Quantcast
Channel: LitNet
Viewing all 21831 articles
Browse latest View live

Kallid? Of ie kallid!? But maak it saak?

$
0
0

Artist: Olivia M Coetzee aka "Livy van ie Rive" (bewoording en skets verskaf)

Wie gie vi enige een die reg om te sê wie djy kan wies? Dit hang siekerlik van jou af om te besluit wie of wat djy is. Toe ek begin het met universiteit, het my gesoek na my verliede oek begin. Daar was iets in leer wat my laat verlang het na my eie verliede. But waa begin mens, wan al die stories wat my ore gehoor het of my oë gesien het, het mense se gesigte en velle gedra wat nie soes ek of my familie lyk nie. Ek kan nog onthou hoe ek elke keer bly geraak het as ek ‘n bruin aktrise of akteur wie Kaaps praat of Engels praat, op TV gesien het. Ek was bly wan ek kon relate, wan unfortunately is ie liewe soe. Ôs is mos gebrainwash om te dink volgens die kleur van ‘n mens se vel. Soe wanne djy vi motivering soek, dan kry djy dit makliker by mense wie soes djy lyk, dink, of praat.

Toe Wayde van Niekerk soe ‘n paar maande trug die atletiekbaan aan die bran geslaan het met sy spoed, was daar niks oor hom te sê nie. Hy was maar net nog ‘n kallid boytjie wat probeer om sy liewe te change. Soes ek die bra lies, is hy maar op ie grond, plat type-a-guy, en worry die dinge nie vi hom ie. Die “bruin” mense het lawaai gemaak oor ie feit dat niemand oor hom praat ie. Op ie selle tyd het ie “bruin” mense oek besef dat dit pointless is om oo die dinge te kla, en dat die enigste way vi ôs om pride te herstel, in ôse gemeenskap, is as ôs dit self doen.

Hulle sê “kennis is mag” en hulle is reg. Wan dit was die kennis van ie wêreld en hoe dit draai wat my laat begin dink het oor myself, oo kallid wies, oo my “moeder”-taal en “vader”-taal.

Soes my kennis gegroei het, het my need om daai stories van my verliede te ken oek gegroei. Soes die kennis gegroei het, het die vrae oek meer geraak. Een van hulle was: Hoekom is ek kallid en nie swart ie? Ek wil gewiet het wat van my kallid wies maak my indigenous. Ek het gewonne nou wat is my kultuur dan? Ek dink ie daa was ’n tyd in my liewe voor universiteit wat ek gedink het aan my kultuur nie. Because hoeko sal djy dink oo iets wat djy dan gloe dat djy dit nie het ie?

Die taal wat ek praat, was ie myne nie, of soe het ek gedink. Die klere wat ek dra se history was jonger as wat ek is. My geestelikheid en my geloof kom ie uit Afrika uit ie, en soe aan, en soe aan. My hele uitkyk op ie liewe was niks meer as net om ‘n werk te kry wat my kon genoeg betaal om orraait te liewe. Ek het oek gewiet dat my werksgeleenthede was niks meer as Shoprite of Pick ‘n Pay nie en daai was vir my orraait.

Ek wou oek ie ‘n mert wies ie. Al op hoërskool het ek geleer dat ek ie die hart het om illegal te wies ie, al het ek net entjies vekoep. Om ‘n mert te wies moet djy djou vrou kan staan as ie melk dik raak. Ek tjank gou, dis al wat ek sal sê.

My punt is, wat ek kon doen met my liewe was ie veel ie, en daa was ie suksesvolle kallid mense wie ek kon gebruik het as role models ie.

Nou Augustus was ‘n wonderlike maand vi dié wat hulleself beskou as Suid-Afrikaners, but meer soe kallid Suid-Afrikaners. Hier praat ek nou van ie Olympics. Volgens my is die grootse ster van die Olympics ôs se eie Wayde van Niekerk. Die rede vi dit gaan ie net oor hy Suid-Afrika se eerste goue medalje huis toe gebring het ie, but dat hy die rekord van 17 jaar afgehaal et en laastens dat hy vi my en soe baie anne kallid mense laat voel het dat daa hoop is vi ‘n bietere liewe. Ek het met elke een van sy wedlope, van ie heats na die finals toe, vroegoggend wakke gesit om te kyk hoe daai seun ie wenpaal oo stiek. Met elke wen wat Wayde ôs gegie het, het my “kallid” hart hoeg op gespring, om hanne te klap. Elke kee was dit vi my ‘n bewys aan ie wêreld wat genoem is Suid-Afrika dat kallids meer is as net syplappe met vuil en pap bekke is, dat daa meer onne die kallid se vel aangaan as net gangsterism, tik, harregat vroumense, skinnebek-anties met rollers in hulle haare en ie Kaapse Klopse.

Kyk vi jouself hoe die kallid nasie se naam hoeg gehou word, deur films soes 4-corners, en ie onlangse release, Noem my Skollie. Reg genoeg, die narratives wat altyd deur kom in sulke films gat oo die gangster wat deur druk en uit die gemors uit kom, but daa is meer. Hoekom word daa nooit ‘n boehaai gemaak oo kallids wie presteer in anne areas van ie liewe nie? Hoekom is it orraait om ôs nasie dan soe af te druk, van ôse taal af na ôse history? At least nou is daa vi ôs Wayde van Niekerk, al het hy nou net ‘n hashtag geword, but daai memory is daa. Kyk vi die TV series Suid-Ooster: dis popula onne die mense because hulle kan met daai gesigte op ie skerm relate.

Om iemand in Suid-Afrika “coloured” te noem is deel van Suid-Afrika se Suid-Afrika wies. By elke vorm wat ek al nou soe ver in my liewe ingevul het, was daar daai ever-tergende blokkie genoem “Coloured” wat my lê en loer om my net soe ‘n bietjie te teister. Soes ek nou gegroei het in my indigenous vel in, het ek nou al probeer om die “Other”-boks te tick, en te skryf dat ek Nama is, maar iets het net ie reg gevoel daa oo nie. Om ‘n heritage te claim wat djy niks oo wiet ie het oek sy eie challenges. Wan daai connections of links wat ek soek lê diep weggestiek in my ouers, my ouma se geheue en in my voorouers se verliede in.

Reg genoeg, gedurende apartheid was ôs ie wit genoeg ie, en nou is ôs ie swart genoeg ie. Die wiel draai, en it lyk ôs hy bly net altyd op ie stap onne “genoeg wies” beland.

Iemand het in ‘n documentary wat gaan oor ie struggles van bruin mense gepraat oo hoe ôs as kallids die mayonnaise is van ie swart en wit toebroodjie in Suid-Afrika. Ek wiet nou nie soe mooi oo myself ‘n sandwich spread, of salad dressing, te noem nie, but miskien is daa krag in daai woorde. Miskien is kallids die glue van die nasie, miskien is it vi ôs om Suid-Afrika bymekaar te bring. Al voel it meeste van ie tyd soes Suid-Afrika die kallids net kredit gie wanne dit hulle pas. Soever in die rubrieke wat ek nou al in “Kaaps” geskryf het, was daa mee as ‘n paa mense wie voel dat dit orraait is om tien my taalgebruik te diskrimineer. Sonne dat hulle in ag neem wat my heenkome is, of wat my regte as Suid-Afrikaner is.

Hoe verkeerd is die hele situasie van “Coloured” wies in Suid-Afrika nou rêrig, dat die hele Wayde van Niekerk issue nou oo sy ras gaan en nie sy prestasie as ‘n Suid-Afrikaner ie? Hoekom is dit soe maklik, nou, vir some swart mense om ôs te sê dat ôs swart is en nie kallid ie. Een van my dosente op universiteit het my laat vestaan dat black consciousness moes deel wies van bruin mense se “menswies” gedurende apartheid. Dit was verwag van jou af, as bruin mens, om jouself te sien as swart. Daar was baie bruin mense wie soe gestaan het, wan hulle het vestaan waa oo dit gaan. Die ding is net dié: in baie swart mense se oë bly ek, as Olivia M Coetzee, ‘n kleurling.

Ek het al mee as ‘n paa persoonlike experiences gehad waa ek baie mooi laat vestaan was dat ek ie swart is ie. Soes ie een kee toe ek een van die 2015 Open Book Festival talks bygewoon het en toe ‘n “black” publicist laat weet het hoe sy net “black” werk sal publiseer. Sy het gesweer dat as ‘n manuscript met ‘n van soes Van Blerk, Van Schalkwyk, of soes ek dit verder vestaan, Engelbrecht, Coetzee, Koopman, op haar lessenaar beland, sal sy dit dadelik in ie drom gooi. Ek het dit wat sy gesê het gechallenge, wan hoe kan sy dit kwyt raak? Wat dan van my? Moet ek dan nou my hele veliede loep veranne en weg smyt net soedat ek gesien kan word?

Nou dit is heeltemal maklik om vi mense soes Wayde te sê “nie my outjie, but djy is swart”, ommat hy presteer het, but wat van ie res van ie so-called kallid ras? Daai mense met ie velore voortanne, wat se monne en tonge nie skaam is vi skinne, grootvloek of smile ie, of die kinners wat ie rêrig support by die huis kry nie, of ie mert wat miskien velang om sy matriek klaa te maak, wan hy hou van nommers. Of ie meisie wat droem van eendag aeroplanes of space toe wil gaan. Dis hoekal hulle wat role models nodag het, dis hoekal ôs wat sulke positiwiteit nodag het. Dit klink miskien klein, but as djy nie kan trots wies oor jouself ie, dan is djy mos soes ‘n vrugteboem wat ie blom ie. Of hoe!? Wayde van Niekerk se ma sê dat vi haa gaan it ie oor Wayde kallid is of ie kallid is ie. Natuurlik hoef dit ie daa oo te gaan nie, but ... Hie dink ek aan myself en soe baie anne mense “van kleur” wie nie rêrig daai support of role models gehad het toe ôs opgegroei het ie. Die stories wat ôs gehoor het was van mense wie nie ôse realities weerkaats het ie. Om iemand te wies was maa net altyd uit ôs se reach uit.

As Wayde wil identifiseer as swart, Suid-Afrikaans, of kallid, dan is dit sy reg, but volgens my is sy wen nie net ‘n wen vi Suid-Afrikaners ie, but oek vi mense wie kan proudly sê, voel en relate met daai bra. Wan hulle het rugby gespeel met hom toe hulle nog kinners was. Wan hulle kan hulleself sien in hom, wan hy praat soes hulle. Hulle kan droem om soes hy te wies, wan hy lyk ie selle soes hulle.

Soe, Suid-Afrika, as ôs hom wil claim as ‘n role model, gun ôs dit. Ôs is sieke nou net mooi siek om gesien te word as net druggies, gangsters, wille meire of willie-werkers.

Wayde, veskoon my, but volgens my is djy kallid, en volgens wat ek sien en hoo is djy kallid. My hart hunker na iemand soes djy om kallid te wies soedat ie laaities wat hie is, en daai wat nog kom, oek kan sien dat hulle het ie reg om te presteer en sukses te behaal hie in die land. Miskien is daai wen van jou ‘n wen genoeg om mee as ‘n paa kallid laaities weg van ie guns af baan toe te trek.

Ja, ek is Nama, but ek is eeste kallid en proudly soe!

Op ie oudedom van 16 was ‘n Goodhope fm dj by o’s skool. Hy het met ‘n mic innie ronte geloep om kinnes te vra wie hulle is en waa vandaan hulle kom. Ôs almal het op ie netbalbane se cement blad gesit. Hy’t voo my kô staan, en hy’t my gevra. “So who are you and where you from?” Heelwat op sy nerves. Ek it hom boe oo my brille gekyk en stadig gesê: “Ek is Livy. Vannie Rive.”

Bly te kenne!

 

The post Kallid? Of ie kallid!? But maak it saak? appeared first on LitNet.


Film review: The Shallows

$
0
0

Sure, The Shallows is not a perfect film, but it is summer entertainment at its most minimalist and thrilling.

The bad

The family interaction borders on Hollywood schmaltz.

Superimposing Blake’s face on to a body double is ridiculous – we know it’s not her, we don’t care; don’t do close-ups.

Some of the stunts are beyond ridiculous, but we don’t watch these films for realism, do we?

Some of the editing was a bit bizarre – at times it felt like I blinked too long and missed a few scenes. Especially the end scene comes hurtling towards you at breakneck speed. I was anxiously awaiting more adventure, just to find myself staring at the dead shark! (No, it is not a spoiler.)

The good

Blake Lively is engaging, the film is beautifully filmed, Nancy’s ingenuity is quite cool and, damn, it is a blockbuster starring a woman (and no one else, for that matter).

The best thing about this film, though, is the suspense. You really sit on the edge of your seat from beginning to end. Jaume Collet-Serra uses the fact that his viewers know it is a shark movie. The more beautiful and idyllic the first epic waves are, the more you sit and worry about what is to come.

He utilises sound to build up tension. In the first surfing scene he cuts quickly between the surfers catching waves and a pumping summer anthem and the subdued underwater sound of the ocean.

Apart from good old-fashioned scare tactics (the shark jumping out at Nancy, the bullets falling into the water, etc), Collet-Serra also scares you by not showing you what the shark is doing, for example to the whale carcass, to a hapless drunk ocean reveller, or in the dark of night.

It is a thrill ride. Period.

The post Film review: The Shallows appeared first on LitNet.

Regsalmanak: Putatiewe noodweer

$
0
0

Vir sy navorsing vir die weeklikse Regsalmanak-rubrieke maak Gustaf Pienaar grotendeels van Juta Law se aanlyn biblioteek gebruik.  Hierdie regsbiblioteek is ‘n omvangryke naslaanbron van hofsake, wetgewing en ons land se dinamiese grondwetlike ontwikkeling. Juta Law stel hierdie bronne goedgunstiglik tot Gustaf se beskikking vir die skryf van hierdie rubrieke. Vir nadere besonderhede besoek www.jutalaw.co.za.

Lees ook vorige Regsalmanak-rubrieke
Hy sou met haar trou, mits ...
Dink twee keer voor jy appèl aanteken
Ceres se akkerbome
Die "kousale ketting" in strafsake
Diefstal van eie goed
Regsalmanak: Stephan Welz se epiese hofstryd
Regsalmanak: 'n Storie oor 'n spinnekopwespe
Regsalmanak: Die bloedige hand erf nie
Regsalmanak: Regte van ‘n ongeborene
Regsalmanak: Teologie-proffie wat slegs sy Bybel en ‘n sannageweer op sy naam gehad het ...
Regsalmanak: Wanneer vermoed word dat iemand dood is
Regsalmanak: geldige testament of nie
Regsalmanak: #SmutsMustFall? Toe nie – danksy Epidermix 372
Regsalmanak: Ondertekening van parlementswette
Regsalmanak: Robert McBride
Regsalmanak: Is McBride ‘n “moordenaar”, of nie?
Regsalmanak: Produkaanspreeklikheid, toe en nou
Regsalmanak: Die vere maak die voël
Regsalmanak: Die rokende bus en die motorfietsryer met trane in sy oë
Regsalmanak: "Die tjek is innie pos"
Regsalmanak: Protes en brandstigting
Regsalmanak: Sal ‘n rekenaar eties kan optree? En wat van liegbekke ontmasker?
Regsalmanak: Die Groot Krokodil se swanesang
Regsalmanak: Nasionale Wet op Veld- en Bosbrande
Regsalmanak: Tyd om die roede ook in Suid-Afrika te spaar?
Oscar Pistorius – vir laas: Voorste strafregkenner krities oor appèlhof se uitspraak
Regsalmanak: Hoofregter Stratford en die Wêreldhofuitspraak oor SWA
Regsalmanak: Twee juriste
Regsalmanak: Die verskyningsvorme van opset

Toe ons kinders nog klein was, is die twee groter kinders dikwels deur hulle jonger boetie verpes terwyl hulle gespeel het. Op 'n dag het hulle besluit om die mannetjie 'n les te leer. Hulle het hom geblinddoek en by die boonste verdieping van ons woonhuis by 'n buitedeur uitgeneem na 'n oop stoep. Daar het hulle hom op 'n baksteen laat staan en hom wys gemaak dat hy op die rand van die stoep staan. Hulle het gedreig dat hulle hom daar sou afstamp as hy nie dadelik en plegtig sou beloof dat hy sou ophou om hulle te verpes nie. Die outjie het soos 'n maer varkie geskree sodat die bure vyf huise verder hom gehoor het. Uiteindelik het hulle hom toe wel van die baksteen afgestamp en het hy die blufspul agtergekom. Maar ek kan jou verseker dat solank hy op die baksteen gestaan het en deur sy ouer boetie en sussie getreiter is, hy vas geglo het dat hy op die rand van die dak staan.

Dit bring ons by vandeesweek se hofsaak. 'n Sekere mnr Naidoo van Gauteng is daarvan aangekla dat hy sy pa in 1995 vermoor het deur hom in die kop te skiet. Die jeugdige mnr Naidoo het 'n paar dae vantevore die pa van 'n fris seun geword. Vroeër die aand was daar nogal 'n taamlike debat in die familie oor na wie die seuntjie vernoem moes word. Naidoo se vader was 'n Tamil terwyl hy self en sy vrou – die ma van die babaseun – Moslems was. Die argument het daaroor gegaan of die seuntjie 'n Tamil- of 'n Moslem-naam moes kry.

Die debat het lank ná middernag voortgeduur en op 'n stadium is Naidoo se vader en sy broer daar weg. Naidoo het egter nog met sy ma en suster oor die gewigtige kwessie geargumenteer, toe hy 'n geluid by die veiligheidshek voor die huis se voordeur hoor.

Omdat daar voorheen inbrake by sy huis was en omdat hulle in 'n gevaarlike buurt gewoon het, was hy dadelik op sy pasoppens. Hy het drie maal gevra wie is daar, maar daar was geen antwoord nie en toe het hy die voordeur oopgemaak. Daar was weer 'n geluid by die hek en hy het toe 'n skoot met sy vuurwapen afgetrek. Onmiddellik daarna het hy tot sy afgryse ontdek dat dit eintlik sy vader en broer was wat, nadat hulle vroeër die aand daar weg is, teruggekom het. Sy vader was op daardie stadium reeds sterwende.

In sy uitspraak[i] van op 29 Augustus 1996 beslis regter Marais dat die Staat nie bewys het dat mnr Naidoo die direkte opset gehad het om sy pa dood te skiet nie. Omdat hy egter toegegee het dat hy die moontlikheid voorsien het dat hy, deur te skiet, iemand buite die woonhuis dodelik kon tref, het hy wel opset by moontlikheidsbewussyn – ook bekend as dolus eventualis – gevorm. Dít sou voldoende wees om hom aan moord skuldig te bevind.

Die hof het egter beslis dat die Staat moes bewys het dat daar by mnr Naidoo die persepsie was dat, terwyl hy die skoot afgevuur het, hy onregmatig opgetree het. Nou, al maak 'n mens iemand opsetlik dood, kan dit onder bepaalde omstandighede nie onregmatig wees nie, byvoorbeeld wanneer jy in noodweer of selfverdediging optree. As iemand jou aanval en jy jou kan verweer of beskerm slegs deur die persoon dood te maak, is jou optrede wel opsetlik, maar nie onregmatig nie. Daar word in regstaal gesê dat jy in noodweer opgetree het; dat jy met ander woorde 'n regverdigingsgrond gehad het.

Maar dit is duidelik dat in mnr Naidoo se geval daar geen werklike aanval op sy huis was nie. Net soos ons jongste wat op die baksteen gestaan het, vas geglo het dat hy eintlik op die rand van die stoep op die eerste verdieping was, het Naidoo, toe hy twee maal 'n geratel by die veiligheidshek gehoor het, vas geglo dat daar inbrekers was wat hom en sy huisgenote aanval. Hy het nie regtig in noodweer opgetree nie, maar hy het gegló dat hy in noodweer optree. By hom het wederregtelikheidsbewussyn – wat ‘n element van opset is – ontbreek.[ii]

Die hof het beslis dat dié oortuiging by Naidoo nie onredelik was nie. Om mee te begin was hy maar skaars 19 jaar oud. Daar was voorheen inbrake by sy huis. Hy was die enigste man in die huis en hulle het in 'n gevaarlike buurt gewoon.

Die hof het egter 'n probleem gehad met die manier waarop Naidoo geskiet het. Die hof was van mening dat hy onredelik opgetree het deur die skoot op kophoogte af te vuur. Die redelike mens sou onder die omstandighede waarskynlik 'n waarskuwingskoot in die lug of in die grond afgevuur het of hy sou op só 'n hoogte gemik het dat hy die vermeende of werklike aanvallers nie met die eerste skoot noodlottig sou tref nie. As hy 'n waarskuwingskoot geskiet het, kon hy die houtdeur weer onmiddellik toegeslaan en gegrendel het – iets wat hom net 'n paar oomblikke sou neem. Hy kon daarna alarm gemaak het en ander maatreëls getref het om hom en sy huisgenote te beskerm.

Kortom, hoewel Naidoo volgens die hof dus redelikerwys gegló het dat daar 'n aanval op sy huis is – regsgeleerdes praat van putatiewe noodweer – was sy optrede daarná onredelik. Die hof het bevind dat hy nalatig was, en omdat hy sy pa se dood op 'n nalatige wyse veroorsaak het, is hy aan strafbare manslag skuldig bevind.

Ons lees nie in die hofuitspraak wat Naidoo se vonnis was nie, maar 'n mens kan nie glo dat hy besonder swaar deur die hof gestraf is nie.

En as die feite van hierdie saak jou aan die Oscar Pistorius-sage herinner, is jy natuurlik reg. Steeds wonder ‘n mens wat die prinsipiële verskil is.[iii]

 

[i] S v Naidoo  1997(1) SASV 62 (TPD).

[ii] Vir ‘n elementêre bespreking van opset, gaan na  http://www.litnet.co.za/regsalmanak-die-verskyningsvorme-van-opset.

[iii] ‘n Kritiese LitNet-bespreking van die appèlhofuitspraak oor Oscar Pistorius kan gelees word by http://www.litnet.co.za/oscar-pistorius-vir-laas-voorste-strafregkenner-krities-oor-appelhof-se-uitspraak.

The post Regsalmanak: Putatiewe noodweer appeared first on LitNet.

Phil du Plessis 1944–2011

$
0
0

laasnag droom ek van die digter-dokter
en sy huis langs die see met die spoorlyn
tussen die golwe en sy vermolmde voordeur

die jambiese geklop van die treinwiele
laat die huis ’n paar keer per dag bewe:
die digter moet herinner word aan sy plig

terwyl hy in die spreekkamer sy tyd verwyl
met siektesertifikate en Jungiaanse terapie
of deur die huis vol kunswerke dwaal

wanneer die gedigte en pasiënte wegbly
speel hy wankelrig viool, met die branders
se basso profundo op die agtergrond

en die siellose geklak van ’n metronoom –
op ’n dag spoel die woorde soos skulpe uit
en in ’n doktershandskrif krap hy dit byeen:

verse oor Valsbaai, sy gebreekte rug, valse vriende
en die altydteenwoordige eensaamheid
in daardie lendelam huis langs die onsterflike see

The post Phil du Plessis 1944–2011 appeared first on LitNet.

Han Sjan sê

$
0
0

(vir Phil du Plessis)

my vriende besoek my selde
want dit is bar op Koueberg
waar die yswater bergaf stort
en die wolke die son wegkeer
my beste geselskap is die wynkan
wat my dorstige gees verwarm
dan eers begin ek dans en sing
en my gedigte op rotse verf
vir die wind en water om te lees

The post Han Sjan sê appeared first on LitNet.

Video: Bekendstelling van Moordvis deur Irna van Zyl

$
0
0

Irna van Zyl se debuutroman, Moordvis, is onlangs by Stellenbosch Protea Boekwinkel bekendgestel. Karin Brynard het met haar gesels.

 

Karin Brynard gesels met Irna van Zyl

Irna van Zyl

Karin Brynard, Irna van Zyl, Marita van der Vyver en Julia Viljoen

 

The post Video: Bekendstelling van Moordvis deur Irna van Zyl appeared first on LitNet.

bl 118 in die afrikaanse woordeboek

$
0
0

ons ouers sit in fancy restaurante
en wag op ons resultate
die toekoms staan reusagtig voor ons
rewolwer in die hand
hy wil russian roulette speel,
maar ons wil eerder onsself rinneweer
op 'n rock-ritme
soos ons ouers in die voëlvry-rewolusie
maar riool, o riool
hierdie nageslag dans in vuil water
ons dans tot ons ribbes uitsteek
ons dans asof ons ritteltit
tot laat sal ons rinkkink
voel 'n fok wat wie dink
maar riool, o riool
more drink ons die water
en wonder verder oor ons roeping
die bcomm-robotte masjeer na rykdom
die rykdom-riel sal ons almal verniel
ek swot drama
almal wag op my roem,
maar roem is 'n rottang
en ek is nie 'n slaaf nie
riool, o riool
ons roei in riool

                        https://www.facebook.com/bydinie/

The post bl 118 in die afrikaanse woordeboek appeared first on LitNet.

Die Besoeker

$
0
0

Agt uit twintig. Vier uit twintig.  Ag Vader, hoe gaan ek hierdie kinders in die hoërskool kry, dink Christien. Wiskunde is werklik 'n probleem vir die graad sewes. Agtien uit twintig. Dankie, klein Frikkie Joubert. Jy bly 'n staatmaker.

Die gordyn vee oor haar merkwerk en Christien sit haar pen neer en leun oor die lessenaar om die venster toe te trek. Daar is donderweer op pad uit die weste. Miskien kom daar verligting van hierdie helse hitte van die afgelope week. Sy loer tersluiks na die hoofhuis. Die kombuislig brand nog. Haar ma behoort nou besig te wees om op te was. En dan die dodelike roetine om pa te was en reg te kry vir die nag. Goddank dit is nie vanaand haar beurt nie.

Christien voel die verbittering soos gal deur haar gemoed vloei. Alles kom uiteindelik tot niks. Die kanker vreet haar pa op. Die spesialiste kan niks meer vir hom doen nie. Hulle het hom huis toe gestuur om te sterf. Haar eie lewe is daardeur finaal omvergewerp. Sy moes haar onderwyspos by die skool in die stad prysgee om te kom help versorg. Daar was 'n pos beskikbaar op die dorp. Die dorp wat sy soveel jare gelede verlaat het met die voorneme om nooit terug te keer nie. Dieselfde skool, dieselfde haatlike rooi baksteengeboue waar sy twaalf jaar 'n gevangene was. Niks het verander nie. Net die gesigte. Selfs die reuk is nog dieselfde. Nou is sy terug, 'n middeljarige, siniese, geskeide vrou.

Die egskeiding - 'n abrupte beëindiging van 'n kinderlose huwelik van veertien jaar - het haar verlore gelaat. Pieter het geweier om langer met sy skoonma getroud te wees. En gedagvaar. 'n Terapeut, een van vele, het gesê sy moet dit sien as 'n nuwe begin. Maak jou vry van alle bagasie. Maar hoe kan jy jouself vrymaak van bagasie as jy nie die moed het om te kyk wat in daardie swaar koffers is nie? Hoe bevry jy jou van jouself en dit wat jy geword, behalwe deur die dood?

Sy is weer teruggebring Lelie-en-Dal toe, plaas toe. Miskien was dit so bestem. Sy het al soveel daaroor gewroeg. Nagte deur wakker gelê. Haar hart uitgebid. Hoeveel keer het sy nie al gevra: “God, gee my 'n teken. Wys my wie ek is! Is dít waarvoor ek bestem is ...?”

Haar ma se oproep drie maande gelede: “Christien. Jy sal moet kom help. Ek kan nie meer alleen alles hanteer nie.” Dit was die oproep wat sy gevrees het. En die: “... hy is darem jou pa, jy weet ...” en “... noudat jy geskei is ...” wat sy geweet het gaan kom. Sy het geen weerstand daarteen gebied nie. Sy het kom help. Hy is darem haar pa en sy ís in elk geval geskei.

Sy het gehoop sy sal leer om haarself te laat geld. Inteendeel. Haar pa se siekte en sy versorging het haar in haar ma se diens gestel. Sy het nietemin haar intrek in die kothuis geneem.  Teen haar ma se wil. Die kothuis is naby genoeg om te help met die versorging, maar ver genoeg om te ontvlug van haar ma se subtiele stekies. Haar swart gemoed wat nog altyd so maklik aan haar, Christien, afgesmeer het. Haar ma, die ewig dienende Marta. Maar die Marta dien met manipulasie en selfsug. Verborge vir die buitestander wat net die knap, raakvatter-plaasvrou ken. Christien ken die meesterlike emosionele afperser.

Christien staan op om die kothuis se gordyne toe te trek as sy die eerste veraf gerammel van donderweer hoor. Die weerlig is nog ongedefinieer en baai die plaaswerf af en toe in 'n dowwe blou lig met 'n lang tussenpose voor 'n gedempte donderslag volg. Die boerboele begin senuweeagtig om die hoofhuis blaf.  Hulle is bang vir die donderweer en haar ma sal hulle waarskynlik binnekort in die kombuis toelaat. Reën sal welkom wees, maar Christien hoop dat dit tog nie 'n storm is nie. Die laagwaterbruggie oor die spruit op pad dorp toe kan nie veel water verduur nie. Dit het al in die verlede gebeur dat sy twee dae op die plaas gestrand was. Mnr Odendaal het simpatie gehad en voorgestel dat sy vir haar 'n woonstel op die dorp kry. Hy het nie besef hoe graag sy dit sou wou doen nie, maar sy het stilgebly. Hy was beïndruk met haar toegewydheid aan haar ouers se welstand.

Christien se selfoon lui op haar lessenaar. Sy weet dit is haar ma. “Hallo, Ma,” antwoord sy en trek die gordyn op 'n skrefie oop sodat sy 'n uitsig op die hoofhuis se kombuisvenster het. Haar ma se figuur is sigbaar in die venster, selfoon teen die oor. Die kothuis is ongeveer dertig meter van die hoofhuis en Christien kan sien haar ma het reeds haar slaapklere aan. Met haar vry hand klem sy haar japon toe voor haar bors.

“Hier kom 'n lelike weer aan, Stien.”

“Ek kan dit sien, Ma. Ek het die vensters en gordyne toegemaak.” Dis nie hoekom haar ma bel nie. “Is Pa oukei?”

“Ek weet nie wat dit is met hom vanaand nie. Hy is onrustig. Miskien voel hy die weer aan.”  Christien hoor die diep sug en dan: “Ek is so moeg, Christien.”

“Laat weet maar as ek moet kom help, Ma. Ek gaan nog lank besig wees met nasienwerk.” Sy moet haarself bedwing om nie ook te sug nie. Dit kom so maklik. “Ek hoop net die krag hou. En laat tog die boele in. Hulle geblaf maak my gek.” Christien is instinktief spyt oor die geirriteerdheid in haar stem. “Ek sal later kom tee drink,” probeer sy vergoed.

“Moenie moeite doen nie. Ek sal maar by jou pa gaan sit en lees. Miskien maak dit hom rustig.” Weer die sug. “Lekker slaap.”

Die verbinding word verbreek voordat Christien kan antwoord. “Ja, Ma. Goed, Ma,” sê sy in elk geval hardop. Ek is ook moeg. Tot in my siel in moeg. En ek verlang na Pieter.

Sy sit die foon neer en loer na die weste net toe ‘n verblindende weerligstraal die nag in dag verander. Die knal laat haar onwillekeurig die gordyn toeruk. Die krag gaan nie hou nie.  Ag, hemel tog. Sy besef sy het vergeet om kerse van die hoofhuis te bring. Hou op om so negatief te wees, Christien Malan, sê sy vir haarself. Maak jou nasienwerk klaar terwyl die krag aan is. Miskien gaan dit in elk geval nie af nie. En die reën is bitter nodig.

Die wind begin die twee palmbome wat weerskante van die paadjie na die hoofhuis waghou, liggies roer. Christien ken die geluid. Dit stem haar gewoonlik rustig, maar vanaand is daar iets onheilspellend aan die reusetakke se sagte geruis. Sy trek die gordyn weer op 'n skreef oop. Die kombuislig is af. Die boele is stil. Sy trek die hopie nasienwerk nader. Here van genade, help hierdie kinders waar ek nie meer kan nie, dink sy en begin weer te werk.

Die donderslae neem 'n aaneenlopende dreuning aan sonder dat daar weer skrikslae kom. Die reën bly egter weg. Christien sug met die laaste antwoordstel. Nul uit twintig. Moedeloosheid daal soos 'n swaar kombers oor haar neer.  Gelukkig is die marteling nou verby.

Die weerligstraal tref die palmboom met 'n verblindende wit lig. Die slag laat Christien se ore tuit.  Sy is vir 'n oomblik lam. Die krag is uit. Die swart van die nag laat haar paniekerig dink sy is blind. Dan word haar studeerkamer verlig deur 'n volgende slag, ook baie naby. Die weerligstrale begin mekaar vinnig opvolg, oorvleuel, sodat die gedonder sonder tussenposes is. Soos 'n aanstormende golf brullende seewater.

In die blouwit lig van die storm soek Christien vervaard na haar selfoon op die lessenaar. Sy moet haar ma bel. Die gevoel van paniek groei as sy nie die foon kan vind nie. Dit was op haar lessenaar. Waar is dit nou? Dan lui die foon. Die vrolike luitoon is onvanpas in hierdie hellestorm. Christien gryp die foon waar dit onder een van die antwoordstelle verskuil lê.

“Ma! Is julle oukei?”

“Jy moet kom help, Stien.”

“Pa! Is dit Pa?”  Christien voel hoe 'n koue ysterhand haar hart omklem. Asseblief tog net nie vannag nie.

“Nee, Stientjie. Jou pa is nou rustig ...” 'n Donderslag wat die vensters in hul rame laat ratel doof haar ma se stem uit. Iets is fout. Christien kan nie onthou dat haar ma haar al ooit “Stientjie” genoem het nie.

“Ek kan nie hoor nie, Ma! Sê weer!”

“Christien! Jou pa is orraait. Luister vir my! Jy moet kom help ...” Die verbinding gaan dood.

Christien staar na die foon in haar hand. Dit het begin reën. Dit stort neer op die sinkdak van die kothuis in 'n kakafonie van haelkorrels, water en wind. Die selfoon lui weer.

“Ma, wat gaan aan? Waarmee moet ek kom help?!” Christien is na aan histerie. Die wind ruk aan die kothuis se mure en waai die reën en hael kletterend teen die vensters. Sy druk met haar wysvinger een oor toe en hou die selfoon so styf as moontlik teen die ander oor.

“Christien, daar lê ‘n man op die stoep…”

  O, liewe Here, nee!  “Ek kom, Ma!”

Duisend mal gedagtes flits deur Christien se kop as sy instinktief die hoofhuis se agterdeursleutel gryp en die kothuis se deur oopruk. Die volle geweld van die storm tref haar in die gesig. Die yskoue haelkorrels slaan genadeloos oor haar lyf. Die wind ruk die deur uit haar hand en sy los dit oop. Die storm neem gewelddadig besit van die kothuis.

Verblind strompel sy met die geplaveide paadjie na die hoofhuis. Die reuk van swael en rook meng met die reën en wind. 'n Verskroeide palmtak lê oor die paadjie en Christien struikel daaroor. Sy val en ‘n brandpyn skiet deur haar linkerarm. Sy ignoreer die pyn en staan vinnig op. Deurdrenk bereik sy die agterdeur. Nog 'n geweldige donderslag skeur deur die nag en Christien laat val die sleutel. Die deur is nie gesluit nie. Ma moes dit vir haar oopgesluit het. Sy val die kombuis binne en druk die deur weer agter haar toe.

“Maaa!” Christien vee haar nat hare uit haar gesig en probeer fokus op haar omgewing. Die bekende kombuis met die geur van aandete wat nog effens in die lug talm word sporadies blou verlig deur die weerlig. “Maaa! Maaa!” roep Christien weer en vee oor haar oë.

“Ek is op die stoep, Christien!” hoor Christien uiteindelik haar ma se stem.

Die lig van 'n flits skyn in die gang af en sy volg dit na die voorhuis wat uitloop op die groot stoep. Die gevoel van paniek begin haar weer omklem as sy stadig agter die lig aanloop, die lang gang af. 'n Man op die stoep. Wie? Twee weerlose vroue. 'n Sterwende ou man. Wat se weerstand kan hulle bied? Christien besef haar selfoon het in die kothuis agtergebly. Haar ma behoort egter reeds die polisie gebel het. En waar is die boele?

 “Christien, my kind. Goddank jy is hier.”

Christien se ma staan in die oop veiligheidshek wat toegang gee tot die stoep, flitslig in die hand. Sy lig vir Christien tussen die meubels deur. Dit is donker op die stoep. Die weerlig is nou vreemd afwesig. Die reën giet egter nog neer en maak 'n waterval van die stoepdak grond toe. 'n Watermuur wat dit wat op die stoep is, afsluit van die buitewereld.

“Ma, wat gaan aan?” Christien hoor die vrees in haar eie stem deurslaan. Sy wil nie sien wat op die stoep is nie, maar sy voel gedwing om verby haar ma te kyk. Uit op die stoep. Die lig van die flits lei haar blik. Woordeloos verlig haar ma die figuur wat roerloos op die stoep lê.

Die boele het aan weerskante van die figuur stelling ingeneem asof hulle daaroor waak. In die lig van die flits lek die een boel besorg 'n donker hand wat uit die mou van 'n swaar swart jas uitsteek, die arm uitgestrek. Die liggaam lê met gesig na onder, die een been ingevou, die ander uitgestrek. Asof dit uit die lug daar neergevel is. Die gesig is onsigbaar, deels bedek deur 'n iets wat soos 'n skouermantel lyk. 'n Lok gietswart hare lê soos olie blink oor die deel van die gesig wat nie bedek is nie. 'n Swart vloeistof vorm 'n klein rivier van onder die liggaam na waar dit van die stoep af in die gietende reën verdwyn. In die lig van 'n flits is dit onmoontlik om te bepaal of dit water of bloed is.

'n Onverklaarbare gevoel van besorgdheid neem van Christien besit. Die vrees wat haar sekondes gelede in 'n meedoënlose greep gehad het, het saam met die weerlig verdwyn. Sy wil op die stoep uitstorm en die man oplig, sy kop op haar skoot neem. Hom instinktief versorg. Dan voel sy haar ma se hand ferm op haar arm.

“Voel jy dit ook, Christien?”

“Wie is dit, Ma? Waar kom hy vandaan? En die boele ...”

Christien besef dat sy fluister en dat haar ma haar waarskynlik nie kan hoor nie.  Die reën stort nog onverpoos neer. Sy neem die flits uit haar ma se hand en tree uit op die stoep. Sy belig die figuur van sy mantelbedekte hoof, af, tot by die swaar stewels wat sy voete bedek. Die liggaam bly roerloos. Die boele gee eerbiedig en kreunend pad as Christien op haar hurke neersak en versigtig 'n hand op sy skouer laat rus. Die materiaal van die skouermantel voel vreemd onder haar handpalm. Grof maar duursaam. Sy voel terselfdertyd die deining van asemhaling.

“Hy haal asem, Ma. Ons moet hom in die huis kry.”

“Genade, my kind. Die man is 'n reus. Ons twee ...”

“Kom, Ma! Ons moet hom eers omdraai.”  En dan: “Bring vir my twee van die groot kussings in die woonkamer, Ma. Maak gou!” 

Haar ma skarrel die woonkamer binne en kom terug met twee groot opgestopte rusbankkussings. Sy sit dit langs Christien neer en neem weer die flits by haar.

“Laat ek vir jou lig, my kind.”

Versigtig steek Christien haar linkerhand onder die man se nek en lig hom effens op. Met haar ander hand vee sy die lok hare wat sy gesig deels bedek terug en trek terselfdertyd die kap van die skouermantel van sy kop.

Christien se ma snak liggies na haar asem: “Dis 'n swart man, Christien...”

“Dit kon ek lankal sien, Ma.” Die man se gelaatskleur is weliswaar baie donker. Die lig van die flits skyn in sy gesig. Sy oë is gesluit, versluier deur lang wimpers. 'n Dun straaltjie bloed syfer stadig by sy een mondhoek uit. Christien vee dit onwillekeurig af met haar mou.

“Kom ons draai hom om.”

Beide is verbaas oor die gemak waarmee hulle die groot liggaam omdraai op sy rug en sy bolyf teen die kussings lê maak. Sy gesig is nou heeltemal ontbloot. Die twee vroue staar in stille verbasing. Sy gelaatstrekke is fynbesnede, amper vroulik. Sy hare is gietswart lokke wat in nat toue na agter sprei. Bloed begin weer uit 'n mondhoek sypel.

“Hy het baie seergekry, Christien.” Die besorgdheid in haar ma se stem herinner Christien vir 'n oomblik aan haar kleindogtertjie jare. Toe 'n ma nog nie kon verdra dat haar kind seerkry nie.

“Hy hét, Ma. Bring vir my warm water en handdoeke. Loer sommer by pa in of hy oukei is. Ek maak solank sy jas los.”  Dit is nou doodstil. Die reën het opgehou. Die boele maak fyn tjankgeluidjies. Altwee lê met hul koppe op hul voorpote die situasie en betrag.

In die afwesigheid van die flitslig voel-voel Christien na knope om die jas los te maak. Sy vind nie knope nie, maar voel wel vreemde lussies wat die donker jas toe hou. Een vir een vroetel sy hulle los.

 “Hierso, Christien! Warm water en handdoeke.” Haar ma is kort van asem. “Jou pa is wakker.   Hy het my weggejaag. Sê ek moet gaan help. Hemel, my kind, hoe weet hy ...?”

“Ek weet nie, Ma,” val Christien haar ma in die rede. “Lig vir my. Ek het sy jas los.”

Sy vou die jas versigtig oop. Die man se welgevormde bolyf lê ontbloot. ‘n Hemp is vreemd afwesig.   Swart-pers kneusplekke vleg dwarsoor die donker vel. Onder die haarlose linkerbors vloei bloed stadig uit 'n ronde gat wat met swart omsoom is. Sy hele maag is met bloed besmeer. Sy broek is vasgebind met ‘n gevlegde leergordel wat in ‘n knoop vasgemaak is. Ook dit is donker van die bloed.

“Hy is geskiet, Christien. Dis 'n koeëlwond daardie.”  Haar ma wys met die flits na die wond.

Christien voel trane onwillekeurig uit haar oë wel as sy die omvang van die man se beserings aanskou. “Wat het met jou gebeur? Wie het dit aan jou gedoen?” fluister sy. Haar ma sit 'n nat warm handdoek in haar hand.

“Vee die bloed af, my kind.”

“Hy het 'n dokter nodig, Ma.” Christien besef dat geen dokter naby die plaas gaan kan kom na die storm nie. Sy druk die handdoek saggies teen sy vel. “Ons moet die bloeding stop.” Sy neem 'n verband by haar ma en druk dit ferm teen die wond. “Pleisters, Ma.”

Saam versorg ma en dogter die wond. Die man prewel iets onverstaanbaars as Christien sy gesig afvee, die lang swart hare alles na agter vee. Sy hou haar oor teen sy lippe, maar hy is weer stil.

“Ons moet hom nie weer beweeg nie, Ma. Ek is bang ons maak hom nog verder seer.” Christien talm 'n oomblik. “Bring komberse. Ons moet hom warm hou deur die nag.”

Met die komberse stewig oor hom gewikkel staan Christien op. Die boele kom weer nader en gaan lê aan weerskante van die man se bene, koppe op die voorpote. Weer op hul wagposte.

“Ek sal by hom bly, Ma. Gaan na pa toe.” Sonder ‘n woord gee Christien se ma vir haar die flits en druk dan haar hand met altwee haar hande.

Die nag is amper doodstil. Die gedreun van die spruit in vloed is hoorbaar in die verte. Christien gaan lê sag langs die man. “Here, help hierdie man deur die nag. Ek weet nie wie hy is nie,maar moenie dat hy sterf nie …  Asseblief, my Hemelse Vader, ” bid sy saggies. Die twee boele kreun saam: “Amen.”

Die son skyn helder en warm. Sy staan in ‘n veld met ‘n ligte wind wat deur haar hare waai. Dit waai haar hare oor haar gesig. Sy vee dit weg en dan staan die man voor haar.  Hy is in wit geklee. Dit kontrasteer met sy donker gelaat. Die wind waai sy lang swart hare na agter. Sy is nie bang nie. Hy neem haar hande in syne en streel dan met sy een hand oor haar voorarm waar die rooi skaafmerke van haar val oor die palmtak opgehewe lê. Hy kyk in haar oë. Nee, hy kyk deur haar oë. Na daar waar al haar geheime en vrese weggesteek is. Haar diepste binne-siel. Daar is ‘n sagte glimlag op sy lippe. Sy voel so veilig. Sy is weer ‘n kind. Haar lewe lê voor haar uitgestrek soos ‘n roetekaart. Orals is daar rooi vlaggies.

Die man neem haar hand en hulle stap deur haar lewe. Sover hulle stap maak hy die rooi vlaggies bymekaar en gee dit vir haar om vas te hou. Sy probeer die vlaggies vashou teen haar lyf, maar die rooi vlaggies word wit en verdwyn.  Die vlaggies word al hoe minder en verder uitmekaar. Die man los haar hand en sy maak self die enkele rooi vlaggies bymekaar. Sy besef hy loop al hoe verder voor haar uit. Sy volg hom, maar sy kan hom nie inhaal nie. Daar is nie meer rooi vlaggies nie. Die vlaggies is nou almal wit.

“Christien!  Christien, word wakker!” Christien besef sy het aan die slaap geraak. Sy wil nie wakker word nie. Sy steek outomaties haar arm uit en voel oor die kussings. Die man is weg. Die boele blaf luid by die hoenderhokke. Die dag breek rooi in die ooste. Haar ma staan in die deur van die voorkamer met haar selfoon in haar hand. Sy lyk ontsteld.

“Waar is hy, Ma?”

“Ek weet nie, Stientjie. Maar oom Koos Tooi het nou net gebel. Die polisie is daar by hom.  Hulle wil weet of ons oukei is.”

Christien is heeltemal wakker. Sy spring op. Die komberse lê netjies opgevou eenkant. Die enigste teken van die man se teenwoordigheid is die ingeduikte kussings. Die handdoeke lê bloedloos skoon langs die komberse.

“Oom Koos sê daar was ‘n helse ongeluk onder by die bruggie. Die polisie weet self nie wat gebeur het nie. ‘n Kar lê in die vloedwater. Hulle het twee lyke langs die spruit gekry. Altwee met vuurwapens.” Christien se ma is uitasem gepraat.

Sy haal diep asem en haar stem is bewerig as sy voortgaan: “Die kar het ingedraai Lelie-en-Dal toe, Stien. Die spore wys dit, sê die polisie. Maar hulle weet nie hoe die kar in die spruit gekom het nie. Die spore in die modder …” Sy haal weer diep asem. “Daar is nie karspore verder nie. Dit lyk of die kar in die spruit gegooi is. Daar is ook baie geskiet. Die wêreld is blykbaar besaai van die patroondoppies.  Dit was plaasaanvallers, Christien!”

Christien druk haar ma sagkens opsy en stap die huis in.  Haar ma praat onophoudelik. Haar pa het sy morfiendrup uitgetrek. Hy sit regop in die bed en lees Bybel. Hy sê sy moet Hebreërs 13 vers 2 lees.

Christien luister nie meer nie. Sy stap die lang gang af. Haar vinger trek ‘n onsigbare streep teen die muur. Deur die kombuis na buite. Die vroeë oggendson verf die plaaswerf in helder vars somerskleure. Sy trap oor die palmtak in die paadjie en is intens bewus van die vrolike gekwetter en gesing van die voëls. Die reuk van nat grond styg soos stoom om haar op.

Die kothuis se deur staan nog oop. Totale chaos heers binne. Nat antwoordstelle is oral rondgewaai. Een antwoordstel is saam met ‘n spul nat blare teen haar kamerdeur vasgewaai. Sy haal dit af. Frikkie Joubert. Agtien uit twintig. Christien glimlag en rol die bladsy in ‘n rolletjie op. Sy maak haar kamerdeur oop. Haar kamer is ongeskonde. Sy gaan lê op haar bed met die antwoordstel op haar bors vasgehou. Sy vryf  ingedagte oor haar linkerarm. Sy voel ’n ligte  litteken waar die lelike skaafmerk was.

“Welgeluksalig.” So, dit is hoe dit voel, dink sy. Sy lê ‘n oomblik nog die saligheid en indrink en onthou dan iets wat haar weer laat glimlag. Die man het nie ‘n naeltjie gehad nie …

The post Die Besoeker appeared first on LitNet.


Einstein-kompetisie: Wenners

$
0
0

LitNet Akademies kondig hiermee die drie wenners van die Einstein-kompetisie aan.

Die algehele wenner van die kompetisie is Anneke Schoeman, ’n entomologie-honneursstudent aan die Universiteit van Pretoria. Haar inskrywing het skoonskip gemaak met stemme deur al sewe beoordelaars. Die tweede prys is toegeken aan Wynand Goosen, ’n TB-navorser aan die Universiteit Stellenbosch, en die derde prys aan Theunis Smit, ’n doktorsgraadstudent in plantproduksie aan die Universiteit van Pretoria.

 

anneke_weninskrywing.jpg Anneke Schoeman
Eerste Prys: R10 000

Ek is 'n entoesiastiese entomoloog wat daarin belangstel om die velde van natuurwetenskap en die lettere met mekaar te versoen. 

Tans is ek by die Miskruiernavorsingsgroep van die Universiteit van Pretoria besig met my honneursprojek oor die spesiasie van miskruiers op grond van hulle chemiese ekologie terwyl ek deeltyds ook by Tukkies tale studeer. Dit is my droom om eendag my wetenskaplike en taalkennis saam te smelt en aan te wend om 'n belangstelling in en liefde vir die wondere van die natuur by Jan Alleman te kweek.

Vir meer inligting rakende my navorsing en dié van my mededierkundiges, besoek gerus ons departementele webwerf.  

 

wynand_weninskrywing Wynand Goosen
Tweede Prys: R5 000

Wynand is 27 jaar oud en in die finale jaar van sy doktorsgraad. Gedurende sy studies het hy beduidende bydraes tot TB-navorsing in grootwild gelewer. Hy het sy meestersgraad opgegradeer na 'n doktorsgraad en is die hoofskrywer van etlike publikasies:

cvi.asm.org/content/22/8/974.full
www.sciencedirect.com/science/
article/pii/S0165242716300381

• www.sciencedirect.com/science/
article/pii/S0165242714000816

www.sciencedirect.com/science/
article/pii/S0165242714002463

onlinelibrary.wiley.com/doi/
10.1111/tbed.12436/full
 

 

theunis_weninskrywing.jpg Theunis Smit
Derde Prys: R2 000

Ek is 'n doktorsgraadstudent aan die Universiteit van Pretoria en my studies aan die universiteit behoort my vir ongeveer drie jaar besig te hou, maar my passie vir navorsing sal altyd uitgeleef word.

Ek is ook 'n tegniese adviseur vir makadamiaboere in die Laeveld en in KwaZulu-Natal, wat my die geleentheid bied om navorsing te doen wat werklik bydra tot landbou en wat nie net daarop gemik is om in 'n mooi gedrukte proefskrif op my ma se koffietafel te wees nie.

Ek is ook die alleeneienaar van 'n agterplaas-spekboomplantasie wat tot dusver nog geen spek opgelewer het nie. In my vrye tyd probeer ek uitvind hoekom nie ... 

 

LitNet Akademies 

Die LitNet Akademies-beoordelaarspaneel het die kortlys van 30 inskrywings op grond van helderheid, gehalte, formulering asook kreatiewe aanbieding beoordeel. Etienne van Heerden, hoofredakteur van LitNet Akademies, het gesê dat dit lekker was om te sien hoe jong navorsers hul belangstellingsvelde verken en boonop in staat is om hul navorsingswerk vindingryk op te som:

Die wye spektrum (van regskwessies tot biologiese verskynsels tot geskiedenis) wat jongmense bekyk, beeld mooi uit hoedat elke generasie die grense van kennis versit. Vir my as beoordelaar was Anneke Schoeman se studie van miskruiers se geflikflooi ook die gunsteling. Baie geluk aan die wenners en dankie aan al die deelnemers. Ons hou duim vas vir ons jong navorsers.

Ontmoet die beoordelaars van die Einstein-kompetisie:

Etienne van Heerden, hoofredakteur
Naomi Bruwer, redaksionele bestuurder
Francis Galloway, Geesteswetenskappe-redakteur
Pieter GR de Villiers, Godsdienswetenskappe-redakteur
Estelle Kruger, Opvoedkunde-redakteur
Dirk Laurie, Natuurwetenskappe-redakteur
Johann Neethling, Regte-redakteur 

Ontmoet die Einstein-kompetisie-span:  

Imke van Heerden, konsep, projekbestuur en produksie
Nicky Grieshaber, taaladviseur    

la600einstein

 

The post Einstein-kompetisie: Wenners appeared first on LitNet.

LitNet: Jou jong Einstein

Mense agter boeke: Leana Lategan, Museumgeesteswetenskaplike by NALN

$
0
0

Leana Lategan, die eerste Museumgeesteswetenskaplike by NALN (Nasionale Afrikaanse Letterkundemuseum en Navorsingsentrum), gesels met Jaco Botha.

Vertel asseblief van jouself?

Wanneer ’n mens “oud genoeg” word, begin jy maklik die frase “in die goeie ou dae” gebruik (hulle was natuurlik allesbehalwe goed).

Nou ja, in die “goeie ou dae” is ek gebore op 6 April, oftewel Van Riebeeckdag. (Omdat ek in 1974 ’n Vrystater moes word, is ek tot met die geskiedkundige 1994 elke jaar op die 6de met ’n kanonsaluut vanaf Bloemfontein se Naval Hill met my verjaardag gelukgewens. Ná 1994 was my vakansiedag daarmee heen, en die salvo ook. Poetic justice het egter gesorg dat 27 April ’n vakansiedag geword het, en ek dus steeds in April kan verjaar én rus.) My geboorteplek was Upington, ’n dorp wat in daardie jare (1955) 13 myl langs die Oranjerivier gestrek gelê het. Ek dink die waterslang van die Grootrivier (soos die Oranje ook onder sy bewonderaars bekendstaan) het my getoor, want in my kop het ek nooit oud geword nie: Ek het vasgehaak by Siembamba en Liewe Heksie en tannie Bep se stories, en min of meer gevorder tot “Sus en Daan”.

Toe ek vier jaar oud was, het ons Springbok toe getrek. Daar is my enigste broer gebore, en het die blomme (waarvan onder andere George Weideman en Thomas Deacon so pragtig skryf) by die waterslang se roersels oorgeneem. Op een van ons Sondagmiddagstaptogte in ’n droë rivierbedding net buite die dorp het my pa my ’n skilpaddop gewys – wat ek dadelik wou optel en saamneem, maar my pa het belowe ons sal dit tydens ’n volgende keer doen. Dit het natuurlik nie gebeur nie, en ek het met ’n verdere fassinasie opgeskeep gesit: skilpaaie.

Matriekklasfoto

Ek het matriek geskryf aan die Hoërskool Upington, waar ek en die later bekende skrywer Louis Krüger klasmaats was. Dis ook vir my vreeslik lekker dat daar ánder Afrikaanse skrywers is wat ’n emosioneel-kreatiewe verbintenis met my geboortewêreld gehad het: Engela van Rooyen, George Weideman, Thomas Deacon, Gerhard Beukes, Dricky Beukes, Gretha Sauerman, Annamarie Scheepers ... En so op die kantlyn die Hobsons en Sangiro, en sekerlik nog baie ander. Mense sonder wie ek my my lewe nie kan indink nie, is my ouers, my man Pieter (wat in 2003 oorlede is en ook by NALN gewerk het, as kunstenaar); verder my seun Heinrich, wat met musiek kan toor; en nou ook my verloofde Pieter, my buurman (maar dis ’n ander storie).

Vertel ons van NALN, en wat presies julle doen?

NALN is die akroniem vir die Nasionale Afrikaanse Letterkundemuseum en Navorsingsentrum en het in 1973 tot stand gekom met PJ Nienaber aan die stuur van sake. Soos die naam aandui, is die versamelveld dié van die Afrikaanse letterkunde, en sluit dit die kreatiewe skryfkuns in sy heel breedste vorm in. Besoekers en navorsers beland hier letterlik in ’n paradys van woorde, want hulle het toegang tot die gepubliseerde teks sowel as allerlei dokumente wat daarmee verband hou. Vir die nuuskieriges, en diegene wat biografies na ’n bepaalde skrywer wil kyk, is daar fotomateriaal, korrespondensie en, in baie gevalle, ook persoonlike items wat die leefwêreld van daardie skrywer binne tydskonteks plaas. Al die verskillende museologiese funksies kry binne die museum aandag: insameling, ontsluiting, navorsing, bewaring, en daarná die beskikbaarstelling van materiaal en die ontwerp en inrig van uitstallings.

Wat is julle grootste uitdagings?

Ons grootste uitdagings lê juis in die feit dat ons ’n gebrekkige personeel-infrastruktuur het: ’n kritieke tekort aan professionele en vakkundige mense, juis omdat hierdie tipe werk vakkennis vra. Ander leemtes bestaan ten opsigte van proaktiewe insameling en noodsaaklike skrywersbesoeke; die opspoor en vaslê van mondelinge vertellings; en die byeenbring van skryfwerk wat digitaal geskep word. Ons behoort ook aandag te kan gee aan uitgawes van tekste deur private persone en kleiner uitgewers, iets wat ons tans nie kan doen nie, juis vanweë te min werkers. Hierdie is maar enkele leemtes, en slegs ten opsigte van die versameling. Dan het ’n mens nog nie die finansiële implikasies en praktiese probleme wat met elke bedryf saamgaan, aangeraak nie.

Gelukkig het ons onlangs weer die sogenaamde Vriende van NALN in die lewe geroep en is daar ook mense wat op ’n praktiese en vrywillige wyse hulp aanbied met dinge waarby ons nie sou kon uitkom nie. Wanneer ons byvoorbeeld skrywersgeleenthede aanbied, of boekbekendstellings, is hulle die hande wat raakvat. Hulle organiseer en help ook met die bedryf van ons Boekemark in die Kelder, waar tweedehandse boeke verkoop word.

Waar kom jou liefde vir boeke vandaan? Vertel ons so ‘n bietjie van jou kinderjare? Wie was jou gunstelingskrywers en watter boeke het 'n invloed op jou gehad?

Ek was van stories bewus lank voordat ek van lees geweet het. My ouers was gebore storievertellers. My ma was die een wat elke keer ’n splinternuwe “Jakkals en Wolf”-verhaal uitgedink het, of ’n sprokie vertel het, of saam met my in knoetserige boomstamholtes na dwergies en feetjies gesoek het. Sy’t ook vir my familiestories oor die Boereoorlog en die Rebellie, waarin my oupa geveg het, vertel. My pa het, baie lank voordat Sue van Waart haar Swartberg-kontreiverhale opgeteken het, vir my die allermooiste ware verhale van die soms vreemde bewoners van Prins Albert, Die Hel (Gamkaskloof) en die Swartberg vertel. En albei my ouers was lesers, met die gevolg dat daar altyd boeke was. My eerste storieboek-ervaring was my ma se voorlees uit wat ek die Bokkie-boekie genoem het. Bokkie die Grysbok, deur Dorothy Bagnall geskryf en deur Anna Rothmann, TaMiem (MER) se dogter, in Afrikaans vertaal, is in 1962 gepubliseer. My ma het hierdie boekie oor ’n veldbrand en die verwoestende gevolge daarvan voos gelees. Soos sy ook AG Visser se getoonsette gedig “Amakeia” weer en weer en weer moes sing, want die balladeagtige aard van die gedig het my gefassineer en bekoor.

Toe ek eers self kon lees, was die ontdekking van boek ná boek, in Audrey Blignault se woorde, ’n “eindelose avontuur”. Ek het op besproeiingsgrond langs die Oranjerivier grootgeword, wat beteken het dat Upington, en gevolglik die openbare biblioteek (’n baie goedtoegeruste een!), slegs een keer per week, wanneer ons “dorp toe” gegaan het, besoek kon word. Aanvanklik het ek al wat ’n sprokiesbloemlesing is, verslind. Toe Marita van der Vyver se blitsverkoper Griet skryf ’n sprokie dekades later in my hande beland, was ek beïndruk met die wyse waarop sy die doodgewone sprokie in die gedaante van ’n roman kon laat verskyn. Hoewel ek ook reeksboeke soos die Uile van Cor Dirks en die Mientjie-reeks gelees het, en Saartjie en Trompie en Die Swart Kat my ’n rukkie besiggehou het – ek het gehou van die idee dat daar steeds nóg ’n boek lê en wag! – het ek spoedig ’n ander opwindende weiveld ontdek, naamlik dié van die vertaalde boek. Een van my boekpryse op skool in daardie tyd was Nicholas Kalashnikoff se jeugverhaal Turgen die Beskermer. Jare later, in NALN, het ek ook sy roman Tojon te lese gekry (die beste verhaal ooit oor ’n hond).

Een van die boeke wat Krismisvader vroegtyd vir my gebring het, was Ou Mi’kai vertel. Dié boekie, deur Pieter W Grobbelaar, het my ore oopgemaak vir ritmes en klank in prosa. Vandag nog, wanneer ek Etienne van Heerden se 30 Nagte in Amsterdam lees, of Audrey Blignault se essays, of E Kotze se kortverhale (om maar drie voor die hand liggende voorbeelde te noem), is ek verstom oor die wyse waarop die skrywer van ’n prosateks dit kan regkry om soveel klánk in hulle sinne te kry.

Twee vertaalde jeugverhale wat ek jaarliks herlees, is Die baai van die swart bote (Barbara Bartos-Höppner) en Waar die towerhaselaar groei (Vera en Bill Cleaver). Albei boeke het onder meer verlies en armoede as tema, maar dis só mooi geskryf dat ’n mens eintlik net ’n gevoel van vreugde en voldaanheid oorhou wanneer jy die boek weer toemaak.

Vertaalde jeugboeke wat 'n indruk gemaak het

Die jaar toe ek toegelaat is om aan die “grootmenskant” van die biblioteek boeke uit te neem, was ’n droewe keerpunt, en ek moes formeel toestemming vra om steeds kinderboeke te mog uitneem; daar was gewoon te veel om nog te lees. Tuis was daar buitendien genoeg om my mee besig te hou: Daar was vakliteratuur in my ouers se boekrak, en ek het met groot belangstelling die boek oor regspraktyk en -teorie gelees. Ek het CJ Langenhoven se boerewysheid slim en bruikbaar gevind, en graag sy essays gelees. Brolloks en Bittergal kon ’n mens in elk geval beter verstaan eers wanneer jy ouer was. Verder het ek, met woordeboek byderhand, probeer om Pride and prejudice te lees en dit, om die heel minste te sê, vermoeiend gevind. Ook Wuthering Heights was aanvanklik moeilik, maar het ’n “towerboek” geword toe my man, Pieter, dit ’n paar jaar later een aand presies om twaalfuur (op pad na Upington vir ’n vakansie by my ouers) kort anderkant Groblershoop vir my as ’n Kerfeespresent gegee het, kompleet met die woorde van die gelyknamige liedjie van Kate Bush voorin geskryf.

'n Persoonlike brief van Nan Henning aan Leana Lategan

Vertel ons meer oor jou studies en watter skrywers en boeke toe 'n invloed op jou lewe gehad het? Enige spesifieke aanhalings uit boeke wat jou bybly?

Ek het in 1974 as plattelandse kind in Bloemfontein aangekom om musiek te studeer aan die Universiteit van die Oranje-Vrystaat, vandag die Universiteit van die Vrystaat. Na ’n onsuksesvolle jaar, waarin hierdie droom skipbreuk gely het, het ek van studierigting verander, en was in 1977 die eerste student wat ’n BA Tale-graad by Kovsies ontvang het. Die volgende jaar doen ek ’n BA Tale Honneurs, met Duits as hoofvak, en wysbegeerte.

Drie boeke wat ’n besonderse invloed op my gehad het gedurende my studiejare, was Hettie Smit se ikoniese briefroman Sy kom met die sekelmaan, Jan Rabie se kortverhaalbundel 21, en Goethe se Die Leiden des jungen Werthers. Al drie hierdie tekste, wat in daardie jare waarskynlik hoofsaaklik emosioneel aanklank by my gevind het, sou later, in NALN, binne groter konteks verstaanbaar en belangrik word: Hettie Smit en Rabie as enig in hul soort in Afrikaans, en Goethe se werk wat op een of ander wyse in talle Afrikaanse skrywers se werk ’n eggo gehad het. Franz Kafka se werk het my heeltemal uitgeboul, en tot vandag toe is Gregor Samsa en die soekende man van Der Prozess karakters wat in my kop leef. Ek het in daardie jare ook André P Brink se Aspekte van die nuwe prosa en Aspekte van die nuwe drama ontdek, en dit dikwels herlees. Brink het, soos JC Kannemeyer en TT Cloete later, vir my die wêreld van Afrikaans oopgemaak, en ek het vinnig weer op die “vertaal-wa” van veral Rabie en Brink geklim, en begin om hulle vertalings, veral uit Frans, te lees. Dít is hoe ek die jeugverhaal Verlorevlei ontdek het, waaruit een enkele sin my tot vandag toe steeds bekoor: “Agter die huis se vensters word die nag langsaam gebore.”

Vertel ons van jou loopbaan? Waar het dit begin? Wat was van die hoogtepunte in jou loopbaan?

En dit is natuurlik waar die skatkamers van NALN nou ter sprake kom. Want hoewel die museum ’n staatsinstelling is, is elke dag so lank en so vol as wat ’n mens dit wil maak, en elke item in die versameling ’n potensiële navorsingsbron. In 1979, nadat ek rêrig hard probeer het, kry ek ’n pos as klerklike assistent hier. My werk was om heeldag fotostate te maak. Met prof PJ Nienaber aan die stuur was dit ’n über-voltydse werk: ’n mens begin soggens halfagt by die fotostaatmasjien, en teen vieruur mag jy daarvandaan huis toe gaan. Dit was sewe maande lank my werk. Daarna het ek vakkundige werk begin doen, soos navrae beantwoord en navorsingsmateriaal ontsluit, besoekersgroepe ontvang, en skoolprogramme doen. Uiteindelik, na ’n jaar, het ek in die pos beland waar ek steeds is, en waar ek enigiets doen wat met Afrikaanse boeke te make het. Dit moet die lekkerste werk op aarde wees! Om elke dag met boeke van elke denkbare aard en inhoud te werk, beteken dat ’n mens toegelaat word om in die mees intieme emosionele en kreatiewe denkruimte van die skrywer te mag vertoef. Dit impliseer verder dat jy die verpligting opgelê word om eties en omsigtig met daardie skrywerspersoonlikheid en sy werk om te gaan. Ten laaste dwing dit jou om aan te gee wat jy lees en ontdek, en om dit op so ’n wyse te doen dat jou gehoor alleen die maatstaf is.

My werkinhoud is hoofsaaklik gerig op navorsing binne die versameling in NALN, en bronne sluit dus in boeke, foto’s en ander beeldmateriaal, tydskrifte en koerante, alle tipes dokumente in ’n skrywer of uitgewer se versameling en, uiteraard, ook alle driedimensionele items in so ’n versameling. Die doel met hierdie tipe navorsing varieer na behoefte. Daar word uitstallings gemaak met skrywersaangeleenthede as tema of uitgangspunt; ek skryf artikels of koerantberigte; doen radiopraatjies oor bepaalde onderwerpe; of doen leeswerk met die oog op ’n spesiale geleentheid wat aangebied word. Verder is ek baie besig met leeskringbesprekings; tree ook op wanneer ons huldigingsgeleenthede vir skrywers aanbied, en besoek skole en ander geïdentifiseerde teikengroepe met interessante en toepaslike bemarkingsgesprekke. Ek het ook ’n Bloemfonteinse boeketoer ontwikkel, waartydens die reeds meer as 150 Afrikaanse skrywers wat op een of ander wyse met die stad verbind kan word, aan die publiek bekendgestel word.

Die foto van Jan Rabie, Robert Pearce, Marjorie Wallace en Vernon February is in 1993 geneem tydens ’n skrywersgildeberaad wat buite Bloemfontein by Maselspoort gehou is. Die fotograaf was Jakkie Pretorius wat desjare NALN se amptelike fotograaf was.

’n Blywende bonus en hoogtepunt in elke dag se werk is natuurlik die feit dat ek moet “lees vir ’n lewe”. Daar kan geen groter vreugde (én uitdaging!) wees as om tussen die werk van skrywers soos Ingrid Winterbach, Etienne van Heerden, Deon Meyer, Dan Sleigh, Chris Karsten, Willem Anker en al die nog lewendes te pendel nie. Dan het ek nog nie eers genoem van die skrywers wat reeds dood is, en van wie ons nou slegs hulle boeke te lese oorgehou het nie. En ek praat van álle Afrikaanse skrywers, van Ena Murray tot Ernst van Heerden. Want by NALN mág ons, en moet ons, hulle in dieselfde asem noem. As leser en navorser het ek hier die verantwoordelikheid om die vergrootglas reg te gebruik; om te weet watter hoek ek wanneer moet probeer belig. Ek het ’n jaar of wat gelede as eksperiment JC Kannemeyer se Afrikaanse Literatuurgeskiedenis (albei bande) weer deurgeblaai, en was verstom om te ontdek hoeveel van daardie skrywers ek persoonlik kon ontmoet. Baie van hulle aan huis, en in gesprekke wat langer eerder as korter geduur het. ’n Mens is nooit weer dieselfde nadat jy by Ina Rousseau, of Petra Müller, Freda Linde, Jan Rabie, TT Cloete, PW Buys, Dot Serfontein, ens ens gekuier het nie, of hulle in NALN kon ontmoet nie.

’n Verdere hoogtepunt is die daaglikse moontlikheid van ontdekking: ’n foto, ’n manuskrip, ’n vergete of minder bekende skrywer se werk, ’n tydskrif uit vergete tye. En die speurtog wat daarmee op tou gesit kan word, sodat daardie vergeelde kennis op ’n vars manier by ander lesers, ouer maar ook jonger, kan uitkom. Dis ook my boodskap vir lesers: om ontvanklik te wees vir die groot verskeidenheid boeke wat op ons rakke beland; self te koop, onderling uit te ruil, daaroor te praat ... veral met jonger (potensiële) lesers. En ’n boodskap vir skrywers? Nee sjoe, so aanmatigend durf ek nie wees nie! Ek sou net vir elkeen wat hierdie werk doen, ’n persoonlike DANKIE wou sê!

Leana Lategan

Behalwe boeke, wat is die ander passies in jou lewe? Gee ons asseblief 'n bietjie meer persoonlike blik op jou lewe.

Passies? Baie min, en eenvoudig. Enigiets wat met die see te doen het; musiekkonserte; om ’n perfekte koek te kan bak; om kinderboekillustrasies te bestudeer; om die liefde te behou.

Ek is ’n wenser: ek wens ek kon Marthinus Versfeld ontmoet; ek wens dit was ék wat 30 Nagte in Amsterdam geskryf het, of die boenk uitgedink het, of vir Kupido Kakkerlak “die woord van God” laat eet het ... En ek wens my hart bly oop vir als wat ek nog wil lees, en daar bly iemand oor vir wie ek daarvan kan vertel!

Wat is jou top 10 boeke van alle tye? En wat het hierdie boeke oor die algemeen na jou lewe gebring?

My top 10 boeke sal Afrikaans moet wees, en ek sal boete doen vir dié wat ek nie noem nie:

Die swye van Mario Salviati (Etienne van Heerden)

Van eensame mense (Elise Muller)

Fees van die ongenooides (PG du Plessis)

Bidsprinkaan (André P Brink)

Moerbeibos (Dalene Matthee)

Agaat (Marlene van Niekerk)

Die laaste Afrikaanse boek (Karel Schoeman)

My beskeie deel (MER)

Draaijakkals (George Weideman)

Bloemfontein. Die ontstaan van ’n stad 1846–1946 (Karel Schoeman)*

(*Aangesien laasgenoemde ’n niefiksiewerk is, kan ek dalk ’n 11de boek inglip: Waar die towerhaselaar groei” van Vera en Bill Cleaver, en saam hiermee al die “Kadette” en “Klein Kadette” en “Libri’s”, en al die ander vertalings in Afrikaans, waarvoor ons ons begaafde skrywers moet bedank ... soos vir Daniel Hugo se Nege oop arms en Die hemel van Heivisj).

Die gemene deler van hierdie keuse is vir my die wyse waarop die skrywers hulle karakters hanteer en die brose web van menseverhoudings weef. Daarom bly dit ook boeke wat ek telkens weer sal herlees: ’n mens se emosionele ontwikkeling dikteer jou kompas vir sinvol lees, en hierdie handvol tekste lees elke keer ánders!

  • Erkenning aan Amanda Groenewald vir hulp met die foto's in hierdie onderhoud gebruik

The post Mense agter boeke: Leana Lategan, Museumgeesteswetenskaplike by NALN appeared first on LitNet.

Blankes sal Suid-Afrika gedwonge moet verlaat aldus Mnr De Klerk

$
0
0

“Many whites will be forced to leave the country - FW de Klerk” Dié ontstellende opskrif verskyn bo ’n berig wat 26 Augustus 2016 in News 24 geplaas is. Na bewering het Mnr de Klerk ondermeer gesê dat:

Johannesburg - Many white South Africans will be forced to leave the country under the current government's policies, former president FW de Klerk said.

"We have to face the unpalatable fact that our present government has adopted policies that are consciously directed toward harming the core interests of a section of the South African population according to their race," De Klerk told attendees during the launch of the Centre for Unity in Diversity.

De Klerk criticised the government's BBBEE and affirmative action policies, saying that they were incrementally limiting the economic and cultural space within which minorities can operate.

"The ultimate goal is a society in which land, jobs, power and wealth will be allocated according to racial compositions of the population. The lives of citizens will once again be determined by race not merit."

De Klerk said this was bad news for minorities who comprise of 26% of the population.

"Their share of the wealth, job and land will decline commensurately over the next 30 years. As the BBBEE noose tightens, it may become increasingly difficult for white South Africans to find employment... Inevitably, many will be forced to leave South Africa."

Mnr de Klerk het bygevoeg dat die onlangse verkiesingsuitslae ’n bemoedigende teken is dat mense wegbeweeg van ras gebaseerde politiek en meer stem volgens hul politieke oortuigings.

Die vraag wat ek myself  afvra is of  Mnr de Klerk  nie eerder moes bygevoeg het dat die ANC se beleid  regstreeks bots met die ideale wat in die ‘Voorwoord’ van die grondwet vervat is nie en of die stappe wat die regering neem om historiese ongelykhede uit die weg te ruim nie ook in stryd daarmee is nie.

Ja stappe mag geneem word maar dan mag dit nie ten koste van ander gedoen word nie, want dan is ons presies terug in die verlede.

Die ‘Voorwoord’ bevat die volgende ideaal :’Improve the quality of life of all citizens and free the potential of each person (kursivering myne).

Indien blankes dus gedwing word deur ‘n regeringsbeleid  om hul potensiaal in ’n ander land te ontwikkel bots dit myns insiens direk met die ideaal vervat in die ‘Voorwoord’ tot die grondwet.

 

The post Blankes sal Suid-Afrika gedwonge moet verlaat aldus Mnr De Klerk appeared first on LitNet.

Teaterresensie: Joseph and the amazing technicolour dreamcoat

$
0
0

 

Foto verskaf

Joseph and the amazing technicolour dreamcoat ... Ek was in die gehoor toe ’n baie jong Earl Gregory in 2005 sy teaterdebuut in dié produksie – Andrew Lloyd Webber en Tim Rice se eerste megatreffer – gemaak het.

Earl (Cats, Sweeney Todd) is weer Joseph, die rol wat hom 11 jaar gelede ’n Naledi-toekenning vir beste manlike nuweling besorg het. Die Kaapstad-speelvak kom ná uitverkoopte vertonings in Johannesburg, waarheen dit ná die Kampsbaai-speelvak sal terugkeer.

Bianca le Grange (Blood Brothers, Idols 2004) is die verteller, en die veelbekroonde Jonathan Roxmouth (Sweeney Todd, The phantom of the opera, Cats, Sunset Boulevard, A handful of keys, I’m playing your song) is Pharoah.

Mens kan voel as die ligte vir die eerste bedryf doof hoe die statiese elektrisiteit op die stoele ronddans. Die hele rolverdeling is uitstekend; in geen dans of sang steek enigiemand lyf weg nie. Almal geniet hulle gate uit, ten spyte van die feit dat hulle al weke lank elke aand dieselfde storie vertel.

Die gehoor is ontvanklik vir dié nuwe bygewerkte weergawe van die klassieke storie.

Earl is allesbehalwe ’n nuweling aan die begin van sy loopbaan in hierdie produksie. Hy het sy diepte en sterkte ontdek en is ’n akteur vol selfvertroue wat die rol van Joseph baie oortuigend vertolk.

Die liedjies is lekker saamsing en met “Jacob and sons”, “Poor, poor Joseph” en “Go, go, go Joseph” in die eerste bedryf sing en klap die gehoor ywerig saam.

Pieter Toerien het weens beperkte ruimtes in sy teaters in Johannesburg en Kamspbaai, in 2004/2005 die tradisie van “bonsai”-produksies begin. Met die aanvanklike produksie het ek gevoel die verhoog is te klein vir die akteurs en stel, maar met hierdie ronde is alles ruim, en die choreografie deur Duane Alexander verseker dat daar nooit soveel op die verhoog aangaan dat jy nie weet waar om te kyk uit vrees dat jy iets sal mis nie.

Die produksie is gegrond op die Bybelse storie van Josef en sy veelkleurige kleed – die bewys dat sy pa, Jakob, hom bo sy ander broers liefhet – wat deur sy broers as slaaf verkoop word en in Egipte vir die miljoenêr Potifar werk. Die broers vertel vir hul pa dat Josef dood is en wys sy bebloede kleed aan Jakob. Josef se vermoë om drome uit te lê is een van die redes hoekom sy broers hom nie kon verdra nie; maar kom tot sy redding toe Potifar se vrou hom probeer verlei en Potifar hom in die tronk gooi. Hier ontmoet hy twee ander gevangenes en hy lê hul drome uit.

Sy pad kruis met dié van die farao, wat drome het wat niemand kan uitlê nie. Hy lê die farao se drome uit en word aangestel as tweede in beheer om vir die dreigende swaar tye voor te berei. Dis hier waar sy broers weer op die toneel verskyn, en deur ‘n sameloop van omstandighede word hy en sy broers en pa herenig. Alle haat en wraak vergete.

In die tweede bedryf van die produksie sien ons die farao (in die styl van Elvis Presley, selfs met die kuif en kougom), en dis waar die gehoor hulle moet inhou om nie die hele tyd op te staan en met “Poor, poor Pharaoh”, “Song of the King” en “Stone the crows” kliphard saam te sing nie. Jonathan Roxmouth is duidelik ’n groot gunsteling onder die gehoor en dis asof die elektrisiteit –  teen alle verwagtinge in – toeneem.

Toe die gordyn aan die einde van die produksie sak, is die gehoor nie gereed om huis toe te gaan nie. Die encore hou aan en aan en die akteurs kom maak weer hul buiging en mens wens amper hulle wil so ’n tipe medley sing soos wat by party optredes in Londen al gedoen is.

Die produksie het al Tony-, Olivier- en Drama Desk-toekennings gewen en het ’n plek in die Guinness Book of Records vir die wêreld se lang-spelende toerende musiekblyspel.

Die eerste Suid-Afrikaanse produksie was in die 1970’s met Richard Loring (die verteller), Alvon Collison (Pharaoh) en Bruce Millar (Joseph).

  • Die program huldig die oorspronklike broer Benjamin, Karabo “Mytwofeet” Maithufi (1980–2013), en dra die liedjie “There is one more angel in heaven” aan hom op.

 

Joseph and the amazing technicolour dreamcoat

Met onder andere: Earl Gregory, Bianca le Grange, Jonathan Roxmouth, Dean Roberts, Mila De Biaggi.

Lirieke: Tim Rice

Musiek: Andrew Lloyd Webber

Regie: Paul Warwick Griffin

Kostuums: Nial Griffin

Theatre on the Bay, Kampsbaai

12 Augustus tot 5 November 2016

Kaartjies deur Computicket, 0861 915 8000, of die teater (021) 438-3301.

Pieter Toerien se Theatre at Montecasino in Johannesburg

10 November tot 29 Januarie 2017

Kaartjies deur Computicket, 0861 915 8000.

 

 

The post Teaterresensie: Joseph and the amazing technicolour dreamcoat appeared first on LitNet.

Die dwaas dink daar is geen God nie ... (Psalm 4:1)

$
0
0

... en is ’n gruwel vir die Here (steeds vers 1) ... weet julle nie dat daar iets vreesliks met julle gaan gebeur (vers 4/5).

Met die beskrywing in die Bybel dat ’n persoon sonder God, ’n dwaas/swaap is, sê die Bybel verder dat hulle:

… ’n afkeer in kennis het (Spr.1:22).

… geen belang in insig (kennis) het nie; sy feite is op persoonlike opinies gebaseer.

… deur gelowiges vermy moet word (Spr. 14:7)

… en ’n horde ander soortgelyke verse.

In teenstelling is die ateïstiese Arabiese wysgeer, Al-Ma’arri (973 – 1057) se beskouing oor godsdiens: “Die mensdom het twee soorte, nl die met breins maar geen godsdiens, en die met godsdiens maar geen breins nie.”  

Ek wonder net of gelowiges werklik glo dat manne soos Mark Zuckerberg; Carl Sagan; Stephen Hawking; Noam Chomsky; Alan Turing; Paul Dirac; Bertrand Russel; asook honderde ander wat aardskudders vir die mensdom was dwase/swape is of was om deur hulle vermy te word?

Meer as ’n duisend jare gelede, het genoemde Arabiese wysgeer ook die volgende te se gehad: “They recite their sacred books, although the fact informs me that these are a fiction from first to last. O Reason, thou (alone) speakest the truth. Then perish the fools who forged the (religious) traditions or interpreted them!”   https://en.wikiquote.org/wiki/Al-Ma%CA%BFarri

 

The post Die dwaas dink daar is geen God nie ... (Psalm 4:1) appeared first on LitNet.

Oom Sakkie en die kooksel

$
0
0

Oom Sakkie sal my vergewe hiervoor, veral synde ons nou besig is om sy ewige rusplek voor te berei vir dit wat sy liggaam was.

My ou tante Es is nie net bekend hier rond vir haar geduld en sag praat nie, maar ook vir haar kook. Nie Kokkedoor kook nie. Beter. En meer waardig. Die ou bene wil nie meer sonder die kierie nie, maar die hanne kan nog doen wat hulle vir soveel jare gedoen het.

Oom Sakkie het altoos vir die laaste paar jare vandat hy dit rustiger gevat het mense kom wys waar hy grootgeword het. Want mens soek mos altoos jou wortels as jy gejaag word deur mense wat agter jou biljoene aan is. So het hy straat af gery en by antie Es ingedraai, dis nou voor Antie Es se klong die hoë mure en elektriese drade aangebring het. Toe jy nog kon inry sonder om vooraf te bel vir die kode wat niemand ken nie en nou sommer net 1234 is.

Oom Sakkie het ingery want antie Es het doerie jare elke dag vir hom kos saamgebring skool toe. Die enigste kos vir die dag. En Antie Es se moeder het vir oom Sakkie sy eerste paar skoene gekoop toe oom Sakkie 16 geword het. Mense praat dikwels oor armoede en deesdae ryg elke sot en drenkeling derms uit oor hoe hulle gesukkel (hulle noem dit struggle) het terwyl mense soos Oom Sakkie net van 'n ete per dag kon droom. Die twee kom van kleuterdae af saam en selfs toe oom Sakkie een van die rykste manne in hierdie land se geskiedenis geword het het hy nooit vergeet van sy arm dae nie. Hy het altyd kom dag sê en uitgedeel.

Tot die dag by antie Es. Sy was iewers besig in haar feëtuin en het dalkies nie die lang slap Duitse kar gehoor of gesien nie, maar oom Sakkie het later beduie dat hy wel geroep het. En die reuk van 'n hoenderpot net nie kon weerstaan nie. Hy het blykbaar geroep vir aansit en synde daar geen tafel gedek was nie maar met die pot vort is. Sekerlik in oom Sakkie se aard om dit te loop deel met die eerste lot boemelaars wat hy teëgekom het. Want ons het oom Sakkie so geleer ken: Aan’t uitdeel van die biljoene wat hy met soveel sorg bymekaar gemaak het.

Hulle se antie Es was baie beswaard oor die inbrekers wat niks gevat het buiten die pot hoender nie. Selfs haar beursie oppie tafel het ongeskonde en onoopgemaak gelê waar sy hom neergesit het.

Wat later gebeur het kan ek van getuig want ek het dit self beleef: Oom Sakkie het die dag hier opgedaag met sy hele groot Duitse kar vol potte. Nuut. Van daai soort wat waterloos is en wat ons almal wat lief vir kos en kook is net van kan droom. Elke soort en grootte en met elke Mc-gafter wat daarmee saamgaan. En 'n paar bosse Suikerbosse. Net om dankie te se vir die hoenderpot wat hy so ongevraagd van die stoof af gevat het.

Ek grawe die man se graf en ons lag en ons sit soms en mymer oor hierdie man wat brandarm geryloop het Vredefort toe en tot met sy dood die eienaar was van die hotel waar hy begin het as vloerwasser.

Wat nooit een oomblik een enkele mens blameer het vir sy armoede nie en toe later ook sy dankbaarheid aan almal bewys het vir sy rykdom. As daar meer mense soos hy was dan was daar baie beslis minder armoede in hierdie land. Sonder al die gewone fanfare wat ons so rondom ons sien.

oester

The post Oom Sakkie en die kooksel appeared first on LitNet.


As universiteite verengels, hoe gemaak met opvoedkundestudente wat by Afrikaanse skole gaan skoolhou?

$
0
0

Fotobron: newzoogle.com

As universiteite verengels, hoe gemaak met opvoedkundestudente wat by Afrikaanse skole gaan skoolhou? In watter taal leer hulle die vakterminologie om vir die skoolkinders aan te bied?

Estelle Kruger vra vir Alta Engelbrecht (Universiteit van Pretoria) en Gert van der Westhuizen (Universiteit van Johannesburg).

Hoe werk dit deesdae by jou universiteit se Opvoedkunde-departement? Sê maar jy moet leer om aardrykskunde by ‘n Afrikaanssprekende skool te onderrig, leer jy die vakterminologie nog in Afrikaans?

Alta: Nee, studente gaan voortaan opvoedkunde, aardrykskunde en wiskunde net deur middel van Engels as voertaal studeer. Engels is vanaf 2017 by Tukkies die amptelike taal van klasgee, administrasie en assessering, alhoewel die nuwe taalbeleid daarvan melding maak dat voorsiening vir ander Suid-Afrikaanse tale gemaak kan word, indien daar 'n aanvraag is en dit bekostigbaar is.

Studente wat in 2016 en vroeër geregistreer is, sal egter nog steeds lesings, toetse/eksamens en studiegidse in Afrikaans ontvang en mag in Afrikaans antwoord totdat hulle die modules geslaag het. Navorsingsuitsette (voor- en nagraads) mag ook nog steeds in tale soos Afrikaans en Sepedi geskryf word.

Gert: By UJ het ons in 2013 opgehou om Afrikaanse opvoedkundeklasse te gee. Sedertdien is alles Engels, en bevind Afrikaanse studente hulle in dieselfde situasie as die meerderheid studente wat nie-Engelssprekend is – dat hulle die opvoedkunde bestudeer in Engels en so voorberei word om in Engels of Afrikaans skool te hou, of in ander moedertale wat in laerskole gebruik word.

Om opgelei te word as onderwyser deur medium van Engels is die realiteit vir meer as 90% van onderwysstudente aan Suid-Afrikaanse universiteite. Nie-Engelssprekendes word voorberei om die skoolkurrikula in hulle tweede of derde taal te kan aanbied – en moet dan op skool met moedertaalinhoude en -formulerings werk soos dit beskikbaar is.

Ruimtes behoort geskep te word vir opvoedkundeklasse in ander tale as Engels. Ons leef in ‘n veeltalige land, en die reg op moedertaalonderrig is die reg met betrekking tot al ons tale. Hierdie reg sluit in die ontwikkeling van tale as vak- en wetenskapstale, en as die tale waarin kennis oor onderwys uitgebou moet word.

Vertel my van die beleidsdilemma by universiteite.

Alta: Daar het 'n donker wolk oor Pretoria gehang toe aangekondig is dat UP voortaan amptelik net Engels sal wees. Afrikaans is immers die taal wat die meeste in Pretoria gepraat word (ongeveer 'n miljoen Afrikaanssprekendes in en om Pretoria). Verder is daar reg langs die UP-onderwyskampus die grootste universiteit in Afrika (Unisa) wie se voertaal uitsluitlik Engels is. Die feit dat Afrikaans van sy hoëre funksies moes afstaan, is dus bitter jammer en my vrees is dat dit na die skole toe kan deursyfer.

Waarom sal ek my kinders dan nog na 'n Afrikaanse skool toe stuur as hulle nie meer op universiteit deur medium van Afrikaans kan studeer nie? Die antwoord is waarskynlik dat die meeste "goeie" Afrikaanse skole beide Afrikaans en Engels op huistaalvlak aanbied, daarom sukkel ons kinders nie om deur Engels as medium van instruksie te studeer nie. Maar wat van baie plattelandse kinders wat nie dieselfde blootstelling het nie?

Gert: Universiteite is openbare inrigtings in diens van alle landsburgers. Alhoewel al die universiteite tans beleide van meertaligheid het, is die hooftaal in die praktyk Engels, om onder meer die pragmatiese rede dat dit die voertaal is van die skole waaruit die meerderheid van studente bestaan. Engels wen om hierdie rede veld as voertaal by al die histories Afrikaanse inrigtings. Demografies het dit die gevolg dat Afrikaanssprekende studente na inrigtings gaan waar hulle nog Afrikaans kan vind.

Dit is die beleidsdilemma vir elke universiteit en die regering wat alles in stilte dophou – hoe om alle landstale as tale van hoër onderwys te bevorder. Dit is die Grondwet-eis. Die opsie is, soos sake tans staan, nie ‘n opsie van óf Afrikaans óf Engels nie, maar beide. Studente se taalregte moet beskerm word. In die narratief van die huidige generasie studente wat aandring op dekolonialisering is die vrae: Wanneer word die voorreg van Engels ook die voorreg van byvoorbeeld Tswana, om uitgebrei te word as onderrig- en wetenskapstaal op universiteit? Dit is ‘n narratief van dringendheid wat deur onderwysersopleiers ernstig opgeneem behoort te word.

Met die oproep om dekolonialisering het hierdie probleem nou gegroei tot wat deur sommiges ‘n “kognitiewe probleem” genoem word. Dis die probleem om reg te laat geskied aan plaaslike, inheemse kennisinhoude in die onderwys, en aan kennisdiversiteit, verby die oorheersing van Westers-Europese tradisies wat ons in Engels (en ook in Afrikaans) ontwikkel en in stand hou.

Dus, om jou vraag te beantwoord: die probleem waarvoor universiteite te staan kom, is om nie studente se taalregte te misken nie, maar om, as openbare instellings, alles in hulle vermoë te doen om onderwyseropleiding verby die Engels-hegemonie te neem en die voordeel van veeltaligheid ‘n werklikheid te maak. Prakties kan dit die vorm aanneem van taalstrome binne programme en inrigtings, solank sulke strome nie eksklusief bly nie. Daar is vele voorbeelde hiervan in Afrika- en Europese universiteite waar veeltaligheid suksesvol werk.

Hoe kom die ideaal van veeltaligheid ter sprake?

Alta: Die hegemoniese bevoordeling van Engels sal seker nooit eindig nie. Die ideaal van veeltaligheid in Suid-Afrika is toe bloot 'n ideaal. Landswyd word Rhodes en ander koloniale simbole aangeval en vernietig, maar klaarblyklik het niemand 'n probleem met Engels as die opperste simbool van kolonialisme en selfs kapitalisme nie. Afrikaans is immers 'n Afrikataal, wat uit Afrikabodem ontwikkel het. Die ideaal van veeltaligheid in Suid-Afrika blyk dus 'n illusie te wees.

Gert: Die beste voorbeelde van ware veeltaligheid sien mens in die Europese Unie. Die riglyndokument hiervoor, van die Europese Raad, is genaamd “Common European Framework of Reference for Languages”. Daarvolgens word gelyke status aan tale gegee en besonderhede hoe om dit te bevorder en in stand te hou. Daar is byvoorbeeld veeltalige inrigtings met drie onderrigtale en verskillende modelle hoe om sulke veeltaligheid te maak werk. Dis ’n viering van taaldiversiteit, en kontrasteer sterk met die beperkings van eentalige universiteite in ’n multikulturele samelewing.

Hier ter plaatse is die ideaal van veeltaligheid ‘n edele ideaal, en grondwetlik gewaarborg, maar polities nie hoog op die lys nie. Die prestasies van kore in die Varsity Sing-program is ’n toonbeeld van die viering van meertaligheid. Vir baie is die historiese las van Afrikaans egter nog problematies.

In onderwyseropleiding het ons reeds beperkte, informele veeltaligheid: wanneer ’n Zoeloesprekende student byvoorbeeld in Engels leer hoe om ‘n vak soos rekeningkunde op skool te kan gee, gebruik sy haar moedertaal in studiegroepe en portuurgesprekke waar moontlik. Veeltaligheid sien ons ook in die gange van die universiteit – studente gebruik hulle moedertale om hulle leerwerk van opvoedkunde te bevorder.

Die oproep om veeltaligheid gaan nie net oor tale nie – die oproepe om dekolonialisering wat begin het met die “Rhodes must fall”-stemme, maak dit ook ’n oproep om kennis en prosesse om kennis te ontwikkel en oop te maak deur navorsing. Veeltaligheid het nou ook te make met die ontwikkeling en gebruik van meervoudige en inheemse kennisse, verby die tradisioneel Europees-Amerikaanse kennis in kurrikula en wetenskap wat in Engels (en Afrikaans) die hoofstroom uitmaak.

In onderwyseropleiding het ons nog ’n lang pad om te loop om die volle waarde van veeltaligheid te ontgin, veral in terme van kennis oor opvoeding wat in al ons tale in gemeenskaps- en inheemse verband bestaan.

Hoe het hierdie veeltaligheidsprobleem by universiteite begin? Waarom word Afrikaans prakties gesproke as 'n probleem ervaar?

Alta: Die probleem het ontstaan toe Engelse studente begin aanstoot neem het omdat die Engelse klasse (bv sielkunde) altyd oorvol is, tot so 'n mate dat studente op trappe moet sit, terwyl die Afrikaanse klasse klein en intiem is. Daar moes ook altyd twee dosente (Afrikaans en Engels) vir elke vak beskikbaar gewees het, wat blykbaar, volgens hoorsê, 'n logistieke nagmerrie was. Verder is daar die kunsmatige rasseskeiding wat noodwendig met parallelmedium-onderrig gepaard gaan.

82,1% van al die studente het aangedui dat hulle Engels as medium van instruksie verkies. Die meerderheid wil dus in Engels bedien word, weens die internasionale waarde van die taal en omdat die handboeke in elk geval meestal in Engels is. Alhoewel ongeveer 30% studente van UP Afrikaans as moedertaal het, verkies slegs ongeveer 17,9% van daardie studente om in Afrikaans klas te kry. Dit wil vir my lyk asof ons (Afrikaanses) maar (weer) verantwoordelik is vir ons eie dilemma. Daar is wyd gekonsulteer met ons as personeel en ek weet dat baie kollegas gevoel het dat Sotho as akademiese taal ontwikkel moes word in plaas daarvan dat Afrikaans hoëre funksies verloor.

Gert: Die probleem is dikwels ‘n gewoon menslike een; ‘n pragmatiese en kommunikasieprobleem. Wanneer jy 50 studente in jou klas het, en enkeles kan net Zoeloe en glad nie Engels verstaan en praat nie, dan moet jy oorslaan na Zoeloe om almal in te sluit. Dis die situasie met Afrikaans – met enkeles in die klas wat die taal nie verstaan nie, dan slaan mens in jou programaanbieding oor na Engels.

Die oorheersing van Engels op al ons kampusse is nie soseer weens ’n gebrek aan beleidsraamwerke nie, maar ‘n pragmatiese oorweging – Engels is die taal van skoolonderwys en die ekonomie, en daarom verkies mense Engels. Dis ook ’n gebrek aan politieke wil om werk te maak van en bronne toe te wys aan die ontwikkeling van ander tale.

Die verskuiwings in voortsetting van die Afrikaanse aanbod op universiteit is ook die gevolg van taalhoudings en -voorkeure, veranderende demografie, en die taalkeuse van die ekonomie in die omgewing van die universiteit. Behalwe studente, moet daar ook taalvaardige dosente wees, leermateriaal, handboeke, sowel as gemeenskapsondersteuning en inagneming van ekonomiese gebruiksbehoeftes.

Wat is die moontlikhede vir die toekoms?

Alta: Ons kan die valbyl nie vir ewig vryspring nie, veral nie in 'n tyd waarin universiteitsowerhede weens die proteste op 'n warm plaat rondspring om kostes te besnoei nie. Die feit van die saak is dat UP die hoofstad van Suid-Afrika bedien. Die aantal internasionale studente word jaarliks meer en as 'n navorsingsgerigte universiteit wat publikasies in hoë-impak internasionale joernale vereis, word Engels al hoe meer die verstektaal. Een ligpuntjie: in die nuwe taalbeleid word daar wel pertinent verklaar dat Sepedi as akademiese taal ontwikkel sal word en dat Afrikaans se status as 'n navorsingstaal in stand gehou sal word.

Ek glo steeds dat daar een Afrikaanse universiteit in die land moet wees, verkieslik in Stellenbosch of Kimberley. Hierdie universiteit kan tweetalig wees, maar moet vir (die meerderheid van) sy kliënte wat Afrikaanssprekend is, daardie geleentheid gee wat hulle nou nie meer by Tukkies het nie. In die Kaap, omdat daar soveel sprekers van Afrikaans is wat nie as “wit” geklassifiseer is nie, geld die probleem van die kunsmatige rasseskeiding natuurlik ook nie.

Gert: Tale se toekoms is in die monde en hande en harte van hulle gebruikers. Landsburgers het taalregte, en wil gelykberegtiging sien.

Afrikaans presteer steeds as taal van hoër onderwys, en verdien voldoende ruimtes om as wetenskapstaal by soveel universiteite as moontlik voortgesit te word.

Ons kan baie lesse leer by universiteite in Afrika en elders – plekke waar meertaligheid bevorder word, soos toegewyde tweetalige inrigtings, inrigtings wat kursusstrome aanbied volgens die taal van die omgewing, sy gemeenskappe en sy ekonomie.

Meertaligheid kan meewerk aan die ideaal van demokratiese burgerskap in die volle sin van die woord, ’n burgerskap waar mense meer as een taal vaardig is. Dit gebeur reeds in township-omgewings, maar nie in ander nie. Vakkeuses in woonbuurtskole sluit steeds nie verpligte swart tale in nie.

Daar bestaan soveel variasies op die tema van taalaanbod in die onderwys wat gemeenskappe kan oorweeg om taalinsluitend in universiteite te kan werk. Studente het reeds feitlik onbeperkte vermoëns van twee- en meertaligheid waar hulle van een taal kan oorslaan na ’n ander om te kan leer en hulleself sosiaal te kan laat geld. Dit kan na alle gemeenskappe uitgebrei word.

Ten slotte: ons benodig erns met die strewe na taaldiversiteit en die beskerming daarvan, op wyses wat insluit en nie uitsluit nie.

The post As universiteite verengels, hoe gemaak met opvoedkundestudente wat by Afrikaanse skole gaan skoolhou? appeared first on LitNet.

Die 2016 kykNET Silwerskermfees: 'n Bloutapyt vir plaaslike filmtalent

$
0
0

As The Bay Hotel in Kampsbaai, die tuiste van die jaarlikse kykNET Silwerskermfees, enigsins 'n aanduiding is van wat jou by vanjaar se fees te wagte is, dan is dit duidelik dat die Silwerskermfees meer as net 'n filmfees is.

Die Silwerskermfees is ons eie Hollywood à la kykNET. Prima! Hiér is die bioskoopervaring weer elegant danksy die je ne sais quoi wat The Bay Hotel tot die fees voeg, die bloutapyt wat jou verwelkom, die beloftes wat 'n fantastiese program inhou en die opgewondenheid van elke filmliefhebber wat by die hotelfoyer instap.

Met kykNET as hoofborg is dit maklik om te dink dat die fees net Afrikaanse talent tentoonstel. Die Silwerskermfees doen egter meer as net pronk met Afrikaanse filmkuns; dit is 'n viering van plaaslike filmtalent in al sy verskeidenheid en hoedanighede. Hierdie is geen homogene fees nie, maar 'n tentoonstelling van hoe ver ons plaaslike filmbedryf gekom het sedert demokratisering. Bowenal is dit 'n viering van die diversiteit van ons stories en hoe goed ons dit op die silwerdoek kan vertel.

En waarom dan nie? Met die Afrikaanse filmbedryf wat in 2016 sy 100ste verjaardag vier, terwyl M-Net vanjaar sy derde dekade van die voorsiening van plaaslike vermaak betree, het ons rede om fees te hou en ons stories met die wêreld te deel. Volgens Jan du Plessis (direkteur: M-Net Kanale) is die Silwerskermfees “'n seminale vertoonvenster van die jongste filmprojekte, hetsy kortfilms of vollengte speelfilms, en vuurwarm talent” (Silwerskermfeesprogram, 2016:9).

Die fees bestaan, soos oudergewoonte, uit verskeie afdelings: kortfilms binne die kortfilmkompetisie, kortfilms buite die kompetisie, speelfilms binne die speelfilmkompetisie, speelfilms buite die kompetisie, dokumentêre en dan ook gesprekke wat handel oor allerlei onderwerpe te make met die film- en vermaaklikheidswêreld.

Vanjaar se fees het gespog met 15 nuwe kortfilms wat aan die kortfilmkompetisie deelgeneem het. Hierdie kompetisie bied 'n platform vir diegene wat belangstel in die filmkuns en hul hand aan die draaiboekpen en kamera wil waag.

Die kompetisie werk so: Aspirantfilmmakers het die geleentheid gehad om tydens Maart vanjaar vir hierdie gesogte kompetisie in te skryf en altesaam 196 voltooide konsepinskrywings is ontvang (Silwerskermfeesprogram, 2016:20). 'n Eksterne paneel van ses onafhanklike lede het hierdie inskrywings volgens 'n puntestelsel anoniem gelees en geëvalueer, en 36 konsepte is uiteindelik uitgekies.

Hierdie langlys konsepte is deur 'n kykNET-paneel geëvalueer en bespreek en 22 hiervan het deurgedring na die teksfase, waar die skrywers gevra is om 'n volledige eerste konsep van die kortfilm in 'n draaiboekformaat te lewer.

'n Eksterne paneel van agt onafhanklike kenners het hierdie volledige draaiboekinskrywings volgens bepaalde kriteria evalueer en dit uitgedun tot 15 kortfilmdraaiboeke. Die gelukkige 15 vervaardigers is toe opdrag gegee om volgens standaard-M-Net-opdragwerkkontrakte 'n finale filmproduk binne twee maande te vervaardig, wat uiteindelik die 15 kortfilms uitgemaak het wat op die fees vertoon is (Silwerskermfeesprogram, 2016:20).

Terwyl die fees aspirantfilmmakers die geleentheid bied om hul werk te vervaardig, is hul ook vasbeslote om hierdie nuwe talent te ontwikkel deur mentors beskikbaar te stel ten einde die plaaslike filmbedryf jaar vir jaar te versterk. Drie mentorspanne bestaande uit minstens twee bedryfskenners – gerespekteerde skrywers, regisseurs of vervaardigers uit eie reg – het hierdie jaar elk vyf kortfilmspanne onder hulle vlerk geneem om deurlopend leiding en raad te verskaf (Silwerskermfeesprogram, 2016:21).

En die resultate spreek vanself. Die diversiteit in onderwerp, tema en uitbeelding in vanjaar se kortfilms getuig van die rykdom wat Suid-Afrika in jong storievertellers het.

Met die vele gesprekke op vanjaar se feesprogram het die Silwerskermfees ook die rol van opvoeder ingeneem en geleentheid gebied vir die gehoor om meer uit te vind oor die Suid-Afrikaanse film- en vermaaklikheidsbedryf, en selfs om vrae aan kenners op die gebied te stel. Die fees het afgeskop met 'n gesprek oor die eienskappe van 'n goeie draaiboek, terwyl die uitdagings in die bemarking van speelfilms later onder die loep geneem is en die realiteite van roofkyk van nader bekyk is. M-Net het ons ingelig oor die proses van hoe films en televisieprogramme op die boksie kom en ook die stand van plaaslike filminhoud aangesny en beklemtoon dat ons werklik baie het om op trots te wees. Die ATKV Filmverse 2-DVD – 'n digkuns-animasieprojek – is dan ook tydens die fees bekendgestel. Hierdie keer is die projek meertalig, met 12 nuwe gedigte wat deur verskeie animasiekunstenaars in kortfilms verwerk is. Dan het skrywers en vervaardigers ook die geleentheid gekry om in “Blitz Pitch” hul blink idees binne drie minute aan die M-Net-topbestuur aan te bied – “gripping stuff”!

Die kersie op die 2016-feeskoek was wel die vyf vollengte-speelfilms wat meegeding het vir verskeie pryse in die speelfilmkategorie. Die langverwagte filmverwerking van Marita van der Vyver se roman Dis koue kos, skat (regisseur: Etienne Fourie) vertel 'n verhaal van wraak en genesing en het Anna-Mart van der Merwe in die hoofrol, saam met ander bekendes soos Deon Lotz, Elzabé Zietsman en Frank Opperman. In Johnny is nie dood nie (regie deur Christiaan Olwagen, verwerk vanaf die gelyknamige drama deur Malan Steyn) herleef vier studentevriende hul rebelse studentedae kort ná die selfdood van Johannes Kerkorrel – 'n tyd sinoniem met bevryding van liggaam, hart en denke. Noem my Skollie (regie deur Daryne Joshua) speel in die 1960’s op die Kaapse Vlakte af en is op die lewe van die draaiboekskrywer John W Fredericks gebaseer. Wanneer AB gearresteer word, ontdek hy 'n talent vir stories vertel, wat sy status in die tronk verhoog. Intrige volg egter ná hy vrygelaat is. In regisseur Corné van Rooyen se Sy klink soos lente staan Ben voor 'n keuse: vertel die beeldskone Linda die waarheid oor wat hy vir 'n lewe doen, of jok en sê hy is in 'n band. Al wat Ben te doen staan, is om 'n band te begin. Tess, 'n filmverwerking van Tracey Farren se roman Whiplash (regie deur Meg Rickards), speel af in die strate van Kaapstad, waar Tess haar lyf verkoop. Haar lewe keer kop onderstebo wanneer sy swanger word, en wanneer sy weghardloop, hardloop haar verlede haar agterna.

Die magdom talent wat hierdie films verteenwoordig, getuig van die swaargewigstatus waarmee Suid-Afrikaanse filmmakers slaan en van wat die Silwerskermfees hierdie jaar wéér reggekry het om te bewys: net omdat Suid-Afrikaanse speelfilms nie aldag oorsee draai nie, beteken dit nie dat dit nie so goed is soos Hollywood-produksies nie. Inteendeel, ons plaaslike filmtalent is wêreldklas.

 

The post Die 2016 kykNET Silwerskermfees: 'n Bloutapyt vir plaaslike filmtalent appeared first on LitNet.

Student, waardeer jou studie

$
0
0

 

Fotobron: www.thekharkivtimes.com

Ek durf my nie as ‘n kenner van tersiêre instellings en opvoeding uitgee nie. As student kan ek egter wel ‘n gedagte of twee opper.

Toe ek op laerskool in Vereeniging was, was ek bewus van opsies vir eendag se leer. By my pa en ma se werk, die landdroskantoor, het daar gereeld regstudente van Johannesburgse universiteite as deel van hulle kursusse in die kantore of howe kom hand bysit. Hulle was vrolike, skerpsinnige mense wat aan die permanente personeellede (en hulle kinders) baie plesier verskaf het. Verder weg was daar Pretoria, Potchefstroom en Bloemfontein, en dan Natal en die Kaapse plekke soos Stellenbosch. Al hierdie instansies met hulle leerplanne, jaarlikse jool, slim vroue en onnutsige mans het my aandag getrek. Ek het gedroom ek sou eendag ook kan gaan leer, in ‘n netjiese baadjie saam met ‘n vrou langs ‘n spruit wandel, filosofiese gesprekke met wyse mense voer, studentepret beleef en uiteindelik as ‘n belese en gerekende en vervulde mens die grootmenswêreld betree.

Maar eintlik, in my hart van harte, was daar net een universiteit. As dit kom by werk – as dit kom by regtig gaan sit en swoeg soos jy swot – was daar een plek wat kop en skouers en bolyf bo die ander uitgetoring het. Dit was Unisa. Want Unisa was waar my pa geswot het. Ek het hom saans by die eetkamertafel sien sit, bril op, sigarette by hom, sy kop ‘n skaduwee oor die boeke onder die lamp. Hier, in sy teenwoordigheid met daardie vaal studiegidse voor hom waarin hy ‘n paar woorde uit elke paragraaf onderstreep of oorgeskryf het op ‘n skryfblok langs hom, het ‘n begrip in my kop vasgesteek waarvoor ek vandag nog groot agting het – dit waarin akademici, filosowe en skrywers hulle verdiep, iets wat ‘n mens seker die monniketaak sou kon noem.

Na skool en die army kon ek nie gaan leer nie. My skooluitslae was te swak vir my om vir beurse in aanmerking te kom. Ek het in ‘n rekenaarwinkel gaan werk. Dit was aanvanklik nie sleg nie, maar bitter gou het ek besef: sonder opleiding en kwalifikasies gaan ek vassteek waar ek is. So het ek ‘n sertifikaat in vryskutjoernalistiek verwerf, danksy my destydse baas wat vir die driemaandekursus by die Kaapse Technikon betaal het. Later by Sanlam het ek sertifikate in rekenaarkursusse gekry. Natuurlik leer ‘n mens in elk geval heelwat in die werkplek. Jy bly tog lewenslank vaardighede opdoen of slyp. Buitendien is die wêreld vol leersame boeke as ‘n mens net die moeite doen om ‘n paar van hulle oop te slaan. Maar dis die jare wat ek aan Unisa-kursusse bestee het wat ek as my eintlike amptelike opvoeding beskou.

Hoe presies dit gesteld is met so ‘n opvoeding nadat ‘n mens tog op skool leer lees en skryf, is ek nie seker nie. Baie mense beskou dit as iets waarop elke mens geregtig is. Dit is dus vir hulle vanselfsprekend, tersiêre onderrig. Maar dit is juis nie. Dit val soveel mense nooit te beurt nie. Dit is nie ‘n reg nie, dis ‘n voorreg. Dit is spesiaal. Dit is iets besonders om ‘n kwalifikasie te verwerf, iets om oor begeesterd te wees en hoog oor op te gee. Om oor dankbaar te wees.

Dis ook nie maklik nie en dit moenie wees nie. Daardie twee dae lange gesukkel met een ongewone tienpuntvraag in ‘n werkopdrag is van meer waarde as die essay wat ‘n mens in ‘n rustige twee uur oor ‘n oorbekende literêre werk kan skryf. ‘n Mens doen ‘n kursus met die oog op kennisverwerwing, het ek gemeen. Kennis is die bestaansreg vir die monniketaak. Dit het ek bly dink.

Wat my egter af en toe tydens my voorgraadse jare frustreer het, was sommige studente se ontevredenheid. Miskien moet ek my eie gemoedskalmte aan die ouderdom of ‘n persoonlike voorkeur vir gelatenheid toeskryf, ek weet nie. Maar sommige ander het dinge beslis nie soos ek ervaar nie en met alles fout gevind: Unisa se administrasie; die voorsiening van studiemateriaal; die toeganklikheid van die dosente; die moeilikheidsgraad van die modules. Hierdie klagtes is op besprekingsforums geopper en van tyd tot tyd het dosente reageer. Gewoonlik kon hulle maar gelos het, want hierdie studente wou niks hoor nie behalwe dat hulle te na gekom is. Daar was (vir my, in elk geval) so ‘n verset wat baie van die mense gemeen gehad het, sommer ‘n algemene verwensende houdinge teenoor gesag en die einste mense wat hulle in werklikheid wou help. My eie ervaring van die administrasie, beskikbaarheid van materiaal, toeganklikheid van dosente en die graad van ingewikkeldheid was goed. Soms, onvermydelik, was daar probleme en ek het mense gekontak wat my gehelp het. Gewoonlik is die probleme uitgestryk, een of twee keer nie. Maar ‘n mens moet jou lot aanvaar en jou seëninge tel. Vandag is ek trots om te kan sê: ek was 47 toe ek ‘n BA-graad met Afrikaans en Engels as hoofvakke verwerf. Ek het daardie ding gekry waaroor hulle sê: “Niemand kan dit van jou wegvat nie.” Dankie, Unisa, regtig baie dankie.

Natuurlik sou dit ‘n heel ander storie gewees het om op 20 voltyds te swot. Miskien kan ek my nie eens voorstel hoe dit moet wees nie. Ek wil tog sê: gebrei deur jou dosente, gelei deur jou rektor en geskaaf deur jou medestudente behoort jy te leer nie net om jou verstand te slyp nie, maar ook hoe om ‘n volwaardige bevoorregte lid van die samelewing te word.

Ek dink nie ons moet daardie woordjie “bevoorregte” uitlaat nie. Dit moet voor in ons gedagtes bly wanneer ons universiteite bespreek. Baie mense vra of daardie bevoorregting nodig is in ons samelewing. Soms beantwoord instellings die vraag deur meer studente goedsmoeds te akkommodeer ten spyte van hulle vermoëns.

As daar ‘n nadeel aan hoër opvoeding is, is dit juis met een van die voordele daarvan verstrengel: ‘n sekere eksklusiewe ingesteldheid. Sommige studente ag dit deel van die beloning, dis hoekom hulle by die ivoortoring intrek; dis om mense agter te laat en die geselskap van hul eweknieë te geniet wanneer dié hulle bewys het as waardig. Ander besef genadiglik dat dinge so maklik ook vir hulle anders kon gewees het en het meer deernis met die oningelyfdes. Nog ander besef dat die punt van opvoeding nie sosiale bevordering is nie, maar doeltreffender denke, die verbetering van die wêreld. Dit sal sekerlik doeltreffende denke verg om die kwessies van hierdie seminaar op te los, die wêreld te verbeter.

Die deelnemers aan die seminaar en die kommentators in die pers wys op sake soos taalbeleid en die relevansie van instellings. Wat die taalkwessie betref, moet ons miskien eens en vir altyd vasstel of dit werklik die moeite en geld werd is om hulpbronne in ander tale as Engels te belê. Is die antwoord vasgestel op grond van meer as sentiment en blinde lojaliteit en is die antwoord ja, soos ek hoop dit is, lyk dit vir my asof iets gedoen kan word indien Afrikaanse taalgebruikers hande vat met gebruikers van Afrikatale en laasgenoemde help om hulle tale akademies te versterk om dan as kleiner, maar nie mindere nie, teenvoeters vir Engels te dien, op die patroon van Afrikaans na. As so ‘n inisiatief egter op groot skaal moet posvat, want dit sal natuurlik meer betrek as die woelinge op akademiese gebied, sal dit hulpbronne verg en veranderende gesindhede onder die bevolking wat meer sal moet wees as lippediens aan die onvermydelikheid. Ons sal moet wil help. Die potensiaal is egter daar. Ons het reeds ‘n sterk vertaaltradisie in Suid-Afrika, nie net in die akademie, skole en veral tussen Engels en Afrikaans nie, maar ook in die staatsdepartemente en in die privaatsektor. Daar is etlike ervare mense van uiteenlopende linguistiese herkoms in die howe, parlement, diverse departemente, besighede en winkels werksaam wie se kundigheid wat, juis omdat dit op voetsoolvlak opgedoen is, met praktiese vrug na die noodwendig meer kunsmatige opleidingsomgewing oorgedra kan word. Ons kan ook uit die informele sektor wat (lyk dit vir my, in elk geval) aan minder sosiale inperkinge onderhewig is, heelwat leer oor makliker wisselwerking tussen mense uit verskillende omgewings en stande. Daar sal egter waarskynlik vergeet moet word van die ingesteldheid dat swart wen en wit verbeur sodra ons assosieer. Die ou siening, “Ek is nie rasbewus nie, ek is klasbewus”, gaan ook nie op nie, want dis bloot ‘n selfsussende verskoning. ‘n Nuwe gesindheid sal moontlik net met groot moeite kom. ‘n Verandering in gesindhede nou sal dalk eers ‘n latere generasie die vrugte daarvan laat pluk. Miskien beskryf ek ‘n proses wat reeds minstens sedert 1990 aan die gang is. Indien wel, val dit ‘n mens op dat dit ‘n tydsame proses is gekenmerk deur terugval en konflik. Geduld is aan die orde van die dag.

Dan is dit baie waar dat kolleges ‘n oplossing bied vir vaardigheidstekorte, maar terselfdertyd is die universiteite met hulle status so aanloklik. Sosio-ekonomiese gesindhede moet moontlik eers stabiliseer voor ‘n balans verkry word. Dit ontgaan my nie dat ook ek ten minste deels deur die status van universiteite gelok is en dat ek as skoolverlater met gemiddelde matriekuitslae miskien self eerder ‘n kandidaat vir ‘n kollege was, maar dit is ook so dat die dertigtal letterkundeverwante modules wat ek uiteindelik vir die graad voltooi het, al meermale nuttig te pas in skryfwerk gekom het en hiermee weer van waarde is. Ek beskou my eie studiepoging dus as tersaaklike opleiding. In terme van finansies, en miskien lewenstandaard, sou ek wel beter kon gevaar het as ek ‘n kursus in die herstel van apparate geloop het, dit sien ek in die voorbeeld van die man wat tans aan ons yskas werk. Nie net kon hy ‘n kind universiteit toe stuur nie, hy het ook meer werk as waarby hy kan uitkom. Hy besit ook sosiale kasjet as leweraar van ‘n diens waarvan ‘n mens makliker die nut insien as van boeke skryf.

Ek voel wel ek moet sê: Student, waardeer wat jy daar kry, waar jy ook al leer, jy wat kan swot en by die slimste, gedissiplineerdste eksponente van jou vak iets kan leer wat jou nie net van werk mag voorsien nie, maar van jou ‘n ryper mens maak, iemand met tyd vir ander sieninge, met deernis vir jou medemens. Onthou ook: jou medemens is baie keer nie die ou wat jou telkens in die down-downs of Wiskunde II troef nie, dis eerder daardie persone in jou omgewing wat nie jou lot deel nie en met minder as jy tevrede moet wees. Dalk werk hulle in jou huis, of vir jou pa, of hulle gooi petrol in jou kar. Praat met hulle. Ontdek dat ook hulle ambisie en drome het. Wanneer hulle daardie dinge op hul manier bereik of hul kinders in staat stel om dit te doen, moet jy dit kan erken, net soseer as wat jy van ander verwag om jou prestasies te erken. En al leer jy nie dadelik iets wat nuttig te pas sal kom in ‘n Sielkunde III-werkopdrag nie, het jy dalk ‘n klein bruggie help bou.

 


Hierdie artikel is deel van LitNet Akademies (Opvoedkunde) se universiteitseminaar. Klik op die “University Seminar 2016”-banier hierbo om alle essays wat deel vorm van die gesprek, te lees.

This article forms part of the ongoing university seminar, with new essays continually being added. Please click on the “University Seminar 2016” banner above to follow the ongoing conversation and to read more essays on education, access, transformation, language and the Constitution.

The post Student, waardeer jou studie appeared first on LitNet.

Die liefdeslewe van miskruiers: V&A met Einstein-kompetisie-wenner Anneke Schoeman

$
0
0

einstein_anneke650
Anneke Schoeman, ’n entomologie-honneursstudent aan die Universiteit van Pretoria, is pas as die algehele wenner van die Einstein-kompetisie, asook R10 000 in kontant, aangewys. Haar inskrywing het skoonskip gemaak met stemme deur al sewe LitNet Akademies-beoordelaars en lui:  
anneke_weninskrywing2Projekbestuurder van die kompetisie, Imke van Heerden, het met die entomologie-entoesias oor haar liefde vir insekte gesels.

imke300Anneke, veels geluk met hierdie wonderlike prestasie. Jou flikflooiende miskruiers het volkome daarin geslaag om die beoordelaars te boei en die belangstelling van ons lesers te prikkel. Wat is vir jou sover die mees fassinerende aspek van hierdie navorsingsprojek?

Ek verwonder my altyd aan insekte se vernuftigheid as ek ander mense se navorsing lees. Maar om dit self met my eie oë waar te neem, byvoorbeeld as ek ná lange voorbereiding en gesoek die miskruier se piepklein klierporieë onder die elektronmikroskoop vind, presies waar ek geraai het hulle gaan wees, is werklik verwondering op 'n dieper vlak. Dit is sulke oomblikke wat my 'n klein dansie laat uitvoer daar in die laboratorium ten aanskoue van die meer besadigde siele rondom my.

Ek dink wat my die meeste fassineer van hierdie projek is die ingewikkelde, dog eenvoudige wyse waarop die natuur aanmekaargesit is. Die hele gekompliseerde proses van hofmakery, paring en ouersorg word gelei deur die doodgewoonste molekules. En álles is daar om 'n baie spesifieke rede en speel so 'n kardinale rol in die biologie van die kewer; dit is werklik verstommend. Verder moet ek erken dat ek ‘n bietjie van 'n evolusie-junkie is. Ek word net so geïnteresseer deur hoe dinge in die natuur saamwerk en ook saamgewerk het in die verlede om vandag se interaksies tot stand te bring. Net so toon hierdie studie baie duidelik dat die chemikalieë wat my miskruiertjies afskei, 'n uiterse belangrike rol in hulle evolusionêre geskiedenis gespeel het en hoogs waarskynlik bygedra het tot die verskeidenheid van miskruierspesies wat ons vandag sien.

Jy is tans besig met jou honneursprojek oor die spesiasie van miskruiers op grond van hulle chemiese ekologie. Waarom het jy op hierdie spesifieke navorsingstema, asook Tukkies se Departement Dierkunde en Entomologie, besluit?

Alhoewel ek definitief dolverlief is op biologie, moet ek erken dat die lettere 'n stukkie van my hart gesteel het. Om hierdie rede wou ek graag die twee passies van my in my navorsing kombineer en so het die idee ontstaan om te kyk na hoe miskruiers met mekaar gesels. Ek is baie gelukkig om onder gesoute wetenskaplikes by Tukkies se Miskruiernavorsingsgroep, asook die Sosiale-insekte-navorsingsgroep, te werk – prof Clarke Scholtz is 'n miskruierdeskundige, dr Catherine Sole spesialiseer in miskruiers se evolusionêre verwantskappe, prof Christian Pirk werk aan gedrag in bye, en dr Abdullahi Yusuf is 'n chemiese ekoloog.

Watter gereedskap is altyd in ’n entomoloog se rugsak?

Wee die dag as 'n entomoloog 'n skaars insek sien verbyvlieg en sy bevind haar skielik sonder 'n enkele leë versamelflessie. Uit dure ondervinding dra ek dus altyd 'n paar saam as ek in die veld is. Mens kan ook nooit sonder 'n fyn tangetjie en 'n paar insekmonteerspelde nie. En my persoonlike moet-hê vir my rugsak is 'n lekker sjokolade – óf om die mismoedigheid te keer as ek by my valle uitkom en die jakkalse het alwéér alles omgedolwe, óf om die opgewondenheid te vier oor 'n rare sespotige vonds ...

Hoekom het jy vir die Einstein-kompetisie ingeskryf, en hoe voel dit om 'n wenner te wees?

Hier moet alle eer my ma toekom – sy het iewers van die kompetisie gehoor en my aangepor om in te skryf. En natuurlik is ek aangenaam verras, maar ook baie dankbaar dat my miskruiers vir meer mense as net vir my en my studieleiers opgewonde gemaak het! Die Einstein-kompetisie het my werklik geïnspireer om op alle fronte die publiek van my navorsing te verwittig.

Wat sou jy graag na jou studie wou bereik?

Dit is my droom om Jan Alleman intiem betrokke te kry by die welstand van die natuur rondom hom. Ek glo dat die natuur 'n belangrike rol speel in die mens se psige, buiten natuurlik die sentrale rol wat Moeder Natuur speel om meer materiële behoeftes te bevredig. Daarom moet die publiek eienaarskap neem van bewaringskwessies – vir die natuur se welstand sowel as hulle eie sieleheil. Ek hoop dat ek my entoesiasme vir tale en my passie vir omgewingskwessies sal kan saamsnoer om só 'n liefde en respek vir die natuur (en vir mekaar) in alle mense aan te wakker. Uiteindelik is dit ook die Groot Opdrag aan die mens – om rentmeesters van die aarde te wees.

Het jy dalk raad vir skoliere wat dit oorweeg om jou studierigting in te slaan? Watter aanlegte of passies bevoordeel mens in hierdie veld?

Entomologie is 'n veld vol teenstellings ... As jy hou van fyn besonderhede, maar graag groot dink; as die klein dingetjies in die lewe jou gelukkig maak, maar die groot vrae jou pla; as jy in die buitelug Moeder Natuur in al haar glorie wil ervaar, maar ook opgewonde raak om binne die vier mure van 'n laboratorium die oënskynlik onsigbare wonderwerkies van die natuur van naderby te beskou – dán is entomologie vir jou! 

The post Die liefdeslewe van miskruiers: V&A met Einstein-kompetisie-wenner Anneke Schoeman appeared first on LitNet.

Onderhoud: Anna-Mart van der Merwe sélf tuis voor die kospotte

$
0
0

Anna-Mart van der Merwe gesels met Yolanda Wessels oor Clara, lekker kos en sensualiteit.

Met Dis koue kos, skat op almal se lippe het Yolanda Wessels meer gaan uitvind by die geliefde aktrise Anna-Mart van der Merwe oor haar allegaartjierolle van Clara Brandt tot haar nuutste produksie.

Marita van der Vyver vertel dat sy aan niemand beter kon dink om Clara te vertolk nie – dis seker ‘n groot eer en voorreg om aan dié karakter te kon lewe gee?

‘n Eer, voorreg én groot geskenk van Marita af. Ek het groot respek vir skrywers en besef dat hul vir maande (jare?!) saam met ‘n karakter leef. Daarom is ek ewig dankbaar vir die geleentheid om Marita se Clara Brandt te mog leer ken en ervaar.

Ek verstaan dat jy siek was tydens die verfilming, maar ten spyte daarvan moes jy aangaan – dit was seker ‘n uitdaging?

In my bedryf bestaan daar nie iets soos siek word nie. Slegs ‘n doodsertifikaat kan verhoed dat die gordyne daai aand sal oopgaan. In alle erns, egter: dit was winter en ons het maar almal siek geword. Die samehorigheid op stel was ongelooflik en het mens regop gehou.

Marita het verduidelik dat om ‘n karakter in haar kop te hê, die oorgang na ‘n rolprent en ‘n gepaste persoon om die rol te vertolk, geensins ‘n probleem was nie en jy was ongetwyfeld die gekose persoon. Was dit ‘n intimiderende ervaring om Marita op stel te hê?

Nie op ‘n persoonlike vlak nie. Marita is so ‘n warm, vrygewige mens en energie om naby jou te hê, dus het haar teenwoordigheid my veilig laat voel en krag gegee. Op ‘n professionele vlak was daar dalk soms wel ‘n gevoel van jy hoop die werk voldoen aan haar verwagtinge!

Anna-Mart van der Merwe

Dit was die tweede rolprent waarvan Marita die skrywer is waarin jy te siene is. Geniet jy die tipe karakterrolle wat onder haar pen ontwikkel?

Ja, want Marita het soms ‘n rebelse en aweregse manier van na die lewe kyk en hoe sy haar karakters benader. Sy skep protagoniste met menslikheid, feilbaarheid en soms voete van klei.

Dit lyk of jy ‘n baie gemaklike en selfversekerde persoon is en of jy werklik met almal oor die weg kom. Hoe was die ondervinding om saam met jou mede-akteurs en Etienne Fourie te werk aan dié fliek?

Wonderlik! In my tipe werk is daar nie tyd om vir maande lank eers mekaar te leer ken, gemaklik te raak en dan aan die einde van die jaar by die Kerspartytjie vir die eerste keer sommer lekker saam te kuier nie. Ons moet van dag een af inspring en baie naby, intens en intiem saamwerk. Hoe ouer ek word, hoe meer besef ek dat ons almal maar eintlik by tye onseker is en dat oë toemaak, hande vat en saam inspring maar die enigste manier is. Die seëning van Koue kos was dat daar van dag een af geen grense tussen die tegniese span en spelers was nie. Ons was een.

Anna-Mart van der Merwe en Elzabé Zietsman

Die deurlopende tema is wraak en Clara ervaar die verskillende fases wat gepaardgaan met herstel, woede, aanvaarding, om haar kinders gebalanseerd groot te maak, die soeke na genesing en selfs weer romanse. Hoe berei jy jouself voor vir die karakter om die rol oortuigend te vertolk in ‘n situasie waarin jy jou dalk nooit bevind het nie?

Verbeelding is ‘n magtige ding en die skrywer gee jou al die bakens, tekens en simbole via sy/haar teks. Ek moet na gelang van my eie menslikheid gaan soek na die karakter en haar eie, unieke innerlike lewe.

Natuurlik is daar heelwat kos ter sprake in die film. Kos én gewig is sekerlik die meeste vrouens se swakheid én kopseer en daarom ‘n voortdurende stryd. Is jy gemaklik in jou eie lyf of hoe het dié rol jou beïnvloed of moes jy byvoorbeeld bietjie meer oefen ná voltooiing van die rolprent?

Op my ouderdom raak ek al hoe meer gemaklik in my lyf en is net dankbaar vir gesondwees. Ek het van nature ‘n “boeremeisie”-lyf en dit probeer ek handhaaf. Na gelang van ‘n rol sal ek bietjie verloor of optel. As akteur is jou lyf jou instrument en moet jy dit aanwend soos benodig. Wat Koue kos betref: ek was die gewillige ontvanger (eter J) van heerlike kos in ‘n menigte tonele en dit was so reg vir die karakter!

Anna-Mart van der Merwe

Clara is ‘n kosskrywer. Hoe tuis is jý in die kombuis?

Ek leef nie noodwendig in die kombuis nie, maar is wel baie tuis daar. Ek en my man hou van mense om ons tafel en kook baie gereeld saam.

Lekkernye is dikwels “gemakskos” – is dit iets waarmee jy kan assosieer?

O ja, ons almal ervaar maar soms ‘n “leemte” wat in die oomblik slegs deur orale vertroosting gevul kan word …

Hoe gemaklik was jy om jou sensualiteit én seksualiteit te gebruik vir karakterontwikkeling in die film?

Baie gemaklik, want Etienne Fourie en my medespelers het my veilig laat voel en weer eens, soos met die kos, lê die karakter Clara se sensualiteit in ‘n sensoriese, tasbare ervaring van die lewe.

Hoe benader jy romantiese tonele (soen, naaktonele ens), en is dit makliker of moeiliker saam met ‘n mede-akteur wat jy goed ken (in dié geval Frank Opperman)?

Dié tipe ding kan dalk ongemaklik wees, maar die regisseur skep ‘n omgewing waarin almal kan ontspan en dan is daar iets soos vertroue en professionaliteit en doodeenvoudig die ding doen. Daar’s ‘n storie wat ons moet vertel, so get on with it.

Dit moes sekerlik ‘n interessante ondervinding wees om die skerm te deel met die Doug, die oulike mopshond? Watter uitdagings het dit gehad?

Die uitdaging was om in ‘n karakter te bly en te konsentreer, want Doug was eenvoudig die oulikste ding op vier bene!!

Vind jy om saam met akteurs te werk wat jy goed ken of selfs mee bevriend is, lei soms tot impromptu vertolkings ipv om streng by die teks te hou?

Nee, ons het streng by die teks gebly. As jy medespelers het wat jy goed ken, is die kanse beter om dalk met meer gemak die teks te kan interpreteer en kreatiewe maniere te ontdek hoe om bietjie met die toneel rond te speel.

Die meeste filmresensies prys die watertandlekker disse, pragtige dekor en uitstaande rolvertolkings. Wat sou jy uitsonder wat jy graag sal onthou van betrokkenheid by die film?

Marita se Clara, Etienne Fourie, om met ‘n jonger generasie van filmmakers te kon werk en die samehorigheid wat ons op stel gehad het.

Clara word op ‘n reis geneem met die slotsom van selfaanvaarding. Etienne Fourie noem dat die element van vergifnis vir hom uitstaan. Wat is jou mening oor wat fliekgangers kan leer en saam met hul neem wanneer hul uit die teater stap?

Jy is nie die somtotaal van die traumas in jou lewe nie. Soms moet ons daai rugsakke afruk, uitskud en aanstap.

Anna-Mart van der Merwe, Etienne Fourie, Marita van der Vyver en Elzabé Zietsman

Die film het heelwat Silwerskermfees-benoemings gehad. Wat was jou ondervinding by die onlangse Silwerskermfees?

Ek kon dit ongelukkig nie bywoon nie, want ons was aan’t speel in die Fugard-teater met The painted rocks by Revolver Creek, Athol Fugard se jongste stuk.

Met soveel jare ondervinding as aktrise, van vollengte-rolprente, televisiereekse en teater wat teruggaan tot 1989, wat is jou gunstelingmedium of hoogtepunte wat jy graag wil uitsonder?

Die verhoog bly my gunstelingmedium en ‘n tuiste vir my.

Jy het ook al in heelparty reekse gespeel. Ervaar jy dit meer uitdagend van aard met die besige, aaneenlopende roetine as met films?

Dit hang alles af van die grootte van jou rol. Hetsy met ‘n film of ‘n reeks, skiet jy uit kontinuïteit en kan dit gebeur dat jou roepe (werksdae) versprei oor die skietperiode is of dat jy vinnig al jou tonele klaarskiet. Met ‘n fliek soos Koue kos was dit als baie vinnig as gevolg van ‘n kort skietperiode en baie tonele en dan is dit uitdagend, want tyd vir werklik voorberei is min.

Jy speel in ‘n wye verskeidenheid uiteenlopende rolle en dit kom voor of jy ewe gemaklik is met drama as met humor. Ervaar jy egter die een moeiliker as die ander?

Die top komediante sal jou mooi kan vertel van die uiters fyn en spesiale tegniek aan komedie/humor en ja, dis nie altyd maklik nie. Albei tipe rolle is egter ‘n uitdaging en laat mens elke keer weer aan jou gereedskap slyp.

Soss jy genoem het, is jy tans te sien in Athol Fugard se The painted rocks. Vertel ons bietjie meer daarvan asseblief?

As ek sê dat teater soos ‘n tuiste vir my is, is The painted rocks een van die mees besonderse ervarings in my lewe. Om saam met Athol Fugard en Paula Fourie sy nuwe teks te mog ondersoek, bespreek en ervaar, was doodeenvoudig magies. Wat ‘n geskenk en voorreg! My maag staan blinkpens gevreet.

The post Onderhoud: Anna-Mart van der Merwe sélf tuis voor die kospotte appeared first on LitNet.

Viewing all 21831 articles
Browse latest View live