Quantcast
Channel: LitNet
Viewing all 21497 articles
Browse latest View live

’n Grootman is ’n groot man, by wyse van spreke

$
0
0

Foto van Jean Meiring: verskaf. Foto van Johannesburg: mzgiaconte, https://pixabay.com/photos/johannesburg-urban-city-scenic-4322256/

...........
Ry Cedrick my by die werk in Sandton se hek uit, knik hy deur die oop venster in die rigting van die sekuriteitswag wat die hefboom gehys het en sê: “Dankie, Grootman.”
.............

Ry Cedrick my by die werk in Sandton se hek uit, knik hy deur die oop venster in die rigting van die sekuriteitswag wat die hefboom gehys het en sê: “Dankie, Grootman.”

Die klem val op die eerste lettergreep. Die “groot” sluk amper die “man” in.

Sy stemtoon is altyd eerbiedvol. Die aangesprokene ontvang die benaming dankbaar. Knik wetend terug.

In die kasitaal wat in en rondom Johannesburg gepraat word, kom die woord “grootman” baie algemeen voor. Dit dui op ’n senior lid van die gemeenskap, ’n leier, iemand wat respek verdien.

Die aanlyn webblad Africtionary gooi dit selfs effe wyer: “A kasi term that is used to refer to an older man. It is borrowed from Afrikaans and has a direct translation of big man.”

Vandaar dan die byna-metaforiese, vleiende gebruik om iemand wat in ’n gegewe situasie in ’n magsposisie teenoor jou staan, ook as “Grootman” aan te spreek. Selfs al is hy ’n jong, tingerige sekerheidswag onder ’n keps en in afgeslete skoene.

*

In die aanlyn woordeboek Dictionary of South African English word ’n voorbeeld geneem uit The long journey of Poppie Nongena, die Engelse vertaling wat in 1980 verskyn het van Elsa Joubert se legendariese Afrikaanse roman: “And always the men were standing round the house and not leaving them alone, clansmen, old ones, grootmanne, men in groups, waiting round the house.”

In die oorspronklike Afrikaanse teks lees die sin só: “En altyd die manne wat by die huis rondstaan en nie weggaan nie, manne wat naaste familie is, grootmanne, hulle bly maar rondom die huis.”

Joubert gebruik die woord ’n ses- of sewetal kere in die roman. Ook op ’n keer, as vroulike ekwivalent, die rare woord “grootvroue”: “Toe is die troufees klaar en die ou mense sit en wag, die grootmanne en die grootvroue van die man se huis en van haar huis.”

*

Só kom jy – soos Alice deur die haseluik diep die interwebbe in – op hoeveel gebruike van die woord “grootman” in die wêreld van die amapiano-musiekvorm af wat Pretoria se klankige uitvoerproduk is. Die presiese beduidenis is telkens moeilik om te peil. Maar dat dit op iets vleiends dui, is duidelik.

*

En skielik is hy op die webblad www.grootman.store, die internetstaanplek van ’n saak wat in 2020 in die lewe geroep is. Trouens, dit lyk asof daar geen outydse baksteen-en-sink-winkel is nie.

Dit sit T-hemde, handdoeke en bekers met ’n Grootman-logo daarop van die hand. In die logo is die “t” aan die einde van die woord “groot” deur ’n mansfiguur vervang, met ’n opgehewe regterarm met iets – ’n blom? – daarin.

Die webblad vertel dat die besigheid deur Jabu NS Mbongo geskep is. In die algemene handel en wandel staan hy as Grootman Stoffel bekend. Die webbesigheid se doel is om “styl” aan inkopiemakers wêreldwyd te bied.

As verduideliking van die woord “grootman” sê daardie webblad onder meer dit (wat – interessant genoeg – eggo’s van Joubert se Engels bevat):

This means Grootmanne are the men standing round the house and not leaving their wives and children alone, the clansmen, old ones, Grootmanne, men in groups, waiting round the house to provide and protect their families, especially their sons from invading troops that always pounces on villages, kasies and dorpies to take them captive and subject them to hard labour.

The youngsters don’t speak the lingo properly any more, but they look up to a Grootman who is a Bra and a Mentor that is always there to groom them up to become warriors and leaders of the clan, should the reigning chief be captured or killed in the battle for livestock, crops or chieftaincy.

Ouer nog is die handelsmerk Grootman Clothing, wat in 2014 deur Sihle Mvundla en Vuyani Magoloza geskep is. Daaronder word mansklere en -bykomstighede, ook horlosies en armbande, verkoop.

Op die onderneming se webblad word gesê:

We want to promote hard work, clean life, show that success can be achieved without having to be involved in criminal activities but through hard work and determination.

The company’s name “GROOTMAN” is taken from one of South Africa’s languages and that is Afrikaans, the word grootman is an Afrikaans word meaning a big man. The idea is inspired by the old township lingua called tsotsitaal, the word is used to describe big or matured men in our society, those men that we look up to, men that inspire others in a positive way, the aim of Grootman is to continue inspiring male species in the world out there to be great examples and leaders in our community by protecting, loving, leading, achieving great things and becoming pioneers in our society.

Die logo is ’n deftige man in ’n jas en pluiskeil met sy een hand teen sy hoed. Hy staan teen ’n kierie aangeleun.

*

In April 2021, weer, het Lucky Lekgwathi, die oudsokkerspeler van Orlando Pirates, in Kliptown in Soweto ’n eetplek oopgemaak met die naam Grootman by Lucky Lekgwathi.

Op die sokkerwebblad Kickoff is daar vertel dié naam is ontleen aan “[Lekgwathi’s] nickname that many refer to him by now that he is retired and a senior figure in the community”.

*

Thabo Moloi, sakeman en stigter van die maatskappy Ebozi (Pty) Ltd, skryf op daardie maatskappy se webblad:

As much as I hate to admit this I can’t argue with the fact that I am getting older and have stopped trying to argue with the youngins who call me “grootman”. I probably deserve this after all the young-at-heart individuals I look up to in life who I have called “grootman”. As a grootman, I recently had a chat with a young jita who reached out to me and asked for advice because he was struggling with laziness. When I distilled what he was saying I realised that the young man had held on to a fervent belief that he was lucky and hadn’t come to terms with how unlucky he actually was.

*

...........
Al is daar sekerlik raakpunte, strek die betekenisladings in die kasipraatwêreld van die woord “grootman” ver verby wat die Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal (vyfde uitgawe) in gedagte het.
...........

Al is daar sekerlik raakpunte, strek die betekenisladings in die kasipraatwêreld van die woord “grootman” ver verby wat die Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal (vyfde uitgawe) in gedagte het.

Daarin word die volgende betekenis aan die lemma grootman toegesê: “Volwasse mansmens: My jongste seun is al ’n grootman. Ook as aanspreekvorm vir iemand wat al aan die grootword is: Kom hier, Oupa se grootman, en vertel wat vandag by die skool gebeur het.” In laasgenoemde gebruik lê daar iets lig-ironies.

Dalk kom die uitdrukking wat die HAT-makers vervolgens aangee, die naaste aan bogenoemde kasigebruik: “Jou (lyf) grootman hou, jou belangrik voordoen, bv Hy hou hom grootman onder die nooiens; hy hou sy lyf grootman as hy weer op sy geboortedorpie kom.” Tog is die toon afwysend, negatief. Die kulturele en morele lading wat Cedrick in sy kop het as hy vir die groetende sekerheidswag vaarwel sê, ontbreek volledig.

In die tweede uitgawe van Tesourus van Afrikaans staan grootman skraalweg aangeteken as sinoniem vir “beroemde persoon”.

*

..........
Dat een klein ou woordjie in só ’n mate ’n vragskip van betekenis is, is om die minste te sê verstommend.
...........

Dat een klein ou woordjie in só ’n mate ’n vragskip van betekenis is, is om die minste te sê verstommend.

The post ’n Grootman is ’n groot man, by wyse van spreke appeared first on LitNet.


My lewe met optel, aftrek, maal en deel

$
0
0

Ek het tot die besef gekom dat ons soveel dinge as vanselfsprekend aanvaar. Ons ry rond met blink, vinnige motors, vlieg in vliegtuie rond en het skoon vergeet van die era van die ossewa. So sit ek voor my rekenaar en het selfs op my selfoon die wêreld se kennis tot my beskikking.

Een gebied waarvan ek die ontwikkeling gedurende my agt dekades op aarde intens beleef het, het te doen met berekeninge.

  1. Breinkrag

In 1946 het ek in ’n plaasskooltjie by juffrou Griet Coetzee in graad 1 met somme kennis gemaak: 1 hasie + 1 hasie = 2 hasies. Gou het ek besef dat ’n mens die hasies maar kan weglaat. Ons kon ook die krale van die telraam (abakus) rondskuif om ’n gevoel vir getalle te kry. Volgens historici is die telraam in die antieke tye (ongeveer 2000 vC) in Mesopotamië uitgevind. Gevorderde variasies daarvan word nog steeds in sekere Oosterse lande soos China gebruik.[1]

’n Tipiese skool-telraam (fotobron: https://pixabay.com/photos/abacus-classroom-count-counter-1866497/)

Gou het ons ook geleer om enkelgetal-aftreksomme te maak. Die volgende stap was somme met kolomme van tiene en ene (TE) en honderde tiene en ene (HTE). Die vangplek was die oordra van tiene van een kolom na die ander. Voordat ons maalsomme kon doen, moes ons tafels uit ons koppe leer. Vandag nog is 9x7=63 en vele ander diep in my brein gegraveer. Dit het ons in staat gestel om dubbelkolom-maalsomme te doen.

Vir deelsomme was daar kort deling en lang deling. Ons het selfs die langdelingmetode gebruik om vierkantswortels te trek.[2]

In die tabel hier onder word die deelsom 500/4 (= 125) op die twee maniere gedoen en die vierkantswortel van 8 281 (= 91) bepaal. Ek moet erken dat die teorie agter die vierkantswortelberekening nog steeds Grieks vir my is, maar dit werk.

Ons het ook geleer om geldsomme te maak. Terugskouend was die somme met 12 pennies in die sjieling en 20 sjielings in die pond goeie breingimnastiek. Om 12 pond 5 sjielings en 8 pennies by 6 pond 3 sjielings en 4 pennies bymekaar te tel, lyk nou soos ’n reusetaak, maar elke laerskoolleerling moes dit destyds kon doen. Daan Desimaal en desimalisasie het in 1961 tot ons redding gekom.

  1. Logaritmes

Tot standerd 6 (deesdae graad 8) was die handberekeninge al gereedskap wat ons gehad het. Wat maal- en deelsomme betref, het daar op hoërskool uitkoms gekom: logaritmes. Om twee getalle met mekaar te vermenigvuldig, slaan jy die logaritme van die getalle na in logaritmetabelle, wat in ’n boekie beskikbaar is.

Die logaritme van ’n getal is die mag waartoe die grondtal (gewoonlik 10) verhef moet word om die getal te gee. Dit kan van die tabelle afgelees word. So byvoorbeeld is 10 0,3010= 2 en dus is log (2) = 0,3010. Ook is 10 0,4771 = 3, dus is log (3) = 0,4771. Om 2x3 te bereken, word die logaritmes van 2 en 3 bymekaar getel, dus 0,3010 + 0,4771 = 0,5072. In die logaritmeboekie is daar ook antilogaritmes, wat die inverse operasie gee. In hierdie geval is antilog (0,5072) = 10 0,5072 = 6,00, wat die korrekte antwoord vir 2x3 is.

Die voordeel van logaritmes is dat twee groot getalle met mekaar vermenigvuldig kan word sonder om deur die tydrowende en onakkurate langvermenigvuldigingsproses te gaan. Die hele proses word dus omskep in ’n optelsom van die logaritmes. Om akkurater bewerkings te kan doen, het landmeters byvoorbeeld ook 7-syfer-logaritmetabelle. Deelsomme kan ook gedoen word deur die logaritmes van mekaar af te trek.

  1. Meganiese optelmasjiene

’n Verdere moontlikheid was om ’n meganiese optelmasjien te gebruik. Deur syfers in te tik en die slinger te draai, word die antwoord uiteindelik verkry. Vermenigvuldiging en deel was ook moontlik deur herhaaldelike bymekaartel of aftrek. Heel ingewikkelde berekeninge kon daarmee gedoen word.[3]

  1. Skuifliniale

Tydens my eerste jaar as ingenieurstudent in 1958 het ek vir die eerste keer kennis gemaak met die skuifliniaal, vir baie jare die ingenieur se beste vriend om komplekse ontwerpsberekeninge mee te doen.[4]

Tipiese skuifliniaal. Die 1 op die onderste skaal op die skuifgedeelte (C) is regoor 2 op die onderste skaal op die vaste gedeelte (D). Die antwoord vir 2x4 (=8) word op skaal (D) afgelees, regoor 4 op skaal (C).

(Die skuifliniaal het aan my dosent, prof A Heydorn, behoort en is deur sy seun, Alain, aan my geleen.)

Die werking van die skuifliniaal berus op logaritmes. Die indelings op die liniaal is nielineêr (logaritmies). Tydens vermenigvuldiging word die lengtes bymekaargetel, sodat die antwoord afgelees kan word. Met die skuifliniaal kan ook gedeel en verskeie ander gevorderde bewerkings uitgevoer word.

Wat die gebruik van ’n skuifliniaal ’n kuns maak, is dat die posisie van die antwoord se desimale komma deur die gebruiker bepaal moet word. As 238 byvoorbeeld met 596 vermenigvuldig word, word die getalle op die skuifliniaal as 2.38 en 5.96 hanteer en die posisie van die? desimale punt moet uitredeneer word.

Tot 1970 was die skuifliniaal die enigste reken-hulpmiddel wat gewone ingenieurs tot hulle beskikking gehad het. Brûe, kragstasies, vliegtuie en veel meer is daarmee ontwerp. Die moontlikhede vir afleesfoute en foute met die bepaling van die posisie van die desimale punt was legio, veral as lang kettingberekeninge gedoen word, waar resultate in opeenvolgende berekeninge gebruik word. So kan foute oorgedra en versterk word.

Vir my, deurmekaar kop wat ek is, was dit ’n gedenkwaardige dag toe ek my skuifliniaal kon wegbêre. Die era van elektroniese rekenaars het aangebreek. Groot elektroniese rekenaars (mainframe computers) was stadig besig om na vore te tree. In die vroeë jare sestig het die Universiteit Stellenbosch ’n IBM 1620-rekenaar in gebruik geneem. Dit is egter slegs vir besonderse projekte gebruik.

Nadat ek my graad as elektriese ingenieur gekry het, is ek deur Eskom na Engeland vir verdere praktiese opleiding gestuur. Daar het ek onder meer geleer oor die gebruik van groot rekenaars om die kragstelsel mee te ontleed.

  1. Elektroniese tafelrekenaars

Toe ek in 1966 na Eskom in Suid-Afrika terugkeer, was die skuifliniaal nog die gewone ingenieur se primêre gereedskapstuk en sakrekenaars soos ons hulle vandag ken, het nog nie bestaan nie. Ek onthou nog hoe ons op ’n dag in ’n kantoor om ’n elektroniese Facit-tafelrekenaar saamgedrom het. Tik 2*3 in en die antwoord verskyn op die skerm. Deesdae kan sakrekenaars wat meer kan doen as daardie tafelrekenaar, spotgoedkoop by supermarkte gekoop word, maar ons was gaande oor die nuwe speelding.

Die syfers op die skerm het helder gegloei en het bestaan uit sogenaamde Nixie gasgevulde buise. Die leeftyd van die elektroniese tafelrekenaars was egter kort, want hulle het met die koms van die sakrekenaar verdwyn.

  1. Sakrenaars

Ek het in 1971 by die Universiteit Stellenbosch aangesluit as ingenieursdosent. In 1972 het Hewlett Packard die HP-35-sakrekenaar bekendgestel en toe ’n dosent aan die einde van 1972 ná ’n studiebesoek aan Engeland terugkeer, het hy ’n HP-35 saamgebring. Dit was manna uit die hemel – met die druk van enkele knoppies kon die moeilikste berekeninge kafgedraf word.

’n Moderne HP 48-sakrekenaar (bron: cesarlins, https://pixabay.com/photos/calculator-hp48-engineering-2830400/)

Die HP-rekenaars het die omgekeerde Poolse notasie gebruik. In plaas van “2+3 =” tik ’n mens “2” ENTER “3”, gevolg deur “+” en die antwoord verskyn op die skermpie.

Na die HP-35 het daar ’n reeks modelle verskyn, elke keer beter (en nie noodwendig duurder nie), onder andere die HP-45, HP-25 en HP-41C. Van die later modelle was programmeerbaar en jy kon jou eie programme daarop stoor of bestaande standaardprogramme gebruik.

Ander vervaardigers het ook aan die sakrekenaarresies deelgeneem, oa Casio en Sharp. My gunsteling was ’n Sharp-rekenaar soos die een hier onder. Dit was programmeerbaar in BASIC, ’n hoëvlak-rekenaartaal (kyk hier onder).

  1. Rekenaartale

Vir my was dit ’n heuglike dag toe rekenaars beskikbaar geword het en ek aan die rekenaar instruksies kon gee om my somme vir my te doen. Sê vir die rekenaar A=3 en B=5 en vra vir die rekenaar: Wat is C=A+B? Die rekenaar gee die antwoord: C=8. Die instruksies word ’n rekenaartaal genoem. Iemand in Engeland het in die sestigerjare goedgunstiglik vir my ’n handleiding oor die rekenaartaal FORTRAN gegee. Dit was lekker leesstof. Daarin is verduidelik hoe instruksies aan ’n rekenaar oorgedra kan word. Die instruksies kan baie kompleks wees met opeenvolgende stappe en instruksies kan herhaaldelik uitgevoer word, soveel keer as wat jy spesifiseer.

’n Vroeë rekenaar (bron: sergeitokmakov, https://pixabay.com/photos/old-computer-8bit-technology-retro-4962269/)

Rekenaars het ’n groot rol in my loopbaan as ingenieur en universiteitsdosent gespeel. Ek was weliswaar nie van die wêreld se beste programmeerders nie, maar die rekenaar was ’n gewillige slaaf om my probleme op te los. Soos reeds genoem, word die instruksies aan die rekenaar oorgedra met behulp van rekenaartale. Instruksies soos dié hier bo, wat vir my verstaanbaar is, word “vertaal” en verwerk (saamgestel, compiled) sodat die rekenaar se elektroniese logika dit kan verwerk.

Die taal Fortran (van Formula Translating System) is geskep deur die groot rekenaarvervaardiger IBM en was een van die eerste rekenaartale. Dit is baie formeel en baie streng daarop ingestel dat die sintaksis reg moet wees, met al die punte en kommas op die regte plek.[5]

Kommunikasie met die groot rekenaars wat ek by Eskom, Wits en Stellenbosch-universiteit gebruik het, was deur middel van geponste kaarte. Die Fortran-program se instruksies word op ’n ponsmasjien ingetik, wat dan die kaarte pons.

Die kaarte word dan by die rekenaar ingevoer om die instruksies uit te voer en die antwoorde word uitgedruk. Tydens my studies by Wits en US het ek nagte by rekenaars deurgebring om ’n beurt te kry om die pakke geponste kaarte deur die rekenaar te stuur en te wag dat die resultate uitgespoeg word.

Later is eenvoudiger en vriendeliker rekenaartale soos Basic[6] vir kleiner rekenaars ontwikkel. Ander meer gesofistikeerde rekenaartale was Pascal[7] en Turbopascal[8] en Matlab.[9] Deesdae is objekgeoriënteerde programme soos Java en Python[10] aan die orde van die dag. Die tale is veral geskik vir gebruik op kleiner rekenaars soos persoonlike rekenaars en mikrobeheerders.

Deesdae kan ingewikkelde berekeninge ook moeiteloos uitgevoer word met sigbladprogramme (spread sheets) soos Excel.[11]

  1. Hoofraamrekenaars, minirekenaars en persoonlike rekenaars

Soos vroeër genoem, het groot maatskappye en universiteite sedert die sestigerjare mettertyd groot hoofraamrekenaars geïnstalleer. Die rekenaars het ook algaande groter en vinniger geword soos wat nuwe tegnologieë in die elektronikabedryf ontwikkel het. Intussen het kleiner rekenaars, die sogenaamde minirekenaars (minicomputers) ook veld gewen. Waar ’n hoofraamrekenaar ’n rekensentrum met operateurs en lugreëling vereis het, kon minirekenaars soos die Varian in ’n laboratorium gehuisves word.

’n Logiese verdere ontwikkeling was die mikrorekenaar en die persoonlike rekenaar (PC). Die persoonlike rekenaar is ingestel op individuele gebruik en het sedert die 1970’s geweldig veld gewen. Aanvanklik was dit ’n lessenaarmodel (desktop model), maar deesdae is die skootrekenaar (laptop) baie algemeen.

Slimfoon se fotobron: ID 6689062, https://pixabay.com/photos/business-computer-mobile-smartphone-2846221/

Die logiese uitvloeisel van al die voorgaande is natuurlik die internet en die wêreldwye web. Google en ander soekenjins lê die wêreld se kennis aan ons voete. Met behulp van webtuistes soos dié van die Wolfram Alpha-soekenjin[12] kan ’n magdom berekenings en wiskundige bewerkings gedoen word.[13]

  1. Ten slotte

Ek staan verstom as ek terugkyk na al die ontwikkelings wat ek beleef het. Ek ag myself gelukkig dat ek in hierdie tydvak kon leef en werk. Terselfdertyd is ek steeds meer beïndruk met die groot ingenieurs en wetenskaplikes wat in die verlede, sonder die hulp moderne rekenaars, soveel kon vermag.

Bronne

[1] https://en.wikipedia.org/wiki/Abacus

[2] https://www.youtube.com/watch?v=Ga1_wuLz0QM

[3] https://en.wikipedia.org/wiki/Adding_machine

[4] https://en.wikipedia.org/wiki/Slide_rule

[5] https://en.wikipedia.org/wiki/Fortran

[6] https://en.wikipedia.org/wiki/BASIC

[7] https://en.wikipedia.org/wiki/Pascal_(programming_language)

[8] https://en.wikipedia.org/wiki/Turbo_Pascal

[9] https://en.wikipedia.org/wiki/MATLAB

[10] https://en.wikipedia.org/wiki/Python_(programming_language)

[11] https://en.wikipedia.org/wiki/Microsoft_Excel

[12] https://en.wikipedia.org/wiki/WolframAlpha

[13] https://www.wolframalpha.com/examples/pro-features/step-by-step-solutions

 

 

The post My lewe met optel, aftrek, maal en deel appeared first on LitNet.

Pasverskyn: 1 Recce, volume 3 deur Alexander Strachan

$
0
0

Titel: 1 Recce, volume 3: Onsigbaarheid is ons krag
Skrywer: Alexander Strachan
ISBN: 9780624088851
Uitgewer: Tafelberg

Die Slag van Cuito Cuanavale is al dekades lank ’n bron van hewige konflik en emosie, maar tot nou toe was min bekend oor die Recces se teenwoordigheid en impak tydens dié omstrede gevegte.

In hierdie laaste boek van die spanningsvolle trilogie oor 1 Recce onthul Alexander Strachan, bekroonde skrywer en self  ’n oud-Recce, meer oor die Recces se betrokkenheid daar.

Propvol spanning, adrenalien, hoogdrama en onvergeetlike vertellings deur oud-Recces wat dié ervarings eerstehands beleef het.

The post Pasverskyn: <em>1 Recce, volume 3</em> deur Alexander Strachan appeared first on LitNet.

Afrikaanse resensies en boekgesprekke in Februarie 2022

$
0
0

Hier is PEN Afrikaans se oorsig van Afrikaanse resensies wat in Februarie 2022 verskyn het en digitaal beskikbaar is. Daar is ook skakels na boekbesprekings of -gesprekke en voorlesings wat op die radio of TV uitgesaai is.

Die volgende resensies en boekverwante artikels het gedurende Februarie in die Afrikaanse dagblaaie verskyn – onder redaksie van Laetitia Pople, die nasionale kuns- en vermaakredakteur, en Jo Prins, nasionale boekeredakteur:

3 Februarie 

Profiel: Versieman glo Afrikaans rym die lekkerste
’n Onderhoud met Philip de Vos

7 Februarie 

Resensie: Oor die oorlog wat aan huis woed
Jonathan Amid resenseer Never Tell a Lie deur Gail Schimmel

Resensie: Roman nie bedoel vir weekhartiges nie
Joan Hambidge resenseer Wit leuen deur Ruan Kemp

Resensie: Nie die gewone selfhelp vol bog
Ilza Roggeband resenseer Get Untamed: The Journal deur Glennon Doyle

Resensie: Powers se literêre ‘cocktail’ van verwondering en droefnis
Bibi Slippers resenseer Bewilderment deur Richard Powers

Sterfteberig: Uitgewer van groot boeke in Afrikaans sterf

10 Februarie

In memoriam: ‘Sjarmante Danie’ se rol in poësie, literatuur én kuns kan nie onderskat word

Profielonderhoud: ‘Harde werk’ lei tot Engela Ovies se 2de roman

Skrywersnuus: Skrywers kan nou aansoek doen
Aansoeke ingewag vir die skrywersresidensie wat die Jakes Gerwel Stigting en PEN Afrikaans aanbied

11 Februarie

Boekenuus: Nog ’n prys wink vir Damon Galgut

12 Februarie

Boekenuus: Annie Olivier neem leisels by Jonathan Ball

14 Februarie

Boekevat: Die hekelskrif-beoefenaar van Fraserburg
’n Rubriek deur Jean Meiring

Resensie: Wagner praat vir die eerste keer Afrikaans
Neil Cochrane resenseer Wat ek van klippe weet deur Jan Wagner (Vertaler: Robert Schall)

15 Februarie

Onderhoud: Duitse wiskundige statistikus vertaal poësie ... in Afrikaans
Elretha Britz in gesprek met Robert Schall

17 Februarie

Profielonderhoud: Nuwe uitgewershoof van Jonathan Ball: ‘Die glas is altyd halfvol’

18 Februarie

Profielonderhoud: Skrywer krap rowe van verlede af in geskiedkundige romans
Charles Smith in gesprek met Marinda van Zyl

20 Februarie

Boekevat: Die lig wat die vrees in die donker verjaag
’n Rubriek deur PP Fourie

Resensie: ’n Lewe oor die grense van rasse, klasse heen
Joan Hambidge resenseer ’n Huldiging: Elsa Joubert – Die verste grens verby (met Thys Human as redakteur)

Resensie: Debuut gryp aan, onthuts
Jonathan Amid resenseer The Man Who Never Was deur Douglas Kruger

Resensie: ‘Outback Noir’ wat gat skop
Sonja van der Westhuizen resenseer Opal Country deur Chris Hammer

21 Februarie

Boekenuus: Vol program vir Saterdag se Adam Small-fees in Pniël

22 Februarie

Boekenuus: Idiome-boek in 4 tale bekend gestel

Boekenuus: Boek wil antwoorde gee oor wat ’n blitsverkoper ‘maak’

23 Februarie

Boekenuus: FAK huldig skrywer van 1ste boek in Afrikaans in Riversdal

26 Februarie

Boekenuus: Bekende skrywers op kortlys van Lapa se jeugromanwedstryd

28 Februarie

Resensie: Karakters wat jou nie los nie
Louise van der Merwe resenseer Anderkant die blou deur Zelda Bezuidenhout

Resensie: Psigopaat los in die strate van Pretoria
Willemien Aukema resenseer Minder as niks deur Irma Venter

Resensie: Diepgaande ontleding van die Russiese aard
Leopold Scholtz resenseer Assignment Moscow deur Gerrit Olivier

Resensie: ’n Aangrypende tydkapsule
Francois Bekker resenseer Halley’s Comet deur Hannes Barnard

Boekenuus: 100 neem deel aan fees vir skrywers
Nuusberig oor die Time of the Writer-fees

 

Die volgende Afrikaanse resensies en skrywersonderhoude het in Februarie op LitNet verskyn:

Luuk Gruwez: Weerbare weemoed, uit Nederlands vertaal deur Hennie van Coller

Mission of malice: My exodus from KwaSizabantu deur Erika Bornman: ’n lesersindruk

Tao van wakker word – spirituele gids tot innerlike ontwaking deur Abel Pienaar: ’n lesersindruk

Om alleen te gaan deur Nicole Jaekel Strauss: ’n LitNet Akademies-resensie-essay

Bientang, soveel meer as ’n weggooi-opmerking teen die kakapusa

Madame Livingstone deur Barly Baruti en Christophe Cassiau-Haurie, ’n resensie

Ons het ver [...] versit deur Patrick J Petersen: ’n boekresensie

Die teenoorgestelde is net so waar deur Azille Coetzee: ’n resensie

Vrugbeginsel deur De Waal Venter: ’n resensie

’n Skeppie Kleur en karamel vir jou vrugteslaai

Grootgeluk: ’n onderhoud met Jan van Tonder

Philip de Vos en Piet Grobler gesels oor Tokkelossiebossie en ander dol gedoentes

Die volgende resensies het gedurende Februarie in Rapport, onder redaksie van Johan van Zyl, verskyn:          

6 Februarie

Resensie: Annelise Erasmus bespreek Iewers êrens deur Willem Pretorius

Resensie: Ivoor deur Jaco Wolmarans, geresenseer deur Fanie Olivier

Nuut op die rak: “Eg Suid-Afrikaanse leesavonture”

  • Douglas Kruger se debuutroman, The man who never was;
  • A. Davids se How Top Be a Revolutionary;
  • Alistair Mackay se distopiese debuutroman, It doesn’t have to be this way; en
  • Fred Khumalo se vyfde roman, Two Tons o’ Fun

13 Februarie

Resensie: Jean Meiring resenseer Kaap deur Hans Pienaar

Resensie: Magdel Vorster oor Tokkelossiebossie en ander dol gedoentes deur Philip de Vos met illustrasies deur Piet Grobler

Resensie: Jonathan Amid bespreek Kry vir jou: ’n Ludo Labuschagne-wiedoenit #2 deur François Bloemhof

Nuut op die rak: “Akademie huldig Elsa Joubert”

Elsa Joubert: Die verste grens verby, met prof. Thys Human, redakteur en samesteller

20 Februarie

Resensie: Louise Viljoen resenseer Wit leuen deur Ruan Kemp

Uittreksel: Wit leuen deur Ruan Kemp

Nuut op die rak: “Suid-Afrika in ’n neutedop”

  • Matthew Blackman en Nick Dall se Spoilt ballots: The Elections that Shaped South Africa, from Shaka to Cyril en
  • A History of South Africa: From Past to Present met prof. Fransjohan Pretorius as redakteur

Nuut op die rak: “Gedugte gedigte”

  • Vrugbeginsel deur De Waal Venter;
  • wyle Thomas Deacon se Minjonet en bitterbos;
  • Cas Vos se Afrikaanse vertaling van Dante Alighieri se Inferno uit Italiaans;
  • Teen Helderberg deur Louis du Plessis; en
  • Narreskip deur Johan Myburg

27 Februarie  

Resensie: Jean Meiring resenseer Retoervloot: Kaapstad en die VOC in 1913 deur Dan Sleigh

Resensie: Annelise Erasmus resenseer Koöperasiestories: 30 gunstelingstories – die allerbeste doepa teen beswaardheid deur P.G. du Plessis

Nuut op die rak: “Lesse vir die lewe”

  • Jen Thorpe se Adulting 101: How to survive the real world
  • Love and Above: A journey into shamanism, coma and joy deur Sarah Bullen

 

Die volgende resensies het gedurende Februarie op Maroela Media, onder redaksie van Suné van Heerden, verskyn:

1 Februarie

14 maal moord

Hierdie skrywer het die vermoë om sy lesers te laat gril met sy goed nagevorste bundels moordstories – “14 maal moord” bevat die opspraakwekkende ware verhale van Suid-Afrikaanse moordenaars.

Lees die resensie deur Louise Viljoen.

8 Februarie

Van Humpata tot Upingtonia

Min mense is vertroud met die gebeure rondom Upingtonia. Nicol Stassen keer dat hierdie interessante stuk geskiedenis oor die hardnekkige deursettingsvermoë en onverskrokke durf van ons voorouers vir die nageslag verlore gaan. 

Lees die resensie deur Louise Viljoen.

15 Februarie

Kom ons praat oor die huwelik

Die boek is uit ’n onbeskaamde Christelike oogpunt geskryf vir die wedergebore gelowige wat erns maak met God en Hom wil verheerlik deur ’n godvrugtige huwelik te bou.

Lees die resensie deur Louise Viljoen.

22 Februarie

Grootgeluk

‘Grootgeluk’ is ʼn verwewing van geskiedenis en fiksie, van die politiek van die dag, van gemeenskapswaardes en van vergrype, van blinde ambisie en noodlottige eenogigheid

Lees die resensie deur Johan Myburg.

Marinda se kinderkombuis

Hierdie kookboek is vir kinders en nie vir grootmense nie! In hierdie oulike boek leer kinders van kosmaak, wiskunde, wetenskap, lees en skryf, aardrykskunde, kuns, geskiedenis en gesondheidsleer.

Lees die resensie deur Louise Viljoen.

23 Februarie

Boek van die maand: Die waarde van stil bure

In ʼn bespreking van ʼn lekker spanningsverhaal bederf ʼn mens nie leesplesier met die weggee van gegewens oor die verloop van die verhaal nie. Dis die voorreg van die leser om agter die kap van die byl te kom in dié tweede roman van Zelda Bezuidenhout.

Lees die resensie deur Johan Myburg.

Klyntji.com is ’n onafhanklike webjoernaal wat op kuns en kultuur fokus. Resensies en boekverwante artikels verskyn onder redaksie van Francois Lion-Cachet.

20 Februarie

Vroue, maar ook mans in Azille Coetzee se Die teenoorgestelde is net so waar
’n Feministiese blik op die roman deur Klara du Plessis

Potgooie van die volgende boekgesprekke, wat gedurende Januarie op RSG uitgesaai is, kan afgelaai word by:

https://www.rsg.co.za/rsg/potgooi-episode/?series=4793

Woensdag 2 Februarie

Ons vind meer uit van Marinda van Zyl se nuutste roman Veldhospitaal 12. Vandag is Wêreldvoorleesdag, en Erika Lourens, die Laerskool Eikestad se pas afgetrede en baie inspirerende biblioteekjuffrou, gee raad om kinders aan die lees te kry en te hou. Jy kan ook uitvind waar om gratis kinderstories af te laai ter viering van Wêreldvoorleesdag.  Johan Myburg het nuus oor die Bookerpryswenner Keri Hulme, wat onlangs oorlede is, en Colm Tóibín se aanwysing as Ierland se amptelike skrywer. Hy vertel ook van ’n splinternuwe, opwindende en boonop gratis manier om James Joyce se Ulysses te geniet.

Woensdag 9 Februarie

Luister na ’n argiefonderhoud met die digter en skrywer Thomas Deacon, wat onlangs oorlede is. Die nuwe direkteur van die ATKV-skryfskool aan die Noordwes-Universiteit, prof. Thys Human, vertel van sy planne om kreatiewe Afrikaanse skryfwerk te bevorder. Johan Myburg vertel meer oor Hannah Lowe, ‘n Britse digter, wat pas aangewys is as die wenner van die Costa-boek van die jaar prys, die verbanning van die strokiesroman MAUS, en wat 100 jaar gelede in 1922 in die internasionale letterkunde gebeur het. Jy kan selfs die stem van die Britse digter TS Elliot hoor.

Woensdag 16 Februarie

Luister na ’n bekendstelling van Dan Sleigh (bekend vir sy bekroonde geskiedkundige romans soos 1795, Eilande, Afstande en Wals vir Matilda) se jongste nie-fiksie boek Retoervloot. Dit is gebaseer op ’n voorheen onontdekte skeepsjoernaal van ‘n VOC-vlootadmiraal. Sleigh vertel van sy werk as geskiedkundige, en hoe dit gebeur het dat hy ook fiksieskrywer geword het.

Woensdag 23 Februarie

Ilse Salzwedel gesels met Ronelda Kamfer oor haar debuutroman Kompoun. Johan Myburg het nuus oor die Suid-Afrikaanse skrywer Damon Galgut se nuutste benoeming vir ‘n groot internasionale prys vir sy boek The Promise, en jy kan uitvind watter drie skrywers word deur PEN Amerika vereer vir hulle bydrae tot die letterkunde. Johan vertel ook meer oor die skrywer PJ O’Rourke, wat onlangs oorlede is.

Potgooie van die poësievoorlesings, wat gedurende Januarie op RSG uitgesaai is, kan afgelaai word by:

https://www.rsg.co.za/rsg/potgooi-episode/?series=4896

Dinsdag 1 Februarie

Die akteur, musikant en stemkunstenaar Pieter van Zyl lees van sy gunsteling verse voor. Jy kan uitsien na gedigte deur Totius, Sheila Cussons, Petra Müller, Carina Stander, Adam Small, Breyten Breytenbach asook Shakespeare-sonnette in Afrikaans vertaal.

Dinsdag 8 Februarie

Die digter en akademikus, Bernard Odendaal, kuier in die ateljee vir nog ‘n aflewering van ʼn reeks wat fokus op plekke en streke, wat as tema of gebeureruimte dien in die poësie van ʼn verskeidenheid Afrikaans digters – op die digterskontreie van Afrikaans, as’t ware. Die tema en gedigte wat ons gekies het, het te make met die lieflike Overberg. Jy kan uitsien na gedigte deur Daniel Hugo, Ronelda Kamfer, Petra Müller, Pirow Bekker, S.V. Petersen, Melanie Grobler, Marlene van Niekerk, Breyten Breytenbach, Gerhard Bothma en P.J. Philander.

Dinsdag 15 Februarie

Juanita Swanepoel lees liefdesgedigte voor uit Cas Vos se bundel, Onder die vlerke van jou liefde. Daar is ’n vertaling van die Hebreeuse Hooglied in Afrikaans, asook liefdesgedigte uit antieke Egipte. As slotbeweging dek die digter se eie liefdesgedigte die skoonheid van die liefde met verwondering oop.

Dinsdag 22 Februarie

Die bekroonde digter, omroeper en vertaler, Daniel Hugo, lees verse voor uit die tien bundels wat hy uit Nederlands vertaal het in Afrikaans. Daniel se vertalings van Vlaamse en Nederlandse skrywers se werk word beskou as baanbrekerswerk en verruim die Afrikaanse digkuns. Sy vertalings is teksgetrou, dog soepel en bied aan Afrikaanse lesers ’n wonderlike geleentheid om toegang te verkry tot werk wat ons andersins dalk nooit sou hoor of lees nie.

Boekkeuse, Fine Music Radio

Elke maand gesels Amanda Botha in hierdie boekeprogram met ’n skrywer of twee oor hul nuutste publikasie. Die besprekings word gekombineer met korter boekresensies wat strek oor ’n wye verskeidenheid van genres in die Afrikaanse letterkunde.

In hierdie episode word bestrek opgeneem van boeke wat die leeslus prikkel en jou nooi om te deel in die avontuur van boeke. Die ateljeegas is Irna van Zyl wat veral indruk gemaak het met haar krimi-romans. Sy gesels met Riette Rust oor haar jongste roman, Op ’n mooi dag, en vertel dat sy alreeds so gevorder het dat ’n volgende boek teen die einde van die jaar by die uitgewers sal wees.

’n Potgooi van die program is hier beskikbaar: https://www.fmr.co.za/podcasts/boekkeuse/

Joan Hambidge se blog, Woorde wat weeg, is ’n webtuiste waar dié digter-literator sowel gedigte as boekbesprekings, rubrieke en gedagtes rondom die letterkunde versamel en aanbied:

http://joanhambidge.blogspot.co.za/

Op hierdie webblad, wat gewy word aan die Afrikaanse digkuns en gesprek rondom die poësie, vind besoekers al die mees onlangse resensies en onderhoude in die regterkantste kiesbalk. In dié kiesbalk is ook skakels na nuwe gedigte en blogs oor die poësie.

24 Februarie

Resensie: Stefan van Zyl resenseer Smee deur Gerhard Barkhuizen

The post Afrikaanse resensies en boekgesprekke in Februarie 2022 appeared first on LitNet.

Nuut by Best Books: Pret met Afrikaans Eerste Addisionele Taal in Graad 1 – Werkboek deur Mart Meij en Glaudina Rossouw

$
0
0

Die werkboek is ontwikkel volgens die vereistes van die kurrikulum (KABV).

Aandag word gegee aan woordeskat wat die kind hardop moet herhaal sodat dat die kind teen die einde van die grondslagfase vlot kan praat en leesstof in Afrikaans kan lees. Die werkvelle en oefenbladsye, wat die kind saam met die praatwerk moet doen, bied geleentheid vir inoefening en inskerping. Die inhoudsopgawe dui duidelik aan wanneer aktiwiteite voltooi moet word.

Klik hier vir meer inligting oor dié publikasie.

The post Nuut by Best Books: <i>Pret met Afrikaans Eerste Addisionele Taal in Graad 1 – Werkboek</i> deur Mart Meij en Glaudina Rossouw appeared first on LitNet.

Nuut by LAPA: Cowboy Koekemoer van die Klein Karoo – 5-in-1 omnibus deur Henry Ferreira en Alistair Ackermann

$
0
0

Cowboy Koekemoer en sy getroue kameelperd, Shorty, is terug en hulle is gereed om die dag te red. Al moet hulle die dag red terwyl hulle met vakansie is. Daar is vier voorheen vrygestelde titels in hierdie versameling, asook ’n splinternuwe storie. Titels wat ingesluit is in die omnibus: Cowboy Koekemoer van die Klein Karoo; Cowboy Koekemoer en die seerower van Watsenaam; Cowboy Koekemoer van die Klein Karoo en die petrolpadda; Cowboy Koekemoer van die Klein Karoo en die soutwatergogga; en Cowboy Koekemoer van die Klein Karoo en die Skobbejakkals.

Klik hier vir meer inligting oor dié publikasie.

The post Nuut by LAPA: <i>Cowboy Koekemoer van die Klein Karoo – 5-in-1 omnibus</i> deur Henry Ferreira en Alistair Ackermann appeared first on LitNet.

Nuut by LAPA: Kattemaai 1: Die bure se nuwe dogter deur Betsie Vos

$
0
0

Die bure het ’n nuwe dogter. Waar kom sy vandaan, en hoekom lyk sy so baie na Annabel, die kat wat weggeraak het? Boonop is hierdie buurmeisie se naam óók Annabel ... Mila besluit om ondersoek in te stel. Maar haar boetie Jannus spring haar voor en steel Annabel se menswordmiddel. Hy voer dit vir sy aaklige troeteldier, Rottes, net om te kyk wat gebeur. Katastrofe!

Betsie Vos is die skrywersnaam van ’n bekende Suid-Afrikaanse kinderboekskrywer wat al verskeie titels in die mark het.

Klik hier vir meer inligting oor dié publikasie.

The post Nuut by LAPA: <i>Kattemaai 1: Die bure se nuwe dogter</i> deur Betsie Vos appeared first on LitNet.

Nuut by LAPA: Kattemaai 2: Annabel gaan skool toe deur Betsie Vos

$
0
0

Mila se nuwe maat moet skool toe gaan. Maar sal sy weet hoe om haar soos ’n regte dogtertjie te gedra? Juffrou Kadawer jaag Annabel sommer dadelik uit die klas oor haar vreemde katmaniere. Maar waar kom hierdie nuwe juffrou vandaan, en hoekom is sy op Rottes se spoor? Die toorpolisie keer die maats vas, en dan laat val Jannus ’n vuurhoutjie op die verkeerde plek ...

Betsie Vos is die skrywersnaam van ’n bekende Suid-Afrikaanse kinderboekskrywer wat al verskeie titels in die mark het.

Klik hier vir meer inligting oor dié publikasie.

The post Nuut by LAPA: <i>Kattemaai 2: Annabel gaan skool toe</i> deur Betsie Vos appeared first on LitNet.


Nuut by Protea: Die Smooie en die Smoue deur Julia Donaldson en Axel Scheffler

$
0
0

Vertaal deur Jaco Jacobs

Op ’n verre planeet ontmoet twee jong ruimtewesens mekaar – en raak dolverlief. Maar Fleur is ’n Smooi en Fanie is ’n Smou. En almal weet Smooie en Smoue kan nie maats wees nie. Wat sal hulle families doen as hulle uitvind wat aangaan? Die Goorgomgaai-skeppers Julia Donaldson en Axel Scheffler gooi ’n draai ver buite ons planeet met dié prettige storie oor twee verliefde ruimtewesens. Maak jou gereed vir sprankelende rym, skreeusnaakse illustrasies – en ’n romantiese storie uit die buitenste ruimte.

Klik hier vir meer inligting oor dié publikasie.

The post Nuut by Protea: <i>Die Smooie en die Smoue</i> deur Julia Donaldson en Axel Scheffler appeared first on LitNet.

Nuut by Human & Rousseau: Dagboek van ’n dork 5 deur Rachel Renée Russell

$
0
0

Vertaal deur Kobus Geldenhuys

Dagboek van ’n dork is vir almal wat al ooit soos die grootste dork in die wêreld gevoel het. ’n Reeks oor Nikki Maxwell en haar lewe vol drama en dinge.

Mackenzie wil haar rubriek gebruik om stories oor Brandon te versprei. Nikki besluit om by die koerant te werk om haar dop te hou. Maar later voel dit of SY hulp nodig het. Kan sy byhou en vir Mackenzie keer?

Lees Nikki se dagboek en maak reg om die dork in jou ’n drukkie te gee!

Klik hier vir meer inligting oor dié publikasie.

The post Nuut by Human & Rousseau: <i>Dagboek van ’n dork 5</i> deur Rachel Renée Russell appeared first on LitNet.

Nuut by Human & Rousseau: Speurder Kwaaikofski 14: Afbeen en lang vingers deur Jürgen Banscherus

$
0
0

Vertaal deur Kobus Geldenhuys

Kwaaikofski lê met ’n gebreekte been in die hospitaal. En boonop besteel ’n dief almal op die kindervloer. Kwaaikofski begin die saak ondersoek – al is sy been in gips. Hy maak Monty, die seun met wie hy ’n kamer deel, sy assistent. Monty kan oral rondloop, maar hy kan nie praat nie, want sy kakebeen is gebreek. Hierdie saak gaan ’n tameletjie wees, maar Kwaaikofski laat hom nie onderkry nie!

Klik hier vir meer inligting oor dié publikasie.

The post Nuut by Human & Rousseau: <i>Speurder Kwaaikofski 14: Afbeen en lang vingers</i> deur Jürgen Banscherus appeared first on LitNet.

Nuut by LAPA: Roet deur Hannes Barnard

Nuut by LAPA: Poppie Viool en die Swartwoud-arende deur Jan Vermeulen

$
0
0

Poppie Viljoen is op pad na die Swartwoud Kinderhuis toe nadat eers haar ouma en toe haar oupa oorlede is. Sy is alleen. En al wat sy oorhet, is ’n viool wat al lank in die familie is. Van die oomblik dat sy by die kinderhuis aankom, hoor sy die gerugte van spinnekoppe wat so groot is soos katte, en oor die mensvreter-arende ... Poppie steur haar nie veel daaraan nie, tot sy een aand voorgestel word aan professor Mancini, ’n pratende portret. Hy is eintlik ’n musiekonderwyser. Hy help Poppie om te ontdek dat haar viool baie spesiaal is ... en dat die musiek van haar viool die krag het om mensvreter-arende se harte te verander sodat hulle uiteindelik weer mense word. Hierdie boeiende storie word pragtig vertel deur die bekroonde skrywer Jan Vermeulen. Die storie van Poppie Viool sal lesers herinner aan die krag van musiek en liefde!

Klik hier vir meer inligting oor dié publikasie.

The post Nuut by LAPA: <i>Poppie Viool en die Swartwoud-arende</i> deur Jan Vermeulen appeared first on LitNet.

Netrebko en die nuwe kultuurboikot

$
0
0

......

Een van die groot name wat die aandag getrek het, is dié van Anna Netrebko, ’n Russiese sopraan, wie se kontrak met die Metropolitan Opera in New York opgeskort is. Sy het haar wel teen die inval uitgespreek. [S]y wou haar egter nie nadruklik van Poetin distansieer nie.

......

1

Luidens ’n onlangse berig in The New York Times plaas kulturele instellings Russiese kunstenaars toenemend onder druk om die oorlog in Oekraïne te veroordeel én hulle van Wladimir Poetin te distansieer. Dit alles stuur op ’n botsing af waar hierdie instansies gedwing word om oor vryheid van spraak te besin. Daar word gevra of kultuurinstansies die reg het om kunstenaars se beskouings oor sulke omstrede sake aan indringende ondersoek te onderwerp.

Een van die groot name wat die aandag getrek het, is dié van Anna Netrebko, ’n Russiese sopraan, wie se kontrak met die Metropolitan Opera in New York opgeskort is.

Die Metropolitan Opera in New York (Foto: Professorcornbread [CC BY-SA 4.0], via Wikimedia Commons)

Sy het haar wel teen die inval uitgespreek: "Ek is gekant teen hierdie sinlose oorlog van aggressie en ek doen ’n beroep op Rusland om hierdie oorlog onmiddellik te beëindig om ons almal se ontwil. Ons het nou vrede nodig." Sy wou haar egter nie nadruklik van Poetin distansieer nie. Vir die bestuur van die Met was haar weiering net een te veel en hulle paaie moes skei: "Anna is een van die grootste sangers in die geskiedenis van die Met, maar met Poetin wat onskuldige slagoffers in Oekraïne doodmaak, was daar net nie ’n uitweg nie." Haar plaasvervanger vir die komende speelvak van Puccini se Turandot is die Oekraïnse sopraan Liudmyla Monastyrska.

Anna Netrebko in 2014 (Foto: Christian Michelides [CC BY-SA 4.0], via Wikimedia Commons)

Op haar beurt verklaar Netrebko dat dit "nie nou die tyd is om musiek te maak en op te tree nie" en kanselleer voorlopig haar onmiddellike optredes vir Maart en April. Die kansellasies is vir haar "’n uiters moeilike besluit", maar sy rep geen verdere woord oor haar verbintenisse nie. Haar webblad lys geen verklarings nie, slegs haar opnames en toekomstige optredes. Sy voorsien klaarblyklik dat die Russiese militêre aanslag teen die einde van Mei sy beloop sou geneem het; dat die onmiddellike aandrang van kultuuradministrateurs agter die rug sal wees en dat sy soos voorheen haar optredes in die operahuise van Parys, Milaan, Frankfurt en Wene sonder veel belemmering sal kan voorsit.

Sy voel haar oënskynlik verbonde aan Poetin as die verpersoonliking van ’n moderne Rusland. Daar dra sy die eretitel "Volkskunstenaar van Rusland" en in 2008 het Poetin haar prestasies as operaster beloon met die hoogste eerbewys, die Staatstoekenning van die Russiese Federasie. Sy het duidelik ook simpatie met die pro-Russiese separatiste in Donetsk, die betwiste oostelike streek in Oekraïne. In 2014 het sy ’n skenking van een miljoen roebel aan die operahuis in Donetsk gemaak.

Sy is nie die enigste gesiene persoonlikheid wat ’n intens persoonlike keuse moes maak nie. Binne die bestek van ’n paar dae na die inval is talle afsprake in die dagboek van die befaamde dirigent Valery Gergiev, wat ’n jare lange vriend en ondersteuner van Poetin is, gekanselleer. Hieronder tel sy kontrak as hoofdirigent van die München Filharmoniese Orkes en sy deelname aan ’n fees in Rotterdam wat na hom vernoem is. Sy bestuurder, Marcus Felsner, het intussen besluit om hom nie meer as kliënt te verteenwoordig nie. Hy verlaat hom met woorde van bewondering en onbegrip: Gergiev "is die grootste lewende dirigent en ’n buitengewone mens met ’n diep sin vir ordentlikheid", maar "wil nie, of kan nie in die openbaar sy lank-uitgesproke ondersteuning van ’n regime wat sulke misdade pleeg, veroordeel nie".

Dit is maar twee voorbeelde van welbekende kunstenaars met aantoonbare bande met die Russiese leier wat hulle nie so ver kon bring om hulle óf teen die inval óf teen Poetin of beide uit te spreek nie. Daar is tien teen een talle gewone burgers, minder bekende kunstenaars, sportlui en akademici vir wie sulke persoonlike keuses net so moeilik is.

2

Daar is diegene wat hulle vroeg teen die inval uitgespreek het. Die uitgeweke Russiese romanskrywer Mikhail Sjisjkin rig ’n ope brief aan Oekraïners waarin hy vergifnis vra. Hy onderskei tussen Rusland die land en Poetin die diktator: "Ek is ’n Rus. Wladimir Poetin pleeg verskriklike misdade in my naam, in die naam van my mense en in die naam van my land. Poetin is nie Rusland nie. Rusland is gewond en skaam. In die naam van my Rusland en my mense smeek ek die Oekraïners om vergifnis."

In ’n tyd waarin daarop aangedring word om te jouself te verklaar, vra Sjisjkin wat ’n skrywer kan doen: "Die enigste ding wat jy kan doen, is om jou stem duidelik te laat hoor. Stilte is steun vir die aggressor … Die Oekraïners veg vir hulle vryheid teen Poetin se weermag, maar ook vir ons vryheid. Hulle verdedig nie net hulle eie menswaardigheid nie, maar ook die waardigheid van die mensdom."

In die stryd om gehoor te word, sal die letterkunde vir Sjisjkin voortbestaan en doen wat dit moet doen. "Letterkunde het nie nodig om te handel oor Poetin nie. Letterkunde het nie nodig om oorlog te verduidelik nie … Letterkunde is dit wat teenoor oorlog staan. Ware letterkunde handel altyd oor die mens se hunkering na liefde en nie na haat nie."

Op die webblad Troitsky Variant onderteken meer as 7 750 Russiese navorsers en wetenskapjoernaliste ’n ope brief en dring daarop aan dat die Russiese weermag uit Oekraïne moet onttrek. Een van die dryfvere vir die oorlog is volgens Poetin om Oekraïne te "denazifiseer". Die ondertekenaars wys dié beweegrede sonder meer af: "Ons vaders, oupas en oupagrootjies het saam geveg teen Nazisme, en om ’n oorlog te ontketen vir die geopolitieke ambisies van die leierskap van die Russiese Federasie, aangedryf deur historiosofiese fantasieë, is ’n siniese verraad teen hulle nagedagtenis."

Die ondertekenaars kom tot die gevolgtrekking dat Rusland hom met hierdie inval "tot internasionale isolasie verdoem het. Dit het gedegenereer tot ’n paria … Dit beteken ons kan nie meer ons werk op ’n normale wyse doen nie, omdat wetenskaplike navorsing ondenkbaar is sonder die medewerking en vertroue van kollegas in ander lande. Die isolasie van Rusland beteken kulturele en tegnologiese agteruitgang vir ons land met ’n totale gebrek aan enige positiewe vooruitsig. Die oorlog met Oekraïne is ’n pad na nêrens."

3

Die bekendste sport-, akademiese en kultuurboikot is van die 1970’s tot die 1990’s teen Suid-Afrika ingestel. Dit was in wese ’n totale boikot, goedgekeur deur die VN, wat beteken het dat die land heeltemal van buitelandse skakeling, mededinging en samewerking afgesny moes word. Ons kunstenaars was verhoed om internasionaal op te tree en ons sportlui se enigste hoop om mededingend deel te neem het ver in die verskiet gelê. Beroemde oorsese kunstenaars het die land vermy en akademiese uitwisseling was uitermate beperk. Die kunstenaars of sportlui wat wel hier te lande opgetree of deelgeneem het, is as verraaiers en apartheidondersteuners bestempel en hul name is op die VN se swartlys geplaas. Oorsese professionele sportlui wat die boikot verbreek het, het nie net hul aansien verloor nie, maar ook enige hoop op voortgesette professionele loopbane.

Tans is daar geen georkestreerde boikotbeweging teen Russiese kunstenaars, sportlui of akademici nie. Wat plaasvind, in die geval van Netrebko en andere, is voorkomende aksies deur kultuuradministrateurs wat hul eie belange wil beskerm. Hoe langer die oorlog egter aanhou, en hoe intenser die ekonomiese en politieke sanksies teen die Russiese Federasie word, hoe groter word die moontlikheid van ’n wydverspreide boikotaksie teen Russiese kunstenaars, sportlui, akademici en navorsers. Die Russiese navorsers is in hul ope brief per implikasie bewus van hierdie wesenlike moontlikheid: "[W]etenskaplike navorsing [is] ondenkbaar [...] sonder die medewerking en vertroue van kollegas in ander lande."

Die oorlog het vir talle Russiese kunstenaars en sportlui ’n onuithoudbare morele dilemma geword. Aan die begin van 2022 het hulle gewoon hulle gang gegaan, en nou word hulle voor die keuse gestel om hul politieke sentimente, belange en verbintenisse te verklaar en hul onomwonde standpunt in te neem oor die inval in Oekraïne en oor Poetin. Selfs die reg om geen besliste mening te hê nie, plaas hulle onder verdenking.

Daar is by kunstenaars of sportlui waarskynlik geen twyfel dat die aandrang van kultuuradministrateurs dat hulle uitsprake oor politieke kwessies moet maak, onredelik is nie. Hulle het geen aandeel aan die besluite van die Russiese regering of sy leier nie. Kritiese uitsprake en optrede teen die regering en sy leier stel hulle lewensonderhoud in gevaar, omdat baie van hulle van die staat afhanklik is. Vir die artistieke direkteur van Carnegie Hall is dit nie aanvaarbaar om die politieke standpunte van kunstenaars te verneem nie. "Wanneer mense in ’n totalitêre staat leef soos (hierdie kunstenaars), vra jy die onmoontlike, omdat jy iemand vra om sy lewe op die spel te plaas." Die bedreiging van ’n misdaadsrekord is genoeg om mense hulle woorde te laat tel, soos in die geval van die moedige Russiese navorsers wat die oorspronklike Russiese teks van hul ope brief van die webblad Troitsky Variant verwyder het, met die volgende woorde: "Daar is niks krimineel in die teks van die brief nie, maar as gevolg van die nuwe wetgewing, wat eintlik die strengste sensuur instel, verwyder ons die teks."

Die nagevolge van ’n boikot is verreikend – vir almal. In Suid-Afrika kan sportlui getuig van die jare van uitsluiting en verlore kanse. Ons kultuurhorisonne sou soveel breër gewees het met blootstelling aan ’n groter verskeidenheid kunstenaars, opvoerings en boeke. In die akademiese wêreld is ons universiteite en navorsers armer gelaat, omdat internasionale netwerke byna nie bestaan het nie of met agterdog bejeën is. Suid-Afrikaners se invloed tydens die boikotjare was insgelyks beperk en in sekere opsigte selfs onbeduidend. Sonder die boikot kon sake so anders gewees het. Selfs dertig jaar na die afskaffing van die boikot dra ons nog die gevolge daarvan. Dit neem jare om die nagevolge van ’n algehele boikot en ’n staat van beleg af te skud en volwaardig aan internasionale uitwisseling deel te neem.

Die algehele boikotstrategie van destyds is vervang met geteikende sanksies en boikotaksies met betrekking tot die inval in Oekraïne. Dit beteken dat hoofsaaklik die magselite rondom Poetin en sy prominente ondersteuners in die visier kom. Russiese kunstenaars, sportlui, navorsers en akademici wat buite daardie sfeer van invloed beweeg, behoort nie aan boikotaksies onderwerp te word nie.

In die geval van Suid-Afrika was die internasionale boikot nie net simbolies nie. Dit het wesenlik tot ’n oop en demokratiese samelewing bygedra. Die gevolge van geteikende kultuursanksies en -boikotte op lede en meelopers van die magselite in die Russiese Federasie mag egter in hoofsaak simbolies wees, maar dit is belangrik dat afkeuring gedemonstreer word, ter wille van die handhawing van internasionale reg en, in die woorde van Mikhail Sjisjkin: "die waardigheid van die mensdom".

4

Nader tuis. Ons beleef ’n tyd waarin ersatzkenners van Russies-Oekraïnse betrekkinge en militêre strategie om elke bos uitgeskop kan word. Daar is meningsvormers wat op sosiale media en elders die inval regverdig. Hul oordeel kan meesal toegeskryf word aan vermeende ideologiese verbondenheid en/of die voormalige Sowjetunie se ondersteuning van die stryd teen apartheid en/of naslepe van die Koue Oorlog. Hulle vergeet terselfdertyd gerieflikheidshalwe dat Oekraïners as inwoners van die Sowjetunie indertyd solidêr in die anti-apartheidstryd gestaan het. Hulle skryf hul steun vir die inval toe aan die vermeende geregverdigde aansprake van Rusland of variasies van die dade of omissies van "die Weste/Europa/Navo/Amerika" of die historiese wandade van laasgenoemde elders. Hulle lees en bekyk die nuusberigte van die "Westerse media" téén die grein en soek naarstig vir nuuskanale, berigte, video’s en uitsprake om hul eie vooroordele te regverdig.

Dan is daar diegene in hoë posisies wat swyg of weier om ’n keuse na die een of die ander kant toe te maak. Om hul uit te spreek beteken ’n morele keuse. Dit kan hulle nie, want Oekraïne is ’n verre land wat slegs op TV-skerms verbyflits, en waarom sal hulle hul die verdriet aantrek? Aansprake van neutraliteit is egter geen onverbondenheid nie, maar ’n keuse vir onreg. So ’n houding ondermyn enige aansprake wat ons as individue en ’n land mag hê op vryheid, menswaardigheid, gelykberegtiging en medemenslikheid oor die wêreld heen.

Ons kyk na dieselfde beelde en lees dieselfde berigte en sien verwoesting en aangrypende lyding. Die vernietiging van ’n land, die verwildering en verstrooiing van burgerlikes kan nie met afstandelike staatsmanskap en teoretiese formulering verklaar word nie; nog minder kan die lyding en dood van onskuldiges vergoeilik word.

Wat ook al die uiteinde van die oorlog, ’n onwelkome voetnoot gaan voortaan die sangloopbaan van Anna Netrebko kenmerk: "Tydens die inval in Oekraïne het sy geweier om onomwonde standpunt teen Poetin as aggressor in te neem." Iewers in die toekoms sal sy wel sê "Ek is jammer, ek was verkeerd", maar haar naam sal beklad bly en talle operaliefhebbers gaan ánders na haar luister as voor 24 Februarie 2022.

Lees ook:

Oekraïne: Berigte te velde

The post Netrebko en die nuwe kultuurboikot appeared first on LitNet.

Moet nooit ’n mislukking onderskat nie! 

$
0
0

Moet nooit ’n mislukking onderskat nie! 

(Opvolg van “Oekraïne: Die storie kom van ver af!”)

.......

Die opskrif verwys na die dreigende teenstrydigheid van die Russiese blitzkrieg wat na net drie dae vasgeval het in ’n klaarblyklik uitgerekte stryd met dapper Oekraïnse teenstand.

.......

Geskiedenis en strategiese studies as dissiplines beoordeel tradisioneel militêre optredes by nabaat, wanneer tyd verloop het om die lesse geleer en foute begaan in perspektief te plaas. Met die skryf hiervan het twee weke verloop sedert die Russe Oekraïne militêr binnegeval het en is die luukse van tyd nie aan my kant nie. Die proses verloop so dinamies, die humanitêre krisis is so intens, en die nuwe tendense is so ingrypend dat ’n opvolg noodsaaklik is. Dit is tans winter in Oekraïne en bitter koud en dit sneeu, met temperature wat wissel tussen 6 en –6 grade Celsius, om die inval ook in menslike terme in konteks te plaas, ten spyte van die globale onsekerheid en opwelling van ’n pro-Oekraïnse en anti-Russiese sentiment.

Die opskrif verwys na die dreigende teenstrydigheid van die Russiese blitzkrieg wat na net drie dae vasgeval het in ’n klaarblyklik uitgerekte stryd met dapper Oekraïnse teenstand. Die Russiese teiken blyk tans die hoofstad Kiëf te wees, wat dan beheer oor Oekraine sal simboliseer. Alle aanduidings is dat die Russe die kompleksiteit van die inval op militêr-strategiese vlak onderskat het, maar ook as gevolg van ander faktore, soos die feit dat 80% van die invalsmag uit dienspligtiges bestaan. Die dreigende element van die mislukking is geleë in die feit dat die Russe oor ’n oorweldigende lugoormag, ’n uitgebreide kubervermoë en honderde kruisermissiele beskik en geen geheim maak van hulle kernvermoë nie. Hierdie vermoëns is nog nie op skaal aangewend nie. Die Russiese kernvermoë, beide takties en strategies, is tans die afskrikmiddel wat Navo-lande daarvan weerhou om direk militêr betrokke te raak, maar dit is ’n berekende spel, gebou rondom beperkende eskalasie van die konflik. Die waarde van ’n kernvermoë lê juis in die afskrikpotensiaal daarvan en nie in die gebruik daarvan nie, en beide kante weet dit.

’n Paar merkwaardige verwikkelinge het oor die afgelope twee weke die lig gesien. Die eerste is die rol van China, wat steeds neutraal in die agtergrond bly. Selfs in die VN se Algemene Vergadering-stemming op 4 Maart 2022 het China, soos Suid-Afrika en 33 ander lande, buite stemming gebly. China het Rusland gevra om dringend na die onderhandelingstafel te gaan en vrede met Oekraïne te sluit. Waarom sal China nie tot die konflik toetree nie? kan gevra word. Die antwoord is geleë in China se siening van sy eie interne situasie en om sy ekonomie te laat bly groei om sodoende vir sy groter wordende middelklas te kan sorg. China se belang is in ’n stabiele wêreldekonomie en ’n stabiele internasionale handelstelsel van in- en uitvoere. As daar egter een land is wat die Russe na onderhandeling sal kan dwing, is dit die Chinese en nie die Amerikaners nie.

Die tweede merkwaardige verskynsel is dat die Westerse moondhede hulle stem teruggekry het teen die onmenslike en berekende Russiese inval. Dit was nie die geval in 2014 met die anneksering van die Krim, waar 2022 se inval éintlik sy oorsprong het nie. Nie alleen het daar ’n opwelling van teenstemme ontstaan nie (so byvoorbeeld stem 141 uit 193 lande in die VN se Algemene Vergadering teen die inval), maar die betrokke partye stem daaroor saam dat baie sterk strafmaatreëls gevolg moet word, iets wat nie in 2014 die geval was nie. Alhoewel die stemming in die Algemene Vergadering nie afdwingbaar is nie, het dit baie sterk morele waarde. Suid-Afrika verstaan dit baie goed. In 1962 besluit die Algemene Vergadering dat apartheid ’n misdaad teen die mensdom is, maar dit is ’n niebindende besluit, maar met sterk morele impak – individue, organisasies, maatskappye en lande implementeer dit op hulle eie as gevolg van die moraliteit van die besluit. Iets soortgelyks het gebeur met die besluit van die Algemene Vergadering oor Oekraïne.

Poetin (Grafika: Victoria_Borodinova, via Pixabay.com)

Die derde merkwaardige ontwikkeling was die omvang van sanksies teen Rusland en die Russiese leierskap onder Wladimir Poetin. Die omvang is groter as teen Suid-Afrika voor 1990, groter as teen Iran met sy kernambisies, en meer omvangryk as teen Hugo Chavez se Venezuela. In 2014 het sanksies teen Rusland ná die anneksering van die Krim-skiereiland nie optrede teen olie en gas ingesluit nie en die finansiële strafmaatreëls was omseilbaar. Daar word selfs genoem dat die huidige pakket finansiële en ekonomiese strafmaatreëls gelykstaande is aan ’n soort ekonomiese kernbom wat teen Rusland gebruik is. Daar is beperkinge op die Russiese reserwebank en die meeste handelsbanke, Rusland is afgegradeer na ver benede rommelstatus, en die Russiese geldeenheid het reeds meer as die helfte van sy waarde verloor. Al die fyn berekende voorbereidings wat Poetin getref het om Rusland teen Westerse ekonomiese sanksies te beskerm, is binne twee weke uitgewis.

Hierdie optrede het natuurlik wedersydse implikasies. Die verbod op Russiese olie- en gasaankope het die prys van olie laat verdubbel en in die meeste lande, ook in Suid-Afrika, is die brandstofprys op die oomblik op historiese hoogtepunte. Die konflik het die prys van kommoditeite soos goud, platinum, palladium, titaan, neon en andere ook die hoogte laat inskiet. Goud word gewoonlik gesien as ’n veilige hawe in tye van onsekerheid, maar die koste van olie, palladium en platinum word gedryf deur die feit dat Rusland ’n belangrike verskaffer is. Dieselfde geld natuurlik vir landbouprodukte soos koring, mielies en sonneblom, omdat beide Rusland en Oekraïne groot verskaffers is en die huidige oeste in gevaar is en die lewering uit Odessa aan die Swart See ’n groot risiko inhou.

Wat egter nuut is in terme van die toepassing van sanksies, is die toepassing daarvan deur nieregeringsorganisasies, individue en internasionaal bekende maatskappye. Boeing en Airbus het besluit om nie hulle vliegtuie in Rusland te ondersteun nie; McDonald’s het sy 850 kitsrestaurante gesluit; Ford, Coca-Cola en Apple het opgehou om handel te dryf in Rusland; en BP, asook Shell, het besluit om nie meer Russiese olie en gas aan te koop nie. Hierdie besluite is nie deur regerings afgedwing nie, dit is deel van die opwelling teen Russiese aggressie teen Oekraïne. Bogenoemde reaksies verleen aan die gebeure in Oekraïne ’n swartswaaneffek. ’n Swartswaangebeurtenis is iets wat sonder waarskuwing gebeur. COVID-19 was ’n klassieke voorbeeld hiervan. Die wêreld was bewus van die spanning tussen Rusland en Oekraïne, maar hoe die proses ontvou het, gee daaraan ’n swartswaankarakter.

’n Vierde merkwaardige tendens was die rol van die media en die sosiale media. Dit sluit die beperkings op media in wat in Rusland van krag is, sodat die algemene publiek in Rusland van mening is dat die Russiese optrede ’n militêre operasie is en nie ’n ekspansionistiese inval in die grondgebied van ’n soewereine staat nie. Die moderne wêreld is egter so digitaal verbind en aaneengeskakel dat dié tipe media-isolasie nooit volledig kan wees nie, en in Rusland is verskeie mense reeds in aanhouding oor hulle openbare optrede teen Poetin se oorlog. Buite die mediaborrel binne Rusland is dit egter ’n ander storie, waar joernaliste ons feitlik permanent soos realiteit-TV op die gevegsfronte bring. Die meeste moderne selfone beskik ook oor kamera- en videofasiliteite en dit word in megagrepe die wêreld ingestuur deur platforms soos Facebook, TikTok, Twitter en ander. Op hierdie punt kan genoem word dat die Suid-Afrikaanse Naspers en Prosus omvangryke digitale belange in Rusland gehad het tot voor die inval en ongeveer R10 miljard van sy 25,7%-aandeel afgeskryf het in die Russiese VK-groepe met sosialemedianetwerke soos VKontakte (met 70 miljoen maandelikse gebruikers) en Odnoklassniki. 

Wat kan verder van die konflik verwag word? Aanvullend tot die scenario’s wat in die eerste artikel geskep is, kan nog twee belangrike uitkomste bygevoeg word. Die eerste is die moontlike partisie van Oekraïne in ’n oostelike en ’n westelike gedeelte as deel van ’n vredesooreenkoms. Partisie is ’n baie omstrede politieke oplossing en die Pakistan-Indië-model van 1947 of die skeiding tussen Ethiopië en Eritrea in 1993 dien as voorbeelde. Meer onlangs kan die Soedan-Suid-Soedan-skeiding van 2011 genoem word, omdat die partisiemodel met afskeiding die konflik moes besleg het, maar eintlik net eras van langdurige onvrede ingelui het. Die partisiescenario vir Oekraïne bied dus aan Rusland beheer oor die oostelike gedeelte van Oekraïne, waarskynlik met die Dnieperrivier as grens, en Kiëf en Odessa in Russiese hande. Dit laat die westelike deel van Oekraïne met Lwif as hoofstad dus die ruimte toe om met die Europese Unie saam te werk.

Nog ’n scenario wat sterker na vore tree, is die Finlandisering van Oekraïne as ’n neutrale land tussen Oos en Wes. Die model vir hierdie scenario is die geskiedenis van Finland sedert die Russiese Revolusie na 1917, maar veral na die Tweede Wêreldoorlog. Finland was deel van Rusland, maar is aangevuur deur ’n nasionalisme en patriotisme om as outonome staat te funksioneer, soos geïllustreer deur Jean Sibelius se Finlandia, en moes uiteindelik die knie buig voor Rusland na die Tweede Wêreldoorlog. Die vrede met die USSR het beteken dat Finland die streke Karelia, Salla en Petsamo aan Moskou moes sedeer en dat Finland as neutrale land buite enige militêre ooreenkomste teen die USSR moes bly. Finland het egter deel van die Europese Unie as ekonomiese blok geword. Militêr het Finland sy neutraliteit behou. Dit is tot vandag die status quo, al is Finland die vervaardiger van uitstekende wapens, soos Sako, Tikka en die pantservoertuig Patria, en al gebruik Finland die AK-47 (AKM) as standaard aanvalsgeweer, asook verskeie Russies-vervaardigde tenks en troepedraers. Hierdie Finlandisering van Oekraïne word deur baie as die enigste sinvolle uitkoms van die huidige konflik gesien wat Oekraïne sal toelaat om ekonomies na Brussel te kyk maar militêr-strategies en polities geen bedreiging vir Moskou sal inhou nie.

Waar laat hierdie konflik ons na die eerste paar weke? Niemand kan die huidige olieprys bekostig nie en dit laat die wêreld met net twee opsies: Vernuwe en verander gedrag met betrekking tot energieverbruik aan die een kant; of soek so gou as moontlik ’n politieke oplossing vir die geskil. Uit ervaring weet ons dat politieke onderhandelinge slegs plaasvind as beide partye besef dat hulle ’n skaakmatsituasie bereik het, en dit blyk nog nie die geval te wees nie. Poetin het dit reggekry om nasionalisme in Oekraïne te stimuleer en globale weersin in sy optrede te smee. Hy het dit reggekry om Navo nuwe lewe te gee en al 30 lidlande in dieselfde rigting te laat kyk.

Verder is dit duidelik dat energievernuwing tans op dieselfde vlak is as wat die soeke na ’n vaksien was met die uitbreek van COVID-19. In 1973 het ons gedink die Midde-Oosterse oliekrisis sou ’n einde maak aan ’n wêreldekonomie wat op olie gebou is, maar die Russiese inval in Oekraïne het ons nou veel nader aan hierdie werklikheid gebring. Die wêreld is nou onomkeerbaar op soek na hernubare energiebronne, iets wat geen omgewingsaktivis nog kon regkry nie.

Ons sien voor ons hoe die militêre sofistikasie en oormag van die Russiese weermag grootliks vertraag en gestuit word deur toegewyde, dapper en patriotiese Oekraïners wat na 1991 nie weer onder Russiese beheer wil staan nie. Ons sien voor ons ’n enorme humanitêre krisis hom afspeel met letterlik miljoene mense wat vlugtelinge in buurlande word. Ons sien voor ons hoe die Russiese ekonomie verbrokkel en hoe lande wat afhanklik is van Russiese olie en gas inderhaas alternatiewe bronne probeer ontgin. Die uitdaging waarvoor wêreldleiers te staan kom is om te verhoed die humanitêre krisis groter word en dat die streekskonflik eskaleer in groter ekonomiese en politieke vraagstukke. In onderhandelinge is dit soms nodig om jouself in die skoene van die teenkant te plaas en die wêreld deur sy of haar oë te bekyk. Ons is nie ver van daardie punt, waar dit in die wêreld se belang gaan wees om te verhoed dat Poetin met sy politieke ambisies die inploffing van Rusland kan veroorsaak nie. Die implikasies van hierdie moontlikheid is waarskynlik te omvangryk om behoorlik te begryp (en ook too ghastly to contemplate) en juis daarom moet ons die mislukking van die Russiese blitzkrieg in Oekraïne met die grootste moontlike omsigtigheid benader. Daar is geen militêre oplossing in hierdie konflik nie.

Lees ook:

Oekraïne: Die storie kom van ver af

Oekraïne: Berigte te velde

The post Moet nooit ’n mislukking onderskat nie!  appeared first on LitNet.


Afrikaans Eerste Addisionele Taal, graad 12: vraestel en memo

$
0
0

Fotobron: Darkmoon_Art, https://pixabay.com/photos/a-book-gift-rose-table-background-3246278/

In graad 12 lê jou toekoms soos hierdie dagboek oop voor jou. Dit wag net vir jou om die volgende hoofstuk te skryf. Behaal sukses met die skryf van jou Afrikaans Eerste Addisionele Taal-vraestel. Hier is ’n gratis oefenvraestel en memo deur Dewald Koen om jou met jou voorbereiding te help.

Klik hier om die vraestel in PDF-formaat af te laai.

Klik hier om die memo in PDF-formaat af te laai.

The post Afrikaans Eerste Addisionele Taal, graad 12: vraestel en memo appeared first on LitNet.

LitNet: Jou nuwe kultuurboikot

Vonnisbespreking: Deliktuele aanspreeklikheid weens ’n gladde winkelvloer

$
0
0

Vonnisbespreking: Deliktuele aanspreeklikheid weens ’n gladde winkelvloer
Holtzhausen v Cenprop Real Estate (Pty) Ltd 2021 4 SA 221 (WKK)

Johann Neethling, Departement Privaatreg, Universiteit van die Vrystaat

LitNet Akademies Jaargang 19(1)
ISSN 1995-5928

Die artikel sal binnekort in PDF-formaat beskikbaar wees.

 

Abstract

Delictual liability as a result of a slippery shop floor

In this case the court confirmed established legal principles in connection with the delictual liability of the owner or governing body of a shopping mall vis-à-vis visitors sustaining injuries when they slip and fall on the shop floor (the so-called ‘slip and trip’ cases). According to the boni mores the owner or other person or entity in control of a mall has a legal duty to take reasonable steps to ensure that its premises are reasonably safe for members of the public who might frequent them. A failure to take such steps will constitute wrongful conduct, but that in itself will not suffice to impose delictual liability as fault (negligence) is also required. In this regard the traditional reasonable foreseeability and preventabiliy test (of negligence) is applied. It is indeed reasonably foreseeable that spillages will from time to time occur on the floors of shops. The question arises as to the reasonable steps that should be taken to prevent visitors from being injured by slipping and falling on the floor. In this regard a distinction must be made between spillages and instances where floors are inherently unsafe or dangerous because of their condition or composition. (In Holtzhausen such a situation occurred: during rain the tile floors of the mall was extremely slippery when they were wet.) As regards spillages the duty to take reasonable steps is not so onerous as to require that every spillage must be discovered and cleaned up as soon as it occurs. Nevertheless, it does require a system which will ensure that spillages are not allowed to create potential hazards for any material length of time, and that they will be discovered, and the floor made safe, with reasonable promptitude. Howewer, as regards floors which are inherently dangerous under certain circumstances, the owner or governing body should have permanent safety measures in place when a dangerous situation arises, so that the risk of injuries can be eliminated completely.

Where the owner or governing body appoints an independent contractor to assist in cleaning the mall’s floors and removing all spillages, these entities will only be liable for damage caused by the contractor if they themselves committed a delict. In thIs regard the fact that they knew beforehand of the dangerous situation play an important role.

Keywords: boni mores, governing body, independent contractor, legal duty, negligence, rainwater, shop floor, shop owner, spillage

Trefwoorde: beheerliggaam, boni mores, nalatigheid, onafhanklike kontrakteur, onregmatgheid, reënwater; regsplig, stortsel, winkeleienaar, winkelvloer

 

1. Inleiding

Dit is gevestigde reg dat ’n persoon wat versuim om te verhoed dat ’n ander skade ly, in die reël nie deliktueel onregmatig handel nie. “The general rule of delict is that no one is held liable for doing nothing” (Saaiman v Minister of Safety and Security 2003 3 SA 496 (O) 503). Onderliggend aan dié uitgangspunt is die gedagte dat niemand sy broer se hoeder is nie (Minister van Veiligheid en Sekuriteit v Geldenhuys 2004 1 SA 515 (HHA) 528). Positief gestel, is sodanige late dus prima facie regmatig (sien bv. Telematrix (Pty) Ltd t/a Matrix Vehicle Tracking v Advertising Standards Authority SA 2006 1 SA 461 (HHA) 468). Daarom moet daar in elke besondere geval waar aanspreeklikheid weens ’n late ter sprake kom, eers bepaal word of daar ’n regsplig was om positief op te tree ten einde benadeling te vermy (sien Neethling en Potgieter 2020:60–2; Loubser en Midgley 2017:186; Van der Walt en Midgley 2016:115–6), en dit word beantwoord aan die hand van die redelikheids- of boni mores- onregmatigheidsmaatstaf (ibid.). In Lee v Minister for Correctional Services 2013 2 SA 144 (KH) 167) stel die Konstitusionele Hof dit soos volg (sien ook Neethling en Potgieter 2020:39–40):

In [Minister van Polisie v] Ewels [1975 3 SA 590 (A) 597] it was held that our law had reached the stage of development where an omission is regarded as unlawful conduct when the circumstances of the case are of such a nature that the legal convictions of the community demand that the omission should be considered wrongful. This open-ended general criterion has since evolved into the general criterion for establishing wrongfulness in all cases, not only omission cases.

Vir sover dit die sogenaamde gly-en-val (“slippery shop floor”- of “spillage”-) beslissings aangaan, die volgende: Uiteraard kan enige stortsel op ’n winkelvloer waar die publiek toegang het, ’n gly-en-val-besering veroorsaak. Stortsels wat reeds in die howe ter sprake was, sluit in ’n oliekol (Checkers Supermarket v Lindsay 2009 4 SA 459 (HHA)), ’n boontjie (Monteoli v Woolworths (Pty) Ltd 2000 4 SA 735 (W)), ’n klamheid of water (Avonmore Supermarket CC v Venter 2014 5 SA 399 (HHA)), nat politoer (Alberts v Engelbrecht 1961 2 SA 644 (T)), ’n koolblaar (Gordon v De Mata 1969 3 SA 285 (A)), en roomys (Jones v Maceys of Salisbury (Pty) Ltd 1982 2 SA 139 (Z)). Sien Holtzhausen vn. 7 vir verdere voorbeelde.

Daar is eenstemmigheid in die regspraak dat daar ’n regsplig op winkeleienaars rus om die besering van klante weens gly op die winkelvloer te voorkom. Daar word dus redelikerwys van hulle verwag om voorkomende maatreëls in hierdie verband te tref. (sien bv Checkers (HHA) 461; Probst v Pick ’n Pay Retailers (Pty) Ltd [1998] 2 All SA 186 (W) 200; Avonmore 404; Chartaprops 16 (Pty) Ltd v Silberman 2009 1 SA 265 (HHA) 274–5; Brauns v Shopright Checkers (Pty) Ltd 2004 6 SA 211 (OK) 217; Swinburne v Newbee Investments (Pty) Ltd 2010 5 SA 296 (KZN) 303). Hier is die feit dat die winkeleienaar feitelike beheer gehad het oor ’n potensieel gevaarlike toestand, naamlik die winkel waar klante op gladde vloere kan gly, aanduidend van die bestaan van die regsplig (sien Neethling en Potgieter 2020:71 vn. 188; Neethling 2009:750; vgl. Gower 2011:687–8; Chartaprops 274–5). In Probst (200) (sien ook Lindsay v Checkers Supermarket 2008 4 SA 634 (N) 637; vgl. Chartaprops 274–5) word die regsplig soos volg omskryf:

It is trite law as confirmed in judgments from our courts over an extensive period, that shopkeepers owe a duty to persons entering their shops during trading hours, to take reasonable steps to ensure that, at all times during trading hours, the floor was kept in a condition that was reasonably safe for shoppers, bearing in mind that they would spend much of their time in the shop with their attention focused on goods displayed on the shelves, or on their trolleys, and not looking at the floor to ensure that every step they took was safe.

Nieteenstaande herhaling (sien Neethling 2009:750–1) moet beklemtoon word dat alhoewel hierdie diktum in die algemeen instemming verdien, word die betrokke regsplig ongelukkig so omskryf dat dit onregmatigheid en nalatigheid omspan. Die indruk word naamlik geskep dat die regsplig te make het met die vraag of die verweerder redelike veiligheidstappe gedoen het al dan nie; dit wil sê of hy soos die redelike persoon in die omstandighede gehandel het – dus die vraag na nalatigheid. Ten onregte. Dit kan tot gevolg hê dat die kern van die onregmatigheidstoets negeer word, naamlik of daar volgens die boni mores ’n regsplig bestaan het – oftewel of daar redelikerwys van die betrokkenene verwag kon word – om positief op te tree ten einde die aantasting van ’n regtens beskermde belang (hier die fisiese-psigiese integriteit) te voorkom. In die lig hiervan behoort die howe hul benadering in hersiening te neem en die twee delikselemente duidelik te onderskei, soos appèlregter Nugent in Chartaprops 274–5 waar hy verklaar dat “[i]t seems to me that it is reasonable to expect a person in control of a shopping mall to ensure that reasonable precautions are taken to keep the floors safe and is liable if those precautions are not taken by a person whom he or she has appointed to do so” (my kursivering). Sodoende word ’n duidelike onderskeid gemaak tussen die redelike verwagting dat stappe gedoen sal word (die regsplig-onregmatigheidskwessie) en die redelikheid van die uitvoering daarvan (die nalatigheidsvraag) (sien ook Neethling en Potgieter 2015:168‒9). Alhoewel ’n mens by die beoordeling van sowel onregmatigheid as nalatigheid met ’n objektiewe redelikheidsmaatstaf te make het, word hierdie maatstaf by elk verskillend toegepas. (sien hieroor Neethling en Potgieter 2020:193–6). Dit geld veral gevalle waar die redelikheid van optrede, anders as wat in Le Roux v Dey 2011 3 SA 274 (KH) 315 te kenne gegee word, wel in die konteks van onregmatigheid ’n rol kan speel (Neethling en Potgieter 2020:99–100). Hierdie onderskeid kan soos volg met betrekking tot aanspreeklikheid van die winkeleienaar verduidelik word. Sy omissio of late om glyery op die winkelvloer te voorkom, is onredelik en bygevolg onregmatig omdat daar volgens die boni mores ’n regsplig op hom gerus het om positief op te tree ten einde benadeling te voorkom en hy versuim het om die regsplig (volkome) na te kom. Indien hy egter wel (onsuksesvol) gepoog het om die regsplig na te kom en sy poging met dié van die redelike persoon ooreenstem, gaan sy (onredelike) onregmatige handeling nie met (onredelike) nalatige optrede gepaard nie (skade was nie redelikerwys voorkombaar nie) en is hy nie aanspreeklik nie.

Hoe ook al, uit verreweg die meerderheid uitsprake oor die glipperige winkelvloer-gevalle blyk duidelik dat die howe die bestaan van ’n regsplig – en dus onregmatigheid – as ’n gegewe aanvaar en dat die verdere ondersoek net die vraag na nalatigheid betrek. Hier word die klassieke redelike voorsien- en voorkombaarheidstoets vir nalatigheid, soos omskryf in Kruger v Coetzee 1966 2 SA 428 (A) 430, as uitgangspunt aanvaar en toegepas, en wel soos volg (sien Probst 200; sien ook Avonmore 402 e.v.; Brauns 217–8 Lindsay (N) 635–6; Chartaprops 275):

The duty on the keeper of a supermarket to take reasonable steps is not so onerous as to require that every spillage must be discovered and cleaned up as soon as it occurs. Nevertheless, it does require a system which will ensure that spillages are not allowed to create potential hazards for any material length of time, and that they will be discovered, and the floor made safe, with reasonable promptitude.

Baie sake het te make met gevaarskepping deur stortsels (soos Probst en Brauns) wat nie ontdek is nie en die fokus was op die sisteem wat in plek is om sodanig morsels op te spoor en daarmee te handel. Dit spreek vanself dat die stelsel nie net toereikend moet wees nie, maar inderdaad ook nagekom moet word (Chartaprops 275). Die toereikendheid van die stelsel as geheel moet uiteraard in ag geneem word (Lindsay (N) 638). In Avonmore 404–5 het die hof te doen gehad met ’n roetiene skoonmaakproses (die gereelde mop van vloere in die winkel) wat nie na behore uitgevoer is nie. Die skoonmaker moes toegesien het dat die deel van die vloer wat hy pas gemop het, droog geword het voordat hy na ’n volgende deel aangeweeg het, of minstens klante met ’n waarskuwingteken daarop attent gemaak het die vloer nog glibberig of nat was. Die vraag na nalatigheid sal dus van die omstandighede van elke geval afhang.

Waar die winkeleienaar die taak om die besigheid skoon van stortsels te hou aan ’n onafhanklike kontrakteur (lashebber) opgedra het, sien die posisie anders daaruit. Die winkeleienaar kan naamlik net aanspreeklik gehou word vir skade wat die lashebber veroorsaak het indien eersgenoemde self ook ’n delik begaan het (Chartaprops 284; sien ook Neethling 2009:752–3; vgl. Langley Fox Building Partnership (Pty) Ltd v De Valence 1991 1 SA 1 (A) 7 e.v.; Neethling en Potgieter 2020:455–6; Loubser en Midgley 2017:470–3, Van der Walt en Midgley 2016:59; sien die bespeking hier onder afdeling 2).

Teen hierdie agtergrond kan die beslissing in Holtzhausen onder die loep geneem word. Hierdie beslissing is veral belangrik omdat dit verskil van die vorige beslissings wat oor stortsels gegaan het terwyl daar hier sprake was van winkelvloere wat weens hul samestelling inherent gevaarlik of onveilig is wanneer hulle nat is.

 

2. Die Holtzhausen-beslissing

In hierdie saak het die eiseres in reënweer met haar 11 maande oue baba in haar arm by ’n winkelsentrum ingestap om geld by ’n OTM te trek. Daar was ’n geel waarskuwingsteken vir ’n nat geteëlde vloer by die ingangsdeur en die eiseres het opgelet dat die vloer nat en glibberig was. Sy het stadig die sentrum inbeweeg maar na ongeveer twintig tree het haar voete onder haar uitgegly en sy het geval. Ten einde haar baba te beskerm, het sy haar regterarm uitgestrek om haar val te breek, daarop geland, en haar elmboog beseer.

Die eiseres beweer dat die verweerders (die eienaar van die winkesentrum (A) en die beheerliggaam (die maatskappy wat die entrum bestuur (B)) onregmatig en nalatig opgetree het omdat hulle geweet het of behoort te geweet het dat die ingangsarea van die sentrum glibberig word wanneer dit nat is en ’n gevaar vir die publiek inhou. Desnieteenstaande het hulle versuim om voldoende voorkomende stappe te doen om die gevaar uit die weg te ruim.

Hierop ontken die verweerders dat hulle nalatig of onregmatig (hulle het geen regsplig teenoor die eiseres gehad wat hulle verbreek het nie) gehandel het. Hulle het naamlik ’n bekwane en professionele kontrakteur (C) aangestel om die winkelkompleks te onderhou, skoon te maak, en voortdurend te kontroleer, veral die vloeroppervlaktes van die wandelgange ten einde te verseker dat hulle skoon en nie gevaarlik vir die publiek sal wees nie. Maatreëls in hierdie verband sluit daaglikse inspeksies, waarskuwingstekens en immer voldoende skoonmakers in.

Ten aanvang bevestig die hof (parr. 22 e.v.) die regsbeginsels wat in casu ter sprake is, te wete dat A of B ’n regsplig het om redelike voorsorgmaatreëls te tref vir die veiligheid van lede van die publiek wat die winkelsentrum besoek. Die omvang van die maatreëls sal van die omstandighede afhang. Alhoewel nie-nakoming van die regsplig onregmatige optrede aan die kant van A (of B) daarstel, moet hierdie persoon of entiteit ook met culpa (minstens nalatigheid, die redelike voorsien- en vookombaarheid van skade soos beskryf in Kruger v Coetzee hier bo in afd. 1; sien ook Neethling en Potgieter 2020:164–7) gehandel het ten einde deliktuele aaspreeklikheid te vestig. Regter Sher (par. 24) kom tot die volgende slotsom:

Thus, in summary, the owner or person or entity in control of a mall will only potentially be liable for harm or danger which would have been foreseeable to the hypothetical reasonable man in its position, and is obliged to take no more than reasonable steps to guard against such harm occurring.

Of die stappe wat gedoen is redelik is, sal van die omstandighede afhang en dit behels ’n waardeoordeel deur die hof. Daar word algemeen aanvaar dat redelike stappe gedoen moet word om te verseker dat die vloere van ’n winkelsentrum redelik veilig is. Dit gebeur al te dikwels dat vloere onveilig word omdat iets daarop val wat dit glibberig maak (die sg. “spillage”-sake). Daarom is dit redelikerwys voorsienbaar dat waar dit plaasvind, klante beseer kan word as hulle gly en dat die persoon in beheer dus voorkomende stappe moet doen om hulle te beveilig (sien Avonmore par.15 waar beslis is dat dit redelik voorsienbaar is dat ’n persoon kan gly en val weens ’n klam of nat vloer). Met verwysing na Probst 200 (aangehaal hier bo) beklemtoon die hof egter dat bedoelde stappe nie so veeleisend moet wees nie dat daar van die winkelier verwag word om elke stortsel dadelik te ontdek en op te klaar. Al wat vereis word, is dat die winkelier ’n sisteem in plek het wat sal verseker dat stortsels nie vir ’n wesenlike tydsduur ’n potensiële gevaar vir klante inhou nie en daarom ontdek en spoedig verwyder moet word. Regter Sher (par. 30) kom tot die volgende slotsom:

In the light of this test, spillage cases are all about the nature and extent of the cleaning system and regime which was in place at the time when, and at the place where, the plaintiff slipped and fell; and the evidence which is led in this regard is directed at dealing with the issue of whether or not the measures which were in place to deal with spillages, were reasonable.

Soos gesê (hier bo in afdeling 1), word die taak of verantwoordelikheid om die wandelgange en vloere van ’n winkelsentrum skoon te hou en stortsels te verwyder dikwels deur A of B (die lasgewer) kontraktueel aan ’n onafhanklike skoonmaak-agentskap (C) (die kontrakeur of lashebber oorgedra, en die vraag ontstaan of A of B dan aanspreeklikheid kan vryspring vir ’n eis wat spruit uit C se versuim om sy skoonmaakverpligtinge na te kom (sien hieroor die indringende bespreking van ons regspraak en veral ook van relevante Engelse beslissings deur regter Sher parr. 33 e.v). Die huidige posisie kan soos volg saamgevat word. Die lasgewer word net aanspreeklik gehou vir skade wat die lashebber veroorsaak het indien eersgenoemde self ook ’n delik begaan het. Dit is onder andere die geval waar daar ’n gevaar van skadeberokkening aan derdes (die winkelklante) aan die lashebber se taak verbonde was en die lasgewer nalatig versuim het om die gevaar af te weer (sien Neethling en Potgieter 2020:455 vir verwysings). Of die lasgewer aanspreeklik is, word volgens Langley Fox 11–2 (sien ook regter Sher parr. 40–5 se bespreking van Langley Fox) aan die hand van die volgende drie vrae beantwoord:

(1) Would a reasonable man have foreseen the risk of danger in consequence of the work he employed the contractor to perform? If so, (2) would a reasonable man have taken steps to guard against the danger? If so, (3) were such steps duly taken in the case in question?

Nou is dit egter so dat, op die keper beskou, hierdie benadering die winkelier (lasgewer) se aanspreeklikheid net van sy nalatigheid afhanklik stel sonder om ook die vraag na onregmatige optrede aan sy kant pertinent te beantwoord; en hier kom die regspligbenadering by aanspreeklikheid weens ’n late ter sprake wat, soos gesê, volgens die boni mores-maatstaf bepaal moet word – oftewel aan die hand daarvan of daar redelikerwys van die winkelier verwag kon word om op te tree. By die vasstelling van die regsplig speel veral die feit dat die winkelier van die gevaarlike toestand geweet het ’n belangrike rol (sien Neethling en Potgieter 2020:456).

Vervolgens verwys die hof (parr. 46–52) na die beslissing van die verhoorhof in Chartaprops waar die kwessie van A se aanspreeklikheid vir die optrede van C pertinent ter sprake was. Hier het die eiseres gegly op ’n stortsel wat vir meer as 30 minute op die vloer gelê het en haarself beseer. Die hof beslis dat A en C gesamentlik en afsonderlik vir haar skade aanspreeklik is; laasgenoemde omdat die skoonmaakstelsel (in navolging van Probst) onvoldoende was omdat die stortsel nie binne ’n redelike tyd verwyder is nie, en die eienaar op grond van sy middellike aanspreeklikheid.

In appèl word die beslissing van die verhoorhof verander. Appèlregter Ponnan is van mening dat A se aanspreeklikheid vir optrede van C aan die hand van die beginsels vervat in Langley Fox beoordeel moet word. Dit is naamlik dat A die sorg moet uitoefen wat die omstandighede verg. Waar die situasie dus ’n abnormale hoë risiko van benadeling inhou, sal A groter sorg aan die dag moet lê om voorsienbare skade af te weer; en omgekeerd waar die risiko van benadeling klein is. In Chartaprops het A die verpligting om die supermark se vloere skoon te hou en te beveilig aan ’n bekwame C opgedra wat oënskynlik ’n bevredigende skoonmaakproses geïmplementeer het. A het ook C se nakoming van sy verpligtinge gereeld gemonitor en kon geensins geweet het van die gebrekkinge uitvoering daarvan op die dag van die ongeluk nie. In die omstandighede was A glad nie te blameer vir die ongeval nie aangesien hy redelike stappe gedoen het ten einde te verseker dat die vloere van die sentrum veilig sou wees. Die Hoogste Hof van Appèl beslis dat aangesien die ongeval net aan die nalatige versuim van C toegeskryf kan word, hy alleen aanspreeklik is vir die die skade wat die eiseres gely het.

Hierna gee regter Sher (parr. 53–7) aandag aan die uitspraak van die hof a quo in Holtzhausen. Dié hof beslis dat die regsbeginsels wat in Probst, Avonmore en Chartaprops uiteengesit is, ook in casu van toepassing is. Die hof kom tot die slotsom dat aangesien die verweerders die verpligting om die supermark se vloere skoon te hou en te beveilig aan ’n bekwame C opgedra het, hulle nie vir die eiseres se skade aanspreeklik gehou kan word nie. C het op die betrokke dag die “ultimate responsibility” of regsplig gehad om te verseker “that it was safe for the plaintiff to venture into the mall with her children”, maar omdat C nie as ’n verweerder betrek is nie, het die aksie gefaal.

Regter Sher (par. 58) stem egter nie saam nie. Volgens haar rus die regsplig om redelike stappe te doen om die sentrum te beveilig primêr op A en/of B en nie op C nie. Laasgenoemde is normaalweg net verplig om stortsels binne ’n redelike tyd te verwyder. Dit was ook die geval in die saak onder bespreking. Hier was C nie verplig om vloere droog te maak wanneer hulle as gevolg van reën nat en onveilig of gevaarlik word nie. Daar is net vereis (par. 61) dat C die vloere vry van stortsels (soos vloeistof wat soms toevallig daar beland) skoon moet hou.

Sy vervolg (parr. 64, 69):

In my view the court a quo therefore erred fundamentally in its characterization of the matter as one involving what might, for the sake of convenience, be referred to as a ‘cleaning’ issue, rather than one involving a hazardous situation. As a result of this, it wrongly treated the matter as if it was a spillage case, and wrongly applied to it the principles which are applicable in such cases, as set out in Probst and Chartaprops… In the circumstances this was not a matter where the adequacy of [C se] cleaning system was in issue, as the plaintiff’s fall was not occasioned by a failure on the part of the cleaners to detect the water on the tiles and to remove it with ‘reasonable promptitude’, as is the case in spillage matters. Put simply, and using the language which was adopted in Chartaprops one cannot fairly blame the cleaners for what happened. The fault, if any, can only lie with the owner and the managers of the mall.

Dit is duidelik dat A en B die regsplig gehad om redelike stappe te doen ten einde te verseker dat die sentrum en die vloere daarvan veilig is vir diegene wat dit betree (par. 70). Dit blyk dat die bestuurder van die promenade (C), wat deur B aangestel is, deeglik bewus daarvan was dat die vloere baie glad geword het wanneer hulle nat was en ’n “global” risiko vir stappers op die vloere geskep het omdat dit baie moelik was om die vloere te beveilig (parr. 71–2). In hierdie verband word die regsplig van A en B versterk deur die feit dat hulle sekerlik deur middel van C van die haglike situasie as dit reën bewus was. Die nie-nakoming van die regsplig wat die eiseres se beserings tot gevolg gehad het, is aanduidend van deliktuele onregmatigheid (sien hier bo afdeling 1). Ten einde aanspreeklikheid te vestig, moet hulle versuim egter ook met skuld gepaard gaan.

Hieraan gee die hof (par. 73) nou aandag:

If one then turns to the ’negligence’ enquiry which must be conducted in terms of Kruger v Coetzee, in my view in such circumstances the reasonable, hypothetical owner and manager of a mall, would clearly have foreseen the risk of danger or harm occurring i.e. persons slipping and falling in those areas of the mall, and would have taken steps to prevent this from happening. In this case neither of the defendants took any such steps.

Nadat die hof (parr. 74–5) verskeie moontlike voorkomende stappe oorweeg het, word verklaar (par. 76) dat die voor die hand liggendste stap sou wees om wanneer dit reën daardie ingange van die promenade te sluit waar reënwater die vloere kan benat en om die besoekers na ander ingange te verwys. Dit is maklik haalbaar met die minste ongerief vir die publiek. Indien enige van die voorkomende stappe gedoen is, sou die ongeluk waarskynlik nie plaasgevind het nie. Gevolglik besluit regter Sher (par. 77) dat sowel A as B nalatig opgetree het.

Die verweerders het aangevoer dat A van aanspreeklikheid onthef word op grond van die aanspreeklikheidsuitsluitingskennisgewing wat prominent by elke ingang van die promenade vertoon is. Dit bepaal dat enigeen wat die perseel betree, dit geheel en al op eie risiko doen en dat die eienaar nie aanspreeklik is vir enige besering wat veroorsaak is weens die nalatigheid (gewone of growwe) van die eienaar of enige van sy werknemers, agente of kontrakteurs nie. Die eiseres ontken dat sy ooit sodanige kennisgewing gesien het. Met verwysing na Durban’s Water Wonderland (Pty) Ltd v Botha 1999 1 SA 982 (HHA) 991–2 (sien ook in die algemeen oor uitsluitingsbedinge Neethling en Potgieter 2020:317–8; Loubser en Midgley 2017:241–7; Van der Walt en Midgley 2016:86–7) verklaar regter Sher (par. 79) dat ten einde met die verweer te slaag, die verweerder nie alleen moet bewys dat die kennisgewing vertoon is nie, maar ook dat die eiseres daarvan kennis geneem en die inhoud daarvan aanvaar het. Daar moet dus instemming gewees het toe sy die promenade betree het. Hier is die vraag of die verweerder redelike stappe gedoen het om sodanige instemming te verwesenlik, inaggenome die grootte, ligging en aard van die kennisgewing. Daar word bevind (parr. 81–2) dat indien daar hoegenaamd ’n kennisgewing was, dit onsigbaar vir besoekers sou gewees het. Bowendien het die kennisgewing na die vorige eienaar verwys en sou dus nie die huidige eienaar vrywaar nie.

Die hof (par. 83) besluit gevolglik dat A en B gesamentlik en afsonderlik aanspreeklik is vir die eiseres se beserings wat sy opgedoen het toe sy in die promenade gegly en geval het.

 

3. Slotsom

Die beslissing in Holtzhausen bevestig die gevestigde regsbeginsels in verband met die deliktuele aanspreeklikheid van die eienaar, of van die beheerliggaam (“governing body”), van ’n winkel (-kompleks) teenoor besoekers weens beserings wat as gevolg van ’n gly en val op ’n vloer aldaar opgedoen is. Omdat die winkeleienaar of beheerliggaam feitelike beheer oor ’n potensieel gevaarlike toestand het, naamlik die winkel waar daar immer ’n risiko bestaan dat klante op gladde vloere kan gly, rus daar volgens die boni mores ’n regsplig op sodanige persone om die besering van klante weens gly op die winkelvloer te voorkom. Daar word dus redelikerwys van hulle verwag om voorkomende maatreëls in hierdie verband te tref. Waar die regsplig nie nagekom word nie en ’n klant word beseer, tree die eienaar of beheerliggaam onregmatig op. Dit beteken egter nie dat hierdie persone sonder meer aanspreeklik is nie aangesien skuld, hier meesal in die vorm van nalatigheid aan hulle kant, ook vereis word.

Nalatigheid omvat die redelike voorsien- en vookombaarheid van skade. In laasgenoemde verband gaan dit daaroor of redelike stappe gedoen is om die skade af te weer. Of die stappe wat gedoen is redelik is, sal van die omstandighede afhang. Hier moet nietemin onderskei word tussen stappe wat gedoen moet word on stortsels op vloere te verwyder en wat gedoen moet word om vloere wat weens hul samestelling inherent gevaarlik of onveilig is, te beveilig. Wat eersgenoemde betref, moet die stappe nie so veeleisend wees dat daar van die eienaar of beheerliggaam verwag word om elke stortsel dadelik te ontdek en op te klaar nie. Al wat vereis word, is dat daar ’n sisteem in plek moet wees wat sal verseker dat stortsels nie vir ’n lang tydsuur ’n potensiële gevaar vir klante inhou nie en daarom ontdek en met redelike snelheid verwyder sal word. Omdat vloere wat weens hul konstruksie in sekere omstandighede (soos in casu weens reën) inherent altyd gevaarlik is, het ’n mens nie bloot met stortsels te make nie. Daarom is die eienaar of beheerliggaam verplig om permanente veiligheidsmaatreëls in plek te hê vir wanneer ’n onveilige situasie weer opduik om sodoende die risiko van besering geheel en al uit te skakel.

Waar die eienaar of beheerliggaam die taak om die besigheid skoon van stortsels te hou aan ’n onafhanklike kontrakteur opgedra het, sal hierdie persone net aanspreeklik gehou word vir skade wat die kontrakteur veroorsaak het indien eersgenoemde self ook ’n delik begaan het. In hierdie verband speel veral die feit dat die eienaar of beheerliggaam geweet het van die gevaarlike toestand ’n belangrike rol.

 

Bibliografie

Gowar, C. 2011. Wrongfulness – still getting it wrong? Tydskrif vir Hedendaagse Romeins-Hollandse Reg, 74(4):682–8.

Loubser, M. en R. Midgley. 2017. The law of delict in South Africa. 3de uitgawe. Kaapstad: Oxford University Press.

Neethling, J. 2009. Deliktuele aanspreeklikheid weens ’n late: Is die ondernemer sy klant se hoeder? Obiter, 30(3):749–56.

Neethling, J. en J.M. Potgieter. 2020. Law of delict. 8ste uitgawe. Durban: LexisNexis.

—. 2016. Deliktuele aanspreeklikheid weens ’n late: onregmatigheid en nalatigheid. LitNet Akademies, 13(1):491–501.

Van der Walt, J.C. en J.R. Midgley. 2016. Principles of delict. 4de uitgawe. Durban: LexisNexis.


LitNet Akademies (ISSN 1995-5928) is geakkrediteer by die SA Departement Onderwys en vorm deel van die Suid-Afrikaanse lys goedgekeurde vaktydskrifte (South African list of Approved Journals). Hierdie artikel is portuurbeoordeel vir LitNet Akademies en kwalifiseer vir subsidie deur die SA Departement Onderwys.


The post Vonnisbespreking: Deliktuele aanspreeklikheid weens ’n gladde winkelvloer appeared first on LitNet.

Deborah Steinmair (1962–)

$
0
0

Gebore en getoë

Deborah Steinmair is op 23 Februarie 1962 op Groblersdal gebore. Sy word groot in Pretoria. Sy het tweelingbroers wat twee jaar ouer as sy is en ’n suster wat vier jaar jonger is. Dus is sy ’n middelkind: "I was the ham in the sandwich, a quiet, bookish child, a worrywart given to obsessive-compulsive behaviour and introspection, a bit of a Charlie Brown."

Deborah vertel aan Michelle McGrane op OuLitNet dat albei haar ouers kunstenaars is. Toe sy in die laerskool was, het haar pa, die beeldhouer Jo Roos, die onderwysberoep verlaat om sy loopbaan as beeldhoukunstenaar voltyds te beoefen. Haar ma was altyd by die huis, maar het in haar eie wêreld geleef: skilder, pottebakkery, batik, aartappeldruk en "tie and dye".

Dit was in die sestigerjare en haar ma was ’n mooi jong vrou met lang reguit swart hare soos Joan Baez of Jill Kirkland. "She played the guitar and sang. In a sense we lived like gypsies: there was a festive buzz to the days, we were always either waiting for a cheque or spending it. I was ill-prepared for the 'real world', for corporate ladders, budgets and income tax forms," vertel Deborah aan McGrane.

As vierjarige dogter is Deborah deur ’n familielid gemolesteer en in 2014 het hy per SMS aan haar gesê: "Ek is onbeskryflik jammer oor wat ek jou aangedoen het, Deborah! Ek was sooo dom! Jesus het my reeds vergewe!"

Sy het aan Pieter Steyn (Volksblad, 3 Januarie 2014) gesê die SMS so uit die bloute was vir haar ’n skok, "maar ek voel nou effens verlig nadat ek dit op swart en wit gesien het ... ’n Mens voel maar altyd vuil en sondig. Jy is só wantrouig."

Deborah het eers ná haar 40ste verjaardag dit regtig verwerk. Sy vertel verder aan Steyn dat sy nooit terapie gekry het nie, maar Marike se laaste dans bevat aspekte daarvan. "Dit was terapeuties om jouself te distansieer en ’n blik van buite daarop te kry."

Deborah het as kind op ’n dag by ’n afgrond afgespring net omdat die struike en bome doer aan die onderkant so sag gelyk het. Ná die "oefening" het haar pa gesê sy is soos die sprinkaan in De kleine Johannes, "wat eers spring en later kyk waar hy land," vertel sy aan Kirby van der Merwe (Die Burger, 5 Junie 2010).

Sy meen ook dat haar onkonvensionele kinderjare haar vir enige "gewone" werk geruïneer het, sê sy aan Van der Merwe.

Teenoor McGrane erken sy dat sy oud gebore is en op ’n manier deel was van die revolusionêre "Love Generation". "I watched the Love Generation from the sidelines: my parents and their wild friends. They were a bit too old, of course, and a lot tamer than the folk that converged on Woodstock, but my ex-husband, who is eleven years my senior, was a bona fide hippie years before I met him and I loved him for it. Leonard Cohen put it so beautifully: 'A great generosity prevailed in those doomed decades'."

Die eerste boek wat sy ooit gelees het – net nadat sy begin lees het – was Caroline and her kettle named Maud.

Sy brei ’n bietjie verder uit teenoor McGrane: "I was determined to figure out the non-phonetic riddle that was English. I could recite that book page by page, in a heavy Afrikaans accent. I devoured Enid Blyton from Noddy to The Secret Seven and The Famous Five. My heart belonged to Anne of Green Gables and Freckles of the Limberlost. I was really soppy and wept copiously over the misfortunes and small triumphs of Little WomenAlice in Wonderland puzzled and fascinated me. Jane Eyre incited a revolutionary fervour against the injustices of a cruel world. Of course, I also read all the Afrikaans stuff, but there was never enough. Still in primary school I tackled the raunchily romantic Angelique by Sergeanne Golon as well as the odd Mills & Boon, Barbara Cartland, Mary Renault, Joy Packer, Wilbur Smith. I would break out in a panic if there wasn’t a book in my field of vision at any given time."

Deborah het haar eerste gedig begin skryf toe sy kon lees – ongeveer op vyfjarige ouderdom. Haar ma het altyd baie boeke vir hulle voorgelees – stories en gedigte: "I could get high on rhythm and rhyme. My first efforts were rhyming couplets with a strong moral leaning, like American sitcoms."

Verdere studie en werk

Na skool is sy universiteit toe waar sy haar inskryf vir ’n BA in Engels en Drama. Sy verwerf ook later haar honneursgraad in drama.

Deborah het al ’n verskeidenheid van werke gedoen: Sy was onder andere assistant vir ’n reisende poppespeler, lektor in Engels aan die Universiteit van die Noorde, boekeredakteur by kalahari.net, asook SêNet-webmeester op LitNet. Tans is sy vryskut-kopieskrywer, redakteur by Protea Boekhuis, proefleser en skrywer.

Oor haar tydjie saam met die poppemeester brei sy meer uit teenoor Kirby van der Merwe: "Ek het net klaar geswot en was nie seker wat om met my lewe te doen nie (ag, nou nog nie), toe werk ek solank vir ’n versekeringsmaatskappy. Een oggend op pad werk toe loop ek weg saam met ’n marionettemeester wat ek in die bank ontmoet het.

"Hy het in ’n ou, rooi Kombi met ’n kas vol poppe rondgereis en by kleuterskole shows gegee. Hy was so 11 jaar ouer as ek, slim en gefolterd. Hy kon tot vier poppe op ’n slag laat dans. Ek moes die toue ontknoop, poppe aangee en handjie bysit met die stemme.

"Eendag, terwyl ons die poppekas opslaan en ’n skare kindertjies deur die diamantdraadheining vir ons staan en kyk, gryp hy my om die lyf en sê in sy welluidende stem: 'Jy is my hart se punt se doedelsak.' Dit was so ’n Rooi Rose-oomblik.

"Maar natuurlik het dit nie uitgewerk nie. Ek het een nag weggeglip soos Bobby McGee, lookin’ for that home and I hope she’ll find it."

Sy het twee dogters vir wie sy baie lief is en ’n kat. Deborah vertel aan Michelle McGrane op OuLitNet dat sy nie ’n konvensionele ma vir haar twee dogters is nie – hulle maak hulleself groot. Sy het as kind dikwels geïnhibeer en vasgedruk gevoel en gun dus meer vryheid aan haar dogters. En gaan sy voort: "It’s too early (2006) to say if this decision was founded in over-reaction or intuitive wisdom. Being a mother has made me forgive my own mother – no, more than that – venerate her. It’s a lonely job calling for superhuman bravery."

Van haar eerste gedigte (in Engels) is in Contrast en Carapace gepubliseer.

In 2003 publiseer Genugtig! Uitgewers Deborah se eerste boek – ’n Engelse digbundel met die titel A see-through suitcase. Die bundel is opgedra aan Jeanne Goosen, "ons almal se geliefde rebel".

Deborah beskryf A see-thorough suitcase as belydende poësie in die tradisie van Sylvia Plath. "It’s intensely personal, but often deals with other people’s crises as opposed to my own." En oor die titel: "The fabulous title was a gift from my mentor, Jeanne Goosen, who said (in Afrikaans) that writing poetry was like lugging around a transparent suitcase," aan Michelle McGrane.

Oor die keuse van die gedigte in hierdie bundel vertel Deborah dat sy heelwat gedigte na die uitgewers gestuur het en ’n baie streng Afrikaanssprekende redakteur het wat dit met ongeveer die helfte gesnoei het – vandaar dus die dunnerige bundel. Ook het haar rekenaar ingegee sodat dié wat dit nie gemaak het nie, vir ewig verlore is.

Haar gedigte wat handel oor haar eks-man se disfunksionele kinderdae is van haar gedigte wat sy die meeste van hou. En sy verduidelik hierdie stelling aan Michelle McGrane op OuLitNet: "He was (he’s still alive, but has found religion and settled into more or less respectable middle age) such a tortured, beautiful creature when I married him. I had a huge Messiah complex and was going to redeem him. Of course, I didn’t succeed and I didn’t get an equitable settlement either, being constitutionally unable to fight for money, but I did gain almost an entire book of poetry from the experiment. Maybe it’s just a convenient cop-out, a form of denial, of not facing your own pain while giving voice to the pain of another."

Die meeste van hierdie gedigte oor haar eksman en sy lewe is geskryf gedurende hulle getroude lewe: "I have an uncanny ability to stay in the moment and not allow an iota of pain to pass me by. No emotion recollected in tranquillity for me. I wrote them while I was still trying to complete the jigsaw puzzle of his past and save him."

Ampie Coetzee was beïndruk met hierdie debuutbundel. Die titel het hom getref as gevolg van die metaforiek wat daarin gelees kan word – ’n mens sien ’n tas as iets wat private besittings bevat, maar as dit "see-through" is, is dit nie meer privaat nie. "Hierdie bundel gaan in groot mate oor persoonlike dinge, maar dit is tog geskryf om gelees te word: deursigtig: ’n oop tas vir almal om te sien.

"Dat die poësie deursigtig is, is nie kritiek nie. Dit is juis verfrissend om in hierdie tyd van hoofsaaklik postmodernistiese tipe verse wat geneig is om hulself te dekonstrueer, verse te kry wat nie oor hulself praat nie, maar oor ander. (…)

"Dit is die poëtiese middele wat hierdie verse betekenisvol maak: die voorliefde vir die wending en die meeste wendings hier is effektief; die talle geslaagde metafore; die fantasie; die gestrooptheid van die verse, byvoorbeeld, bitter min punktuasie (sonder om 'modernisties' te wees) en die neiging tot die narratiewe. Die epiese aard kan soms daartoe lei dat verse te lank word en poëtiese spanning verloor, soos in 'The long coat' en 'Freda'. Maar dit is nie te erg nie.

"’n Mens sou kon sê: Genugtig! Genugtig! Geluk met die mooi debuut!"

In 2007 word ’n biografie en memoirs van Jans Rautenbach in een omslag vervat. Martin Botha was verantwoordelik vir Dromer, baanbreker en akteur wat meer vertel van Rautenbach se loopbaan in die filmbedryf, terwyl Deborah Steinmair sy memoirs onder die titel Jans Droomsaaier vervat het.

Oor haar betrokkenheid by hierdie publikasie vertel Deborah aan McGrane dat Martin Botha, hoof van die filmskool aan die Universiteit van Kaapstad, sy manuskrip aan Genugtig! Uitgewers voorgelê het. Die uitgewers het toe besluit om ’n luukse koffietafelboek uit te gee met glansfoto’s uit sy films, maar vir hulle was dit nie genoeg nie. Genugtig! het gemeen dat daar ook ’n bydrae moet wees waar daar meer oor Jans Rautenbach, die mens, gelees kan word.

Deborah het ’n uitvoerige onderhoud met Rautenbach gedoen en sy memoirs neergepen. "So, in a way I was a ghost-writer," verduidelik Deborah aan McGrane. "He is a wonderful raconteur and I had a lot of audio material to work with, great sound bites. I organised and rearranged them, adding a bridge paragraph here and there, paraphrased some utterances and that was it. The process was very enjoyable. So, the book will consist of two parts, with two covers, depending on which side you happen to pick up."

Paul Boekkooi skryf in sy resensie van Jans Rautenbach as volg: "Op die klein akker van biografiese publikasies oor Suid-Afrikaanse rolprentregisseurs is die verskyning van dié koffietafel-dubbeldoorpublikasie oor Rautenbach uiters welkom.

"Die omslag suggereer twee voorblaaie, met Martin Botha se waarderende oorsig as hoof-voorblad, en Sy memoirs, so uitermate evokatief, karakterryk en met bruisende taalgebruik deur Deborah Steinmair, as ’n gelykwaardige een. Botha se joernalistieke bydrae neig nooit daarna om akademies te wees nie, maar is in die ontleding van die rolprentoeuvre tersaaklik en by tye selfs ryk aan atmosfeer. In Steinmair s’n open sy Rautenbach se siel, wat so duidelik omstrede ideologieë in eenvoudige beeldvorms kon omtower sodat dit in kykers se onderbewussyn kon nestel."

Deborah se eerste roman is in 2010 deur Human & Rousseau uitgegee onder die titel Marike se laaste dans. En dit word in 2011 met die Jan Rabie-Rapport-prys vir debuutwerk bekroon en is ook ’n finalis vir die M-Met Literêre toekenning vir Afrikaans in 2011.

Deborah som Marike se laaste dans as volg op: "Dit gaan oor Maud, ’n vrou in haar laat veertigs, wat voel dat sy nie in die wêreld tuishoort nie. Dan verloor sy boonop haar werk. Sy het geen plan B nie.

Op ’n dag sien sy Marike de Klerk se spook raak by die verkeerslig naby die woonstelkompleks waar sy vermoor is. Maud laai haar op en hulle begin gesels. Marike is ook sonder reisplan.

"Hulle probeer agter die kap van ’n paar byltjies kom. Hulle vlieg sonder vlerke oor die Kaapse stadskom en besoek die Anderkant, of liewer die Wagkamer, waar ontstelde lewende-dooies die pas markeer en hoop om die Oorgang te navigeer." (Die Burger, 5 Junie 2010)

Sy vertel aan Kirby van der Merwe dat Marike al jare lank by haar spook en dit is hoekom sy die boek geskryf het: "Sy was nie die soort vrou met wie ek kon identifiseer nie, maar sy was ’n slim vrou wat haar bes gedoen het om haar pa en daarna haar man tevrede te stel.

"Sy het haar lewe lank gevoel sy moet presteer sodat mense vir haar kan lief wees. Sy het die voorskrifte van haar tydsgees nougeset gevolg, maar die beloning het haar bly ontwyk. Ek noem haar die plakkaatnooi van die Christelike Nasionalisme wat sy kruin bereik het in die middel en sy gat kort voor die einde van die vorige eeu gesien het. Sy was aan die einde so eensaam dat sy vir haarself danslesse gereël het. Ek het besluit om haar ’n bietjie lug te gee en te laat vlieg – ek weet nie of dit vermetel was nie."

Thys Human skryf in Die Burger van 24 Mei 2010 dat die leser nie mislei moet word deur die "kinderlike eenvoud van die bandillustrasie, die Arthur Murray-verwagtinge wat die titel skep, of die feit dat Marike de Klerk, voormalige presidentsvrou, een van die hoofkarakters is nie".

"Deborah Steinmair se debuutroman, Marike se laaste dans, is ’n onvoorspelbare, selfs onthutsende, verbeeldingsvlug met ’n vlymskerp snykant. Reeds teen die derde hoofstuk het al my vooropgestelde idees soos mis in die stadskom begin verdwyn. Selfs lesers wat min in die eerste mevrou De Klerk belanggestel het, behoort Steinmair se doelbewuste fiksionalisering van dié historiese figuur intrigerend te vind."

Maud Grobler is die ek-verteller in hierdie roman en sy is ’n vrou met ’n besondere vrugbare verbeelding. Op ’n dag in 2008 (sewe jaar ná haar dood) gewaar sy vir Marike de Klerk by ’n verkeerslig. Maud laai haar op en só "begeef sy haar gewillig op ’n reis waartydens Maud om die beurt die rol van taxibestuurder, sielkundige, klankbord en begeleier te speel".

Thys Human skryf verder: "Marike se laaste dans is nie bedoel vir lesers wat hul verbeeldingloos teen feite blindstaar nie. Dié lesers mag die droom óp droom óp droom in die roman te esoteries vind, en dalk ook swaar sluk aan die goue appeltjie wat in die slothoofstuk so gerieflik in Maud se hand val.

"Dit sal jammer wees, want in die proses gaan sovéél hulle verbygaan. Daar is inderdaad heelwat in Steinmair se sonderlinge debuut om oor opgewonde te raak. Die pynlike eerlikheid waarmee interpersoonlike verhoudings blootgelê word, word bedrewe deur aweregse humor gebalanseer.

"Steinmair het ook ’n besondere slag met woorde – opmerkings soos 'dis nie eenvoudig om ’n lyf af te skud nie', 'depressie bloei die kleur uit dinge' en 'ek het hom so dankbaar lief, ek het hom liewer as ’n stortkop, liewer as ’n swembadfilter, so lief soos die see' kan ’n mens nie onopgeteken laat verbygaan nie.

"Anders as onlangse prosadebute wat opslae gemaak het vanweë die verhaalgegewens daarin, beïndruk Steinmair ook (en veral) met die wyse waarop sy haar stof verwoord. Ek het ’n vermoede dat ons nog baie van dié belowende stem gaan hoor."

In Rapport (13 Junie 2010) sluit Annemarié van Niekerk haar resensie só af: "Die boek is aweregs en anders. Dis verrassend en snaaks. Dis eroties en onthutsend. En dit gee jou vanuit die afstand wat fantasie skep ’n vars blik op die wêreld waarin ons as Afrikaners in Suid-Afrika lê, die skisofreniese maniere waarop ons probeer oorleef en met mekaar omgaan, ons vervreemding van mekaar en van ons eie belewing.

"Tog is daar aan die einde hoop as Steinmair met ’n knipoog Marike laat vertrek en Maud ’n werk laat kry en die metaforiese goue appeltjie uit Koos Bekker se tuin sy opwagting in haar hand maak.

"Dis ’n boek wat jy móét lees, maar moenie dink dat jou sitplekgordel van rasionaliteit-en-rede jou teen die ongeremde fantasievlug gaan beskerm nie. Inteendeel, iewers gaan jy jou Moses en ook jouself teëkom."

Deborah se volgende roman, Poppekas, verskyn in 2012 by LAPA en is volgens René Lötter (Beeld, 25 Junie 2012) ’n "skop-skiet-en-soesji-riller met talle lae".

Wiesa werk in die nagkantoor van ’n koerant en toe haar vriend, Harm, voor haar oë ontvoer word, begin sy ondersoek instel. Dit kom aan die lig dat ’n groot mediamaatskappy deur androïede geïnfiltreer is. En Wiesa is die een wat moet sin maak uit die chaos en dit herstel.

Deborah het op ’n vraag van Rooi Rose (Maart 2012) oor wat haar geïnspireer het om Poppekas te skryf, gesê: "Ek weet jy moenie uit woede skryf nie, maar ek het ’n paar appeltjies te skil met die establishment en werkplekke, soos die nagkantoor waar ek en ander van namiddag tot laatnag soos vee in dipgangetjies vasgekeer was. Die roman speel hom gedeeltelik in ’n nagkantoor af, waar mense soos outomate werk terwyl die son vlak voor hulle in die pienk see wegsak, ongesiens. Hulle het geen vryheid nie. Toe gebeur daar boonop ’n sinistere moord in die mediamaatskappy en toesmeerdery op ’n hoë vlak. Enige ooreenkomste met ’n bestaande maatskappy is toevallig."

Vir Charles Smith (Beeld, 22 Junie 2012) is Poppekas ’n knap speurverhaal: "Steinmair se skryfstyl het meer krag in as Wiesa Rabie se karakter-kaphoue. Rabie word in Steinmair se woorde ’n lekker held vir ’n whatever-generasie. (Dat sy amper ’n androïede vry, is ’n lekker stekie na die generasie wat beskuldig word dat hulle geen gevoel het nie.) Wiesa is ook ’n lekker teenpool teen die suipende, middeljarige speurders in die meeste Afrikaanse speurverhale. Die boek sal ’n baie lekker fliek wees.

"My probleem is die titel. Sal die rolprent die titel Poppekas dra? Ek twyfel."

Ook Marius Visser is beïndruk met Deborah Steinmair en Poppekas (Rapport-Boeke, 6 Mei 2012). Hy begin sy resensie só: "’n Slim, jong vrou, ’n geheimsinnige verdwyning, ’n duistere geheim (die beste soort! En ’n kleinhuisie vol soesji…

"Deborah Steinmair se Poppekas, ’n energieke en spannende boek, is wonderlik: ’n storie met gewone woorde wat styf gespan is, eerder as lang, slap woorde wat ’n gebrek aan spanning moet wegsteek. (…)

"Poppekas is ’n popkuns-aksie-avontuur: Was dit Engels, het die omslag gewemel van woorde soos 'zaby', 'romp' en 'breakneck pace'. Omdat dit Afrikaans is, bevat dit die woord 'genre'.

"Die aksie speel af soos ’n gemaklike gesprek. Die hoofkarakter het ’n sardoniese humorsin te midde van lewensgevaarlike en geloofwaardige angsoomblikke.

"Nêrens vang slim sy baas nie en die tegnologiese vernis is vernuftig aangebring sodat al die internet- en Facebook-elemente presies raak op die oor val. (…)

"Die waarde van lekkerleesboeke soos dié kan nie oorskat word in Afrikaans se ontwikkeling nie. Poppekas is ’n boeiende, genotvolle toevoeging tot Afrikaanse tienerfiksie en ’n oorwinning vir delikate stukkies rou vis – met viewer discretion advised." (Ander resensente het ’n probleem gehad met die kategorisering van Poppekas as "tienerfiksie").

Op LitNet lui Jonathan Amid se opskrif vir sy resensie van Deborah se volgende roman, Die neus (2012), as volg: "’n Raaiselroman met bek en binnegoed" en hy beskryf Poppekas as ’n "heerlik aweregse en avontuurlustige storie".

Amid gaan voort: "Met Die neus skep Steinmair ’n wêreld van intrige, geheimenis en ontvlugting. Hierdie wêreld word gekanaliseer deur die vertelstem van die hoofkarakter, Agathe of Aga Gruber: menssku, onseker oor haar verlede en plek in die wêreld, maar geseënd met besonderse intuïsie, heldersiendheid en telepatie."

Vir Amid was Aga se karakter meer toeganklik, dinamies en geloofwaardig as Poppekas se Wiesa Rabie en meer soos Maud in Marika se laaste dans. In Die neus moet Aga probeer sin maak uit die moord op haar ma Rosalie Schwarzbaum in 1966 en, tesame hiermee, moet sy ook die identiteit en lewe van haar pa, dr Boas Birkenbaum, naspeur. Sy doen dit met die hulp van haar buurman, Claude, ’n mechanic en Jesse, ’n voormalige rocksanger.

"Alhoewel die oplossing van ’n moordraaisel in ’n mate die aksie van die narratief bepaal, is Steinmair se roman allermins geskoei op die noue navolging van genre-konvensies, wat soms soos ’n erg noupassende baadjie skrywers se meer riskante skuiwe en beweegruimte kan kortwiek," skryf Amid verder.

"Die neus vervul eerstens die beloftes van die tipe genre-kontrak wat gesluit word met lesers van die misdaadroman: dit handhaaf ’n meer as bevredigende spanningslyn; dit stel die leser bekend aan ’n gevarieerde, interessante groep hoof- en subkarakters wat voortdurend die intrige lewend hou, asook die leser se aandag boei; die gebeure word op ’n skeppende en meesleurende wyse uitgebeeld sonder dat daar ’n oormaat toeval of ongeloofwaardighede by die agterdeur inslyp; en ’n dodelike dosis galgehumor (soos in die beste misdaadromans) verskyn om elke hoek en draai.

"Steinmair se flair vir taal, en veral haar karakterbeskrywings, soos dié van Aga, Jesse en Claude, is besielend, om die minste te sê, en die stemming van die roman is nie plek-plek hakerig of onseker soos met Poppekas nie. Dáár was die probleem dalk eenvoudig net dat die hoofkarakters ’n mens op ’n afstand gehou het; hier is dit nie die geval nie. (…)

"Die neus behoort by ’n wye mark aanklank te vind weens die aanslag, wat deurgaans pittig, prettig en poëties is. Dis ’n sensuele roman in elke sin van die woord: dit stimuleer, dit bied ’n verskeidenheid van ligte en donker oomblikke, dit lei die leser aan die neus na ’n plek waar geeneen uiteindelik onaangeraak sal bly nie."

Vir Dineke Volschenk (Die Burger, 8 Oktober 2012) is Die neus ’n "malse, vermaaklike, onderhoudende, boeiende en hoogs bevredigende leeservaring".

Die skrywer spot met die literêre establishment oor hulle beheptheid met riglyne en grense en sy keer al die konvensies van die tradisionele speurverhaal op sy kop. "Ook haar taalgebruik en ryk beelding is ondermynend, want deesdae is die intrige dikwels belangriker as die materiaal waarmee skrywers werk."

Volschenk maan egter dat Steinmair nie te laf moet probeer raak nie, want lesers kan dalk geïrriteerd daarmee raak.

In 2013 word Deborah se volgende raaiselroman, Wenkbrou, uitgegee en Jonathan Amid is weer die resensent op LitNet. En hy stel dit duidelik dat die leser in Wenkbrou nie te make het met ’n "tweede" Die neus nie.

"Ek wil eerder spekuleer dat Steinmair hierdie keer baie slim en baie subtiel met indringende sosiopolitieke kwessies van die huidige bestel omgaan en die leser uiteindelik dwing om met nuwe oë na die naakte waarheid van wat in die land aan die gang is, te kyk."

In Wenkbrou is Aga, Jessica en Claude weer op ’n "letterlike en figuurlike reis om ’n misdaad met familietentakels op te los – hierdie keer het die misdaad met Jesse se familie en toekoms te make". Hierdie slag het hulle ook hulp gekry in die persoon van ’n wit sangoma, Stasi Sodatos. Stasi is vir Amid ’n verruklike karakter weens Steinmair se vermoë om ongewone karaktereienskappe in en ’n karakter saam te snoer.

"Ander resensente swaai Steinmair lof toe vir haar spel met lesers (Joan Hambidge) en besonderse aanvoeling vir taalgebruik en oorspronklike beskrywings (Christi van der Westhuizen en Erika de Beer).

"Hoewel ek saamstem met die bogenoemde sienings, en met die manier waarop Steinmair randfigure gebruik om ’n tipe kontradiskoers te bied (Van der Westhuizen) wat kwessies soos die patriargie en die misbruik van vrouens en kinders, asook die misbruik van mag deur die staat, kan uitlig, is my uitgangspunt dat Steinmair se eiesoortigheid twee byna teenstrydige of paradoksale impulse inhou: op narratiewe vlak word lesers altyd gedwing om buite die teks self na ander tekste uit te reik, weens die feit dat die teks self ’n netwerk van verwysings is; maar verder geneem, blyk dit dat die konstante verwysing na wat buite die teks staan, dalk ’n erkenning is van die belang daarvan om die werklikheid van die land se sosiopolitieke kwessies in die gesig te staar."

"Dit sal dalk die wenkbroue laat lig om te sê dat Steinmair op haar eiesoortige manier die kollig hervestig op die werklike gruwels wat daagliks op ons strate en in ons huise afspeel. Maar deur die fokus in haar raaiselromans deurgaans op die oppervlak te hou, en deur die leser self te noop om na die realiteit en die 'real' terug te keer ná sy haar lyf speurder gehou het in die selfbewuste wêreld van die skrywer, is dit dalk net presies wat Steinmair regkry. Toeganklikheid is toe nie ten koste van kompleksiteit voorgehou nie, en Steinmair pendel dalk net haar eie vorm van betrokke literatuur. Wie sou kon raai?!"

Deborah se derde boek waarin die driemanskap van Aga, Jesse en Claude (en ook Stasi) figureer word gepubliseer onder die titel Moestas (2015).

Elna van die Merwe van Huisgenoot (17 September 2015) beskryf Moestas as ’n "heel jolige raaiselroman" en wou by Deborah weet hoekom sy die swaar tema van kindermolestering hierby ingesleep het.

Hierop het Deborah geantwoord: "Dis andersom. Die swaar tema het by my gespook en ek het die joligheid bygesleep. Ek glo as iets lig geklits is, dra dit meer gewig. Ek vermoed ek kan lesers verwar, maar dit was die enigste manier waarop ek dit kon aanpak."

Op LitNet wou Naomi Meyer by Deborah weet hoekom sy Moestas geskryf het: "Woede vir mans, reken ek," was haar antwoord. "Ek was nog nooit militant nie, maar hoe ouer ek word, hoe meer onwrikbaar begin ek glo testosteroon is die wortel van baie kwaad. Van my beste mense is/was mans, soos my pa. Maar dan is daar dié wat glo hulle is heer en meester oor vrou, kind, dier en planeet. Onversadigbaar 'entitled' en leuenagtig."

Oor die titel, Moestas, verduidelik Deborah aan Meyer dat dit nie ’n spesifieke moestas is nie, maar die moestas in die algemeen: "van Hitler se tandeborselsnor tot Mugabe se vuil smeersel. Vir die hoofkarakter, Aga, wat sensories defensief is, nog nooit aan ’n moestas of ’n penis geraak het nie, en vaag is oor mansgoeters, verteenwoordig moestasse penisse. Hulle is triomfantelik vreemd, opdringerig en 'in jou gesig'. Sy het ’n speletjie ontwerp om haar in slapelose nagte te kalmeer: sy blaas die eindelose ry moestasse wat in ’n hallusinogeniese prosessie teen haar kamermuur verbymarsjeer, bokveld toe met ’n kragtige denkbeeldige kanon."

Vir Deborah was die moeilikste van die skryfproses aan Moestas om in die kop van die kindermolesteerder te kom, "Om sy selfbejammering en selfregverdiging objektief te probeer weergee."

Dit was ook vir haar belangrik om die storie lig te hou, omdat sy glo dat ’n ligte aanslag die mees doeltreffende wyse is om die pyn te verbeeld. "En dan natuurlik ook humor. ’n Mens probeer nie as skrywer om snaaks te wees nie; dit sou fataal wees. Die proses is organies, jou vingers en jou maag weet wanneer die spanning verlig moet word."

Giselle Botha skryf op LitNet dat Moestas met sy vier karakters "en ’n groot bieg" onstuitbare leesgenot is: "Aga, Jesse, Claude en Stasi is nie ’n konvensionele viermanskap nie. Aga wonder oor penisse, Jesse is blind, Claude verwys na homself as 'homebrew' en Stasi lyk soos (en ís) '’n wit sangoma op die oorlogspad'. Maar saam los hul die raaisel van The Bleeding Heart of the Lamb Ministries se onthullende Facebookboodskap op. Voeg hierby ’n goeie skeut wraakgierigheid, Elvis, ’n steekse kat, ’n pou met ’n sesde sintuig, ’n narsistiese nimfomaniese voordanser, ’n dranksugtige lekeprediker en ’n Afrikaanssprekende Keniaanse magnaat se styfgespande uitgebreide pedofielnetwerk wat strek van Stilfontein tot Moskou."

Botha sluit haar resensie af: "Die noukeurige leser sal (buiten die steurende weglating van die lidwoord op ’n paar plekke) elemente van die sprokie in Moestas bespeur: die joernalis, Baba Botha, se oor word kloppend rooi wanneer sy weet dat sy ’n storie beet het. Die getal drie, wat tipies in ’n sprokie voorkom, speel ook ’n belangrike rol deurdat daar drie vroue, Aga, Jesse en Stasi, is wat Claude help om die raaisel van sy verlede op te los. Daar is ook verwysings na ander sprokies wanneer Stasi beskryf word as 'heroïes beskadig soos Johnny Depp se Mad Hatter in Alice in Wonderland' en wanneer Stasi ’n spoor 'soos Hansie en Grietjie wat broodkrummels in die woud gestrooi het om weer hul pad huis toe te vind' in die kuberruimtes van die 'diep net' laat. Die 'ongelooflike geluk' wat Aga, Jesse, Stasi en Claude beleef tydens die oplos van hul raaisels is ook sprokiesagtig.

"Die situering van ’n aktuele kwessie in ’n sprokiesagtige omgewing sluit aan by die sosiale teorie dat ’n sprokie die neerslag van die maatskaplike bestel is. Die onlangse opbloei van Afrikaanse misdaadromans gee te kenne dat daar ’n soeke is om die werklikheid van die misdaaddeurtrekte Suid-Afrika met die hulp van fiksie te verwerk. Steinmair bring in Moestas op ’n ongewone manier die kwessie van molestering aan bod ten einde dit meer toeganklik te maak en doen nie daarmee afbreuk aan die erns van dié kwessie nie.

"Is Moestas egter eind goed, alles goed? Dít, liewe leser is jou besluit. Lees die boek."

Dineke Volschenk skryf in Rapport (26 April 2015) as volg: "Die toonaard van die roman is oneerbiedig, sarkasties en spottend. Die hoofstukke is kort en stel nie eise aan die aandagspan nie. Elk het ’n pittige opskrif, soos in haar vorige romans. Dit lees lekker en vinnig en sal spreek tot jong mense en lesers wat jonk van gees is. Moestas is beslis goed vir lekker lag."

Ná die publikasie van Moestas beweeg Deborah na ’n ander genre, naamlik die toneel. Jan Groenewald het besluit om in 2015, by geleentheid van die 50ste herdenking van Ingrid Jonker se dood, ’n Ingrid Jonker-fees te hou. Hy het Deborah genader om ’n stuk oor Ingrid en André P Brink te skryf vir dié geleentheid, vertel sy aan Naomi Meyer op LitNet.

Die uitvloeisel hiervan was die teks van Plant vir my ’n boom, André wat tydens 2016 se Woordfees gedebuteer het en ook ’n draai in Bloemfontein (Volksblad-Kunstefees), Johannesburg en by Innibos-Kunstefees gemaak het. Tinarie van Wyk-Loots en Erik Holm was die akteurs wat die rolle van Ingrid en André vertolk het.

Oor die keuse van bogenoemde twee akteurs vertel Deborah aan Meyer dat dit die regisseur Jan Groenewald was wat op hulle besluit het: "Dit was ’n briljante ingewing: Die dinamika tussen hierdie twee akteurs kan jy nie vervaardig of naboots nie. Jan het ook besluit dat ek Brink aan die einde van sy lewe (in ’n rolstoel) moet wys en dat Ingrid aan hom verskyn. Ek hou van opdragte, dit sit my kop aan die woer."

Oor hoe sy die teks geskryf het, vertel Deborah verder: "Ek het dit geskryf, maar dit voel aanstellerig om so te sê: Ek het die eintlik saamgestel uit briewe, gedigte, aanhalings uit onderhoude en memoires. Ek het hier en daar ’n bindingsteks geskryf. Dis soos ’n collage. Jy versnipper wonderlike prente en plak dit aan mekaar, met ’n paar van jou eie simbole tussenin. Ek het alles oor en van hulle gelees (eintlik lees ek van kleins af al alles waarop ek my hande kan lê) en ’n paar nagte wakker gelê totdat die mosaïek in my kop begin vorm aanneem, toe het ek een naweek verwoed gesit en tik."

Plant vir my ’n boom, André kom van ’n gedig van Ingrid Jonker wat al lankal deur Anton Goosen getoonset is:

Plant vir my ’n boom, André

plant vir my ’n akkerboom
sodat ek my gestalte kan herken
en dat die eekhorinkies hul akkers kom begrawe

gee vir my ’n hond
met pote wat ek kan soen
snags as jy slaap toornig en goed 

moenie dat hul my boom afkap nie
ontwortel verguis versplinter nie
gee hom ’n hemel met blou akkers 

maak vir my ’n oop huis
sodat my vensters die dag mag ontdek
groen of goud of grys maar welgeskape

gee dat my hond my liefhê
laat ek hom te vrete kan gee
as jy slaap verby die sterre en spieëls
van my voorkop.

Terwyl Willem Bester (Die Burger, 12 Maart 2016) van mening was dat hoewel die woorde mooi is, die karakters leweloos bly, is Thandiela Goldman (Beeld, 12 April 2016) baie meer positief. Sy glo dat Jonker en Brink lewe kry op die verhoog en raai aan dat diegene wat bekend is met Jonker en Brink die stuk nie moet misloop nie.

In Volksblad van 14 Julie 2016 skryf Stephanie Brink dat Steinmair se teks teatermatig briljant is en dat dit hopelik nie die laaste dramateks uit haar pen is nie: "Sy vang die weerloosheid, betowering en uitputtende persona van hierdie magiese vrou/kind behoorlik vas. Op sy beurt word Steinmair se teks in die hande van Groenewald iets baie spesiaals op die verhoog. André se statiese karakter is in sy rolstoel agter sy tafel met papiere. Ingrid reis op ’n reënboog van boeke en 'inskrywing', 'opskeuring' en 'verplasing' op die letterkunde word visueel oorgedra."

In 2015 word Deborah genooi om aan die South African Book Fair deel te neem en op die program word sy beskryf as iemand wat die grense van haar genre toets sonder dat haar lesers vervreem word.

In ’n onderhoud met Naomi Meyer wou Meyer weet watter genre Deborah verkies om in te skryf en hoekom.

Deborah self het toe gereken sy is so tussen die boom en die bas: "Ek het gemik na misdaadfiksie, maar slaag nie daarin om binne die konvensies van die genre te bly nie, daarom vervreem ek die gewone misdaadleser van meet af aan. Fantasie en die paranormale is nie welkom daar nie. Ook nie dwerge, Sjinese, heldersiende Amasones en wit toordokters nie. Ek is baie gevlei deur die uitnodiging om by die Boekebeurs te praat en die omskrywing 'sonder om jul lesers te vervreem'. Hmmm. Ek het dan waarskynlik wel ’n handjievol lesers wat nie so eng ag slaan op die voorskrifte nie. Ek troos my dat Lauren Beukes oor makabere reeksmoorde skryf terwyl daar tydreisigers betrokke is. Ek en Lauren, ahem. My genre is spanning met ’n skeppie transendentale telepatie. Ek het misdaad gekies omdat die genre baie lesers het. Die res het my gekies."

Die klem van Deborah se item by die Book Fair het op genres waarin vroue sterk figureer geval, asook op die grense wat verskuif word. Meyer wou ook weet watter grense is dit wat getoets moet word en is dit nodig dat dit gebeur. Hierop antwoord Deborah: "’n Mens struikel sekerlik soms as jy oor hindernisse beur en grense verskuif. Ek is geneties geprogrammeer om grense en versperrings te toets. Ek kan nie anders as om oor vroue te skryf nie. Enigiets anders is hoorsê. Daar is baie grense en plafonne wat strem, maar ek het nie eerstehandse kennis van rassisme nie. Selfs Jeanne Goosen, wat deel van die struggle was, het gereken ’n mens kan nie deur ’n ander se smart wals ter wille van politieke geloofwaardigheid nie. Van seksisme het ek eerstehandse kennis en het nog altyd daarteen geskop, selfs toe ek baie klein was en my ma my probeer leer het 'die seuntjies sal baie meer van jou hou as jy hulle laat wen'. Ek probeer dit nie doelbewus nie – die sterk vroue klop by my aan en vertel self die storie."

In 2020 word Deborah se volgende spanningsroman, As jy van moord droom, by LAPA uitgegee. Die roman word ook onder domestic noir getipeer. Alta Cloete is die resensent op LitNet en sy haal Julia Crouch aan (aan wie se werk die term toegeskryf word): "In a nutshell, Domestic Noir takes place primarily in homes and workplaces, concerns itself largely (but not exclusively) with the female experience, is based around relationships and takes as its base a broadly feminist view that the domestic sphere is a challenging and sometimes dangerous prospect for its inhabitants …"

Elna van der Merwe (Huisgenoot, 13 November 2020) wou by Deborah weet wat die impetus vir die verhaal was. Deborah het geantwoord: "Gert van Rooyen en Joey Haarhoff het ons landskap bevark toe my oudste dogter ’n baba was. Dit was hiperontstellend omdat ek nog vol swangerskapshormone was en met groen koring op die land.

"Artikels wat ek gelees het oor ontvoerde kinders wat ná jare teruggevind is en ’n fliek soos Room van Emma Donoghue het my altyd laat wonder: Hoe plak jy weer die skerwe aanmekaar. Hoe kry jy weer ’n woordeskat. Hoe herbou jy ’n verhouding uit die puin?"

Volgens Van der Merwe het Deborah ’n manier om feit en fiksie te meng en wou by haar weet hoekom. Hierop antwoord Deborah deur te sê dat feite so handig is om fiksie weer te gee: "Noem ’n bekende naam en almal sien die prentjie. Ek hou nie daarvan om met woorde te mors nie. Ek hou van faksie. Die grense tussen die werklikheid en versinsel was nog altyd vir my vaag. Ek sou ’n swak getuie wees in die hof. Hoe kan jy ’n storie vertel sonder om by te lieg of hoe kan jy versin sonder om die waarheid by te sleep."

In die roman maak Erin baie maal gebruik van aanhalings uit Afrikaanse romans en gedigte en Van der Merwe wou weer weet wat die rede daaragter is.

"Dit was nie ’n besluit nie; dis maar my stem," verduidelik Deborah. "Daardie aanhalings is deel van my binnegesprek. Dis die klankbaan van my lewe. As kind was gedigte my medisyne en terapie. Ek het dit per ongeluk gememoriseer.

"Snags is daar dikwels ou Afrikaanse refreine wat kompulsief deur my kop maal, veral Van Wyk Louw en Jonker. Is daar iets soos ’n gelukkige einde? Daar is nie, want daar is geen einde nie. Dus is daar altyd hoop op ’n ander begin, nuwe bagasie, nuwe interessante probleme om jou besig te hou, vars uitdagings om jou te laat spring."

Die storie van As jy van moord droom kan as volg opgesom word: "Toe Maryna, dogter van Erin en Bert, ses was, is sy voor haar skool ontvoer. Haar ouers se huwelik maak dit nie. Twintig jaar later bring die polisievrou wat by die saak betrokke was, ’n oorgewig en bot jong vrou by Erin se huis aan en vertel haar dit is haar dogter. Later waarsku die vrou hulle dat hul moet vlug, want daar is mense wat Maryna soek."

Alta Cloete skryf verder op LitNet: "Die unieke bekoring van hierdie boek lê egter vir my op die emosionele vlak. In wese is As jy van moord droom die verhaal van die herontwaking van die liefde tussen ’n ma en haar kind. Beide is diep verwond en nie een van hulle aanvanklik in staat of selfs gretig om die bande weer op te tel nie. Erin sien haarself in elk geval nie as ’n natuurlike ma nie en was in hulle dae as ’n gesin die doener, die 'harder' ouer, terwyl haar man, Bert, die sagter, emosionele een was wat oënskynlik met gemak ’n innige verhouding met sy dogtertjie gevestig het. Maryna se weiering om te kommunikeer vind ook in Erin weerklank. Sy was nooit ’n groot prater nie, veral nie oor emosies nie, en ná die opbreek van haar huwelik het sy volkome in haarself gekeer. (…)

"Uiteindelik moet Erin ’n skrikwekkende moontlikheid in die gesig kyk. Kan moederliefde teen hierdie vreesaanjaende moontlikheid staande bly? En kan die onreg teen ’n kind ooit vergewe word? Móét ’n slagoffer enigsins probeer om te vergewe? Op hierdie vrae kry Erin op haar eie unieke manier haar antwoorde. Die leser kan dalk selfs nie noodwendig dieselfde antwoorde kry nie.

"Die intrige van die verhaal is fyn uitgewerk en die spanningslyn bly snaarstyf tot aan die einde, maar dis die subtiele verskuiwings in die verhouding tussen Erin en Maryna wat van die skrywer se grootste vaardigheid getuig. Daar is geen resepmatigheid of onsubtiliteit in die aanbieding van die emosionele groei van die karakters nie. Elke oomblik van konneksie is ’n klein juweel wat die leser, soos Erin, soos houtkrale aan ’n snoer wil ryg. (…)

"As jy van moord droom is veel meer as ’n misdaadroman. Dis ’n ode aan die krag van ’n ma se liefde en ’n bevestiging van die uiterstes waartoe die moederdier sal gaan om haar kind te beskerm. As jy van moord droom word sterk aanbeveel vir lesers wat nie net aksie soek nie, maar ook bereid is om op ’n emosionele vlak uitgedaag te word."

Gerda Taljaard-Gilson sluit haar resensie van As jy van moord droom af (LitNet): "Steinmair skryf hier met ’n vaardige gestropenheid, met ‘woorde so blink soos messe, wat As jy van moord droom heerlik leesbaar maak. Sy is, soos haar karakters, ’n vrou vir woordekonomie, wat net die nodigste binne ’n bestek van 299 bladsye sê, sonder onnodige 'story fillers' en mooiskrywery.

"Dit is hierdie eienskap wat lesers sal laat besef dat dié boek veel meer om die lyf het as die deursnee-domestic noir-roman. Dis ’n gelaagde, strak skildery van 'twee katels, ’n waskom en ’n tafel', en op een van die katels, die silhoeët van ’n logge vrou met ’n katjie op haar skoot ..."

Jonathan Amid is ’n groot bewonderaar van Deborah Steinmair en hy skryf as volg oor As jy van moord droom op Netwerk24 (30 Maart 2020): "Steinmair stel aan haar ma en dogter die uitdaging om ’n gans nuwe emosionele woordeskat te vind, ’n woordeskat wat iewers tussen verwonding, selfvernietiging en stilte ’n pad na iets wat klink en voel soos genesing moet skep.

"As jy van moord droom is die mees ontstellende, oorrompelende plaaslike misdaadroman sedert Martin Steyn se Swartval.

"Ek gooi doelbewus wal teen die veel makliker opsie om liggies die oppervlak van die roman te prik met spitsvondige soundbytes oor die roman se inkleding van menslike subjektiwiteit, en die kartering van ondenkbare trauma en pyn. In die beslag is daar oomblikke van ontsaglik snaakse donker humor en die mees uitsonderlike mikro-momente wat ek nie wil bederf nie.

"Na drie maal se lees is ek nog nie naastenby reg om van hierdie unieke, broos-besielende prosa-nagmerrie te ontsnap nie."

In ’n onderhoud met Deborah in 2015 wou Naomi Meyer op LitNet by Deborah weet hoe lesers gebore word. "Is elke skrywer nie dalk sy eie ideale leser nie, en is dit moontlik om ’n leser van ’n genre te vervreem as die skrywer iets eerliks en outentieks waag, ook al daag dit die res van die mensdom uit?"

Hierdie stelling ontlok dié antwoord van Deborah: "Ek dink nie skrywers kan lesers vervreem met hul boeke nie: sekere lesers is outomaties vervreem van jou lewensiening en sal jou boek nooit optel nie, of indien wel, na ’n halfminuut laat terugval op die rak. ’n Mens skryf seker maar vir jouself en vir jou eie stam, waar hulle ook al is. As ’n mens so bedraad is, wil jy uitdaag, jy wil vensters in mense se koppe laat oopwaai, jy wil lesers se harte breek, hul lewens ruïneer en hul maandstondes twee weke te vroeg laat opdaag. Hoekom anders wil ’n mens skryf? Daar is nie geld in nie."

In Beeld van 17 Maart 2012 vertel Deborah dat Saul Bellow se Humboldt’s gift haar hart gebreek het toe sy jonk en vatbaar was vir indrukke: Charlie Citrine was ek: ’n student in die Midweste wat leef vir letterkunde, op ’n Greyhound-bus klim New York toe en ’n Fuller-borselverkoopman word om naby sy held te wees: die groter as lewensgrootte Von Humboldt Fleischer, digter van ’n dun bundeltjie grondverskuiwende ballades. Humboldt se eerste woorde aan hom: "Well, you’re a nice-looking enough fellow, Charlie. Aren’t you a bit sly, maybe? I think you’re headed for early baldness. And such large emotional eyes. But you certainly do love literature and that’s the main thing".

"Ek sou ook later op busse klim agter legendes aan. Ek was die lover/protégé van een van die Afrikaanse letterkunde se grootste anargiste – sy het ’n stywe klap van Humboldt weg: ’n briljante, vrygewige, groothartige, gefolterde insomniak met ’n verbysterende welsprekendheid, ’n maniese energie wat gewone sterflinge gedaan leef en ’n giftige angel. Ek en Charlie is die 'straight guys', die onskuldige handlangers met groot oë, die sponse, onderdanig maar slinks, want ons koester self literêre ambisies en anders as die selfvernietigende genieë, preserveer ons onsself om ons talent se ontwil."

Oor watter boeke ’n invloed op haar jeug gehad, is Charlotte Brönte beslis een, sê Deborah (Volksblad, 17 Mei 2016): Charlotte Brönte – oujongnooi, vaal, sieklik, met ’n wakker brein en ongeneeslik romantiese hart – het ’n reuse-invloed op my jeug gehad.

"Jane Eyre was my gunstelingboek; ek het dit oor en oor gelees en Mr Rochester het my (in my jeug) ’n swak vir ongepoetste, gefolterde mans gegee. Ek het alles gelees waarop ek my hande kon lê oor die Bröntes: die drie susters wat hul kinderjare oorleef het: Charlotte, Emily en Anne en broer Bramwell en die eensame lewe in die Hawthorn-pastorie op die Yorkshire Moors wat hul ongebreidelde fantasiewêreld aangewakker het. Emily se Wuthering Heights was ook seminaal in die ontwikkeling van my verbeelding."

Publikasies

Publikasie

A see-through suitcase

Publikasiedatum

2003

ISBN

0958460418 (sb)

Uitgewer

Parklands: Genugtig!

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Jans, droomsaaier – sy memoirs

Publikasiedatum

2006

ISBN

0958488029 (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Genugtig!

Literêre vorm

Biografie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Marike se laaste dans

Publikasiedatum

2010

ISBN

9780798151467 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

  • Jan Rabie-Rapport-prys vir vernuwende prosa 2011
  • Woordfees Woordtrofee vir beste debuutwerk
  • Finalis M-Met Literêre toekenning vir Afrikaans 2011

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Poppekas

Publikasiedatum

2012

ISBN

9780799355208 (sb)

Uitgewer

Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Tienerfiksie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Die neus: ’n raaiselroman

Publikasiedatum

2012

ISBN

9780798152969 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Raaiselroman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Wenkbrou

Publikasiedatum

2013

ISBN

9780798157759 (ab)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Raaiselroman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Moestas

Publikasiedatum

2015

ISBN

9780798168014 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Raaiselroman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

As jy van moord droom

Publikasiedatum

2020

ISBN

9780799399240 (sb)

Uitgewer

Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Spanningsroman

Pryse toegeken

Kortlys vir ATKV-Woordveertjie vir spanningsromans 2021

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Dramateks deur Deborah Steinmair:

Deborah Steinmair as samesteller: 

’n Keur van artikels oor Deborah Steinmair beskikbaar op die internet: 

’n Keur van artikels deur Deborah Steinmair beskikbaar op die internet:

Deborah Steinmair se ATKV|LitNet-Skrywersalbum is oorspronklik op 2022-03-10 gepubliseer.

Bronne:

  • Knipseldiens van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum

 

• Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.

The post Deborah Steinmair (1962–) appeared first on LitNet.

Wen kaartjies na "Eet kreef herleef!"

$
0
0

Eet kreef herleef!
19 Maart 2022 by die Daisy Jones Bar, Stellenbosch 21h00.
26 Maart by Atterbury Teater, Pretoria: 2 vertonings 15h00 en 19h00.

LitNet, in samewerking met LK Mediabook, gee 2 x 2 kaartjies weg na die vertoning van "Eet kreef herleef!" op 19 Maart 2022 te Stellenbosch.

Hoe om in te skryf
  • Lees die persverklaring.
  • Stuur ’n e-pos aan eetkreef@litnet.co.za met die onderwerp “Kerkorrel”.
  • In die e-pos self moet jy twee van die musikante noem wat op 19 Maart gaan optree.
  • Jy moet ook jou naam en van, kontaknommer en e-posadres in die e-pos plaas.
  • Alle inskrywings moet LitNet voor 18:00 op 16 Maart 2022 bereik.
Reëls
  • Jy moet 18 of ouer wees om deel te neem.
  • Die wenners moet 18 of ouer wees; geen van die wenkaartjies sal aan persone jonger as 18 uitgereik word nie.
  • Wenners sal self by die vertoning moet uitkom; geen vervoer word verskaf nie.
  • Die pryswenners se name sal met ’n gelukstrekking bepaal word en geen korrespondensie sal oor die uitslag gevoer word nie.
  • Deur deel te neem gee jy aan LitNet die reg om jou naam, kontaknommer en e-posadres aan LK Mediabook te verskaf en jy gee aan LK Mediabook die reg om met jou kontak te maak.
  • LitNet is nie aanspreeklik vir enige gebeure by die geleentheid, of daarvoor of daarna nie.
Persverklaring

Eet kreef herleef!

19 Maart 2022 by die Daisy Jones Bar, Stellenbosch.

Eet kreef herleef! is terug, met ‘n vol band, die eerste keer sedert Maart 2020.

Eet kreef! deur Johannes Kerkorrel en die Gereformeerde Blues Band word gehuldig in hierdie herinterpretasie van die satiriese musikale meesterstuk wat 30 jaar gelede die land aan die gons gehad het. Eet kreef! was in 1989 ’n groot sukses, ten spyte daarvan dat die radioliedjies verban is deur die Suid-Afrikaanse Uitsaaikorporasie.

Laudo Liebenberg (aKING) span saam met van die hotste rockers in die bedryf om weer agter die stuur van hierdie Alternatief-Afrikaanse osssewa in te skuif. Die groeplede, wat saam met Liebenberg optree, is Frank Freeman (kitaar & sang), Sheldon Yoko (dromme), Schalk van der Merwe (baskitaar) en Mikhaela Kruger (klawerbord).

Frank Freeman sê dat hulle opgewonde is om weer op die verhoog te wees met dié gesogte produksie: “Ons het vir ’n oomblik gedink die vol-band-weergawe van hierdie produksie is vir eers verby, maar weens ’n aanhoudende aanvraag vanaf mense uit die Kaap en Gauteng, moes ons eenvoudig terug kom met nog. Met musiek wat ontstaan het in ’n onstuimige tyd, bring ons dit terug in ’n nuwe onstuimige tyd. Dit voel reg en ons kan nie meer opgewonde wees om weer hierdie musiek te speel in ons voltallige vorm nie.”

Freeman onthou hoe die idee van die moderne opname van die album ontstaan het: “Ek het in 2018 weer Johannes Kerkorrel se musiek herontdek en het gedink oor hoe relevant dit nou nog klink.”

Hy vertel: “Ek wou die geskiedenis van alternatiewe Afrikaanse musiek en kultuur in ’n nuwe produksie sit en op ’n manier die verlede en die hede bymekaar bring. Hoe meer shows ons gedoen het, hoe meer het ek gesien hoe emosioneel mense geheg is aan die musiek. Dit het my laat besef ons is besig met iets meer as net ons herinterpretasie van die musiek. Ons is besig om ’n bookskap van 30 jaar terug weer af te lewer in ’n ander tyd en ’n ander konteks, maar dis nog net so relevant soos dit destyds was.” 

Moet nie hierdie ongelooflike musiek-ervaring misloop nie!

Kaartjies Stellenbosch, koop hulle hier.

Kaartjies Pretoria, koop hulle hier.

Liefde.

BMW.

Volg Eet kreef herleef! op Instagram by @eetkreef of op Facebook deur te soek vir EET KREEF.

The post Wen kaartjies na "<em>Eet kreef</em> herleef!" appeared first on LitNet.

Viewing all 21497 articles
Browse latest View live


<script src="https://jsc.adskeeper.com/r/s/rssing.com.1596347.js" async> </script>