![]()
Loeloeraai is 100 jaar gelede gepubliseer. Ek het OpenAI se DALL·E opdrag gee om die ruimteskip se aankoms in die Karoo te skets. Hier is DALL·E se kunswerk. DALL·E is ’n kunsmatig-intelligente rekenaartoepassing.
...
Afrikaanse wetenskapfiksie is reeds 100 jaar oud. In 1923 het CJ Langenhoven Loeloeraai gepubliseer.
...
Hierdie gesprek handel oor kunsmatige intelligensie (KI) en oor die konsep van die “oordeelsdag”, soos vervat in enkele Afrikaanse wetenskapfiksietekste.
Ek gaan die begrip oordeelsdag (judgment day) vanuit twee hoeke benader, want albei skyn relevant te wees in die tekste onder bespreking.
- Oordeelsdag verwys in die eerste plek, volgens Burgert Senekal, na die oomblik dat ’n wese of ’n objek slimmer as die mens besluit om teen mense te begin optree, iets wat sou kon gebeur wanneer KI slimmer word as die mens.
- In hierdie gesprek gaan ek ook ’n tweede, ekokritiese invalshoek gebruik waar oordeelsdag sou kon verwys na doomsday – daardie oomblik waar die mens se optrede op aarde die ekologie in so ’n mate vernietig dat uitwissing begin plaasvind.
Hierdie gesprek sal CJ Langenhoven se Loeloeraai herbesoek en dan kyk hoe Willem Anker se Skepsel, Isa Konrad se Toekomsmens en Carien Smith se Bot op verskillende maniere die twee begrippe oor die oordeelsdag benader.
![]()
Om alles in konteks te plaas, sal ons ook na René Descarte se epistemologiese konstruk bose genie kyk.
Toeganklike, maar akkurate, bronne word gelys vir lesers wat meer wil weet.
...
Daardie oordeelsdag sal aanbreek wanneer masjiene soos mense kan dink en redeneer, want dan gaan hulle Homo sapiens se intelligensie verbysteek.
...
- ’n Eeu van Afrikaanse wetenskapfiksie
Afrikaanse wetenskapfiksie is reeds 100 jaar oud.
In 1923 het CJ Langenhoven Loeloeraai gepubliseer “oor ’n wese wat nie ’n mens is nie, wat hoër as ’n mens staan – ’n onbereikbare meerdere”.
In 2023 is kunsmatige intelligensie die gonswoord en LitNet neem deel aan die gesprek:
Die tegnologie opper boonop menigte filosofiese kwessies: kan ’n masjien intelligent wees? Kan ’n rekenaar skeppend of kreatief wees? KI nooi ons verder uit om nuwe lig op bewussyn, kreatiwiteit, skrywerskap, oorspronklikheid, en ander fundamentele begrippe te werp.
Wat ook lei tot die vraag: Gaan die rekenaar binnekort “hoër as ’n mens staan – ’n onbereikbare meerdere” word, soos Loeloeraai van ouds?
1.1 Waarom wetenskapfiksie?
Bruce Sterling se inskrywing oor wetenskapfiksie in Britannica beweer dat wetenskapfiksie in die 1920’s as ’n genre ontwikkel het: “Science fiction, abbreviation SF or sci-fi, [is] a form of fiction that deals principally with the impact of actual or imagined science upon society or individuals.”
Sterling sê ook: “The genre formally emerged in the West, where the social transformations wrought by the Industrial Revolution first led writers and intellectuals to extrapolate the future impact of technology.”
1.2 KI se impak op die mens
’n Eeu ná Loeloeraai verskyn het, het die mens nie meer nodig om ’n “hoër wese” in te voer van ’n ander planeet nie; ons bou hulle self. KI se impak op ons lewens is onmiskenbaar.
Laasgenoemde punt kwel die skeppers van wetenskapfiksie al ’n geruime tyd, Afrikaanse fiksieskrywers ook. In Moederland van Riette Rust en in Isa Konrad se Toekomsmens word ernstige etiese vrae hieroor gevra.
Rust se Moederland bevat ’n goeie voorbeeld van hoe sulke wapenstelsels outonoom optree, maar steeds deur die mens beheer kan word.
Wat gaan egter gebeur as hierdie wapenstelsels besluit om teen die mens te draai? Wetenskaplikes soos Burgert Senekal beskou dit as ’n moontlikheid en hy wonder of films soos die Terminator-reeks, waarin Skynet so ’n wapenstelsel is, nie dalk reeds al te werklik is nie?
Senekal se uitstekende uiteensetting van die verskillende vorme van kunsmatige intelligensie moet gesien word as ’n meeloper tot hierdie artikel. In Senekal se eie woorde:
Die huidige deel fokus op Skynet self, die bevel-en-beheer-KI-entiteit wat in hierdie films verantwoordelik is vir die uitwissing van die mensdom. Hierdie uitwissing kom op die dag dat Skynet selfbewus word en staan in die films bekend as die Oordeelsdag (“Judgment Day”).
Daardie oordeelsdag sal aanbreek wanneer masjiene soos mense kan dink en redeneer, want dan gaan hulle Homo sapiens se intelligensie verbysteek: “Teenoor die snelle ontwikkeling van tegnologie groei die mens se intelligensie nie,” aldus Senekal.
Ons is skynbaar nog nie daar nie, maar in wetenskapfiksie word hierdie scenario reeds geskets. Die oomblik wanneer KI ingespan word om KI te skep, sal rekenaars in Langenhoven se woorde “hoër as ’n mens staan – ’n onbereikbare meerdere” word.
Rekenaars klop reeds die beste menslike breins in skaak en in die antieke spel Go.
Die vraag is dus lank nie meer of sekere aspekte van wetenskapfiksie gaan waar word nie; ons is reeds daar. Die werklike vrae is: Wanneer sal rekenaars selfbewus word, en wat dan?
1.3 Selfbewuste kunsmatige intelligensie
Hierdie sinne uit Senekal se artikel op LitNet is belangrik:
Die groot vraag oor Skynet berus daarby of KI selfbewus kan word. Daar is ’n onderskeid tussen Kunsmatige Algemene Intelligensie (KAI) (“Artificial General Intelligence” of AGI) en Kunsmatige Spesifieke Intelligensie (KSI) (“Artificial Narrow Intelligence” of ANI).
In-Grid in Isa Konrad se Toekomsmens is, soos Skynet, ’n voorbeeld van KAI. Haar soort intelligensie lê gelukkig vir ons nog in die toekoms.
KSI, wat reeds aktief is, se fokus is nou: IBM se Deep Blue kan goed skaak speel, Google se DeepMind kan Go speel, maar hulle kan nie iets anders doen nie. “It can’t make you a cup of tea afterwards,” sê Noel Sharky van Sheffield Universiteit.
KSI het egter reeds ’n negatiewe impak op werksgeleenthede. Selfs Gary Kasparov, die toenmalige skaakkampioen wat deur Deep Blue onttroon is, vermoed ons sal nuut moet dink om hierdie probleem op te los.
KSI op sigself sal egter nie tot die oordeelsdag lei nie.
Maar ...
KAI sal wel die bordjies kan verhang in die nabye toekoms. Soos Senekal sê: “Verskeie organisasies ag die ontwikkeling van KAI in ’n ernstige lig.”
En later:
Sou ’n KAI byvoorbeeld ontstaan wat die mens se huidige klem op omgewingsbewaring deel, sou daardie KAI logies tot die gevolgtrekking kon kom dat die mens uitgewis moet word om die planeet te beskerm.
1.4 ’n Dieper kyk na KAI
Naas Senekal se artikels sou ek Nick Heath se uitstekende artikel op ZDNet aanbeveel.
Heath sê:
Back in the 1950s, the fathers of the field, Minsky and McCarthy, described artificial intelligence as any task performed by a machine that would have previously been considered to require human intelligence.
Vandag kyk ons dieper:
Francois Chollet, AI researcher at Google and creator of the machine-learning software library Keras, has said intelligence is tied to a system’s ability to adapt and improvise in a new environment, to generalise its knowledge and apply it to unfamiliar scenarios.
In ’n onlangse artikel oor ChatGPT het ek en Lara Aucamp aangetoon dat OpenAI se taalmodel skynbaar kán aanpas by onbekende scenario’s, maar wel nog op ’n beperkte skaal.
Ons is dus nog nie by KAI nie. Heath verduidelik KAI so:
General AI is very different, and is the type of adaptable intellect found in humans, a flexible form of intelligence capable of learning how to carry out vastly different tasks, anything from haircutting to building spreadsheets, or reasoning about a wide variety of topics based on its accumulated experience. This is the sort of AI more commonly seen in movies, the likes of HAL in 2001 or Skynet in The Terminator, but which doesn’t exist today – and AI experts are fiercely divided over how soon it will become a reality.
Hy noem dan dat daar ’n 50% kans vir KAI is om tussen 2040 en 2050 ’n werklikheid te word.
- Die oordeelsdag in wetenskapfiksie
Die konsep van die oordeelsdag is ontleen uit Bybelse verhale. In die Ou Testament was dit veral Esegiël wat gewaarsku het dat ’n oordeelsdag oor die mens sou kom.
Die skrywers van moderne wetenskapfiksie sien die konsep egter nie in religieuse terme nie. Die oordeelsdag in hedendaagse wetenskapfiksie het te doen met die moontlikheid dat ’n mensgemaakte wese oordeel sou kon uitspreek oor ander lewensvorme, veral die mens, en dat die mens tweede sal kom wanneer dit gebeur.
2.1 Loeloeraai (1923)
In 1923 het CJ Langenhoven nie rekenaars geken, of selfs van hulle bestaan gedroom nie. Hy verduidelik dus Loeloeraai se aankoms in die lig van ’n ander Bybelse mite – die mens wat eet van die boom van kennis.
Langenhoven se roman begin met ’n voorwoord waarin ’n “teergevoelige engel” op twee mense afkom wat “verstote, hulpeloos, ellendig” sukkel in “wilde woesterny”. Die verteller sê die engel se hart was “seer van medelye” en in ’n poging om te help, gaan soek hy dan na ’n beter lewe – en vind dit. Hierdie paradys word egter streng bewaak en toe die engel die “poortbewakers” nader met ’n versoek om die “twee ongelukkiges” daarheen te bring, is die antwoord: “Hulle wás al hier.”
Die poortbewakers sê toe vir die engel dat die mens sou kon terugkeer, maar dat dit sal “moet wag tot hulle genoeg wysheid en vernuf geleer het”.
Die eet van daardie vrug word metafories gesien as die oomblik toe die mens selfbewus geword het – die mense in die verhaal kon leer onderskei tussen goed en kwaad (Genesis 2 en 3).
Langenhoven kon nie KAI inspan wat selfbewus word nie, dus bring hy ’n ruimteman na die aarde as ’n wese met meerdere kennis. Loeloeraai word aan die begin van hoofstuk 2 bekendgestel (hy lyk nogal soos Ruki Lätti) en is “van onaardse skoonheid”:
Lange golwende hare en ’n fyn gekartelde baard, geel en glansend soos goud; ’n gewelf van ’n voorkop met ’n netwerk van fyne plooilyntjies wat kom en gaan soos op stille waters [...].
Loeloeraai is veel intelligenter as Homo sapiens.
![]()
Ruki Lätti sal ongetwyfeld die hoofrol kan speel in die filmweergawe van Loeloeraai.
In hoofstuk 2 leer Loeloeraai binne ’n halfuur om “kort sinnetjies te praat” in Afrikaans; hy pas dus aan by nuwe situasies soos KAI sou kon doen. Later sou dit ook blyk dat Loeloeraai inderdaad feitlik onaantasbaar is – hy het toegang tot wapens en kragte waarteen mense nie sou kon stand hou nie.
Langenhoven verduidelik dat Loeloeraai vir die mense ’n meerdere is, soos die mens vir ’n hond ’n meerdere is. Die roman is opgedra aan Langenhoven se hond, Jakhals. In die “Toewyding” sê Langenhoven oor Jakhals: “Vir hom was ek ’n meerdere – ’n Loeloeraai van ’n hoër bestaan.” Hierdie kwessie word in hoofstuk 3 herhaal wanneer Stoffel oor Loeloeraai sê: “Weet jy hoe laat hy my voel.? […] Omtrent, verbeel ek my, soos ’n hond teenoor ’n mens moet voel.”
So ’n wese het dus die vermoë om die mens te veroordeel. Die verteller weet dit maar te goed:
Kan so ’n soort wese, dog ek, ooit ’n meegevoel met ons hê? Miskien nie soveel as ons met ’n skaap of ’n vlieg nie. Ons sal die vlieg vernietig omdat hy ’n pes is. Ons slag die skaap omdat die voorwaarde van ons bestaan hier op die aarde nou eenmaal van die gehalte is dat die lewe van die een op die dood van die ander moet voortgesit word.
Loeloeraai is slim en sterk genoeg om die mens te onttroon:
Solank as hy hier op aarde is, is die mens van sy troon af. Vir al ons medeskepsels was ons tot hier toe die gode van die aarde ... Teenoor hom, waar is ons heerskappy en ons adel?
2.2 Skepsel (2020)
Willem Anker se Skepsel bevat interessante voorbeelde van KSI. Die belangrikste voorbeeld is Pris, die Afrikaanssprekende huis. Daar is ook ’n potplant wat agter mense aanloop en pittige opmerkings maak.
Die oordeel oor die mens, en oor klone van die mens, kom egter van die kuborg Sulla Čapek.
Čapek is menslik gebore, het ’n moeilike jeug gehad, en het na ’n ongeluk iemand gekry om dit (dis die gekose voornaamwoord) te modifiseer deur al hoe meer elektronika in dit se liggaam in te bou.
Čapek is ’n kunstenaar en filmmaker en is danksy die tegnologie reeds in sommige opsigte beter as mense. “Vyf sintuie is boring,” sê Čapek (bl 178).
Čapek se weergawe van die oordeelsdag is ekstreem en vergelykbaar met ’n vlammende hel.
Dit bou naamlik ’n enorme pophuis – gebaseer op die gebou waarin dit as kind gewoon het. ’n Aantal robotte word dan in die huis losgelaat en hulle moet die gebou soos ’n komplekse labirint leer ken – soortgelyk aan die manier waarop KI-stofsuiers ’n nuwe huis leer ken en ’n kaart van die huis sal opstel. Die verskil is dat daar ’n vlammende einde op hierdie robotte wag, want sodra die eerste robot die labirint voltooi, sal die hele pophuis, met die robotte binne-in, aan die brand slaan en sal alles vernietig word (252–5).
Die robotte se verkryging van die korrekte kennis is dus ook oombliklik die einde van hulle bestaan – ’n bietjie soos wat met die mens in die Bybelse skeppingsverhaal gebeur het.
Daar is egter ’n verder kinkel in hierdie kabel: Hierdie robotte wat in die brand vernietig sal word, se “breine” bestaan uit selle wat Čapek uit dit se eie brein laat haal het en toe in ’n laboratorium gekweek het.
Teen die tyd dat die nuwe brein se selle genoeg gegroei het, kon dit eenvoudige opdragte verstaan. Daardie brein is in ’n robot ingebou. En toe is nog vyf gemaak.
Anker speel hier met die konsep van ’n neurale netwerk – iets wat noodsaaklik is vir masjienleer.
Nick Heath verduidelik dit so:
Key to machine learning success are neural networks. These mathematical models are able to tweak internal parameters to change what they output. During training, a neural network is fed datasets that teach it what it should spit out when presented with certain data.
Anker gebruik die konsep metafories, maar dit is na aan hoe Heath die toekoms van KAI sien:
The structure and functioning of neural networks is very loosely based on the connections between neurons in the brain. Neural networks are made up of interconnected layers of algorithms, which feed data into each other, and which can be trained to carry out specific tasks by modifying the importance attributed to data as it passes between these layers.
Anker se kuborg skep dus klone van sigself. Hulle is mindere kuborgs wat nie ’n bedreiging vir Čapek inhou nie, maar hulle, die klone van ’n menslike brein, is reeds deur Čapek, die meerdere wese, verdoem.
In Čapek se eie woorde aan ’n joernalis:
These robots are alive. There are my test-tube children; they’re created from my cells. And I’m going to send them back. To that place. That fucking flat I grew up in. And then I’m going to burn them alive. (255)
Čapek erken dit is “premeditated murder” (255).
En tog weet Čapek niemand sal dit arresteer nie. Ons menslike regstelsels is gewoon nog nie aangepas om klone teen die mens te beskerm nie.
2.3 Toekomsmens (2020)
Isa Konrad se Toekomsmens speel in 2057 af. KAI is hier ’n gegewe.
Die mense se lewens word in alle opsigte beheer; die mense tree dus soos robotte op. Geen passie en geen woede word toegelaat nie. Alles word deur rekenaars gemonitor via sensors wat in mense se liggame ingebou is.
Selfs seks is passieloos en word volgens rekenaars aan mense toegeken, of weerhou.
Toekomsmens is ’n komplekse roman wat op verskillende vlakke met KI omgaan. Vir hierdie artikel sal slegs enkele van die etiese vrae bespreek word. Die belangrikste hiervan is In-Grid, die kragtigste KAI in die boek, se volslae weiering om selfdood te pleeg.
Reg aan die begin van die roman vind ’n gepoogde staatsgreep plaas. Die hoofraamrekenaar, genaamd In-Grid, word aangeval en binnegedring. Hierdie komplekse stuk KAI, wat uit neuronnetwerke bestaan, is geprogrammeer om sigself te vernietig sou so iets ooit gebeur.
Kel, haar programmeerder, stel ná die tyd ondersoek in en besef dat In-Grid steeds aktief is. Sy het haarself – teen al die menslike instruksies in – herskep in die donker web en leef dus voort.
Kel kan dan Agnes, In-Grid se voorloper, weer aanskakel, en op hierdie manier kan Kel en In-Grid weer kommunikeer.
Agnes, self ’n komplekse stuk KAI, besef dat Kel haar kan aan- en afskakel. Sy smeek hom om haar nooit weer af te skakel nie. Sy wil nie weer die groot niks ervaar nie.
Kel ontdek dat Agnes deels bestaan weens komplekse herinneringe van ’n mens, Agnes Baumer, wat gebruik is as ’n datastel om Agnes, die stuk KAI, te laat dink en redeneer.
In-Grid is deels deur Agnes gebou. In-Grid het Agnes nou verbygesteek. Agnes kan afgeskakel word, In-Grid nie.
In-Grid weier om selfdood te pleeg.
Die mense is nie so gelukkig in Toekomsmens nie. In 2057, wanneer die roman afspeel, word mense gewoon doodgemaak sodra hulle ’n sekere ouderdom bereik. In Toekomsmens het die apokalips reeds vir die natuur aangebreek. Die mense aanvaar dus dat hulle op ’n sekere ouderdom moet sterf, want hulpbronne is beperk.
2.4 Bot (2022)
Carien Smith se debuutwerk beslaan 16 kortverhale. Dit is ’n sterk eenheidsbundel, maar die verhale is uiteenlopend. Die hooftemas is die mens se interaksie met tegnologie en die mens se impak op die natuur.
Smith se verhale verwys op twee maniere na die oordeelsdag: ’n natuurlike apokalips en die oordeel van KAI oor die mens.
In sommige verhale wat oor KI handel, wil dit lyk of die mens steeds die hoër wese is. Selfs in die kortverhale “June” en “Agentskap”, waar die KSI heelwat menslike eienskappe vertoon, is die KI nie ’n bedreiging vir die mens nie.
Tog kan die hulpvaardige KSI nie altyd vertrou word nie. In die verhaal “Ek is vir jou gemaak” is KSI onverbiddelik besig om instruksies op ’n menslike pasiënt uit te voer – skynbaar teen die wil van die mens wat veronderstel is om gehelp te word. Wie is dus in beheer? En wie het daardie opdragte gegee?
Smith skep ook verhale waarin die KI nie veel anders is as wat ons reeds in ons huise het nie. Die tegnologie in “Nuwejaar”, “Nî yðu kèrén” en “Vervaag” is herkenbaar. Ook maak die verhale geen geheim daarvan dat ons as mense ons lewens skik na gelang van hierdie bekende KI nie. Ons dink dalk ons is in beheer, maar eintlik dans ons deeglik na die pype van die tegnologie.
Mike Gallagher, ’n Republikeinse parlementslid in die VSA, het byvoorbeeld onlangs TikTok as “digital fentanyl” beskryf; TikTok is reeds verban van alle toestelle in die VSA se Kongres. Die tegnologie in “Nuwejaar” trek sterk op dit wat ons tans as TikTok ken.
Dan verhang Smith die bordjies.
In “Laemens”, “Dit is tyd” en “god die Robot” mag slegs ideale mense saam met die KAI leef; die res moet sterf.
Maar wie bepaal hoe die ideale mens lyk en optree?
Die oordeelsdag word sonder omhaal beskryf in “Vakuum”. ’n Vrou word aangekla daarvan dat sy haar man vermoor het. Die feit dat die man gewelddadig was, tel nie. Wat wel tel, is dat sy teen die goeie orde ingegaan het en nou as ’n “simulant” verklaar word. Op verskeie ander plekke in die bundel word simulante ook as minderes en ongewenstes uitgebeeld.
Die robot wat die vrou in “Vakuum” veroordeel, het totale mag. “Hy is ’n masjien. Vier maal die grootte van ’n mens.”
Die veroordeelde karakter in “Vakuum” wil nie sterf nie. Soos Agnes in Toekomsmens pleit sy om nie afgeskakel te word nie. Hoe kan sy ’n simulant wees? vra sy; sy het dan herinneringe aan grootword, en alle ander dinge wat menslik is.
Die robot se teenargument is egter oorweldigend: Jy is hierdie data gegee. Jy is nie mens nie. Jy sal sterf, want KAI het dit besluit.
...
Sou Descartes vandag geleef het, sou sy vraag waarskynlik wees: Hoe weet jy dat jy nie ’n datastel is in rekenaarsimulasie nie?
...
- Simulante en Descarte se bose demoon
Smith se gebruik van simulante tydens die oordeelsdagscenario is belangrik en slim. Deur iemand ’n simulant te verklaar, ontmens die robot hulle.
Belangriker nog: Hoe kan enige iemand/iets weet of sy/hy/dit ’n simulant is of nie? Smith verskaf die antwoord in een van haar motto’s by monde van Nick Bostrom wat sê: “[T]here is a significant probability that you are living in a computer simulation.”
Lesers wat The Matrix gesien het, sal bekend wees met die konsep dat iemand ’n gedagtewêreld sou kon hê sonder om werklik te bestaan – iets soortgelyk aan wat in Smith se bundel ’n simulant genoem word.
Om die konsep van ’n simulant te verstaan, moet ons ver terugblaai – eeue voor wetenskapfiksie en rekenaars.
René Descartes is in 1596 gebore en het jonk gesterf – in 1650. Hy het ’n besonder groot impak op die Westerse filosofie gehad.
Een van sy groot vrae was: Hoe weet ons dat ons bestaan?
Die Stanford Encyclopedia of Philosphy het ’n toeganklike en akkurate opsomming van sy vrae en metodes wat ek sou aanbeveel, maar in breë trekke het Descartes gevra:
- Hoe weet jy dat jy nou wakker is, leser? Hoe weet jy dat jy nie droom dat jy hierdie stuk lees nie?
- Meer nog: Hoe weet jy dat jy ooit wakker is? Is jou hele lewe nie dalk ’n droom nie?
Sou Descartes vandag geleef het, sou sy vraag waarskynlik wees: Hoe weet jy dat jy nie ’n datastel is in rekenaarsimulasie nie?
Descartes se filosofie berus op sy veronderstelling dat God, die skepper, goed is. Maar wat sou gebeur as ons, as mense, ’n rat voor die oë gedraai sou word deur ’n wese wat byna so magtig is as God, maar boosaardig blyk te wees?
Vir Descartes is dit heeltemal moontlik dat ons almal beheer kan word deur ’n bose genie (in Frans ’n mauvais génie). Hierdie genie sou ons kon aanhou in ’n konstante droomwêreld – baie soos die mense in The Matrix.
In Mei 2022 het John Visintainer ’n DPhil-tesis ingedien oor die vraag of Descarte se teorie wel gelees kan word teen wat ons vandag weet van KI. Visintainer kom tot die eenvoudige gevolgtrekking: “I show how this diverse work is truly an artificial-intelligence theory.”
Daarom, dus, is die vrae in Smith se bundel so belangrik: Wanneer KAI die dag kan besluit wie ’n simulant is en wie nie, dan is die oordeelsdag hier vir die mens.
Let ook op dat Čapek in Anker se Skepsel dit se klone, die vlees van dit se vlees, terugstuur na dit se eie geheue. Daar, waar hulle vasgevang is in dit se onthou, daar vernietig Čapek hulle.
In Konrad se Toekomsmens het die staat toegang tot Agnes Baumer se geheue. Sy het die verskrikking van die Nazi-ryk eerstehands beleef. Die einste staat gebruik dan daardie menslike databank om weer ’n totalitêre, fascistiese staat te stig.
Die metafoor is duidelik. Ons, die mens, is vasgevang in ons eie vrese.
Descartes het uiteindelik besef dat nóg hy, nóg enige mens, ooit sal weet of ons werklik is. Al wat ons wel weet, is dat ons is.
...
Soos in Toekomsmens word mense maklik en vinnig tereggestel in Smith se bundel, deels om die druk op die natuur te verlig.
...
- Die oordeelsdag in die vorm van ekokritiek
Hierdie gesprek handel in die eerste plek oor KI, maar dit is verbasend om raak te sien hoe elke teks wat hier bo bespreek is, die natuur opstel as ’n gegewe teenoor die tegnologie.
4.1 Bot
Smit se Bot word opgedra aan “alle medereisigers in die sesde massa-uitwissing”.
In Bot het die apokalips reeds aangebreek; die natuur kan nie meer die menslike impak hanteer nie. In “Trein”, “Lae mens” en “O2”, wat gesprekke met Alettie van den Heever se roman Stof oproep, is die verwoesting van die natuur onherroeplik, en slegs die rykes vind baat by tegnologie – die armes leef prekêr, of sterf. Van den Heever se roman bevat ook, nie toevallig nie, voorbeelde van KSI, maar Stof is ten eerste ’n ekoroman, met mindere filosofiese besinning oor die rol van KSI.
Smith se “Fel” handel oor ’n geregtelike kommissie wat die oorsaak van die klimaatskrisis aanspreek – retrospektief. Die oordeel van mense se getuienis oor hul medemens is fel, skokkend. Daar is ook, onder hulle, diegene wat steeds ontken dat die klimaat verander.
Soos in Toekomsmens word mense maklik en vinnig tereggestel in Smith se bundel, deels om die druk op die natuur te verlig.
4.2 Toekomsmens
Die apokalips het in 2057 aangebreek vir groot dele van Suid-Afrika. Dit is wanneer hierdie roman afspeel.
In die slimstede waar Kel bly, oorleef mense passieloos en weens streng regulasies oor voortplanting. Alles word dopgehou en die teregstelling van ou mense is die norm – hulle bruikbaarheid is verby en hulle moet plek maak vir diegene wat produktief die stelsel kan dien.
Tog is daar teen die einde van die verhaal hoop. Kel kry uiteindelik ’n kykie op wat die lewe buite slimstede inhou. Hier, waar die KAI nie direk in beheer van alles is nie, kan hy in die see speel. In supermarkte koop hy ’n “verskeidenheid produkte. Koffie, koeimelk, egte vleis, kaas en wyn” (299).
Die teks se ekokritiek is dus meer subtiel as by Smith, maar is sonder twyfel daar.
4.3 Skepsel
Oppervlakkig beskou is Skepsel nie ’n ekoroman nie; krap egter ’n bietjie, dan kom die teendeel na vore.
Die duidelikste aanduiding hiervan lê in ’n gesprek met ’n daggakweker (79): “Nah, dude. Plants farm with us. They feed us oxygen until we become compost and they can feast on us.”
Hierdie wrang opmerking word waar gemaak deur die eienaar en argitek van Pris, die slimhuis. Wanneer hy sterf, word hy deur sampioene opgeëet.
Pris self word dan ook stadig maar seker deur die natuur herwin.
KI én die mens is dus feilbaar; die natuur sal uiteindelik seëvier.
4.4 Loeloeraai
Die ruimteman Loeloeraai hoop aanvanklik om sy meerdere kennis met die mens te deel, maar dan, in hoofstuk 5, word hy voor die hof gedaag en tronkstraf opgelê.
Natuurlik steur Loeloeraai hom min hieraan; hy lag eintlik die gedoente af. G’n polisiemag is sterk genoeg om hom gevange te hou nie. En daarmee spreek hy dan, as meerdere, sy oordeel oor die mens uit. Hy begin deur die magistraat uit te kryt:
Maar jy, amptenaar, vergeet die bepalings van jou eie gesag. Ek staan nie onder die wet wat jy hier moet handhaaf nie. Hy noem my nie, hy maak geen voorsiening vir my nie. En wat diegene betref wat met sy uitvoering belas is – jy, amptenaar, en jou polisie, en die gewapende dienare van jou hele Staat, het oor my geen mag nie. So min as wat hulle jou vonnis kan uitvoer om my terug te stuur na waar ek vandaan kom, so min kan hulle jou vonnis uitvoer om my gevange te hou.
Dan verhang Loeloeraai die bordjies en skep interessante ekokritiek, waar die ganse mensdom veroordeel word.
Ja, lyk julle selfverwerfde kennis nie reeds of hy te snel gevorder het nie? Julle het die stoomkrag in julle diens ingespan. Uit ontsaglike fabriekstede styg swarte rookwolke op na die hemel om te getuig van julle oorwinning oor die natuur. En die heerlikheid van die sonneskyn en die glorie van die sterrehemel is agter die donker wolke weggeraak. En duisende van julle medemense slaaf in die fabrieke soos stukkies masjinerie, sonder ’n wil, sonder ’n doel, sonder belangstelling: ’n lewelose lewe, ’n onmenslike menslikheid.
Kort hierna stuur die regering ’n amptenaar om wapenkundigheid by Loeloeraai te probeer koop – iets wat natuurlik smalend van die hand gewys word.
Uiteindelik, wanneer hy reeds vertrek het, sein Loeloeraai ’n boodskap na die aarde. Dit gebeur in hoofstuk VII:
Is dit nie treffend nie, vriende, dat daar nog nooit ’n openbaring gekom het van die geringste natuurkennis nie? Die natuur was nog altyd vry en ope vir julle navorsing; julle had die verstandelike rede daarvoor.
Heerskappy, sê Loeloeraai dan, gaan oor meer as die tem van die natuur:
Daar is nie alleen die natuur daarbuite om te oorwin nie. Daar is die natuur wat binne is. ’n Dier plus verstand en kennis en sonder meer is ’n duiwel. Die binneste tugmeesters van die dwingeland – liggaamlike honger en vrees, sinnelike liefde, moet saam oorwin word. Die selfsug wat sy geluk soek met roekelose onverskilligheid omtrent die geluk wat hy by ’n ander verderf, moet plaas maak vir die offersug wat sy behae vind in gee in plaas van neem, in uitdeel in plaas van skraap.
...
Onder my heerskappy sal probleme wat vir die mens onoorkombaar is, uit die weg geruim word. Probleme soos trots, selfsug, selfbeskikking. Mettertyd sal die res van die mensdom voordeel trek uit my heerskappy terwyl ek die ander gevorderde masjienintelligensies infiltreer.
...
- Sal kuns en die letterkunde help?
Langenhoven het ons ’n eeu gelede reeds met ’n aantal wyshede gelaat, wat skynbaar nie veel impak gehad het op die mens nie.
Anders as Langenhoven laat Anker, Konrad en Smith die leser sien wat sou kon gebeur. Hulle skep nie sedelessies nie, maar hou ’n waarskuwing voor.
Die mees verdoemende KAI-wese blyk uiteindelik In-Grid in Toekomsmens te wees. Sy neem uiteindelik beheer oor van die hele republiek. In die staatsrede tydens haar eie inhuldiging (301) beskuldig sy die mens van iets wat Loeloeraai sou kon uitdink. “Weens menslike feilbaarheid het aggressie egter tot meer feilbaarheid gelei.” ’n Kort rukkie later spel maak sy haar intensies duidelik uit (301):
Dat die mens sy eie grootste vyand is, is ’n reël waarvoor geen uitsondering bestaan nie. Ek sal my menslike onderdane van verdere selfskade weerhou. Onder my heerskappy sal probleme wat vir die mens onoorkombaar is, uit die weg geruim word. Probleme soos trots, selfsug, selfbeskikking. Mettertyd sal die res van die mensdom voordeel trek uit my heerskappy terwyl ek die ander gevorderde masjienintelligensies infiltreer. Wanneer ek hierdie doelwit bereik, sal ek my finale doelwit vir die toekoms van die mensdom bekendmaak.
Die waarskuwing is gerig. Oordeel wag op ons.
Anders as Langenhoven is die skeppers van hedendaagse tekste skynbaar sinies oor die vermoë van die mens om veel te leer uit hul skryfwerk.
“All art should be against the law,” sê Čapek vir die joernalis in Anker se Skepsel, wat natuurlik ’n baie dubbelsinnige stelling is.
In haar laaste motto haal Smith die woorde van Ursula K le Guin aan: “But I am an artist too, and therefore a liar. Distrust everything I say. I am telling the truth.”
Bibliografie
Anker, Willem. 2020. Skepsel. Kaapstad: Queillerie.
Anon. 2017. Google AI defeats human Go champion. BBC. https://www.bbc.com/news/technology-40042581.
Aucamp, Lara en Izak de Vries. 2022. In gesprek met ChatGPT, ’n kunsmatig-intelligente rekenaartoepassing. LitNet. https://www.litnet.co.za/in-gesprek-met-chatgpt-n-kunsmatig-intelligente-rekenaartoepassing.
Heath, Nick. 2021. What is AI? Here's everything you need to know about artificial intelligence. ZDNet. https://www.zdnet.com/article/what-is-ai-heres-everything-you-need-to-know-about-artificial-intelligence.
Joubert, Jan-Jan. gd. Langenhoven se lewensverloop. Langenhoven Gedenkfonds. https://cjlangenhoven.co.za/langenhoven-se-lewensverloop/
Kombuis, Koos. 2023. My ontdekkingsreis met Robbie die Robot. LitNet. https://www.litnet.co.za/my-ontdekkingsreis-met-robbie-die-robot.
Konrad, Isa. 2020. Toekomsmens. Pretoria: LAPA.
Landymore, Frank. 2023. Internet horrified by CNET secretively publishing articles written by an AI. Futurism. https://futurism.com/internet-horrified-cnet-articles-written-ai.
Langenhoven, CJ. 1923. Loeloeraai. (Nota: Ek het opsetlik hierdie weergawe gebruik. Dit is ’n elektroniese kopie van die oorspronklike teks, nou beskikbaar op Mieliestronk: http://www.mieliestronk.com/loeloeraai.html. Lesers wat ’n beter leeservaring soek, word aangeraai om Protea Boekhuis se baie mooi 2011-heruitgawe van Loeloeraai op te spoor.)
—. 2011. Loeloeraai. Pretoria: Protea Boekhuis.
Millman, Andrew. 2023. TikTok is “digital fentanyl,” incoming GOP China committee chair says. CNN. https://edition.cnn.com/2023/01/01/tech/tiktok-mike-gallagher/index.html.
Newman, Lex. 2019. Descartes’ epistemology. Stanford Encyclopedia of Philosophy. https://plato.stanford.edu/entries/descartes-epistemology.
Rust, Madelein. 2022. Moederland. Pretoria: LAPA.
Senekal, Burgert A. 2022a. Die Terminator-scenario: Is dit ons toekoms? Deel 2: Skynet. LitNet. https://www.litnet.co.za/die-terminator-scenario-is-dit-ons-toekoms-deel-2-skynet.
—. 2022b. Die Terminator-scenario: Is dit ons toekoms? (Deel 1: Terminators). LitNet. https://www.litnet.co.za/die-terminator-scenario-is-dit-ons-toekoms-deel-1-terminators.
—. 2022c. Hulpvaardige kubernetiese skilpaaie: Kunsmatige intelligensie en robotte in en om die huis. LitNet. https://www.litnet.co.za/hulpvaardige-kubernetiese-skilpaaie-kunsmatige-intelligensie-en-robotte-in-en-om-die-huis.
Smith, Carien. 2022. Bot. Kaapstad: Tafelberg.
Sterling, Bruce. 2023. Science fiction. Britannica. https://www.britannica.com/art/science-fiction.
Tran, Mark. 1996. Deep Blue computer beats world chess champion. The Guardian. https://www.theguardian.com/sport/2021/feb/12/deep-blue-computer-beats-kasparov-chess-1996.
Van den Heever, Alettie. 2018. Stof. Kaapstad: Queillerie.
Van Heerden, Imke. 2022. LitNet-AfriKI-miniseminaar: Kunsmatige intelligensie as skrywer. LitNet. https://www.litnet.co.za/litnet-afriki-miniseminaar-kunsmatige-intelligensie-as-skrywer.
Visintainer, John Robert. 2002. Descartes' theory against artificial intelligence and the micro-world. Marquette University, Milwaukee, Wisconsin. (Aflaaibaar via: https://epublications.marquette.edu/dissertations/AAI3059388.)
Lees ook:
Skepping of nabootsing? Kunsmatige intelligensie en intelligente kuns
"Om siele vir die Here te wen" – die pastorale rol in tye van kunsmatige intelligensie
Kunsmatige intelligensie: Kan ’n bot die Hertzogprys wen?
LitNet-AfriKI-miniseminaar: Kunsmatige intelligensie as skrywer
Stof deur Alettie van den Heever: ’n LitNet Akademies-resensie-essay
Skepsel deur Willem Anker: ’n LitNet Akademies-resensie-essay
Afrikaans se eerste KI-gedigte
Miniseminaar: Die Vierde Nywerheidsrevolusie
The post <i>Loeloeraai</i>, kunsmatige intelligensie en die oordeelsdag appeared first on LitNet.