Quantcast
Channel: LitNet
Viewing all 22071 articles
Browse latest View live

Vandag op die Woordfees TV-boekeprogram: Maandag 18 Julie 2022

$
0
0

Het jy geweet jy kan vanjaar na al die boekeitems kyk wat jy verlede jaar op die TV misgeloop het – én nuwe boekgesprekke ook luister?

Hier is vandag se Woordfees TV-boekeprogram:

00:51 Wanneer gister en vandag nie lepellê

Diana Ferrus gesels met with Kirby van der Merwe (Eugene), Audrey Jantjies (As die katjiepiering blom) en Brian Fredericks (Hou jou oë oop). Die drie romansiers deel die agtergrondstories van hulle boeke, en ook hoe hulle die spanning ondersoek wat soms in hul gemeenskappe bestaan tussen iemand se komvandaan en sy lewe vandag.

Diana Ferrus gesels met Kirby van der Merwe, Audrey Jantjies en Brian Fredericks.

03:35 Ingrid Jones – Lockdown-reseptestories

’n Hartverwarmende kuier rondom komvandaanresepte met happies, waartydens Reuben Riffel die joernalis Ingrid Jones en Adéle Smith, Fahiem Stellenboom en Sandra van der Rheede uitvra oor hulle Facebook-gespeksblad wat ’n boek geword het.

Met Reuben Riffel as aanbieder

04:23 Anton Müller – ’n Outistiese seun onthou

Op sy unieke manier vertel Anton, Stellenbosch se outistiese dorpsbibliotekaris, vir Hannes van sy boek, hoe hy Ma Helen onthou en Paul Roos – die “gewone” laerskool waarop sy ma aangedring het – en wys hy hoe briljant hy met datums is.

Met Hannes van Wyk as gesprekleier en Anton se broer, Corrie Müller

07:01 Die Boereoorlog ingekleur

Tinus le Roux vertel hoekom hy juis ABO-foto’s wou inkleur, van die juwele waarop hy tydens sy navorsing afgekom het, en wys aan die hand van ’n paar voorbeelde hoe detail wat in die swart-en-wit weggesteek was na vore kom in die kleur.

Fransjohan Pretorius gesels met Tinus le Roux.

10:04 Dol heuning met SJ Naudé

Die Hertzogpryswenner – die eerste wat twee keer na mekaar dié prys vir prosa ontvang – noem homself “’n aktivis vir die kortverhaal” en gesels oor inspirasie en die waarde van skryfopleiding. Sandra Prinsloo lees voor uit een van sy verhale.

Met Marius Swart as gesprekleier; Sandra Prinsloo lees voor.

11:20 Mynhardt se kombuis

Die eerste Kokkedoor-wenners hou reünie wanneer Tiaan vir Mynhardt ’n video wys van waar hulle die eerste keer saamwerk. Hy vra ook vir Mynhardt uit oor sy Vrystaatse koswortels, sy kookboek wat in grendeltyd gebore is, en sy liefde vir kleur.

Tiaan Langenegger gesels met Mynhardt Joubert.

Klik hier vir die volledige Woordfees TV-program.

The post Vandag op die Woordfees TV-boekeprogram: Maandag 18 Julie 2022 appeared first on LitNet.


Press release from the prize committee: Winner of the Ingrid Jonker Prize for English poetry 2022

$
0
0

The winner of the 2022 Ingrid Jonker Prize is Jacques Coetzee with his debut collection An Illuminated Darkness published by uHlanga. Congratulations to both poet and publisher.

One of the judges praised the meditative tone of the collection and pointed out that Coetzee “does not strive for technical effects, but seems more concerned to express delicate, deeply felt intangibles of life, silence, death, love – often in the context of blindness and the pain and anger, however sublimated, that goes with it.”

Another judge observed that the poet “writes with a musician’s ear and heart’s depths of listening that consciously unfolds the lines of the poems, particularly the shifts in rhythm.”

https://www.litnet.co.za/an-illuminated-darkness-by-jacques-coetzee-a-review/

Twelve entries were received for the 2022 prize and many contenders received praise from the judges. One collection, namely Yellow Shade by Dimakatso Sedite (Published by Deep South) was hailed by the judges as “a welcomed contribution to the contemporary tide of Black women publishing new work.”Yellow Shade was joint winner of the 2022 NIHSS Award for best book of poetry.

Sue Woodward’s between the apple and the bite, is described as “an exploration of the experience of women through the personas of mythical and historical figures, or an intersection of both”.  It is “a feminist take on ‘inconvenient or disobedient’ women through the ages” and the three structured collection is hailed for its “skilful thematic weavings throughout and the grounding footnotes, making for a refreshing and informative read.”

This year’s judges were Malika Ndlovu, Ken Barris and Arja Salafranca. Judges of the Ingrid Jonker prize are unaware of one another’s identities until judging is complete.

The Ingrid Jonker Prize is awarded in alternate years to the best debut collection in English or Afrikaans. The winner receives a cash prize dependant on the interest accumulated in an account originally established for this purpose.

Marius Crous is the convenor of the Ingrid Jonker committee. The other committee members are Sally-Ann Murray, Jolyn Phillips, Vincent Oliphant and Brian Walter.

Also read:

An illuminated darkness by Jacques Coetzee: a review

The post Press release from the prize committee: Winner of the Ingrid Jonker Prize for English poetry 2022 appeared first on LitNet.

Persverklaring: Toelies Afrikaans in Arabiese skrif en wen!

$
0
0

Taalmonument loods nuwe Arabies-Afrikaanse kompetisie met R10 000 op die spel

Ter ere van Erfenismaand loods die Afrikaanse Taalmuseum en -monument (ATM) en Historium Trust weer ’n gratis kompetisie waarin R10 000 en jaarpermitte op die spel is vir kort Afrikaanse tekste in Arabiese of Jawiese skrif. Dit volg op die hoogs suksesvolle kompetisie in 2020 toe meer as 40 nuwe Arabies-Afrikaanse geskrifte vanuit Suid-Afrika, Duitsland, Oostenryk en Saoedi-Arabië ontvang is.
 
Die positiewe reaksie, mediadekking en talle inskrywings – van religieuse tekste, oorspronklike werke oor Afrikaans en kwessies soos ubuntu tot die lirieke van Spoegwolf en Refentse – bewys dat daar steeds ’n groot belangstelling in Arabies-Afrikaans is. Afrikaans wat met behulp van die Arabiese alfabet geskryf is, word algemeen aanvaar as die eerste geskrewe vorm van Afrikaans. Talle Arabies-Afrikaanse geskrifte – soos studentenotaboeke, verkiesingsplakkate, publikasies en manuskripte – het behoue gebly; tot dusver is 74 van dié werke wat tussen 1845 en 1957 geskryf is, deur kundiges ontdek en geïdentifiseer. Hieronder tel uitstekende voorbeelde van die vroegste Afrikaanse literatuur. Daar is boonop heelwat onopgetekende Arabies-Afrikaanse geskrifte in privaat besit; die ATM wil dit graag digitaliseer om vir die nageslagte te bewaar.
 
Die beoordelaar is Shamiega Chaudhari, ’n dosent in die Fakulteit Opvoedkunde aan die Kaapse Skiereiland Universiteit vir Tegnologie, waar sy Afrikaans as hoofvak sowel as Kurrikulumstudie doseer. Sy is nie net ’n kenner van Afrikaans en Arabies – en liefhebber van Jawies – nie, maar fokus ook op dekolonisering, identiteitstudies en oratuur. Sy is passievol oor die geskiedenis van Afrikaans in die algemeen, en veral hoe ons almal onlosmaaklik verbind is in die tapisserie van hierdie ongelooflike taal. Om by hierdie kompetisie aan te sluit, het Chaudhari ook op 16 Julie 2022 ’n Arabies-Afrikaanse werkswinkel vir beginners aangebied. Deelnemers het onder meer geleer hoe om die Arabiese skrif te gebruik en spesifieke Afrikaanse klanke weer te gee.
 
Volgens Michael Jonas, direkteur van die ATM, is die doel van hierdie werkswinkels en kompetisies om ’n moderne bydrae tot dié skryftradisie te lewer. “Ons missie is immers om onder meer die versweë geskiedenisse van Afrikaans te belig en die ryke diversiteit van Afrikaans se ontstaansgeskiedenis asook haar moderne gedaantes te vier. Daarom wil ons mense aanmoedig om ook op hierdie manier hul deelname aan hierdie taal te herbevestig,” sê hy. “In die Taalmuseum in die Paarl gee ons heelwat erkenning aan Abu Bakr Effendi, wat in die 1800’s ’n groot rol in die ontwikkeling van Arabies-Afrikaans en derhalwe ook Afrikaans in die Bo-Kaap gespeel het. Ons wil graag sien dat die Afrikaanse gemeenskap hierop voortbou.”
 
Die wenner sal R5 000 kontant ontvang en die twee naaswenners R2 500 elk, geborg deur die Historium Trust. Al drie wen ook ’n gesinsjaarpermit vir die ATM wat onbeperkte besoeke vir vier mense aan die monument, museum, koffiewinkel en volmaanpieknieks insluit. Om dit aan ’n groter gehoor bloot te stel, sal die beste twaalf inskrywings in die monument se Groen Galery uitgestal word, waar die Romeinse en Arabiese/Jawiese weergawes van dieselfde Afrikaanse tekste naas mekaar sal verskyn.
 
Om in te skryf, moet deelnemers ’n teks in enige variëteit van Afrikaans (standaard, Griekwa, Nama, Kaaps, ensovoorts) in die Romeinse skrif vind of iets direk met behulp van die Arabiese skrif skryf. Skryf dieselfde teks in Arabiese skrif OF Jawies (Arabiese skrif, soos aangepas vir spesifieke Afrikaanse klanke) OF in beide, reël vir reël. Om met laasgenoemde te help, is ’n paar moderne Afrikaanse voorbeelde, aanlyn bronne en sleutelborde by http://www.taalmonument.co.za/arabies-afrikaans en http://www.taalmuseum.co.za/wp-content/uploads/2021/02/groen-galery-2021-arabies-afrikaans-klein-pdf.pdf beskikbaar. Enigiemand kan aan die kompetisie deelneem; vorige kontantwenners sal nie vir die topdriepryse oorweeg kan word nie, maar wel vir die top-12 wat in die Groen Galery uitgestal word.
 
Vir die volledige inligting oor die werkswinkel en kompetisie, asook voorbeelde en aanlyn bronne, sien http://www.taalmuseum.co.za/arabies-afrikaans. E-pos jou inskrywing (maksimum een per persoon, maksimum 150 woorde) met jou volle naam, adres, telefoonnommer en e-posadres na bemarking2@taalmuseum.co.za. Kompetisie eindig om 17:00 op 26 Augustus 2022, en wenners en uitstallers sal binne ’n maand hierna in kennis gestel word. Dit is oop aan almal, en bepalings en voorwaardes geld. Vir enige navrae of om via WhatsApp in te skryf, kontak Jeffrey Pietersen op 27 (0)76 017 6026 of bemarking2@taalmuseum.co.za.
 
Vir meer inligting oor al die ander opwindende geleenthede, konserte en kursusse by die Taalmonument en Taalmuseum, skakel 021 872 3441/863 0543, besoek www.taalmonument.co.za of volg hulle op Facebook. Die webtuiste bied boonop virtuele toere van die monument en museum, inligting in ses tale oor die simboliek van die Taalmonument asook baie interessante artikels oor Afrikaans, veeltaligheid en die instelling se verlede, hede en toekoms. Daar is voorts heelwat bronne vir skool- en navorsingsprojekte. Jaarpermitte kos slegs R120 vir individue of R220 per gesin, wat toegang tot alle volmaanpieknieks insluit. Die ATM Koffiehuis bied daagliks heerlike kos en pragtige vergesigte.

The post Persverklaring: Toelies Afrikaans in Arabiese skrif en wen! appeared first on LitNet.

Hoerkind deur Herman Lategan: ’n onderhoud met die skrywer

$
0
0

https://www.penguinrandomhouse.co.za/search/books?query=hoerkind

Hoerkind: Die memoires van ’n randeier
Herman Lategan
ISBN: 9781776093380
Penguin Randomhouse South Africa

Herman Lategan laat weet hy’s in ’n Uber op pad van sy Kwela-opname in Milnerton en gaan ’n bietjie laat wees vir ons onderhoud by The Dry Dock Taverna in Paardeneiland.

Ek wag in my kar – die taverna in sig, vensters toe. Ek is huiwerig om uit te klim. Dit voel anders as die stadskom waaraan ek gewoond is.

“Ek is mal oor Paardeneiland,” het Herman gesê toe ek vra hoekom hy juis daar wil ontmoet. “Dis nes New York se Meatpacking District; die geboue is ideaal om in lofts te ontwikkel. En dis so na aan die stad. Dit gaan nog boom, hoor my, boom. Paardeneiland is ryp vir ontwikkeling.”

Ek sien hom voor die kroeg uit die agterkant van ’n wit Mercedes klim – sy bekende lang, groot gestalte, kop tot tone uitgevat in swart. Hy glimlag toe hy my aangestap sien kom.

“Jammer ek’s laat,” sê hy hartlik. “Ek het nog al my make-up aan vir die show. Hulle het my omtrent mooi gemaak.” Hy vee heen en weer oor sy wange om my te wys.

Die plek binne het ’n cool grungy atmosfeer sonder om grungy te wees. Drie mans sit stil langs mekaar by die kroegtoonbank, hande om hulle lang biere terwyl hulle na ’n sportuitsending op ’n groot TV kyk.

Die kelnerin is oulik en gevat en dadelik deur Herman betower. Sonder om te blik of te bloos speel sy saam toe hy haar vertel hy is pas uit Valkenburg ontslaan en dat ek sy sielkundige is wat hom moet evalueer om te sien of hy reg is om in die buitewêreld te wees.

“Ek het ’n klomp ou mense vermoor,” sê hy en swaai sy arms verwoed rond om haar te wys hoe hy hulle een vir een afgemaai het.

Haar reaksie is foutloos met net die regte uitdrukking en stemtoon, veral na hy haar palm gelees het, en waarin hy die maan en sterre vir haar gesien het. Uiteindelik kyk sy met groot oë na my en sê sy dink hy is okay, ek kan hom maar die wye wêreld inlaat.

Die losieshuisdae in Kloofstraat (foto verskaf deur Herman Lategan)

Herman is ’n charismatiese storieverteller, nes sy ma, Ria. “Dis waar my liefde vir woorde, vir stories, vandaan kom,” sê hy. “My ma. Sy het haar hande gereeld by die kerslig gehou en dan het die skaduwees teen die mure soos diere gelyk. Oor elke dier het sy ’n storie vertel.”

...........
Herman is ’n charismatiese storieverteller, nes sy ma, Ria. “Dis waar my liefde vir woorde, vir stories, vandaan kom,” sê hy. “My ma. Sy het haar hande gereeld by die kerslig gehou en dan het die skaduwees teen die mure soos diere gelyk. Oor elke dier het sy ’n storie vertel.”
............

Maar hy onthou ook die plaaswerkers op Lutzville se mooi stories wat hulle om die vuur in Namakwalandse Afrikaans vertel het. Die streek se unieke woorde. Dit het hom ook ’n diep liefde vir taal laat ontwikkel. “Om so met die taal te kan toor, die stem van die storievertellers te hoor, om ’n vuur, in die nag, dit is mos hemels.”

Hy noem dit ’n vorm van hipnose, ’n oermanier van los drade bymekaarvleg om iets uit niks te skep. “Letterkunde en rolprente, kuns, enigiets wat ’n narratief het, kan herlei word tot vuurstories, vertel deur mense wat weet hoe om die emosionele gravitas van ’n verhaal sonder gedwonge tegnieke te vertel, tot so ’n mate dat hulle vir altyd by jou bly.”

Herman Lategan (foto: Lien Botha)

Bietjie soos hoe Herman stories vertel. Vra maar vir die kelnerin. Die taverna kort net ’n vuurtjie.

Dis in die Lutzville-plaaswerkers se nederige huisies waar hy en sy ma keer op keer vir sy stiefpa, Christie Kruger, moes wegkruip. Herman noem hom die grootste holborsel onder die son. “Hy het op ons geskiet met ’n geweer,” sê hy. “Vir my en my ma en die plaaswerkers aangerand. Hulle met die dopsisteem betaal. Hulle verneder. Die mense wat ons beskerm het, op wie se vloere ons geslaap het. Hy was ’n psigopaat.”

...........
Maar Hoerkind is nie net ’n verhaal van onbevoegde ouers en hul gebrekkige versorging van hul kind nie. Dis ’n storie van ’n samelewing se Calvinisme, politiek en kultuur wat die land en sy mense in die steek gelaat het.
............

Maar Hoerkind is nie net ’n verhaal van onbevoegde ouers en hul gebrekkige versorging van hul kind nie. Dis ’n storie van ’n samelewing se Calvinisme, politiek en kultuur wat die land en sy mense in die steek gelaat het. Maar Herman sê hy glo op ’n goeie dag dat ’n mens se ervarings, goed of sleg, nie vermors is in die hande van ’n skrywer of kunstenaar nie. Hy gebruik alles wat met hom gebeur in sy werk. “Ek vergader, stof af, polish en bêre gebeure vir latere gebruik.”

Herman Lategan (foto verskaf deur Herman Lategan)

Ander dae voel hy nie so nie. Dan vaar hy uit teen die eng Afrikaners in die land, veral dié op klein plattelandse dorpies soos Lutzville.

“Kyk, ek het ’n baie ambivalente verhouding met taal,” sê hy. “Taal is soos ’n mens met wie jy ’n verhouding het. Dinge kan stormagtig raak en dan strip ek my moer vir Afrikaans en wil sommer al die klein dorpies uitwis. Maar dan dink ek die volgende dag – haai, hulle praat so mooi idiomatiese Afrikaans. Jy weet, waar is die dae wat my ouma gesê het daar gaan dadels van kom? Niemand gebruik dit meer nie. Sulke goed maak my weer heeltemal verlief op die taal. Dan mag jy niks daaroor sê nie. So, eendag staan ek in die skeihof en môre smeek ek weer – o nee, asseblief, moet my nie los nie!”

...........
“Kyk, ek het ’n baie ambivalente verhouding met taal,” sê hy. “Taal is soos ’n mens met wie jy ’n verhouding het. Dinge kan stormagtig raak en dan strip ek my moer vir Afrikaans en wil sommer al die klein dorpies uitwis. Maar dan dink ek die volgende dag – haai, hulle praat so mooi idiomatiese Afrikaans. Jy weet, waar is die dae wat my ouma gesê het daar gaan dadels van kom? Niemand gebruik dit meer nie. Sulke goed maak my weer heeltemal verlief op die taal. Dan mag jy niks daaroor sê nie. So, eendag staan ek in die skeihof en môre smeek ek weer – o nee, asseblief, moet my nie los nie!”
...........

Maar taalbul is Herman ook nie; hy haat die woord. “Ek is nie iemand wat daarop aandring dat Afrikaans in die universiteite moet wees en so aan nie; ek is eenvoudig net baie lief vir die taal. Maar ongelukkig is die deursnee-Afrikaner nie gemotiveerd genoeg om dit aan die gang te hou nie. Daarom dink ek dit gaan maar ’n braaivleisvuurtaal word. Honderd jaar van nou af, laat ons onsself nie fool nie, gaan dit gebeur.”

Maar tot tyd en wyl skryf hy oor interessante woorde in sy tweeweeklikse Rapport-rubriek, Woorde wat wip. ’n Versameling van hierdie rubrieke het in 2014 in boekvorm verskyn as Binnekring van spookasems. Waar kom hy aan die woorde?

Herman Lategan (foto verskaf deur Herman Lategan)

“Partykeer kom die onderwerp eenvoudig by my op,” sê hy. “Nou die dag het ’n bejaarde vrou van ’n gebou afgespring en haarself op die sypaadjie langs die Hussar Grill te pletter geval terwyl die mense sit en middagete eet. Ek het nog nie daaroor geskryf nie, maar so iets sal my byvoorbeeld interesseer en dan soek ek die woord wat die beste by die storie sal pas. Dit neem soms lank om die regte woord te kry, maar gelukkig het ek baie woordeboeke, baie, baie.”

Hy haal sy foon uit en maak ’n nota om hom te herinner aan die insident. Die vrou het glo langsaan in die aftreeoord Good Hope Park gewoon en aan Alzheimersiekte gely voor haar selfdood.

Ander dae kom die woord na hom toe. Soos ronkedoor, ’n olifantbul wat uit ’n trop gestoot is en hom eenkant hou.

“Mense gebruik nie meer interessante woorde nie. Alles word deesdae in ’n templaat geskryf, terwyl ons soveel mooi Afrikaanse woorde het.”

Herman skryf ook in Engels en van sy artikels het al in plaaslike en internasionale publikasies verskyn. Maar nes met Afrikaans is sy verhouding met Engels complicated.

“Alhoewel ek baie lief is vir Engels en vir jare net in Engels geskryf het, het dit vir my oud geword,” sê hy. “Wooden. Ek is twee verskillende mense in Afrikaans en Engels. Hulle sê mos in elke taal wat jy praat het jy ’n ander persoonlikheid. As ek Afrikaans skryf, skryf ek vir my ma. Vir die mense op die plaas. My Engels was destyds anders, meer Brits, hoogdrawend. Deesdae skryf ek ’n rouer soort Engels. Soos Athol Fugard. Ek sê nou nie ek skryf soos hy nie, dis meer die manier waarop hy praat, met ’n Afrikaanse aksent. Herman Charles Bosman het ook so geskryf. Hy het eintlik in ’n Afrikaanse register geskryf. Ek skryf soos ’n Suid-Afrikaanse Engelse persoon. Ek wil nie soos ’n fokken Brit klink nie. Nou geniet ek weer Engels.”

Herman Lategan (foto verskaf deur Herman Lategan)

Herman se weeklikse In memoriams in Rapport gee hom soms rede om te wil bedank – hy hemel nie mense op net omdat hulle dood is nie. Gelukkig neem sy redakteurs hom nie ernstig op nie en skryf hy nou al vir jare hierdie berigte.

Die persoon waaroor hy ’n doodsberig moes skryf en van wie hy die minste gehou het, was Wilbur Smith.

“Hy was ’n nare mens,” sê Herman. “Een van sy eksvroue het hom byvoorbeeld eendag in Londen raakgeloop en hom gegroet. Hy vra toe: ‘Wie is jy?’ Sy antwoord hom met: ‘Oh, we’ve got a child together, bye.’ En stap aan. Weet jy, hy is in ’n uniform met ’n geweer bo-op op sy lyf begrawe? Hy was ’n wit, butch, chauvinistiese grootwildjagter. ’n Militaris. En hy het sy kinders so sleg behandel, niks vir hulle gelos nie. Nie ’n sent nie. Hy’t leeus geskiet, olifante, krokodille. So, ek het dit geniet om oor hom te skryf. Die waarheid. Ek het baie kritiek gekry oor Wilbur Smith, want as jy mos in Suid-Afrika doodgaan word jy outomaties ’n engel. Dis wat my so moeg maak van Suid-Afrikaners.”

Aan die ander kant is daar sy berig oor Dr John Sonnenberg, wat hom in die wêreld gebring het en wat soos ’n pa was vir hom was. Dit was vir hom die mees betekenisvolle en moeilikste een om te skryf.

“Om oor só ’n man te praat. Hy het die helfte van Seepunt verniet behandel. Al die ou tannies wie se mediese fondse verval het en baie huishulpe. Ek sou nie hier gewees het as dit nie vir Dr Sonnenberg was nie. My ma wou ’n aborsie hê, en hy was pro-abortion, ek is ook. Vroue het die reg om te besluit en my ma het besluit. Hy het vir my ma gesê: ‘You never know how he is going to turn out.’ En dit het haar lewe verander; ek het ’n hoerkind geword en nou is daar ’n boek met die titel. Wie sou dit 58 jaar gelede kon dink? Dis interessant dat my ma daai besluit geneem het. Sy was ’n feminis. Sy kon die aborsie gehad het. Maar sy het nie. Ek dink baie daaraan. Dr Sonnenberg was ’n wonderlike mens.”

Praat van wonderlike mense in Herman se lewe en een man steek kop bo water uit – sy ex-partner en metgesel Graham Sonnenberg, Dr Sonnenberg se seun.

“Ons het nie een ouers oor nie; al familie wat ons het, is sy susters,” sê Herman. “Ons is terdeë bewus van die uurglas wat leegloop, van hoe min tyd oor is. Graham was 26 toe ek hom ontmoet het, hy is nou 62. Dit voel soos gister. Daar is nie meer tyd om te mors op allerhande esoteriese soort idees nie. Dis nou. Geniet nou. Dis al wat ons het. Here, dit klink so kitsch.” Hy lag voor hy weer ernstig raak. “Maar toe Graham se partner Athan onlangs so onverwags oorlede is, toe besef ons dit. Jy tref iemand dood in ’n bed aan en jy dink hulle slaap. Maar hulle word nie weer wakker nie. Dis ’n lyk wat daar lê. There’s no time to waste.”

Herman Lategan (foto: Debbie Loots)

Herman het my al baie oor Graham vertel en aangrypend oor hulle verhouding en vriendskap in Hoerkind geskryf. Dit was dus lekker om Graham nou die dag in lewende lywe te ontmoet en die verhouding tussen die twee self waar te neem. En dis kitsch, want dis eenvoudig mooi; ’n voorbeeld van hoe ’n dekades lange verhouding lyk wat uit liefde en respek bestaan. Daar is beslis harde klippe gekou en sakke sout saam geëet (dis alles in die boek), maar daar is iets te sê vir langtermynverhoudings waarin mense geduldig en mooi met mekaar praat, veral as die een nie met die ander een saamstem oor presies hoe ’n situasie in die verlede afgespeel het nie.

Geen wonder dat toe ek vir Herman vra wie die wonderlikste mens is wat hy nog ooit teëgekom het, hy sonder aarseling sê Graham nie. “Hy beteken baie in my lewe, maar onder andere is hy my witness,” sê Herman na ons vir die soveelste maal skaterlag oor die vele bisarre oomblikke in sy lewe; gebeure wat Graham beaam.

Herman is tans besig om ’n roman te skryf. Een wat veronderstel was om voor sy memoires klaar te wees (hy het reeds dié se voorskot spandeer) en dit gaan goed. Stadig maar seker, 450 woorde per dag. “Ek moes eers die memoires uit my sisteem kry. Nou geniet ek weer die romanskryfproses. Maar as ek hiermee klaar is, dan is dit klaar. That’s it. Ek wil nooit weer ’n boek skryf nie. Nooit.”

Artikels skryf, ja. Narrative journalism. “I will do that,” sê hy. “Ek is te arm om af te tree. Ek sal moet skryf tot ek dood neerslaan. Madeleine van Biljon het omtrent twee dae voor haar dood haar laaste artikels gefile. Maar al wen ek die Lotto en ek kan gaan travel, is ek nie een van daai mense wat in stede rondloop en sê ‘ah, kyk die mooi museums, die pragtige katedrale’ nie. Ek moet notas maak oor goed wat gebeur, sodat ek later die storie kan vertel.”

Herman Lategan (foto: Philip de Vos)

Ongelukkig het Herman nog nie die Lotto gewen nie, so van oorsee travel is daar tans nie sprake nie.

Volgens hom rol hy in die oggend soos ’n walvis uit sy kooi uit. “Dit neem my ’n halfuur om positief te begin dink en myself te oortuig dat dit nie die kakste dag van my lewe is nie. Dan gaan sit ek voor my laptop. Maar eers slaan ek die Groot verseboek enige plek oop en lees ’n gedig hardop – net vir die ritme van die taal. Dan lees ek ’n paar koerante, soos die New York Times, Daily Telegraph en Daily Maverick tot so 10:30 se kant. Daarna skryf ek tot so 16:30 in die middag. En dan moet ek uitkom, Vasco’s toe vir ’n drink. En dis my gemiddelde week. Niks glamorous nie; ek arriveer nie iewers in ’n lugballon en maak ’n grand entrance of so iets nie. Ek dink ek sal seker ook my laaste storie file net voor ek dood neerslaan.”

Die kelnerin kom nader en vra Herman vir sy handtekening – sy’t afgelei die boek op die tafel is syne. Hy wys haar sy foto’s op die agterblad en sy rek haar oë en giggel oor iets wat hy kwytraak. Sy kan dalk nie Afrikaans verstaan nie, maar ek wed jou as daar ’n kaggelvuurtjie in the taverna gebrand het, sou ons almal saam in die kroeg om die vuur gaan sit het om na Herman te luister. En so met beurtkrag sou hy met sy hande ’n paar skadu’s teen die muur kon gooi wat soos diere lyk en vir ons stories oor hulle vertel.

The post <em>Hoerkind</em> deur Herman Lategan: ’n onderhoud met die skrywer appeared first on LitNet.

CGS de Villiers (1894–1978)

$
0
0

Sêgoed van CGS de Villiers

"Natuurlik is dit lekker om te lewe en die een wat vir jou sê dis nie lekker nie, lieg lat hy bars." (Volksblad-bylae, 14 Desember 1974)

Hoekom hy die wetenskap as studierigting gekies het: "Nuuskierigheid. Onversadigbare nuuskierigheid. Ek wou weet, altyd wéét. In Zürich het ek kennis gemaak met die klassieke Duitse wetenskap, wat daarin bestaan dat ’n mens klein stukkies eksakte waarneming doen voordat jy met ’n sinteses kom. Dit was altyd my instelling as dosent in die soölogie: Oppas vir ’n te vinnige sintese. Dis nie belangrik om die feite te ken nie. Die belangrikste is dat ’n mens moet leer dink." (Aan Audrey Blignault in Volksblad-bylae, 14 Desember 1974)

"Ek wou eintlik aan die Overberg teruggee wat reeds aan die Overberg behoort het en wat mettertyd verlore gegaan het. Ek wou vertel van die plaaskultuur van ’n driekwart eeu gelede, want dit was iets wat ek baie goed geken het ... nie uit hoorsê nie. Ek ken dit uit my eie murg en been." (Rooi Rose, Maart 2005)

"Soos die ouderdom in jou liggaam opkruip en dit aftakel, ontstaan daar by jou die verlange om die een of ander tyd van die lewe afskeid te neem." (Die Burger, 29 November 1978)

Wat het aanleiding gegee dat hy as wetenskaplike begin skryf het? "Die skrywer en die bioloog word albei besiel deur die wonder. Ek was verplig om te skrywe omdat vanslewe se mense lank ná hul dood my so aanhou lastig geval het. Hulle het my gedwing om notisie van hulle te neem." (Tydskrif vir Letterkunde, Mei 1969)

Speel die verbeelding ’n groot rol in sy skryfwerk? "Ek fantaseer nie graag nie. Ek neem ’n gebeurtenis en dan borduur ek aan dié tema – dikwels tot ergernis van Overbergse lesers wat die ou mense herken. Maar – sonder fantasie kan ’n mens nie lekker vertel nie. My familie (wat NIKS van my werk hou nie!!) sê ek lieg lat ’k bars. Lieg is hulle woord vir fantaseer." (Tydskrif vir Letterkunde, Mei 1969)

Hoe het hy die vreemde tale "opgetel"? "Ek kan nie ’n taal 'optel' nie. Ek moet sy bou en skelet gebruik en dit dan met vleis beklee. Ek praat ’n vreemde taal altyd beter as wat ek dit verstaan. Hoe minder ek ’n taal praat, hoe beter doen ek dit. In ’n Romaanse taal moet ’n mens die verbuigings van die werkwoorde uit jou kop leer! Daar is geen ander metode." (Tydskrif vir Letterkunde, Mei 1969)

"U staan in hoë mate afsydig teenoor akademie- en dié amptelike letterkundige gedoe. Hoekom?" "Kyk, ek raak maar aan die soom van die kleed van die grote KILTIER. Ek is ook glad nie Diets georiënteer nie. Ek sê ook dikwels vir myself: 'Connie Viljee, jy is ’n verteller van stories en niks meer nie.' Ek is ook maar sleg literêr gedissiplineerd."

Sy mening oor literêre kritiek en of hy hom laat beïnvloed daardeur: "Seker! Maar net van my proefkonyntjies, my vriende wat beter weet as ek. Ek is bereid om van enigiemand te leer, tensy ek vermoed dat hy my met sy geleerde kritiek wil imponeer." (Tydskrif vir Letterkunde, Mei 1969)

Stem hy saam met die kritici wat beweer dat die Sestigers soms nie Afrikaans korrek kan gebruik nie: "Nee, hulle kan, maar hulle wil nie, want die Sestiger moet ten alle koste prikkel. Die Sestigers streef na die internasionale en die oorspronklike, maar reeds Goethe het mos gesê dat dié wat die oorspronklikheid agtervolg kapabel is en hardloop dit nooit in nie." (Tydskrif vir Letterkunde, Mei 1969)

Hoe voel hy oor die ouderdom? "Ek vra Browning en hy antwoord: 'Grow old along with me, the best is yet to be.' En hy lieg. Geen wonder dat sy aandele sterk gedaal het nie. Dan vra ek Goethe, en hy sê: 'Die ouderdom is niks as ’n koue koors nie.' Die ouderdom het nie onverwags op my toegesak nie, dis algemene menselot, en as jy nie doodgaan nie, sal dit jou ook nie oorslaan nie. Dit is elkeen se plig om nugterheid aan te leer." (Tydskrif vir Letterkunde, Mei 1969)

Die redakteur van Tydskrif vir Letterkunde (1969) wou weet wat sy beskouing is oor die benutting van ons eie grondstof soos ons geskiedenis, veld, natuur, ensovoorts: "Natuurlik is ons eie milieu ons materiaal. Jy hoef nie jou roman in Parys te laat speel om dit 'grootser' te maak nie. Ek erg my ook bloedig wanneer die beterweters ons wil wysmaak dat vaderlandse stof nie deug nie. Dink aan Ibsen se sagadramas en aan Shakespeare se koningdramas." (Tydskrif vir Letterkunde, Mei 1969)

"Ek sien in die jong geslag al dié foute wat ek self begaan het. Ek kyk terug op ’n interessante lewe, maar senza rancore. Net een ding grief my: die kultus van die lelike en die Afrikaner wat hom laat wysmaak dat die lelike mooi is. Ook op kunsgebied kan die wêreld nie staties wees nie. Maar, hoe stel Julianus die Afvallige dit in Ibsen se Keiser en Galileër? – 'Die Oue is wel nie meer skoon nie, maar die NUWE is nog nie waar nie." (Tydskrif vir Letterkunde, Mei 1969)

"Vir diegene wat werklik lewe, is die ouer geslagte mos nie dood nie. ’n Mens moet weet wie jy is, waar jy vandaan kom. Gegewens oor ons voorgeslagte behoort versamel te word." (Volksblad-bylae, 14 Desember 1974)

’n Blywende plesier is sy lewe: "Lees, man, lees. Ek was my lewe lank ’n onversadigbare leser. Is dit nog. In ons huis op Donkiespad was daar Nederlandse boeke. Pa s’n. Daar was een boek wat ek uit die huis uit gesmokkel het en stilletjies in die veld gelees het. Dit was De werken van Vader Chniquy. ’n Regte skokverhaal oor hoe dit in die kloosters toegaan. In vergelyking daarmee is Lady Chatterly's lover soos mak fisiologie." (Volksblad-bylae, 14 Desember 1974)

"Vandag weet ek: die hoogste vorm van musiek is die volkslied. So gou as musiek stagneer, red die volksmusiek dit weer. Dink maar aan Brahms en Smetana. Brahms het nege bande met verwerkinge van Duitse volksliedere uitgegee, Smetana is sterk beïnvloed deur Tsjeggiese volksmelodieë. Ek besit nou nog suster Hannie se dik boek afskrifte van die volksliedjies wat ons om die klavier gesing het. En haar Kinderharp. Hoe het tant Lenie Stefaans tog altyd gesê. As jy maar net jou tawwerd lank genoeg dra, kom dit weer in die mode." (Volksblad-bylae, 14 Desember 1974)

Watter van sy werkgebiede het aan hom die diepste bevrediging verskaf? "Die wetenskap was my eerste liefde. Die wetenskap bly my eerste liefde. Wat die wetenskap betref, glo ek niks op gesag nie. Wat my godsdienstige geloof betref, het ek geen bewys nodig nie. As ’n mens na my toe kom en hy sê vir my: 'Weet jy wat, ons het nou bewys dat God bestaan', dan sê ek: 'Daai God kan jy maar vir jou vat. Ek het geen bewys nodig dat my God bestaan nie'." (Volksblad-bylae, 14 Desember 1974)

Gebore en getoë

Op 16 Desember 1894 is Cornelius Gerhardus Stephanus (alom bekend as dr Con) op die plaas Dunghye-Park (Donkiespad) in die distrik Caledon in die Overberg gebore. Hy was die seun van Andries Stephanus de Villiers en Cornelia Gertruida Susanna (Nelie) Swart. As laatlam is hy na sy ma vernoem. Sy oudste broer, Jan Jeremia, was 27 jaar oud toe Con gebore is en daar was ses jaar verskil tussen hom en sy broer, Andries, wat net ouer as hy was. Behalwe Jan en Andries was daar ook sy broer Johan en twee ouers susters, Hannie en San.

Donkiespad was sy oom se plaas, wat as parlementslid nie kon boer nie en om daardie rede het sy pa vir hom geboer. Sy pa het sy eie plaas verhuur omdat hy daar asma gekry het.

Sy ma en pa was reeds bejaard toe hy gebore is. Sy pa was 52 jaar oud en sy ma 48 jaar. Hy het aan Audrey Blignault (Volksblad-bylae, 14 Desember 1974) vertel dat sy suster Hannie hom maar grootgemaak het. "Van al die mense in my lewe was ek vir haar die liefste. Ek was altyd ’n kind tussen grootmense, oumense."

Omdat hy so lank na die ander kinders gebore is, was hy as kind baie alleen. In haar artikel oor CGS de Villiers in Die Kultuurhistorikus (Oktober 1992) skryf Cornelia de Kock: "Hy het tussen oumense grootgeword en hul gesprekke aandagtig gevolg. Hy was ’n wonderbaarlike kind."

Sy pa het geglo dat ’n kind nie iets moes leer of geleer moes word gedurende sy voorskoolse jare nie, maar met die jong Con het sy pa hom misgis. Hy was ’n baie nuuskierige kind en het jonk-jonk, nadat hy vir hom Nederlands uit Ons land geleer het, die koerante begin lees.

De Kock skryf verder: "Op ’n dag het hy agtergekom dat hy baie lang woorde soos 'levensversekeringsmaatskappij' kon lees. Hy kon lees, skryf en Engels praat voordat hy skool toe is!"

Hy is as negejarige seuntjie vir die eerste maal skool toe. Hy het die plaasskool Solitaire in die Caledon-distrik bygewoon. Dit was so ongeveer ses myl van hulle plaas. ’n Skoolinspekteur het reeds terwyl die jong Con nog in hierdie plaasskool was, ’n hoë indruk van sy intellektuele vermoëns gehad.

Oor die rol wat Solitaire in dr Con se vormingsjare gespeel het, haal De Kock in haar artikel aan: "As ek nou so terugkyk op my jare op die plaasskool, dan kan ek in alle eerlikheid en sonder romantiese bybedoeling sê dat dit een van my waardevolste ondervindings was. Dit het my geleer om minder gegoede volksgenote te verstaan en lief te hê. Dit het my ook in staat gestel om deur die proses en fieterjasies van geëmansipeerde Afrikaners te sien en eenvoud en troue burgerlikheid te waardeer."

Toe Con tien jaar oud was, het sy ma gesterf en is sy pa met die weduwee Hannie Krige van Caledon getroud.

Nadat hy sy laerskoolopleiding voltooi het, is hy na die dorpskool op Caledon waar hy in 1911 sy matriek in die eerste klas deurgekom het. In die dorpskool was Samuel Hobson, een van die twee Hobson-broers wat ook skrywers was, een van sy onderwysers. As jong seun het Con klavierlesse by Miss Frederica Scheuble op die dorp geneem, asook by die Duitse Fraülein Markgraaff. Hieroor het hy teenoor Audrey Blignault (Volksblad-bylae, 14 Desember 1974) uitgewy: "Maar sonder dat ek ook maar die allervaagste begrip van musiek gehad het, het die statige ou koraalwysies van die gesange en 'besallems' soos die Boermense hulle altyd genoem het, reeds in my kinderjare besit geneem. Die Kinderharpe en Sankey-liedere het ek ook graag gesing, maar party van hulle het my bang gemaak, soos 'Kloppend, kloppend, wie is daar?' en 'Oh, where is my wandering boy tonight?' Ons het ook baie ou volksliedjies gesing wat vir my heerlik was." Hierdie belangstelling in en liefde vir musiek was sy hele lewe lank deel van dr Con.

Verdere studie en werk

Con de Villiers is in 1912 na Stellenbosch waar hy aan die destydse Victoria-kollege studeer het. Hy het aanvanklik privaat loseer, maar was later ’n inwoner van Wilgenhof-koshuis. In sy eerste jaar het hy die verpligte Intermediêre kursus gevolg met vakke soos Latyn en Wiskunde. Die volgende jaar het hy sy studies vir ’n BA-graad begin, met Geologie, Engels, Etiek en Politiek en Geskiedenis as sy vakke. Die geskiedenisklasse het hom nie aangestaan nie en nadat hy ’n lesing in dierkunde bygewoon het, het hy oorgeskakel na hierdie vak. Professor Goddard, vanaf 1911 tot 1922 professor in Dierkunde aan die Universiteit van Stellenbosch, het ’n belangrike vormende invloed op hom gehad. Hierdie oorskakeling na dierkunde het hy later beskryf as "’n groot omwenteling" in sy lewe. De Kock vertel dat hy dikwels Pirandello, ’n Italiaanse dramaturg, se woorde aangehaal het: "Die groot omwenteling in ’n mens se lewe word deur nietighede veroorsaak en daarna is jy nooit weer dieselfde nie."

In 1914 het hy sy BA-graad behaal met ’n onderskeiding in soölogie en sy M-graad in soölogie in 1916 met die Coelenterata (see-anemone, jellievisse en verwante vorme) as sy verkose studieveld. Toe hy 21 was, is hy na Pretoria waar hy ’n onafhanklike afdeling aan die Transvaalse Universiteitskollege gestig het en ook die eerste lektor op die gebied was. Hy was vir vyf jaar verbonde aan hierdie universiteit.

In 1919, drie jaar nadat hy sy M-graad behaal het en ná die wapenstilstand wat op die Eerste Wêreldoorlog gevolg het, is hy na die buiteland om sy studies vir sy doktorsgraad te begin. Hy is na Zürich in Switserland waar hy aan die Kantonale Universiteit onder proff Karl Hescheler, Daiber en Strohl dierkunde studeer het, asook onder proff Schinz en Ernst in plantkunde en in fisiese antropologie onder prof Schlaginhaufen. In 1922 het hy sy doktorsgraad met prof Hescheler as promotor behaal. Sy studieveld was die ontwikkeling van die borsskouerapparaat by paddas.

In dieselfde jaar is dr Con terug na Suid-Afrika en spesifiek na die Universiteit van Stellenbosch as tydelike dosent in soölogie. In 1923 is hy aangestel as professor, die opvolger van professor Goddard. Hy het hierdie amp beklee tot en met sy aftrede in 1959.

Dr Con was instrumenteel in die vestiging van die departement van soölogie tot ’n baie sterk skool vir vergelykende anatomie en embriologie van werweldiere. Die biblioteek wat vir die studieveld daargestel is, is baie volledig en het deur die jare studente van die wêreld oor gelok. ’n Student van Duitsland het in 1991 ’n doktorsgraad in soölogie aan die Universiteit van Stellenbosch behaal.

Onder buitelandse professore was dr Con baie bekend en professor Alberto Simonetta van die Soölogiese Instituut van Camerino en van Florence was veral baie beïndruk met die hoë standaard van die skool vir morfologie wat deur dr Con daargestel is.

Dr Con is in 1934 na Europa waar hy aanvanklik by die Universiteit van Rome as "Graaf Labia"-gas in die Instituto di Anatomie Comparata saam met professor Cotronei gewerk het. Hy het sy reis in Europa onderbreek om ’n besoek aan Amerika te bring. Daarna is hy as gas-professor na die Anatomiese Instituut van die Universiteite van Göttingen (professore Fuchs en Stadtmüller), München (professor H Marcus), Leipzig (professor Fahrenholz) en Breslau (professor Von Eggeling).

Tydens sy verblyf in Rome is dr Con deur die Carnegie Corporation for International Peace genooi om aan verskeie universiteite lesings te hou oor sy navorsingswerk en in daardie hoedanigheid het hy besoeke gebring aan die Universiteite van New Mexico in Albuquerque, California "at Los Angeles", Oregin in Eugene en Harvard in Cambridge, Massachusetts. Die Amerikaners se hoë dunk van dr Con het duidelik geblyk uit die bedankingsbriewe wat die onderskeie universiteite aan die Carnegie Corporation geskryf het. Sy navorsingswerk het hoofsaaklik gehandel oor die ontogenese van die werweldierskelet en is gepubliseer in Duitse, Engelse, Switserse, Sweedse, Amerikaanse en Suid-Afrikaanse vaktydskrifte, maar veral in die Anatomischer Anzeiger.

As wetenskaplike, spesifiek op die gebied van die vergelykende anatomie en vergelykende embriologie, het dr Con ’n noemenswaardige bydrae gelewer. In die 22 jaar sedert 1924 het 31 wetenskaplike publikasies waarvan hy die alleen-skrywer was in Afrikaans, Engels en Duits verskyn. Sy lesings en sy leiding aan nagraadse studente het menige student besiel.

Dan het dr Con nie net sy diepgaande kennis van sy vak aan sy studente oorgedra nie, maar het hy hulle ook verryk met ’n algemene kulturele agtergrond – sy lesings oor dierkunde was altyd deurspek met aanhalings uit Goethe, Dante, Pirandello en andere. Van sy gereelde aanhalings het later deel van Afrikaans as spreektaal geword. Een daarvan was Goethe se gesegde "Wie die oorspronklikheid najaag, is kapabel en haal dit nooit in nie" oor mense wat poog om baie oorspronklik te wees. (Cornelia de Kock)

Op die gebied van die kunste was dr Con seker een van die veelsydigste mense. Hy was skrywer van ses bundels vertellings en sketse wat meestal gehandel het oor die Overberg, sy geliefde landstreek. Resensies oor sy bundels was oor die algemeen baie gunstig. Hier volg uittreksels uit besprekings van sy werk:

  • Snel dan jare (1954) en Klein vaderland (1956) "Die eerste versameling van sy sketse uit Die Huisgenoot is Snel dan jare, wat uitmunt met ’n intieme vertelstyl waarin die vergange belewenisse, maar ook die gemoeds- en verbeeldingslewe van die waarnemer, weergegee word. Soortgelyk is die sketse in Klein vaderland, waar veral Die klipmuur met sy simboliek van die verganklikheid van alle dinge en die begrensing van die natuurlike ’n hoogtepunt is. Die skets Die swygsames beskryf die vertellers se sonderlinge ervaring om as jong gas by die gasvrye bejaarde egpaar oom Eerk en tant Fyta aan tafel te sit. Die twee oumense het nooit direk met mekaar gepraat nie, maar altyd van ’n tussenganger gebruik gemaak as hulle iets vir mekaar wou sê. Die oorsaak en rede hiervoor bly egter duister. Die tema van die vereensaming van die twee oumense en die komplekse aard van menseverhoudings word knap gedemonstreer, sonder dat ’n simplistiese oorsaak of rede daarvoor verskaf word. In Helderfontein staan die romantiek en idealisering van die verteller in regstreekse teenspraak met die hoofkarakter, tant Hendriena, se aardsheid en nugterheid. Dit lei tot ’n boeiende konflik tussen die verteller en sy karakter. Elize Botha neem Ma se Gesangboek uit hierdie boek op in haar versamelbundel oor Afrikaanse essayiste." (Rob Antonissen, Standpunte, 1954)
  • Donkiespad (1961): "Dié keer gaan dit nie soseer oor die mense nie, meer oor die lewenswyse van daardie vergange tyd. Soos die skrywer sê: nou moet hy 'Ma se enigste oorlewende spruit, vertel hoe dit vanslewe op ’n groot Overbergse plaas gegaan het'. Waaroor ek veral bly is, is dat melding gemaak word van die groot rol wat destyds se verenigings in die plattelandse kultuurlewe gespeel het." (Die Burger, 15 Desember 1961)
  • Overbergse eergister (1961, met herdruk in 1965): "Die tweeledige titel van hierdie bundel prosastukke dui onmiddellik sy stofgebied aan, en die romantiese instelling waarmee hy andermaal sy onblusbare lewensdrif en sterk humoristiese kyk uit die lewe vertel. (...) Die vorm wat die uitbeelding van hierdie mense in hulle eie wêreld van die Overbergse eergisteraanneem, is nie dié van die objektiewe verhaalbeeld van die gekonsentreerde kortverhaal nie, maar eerder dié van die meer subjektief-gesellige vertelling waarin die warm stemklank van die verteller in gemoedelike geselstoon, duidelik by die leser bly, terwyl hy tydsaam draal by enige punt in sy verhaal. Die leser is steeds bewus van die teenwoordigheid van die verteller, en dit veral, deur die lewende Caledonse spraak – brei-r inkluis – soms deur die spelling en tipiese lokale woordvorme en segswyses gesuggereer." (FV Lategan, Huisgenoot, 15 Desember 1961)
  • Medereisigers (1964): "Nuwe Overbergse sketse deur daardie aarts-Overberger, dr Con de Villiers, is altyd ’n belangrike en verblydende gebeurtenis. En, te oordeel na hierdie jongste bundel, Medereisigers, is daar nie die geringste afname in die skrywer se lewensdrif, sy heerlike baldadigheid, sy humor en bowe-al sy hartstogtelike liefde en belangstelling vir dié streek waaraan die pragtige naam Overberg gegee het. (...) In sy mooi stemmingsvolle voorwoord tot hierdie nuwe bundel stel die skrywer sy doel soos volg: 'In hierdie bundel vertel ek van my medereisigers na die verre verskiet. Soos in die ou Duitse spreuk het ons gelewe, en nie geweet hoe lank nie; wis ons dat ons moes sterwe, maar nie wanneer nie; het ons gereis en nie geweet waarheen nie... Maar kom bog! Die lewe is interessant en lekker, al wonder ons soms hoe ons so vrolik kan wees.' (...) Die sketse lewer meer as genoegsame bewys van ’n sterk literêre vermoë. Met uiters spaarsame middele kan die skrywer ’n ingrypende lewensmoment onvergeetlik vasgelê. Sy beelding van tant Menrensia in 'Die vaas' het die ingetoë krag van ’n Tsjekhov-kortverhaal." (Audrey Blignault, Sarie Marais, 23 Desember 1964)
  • Goue fluit, goue fluit (1968):
  • "Dat CGS de Villiers met sy Overbergse sketse en vertellings ’n unieke bydrae lewer tot die kultuurgeskiedenis van die Afrikaner, is algemeen bekend en word algemeen waardeer, maar sy werk is méér as Africana: dit is ook ’n geskakeerde bydrae tot die Afrikaanse kortkuns. Hiervan getuig Goue fluit, goue fluit So Coniaans – om Audrey Blignault aan te haal – is sy stukke dat dit soms lyk of hy ’n eie genre geskep het. Mooi bekyk, beoefen hy slegs konvensionele vorme van die kortverhaal, met al die plooibaarheid wat dié vorme het – die essay, die skets, die kort-kortverhaal, en ’n keer of wat vorme wat as prosas kan kwalifiseer, Maar watter genre-etiket uiteindelik aan ’n stuk geheg is, is nie so belangrik nie, want dis nog geen waarde-oordeel nie; hoofsaak is dat ’n stuk ’n besielde eenheid is. Die besieldheid van CGS de Villiers is die somtotaal van baie deugde, hebbelikhede én onhebbelikhede; tog reken ek dat dit na een oorheersende eienskap kan herlei: piëteit vir die natuur; piëteit vir die woord – vir die Afrikaanse woord in die algemeen, vir die woord van sy 'klein vaderland' in die besonder. Meestal is sy styl rustig-betogend of gesellig, al na gelang van sy onderwerp, maar soms kry dit ’n merkwaardige dramatiese vaart. (...) Sy skryfwerk is ’n verryking van én ons Africana én ons kortkunsbesit." (HA, Die Burger, 29 November 1968)
  • "Die stories wat die goue fluit laat hoor in hierdie jongste bundel, het ook as onderwerp mense en voorvalle uit die verlede en hede van dr Con se kontrei, maar hy vertel so onderhoudend, so beeldend, op so ’n eie kenmerkende wyse dat die boekie ook ’n groter aksie-radius kry. Ons het hier in die kleine ’n beeld van die karakteristieke eienskappe van die Afrikanerkultuur soos ons dit in ons grootouers, ons ouers en selfs by onsself (...) Vir wie hierdie boeke gaan lees, wag daar pragtige ontdekkings. Groot literatuur is dit seker nie volgens ons huidige maatstawwe nie, maar dierbaar en kostelike literatuur wel. En ek wil voorspel dat dr Con se vertellings ook nog eendag 'ontdek' sal word en met nuwe oë beskou en gewaardeer sal word – soos ons die prosaïs Eugène Marais maar enkele jare gelede na waarde begin skat is met die heruitgawe van sy Dwaalstories." (PD van der Walt, Transvaler, 30 Desember 1969)
  • Soete Inval: nagelate geskrifte van Con de Villiers (1979):
  • "In Soete Inval, ’n kort keur uit dr Con de Villiers se nagelate geskrifte, vind die leser nie net dr Con se outobiografie nie, maar ook drie kort streekstukke. Die grootste gedeelte van dié bundel word egter beslaan deur ’n outobiografie wat hy twintig jaar gelede geskryf het en wat sy kinder- en skooljare, sy studentetyd en die belangrike periode toe hy dosent en wêreldreisiger was, dek. Die drie korter stukke is nie op dieselfde vlak as van sy beste Overbergse stukke nie. Enigeen wat maar net die minste kennis dra van dr Con de Villiers se ryk en geskakeerde lewe, sal onmiddellik besef dat ’n kort outobiografie van slegs sestig bladsye nie naastenby reg aan die hierdie figuur kan laat geskied nie. Wie egter ook kennis dra van sy ander skryfwerk, sal besef dat dit as aanvulling gelees moet word by ’n oeuvre wat in sy geheel sterk outobiografies is. (...) Al toon Soete Inval nie die volle spektrum van hierdie komplekse persoonlikheid nie, gee dit die leser tog ’n belangrike beeld op ’n groot en universele gees." (JP Smuts, Die Burger, 6 Desember 1979)
  • "’n Lieflike mémoir, klinkklaar van egtheid, onnutsig en hartseer om die beurt: alles één dankie sê oor die onbegryplike van ’n lewe wat só mooi en vol kan wees." (André P Brink, Rapport, 27 Januarie 1980)

Benewens sy Overbergse sketse en vertellings was Con de Villiers ook ’n uitstekende vertaler. Deur sy vertalings kon Afrikaanse lesers werke van meesterskrywers in Italiaans, Noorweegs en Duits in hulle eie taal lees. Hy het nie net Knut Hamsun se romans, Groeiende aarde en Viktoria, uit Noorweegs vertaal nie, maar ook Luigi Pirandello se drama Die lewe wat ek jou geskenk het uit Italiaans. Twee kinderboeke, Finn Havrevold se Maren se uiltjie en Ingvald Svinsaas se Tom in die berge, is deur De Villiers se vertalings uit Noorweegs aan Afrikaanse kinders bekendgestel. Vir sy vertaling uit Italiaans van Grazia Deledda se Elias Pórtulu het die Suid-Afrikaanse Akademie van Wetenskap en Kuns in 1935 die Akademie-prys vir vertaalwerk aan hom toegeken.

Hy het teenoor Audrey Blignault uitgebrei oor sy vertaling en waar hy van die tale aangeleer het. "Noorweegs het ek in Pretoria geleer. Daar was baie Noorweegse families in Pretoria toe ek daar was. Ek het hulle leer ken en wou graag hulle taal leer praat. En my kennismaking met Noorweegs word toe die poort na ’n groot en heerlike letterkunde. Italiaans het ek in Zürich begin leer. Duits was die voertaal aan die Universiteit van Zürich. Van die skrywers wie se werk ek vertaal het, het ek persoonlik geken. Knut Hamsun, sy vrou en twee seuns het ek goed geken. Met Grazia Deledda was ek ook goed bevriend. En met Sigrid Undset. Pirandello het ek twee keer ontmoet."

Dr Con was ses tale – Afrikaans, Engels, Duits, Frans, Noors en Italiaans – magtig. Hy kon homself ook help in Spaans en Tsjeggies en het volksliedere uit Russies en Hongaars vertaal.

Hy het in die Volksblad-bylae van 14 Desember 1974 aan Audrey Blignault vertel van die oorsprong van sy belangstelling in die drama en toneel. Dit het in Zürich in Switserland ontstaan toe hy tussen 1918 en 1923 daar studeer het. "In die na-oorlogse jare was Switserland die een land in Europa wat geld gehad het en die Pfauen-teater in Zürich was die middelpunt van die Europese toneellewe. Al die groot akteurs van daardie tyd het daar gespeel in die dramas van Wedekind, Ibsen, Strindberg, Hauptmann, Shaw. Toe ek terugkeer na Stellenbosch – dit was in die jare twintig en dertig – het die Universiteit van Stellenbosch nog geen drama-departement gehad nie. Nou ja, toe het ek maar self ’n klompie dramas in Afrikaans vertaal.

"Ek beskou Ibsen as een van die groot leermeesters van die moderne mens. Dis hy wat gesê het: 'Die lewe is ’n stryd met trolle – bose magte – in die gewelf van ons brein en ons hart, maar om te dig, is om in oordeel te sit oor jouself'."

Verskeie klassieke dramas is aan die Universiteit van Stellenbosch onder dr Con de Villiers se regie opgevoer – voordat daar nog sprake van ’n dramadepartement aan die Universiteit was. Hy het meeste van die tyd sy eie vertalings van oorsese dramas gebruik. Só het hy baie talent, onder andere Anna Neethling-Pohl, onder die studente raakgesien.

Een van dr Con se groot liefdes was musiek. Hy het deur die jare heelwat lesings oor musiekwaardering gelewer en hierdie bydraes van hom was die impetus agter geslagte musiekbewuste studente. Deur sy artikels vir koerante soos Die Burger en tydskrifte soos Huisgenoot het hy musiek in die algemeen en sang in die besonder bevorder. Hy het saam met Gladys Hugo en Joan van Niekerk konserttoere na die uithoeke van die Bolandse platteland onderneem en in 1945 was hy een van die stigters van die Stellenbosse Sangfees.

Sy plateversameling is beskou as een van die mees uitgebreide versameling ter wêreld. Hy was verantwoordelik vir die vertaling van liedere uit Tsjeggies, Italiaans, Duits en Frans en van hierdie vertalings is in die FAK Volksangbundel opgeneem. Sy vertalings van liedere was egter nie net beperk tot volksmusiek nie, aangesien hy ook verantwoordelik was vir die vertaling van enkele opera-kore in Afrikaans en met sy vertaling van Die skepping van Haydn, Messias van Händel, Bach se Mattheuspassie, asook sy verwerkinge van gesange 142 en 201 het hy ’n belangrike bydrae tot ons kerkmusiek gelewer. Hy het ook ’n deeglike studie van die geskiedenis en waarde van kerkmusiek gedoen en was waarskynlik die eerste persoon in Afrikaans wat hom op dié gebied begewe het.

Vir opvoering deur die destydse Transvaalse en Kaapse Rade van Uitvoerende Kunste vertaal hy Bellini se opera Norma en Donizetti se opera Rita in Afrikaans. Met sy vertaling van die komponis Adolphe Adam se Kerslied, Met middernag keer feestelik weer die stonde, lewer hy ’n belangrike bydrae tot die skatkis van Afrikaanse Kersliedere.

Sy boek met anekdotes oor musiek en musici, getiteld Musici en mense, het in 1958 verskyn. In Die Noordwester van 5 Desember 1958 het J de Beer as volg geskryf: "Hierdie is ’n andersoortige bundel vertellings as sy ander werke. Dit is ’n bundel sketse oor musiekmeesters soos ons nog nie in Afrikaans gehad het nie. Dit wemel van anekdotiese genot, heerlike alledaagse Afrikaans en humor net so fyn as die stembuigings van ’n liriese sanger. Om hierdie sketse te lees wat deur so ’n fyn musiekkenner en -liefhebber geskrywe is, is om elke musiekaand saam met hom te geniet en die genot wat hy gesmaak het, jou eie te maak. Dr Con leef so intens in sy herinneringe mee dat sy vertellinge plek-plek byna sprokiesagtig klink."

In Die Burger van 25 November 1958 het RN (Rosa Nepgen) nie so baie komplimente uitgedeel nie: "Los geselsies of anekdotes as 'ouderdomsverskynsel', soos dr Con de Villiers dit noem in sy inleiding tot Musici en mense, kan inderdaad uiters interessant wees. In sy eerste boekie, Snel dan jare, was dit selfs buitengewoon geslaagd en byna sonder uitsondering het alle lesers dit enduit geniet. Hierdie nuwe boekie het my laat dink aan ’n liewe ou dame, self sangeres, wat altyd met die grootste beslistheid gesê het: 'I don't like musical men!' ’n Musikus verstaan presies wat sy met dié oënskynlike onredelikheid bedoel het. In dr Con se sketse vind ’n mens talle voorbeelde van dieselfde soort redenasie, maar ongelukkig sal die musikus in heelwat van dié gevalle voel dat daar weinig méér as onredelikheid in die beweringe steek. By al die grappigheid en anekdotes verraai die musikale amateur van tyd tot tyd sy tegnies-musikale misvattinge, soos byvoorbeeld op bladsy 29 die opmerking oor die Waldstein-sonate, sy afkeur van variasies, Beethoven, Chopin, die ballet en oratorium!"

Dr Con was ’n Afrikaner, maar die bewustheid van sy Afrikanerskap was nie altyd aanwesig nie. Hulle wat agter die berge van die Hottentots-Holland gebly het, was basies onbewus van die roeringe in die res van die land. So ook was hulle nie eintlik geraak deur die stigting van die Unie in 1910 nie. Dieselfde ook met die erkenning van Hollands as amptelike taal. "Hollands was vir ons ’n nog vreemder taal as Engels," het hy aan Audrey Blignault gesê. "In my skooljare en selfs in die begin van my universiteitsjare het ek my tuisbriewe nog in Engels geskryf.

"Bewuswording van my Afrikaanswees het in Pretoria gebeur. Toe ek in 1915 soontoe is, het ek kennis gemaak met die ou Republikeinse families van Transvaal: die Eloffs, ou ta’ Hannie Joubert, Piet Joubert se vrou, die Van der Byls, oom Tielman Viljee. En daar het ek met ’n duiselige vaart tot die ontwaking gekom van wat ek was: ’n Afrikaner."

Nadat dr Con in Desember 1959 afgetree het, het hy feitlik al sy aandag gewy aan sy navorsing op genealogiese gebied. Sy ma was ’n nooi Swart en in 1977 is Die geslagsregister van die familie Swart deur die RGN gepubliseer. Ná sy dood, in 1997, is sy navorsing oor die De Villiers-familie in Suid-Afrika gepubliseer. Familie De Villiers Family in South Africa. Vol 1 & 2 is begin deur dr Con saam met Christoffel C de Villiers en is voltooi deur Juna Malherbe en Alet Malan. Hy het etlike artikels oor families in die Overberg en Hugenotefamilies vir tydskrifte soos Familia en die Hugenote Bulletin geskryf. In 1964 was hy een van die stigterslede van die Genealogiese Genootskap in Johannesburg.

Eerbewyse vir dr Con het nie agterweë gebly nie. Die mospaddatjie (Arthroleptella villiersi) wat in bergfynbos voorkom, word in 1935 na hom vernoem ter erkenning van sy belangrike bydrae tot die studie van Suid-Afrikaanse paddas. Die Suid-Afrikaanse Vereniging vir die Bevordering van Wetenskap vereer hom in 1937 met hulle hoogste toekenning, naamlik die South African Medal, en hy word ook voorsitter van hierdie genootskap. In 1939 ken die Koninklijke Vlaamse Akademie voor Wetenschappen, Letteren en Schone Kunsten in België lidmaatskap aan hom toe, terwyl die Akademie van Ferrara in Italië hom in 1947 met erelidmaatskap vereer. In 1948 vereer die Suid-Afrikaans Akademie vir Wetenskap en Kuns sy werk op wetenskaplike gebied met die toekenning van die Havenga-prys. Die Universiteit van Stellenbosch ken in 1967 ’n eredoktorsgraad aan hom toe en in 1969 word hy ’n erelid van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns. Die Rapportryerskorps van Caledon vereer hom in 1967 op sy geboortedorp met ’n toekenning en huldigingsaand. In 1981 vernoem die Universiteit van Stellenbosch ’n groot lesingsaal in die JC Smuts-gebou vir Biologiese Wetenskappe na hom. (Wikipedia)

In 1974 met sy tagtigste verjaardag het Audrey Blignault wat van vaders- en moederskant van dr Con familie was, ’n onderhoud met hom gevoer (Volksblad-bylae, 14 Desember 1974). Sy wou weet wat van die mense wat sê "die lewe is absurd, die lewe het g’n sin nie". Hierop was dr Con se onomwonde antwoord: "Pure houdings. Soos ons in die Overberg sê: Houdings van ta’ Leedja en die Engelse naam is Treesja. Die mens wil nie doodgaan nie. En daar is mos lekker dinge in die lewe. Baie lekker dinge.

"Soos afval, Haai, afval is darem lekker, hoor! O, daai harsings toegebind in blaarpensie. En die nesderm op die rooster gebraai! En wat dan van oom-en-tante, ons lekkerste Overbergse sop. Gemaak van gebreekte mielie en rooi Engelse boontjies en ’n geurige sout varkvelletjie. Kos, boerekos is van die lewe se lekkerste lekker.

"Wat nog, vra jy? O, ek hou van wind! Wind teen my gesig. Wind in die bome. Wind wat lewe en beweging oor die aarde bring. Maar nie die sedoos nie. Noordewind is my wind. En blomme, natuurlik blomme. Maar ek het in my testament gesê daar moenie blomme op my begrafnis wees nie. Ek is te lief vir blomme om hulle só te vermors. Wat peuter ’n mens nou met blomme by ou dooie beendere!

"En dan natuurlik mense. Ek het nog altyd groot plesier aan mense gehad. Nie alle mense nie. Ek het ook my blinde kolle. En ek hou nie van drelle nie. Ek kry swaar met ’n opgetakelde tante. Maar ek weet nie van ’n vyand nie. Die Bybel en gesangboek praat altyd van jou vyand. Maar ek weet nie waar daai vyand is nie."

Oor sy voorliefde vir musiek en sang het hy aan Audrey Blignault vertel: "Wáár ek aan die driftige belangstelling vir die musiek gekom het? Maar altyd gehad. Ons gesin was musikaal en het graag gesing. Ons het ’n klavier in die voorhuis gehad. Met ’n wonderlike roselamp en twee kerse. Tietie speel en ons staan om die klavier en sing.

"'Plaaskonsert' in Overbergse eergister, dink ek. Sus Sannie brom-brom so onderlangs in diatonies, woordlose tertse, maar sy brom mooi. En Kassin Jônnie met sy mooi basstem wat so uitblink in die koor van 'Het is wel met mijn ziel'. En sus Sannie wat die laaste treknoot lánk laat naklink."

Dr Con het meer oor sy ontmoeting met pous Pius XI vertel in sy skets "Om my skaamte te bedek". Hy het ook vir Audrey Blignault genoem dat ’n goeie Italiaanse vriendin van hom, mev Fiorentini, die pous se niggie was en dat dit deur haar toedoen was dat dr Con na die Vatikaan ontbied is.

Die afspraak was vir die Woensdagmiddag drie-uur in die Vatikaanpaleis. Hy moes ’n aandpak aanhê, maar sy boordjie en das moes bedek wees met ’n wit doek "uit respek vir Sy Heiligheid".

"By gebrek aan ’n gepaste wit doek, pluk ek ’n stoelkleedjie van een van die signorina se salonstoele af, drapeer dit om my nek en glip in die wagtende taxi. Uiteindelike bevind ek my in die heiligheid der heilighede van die Padro Santo. Hy vra my watter taal hy moet praat – hy self was verskeie kere as kardinaal ’n pouslike nuntius in verskeie lande en kan nege tale praat. Dit sê hy nie, maar ek weet dit.

"Ek antwoord dat my Italiaans gangbaar is, en Sy Heiligheid begin die onderhoud. Ons gesels, na aanleiding van my van, oor die lotgevalle van die Hugenote. Die onderhoud van vier minute word verleng tot twintig minute. Maar dit is soms nietige dingetjies wat ’n mens die beste onthou, en Sy Heiligheid pous Pius die Elfde, soos hy daar in sy priestersgewaad gesit het, was die ewebeeld van my stiefmoeder waar sy aan haar nimmereindigende borduurlappie sit en werk het."

Vanaf Januarie 1981 is ’n TV-reeks van ses episodes, getiteld Dr Con se Overberge, uitgesaai. Die reeks het onder regie van Manie van Rensburg gestaan en is by Baardskeerdersbos in die Suid-Kaap verfilm. Die stories het afgespeel vanaf 1900 tot 1925 en die karakters wat dr Con onsterflik gemaak het, verskyn in die reeks. Akteurs soos Jannie Gildenhuys, Johan van Jaarsveld, Limpie Basson, Marga van Rooy, Ernst Eloff, Wilma Stockenström en Annelize van der Ryst het in die reeks verskyn.

Dr Con het tot 1977 in sy woonstel in Soete Inval in Victoriastraat op Stellenbosch gewoon. Daarna is hy na Langverwag, woonstelle vir bejaardes. Cornelia de Kock skryf dat hy ’n groot vrees gehad het om alleen dood te gaan. "Teen die einde van sy lewe het hy vrede gemaak met die dood en opgemerk: 'Die ouderdom speek jou gaandeweg van die lewe'."

Dr Con de Villiers is op Saterdag, 25 November 1978, op 84-jarige ouderdom aan ’n hartaanval dood aan huis van sy broerskind, Michiel de Villiers, op Ceres in die Boland. Sy gesondheid het in die tydperk voor sy afsterwe vinnig begin verswak en hy was in ’n rolstoel.

Die begrafnis was op 28 November vanuit die NG Moederkerk op Stellenbosch. Hy het in sy testament pertinent gevra dat alle verrigtinge by sy begrafnis uiters eenvoudig moes wees. Dr WJB Serfontein het die ter aarde-bestelling waargeneem. In ooreenstemming met dr Con se wens dat geen blomme na sy begrafnis gestuur moes word nie, was daar slegs ’n paar tipiese veldblomme uit die Overberg op sy kis.

Huldeblyke:

  • Frits Stegmann: "Met die afsterwe van dr Con de Villiers het nie alleen Stellenbosch nie, maar die hele Suid-Afrikaanse gemeenskap ’n besondere mens verloor. Soos Audrey Blignault tereg in 1969 by geleentheid van sy ere-lidmaatskap van die SA Akademie getuig het: 'Prof de Villiers het op ’n breër terrein meer bydraes van blywende waarde gelewer as enige ander Afrikaner van sy geslag.' (...) Dr Con het beroemde mense as persoonlike vriende gehad: mev generaal Piet Joubert, mev president Steyn, generaal Louis Botha, generaal Jan Smuts wat hom 'Tiny' genoem het, dr DF Malan, pous Pius XI, Mussolini, Willem Hendrik van Loon, sangmeester Pescia en selfs die akteur Boris Karloff. Tog was ware eenvoud vir hom die sleutel van alles, en dit is treffend dat sy begrafnis in ooreenstemming met hierdie wens van eenvoud plaasgevind het. Almal wat dr Con geken het, sal hom ewig dankbaar bly vir sy wysheid, vriendskap en innige menslikheid. Hy is ’n onmisbare groot gees." (Beeld, 4 Desember 1978)
  • Die Burger hoofartikel, 27 November 1978: "Die invloed wat die merkwaardige dr Con – soos almal hom geken het – op Stellenbosch onder ’n groot aantal studente gehad het, en op vele terreine dwarsdeur Suid-Afrika, kan nie maklik oorskat word nie. Hy was nie net leermeester en vertroueling vir baie nie; hy was met sy lewensvreugde ’n besieling vir vele. Sy heengaan sal deur duisende oud-studente van Stellenbosch betreur word, want hy was langer as dertig jaar een van die bekendste en mees geliefde persoonlikhede aan die Universiteit. Vir elke student wat by hom in die klas was, sal sy lesings – deur spel met humor en aardse sêgoed – onvergeetlik bly. Maar dit was veral buite die lesingsaal dat die studente hom intiem leer ken en aan sy voete gesit het om deur sy fenomenale kennis van musiek en sy diepe insigte in mense en die lewe gevoed te word. As geleerde was hy op sy vakgebied wêreldbekend. As skrywer en vertaler het hy die Afrikaanse literatuur verryk, veral met sy reeks van vertellings oor die mense van sy geliefde Overberg. Maar dit is as ’n besondere mens met sy kenmerkende Caledonse bry wat hy onthou sal word. Ons is dankbaar dat ons hom so lank by ons kon gehad het." (Die Burger, 27 November 1978)
  • Zuid-Afrika, 56(2), April 1979: "Met de heengaan van dr CGS de Villiers is heengegaan een typisch Afrikaner aristocraat en geleerde, wetenschapman en cultuurdrager van formaat – bioloog van professie, schrijver uit aandrift, musicus uit liefhebberij. Bolander naar voorkomst en voorliefde. (...) De brede belangstelling – gepaard met opmerkelijke voorkeuren – van dr Con, zijn talenkennis en bijzondere persoonlijkheid en internationale oriëntering op een fond van typisch Afrikanerschap hebben hem vele vrienden opgeleverd, variërend van Smuts tot Pius XI."
  • Ds TE Lombard: "Dit is onder die beskikkende hand van die Here dat dr Con byna 84 jaar gelede gebore is met sy verbysterende veelheid van talente. As ons aan hom dink, moet ons onthou dit is God wat hom in hierdie heel besondere talente begenadig het. God spreek ook die laaste woord in ’n mens se lewe. Dr Con het gesê dit is wonderlik hoe die Here ’n mens speen van die lewe. (...) Ons moet God loof vir die veelheid van talente wat dr Con in die diens van sy medemens gebruik het, dat ons hom geken het en dat hy lank aan ons geleen was." (Die Burger, 29 November 1978)
  • Johan Smuts: "Dr Con de Villiers was ongetwyfeld een van die grootste intellekte wat ons land opgelewer het, en sy prestasies op verskeie gebiede is voorwaar imponerend. (...) In ’n eeu waarin ons gewoond geraak het aan al hoe groter spesialisasie, tref die buitengewone veelsydigheid van iemand soos dr Con de Villiers jou as heeltemal uitsonderlik. Hier het ’n mens inderdaad te doen met ’n persoon wat jy as die universele mens kan bestempel. Hy was ’n kenner van die genealogie en die musiek in die breë en die sangkuns in die besonder. Sy genuanseerde kennis van etlike buitelandse tale het met die jare byna legendaries geraak, en dit het hom in staat gestel om ’n groot aantal meesterwerke uit die wêreldletterkunde op voortreflike wyse in Afrikaans te vertaal, terwyl hy verder ook ’n mooi bydrae tot ons letterkunde gelewer het met sy reeks Overbergse vertellings. (...) Elke gebied waarop dr Con presteer het, toon ’n nuwe kant van hierdie merkwaardige man se persoonlikheid. En tog was die ware mens CGS de Villiers veel meer as die somtotaal van al hierdie fasette. As ’n mens die voorreg gehad het om hom persoonlik goed te ken, het jy dit gou agtergekom. (...) Dr Con het die vermoë gehad om met almal – oud of jonk, geleerd of minder geleerd, wit of gekleurd – gemaklik om te gaan." (Volksblad, 28 November 1978)
  • Prof Alberto Simonetta van die Universiteite van Florence en Camerino: "I have always felt him to be basically a passionate and generous soul under a sort of forged tough bark, under which he disguised. He really loved the people in his entourage and was somewhat shy to show how much he loved them. His portrait is hanging on the wall and the side of my desk and he is looking down while I write. Damned sort of a man, I love him after so many years that he had died and I feel indebted to him for so many things besides what he taught my comparative anatomy." (Matieland, 1999)

Cornelia de Kock skryf in haar artikel in Matieland van 1999, "Universele genie was nederige Afrikaner", dat dr Con soms eienaardige maniere openbaar het. "Hy kon nie mense met uiteenlopende belangstellings in dieselfde geselskap hanteer nie, want '...dit kan my senuwees nie hou om verdeelde belange te hê in ’n sitkamer nie. Dan het ek myself verskoon.' Hy het sy hoed opgesit voor hy sy voordeur oopgemaak het. Was dit iemand van wie hy gehou het, is die hoed afgehaal en die besoeker ingenooi, so nie is gesê hy's jammer, hy's op pad uit.

"Die volkse was vir hom werklik. Hy het in spoke geglo en gesê hy was bang vir hulle, Dit was ’n soort bygelowigheid, ’n kinderlikheid wat jy nie by hom as intellektueel verwag het nie.

"Vuur het vir hom iets magies ingehou. Hy het graag vuurgemaak. By sy Hermanus-strandhuis het hy ’n mied van droë seebamboes gebou, dit brandgesteek en op sy hurke die vuur gesit en instaar. As hy ’n sigaret aangesteek het, het hy die vuurhoutjie in die asbak laat uitbrand. Op sy oudag het hy snags ’n kers langs sy bed laat brand. (...)

"Hy het geskryf oor die tweede dood wat ’n mens tref, as 'geen sterfling jou meer onthou nie'. Dit was ’n vervorming van ’n Italiaanse wysheid: 'Vir dié wat lewend is, is hulle mos nie dood nie'. Daarom lééf dr Con vandag nog."

Publikasies

Publikasie

Snel dan jare: Overbergse sketse en verhale

Publikasiedatum

1954

ISBN

(hb)

Uitgewer

Kaapstad: Balkema

Literêre vorm

Sketse

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Klein vaderland

Publikasiedatum

  • 1956
  • 1957
  • 1958

ISBN

(hb)

Uitgewer

Kaapstad: Balkema

Literêre vorm

Sketse

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Musici en mense

Publikasiedatum

1958

ISBN

(hb)

Uitgewer

Kaapstad: Nasionale Boekhandel Beperk

Literêre vorm

Musiek

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Donkiespad

Publikasiedatum

1961

ISBN

(hb)

Uitgewer

Johannesburg: Afrikaanse Persboekhandel

Literêre vorm

Sketse

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Overbergse eergister

Publikasiedatum

  • 1961
  • 1965

ISBN

(hb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Sketse

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Medereisigers

Publikasiedatum

1964

ISBN

(hb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Sketse

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Goue fluit, goue fluit

Publikasiedatum

1968

ISBN

(hb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Sketse

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Die nageslag van die stamvader Pierre de Villiers a1, se seun Jean

Publikasiedatum

1973

ISBN

(hb)

Uitgewer

Hugenotevereniging van Suid-Afrika (Bulletin 11)

Literêre vorm

Genealogie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Die sneeu van anderjare: ’n keuse uit die prosa van anderjare. Redakteur: Hennie Aucamp

Publikasiedatum

1976

ISBN

062400905X (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Sketse

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Geslagsregister van die familie Swart in Suid-Afrika

Publikasiedatum

1977

ISBN

(hb)

Uitgewer

Pretoria: RGN

Literêre vorm

Genealogie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Soete inval: nagelate geskrifte van Con de Villiers

Publikasiedatum

1979

ISBN

0624013111 (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Biografies

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Familie De Villiers Family in South Africa. Vol 1 & 2. Christoffel C de Villiers en Con de Villiers / voltooi deur Juna Malherbe en Alet Malan

Publikasiedatum

1997

ISBN

(hb)

Uitgewer

Franschhoek: Hugenote-Vereniging van Suid-Afrika

Literêre vorm

Genealogie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

CGS de Villiers as vertaler:

  • Die kortverhaal in Skandinawië. Pretoria: De Bussy, 1931
  • Deledda, Grazia:
    • Elias Portolu. Kaapstad: Nasionale Boekhandel Beperk, 1950
    • Twee vroue (saam met Lettie Pretorius). 1966
  • Hamsun, Knut:
    • Groeiende aarde. Johannesburg: Afrikaanse Persboekhandel, 1965
    • Viktoria. Kaapstad: Nasionale Boekhandel Beperk, 1962
  • Havrevold, Finn: Maren se uiltjie. Kaapstad: Tafelberg, 1961
  • Ibsen, Henrik: Rosmersholm. 1925
  • Pirandello, Luigi: Die lewe wat ek jou geskenk het. Johannesburg: Dalro, 1969
  • Svinsaas, Ingvald: Tom in die berge. Kaapstad: Tafelberg, 1964

Artikels oor CGS de Villiers beskikbaar op die internet:

Artikels deur CGS de Villiers beskikbaar op die internet:

Bronne:

  • De Kock, Cornelia. 1992. Con de Villiers, boorling van die Overberg. Die Kultuurhistorikus: 7(2), Oktober 1992
  • De Kock, Cornelia. 1999. Universele genie was nederige Afrikaner. Matieland
  • Wikipedia 

CGS de Villiers se ATKV|LitNet-Skrywersalbum is oorspronklik op 2011-08-26 gepubliseer en is nou volledig bygewerk.

Bron:

  • Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.

Die opsteller vra om verskoning dat van die skakels nie tans kan oopmaak nie, maar Media24 se koerantargief is op die oomblik nie toeganklik nie. 

 

• Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.

The post CGS de Villiers (1894–1978) appeared first on LitNet.

Motte en die kuns van transformasie

$
0
0

Lara Aucamp en CTL Creative Connections bied op 30 Julie ’n kursus aan getitel “Moths and the art of transformation”. Kaartjies is beskikbaar by Quicket.

Izak de Vries het haar ’n paar vrae gestuur.

Jy beweer motte is meesters van transformasie. Hoekom motte? Jellievisse en seekatte transformeer ook?

Om eerlik te wees, het ek motte gekies omdat hulle redelik maklik is om te teken. Motte is pragtig en kompleks. Maar die basiese vorme wat nodig is om hulle te illustreer is iets wat enigiemand kan bemeester.

En ek dink die feit dat hulle transformeer, toepaslik is, want dit is iets waarmee baie mense in die LGBTIQ+-gemeenskap kan identifiseer.

Hoe ons onsself sien, en hoe ons onsself vir die wêreld wys, is iets wat oor tyd verander. Baie mense spandeer tyd in die kas (amper soos ’n kokon) voor hulle reg is om hulle volle self vir die wêreld te wys. 

Jy sê julle gaan kreatiewe spel gebruik om te konnekteer. Wat bedoel jy daarmee?

Hierdie is nie een van daardie klasse waar jy stap vir stap saam verf en waar almal met dieselfde kunswerk eindig nie. Dis ’n werkswinkel waar die belangrikste doel is om mekaar te leer ken en om ’n betekenisvolle konneksie te maak. Die kuns is ’n bonus, en nie iets wat te ernstig opgeneem moet word nie. Ons gaan saam met verskillende idees, ook kunsmateriale, speel, saam ontdek, en saam skep.

Jy sê die kursus is vir almal. Beteken dit dat iemand soos ek, met tien linkerduime, ook sou kon probeer?

Absoluut. Kuns is vir almal. Om kreatief te skep is nie net vir kunstenaars nie, maar iets wat ’n mooi belewenis vir almal is. 

Selfs al dink iemand dat hulle nie kan kuns maak nie, sal hierdie werkswinkel genoeg leiding bied om hulle te help om ’n pragtige mot te skep.

Julle bemark dit as gesinsvriendelik en vriendelik vir diegene wat as LGBTIQA+ identifiseer, maar julle sê ook enige een kan deel neem, nie waar nie?

Dit word gereël deur Cape Town Lesbians. Ons byeenkomste fokus op vrouens wat vir vrouens lief is, maar is oop vir almal. Geslag en oriëntasie is ’n spektrum en ons wil ’n  inklusiewe gemeenskap bou. Mense wil soms vriende of familielede wat ons gemeenskap ondersteun, saambring, en ons moedig dit aan. Almal wat ons gemeenskap ondersteun, is welkom.

The post Motte en die kuns van transformasie appeared first on LitNet.

Jakes Gerwel: die wording van ’n legende

$
0
0

Gerwel se inhuldiging as rektor (Foto: Adam Small, Jakes Gerwel en Fanie Sonn - foto-erkenning: Rashid Lombard/Jakes Gerwel Stigting)

“In honour of a legend,” lui die uitnodiging na ’n besonderse geleentheid wat in die komende week by die Universiteit van Wes-Kaapland gehou word. Hiertydens sal die universiteit se Hoofsaal hernoem word na ’n eertydse visekanselier en rektor, prof Jakes Gerwel, wat ’n mens onwillekeurig laat wonder hoe “Prof” op dié eerbewys sou gereageer het.

Welbekend aan almal wat ooit met hom te doen gehad het – in enige van die vele belangrike samelewingsrolle wat hy vertolk het – is nou eenmaal sy afkeer van lofuitinge, ’n karaktereienskap wat hy deel met wyle Madiba, met wie hy ten nouste saamgewerk het voordat eers hy (in November 2012) en toe Madiba (’n jaar later, in Desember 2013) gesterf het.

.........
Welbekend aan almal wat ooit met hom te doen gehad het – in enige van die vele belangrike samelewingsrolle wat hy vertolk het – is nou eenmaal sy afkeer van lofuitinge, ’n karaktereienskap wat hy deel met wyle Madiba, met wie hy ten nouste saamgewerk het voordat eers hy (in November 2012) en toe Madiba (’n jaar later, in Desember 2013) gesterf het.
...........

Die grappie is al dikwels vertel dat toe daar sprake was daarvan dat ’n straat in Somerset-Oos Gerwel se naam sou dra, hy met sy kenmerkende droë humorsin sou opmerk dat hy dit tog nie in sy leeftyd wil sien gebeur nie, want wat sou gebeur as hy dalk op ’n dag in daai einste straat betrap word dat hy onder die invloed van Bacchus bestuur het? Nou heet ’n belangrike straat in die Skiereiland, eens bekend as Vanguard-rylaan, wel sedert Januarie 2015 Jakes Gerwel-rylaan.

Ander wyses waarop sy nalatenskap lewend gehou word, sluit in die Jakes Gerwel Stigting, wat veral op die gebied van kreatiewe skryfkuns ’n belangrike rol speel deur onder meer skrywersresidensies by die Gerwels se historiese Somerset-Oos-woning Paulet Huis. Die stigting is ook ten nouste betrokke by die Suidoosterfees, waarvan Gerwel vanaf die ontstaan in 2003 die direksievoorsitter was; en op Montagu is ’n plaaslike tegniese skool na hom vernoem.

Nou, tien jaar ná sy dood, sal sy naam gekoppel word aan een van die belangrikste geboue op die UWK-kampus, hier waar hy in die laat sestigs sy eerste graad verwerf het, later dosent in Afrikaans-Nederlands geword het en uiteindelik as rektor in 1994 uitgetree het om Madiba se kantoorhoof en sekretaris van die kabinet te word. Hierdie jaar sal dit ook 35 jaar wees sedert hy in 1987 die sesde rektor by UWK geword het, opvolger van die eerste bruin (of swart) bekleër van dié pos, wyle Richard van der Ross.

In my studeerkamer hang ’n foto, deur die gevierde fotojoernalis Rashid Lombard geneem, van Gerwel wat sy intreerede lewer; langs hom sit Fanie Sonn en die digter-filosoof Adam Small, wat eers Gerwel se dosent was, later ’n kollega en naderhand ook ’n getroue vriend, oftewel, soos Gerwel dit self op ’n keer gestel het, ’n “gedurige gespreksgenoot in en oor Afrikaans”.

Gerwel se intreerede word met rede as ’n belangrike keerpunt in die geskiedenis of ontwikkeling van UWK beskou. Dit is ’n stuk geskiedenis wat in 1960 ’n aanvang geneem het toe die instelling (in ooreenstemming met die apartheidsbeleid van aparte ontwikkeling) as ’n universiteitskollege vir “Kleurlinge” gestig is. “The first buildings were structures of discipline and containment, the straight lines, grey concrete and face-brick walls of an architectural modernism adapted to the service of apartheid,” skryf Julia Martin in Becoming UWC – reflections, pathways and unmaking apartheid’s legacy ter viering van die universiteit se 50ste bestaansjaar in 2010.

In 1970 is UWK as ’n volwaardige universiteit verklaar en kon dit sy eie grade en diplomas toeken. Maar dit was ook die jaar toe studente in opstand teen die “institusionele verdrukking” gekom het: manstudente het hul dasse verbrand, ’n stap wat ’n ander historiese oomblik voorafgegaan het, naamlik die aanstelling van Van der Ross as rektor in 1975. Waar Van der Ross erkenning verdien daarvoor dat hy onder meer verseker het dat die universiteit se vergoedingstruktuur vir dosente nie langer diskrimineer op grond van ras nie, word Gerwel se eie “radikale” beweging wég van die “apartheidsbedoeling” met die UWK meer dikwels vermeld. Dit was weliswaar gedurende Van der Ross se termyn dat “die politiek-ideologiese gronde waarop [UWK] tot stand gebring is” in 1982 formeel verwerp is, maar die groter toekomssprong het in 1987 plaasgevind toe Gerwel die universiteit as “die intellektuele tuiste van die Linkses” verklaar het.

“Whatever else this metaphor of place came to evoke, the reconstruction of UWC’s social and intellectual identity took place amid a great deal of building,” skryf Julia Martin verder. Waarna sy verwys, is ’n aantal “ambisieuse projekte” van die laat ’80s, waaronder die voltooiing van die universiteitsentrum, die opknapping en uitbreiding van die Hoofsaalkompleks en die vervanging van die ou beknopte, oorspronklike biblioteek. “Together, the new buildings created a bold and eclectic environment (some said too opulent for a Third World campus, while others disagreed) that combined a postmodern variety of architectural elements with lots of glass, and space in which to walk and sit.”

Dit is die einste Hoofsaal wat van komende Donderdag af Gerwel se naam sal dra, ’n allerhoogste erkenning van die kritieke, opbouende en toekomsgerigte rol wat hy oor nagenoeg drie dekades op die kampus gespeel het. Wie sou kon gedink het dat dit hom bestem was toe hy as ’n eerstejaarstudent daar aangekom het, ’n 17-jarige plaasseun van ’n plek met die vreemde naam Kommadagga, waarvan weinig tevore gehoor is?

Sowat 40 jaar later, toe hy sy 60ste verjaardag vier, het verskeie vriende, kollegas en kennisse uit die akademie, politiek en sakewêreld hom beskryf soos hulle hom leer ken het, maar die goue skakel wat deur hul huldeblyke geloop het, was sy nederigheid, kalmte, eenvoud, diplomasie en skerp waarnemingsvermoë. “Easily amused he is not, rarely frivolous,” seg ’n oud-UWK-kollega, Wilmot James. “Soos die skilpaaie op sy werf (...), altyd iewers in ’n hoek, dalk in bepeinsing oor die belangriker dinge, is hy ook ’n rustige, beredeneerde mens,” beskryf nóg ’n oudkollega, Jimmy Ellis, hom, en voeg daarby: nooit oorhaastig of weerbarstig nie, maar staan hy in die teken van “tydsame, tydlose, tydryke wysheid”. ’n “Ontwikkelde mens,” aldus Ton Vosloo, wat Gerwel oorreed het om een van sy eerste en vernaamste sakedireksierolle in Naspers aan te neem. Maar oorhoofs word hy onthou bepaald vir wat FW de Klerk hier uitspel: “Jakes has consistently played a constructive role in the engine room of the democratic transformation of our society.”

Uitblinker-voorgraadse student

En al het sy eertydse dosent, kollega en toe vriend Adam Small hom dit in sy gedig “Vredesgebed vir Jakes” verkwalik dat hy hom in die partypolitiek en korporatiewe wêreld begewe het, het Gerwel tog ook deurentyd in rubrieke, onderhoude en toesprake ’n gewetenstem gebly oor die dinge wat in die “demokratiese transformasie” verkeerd geloop het.

............
So seker soos wat ’n mens weet hy sou verleë gelag het oor die beplande hernoeming van UWK se Hoofsaal na hom, so seker kan ’n mens derhalwe ook wees dat hy – indien dit hom beskore sou gewees het om die aanwesiges by die geleentheid toe te spreek – ernstige vrae sou gestel het oor die kronkelpad van leierskap waarop ons samelewing ons tans bevind.
...........

So seker soos wat ’n mens weet hy sou verleë gelag het oor die beplande hernoeming van UWK se Hoofsaal na hom, so seker kan ’n mens derhalwe ook wees dat hy – indien dit hom beskore sou gewees het om die aanwesiges by die geleentheid toe te spreek – ernstige vrae sou gestel het oor die kronkelpad van leierskap waarop ons samelewing ons tans bevind. Dit vereis straks dat die eertydse “intellektuele tuiste van die Linkses”  vir homself ’n nuwe koersveranderende intellektuele rol moet identifiseer – ter ere van die man na wie hulle nou as ’n legende verwys, Gert Johannes Gerwel (18 Januarie 1946 – 28 November 2012).

Lees ook:

Die jaar 1983 – drie boeke, drie denkers in ’n drempeltyd

Twitter gons oor Gerwel se dood

Jakes Gerwel "’n uitstaande rolmodel"

Jakes Gerwel: 18 Januarie 1946 – 28 November 2012

In Memoriam: Ampie Coetzee onthou Jakes Gerwel

In Memoriam: Jakes Gerwel

Die lag van die lumpen-proletariaat as idioom van hibriditeit: hulde aan Adam Small

Jakes Gerwel se soet nalatenskap vir Afrikaans

 

 

 

The post Jakes Gerwel: die wording van ’n legende appeared first on LitNet.

Smaak my ôs is in ’n abusive relationship, uncle Cyril

$
0
0

Foto: https://pixabay.com/photos/ground-gray-dirt-drought-arid-1836537/

Mornings, uncle Cyril

In elke mens se liewe kô daa sieke maa ’n dag lat jy realise jou hero het voete van klei.

Ek hettie gedink daai dag sal vi ôs twie aanbriek ie, maa smaak my dis nou sukke tyd. Ek sal eerlik wies, my hart is al swaar van daai tyd mettie pond innie sofa, maa ek het it try ignore. Maa uncle, toe kô stage 6 loadshedding. Op sy eie kan daai sieke oek nog gegan he, maa toe change hulle die loadshedding soe baie kere oppe dag lat ek naderhand soe deumekaa soes ’n trapsuutjie oppe Smartie boks is. Meantime slat ôs lectric somme enage tyd vi vyf ure oppe kee af. Nou, ôs nasie kan nogals baie hardship vat en vinnag adept, but vi my hettie briekpoint gekô oe ek innie koerant lies djulle government het honnerd lectric treine gekry. Ek sal heel eerlik wies, uncle. ’n Matroos sal skaam geraak het virrie tale wat ek gebruik het daai moment.

.............
Meantime slat ôs lectric somme enage tyd vi vyf ure oppe kee af. Nou, ôs nasie kan nogals baie hardship vat en vinnag adept, but vi my hettie briekpoint gekô oe ek innie koerant lies djulle government het honnerd lectric treine gekry. Ek sal heel eerlik wies, uncle. ’n Matroos sal skaam geraak het virrie tale wat ek gebruik het daai moment.
...........

Ees het it gevoel my longe kry nie genoeg asem in nie. Toe beginne my vision fade en it suis soe in my ore. En toe, uncle, toe ek daa regkom ... Haai uncle, ek kry skoons skaam vi myself. Wan sien, uncle, toe kom it tot my. Is mos gaslighting waamee djulle biesag is. Gaslighting is mos wanne een ou ’n anne ou oopoë virrie pop vat. Djulle vat ôs hele land virrie pop. Djulle kan ie ees ôs ligte aannie brand hou nie, nou expect djulle ôs moet djulle trust met travel. Jan Tuisbly se lectric train, daais al wat ôs sal ry.

............
Gaslighting is mos wanne een ou ’n anne ou oopoë virrie pop vat. Djulle vat ôs hele land virrie pop. Djulle kan ie ees ôs ligte aannie brand hou nie, nou expect djulle ôs moet djulle trust met travel. Jan Tuisbly se lectric train, daais al wat ôs sal ry.
.............

Wat is djulle problem anyways met ie treine? Wil djulle nie cheap, reliable transport vi ôs gie nie? Is daa ’n secret manual wat sê djulle mag net treine koep wat useless is? Of ie goet passie oppie rail ie, of djulle soek power sources wattie daa issie. Mens kan ampe beginne wonne of iemand ie shares innie taxis hettie. Of in scrap yards, wan dis oppie ou end al waavoo daai treine goed is, virrie scrapheap.

Dan gaslight jy ôs nog mee deu kammalike oppe toer van Eskom facilities te gan, soe asof djy wiet wat da angan. Soelat ôs kan sien hoe biesag djy is ommie problem te solve. Meantime is djy en Oempie Gwede gloe klaa biesag met ’n plan om ’n twiede Eskom type oppie bien te bring. Insanity uncle, is mos doing the same thing over and over expecting a different result. Wat ôs nou norag het issie mee parastatals en mee organisations en mee snoete innie trog nie. Wat ôs norag het is ommie plan wat klaa daa is, te maak wêk. En vinnag.

Wat ôs oek norag het is ’n leier wat ôssie ghost ie. Wanne laas het ôs family meeting gehet, uncle? Ek wiet djy kannie nou nie, wan helfte van ôs hettie lectric as it tyd kom virrie meeting ie. Maa djy sal moet plan maak en met ôs praat, ôs lat wiet wat ie short term plan is. Daa is mos ’n short term plan, nuh uncle? Nuh, uncle? Uncle? Companies gan nou bankrot, uncle. Mense veloo hulle wêk, nou.Mense verkluim nou vannie koue.Mense ly nou honge. Nou, nie annewiek of annemaand ie. Nou. Soe wa issie plan nou?

...........
Wat ôs oek norag het is ’n leier wat ôssie ghost ie. Wanne laas het ôs family meeting gehet, uncle? Ek wiet djy kannie nou nie, wan helfte van ôs hettie lectric as it tyd kom virrie meeting ie. Maa djy sal moet plan maak en met ôs praat, ôs lat wiet wat ie short term plan is. Daa is mos ’n short term plan, nuh uncle? Nuh, uncle? Uncle?
...........

Is mos net inne abusive relationship wat daa gegaslight en geghost wôd, uncle. En die ene wa geabuse wôd mag ie praat ie, offie hel is los. Smaak my dan nou ôs is inne abusive relationship, uncle. Maybe moet ôs beginne dink an divorce, lat ôs maa ieman anneste kry vir ôs land.

En as uncle dit ie wil hê nie, moet uncle ôs beginne consider.

Kô ek gie vi uncle ’n plan. Maak it maklik vi mense om hulle eie plan te maak. As hulle solar panels wil opsit, lat hulle. Maak it cheap, soes wat djulle gemaak het met goete innie pandemic. Moenie hulle try stop met stupid reels ie. Gie mense incentives om gas te gebruik. Subsidise generators en inverters en goete. Maak it cheap vi munisipaliteite om hulle eie krag te loep kry. Speen ôs van Eskom. Gie vi Eskom kompetisie, solat ôs options het, maa nie dai kompetisie wat djy en Gwede beplan ie. Is soes om te sê Coke moet met Coke compete. Daas ie incentive om bietere te doen ie, wan daa issie danger lat hulle biesagheid gan veloo ie. Maak ie competition private sector, en moenie lat comrades participate ie.

En nog ’n plan, uncle, lat loadshedding oek kom in allie ministers se huise. Gie hulle net een aand sonne krag en wate, dan sal djy ’n sense of urgency sien om solutions te kô kry.

Ek hoep uncle va ôs ie wee virre pop ie.

Bye for now, my uncle!

Lees ook:

Die energiekrisis na 11 jaar herbesoek

The post Smaak my ôs is in ’n abusive relationship, uncle Cyril appeared first on LitNet.


Trauma en verlies in Kamphoer deur Francois Smith

$
0
0

Agtergrondfoto deur Michal Jarmoluk | Pixabay

Titel: Kamphoer
Skrywer: Francois Smith
Uitgewer: NB-Uitgewers
ISBN: 9780624065517

Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer daarvan aan LitNet gestuur.

...
Die karakter was dokter WHR Rivers, wat werklik geleef het. Volgens Smith was hy ’n psigiater wat baanbrekerswerk oor bomskok en die behandeling daarvan na die Eerste Wêreldoorlog gedoen het.  Dokter Rivers was dus vir hom die skakel tussen die grot waar Susan “genesing” ondervind het en die uiteindelike hospitaal waar sy self as geneser sou optree.
...
  1. Inleiding

Kamphoer deur Francois Smith vertel die verhaal van Susan Nell, wat tydens die Anglo-Boereoorlog as agtienjarige deur twee Britse offisiere en ’n joiner verkrag is. Dit is hierdie trauma wat haar lewensverhaal omvergooi. Identiteitloos en haweloos beland sy in ’n grot waar sy deur twee Sotho-mense versorg word. Dit is juis hierdie versorging wat vir haar rigting gee. As volwassene eindig sy in Engeland op, waar sy in ’n Britse militêre hospitaal soldate met bomskok help versorg. Haar genesingsproses word tot die uiterste gevoer toe sy een van haar verkragters teëkom.

Trauma en verlies dien as twee hooftemas in hierdie roman. Die verwerking van trauma en veral hoe Susan Nell haar trauma verwerk, kom onder die soeklig. Die psigiatriese elemente wat Smith ingebring het, tesame met terapeutiese instrumente, word ondersoek. Eers moet daar agtergrond rondom trauma en verlies gegee word.

...
Die trauma wat Susan Nell beleef het is veelsydig. Haar verkragting in die Winburgse konsentrasiekamp tydens die Anglo-Boereoorlog deur twee Britse offisiere en ’n joiner word vererger deur die wreedaardige wyse waarop sy vir die dood agtergelaat is.
...
  1. Trauma en verlies

Volgens Esther Giller (1999) verwys trauma na ’n uiterste vlak van stres wat ’n individu se hanteringsvermoë oorweldig. Die term word gekoppel aan ’n unieke ervaring, gebeurtenis of blywende toestand. Dit het vrees, afgryse en ’n gevoel van hulpeloosheid tot gevolg. Traumatiese gebeurtenisse kan ’n enkele gebeurtenis of herhaalde blootstelling oor baie jare behels (Wilder Research 2014). Om hierdie trauma en verlies wat beleef is, te verwerk, word daar gefokus op wat die traumateorie genoem word. Volgens SJ Lubbe (2019:10) verwys traumateorie na ’n integrasie van teoretiese insigte vanuit die mediese, psigoanalitiese, neurologiese en literêre wetenskappe ten einde die individuele, sosiale en kulturele impak van traumatiese gebeure te ondersoek, met spesifieke verwysing na die manier waarop oorlewendes sin maak van die lewe.

Chris van der Merwe (2014) koppel trauma aan die beginsel van ’n verhaal wat verlore gaan en dan herskryf moet word. Volgens hom word die samehang en betekenis wat deur ’n lewensverhaal geskep word, deur trauma of verlies vernietig. Trauma beteken dus die verlies van ’n lewensverhaal. Hy verskaf ook ’n oplossing: In ’n poging om die trauma te verwerk, moet die trauma gekonfronteer word en dan geïntegreer word met die lewensverhaal. Trauma is een van die hooftemas wat in die roman ondersoek word. Die trauma wat Susan Nell beleef het, asook die sogenaamde bomskok van die soldate, kom onder die loep.

2.1 Susan Nell

2.2.1 Aanvanklike trauma

Die trauma wat Susan Nell beleef het is veelvuldig. Haar verkragting in die Winburgse konsentrasiekamp tydens die Anglo-Boereoorlog deur twee Britse offisiere en ’n joiner word vererger deur die wreedaardige wyse waarop sy vir die dood agtergelaat is. Haar doodsertifikaat is op 2 Januarie 1902 onderteken. Saam met die verkragtingstrauma het sy die verlies van haar onskuld asook die sterftes van haar hele gesin en vriende gehad. Sy onthou aanvanklik die trauma “asof sy in die oog van die warrelwind staan – en neergesmyt word tussen ’n werpsel tente op ’n godverlate Vrystaatse vlakte” (9). Die trauma laat haar amper totaal en al identiteitloos en tuisteloos. Sy is op ’n stadium drie mense: Susan Nell, Susan Draper (haar vriendin in die konsentrasiekamp se van) en  Ntauleng (die naam wat hulle Sotho-bediende kleintyd vir haar gegee het). Susan gaan deur die loop van die roman deur ’n proses om haar trauma te verwerk, weer haar identiteit te vind en uiteindelik haar storie te herskryf.

2.1.2 Die traumaproses

Die proses om trauma te verwerk word volgens Aphrodite Matsakis (1996:143) in drie stadiums verdeel. Die eerste stadium is die kognitiewe stadium, waar die trauma onthou word. Die tweede stadium is die emosionele stadium, waar ’n hernude ervaring van gevoelens met die trauma geassosieer word. Tydens die finale stadium, wat die bemagtigingstadium is, vind die verwonde persoon betekenis in sy of haar trauma. 

Aanvanklik wil Susan nie aan die trauma dink nie. Sy probeer dit vermy: “Ek wil nie. Ek moenie meer kyk nie. Ek moet liewer nie dink nie, want as ek dink dan druk my kop my vas, dan druk my gedagtes teen die been. Dis die dink wat dit laat oopkraak en so seer maak” (10). Met die stamp teen ’n soldaat op die skip is dit haar lyf wat onthou en sy herleef die trauma (16). Volgens haar gaan sy altyd terug na daardie toneel wat sy eie agtergrondmusiek, eie beligting en eie woorde het wat onuitwisbaar in haar vasgelê is (42). Nadat Susan op die wa gelaai is waarmee die dooies van die kamp af vervoer word, val sy af. ’n Sotho-kruiedokter, Tiisetso, tel haar op. Hy en ’n Sotho-vrou, Mamello, versorg haar in ’n grot. Dit is daar waar sy probeer om te onthou, maar dit is asof haar brein haar probeer beskerm. Sy sê: “Ek kan nog nie goed onthou hoe ek hier gekom het nie, of wat met my gebeur het nie. My kop word te seer van die dink. Net tot by die kamp onthou ek, net tot daar kan my gedagtes teruggaan. Maar dan bly my onthou daar tussen die tente hang soos stof, daar tussen die gehoes en gekerm en gekla. Dan waai dit weer weg. Soos asem. Weg. Die skaapslag onthou ek ook. Dit is eintlik my hele kop vol, maar ek weet nie of dit in die kamp was nie. Dit is die gedagte wat my die bangste maak. ’n Man se gesig is ook daarby” (50). Haar brein beskerm haar dus wonderbaarlik teen die trauma wat sy beleef het.

Wanneer sy in Engeland by mevrou Simms is, begin sy helder terugflitse kry (70). Die herinneringe laat daar ’n woede in haar opvlam na al die jare se dink daaraan (89). Die verkragting word nêrens in diep besonderhede beskryf nie, maar elke keer wanneer Susan herinneringe daaraan oproep, word die gebeure vir haar en die leser duideliker: “[...] ek word aan my been tussen die tente deurgesleep en by die kampopsigter se tent ingestamp [...] ek weet wat hulle gaan doen en ek voel dit voordat dit rêrig gebeur ...” (143). Uiteindelik besluit sy dat daar net vir haar een manier is om te lewe, en dit is om dit wat met haar gebeur het direk te konfronteer (44).

Dan bereik sy die tweede stadium van die sogenaamde genesingsproses. Daar word ’n hernude ervaring van gevoelens en emosies aan die trauma gekoppel. Sy noem haar reis met die trauma haar “oorlog” wat sy moet deurmaak (12). Aan die begin van haar genesingsreis praat sy van ’n verskriklike bangheid wat die heeltyd by haar is en wat sy aan die trauma koppel (27). Dit is ook in hierdie stadium wat sy kans sien om weer daaraan te dink en te voel (32): “Iets in haar moes egter eers tot bedaring kom voordat sy dit kon regkry om duidelik genoeg te sien” (30). As deel van haar “oorlogsplan” werk sy dan in een van die Britse militêre hospitale (37). Sy moet die genesingsreis aanpak omdat sy meen dat sy gebroke is en dat daar iets groots fout is met haar (51). In ’n poging om na alles weer haar identiteit te vind, noem sy haarself “hoer”, want dit is wat sy in die kamp genoem is. Sy projekteer ook al die gevoelens wat sy beleef op diegene rondom haar. Sy erken dit tydens ’n situasie met mevrou Simms: “Sy het hierdie wantrouigheid van mevrou Simms vir haarself toegeëien, haar hospita se vrees is eintlik haar eie” (84). Op so ’n wyse probeer sy sin maak van haar traumabelewenis. Sy kom ook tot die besef dat die trauma na jare weer kan opduik en dat dit juis nodig is vir die verwerking van trauma (93). Genadiglik probeer sy die trauma ook verwoord deur dit vir tant Marie Koopmans-de Wet te vertel. Die feit dat sy haar trauma verwoord, beteken dat sy dit begin verwerk. Die tante gee dan vir haar baie goeie raad: “Vat jou naam terug. [...] Dit is die enigste manier om weer te begin lewe, om jou naam terug te vat. Dit is ’n begin” (230).

Aanvanklik koppel sy skaamte en skuldgevoel aan die trauma en dink dat God haar straf (94). Dit blyk duidelik uit die feit dat sy haarself “hoer” noem. Dit is al wat sy kan verwoord (64). Sy wonder egter ook of dit werklik goed is om na die gebeure terug te keer (108): “Ek was al hoeveel keer weer daar. Ek het al woorde gekry om daaroor te praat, maar is dit goed, is dit helend om na daardie tent terug te keer? Ek weet nie” (109). ’n Groot deel van hierdie fase se sukses vind plaas wanneer sy na 16 jaar een van haar verkragters, Hamilton-Peake, in die hospitaal teëkom. Dit is ook hier waar sy weer die merk en letsel wat sy op sy oor gelos het, sien (124). Hierdie keer is hy egter in die rol van slagoffer wat aan bomskok ly. Dit is dan wanneer sy besef dat sy die trauma steeds saam met haar gedra het en dat alles nog nie verby is nie (126).

Die laaste stadium, die bemagtigingsfase, word bereik toe sy vir Hamilton-Peake op ’n motorfietsrit neem (180). Sy wil nie hê dat hy ’n helm opsit nie, want hy moet die “vryheid” en “oopheid” voel (181). Sy lag uitgelate as hulle ry, maar haar gesig is eintlik pynlik vertrek asof sy wil huil (181). Hamilton-Peake se gesig is weer op sy beurt vertrek van vrees en afgryse. Hierdie keer is dit Susan wat in beheer is en nie hy nie. Sy wil dat hy voel: “Sy buig af, vat sy yskoue hand en bring dit na haar gesig, druk die vingerpunte teen haar voorkop, skuif dit op teen haar vel en tot onder haar hare in, dit die rif van die litteken kry en wikkel sy vingers saggies daaroor – oor die rugstringetjie wat lieflik geboë daar lê, werwel vir werwel, senuwee vir senuwee” (183).

Kort daarna sterf hy. Die motorfietsrit het sy dood veroorsaak, maar in ’n ander opsig het dit Susan se lewe veroorsaak. Aan die einde van die roman en van haar verhaal kom sy tot ’n gevolgtrekking: “Dit is eintlik deel van een lang verhaal, dit weet sy al lankal. Jy kan dit nie in drie verskillende oorloë opdeel nie, want dit is haar verhaal. Dit is my storie. Daarin is ek tuis” (243). Sy is uiteindelik die skepper van die verhaal waarin sy besluit wat met Hamilton-Peake gebeur. Dit sluit dus aan by Van der Merwe (2014) se stellings oor trauma in terme van ’n verhaal. Susan het haar verhaal herskryf. Hierdie keer het die trauma nie die verhaal verwoes nie, maar dit vorm eerder deel van haar oorwinningsverhaal.

2.1.3 Verlies

Saam met die trauma van die verkragting wat Susan ervaar het, was daar ook die gepaardgaande verlies. Eerstens het sy haar jongmeisie-onskuld verloor. Sy het “nog nie die woorde” vir verkragting geleer toe dit destyds met haar gebeur het nie (143). Tweedens het sy haar identiteit verloor die oomblik toe sy dood verklaar is: “Susan Nell is daar in die kamp dood” (170). Derdens het sy haar tuiste verloor. Die huis waar hulle as bywoners op die plaas gewoon het, is afgebrand voordat hulle na die Winburgse konsentrasiekamp geneem is (139). Vierdens het sy haar hele familie tydens die oorlog verloor: “Toe ons weer hoor, is Pa dood. En dit was sommer nog aan die begin van die oorlog” (96). Haar ma en boetie is ook later in die konsentrasiekamp oorlede. Met haar terugkeer vanuit Engeland moes sy aanhoor dat haar vriend Jacques la Mer ook in die nuwe oorlog gesterf het. Saam met hom was daar moontlik ’n kans op geluk en romanse, maar as gevolg van haar trauma kon sy haarself nie sover kry om op so ’n wyse by hom betrokke te raak nie. Laastens is daar die verlies van haar vriendin in die konsentrasiekamp, Alice Draper. Aan die einde van die roman en haar verhaal ontdek sy Alice se graf. Sy is op 6 Januarie 1902 oorlede. Die grootste verlies wat Susan egter moes verwerk, is die verlies van die lewe wat sy sonder ’n oorlog en trauma sou gehad het.

Die fokus op trauma en verlies is nie beperk tot Susan nie. Dit kan deurgetrek word na trauma wat deur alle rolspelers, insluitend die soldate, beleef word.

2.2 Oorlogstrauma

In Kamphoer word die effek van die oorlog op die soldate ook uitgelig. Bomskok, wat dit behels en die genesing daarvan word onder die loep geneem. Smith se verwysing na psigiatrie in daardie tyd, sowel as musiek en dansterapie, word ondersoek.

2.2.1 Bomskok

Daar word ’n imposante beskrywing van bomskok deur Susan verskaf: “Bomskok [...] Soldate wat heeltemal uit hul sinne geskiet is, uit alle woorde uit, uit hul ganse onthou, uit alle beheer oor spiere; lywe besete deur die spasmas van ’n buitewêreldse gruwel; soldate wat niks meer begeer as om doodgewoon dood te gaan nie” (40). Volgens Van der Merwe (2014) word Susan aangetrek na die mense wat bomskok het, maar sy ly ook self aan bomskok. Susan sê self: “Sy is juis in hierdie beroep om te help genees; haar lewenspad het gelei na daardie wonde wat die diepste lê en die stadigste gesond word, die wonde aan die siel” (43). Sy vertel van haar eerste kennismaking met bomskok toe die wêreld nog nie ’n naam daarvoor gehad het nie: “Sy dink aan die vrou wat begin gras eet het daar agter die sinkplate van die ooikamp in die Winburgse kamp; sy dink aan die ruk dat sy buite taal, buite rede in ’n stoet swartgeklede vroue haar verdoemenis tegemoetgeloop het” (46).

Later verskaf sy ’n duideliker omskrywing. Hulle praat eerder van oorlogskok as bomskok: “Dit is in baie gevalle eerder ’n langdurige blootstelling aan vrees, aan spanning, en doodgewoon dae en weke en maande se gewag in ’n loopgraaf wat die skade berokken” (56).

2.2.2 Psigiatrie

Smith maak psigiatrie op ’n slim manier deel van die storielyn. In ’n onderhoud met Jonathan Amid (2014) vertel hy dat hy navorsing oor een van die karakters in Pat Barker se The ghost road gedoen het. Die karakter was dokter WHR Rivers, wat werklik geleef het. Volgens Smith was hy ’n psigiater wat baanbrekerswerk oor bomskok en die behandeling daarvan na die Eerste Wêreldoorlog gedoen het.  Dokter Rivers was dus vir hom die skakel tussen die grot waar Susan “genesing” ondervind het en die uiteindelike hospitaal waar sy self as geneser sou optree.

Ironies genoeg glo Susan vas dat omdat sy ’n wond het, sy ander kan help wat wonde het. Dit is glo een van dokter Rivers se aannames in die traumapraktyk ook (120). Dit is waarom Susan haarself in die psigiatrie bekwaam het. Haar reis het dus in die grot begin, waar sy blootgestel is aan die primitiefste vorm van psigiatriese genesing wat Tiisetso en Mamello toegepas het. Sy weet verder uit ondervinding dat sang en musiek met die genesingsproses help. Sy pas dit later in haar eie loopbaan ook toe: “Die wysie en die woorde ken ek goed en ek kan al saamsing. Ek het agtergekom dat as ek so saam met hom aangaan en aangaan dan is dit asof ek lig word en begin dryf. Dit vat my weg van die goeters wat my gedagtes vasgryp” (96). Sang vat haar na ’n beter plek toe. Op ’n dag verduidelik sy vir Hurst wat sy by hierdie primitiewe mense geleer het: “Dat ’n mens deur verhale, soos met liedjies, by die bron van jou genesing kan uitkom” (129). Sy koppel dit dus aan narratiewe terapie ook. Gevolglik is dit die genesingsmetodes van Tiisetso en Mamello, wat sy in die grot beleef het, wat haar aangespoor het om ander slagoffers wat trauma beleef het, te help. Deur self ’n gewonde te wees het haar in staat gestel om ander te help. Deur ander te help, het sy haar eie storie herskryf en die trauma tot ’n sekere mate verwerk.

...
Trauma uit die oogpunt van ’n agtienjarige Susan Nell en ’n volwasse Susan Nell lyk verskillend. Uit bogenoemde is dit duidelik dat slagoffers soms die skuld en skaamte vir hulself toe-eien, wat hulle trauma versterk.
...
  1. Gevolgtrekking

Trauma en verlies staan sentraal in die intrige. Trauma uit die oogpunt van ’n agtienjarige Susan Nell en ’n volwasse Susan Nell lyk verskillend. Uit bogenoemde is dit duidelik dat slagoffers soms die skuld en skaamte vir hulself toe-eien, wat hulle trauma versterk. Wat hierdie roman interessant maak, is die feit dat die oortreder in die verhaal ook later as ’n slagoffer van die oorlog met bomskok uitgebeeld word. Hy het dus sy eie trauma.

Die genesingsproses maak dit duidelik dat trauma vir elke individu of slagoffer relatief is, maar tog dat trauma ieder en elk kan raak. Die verhaalelement wat ingewerk is, versterk die ontknoping. Susan Nell herskryf haar verhaal wat as gevolg van die trauma verlore gegaan het. Hierdie keer is sy die skepper van haar eie verhaal; sy besluit wat met Hamilton-Peake gebeur. Sy neem die mag terug. Sy maak dit weer haar verhaal.

 

Bibliografie

Amid, J. 2014. Onderhoud met Francois Smith: Om Kamphoer te skryf. https://www.litnet.co.za/onderhoud-met-francois-smith-om-kamphoer-te-skryf/ (1 Januarie 2021 geraadpleeg).

Giller, E. 1999. What is psychological trauma? Werkswinkel-aanbieding by die jaarlikse konferensie van die Maryland Mental Hygiene Administration, “Passages to prevention – Prevention across life’s spectrum”, Maryland, Mei 1999. http://theannainstitute.org/What%20Is%20Psychological%20Trauma.pdf?contentID=88 (2 Januarie 2021 geraadpleeg).

Lubbe, SJ. 2019. “Mens kan nie altyd lag nie, mens moet soms huil ook”: Die verwerking van trauma deur skrywende karakters in drie romans deur Marita van der Vyver. MA-verhandeling. NWU, Potchefstroom.

Matsakis, A. 1996. I can’t get over it: a handbook for trauma survivors. 2de uitgawe. Oakland: Harbinger.

Smith, F. 2014. Kamphoer. Kaapstad: Tafelberg.

Van der Merwe, C. 2014. LitNet Akademies-resensie-essay: Kamphoer deur Francois Smith. https://www.litnet.co.za/litnet-akademies-resensie-essay-kamphoer-deur-deur-francois-smith/ (1 Januarie 2021 geraadpleeg).

Wilder Research. 2014. Trauma and resilience: How can we promote resilience and recovery for people who have experienced traumatic events? https://Wilder.org/sites/default/files/imports/AnokaCountyMWCtrauma%20Snapshot_10-14.pdf (2 Januarie 2021 geraadpleeg).

Lees ook:

LitNet Akademies-resensie-essay: Kamphoer deur Francois Smith

Biebouw-resensie: Kamphoer deur Francois Smith

Tien vrae: Francois Smith oor Kamphoer

Remembering and forgetting: Reflections on Francois Smith’s novel Kamphoer

Onderhoud met Francois Smith: Om Kamphoer te skryf

Boekgesprek op Dagbreek: Kamphoer deur Francois Smith

Die kleinste ramp denkbaar deur Francois Smith: ’n ondersoek deur Izak de Vries

Die kleinste ramp denkbaar deur Francois Smith: ’n bespreking deur Kerneels Breytenbach

Die drie dae van Gustav van Aardt: ’n bespreking van Die kleinste ramp denkbaar deur Francois Smith

Francois Smith se Kleinste ramp denkbaar gaan boei, terroriseer

Resensie: Die getuienis deur Francois Smith

The post Trauma en verlies in Kamphoer deur Francois Smith appeared first on LitNet.

Persverklaring: 2022 Hessequa Harmonie

$
0
0
Vyfde Hessequa Harmonie gaan luisterryke fees van kuns en musiek wees

Die vyfde verjaardag van Hessequa Harmonie gaan van 20 tot 24 September luisterryk gevier word met ’n uitsonderlike program wat in Heidelberg in die Suid-Kaap aangebied word.

Rondom Erfenisdag is die perfekte tyd om die pad na die platteland te vat vir ’n keur van klassieke musiekkonserte, boekbesprekings, kunsuitstallings, dramaproduksies, ligte musiek en leefstylaanbiedinge wat iets vir die hele gesin bied. 

Vir musiekliefhebbers is daar onder andere optredes deur die Kaapse Filharmoniese Jeugorkes onder leiding van dirigent Brandon Phillips by die ATKV-galakonsert, Coenie de Villiers wat agter die klavier inskuif om van sy ou en nuutste komposisies te sing en ’n piekniekkonsert met Pietman Geldenhuys en Schalk Joubert om na uit te sien.

Elsabé Daneel gaan weer soggens die gewilde Boekebrekfis in die historiese Fouriehuis aanbied waar sy met skrywers soos Jan van Tonder, Erns Grundling en Hessequa-boorling, Helena Gunter gesels. Gaste kan hulle ook verlustig in kosstories van die glanskokke Herman Lensing en Yolani Abrahams by VIA Kook en Klassiek

“Ek is geweldig opgewonde daaroor dat ons weer vanjaar kuns uit die boonste rakke saam met die pragtige Hessequa-streek ten toon kan stel en ons is baie dankbaar vir die ongelooflike ondersteuning van die plaaslike gemeenskap, die munisipaliteit, borge en feesvriende wat dit vir ons moontlik maak om hierdie fees vir die vyfde agtereenvolgende jaar aan te bied,” het die uitvoerende hoof, Niël Rademan, gesê.

Hessequa Harmonie word aangebied met die ondersteuning van die Rupert Musiekstigting, VIA, Business and Arts South Africa (BASA), die Wes-Kaapse Departement van Kultuursake en Sport, Hessequa Munisipaliteit Explorer, die LW Hiemstra Trust, die Nasionale Afrikaanse Teater-inisiatief (NATI), die Johann Brink Trust, WESGRO, Van Loveren, die ATKV, die Kaapse Filharmoniese Jeugorkes, BVSA, Eureka Mills, Riversdal Toyota en Carmién tee.  

Kaartjies kan aanlyn bespreek word by plankton.mobi of kontant gekoop word by Karee Tree Designs in Heidelberg.

Besoek hessequaharmonie.co.za vir meer inligting en die volle program.

The post Persverklaring: 2022 Hessequa Harmonie appeared first on LitNet.

Vandag op die Woordfees TV-boekeprogram: Dinsdag 19 Julie 2022

$
0
0

Het jy geweet jy kan vanjaar na al die boekeitems kyk wat jy verlede jaar op die TV misgeloop het – én nuwe boekgesprekke ook luister?

Hier is vandag se Woordfees TV-boekeprogram:

01:44 Dol heuning met SJ Naudé

Die Hertzogpryswenner – die eerste wat twee keer na mekaar dié prys vir prosa ontvang – noem homself “’n aktivis vir die kortverhaal” en gesels oor inspirasie en die waarde van skryfopleiding. Sandra Prinsloo lees voor uit een van sy verhale.

Met Marius Swart as gesprekleier; Sandra Prinsloo lees voor.

02:16 Mynhardt se kombuis

Die eerste Kokkedoor-wenners hou reünie wanneer Tiaan vir Mynhardt ’n video wys van waar hulle die eerste keer saamwerk. Hy vra ook vir Mynhardt uit oor sy Vrystaatse koswortels, sy kookboek wat in grendeltyd gebore is, en sy liefde vir kleur.

Tiaan Langenegger gesels met Mynhardt Joubert.

08:10 Vuur in sy vingers: NP Van Wyk Louw

Die pa wat so oor hartseer flieks kon huil, die mentor wat onder ’n olyfboom poësie sou praat (tuinierswerk lank vergete) – dís oor wie Willie Reinet, Louw se dogter, en Ian Raper, sy eertydse assistent, uitvra. Met foto’s en voorlesing.

Willie Burger gesels met Reinet en Ian Raper; Anton Schmidt lees voor.

08:43 Rugby, wyn & Schalk Burger

As jong rugbyspeler is Schalk senior vir sy unieke ingooi-beweging bekend en hoe hy WP vir WP Liga gelos het. As boer ken hy wyn én gras, en as pa is hy al deur hel. Hy blaai saam met Willem deur sy ou foto’s en biografie, Just a moment.

Met Willem Pretorius as aanbieder

10:48 ’n Love letter aan kos

Die skrywer vertel hoe haar kosverslawing die inspirasie was vir ’n hoofkarakter wat háár verslawing as inspirasie gebruik om ’n skrynend snaakse verhaal te skryf oor ’n mislukte verhouding en ’n allesverterende passie vir kos.

Ingrid Winterbach praat met Adele Vorster; Llandi Beeslaar lees voor.

11:20 Jy’s meer as jou seerkry

Johannes het besef hoeveel mense trauma oorleef het – en hóé – toe hy self deur die lewe platgevee is; Zarine het die Spaanse Camino gaan stap as ’n reis na binne. Die twee gesels oor wat hulle geleer het en hoe dit ander kan help.

Johannes de Villiers en Zarine Roodt gesels met mekaar.

15:02 Willem Anker – Skepsel

Willem gesels met Louise Viljoen oor die vreemde wêreld van mens en masjien in sy bekroonde Skepsel, en sy hoofkarakters – ’n cyborg, ’n vrou met ’n sterwende pa in ’n slimhuis, en een wat deelneem aan ’n geheime uitgrawing in ’n yslandskap.

In gesprek met Louise Viljoen

Randy Januarie lees voor.

Klik hier vir die volledige Woordfees TV-program.

The post Vandag op die Woordfees TV-boekeprogram: Dinsdag 19 Julie 2022 appeared first on LitNet.

Kinders hoort nie op strate nie

$
0
0

LitNet se Stemme | Voices | Amazwi is ’n reeks van 15 kort, kragtige monoloë deur gevestigde en opkomende dramaturge geskryf, aangebied in samewerking met die Suidoosterfees, NATi en die ATKV.

In Kinders hoort nie op strate nie speel Daneel van der Walt ’n huisvrou wat aan ’n polisiekonstabel vertel van die onheilighede in die buurt wat sy deur haar kombuisvenster aanskou. Regardt Visser, skrywer van die teks, het ook die regie waargeneem.

Daneel van der Walt en Regardt Visser gesels oor Kinders hoort nie op strate nie.

Van die monoloë word van 15 tot 28 Julie 2022 op Woordfees TV (DStv-kanaal 150) uitgesaai. Moenie die skrywersgesprekke op Woordfees TV misloop nie. Klik op die banier om die program te besigtig:

Kinders hoort nie op strate nie

Kyk, ek wil nie eintlik betrokke wees nie.

En dis nie asof ek skinder nie, konstabel, maar hulle het net daar gebly. So, ek het die hele storie so deur die kombuisvenster dopgehou.

Daar’s iets in die lug. Wat presies dit is, weet ek nie, maar … iets.

Dis eintlik nogal depressing as jy daaraan dink. Die dag toe hulle hier ingetrek het, toe sê ek vir Gert, hier kom kak.

Die vrou was tjoepstil. Nie ’n dooie woord gesê nie. Niemand gepla nie. Net so ’n air gehad. Wat vreemd is vir iemand wat doeke moet omruil by ’n ouetehuis.

Die man? Wie weet. Vis-inspekteur saam met Gert. Na die insident het hy soos mis voor die son verdwyn.

As jy een en een bymekaar sit, dan kon jy duidelik sien tussen die ma en die pa … Nee, siek. Weet nie of hulle broer en suster of neef en niggie was nie. Shame, arme kind. Sy’t so ’n ingeduikte voorkoppie gehad met sulke rotterige haartjies wat so hang. Kon skaars ’n samehangende sin uitkry.

Hulle kon iets gedoen het, maar nou is dit ons almal se probleem. Die dokters het hulle gewaarsku, maar die besluit was steeds hare. Ek sou nie kon nie. Maar sy’t nie geweet waarvoor sy haarself inlaat nie. Ek wil nie slegpraat nie, maar sy’t seker nie geweet hoe erg dit gaan wees nie. Maar sy het haarself én daardie kind ’n onreg aangedoen.

Dis wat jy kry as jy aangaan soos honde. Ek moes seker iets gesê het? Maar sien, jy doen mense ’n onreg aan as jy so goedhartig optree.

Ek sou daai kind vang staar na die kleintjies wat in die straat speel. Jy kry so ’n gevoel in jou maag asof … ’n Wyse ou man het eenkeer gesê dis asof iemand jou toilet trek.

Ek het hulle gewaarsku! Jy weet mos hoe is kinders; hulle weet nie van beter nie – dink mos alles is ’n moerse grap. Hulle sal so met suurwurms deur die traliehek met haar speel. So!

Skies, ek gaan hel toe!

Maar toe vind sy uit hoe om die hekkie oop te maak. Die volgende oomblik staan sy hier agter my in die kombuis. Kan jy nou dink? Ek, vrou alleen, met net ’n vadoek om myself te verdedig. Soos ek haar met die vadoek probeer uitkry, toe pis sy op die vloer!

En wie dink jy moet dit nou skoonmaak?

So het sy rondgeloop. Eendag, toe sien ek haar uitstap by daai ou skuur in die veldjie. Daar was ’n werker. Hy’t haar seker met sweets gelok. Ek kan nie onthou nie … mens moenie sulke goed onthou nie.

Hm? Natuurlik is ek van die onderwerp af – ekskuus!

Paasnaweek. Gert kom dikdronk van die golf club af met ’n hondjie wat hy hereweetwaar gekry het. En natuurlik wil die kinders met dit gaan speel. Jy ken ’n ma se hart – ek kan mos nou nie nee sê nie.

Maar trust your instincts. Soos die duiwel dit wou hê, toe is dit ook so.

Die kinders huil en gil. En ek word so koud in my binneste. Gert spring op van die teevee, maar toe hy in die straat kom, toe lê daai hondjie pap in daai gemors se arms.

Soos Gert trek, wou sy nie laat gaan nie. Sy gaan so hard tekere dat die hele buurt uitkom.

Toe byt die hond vir Gert, en hy moes homself verdedig. Ons word ingetrek by daai pandemonium en met daai mense vergelyk!

Ekskuus. Sy laat val toe die hondjie. Gert moes sy rewolwer gaan kry en dis toe dat die polisie opdaag.

Die ma, klein lyfie en al, sleep daai moerse kind by die huis in, sonder om eers verskoning te vra. Ek meen, sy kan bly wees ons het nie ons prokureurs gebel nie.

Dis ook toe die laaste wat ons van haar gesien het.

Die Saterdagggend, toe hoor ons hoe kerm hy vir sy mammie. Ons het dit eers geïgnoreer, ons het gedink, dalk gryp die pa in. Maar dit wou nie end kry nie. Ons kon nie slaap nie.

Toe braaf Gert dit maar; die deur was oop. Die huis was pikgitdonker. Daar was so ’n bedompige reuk wat hang.

En dan wil jy nie weet nie … Porn-tydskrifte wat die wêreld vol lê. En van hom was daar geen teken nie, want min te wete – kiepie! – het hy lankal al pad gevat.

Gert kry toe die kind voor die garagedeur. Hy moes deur breek.

Toe vind hy haar.

Daar was nie eens ’n punt daaraan om die ambulans te bel nie.

Ek kry haar nogal jammer.

Maar daai kind was uit en uit ’n straf. En dis hoekom ek julle gebel het, konstabel. Want sy loop nog in die hele dorp rond. Ek sal nie kan slaap voor julle dit nie uitgesorteer het nie.

Ek meen, hierdie was eens ’n plek waarop mens kon trots wees. En wat sê die mense nou van ons?

Wat het ek vir my kinders gesê? Ek het vir hulle gesê kinders hoort nie op strate nie.

So, gaan julle nou iets hieraan doen?

Wag, daar’s sy. Daar gaan sy …

 

Stemme | Voices | Amazwi is supported by the National Arts Council.

 

Stemme | Voices | Amazwi is ’n Nuwe Skryfwerk-projek van LitNet en word ondersteun deur die LW Hiemstra Trust.

Al die monoloë is op hierdie blad beskikbaar:

Stemme | Voices | Amazwi

Kyk hier na LitNet en die Suidoosterfees se eerste Stemme-reeks wat in 2021 aangebied is:

Stemme

The post Kinders hoort nie op strate nie appeared first on LitNet.

Uitnodiging: SA Akademie se Noordelike bekroningsplegtigheid

$
0
0

Jy word hartlik uitgenooi na die SA Akademie se Noordelike bekroningsplegtigheid wat vanaf Woensdag 20 Julie 2022 om 18:00 op die Akademie se twee elektroniese platforms beskikbaar sal wees:

Die bekroningsplegtigheid sal permanent op die platforms te sien wees.


 

Die volgende pryse word oorhandig:

JD Carr: Poortprys vir Prosa

JD is ’n leerder aan die Hoërskool Upington en ontvang die prys vir sy prosawerk Wabi sabi

Huldigingswoord: Prof Thys Human

Tite Mwepu, dr Salmon Lubbe en prof Philip Crouse: Douw Greeffprys vir beste artikel in die SA Tydskrif vir Natuurwetenskap en Tegnologie

Huldigingswoord: Dr Cassie Carstens

Frederik de Jager: Eugène Maraisprys vir Prosa vir Man op ’n fiets êrens heen

Huldigingswoord: Prof Hein Viljoen

Fanie Viljoen: Scheepersprys vir Jeugliteratuur vir Offers vir die vlieë

Huldigingswoord: Prof Thys Human

Prof Hendrik Swart: Havengaprys vir Fisiese Wetenskappe

Huldigingswoord: Prof Japie Engelbrecht

Prof Lise Korsten: MT Steynprys vir Natuurwetenskaplike en Tegnologiese Prestasie

Huldigingswoord: Prof Kobus Eloff

Prof Hennie van Coller: NP van Wyk Louwmedalje

Huldigingswoord: Prof Anthea van Jaarsveld

Emma Renzi: Huberte Rupertprys vir Klassieke Musiek

Huldigingswoord: Paul Boekkooi

SP Naudé: Hertzogprys vir Prosa vir Dol heuning

Huldigingswoord: Prof Willie Burger


 

Die Suidelike bekroningsplegtigheid sal vanaf Woensdag 27 Julie vanaf 18:00 beskikbaar wees.

By hierdie plegtigheid word die volgende pryse oorhandig:

  • Mikayla Pretorius: Poortprys vir Poësie
  • Amoré Malan: Junior Kaptein Scott-gedenkmedalje (Dierkundige Wetenskappe)
  • Ashwin Arendse: Eugène Maraisprys vir Poësie vir Swatland
  • Jaco Jacobs: Alba Bouwerprys vir Kinderliteratuur vir Die boekwinkel tussen die wolke
  • Prof Ernst Kotzé: Jacques van der Elstprys vir beste artikel in die Tydskrif vir Geesteswetenskappe
  • Dr Carel van der Merwe: Protea Boekhuistoekenning vir Kansvatter: Die rustelose lewe van Ben Viljoen
  • Emma Willemse: Erepenning vir Geesteswetenskappe en Kuns
  • Prof André Coetzee: Erepenning van die SA Akademie se Fakulteit Natuurwetenskap en Tegnologie
  • Prof Bill Henderson: Gustav Prellerprys vir Literatuurwetenskap en literêre kritiek
  • Hendrik du Toit: Christo Wiesemedalje vir Bedryfsleiding

The post Uitnodiging: SA Akademie se Noordelike bekroningsplegtigheid appeared first on LitNet.

Pasverskyn: Hoerkind: Die memoires van ’n randeier deur Herman Lategan

$
0
0

Hoerkind: Die memoires van ’n randeier
Herman Lategan
Uitgewer: Penguin Random House
ISBN: 9781776093380

Herman Lategan word wyd gerespekteer as joernalis, en is beide berug én beroemd vir sy uitgesprokenheid en kwinkslae oor alles onder die son. In Hoerkind vertel hy sy lewensverhaal uit die hart uit, sonder om doekies om te draai. Hy is een warm Februarienag in 1964 in ’n losieshuis in Kaapstad verwek – buite die eg. Van jongs af het hy soos ’n weggooimens gevoel, want hy is deur grootmense wat die lewe op onvaste voet betree het van die een stel hande na die ander aangegee.

Op 13 beland hy in die kloue van ’n geslepe pedofiel, ’n bekende Afrikaanse koerantman in daardie jare. Pas na sy 18de verjaarsdag, wanneer sy molesteerder met hom klaar is, word Herman sonder seremonie voor die deur van sy vervreemde alkoholis-pa afgelaai. In sy tienerjare bevriend hy Afrikaanse digters soos Sheila Cussons, Ina Rousseau, Barend J Toerien en Casper Schmidt. Ná skool doen hy sy diensplig, maar word oneervol ontslaan en kom hy in New York aan, waar hy vir Andy Warhol op straat agtervolg en met ’n “smorgasbord van eendagsvlinders” kattemaai.

Terug in Suid-Afrika maak Herman opgang as joernalis wat na die wydste hoeke van die wêreld reis. As volwassene voer hy ’n stryd met drank en dwelms en is ’n ruk lank haweloos. En vir menige werkgewer word hy die nagmerrie wat hulle die ergste vrees.

Hoerkind is ’n aangrypende relaas oor verlies én oorwinning wat jou sal laat lag, en jou hart ’n paar keer breek. Jy sal jou kop skud oor die wreedheid van ’n wêreld waar mense aan mekaar uitgelewer is, maar jy sal verwonderd staan oor die omvang van goedheid, juis omdat mense op mekaar aangewese is.

The post Pasverskyn: <i>Hoerkind: Die memoires van ’n randeier</i> deur Herman Lategan appeared first on LitNet.

Nuut by LAPA: ’n Kwessie van tyd deur Doc Marten

$
0
0

Op ’n stormagtige nag in ’n Engelse herehuis word ’n jong vrou grusaam vermoor. Sy vat ’n eienaardige geheim na haar graf toe en die moordenaar verdwyn soos ’n skim in die nag. Twintig jaar later, by een van die wêreld se mees eksklusiewe perdewedrenne, is dit die buiteperd wat onverwags die kroon wegdra. In een van die losies staan Henry Clarke stomgeslaan. Hy het sopas iets onmoontliks sien gebeur. Op ’n klein wildsplaas in die noorde probeer Jan Brand vir hom so tussen die stof en droogte ’n nuwe lewe staanmaak. Vir so ’n jong man het hy al baie geleef. Nes hy dink hy kan die stad agter los en in vrede begin boer, ontvang hy ’n uitnodiging van sy skatryk buurman, einste Henry Clarke. Dié wil Brand as privaat speurder aanstel om ’n raaisel in die ruitersport op te los. Kort daarna verdaag Brand na Kaapstad, waar ’n geheim begrawe deur tyd, geld en mag vir hom wag, tesame met die mense wat bereid is om te moor om dit so te hou. Jan Brand mag dalk die stof van sy hande afgewas het, maar binnekort gaan hulle vol bloed wees.

Klik hier vir nog inligting oor dié publikasie.

The post Nuut by LAPA: <i>’n Kwessie van tyd</i> deur Doc Marten appeared first on LitNet.


Nuut by LAPA: Verbode drif deur Irma Joubert

$
0
0

Sy’s ’n boeremeisie, hy ’n Jood. ’n Boerejood, ja, maar nogtans ’n Jood. Vir hulle liefde is daar geen toekoms as hulle dit nie self skep nie. Terwyl hulle jonk is, dink hulle nie aan die toekoms nie, leef hulle vir die nou, glo hulle die verskille kan oorkom word. En Izak Katz, weet Elizabeth, maak altyd ’n plan. Altyd. Hy, met sy lag, sy terg, die sagtheid in sy oë. Die paadjie wat aan hulle toebedeel is, is ongelyk. Soos die middelmannetjie in die drif. Hulle weet van mekaar vermy, van voorgee sodat niemand iets vermoed nie. Van wag. En van liefhê ... Totdat Elizabeth gedwing word om ’n doodsbelofte te maak. En sy weet, sy wéét, hierdie keer is dit verby; nie eers Izak sal nou meer raad hê nie.

Klik hier vir nog inligting oor dié publikasie.

The post Nuut by LAPA: <i>Verbode drif</i> deur Irma Joubert appeared first on LitNet.

Nuut by Lux Verbi: Draers van die Lig deur Stephan Joubert en Johan Smith

New from Jonathan Ball: Elon Musk: Risking it all by Michael Vlismas

$
0
0

Often in the news for his entrepreneurial exploits and his controversial tweets, Elon Musk is one of the richest and best-known people on earth. In 2022 he made headlines worldwide with his bid to buy Twitter. Who is this boundary-pushing billionaire with grand plans of inhabiting Mars, and what lies at the heart of his vision? Why is he so utterly unafraid of risk?

As an awkward Pretoria schoolboy who loved comics and science fiction, Musk’s early years and singular family background were crucial in forming his stellar ambitions. Journalist and author Michael Vlismas, who attended the same high school as Musk, knows well the environment that shaped him and offers new insights into Musk’s development, including his troubled relationship with his father.

Tracing his remarkable life, from his South African childhood to his move to Canada at 17 and then to the US – where Musk made millions out of PayPal and built Tesla and SpaceX into two of the world’s most famous companies – this is the story of a man driven to preserve the optimism he sees in humanity and find a future for humans “out there among the stars”.

Click here for more information about this publication.

The post New from Jonathan Ball: <i>Elon Musk: Risking it all</i> by Michael Vlismas appeared first on LitNet.

Graad 4: Afrikaans Huistaalvraestel en -memo, derde kwartaal

$
0
0

Foto: https://pixabay.com/photos/penguin-jackass-lonely-one-1719609/

Het jy dalk die vakansie die Afrika-pikkewyne by Bettiesbaai sien broei? As jy in graad 4 is, kan ’n leesstuk in hierdie oefenvraestel en –memo van Eugene van der Westhuizen jou aan jou heerlike seevakansie herinner. Berei voor met hierdie prettige oefenvraestel – en voordat jy jou oë uitvee, is dit weer vakansie!

Klik hier om die vraestel gratis in PDF-formaat af te laai.

Klik hier om die memo gratis in PDF-formaat af te laai.

Lees ook:

Wiskunde met LitNet: Graad 4 – optel en aftrek van breuke

Wiskunde met LitNet: graad 4 – maal en deel met driesyferheelgetalle

Wiskunde met LitNet: Graad 4 - Waarde en plekwaarde van getalle

Graad 4-wiskundevraestel: derde kwartaal

The post Graad 4: Afrikaans Huistaalvraestel en -memo, derde kwartaal appeared first on LitNet.

Indeks: notas, toetse en vraestelle

$
0
0

Hierdie inhoud mag nie verkoop of elders gepubliseer word nie.

Klik op die onderstaande blokkies om na die betrokke afdeling te spring./
Click on the blocks below to jump to the relevant section.

Bygewerk op 19 Julie 2022

Wiskunde met LitNet: Priemgetalle- en bekendstellingsvideo

Wiskunde

 

Wiskunde

 

graad-3b

Algemeen

Wiskunde

 

graad-4b

Wiskunde

Afrikaans Huistaal

 

graad-5b

Afrikaans Huistaal

Natuurwetenskappe en Tegnologie

Wiskunde

 

 

graad-6b

Algemeen

Afrikaans Huistaal

Wiskunde

 

 

graad-7b

Algemeen

Afrikaans Huistaal

Wiskunde

Sosiale Wetenskappe

Tegnologie

 

 

graad-8b

Afrikaans Huistaal

Afrikaans Eerste Addisionele Taal

Wiskunde

Natuurwetenskappe

 

 

graad-9b

Algemeen

  • Departementele vraestelle: November 2016
    Afrikaans, Engels, Xhosa, Sotho, Skeppende Kunste, Lewensoriëntering, Ekonomiese- en Bestuurswetenskappe, Natuurwetenskappe, Tegnologie, Sosiale Wetenskappe, Wiskunde

Afrikaans Huistaal

Afrikaans Eerste Addisionele Taal

Wiskunde

Natuurwetenskappe

 

graad-10b

Algemeen

Afrikaans Huistaal

Afrikaans Eerste Addisionele Taal

Wiskunde

Wiskunde Geletterdheid

Fisiese Wetenskappe

Besigheidstudies

 

graad-11b

Afrikaans Huistaal

Afrikaans Eerste Addisionele Taal

Wiskunde

Wiskundige Geletterdheid

Fisiese Wetenskappe

Rekeningkunde

 

graad-12b

Algemeen

Afrikaans Huistaal

Afrikaans Eerste Addisionele Taal

Engels Huistaal

Engels Eerste Addisionele Taal

IsiXhosa Huistaal

Wiskunde

Wiskundige Geletterdheid

Rekeningkunde

Inligtingstegnologie

Fisiese Wetenskappe 

Lewenswetenskappe

Geskiedenis

Geografie

Visuele kunste

Verbruikerstudie

Ekonomie

Besigheidstudies

Inginieursgrafika

Siviele Tegnologie

Musiek

Drama

Landboutegnologie

Landboubestuurspraktyke

 

 

ander-materiaalb

Blokraaie

Vir leerders

Vir ouers

Vir onderwysers

Vir verryking: Wiskunde-artikels deur Pieta van Deventer

The post Indeks: notas, toetse en vraestelle appeared first on LitNet.

Viewing all 22071 articles
Browse latest View live


<script src="https://jsc.adskeeper.com/r/s/rssing.com.1596347.js" async> </script>