Quantcast
Channel: LitNet
Viewing all articles
Browse latest Browse all 21831

Wat’s in ’n naam?

$
0
0

Fotobron: Unsplash

Alles. Jou naam vertel van jou geslagsregister, weerspieël jou ouers se drome en aspirasies en verklap iets van die zeitgeist waarin jy gebore is. Het jy ’n Bybelse, ’n historiese of ’n klassieke naam? Dalk spog jy met ’n nuutskepping, ’n naam met ’n eksotiese klank waarin iets van Ma én Pa vervat is? Johandré. Want Pappa André en Mamma Johanna het gereken dis te fraai om Boetie so te doop: Johan/dré, of Joh/andré, sien? Dalk is jy vernoem na ’n karakter in ’n Konsalik-boek. Svetlana, byvoorbeeld. Of dalk was jou jong ouers betower deur Hollywood-sterre – heelparty tagtigers heet Britney of Brad. Kenners in die konvensies van naamgee reken dat jong paartjies funky babaname verkies, terwyl ouers in hulle dertigs op meer tydlose name besluit. In ’n artikel elders op LitNet beweer Shirmoney Rhode weer dat die gebruik om kinders fancy name te gee, toegeneem het. Dis asof naamgewing ’n kompetisie geword het met al die aangelapte mix-and-match name. Veral op die Kaapse Vlakte. En sy haal aan: Lecharchey, Trumecia, Raylentia en Chardenenia – die lys is lank. Franse parfuumnaampies, het Rachelle Greeff dit op ’n kol genoem. ’n Alchemie van letters wat ’n magiese, volksvreemde klank teweegbring. Heelwat van hierdie name eindig op ’n "y", die spelwyse "é". Van hierdie name kreun egter só onder die gravis- en aksenttekens dat die woord met die eerste oogopslag soos iets uit Hongaars lyk. Dis soet name wat oor die palet rol ... of het die ouers iets poëties in gedagte gehad? Dikwels word die sintaksis van bestaande familiename bloot vermorsel en weer aanmekaar geflans tot (asemrowende!) neologismes. 

Vroulike name dra steeds swaar aan patriargale invoede; dogtertjies pryk tussen die genealogiese takke met hulle transgender-name: Gideona, Stefanie, Jacoba. Om van die ongeluksvoëls, wat hul voorvaders se name net so geërf het, nie te praat nie: Was daar dan regtig nie een vroulike naam om van te kies nie?

In die negentigerjare was dit hoogmode onder Afrikaanses om hul babas Afrikaname te gee, en Thembi, Thandi, Lindi, Thabo, Vusi, Sipho, Nkosi en Rolihlahla was gewilde keuses. Hierdie reënboognasiebabas – die sogenaamde born frees – is lewenslank geyk tot ’n betrokke tydsgewrig, die honeymoon-fase in die Suid-Afrikaanse geskiedenis ná president Mandela se bewindsname. En terwyl hierdie twintigers plus die juk van die steierende demokrasie in hulle name voortdra, word hulle uiteindelik die latere produk van ’n naamgeegier (name fad). Tussen 1965 en 1985, byvoorbeeld, is ’n reuse hoeveelheid dogtertjies wêreldwyd Jennifer gedoop. Die generasie Jennifers is nou middeljarig, en nie te ver in die toekoms nie is hierdie naamgenote bejaard. ’n Jong moeder mag dalk haar neus optrek vir die "ouvrounaam" ... of dalk juis besluit dat haar prinsessie so genoem moet word, want Jennifer is ondertussen getint tot ’n waardige, deurleefde naam. Naamgewing is soos modes, siklies, met al die geite en giere wat daarmee gepaard gaan.

In heelparty naamgewingskonvensies wêreldwyd word daar aan ’n jong kind twee name gegee, wat heelwat verklap van familietradisies, sowel as kultuur- en geloofspraktyke. Ons gebruik taal om persone en konsepte te identifiseer, klassifiseer en met mekaar te assosieer. Woorde beskik egter ook oor ’n bepaalde tekstuur, smaak, of feel van hulle eie, byvoorbeeld die naam Cleopatra tower die beeld op van ’n vrou met gravitas. Skrywers, wat name vir hulle karakters moet uitdink, is terdeë bewus hiervan. Byname is ook ’n spel met identiteit – of is dit die (ware) uitdrukking van die self? Afrikaanses is nie baie taktvol as dit kom by die uitdeel van byname nie ... byvoorbeeld Vissie Blom. Almal weet ’n Vissie kyk te diep in die bottel. En waarom moet Shorty knaend daaraan herinner word dat hy ’n stofpoepertjie is? Daar is ’n fyn grens tussen goedig en kwetsend. My naam, Nini, is ’n bynaam wat ek sedert kindsbeen by ’n Duitse tante gekry het. My ID-boeknaam is irrelevant, gereserveer vir offisiële aangeleenthede. Amptelike sake. My ID-boeknaam spel moeilikheid, soos wanneer ’n prokureur of skuldeiser na my nommer toe bel. Dan is dit moeilikheid en dit is amptelik. Ek is nie my ID-boeknaam nie. En natuurlik is dit ’n verkeerde nommer.

Die keuses van die nuwelinge se name word gedeponeer uit ’n verstommende aantal velde. Van hierdie name en klassifikasies is verskaf deur US Security Administration. 

Handelsmerke: Tesla (seuns en meisies), Fanta, Maybelline en Lillet (meisies).

Tekstiele en teksture: Denim (seuns en meisies) en Suede (seuns).

Sport: Op ’n stadium was daar ’n naamkoors rondom "Espn".

Spiritualiteit: Amen (seuns en meisies), Lucifer (seuns) en Calvary (seuns en meisies). Enige iemand vir Lillith? Ek praat van Adam se eerste vrou. Waarskynlik ’n goeie keuse vir ’n feministiese moeder. Maar waarom moet ’n kind tog die kruis van ’n religieuse naam dra?

Historiese en klassieke name na analogie van beroemdes en berugtes: Cleopatra en Jezebel (meisies); Stalin, Capone en Dante (seuns).

In 1938, met die Voortrekker Eeufeesherdenking van die Groot Trek het ’n paar stoere boere hulle kinders die volgende name gegee: Hermanus Eeufesius Smit, Ossewania, Kakebenia, Doringdradina – met verwysing na die Britse konsentrasiekampe tydens die Tweede Boereoorlog; en Rosina Hitleriana (Pappa was seker ’n geesdriftige Ossewa Brandwaglid). En terwyl sommiges kraak onder die gewig van geskiedkundige name, koester ánder ouers weer high hopes vir hulle bloedjies.

Prestige en name met attitude: Lucky, Beauty, Professor, Grace, General, Empress, Queenie, Duke, Vanity, Havoc, Envy, Slayer en Saint. In sommige lande is dit egter onwettig om ’n titel of geregistreerde handelsmerke as name te gebruik. 

Die natuur is ’n ryke bron van inspirasie as dit by naamgewing kom, byvoorbeeld edelgesteentes en kristalle soos Alexandrite, Esme, Jelt, Morganite en Olivine. Dan ook Lemon (meisies) en Alp (seuns) – en blommename is voor die hand liggend, byvoorbeeld Nerina, Erika, Olive, Ivy, Bluebell ... en Azalia of Abelia (van die Hebreeus, wat "asem" beteken). Ook die mitologie is nie gespaar met die uitloot van deftige name nie, byvoobeeld Eros, Ra, Isis en Beowulf.

Name met pizzazz: Suid-Afrikaners is baie kreatief as dit by nuutskeppings kom ... ja, dáárdie name, Pappa en Mamma kruisbestuif. Name met ’n duursame klank en feel, spesiaal gepasmaak vir Boetie of Sussie.  En moenie die eksotiese name vergeet nie ... Allegro, Zoë (Grieks vir lewe), Cloë of Cloé (simbool van vrugbaarheid). Daar is kiddies wat swaar dra aan poësie, maar ongelukkig nie uit die klassieke oord nie, nee, eerder die clichés van die populêre digkultuur, soos Max Ehrmann se "Desiderata". Die dae van voorgeskrewe Bybelse stamboekname is lankal verby en die sameflansings is letterlik so wyd soos die Heer se genade: Chrizette, Zelné, Yvandé, Andrénette, Z'Maré, MariLena, Alexelle, Joiedevivre, Amorique ensovoort ...

Die pandemie van 2020 het ongelukkig ook sy skadu oor die keuses van babaname gegooi. Met die onlangse geboorte van ’n tweeling in Indië het Moedertjie Precti Verma besluit om haar kroos "Covid" en "Corona" te noem. Ander pandemievariasies wat opgeteken is, heet "Kovyd", "Covid-Leigh", "Corona-Lisa" en "Quarantina".

Haas ongelooflik. Toe die stomme Juliet vir haar Romeo gevra het "What's in a name?", was dit waarskynlik as retoriese vraag bedoel. Maar met so ’n ryke deposito van name gemaak aan die mensdom, is dit duidelik dat ’n naam veel meer verklap as wat mens ooit sou kon raai.

The post Wat’s in ’n naam? appeared first on LitNet.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 21831