![]()
“Ek gaan ontsnap,” sê Mister Cool. ’n Bankier, 38 jaar oud.
Roux Steyn sit sy beker op die bed neer. Stort koffie. Staan op.
“Vra jy my of sê jy my?”
“Sê. Dis my werk.”
Mister Cool is lid van die Air Force-bende, RAF4. Dié berugte tronkbende het gedurende die Tweede Wêreldoorlog ontstaan en spesialiseer in ontsnappings. Die hardebaarde dril die nat-agter-die-ore-snotneusies superfiks en skool hulle hoe om ’n meestersleutel uit ’n plastiekemmer te maak. Mister Cool het verlede Kersfees van agter uit ’n polisiebakkie ontsnap nadat hy ’n skoenveter en ’n Bic-pen gebruik het om sy voetboeie mee los te maak.
“Notafok,” sê Kriek. Hy swaai sy bene vanaf die bankbed. “Nie weer nie.”
“Nee, fok, Kriek,” sê Gert Malan. ’n Xhosa uit Steve Biko se wêreld. Sy ma het op sy geboortesertifikaat seker gemaak almal weet dat die baas gevat het wat nie aan hom behoort nie. Rastahare hang soos spinnekoppote oor sy gesig. “Moenie jou vuil pote in die kos hang nie. Ek wil nie stink tone en growwe hakke eet nie.”
Hy slaan met die liniaal teen Kriek se voete. Daar waar iemand in skewe letters “DOOD” en “MOEG” getatoeëer het. Vet spat sproete oor die beddens. Hy druk die liniaal met sy gekerfde kepe in nog vet, smeer die brood. Skep met ’n uitgedrukte tandepastabuisie ’n knerts tuna in die middel. ’n Spatsel mayonnaise. Plak die broodjies toe.
Priester spring van die bed af. ’n Bybelkorkursus val op die vloer. Binne-in lê ’n Playboy-tydskrif. Hy glip tussen Roux Steyn en Mister Cool in. Arms soos ’n skeidsregter uitgesprei; een palm teen Mister Cool se bors, maar hy teken nie sy doodsvonnis deur aan Roux Steyn te raak nie.
“Nee, ‘seblief, ouens.”
Roux Steyn stamp hom weg.
“Daai draai-die-wang-kak werk nie hier nie. Hierdie is nie jou ma se huis of die kerk se koekklub nie.”
Sy vuis tref Mister Cool teen die bors. Soos ’n klopboor. Op een plek. Hard.
Radio’s gaan dood. Kwetterende stemme doof uit. Mans staan op, loer oor beddens. Niemand waag dit nader nie.
Malan tel die brood van die warm, omgekeerde strykyster op, gooi dit in die roomysbak. Hou dit gereed. Ingeval Roux Steyn dit nodig het om Mister Cool mee te brandmerk.
“Die boere gaan ons stukkend skud. Waar gaan ek weer dagga kry?”
“Ag, komaan, jy’s Roux Steyn. Jy sal wel ’n manier vind om gebruike in te smokkel. Maak jou prys.”
“Geld kan nie als koop nie.”
“Die tronk is gebou met een lagie sement, een lagie smokkel, een lagie sement. Almal het ’n prys – maak joune.”
“Roux!” skree ’n reusagtige bewaarder met ’n vlamrooi baard deur die tralies. “Los die gevryery. Juffrou Swart soek jou.”
*
“Hoe voel jy?”
Juffrou Swart. Of JLO soos die gevangenes hul shrink gedoop het. In haar dertigs. Sy weeg niks swaarder as ’n baalsak nie; nie model-uitgeteer nie, meer sportief slank. Hare die kleur van ’n weermaguniform. Dit lyk of die Kaap van Storms dit vanoggend gekam het. Sy staan met haar rug na Roux Steyn. Kyk by die vensters uit. Daar is niks om te sien nie buiten ’n muur en waterpype nie.
’n Indian mynah skree.
Hy hou haar gat dop. Die broek span styf. Haar pantielyne wys. Hy wens hy kon sy vingers daarom haak, dit aftrek en sy mond ...
“Roux, ek praat met jou.”
“Oor?”
Sy swaai om.
“Lukas. Raak dit jou nie? Jy’t sy lyk gekry.”
Hy stap nader. Steun met sy hande op die tafel. Kyk haar in die oë.
“Soms is dit ek wat hulle in die stort ophang. Hoekom dink jy pleeg die kindernaaiers so baie selfmoord?”
“Erken jy ...?”
Hy staan regop. Klem sy vuis om die skêr. Druk sy hand in sy sak. Laat die skêr afgly in die sak se vals bodem.
“Ek erken fokkol.”
“As jy pis, staan jy?”
Wat de …? Die kru taal pas nie by haar sagte stem nie.
“Antwoord my. Sit of staan jy en pis?”
“Staan.”
“En ek?”
“Sit. Obvious.”
“Onthou dit. Ek’s ’n vrou en verwag dat jy my soos een behandel. Jy vloek nie voor my nie.”
Sy gee vir hom ’n papier, visitekaartjie-grote. Soek die skêr. Dalk het die skoonmaker dit gevat toe hy haar asblik uitgegooi het. Sy sal dit moet rapporteer.
Hy kyk na die kaartjie.
“Wat de fok is dit?”
“Roux! Jou taal. Asseblief. Maandag, Anger Management.”
“Maar ek’t dit alreeds drie keer gedoen.”
“Die sertifikaat word nie uitgereik vir bywoning nie, jy moet die inhoud toepas.”
“Ek’s ’n Steyn, ons is bedonderd gebore.”
“Jou pa ook?”
“Nee.” Hy skud sy kop, sy stem sag: “Die dronkgat was ’n sissie. Hy’t nie eens die bliksem gemoer wat sy vrou afgevry het nie.”
Sy laat die vloekwoorde gaan. Vir nou. Dis die eerste keer dat hy oor sy ouers praat.
“Is jy kwaad vir haar?”
“Hoekom? Dit was sy vrou, nie myne nie.”
“Sy’s jou ma.”
“Selfs hoere kan geboorte skenk; dit maak jou nie ’n ma nie. Sy’s fokkol van my.”
Hy stap deur toe. Swaai om.
“Ek vloek langer as wat jy rook, maar ek sal try.”
Trek die deur toe. G’n rede om dit te klap nie.
Sy staar na die deur. Haar longe skree vir nikotien. Sy begin om haar tafel te orden. Lêers volgens tronknommers, op die hoek van die tafel. Verslae in die Klagte & Versoeke-boek. ’n Gedagte vir elke handeling.
Roux Steyn. Gert Malan.
Sy wens sy ken nie hul name nie. Maar nie net ken sy hul name nie, sy weet ook waarom hulle hier is – danksy die gevangeniskaarte wat elke gevangene moet vergesel. Elke keer as ’n gevangene hier instap, oorhandig hy ’n oranje kaart aan haar.
Elkeen se naam, misdaad en vonnis is daarop aangeteken.
Roux Steyn is gevangene 92156604.
Sy geloof is aangeteken as “geen”. Sy vonnis TDV. Ter dood veroordeel. ’n Handtekening bevestig dat dit in 1995 na lewenslank verander is.
Die spasie onder die hofie getiteld “Misdaad” is vol geskryf. Aanranding. Roof. Poging tot moord x3. Moord x2.
Op die kaartjie se linkerbladsy, onder “Opmerkings”, het iemand met ’n swart pen geskryf: “High Escape Risk” en reg in die middel van die kaartjie, in groot, rooi drukletters: “Trouble Maker”.
Hy is beslis moeilikheid. Daarvan is sy deeglik bewus. Almal weet waarom hy van die Leeuwkop Maksimum Gevangenis hierheen geskuif is. Dis in sy lêer. ’n Medegevangene is vermoor. Grusaam. Sy hart is uitgesny. Dis nooit gevind nie.
Sy wonder soms of hy dit geëet het.
Hoekom is Malan met hom bevriend? Hy’s maklik tien jaar jonger as die bendeleier.
Sy skud haar kop.
Sy loop altyd hier uit met die woorde wat sy wou sê afwagtend in haar mond, ’n bitter smaak op haar tong. Want die mans het name. Lewens. En elke keer proe sy die bittere magteloosheid agter in haar verhemelte. Want daar is eintlik niks wat sy vir hulle kan doen nie.
Roux Steyn is hard. Die ander gevangenes kla gedurig by haar. Sê hulle vrees hom meer as die tokoloshe. Selfs die bewaarders raak stil as hy in ’n vertrek instap. Maar om hier te oorleef, moet jy kliphard wees. Soos Roux Steyn. Hoe het hy dit tydens een groepsessie gestel? In die tronk word almal die een of ander tyd gesteek – jy moet net besluit waarmee – ’n mes óf ’n piel.
*
Roux Steyn pis. Skree: “Flush!”
“Sorry, Roux.”
Die toilet spoel.
“Vreet minder kool,” sê Roux Steyn.
Hy draai ’n kraan oop.
“En drink meer water.”
Bo die een wasbak is ’n A4-folio met tandepasta vasgeplak. “Skottelgoed” is in blokletters geskryf. Die reël is dat niemand sy mond in die skottelgoedwasbak mag uitspoel nie. Nog minder half-body daarin was. Dít word in die “Bek & lyf”-wasbak gedoen.
Die water stroom uit die skottelgoedkraan. ’n Sterk straal. Babyface was sy varkpan rustig. Dan begin hy om dié plastiekbak waarin spesiale diëte vir MIV-pasiënte opgeskep word, af te droog. Hy is nog so nuut in die tronk, sy geverfde groen nommer op die bord dop nog nie eers af nie. Hy gesels met iemand in die stort. Tokkie, afgelei van sy gunsteling-moordwapen – Tokarev.
Roux Steyn draai albei krane toe. Droog sy hande met sy hemp af.
’n Kakkerlak glip agter die “Bek & lyf”-papier uit. Sprint oor die muur. Babyface klap dit dood. Draai die kraan weer oop.
“Ek was nog.”
“Jy mors water.”
“Die see is vol water.”
“Ek sweer jy’s die domste poes in die tronk. Draai daai fokken kraan net weer oop.”
“En dan?”
“Babyface, moenie kak waar ek moet skoonmaak nie. Los die man,” bulder Tokkie. “Roux, is ons oukei?”
“No stress, brother.”
“En ons?” vra Mister Cool.
Hy hurk langs twee manne wat op ’n kartondoos skaak speel. Trek ’n string toiletpapier van die rol af. Vleg dit. Steek die onderste punt brand. Tronk air freshener. Plak dit teen die toiletmuur. Die teëls is op die hoeke afgebreek en lankal in moordwapens omskep.
Net toe hy die laken voor die toilet wil toetrek, gryp Roux Steyn sy arm, sy greep ferm.
“As jy uit dié sel ontsnap, beter jy nie terugkom nie.”
“Asseblief, my ma lê op sterwe.”
Van agter meteens ’n geraas.
“Hoeveel fokken goed wil jy nog was?” Malan storm soos ’n Spaanse bul wat rooi gesien het, op Babyface af. Vuiste gebal. Die twee getatoeëerde horings op sy voorkop steek amper deur Babyface se wange so naby gaan staan hy. Sy asem ruik na vis en twak. “Fokkof nou veg van daai kraan, jou kindnaaier.”
“Ek’t haar nie gerape nie. Sy’t daarvoor gesoek. Net so ’n jagse bitch soos haar ma. Flirty, flirty met daddy. Lyk ek mooi in my rok, deddie? Toe wys ek haar. Klein naai.”
Die skaakspelers lag.
Roux Steyn gluur hulle aan. Hy het lank voor die tronk met sy ligte aan geslaap.
*
22h00 is dit ligte uit. Maar eintlik brand tronkligte dag en nag, want die nagdiensbewaarders moet te alle tye kan sien wat in die selle aangaan.
Sou hulle wou.
Hier en daar speel radio’s sag.
Roux Steyn slaap in die hoek, agter. Mes in die hand. Skoene gereed. Nie plakkies nie, want hy wil nie uit sy skoene hardloop nie. En hy moet kan skop en trap. Hy slaap nie onder ’n kombers of laken nie, want hy wil nie sukkel om op te spring as hy skielik oorval word nie. Dan vrek hy eerder van die koue.
Langs hom lê Malan, Kriek en Pumbaa. Al drie ook gewapen. Bokant hulle, op die heel boonste bed, is Priester se bed leeg. Dis die reëls. Newbies bo. Oumanne heel onder.
Oorkant hulle begin die Son-affers om lakens rondom hul beddens te span. Die Son-oppers werk in die dag. Geld en bloed. Son-af werk as die ligte af is. Gee vir mans nommer onder die komberse.
Die sel ruik na dagga, poep, Vaseline en seks.
Malan raak aan Roux Steyn se voet.
“Boss.”
Roux Steyn is dadelik wakker.
Trek die appelboks onder sy bed uit. Haal ’n koekie seep uit. Blou handdoek. Stap stort toe.
Voor die stort hang ’n lang ry waslappe. Dit hou ’n gevangene se plek. Hy skuif Tokkie s’n tot heel agter.
Priester sit op die vensterbank by die toilette. Sing een of ander kerkliedjie oor ’n thousand reasons. Blaas daggawalms by die venster uit.
“Hoe lyk dinge?” vra Roux Steyn. “Iemand al vir jou koffie gebring?”
“Stil.” Hy kyk op sy horlosie. “Nagskof is laat.”
“Wie?”
“Hagar.”
“Hy slaap in die kantoor. Jy oukei? Koud?”
“Ek’s oukei.”
“As jy koud kry, stort. Fok die lyn.”
Die stortkoppe is afgebreek. Sterk strale spuit. Roux Steyn staan so dat die kokende water op sy rugspiere val. Malan sing. “Ek kan doen met ’n miljoen.”
“Klink of jy gespyker is,” spot Roux. “Wat’s sy naam?”
“Iets beter. Ek gaan vir my ’n plaas koop en Durban poison plant. Pappa, ek gaan soos ’n zombie loop.”
“Ons gaan ’n bank moet roof vir daai plaas.”
Roux Steyn smeer ’n lemoensak vol seep. Skrop sy lyf. Nek. Arms. Bors. Bene. Skrop. Ruik steeds bloed. In hierdie fokken plek ruik als na bloed. Soms ruik hy dit as hy eet, stap, of probeer slaap. Dit bly in sy fokken neus.
“Dis nie geld nie, nè?”
“Geld?”
“Mister Cool se deal.”
“Iets beter.”
*
Middernag. Stemme.
“’Seblief indoda Tokkie,” pleit Babyface: “nie vanaand nie.”
Twee donderslae weergalm deur die stilte soos Tokkie hom klap.
“Djou ma se poes. Hou djou bek of ek maak djou vrek. In my bed. Nou!”
Babyface klouter af, kyk pleitend na Roux Steyn.
Roux Steyn staar boontoe. Die metaalraam van die middelste bed bokant hom is toegemaak met karton. Hy het al die kaal foto’s wat die vorige bandiete daar geplak het, afgeskeur. Al wat oorgebly het, is die blou tandepasta waarmee dit vasgeplak was. Dit en één foto. Een foto het hy gehou. Sporty Spice.
“Boss,” roep Malan, “leen Sporty vir my.”
“Spyker jou matras, man,” tjirp Pumbaa in. Die meeste matrasse het gate in – instant pussy pudding.
Pumbaa scroll op Instagram. Net boude en tiete.
“Kom Pumbaa, help ’n man uit. Ek’s lank in die tronk, gee my ’n bietjie boude,” kap Malan terug.
Pumbaa spring op. “Ek bliksem jou.”
“Ek bandiet vir die laaste sterkgevreet wat dit gesê het,” sê Malan.
Pumbaa sak terug op sy bed. Dis waar. Malan is verlede jaar gevonnis. Piet Vark het met hom kak gesoek en ’n draadhanger as strikdas gekry. Hy’s in die stort opgehang as vlag vir almal om te sien wat gebeur as jy met Gert Malan skoor soek.
“Ouens,” sê Roux Steyn: “kom ons val terug in salute.”
Hy streel sy vingers oor Sporty Spice se foto. Gaan hy eendag trou en kinders hê?
“Boss,” sê Malan, “dink jy nou aan Sporty of JLO?”
“Fokkof.”
“JLO is gepak, nè?”
“Pakistan,” koor Kriek en Pumbaa.
Mister Cool plak homself ongenooid op die bed neer. Die blikbeker tee wasem sy bril toe.
“Hoeveel soek jy? Ek sal reël dat dit môre oorbetaal word.”
“Klop jy nie?” vra Malan. “Boss, moet ek hom afstof?”
“Raak ontslae van jou skouervlieg,” sê Mister Cool.
“Hy’s doof.”
“Ek gee nie om of hy doof, stom en blind is nie – ek like hom nie.”
“Ek’s bly, hy’s getroud. Vat vir my ’n rugsak uit.”
“’n Rugsak? Wat’s binne?”
“Maak nie saak nie. Vat dit uit en begrawe dit. Maak seker dat jy dit met klippe toepak; ek wil nie hoor ’n trop jakkalse het dit oopgegrawe nie.”
“’n Rugsak? Al jou smokkelgeld? Sê nou ek hardloop met dit weg …”
“Dan moet jy seker maak jou spore lei nie terug vierhoeke toe nie, want ek gaan hier vir jou wag.”
*
G3-seksie se daaglikse uuroefening vind om 09h00 plaas. Nooit stiptelik nie. Ook nie daagliks nie.
Die gevangenes skrum deur die gange na die onderste vloer. Fluit. Skop ’n bal. Babyface lei soos ’n hanslam voor.
Roux Steyn loop agter. Hy wil nie hê iemand moet ’n mes in sy rug druk nie.
Die bewaarders drentel agterna. Knuppels in die hand. Hul sole piep op die blinkgevryfde vloer.
Die gangligte is dof. Goggas gons daarom soos ’n Jack Russell om ’n teef wanneer sy op hitte is. Kragdrade hang soos spinnerakke uit die ligte en klim by vensters in.
“Dankie hek!” skree Babyface toe hulle die hek nader.
Twee rotte skreeu-baklei oor ’n appelstronk. Glip onder die traliedeur. Nael die binneplaas in. In die oorvol asblik langs die hek ritsel papiere. Nog ’n rot, gevolg deur ’n trio kleintjies, spring uit die asblik. Vlug in die binneplaas.
’n Bewaarder druk eers ’n handvol mieliepap in sy mond voor hy in sy stoel terug lê en ’n swaar bos sleutels uit sy sak trek. Sy pens hang onder sy hemp uit en die sleutels is met ’n laksmanslus aan sy belt vasgemaak. Hy kies een, strek en kreun. Sluit oop.
In die binneplaas sirkel Roux Steyn kloksgewys. Malan gaan staan agter die sokkerpale. Pumbaa en Kriek weerskante van hom.
Roux Steyn bespied die binneplaas. Die bewaarders speel domino’s. Kerkbroers staan in ’n sirkel en bid. Teen dwelms, bendes, smokkelary en seks. Slippers en Rooikappie lê soos klipdassies in die son. Kaal bolyf. Gespierd.
Niemand het ekstra klere aan nie. Geen handdoek is om ’n nek gedraai nie.
Roux Steyn sien hoe Priester die binneplaas instorm. Hy loop altyd op sy tone, en wanneer hy hardloop, lyk dit soos ’n kameelperd wat wil struikel. Hy stop by die bewaarders. Roep: “Chief! Chief!”
Roux Steyn weet wat hy oordra. Hulle steek mes in die gym.
Die bewaarders storm uit die binneplaas. Sekondes later draai Priester ’n ketting om die deur, sluit dit met ’n slot.
Kriek en Pumbaa flank, een regs, een links. Malan loop na die toilette, die een helfte van ’n skêr in die hand. Roux Steyn volg hom, die ander gedeelte van die skêr in sy hand. Hy het dit self in die stort vlymskerp geslyp. Sy armhare afgeskeer om seker te maak dit sny deur vleis.
Pumbaa fluit. Kriek volg. Dan Malan.
Dan val als in plek. Militêr presies uitgewerk.
’n Rugsak slinger oor die muur. Twee gevangenes maak dit leeg, verdeel die sakke dagga onder die trop gevangenes wat daarvoor gewag het. Gee die rugsak vir Priester.
’n Groep gevangenes onder leiding van Pumbaa storm op ’n ander klomp gevangenes af. Roof hul selfone. Steek dié wat weerstand bied. Gooi die buit in ’n catch, hys dit na bo.
Kriek koördineer die dagga. Maak seker dat dit in elf verdeel word, ’n arm vir elke seksie.
Die sokkerbal rol doelloos.
Mense vlug na die deur. Die kerkbroers en die vet paptrokke heel voor. Hulle ruk en pluk aan die deur. Skreeu.
“Chief!!!”
Die gewoontemisdadigers, die bloubaadjies, gaan staan met hul rûe teen die muur. Up hul voorraad. Bêre die dagga in die kluis. Druk dit in hul gatte op.
*
Die toilette ruik na dagga, pis en ’n nat asbakkie. Snoop Doggy Dog blêr uit ’n selfoon.
Die sirkel sien vir Roux Steyn, die skêr. Vlug na buite.
In die middel van die sirkel sit Babyface op sy knieë. Besig om ’n gevangene af te suig. Die gevangene hardloop na buite, broek om die enkels – ’n pikkewyn in oranje.
Babyface het nie tyd vir opspring en weghardloop nie. Sy oë vergroot.
“Roux, seblief.”
Die skêr glim in die lug. Deurboor sy nek. Bloed spuit in ’n sterk straal deur die lug. Teen die dak, mure, oor die vloer en wasbakke.
“Sy’t geflirt nè?” skree Roux Steyn. “Op ses? Fok jou, jou poes.”
Kap die skêr weer en weerweerwéér.
Hy begin Babyface se nek afsny. Met kaphoue. Ruk en pluk die nekwerwel. Druk die skêr in. Probeer die werwels losbreek. Sny deur die senuwee. Babyface se voete ruk.
Malan gooi die kop in ’n inkopiesak, knoop dit toe. Na die derde sak gooi hy die kop in die rugsak. Rits dit toe. Gee dit vir Priester.
Roux Steyn en Malan begin die liggaam opsny.
Kriek en Pumbaa sluit aan. Spoel die liggaamsdele in die toilette af.
Slippers en Rooikappie verbrysel die bene met dumbbells.
Bewaarders donder teen die staaldeur.
Die fluitjie skril.
Roux Steyn se arms raak moeg. Hy sny stadiger.
“Fok!”
Die toiletsbakke neem ’n ewigheid om te vul.
“As die boere die deur oopbreek,” skree Roux Steyn uitasem, “dan los julle my alleen. Ek sal hiervoor staan!”
Die alarm skree.
Uiteindelik. Alles afgespoel.
Die vierman druk hul klere in die toilette om dit te verstop. Spoel. Aaneen.
Die toilette oorspoel.
Almal duik onder die stort. Skrop. Trek vars aan. Nat klere word by die vensters uitgehang.
Slippers en Rooikappie is G3 se skoonmakers, dus mop hulle die vloer. Daarna gooi hulle twee dromme ontsmettingsmiddels oor die vloer.
Met al die bewyse weg, is Babyface deel van die ontsnappingstatistieke.
“Ouens, staan sterk,” sê Roux Steyn. “Die boere gaan ons nou stukkend bliksem. Salute.”
*
Die gevangenes lê op die sokkerveld. Kaal. Bewaarders trap op hulle. Identifiseer die ringkoppe. Gevangenes wat waag om hul koppe te lig, of te praat, word gebliksem.
“Boss,” fluister Malan, “as jy ontsnap, wat gaan jy eerste doen?”
Swaeltjies swiep deur die lug.
’n Weerlig blits. Donder rommel.
Roux Steyn se oë verdof. Die Here weet, na al die jare is die vierhoeke sy huis.
Dié oë! Malan het dit laas gesien toe hy verkrag is. Toe korporaal Roux Steyn hom uit die sinkplaathuis gedra het. Hamer in sy hand. Bloed wat drup. Roux Steyn het in die hof ook geswyg. Almal dink dit is hy wat sy bevelvoerder doodgeslaan het.
“Wat gaan jy doen as jy ontsnap?”
“As ek my dik gat oor daardie muur kry,” lag Malan, “soek ek ’n Nobelprys. Pronto. Daarna eet ek McDonald’s leeg.”
The post Geld kan nie als koop nie (weergawe 2) appeared first on LitNet.