Quantcast
Channel: LitNet
Viewing all 21593 articles
Browse latest View live

Boekresensie: Verlorenkop deur Celesté Fritze

$
0
0

Verlorenkop
Celesté Fritze
Queillerie
ISBN: 9780795801068

“As jy met empatie kyk, is daar plek vir die voorgeslagte om vir jou ʼn borswering teen die lewe te wees,” vertel Celesté Fritze in ’n onderhoud oor haar debuutroman op LitNet (Meyer, 2016). Vir Jo, die hoofkarakter in Verlorenkop, word die voorgeslagte wel uiteindelik ’n borswering, maar nie sonder ’n moeilike en uitgerekte proses van selfontdekking nie – waartydens haar naam verander van Johanna du Plooy, na Jo Pieterse, na Joanne Peters en uiteindelik na net Jo.

Vir die jong Johanna raak alles in Suid-Afrika net te veel: haar familie, die politiek en die geheime wat sy met haar moet saamdra. Na ’n traumatiese seksuele ervaring verander sy haar naam na Jo, trou met Kerneels Pieterse en vlug na Vermont in die VSA waar Kerneels navorsing doen oor Alzheimers en Jo haar liefde vir perde op ’n perdeterapieplaas kan uitleef. Maar dit maak nie saak hoeveel keer sy daarvan probeer wegvlug nie, die waarheid haal haar tog telkens in: sy is ’n homoseksuele vrou. Hierdie realiteit leef met haar saam ook in die figuur van haar tante Christine, ’n sterk vroueboer wat herinner aan die formidabele Anna Petronella van Heerden (1887-1975),[i] ʼn baanbreker wat die beeld van Afrikanervroue betref. Die karakter van ta’ Christine leef voort in die dagboeke wat sy aan Jo nalaat, waaruit Jo oor jare heen die binnewerkinge van die Retief-familie leer ken. Die Retiefs het baie geheime gehad, geheime wat met ’n ysterhand beheer is deur die matriarg Delores Retief, Jo se oumagrootjie. Jo se woede oor die sondes van die voorgeslagte manifesteer in skuldgevoelens oor haar eie “sondes”: die vermoede dat sy as kind die eerste minister “doodgebid” het, haar seksuele verwarring, die dood van haar seun Benjamin, emosionele ontrouheid aan haar man, die feit dat haar dogter Christi die lewe van ʼn ekspat moet lei sonder dat sy dit self gekies het.

Die vroulike narratief van Verlorenkop bied ’n blik op die lotgevalle van en verhoudings tussen sterk vroue in die Suid-Afrikaanse konteks vanaf die begin van die 1900’s tot die hede by monde van verskillende vroue, spesifiek die Retief-vroue. Aan die begin van die roman verskaf die skrywer ’n stamboom sodat die leser tred kan hou met die verskillende verhale wat vertel word. Jo en ta’ Christine se lewensverhale word gelyktydig weergegee en die leser besef gou dat hierdie twee vroue se stryd dieselfde stryd is. Waar ta’ Christine se liefde vir Dina wreed beëindig word nog voor dit kon begin, kry Jo die geleentheid om na baie jare vrede met haarself te vind in ʼn verhouding met die joernalis Marga.

Wat die sterk boerevroubeeld betref, staan Verlorenkop in die tradisie van groot verhale soos Olive Schreiner se The Story of an African Farm en Marlene Niekerk se Agaat. Alhoewel die roman nie van dieselfde kaliber as hierdie werke is nie, is die aanvulling wat Verlorenkop tot die Afrikaanse romankuns bied veral gestel in die lesbiese perspektief op die plaasgegewe. Ta’ Christine is ʼn sterk lesbiese vrou wat haar lewe lank ʼn boerdery suksesvol bedryf, en selfs al vlug Jo na ʼn ander vasteland, is sy ook maar ʼn boer in murg en been. Haar perdeboerdery-aktiwiteite verloop vlot danksy die hulp van die enigmatiese Kath. Kath is die een wat Jo Joanne noem en haar ou geheime en vrese weer kom oopkrap met haar intense Argentynse oë. Die onrus wat Jo haar lewe lank dryf, kom eers tot bedaring wanneer Jo op die plaas Kleinfontein in die Karoo gaan boer ná Kerneels se dood. Saam met Marga maak Jo daar uiteindelik vrede met haarself en haar voorgeslagte.

Die tema van oudword en vergeet is een wat sterk in die roman na vore tree. Alzheimer se siekte is in beide Jo en Kerneels se families teenwoordig. Kerneels wy ook sy hele professionele loopbaan aan navorsing daaroor. Jo word as kind saam met haar seniele oumagrootjie Delores in die afgekampte blomtuin “weggebêre”, ʼn beeld wat in die proloog die verhouding tussen die voorgeslagte en die nageslagte op die voorgrond bring: “So kon die twee in hulle eie wêreld wees. Die een in die wêreld van voorkennis, die ander in die wêreld van nakennis ...” (12). Ta’ Christine se dagboeke bied verweer teen die aanslae van vergeet en bring ook die wêrelde van voorkennis en nakennis byeen. Ta’ Christine word so goed in hierdie dagboekinskrywings gekarakteriseer dat ʼn mens soms wonder of sy nie eerder die hoofkarakter moes gewees het nie. Die eerstepersoonsverteller wat in ta’ Christine se vertelling gebruik word, sou dalk die karakter Jo vir die leser ook meer toeganklik gemaak het.

Die titel van die roman verwys nie slegs na die Retiefs se familieplaas (Verlorenkoppe) nie, maar ook na ʼn soort oomblik, vertel Fritze in die onderhoud op LitNet: “Miskien is dit ʼn moment wanneer ʼn karakter besef sy het haarself ʼn onguns bewys: sy was te lank onder mensebeheer, sy het lank genoeg na die kerk, die skool, die (straight) samelewing, en die voorsate se pype gedans.” Dit is die moment wanneer sy haar ta’ Christine se blou jas met selfvertroue kan aantrek en kan sê: “Nee, ek is nie gepla nie ... Ek lê gemaklik tussen die skerwe van die glashuis. Die tewe lê by die tewe. Ek het die rubicon vir ons oorgesteek, ta’ Christine” (253).

Verlorenkop is ʼn verdienstelike debuut wat ʼn verhaal vertel wat interesseer en gemaklik lees. Dit dra by tot die verruiming van die tradisie van die plaasnarratief in Afrikaans deur spesifiek die lesbiese perspektief daarop oortuigend weer te gee.

Bibliografie

Meyer, N. 2016. Tien vrae: Verlorenkop deur Celesté Fritze. http://www.litnet.co.za/tien-vrae-verlorenkop-deur-celeste-fritze.

Viljoen, L. 2008. Nationalism, gender and sexuality in the autobiographical writing of two

Afrikaner women. Social Dynamics, 34(2):186–202.


[i] Anna Petronella van Heerden was die eerste Afrikanervrou wat as dokter gekwalifiseer het. Sy was bekend daarvoor dat sy vir vroueregte gestry het. Daar bestaan ook ’n baie sterk vermoede dat sy lesbies was. Van Heerden het na haar aftrede ʼn suksesvolle boerdery op haar eie bedryf. Daar het twee outobiografiese tekste uit haar pen verskyn. (Viljoen 2008:187)

The post Boekresensie: Verlorenkop deur Celesté Fritze appeared first on LitNet.


Ou laai

$
0
0
Woorde word al vir eeue gebruik om mense se verstand te verstop.
 
CM

The post Ou laai appeared first on LitNet.

Waar kom die naam Olimpiese Spele vandaan?

$
0
0

Aangesien die Olimpiese Spele tot 'n einde gekom het, het een van my skerp vrinne dit goedgedink om vir my die volgende aardskuddende inligting te gee.

I recently came across some background information on the Olympics in Greece. And since the games are going on I would like to share it with you. If your Greek should be a bit rusty, you should not have a problem figuring it out.

Greek History

2500 years ago a slave call girl from Sardinia named Gedophamee
(pronounced Get-offa'-me) was attending the first athletic festival in Greece. This festival had no name.

In those days the athletes performed naked. To prevent unwanted arousal while competing, the men imbibe freely on a drink, containing saltpetre before and throughout the variety of events.

At the opening ceremonial parade of this first great event, Gedophamee observed the first wave of naked athletic males marching toward her and she exclaimed: "Oh! Limp pricks!" Over the next two and a half millennia that expression morphed into "Olympics".

Just thought I'd share this new found knowledge with you.

The post Waar kom die naam Olimpiese Spele vandaan? appeared first on LitNet.

Engels se ontwikkeling

$
0
0

Ek is nie 'n taalkundige nie, of 'n Engelskundige nie, of eintlik nie 'n kundige op enige belangrike gebied nie. Trouens, soms kan ek nogal taamlik onkundig wees! Maar ek is lief vir Afrikaans en ook Engels kan nogal taamlik mooi wees.

Nou, seker maar omdat ons Afrikaners gedurig in 'n stryd gewikkel is om te bewys ons taal is net so goed soos ander en het 'n bestaansreg naas die grootste tale in die wêreld, het ek nog altyd belang gestel in hoe ons taal ontwikkel het, teenoor die ontwikkeling van ander tale, veral Engels wat ook goed aan ons bekend is en deur baie gesien word as ons grootste teenstander hier in die RSA. En as 'n bedreiging vir Afrikaans!

Daarom was ek bly toe ek 'n oulike artikel in 'n ou Reader's Digest raakloop oor hoe Engels oor die eeue ontwikkel het, wat alles mooi saamvat, alles wat ons reeds weet. Op 'n manier kan dit deurgetrek word na ander tale, ook Afrikaans, want almal het maar deur 'n soortgelyke proses gegaan en alle tale ontwikkel steeds, dit is 'n aaneenlopende proses.

Die artikel was in die Digest van Maart 1996 onder die titel The Glorious Messiness of English en is geskryf deur Robert Macneil. Eers maak hy 'n paar grappies oor hoe verkeerd Engels soms deur anderstaliges gebruik word, soos die volgende kennisgewing wat hy sê in 'n hotel in Tokio aangebring is: "You are invited to take advantage of the chambermaid."

Dan gaan hy voort en vertel ons 'n bietjie van die geskiedenis van Engels, maar ek haal eers hierdie stuk aan:

"The story of our English language is one of massive stealing from other languages. That is why English has an estimated vocabulary of over a million words, while other languages have far fewer.

French, for example, has only about 75000 words, and that includes expressions such as snack bar and hit parade. The French, however do not like borrowing words because they think it corrupts their language. The government tries to outlaw words from English and passes decrees saying jumbo jet is not desirable; so they invent a word gros porteur. French children are supposed to say balladeur instead of Walkman, but they don't."

(Blykbaar is die woord Walkman deur Japanese vervaardigers uitgedink.)

Nou die geskiedenis: Toe die Romeine Brittanje in 55 vC binnegeval het, het Engels nog nie bestaan nie. Die destydse tale oorleef vandag as Wallies, Gaelies en Bretons. (Latyn sou op hierdie stadium natuurlik al tot die plaaslike woordeskat begin bydra het.)

Die volgende inspuiting van woorde het gekom toe Germaanse stamme, die Angele en Saksers uit die huidige Duitsland; en die Jutte (uit hedendaagse Denemarke) na Brittanje gemigreer het. Hieruit het natuurlik 'n groot aantal woorde die Engelse taal binnegekom, soos sheep, shepherd, earth, swine, ox, wood, field en work, asook glee, laughter en mirth. (Ek raai dat dit ook al die woorde sal insluit waar daar 'n duidelike ooreenkoms is met Afrikaanse woorde, want Afrikaans stam mos ook van Germaans af.)

Die Christendom se koms na Brittanje het vervolgens ook die taal beïnvloed. Monnike is gestuur om kerke en monnik-kloosters te bou. Só het ongeveer 400 tot 500 woorde uit Grieks en Latyn die taal binnegekom, met die volgende voorbeelde: angel, disciple, litany, martyr, mass, relic, shrift, shrine, psalm.

Invalle deur die Wikings het ook 'n bydrae gemaak, veral baie woorde wat begin met sk, soos sky en skirt. Die ou Noorse vorms het in sommige gevalle naas die oud-Engelse oorleef, daarom kan mens praat van to rear a child (Engels) of to raise a child (Noors). Nog voorbeelde is wish en want, craft en skill, hide en skin.

Sekerlik een van die vernaamste invloede het gekom na die jaar 1066, toe die Normandiërs die Engelse oorwin en Engeland binnegeval het. Daarna is daar vir lank drie tale in Engeland gebruik: Frans vir die aristokrate; Latyn vir die kerke; en Engels vir die gewone mense. Die Normandiërs het beef (boeuf) geëet, die Engelse ox of cow; die Normandiërs venison, die Engelse deer. Engels besit vandag al hierdie woorde.

Godsdiens, die regstelsel en wetenskap is gewoonlik in Latyn en Frans beoefen: Nuwe woorde was bv felony, perjury, attorney, bailiff en nobility. Partykeer was daar drie terme vir dieselfde ding, bv die Angel-Saksiese kingly, maar na die Normandiërs se koms was daar drie sinonieme: royal, regal, sovereign. Teen die einde van die vyftiende eeu was daar al omtrent 10000 (tien duisend) woorde wat Engels uit Frans geleen het.

Verdere invloede op die ontwikkeling van Engels was ondermeer die drukpers wat William Caxton in 1476 daar opgestel het; die Renaissance, met vertalings van Latynse en Griekse werke en aanwas van die Engelse woordeskat uit daardie tale; en die ontwikkeling van die wetenskap wat nuwe woorde genoodsaak het.

Vir interessantheid kan genoem word dat die Engelse woorde admiral (amîr a' alî) en alcohol (Al-kuhl) volgens die skrywer van die artikel uit Arabies afkomstig is; en in skaak kom checkmate van die Persiese shah mat, wat beteken "die koning is dood".

'n Mens kan so aangaan. Die Britse bedrywighede en kolonisasie regoor die wêreld het hulle natuurlik met baie ander tale en nuwe woorde in aanraking gebring, selfs enkele Afrikaanse woorde. Die Deense geleerde Otto Jespersen word aangehaal waar hy in 1905 geskryf het: "The English language would not have been what it is if the English had not been for centuries great respecters of the liberties of each individual and if everybody had not been free to strike out new paths for himself." Of die Engelse nou werklik soveel respek gehad het vir die vryheid van ander nasies is sterk te betwyfel (ek wil eintlik sê totaal onwaar), maar miskien het hulle onder mekaar wel vryhede toegelaat. Elke Engelsman kon doen wat hy wou (?) en elke Afrikaner/Boer ook, solank hy eers 'n Engelsman word!

Ons weet dat ook Nederlands talle woorde tot die Engelse woordeskat bygedra het, ek gee 'n kort lysie van 'n paar waarvan ek weet:

boom (op 'n skip of sperboom)

yacht

deck

coleslaw

caboose (Amerikaans)

dollar (Deur Vlaams vanaf Duitse Joachimsthaler, na die silwer myn van Joachimsthal wat nou in die Tsjeggiese republiek geleë is, volgens die Encarta Dictionary).

Die vraag ontstaan by my, ons, wat so sterk daarteen gekant is en die ritteltits kry as mense hulle tale meng: moet ons nie 'n bietjie meer toeskietlik wees nie? Indien wel, moet daar darem ook sekere perke gestel word, soos om nie sondermeer goeie Afrikaanse woorde oorboord te gooi en die Engelse aan te gryp nie. Nog 'n ding: moet die Engelse woorde wat so gebruik word nie summier ver-Afrikaans word nie? So kan ons dalk ons taal verryk, ek weet nie, wat sê die slimmes?

In elk geval, ek het daar geen skaamte oor dat ons, wat bv die wetenskap en tegnologie betref van Engels leen nie, want hulle het dit self iewers geleen, of sommer opgemaak! Daarom glo ek hoef ons op geen gebied vir Engels of enige taal terug te staan nie, ons kan net so goed "borrow" as hulle!

Groete,

Tiens

 

The post Engels se ontwikkeling appeared first on LitNet.

Aangebore wysheid

Tafelberg

$
0
0

Uit die see,
Is hy opgewek.
Soos ’n tafel,
Met ’n wolk gedek.

Sy uitkyk,
Ver oor die Kaap.
Sien hy mense,
Hulle aan hom vergaap.

Elke dag,
Moet hy besoekers dra.
Maar hieroor,
Is hy min gepla.

Word as een van die wonders,
Van die wêreld beskou.
Sy statigheid,
Mooi om te aanskou.

Tafelberg,
Die Kaapse trots.
Sy liggaamsbou,
Is klip en rots.

The post Tafelberg appeared first on LitNet.

Resensie: Vroue van die Bybel deur Esté Geldenhuys

$
0
0

Vroue van die Bybel
Esté Geldenhuys
Lux Verbi 
ISBN: 9780796319630

Geldenhuys is ‘n bekende skrywer en radio-omroeper wat met die moed van haar oortuiging eerlik en sonder skroom evangeliese waarhede oordra. Hierdie waarhede is nie alleen op haar geloof geskoei nie, maar ook op haar kennis van die Bybel en haar beleë insig  en integriteit.

Die subtitel van hierdie boek, Vroue van die Bybel, is ... praat met ons vandag. Enige resensent staan deesdae redelik skepties teenoor die tientalle boeke wat die klem op vrouwees laat val. Hierdie boek is egter geen liggewig nie. Manlike lesers behoort dit immers ook interessant te vind. Dit handel ook nie hoofsaaklik oor vroue van die Bybel nie. Dis nie ‘n oproep om goed te voel nie, maar bevat wel ‘n ope uitnodiging om God in jou lewe toe te laat. Die boek gaan dan ook in die eerste plek om God, die Here van hierdie vroue en hoe Hy hulle behandel het en steeds die gelowige vrou benader en hanteer.

Die leser word bekendgestel aan ‘n verskeidenheid vroue van die Bybel van Eva tot die Hooglied-vrou. Die oogmerk is om die leser te laat leer uit die universele aard van die mislukkings én suksesse in die lewe van hierdie vroue. Die postmoderne leser, al sou hy/sy ‘n gelowige wees, mag dalk skepties staan oor die genoemde "iets te leer" uit hierdie vroue se lewens. Die moontlike lewenslesse hierin vervat is hier bepaald nie vol versiersuiker nie. Niks in die lewe van vroue soos byvoorbeeld Maria, die moeder van Jesus, of Maria Magdalena, die volgeling van Jesus, word eufemisties uitgebeeld nie.

God weet die wêreld is stukkend. Van Ragab die hoer, soos wat sy pront in die Woord genoem word, tot by die ewe promiskue Samaritaanse vrou bewys God dat hy die sondaar liefhet, al sou Hy die sonde haat. Vir God bestaan kultuur- en rasseskeiding nie. Hy vee dit plat meermale wanneer sy dissipels dink Hy fouteer.

So word dié vroue van die Bybel se geskiedenis kortliks vertel, maar met God se rol onmiskenbaar daarin verweef.  Na elke geskiedenis volg Geldenhuys dit op met ‘n kort (of soms langer) essay as nabetragting.  Dit op sigself is ook deeglik gedoen binne die beperkinge van so ‘n boek. Een van die beperkinge is vanselfsprekend spasie. Die ruimte binne so ‘n boek wat op die mark gerig is, laat dit nie toe nie. Al die geskiedenisse van hierdie vroue kan veel dieper en teologies meer solied aangebied word, maar die oogmerk van hierdie boek is om die leser bewus te maak van God se rol ook in sy/haar lewe. Daarin slaag die skrywer beslis.

Geldenhuys hou dwarsdeur die boek voet by stuk: Liefde is ‘n daad, dis nie woorde of emosie nie, en sy baseer hierdie standpunt op 1 Johannes 4:10-12. God het die mens eerste liefgehad en uit liefde sy Seun gestuur om  namens die mens ons sonde te dra.

Verder  lig Geldenhuys  telkens uit dat die Here, Jahweh, die groot EK IS, is. Naomi hou byvoorbeeld met haar hele wese vas aan God, al verklaar sy in haar ellende dat God se hand teen haar is. Haar onwankelbare voorbeeld lei daartoe dat Rut onomwonde verklaar dat haar skoonma se God ook haar God is (Rut 1:16,17). Geldenhuys vra dan ook die volgende vraag in die nabetragting van Rut se geskiedenis, en beantwoord dit terselfdertyd: “Wanneer is ‘n getuienis geloofwaardig? Sekerlik wanneer dit volhoubaar gelééf word...” (115).

Die boek is vlot geskryf en die skrywer is seker van haar saak. Geldenhuys probeer nie bekeer nie, sy getuig net. Sy vertel van wat was en wat is en altyd sal wees: Die mens se soeke na God soos uitgebeeld in die soms erg treurige en meermaal wonderbaarlike gebeurtenisse in die lewens van hierdie vroue van die Bybel.

Op ’n punt van kritiek: Die skrywer sê soms te veel. Byvoorbeeld op bladsy 211: “Maria het die beste keuse gemaak. Kom ons volg haar voorbeeld”.  Die “Kom ons volg haar voorbeeld” kon maar gebly het. Dit is ‘n gevolgtrekking wat die leser werklik self maak.

Ander voorbeelde van woordrykheid kom ook voor, byvoorbeeld op bladsye 218 en 219, waar herhaaldelik gevra word wat die leser vandag behoort te doen. Die hele wese van die boek (al verwys dit na gebeurtenisse van duisende jare gelede), is immers gerig op vandag se probleme, want universele probleme bly dieselfde. Dit  bly net ‘n kleinigheid in ‘n boek wat baie lesers sal raak.

The post Resensie: Vroue van die Bybel deur Esté Geldenhuys appeared first on LitNet.

Wie was Master Jack – 'n myner van Welkom?

$
0
0

Die Four Jacks and a Jill se “Master Jack” het in die vroeë 1970’s ’n blywende indruk op my as ’n jong Afrikaanssprekende plaasseun gemaak. Ek sou later uitvind dat hierdie liedjie die eerste Suid-Afrikaanse popliedjie was wat ’n nommer 1-plek op die internasionale treffersparades kon behaal: in 1968 op die VSA-, Maleisiese, Australiese en Nieu-Seelandse treffersparades, om maar net enkeles te noem. Dit was veral die reël “It’s a strange, strange world we live in, Master Jack” wat my destyds bygebly het. Vir dekades het ek gewonder wie Master Jack is of was.

In my ure van navorsing vir my boeke oor Noord-Kaapse en Vrystaatse dorpe lees ek toe op ‘n dag in die Letterkundige Museum (NALN) in Bloemfontein, in ’n ou Huisgenoot (13 Desember 1968) die rare verhaal oor “die vreemde wêreld van Master Jack” raak.

Die komponis van hierdie merkwaardige liedjie was Spiros David Markantonatos. Sy plate-agent het sy naam destyds eensydig verander na David Marks. David se verhaal begin in Kaapstad, waar hy op 2 Junie 1944 gebore is (Google meld dat hy op 2 Februarie 1944 gebore is). Hy was die oudste van ’n Griekse pa en ’n Ierse ma se sewe kinders. Die meeste van sy kinderjare het hy deurgebring in Witbank (nou eMalahleni), waar sy pa ’n myningenieur was. Op hoërskool het hy sy eerste kitaar vir R2 aangeskaf en dit oral saamgedra “omdat dit goed gelyk het”. Na skool het hy as leerlingmynopmeter op Oos-Geduld en Grootvleimyn begin werk. Daarna is hy St Helena-myn toe in die Vrystaat.

Sy liefde vir popmusiek het ’n ernstige wendig geneem nadat hy Jeremy Taylor se “Ag pleeze, Daddy” op sy kitaar kon speel en sing. Op skool het hy sy eerste popgroep gestig, “The Boys”, en later, op die Vrystaatse goudvelde, het hy en ’n paar maats as Die Jamtarries in omliggende dorpe opgetree.

Van kleins af het myne en mynwerkers vir David ’n bekoring gehad. En vandat sy oupa in ’n mynramp dood is, was dit sy begeerte om die mynwerker se lewe en sy gemoed te besing. David se ideaal is nie verwesenlik nie, tot einde 1966, toe sy eerste treffer, “Mountains of men” vrygestel is, opgedra aan alle mynwerkers. “Mountains” het gou ’n treffer geword. Kort daarna is “Coalbrook” vrygstel – ook ’n treffer.

Fotobron: YouTube

’n Paar maande later gaan kyk David ’n rolprent wat ’n diep indruk by hom laat: Ship of Fools. Die patetiese hoofkarakter in hierdie rolprent, wat nie eens sy eie naam kan onthou nie, doen wonderwerke vir ander mense en hulle omstandighede (hy los hulle probleme vir hulle op), terwyl hy nie sy eie probleme kan oplos nie. Na die film het David gedink: “It’s a strange, strange world we live in.” Die volgende dag het hierdie reël aanhoudend in David se kop bly maal. Hy het baie gehou van die ritme van die reël en het geweet dat hy hier iets beet het.

David se swart kollegas by die myn het hom destyds as Master Jack aangespreek. Daardie middag na die film, terwyl hy onder in die mynskag vir die hyser gewag het, het ’n wysie vir die woorde by hom opgekom. Die titel vir die liedjie het ook daardie middag by hom vasgesteek nadat ’n swart kollega hom met ’n “Good day, Master Jack” gegroet het.

Met die vrystelling van sy eerste treffer, “Mountains of Men”, het David sy voet in die musiekwêreld se deur gekry. Op die plaat se etiket is sy naam deur die platemaatskappy verkort tot David Marks. Sonder sy toestemming en teen sy sin, sê David, maar om klaarblyklike redes.

Na ’n vakansie in Durban, waar hy onder andere die Four Jacks and a Jill ontmoet en ’n aanbod gekry het om ’n musiekgroep te help begin, besluit David om die musiekwêreld voltyds te betree. Dit is by hierdie geleentheid dat hy sy “Master Jack”-liedjie aan hulle gegee het om op te neem.

Hy skryf die graagste, sê David, oor mense wat hy nie veel van weet nie, die verdruktes en die verloorders, die Master Jacks en die Mister Nico’s van die lewe.

David sluit sy onderhoud met Koos van der Merwe in die Huisgenoot af met die volgende: “As jy nie omgee nie, moenie van my praat as komponis nie. Sê ek maak liedjies. Opleiding in musiek het ek in elk geval nie gehad nie, en ’n beroepsmusiekskrywer wil ek nie wees nie.”

1967–1970

David se ander treffers was “I like watching People”, “Shiny, Shiny, Fairygold”, “Practise what you Preach” en “Mister Nico”.

Spiros David Markantonatos (72), alias Master Jack, oftewel David Marks, lewe nog. Hy en sy vrou Frances woon in Durban. Hy is steeds bedrywig in die musiekbedryf, en tree nog van tyd tot tyd by musiekfeeste op.

En ja, die lewe bly helaas nog vir my “a strange, strange world (to) live in, Master Jack”.

* Jan van der Merwe, skrywer van Vrystaatse Dorpe en Noord-Kaapse Dorpe

The post Wie was Master Jack – 'n myner van Welkom? appeared first on LitNet.


Wat is daar hier?

$
0
0

Fotobron: www.cray.com

What is there here but weather?
- Wallace Stevens: "Waving Adieu, Adieu, Adieu"

Stevens se woorde het my die eerste keer in Duitsland getref ja!
het ek gedink – só
is dit niks hier behalwe
vier jaargetye en die afwesige medemens nie niks
in die weegskaal nie só
is die lewe ná die dood geborge niks behalwe
die klank van cappuccino-masjiene en Duitse
ditjies en datjies nie niks oor behalwe
skinder nie al genade is om jouself
so stadig moontlik
op te lewe,
maar dit was net
’n droom van ’n Wes-Europa voor die sondvloed
vlugtelinge ’n saai depressie in slowmo 20 jaar gelede 20 jaar later
terug in die onderste-Boland het almal bang geword vir die weer
wat só verander – die vier versteurde jaargetye gaan verward verby
die verkeerde klankbaan vir die verkeerde fliek niemand
kan meer tussen die spesiale effekte
van globalisering, vooruitgang en verval onderskei nie die korrupte son brand al
feller die seevlak styg stadig maar vinniger as die posdiens dog seker
soos ’n uitsettingsbevel van God wie kan nog sê wie
die ware plakkers
hier tussen die berge en die see is wie
al die brandsiek sportmotors tussen soveel voetgangers op die N2
saam met soveel beskaamde hoop
hier in en om al die Kaap se bevryde seer plekke losgelaat het?
Hier brand die weer soos die mense hier vrek
die vier seisoene ook nog een van die dae
aan blootstelling
terwyl ’n vet prossie argeloos ’n veldtie vang
langs die afrit na die highway through hell en die kamma-seerowerseile
van Cape Town Film Studios en my dogtertjie vra:
“Wie se beeste loop hier, Pappa?”

Wat is daar inderdaad hier behalwe
die verdwaalde beeste, arm en ryk plakkers
en ek en klein Lea (7) vrolik
op pad na die pikkewyne by die Kaapse akwarium
saam met al die ander –
toeriste van die laaste dae?

The post Wat is daar hier? appeared first on LitNet.

Uitnodiging: Boekbekendstelling van Broedertwis deur Albert Blake

Reaksie op Angus se kommentaar onderaan my brief van 8 deser

$
0
0

Beste Angus

Jy is nou regtig besig om te skarrel.  Ek het oorspronklik gewys op die anomalie wat betref woordeboeke naamlik dat woordeboeke gebruik word as riglyn vir korrekte woordgebruik maar terselfdertyd neem hulle woorde op wat deur genoeg mense verkeerd gebruik word.  Jy’t toe op jou perdjie gespring – seker gedink ek is nie pk nie of so iets – en wou weet presies WATTER woorde sou nou verkeerd wees. 

Plaas laat ek toe die storie vir jou as huiswerk gee, gee ek toe maar in en noem die woord ‘sondebok’ wat verkeerdelik gebruik word as beskrywend van die ou wat ’n moeilikheidmaker is; hulle gebruik dus ‘sondebok’ waar ‘belhamel’ meer van pas sou wees.  Hiervan het jy toe ’n hele verhandeling gemaak oor sinonieme en wie weet wat nog.  Die punt is daar ís woorde in woordeboeke wat in die volksmond ’n verkeerde betekenis gekry het.  So wat jy ook al dink jy ‘bewys’ het, het niks met die onderwerp te doen nie.

Jy sê, in jou eerste paragraaf “ . . . volgens [my] gaan die bespreking oor hoe om leenwoorde uit te ken.”  Nee Angus, die bespreking gaan oor die teenstrydigheid soos hierbo genoem.  Die manier oor hoe om te onderskei tussen ’n leenwoord en ‘n ingeburgerde woord, naamlik die gebruik van woordeboeke, was my voorstel aan jou want dit het gelyk of jy moeilikheid in dié verband ondervind.  En dit werk, daar het jy toe uitgevind dat ‘establishment’ toe nie ’n leenwoord (of ingeburgerde woord dan) is soos ek beweer het nie, ek was dus verkeerd.  So, aangesien ‘establishment’ net in Engelse woordeboeke voorkom verteenwoordig die gebruik daarvan in Afrikaans dan natuurlik swak Afrikaans.

Jy spring rond – eers sê jy die sin “jy moet ’n relationship establish met die vendor” is nie Afrikaans of Engels nie maar Afrikaaps.  Nou dat jy agterkom hierdie stelling van jou was onsin, beweer jy jy het maar ’n flou grappie gemaak; dit IS toe Afrikaans volgens jou.  Angus, dit is Afrikaans in dieselfde mate as wat “you must vestig ’n verhouding with the verkoper” Engels is – swak Afrikaans en swak Engels.

Oor die een-begrip-een-woord-storie:  Jy sê ‘die man eet kaas’ is ook een begrip.  Miskien, maar dis ooglopend nie wat my onnie met een begrip bedoel het nie en ons, sy klas, het dit ook nie so verstaan nie.  As jy so wil redeneer kan jy ook aanvoer dat ‘die man eet kaas want hy hou daarvan’ ook een begrip is, of ‘die man eet kaas op sy brood sonder botter want dit is soos hy daarvan hou’.  So kan jy aangaan tot jy die hele evolusieteorie van Darwin of die uitsluitingsbeginsel van Heisenberg as een begrip beskou en my dan uitlag omdat daardie verhandelinge uit baie sinne, paragrawe en hoofstukke bestaan en kennelik nie een lang woord is nie.  Dis mos nou logies dat wat my onnie bedoel het is soos jou voorbeeld sê – ‘koffiebeker’ is nou een begrip en word vas geskryf (waar die Engelse dit los sou skryf naamlik ‘coffee mug’).  So, al wat ek jou wou sê, en wat jy goed ook weet, is dat ons (soos die Duitsers en die Hollanders) vas skryf (en die Engelse skryf los).  Maar, weer eens, dit het met die woordeboekteenstrydigheidstorie niks te doen nie; ek akkommodeer maar net jou geskarrel in die hoenderhok want ek hou daarvan.  Jy’s van die min wat SêNet nog die moeite werd maak om te lees.

Ek sien jy sukkel nog steeds met die begrip ‘leenwoord’.  ’n Leenwoord is ’n woord uit ’n ander taal wat ’n begrip beskryf waarvoor daar nie so ’n woord in die betrokke taal bestaan nie.  Die vreemde woorde in die geradbraakte Afrikaanse en Engelse sinne hierbo is dus NIE leenwoorde nie, want daar bestaan goeie Afrikaanse en Engelse woorde vir daardie vreemde woorde.  Soos ek al gesê het, gebruik woordeboeke as jy nie seker is nie.

Tot hiertoe dan en groetnis

Jan Rap

 

The post Reaksie op Angus se kommentaar onderaan my brief van 8 deser appeared first on LitNet.

Moenie bekommer nie, dit sal nog skeefloop

$
0
0
  • dit word eers slegter voor dit beter word;
  • die ergste pyn is net aanvanklik;
  • as dit kan, sal dit tien teen een;
  • alles gebeur soos dit moet;
  • tyd heel alles.

Dit is mos maar hoe hierdie tipe stories gaan.

Maar so sit ek hier, oorkant jou, tussen ons kleindorpse mense en voel nie altyd heeltemal soos deel van hulle en van dit alles hier om ons nie.

Dit was nog een van die eerste aantrekkinge, onthou jy? Ons is/was/sal nog wees, anders as die res. Uniek, ook net soos die res. Ons is nog so jonk, so jonk, so jonk. Die wêreld is ons woning die, Totius het verstaan.

Dit was toe, maar nou is ons maar net soos almal (soos ons seker maar altyd was), maar ons dink net nog nie altyd van onsself soos dit nie, al sien ons dit in mekaar raak. Dit is een van die moeiliker dinge om hardop te sê. Soos al die ander ditte wat daar nou skielik is. Hierdie ditte wat daar tussenin onkruid en oorneem om “aan te spreek” en om “oor te praat” as een of die ander sou wou, of nie (net soos dit vir jou gemaklik is // kom ons maak dit so maklik as moontlik vir ons albei), maar selfs dan nog steeds en op aandrang (o, streel tog net die een of ander gekneusde ego want die een of ander wil nou antwoorde hê!). Ons elkeen se eie “nou” is tog maar net dit: eie. En ook lank en kort en uithoudbaar, en glad nie.

Make a break for it and run, run, run and never look back, because if you don’t you will fall of the edge of the earth and plunge through a rabbit hole and turn into a pillar of salt and your face will freeze that way forever when the clock strikes the hour en jakkals trou met wolf se vrou and when you open your eyes, they are in the same sockets, in the same face, in the same body, in the same bed with the same person, but.

Being different.

Being a different being.

Dit is alles net so bietjie anders, amper ’n bietjie af.

Oopgekrap en oopgeskryf en oopgepraat en oop om na te staar. En dan wanneer dit so is, is die myjy en ekons en myjyne en jons ook anders, oop en onbeskermd.

Begin die dissonansie in die onreëlmatige parallelle, gevolg deur die wan-akkoorde van die wanhoop van probeer maar tog ten einde aanvaar en net nie weet wat de donner om nou meer te doen nie.

Maar hier sit ons nou en jy drink ’n Black Lable en ek koffie want ons kan net nie meer enige iets nie en is moeg.

Die swaartekrag van vier ditwasfantastiesmaarnieregtigniemaareintlikmaarkakmaartogdieheelbeste jare wat met toenemende vreemdheid tussen ons hang word nou deur ons eie seer en hartseer en teerheid en liefde, baksteen vir baksteen- die wesenlikheid van hierdie laaste 4 jaar, gebruik om mure teen mekaar en teen ons en teen onsself om en om mekaar te bou.

Met elke teug koffie en elke sluk bier en elke poging op gesprek wat tog maar altyd faal en elke poging om belangstelling te toon uit nie net oderdentlikheid nie, maar ook omdat ons nog regtig omgee, maar ons weet net nie meer hoe nie en kan dit nie maar net weer wees soos aan die heel begin nie, dryf ons net verder weg van mekaar. Van die mense wie ons was toe ons vir mekaar lief geword het.

Wie is ek en wie is jy en is daar nog ’n ons?

Hallo,aangenamekennis,mooiweervandag,ne?

Ek steek my trane agter my sonbril weg en jy maak asof jy nie weet dat ons al twee nie weet hoe nou nie. Dat ons dalk nog nooit het nie.

Kan ek weer aan jou nek ruik en jou lippe deur jou baard soen wanner jy my druk tussen die rose in die môre son voor werk? Maar ek wil (kan) nie meer nie. Wil (kan) ek? Ek dink na ’n rukkie kan (wil) almal seker maar weer. Of dink almal seker maar hulle kan (wil) weer. “Met alles wat ek nou weet sal dit net anders moet wees (gewoonlik gepaardgaande met ‘n klein skietgebedjie)”. Al is dit dan net vir ’n rukkie.

Tyd is ‘n toets en dans met elkeen op ‘n ander deuntjie.

#liefdewen #togniealtydsonie #ditwordmaarnetnostalgieopnalleenreendag

Maar moet tog net nie bekommer nie, dit sal nog skeefloop, ag ’skuus regloop. Wees rustig, drink tee en eet beskuit, toe! Dis tuisgebak. Moet tog net nie bekommer nie.

 

The post Moenie bekommer nie, dit sal nog skeefloop appeared first on LitNet.

Treurmares by RSG

$
0
0

Ek luister Sondag na 'Die tale wat ons praat' en dit gaan oor babataal teenoor, wat die programleidster (Magdaleen Kruger) en haar gaste, ‘motherese’, noem.  Ek neem aan in Engels staan ‘motherese’ teenoor ‘mother’ soos ‘Japanese’ teenoor ‘Japan’ staan; so hoekom nie, aangesien dit ’n Afrikaanse program is, ‘moederees’ nie?  Op ’n stadium vra Magdaleen of mens die twee kan mix – kan jy glo, die Afrikaanssprekende hoof van ’n Afrikaanse stasie op ’n program oor Afrikaans praat van ‘mix’ in plaas van ‘meng’!

Magdaleen het ook gepraat van ’n baba wat ‘sy of haar taal ...’.  Dit moet wees ’n baba wat ‘sy taal...’; die ‘sy of haar’ is onnodig want baba is onsydig en onsydige goed se persoonlike en besitlike voornaamwoorde is soos die manlike.

Een van die gaste, ook ’n omroeper, het so ’n ruk terug in ’n program oor kinderopvoeding heeltyd van ‘crafts’ gepraat.  ’n Ander omroeper nou die dag praat van ’n helikopter wat ’n ‘propeller’ bo en agter het (in plaas van ’n ‘rotor’ bo en ’n ‘skroef’ of ‘lugskroef’ agter).   Dieselfde omroeper het ook op ’n stadium na ‘witruis’ as ‘wit geraas’ verwys.

In die program daarna, ‘Hoe verklaar jy dit’, sê een van die deskundiges ‘. . . sal daar ’n wyfie is ...’.  Ek mag verkeerd wees maar ek kon sweer dis wat hy gesê het.

’n Groot verleentheid op RSG is die namaak van ’n Engelse spreekwyse as ’n Engelse woord of naam uitgespreek word; dit klink geforseerd en dus baie sleg.  In Engels, as Afrikaanse name of woorde uitgespreek word, word dit verengels om by die sleutel van die taal te pas so hoekom probeer Afrikaanssprekendes die Engelse woorde Engels hou?  Een omroepster het op ’n kol deurmekaar geraak en gepraat van ‘McWeeWie op EwSG’ in plaas van ‘McReery op RSG’.  Behalwe dat McReery ’n Skotse van is en die ‘r’ deur die Skotte soos ons uitgespreek word, is daar baie Engelse wat ook die ‘r’ rol.  Name soos ‘Roland’ of ‘Graham’ word as ‘Roulind’ of ‘Gwyhim’ uitgespreek; dit klink simpel as daar Afrikaans gepraat word.

Van die omroepers en -sters is ook baie ontaktvol; gou-gou word aan ’n gas of inbeller gesê hy kan maar Engels praat as hy wil.  Die ou probeer sy bes om Afrikaans te praat en wat die programleier in effek vir hom sê is dat sy Afrikaans sleg is.  Dit het nou die dag met ’n James Self (of so iets) van die DA gebeur; die man het perfekte Afrikaanse grammatika gebruik, wel bietjie gestamel, en Anita het vir hom gesê hy is welkom om Engels te praat.  Dit is ongeskik teenoor die gas en ook uiters ongeskik teenoor die duisende luisteraars van RSG wat nie Engels kan praat nie.

Ook gebruik omroepers en -sters glad nie meer die hoflikheidsvorm nie, hulle ‘jy en jou’ sommer almal.  Dit is familiêr en ook, streng gesproke, verkeerde grammatika.

Dit sal goed wees as RSG gehoor gee aan wyle Anton Prinsloo se voorstel dat hulle weer ’n taalversorger moet aanstel.

Jan Rap

The post Treurmares by RSG appeared first on LitNet.

Geloofwaardigheid

Kunste Onbeperk-persverklaring: geleenthede vir skrywers van verhoogtekste

$
0
0

Alle Suid-Afrikaanse skrywers word uitgenooi om nou voorstelle in te dien om aan Kunste Onbeperk se vars en opwindende vertoonkas vir nuwe Afrikaanse verhoogtekste deel te neem.

"By ons nuwe Teksmark kan skrywers die verhoogmatigheid van nuwe verhoogtekste toets en, met terugvoer van rolspelers in die bedryf, voltooi of afrond," vertel Rhodé Snyman, uitvoerende hoof van Kunste Onbeperk. Hierdie inisiatief word ondersteun deur die Nasionale Afrikaanse Teaterinisiatief (NATI) en die Baxter Teatersentrum.

Volgens Hugo Theart, kreatiewe hoof van Kunste Onbeperk, het skrywers tot Maandag, 12 September 2016 om voorstelle elektronies in te dien. Voorstelle word dan tot ’n leesteaterprogram verwerk, wat op 31 Oktober en 1 November by die Baxter Teatersentrum in Kaapstad aangebied word.

"Skrywers kry by die Teksmark die geleentheid om met verteenwoordigers van teaters, feeste, vervaardigers en ander moontlike beleggers oor hul teks-idees te gesels en selfs te onderhandel oor moontlike belegging in - en verdere ontwikkeling van - hul tekste," verduidelik Theart.

Tekste in alle Suid-Afrikaanse tale wat nog nooit voorheen professioneel opgevoer is nie, kan ingeskryf word, solank die skrywer inwillig dat die teks in Afrikaans vertaal mag word. "Die doel van die Teksmark is om broodnodige ontwikkeling van - en ondersteuning aan - die skryf van goeie nuwe teatertekste te stimuleer, om afgeronde en geslypte tekste vir toekomstige opvoerings te bied," sê Cornelia Faasen, uitvoerende hoof van NATI.

Voorstelle moet teen Maandag, 12 September 2016 elektronies aan Linda Marques, programbestuurder van Kunste Onbeperk, by linda@kunste.org.za gestuur word. Alhoewel volledige tekste verwelkom word, word opvoerbare uittreksels van ten minste 10 minute ook oorweeg. Meer inligting en riglyne is beskikbaar by www.kunste.org.za/teksmark/. Navrae kan gerig word aan Marques of Faasen by cornelia@nati.org.za.

The post Kunste Onbeperk-persverklaring: geleenthede vir skrywers van verhoogtekste appeared first on LitNet.


Midlands Literary Festival: Programme

$
0
0

KZN's premier book festival, the Midlands Literary Festival, is taking place in Yellowwood, Howick on 27–28 August.

PROGRAMME

Saturday 27 August

9.00–9.30 John Conyngham: Hazara: Elegy for an African farm
9.30–10.00 Brian Khoza: Smiling after lost love
10.00–10.30 Nikki Brighton: Mnandi: A taste of Mphophomeni

mlf1

10.30–11.00 Tea

11.00–11.30  Thomas Mollett: Bloody lies – the Inge Lotz murder
11.30–12.00 Marí Peté: Step through
12.00–12.30  Darryl Earl David: Church tourism in South Africa
12.30–1.00 Mike Norris: Artist round the bend

mlf2

1.00–2.30 Lunch

2.30–3.00 Elizabeth Pienaar: Bobby
3.00–3.30 Allen Goddard: Wendell Berry – Prophet of Bloom
3.30–4.00 Irene Fischer: I am still here
4.00–4.30 Fikile Hlatshwayo: Blacks do caravan
4.30–5.00 Thomas Mollett: Oscar Pistorius vs The Truth

mlf3

Sunday 28 August

9.00–9.30 Michael Nuttall: Number two to Tutu
9.30–10.00 Elwyn Jenkins: The chronicles of Peach Grove Farm – a rare children’s book
10.00–10.30 Heinrich Bömkhe: Sarie

mlf4

10.30–11.00 Tea

11.00–11.30 Chris Mann: Lifelines
11.30–12.00 Barbara Siedle: The lady in white
12.00–12.30 Jackie Cameron: Baking with Jackie Cameron
12.30–1.00 Ashwin Desai: The Bard in Africa

mlf5

1.00–2.30 Lunch

2.30–3.00 Vincent Reid: Drawn to Africa
3.00–3.30 Nkosinathi Sithole: Hunger eats a man
3.30–4.00 John Matisonn: God, lies and spies
4.00–4.30 Jessica Pitchford: Switched at birth

mlf6

Visit the festival's Facebook-page for more information.

The post Midlands Literary Festival: Programme appeared first on LitNet.

Teaterresensie: Pay back the curry

$
0
0

Foto: Stephanie Papini

Pay back the curry! ... Die klein teatertjie is propvol toe die ligte 15 minute laat uitdoof en die blinkskerm-selfone weggepak en die laaste geselsies in die gehoor stil word. Die gehoor is ’n verblydend gemengde een: oud en jonk, mense van alle kulture, en daar is ’n jovialiteit in die lug toe Daniel Richards met die eerste van sy vele sketse en karakters wegval.

Ons ry op ’n trein in die toekoms in: die toekoms waar elektriese heinings deur groen grasperke vervang is, die president ’n vrou is wat vyf tale praat en taxi’s almal platgedruk is in kunswerke en uitgestal word.

Die gehoor reageer met lag hier en daar; die positiewe kykie na die toekoms klink vir almal aanvaarbaar.

Maar dan is daar tegniese probleme en ons is terug in die hede en ons almal weet hoe lyk die hede: rassehaat, verdeeldheid, korrupsie, kwotas, werkloosheid, ongeletterdheid. Daniel sê daar is meer ekonomiese groei, maar minder werk; meer hospitale, maar minder gesondheidsorg; meer skole, maar minder opvoeding.

Daar is bevestigende kopknikke, sagte geluide van saamstem oor al hierdie punte.

Hy speel verskeie karakters: die president, Julius Malema, Idols-deelnemers (selfs Heyneke Meyer neem deel), nuuslesers, programleiers en ’n lugwaardin op ’n vlug waar besigheids- en eersteklas net vir ANC-lede is en waar Thuli Madonsela vir ete bedien word – met regte messe en vurke, want sy is nogal taai! Die “lugwaardin” waarsku dat die vliegtuig baie waarskynlik kan val en dat passasiers in ekonomiese klas opsy moet staan sodat die ANC-lede eerste by die blouverligte uitgange kan uitkom.

Een “Idols-deelnemer” sing die liedjie “Blame apartheid” op die wysie van “That’s amore” en moedig die gehoor om saam te sing – wat toe ook gebeur. Hy raai aan dat jy apartheid blameer vir alles, selfs al is jy te kort of te lank of druip jy matriek en kry nie toegang tot universiteit nie.

Jy lag dat die trane loop, maar dink terselfdertyd oor die waarheid van sy woorde. Jou arm skuur teen die swart vrou langs jou, wat ook haar trane afvee en in die donker in jou rigting glimlag. Almal deel van die reënboognasie wat blinkoog wag op beter.

Daniel maak die vlymskerp woorde van Mike van Graan met regie deur Rob van Vuuren en Siv Ngesi as vervaardiger sy eie. Sy vertolking van elke karakter is skreeusnaaks en stel sy veelsydigheid as akteur op sy beste ten toon.

Dis nie sommer ’n hierjy teks nie: dis deur ’n uitmergelende ontwikkelingsproses waar die teks aan verskeie gehore getoets is, van mense by die Franschhoek Literary Festival tot die Makukhanye Art Room in Khayelitsha. Ná elke vertoning is skriftelike terugvoer gebruik om die teks vir die volgende vertoning te slyp.

Daar is waarhede soos: “Ons ken mekaar nie en die reënboog gaan dood”, of die dilemma van bruin mense wat nooit wit genoeg of swart genoeg is nie, maar as speelbal gebruik word wanneer hul stem nodig is.

Die stuk is meer as net 70 minute se trane-afvee-vermaak. Dis ’n kykie na die benarde toestand waarin ons land is en hoe ons almal dieselfde drome het, maar politici weerhou ons daarvan deur verdeeldheid en haat te stook.

Die afsluitingswoorde dat ons nog ’n hele rukkie op die trein in die hede gaan sit, “Wees asseblief ongeduldig”, is ’n aansporing om nie moed op te gee met ons kritiese denke jeens ons regering nie, maar om ook indringend te kyk na ons eie vooroordele.

Pay back the curry!

Met: Daniel Richards

Deur: Mike van Graan

Regie: Rob van Vuuren

Baxter Golden Arrow Studio

15 tot 27 Augustus 2016

Kaartjies deur Computicket

Die vertoning verskuif van 30 Augustus tot 10 September na die Kalk Bay Theatre nadat die Baxter-seisoen op 27 Augustus eindig.

Kaartjies by 021 788 7257.

Geen onder 16’s.

The post Teaterresensie: Pay back the curry appeared first on LitNet.

Boekbekendstellingsindrukke en foto's: Ons Japie: Die Boereoorlogdagboek van Anna Barry

$
0
0

Lees ook: Ons Japie en die Anglo-Boereoorlog – relevant vir vandag se lesers?

Jacques Presser, Nederlandse geskiedkundige, het in die vyftigerjare vir die eerste keer die begrip "egodokument" gebruik. Egodokumente is persoonlike briewe en dagboeke. Veral dié wat gedurende tydperke van geskiedkundige belang geskryf is, is dikwels van besondere belang. Anne Frank se dagboek wat in Amsterdam gedurende die Tweede Wêreldoorlog geskryf is, is een van die beroemdste voorbeelde. Ook die briewe tussen André P Brink en Ingrid Jonker (wat as Vlam in die sneeu uitgegee is) is egodokumente: dit gee nie net hulle liefdesverhouding weer nie, maar lewer ook kommentaar op 'n sekere tydsgees en omgewing.

Onlangs is die Boereoorlogdagboek van Anna Barry, 'n vyftienjarige meisie van ‘n plaas naby Ficksburg, deur Protea heruitgegee. Ons Japie is in 1960 uitgegee, sestig jaar ná die oorlog. Daarna het dit grootliks in vergetelheid geraak.

Die heruitgawe is op 16 Julie op ‘n reünie van die Barry-familie in Oudtshoorn bekendgestel. Ena Jansen het ook na Ficksburg en Rosendal gereis saam met Reg Barry (sy oupagrootjie en Anna Barry se oupa was broers) om mense op te soek wat haar meer as tien jaar gelede gehelp het om die dagboek beter te verstaan. Veral meneer Felix Sorour, historikus en paasboer, het haar baie gehelp om insig in die gemeenskap te kry.

Ena Jansen en Ingrid Winterbach (foto: Amanda Botha)

'n Bespreking van Ons Japie tussen Ena Jansen en Ingrid Winterbach het ook op Saterdag, 13 Augustus, in Pinelands se SASNEV-gebou plaasgevind.

Ena Jansen is 'n kenner op die gebied van egodokumente. Sy het die Nederlandse onderwyser Jan Hoogeveen se briewe aan sy vrou Briewe uit ou Transvaal vertaal en ingelei. Boer en Brit: Afrikaanse en Nederlandse tekste uit en om die Anglo-Boereoorlog is 'n versameling egodokumente en literêre tekste wat sy saam met Wilfred Jonckheere saamgestel en ingelei het. Ingrid Winterbach, veelbekroonde skrywer, het op haar beurt veral in haar roman Niggie staatgemaak op haar navorsing van egodokumente en ander geskrifte rondom die Anglo-Boeroorlog.

Wat van ewe groot belang is, is Jansen se omvangryke studie omtrent huiswerkers in die Afrikaanse letterkunde, Soos familie. Jansen is allermins onbewus van kwessies rondom sosiale status en politieke mag soos weergegee in literêre werke en dit spreek ook uit haar benadering van Anna Barry se briewe. Winterbach se boeke lewer sosiale kommentaar van hul eie.

Erwin Rode, voorsitter van die Orde van den Prince in die lesinglokaal van SASNEV in Pinelands, waar 60 mense na die gesprek oor Ons Japie kom luister het. In die gehoor was onder andere Dan Sleigh, Karin Brynard, Irna van Zyl, Anneke van Niekerk, Elmari Rautenbach, Ampie Muller, Ronel Loots, Hanné Koster, Andries Gouws, Christine en Kosie Smit, Pieter en Alta Coetzer, Linda Rode, Piet Westra, Amanda Botha en Reg en Ansie Barry (foto: Christine Smit).

Die gesprek by SASNEV oor Ons Japie tussen Jansen en Winterbach was kennelik vir die gehoor boeiend en interessant.

Anna Barry het in September 1899 besluit om dagboek te hou omdat sy besef het dat alles wat aan die gebeur is "van historiese belang" is. Tydens die gesprek noem Ingrid Winterbach dat dit op sigself 'n sonderlinge besef en waarneming is, komende van 'n vyftienjarige: "Ek dink nou maar aan vandag se vyftienjariges ..." Dwarsdeur die oorlog het Anna byna daagliks haar dagboek bygehou, selfs al was papier skaars en het sy later kruis en dwars op ou runderpesvorms van haar pa geskryf.

Ingrid Winterbach en Ena Jansen (foto: Christine Smit)

Sy verwys deurlopend, op 'n manier wat die moderne leser daaraan herinner dat hierdie dagboek in 'n ander era geskryf is, na "Vader" en "Moeder". Anna Barry en haar susters was nooit in 'n konsentrasiekamp nie sodat haar dagboek 'n andersoortige blik op die Anglo-Boereoorlogvroue en -kinders se belewenis van die oorlog gee. Haar pa, wat ‘n veldkornet was, is in ‘n veldslag gewond en het kort daarna die eed van neutraliteit onderteken; reeds in Junie 1900. In die tyd toe hy ‘n "hendsopper" geword het, het meer as 12 000 ander Boere ook oorgegee.

Enkele weke later is Thomas Barry met sy vee oor die Caledonrivier na Basotholand. Mevrou Barry, Anna en haar twee susters het nog byna ‘n jaar lank op die familieplaas Abrikooskop bly woon voordat hulle ook oor die grens is. Eers in Junie 1902 sou hulle terugkeer na die familieplaas wat ondertussen deur die Engelse verniel en afgebrand is.

Reg Barry en sy vrou Ansie saam met Ena Jansen. Reg Barry was die dryfkrag agter die publikasie en het inligting oor die Barry-stamboom verskaf (foto: Amanda Botha).

Ondanks die dood van Japie het die Barry-familie dit "makliker" gehad het as baie ander families. Hulle veestapel was behoue en hulle kon gou weer begin boer en ook hulp aan ander boere gee. Ondanks Anna se vrese dat hulle verwerp sou word, is hulle baie gou weer deur die gemeenskap aanvaar.

Ena Jansen saam met haar tweelingsuster en haar man, Christine en Kosie Smit, en Ingrid Winterbach (foto: Amanda Botha)

Oor die ingewikkelde posisie van ‘n jong meisie wie se selfbeeld en posisie in die oorlog bepaal is deur beslissings van die mans in die gesin, is van alle kante by SASNEV gesels. Toe die gesprekstyd verby is, het etlike mense vanuit die gehoor deelgeneem aan die gesprek, vrae gestel of persoonlike herinneringe van hul oupa's of ander familie gedeel. Daar is gevra wat die relevansie van die heruitgawe was (sien ook Emma Kotze se indrukke van die geleentheid). Maar hoofsaaklik was dit duidelik dat hierdie dagboek nie net die verhaal van een jong meisie vertel nie, maar 'n storie van baie mense in komplekse tye is. Iemand vanuit die gehoor het genoem dat skole nie meer genoeg aandag gee aan al die geskiedenisse van hierdie land nie, en Jansen se reaksie was: "Dis nie net die skole se verantwoordelikheid nie. Dis elkeen se eie verantwoordelikheid om self verder te lees." 

Marva Basson Dhliwayo saam met Ena Jansen en Ingrid Winterbach (foto: Amanda Botha)

Omdat 'n veelheid geskiedenisse deel vorm van ons land se een geskiedenis, bied hierdie dagboek 'n geleentheid om méér uit te vind van die ruimte wat ons almal vandag bewoon.

Ampie Muller en Ena Jansen (foto: Amanda Botha)



Abrikooskop se plaashuis soos wat dit nou lyk (foto: Ena Jansen)

Plaasboer Felix Sorour beduie en vertel. Hy weet baie van die distrik-Ficksburg en die Barry’s se geskiedenis en het die besoek aan Abrikooskop gereël saam met Sean Moffett (foto: Ena Jansen).

Onderweg na die plaashek van die ou Barry-plaas, Abrikooskop (foto: Ena Jansen)

The post Boekbekendstellingsindrukke en foto's: Ons Japie: Die Boereoorlogdagboek van Anna Barry appeared first on LitNet.

Ons Japie en die Anglo-Boereoorlog – relevant vir vandag se lesers?

$
0
0

Lees ook: Boekbekendstellingsindrukke en foto's: Ons Japie: Die Boereoorlogdagboek van Anna Barry

Die baie onbekende Boereoorlogdagboek van Anna Barry is pas weer gepubliseer, met ‘n voor- en nawoord deur Ena Jansen, onder die titel Ons Japie: Die Boereoorlogdagboek van Anna Barry. Op 13 Augustus 2016 het die lede van die Orde van die Prince te Sasnev ‘n gesprek tussen Ena Jansen en Ingrid Winterbach met dié dagboek as onderwerp gehou. Die herpublikasie van hierdie verhaal, tesame met die opmerklik min jong gehoorlede wat die gesprek bygewoon het, laat ‘n mens wonder oor die relevansie van die materiaal en ander soortgelyke verhale.

Volgens André Wessels in sy artikel “Die Anglo-Boereoorlog (1899–1902) in die Afrikaanse letterkunde: ’n geheelperspektief” (Wessels 2011) het die groei van Afrikaner-nasionalisme in die 1930’s, en veral nader aan 1938, met die honderdjarige herdenking van die Groot Trek, ’n hoogtepunt bereik en ’n groot aantal Boereoorlog-verwante publikasies tot gevolg gehad. By die draai van die eeu, in die verloop na en die tyd rondom die honderdjarige herdenking van die Anglo-Boereoorlog, is daar ‘n tweede toename in Boereoorlogpublikasies te sien. Hierdie tweede oplewing bied egter nie die idealiserende blik van die Afrikaner soos dit in die eerste reeks publikasies te sien is nie, wat waarskynlik destyds ‘n gevolg was van die Afrikaner-nasionalistiese gees wat in dié tyd geheers het.

Die Afrikaner se rol word in hierdie tweede stroom literêre werke uitgedaag, satiries uitgebeeld (Etienne Leroux se Magersfontein, o Magersfontein!), en selfs vanuit ‘n swart of bruin oogpunt beskryf (AHM se Afdraai: ‘n kroniek van seermaak en seerkry, van vrede en verandering), wat in sterk kontras staan met die werke van die 1930’s–1940’s (Wessels 2011:187). Meer onlangs is daar weer ‘n toename in Boereoorlogpublikasies te merk, met Tafelberg-uitgewers wat byvoorbeeld pas Elsabe Brits se biografie van Emily Hobhouse in beide Afrikaans en Engels uitgegee het (2016) en Alexander Strachan se onlangse roman, Brandwaterkom (2015), wat ook teen die agtergrond van die Tweede Vryheidsoorlog afspeel. Meer onlangse werke poog ook nie noodwendig om die heroïese dimensie van die Anglo-Boereoorlog te onderskraag nie, maar volg liewer alternatiewe en nuwe verhaallyne, soos Francois Smith se Kamphoer (2014), en verhaallyne beweeg selfs in sekere gevalle deur en verby die oorlog self, soos byvoorbeeld Sonja Loots se karnavaleske Sirkusboere (2011).

Hierdie toename in die gewildheid van Boereoorlogliteratuur skep dus die perfekte ruimte vir die herpublikasie van Ons Japie: Die Boereoorlogdagboek van Anna Barry. Dit is immers óók ‘n verhaal wat afwyk van die hoofsaaklik heroïese en martelaarsverhale wat dikwels vertel word.

Wessels voer verder aan dat literêre werke oor die Anglo-Boereoorlog, oud en nuut, ‘n baie belangrike rol speel om ‘n sin van geskiedenis by lesers in te prent en vir hulle ‘n weergawe van die Suid-Afrikaanse verlede te bied. Dit is ook belangrik om hier te noem dat Barry se dagboek as ‘n egodokument beskou kan word. Aangesien hierdie dokumente dikwels die leemtes vul wat deur historici in makrogeskiedskrywing gelaat word, speel egodokumente vanself ook ‘n baie belangrike rol in die opname van geskiedenis (Dekker 2002).

Daarmee saam noem Wessels egter dat die tema van “hensoppers”, verraaiers en “joiners” opmerklik min in hierdie literêre werke voorkom (Wessels 2011:187–8). Hierdie opmerking is juis relevant wanneer Anna Barry se dagboek ter sprake is, aangesien dit juis dié minder bespreekte kwessies en temas ondersoek. Jansen noem ook dat dit die eenselwigheid van ander Boereoorlogdokumente was wat haar oorspronklik die onderwerp wou laat vermy, en dat dit juis Barry se unieke posisie was, uniek op die gepubliseerde gebied, wat haar tot haar navorsings rondom die dagboek geïnspireer het.

Barry sluit in 1903 haar dagboek af, maar publiseer dit eers in 1960, wat Jansen dan die “tweede vertelmoment” noem. Jansen meen dat dit juis Barry se posisie was, as die dogter van iemand wat die eed van neutraliteit onderteken het en Britse beskerming in die ou Basoetoland geniet het, wat haar moontlik eers in 1960 die vrymoedigheid gegee het om wel haar dagboek, dus ook haar ervaringe, te publiseer. Jansen beskryf die politieke klimaat van die tyd en die doelbewuste pogings van die staat om versoening tussen blanke burgers (Natte en Sappe; Afrikaners en Engelse) te smee. “Ek is daarom van mening dat die politieke situasie teen die laat jare vyftig ‘n veel meer Afrikaner-nasionalistiese omlysting van Barry se dagboekteks in die hand gewerk het as wat in vorige dekades die geval sou gewees het” (Barry 2016:182).

Soos reeds bespreek, is die noodsaaklikheid van werke wat oor hierdie oorlog handel, onbetwisbaar, net soos ook die dokumentering van ander vryheidsoorloë in Suid-Afrika sowel as die mikrogeskiedenisse van al die verskeie kultuurgroepe. Die oorspronklike vraag oor die aftrek wat hierdie werke geniet, bly egter steeds staan. Wat is dit rondom die Boereoorlog wat die literêre werke steeds relevant en populêr maak?

Alhoewel die verskillende “golwe” van Boereoorlogpublikasies rondom belangrike datums in die Afrikanerkultuur geskied, kan ‘n mens aanvoer dat hierdie onderwerp ten spyte van hierdie gedenkdatums aftrek sou geniet. Bo en behalwe die paar voorbeelde wat reeds genoem is, kan die bekende Boereoorlogdagboek van Deneys Reitz – wat in beide Afrikaans en Engels gepubliseer is – getuig van die gewildheid van inhoud van dié aard. Hierdie dagboek is reeds vyf maal in sy huidige weergawe herdruk, nadat dit die eerste maal in 1929 deur Faber & Faber gepubliseer is en mees onlangs in 2010 herdruk is. In Deneys Reitz was Anna Barry se man Charlie Rietz se neef. Wessels beweer dat die Anglo-Boereoorlog en Groot Trek as die mees “epogmakende gebeurtenis in die geskiedenis van die Afrikaner beskou kan word”. Nie alleen het dit ‘n groot invloed op die “psige van die Afrikaner en die ontwikkeling van Afrikanernasionalisme uitgeoefen” nie (Wessels 2011:189), maar dit is ook nou, in ‘n postapartheid Suid-Afrika, van die min verhale waarin die Afrikaner in ‘n heroïese lig uitgebeeld word.

By die lees van Ons Japie is dit baie belangrik om, tesame met Jansen se waarnemings, die konteks in ag te neem wat hierdie werk skep. In die huidige politieke klimaat is dit byvoorbeeld moeilik om die volgende uittreksel uit die dagboek mis te lees:

[D]it sal beteken dat [...] ons samelewing dus nog ingewikkelder gemaak word. Nou sal daar wees “wilde Boere”, “mak Engelse”, “vlugtelinge”, “Khaki-boere”, “hensoppers”, “krygsgevangenes” en Engelse Khaki’s. Ons sal almal bure wees en sal met mekaar in aanraking kom. [...] [O]ns vertrou dat ons nasie, hoewel oorwonne, ‘n toekoms het. Mag president Brand se leuse: “Alles sal regkom”, ook ons leuse bly. (Barry 2016:167)

Na my mening is dit juis hierdie uittreksel wat aan die dagboek sy relevansie besorg. Barry skep hier ‘n blik op die kompleksiteite wat in daardie tyd in die samelewing heers en spreek haar bekommernis uit oor die versoenbaarheid van die situasie. Alhoewel dit kennelik slegs die posisie van ‘n klein minderheid uitbeeld, is dit nou moontlik om vanuit ‘n moderne Suid-Afrikaanse konteks waar te neem hoedat hierdie situasie een is van vele soortgelyke komplekse sosiale konstruksies wat in die Suid-Afrikaanse samelewing geïntegreerd is. Ek gaan dus met Wessels akkoord as hy die belangrikheid van hierdie literêre beweging benadruk, maar meen ook dat alles in ‘n groter konteks moet geskied. Verhale vanuit die Anglo-Boereoorlog moet beslis steeds gelees en vertel word, maar hand aan hand met verhale van kleingeskiedenisse wat daarmee saam die groter Suid-Afrikaanse geskiedenis vorm.

Bibliografie

Barry, A. 2016. Ons Japie: Die Boereoorlogdagboek van Anna Barry. Protea: Protea Boekhuis.

Dekker, R. 2002. Jacques Presser's Heritage: egodocuments in the study of history. Memoria y civilización, Volume 5, ble 13–37.

Jansen, E. 2016. Ons Japie: Die Boeroorlogdagboek van Anna Barry [lesing] (13 Augustus 2016).

Wessels, A. 2011. Die Anglo-Boereoorlog (1899–1902) in die Afrikaanse letterkunde: ’n geheelperspektief. Die Joernaal vir Transdissiplinêre Navorsing in Suider-Afrika, 7(2):185–204.

 

The post Ons Japie en die Anglo-Boereoorlog – relevant vir vandag se lesers? appeared first on LitNet.

Die “grense van menswees” en insekwording in Willem Anker se Samsa-masjien (2015)

$
0
0

Die “grense van menswees” en insekwording in Willem Anker se Samsa-masjien (2015)

Joan-Mari Barendse, nadoktorale navorsingsgenoot, Departement Afrikaans en Nederlands, Universiteit Stellenbosch

LitNet Akademies Jaargang 13(3)
ISSN 1995-5928

Die artikel sal binnekort in PDF-formaat beskikbaar wees.

 

Opsomming

In hierdie artikel ondersoek ek die rol van insekte in Willem Anker se toneelstuk Samsa-masjien (2015). Anker se stuk handel oor ’n bejaarde demensielyer, Gregor Samsa, wat saam met sy vrou Josefine by hulle dogter en skoonseun woon. Gregor en Josefine ondergaan albei ’n tipe insekwording waarin hulle al hoe meer soos insekte begin optree. Deel hiervan is dat hulle met klanke en geraas in plaas van taal kommunikeer. Samsa-masjien eindig met die dood van Gregor en Josefine.

Ek maak gebruik van die raamwerk van mens-dier-studies (MDS), waarin die fokus op die verweefdheid van mens en dier is. MDS is ’n interdissiplinêre veld wat insigte uit denkrigtings soos die filosofie en posthumanisme betrek. In my bespreking maak ek dan ook gebruik van Deleuze en Guattari (2005) se konsep van dierwording en Derrida (2002) se stelling dat taal die grootste skeiding tussen mens en dier is. Ek verwys verder na Diamond (2008) se uitgangspunt dat die grens tussen mens en dier oorskry word as die mens bewus word van sy/haar liggaamlikheid en weerloosheid.

My gevolgtrekking is dat Samsa-masjien, ’n verhaal wat uiteindelik oor mense gaan, wel die grens tussen mens en dier afbreek. Die oorskryding van grense strek selfs verder deurdat die skeiding tussen mens, dier en masjien opgehef word. Gregor en Josefine ondergaan ’n posthumanistiese wording waarin die humanistiese subjek nie meer bestaan nie. Hulle verset hulle teen ’n kunsmatige, kliniese hedendaagse verbruikerskultuur deur vuil te word, “dier” te word, liggaam te word. Die grens tussen mens en dier word finaal oorskry deur Gregor en Josefine se weerloosheid en dood: dit wat mens en dier met mekaar verbind. Die dood is egter nie ’n einde nie, maar net nog ’n wording in die voortdurende verandering en beweging van die versplinterde nomadiese subjek.

Trefwoorde: dierwording; Félix Guattari; Gilles Deleuze; mens-dier-studies (MDS); posthumanisme; Samsa-masjien; Willem Anker

 

Abstract

The boundaries of being human and becoming-insect in Willem Anker’s Samsa-masjien (2015)

In this article I investigate the representation of insects in Willem Anker’s recently published award-winning play Samsa-masjien (2015) (“Samsa machine”) within the framework of human-animal studies (HAS). Scholars in the field consider the focus of HAS to be “the intertwining” (Woodward and Lemmer 2014:2) or “linking, ‘together in one’” (Marvin and McHugh 2014:2) of human and non-human animals. Samsa-masjien is loosely based on Franz Kafka’s The metamorphosis and tells the story of Gregor Samsa, a retired school principal in his seventies who, along with his wife Josefine, lives with their daughter Grete and son-in-law Tjaart. Gregor suffers from dementia and part of his condition is that he sees and feels insects crawling on his skin – no one else can see these insects, though. He then starts to believe that he is turning into an insect himself. Josefine starts to share Gregor’s beliefs and also starts to act more and more like an insect. Gregor dies and the play ends with Josefine collapsing on the stage.

In an interview (Anker, Bouwer and Wicomb 2015) Anker describes the play as an investigation of the boundaries of being human. I identify the following boundaries explored in the play: the boundaries between clean and dirty; language, sound and noise; and childhood, adulthood, old age and death. I find that all these boundaries can be linked to the boundary between human and animal.

The set of the play consists of two levels: the basement of the house and a living space at the top. The damp, dark, dirty space of the basement is in contrast with the sterile, hypermodern space of the living area above. Grete and Tjaart do not really go into the basement. Grete, a copywriter, has an obsession with keeping filth and vermin out of her house: as part of her copywriting contract with Pestkill she gets a lifetime supply of insecticides, and she is also currently busy with a pitch for a “No Touch Handwash System” (Anker 2015:22, 65). According to Grete “people do not want to touch anything anymore” (Anker 2015:66–7, my translation). During a conversation between her and prospective clients the following phrase can be heard: “I can’t wait until they sort out that cybersex thing. Bodies are so ... icky” (Anker 2015:74). The disembodiment of the modern human is further portrayed by Grete and Tjaart’s unsuccessfully trying to have sex.

Wolfe (2010:xiv–xv) shows that the “fundamental anthropological dogma associated with humanism [is tied to] the humanity/animality dichotomy: namely, that ‘the human’ is achieved by escaping or repressing not just its animal origins in nature, the biological, and the evolutionary, but more generally by transcending the bonds of materiality and embodiment altogether”. According to Diamond (2008:74), in order to bridge the divide between human and animal, humans need to become aware of their own embodiment and vulnerability: “The awareness we each have of being a living body, being ‘alive to the world’, carries with it exposure to the bodily sense of vulnerability to death, sheer animal vulnerability, the vulnerability we share with them.”

As Gregor’s condition worsens, he and Josefine spend more time in the basement. Here they build what Gregor calls his noise machine. It consists of, among other things, an old out-of-tune piano, sound equipment playing voice recordings, and Josefine’s attempts at playing the violin (Anker 2015:22, 45). The machine is the Samsa machine that the title refers to. The title recalls Deleuze and Guattari’s (2005:4) concepts of the abstract machine and machinic assemblages. Gregor’s and Josefine’s metamorphosis into insects can also not be discussed without referring to Deleuze and Guattari’s (2005:232–309) concept of “becoming-animal”. Returning to the premise that embodiment and vulnerability bring the human and non-human animal closer together, Deleuze (2004:23) states the following regarding the process of becoming:

[E]very man who suffers is a piece of meat. Meat is the common zone of man and the beast, their zone of indiscernibility […] This is not an arrangement of man and beast, nor a resemblance; it is a deep identity, a zone of indiscernibility more profound than any sentimental identification: the man who suffers is a beast, the beast that suffers is a man. This is the reality of becoming.

It is in the basement, the space associated with dirt and animality, that Gregor and Josefine go through their metamorphosis. Earlier in the play they already return to the body by having passionate sex in the basement, which is described as simultaneously animal-like and vulnerable (Anker 2015:64). This is in contrast to the young people’s frustrating sexual encounter. In Samsa-masjien passion can be found only by becoming animal-like, dirty, fleshly and vulnerable. Gregor’s and Josefine’s final metamorphosis is described as follows in the stage directions:

The parents are in the midst of a cockroaching and noise-machine building. Gregor and Josefine are naked or nearly naked and dirty. They build an insect with their bodies. The insect is agile, supple, playful, curious and completely un-, pre- and posthuman. The bodiliness is intimate, erotic. No dialogue, only the clicking and krr-ing of an insect. They alternate playing insects with the construction of the noise machine. Everything they do and hum, the sounds and rhythms, suggest a factory. It is a factory that makes itself, a machine that builds itself. They become the process. (Anker 2015:71, my translation)

According to Braidotti (2013:1–2) and Wolfe (2003b:ix) it is in the posthuman condition that the distinction between human, animal and machine is questioned and becomes vague. Gregor and Josefine cross the boundary and become animal and machine all at once. They transform into a posthuman creature which falls outside all classificatory structures.

In his well-known essay “The animal that therefore I am” Derrida (2002:400) considers language to be the biggest barrier between humans and animals. According to Palmeri (2006:84) “articulate language along with its abstraction and figurations, fails [in the process of becoming-animal] giving way to uninterpretable sounds.” Gregor and Josefine cross this boundary by communicating only in sounds and building a noise machine from which incoherent bits of conversations and other noises are emanating.

Becoming-animal is a return to the flesh that leads to the intertwining of human and non-human animal. It is a condition that is characterised by movement, change, transformation and new possibilities. In Samsa-masjien this transformation is not without vulnerability and pain. It is ultimately the story of two people who have to face the decaying of body and mind, and death. Following on Deleuze and Guattari’s theory, Braidotti (2006:144) writes: “Death is the ultimate transposition, though it is not final. The sacralisation of life in Christian ethics is challenged by Deleuze’s theory of the becoming-animal/insect/imperceptible: Zoe carries on, relentlessly […].” Braidotti (2006:138) makes a distinction between Zoe and Bios: “Life is half animal: Zoe and half discursive: Bios.” Within traditional, anthropocentric thought Zoe is considered to be inferior to Bios and is associated with the “other”: everything that is irrational, embodied and monstrous. According to Braidotti (2006:138) Zoe is, however, central in the nomadic subjectivity associated with becoming-animal: “Nomadic thought loves Zoe and sings its praises by emphasising its active, empowering force against all negative odds.” Gregor and Josefine’s insect-machine-becoming can be seen as a way to accept their own mortality rather than denying it. Death is not the end, though, but another phase in the constant change and movement of the nomadic subject.

Keywords: becoming-animal;Félix Guattari; Gilles Deleuze; human-animal studies (HAS); posthumanism; Samsa-masjien; Willem Anker

 

1. Inleiding

Willem Anker se Samsa-masjien was in 2012 die wenner van die ATKV-Prys vir Dramateks. By die Klein Karoo Nasionale Kunstefees in 2014 ontvang Jaco Bouwer se produksie van Samsa-masjien vier Kanna-toekennings, onder andere beste teateraanbieding en beste kopverskuiwende werk (Pople 2014:14). Die drama word besonder goed ontvang deur resensente. Pople (2014:14) en Crous (2015) meen albei dat Anker met Samsa-masjien vernuwende werk lewer. Griebenow (2015) beskryf die klimaks van die stuk as “’n absolute triomf, ’n kakofonie van klank en lig van apokaliptiese omvang”. Samsa-masjien kry ook lof buite die Afrikaanse media. De Beer (2014:5) skryf in The Star: “As radical, trail-blazing theatre, it begs to be seen. This extravagant and extraordinary production is an onslaught on the senses as it invades and expands the mind.” Die dramateks word in 2015 deur Protea Boekhuis gepubliseer, en sluit foto’s van die produksie in, asook ’n CD met die klankbaan van die stuk deur Pierre-Henri Wicomb.1

Kortliks handel Samsa-masjien oor Gregor Samsa, ’n afgetrede skoolhoof in sy sewentigs, wat saam met sy vrou Josefine by hulle dogter Grete en haar man Tjaart woon. Die rede hiervoor is dat Gregor aan demensie ly en die bejaarde egpaar nie meer op hulle eie kan bly nie (8, 15, 19–21).2 ’n Deel van Gregor se toestand is dat hy insekte sien wat nie bestaan nie en hulle ook oor sy liggaam voel kriewel (20–1).

Geestesafwykings waarin lyers glo dat daar orals insekte rondom hulle is, oor hulle loop of selfs hulle liggame binnedring – soos soöpsie (“zoopsia”) en waansinnige parasitose (“delusory parasitosis” of “delusional parasitosis”) – kom dikwels in mense voor wat aan demensie ly (sien Lockwood 2013:10–1, 86–7, 93 en May en Terpenning 1991).

Gregor ervaar egter nie slegs ongemak met en vrees vir insekte (hetsy denkbeeldig of werklik) nie (20–1), maar is gefassineerd deur hulle, soos gesien kan word in sy gesprek met ’n kakkerlak waarmee die toneelstuk open (13). Hy is kennelik ontsteld as Josefine die kakkerlak doodtrap (13–4). Hy gee hom uiteindelik oor aan wat hy dink ’n besmetting van sy liggaam met insekte / ’n insek is, sê vir Josefine dat hy deur ’n metamorfose gaan, en volbring sy insekwording deur, soos ’n insek, op die vloer rond te kruip en afvalkos te soek (25–9). Soos wat Gregor se demensie vererger, begin hy hom al hoe meer in te leef in sy insekgedaante en is die taal wat hy praat soms onverstaanbaar (60–3).

Josefine maak die keuse om in Gregor en sy insekte te glo en begin ook insekte te sien: “Jy’s reg, Gregor! Hierdie plek wemel! Julle klein boggers! Klein kewertjies kwetter vir my. Kêkkel koggel kewers! Kyk net na my rok! Oral!” (36). Lockwood (2013:97) wys daarop dat die verskynsel waarin ’n familielid die hallusinasies van ’n lyer ondersteun, folie partagée of gedeelde waansin genoem word.

Gregor en Josefine begin al hoe meer tyd in die kelder van die huis deurbring en bou hier, met onder andere ’n klavier en ou klanktoerusting wat hulle vind, wat hulle ’n “geraasmasjien” noem (35, 37, 38). Josefine begin ook al hoe meer soos ’n insek op te tree (35, 36, 71). Gregor sterf (90) en Samsa-masjien eindig waar ook Josefine inmekaarsak (92).

Samsa-masjien tree in gesprek met Franz Kafka se Die Verwandlung (1915;in Engels vertaal as The metamorphosis). In Kafka se novelle word die karakter Gregor Samsa een oggend wakker en ontdek dat hy in ’n insek verander het (Kafka 2014). Anker neem die name van die karakters Gregor en Grete Samsa uit Kafka se werk oor. In Die Verwandlung is Gregor en Grete broer en suster, die kinders van karakters wat bloot as meneer en mevrou Samsa bekend staan (Kafka 2014). In Samsa-masjien is die naam van die vaderfiguur en die oorlede seun na wie verwys word in die stuk Gregor. In Die Verwandlung is dit die seun wat deur die proses van insekwording gaan, terwyl dit die vader is in Samsa-masjien. Die naam van die moederfiguur in Anker se stuk, naamlik Josefine, is egter ontleen aan die laaste kortverhaal wat Kafka geskryf het, getiteld “Josefine, die Sängerin oder Das Volk der Mäuse” (1924; in Engels vertaal as “Josephine the Singer, or the Mouse Folk”, vgl. Crous 2015).3 In ’n gesprek tussen Anker, Bouwer en Wicomb (2015) noem Anker dat Die Verwandlung as “wegspringplek” gedien het vir sy toneelstuk, maar dat Samsa-masjien sy “eie loop geneem” het en ander kwessies as Kafka se novelle aanraak. Die Verwandlung is een van vele intertekste in Samsa-masjien en ek onderneem daarom nie ’n indringende vergelyking van die twee toneelstukke nie.

In ’n gesprek tussen Anker en Tertius Kapp tydens Woordfees 2016 noem Anker dat die titel ’n verwysing is na Heiner Müller se postmoderne toneelstuk Die Hamletmaschine (in Engels Hamletmachine) wat in 1977 geskryf is (Anker en Kapp 2016). Die titel roep egter ook Deleuze en Guattari (2005:4) se teorie rondom masjinistiese montages (assemblages) op. Deleuze en Guattari (2005:142) meen dat wat hulle “abstrakte masjiene” noem, eiename het. Die eiename verwys egter nie na persone of subjekte nie, maar na materies en funksies: “The name of a musician or scientist is used in the same way as a painter's name designates a color, nuance, tone, or intensity: it is always a question of a conjunction of Matter and Function. The double deterritorialization of the voice and the instrument is marked by a Wagner abstract machine, a Webern abstract machine, etc.” (Deleuze en Guattari 2005:142). Die skakel tussen Deleuze en Guattari se werk en Samsa-masjien, en konsepte soos montages, abstrakte masjien en deterritorialisering word later verder bespreek. Anker (in Anker en Kapp 2016) voer aan dat die Samsa-masjien, dus ’n masjien met ’n eienaam, na verskeie elemente verwys: die karakter Gregor Samsa, die Samsa-familie wat as ’n tipe masjien funksioneer en die geraasmasjien wat Gregor bou (d.w.s. Samsa se masjien).

In die gesprek tussen Anker, Bouwer en Wicomb (2015) sê Anker dat hy in Samsa-masjien die “grense van menswees” ondersoek. In die toneelstuk word die grense tussen kindwees, volwassenheid en oudword, lewe en dood, skoon en vuil, mens en dier, en taal, klank en geraas aangeraak. In hierdie artikel fokus ek op die uitbeelding van die grens tussen mens en dier in die stuk. Soos in my bespreking na vore kom, betrek ’n ondersoek na die grens tussen mens en dier egter ook die ander “grense” teenwoordig in Samsa-masjien.

Marvin en McHugh (2014:5) beskryf die toenemende fokus op die verhouding tussen mens en dier in akademiese kringe (sien afdeling 2) as ’n “posthuman, nonhuman, counter-linguistic intellectual turn” waarin daar op ’n nuwe wyse na diere gekyk word. Volgens hulle het dit tot gevolg dat diere beskou word as agente wat nie net mensagtige subjekte of “dingagtige” (“thinglike”) objekte is nie, maar rolspelers van ’n ander orde wat in wisselwerking met mense tree op ’n manier wat nie net die eenvoudige samevoeging van menslike en dierlike dele is nie.

In die Routledge handbook of human-animal studies verduidelik Marvin en McHugh (2014:2) dat daar verskeie terme is vir die ondersoek van die verhouding tussen mens en dier; hulle verkies egter om van die term human-animal studies (HAS), wat ek sal vertaal as mens-dier-studies (MDS), gebruik te maak:

Amid the many terms for what we do – including animal studies, anthrozoology, critical animal studies, etc. – the hyphen in “human-animal studies”, signally a linking, “together in one”, is the thing that has come to mark a precise starting point, which is to study animals with humans, and humans with animals, never forgetting that we are both animals in general, and humans in particular.4

Marvin en McHugh (2014:2–3) wys daarop dat die uitgangspunt in MDS is dat menselewens en dierelewens versmelt is en onskeibaar van mekaar is. Ook Woodward en Lemmer (2014:2) beskou die verweefdheid van die mens en ander diere as die kern van MDS. In MDS is die fokus dus op die oorskryding van die grens tussen mens en dier.

Volgens Derrida (2002:400), wie se bekende opstel “The animal that therefore I am” dikwels in besprekings op die terrein van MDS gebruik word, is taal een van die grootste skeidings tussen mens en dier. ’n Verdere splitsing tussen mens en dier is die tradisionele humanistiese perspektief dat die mens ’n wese van die “rede” is en diere wesens van die vlees. Wolfe (2010:xiv–xv), wat MDS vanuit ’n posthumanistiese raamwerk beskou, wys daarop dat binne die humanisme die beliggaming/liggaamlikheid (“embodiment”) van die mens ontken is. Diamond (2008:74; vgl. Braidotti 2013:63) is van mening dat die grens tussen mens en dier oorskry word as die mens bewus word van sy/haar eie liggaamlikheid en weerloosheid: “The awareness we each have of being a living body, being ‘alive to the world’, carries with it exposure to the bodily sense of vulnerability to death, sheer animal vulnerability, the vulnerability we share with them.”

In die kort opsomming van Samsa-masjien hier bo word daarop gewys dat taal/klank en die aftakeling (liggaamlik en geestelik) van die oudwordproses sentraal staan in die toneelstuk. In die Samsa-masjien-motto’s word daar ook reeds op die temas van taal en verganklikheid gewys. Die een motto is die volgende aanhaling van Deleuze: “Is dit nie eerstens deur die stem wat ons dier word nie?” (Anker 2015). Die ander motto is die volgende aanhaling van Henry Miller: “I have always looked upon decay as being just a wonderful and rich an expression of life as growth” (Anker 2015). Die doel van hierdie artikel is om vas te stel of Anker in Samsa-masjien met betrekking tot taal en beliggaming/liggaamlikheid die grens tussen mens en dier oorskry.

Die bespreking tot dusver wys reeds dat MDS insigte uit denkrigtings soos die filosofie en posthumanisme betrek en, soos in die volgende afdeling bespreek, ’n interdissiplinêre veld is. Soos reeds genoem, word die filosofie van Deleuze reeds deur die titel van die toneelstuk opgeroep. Dit word ook dan opgeroep deur die motto hier bo wat Anker gebruik. Anker se vertroudheid met die werk van Deleuze en Guattari is nie net duidelik uit die gebruik van die motto nie, maar ook uit verskeie studies waarin hy gebruik maak van hulle filosofie (sien Anker 2007a, 2007b en 2008).5 Deleuze en Guattari se teorie klink dan ook sterk in Anker se kreatiewe werk. Volgens Painter (2007) betree “die Afrikaanse letterkunde met Siegfried [Anker se debuutroman wat in 2007 verskyn] die miskien minder bekende teoretiese terrein, naamlik die werk van Deleuze en Guattari.” Hy meen dat die roman gekenmerk word deur die proses van “wording” (Painter 2007). Deleuze en Guattari (2005:232–309) beskryf die konsep van “dierwording” (“becoming-animal”). In Anker se jongste roman, Buys (2014), kom die konsep van dierwording veral ook na vore in die hoofkarakter Coenraad de Buys se omgang met ’n trop wilde honde.

Die gegewe van insekwording in Samsa-masjien kan daarom nie bespreek word sonder om Deleuze en Guattari se teorie in ag te neem nie. Deur die loop van die bespreking sal dit duidelik word dat Deleuze en Guattari se filosofie sterk neerslag vind in die werk van kritici binne MDS (sien bv. Beaulieu 2011, Braidotti 2006, Parikka 2010 en Rudy 2014). Die teorie rondom dierwording word later verder uiteengesit, maar ek wil hier reeds wys op hoe Deleuze en Guattari se filosofie betrekking het op die temas van taal en beliggaming/liggaamlikheid binne die raamwerk van MDS. Palmeri (2006:84) beskryf die proses van dierwording soos volg: “As the one who is leaving humanity more closely approaches becoming an animal, articulate language fails, along with its abstraction and figurations, giving way to uninterpretable sounds.”

Die idee dat vleeslikheid (of dan “vleislikheid”), beliggaming/liggaamlikheid, lyding en weerloosheid mens en dier op gelyke vlak plaas, kom na vore in Deleuze (2004:23, 25) se ontleding van Francis Bacon se kuns. Volgens Deleuze (2004:23) sê Bacon nie dat ons diere (“beasts”) moet bejammer nie, maar dat elke mens (“man”) wat ly, ’n stuk vleis is. Vleis is die gemene terrein van mens en dier, dit wat hulle ononderskeibaar van mekaar maak. Dit is nie ’n tipe ordening van of ooreenkoms tussen mens en dier nie. Dit is ’n gelykheid wat dieper as enige sentimentele herkenning is: die mens wat ly, is ’n dier; die dier wat ly, is ’n mens. Dit is die wesentlikheid van wording.

Bruns (2007:707) maak ’n onderskeid tussen die liggaam (“body”) en die vlees (“flesh”). Hy wys daarop dat om mens te word die transformasie van die vlees na die liggaam van krag/mag (“body of strength”, sy beklemtoning) is. Menswording is die teenoorgestelde van dierwording deurdat liggaamlikheid (lyding, dood, begeerte, honger, pyn en vrees) ontken word. Hiermee saam word die blik van die ander, mens of dier, ook ontken (Bruns 2007:707).

Vervolgens word ’n uiteensetting van MDS gegee, met spesifieke verwysing na die plek van insekte in dié veld. Dit word gevolg deur ’n bondige bespreking van Deleuze en Guattari se konsep van dierwording. Daarna volg ’n ontleding van Samsa-masjien ten einde te bepaal of die taalgrens en liggaamlike grens tussen mens en dier in Anker se werk oorskry word.

 

2. Mens-dier-studies (MDS)

MDS is ’n interdissiplinêre veld wat in die afgelope drie dekades tot stand gekom het, en internasionaal tans ’n bloeitydperk beleef (Marvin en McHugh 2014:2). Ook in Suid-Afrika is daar onlangs ’n toename in akademiese aktiwiteite binne dié raamwerk (Woodward en Lemmer 2014:1–5). Dierestudies het tradisioneel binne die natuurwetenskappe geval en het op evolusie en dieregedrag gefokus (Birke 2011:xviii). Stelselmatig het die studie van diere deel geword van die sosiale en geesteswetenskappe en hiermee saam het die fokus na die verhouding tussen mens en dier verskuif (Taylor 2011:1). Marvin en McHugh (2014:3) wys daarop dat MDS interdissiplinêr te werk gaan op terreine soos die argeologie, kuns, ekologie, genderstudies, geskiedenis, literatuur, filosofie en sosiologie. Literêre studies binne die raamwerk van MDS oorvleuel dan ook dikwels met teorie oor posthumanisme, ekokritiek, postkolonialisme, ens. (sien byvoorbeeld Braidotti 2013, Parikka 2010, Taylor en Twine 2014, Visagie 2013 en Wolfe 2003a; 2010). Volgens Marvin en McHugh (2014:3) is MDS nie slegs multi- of transdissiplinêr nie, maar metadissiplinêr: “a discursive environment conductive to developing positions and forms within existing academic discourses, as well as metamorphosing the status of each and all through crossings and other mutations that are peculiar to interspecies life”.

Woodward en Lemmer (2014:2) voer aan dat aanvaarde denke en teorieë deur MDS uitgedaag word en dat die dualisme van antroposentriese humanisme hierdeur ondermyn word (Woodward en Lemmer 2014:2; vgl. Taylor 2011:1). Volgens Braidotti (2013:65–6) is dit wanneer die sentraliteit van anthropos uitgedaag word dat die grens tussen die mens en die “Ander” verval en onverwagte perspektiewe na vore kom:

Thus, if the crisis of Humanism inaugurates the posthuman by empowering the sexualized and racialized human “others” to emancipate themselves from the dialectics of master-slave relations, the crisis of anthropos relinquishes the demonic forces of the naturalized others. Animals, insects, plants and the environment, in fact the planet and the cosmos as a whole, are called into play. (Braidotti 2013:66)

Braidotti maak ’n onderskeid tussen diere en insekte in die aanhaling hier bo. In Braidotti se werk word alle lewensvorme as ewe belangrik geag en dit is nie duidelik hoekom sy insekte onderskei van ander diere nie. Haar onderskeid wys egter dat mense dikwels bewustelik of onbewustelik insekte as ’n eiesoortige groep diere beskou (vgl. Dodd 2013:154). Op die gebied van MDS beklee studies oor die verhouding tussen die mens en insekte ’n gemarginaliseerde posisie, alhoewel insekte die diere is waarmee die mens ten nouste saamleef (hulle deel ons woonruimtes en kos, en voed selfs op ons liggame) (Brown 2007:5). Volgens Brown (2006:x; vgl. Jones 2000:286) veroorsaak hulle status as peste dat hulle uitgesluit word uit die etiese kwessies wat sentraal staan in MDS.

Jones (2006:286) meen dat mense vervreemding ervaar wanneer hulle te doen het met insekte omdat insekte die “otherly embodied” is. Hulle is klein en bewoon (vanuit die mens se perspektief) vreemde plekke: “These are lives which may be lived in spaces such as water, soil, sky, (perpetual) darkness, forest canopy, and so forth, and (again) those lived on differing scales” (Jones 2000:286). Lockwood (2013:49) skryf die vrees en afsku wat baie mense vir insekte het toe aan die groot mate waarin insekliggame afwyk van die menslike liggaam. Brown (2007:7) voer weer aan dat die ongemak wat mense ervaar in hulle omgang met insekte nie is omdat insekte so baie van ons verskil nie, maar omdat hulle ’n oordrywing en/of verwringing van die menslike liggaam is, en mense daarom ’n “uncanny resemblance” sien in die op die oog af vreemde liggame: hulle het arms en bene, maar ses in plaas van vier; ’n kop wat reg georiënteer is, maar met oë, ’n mond en “ore” wat buite proporsie is; ’n geraamte, maar aan die buitekant in plaas van die binnekant van die liggaam; en ’n prominente onderlyf, maar geen opsigtelike seksorgane nie. Vir Brown (2007:7) beliggaam insekte tegelyk oordaad en verlies.

Philo en Wilbert (2000:7) voer aan dat insekte so klein is en daar so baie van hulle in ’n swerm is dat dit onmoontlik is om individue van mekaar te onderskei. Verder word insekte, meer as ander diere, as die “Ander” beskou omdat hulle meestal ook nie as individue funksioneer nie. In sy seminale werk Die siel van die mier, wat oorspronklik in 1934 verskyn het, beskryf Eugène Marais (2007:20, 24, sy beklemtoning) die “organiese eenheid van die termietnes” (wat hy ook die “miernes” noem) soos volg: “Jy moet ’n miernes beskou as ’n enkele dier waarvan die ledemate, in teenstelling tot die mens, nog nie inmekaargesmelt is nie. Een klas is die mond en voedingstelsel, ’n ander is die kloue of horings vir verdediging en ’n ander is die geslagstelsel.” Volgens Dodd (2013:154) word daar op ’n breë kulturele vlak geen waarde aan individuele inseklewens geheg nie, en word dit as buitensporig antroposentries beskou om ’n insek as ’n voelende wese met unieke gedragskenmerke te sien.

Chaudhuri (2014:204) wys daarop dat “animal multiplicities” dikwels ongemak, angs en vrees by mense veroorsaak. Alhoewel Parikka (2010:xxxiv) insekte as inspirasie sien vir die ontwikkeling van tegnologie en stelsels in die hedendaagse samelewing, is dit uit sy bespreking duidelik dat dit vir die mens ’n verskuiwing van denkraamwerke sal behels om die swermmentaliteit en veelvuldigheid van insekte te begryp. Hy wys daarop dat insekte paradigmatiese voorbeelde is van die opkomende swermorde waardeur begrippe rondom oppermag, die lewe en organisasie bevraagteken word. Volgens hom is hierdie bevraagtekening en verandering van denkraamwerke noodsaaklik vir hedendaagse politiek, netwerke en tegnologie. Die mens is gewoonlik die beginpunt in die meeste Westerse politieke filosofiese denke en filosofie rondom organisasie. As die organisasie van insekte as verwysingsraamwerk gebruik word, kom belangrike nuwe insigte na vore op hierdie gebiede.

In die bespreking van Samsa-masjien binne die raamwerk van MDS moet daar dus in gedagte gehou word dat Anker kies om van die groep diere waarvan die mens moontlik die meeste vervreem is, gebruik te maak.

 

3. Gilles Deleuze en Félix Guattari – dierwording

In hierdie artikel is my doel nie om ’n uitgebreide uiteensetting van Deleuze en Guattari se filosofie of ’n lesing oor Samsa-masjien binne kompleksiteitsteorie of skisoanalise (vgl. Anker 2007) te gee nie. Konsepte binne hulle werk sluit egter nou aan by uitgangspunte binne MDS, en ek gebruik hierdie konsepte binne die konteks van MDS. Ek is bewus van die gesofistikeerdheid en obskuriteit van Deleuze en Guattari se teorie en besef dat my uiteensetting en toepassing daarvan soms vereenvoudig is.

Volgens Bruns (2007:703) is Deleuze en Guattari se konsep van dierwording, soos die meeste van hulle ander konsepte, nie bedoel om helder te wees nie: “[F]or them a concept is never exactly ‘about’ something, but is a certain way of articulating complexities, as if to avoid closure or resolution whatever the matter at hand.”

Deleuze en Guattari (2005:240–1) onderskei tussen drie tipes diere. Eerstens is daar geïndividueerde diere: dit is troeteldiere, sentimentele, Oedipale diere met kleinlike geskiedenisse (“my” kat, “my” hond). Hierdie diere lok regressie by die mens uit en lei die mens tot narsissistiese denke. Tweedens is daar diere met kenmerke en karaktereienskappe, genus en klassifikasie. Hulle word ook staatsdiere genoem en word in die groot, goddelike mites gebruik om argetipes, strukture en modelle te vorm. Derdens is daar demoniese diere: “pack or affect animals that form a multiplicity, a becoming, a population, a tale …” (Deleuze en Guattari 2005:241). Die konsep van dierwording het dus betrekking op die derde tipe diere. Volgens Deleuze en Guattari (2005:239) behels dierwording altyd “a pack, a band, a population, a peopling, in short, a multiplicity”: “Animal characteristics can be mythic or scientific. But we are not interested in characteristics; what interests us are modes of expansion, propagation, occupation, contagion, peopling. I am legion.”

Wat veral tersaaklik vir my bespreking is, is dat Deleuze en Guattari (2008:13) verduidelik dat die proses van dierwording ’n oorskryding van grense behels: om dier te word, is om te beweeg, om ’n drumpel oor te steek, om ’n kontinuum van intensiteite6 te bereik, om ’n wêreld van suiwer intensiteite te vind waar alle vorme ontbind. Hiermee saam verval betekenis en betekenaars en tree die ongevormde materie van gedeterritorialiseerde vloeiing en niebetekenende tekens op die voorgrond.

Bruns (2007:703) som die konsep van dierwording op as ’n proses waardeur die subjek van die konstante na die veranderlike beweeg. Die subjek ondergaan ’n deterritorialisering waardeur hy of sy nie meer in ’n ruimte van stabiliteit en identiteit funksioneer nie, maar in een van beweging en verandering. Hy/sy word ’n struktuurlose legioen wat ’n risoomagtige (“rhizomatic”) eerder as ’n boomagtige (“arborescent”) stelsel het. Dit is ’n beweging van die molêre na die molekulêre,7 van eenheid na kompleksiteit, van organisasie na anargie (Bruns 2007:703–4).

Deleuze en Guattari (2005:15) maak gebruik van die beeld van boomagtige stelsels wat met ’n penwortelstelsel geanker is en vir hiërargieë en universele strukture staan. Risoomagtige stelsels, daarenteen, word gekenmerk deur veelvuldigheid (“multiplicities”), deterritorialisering en montages. Strukture soos taal is deel van boomagtige stelsels, terwyl die proses van dierwording risoomagtig van aard is. Volgens Anker (2007a:21) dui Deleuze en Guattari se konsep van deterritorialisering “op ’n proses van ontvlugting uit territoria, uit begrensde ruimtes, in die wydste sin van die woord”.

Deleuze en Guattari (2005:10) gebruik die beeld van die orgidee en perdeby om die proses van deterritorialisering te verduidelik. Ek haal hierdie gedeelte ruim aan omdat hulle uiteensetting van die verhouding tussen die orgidee en die perdeby ook van hulle ander konsepte duideliker maak:

The orchid deterritorializes by forming an image, a tracing of a wasp; but the wasp reterritorializes on that image. The wasp is nevertheless deterritorialized, becoming a piece in the orchid's reproductive apparatus. But it reterritorializes the orchid by transporting its pollen. Wasp and orchid, as heterogeneous elements, form a rhizome. It could be said that the orchid imitates the wasp, reproducing its image in a signifying fashion (mimesis, mimicry, lure, etc.). But this is true only on the level of the strata – a parallelism between two strata such that a plant organization on one imitates an animal organization on the other. At the same time, something else entirely is going on: not imitation at all but a capture of code, surplus value of code, an increase in valence, a veritable becoming, a becoming-wasp of the orchid and a becoming-orchid of the wasp. Each of these becomings brings about the deterritorialization of one term and the reterritorialization of the other; the two becomings interlink and form relays in a circulation of intensities pushing the deterritorialization ever further.

’n Wording is die totstandkoming van ’n nuwe montage. In die voorbeeld hier bo vorm die orgidee en perdeby ’n montage: ’n orgidee-perdeby-masjien. ’n Montage is die samevoeging van heterogene dele waardeur al die dele beïnvloed word. Deleuze en Guattari gebruik die konsep masjien om na die skakeling tussen heterogene elemente te verwys (Bonta en Protevi 2006:47) Hulle maak spesifiek gebruik van die term abstract machine: “This is what we call the abstract machine, which constitutes and conjugates all of the assemblage's cutting edges of deterritorialization” (Deleuze en Guattari 2005:141; hulle beklemtoning). Nie net word die eienskappe van al die onderdele in die montage opgeneem nie, maar die samekoms gee ook aanleiding tot nuwe eienskappe (Bonta en Protevi 2006:47, 59).

Die funksionering van die abstrakte masjien herinner aan Marvin en McHugh (2014:5) se uitspraak dat die verweefdheid van mens en dier nie net ’n “simple sum of human and animal parts” is nie, maar ’n gebeurtenis waardeur mens en dier verander word en iets nuut geskep word. Deleuze en Guattari (2005:254) beskryf die Natuur (“Nature”) as ’n reusagtige abstrakte masjien waarin elke individu ’n oneindige veelvuldigheid is: verskeie montages en individue groepeer om ’n oneindigheid van verbindings te vorm.

Om terug te keer na die beeld van die orgidee-perdeby-masjien: Deleuze en Guattari (2005:10) stel dit baie duidelik dat wat tussen die orgidee (perdebywording) en perdeby (orgideewording) gebeur, veel meer as nabootsing is. Dit is dan ook die geval met dierwording wat nie ’n korrespondensie tussen verhoudings, ’n ooreenkoms, nabootsing of ’n identifikasie is nie. Die proses van wording is nie vooruitgang of agteruitgang langs ’n reeks nie. Dit is nie iets wat in die verbeelding plaasvind nie en dit is ook nie drome of fantasieë nie. Wordings is werklik, maar dit hang af van watter werklikheid ter sprake is. Om dier te word, is nie om dier te speel of om die dier na te boots nie. Die mens word vanselfsprekend nie “werklik” (“‘really’”) ’n dier nie, soos wat die dier ook nie “werklik” iets anders word nie. Wording produseer niks anders as sigself nie. Wat werklik is, is die wording self, nie die veronderstelde vaste termyne waardeur dit wat verword, beweeg nie. Wording kan en moet gekwalifiseer word as dierwording selfs in die afwesigheid van die term wat die dier sal wees. Die dierwording van die mens is werklik, selfs al is die dier wat die mens word, nie werklik nie; en die anderwording van die dier is werklik, selfs al is die ander wat dit word, nie werklik nie (Deleuze en Guattari 2005:237–8). Dierwording is dus nie ’n mens wat maak of hy/sy ’n dier is of ’n dier naboots nie. Die mens word ook nie letterlik ’n dier nie. Dit gaan oor ’n manier van bestaan in die wêreld, ’n nuwe tipe bewussyn. Soos in MDS word ’n verweefdheid van mens en dier (Woodward en Lemmer 2014:2, my beklemtoning) veronderstel wat dui op die oorskryding van grense tussen mens en dier.

’n Laaste konsep van Deleuze en Guattari wat relevant is vir die bespreking is die konsep van die Liggaam sonder Organe (LsO). Bruns (2007:708) beskou die LsO as ’n soort argetipe vir die vlees: as sones van gewaarwording wat altyd in ’n toestand van wording (“becoming”) is. Die LsO is nie gekant teen die konsep van organe nie, maar is wel gekant teen die organisme – die organiese organisasie van organe (Deleuze en Guattari 2005:158). Volgens Deleuze en Guattari (2005:159) is die drie strata wat die mens die meeste bind, die organisme, betekening (“signifiance”) en subjektivering: “You will be organized, you will be an organism, you will articulate your body – otherwise you're just depraved. You will be signifier and signified, interpreter and interpreted – otherwise you're just a deviant.” Die LsO word gekenmerk deur disartikulasie van die strata as geheel, eksperimentering sonder betekenaar en interpretasie, nomadisme en desubjektivering (Deleuze en Guattari 2005:159).

Dierwording is dus ’n terugkeer na die vlees wat gepaardgaan met ’n verweefdheid van mens en dier. Dit behels die afbreek van grense en universele strukture soos taal (vgl. Palmeri 2006:84). In die proses van dierwording word identiteit en die subjek versplinter en nomadies: dit is ’n toestand wat gekenmerk word deur beweging en verandering. Die mens word deel van ’n heterogene mens-dier-masjien. Insekwording is om ’n swerm te word met ’n veelvuldigheid. Veelvuldigheid en die verlies van subjektiwiteit in die proses van dierwording/insekwording word nie gekenmerk deur vervreemding nie, maar deur transformasie en nuwe moontlikhede (vlg. Rudy 2014:211).

 

4. Die insekwording van Gregor en Josefine Samsa

4.1 Die grens tussen skoon en vuil

In Samsa-masjien word die verwydering tussen mens en dier reeds voorgestel deur die stel: ’n huis met twee vlakke. Die boonste vlak stel die kombuis/eetvertrek voor en word in die dramateks beskryf as “hipermodern”, “helder belig, skoon, leeg, oopplan, strak lyne” (9). Die onderste vlak is die kelder, wat in die dramateks beskryf word as “donkerder en warmer belig as bo”, “vuil en rommelrig” met “plante, mos en klammigheid” (10): ’n plek van insekte en ander gediertes wat klam, donker ruimtes bewoon. Kritici (sien byvoorbeeld Meyer 2015) bring die kelderruimte in verband met die mens se onderbewuste. Waar die onderbewuste in Freudiaanse terme die plek van argetipes (dus vaste, sentrale, “boomagtige” strukture) is, verbind Deleuze en Guattari (2005:18) dit aan die risoom. Hulle beskou die onderbewuste as ’n gedesentraliseerde sisteem met verskillende moontlikhede en begeertes (Deleuze en Guattari 2005:18). Volgens Anker (in Anker en Kapp 2016) is die onderbewuste in Samsa-masjien ’n “fabriek wat goed produseer eerder as net dieselfde goed herhaal”. Grete en Tjaart is hoofsaaklik bewoners van die boonste vlak en die kelder is die plek waar hulle “nie eintlik kom nie” (22). In die dramateks word hulle as volg beskryf: “Modieus. Wit, swart, grys, silwer, room. As hulle stilstaan, verdwyn hulle in hul huis” (10). Grete en Tjaart is vasgevang in ’n statiese en steriele ruimte.

As Gregor insekte begin sien en oor hom voel loop, maak Grete dit duidelik aan Richard, haar sielkundige, dat dit nie regtige insekte kan wees nie en dat Gregor hallusineer: “Ons huis is skoon, Richard. Obviously. Daar is nie bugs in my huis nie. Ek het ’n kontrak met Pestkill. (luister) Copywriter. (luister) Ja. Ek het ’n liftetime (sic) supply van gif. ‘Don’t Let your family live in a bug-ghetto. We’ve got the final solution.’ Ken jy dit? Dit was my kontrak daai” (22). Lockwood (2013:42) voer aan dat die idee dat insekte vuil is en kieme versprei, deel uitmaak van die moderne, Westerse samelewing se obsessie met sindelikheid. Verskillende middele word gebruik om teen die moontlikheid van besmetting te veg: “Antibacterial soaps, virus-killing tissues, and No-Pest Strips promise to keep our homes sterile” (Lockwood 2013:42). Grete is nie net ’n verbruiker van sulke produkte nie, maar as kopieskrywer skryf sy advertensies vir produkte soos Pestkill (22) en die “No Touch Handwash System” (65).

Volgens Grete wil “mense nie meer aan enigiets vat nie” (66–7). Die hedendaagse obsessie met ontsmetting hang saam met die ontliggaming van die mens. In ’n gesprek tussen Grete, Tjaart en voornemende kliënte van Grete klink die volgende frase op: “I can’t wait until they sort out that cybersex thing. Bodies are so ... icky” (74). Vroeër in die toneelstuk word daar ook na die hedendaagse mens se verwydering van die liggaamlike verwys as Grete en Tjaart onsuksesvol is in hulle poging tot seks (27). Die verwrongenheid en onnatuurlikheid van die moderne mens word verder uitgelig as al wat Tjaart uiteindelik seksueel stimuleer Grete se voorlegging van die No Touch Handwash System (65) is. Teenoor die kliniese steriliteit van die jonger geslag, die bewoners van die boonste verdieping, is daar Gregor en Josefine wat al hoe meer tyd bestee in die kelder van die huis. Hulle word “toenemend vuil en kaal” (10), dus liggaamlik, na die einde van die toneelstuk. In Samsa-masjien het die ouers veel meer sukses as die kinders op seksuele gebied. ’n Aansienlike deel van die tweede bedryf beeld die ouers uit wat passievolle seks het in die kelder (64). Hierdie toneel word in afdeling 4.3 verder bespreek. Wat hier van belang is, is dat Gregor en Josefine in die ruimte van die kelder, die vuil, besmette ruimte, vryheid en ekstase beleef. Die grens tussen vuil (die “dierlike” ruimte) en skoon (die moderne menslike ruimte) word oorgesteek.

Deleuze en Guattari (2005:239) beskryf die proses van dierwording as een van besmetting (“contagion”). Tydens sy insekwording sê Gregor dat hy “in die vuil” en “besmet” (21, 25) is en ’n “virus” het/is (26): “Word wakker met die virus. [...] Proe die virus. [...] Ek word virus. Ek word my wording. Die word-ding wat net ding is terwyl hy word” (26). Binne die raamwerk van MDS en Deleuze en Guattari is om deur die dier/insek besmet te word nie ’n las of irritasie nie, maar gee dit aanleiding tot beweging, verandering en bevrydende verweefdheid met die ander. Aanvanklik bad Josefine hom om ontslae te raak van die “vuil” (22–3). Dit is egter wanneer Gregor en Josefine hulleself oorgee aan die “vuil” dat hulle deur ’n proses van transformasie en ekstase gaan, soos later bespreek word.

Volgens Gregor word hy nie ’n “vlinder” nie, maar ’n “kokkerot” (25). Aloi (2014:69) skryf dat die skoenlapper een van die min insekte is waardeur die mens betower eerder as afgeskrik word. Alhoewel baie soorte insekte deur die proses van metamorfose gaan, fassineer die lewensiklus van die skoenlapper om een of ander rede die mens meer as enige ander insek s’n. Hy skryf dit toe aan die “butterfly aesthetic”: die blote feit dat skoenlappers se vlerke pragtige kleure en patrone op het en daarom sigbaar en aantreklik is vir die mens (Aloi 2014:69–70, sy beklemtoning). Die mens se klassifikasie van “vuil” en “skoon”, grillerige en niegrillerige insekte is dus ietwat arbitrêr. Dit is wel waar dat ’n kakkerlak van afvalkos leef, terwyl ’n skoenlapper tussen die blomme baljaar. Tog verkies Gregor die gedaante van die kakkerlak bó die van die skoenlapper, omdat, volgens hom, “die kokkerot hy kan nie dood nie” (30). Gregor voel aangetrokke tot die kakkerlak omdat dié insek aanpasbaar en lewenskragtig is. Dit is in die donker, vuil ruimte van die kakkerlak waar Gregor glo daar moontlikhede op oorlewing is.

4.2 Die grens tussen taal, klank en geraas

Soos reeds genoem, beskou Derrida (2002:400) taal as een van die grootste skeidings tussen mens en dier. Volgens Rudy (2014:212) is die koste van die mens se evolusionêre baan dat die ervaringswêreld van die mens verskraal het omdat alles wat die mens ervaar, gefiltreer word deur rede en taal (gesproke en geskrewe). Die mens se ander sintuie, veral as dit vergelyk word met ander diere s’n, het daarom hulle krag en bruikbaarheid verloor. Diere leef anders in die wêreld as mense omdat hulle primêr deur hulle liggame kennis opdoen, nie primêr deur hulle rede nie.

Deleuze en Guattari (2005:141) beskou taal as iets wat beperkend is omdat dit gesetel is in universele stelsels:

When linguists (following Chomsky) rise to the idea of a purely language-based abstract machine, our immediate objection is that their machine, far from being too abstract, is not abstract enough because it is limited to the form of expression and to alleged universals that presuppose language.

In Samsa-masjien verloor Gregor stelselmatig sy taalvermoë, en ook sy geheue, as gevolg van sy demensie. Alhoewel dit hom frustreer dat hy nie altyd die woorde kan vind wat hy soek nie (14, 15), is daar tog ’n aanduiding dat hy glo dat die totale aflegging van taal en rede bevrydend sal wees. Hy sê die volgende aan Josefine ná sy gesprek met ’n kakkerlak:

Hy wou praat, Josefine. Hy wou sê: “Ek wil jou antwoord, ou tweepoot, maar ek vergeet altyd dadelik wat ek wil sê.” En toe vergeet hy om te antwoord. Toe swyg die klein swendelaar maar en kou uitgelate aan julle vrot kaas. [...] Juis. Dis hoekom hy so tevrede is, hy laat gaan en vergeet soos hy aangaan. Sy dop is lig. (14)

Volgens Gregor is die kakkerlak gelukkig om nie die las van taal en herinneringe te hê nie. Palmeri (2006:84) wys daarop dat taal afgebreek word in die laaste fases van dierwording en oorgaan tot oninterpreteerbare klanke. In die stuk wissel Gregor se taal van uitgesponne, meestal poëtiese en obskure relase (sien byvoorbeeld 25, 29, 33) na ’n tipe brabbeltaal. Soms spreek hy woorde en sinne op ’n vreemde en onverstaanbare wyse uit (60–3) en, veral nadat hy en Josefine na ’n ou opname van Grete en Gregor jr. (Josefine en Gregor se oorlede seun) as kinders luister, praat hy soms in babataal: “Poepoe doedoe poepoe dada8 dada papa” (39). Die taal wat hy gebruik, is dus nooit “normaal” en maklik verstaanbaar nie.

“Normale”, alledaagse taalgebruik word in die stuk geproblematiseer en menslike kommunikasie deur middel van taal word as ontoereikend uitgebeeld. In die dramateks word byvoorbeeld slegs Grete se kant van ’n telefoongesprek tussen haar en haar sielkundige Richard weergegee:

Die laaste paar dae praat hy glo met kakkerlakke. Hy vergeet dinge. Hy vra dieselfde vrae oor en oor. Hy is vuil. Hy is vuil ... e ... (luister) Richard. [...] Hy borsel nie meer tande nie. Hy loop heeldag in sy pajamas rond. Kam nie meer sy ... Daar is hierdie nuwe seep dispensers, mens hoef nie eens daaraan te vat nie. Die dispenser sense as jou hande naby is en spuit die seep uit. Ek moet ’n ad daarvoor maak ... Nou die oggend het ek hom kaal in die tuin gevang rondkruip. (luister) Hoe moet ek weet, hy was seker besig om te ... (luister) Nee, ek het hom nie gevra nie ... Moes ek? (luister) My pa, Richard, my pa vee homself nie meer af nie. (15)

Anker speel ’n spel met taal deur slegs gedeeltes van die gesprek aan die leser/gehoor weer te gee. In hierdie “halwe” gesprek is dit egter duidelik dat Grete nie werklik antwoorde op haar vrae kry nie, dat die gesprek meer frustrasie as verligting aan Grete verskaf en dat haar gedagtes lukraak dwaal van haar pa se situasie na haar nuwe seepadvertensie. Grete en Richard se gesprekke, wat deur die loop van die dramateks voorkom, word deel van die geroesemoes van die huishouding en hulle vermag nooit werklik iets daardeur nie.

Die gegewe dat taal slegs agtergrondgeraas sonder enige werklike betekenis is, kom nog sterker na vore in die toneel waar Grete en Tjaart haar voornemende kliënte, Charlené en Stephán, onthaal. Die kliënte word voorgestel deur twee leë stoele, met Grete en Tjaart wat soms van hulle stoele na die leë stoele skuif. Die gesprek neem die vorm aan van die twee jongmense wat om die beurt kaartjies teks uit ’n bak op die tafel lees (71). Die teks op die kaartjies is niksseggende en soms absurde brokkies, clichés van die hedendaagse samelewing, byvoorbeeld:

“I love what you’ve done with the place.

What a stylish presentation.

Ja, but then you also get 200 free minutes.

Oh, this is just wonderful.

Butternut cooked in butter, honey, cinnamon and a squeeze of lemon juice.

Don’t know; maybe last year? I lost touch when he refused to join Facebook.

Just a bit of a nasal habit.

I don’t read newspapers anymore, it’s too depressing

[Ensovoorts, ensovoorts.].” (73–4)

Tussendeur is daar ook verwysings na die Suid-Afrikaanse situasie, byvoorbeeld:

“Do people still get AIDS? You never hear from them anymore.

And I was like só upset about the xenophobia thing; our Zimbabwean was such a darling.

Ons was by ’n restaurant in Kaapstad. Hulle food stylist het ’n Bergie-chic menu gelaunch. Die kos word aangedra in swartsakke ...” (75, 77, 78)

In ’n afgestompte, oppervlakkige globale verbruikerskultuur dra gesprekke oor vigs en xenofobie net soveel gewig as dié oor die gaarmaak van pampoen en Facebook. Sosiale kwessies soos haweloosheid word vervlak tot ’n modegier, en Suid-Afrika se probleme word deel van die agtergrondgeraas van die hedendaagse samelewing.

Terwyl die bogenoemde gesprek aan die gang is, is Gregor en Josefine besig om Gregor se geraasmasjien in die kelder te voltooi. Die bou van die geraasmasjien kan beskou word as ’n poging van Gregor om uit die beperkende strukture van taal te breek. Die geraasmasjien bestaan onder andere uit ’n ou klavier wat Gregor “al hoe valser stem” (22) en ’n bandopnemer en ou opnames van Grete en Gregor jr. as kinders (45). Gregor neem sy en Josefine se stemme, Josefine se vals vioolspel, asook ’n gesprek tussen Grete en Tjaart waarin hulle sy verslegtende toestand bespreek, op (45, 46–9). Die produk is ’n vermenging van klanke en brokkies van gesprekke: dit is ’n chaotiese kakofonie waarin betekenaar en interpretasie opgehef word (vgl. Deleuze en Guattari 2008:13, 159). Gregor begin dan die opname toenemend harder te speel terwyl Grete en Tjaart die kliënte onthaal (79). Josefine en Gregor sing en maak ook ander geluide terwyl die opname speel (79–81). In die neweteks staan die volgende: “Wat in die kelder plaasvind dra ten minste net soveel gewig as wat bo in die eetvertrek plaasvind. Die teks vir die eetvertrek kan gelees word as agtergrondmusiek vir die roes uit die kelder” (71–2). Alhoewel die neweteks meld dat die geraas uit die kelder “ten minste net soveel gewig” as die gesprek tussen die jongmense dra, is dit duidelik dat die klanke van Josefine, Gregor en die geraasmasjien méér gewig dra as die generiese gesprek wat op die boonste vlak aan die gang is. Die gesprek is “agtergrondmusiek” vir dit wat in die kelder aangaan en nie andersom nie. Die alledaagse gebruik van taal is betekenisloos en leeg, terwyl Gregor en Josefine se geraasmaak deel van hulle metamorfose is. In die neweteks word dit wat in die kelder aan die gang is, as volg beskryf:

Die ouers is te midde van ’n kakkerlakking en geraasmasjien-bouery. GREGOR en JOSEFINE is naak of skraps geklee en vuil. Hulle bou ’n insek met hul lywe. Die insek is rats, soepel, speels, nuuskierig en heeltemal on-, voor- en postmenslik. Die lyflikheid is intiem, eroties. Geen dialoog, alleenlik die geklik en -kir van ’n insek. Die insekspel word afgewissel met die konstruksie van die geraasmasjien en die stelselmatige begin van die musiekstuk – klein voorwerke vir die magnum opus aan die einde. Alles wat hulle doen en brom, die klanke en ritmes, het die suggestie van ’n fabriek. Dit is ’n fabriek wat homself maak, ’n masjien wat homself bou. Hulle word die proses. (71)

In hierdie toneel is taal nie meer ’n hindernis in Gregor en Josefine se proses van dierwording nie: hulle kommunikeer bloot deur klanke, geraas. Deterritorialisering en desubjektivering vind plaas deurdat hulle nie meer as individue funksioneer nie, maar ’n Gregor-Josefine-(geraas)masjien word. Gregor en Josefine se transformasie word in die volgende afdeling verder bespreek.

4.3 Die metamorfose: kindwees, volwassenheid, oudword, insekwording en dood

Steeves (1999:1) beskou die grens tussen mens en dier nie as iets waarmee die mens gebore word nie, maar as iets wat aangeleer word. Dit hang saam met die gegewe van aangeleerde taal wat uiteindelik die mens se wêreld inperk. Soos wat die mens van volwassene na kind ontwikkel, word die skeiding tussen mens en dier al groter. Volgens Steeves (1999:1) is die proses van volwassewording die proses van onderwerping en die aanleer van konsepte en ons plek binne hierdie konsepte. Dit is ’n tipe dood waardeur die liggaam aanvaarbaar mens moet word deurdat dierlikheid onderdruk word. Alles wat “wild” is, word onderdruk en die kind wat volwasse word, verander in ’n skepsel van die rede: “The creature will be created rather than emerge. As he comes to think of his body as human it will become human, individual, and alone” (Steeves 1999:1).

Vir Steeves (1999:1), wat nie noodwendig doelbewus in die idioom van Deleuze en Guattari skryf nie, is om mens te word ’n regressie en ’n tipe dood. In Deleuziaanse en Guattariaanse terme is dierwording, menswording (of enige ander wording) nie regressief of progressief nie, maar gaan dit oor die strewe na ’n proses van voortdurende verandering eerder as vooruitgang of agteruitgang (Deleuze en Guattari 2005:238). Wat wel van belang is in Steeves (1991:1) se stelling is dat om kind te wees, is om dier te wees. Anker (in Anker en Kapp 2016 en Anker, Bouwer en Wicomb 2015) wys daarop dat die rolle in Samsa-masjien omgekeer is: die kinders pas nou die ouers op waar die ouers altyd na die kinders gekyk het. Hierdeur word die oumense weer soos kinders. In die volksmond word die toestand van demensie, soos in die geval van Gregor, dan ook “kinds” genoem. Gregor en Josefine se terugkeer na kindwees bring hulle nader aan dierlike liggaamlike bevryding.

In Samsa-masjien word oudword en demensie egter nie verromantiseer nie. Daar word nêrens gesuggereer dat dit maklik of aangenaam is nie, maar die wyse waarop Gregor en Josefine die verval van hulle menslike liggame hanteer, word wel in ’n positiewe lig gestel. In ’n gesprek tussen Grete en Josefine beskryf Josefine Gregor se toestand as tegelyk “skrikwekkend” en “mooi”:

GRETE: Ma, asseblief. (stilte) Hy is scary. Ek weet nie hoe jy cope nie.

JOSEFINE: Dit is skrikwekkend, ja. Maar daar is ook mooi ...

GRETE: Mooi? Hierdie siekte? Daar is niks van hom oor nie.

JOSEFINE: Jou pa kon nooit ’n kind wees nie. Miskien is nou sy kans. Miskien was die kind nog altyd daar. (29)

Daar mag dalk min van Gregor as individu oor wees, maar soos bespreek, word hy deel van ’n heterogene montage wat verder strek as die subjek.

’n Belangrike aspek van Gregor en Josefine se insekwording is dat dit ook ’n vleeswording is. Hulle keer egter nie terug na die vlees in die gedaantes van mense nie, maar gebruik hulle menslike liggame om ’n nuwe liggaam, die liggaam van ’n insek, te bou (71). Teenoor hulle vervalle, bejaarde liggame is hierdie liggaam “rats, soepel, speels, nuuskierig en heeltemal on-, voor- en postmenslik” (71). Hulle nuwe liggaam is dus ’n verbetering op hulle ou liggame. Volgens Braidotti (2013:1–2) en Wolfe (2003b:ix) is dit in die posthumanistiese era, wat hulle albei van mening is ons reeds in is, dat die grens tussen mens, dier en masjien (die menslike en niemenslike) vervaag en geproblematiseer word: “[P]osthumanism […] renders uncertain and unstable [...] the relationship of the human to itself because it renders unstable not just the boundary between human and animal but also between organic and the mechanical or technological” (Wolfe 2010:90). Gregor en Josefine steek dan ook hiérdie grens oor en word terselfdertyd dier en masjien: “Dit is ’n fabriek wat homself maak, ’n masjien wat homself bou” (71). Hulle transformeer tot ’n postmenslike wese wat alle grense van klassifikasie oorskry.

Soos insekte in ’n swerm word Gregor en Josefine een organisme. As gevolg van die wyse waarop insekswerms funksioneer, word insekte dikwels aan masjiene gelykgestel (Dodd 2013:154 en Parikka 2010:22). Die Gregor-Josefine-swerm-masjien is egter nie koud en gevoelloos nie, maar “die lyflikheid is intiem, eroties” (71). Deur die opheffing van die grens tussen mens, dier en masjien in ’n posthumanistiese konteks is sekere eienskappe nie beperk tot ’n bepaalde groep nie: ’n masjien kan intimiteit ervaar, insekte kan gevoelens hê en mense kan masjiene wees.

Gregor en Josefine keer reeds vroeër terug na die vlees deur “tegelykertyd dierlik en broos” seks te hê in die kelder (64): “Hul bewegings en posisies herinner toenemend meer aan dié van parende insekte as aan menslike omgang. Ons hoor geluide, min daarvan menslik. Die bedryf eindig waar albei ouers uitgeput en uitgelate lê en hyg” (64). Soos genoem in afdeling 4.1 word die ouers se passievolle seks geplaas teenoor die kinders se onsuksesvolle poging tot seks. In Samsa-masjien is passie slegs in “dierlike”, “vuil” seks te vind: om vlees te word, is om dier te word. Gregor en Josefine se seks is egter steeds “broos”, wat daarop dui dat hulle steeds weerloos is, selfs dalk meer weerloos is, in hulle insekgedaante(s).

Alhoewel Gregor glo dat die kakkerlak onsterflik is (30), kom die broosheid en weerloosheid van ’n inseklyf ook na vore in sy volgende beskrywing van sy metamorfose:

Almal is welkom in die onderwêreld. Ek speel nie meer nie. Ek wil nie meer eet nie, drink nie, asemhaal nie, liefhê nie, nie meer doodgaan nie. Ek is insek. Ek breek my afgeseëlde vleis oop. Ek wil leef in my are, in die murg van my bene, in die labirint van my skedel. Ek trek terug in my derms. Ek vind beskutting in my bloed. Ek kan leef in my kak. Ek wil alleen wees met my bloed. My gedagtes is seerplekke. My brein is ’n wond. Ek wil masjien wees. Ek is geraasmasjien. Voelers om te voel, pote om te loop. Geen pyn, geen gedagtes. ’n Masjien wat my uitkeer en afskil tot net die eksoskelet bly, tot die binnelyf uitgevreet en leeggeslurp ... Tot die buitedop hard en koud en broos so maklik verkrummel in enigiemand se kies. Dit is my DNS? Deoksiribonukleïensuur? Maar hoe luister mens daarna? (34–5)

In hierdie aanhaling streef Gregor na ’n liggaamwording (hy wil “leef in [sy] are” en “beskutting vind in [sy] bloed”), maar terselfdertyd wil hy liggaamlikheid ophef en “nie meer eet nie, drink nie, asemhaal nie, liefhê nie, nie meer doodgaan nie” (34–5). Gregor se woorde herinner aan Bruns (2007:707) se beskrywing van die ontkenning van die liggaamlike in die proses van menswording eerder as dierwording. Weer eens suggereer Gregor dat insekte nie kan doodgaan nie (“[...] nie meer doodgaan nie. Ek is insek”) (34), maar weerspreek hom dan deur te beskryf hoe die inseklyf “maklik verkrummel in enigiemand se kies” (35). Volgens Diamond (2008:74) en Deleuze (2004:23, 25) word die grens tussen mens en dier afgebreek deur liggaamlikheid, weerloosheid, lyding en pyn. Gregor koppel egter lyding en pyn aan die verstandelike/rede en nie aan die liggaam nie: “My gedagtes is seerplekke. My brein is ’n wond” (35). Hy spreek hierna die wens uit om ’n masjien te word wat nie pyn voel nie (35). Vroeër stel hy die inseklyf gelyk aan ’n tipe masjien wat ledemate soos die onderdele van ’n masjien kan vervang: “Julle kan maar byt. Inderwaarheid had ek ’n fabriek vol arms, skure vol bene. Inderwaarheid was arms soos pote, bene soos tentakels. Drade! Inproppings! Inderwaarheid wil ek uitgaan in die lig. Soek my ranke terug, terug ...!” (29). Gregor redeneer dus dat hy as insek minder weerloos en onsterflik sal wees. Waar die Gregor-Josefine-insek-masjien as weerloos en passievol beskryf word, is die insek wat Gregor hier beskryf, gevoelloos en meganies van aard. In hierdie aanhaling is ook ’n direkte verwysing na Deleuze en Guattari (2005:161) se konsep van die LsO: volgens hulle word jy ’n LsO as jy ’n masjien skep wat by ander kollektiewe masjiene kan inprop.

Dit kan moontlik geïnterpreteer word dat Anker hier insekte as meganomorfiese voorwerpe (“mechanomorphic objects”) uitbeeld: robotagtige wesens wat bloot deur instink gedryf word (Dodd 2013:154). ’n Moontlike afleiding is dan dat Anker hier verval in antroposentriese dualisme deurdat insekte voorgestel word as gevoellose objekte wat in teenstelling is met menslike subjektiwiteit. Die beskuldiging van antroposentrisme word ook soms teen Deleuze en Guattari en hulle konsep van dierwording gemaak. Beaulieu (2011:80) bespreek hoe sommige kritici binne MDS en posthumanisme, byvoorbeeld Donna Haraway, Deleuze en Guattari se metafisiese blik op die dier as onsuksesvol beskou in die oorsteek van die grens tussen mens en dier deurdat dit bloot ’n uitbreiding van menslike ervaring is en nie werklik iets met die dier te doen het nie. Volgens Beaulieu (2011:80) is dit ’n misverstaan van Deleuze en Guattari se werk. Hy voer aan dat Deleuze en Guattari se filosofie juis antihumanisties is deurdat die prosesse van desubjektivering en ontpersoonliking bevorder word. Die mens beklee nie ’n bevoorregte posisie in Deleuze en Guattari se denke nie en konsepte soos molêr/molekulêr, risoom en montage word op gelyke vlak van toepassing gemaak op die mens, die dier, die politiek, die kunste, ens. (Beaulieu 2011:72). Parikka (2010:23–4), wat hier onder duidelik gebruik maak van Deleuziaanse en Guattariaanse terme, beskryf die tipe masjienagtige uitbeelding van insekte, soos in Anker se Samsa-masjien, as volg:

Despite the fact that several commentators often seemed to regard instincts as closed loops of automatic behaviour, it might be useful to also see instincts functioning as intensities – prelinguistic modes of intertwining the body with its surroundings (other bodies), the resonance of bodies in continuity and movement. Intensity marks this readiness for action, a threshold for interactions as affects.

Na aanleiding van Parikka (2010:23–4) se uitspraak kan Gregor se beskrywing van sy insekwording hier bo eerder gelees word as ’n nuwe wyse van bestaan: een waar die subjek versplinter en verweef raak met sy/haar omgewing en op hierdie wyse nie individuele pyn voel nie. Deleuze en Guattari (2005:141, 254) gebruik dan ook die term machine om na ’n veelvuldigheid van lewensvorme te wys wat versmelt en nuwe moontlikhede en beweging tot gevolg het. Vir Deleuze en Guattari is ’n masjien dus nie gevoelloos en dood nie.

Ook na aanleiding van Deleuze en Guattari se teorie, skryf Braidotti (2006:144) die volgende: “Death is the ultimate transposition, though it is not final. The sacralisation of life in Christian ethics is challenged by Deleuze’s theory of the becoming-animal/insect/imperceptible: Zoe carries on, relentlessly […].” Braidotti (2006:138) maak ’n onderskeid tussen Zoe en Bios: “Life is half animal: Zoe and half discursive: Bios.” Binne tradisionele, antroposentriese denke word Zoe ondergeskik gestel aan Bios, word dit geassosieer met die “ander”, en staan dit vir alles wat irrasioneel, liggaamlik en monsteragtig is (Braidotti 2006:138). Volgens Braidotti (2006:138) is Zoe egter sentraal in die nomadiese versplintering van subjektiwiteit tydens dierwording soos uiteengesit deur Deleuze en Guattari: “Nomadic thought loves Zoe and sings its praises by emphasising its active, empowering force against all negative odds” (Braidotti 2006:138). Gregor se insek-masjien-wording is dus ’n manier om sy naderende dood te verwerk en te aanvaar, eerder as om dit te ontken. Hy neem ander vorme van wording aan as voorbereiding op die (ver)wording van die gestorwe liggaam. Die dood is nie meer ’n einde nie, maar net nog ’n fase in die voortdurende verandering en beweging van die versplinterde nomadiese subjek. Dit sluit aan by die aanhaling van Miller wat as motto vir die dramateks dien: verganklikheid en die dood word hier net so ’n wonderbaarlike en ryk uitdrukking van die lewe as groei.

 

5. Ten slotte

Anker (in Anker en Kapp 2016) voer aan dat Samsa-masjien onder al die intertekste, taalspeletjies en intellektuele verwysings wat daarin gelees kan word, die verhaal van twee mense is wat oud word en die dood moet verwerk. Gregor en Josefine is mense wat altyd die samelewing se strukture gevolg het en gedoen het wat van hulle verwag word: Gregor het as skoolhoof lang ure gewerk en Josefine het huis gehou en kinders grootgemaak en nooit haar eie drome nagestreef nie (37, 39, 40–1). Aan die einde van hulle lewe breek hulle uiteindelik uit die sosiaal aanvaarbare strukture: hulle word vuil, leef hulle liggaamlik uit en maak ekstatiese geraas.

In hierdie artikel lees ek Samsa-masjien binne die raamwerk van MDS. Die vraag ontstaan of ’n verhaal wat uiteindelik oor mense gaan, werklik die grens tussen mens en dier kan oorsteek. Word die dier, in hierdie geval die insek, nie net ’n instrument en metafoor vir menslike ervaring nie? Dit is egter onmoontlik vir enige (menslike) skrywer om uit ’n perspektief buite dié van die menslike ervaringswêreld te skryf. Ek is van mening dat Anker in die toneelstuk wel die grens tussen mens en dier (en selfs mens, dier en masjien) oorskry. Hy beeld ’n hedendaagse samelewing uit waarin die mens so ver verwyderd geraak het van die liggaamlike dat ’n posthumanistiese wording soos Gregor en Josefine s’n die enigste hoop is. Gregor en Josefine ontsnap van die steriliteit en kunsmatigheid van die hedendaagse verbruikerskultuur deur vuil te word, “dier” te word, liggaam te word. Terselfdertyd word hulle masjien, maar soos bespreek is dit nie ’n gevoellose masjien nie, maar ’n Gregor-Josefine-insek-masjien wat buite enige klassifikasiestrukture val – hierdeur word die hiërargie van mens, dier, organiese en anorganiese opgehef. Hiermee saam verval die struktuur van taal: een van die grootste skeidings tussen mens en dier.

Anker steek verder die skeidslyn tussen mens en dier oor deurdat hy die leser/gehoor inspireer om op ’n nuwe wyse na insekte te kyk. Soos genoem, ervaar die meeste mense vervreemding en afsku in hulle omgang met insekte. Gregor en Josefine is egter verwonderd met hulle insekliggaam – vir hulle beteken dit bevryding en ekstase. Die Gregor-Josefine-insek-masjien wek empatie eerder as weersin by die leser/gehoor. Anker maak gebruik van insekte, die groep diere waarvan die mens die meeste vervreem is, om verganklikheid, iets waarmee alle mense hulle kan vereenselwig, aan te roer. Hy maak dan ook nie gebruik van die fraaie vlinder in sy uitbeelding van die metamorfose van die lewe na die dood nie, maar verkies om een van die (uit die mens se perspektief) grillerigste insekte, die kakkerlak, te gebruik. Dit is in die vuil, klam, donker ruimte van die kakkerlak waar kreatiwiteit floreer en nuwe moontlikhede na vore kom.

Die grens tussen mens en dier word in die toneelstuk oorskry veral ook deurdat daar gewys word op dit wat mens en dier gemeen het: weerloosheid en die dood. Diamond (2008:74) wys daarop dat liggaamlikheid gepaardgaan met “being ‘alive to the world’”. Deur bewus te wees van sy/haar liggaam voel die mens meer “lewend”, maar daarmee saam word die mens ook meer bewus van sy/haar eie weerloosheid en sterflikheid (Diamond 2008:74). Ten spyte van die transformasie wat Gregor en Josefine se insekwording vir hulle bring, is hulle uiteindelik ook weerloos. Gregor sterf, maar sy laaste kreet is ten minste “ekstaties” (87). Gregor se dood laat Josefine verlate en “verslae” (87, 89). Die uiteinde van die metamorfose is dus ook nie sonder pyn en lyding, dit wat mens en dier met mekaar verbind, nie. Josefine sterf kort ná Gregor (92).

Marais (2007:86) skryf die volgende oor die funksionering van die termietnes: “As enkelinge is die koningin en al haar onderdane die swakste, die mees bedreigde van alle insekte. As enkelinge in ’n onbeskermde omgewing, sou die ras nooit kon voortbestaan nie.” In die Gregor-Josefine-swerm van twee kan die een ook nie sonder die ander een aanhou bestaan nie. Soos in afdeling 4.3 bespreek, is die dood egter nie die einde nie. Gregor en Josefine se dood kan daarom as ’n verdere wording beskou word wat moontlik is slegs as menslike subjektiwiteit nie meer bestaan nie.

 

Bibliografie

Aloi, G. 2014. On a wing and a prayer: butterflies in contemporary art. In Marvin en McHugh (reds.) 2014.

Anker, W. 2007a. Die nomadiese self: skisoanalitiese beskouinge oor karaktersubjektiwiteit in die prosawerk van Alexander Strachan en Breyten Breytenbach. Ongepubliseerde doktorale proefskrif, Universiteit Stellenbosch.

—. 2007b. Hoe om te skryf met afgekapte hande: Breyten Breytenbach se Woordwerk (1999) en die taalfilosofie van Deleuze en Guattari. Stilet, 19(2):1–12.

—. 2008. Nomades, oorlogmasjiene, Freud en The Doors: 'n Skisoanalise van Alexander Strachan se “Visioen” (1984) met verwysing na Apocalypse Now. LitNet Akademies (Geesteswetenskappe), 5(3):94–109.

—. 2015. Samsa-masjien. Pretoria: Protea.

Anker, W. en T. Kapp. 2016. Willem Anker: Samsa-masjien. Gesprek by Woordfees 2016, 5 Maart, 9:00, Stellenbosch: HB Thom-Foyer.

Anker, W., J. Bouwer en P.-H. Wicomb. 2015. Samsa-masjien: Jaco Bouwer, Willem Anker en Pierre-Henri Wicomb gesels oor dié drama (video). Protea Boekhuis@Books LIVE, 26 Mei. http://protea.bookslive.co.za/blog/2015/05/26/samsa–masjien–jaco–bouwer–willem–anker–en–pierre–henri–wicomb–gesels–oor–di%C3%A9–drama–video (23 Februarie 2016 geraadpleeg).

Beaulieu, A. 2011. The status of animality in Deleuze’s thought. Journal for Critical Animal Studies, 9(1/2):69–88.

Birke, L. 2011. Preface: In hope of change: Rethinking human-animal. In Taylor en Signal (reds.) 2011.

Bonta, M. en J. Protevi. 2006 [2004]. Deleuze and geophilosophy: A guide and glossary. Edinburg: Edinburgh University Press.

Boundas, C.V. (red.). 2006. Deleuze and philosophy. Edinburgh: Edinburgh University Press.

Braidotti, R. 2006. The ethics of becoming–imperceptible. In Boundas (red.) 2006.

—. 2013. The posthuman. Cambridge: Polity Press.

Brown, E.C. 2006. Insect Poetics. Minneapolis:University of Minnesota Press.

—. 2007. Talking Insects. Antennae, 3(1):4–7.

Bruns, G.L. 2007. Becoming–animal (Some simple ways). New Literary History, 38(4):703–20.

Cavell, S., C. Diamond, J. McDowell, I. Hacking en C. Wolfe (reds.). 2008. Philosophy and animal life. New York: Columbia University Press.

Chaudhuri, U. 2014. Becoming rhinoceros: Therio-theatricality as problem and promise in Western drama. In Marvin en McHugh (reds.) 2014.

Crous, M. 2015. “Samsa–masjien”: Oudword, aflegging en die verlies aan taal boei enduit. Netwerk 24: Boeke, 22 Junie. http://www.netwerk24.com/Vermaak/Boeke/Samsa-masjien-Oudword-aflegging-en-die-verlies-aan-taal-boei-enduit-20150622 (23 Februarie 2016 geraadpleeg).

De Beer, D. 2014. Arts fest showcases quality and diversity. The Star, 8 April, bl. 5.

Deleuze, G. 2004. Francis Bacon: the logic of sensation. Londen en New York: Continuum.

Deleuze, G. en F. Guattari. 2008 [1986]. Kafka: Toward a minor literature. Vertaal deur D. Polan. Minneapolis en Londen: University of Minnesota Press.

—. 2005 [1987]. A thousand plateaus: Capitalism and schizophrenia. Vertaal deur B. Massumi. Minneapolis en Londen: University of Minnesota Press.

Derrida, J. 2002. The animal that therefore I am (More to follow). Vertaal deur D. Wills.

Critical Inquiry, 28(2):369–418.

Diamond, C. 2008. The difficulty of reality and the difficulty of philosophy. In Cavell e.a. (reds.) 2008.

Dodd, A. 2013. Popular entomology and anthropomorphism in the nineteenth century: L.M. Budgen’s Episodes of insect life. In Thorsen e.a. (reds.) 2013.

Griebenow, M. 2015. Stuk sleur mee, walg, onthuts en ontroer. Netwerk 24: Teater, 21 Januarie. http://www.netwerk24.com/Vermaak/Teater/Stuk-sleur-mee-walg-onthuts-en-ontroer-20150121 (26 Julie 2016 geraadpleeg).

Jones, O. 2000. (Un)ethical geographies of human-non-human relations: encounters, collectives and spaces. In Philo en Wilbert (reds.) 2000.

Kafka, F. 2014. The metamorphosis. Vertaal deur D. Wyllie. Tustin, Kalifornië: Xist Classics. (Elektroniese weergawe).

Lockwood, J. 2013. The infested mind: Why humans fear, loathe, and love insects. Oxford: Oxford University Press.

Marais, E.N. 2007. Die siel van die mier. Pretoria: Protea Boekhuis.

Marvin, G. en S. McHugh. 2014. In it together: an introduction to human-animal studies. In Marvin en McHugh (reds.) 2014.

Marvin, G. en S. McHugh (reds.). 2014. Routledge handbook of human-animal studies. New York: Routledge.

May, W.W. en M.S. Terpenning. 1991. Delusional parasitosis in geriatric patients. Psychosomatics, 32(1):88–94.

Meyer, N. 2015. Samsa-masjien. LitNet, 17 Januarie. http://www.litnet.co.za/samsa-masjien (14 Maart 2016 geraadpleeg).

Painter, D. 2007. Die wysheid van die plante: Enkele gedagtes oor Willem Anker se Siegfried. LitNet, 5 Desember. http://www.litnet.co.za/die-wysheid-van-die-plante-enkele-gedagtes-oor-willem-anker-se (13 April 2016 geraadpleeg).

Palmeri, F. 2006. The autocritique of fables. In Palmeri (red.) 2006.

Palmeri, F. (red.). 2006. Humans and other animals in eighteenth-century British culture: Representation, hybridity, ethics. Hampshire: Ashgate.

Parikka, J. 2010. Insect media: An archaeology of animals and technology. Posthumanities 11. Minneapolis: University of Minneapolis.

Philo, C. en C. Wilbert. 2000. Animal spaces, beastly places: an introduction. In Philo en Wilbert (reds.) 2000.

Philo, C. en C. Wilbert (reds.). 2000. Animal spaces, beastly places. New geographies of human-animal relations. Londen en New York: Routledge.

Pople, L. 2014. Drie eietydse dramas blink uit. Die Burger, 7 April, bl. 14.

Rudy, K. 2014. Bestial imaginings. In Marvin en McHugh (reds.) 2014.

Steeves, P.H. 1999. Introduction. In Steeves (red.) 1999.

Steeves, P.H. (red.). 1999. Animal others. On ethics, ontology, and animal life. Albany: State University of New York Press.

Taylor, N. 2011. Introduction: Thinking about animals. In Taylor en Signal (reds.) 2011.

Taylor, N. en T. Signal (reds.). 2011. Theorizing animals: Re-thinking humanimal relations. Nederland: Brill.

Taylor, N. en R. Twine. 2014. Introduction: locating the “critical” in animal studies. In Taylor en Twine (reds.) 2014.

Taylor, N. en R. Twine (reds.). 2014. The rise of critical animal studies: From the margins to the centre. Londen en New York: Routledge.

Thorsen, L.E., K.A. Rader en A. Todd (reds.). 2013. Animals on display. The creaturely in museums, zoos, and natural history. University Park, Pennsilvanië: The Pennsylvania State University Press.

Visagie, A. 2013. Pasmaatspesies, niemenslike diere en die omgewing: gedagtes oor die postkoloniale ekokritiek in Suid-Afrika. LitNet, 22 Februarie. http://www.litnet.co.za/pasmaatspesies-niemenslike-diere-en-die-omgewing-gedagtes-oor-die-postkoloniale-ekokritiek (6 Augustus 2015 geraadpleeg).

Wolfe, C. 2003a. Animal rites: American culture, the discourse of species, and posthumanist theory. Chicago en Londen: The University of Chicago Press.

—. 2003b. Introduction. In Wolfe (red.) 2003.

—. 2010. What is posthumanism? Posthumanities 8. Minneapolis: University of Minneapolis.-

Wolfe, C. (red.). 2003. Zoontologies. The question of the animal. Minneapolis: University of Minnesota Press.

Woodward, W. en E. Lemmer. 2014. Introduction: Figuring the animal in post-apartheid South Africa. Journal of Literary Studies, 30(4):1–5.

 

Eindnotas

1 My dank aan die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns en die Universiteit Stellenbosch vir finansiële steun vir hierdie navorsing.

2 Waar slegs bladsynommers aangegee word, is die verwysing na Anker se dramateks Samsa-masjien (2015).

3 Sien Anker (8) se verwysing na “Kafka se muis-sanger” in die rolverdeling in die dramateks.

4 Verskeie kritici binne die veld van MDS verkies om van die terme menslike dier en niemenslike dier gebruik te maak, omdat die mens ook ’n dier is (sien byvoorbeeld Birke 2011 en Woodward en Lemmer 2014). Omdat menslike dier en niemenslike dier ietwat lomp is, gebruik ek in hierdie artikel die terme mens en dier. Ek doen dit egter met die veronderstelling, soos uiteengesit deur Marvin en McHugh (2014:2), dat die mens ook ’n dier is. Die term niemenslike dier is ook nie onproblematies nie, omdat die term mens steeds deel vorm van ’n beskrywing vir alle diere wat nie mense is nie.

5 Ek het Anker se doktorale proefskrif, “Die nomadiese self: skisoanalitiese beskouinge oor karaktersubjektiwiteit in die prosawerk van Alexander Strachan en Breyten Breytenbach” (2007), geraadpleeg waar ek onseker was oor die Afrikaanse vertaling van Deleuze en Guattari se konsepte en terme. Soos reeds genoem, het Anker (2007a, 2007b en 2008) uitvoerig in Afrikaans geskryf oor die teorieë van Deleuze en Guattari en ek het meestal saamgestem met sy vertaling van terme.

6 Bruns (2007:705) omskryf Deleuze en Guattari se teorie oor intensiteite as volg: “An intensity is something like a moving line without boundaries or points along the way, a pure difference without structure or definition [...].”

7 Deleuze en Guattari (2005:33) verwys na molêre en molekulêre bestaanswyses. Die molêre bestaanswyse hou verband met die boomagtige en die molekulêre bestaanswyse met die risoomagtige. Hulle neem die term molêr uit die veld van chemie waar dit verwys na die getal atome in een gram waterstof (Anker 2007a:138). Na aanleiding van Bonta en Protevi se bespreking van Deleuze en Guattari se konsepte in Deleuze and geophilosophy beskryf Anker (2007a:138) die verskil tussen molêre en molekulêre bestaanswyses soos volg:

’n “Mol” bevat altyd dieselfde hoeveelheid partikels, ongeag die volume wat dit beslaan. By Deleuze/Guattari verwys die term “molêr" nie na die grootte van die partikels nie, maar is die verskil tussen molêr en molekulêr eerder die verskil tussen verskillende modi van organisering van ’n veld of “populasie” van partikels (van enige omvang). Deleuze/Guattari se gebruik van molêr verwys na die vermoë om slegs te fokus op die gemiddelde gedrag binne ’n veld. ’n Veld is dus molêr wanneer dit georganiseer is volgens spesifieke norm of standaard, sodat die partikels gerangeer kan word kragtens hul afwykings tot die norm. Molekulêre montages of velde verwys weer na montages waar die afwykende gedrag van die partikels in ag geneem moet word omdat hulle groot veranderinge binne die montage kan teweeg bring. Molêre liggame is velde binne ekwilibrium en molekulêre montages verkeer in toestande ver van ekwilibrium.

8 Hierin is ook ’n verwysing na die avant-garde Dada-beweging van die vroeë 20ste eeu waarin die klem op die absurde was en die doel was om betekenis af te breek eerder as te skep. Wat hiermee saamhang, is die konsep van “noise music” van die futuriste in min of meer dieselfde tyd.

The post Die “grense van menswees” en insekwording in Willem Anker se Samsa-masjien (2015) appeared first on LitNet.

Viewing all 21593 articles
Browse latest View live


<script src="https://jsc.adskeeper.com/r/s/rssing.com.1596347.js" async> </script>