Namens die Konvokasie van die Universiteit Stellenbosch onderskryf ons, die Konvokasiebestuur, hiermee die Gelyke Kanse-veldtog teen die Universiteit Stellenbosch (US) se voorgenome taalplan. Ons is dit eens met die besware teen die voorgestelde nuwe taalbeleid én met die voorstelle vir 'n toelatings- en taalbeleid wat sal verseker dat Afrikaans in die toekoms ’n volwaardige onderrigtaal aan die US sal bly voortbestaan. Ons lewer hierdie kommentaar in ooreenstemming met die Konvokasie se standpunte rakende Afrikaans as onderrigtaal aan die US oor baie jare heen; en meen dat ons posisionering as dagbestuur in lyn is met konsekwente standpunt-inname deur die Konvokasie.
In aansluiting by alle dokumente wat deel uitmaak van die Gelyke Kanse-veldtog (sien www.gelykekanse.com), maak ons graag ook die volgende opmerkings:
- Ons verwerp ’n eensydige siening van Afrikaans as ’n wit(mans)taal of as ’n taal van onderdrukking en uitsluiting. Ons herinner u daaraan dat Afrikaans ’n meerderheid swart en/of bruin sprekers het. Ten tyde van die 2011 sensus was slegs sowat 2,7 miljoen van die bykans 7 miljoen moedertaalsprekers van Afrikaans wit (StatsSA, 2012: 26).
- Ons herinner u voorts daaraan dat Afrikaans in die apartheidsera nie uitsluitlik “die taal van die onderdrukker” was nie, maar ook ’n taal van verset en protes. Trouens: Afrikaans is in murg en been ’n bastertaal en een wat op eie bodem gebore is uit verset teen ’n Europese, koloniale, hegemoniese taal. In die gees van laasgenoemde ryke tradisie van verset, lokale gewortelheid en hibriditeit, wil ons dit benadruk dat ons steun vir Afrikaans as volwaardige onderrigtaal aan die US nie strydig is met ons steun vir ’n diverse, inklusiewe en gedekoloniseerde universiteit nie.
- In die lig van al bogenoemde versoek ons die US om, na heelwat versuim, hom aktief te beywer vir opwaartse klassemobiliteit in Afrikaanssprekende gemeenskappe van byvoorbeeld die Boland, die Kaapse Vlakte, die Overberg, die Karoo, en die Noord- en Oos-Kaap. Die US het in die apartheidsjare én in post-demokratiese Suid-Afrika nagelaat om genoegsame ondersteuning te bied aan Afrikaanssprekende studente wat nie wit is nie. Die voorgestelde taalbeleid sal hierdie geskiedenis van nalatigheid en aktiewe uitsluiting voortsit en sal die oorgrote meerderheid van Afrikaanssprekendes wesenlik benadeel. Die US behoort eerder ’n historiese, morele en etiese onreg te korrigeer deur met sy taalbeleid, toelatingsbeleid en met die aanstelling van personeellede ’n bydrae te lewer tot die bemagtiging van bruin en swart Afrikaanssprekendes. Ook bruin en swart skole in nabygeleë Afrikaanssprekende gemeenskappe moet op uitgebreide en volgehoue wyse deur die universiteit ondersteun en bemagtig te word.
21 April 2016
Konvokasiebestuur: Adv Jan Heunis, SC (president), adv Jacques. du Preez (ondervoorsitter), dr Nadia Marais (sekretaresse), dr Sonja Loots en dr Michael le Cordeur.
*Statistiek word aangehaal uit hierdie bron: StatsSA (Statistics South Africa). 2012. ‘Census in Brief’. Pretoria: Statistics South Africa. Op 18 April 2016 afgelaai by http://www.statssa.gov.za/census/census_2011/census_products/Census_2011_Census_in_brief.pdf
Gelyke Kanse-inisiatief bou momentum: Breyten Breytenbach rig ope brief aan US-rektor
LitNet Die alombekende Suid-Afrikaanse digter Breyten Breytenbach en vele ander bekendes uit ’n verskeidenheid sektore het so pas ’n inisiatief geloods om te verseker dat Afrikaans in die toekoms ’n volwaardige onderrigtaal aan die Universiteit Stellenbosch sal bly. |
The post US-taalbeleid: Die US-konvokasie se kommentaar op die US-bestuur se konseptaalbeleid appeared first on LitNet.