Vir sy navorsing vir die weeklikse Regsalmanak-rubrieke maak Gustaf Pienaar grotendeels van Juta Law se aanlyn biblioteek gebruik. Hierdie regsbiblioteek is ‘n omvangryke naslaanbron van hofsake, wetgewing en ons land se dinamiese grondwetlike ontwikkeling. Juta Law stel hierdie bronne goedgunstiglik tot Gustaf se beskking vir die skryf van hierdie rubrieke. Vir nadere besonderhede besoek www.jutalaw.co.za.
Gedurende die vroeë 1970’s het regter Gert Coetzee uitspraak gelewer in die eerste Suid-Afrikaanse saak waarin vergoeding van 'n handelaar geëis is vanweë 'n gebrek in 'n produk wat hy verkoop het.[i] Dié uitspraak is vandag, onder meer weens die inwerkingstelling van die Wet op Verbruikersbeskerming,[ii] grotendeels slegs van historiese belang, maar die feite is nogtans interessant en steeds ter sake.
Die eiser ('n bouer) het van die verweerder ('n groothandelaar in boumateriale) 'n aantal salignaplanke gekoop. Planke van hierdie houtsoort is gewoonlik sonder kwaste en besonder geskik vir die oprigting van bousteiers.
Sonder om die planke te inspekteer, het die bouer dit gebruik om steiers by 'n bouperseel op te rig. Een van die planke het egter 'n menéér van ‘n kwas – maklik 10 cm in deursnee – gehad, en die eerste keer toe 'n werker daarop geloop het, het die plank gebreek. Die werker het hom byna disnis geval. Vir sy beserings het die bouer aan hom skadevergoeding betaal – waarskynlik ter aanvulling van wat hy in elk geval van die vergoedingskommissaris sou ontvang het.
Die bouer het daarna die handelaar van wie hy die planke gekoop het, gedagvaar vir betaling van 'n gedeelte van die geld wat hy aan die werker betaal het. Die bouer het erken dat hy self nalatig was om nie die planke te inspekteer nie. Maar, het hy geredeneer, die handelaar was óók nalatig deurdat hy houtplanke vir steierwerk verkoop het sonder om eers na te gaan of dit geskik was.
Regter Coetzee se uitspraak was destyds goeie nuus vir verbruikers. In beginsel kon hy geen rede sien waarom ons reg nie onder gepaste omstandighede 'n handelaar aanspreeklik sou hou vir skade wat deur 'n gebrek in 'n produk wat deur hom verkoop is, veroorsaak is nie. 'n Handelaar sal egter aanspreeklik gehou kan word slegs as bewys kan word dat hy nalatig was. Die toets vir nalatigheid is basies hoe 'n redelike mens onder soortgelyke omstandighede sou opgetree het.
Die vraag wat die hof dus moes beantwoord, was of 'n redelike mens in die posisie van die handelaar die planke vóór aflewering sou inspekteer het, en of hy dit nie maar aan die bouer sou oorgelaat het om die planke na te gaan voordat hy sy steiers daarmee begin bou het nie.
Hierdie vraag, het regter Coetzee beslis, kan beantwoord word alleen nadat die betrokke bedryf behoorlik ondersoek is. In hierdie geval moes die bouer dus getuienis voor die hof geplaas het oor die gebruike en gewoontes in die boubedryf. Vrae soos wat die bouers en handelaars gewoonlik van mekaar verwag, watter reputasie salignaplanke onder bouers geniet, waar en hoe sulke planke normaalweg gebruik word, ens, moes dus volgens die regter aan die orde gekom het.
Die getuienis wat aangebied is, was oplaas te min om regter Coetzee te oortuig dat die handelaar nalatig was toe hy versuim het om die plank te ondersoek voordat hy dit aan die bouer verkoop het, maar 'n gesonde beginsel rondom produkaanspreeklikheid is toe al in ons reg gevestig.
Hoewel hierdie uitspraak dus indertyd as ‘n nuwe rigting in ons regspleging verwelkom is, is dit deesdae van weinig meer as historiese belang: die Wet op Verbruikersbeskerming span immers die net baie wyer en maak dit vir verbruikers aansienlik makliker om die omvattende regte wat dié wet aan hul verleen, af te dwing. Artikel 55 bepaal dat elke verbruiker geregtig is om goedere te ontvang wat beantwoord aan die doeleindes waarvoor dit bestem is; dat dit van ‘n goeie gehalte moet wees; dat dit vir ‘n redelike tydperk in ‘n goeie werkende toestand moet verkeer; dat dit vry van gebreke moet wees; en – waar van toepassing – dat dit moet voldoen aan die bepalings van die Wet op Standaarde.[iii]
Artikel 61 van die Wet is van besondere belang vir verbruikers: dit bepaal dat die vervaardiger, invoerder, verspreider of verkoper van ‘n produk aanspreeklik is vir skade wat veroorsaak is deur die verskaffing van iets wat onveilig is; so ook die onklaarraking van of defekte in produkte; onvoldoende handleidings of waarskuwings aan die verbruiker mbt gevare wat kan ontstaan vanweë die verkeerde gebruik of aanwending van ‘n produk, edm. Dit is nie vir die verbruiker nodig om nalatigheid te bewys nie: die betrokke vervaardiger, invoerder, ens word skuldloos aanspreeklik gehou (in Engels word na dié verskynsel verwys as “strict liability”).
Regsgeleerdes kla dat die wet plek-plek lomp bewoord is, wat tot interpretasieprobleme aanleiding gee.[iv] Nogtans is dit ‘n reusestap vorentoe vir verbruikers soos ek en jy.
As jy meen dat jou regte as verbruiker in enige opsig aangetas word, is dit tog raadsaam om die hulp van ‘n prokureur in te roep. Die Wet is nogal tegnies en sal normaalweg bo die vuurmaakplek van Jan Alleman wees.
[i] A Gibb & Son (Pty) Ltd v Taylor & Mitchell Timber Supply Co. (Pty) Ltd 1975(2) SA 457(W).
[ii] Wet 68 van 2008. Formeel staan die wet bekend as die Consumer Protection Act en dit is slegs in Engels beskikbaar.
[iii] Wet 29 van 1993.
[iv] Vgl byvoorbeeld G Glover, Kerr’s Law of Sale and Lease (LexisNexis, 2014), bl 243.
The post Regsalmanak: Produkaanspreeklikheid, toe en nou appeared first on LitNet.