Beste Angus,
Ek verwys na jou navraag en maak verskoning dat ek nie my antwoord onder jou kommentaar/navraag plaas nie. Ek moet ongelukkig twee sketse insluit en dit is nie moontlik onder kommentaar nie. Ek probeer my bes en hoop die sketse kan aanvul waar my verduidelikings te kort skiet.
Ja! ons kan Mars se gang teen die agtergrond van die sterre soos op die video gereflekteer, volg en boonop sonder optiese hulp. Ek heg vir jou ’n kaart aan om Mars se posisie, tans in die konstellasie van Scorpius aan te dui. Dit is maar ’n trapsuutjies gang en die beste is om elke tweede of derde aand waar te neem. Die gehalte van die video was ongelukkig swak omdat ek die formaat moes aanpas vir e-pos doeleindes.
Mars verskyn tans na sononder in die ooste en is die res van die nag sigbaar. Dit sal voorts elke aand ongeveer 4 minute vroeër sy verskyning in die ooste maak. Ongeveer 31 Mei sal Mars in opposisie wees omdat dit gelyktydig met sonsondergang in die ooste opkom . Dit beteken dat die son en Mars byna presies aan teenoorgestelde kante van die aarde se horison sal sit. Sterrekundiges verwys na dié opstelling as opposisie. Ek hoop die illustrasie help.
Jou vraag waarom dag en nag nie elke ses maande omruil nie is interessant. Daar moet onderskei word tussen ’n son-dag en ’n sideriese dag: ’n Son-dag is gelyk aan die tyd wat dit vir die aarde neem om te roteer sodat die son weer presies reg bo dieselfde meridiaan skyn en dit is gelyk aan 24 uur. Dit is nou nie toevallig nie, maar die wyse waarop ’n horlosie – of die instrument waarmee tyd ook al aanvanklik gemeet is – gerieflikheidshalwe so gekalibreer is.
Daar word algemeen na ’n ‘son-dag’ verwys as ’n ‘dag’. ’n Sideriese dag is daarenteen presies een rotasie van die aarde en word teen die agtergrond van ’n ster gemeet. Dit is 3 min en 55.01 sek minder as ’n dag/(son-dag).
Die aarde roteer dus in 24 uur effens meer as 1 keer om sy as en sal gevolglik 366 volledige rotasies in 365 dae voltooi. Die gevolg is dat die sterre elke aand ongeveer 4 minute vroeër opkom wat nie op die son van toepassing is nie omdat die dag-en-nag siklus nie op die sideriese dag soos die sterre, gebaseer is nie. Tegnies gesproke ruil dag en nag in werklikheid om soos wat die geval met sg. winter en somer sterre/konstellasies die geval is, maar omdat ons 24-uur horlosie, nie met die rotasie van die aarde gesinkroniseer is nie, kom ons dit nie agter nie.
Dit is presies dieselfde situasie met ons Westerse Kalender. ’n Sideriese jaar verteenwoordig een volledige omwenteling van die aarde om die son en word net soos die sideriese dag teen die agtergrond van ’n ster gemeet en is gelyk aan 365.256363004 dae wat ongeveer 20 min en 24 sek langer is as die tropiese jaar of die kalenderjaar. Op dié manier is die verskuiwing van seisoene uiteindelik gefnuik.
Die tropiese jaar wat bekend staan as ’n jaar word bepaal deur die deklinasie van die son. Daar word ook daarna verwys as ’n sonjaar en in Engels soms ook as ’n ‘equinox year’. Dit is die tydsverloop tussen ooreenstemmende deklinasies van die son op dieselfde breedtegraad. ’n Tropiese jaar is korter as ’n sideriese jaar (1 sideriese jaar = 1.00003878 jaar/tropiese jaar) en dit neem vir die aarde nog 20 min. en 23 sek. om ’n volledige omwenteling om die son te voltooi nadat die jaar/tropiese jaar om middernag 31 Desember verstryk het en die vuurwerkvertonings om die nuwe jaar in te lei, begin het.
Die Juliaanse kalender was tot in die 17de eeu en in sommige lande selfs tot die 18de eeu, gebaseer op die sideriese jaar voordat daar oorgeskakel is na die tropiese jaar (Gregoriaanse Kalender) wat naastenby 365¼ dae is om die verskuiwing van seisoene hok te slaan.
- Terloops — die volgende is sekerlik nie vir jou nuus nie, maar ek noem dit maar interessantheidsonthalwe: Die sekonde is die amptelike eenheid van tyd en een van die sewe fundamentele eenhede wat deur die Internasionale Stelsel van Eenhede (International Systems Units) gedefinieer word. Dié eenheid en veelvoude daarvan, word oa gebruik om ander eenhede soos snelheid en afstand te definieer. Aanvanklik was die sekonde gedefinieer as ’n gedeelte van ’n dag nl een 86 400ste van ’n gemiddelde dag. (24 uur = 86 400 sek.) Die probleem is egter dat die aarde met verloop van tyd al stadiger roteer met die gevolg dat die dag en dus die sekonde al langer sou word en derhalwe is die definisie in 1967 aangepas en beskryf kragtens ’n sekere aantal vibrasies van die “Cesium133”-atoom onder bepaalde omstandighede. Die atoomhorlosie in Switserland wat sedert 2004 inwerking is, sal na bewering minder as 1 sekonde in 30 miljoen jaar, afwyk.
- Ek wil graag ook vir jou ’n rowwe skaalmodel van die sonnestelsel teen die agtergrond van die sterre voorhou aangesien ek verwys het na “Mars se gang teen die agtergrond van die sterre” en ook na “teen die agtergrond van ’n ster gemeet”. Indien die sonnestelsel met ’n faktor van 1.0 x 109 verklein word en in ’n groot stad voorgestel word en elke straatblok 1 AE (astronomiese eenheid) verteenwoordig, sal:
o die son ongeveer so groot soos ’n groot bal met ’n deursnit van 1.4 m wees;
o die aarde op dié model so groot soos ’n druiwekorrel en een straatblok weg van die son;
o Jupiter so groot soos ’n pomelo en 5 straatblokke van die son af;
o Saturnus, so groot soos ’n lemoen, 10 straatblokke weg en Uranus en Neptunis so groot soos nartjies, onderskeidelik 20 en 30 straatblokke weg wees.
o In dié model sal die naaste ster ’n allemintige 40 000 km ver wees — wat toevallig ± die afstand van die aarde se omtrek is.
Groete
Panda
The post Mars en opposisie vir Angus appeared first on LitNet.