Aangebied deur LitNet en die Jakes Gerwel Stigting
Ter uitbreiding van LitNet en die Jakes Gerwel Stigting se strewe om nuwe skryfwerk aan te moedig, bied hierdie twee instansies van 12 Oktober tot 1 November 2020 ’n mentorskapprogram vir belowende jong Afrikaanse en Engelse skrywers aan. Die program is gemik op skrywers wat hulle met die kortkuns besig hou.
Jakes Gerwel het in die buurt van Kommadagga grootgeword; vandaar die skryfskool se naam. Verblyf van drie weke vir vyf kandidate op Somerset-Oos in die Stigting se skrywerswoning, Paulet Huis, aan die voet van die skaduryke Bosberg, is by die program ingesluit. Gerwel het hierdie huis in sy latere jare gekoop.
Die skrywer en dramaturg Rachelle Greeff, wat haar merk in Afrikaans en Engels gemaak het, sal as mentor optree. Sy was die begeleier van verskeie jong skrywers wat die afgelope agtien maande met gerekende publikasies debuteer het. Rachelle werk in verskeie genres en het al gesogte pryse vir haar kortverhale ontvang. Haar bekroonde toneelstukke Die naaimasjien en Rondomskrik is landwyd gesien en The sewing machine is in 2012 op die Edinburgh Festival opgevoer. In 2002 was sy ’n finalis van The Caine Prize for African Writing, ook “The Baby Booker” genoem. Van haar skryfwerk is ook in Duits, Nederlands en Deens vertaal.

Rachelle Greeff (Foto: Bernard Jordaan)
Voornemende deelnemers kan nou aansoek doen om vir dié geleentheid in aanmerking te kom. Aansoeke sluit op Maandag 14 September 2020 om 12:00. Belangstellendes wat op kortverhale, rubrieke, tydskrifstories, artikels of meningstukke wil fokus en nog nie voorheen ’n boek gepubliseer het nie, kan aansoek doen by theo@jgf.org.za. Aansoeke moet van die volgende vergesel word:
- ’n Kort biografiese beskrywing, met volledige kontakbesonderhede (300 woorde maksimum).
- Een of meer skryfstukke deur die skrywer waarop slegs die titel van ’n stuk aangedui word, en nie die skrywer se naam nie.
- ’n Kort motivering hoekom die skrywer meen hy/sy sal by die projek baat.
Rachelle sê: “Suksesvolle kandidate moet fokus, vasbyt en kognitiewe energie – en nuuskierigheid – saambring Somerset-Oos toe. Ná die drie weke behoort hulle potensieel publiseerbare stukke te kan skryf.”
Die skrywersverblyf in Somerset-Oos duur van 12 Oktober tot 1 November 2020, en die reis- en verblyfkostes, asook alle etes van die vyf gekeurde kandidate, word gedra. Van suksesvolle kandidate word verwag om werk te lewer vir publikasie op LitNet, en om onderhoude toe te staan. Ingevolge die nasionale rampregulasies rakende die COVID-19-pandemie sal daar van kandidate verwag word om tydens die skrywersverblyf gehoor te gee aan saniterings- en distansiëringsvoorskrifte, en om vrywaringsvorms te teken.
Die Jakes Gerwel Stigting fokus veral op die bevordering en uitbou van die Suid-Afrikaanse letterkunde. LitNet vier vanjaar sy 21ste verjaarsdag, en is sedert 1999 toegewy aan die slyp van nuwe talent.
The post LitNet en die Jakes Gerwel Stigting se Kommadagga-slypskool appeared first on LitNet.