Die dae was skynbaar goed; die kalmte en wyn soet ...
Teen die einde van my derdejaar het wat eens ’n “surfer-image” jongman was, verander na ’n besige belangrike en ge-agte rolspeler in die studentelewe-kokon. Die Nissan het plek gemaak vir ’n amper nuwe 3-reeks BMW met sy eie Baie Belangrike Parkeerplek op kampus. Teen hierdie agtergrond was die dinge van ’n kind binne maande verborge en wou sommige van die meisies aan die arm hul trourokke begin beplan. Sommige afwagtende skoonouers se lammers was reeds vir die onthaal vetgevoer, want die baadjie het soms beter as die persoon gelyk.
(O ja, amper vergeet ek weer. ’n Latere stalmaat en kollega, Tommie, het daai jare gespot: die nuwe 3-reeks BMW is die enigste tweedeurkar wat hy van weet, wat met vier deure uitkom! – dit was nogal knap agter-in.)
Die BMW’tjie was beslis ’n plesierrit.
Selfs toe ek en sy, een nag laat in Januarie 1990, deur ’n kampoenkleurige Datsun 120y in die stof laat byt is. Ek was vierdejaar en die bestuurder van hierdie parmantige wipgat Datsuntjie sou twee jaar later, halfpad deur my verpligte militêre diens, my beste helfte en huweliksmaat word.
Die BMW moes egter gaan.
Pa het ’n nuwe Mazda 1600 sedan gehuurkoop en toe ek uiteindelik my studies voltooi en salaris begin verdien, het die kar, die versekering, die onderhoud en die paaiement myne geword.
Ek het al hardop gewonder hoeveel manne by ’n braaivleisvuur of selfs ’n fondue die uitdrukking gehoor of moontlik gebruik: “’n Kar is nie ’n belegging nie.” As daar een ou is wat dit weet, dan is dit ek en seker ten minste nog eenmiljoen-tweehonderd-vier-en-sestigduisend-negehonderd-een-en-tagtig-en-sewentien (*1) ander onbekende ouens ook!
Want soos iemand se jeukerige boude vol knoppe van skulpvis-allergie uitslaan, so het my gladde babasag-boudjies na beter en meer gesmag. Die Mazda het plek gemaak vir ’n nuwe Opel, die Opel vir ’n Mercedes en toe ’n Toyota en toe ’n Honda en toe ’n rits Hyundai’s en weer Honda en Toyota en toe ...
Die moeder van my gebore seuns sal my sekerlik nie kwalik neem indien ek ’n staaltjie uit die Mercedes se dae deel nie. Dit was begin Februarie 1995 en ons eersgeborene was 5 maande en ’n paar dae oud. Sy mammatjie moes die einde van die maand weer begin werk en om haar te trakteer, pak ons die 280SE (“jumbo”) se kattebak en agtersitplek propvol met elke moontlike bad, weer- en kolliekmiddel en vat die pad na ’n vakansieplek langs die Swartvlei-meer by Sedgefield. Die “Benz” het, soos dit ’n dame betaam, ons sag, veilig en dorstig heen en weer geneem. Min het ons egter geweet dat vriende van ons, wat net die vorige naweek getroud is, hul tweede wittebroodsweek ook in dieselfde vakansieplek sal kom geniet. Nodeloos om te sê, maar toe ons hulle raakloop was hulle al moeg ge-wittebrood en was Deon al baie lus vir ’n nuwe avontuur. So gesê word so gedaan.
Alhoewel dit nie werklik my besitting was nie, het ek wel die huurgeld vir die dag betaal en derhalwe kwalifiseer die Hobie Cat wat ek en Deon die Saterdagoggend op die kaai teen die Swartvlei-meer gehuur het, as ’n bona fide voertuigstorie ...
Die outjie wat die affêre aan ons verhuur het, het uit die staanspoor aangeneem dat ons fikse jongmanne ’n grondige kennis van die wel en weë van die Hobie Cat het en uiteraard wou ons hom nie met ’n gebrek aan kennis teleurstel nie!
Selfs nie eens toe hy vra “14 or 16 foot?” nie.
“Yes, give us 16 foot.”
Ons was nie seker waarna die voete-besigheid verwys nie, maar wat sal dit saak maak?; dit kan tog nie só moeilik wees om die twee-plank kano met ’n seil in die water regop te hou nie!
Die windjie het lig geroer toe ek en Deon net na 09:00 ons Hobie Cat in die Swartvlei instoot en opspring. Die briesie was van agter en terwyl Deon stuur het ek die seil so al na die wind se kant gedraai – “sien dis maklik; kom ons laat waai!”
Die Swartvlei-meer is die grootste en diepste van al die vleie tussen George en Knysna. Dit vorm 'n lagune met 'n oppervlakte van 1100ha en ons was seker so 800 rugbyvelde die meer in, toe die speelding agter ’n koppie inseil en ons met die omkyk sien dat die kaai en vakansieplek glad nie meer in sig is nie.
Dít was egter geen rede tot kwelling nie, want ons is albei redelik rigtingvas; die feit dat die wind toe totaal-en-al gaan rus het, dít, was ’n rede tot kwelling!
Met ’n geroei en geswem het ons die Hobie Cat omgedraai gekry en met Deon terug aan die stuur, het ek die seiltjie al in die rondte agter elke asempie lugstroom wat moontlik oor daai koppie in ons rigting gedaal het, bly draai. Die son was al op die middaguur toe ons eindelik agter die natuurgemaakte murasie uitseil en die oopwater van die magtige Swartvlei indryf. Steeds sonder ’n aanduiding van ’n windjie; tensy ons dit self kon opwerk!
Vieruur die middag van daai windlose Saterdag was blykbaar ’n heuglike geleentheid, toe ’n vars bruid en ‘n oedende moedertjie saam met talle besorgde seilbootpersoneel en lewensredders op die kaai aanskou hoe ’n 16-voet Hobie Cat die hawetjie ingeswem word!
Ek het nog nie weer die see-water-en-seil-ding gedoen nie en is so-by-so steeds nie mal oor langafstand-swem nie.
....en weer ’n Honda en ’n Toyota en toe droog die verhale op en elke waan en indruk vol leë beloftes, die sine cera(*2) van ’n verwaarloosde kunswerk, word uit my bestaan gestroop...
Titel: die Ongeluk
Hennie Fritz
Datum gepubliseer: 29 Mei 2014
Ek is onskuldig , dit is nie my skuld nie,
dit was 'n fiets...
dít is wat hierdie aanranding veroorsaak het.
Laat my gaan en vlug van die toneel, die aanklag en verlede
ek is die gelukkige een, die een wat lewe
gratis uit genade, alhoewel so amper verniet ...
Ek het gesien hoe hy sterf,
vir 'n enkele sekonde het hy dit geweet;
daardie oomblik toe dit alles gebeur
die spoed, die gly, die val, die gruis
rondom flits niks verby nie; hy sien niks
net die knarsende stort van metaal wat skeur ...
Sy gedagtes is getref, sy kop in pyn
en met 'n tweede struikel en val
kan hy draai om die verwoesting te eien, te bepaal.
Hy gaan lê daar verdwaas, verward, stukkend
en dan, die geluide van stilte en die voëls vlieg daarbo;
gered uit hierdie tragiese verhaal ...
Psalm 30, Vers 4: “Here, U het my gered van die doderyk,
my aan die lewe gehou
toe ek al op pad was na die dood toe.”
In my lewe was ek nog nooit só dankbaar, soos gister en vandag, vir die sosiale status, die vergelykbaarheid met die inwoners van die dorp, die bure en die familie en die sigbare ekonomiese bemagtiging wat uit my DNS verdamp het nie.
Daarom verkies ek vandag ’n motor wat bestendig betroubaar en sonder veel aansien, grys of wit en sonder lag- of traanverhale die teerpaaie van die dorp bewandel.
Die slot-episode.
Nota’s:
(*1): vir JZ van KZN
(*2): ... beeldhouers wat kortpad wou kies en die foute in hul beeldhouwerk sou wegsteek deur krake ens met was te vul.
The post Episode vier: In die middel van my tuin staan daar vir altyd ’n ryding appeared first on LitNet.