Quantcast
Channel: LitNet
Viewing all articles
Browse latest Browse all 20659

Boekresensie: Omega, oor en uit deur François Verster

$
0
0

Titel: Omega, oor en uit
Skrywer: François Verster
Uitgewer: Tafelberg
ISBN: 9780624072614

’n Koffiewinkel in ’n winkelsentrum in die Kaap se noordelike voorstede is die gepaste plek om François Verster se boek te lees oor sy belewenis van diensplig en sy lewensloop daarna in die nuwe demokratiese Suid-Afrika.

Dit is hier, in die kuierplekke en winkels van oorwegend Afrikaanssprekende wit Suid-Afrikaners, waar mens jou deursnee-dienspligtiges, van wie die laastes so 27 jaar terug met die beëindiging van die Grensoorlog in 1989 uitgeklaar het, sal kry. Hulle moet vandag so tussen 45 en 50 wees. Amper nog in die fleur van hulle lewens. Ander is ouer, heelwat al afgetree. Honderde is nie hier nie. Net hul geliefdes met die skrale troos dat hulle hul lewens vir ’n vreedsame oorgang na ’n demokratiese Suid-Afrika opgeoffer het.

Mens soek antwoorde by hulle: Wat doen dié wat oorleef het vandag? Is hulle spyt oor die revolusie en bloedvergieting wat hulle help afweer het? Is hulle verbitterd? Ly hulle aan posttraumatiese stres? Hoe hanteer hulle dit om laaste in die tou te staan wanneer dit kom by bevorderings en aanstellings?

Die subtitel van Verster se boek is Die storie van ’n opstandige troep. Dit klink oppervlakkig. Die woorde op elkeen van die 207 bladsye is egter meer as “kostelike anekdotes” soos op die agterblad aangedui word.

Dit gaan nie net oor dieselfde ou “army”-staaltjies waaroor al baie geskryf is nie. Stories wat nodig was om geskryf te word. Om die kop skoon te kry. Om die toe en die nou te verstaan

François Verster, opgeleide geskiedenisonderwyser, dienspligtige op 25, later staatsargivaris by die Kaapse argief in die ou Roelandstraattronk en uiteindelik, en vandag nog, maatskappy-argivaris van Naspers, gee sý antwoorde in hierdie boek. Onder meer oor hoe die plafon in die staatsdiens, soos elders, helaas, ook vir hom te ondeurdringbaar laag geword het vir bevordering.

Hy skryf boeiend oor vandat hy as 25-jarige gegradueerde in Januarie 1987 vir sy verpligte diensplig van twee jaar by die Infanterieskool op Oudtshoorn aangemeld het.

Sy skrywe oor die twee jaar is inderdaad dikwels skreeusnaaks oor die oppervlakkige dag-tot-dag-lewe as dienspligtige. Van die rit op die trein en sy basiese opleiding tot uitplasing na die Omega-basis in die Caprivi, waar hy vir Boesmankinders moes skoolhou.

Verster se vertelling word egter diepsinnig verweef met ’n verhaallyn wat in die hede afspeel, byna 25 jaar nadat hy sy diensplig voltooi het. Waar hy antwoorde probeer gee op die vrae oor hoe hy (en ander) die lewe ná diensplig as gevolg van diensplig, en nou, ervaar. Hoe hy sy en die land se toekoms sien.

Vandag wonder hy oor die Boesmans wat in 1990, ’n jaar na die beëindiging van die Grensoorlog, na Schmidtsdrift in die Noord-Kaap gestuur is. En sommiges wat later, in 2000, na die Weskus-Sanpark verskuif is.

Hy skryf (bl 122): “Die SAW het seker goed bedoel toe hy die Boesmanskole en hospitale opgerig het en die Boesmanskool het sukses behaal, maar waar is hulle nou, die kinders van destyds?”

Hy wonder oor die argiefdienste. En sê wat hy dink: “Daar bestaan ’n wesenlike gevaar dat ook dié openbare diens kan verval en enige argivaris sal jou kan vertel dat dokumente wat wegraak, selfs net weens verkeerde liassering, vir altyd verlore kan wees” (207).

Hy wonder oor sy rol op die pad vorentoe: “Ekself voel soos ’n klimtol in ’n hyser: vir my gaan dinge op en af, meestal draai my kop en klop my hart in my keel wanneer ek dink oor my plek in hierdie land” (203).

Hy wonder wie gaan luister na die dinge wat hom pla. “Dan dink jy: die kanse dat pres Zuma ’n ontevrede Afrikaner se vertoë in Die Burger sal lees, is ewe skraal as wat ’n geliefde, afgestorwe foksterriër sy baas se woorde aan hom in die koerant se sterfgevalle sal lees.”

Dus, vra Verster, aan wie skryf ’n mens dan wanneer iets op jou hart druk? Sy antwoord: “Seker maar aan mense soos jyself.”

Hy gee nog antwoorde . . . Gaan lees gerus.

Aan wie jy ook al skryf, dit moet geskryf word, geboekstaaf word. As argivaris en bewaarder van die verlede weet hy dit.

Hopelik kan hy ander, nie net voormalige dienspligtiges nie, maar ook families en geliefdes wat deur diep waters is, aansteek om oor meer te skryf as net die dienspligjare – vir baie maar net “die lekkerste twee jaar van my lewe wat ek nooit wil oor hê nie”.

The post Boekresensie: Omega, oor en uit deur François Verster appeared first on LitNet.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 20659

Trending Articles


Wiskunde, graad 6: Vraestel en memo (November)


Weer 'n kans op geluk (Deel II)


Maak jul eie reënmeter


Hoe om ’n aangebrande pot of oondbak skoon te maak


8 Wenke om water te bespaar


Die beste tyd van my lewe


Koshuiskaskenades


’n Beoordeling van die vertaling van σάρξ (vlees) in die Direkte Vertaling...


Welkom in die wêreld, Baba Strauss!


Warrelwind skep my op in die lug…los my op ‘n Wolk se rug


Een vakansie tydens my kinders se sporttoere ...


Graad 4-wiskundevraestel en -memorandum (November)


Mikrogolf-vrugtekoek


18 unieke kosse wat net Suid-Afrikaners sal ken


Gedig: Populiere


Breekpunt deur Marie Lotz: ’n lesersindruk


Graad 6, 2016: Vraestelle en memoranda


Wonder ek oor die volgende ….


Die oplossing vir yl hare is hier


Kyk watter glanspaartjie is verloof!



<script src="https://jsc.adskeeper.com/r/s/rssing.com.1596347.js" async> </script>