Deesdae sien ‘n mens dit al hoe meer: ‘n Groep oproerige studente span saam om die Afrikaanse taal en kultuur by ‘n betrokke universiteit tot niet te maak en, voorwaar, ‘n groep Afrikaanse akademici ondersteun hierdie oproep met lendelamargumente van veragting teen hul eie taal en mense. Dit lê ‘n huidige kenmerk van Afrikaanse elites bloot: ‘n sado-masochistiese plesier om alles wat Afrikaans is te wil ondermyn. Wanneer ‘n geskil tussen die Ander en die Eie ontstaan, sal hulle getrou die kant van die Ander kies. Dit is ondanks ooglopende teenstrydighede tussen hulle eie standpunte, byvoorbeeld, anti-Afrikaanse Afrikanerdenkers gebruik ‘n "Fanoniaanse analise" van geïnstitusionaliseerde rassisme om rassisme mee te ontmasker. Werklik? Gerieflikheidshalwe word nie genoem dat Fanon uitsprake oor witmense gemaak het wat vandag as aanhitsing tot geweld beskou sal word. Fanon het uitdruklik die gebruik van geweld (met die goedkeuring van onse uwe JP Sartre) teen witmense gepropageer. Jy kan tog sekerlik nie rassisme gebruik om rassisme mee te bekamp nie! Dit is ooglopend kritiek wat nie gebaseer is op rasionele beginsels nie, maar ‘n soort self-haat vir die Eie. Soos Dave Steward van die FW de Klerk-stigting opmerk:
“Vladimir Lenin said that 'when the time comes for us to hang the capitalists they will compete with one another to sell us the rope'. In the same manner, Afrikaners are playing a leading role in assisting the ANC to eclipse Afrikaans as a language of tuition at university level.”
Verdermeer, myns insiens, druis hierdie tendens ook in teen die natuurlike instink van elke wese en groep om hulle eie selfbehoud te verseker. Sigmund Freud het amper ‘n eeu gelede gepostuleer dat die mens twee teenstrydige drange in haarself huisves: die drang op oorlewing (oftewel, Eros) en die begeerte om dood te gaan (ook genoem Thanatos). Dit is tans asof Thanatos of die Dood die oorhand onder Afrikaanse akademici, opiniemakers en openbare intellektueles het.
Die meeste Afrikaners - en buitestanders – neem hierdie self-hatende, anti-Afrikaanse sentimente waar, maar het nie die woordeskat om die fenomeen aan hulself en ander te verduidelik nie. Om die feit ‘n naam te gee is al die eerste stap om dit ongedaan te maak. Hierdie neiging om jou vyande se kant te kies is egter ook ‘n algemene Westerse verskynsel en is al elders in die Westerse lande aangespreek.
Die Britse filosoof Roger Scruton het dié self-hatende tendens beskryf en goed uiteengesit in ‘n toespraak wat hy op uitnodiging van die Vlaamse Belang op 23 Junie 2006 te Antwerpen, België, gelewer het. Dit is in hierdie toespraak wat hy die woord formuleer waarmee ons die geneigdheid in die Weste in die algemeen en die Afrikaner-gemeenskap in die besonder om teen hulself kant te kies, kan beskryf. Scruton noem die verskynsel oikophobia en beskryf dit as:
“…the disposition, in any conflict, to side with ‘them’ against ‘us’, and the felt need to denigrate the customs, culture and institutions that are identifiably ‘ours’. I call the attitude oikophobia – the aversion to home – by way of emphasizing its deep relation to xenophobia, of which it is the mirror image. Oikophobia is a stage through which the adolescent mind normally passes. But it is a stage in which intellectuals tend to become arrested.”
Scruton bevestig ook dat oikofobie (my Afrikaanse weergawe van die Engelse woord) nie net ‘n Engelse kenmerk is nie, maar ook ‘n Europese een:
“Nor is oikophobia a specifically English, still less specifically British tendency. When Sartre and Foucault draw their picture of the ‘bourgeois’ mentality, the mentality of the Other in his Otherness, they are describing the ordinary decent Frenchman, and expressing their contempt for his national culture.”
Oikofobie is inderdaad nie net ‘n Engelse geneigdheid nie en kom ook onder nie-Engelssprekendes voor. Volgens Scruton vind ons die beste voorbeeld van Europese oikofobie in die gestalte van Jacques Derrida. Derrida het met sy filosofie van dekonstruksie gepoog om alles wat eie aan die Westerse beskawing is verdag te maak ten voordeel van die Ander. (Dit is dan ook interessant om op te let hoeveel van ons eie anti-Afrikaner Afrikaners geesdriftige aanhangers van Derrida is.) Ek doen aan die hand dat dit beslis ook in Suid-Afrika onder Afrikaners voor kom en in ‘n erger mate as in ander, Westerse gemeenskappe omdat Afrikaners ook swaar te buk gaan onder skuldgevoelens oor die Apartheids– en koloniale verlede, wat behoorlik deur dié wat Afrikaans vyandiggesind is, uitgebuit word.
‘n Opvallende kenmerk van die oikofoob is dat in sy/haar eie opinie sy/hy ‘n persoon is wat "universele waardes" voorstaan vis-à-vis die "parogale", plaaslike en Eie. Scruton skryf:
“The oikophobe is, in his own eyes, a defender of enlightened universalism against local chauvinism.”
In Suid-Afrika onder Afrikaners beskou die gemiddelde oikofobiese Afrikaners (hulle misken selfs hul eie identiteit en noem hulself eerder "Afrikaanses") hulself as "verligtes" wat in ‘n heldhaftige stryd teen die "verkramptes" gewikkel is. En elke instelling wat Afrikaans bevorder moet gedekonstrueer word as euro-sentries, enklawes van die gewraakte "whiteness", en ‘n legio van anti-wit retoriek. Die teenstrydighede in hul eie beginsels verraai hulle skynbaar "rasionele" kritiek as hoegenaamd nie bona fide kritiek nie, maar self-haat. Hulle is natuurlik nie alleen in hulle haatdraende self-verwyt nie, want saam met hulle sing die anti-Afrikanerkoor uit die swart, linkse, pro-Engelse geledere in hulle stryd teen wat wit en Afrikaans is.
Oikofobie hou ook verband met ‘n ander tendens, die Xenofilie, of te wel ‘n oordrewe liefde vir dit wat vreemd is. Uiteraard is dit nie afkeuringswaardig as ‘n mens die Ander ondersoek en raakpunte probeer vind nie, maar dit raak problematies as iemand obsessief dit wat anders is bo die Eie verkies. Die (Suid-) Afrikaanse filosoof Danie Goosen vat dit so goed saam as hy skryf:
“Die ‘eie huis’ word krampagtig vermy, terwyl die ‘ander huis’ in ‘n emosionele ontdekkingsreis omhels word.”
Ek het dit nie in beginsel teen kritiek uit eie geledere teen die Afrikaanse gemeenskap nie. Sekerlik, as die Eie spreekwoordelik "droogmaak", behoort daar kapsie gemaak en opgetree te word. In my opinie moet kritiek van die eie samelwing gelykstaande aan self-kritiek wees: ‘n persoon kan krities na haar eie gedrag kyk sonder om self-afbrekend te wees. Goeie self-kritiek is soms noodsaaklik, maar wanneer die kritiek neerhalend is, moet dit verwerp word. Net so is daar ‘n verskil tussen lojale kritiek en oikofobiese kritiek. Lojale kritiek poog om die eie samelewing te verbeter deur krities-konstruktiewe kommentaar, terwyl oikofobiese kritiek homself verlustig in die geleentheid om die Eie af te breek uit ‘n gevoel van self-haat. Laasgenoemde is eerder ‘n soort self-belediging as kritiek hoegenaamd.
Net soos xenofobie en rassisme uitgewys moet word, moet oikofobie ook uitgewys word. Laasgenoemde is net so afkeurenswaardig as veragting wat uitwaards op die Ander geprojekteer word. Ons beskou ‘n persoon wat homself skade aan doen, soos deur homself te sny, as iemand wat geestesongesteld is. Hoekom word self-haat op ‘n ideologiese vlak dan toegelaat? Verbeel jou wat oikofobe hulle eie mense toedig sou teenoor ander uitgespreek word. Soos in die geval van ‘n wit persoon wat beweer dat hy witheid haat. As hy sou stel dat hy swartheid haat sou dit dan nie as rassisme beskou word nie? Dit is tog ooglopend rassisties.
Ten slotte voer ek aan dat die stryd teen oikofobie in Afrikanergeledere nie (net) ‘n stryd om die oorlewing van ‘n spesifieke bevolkingsgroep is nie, maar deel van ‘n universiële stryd om die mesnwaardigheid teen die magte van ontmensliking. Oikofobie, net soos xenofobie, is ‘n diskoers wat die menswaardigheid van mense aantas. En as jy menswaardigheid aantas, tas jy ook die kern van ons Grondwet met sy Handves van Menseregte aan.
Dit is iets wat nie in die Nuwe Suid-Afrika tuishoort nie.
The post Die anatomie van selfhaat appeared first on LitNet.