Om jou navorsingsfokus kort en kragtig weer te gee, is ’n lekker produktiewe oefening waarby enige navorser, van eerstejaarstudent tot universiteitsprofessor, sal baat.
Hierdie taak is egter nie so maklik soos wat dit klink nie.
Hier is ’n paar wenke en vrae wat jy jou kan afvra terwyl jy aan jou inskrywing vir die Einstein-kompetisie, aangebied deur LitNet Akademies, werk.
Die kompetisie daag jong navorsers uit om ’n eie stuk navorsing (byvoorbeeld ’n meestersverhandeling) op ’n toeganklike en interessante manier in 130 karakters of minder op te som. As niekundiges jou bondige beskrywing kan verstaan – en boonop deur jou navorsingsonderwerp geboei word – wel, dan het jou opsomming geslaag!
Drie LitNetters som hul proefskrifte ter voorbeeld op. Kan jy beter? "Suid-Afrika se Antarktiese geskiedenis: louwarm politiek op 'n witwarm kontinent." – Lize-Marié van der Watt, Geskiedenis "Rassisme, armoede, geweld, MIV/Vigs: Hoe betrek en verstaan Suid-Afrikaanse skrywers sosiale kwessies ná 2000?" "Ons beoog om die kwaliteit van gesigte op lae-resolusie-foto’s outomaties te verbeter en sodoende misdadigers vas te trek." |
Wenk 1: Dit maak nie saak hoe slim jy self is nie. Die uitdaging lê eerder daarin om jou lesers slim of wys te maak.
Wenk 2: Jargon is jou vyand. Soek eenvoudige sinonieme vir komplekse terme sodat almal jou navorsingsonderwerp sal kan verstaan.
Wenk 3: Jy sal in die bostaande voorbeelde sien dat dit nie nodig is om jou navorsingsgeheime te verklap nie. Ons stel eerder belang in jou hoofargument of -idee. Wat is jou navorsingsvraag? Wat is jou onderwerp?
Wenk 4: Dit is produktief om jouself af te vra hoekom jou navorsing belangrik of relevant is. Hoe bevorder dit kennis of begrip? Wat daaraan is nuut, uniek of spesiaal?
LitNet Akademies sien uit na jou inskrywing. Skryf só in:
Stap 1: Maak seker jy voldoen aan die bepalings en voorwaardes.
Stap 2: Som jou navorsing in 130 karakters of minder op.
Stap 3: Vul die inskrywingsvorm aanlyn op LitNet in.
Stap 4 (opsioneel): Twiet jou 130-karakter-opsomming en voeg #EinstKomp (10 karakters) by.
Volg mylitnet op Twitter, mylitnet op Instagram, ons Einstein-bord op Pinterest en LitNet Web op Facebook om op hoogte van sake te bly.
Navrae: einstein@litnet.co.za
The post Einstein-kompetisie: Wenke appeared first on LitNet.