Die Nobelpryswenner JM Coetzee en die bekende Britse oud-diplomaat lord Robin Renwick het hul steun verleen aan die veldtog om Afrikaans se gelyke status met Engels as onderrigtaal aan die Universiteit Stellenbosch te behou.
Die twee internasionaal bekende persoonlikhede gee stukrag aan die veldtog genaamd Gelyke Kanse, wat verlede week deur ’n groep besorgde Suid-Afrikaners begin is. Volgens die organiseerders van die veldtog kry hulle dwarsoor Suid-Afrika en uit die buiteland ondersteuning vir hul inisiatief, wat vanweë die relevante grondwetlike kwessies van menseregte, gelykwaardigheid en veeltaligheid groot belangstelling uitlok.
Coetzee, die bekroonde Suid-Afrikaanse skrywer wat deesdae in Adelaide in Australië woon, en lord Renwick, voormalige hoë kommissaris in Suid-Afrika wat in Londen woon, is onder die honderde mense, hier te lande en in die buiteland, wat reeds die beswaarskrif by die internet-skakel http://gelykekanse.com/ onderteken het.
Die veldtog spruit uit pogings van die bestuurspan van die US om die universiteit te verengels. ’n Verengelsing-dokument wat verlede November deur die span uitgereik is, is kort daarna as gevolg van wydverspreide openbare teenstand deur die US-Raad gerepudieer. Maar begin vanjaar het die bestuurspan ’n nuwe konsep-taalbeleid in effens verwaterde vorm uitgereik, sonder dat hulle die Raad se voorskrif oor ’n taalkomitee gevolg het en ook nie geraadpleeg het met Afriforum nadat ’n hofskikking in hierdie verband aangegaan is nie.
Die sperdatum vir kommentaar op die nuwe konsep-taalplan is Vrydag, terwyl ’n aansoek van Afriforum om ’n interdik teen die US om die universiteit te verplig om sy taalbeleid toe te pas intussen tot 19 Mei 2016 uitgestel is.
Skerp kritiek teen die voorgestelde nuwe taalbeleid is onder andere uitgespreek deur die Hertzog-pryswenner Breyten Breytenbach, lid van die groep besorgde landsburgers wat Gelyke Kanse in die lewe geroep het. Die US het verklaar dat hy eers later wil reageer.
Volgens ’n woordvoerder van Gelyke Kanse, adv Jan Heunis, kry die groep positiewe terugvoering van ’n wye verskeidenheid van mense en groepe wat teen die afskaal van en selfs aanslag teen Afrikaans gekant is. Meer besonderhede sal binnekort bekend gemaak word.
Lees ook:
Die Taaldebat op US en die belang van moedertaalonderrig vir enige taalplan
Danie van Wyk "Afrikaans is nie meer die taal van die wit elite nie. Bruin mense gaan dus sentraal binne hierdie debat staan en vir hulself praat." |
US-taalbeleid: Breyten Breytenbach reageer op Anton van Niekerk se brief
Breyten Breytenbach "... u ideologie van pragmatisme herinner my aan die fris kêrel wat sy ma en pa vermoor het en nou by die hof pleit om vonnisversagting uit hoofde van die feit dat hy ’n weeskind is …" |
US-taalbeleid: Die syfers vertel ’n storie
Hermann Giliomee "Watter student sal ’n eerlike antwoord gee as hy of sy weet die dosent se grootste begeerte is om parallelmediumklasse te vermy?" |
US-taalbeleid: Ope brief aan Breyten Breytenbach
Anton van Niekerk "Die koue, harde, vir baie alumni skynbaar amper onverstaanbare werklikheid van die huidige studentekorps op Stellenbosch, is dat dié groep wat Afrikaans kan verstaan, asook die groep wat Afrikaans as onderrigtaal verkies, jaar na jaar kleiner word." |
The post Gelyke Kanse ontvang internasionale steun: JM Coetzee en Robin Renwick steun die inisiatief appeared first on LitNet.