van diversiteit en vra waarom die universiteit (die rektor by name) met "swak en siniese argumente 'n reaksionêre taalbeleid" aan die universiteit opdwing. Die US se taalbeleid sê hulle gebruik taal "op 'n wyse wat gerig [is] op die omgang met kennis in 'n diverse samelewing oor 'n verskeidenheid van akademiese, sosiale, administratiewe en professionele kontekste".
Anton van Niekerk antwoord dat Breyten se brief hom opnuut tref hoe "verskillend die verwysingsraamwerke is van waaruit ons na Stellenbosch se 'taalprobleem' kyk", en hoe ons "gevolglik by mekaar verbypraat".
Praat ons by mekaar verby in die Stellenbosch se taalgesprek? Dit lyk my ook so. Almal het stewige bydraes te make. Iemand sal die verlossende woord moet spreek. Die universiteit natuurlik en dan die howe. Die grondwetlike hof sal heel waarskynlik die argumente opkook, afwater en tot 'n beslissing kom. Aan die een kant is daar die reg op taal soos uiteengesit in die taalklousules van die Grondwet en aan die ander kant die reg op toegang tot onderwys.
Die US-konsepbeleid stel dit dat haar kernfunksie die omgang met kennis is. Dit is binne die konteks van die Grondwet wat bepaal dat elkeen die reg het om aan openbare onderwysinstellings onderwys te ontvang in die amptelike taal van eie keuse, waar dit redelikerwys doenlik is.
Die werker aan die universiteit, Anton van Niekerk, stel dit dat "die koue, harde, vir baie alumni skynbaar amper onverstaanbare werklikheid van die huidige studentekorps op Stellenbosch, is dat dié groep wat Afrikaans kan verstaan, asook die groep wat Afrikaans as onderrigtaal verkies, jaar na jaar kleiner word." Hy verwoord dan 'n standpunt vanuit die dosentekorps wat nie ongesiens verby kan gaan nie. "Die werklik onthutsende besef waartoe al hoe meer dosente kom, is dat ook in die gevalle waar studente hul huistaal aandui as Afrikaans (en laasgenoemde is reeds 'n krimpende minderheid op die kampus), 'n baie groot persentasie van laasgenoemde groep Engels in die klasse verkies." Hermann Giliomee dra weer sy statistieke aan wat vrae stel oor die geldigheid van die universiteit se syfers.
Twee aspekte wat my opval uit die insette, is die opposisie teen Engels en die verwysing na bruin Afrikaanssprekendes.
Breytenbach vra of die rektor die universiteit 'n konserwatiewe instelling wil maak "wat nog net in die nagemaaktheid van 'n koloniale taal, die taal van Coca-Cola en Monsanto, funksioneer". Ek dink onwillekeurig aan Salman Rushdie wat jare gelede gepraat het van die gekoloniseerdes wat die taal van die koloniseerde gebruik: "[I]t is in the language of the Empire that the colonised writers hit back." Of aan Vernie February wat in dié verband vir Caliban aanhaal: "You taught me language/ and my profit on't is I know how to curse."
Interessante gesprekke inderdaad.
Wat my die meeste getref het in die insette is Piet Croucamp se reaksie op Breytenbach. Een sin veral oor bruin mense:
Dit bly maar 'n morbiede vermaaklikheid hoe reaksionêres altyd die bruin mense se gebruik van die kombuistaal aan die nekhare insleep by die argumente teen verligting, so asof die lammervangers en die dopstelsel se kinders van gister nou weer voorgestoot word om te dien as menseskild teen die werklikhede van ons benepe opinies oor “eenvormigheid”.
Sy beledigende opmerkings teen Breytenbach ter syde, ek kan steeds nie daaraan ontkom dat dr Croucamp bruin mense hier ten diepste beledig nie.
Ek het reeds die misbruik van bruin mense se getalle deur ander Afrikaanssprekendes op verskillende terreine uitgewys as skynheilig. Maar om ons te sien as 'n "menseskild" wat voorgestoot word asof ons geen wil, standpunt of menswees van ons eie het nie? Dis tog laakbaar, en totaal uit voeling met menswees, die demokrasie van ons land en die bydrae van bruin Afrikaanssprekendes oor die eeue heen.
Maar hy gaan verder: bruin mense praat “kombuistaal”-Afrikaans. Wat het nou geword van Afrikaans in al sy variëteite wat saam die stroom van die Afrikaanse Gariep voed? Het hy al skaapvangers hoor Afrikaans praat? Het hy al wit mense sien skaap vang? Ek was onlangs in die Noord-Kaap met die Menseregtekommissie se Khoi- en San-hoorsittings. Die mense se bydraes was in welluidendende Afrikaans en daar moes in Afrikaans aan hulle getolk word wanneer African-amptenare van die staatsdepartemente in Engels kom getuig het. Hulle het hulle eie tale verloor en Afrikaans het hul moedertaal geword. Interessant dat die SABC Afrikaans nou met Khoi- en San-tale gaan groepeer het hierdie week. Die kombuistaal kry uiteindelik sy plek wat Croucamp se Afrikaans haar wil ontsê. Hopelik sal die Afrikaanse media nou ook begin wakkerskrik en die volle waarheid oor Afrikaans begin vertel.
Kombuistaal is die taal wat in die Hollanders se kombuise gepraat is toe die Hollandse vervoeginge en verbuiginge te moeilik geraak het. Vandaar dat ons praat van "ons" en nie "wij" nie, van "ons is" en nie "wij zijn" nie. Vandaar dat ons Afrikaans praat en nie Nederlands nie.
Die "lammervangers en die dopstelsel se kinders van gister". Wat 'n onsinnige stelling. Dis lank nie net plaaswerkers wat lammers vang nie, of wil Croucamp nou wit mense uitsluit hier? En die dopstelsel se kinders van gister? Wie het die dopstelsel ingestel en wie profiteer vandag nog uit die vergoeding deur wyn in plaas van behoorlike vergoeding? Wie is die eintlike kinders van die dopstelsel?
Dr Croucamp antwoord my in 'n sms dat hy dit as ironie bedoel het. Watter onsin.
Dan kom hy met 'n verdere draai van sy dolk, of sy "ironie". Russel Botman moes volgens hom vir Breytenbach 'n erge klip in die skoen gewees het, sê Croucamp. Maar dan verwys hy na die afgestorwe rektor as "die wederstrewige 'jollie hotnot'”. Nou ja, how low can you go? Behalwe die feit dat "hotnot" vir bruin mense gelykgestel word aan "kaffer", is "jollie hotnot" uiters beledigend vir die studente-aktivis, dominee, teoloog en visekanselier aan die US.
'n "Jollie hotnot" is 'n persoon wat in sy onderdanigheid sy base vermaak met sy voortdurende gelag, gespot en selfvernedering. Die ja-baas-, nee-baas-tipe. Wyle prof Botman? I beg to differ.
Ons leef in 'n era van vryheid van spraak, maar daar is ook beperkinge op daardie vryheid. Miskien moet daar 'n ondersoek kom na dr Croucamp se woordgebruik. Of miskien nie. Miskien moet gewoon aanvaar word dis hoe hy sy visekanselier, prof Rensburg, sien, of die visekanselier Jansen by UV, of Swarts by NMMU of Pretorius by UWK of De la Rey by UP, of miskien moet gewoon aanvaar word dat dit is hoe hy bruin mense sien.
Waar laat dit ons in die gesprek oor die US-beleid?
Aan die Suid-Afrikaanse tafel, nie ‘n hiërargiese vierkantige of reghoekige een nie. Die ronde een waar almal gelyk is en almal met gelyke waardigheid geag word. Gelyke kanse is veel meer as net een stem wat gehoor moet word.
The post US-taalbeleid: Op soek na 'n ronde tafel appeared first on LitNet.