Dit was om en by 21:00 op die 31 Januarie 2016, dat ek en Wim na ’n heerlike kuier en braai by vriende op pad huis toe was. By die berugte “kruising van die dood” was die robot groen in ons guns. Wim agter die stuurwiel het goedsmoeds die kruising begin oorsteek, toe die geskreeu van remme op teer ons aandag getrek het. Ek sien net ligte wat op ons teen hoe spoed afstuur, en daarna niks meer nie. Wim en die bestuurder van die ander voertuig is beide op slag dood, ek bewusteloos met inwendige - en breinbloeding, longe wat plat geval het en niere wat tydelik ophou funksioneer het. Eienaardig genoeg, geen gebreekte bene nie.
Ek lê vir amper drie weke bewusteloos in die hospitaal se hoësorg-eenheid, onder suurstofdruk en nier-dialises met ’n gat tussen my ribbes wat pype bevat het om my longe te herstel. Behalwe vir die dreinering van bloed, asook die toediening van bloed, is ek verder geensins op geopereer nie. Intussen is Wim begrawe.
Toe ek begin bykom, was ek heeltemal gedisoriënteerd, en het hallusinasies deurgemaak wat vir my hel was. Die hallusinasies was so werklik. Met oop oë, en waarneming van my omgewing het my brein ander boodskappe uitgestuur wat my onder die indruk laat verkeer het ek is ontvoer en in ’n bed vasgeketting. (Ek was op my rug met albei hande teen die bedreëlings vasgebind om te keer dat ek die suurstof en ander pype nie uitruk nie). Daar was ’n apparaat in my mond tot diep in my keelgat af, wat my stembande gekeer het om te kan praat. Hierdie einste apparaat het dit ook vir my moeilik gemaak om behoorlik suurstof in te asem, en met tye is die suurstofbron dienooreenkomstig skielik afgesny wat veroorsaak het dat ek pynlik na asem gesnak het. Ek vermoed dat hierdie apparaat daar was om my te kan voer.
Die doktors en verpleegsters het ek as vyande aangesien. Van die verpleegsters wat teen die bestel was, het ek gehallusineer is in die saal doodgeskiet, met die werklike waarneming van die geluide van knalskote van gewere. Liedere is gesing wat ek nooit tevore van gehoor het nie, die woorde logies en die musiek melodies uiteengesit.
Toe ek die hallusinasiestadium verby was, was daar die eentonige dae op my rug, my hande steeds vasgebind, bedags geslaap en saans die hele aand wakker gebly. Tyd saans het ’n ewigheid geword. Die doktor het geweier om my slaappille op my versoek voor te skryf. Ek het my ontlas terwyl ek in die bed gelê het en moes doeke soos ’n baba gedra het, asook deur die verpleegsters in die bed gewas word. Elke vier uur is my bloeddruk, suurstofabsorbansie en suikervlak gemeet.
Soos ek aangesterk het, is alle apparate, behalwe suurstoftoediening verwyder, steeds met my hande vasgebind. Toe my hande uiteindelik losgemaak was, kon ek in die bed opsit. Dit is toe dat ek ontdek het ek kon nie loop nie. Die fisioterapeute neem nou oor. Die eenvoudigste oefening in die bed put my geweldig uit. Ek moes aan ’n loopring vasklou om net treë ver van die bed met groot moeite te kon loop.
Op die 28 Feb is ek na ’n “step down” oorgeplaas waar daar ’n doktor, fisio en arbeidsterapeute was. Daar was bedags geen tyd vir slaap nie. Van opstaan tot 15:00 in die middag was daar loop, sit en opstaanoefening. Ek was so swak, ek moes opnuut leer om myself te kan skeer, te kan stort asook om die toilet te kan gebruik. Ek kon glad nie uit ’n bad klim nie, dus het ek nie gebad nie, net gestort. Die kos was darem van 5-ster-gehalte, ontbyt, middag en aandetes, met hoë klem op proteïen vir aansterkingdoeleindes. Teen 18 Maart toe ek ontslaan was, kon ek weer wankelrig kort afstande loop met behulp van ’n kierie. Van ’n gespierde “gym-freak” het ek in ’n maer uitgemergelde mens verval. My lyfvel op my arms, lyf en bene het soos ’n ou man s’n vol rimpels gehang. My been-kuitspiere, my vorige trots, so te sê verdwyn.
Ek is nou 3 weke tuis, en moet sê dat ek sedertdien vinnig aangesterk het tot so ’n mate dat ek ’n hele ent sonder die rystoel en kierie begin loop het. Ek is nou weer opnuut lus vir die lewe, alhoewel Wim altyd ’n leemte in my lewe sal bly. Ons was amper 15 jare saam, hy tien jare jonger as myself. Ek was Woensdag vir die eerste keer na sy graf. ’n Hopie grond bedek met gebleikte en uitgedroogde blomme. Die grafsteen sal opgesit word sodra die hopie grond platgeval het, vermoedelik oor so ses maande.
My hospitaal- en mediese rekeninge was oor die R800 000. Gelukkig het ek ’n puik mediese skema wat vir omtrent alles gaan betaal.
Jaco Fourie
The post Amper dood appeared first on LitNet.