André Brink se Kennis van die aand het my adolessente brein oopgeblaas soos geen boek vóór dit nie – en min boeke daarná.
In 1974 het die koerante weke lank berig oor hierdie eerste Afrikaanse boek wat ooit verbied is, maar ek was op hoërskool, in 'n koshuis in Nelspruit, waar ek skaars 'n koerant te sien gekry het, wat nog te sê van 'n verbode Afrikaanse boek. Daar was géén manier waarop ek in daardie omstandighede, in daardie tyd en daardie plek, Kennis van die aand kon lees nie. Ek moes twee jaar wag, tot ek op die ouderdom van 17 Afrikaanse letterkunde aan Stellenbosch Universiteit begin studeer het. Daar het ek ouer en wyser studente leer ken wat gesmokkelde eksemplare van die boek versprei het.
Dit was 1976. Die ander groot breinoopblaser van dié jaar, saam met Kennis van die aand, was die Soweto-opstand wat op 16 Junie losgebars het onder tieners van my eie ouderdom. Die enigste verskil is hulle was swart en ek was wit – en dit was die grootste verskil in die wêreld. Miskien moet ek eerder die woord "breinoopmaker" gebruik, soos die Afrikaanse "blikoopmaker", want my brein was bra blikkerig in daardie dae. Vol Christelik-Nasionale propaganda geprop en byna so dig soos 'n toegesweisde blik.
Let wel, ek sê byna, want daar het gelukkig darem reeds 'n klein bietjie lig en lug deur 'n paar gaatjies in die blik gesypel. En weer eens het André Brink iets daarmee te doen gehad. In die begin van my hoërskooljare, hier teen die ouderdom van 13, 14 het ek en my meisiemaats saam gegiggel oor die "stout stukkies" in Brink se vroeëre roman, Die ambassadeur, wat ons skelm gelees het sonder om veel te verstaan. Wat ons wel geweet het, is dat dit hier gaan oor dinge wat ons nooit sou kon lees in die ordentlike, outydse Afrikaanse boeke wat op skool vir ons voorgeskryf is nie.
Ek het met verwondering besef mens kan sowaar ook in Afrikaans oor seks skryf. Dit was vir my byna so 'n groot openbaring soos toe ek later Kennis van die aand lees en bewus word van politieke protes in 'n Afrikaanse storie.
Omtrent 20 jaar later, in 1994, het ek een van my eerste romans geskryf oor 'n groep wit tieners wat in die jare 70 in 'n swoel, wit gekkeparadys in die Laeveld lewe. Ek het toe reeds, op 'n beskeie manier, probeer hulde bring aan André Brink en wat hy vir my en ander lesende Afrikaanse jongmense beteken het. Die boek was Die dinge van 'n kind, wat binnekort heruitgegee word met 'n nuwe omslag, en ek dink dis die geskikte geleentheid om 'n paar paragrawe daaruit voor te lees:
"Dis Dalena wat gesê het ek moet dit lees. Wat my dadelik onraad laat vermoed het, want my kamermaat is nie die fluksste leser in die wêreld nie.
'Is daar seks in?' wou ek weet.
'Jou tone sal krul van lekkerkry.'
'In Afrikááns?'
'Man, André P. Brink is nie soos ander Afrikaanse skrywers nie.' Die manier waarop sy die P beklemtoon het, het die naam elegant en eksoties laat klink. 'Dis hot stuff, ek sê jou. Kaalgat-tonele.
Ek wou nie wys ek stel belang nie. Maar toe my ma ons Vrydagmiddag terug koshuis toe neem, ná ons in die Portugese kafee gekuier het, het ek haar by die biblioteek laat stilhou.
'Het julle Ambassadeur van André P. Brink?' het ek vir die tannie agter die toonbank gevra.
'Dié ambassadeur.' Sy het na my grys skoolrok gekyk en haar swaar wenkbroue het soos identiese helikopters bo haar brilraam opgestyg. 'Is jy nie bietjie jonk vir so 'n moeilike boek nie?
'Dis vir my ma.' Sonder om te blik of te bloos. Soms aard ek na my pa.
En nou lê ek in my vakansiebikini langs die swembad, swetend op soek na die eerste kaalgat-toneel.
'Die plek krioel van die slange,' sê pa. 'So dik soos my boarm. Mambas. Groenes in die bome en swartes op die grond.'
'Wat maak jy as jy op een afkom?' Die Kapenaar begin effens skepties klink.
'Jy maak jou broek nat!' lag pa. Ek loer bo-oor my donkerbril na die stoep se kant toe. Pa skud sy kop en buk af om die rooster weer om te draai. 'Nee, die swart mense hier rond weet wat om met slange te maak. Never Die – dis nou die boss boy – dra altyd 'n lang stok by hom. Hy kan 'n slang se kop met een hou plat slaan.'
'Seker dié dat sy naam Never Die is,' sê pa se ander vriend, wat van Pretoria af kom.
Ek sing geluidloos saam met Mick Jagger. I can't get no satisfaction. Ek weet nie wát ek sonder LM Radio sou gedoen het nie.
'Mart, jy moet oppas vir die son!' roep my ma wat pas met 'n slaaibak in haar hande op die rand van die stoep verskyn het. 'Vanaand sit jy weer in 'n asynbad en huil.'
'Aaaag, Maa!'
'Ek sê maar net.' Ma dra 'n geblomde trilobal-romp bo-oor 'n bypassende geblomde baaikostuum. Haar donkerbril lyk soos Jackie Onassis s'n. Aan haar ore hang trossies rooi kersies, so lewensgetrou dat jy daaraan wil hap. 'Onthou, dis nie die Kaapse son dié nie.'
Ek sit die oop boek plat op my gesig neer. Die swart letters swem voor my oë. Ek voel hoe die sweet by my maag afloop en in my naeltjie opdam.
Liefie klouter by die swembad uit, kom staan wydsbeen bo-oor my en skud haar lyf droog. Die waterdruppels skroei my vel soos droë ys.
'Nee, man, kyk hoe lyk die boek nou!'
'Wat lees jy?'
'Niks wat jy sal verstaan nie.'
'Hoe weet jy?'
Ek trek die klam boek nader, probeer weer lees. Die frangipaniboom agter my ruik so klewerig soos soos Ma se haarsproei. Oral om my is roomwit frangipaniblomme op die plaveisel afgegooi, asof die reuk selfs vir die boom te erg geword het. Dis moeilik om op 'n boek te konsentreer – selfs 'n boek met seks in – as die bome om jou soos haarsproei ruik en die son jou kaal bene brand en die plante so groen is dat dit voel asof jy pal deur 'n donkerbril na die wêreld kyk, selfs wanneer jy jou bril afhaal. Nou verstaan ek waarom almal altyd sê die mense oorsee lees meer as die mense in Afrika.
Nóg 'n rede waarom ek eendag in 'n dakkamer in Parys wil gaan woon. Om baie boeke te lees, terwyl ek lang Franse brode eet en goedkoop Franse wyn drink en sterk Franse sigarette rook. En wanneer ek nie lees nie, sal ek romantiese Afrikaanse gedigte skryf wat ek met groot gevoel sal voordra aan dodelik aantreklike Franse mans met sulke swart oë en sulke hol wange, wat natuurlik nie 'n woord daarvan sal verstaan nie ..."
Ja, dis waarskynlik te danke aan André P Brink en Breyten Breytenbach, wie se gedigte ek ook in my tienerjare ontdek het, dat ek nou al amper twee dekades in Frankryk lewe, met 'n Franse man en baster-Franse kinders. Die woorde wat Brink en Breytenbach destyds uit en oor Frankryk geskryf het, het my so betower dat Frans my gunsteling-vak op hoërskool geword het. En ek het begin droom dat ek dalk ook eendag in Frankryk sou uitkom ...
Ek moes weliswaar wag tot Griet skryf 'n sprokie vroeg in die jare 90 gepubliseer is voordat ek André persoonlik kon ontmoet. By een of ander deftige boekgeleentheid het ek langs hom aan die hooftafel beland. Ek was nog besig om verward water te trap in hierdie vreemde literêre poeletjie waarin ek so onvoorbereid gegooi is - en hier bevind ek my langs iemand wat al omtrent 60 boeke geskryf het en wie weet hoeveel pryse gewen het. Die beroemde André P Brink.
Ek was so oorweldig dat ek glad nie kon dink wát om vir hom te sê wat my nie soos 'n blonde bakvissie sou laat klink nie.
Toe hy dit eindelik regkry om my op my gemak te stel – sy sjarme was immers legendaries – blerts ek twee vrae uit wat skielik vir my lewensbelangrik gevoel het.
(1) Hoeveel ure slaap hy snags?
En (2) word hierdie hele literêre ding darem bietjie makliker ná die tweede of derde boek?
Ek het nie diep letterkundige antwoorde gesoek nie; ek wou net doodgewone praktiese raad hê om nie te verdrink nie.
Sy eerste antwoord was besonder bemoedigend. Ek het gedog ek is een van daardie bejammerenswaardige siele wat soveel slaap nodig het dat hulle nooit juis enigiets in die lewe sou vermag nie. En hier bieg die verstommend produktiewe Andre Brink sowaar dat hy ook 7 of 8 uur slaap nodig het! Dalk het sy behoeftes later in sy lewe verander, maar ek het aan hierdie belydenis bly vasklou. Trouens, ek doen dit nou nog, elke keer as ek skuldig voel oor ek te veel slaap en te min skryf.
Sy tweede antwoord het my egter so onthuts dat ek dáárdie nag nie 'n oog kon toemaak nie. Dit word nooit makliker nie, het hy gesê. Dit word al hoe moeiliker. Met elke boek word die eise wat jy aan jouself stel en wat ander aan jou stel, net hoër. Dis 'n harde korsie raad vir enige jong skrywer om aan te kou. Dit kan jou tande breek as jy nie versigtig is nie. Maar vandag weet ek dis van die waarste en waardevolste woorde wat 'n ouer skrywer my ooit gegee het.
Hulle sê letterkunde kan nie die wêreld verander nie. Maar stories kan mense verander, een vir een, bietjie vir bietjie, soos Brink se stories my en derduisende ander jong Afrikaanse lesers beinvloed het. Hy het vir ons in boek ná boek gewys wát alles in Afrikaans geskryf kan word. En so drupsgewys, mens vir mens, boek vir boek, kan stories dalk tog help om die wêreld om ons te verander. Die dag as ek ophou om dít te glo, sal ek ophou skryf.
Dankie, André.
The post Marita van der Vyver oor André P Brink by die Afrikaanse Kultuurfees Amsterdam appeared first on LitNet.