Quantcast
Channel: LitNet
Viewing all 22066 articles
Browse latest View live

Persvrystelling: Lesing – Die Lintonpaneel


The analysis of sociograms to investigate the impact of cooperative base groups on positive interdependence on class level

$
0
0

Abstract

The research reported in this article follows upon the findings of a previous study that found cooperative base group (CBG) an effective technique to facilitate the development of cooperative learning skills in distance education. A summary of the previous study serves as background for this research.

The need for the research was identified after observing that the previous class did not participate in the discussions created by the previous lecturer or their peers in the forum of the learning management system (LMS). When asked why not, the response was that they perceived the LMS as an assessment tool and therefore they did not participate in the discussions. As the South African Qualifications Authority requires that higher education develops group working skills, it was considered important to integrate a technique in the curriculum to develop cooperative learning skills.

For the purpose of the first study, a post-graduate module purposing to equip students with the knowledge, skills and techniques to use instructional techniques and multimedia in their own higher education classrooms was selected. The class (N=77) was randomly divided into eleven small groups with seven members each. Then, a private group for the class was created in Arend, an online learning environment for South African teachers. A discussion was started for each of the CBGs on the communal wall of this group. The discussions started with the names of the members of the group, information about the CBG technique, and the instruction to participate in the specific discussion in such a way that it was clear that they assisted, motivated and supported one another during the year. Cooperative learning was facilitated during the first semester by asking “Who can assist?” and “Do you agree?” instead of providing the answers. An unexpected outcome was that some of the students also participated in the discussions of other CBGs. This was allowed as it indicated that the students were able to apply newly acquired skills in other settings. 

At the end of the semester 11 sociomatrices were created – one per group – to collect data about relationships established to assist, motivate and support one another. The matrix data was read into Unicet to create a sociogram for each of the CBGs. It was found that a degree of positive interdependence developed in nine of the CBGs, no reciprocal social ties were built in the tenth CBG, and the eleventh CBG never participated in their discussion. Based on the findings, it was concluded that the CBG technique is effective for developing cooperative learning skills in an e-learning environment for distance education students. It was also found that some of the students built mutual relationships (reciprocal ties) with students from other CBGs. This finding suggested that a degree of positive interdependence developed on class level, but it was not further investigated.

The purpose of this follow-up study was to investigate the development of positive interdependence on class level. Therefore, the eleven sociomatrices, or data regarding the relationships established in each of the CBGs to assist, motivate and support peers, were combined into a single sociomatrix representing the relationships built on class level. The data was also read into Ucinet to create several sociograms of the classwide development network, and the following measures were used to analyse the sociograms: components, reciprocal social ties, centrality, cliques, and k-core to investigate the development of positive interdependence on class level.

The most important finding of this study is that a degree of positive interdependence developed on class level during the application of the CBG technique in an e-learning environment for post-graduate students in distance education. Almost half of the class (47%) did not build relationships during the first semester, but all active students were connected with at least one social tie in the whole development network. Several of the relationships did not develop into mutual relationships, indicating a need to facilitate the development of cooperative learning skills. Most of the mutual relationships were found in the core of the development network, indicating a large degree of positive interdependence in the centre of this social network. 

An interesting finding was that 11 of the 13 students who passed later the year with distinctions were members of the k-core. This finding suggests that the knowledgeable students were not only the most active during cooperative learning and the establishment of CBGs, but they were also able to connect with the knowledgeable students in the class. This observation needs to be further investigated in CBG research as the technique was only applied during the first semester. The top achievers were able to identify the knowledgeable peers in the e-learning environment, and to build mutual relationships with them. From these network positions, they could get easy access to all intangible (social) and tangible (documents, etc.) resources needed, which might have contributed to their academic success.

It is recommended that the CBG technique be applied in follow-up studies for the duration of a course to investigate a correlation between outstanding academic achievement and central network positions during the application of the CBG technique.

The research has important implications for contact education as well. The COVID-19 pandemic resulted in a global move from contact education to e-learning since March 2020. In the process, the focus has shifted to the efficiency of facilitation and evaluation of learning and cooperative learning in e-learning environments. Teachers in contact education settings find cooperative learning a time-consuming process, which cannot be easily evaluated. Both of these problems were addressed in an e-learning environment. It was not time-consuming to facilitate cooperative learning. With a focus on relationships, sociograms of the development network provided an effective method to evaluate the degree of positive interdependence that developed on class level. It is recommended that students be allowed to assist, motivate and support peers in other CBGs as the students were provided with multiple opportunities to learn from peers on class level as well.

Keywords: cooperative base groups (CBGs); distance education; positive interdependence; post-graduate education; social network analysis; sociograms; whole development network

 

Lees die volledige artikel in Afrikaans

Die ontleding van sosiogramme om die impak van koöperatiewe basisgroepe op positiewe interafhanklikheid in klasverband te ondersoek

The post The analysis of sociograms to investigate the impact of cooperative base groups on positive interdependence on class level appeared first on LitNet.

Skrywersonderhoud: Sidney Gilroy oor Middernag

$
0
0

Foto van Sidney Gilroy: verskaf

Middernag
Sidney Gilroy
Uitgewer: Human & Rousseau
ISBN: 9780798180542

’n Boek is ’n gevaarlike ding. Dit trek jou in tussen die bladsye, bind jou sin vir sin vas, verstrengel jou met woorde en speel soms so met jou kop en jou emosies dat jy die boek nie kan neersit nie, al wil jy.

Sidney Gilroy se nuutste krimi, Middernag, is so ’n boek. Dit hou jou angstig gevange, jaag jou in donker, vreesaanjaende hoeke in en wil jou nie laat los nie.

Niemand het hom ooit teen lees gewaarsku nie, sê Sidney vir Emilee Swart.

“As kind was dit nog altyd vir my ’n boeiende gedagte – in boeke gebeur daar baie rowwer dinge as op die plattelandse dorpie waar ek grootgeword het en die grootmense het glad nie omgegee as ek myself daarin verdiep nie.”

Sidney het op twee plattelandse dorpies grootgeword – eers Virginia en later Harrismith – wat dan ook die fokuspunt in Middernag is.

Al werk hy in Pretoria as ’n operasionele bestuurder vir ’n telematiese inligtingstegnologiemaatskappy, sal jy hom altyd aan die buitewyke vind. “Iewers waar die stad na links is, en die veld net agter my bakhand na regs.”

Hy praat van hoenders wat moet kan skrop op sy werf, van katte en honde. Hy skets ’n prentjie van ’n gewone, goeie plattelandse seun wat by die biblioteek geboer het. Hy sê sy geluk is op eenvoud gebaseer en dat hy nie juis ’n moeilike mens is nie.

Tog …

Hoe kan hy dan so maklik in die kop en versteurde siel van moordenaars en psigopate klim, sowel as in die analitiese jaghondbrein van speurders? Het hy ’n donker kant? ’n Neus vir misdaad?

Soos wat een van sy karakters in Middernag sê: “Die Vrystaat het twee gesigte, sersant. Soos yin en yang. Die een is die Hilux-bakkies en die mielielande en Grey-kollege … maar as die klok middernag slaan … weet jy tot wat julle mans in staat is.”

Sidney meen: “Ek sou beide misdadiger en speurder kon wees. Wil ek? Nee. Om een van die twee te wees is om naby aan die swart naaf wat net onder die oppervlak van die mensdom vloei te leef. En dít dink ek is onuithoubaar.

“Soms dink ek kriminele het hulself oorgegee aan die swart en donker en vieslike van wat ’n mens kan wees en ander kere dink ek dié wat hulle wil vang, is op ’n makabere manier gefassineerd deur die einste donker dieptes van die menslike siel.”

Natuurlik het elkeen van ons ’n nagkant, sê Sidney.

“Ons wys dit net op ander maniere vir mekaar en die wêreld. Daar is byvoorbeeld vir my geen verskil tussen massamoordenaars en witboordjiekriminele nie. Nie almal kry die geleentheid om te moor nie en nie almal het die guts om te moor nie, maar dit beteken nie hulle sál nie …”

Alhoewel Sidney hom nie net tot die krimigenre beperk nie (daar is ook jeugverhale en romanzas), is hy aangetrokke tot dié genre oor die karakters en hoe hy met karakterskepping kan speel.

“Die karakter kan doodnormaal of uitspattig vreemd wees, want ’n krimi gaan juis oor die aksies van die karakters wat buite die normale idee van aanvaarbare gedrag is.”

Dan is daar die motief van die karakters. Wat dryf hulle? En wat dryf hulle tot moord?

“Wat my baie boei, is die sake wat klaarblyklik geen antwoord het nie. Geen emosie. Geen motief. Geen noembare gewin uit die oorledene se dood nie. Ek vermoed dáár lê die saad van die monster. En wat my altyd laat terugsteier, is dat die monsters maar mense soos ek en jy is. Dit sê iets oor ons, die samelewing.

“Elke monster was eens aan ’n moeder se bors. Hoekom breek sommiges ander? Wat het hulle gebreek? Dit besorg my slapelose nagte. Ek glo baie sterk daarin dat alle pyn gelyk is en dat haat en geneigdheid tot geweld se oorsprong in onafgehandelde pyn gesetel is. Ek wil hulle almal oplos, want dan kan ek die monster agter die lem of geweerkolf of vuiste verstaan. En daarin lê die oplossing vir ons misdaadvraagstuk in Suid Afrika.”

Volgens Sidney het hy nog nie self die lem van erge geweld gevoel nie. Maar daar was twee mislukte kapings.

“Ek dink ons, as ’n samelewing, het comfortably numb geword wat geweld en misdaad betref. Duisende slagoffers word ’n paar swart letters op ’n skerm of ’n koerantbladsy. Omdat ons dit so baie sien en so baie daarvan hoor, raak ons naderhand blasé daaroor.

“Ek het iewers gelees dat alle misdaad maar deur 5% van enige bevolking gepleeg word. Die ander 95% is as ’t ware uitgelewer aan die siekes, korruptes en geweldenaars.”

Het misdaadfiksie dan ooit ’n plek in hierdie wêreld wat oorloop van misdaad en geweld? Is dit nie te veel nie?

Nee, sê Sidney. Vir hom is misdaadfiksie ’n manier om by te dra tot die waarskuwing: Net omdat dit nie met jou gebeur het nie, beteken dit nié dit gebeur nie.

Dan ook is misdaadfiksie vermaak. ’n Spel van kat en muis tussen die skrywer en leser wat beide geniet. Wie het die moord gepleeg? En waarom? Raai, raai is aan die orde van die dag. Soos met regte moordsake.

“Ek het al na moordsake in die land gekyk en dan weet ek wie die skuldige is. Maar ek byt eerder op my tong en skryf dit in ’n karakter in. Om te weet iemand het iets gedoen en om dit te bewys, is die groot tragedie.”

Maar in ’n boek word die bewyse gevind, die skuldige aangekeer.  En as die skrywer Sidney Gilroy is, word nie net die skuldige se donker kant belig nie.

“Met my eerste krimi, Klikbek, wou ek bitter graag gehad het dat die leser meer as afkeer of walging vir die moordenaar moes voel. Ek wou nie gehad het dat hulle hom of haar moes bejammer nie, maar dat hulle die boek sou kon toemaak en sê: Dis verkeerd wat gedoen is en wat gebeur het, maar ek verstaan waarom.”

Nie dat Sidney self altyd die waarom verstaan nie.

“In enige misdaad word menslikheid van die slagoffer gestroop. Om te vat van iemand sonder inagneming van hulle menslikheid is die definisie van misdaad. Of dit nou hul onskuld, lewe of besittings is – jy eien jouself iets toe wat deur ’n universele wet nie joune is nie. En deur jou aksies word jy self minder as mens. Maar die oortreder moet tog in sy of haar kop daardie besluit neem. Wanneer gee jy jou menslikheid op om ’n ander s’n te misken?  Ek dink dit is iets wat ons van Bybel-tye al af treiter. Ek het nie die antwoord nie. Dalk soek ek daarna deur my verhale.”

Sy verhale is – net soos sy drome (hy droom in kleur met sy verbeelding as die dirigent) – vol helder besonderhede.

“Ek het vir ’n wyle visuele kommunikasie studeer en ek put genot daaruit om te weet dat almal met ’n visuele biblioteek in hul koppe rondloop en dat ek as skrywer sekere beelde en assosiasies met sinne en woorde kan uitlok sodat die leser ’n absolute suiwer beeld in hul geestesoog kan vorm van ’n toneel of karakter. Ek vermoed ek skryf flieks sonder die noodwendige draaiboek.”

Die resultaat is vreesaanjaende karakters wat soos bloed onder jou vingernaels vassit en wat jy nie kan uitwas nie.

Dalk is dit omdat Sidney se karakters vir hom so werklik is dat jy hul asemhaling in jou nek kan voel.

“Soms is die karakter so duidelik geskets dat ek my verbeel ek sien hulle terloops in inkoopsentrums raak of ek voer ’n gesprek met iemand en hulle antwoord van diep in my onderbewussyn af.”

Maar net soos vir die leser, kan die gebeure in die boek vir die skrywer ’n verrassing wees.

“Wanneer ’n karakter se verhaal tot stand kom, is ek nie altyd bewus dat daardie karakter juis die moordenaar is nie. Soms is ek net so verbaas oor wat my karakters aanvang as wat die leser sal wees. Ek volg die naaf tot ek die skuldige beet het.”

In Middernag is die kindermoorde wat beskryf word, onuithoudbaar grusaam. Nie een leser sal ooit weer dieselfde na ’n roomyswaentjie of ’n pop kan kyk nie. Hoekom het die karakter juis sulke walglik-wrede idees in sy oor gefluister?

“Ek het verskeie psigopate nagevors tydens die skryf van Middernag. Hoe dieper ek in die gat afgekyk het, hoe nader het die donkerte onder my eie vel gekruip. Die antagonis het uiteindelik self besluit wat hy of sy gedoen het – ek het dit net verwoord. Vrees, selfs by my as skrywer, was die drywer agter die tonele.

“Die speurder som dit mooi op toe hy op die toneel verskyn: ‘[H]ierdie is nie sy kind nie, moet hy aanhoudend vir homself sê.’ En later: ‘Sy was dalk nie sy kind nie. Sy is nou.’”

The post Skrywersonderhoud: Sidney Gilroy oor <em>Middernag</em> appeared first on LitNet.

Wiskunde met LitNet-video: Bewerkings met desimale breuke vir graad sewe

$
0
0

In hierdie video maak Lee-Ann West graad sewe-leerders touwys met bewerkings van desimale breuke. Niemand hoef in hierdie inperkingstyd agter te bly nie! Laat Lee-Ann jou wys hoe om somme te doen.

Lees ook:

Graad 7: Wiskunde – voorbereiding vir die Junie-eksamen

Graad 7: Wiskunde – hersiening, inoefening en vaslegging

Graad 7-wiskundevraestel: kwartaal 1

Graad 8: Wiskunde – voorbereiding vir September-eksamen

 

The post Wiskunde met LitNet-video: Bewerkings met desimale breuke vir graad sewe appeared first on LitNet.

Die kleinste ramp denkbaar deur Francois Smith: ’n bespreking

$
0
0

Die kleinste ramp denkbaar
Francois Smith
NB-Uitgewers
ISBN: 9780624089988

1.

Francois Smith se tweede roman is ’n reusagtige sprong vorentoe ná sy indrukwekkende debuut, Kamphoer. Dit is ’n roman van ons tyd, maar een waarin die verlede daagliks spook. Ek is oortuig daarvan dat dit ’n spesifieke plek van betekenis binne die ontwikkelingslyn van die Afrikaanse letterkunde sal hê.

2.

In Die kleinste ramp denkbaar lei ’n bosluisbyt tot ’n tydperk van verwarring by ’n algemene mediese praktisyn op ’n plattelandse dorp in Suid-Afrika. Die verwarring lig mettertyd, en die dokter (Gustav van Aardt) aanvaar sy lot en sy plek op aarde. Hy is van hierdie aarde, soos sy van suggereer, maar so ook sy aard. Hy dink agterna daaraan as “’n storie oor ’n goeie dokter en ’n slegte polisieman”. Hy sê ook dat hy nie kan uitkom by presies wat gebeur het en hoekom dit so ’n groot uitwerking op hom gehad het nie. Later nog, in die “Nog ’n begin”-deel aan die einde van die roman, weerspreek hy sy aankondiging in die “’n Begin”-deel in die begin van die roman waarin hy sê dat die gebeure hom laat besluit het om die land te verlaat.

Die titel van die roman kan op baie dinge slaan; een van die belangrikste vertolkings daarvan binne die raamwerk van die verhaal is dat dit dui op die verlies van alle sekerheid, selfs op die kleinste vlak.

3.

Sekerheid is iets wat mens tog wel kan vind in Die kleinste ramp denkbaar. As mens al die dotjies verbind, om Pravin Gordhan aan te haal, kan die leser ’n beeld vorm van die lewensweg van Gustav van Aardt, van sy huwelik, van die probleme wat ontwikkel het, van die bosluisbyt wat sy lewe kom deurmekaar krap het.

Gustav se wedervaringe en sy insigte is egter net die katalisator vir insigte wat die leser verwerf; baie daarvan kom nooit self by hom op nie. Hy is ’n fyn-opgevoede mens met ’n vreemde benadering tot kommunikasie. Hy sien besonderhede, maar het nie die vermoë om volledig buite patrone te dink nie.

Indien hy ooit die kans het om lang gesprekke met mense te voer, word min daarvan in die roman gerapporteer. Die een wat hy teen die einde met Teise het, is ’n vreemde poging om sin te maak van wat Teise vir hom probeer sê. Gustav is agterdogtig, vermoed deurentyd ’n subteks, of versweë kennis. Dit sou nie heeltemal korrek wees om te sê Gustav is ’n paranoïese mens nie, maar dele van sy gedrag neig daarna.

Soos in die boek geteken, is hy een van die volrondste personasies wat ek in baie jare in ’n Afrikaanse roman raakgeloop het, en wat so heerlik is van hierdie ontmoeting, is die besef dat hy ’n feilbare, onsekere volwassene is. Ons sien deur sy oë – maar soos ons mettertyd agterkom, is daar nie werklik uitsluitsel oor die dinge wat hy sien nie. Is dit drogbeelde of werklike visuele waarnemings?

Binne die dorpsverband is hy sekerlik ’n redelik gesiene mens, maar onder die mikroskoop van hierdie vertelling blyk sy feilbaarhede alte duidelik. Die belangrikste hiervan is dat hy die impuls het om agter die kap van die byl te kom oor die moontlike misdadigheid waarby Schuin (die polisieman wat deur ’n bosluis gebyt is, en in lewensnood by Gustav se spreekkamer opdaag) betrokke is, maar nooit aandring op behoorlike antwoorde wanneer hy vrae stel en mense hom ontwykend antwoord, of gewoon ignoreer nie. Die verhaal word oorgedra vanuit sy perspektief, maar mens kan boekdele oor hom lees in die manier waarop ander mense teenoor hom optree.

Die vertelling werp beelde van ’n vergange era op, in skrille kontras met die dinge wat Gustav sien en belewe. Gustav is ideaal geplaas om te sien presies hoe die ou kulturele sfeer verdwyn, en hoe dit vervang word deur ’n nuwe kultuur. Dit gaan nie alleen oor die orde van die verlede en die chaos van die hede nie; vanweë sy posisie as voorheen bevoordeelde wit man en tans sieketrooster verlang hy na iets opbeurends (wat hy probeer bewerkstellig deur die aanstelling van Luna in sy praktyk) wat die lewe weer vir hom opwindend kan help maak, maar vind dan net dat die res van die dorp skynbaar van mening is dat hulle in die afgeskaalde, verarmde omgewing alles gevind het wat hulle ooit beskore sal wees.

Sekerlik sou mens kon sê dat Die kleinste ramp denkbaar ’n beeld ophou van die verwording en agteruitgang van Suid-Afrika. Die kulturele bakens van pre-1994, en die simbole daarvan op haas elke terrein, is afgetakel en weens ’n gebrek aan instandhouding feitlik disfunksioneel: die hospitaal met sy Kubaanse dokter en swak-opgeleide personeel; die rigtinglose, gesaglose, korrupte polisie; die oorblywende wit dorpenaars naas die swart bevolking wat nou saam en tussen hulle woon; die gevolge van swak munisipale bestuur.

4.

Wat van die ander karakters? Met ’n hoofpersonasie wat niekommunikatief is, en in sommige gevalle ander daarvoor verkwalik dat hulle so kortaf met hom is, is dit ’n fyn spel wat met die ander karakters gespeel word. In watter mate val die fokus op hulle, en wat gebruik Francois Smith om hulle meer aan dimensie te laat wen?

Ek moet sê dat ek baie beïndruk is deur die manier waarop Gustav dermate in die fokale middelpunt geplaas is dat hy volkome gemotiveerd is in die wyse waarop almal betrek word – deur sy aksies, en dus ook die ontwikkeling van die narratief. Meer is nie nodig nie. Gustav vorm eensydige beelde van almal met wie hy in kontak is: Frans Schuin is meestal in ’n diepe slaap weens die bosluiskoors (ja, die schuin bedrieg!); Portia Klaas (die ander geregsdienaar en moontlik Schuin se minnares/medepligtige) jak Gustav af en bly op ’n afstand; Luna Fraser, ’n mulatto, wat as ontvangsdame oorneem by die rassistiese mevrou Troskie, hou Gustav op ’n afstand en is agterdogtig oor enige tekens van vriendelikheid by hom; Thys Teise, die jantjie-my-kneg van die dorp, help Gustav dikwels wanneer hy om hulp vra, maar uiteindelik raak Gustav agterdogtig oor hom.

 

Sodra mens aanvaar dat die roman wat personasies betref, oor Gustav van Aardt handel (sy aksies én sy gedagtelewe), is dit nie nodig dat die ander personasies meer ontwikkelingstyd kry nie. Dit is nie belangrik nie – wat wel is, is dat ons volledig bewus is van die aard van hul interaksie met Gustav, en die dimensies wat dit verleen aan die tekening van sy personasie.

Die wyse waarop die skrywer Gustav lewe gee, is deur sy handeling, deur sy gedagtegang, en deur die houding en aksies van ander, waardeur ’n oordeel oor hom geïmpliseer word. In ’n stadium, vroeg in die roman, lees ons: “Hy werk met die fisieke manifestasies van menslike weerloosheid, met vasstelbare simptome en sigbare wonde. Wat buite hierdie parameters lê, is doodgewoon morsig. So morsig soos hierdie dorp met sy rommel, sy verval, sy onkunde, sy armoede, sy kleinlike politiek, koöperasie-mentaliteit, SuperSave-moraliteit en algemene veragtelikheid.” Vanuit daardie morsigheid is daar ook menings wat oor hom gevel word. Dit word nie verwoord deur die personasies self nie, maar hul mentaliteit, hul houdings spoel uit in die wyse waarop hulle hom hanteer – sommige met geduldige respek, ander met arrogante verveling en agterdog. Veral by die hospitaal. Dit is vir my ’n uiters belangrike aspek van hierdie skepping, omdat dit die literêre tradisie oproep waarin Die kleinste ramp denkbaar staan.

5.

Een van die heerlikhede van die lees van hierdie roman is die manier waarop die magdom inligting oor die fisiese omgewing betrek word. Dit voel asof alles wat Gustav dink en doen, gerapporteer word. Dinge waaroor ’n skrywer normaalweg sou skeer, of verswyg ten einde die fokus op aksie te plaas, sorg nou dat ’n mens die grein van Gustav en sy bestaan kry. Dit herinner sterk aan die skryfwyses van die Amerikaanse skrywers John Barth en Robert Coover – met een belangrike verskil: Waar hul eksperimente met uitputtende oorlading van inligting uiteindelik verveeldheid tot gevolg gehad het, Francois Smith die klem steeds geplaas op volledigheid van inligting, maar met ’n sterk geneigdheid tot realisme. Die benadering is in ’n paradoksale sin minimalisties.

Bring ’n mens die fokus nader, na die plaaslike tradisie waarin Die kleinste ramp denkbaar staan, raak dit nog meer interessant. Die roman sluit aan by die realisme en ’n tradisie wat begin by JFW Grosskopf se drama As die tuig skawe (1926) en die prosa van veral J van Melle se Bart Nel (1936).

Gustav ondervind probleme met die dorpenaars en die hospitaalpersoneel. In sy reaksie daarop toon hy ooreenkomste met Bart Nel: Hy sal ter wille van sy nering en die verpligtinge wat hy daardeur teenoor die samelewing het, alles in die stryd werp om die raaisels rondom Schuin op te los. Maar wanneer hy begin faal, word hy soos Bart se Fransina – ’n pragmatis wat sake hul loop laat neem, nie ’n finale opklaring rondom Schuin vind nie, en die belangrikste nog, sy verklaring in die begin dat hy die land gaan verlaat, ongedaan maak deur te besluit om te bly, danksy die belewenis van die natuurskoon, dus ’n element totaal buite die raamwerk van menslike stommiteite.

Mens kan nog ander raakpunte met die Afrikaanse literêre tradisie aandui; vir my is die belangrikste daarvan romans waarin daar ’n sterk fokus op een tema is, maar ’n wasigheid en onduidelikheid oor die dinge daaromheen. Ek dink hier veral aan Etienne van Heerden se aanwending van hierdie procedé in Asbesmiddag en Die wêreld van Charlie Oeng, asook John Miles se Donderdag of Woensdag, Die buiteveld en Okker bestel twee toebroodjies, waarin dit met groot vernuf hanteer word. In dele van die natuurbeskrywings is daar ook eggo’s van Karel Schoeman se Verliesfontein.

Daarbenewens staan Die kleinste ramp denkbaar in skrille kontras met sowel die ou Afrikaanse plaasromans uit die tydperk van die realisme (jare dertig tot vyftig) as die skrywers wat later daarop gereageer het: DF Malherbe, CM van den Heever, FA Venter, en dan later Etienne Leroux, André Brink, Chris Barnard, Karel Schoeman, Eben Venter en Marlene van Niekerk (Agaat).

Waar dit egter nuwe veld betree, is in die mate waarin dit die transformasie van die land uit die oogpunt van ’n hoogs gekultiveerde wit man beskou. Gustav van Aardt dolwe in sy poging om die raaisels rondom Schuin en Portia op te klaar, geweldig baie kulturele kodes oop. Gustav (die naam is van Skandinawiese oorsprong, wat beteken “gesiene gas”) vind dat Portia en die magsorde wat sy versinnebeeld, nie so aantreklik is as haar beroemde naamgenoot in The Merchant of Venice nie, en boonop nie die vermoë het om genuanseerd te kommunikeer nie. Anders as in Chris Barnard se Mahala (waaraan Die kleinste ramp denkbaar in sommige opsigte herinner) is daar geen oomblik van oplossing/afrekening nie, en is daar ook nie ’n skisofreniese belewenis van Afrika nie: Van Aardt is die figuur waarin die nuwe ervaring van die troebel kontinent saamgetrek en beliggaam word.

Aanvanklik beskryf hy die verhaal as “’n storie oor ’n goeie dokter en ’n slegte polisieman”. Sy speurtog stroop hom uiteindelik van sy sekerhede – die meeste van die insigte wat hy kry, kom in oomblikke wat hy dinge sien in ’n toestand wat ten beste as koorsagtig beskryf kan word. Hierdie woorde oor Van Aardt is betekenisvol: “Hy kon sien hoe Schuin se teenwoordigheid as ’t ware die mense se simptome oorneem. Hoe hy hul siekte word.” Schuin word dus simbool van die malaise wat die dorp (en daardeur die land) tref. Gustav ken die wêreld, maar hy is vreemd daarin. Dis asof dit hý is wat koors het, wat nagmerries helder oordag sien, wat sukkel om met mense te praat.

Die laaste gedeelte van die roman, waarin Van Aardt met die hulp van ’n gerookte Thys Teise op ’n vergeefse en laaste soektog na Schuin reis, is tekenend van die groter verval van die ou beskawing en die marginalisering van die ou statusfigure (soos Van Aardt). Hul gesprek beier van kant tot kant; hulle maak nie konneksie nie, maar skynbaar volg hulle mekaar se verkrummelde logika.

Teise is die ondersteuning vanself, maar ook die stem van ’n ouer kultuur met vreemde bygelowe, die brug tussen Van Aardt en die nuwe orde. Maar uiteindelik is daar vir Van Aardt geen sekerhede oor nie. Agterdog word sy verstekposisie. Sy impuls om pad te gee uit die land is verstaanbaar.

7.

Die somtotaal van Die kleinste ramp denkbaar is een van ’n klein deel van die totale bevolking (die Afrikaners) wat hulself in ’n fase van kulturele transformasie bevind. Hulle word in die groter bevolking geassimileer, en hul getalle word uitgedun. Die roman speel in op wat oral in Suid-Afrika sigbaar is. Daarom is dit vir my so heerlik om ’n Afrikaanse roman van hierdie formaat te lees in ’n tyd waarin doemprofete voorspel dat die Afrikaanse taal uitsterf.

Met die tweede lees van die roman is ek opnuut beïndruk deur die deeglike beplanning wat die geheel onderlê. Ek was meegesleur in die leesproses en erg geïnteresseer deur die manier waarop Francois Smith doelbewus teen die bou van spanning in geskryf het. Dit is nie ’n speurverhaal hierdie nie, ofskoon ’n soort speurtog aan die kern daarvan lê. Vir my is dit ’n karakterstudie, ’n ontginning van ’n personasie wat nie ’n verhewe, geïdealiseerde mens is nie. Gustav van Aardt verryk ons letterkunde; die omwenteling wat die beskrewe naweek in sy lewe bring, maak nie van hom ’n nuwe mens nie. Soos Bart Nel is hy steeds hy wanneer hy sy besluit neem om in die land aan te bly; hy het net geen illusies meer oor sy aard binne hierdie geografiese konteks nie. Hy verstaan dat hy nie alles kan – of wil – verstaan nie.

Lees ook:

Francois Smith se Kleinste ramp denkbaar gaan boei, terroriseer

The post <em>Die kleinste ramp denkbaar</em> deur Francois Smith: ’n bespreking appeared first on LitNet.

Geniet die KKNK en Mothership Studios se reeks aanlyn konserte

$
0
0

Hugo Theart (Foto: Menán van Heerden)

’n Musiekreeks wat in Kaapstad opgeneem en na die wêreld gestroom word – geniet wêreldklasgehaltemusiek van plaaslike kunstenaars in die gerief van jou eie huis.

Die KKNK en Mothership Studios bied ’n unieke aanlyn musiekreeks aan. Die reeks is reeds in volle swang en gedurende die volgende paar weke kan jy elke Donderdagaand om 20:00 'n nuwe konsert beleef. Die konserte is dan vir 72 uur beskikbaar om te kyk.

Kunstenaars wat deel vorm van die reeks sluit in Elandré, Emo Adams, Karen Zoid, Watershed, Jan Blohm, Elvis Blue, Anna Davel, Roan Ash en die bekroonde huldeblyk van die ikoniese Eet Kreef!-album (met oa Laudo Liebenberg).

Hugo Theart, artistieke direkteur van die KKNK, vertel meer.

Vertel asseblief meer oor die Mothership Sessions-musiekreeks – wat behels dit?

Die KKNK wou graag aan ons gehore steeds vermaak van hoë gehalte bied in dié moeilike tyd. Ons het baie navorsing gedoen en gekyk na al die opsies. Dit is nie moontlik om nou musiek of teater in ’n lewende vorm aan gehore te bied nie en die aanlyn medium sal nooit ’n plaasvervanger vir dit kan wees nie. Maar hoe kan mens steeds gehore die geleentheid gee om hul gunstelingmusikante, -sangers en -akteurs te sien, maar op so ’n manier waar dit steeds ’n ervaring is? In gesprekke met Carien Loubser en Karen Zoid (vennote in Mothership Studios en ook vervaardigers van ’n reeks soos Die Republiek van Zoid Afrika) is die gedagte van Mothership Sessions genoem. Die inspirasie vir die musiekreeks kom van die MTV Unplugged-reeks wat in die ‘90’s met onder meer Nirvana en Elton John opgeneem is. By daardie opnames was daar ook ’n klein gehoor. Met die regulasies en vir veiligheid was dit natuurlik nie moontlik gewees om ’n gehoor toe te laat nie. Carien en Karen het besluit dat dit letterlik ’n gevoel van “sessions” moet hê. Die kyker word bykans deel van die musieksessie tussen die musikante. Dit is tegelyk groots en ook intiem.

Die reeks is saamgestel om ’n verskeidenheid genres in te sluit. Ek dink wat dit ook besonders maak, en wat ’n ekstra “spark” aan elke konsert gee, is dat baie van die sangers en musikante op daardie stadium vir ’n lang tyd nie kon optree nie. Die absolute vreugde en genot van die betrokkenes kan gesien en gevoel word! Die musikante en sangers is almal mense wat passie het vir wat hul doen – musiek en optredes is deel van hul DNS – dis hul suurstof en hul moet dit doen om te oorleef (en dan praat ons nie nou hier van die finansiële deel van die oorlewing nie).

Ek moet bysê dat hierdie nie ’n enkelreeks is nie; die gedagte is om ’n paar sulke reekse op te neem. Ons het so baie uitstaande musikante en sangers. Hierdie is ’n eerste fase en mens kon natuurlik net ’n paar mense insluit agv hetsy beskikbaarheid, logistieke (omdat dit in Kaapstad geskiet is) en so meer. Ek kan dit nie eens ’n toetslopie noem nie, want dit is ’n wenner van ’n eerste reeks!

Die reeks is natuurlik ook aangepak om ’n inkomste vir die sangers en musikante in die tye te genereer. Dit is dus wonderlik dat die reaksie goed is en die beste van die musiekreeks is dat selfs in normale omstandighede dit oor en oor die moeite werd is om dit te kyk.

Ek dink ’n pluimpie vir Carien Loubser is dat alhoewel jy die enkel konserte kan kyk, die reeks eintlik ’n eenheid vorm. Om die volle ervaring te hê is dit goed om die hele reeks te kyk. Dis amper soos ’n kortverhaalboek met verskillende stories, maar uiteindelik vorm dit ’n besonderse geheel.

Vir die KKNK is dit ’n besonderse voorreg om deel te wees van ’n musiekreeks van dié gehalte en standaard. En as ek kyk na die reaksie van die mense wat reeds gekyk het, is dit ook ’n besonderse ervaring vir die gehore. Dit is wonderlik. Musiek is nodig in dié tye. En hierdie reeks bied dit op steroids!

Watter kunstenaars tree almal op?

Op die oomblik is daar twee konserte aanlyn beskikbaar – Karen Zoid en Emo Adams Unplugged. Op 20 Augustus kan uitgesien word na die internasionaal-gerekende Watershed. Al drie die konserte sal dan beskikbaar wees tot 23 Augustus. Karen Zoid verras mens met elke konsert – net wanneer jy dink sy kan nie beter nie, dan kom sy met nuwe energie en oortref haar vorige optrede – ek dink werklik dié een is haar beste opgeneemde vertoning tot dusver. En Emo se konsert is werklik persoonlik. In die opname tree hy ook onder andere saam met sy pa, Boeta Maan, op. Sjoe, dis aangrypend, dis mooi, dis snaaks. Emo is regtig een van ons land se heel beste performers.

Watershed

Die ander konserte in die reeks het elk spesiale elemente en die gehoor/kyker kry ook ’n bietjie van ander blik op die kunstenaars. Oor die volgende weke kan mense uitsien na Anna Davel, Jan Blohm, Elvis Blue en Roan Ash – en dis elk werklik uitsonderlike konserte. Daar is ook ’n spesiale opname van die kykNET Fiësta-bekroonde musiekproduksie Eet Kreef! met onder andere Laudo Liebenberg. Dit is ongelooflike verwerkings van die songs op die ikoniese Johannes Kerkorrel en die Gereformerde Blues Band-album. Dit is nie net nostalgie nie, maar werklik ’n uitsonderlike musikale ervaring.

Is die konserte vooraf opgeneem of word dit regstreeks uitgesaai?

Die konserte is vooraf by Mothership Studios in Philadelphia opgeneem. Dit was vir almal betrokke belangrik om te sorg dat die eindproduk van elke konsert van uitstaande gehalte is. Die opnames is in hoë definisie opgeneem sodat dit uitsaaikwaliteit is en dat dit net so goed op ’n klein rekenaarskerm as op ’n groot TV-skerm lyk. Ses kameras en ’n dolly track is gebruik om ook beweging aan die kameras te gee. Die feit dat dit opgeneem word, gee ook geleentheid om tyd te spandeer aan die redigeringsproses en te verseker dat elke raam van die opname se beeld versorg en “grade” word. Daar word ook spesiale aandag geskenk aan die klankkwaliteit en die meng daarvan. Theo Crouse is ’n meester en hy en Karen Zoid is nou by die proses betrokke om te verseker dat die klank kristalhelder is.

Jan Blohm

Hoe kan ’n mens kaartjies koop? En jy sê die vertoning is na die tyd steeds beskikbaar?

Alle inligting is beskikbaar by https://www.kknk.co.za/kknk-mothership-sessions

Ja, Karen Zoid en Emo Adams is beskikbaar tot 23 Augustus om middernag. En elke Donderdag word ’n nuwe konsert beskikbaar gestel wat dan vir 72 uur beskikbaar is. Die verskil natuurlik met aanlyn konserte is dat jou R150-kaartjie vir jou en jou hele gesin is en dat jy die konsert vir daardie tydperk oor en oor kan kyk.

En ek wil tog almal aanmoedig om wanneer hul ’n kaartjie koop ook te oorweeg om ’n donasie aan die Tribuo Fonds te maak. Die fonds is gestig om mense wat betrokke is in die uitvoerende kunste en wat nie nou kan werk nie, te ondersteun en help. Wanneer jy jou kaartjie koop, net voor jy betaal, is daar ’n opsie om ’n donasie te maak. Vir meer inligting oor die fonds, besoek gerus www.tribuo.co.za.

  • Foto's: verskaf

The post Geniet die KKNK en Mothership Studios se reeks aanlyn konserte appeared first on LitNet.

In gesprek met Bernard Lategan: Gevorderde Navorsingsinstitute as keerwal teen vervlakking

$
0
0

Pieter GR de Villiers gesels met Bernard Lategan oor sy artikel “Institute vir Gevorderde Navorsing: Elitistiese luuksheid of bakermat van die wetenskap?” wat in LitNet Akademies se Godsdienswetenskappe-afdeling verskyn het.

.............

Bernard Lategan (Foto: verskaf)

Waarom was dit vir jou belangrik om hierdie artikel te skryf? Hoe het jou belangstelling in Stias en Institute vir Gevorderde Navorsing ontstaan? Kan jy meer vertel oor hoe jou eie akademiese loopbaan ontwikkel het tot met jou betrokkenheid by Stias?

Institute van hierdie aard is al byna ’n eeu lank deel van die akademiese toneel. Nogtans bly hulle relatief onbekend. Daar is verskeie redes hiervoor – en sulke institute het self ook skuld aan hierdie toedrag van sake. Hulle is oor die algemeen sku vir die kalklig en doen hulle werk meestal agter die skerms. Maar naas onbekendheid is daar ook baie wanopvattings in omloop. Die agterdog is deels te wyte aan die ontploffing van IGN’s wêreldwyd sedert 2000, toe hulle soos paddastoele opgespring het en talle universiteite daarna gestreef het om so ’n instituut te vestig. Die groep universiteitsgebaseerde IGN’s (Unibas) tel al bykans vyftig lede, maar daar is nog heelwat ander wat nie tot hierdie konsortium behoort nie. Baie vertoon min van die oorspronklike kenmerke van ’n IGN en is in sommige gevalle net ’n gerieflike instrument vir die betrokke universiteit om sy eie navorsingsprogram te bevorder. Dit is daarom geen wonder dat die idee van ’n IGN in baie kringe met agterdog bejeën word nie.

Dit was vir my belangrik om in die artikel aan die een kant die oorspronklike idee van ’n “ware” IGN te verduidelik en aan die ander kant soveel as moontlik van die misverstande uit die weg te probeer ruim.

Wat die ontstaansgeskiedenis van Stias betref, was dit (soos met baie dinge in die lewe), deels te danke aan ’n groot skeut gelukkige toeval (“serendipity”) en deels aan doelgerigte beplanning. Met die oorgang na ’n inklusiewe demokrasie in 1994 het baie instellings en die meeste Suid-Afrikaners voor die vraag te staan gekom: Hoe nou verder? Hoe moet ons die samelewing nuut inrig en wat behoort my bydrae daartoe te wees? Aan die een kant was daar opgewondenheid en ’n ongekende belewing van vryheid, en aan die ander kant onsekerheid oor die toekoms. Universiteite was nie hiervan uitgesluit nie. In die lig van verskille in agtergrond en geskiedenis moes elke instelling besin oor wat sy besondere bydrae tot die “nuwe” Suid-Afrika gaan wees. Stellenbosch, wat ’n sekere deel van die bevolking so uitstekend oor dekades gedien het, kon nie voortgaan asof niks gebeur het nie. Die universiteit het voor ’n dubbele uitdaging gestaan: Aan die een kant moes sy aandeel aan die ontstaan en uitbou van apartheid vierkantig in die oë gekyk en rondborstig erken word. Aan die ander kant moes die universiteit ’n sinvolle rol in die nuwe bedeling vind. Deel van die oplossing was om die tradisie van ’n uitstekende navorsingsuniversiteit voort te sit, maar om die skopus te verbreed. Voortaan sou die fokus nie meer op een deel van die bevolking wees nie, maar op alle Suid-Afrikaners. Trouens, die meer ambisieuse doelwit was ook om tot diens van die hele kontinent te wees.

Geen universiteit – en veral nie Stellenbosch nie, gegee sy geskiedenis – kon sonder meer so ’n nasionale, inklusiewe aanspraak maak nie. Dis ’n rol en reputasie wat die instelling eers moes verdien deur sy optrede. Die ideaal om wyer van diens te wees is in die Strategiese Raamwerk van destyds uitgespel en op verskillende maniere prakties toegepas. Een daarvan was die stigting van die Stellenbosse Instituut vir Gevorderde Navorsing (met die veelseggende akroniem Signa). Die leidende gedagte hierby was: As Stellenbosch daarna streef om ’n sterk navorsingsgerigte universiteit te wees, hoe kan hierdie bate vir die hele land en vir alle voornemende navorsers beskikbaar gestel word? Hoe sou die navorsingskundigheid en navorsingsbydrae van die land – en trouens van Afrika in sy geheel – versterk kon word?

Stias het dus van die begin af nasionale – en kontinentale – ambisies gehad. Die mees gepaste naam sou trouens die Suid-Afrikaanse Instituut vir Gevorderde Navorsing gewees het, gegee die feit dat so ’n instelling nog nêrens in die land bestaan het nie. Maar weer eens kon Stellenbosch nie eenvoudig hierop aanspraak maak sonder die instemming van die ander Suid-Afrikaanse universiteite en van die onderwysowerhede nie – wat op daardie stadium hoogs onwaarskynlik was. Die strategie was dus om aanvaarding en respek te verdien deur klein te begin, om eers te kruip voor geloop word, en om van die begin af navorsers van ander universiteite na Stias te nooi. Soos in die artikel verduidelik word, is gedurende die beginjare geen kollegas van Stellenbosch as navorsingsgenote genooi nie, om dit duidelik te maak dat die instituut nie ’n parogiale instelling is nie. (Die verbod op Stellenbossers is gelukkig intussen opgehef!)

Die werklike stigting het ’n interessante aanloop gehad. Walter Zimmerli, ’n bekende Duitse akademikus, het in 1996 ’n lesing op kampus aangebied waarin hy die idee van ’n instituut vir gevorderde navorsing vir Stellenbosch voorgestel het. Walter Claassen, die destydse viserektor: navorsing, was van die begin af entoesiasties en ’n verbete kampvegter vir die idee. Met die ondersteuning van die rektor, Andreas van Wyk, het die instituut in 1999 deur ’n Raadsbesluit tot stand gekom. Hoewel die universiteit dus die inisiatief geneem het om Stias op te rig, was die bedoeling van die begin af om dit as ’n nasionale, onafhanklike instelling te ontwikkel. Die medewerking van en aanvaarding deur ander universiteite binne en buite Suid-Afrika het hierdie proses bespoedig, en deur ’n verdere Raadbesluit van 2008 het die instituut amptelik ’n selfstandige openbare-voordeel-organisasie (OVO/PBO, Public Benefit Organisation) geword.

Jy vra ook oor my persoonlike betrokkenheid. Soos met almal die geval is, begin mens maar iewers in die lewe – om dan ’n draadjie te volg wat vertak en weer vertak en jou uiteindelik met ’n hele netwerk van ander mense, ervarings en idees verbind. Dis eers agterna dat mens jou verbeel daar was ’n patroon in al die toevallighede. In my geval was die begin die plat-op-die-aarde en sien-tot-in-volgende-week-in Vrystaat met ’n klassieke (Skotse) byvoeging. In die laat vyftigerjare was daar ’n aantal Skotse professore aan die Universiteit van die Oranje-Vrystaat (veral in regte en Klassieke tale). Die storie was dat prof Steven (Latyn) dit soos ’n ware Skot goedkoper gevind het om Desembermaande met die trein na Kaapstad en die posboot na Southampton te reis en die Kersvakansie (gratis) by sy familie in Skotland deur te bring as om in Bloemfontein te bly. In my geval het Sas van Rooij (’n Oxford-geskoolde don) en Jannie Louw (student van die vermaarde PV Pistorius van Pretoria) my aan die Klassieke oudheid en Griekse taalkunde bekendgestel. Om die raaiselagtige Griekse lettertjies te ontsyfer en die hartklop van ’n eeu oue grammatika te ontdek het ’n nuwe (hoewel antieke) wêreld oopgemaak wat gou na geskiedenis, drama, retorika, kuns en filosofie gelei het. Die saadjie om te probeer verstaan, om sin te maak, om tussen wêrelde te beweeg, het vroeg ontkiem. Ná Stellenbosch (met onder andere Hugo, Fensham en Degenaar) het die Nederlandse akademiese wêreld my geleer hoe vlymskerp, reguit maar ook verdraagsaam akademiese debat kan en behoort te wees. Die groot geluk was om met my terugkeer by Wes-Kaapland te land waar die akademie nooit net abstrakte teorie was nie, maar gedurig gevoed en uitgedaag is deur die roue werklikheid. En hierdie deurleefde werklikheid het die onsinnigheid van gewaande meerderwaardigheid en ideologiese vooroordele genadeloos ontmasker. Dit het op sy beurt ’n groter en bevrydende wêreld geopen en duidelik gemaak hoe die beleid van diskriminasie en die beheptheid met afsondering en uitsluiting ons bevoorregtes net verder verarm en vervlak het. Die proses om te probeer verstaan het ononderbroke en met ’n groter dringendheid voortgegaan.

Die skuif daarna toe ek by jou, Johann Kinghorn en Lukas Muntingh op Stellenbosch aangesluit het, was nog een van daardie gelukkige toevalle. Ons was nie in die beskermde omgewing van ’n fakulteit van eendersdenkendes wat dieselfde uitgangspunte gedeel het nie, maar moes ons akademies probeer handhaaf omring deur sosioloë, politieke wetenskaplikes, filosowe, letterkundiges, skeptiese joernaliste en ander met wie ons teekamers en nimmereindigende gesprekke gedeel het – om van historici, geograwe, ekonome, sielkundiges en die kunste nie te praat nie.

Hierdie multidissiplinêre ervaring is verder versterk toe ek tussen 1996 en 1999 betrokke geraak het by die strategiese beplanning van die universiteit – gedurende die oorgangstyd waarna ek reeds verwys het. Die universiteit moes homself nie alleen vir die toekoms posisioneer nie, maar was verplig om elke studiekursus opnuut by die Departement van Hoër Onderwys te registreer. Wat vir baie net ’n burokratiese las was, het die universiteit aangegryp as ’n geleentheid om te besin waarom kursusse lyk soos hulle lyk en of daar nie iets nuuts en beter in hul plek gestel behoort te word nie. Die geleentheid om by 11 fakulteite betrokke te raak en ’n insig te kry in die doel en samestelling van letterlik elke universiteitskursus was besonder waardevol. Dit het gou duidelik geword hoeveel oorvleueling en duplisering plaasvind – maar ook hoeveel geleenthede daar vir samewerking en verryking oor fakulteite en oor dissiplinêre grense heen moontlik is. Dit was goeie voorbereiding vir wat later in Stias verder uitgebou sou word.

Stias, die Stellenbosse Instituut vir Gevorderde Navorsing (Foto: Universiteit Stellenbosch)

Wat is vir jou tot dusver die belangrikste mylpale wat Stias en soortgelyke instellings behaal het?

Stias het uit die staanspoor drie kerndoelwitte nagestreef: om internasionaal as ’n leidende navorsingsinstelling erken te word, om diensbaar aan die hele Suid-Afrikaanse navorsingsgemeenskap te wees, en om ’n beduidende rol in Afrika te speel.

Om ’n internasionale profiel op te bou verg tyd en geduld. Deur van die wêreld se voorste navorsers na Stias te nooi (insluitende ’n aantal Nobelprys-wenners) het die Instituut geleidelik bekend geraak en ’n lojale korps van navorsingsgenote opgebou wat as “ambassadeurs” vir Stias opgetree het. Stias het ’n belangrike mylpaal in 2018 bereik toe dit (as die enigste IGN in Afrika) genooi is om die tiende lid van die uitgelese groep “gevestigde” IGN’s te word. Die groep sluit die oorspronklike IGN van Princeton in, en ook dié van Harvard, Stanford, Uppsala, Berlyn, Jerusalem, Amsterdam, Nantes en die National Humanities Center in Noord-Carolina.

Die tweede doelwit was om daadwerklik as ’n nasionale bate vir alle Suid-Afrikaanse navorsers erken te word. Om navorsers van alle Suid-Afrikaanse universiteite aktief te betrek, die navorsingprioriteite van hierdie instellings ook te ondersteun en byvoorbeeld rektore van Suid-Afrikaanse en buitelandse universiteite te nooi om op die direksie te dien, het baie gehelp om aanvanklike argwaan te oorwin. Dis baie bevredigend om te sien hoe Stias toenemend as ’n “veilige” ruimte ervaar word, as ’n eerlike of neutrale bemiddelaar wat nie seksionele belange nastreef nie, maar waar in plaas van die gebruiklike mededinging tussen universiteite oor dissiplinêre en institusionele grense saamgewerk kan word in belang van die wetenskap in sy geheel.

Derdens was die doel om aan topnavorsers in Afrika (wat dikwels elders in die wêreld ’n heenkome moet vind) ’n tuiste op eie bodem te bied waar hulle hul navorsingsideale kan nastreef en hul ambisies kan uitleef. ’n Belangrike mylpaal was die Iso Lomso-program wat bedoel is om jong navorsers wat reeds doseerposte beklee, te help om hulle as leiers op hul gebied te vestig. Die program trek van die heel beste talent van regoor die vasteland en met elke jaar se inname word die “bank” van hierdie toekomstige navorsingsleiers vergroot en versterk. Verder is Stias ’n ankerpunt van verskeie navorsingsnetwerke in Afrika en het dit in ’n gesogte navorsingsbestemming ontwikkel. Met die aanstelling van Edward Kirumira, ’n sosioloog uit Uganda met Kopenhagen- en Harvard-agtergrond wat in openbare gesondheid spesialiseer, as nuwe direkteur in 2018, is die verbondenheid met Afrika verder versterk.

Die mylpale wat Stias bereik het, dien die oorkoepelende doelwit wat susterinstellings in ander dele van die wêreld nastreef, naamlik om die vlam van onafhanklike en vernuwende navorsing wêreldwyd brandend te hou.

Watter uitdagings is daar tans vir Stias en soortgelyke instellings? Hoe raak die grendeltyd die instituut?

Ja, die pandemie slaan ons en ons vennote net so hard soos ander dele van die samelewing. Die verbod op internasionale reise, die beperkings op gastehuise, groter byeenkomste en verkeer op kampusse beteken dat ons vir ’n tyd lank in ons spore gestuit was. Susterinstellings verkeer onder dieselfde druk. Oor ’n paar maande hoop ons om weer stadig op dreef te kom, maar dit gaan nog ’n tyd duur voordat ons weer normaal kon funksioneer.

Daar is egter ’n ander kant van die munt wat ’n groot geleentheid vir IGN’s skep. As daar een ding is wat die huidige krisis duidelik gemaak het, is dit die kritieke rol van betroubare, akkurate en gesaghebbende data en inligting. Meer nog – die vind van ’n oplossing en die ontwikkeling van ’n effektiewe entstof is volledig van hoëvlak-, baanbrekende en hoogs gespesialiseerde navorsing afhanklik. Dit is vir almal duidelik dat hierdie soort navorsing geen luukse is nie, maar letterlik lewensbelangrik geword het.

Wanneer sou navorsing wel as eiesinnig (Flexner) of as ’n elitistiese luuksheid beskou kon word?

Daar is ’n dun lyn tussen die twee. Dit is goed om te onthou dat IGN’s op die lang duur net geduld sal word as hulle waarde toevoeg, as hulle iets doen wat universiteite en ander navorsingsinstellings nie doen nie. Die “eiesinnigheid” waarvan hier sprake is, is eintlik die vryheid wat alle navorsing behoort te kenmerk – die vryheid om enige vraag te vra, om teen die stroom op te roei, om geen koeie as heilig te beskou nie, om elke grens te toets, om die ondenkbare te dink. Of so ’n benadering altyd iets nuttig oplewer, is ’n ander vraag. IGN’s beweeg op die rand van dinge, moet bereid wees om te waag en te eksperimenteer – en daarom ook gereed wees om mislukking te aanvaar.

Maar is dit nie presies wat universiteite ook probeer doen nie? In wese bly die etos van goeie navorsing dieselfde – wie dit ook al doen en waar dit ook al plaasvind – aan ’n universiteit of aan ’n IGN. Die twee is onlosmaaklik aan mekaar verbonde – geen IGN (soos in die artikel verduidelik word), kan sonder ’n universiteit (of universiteite) bestaan nie.

Wat die situasie wel anders maak, is dat universiteite in die praktyk so oorlaai word met ander verantwoordelikhede en verwagtinge dat die kans om gekonsentreerd en intensief navorsing te doen al skraler word. Universiteite moet dikwels – heel onbillik meen ek – instaan vir foute wat in ander dele van die samelewing hul oorsaak het, en/of dit regmaak. Die onvermoë van die skoolstelsel om leerlinge universiteitsgereed af te lewer moet deur oorbruggingskursusse reggestel word. Gemeenskapsdiens, wat eintlik die verantwoordelikheid van die burgerlike samelewing en nieregeringsorganisasies is, word toenemend na die universiteit oorgeskuif. En die beroepswêreld verwag afgestudeerdes wat in alle opsigte “markgereed” is.

Die gevolg is dat tyd en middele vir ernstige navorsing ’n luukse vir die meeste akademici geword het. Geen wonder dat IGN’s dan as idilliese eilande gesien word waar die druk van die akademiese bedryf (tydelik) ontvlug kan word en die verblyf daar bloot as ’n ruskans geniet word nie. Dit is op hierdie punt dat IGN’s die gevaar loop om elitistiese luukshede te word wat die eintlike rede vir hulle bestaan versaak. Wanneer hulle egter reg funksioneer, is dit een van die belangrikste bates nie net vir universiteite nie maar ook vir die land as geheel. Dit pas IGN’s dus om beskeie te wees, maar ook om voortdurend selfkrities en waaksaam te bly.

Een van die groot voordele wat IGN’s wel kan bied, is die interdissiplinêre omgewing wat dit skep. Omdat hierdie institute in wese grensoorskrydend is, kan hulle in embrio as ’n ideale mikrokosmos funksioneer waar dissiplines en navorsingstradisies mekaar kan ontmoet, leer ken en waardeer, en idees, insigte en resultate met mekaar kan uitruil. Om hierdie rede vind baie navorsingsgenote dit ’n uiters stimulerende omgewing.

Dis nie dat universiteite nie ook hierna streef en dosente nie reikhalsend daarna verlang nie. Die strukturele opset van ’n omvattende universiteit ry sulke pogings egter eenvoudig voortdurend in die wiele. Om goeie organisatoriese en pragmatiese redes word lede van een departement in aangrensende kantore gehuisves, gedwing om dieselfde gebou en teekamers met aanverwante vakgebiede te deel, en saam in ’n afsonderlike fakulteit gegroepeer. Die kanse dat dosente in rekeningkunde met hulle kollegas in medisyne vakkundige gesprekke sou voer, of dat iemand in drama aan die werk van eweknieë in molekulêre biologie blootgestel sou word, is uiters skraal (soos die pogings om ons samelewing te herstruktureer en oor ou grense te beweeg steeds deur fisiese strukture soos histories geskeide woonbuurtes gepootjie word). Selfs studente uit verskillende vakrigtings mag in dieselfde koshuis woon of in dieselfde sportspan speel, maar die skuur van akademiese skouers en diepgaande intellektuele gesprekke oor die grense van die eie gebied bly vir die meeste ’n onbereikbare ideaal.

Watter implikasies het die huidige aktivisme van studentegemeenskappe vir gevorderde navorsing, ook in terme van hul eise om navorsing te dekolonialiseer? Watter rol speel opkomende navorsers en die menings van jong studente in institute vir gevorderde navorsing? En hoe word minderheidsgroepe by hierdie institute betrek?

Hierdie bevraagtekening van gangbare leerinhoude en heersende kennissisteme is van buitengewone belang vir IGN’s, omdat dit die kollig laat val op hoe kennis in die eerste plek tot stand kom. IGN’s gee hulself immers uit as plekke waar nuwe kennis ontdek word. Die proses van kennisskepping is gevolglik een van die kernbelangstellings van ’n IGN. Die wyse waarop hierdie uitdaging benader word, is egter wesenlik anders. IGN’s kies nie aktivisties kant in ’n dispuut nie, maar gee ’n tree terug en vra die meer generiese, oorkoepelende vrae: Watter leemtes stel hierdie opstand aan die kaak in ons heersende en oorgeërfde kennissisteme? Waarom was ons so lank blind daarvoor? Watter verstellings is nodig?

Stias wil juis ’n forum bied vir stemme wat andersins nie gehoor word nie – vir aweregse, onkonvensionele, buitenissige standpunte. Die voorwaarde is egter dat dit op ’n inklusiewe wyse gebeur – in gesprek met ander, botsende standpunte in ’n gemeenskaplike soeke na groter insig en begrip. Eerder as om die “gier van die maand” blindelings na te volg, is die doel om ’n veilige ruimte vir openhartige, kritiese en konstruktiewe gesprekke te skep. Ons ervaring dui daarop dat daar ’n groot behoefte bestaan aan sulke gesprekke – weg van die skerp lig van televisiekameras en in ’n meer persoonlike en vertroulike atmosfeer.

In die proses het ons ontdek hoe belangrik dit is om jonger stemme en opkomende geslagte van knap navorsers ’n inherente deel van die instituut se bedrywighede te maak. Dit is een van die groot dryfvere agter die Iso Lomso-program om ’n jonger kohort te betrek. Nie net gevestigde navorsers aan die einde van hul loopbaan nie, maar ook die sterre van die toekoms is noodsaaklik as ons ernstig is oor die voortdurende vernuwing van kennis en denke.

Word aandag daaraan gegee om gevorderde navorsing aan ’n gewone publiek bekend te stel?

IGN’s in die algemeen, en ook Stias, moet ruiterlik erken dat hulle tot dusver nie regtig daarin slaag om hulle navorsing en resultate aan die algemene publiek bekend te stel nie. Daar is (soos reeds aangedui) ’n ingeboude rede wat dit in die hand werk – institute van hierdie soort doen hulle werk meestal agter die skerms, in afsondering en in byna kloosteragtige omstandighede. Navorsers wil juis wegkom van die gedruis en in stilte op hul werk konsentreer. Maar hierdie voorwaardes vir skeppende denke behoort nie ook op die resultate van hierdie werk oorgedra te word nie. Stias reël wel openbare geleenthede waar van sy navorsers optree; die besonderhede van elke navorsingsgenoot en sy of haar navorsingsprojek(te) is op die webblad beskikbaar; publikasies verskyn aan die lopende band – maar dit is klaarblyklik nie genoeg nie.

Dit is opvallend hoe mense, selfs diegene met ’n universiteitskwalifikasie, sukkel om plasings op LitNet te verstaan, soos wat ’n mens uit hul kommentare op sosiale media kan sien. Mens kan verstaan as tegniese artikels vir mense te moeilik is. Maar in baie gevalle is dit heel toeganklike artikels wat duidelik bo mense se vuurmaakplek is en wat vir hulle kennelik te moeilik is. Die ergste vorm hiervan is dat sulke lesers dan boonop soms hoogs selfingenome spog met hul eie oningeligte sieninge. Die gevolge van hierdie anti-intellektuele tendens is uiteraard katastrofies, want wetenskaplike insigte oor klimaatsverandering, omgewingsbesoedeling en ’n ramp soos die COVID-19-krisis word geminag of eenvoudig geïgnoreer. Dieselfde tendens kry ’n mens elders in die wêreld, byvoorbeeld in Amerika, waar mense met hul weiering om maskers te dra en sosiale afstand te handhaaf, die wetenskaplikes openlik minag. Mens dink ook aan die gewildheid van samesweringsteorieë op sosiale media. Hoe sien jy hierdie anti-intellektuele tendens en wat kan wetenskaplikes doen om die groot gaping tussen wetenskap en die gewone mens te oorbrug? Is dit ’n kwessie wat in gevorderde navorsingsinstellings bedink word?

Jy lê jou vinger op een van die ernstigste probleme van ons tyd: intellektuele vervlakking. Die skouspelagtige resultate van die “digitale era” en die “netwerksamelewing” en die voordele wat dit meegebring het (blitsvinnige kommunikasie, wêreldwye reikwydte, ongekende rekenaar- en berekeningsvermoë, vrye beskikbaarheid van inligting, uitskakeling van rompslomp), is so oorweldigend dat die vervlakking en afstomping wat daarmee gepaard gaan, haas ongemerk ingesluip het.

Die radikale demokratisering van inligting (nie noodwendig van kennis nie en nog minder van wysheid) het ’n ewe radikale verlies van kritiese bewussyn tot gevolg gehad. Inligting is nie langer die uitsluitlike domein van ’n klein groepie “geleerdes” nie. Ook Jan Alleman het nou onbeperkte en ongekontroleerde toegang tot feitlik alle inligtingsbronne. Daar is nie meer waghonde of tussengangers wat die betroubaarheid van hierdie inligting deurlopend toets nie.

’n Student wat ’n werkstuk met knip en plak saamgeflans het, was baie verbaas toe ek hom vra wat op watter gesag sy gevolgtrekkings berus. “Die internet,” was die antwoord. Enigiets wat hy op die “net” kon opspoor, het vir hom dieselfde gewig gedra as ’n gesaghebbende ensiklopedie of vaktydskrif.

“Die internet” het dus ’n gesagsbron uit eie reg geword. Die moeisame proses van sifting en noukeurige kontrole, die veiligheidsnet van deeglike en onafhanklike ewekniebeoordeling het weggeval. So het die grens tussen wolhaarstories en krities-getoetste inligting vervaag.

Die gevolg – waarna jy tereg verwys – is die opkoms van ’n nuwe geslag van selfaangestelde, selfversekerde “deskundiges”. Mense wat onbewus is van die onbetroubaarheid van hulle bronne, maar nogtans selfingenome besluite neem met potensieel katastrofale gevolge. Medici vertel van pasiënte wat nie net die diagnose van spesialiste bevraagteken nie, maar aandring op ’n behandeling of medikasie wat hulle self op die internet opgespoor het.

Dit alles skep ’n reusegeleentheid vir fopnuus. Donald Trump mag die skreiendste eksponent hiervan wees, maar die verskynsel is beslis nie tot die VSA beperk nie. Ons moet ook onthou dat dit nie die eerste kennisrevolusie is wat die wêreld beleef nie. Die uitvinding van die drukkuns het ’n soortgelyke demokratisering van kennis veroorsaak en naas positiewe ontwikkeling het dit ook kwaksalwers in staat gestel om hulle eie fopnuus en wondermiddels deur middel van traktaatjies en boeke te versprei.

Die huidige krisis het egter ’n dieper grond. Ons leef in die eeu van die onmiddellike. Die beperkinge van afstand en die vertraging deur tydsverloop het weggeval. Die bekende sosioloog Castells praat van “timeless time” en “spaceless space”. Ons is in onmiddellike verbinding met almal oral en afstand vorm geen belemmering meer nie. Tyd vir besinning ontbreek. Sosiale media is op oombliklike kommunikasie ingestel en verwag onmiddellike reaksie. Nie alleen lei dit tot “eerste gedagte”- en “eerste vlak”-antwoorde nie, maar die luukse van nadenke verdwyn. Geen wonder dat politici (en gewone gebruikers) dikwels hulle oorhaastige “twiets” berou nie!

Die “wetenskap” (met al sy gebreke) is op ’n ander trajek ingestel. Van oudsher ken dit die waarde van die “nie-onmiddellike”, van die “ompad”, van afstand neem en van verwysing (elke ding bestaan nie op sigself nie, maar verwys terselfdertyd na iets anders). Die wetenskap dwing homself om ’n tree terug te gee, om uit ’n ander hoek te kyk, om weer ’n keer te dink. Dit is wat wetenskap so frustrerend maak – maar terselfdertyd ook so waardevol as korrektief op ons eerste gedagtes en reaksies.

Die neiging om te abstraheer, om vir ’n wyle die “werklikheid” te verlaat en selfs die wêreld van fiksie te betree, mag na ontvlugting lyk. Maar goeie wetenskap keer altyd weer terug na die konkrete “werklikheid”. Besinning, nadenke, heroorweging is die suurstof waarvan ’n kritiese bewussyn lewe. IGN’s een van die teenwigte teen die “verdomming” van ons dag deur knaend en meedoënloos aan te dring op dieper, skerper, beter-getoetste kennis en om nie alles vir soetkoek op te eet nie. Dit is miskien die grootste enkele, maar ook die mees fundamentele, bydrae wat IGN’s saam met ander bondgenote in die stryd teen intellektuele vervlakking en banalisering kan lewer.

Weer eens – die wetenskap is nie ’n wonderkuur nie en het sy eie beperkings. COVID-19 het “geleerdes” totaal onkant gevang en ons moes van vooraf hierdie onbekende virus leer ken en probeer verstaan. Die vind van ’n effektiewe entstof gaan nog lank duur. Ons moet voortdurend bewus bly van die onvolledigheid en onvoltooidheid van ons kennis – soos trouens ook van ons menswees self (Nyamnjoh). Nogtans is die “wetenskap” die enigste verweer wat ons het om ons op te beroep in hierdie tyd van onsekerheid en kwaksalwery. Nie as ’n kitsoplossing nie, maar as ’n tydsame, uitmergelende en dikwels frustrerende soeke na die ware toedrag van sake en die bes moontlike verstaan van dinge. Metodes van kennisversameling en kennisgenerering verander oor tyd, en daar sal altyd nuwe verwikkelinge, bronne en tegnologieë wees. Wat egter konstant bly, is die onontbeerlikheid van ’n robuuste en ewewigtige kritiese bewussyn. As daar één ding is wat IGN’s, en Stias in besonder, kan bydra, is dit om hierdie bewussyn lewend en gesond te hou.

Die subtitel van jou artikel stel die vraag of institute vir gevorderde navorsing ’n elitistiese luuksheid of bakermat van die wetenskap is. Dit roep die vraag op wat met “wetenskap” bedoel word. Vir ’n lang tyd het ’n positivistiese wetenskapsideaal die “eksakte” wetenskappe as eintlike, egte wetenskappe beskou, terwyl daar ’n mindere waardering was vir vakgebiede soos opvoedkunde, geesteswetenskappe en godsdienswetenskappe. In die praktyk het dit byvoorbeeld daartoe gelei dat natuurwetenskappe, rekenaarwetenskappe, medisyne en die ingenieurswese beter gefinansier is, terwyl ekonomiese, sosiale en politieke wetenskappe, opvoedkunde en godsdienswetenskappe minder geag is. Daardie fase is nou verby, maar watter wetenskapsideaal dink jy behoort in ons tyd en konteks die aktiwiteite van universiteite en instellings soos Stias te dryf?

Jy is heeltemal reg dat die tyd van ’n eng, positivistiese opvatting van wat “wetenskap” behels, verby is. Die beperking van kennis tot dit wat meetbaar en toetsbaar is, het ’n groot verarming meegebring. Dit beteken nie dat die krag van die eksakte ontken of geïgnoreer kan word nie. Dit moet eerder aangevul word, in die besef van die onvolledigheid van ons wetenskaplike kennis. Die volledige agenda van die wetenskap word deur die lewe en die “werklikheid” self bepaal en nie deur ons pogings om dit kunsmatig af te hok nie. In hierdie verband het die biologiese wetenskappe ’n belangrike rol gespeel. Hierdie wetenskappe het lewende sisteme as hul veld van ondersoek wat sowel “lewende” as “nielewende” aspekte insluit. Hulle moet gevolglik rekening hou met nie-eksakte verskynsels soos interaktiewe kommunikasie, ontwikkelende eienskappe (“emergent properties”) en onsekerheid. In hierdie opsig vorm die biologiese wetenskappe ’n brug tussen hulle fisiese en geesteswetenskaplike gespreksgenote. Albei kante hou hulle immers besig met fasette van dieselfde basiese vraag: Wat is lewe?

In hierdie verband was daar ’n verdere “gelukkige toeval” by die ontstaan van Stias. Daar was eenvoudig nie genoeg geld om verskillende institute vir die verskillende afdelings van die wetenskap op te rig nie. Natuur- en geestewetenskappe was van die begin af in een instituut gehuisves. In hierdie opsig is Stias uniek in vergelyking met soortgelyke inrigtings wêreldwyd. Ander IGN’s het gewoonlik op een van die twee gebiede gekonsentreer en gaandeweg aspekte van hetsy die natuur- of die geesteswetenskappe bygevoeg.

Dit het gou geblyk dat die saamwees van alle vertakkinge van die wetenskap onder een dak enorme voordele inhou. Die daaglikse skuur van skouers tussen teoretiese fisici, regskenners, letterkundiges, ekonome, bioloë en al die ander vakgebiede het tot verrassende insigte en onverwagte ontdekkings gelei. Dit bly een van die Stias-kenmerke wat navorsingsgenote voortdurend as die mees waardevolle aspek van hul verblyf uitsonder. Die krag van interdissiplinêre wisselwerking, of liewer, van grensoorskrydende navorsing, kan nie oorskat word nie.

Hoe dink jy oor die toenemende professionalisering van universiteitstudie? Mens hoor byvoorbeeld by tye van mense in professies dat hul opleiding hulle nie voorberei vir hul professionele loopbane nie, soos byvoorbeeld van medici wat vir ’n lang tyd gekla het oor vakke soos chemie en fisika, regslui oor Latyn en predikante oor Bybelse tale. Met die toenemende kommersialisering en professionalisering van universiteite is hierdie vooropleiding ook in baie gevalle afgeskaal of beëindig. In ’n sekere sin word die “nuttigheid” van ander vakke soos filosofie en die Klassieke ook met agterdog bejeën omdat dit vir sommige nie tot ’n bepaalde beroep of tot konkrete toepassings lei nie. Institute vir gevorderde navorsing koop nie in op hierdie opvatting nie en skep gelukkig die ruimte vir gevorderde navorsing sonder inagneming van “nuttigheid”. Maar hoe nou gedink oor die gewone navorsingsituasie by universiteitsdepartemente wat nie so ’n ruimte het nie en onder druk van die “nuttigheid” van navorsing werk? Akademici is naamlik nie net bekwame dosente wat studente aan die wetenskap bekendstel nie. Hulle moet self aan gevorderde navorsing deelneem indien hulle wel die karakter van universiteite wil bevorder en hulle situasie wil onderskei van tegniese en beroepsgerigte opleiding, maar ook indien hulle materiaal wil doseer wat inhoudelik goed is. Wat sou jy wou sien moet prakties gebeur met dosente wat nie by die institute vir gevorderde navorsing kan inskakel nie en/of wat nie by navorsing uitkom nie?

Dit bly ’n ewige stryd om ’n balans te vind tussen ’n opleiding wat aan die veranderende eise van die beroepswêreld voldoen en een wat die breë ontwikkeling van die student bevorder. Hoewel sommige professionele rade hulle eie eksamens afneem voordat potensiële toetreders tot die betrokke beroep toegelaat word, word die inhoud van universiteitskursusse self steeds meer vernou en op die beroepsvereistes van die praktyk afgestem. Daarby kom die toenemende druk om kursusse te verkort omdat universiteitsopleiding so duur geword het. Dit alles het tot ’n wesenlike verskraling bygedra – nie net by teologie waar, soos jy sê, die grondtale en filosofie in die slag gebly het nie, maar ook by regte, medisyne, ingenieurswese en finansiële bestuur, om net enkele voorbeelde te noem. Mens wonder of dit nie een van die redes vir akademiese vervlakking is nie.

Dis ironies dat hierdie verskraling hom op die ou end in die praktyk wreek. Verryking vind nou toenemend op ander, onvoorsiene maniere plaas, soos aanvullende nagraadse kursusse in ander rigtings en fakulteite as waarin die eerste kwalifikasie behaal is. Die uitdagings van ons tyd is eenvoudig te kompleks om met één stel vaardighede of met beperkte insig bemeester te kan word.

Jy het gelyk dat professionalisering en die eng toepassing van die “nuttigheidskriterium” nie net opleiding nie, maar (om dit weer eens te beklemtoon) veral dosente se moontlikhede vir navorsing nadelig raak. Dit gaan hier om die wesensfunksie van ’n universiteit. Navorsing, onderrig en gemeenskapsdiens word gewoonlik as belangrike doelwitte van die universiteit beskou. Die drie staan egter in ’n onomkeerbare oorsaaklike verhouding tot mekaar. Uitnemende onderrig en doeltreffende gemeenskapdiens is direk van hoëvlak- en vernuwende navorsing afhanklik. ’n Universiteit kan kies om soos ’n welsynorganisasie op te tree en gemeenskapsdiens sy hooffokus te maak, of om op onderrig te konsentreer en ’n opleidinginstansie te word, maar dan versaak die instelling sy primêre roeping en sal op die duur nie as universiteit ernstig geneem word nie.

IGN’s veg dus om die vlam van navorsing brandend te hou. Hierdie institute wil ’n diens aan universiteite lewer deur die geleentheid te skep en die ondersteuning te bied aan dosente om hul primêre taak wat so onder druk gekom het, steeds te beoefen en te verdiep.

Institute vir Gevorderde Navorsing stel ’n hoë premie op navorsing wat “vernuwend” is. Maar wat bepaal wat “vernuwend” is? Dit sou op sekere gebiede maklik wees om vernuwing uit te wys: ’n Uitvinding kan as innoverend beskou word wanneer daar ’n toepassing daarvoor is wat nie voorheen bestaan het nie. Nuwe tegnologie lei byvoorbeeld tot die nuwe, superhanteerbare digitale kameras wat die einde van meganiese kameras beteken het. En platskermtelevisies en slimfone is sekerlik ’n konkrete voorbeeld van vernuwing. Hulle sou nie moontlik gewees het sonder die ontdekking van Gorilla-glas is in die sestigerjare toe ’n groep navorsers met die samestelling van glas geëksperimenteer het nie. Maar hoe sou ’n mens vernuwing op ekonomiese vakgebied, of in die filosofie, regswetenskap of teologie beoordeel waar sulke tasbare uitkomste dikwels ontbreek?

Innovering is ’n relatiewe begrip – wat vandag nuut is, kan oor ’n paar jaar verouderd en uitgedien wees. En ons bou voortdurend voort op wat ons voorgangers bereik het. Maar jy is reg dat sekere uitvindings meer sigbaar en opspraakwekkend is as ander. Tog is daar ook deurbrake op meer “obskure” gebiede. Die 2019-Nobel-pryswennners in ekonomie, Michael Kremer, Esther Duflo en Abhijit Banerjee, het ontwikkelingsekonomie op sy kop gekeer deur weg te beweeg van abstrakte ekonomiese modelle en eerder te konsentreer op hoe die armste van armes konkrete besluite neem oor aankope en besteding. Die geskiedenis van wetenskapsfilosofie sou as ’n opeenvolging van denkraamwerke beskryf kon word, waarvan sommige revolusionêr vir hul tyd was (dink aan Kuun se The structure of scientific revolutions). Kompleksiteitsteorie is tans ’n nuwe ontwikkeling ná modernisme en postmodernisme en waarby Stias ook nou betrokke is. Selfs in die relatief konserwatiewe regswetenskap is daar voorbeelde van vernuwende denke. “Herstellende geregtigheid” (“restorative justice”) is ’n poging om die straffende aard van regspleging aan te vul deur ’n meer versoenende benadering wat die rehabilitasie van die oortreder beklemtoon. Hier te lande (gesien die geskiedenis en probleme van grondbesit in Suid-Afrika) word ook nuut oor die aard van eiendomsreg besin. Wat teologie betref, was een van die grootste deurbrake (maar een wat nie altyd so sigbaar is nie) die ernstig opneem van die konteks waarin teologie bedryf word en die insluiting van die rol van die leser of ontvanger – wat beteken dat die gesag en betekenis van die boodskap nie langer net by die sender of die gesagsinstansies van die kerk berus nie.

Vernuwing gaan dus oor meer as net die konkrete resultate wat bereik word – dit gaan ten diepste oor ’n houding en ’n ingesteldheid. Nyamnjoh praat in hierdie verband van “frontier Africans” – of as jy wil, “grensmense”. Mense wat op die voorpunt beweeg en verdere horisonne verken, wat avontuurlustig na nuwe uitdagings soek, wat ongeneeslik nuuskierig is, wat bereid is om te waag en die ongewone te bedink en te beproef.

Athol Fugard het sy eerste toneelstuk in Afrikaans by Stias geskryf. (Foto: Jesse Kate Kramer)

Dit is om hierdie rede dat Stias moeite doen om die aard van die skeppingsproses self onder die loep te neem en meer indringend te vra hoe nuwe insigte en nuwe kennis tot stand kom. Daarom word skeppende kunstenaars (skrywers, skilders, musici) gereeld genooi om by die navorsingsgemeenskap aan te sluit. Hulle bydraes het al verrassende insigte opgelewer. Athol Fugard het nie alleen aan sy eerste toneelstuk in Afrikaans (Die laaste karretjiegraf) hier gewerk nie, maar ook aan die navorsingsgenote verduidelik hoe die skeppingsproses in sy geval verloop. Op een van sy rondtes deur die tuin (hy mog sy kromsteelpyp nie binne in die gebou rook nie) het hy op ’n dooie, omgevalle boomstomp afgekom. In die verwronge wortels was rivierklippe vasgedraai, wat hom aan sy eie lewe en sy geknelde worstelinge laat dink het. “So sal ek ook eendag lê – net droë oorblyfsels.” Die titel van ’n volgende stuk, Dry remains, het so sy beslag gekry. Maar toe hy ’n paar dae later weer daar verbykom, sien hy iets anders raak: groen sprietjies van nuwe lewe wat uit die ou stomp na die sonlig beur – en kry die stuk in wording ’n verdere, hoopvolle dimensie.

Is die oprigting van soveel institute vir gevorderde navorsing ’n verdere teken dat akademiese vryheid van universiteite onder druk is?

Daar is min twyfel dat navorsing en akademiese vryheid onder druk is. Ek het reeds verwys na al die bykomende (en onbillike) verwagtinge en verantwoordelikhede wat op universiteite gelaai word. Maar ook akademiese vryheid is nie altyd gewaarborg nie. Ek bedoel hiermee die vryheid om alle aspekte van die werklikheid te ondersoek, alle metodes te beproef, en alle vrae (veral die ongemaklikes) te bly vra – op voorwaarde natuurlik dat die standpunte en resultate wat uit hierdie navorsing voortvloei, op hul beurt aan kritiese beoordeling onderhewig moet wees. Die keurslyf van politiese korrektheid kan aanleiding gee tot subtiele of meer direkte vorme van (self)sensuur. Ons het onlangs die geval beleef waar die topbestuur van ’n Suid-Afrikaanse universiteit geëis het dat een van hul navorsers ’n gepubliseerde artikel in ’n geakkrediteerde tydskrif terugtrek. Selfs ASSAf (Suid-Afrikaanse Akademie van Wetenskappe) moes in hierdie geval vir die navorser in die bresse tree en die vryheid van wetenskaplike ondersoek verdedig.

Die taak van IGN’s is nie alleen om te streef na navorsingsuitnemendheid nie, maar ook om ’n ruimte te bied waar alle stemme gehoor en waar akademiese vryheid uit beginsel gerespekteer word.

 

Lees Bernard Lategan se LitNet Akademies-artikel hier:

Institute vir gevorderde navorsing: Elitistiese luuksheid of bakermat van die wetenskap?

 

The post In gesprek met Bernard Lategan: Gevorderde Navorsingsinstitute as keerwal teen vervlakking appeared first on LitNet.

kykNET-Rapport-boekpryse: 2020-kortlyste is hier!

$
0
0

Persverklaring deur beoordelaars

Die 2020-benoemdes vir die kykNET-Rapport-boekpryse, wat die Jan Rabie-Rapportprys vir nuwe prosa insluit, is pas bekend gemaak. Die pryse het vanjaar die meeste inskrywings ooit gelok.

“Afgesien van die rekordgetal inskrywings vir die boekpryse is meer drukname as ooit vantevore verteenwoordig op die kortlyste – welkome aanduidings van die lewenskragtigheid van sowel die Afrikaanse letterkunde as die Afrikaanse uitgewerswese,” sê die sameroeper, Hettie Scholtz.

Hettie Scholtz (foto: Izak de Vries)

Die pryse word jaarliks toegeken vir uitnemende Afrikaanse fiksie en niefiksie wat gedurende die vorige kalenderjaar verskyn het. Dit blyk aansporing te wees vir skrywers in Afrikaans om steeds vernuwend en verbeeldingryk gestalte te gee aan verhale wat erkenning verdien as waardige toevoegings tot die Afrikaanse letterkunde.  

Altesaam 94 inskrywings is ontvang vir die drie kategorieë van die kykNET-Rapportpryse (fiksie, niefiksie en film), en 15 inskrywings vir die Jan Rabie-Rapportprys vir debuut- en tweede prosawerke. Uitgewers het onder andere 20 meer romans as ooit vantevore in die sewe jaar van die bestaan van die kykNET-Rapportpryse ingeskryf.

Die rekordgetal inskrywings in beide die fiksie- en filmkategorie het meegebring dat dié twee kortlyste uitgebrei is tot vyf titels.

Die kortlyste vir kykNET-Rapport Boekresensent van die Jaar word apart aangekondig.

Die kortlyste vir vanjaar se boekpryse is, in alfabetiese volgorde volgens skrywer:

KYKNET-RAPPORTPRYS: FIKSIE (ROMANS)

  • In ’n land sonder voëls deur Harry Kalmer (Penguin Random House)
  • Zola deur Johan Jack Smith (Penguin Random House)
  • Ek wens, ek wens deur Zirk van den Berg (Kwela)
  • Die biblioteek aan die einde van die wêreld deur Etienne van Heerden (Tafelberg)
  • Die verevrou deur Jan van Tonder (Human & Rousseau)

kykNET-RAPPORTPRYS: NIEFIKSIE

  • Robey Leibbrandt: ’n Lewe van fanatisme deur Albert Blake (Jonathan Ball)
  • Boodskapper van die gode deur Murray la Vita (Lapa)
  • Kansvatter: Die rustelose lewe van Ben Viljoen deur Carel van der Merwe (Protea Boekhuis)

kykNET-RAPPORTPRYS: FILM

  • Klikbek deur Sidney Gilroy (Human & Rousseau)
  • Zola deur Johan Jack Smith (Penguin Random House)
  • Ek wens, ek wens deur Zirk van den Berg (Kwela)
  • Smit Motors deur Réney Warrington (Lapa)
  • Grensgeval deur Marita van der Vyver (Penguin Random House)

JAN RABIE-RAPPORTPRYS: DEBUUT- OF TWEEDE PROSAWERK (ROMANS, NOVELLES EN KORTVERHALE)

  • Die kinders van Spookwerwe deur Lize Albertyn-duToit (Human & Rousseau)
  • Gedeeltelik bewolk deur Ruan Kemp (Tafelberg)
  • Strafjaart deur Theo Kemp (Penguin Random House)

Die wenners word aanlyn aangekondig, en wel op Saterdag 19 September om 18:00. Die skakel na die aankondiging sal beskikbaar wees op Rapport en kykNET se Facebook-bladsye.

Vanjaar bevind beide Zirk van den Berg en Johan Jack Smith hulle op twee kortlyste: die kykNET-Rapportprys vir romans sowel as die filmprys. Van den Berg met Ek wens, ek wens en Johan Jack Smith met sy debuutroman Zola. 

Waar verlede jaar se inskrywings gekenmerk is deur groot diversiteit, is boeke van bruin of swart skrywers in Afrikaans, afgesien van Bettina Wyngaard se Jagter, vanjaar afwesig, sê Hettie Scholtz. “Daar is egter rede tot optimisme danksy die verskyning in 2020 van ’n paar stewige pennevrugte waarin skrywers hulle eie stories in hulle eie taal oopskryf, soos Brian Fredericks met sy kortverhaalbundel As die Cape Flats kon praat. Die Jakes Gerwel-stigting se mentorskapprogram vir opkomende skrywers werp ook reeds vrugte af – te oordeel na ’n werk soos Engela Ovies se treffende debuutroman Draairivier. Nog ’n groeipunt is die nuwe kursus in kreatiewe skryfkuns aan die Skool vir Tale by Rhodes Universiteit wat opkomende skrywers onderlê in die skep van werke in al die variëteite van Afrikaans.”

Rol ondertoe om inhoud rondom die boeke uit LitNet se argief te lees.

KEURDERS

Foto van Bill Nasson: LitNet

Die keurders vir die kykNET-Rapportprys vir fiksie was Elmari Rautenbach, joernalis en hoof van die Woordfees se skrywersprogram; Kirby van der Merwe, skrywer en vertaler; Thys Human van NWU en die rolprentvervaardiger Gerrit Schoonhoven. By niefiksie het die joernalis Martie Meiring, Irma du Plessis (Universiteit van Fort Hare), Bill Nasson (US) en die rolprentvervaardiger Herman Binge die stiplees gedoen.  By die inskrywings vir film het Tina Kruger van kykNET die geledere van filmkeurders Gerrit Schoonhoven en Herman Binge versterk. Die keurders vir die Jan Rabie-Rapportprys vir ’n debuut- of tweede prosawerk was Alida Potgieter, ouduitgewer; Danie Marais, skrywer en joernalis; en Steward van Wyk van UWK.

 

Steward van Wyk (foto: LitNet)

KOMMENTAAR DEUR DIE KEURDERS

Een van die kenmerke van vanjaar se inskrywings is dat skrywers hulle nette wyd gegooi en veral die krag van die verbeelding op soms meesterlike wyse ingespan het, soos Harry Kalmer in In ’n land sonder voëls, Kerneels Breytenbach in Hond se gedagte en Etienne van Heerden in Die biblioteek aan die einde van die wêreld. Daarby het Carina Stander se fyn verweefde fantasieverhaal Die wonderwese onder andere een van die mooiste slotsinne in Afrikaans opgelewer.

Elmari Rautenbach (foto: Naomi Bruwer)

Vir Elmari Rautenbach is ’n verdere kenmerk hoedat ons steeds worstel met die verlede en hoe dit ons hede bepaal. “Dit is opvallend hoe goed dit ingespan is in Sidney Gilroy se Klikbek en hoe fyn en nietemin brutaal Die verevrou van Jan van Tonder die impak van oorlog op die bedrading van die menslike psige uitbeeld, hoe verlede en hede in die onderskatte Die slaghuis op mekaar inspeel – op ’n wonderlik afstandelike manier, maar met soveel wat ongesê bly.”

Kirby van der Merwe (foto: Naomi Bruwer)

Ten spyte van ongemak by van die keurders oor die aktuele problematiek van kulturele toe-eiening in ’n handvol romans, voel Kirby van der Merwe dat veral Lize Albertyn-du Toit dit regkry om voorbehoude te oorstyg deur die plaasroman in Afrikaans op sy kop te keer in Die kinders van Spookwerwe waar plaaswerkers van meet af aan sentraal staan met die eienaar van die plaas ’n randfiguur. “Die kinders van Spookwerwe is die Afrikaanse Grapes of Wrath met Mieta Kaliempie die argetipiese aardmoeder wat sterk herinner aan Ma Joad.”

.........

Ten spyte van ongemak by van die keurders oor die aktuele problematiek van kulturele toe-eiening in ’n handvol romans, voel Kirby van der Merwe dat veral Lize Albertyn-du Toit dit regkry om voorbehoude te oorstyg deur die plaasroman in Afrikaans op sy kop te keer in Die kinders van Spookwerwe waar plaaswerkers van meet af aan sentraal staan met die eienaar van die plaas ’n randfiguur.

.........

Daar is ook waardering uitgespreek vir die wyse waarop debutant Johan Jack Smith die grense van die speurverhaal en roman noir (met ’n kopknik in die rigting van die Skandinawiese tradisie) soomloos aan die hand van eg Suid-Afrikaanse gegewe laat vervloei in Zola.

Die keurders is dit eens:  Om hierdie jaar ’n wenner vir fiksie aan te wys, gaan allesbehalwe ’n maklike of voor die hand liggende taak wees.

........

Ook hier het die afwesigheid van die verwysingswêreld en belangstellingsterrein van ’n groot gros Afrikaanssprekendes opgeval. Vir Irma du Plessis belemmer dit die reikwydte van die gesprek in Afrikaans en benodig ons dringend ’n meer geïntegreerde leserspubliek sodat moeilike, broodnodige gesprekke, insluitend intertekstuele gesprekke, kan plaasvind. 

.........

By niefiksie is daar sprekende voorbeelde van uitstekende navorsing in die titels op die kortlys, en Murray la Vita is geloof vir sy humanistiese benadering in Boodskapper van die gode, ryk aan interstekstuele verwysings. Dit is opvallend dat daar steeds by die oorwig niefiksieboeke vanjaar ’n soeke is na gemeenskaplike waardes en ’n dringendheid in die besinning oor Afrikaneridentiteit. Hiervan is Willie Esterhuyse se Oorlog en vrede en Dana Snyman se Soekmekaar goeie voorbeelde. Ook Azille Coetzee se In my vel het beïndruk met haar diep, eerlike besinnings, en Witwolf: Die Worcester-bomplanter se storie van bevryding deur Stefaans Coetzee en Alita Steenkamp bied ’n roerende perspektief op ‘n klein storie uit die Struggle-jare.

Ook hier het die afwesigheid van die verwysingswêreld en belangstellingsterrein van ’n groot gros Afrikaanssprekendes opgeval. Vir Irma du Plessis belemmer dit die reikwydte van die gesprek in Afrikaans en benodig ons dringend ’n meer geïntegreerde leserspubliek sodat moeilike, broodnodige gesprekke, insluitend intertekstuele gesprekke, kan plaasvind. 

Wat die filmprys betref, het die beoordelaars soos in die verlede ’n smorgasbord gehad om van te kies en te keur.

Uit LitNet se argief:

In ’n land sonder voëls deur Harry Kalmer: ’n resensie

Resensie: Zola deur Johan Jack Smith

Resensie: Ek wens, ek wens deur Zirk van den Berg

Resensie: Die biblioteek aan die einde van die wêreld deur Etienne van Heerden

Die verevrou deur Jan van Tonder – ’n bespreking

Lesersindruk:  Robey Leibbrandt. ’n Lewe van fanatisme deur Albert Blake

Boodskapper van die gode – Fabels en fantasieë van ’n vlieg teen die muur deur Murray La Vita: ’n resensie

Kansvatter – Die rustelose lewe van Ben Viljoen deur Carel van der Merwe: ’n lesersindruk

Resensie: Klikbek deur Sidney Gilroy

Zola deur Johan Jack Smith: ’n onderhoud en ’n lesersindruk

Skrywersonderhoud: Chris Marnewick gesels met Zirk van den Berg

Smit Motors deur Réney Warrington: ’n resensie

LitNet Akademies-resensie-essay: Grensgeval as interteks tussen môre en gister

Resensie: Die kinders van Spookwerwe deur Lize Albertyn-du Toit

Resensie: Gedeeltelik bewolk deur Ruan Kemp

Strafjaart deur Theo Kemp: ’n resensie

 

 

The post kykNET-Rapport-boekpryse: 2020-kortlyste is hier! appeared first on LitNet.


Nóg Engelse taalhegemonie: Die georganiseerde regsberoep trap in ’n ou etiese sponsdoring

$
0
0

In ’n verdere voorval van Engelstalige opmars bo-oor die veeltalige verbintenis in die Suid-Afrikaanse Grondwet het die Regspraktyksraad, wat hulself in Engels alleen veramptelik het as die LPC (Legal Practice Council) ’n voorgestelde taalbeleid in die Staatskoerant gepubliseer.

Nog ’n geval van déjà-vu – die beleid herinner mens aan talle vorige Suid-Afrikaanse verengelsings. Dit skop af met mooipraatjies oor taalwaardigheid, gelykheid, menswaardigheid en veeltaligheid. Wanneer die soetsappige lippediens afgehandel is, word die hande in die lug gegooi en verantwoordelikheid vir grondwetlike veeltaligheid geabdikeer. Die beleid verklaar dan dat weens die globale oorheersing van Engels in die markte en internasionale reg (onder andere) hulle voertaal Engels sal wees. Dit is natuurlik so goed as om te redeneer dat jare se sistemiese onreg en oorheersing simbolies reggestel sal word, waarna die oorheerser steeds voortgaan soos tevore. Vra die arme Maori’s van Nieu-Seeland en die Amerikas se oorspronklike bewoners, soos die Amerikaanse Indiane, hoe dit vir hulle uitgewerk het.

As gebaar van selfingenome grootmoedigheid bepaal die LPC-taalbeleid dan dat daar wel gepoog sal word om in amptelike tale benewens Engels met lede en die publiek gekommunikeer te word. Onmiddellik daarna volg dan die gewraakte voorbehoud: Meertaligheid in hierdie verband is daarvan afhanklik dat dit vir die LPC prakties en gerieflik (practicable and convenient) is. Dit is weer so goed as om te redeneer dat sistemiese regstelling van onreg sal plaasvind vir sover dit vir die onderdrukker gerieflik en prakties is.

Die Regspraktyksraad vervang die vorige Prokureursorde oftewel die Law Society of South Africa (LSSA). Die Wet op Regspraktisyns van 2014 het die raad in die lewe geroep, en die raad is stelselmatig besig om die LSSA se funksies oor te neem. Die Wet poog onder andere om die regspraktyk te herstruktureer, ter wille van effektiewer en toegankliker regspleging.

Soos alle wetgewing moet die transformatiewe gees van die Grondwet ook in die uitleg van die Wet op Regspraktisyns manifesteer. Dit beteken dat die grondwetlike verbintenis tot gelykheid tussen verskillende groepe menswaardigheid in ons agterkoppe moet lê wanneer ons wette soos die Wet op Regspraktisyns toepas. Die Regspraktyksraad moet gevolglik, as statutêre liggaam, ’n verpersoonliking of praktyksmanifestasie van die Grondwet se gees van regstellende geregtigheid wees.

Wat is die vorm wat regstellende gelykheid moet aanneem? Groot klem word gelê op die verdeling van hulpbronne of materiële behoeftes. Daarom word regstellende aksie en grondhervorming as grondwetlike beginsels geken (natuurlik beteken dit nie die huidige toepassing van hierdie beginsels is foutloos, effektief of van ewigheidswaarde nie).

Maar in die vorige 300 jaar of meer het die gebied bekend as Suid-Afrika komplekse magstruwelinge ervaar wat nie net ongelyke materiële patrone meebring nie. Magspatrone het ook daartoe gelei dat talle kultuurgoed en inheemse skeppings van ons gemeenskappe verdruk of geïgnoreer word. Tale is een van die gemeenskapskeppings wat die swaarste deur oorheersing getref word.

Deur ’n taalgroep te onderdruk word inderwaarheid ’n “meerderwaardige” standaard afgedwing op wat as ’n “minderwaardige” gemeenskap beskou word. Dit gebeur dikwels deur subtieler, onregstreekse meganismes soos hulpbronverspreiding, openbare ampte, wetgewing wat taalbeleid beheers, taalbeleid by opvoedkundige instellings en – waarskynlik die gevaarlikste – ’n ongeërgde, passiewe houding jeens taaloorheersing in ’n postkoloniale samelewing. In die mond van Frantz Fanon en Steve Biko is dit juis die koloniseerder se meerderwaardigheidshouding wat die gekoloniseerde groep in die minderwaardigheid van hul kultuurgoed laat glo. Die apartheid en die kolonialisme sit inderwaarheid in ons koppe.

Dit is die rede waarom die Grondwet ’n transformatiewe dekolonialeringsdokument is. Dit is ’n sosiale kontrak waarmee ons ’n streep in die sand trek tussen die verlede en ’n regverdiger toekoms waartoe ons ons daadwerklik verbind. Hierdie toekoms is ook een waarin inheemse taalskeppings proaktief aangemoedig en herstel word, om te wys hoe nie-Engelstalige Suid-Afrikaners se taalskeppings net so waardig en funksioneel kan wees as die taal van die ou Britse Ryk. Dit is om die kettings van minderwaardigheid te breek en ons eiewaarde op te eis.

In hierdie opsig misluk die LPC se beleid dramaties. Hulle abdikeer, net soos byna elke ander staatsorgaan en openbare instelling, hul verbintenis tot ’n veeltalige en dus gelyker Suid-Afrika. Hulle regverdig dit met die flou verskoning dat ons nou maar gelate met inkoop by die Engels-gedomineerde wêreld van globale kapitalisme, ’n stelsel wat op sigself geensins sonder sonde staan nie. Die LPC verwag dus van die regsberoep om die veeltalige omgewing van die gewone Suid-Afrikaner te ignoreer en ’n koloniale Engels-elitistiese stelsel te ondersteun.

Dit is nie die eerste keer in die geskiedenis van Suid-Afrika dat die regsberoep aan onreg aandadig is nie. Tydens apartheid was die gebruik om die reg tot op die letter toegepas, ongeag die morele of immorele gees van die apartheidswette. Die positiewe, letterlike reg het die deurslag gegee. Regsgeleerdes wat teen die onreg van die letterlike reg geprotesteer het, is dikwels gedissiplineer en uit die beroep geskop. Die eenvoudige regverdiging was dat ’n regspraktisyn oneties optree indien hy of sy nie self regsreëls nakom nie.

Vandag is dit die georganiseerde regsberoep self wat die immorele voortsetting van Engelstalige oorheersing steun terwyl dit eerder ’n regspraktisyn se etiese rol behoort te wees om teen die verengelsing van die regstelsel te protesteer. Dit is wat die gees van ons Grondwet van ons verwag, want dit beoog ook die regstelling van die groot historiese bevoorregting van die Engelse taal bo ons inheemse tale. Hulle trap sodoende in dieselfde etiese sponsdoring as in die vorige bedeling deur slaafs en gedienstig die ANC-regering se verengelsing goed te keur.

As waarskuwing sal ons eie regsgeskiedenis en dié van Revolusionêre Ierland in die 1920’s ons iets kan leer. Die publiek in Revolusionêre Ierland het die howe en regstelsel begin wantrou omdat hulle die stelsel as ’n koloniale Engelse elitistiese instelling beskou het. In reaksie het die rebelle sogenaamde dála cúirteanna gestig (revolusionêre oftewel Dáil-howe) wat op die konsensus van die gekoloniseerde Ierse gemeenskap gefunksioneer het, parallel met die Britse koloniale howe. In Suid-Afrika in die 1980’s het wantroue in die regstelsel gelei tot die parallelle People’s Courts, wat natuurlik nie ’n sondelose geskiedenis het nie.

Die LPC behoort ’n veeltalige benadering tot regspleging in te neem wat wesenlik, tasbaar en proaktief is. Dit moet sodoende inheemstalige regspleging vir die meerderheid van die land moontlik maak en wegbreek van die staat, veral Justisie, se Engelse elitisme. Anders sal mense vertroue verloor in die regstelsel se toeganklikheid en inklusiwiteit, en sal proteshowe ons voorland wees.

The post Nóg Engelse taalhegemonie: Die georganiseerde regsberoep trap in ’n ou etiese sponsdoring appeared first on LitNet.

Aansoeke ingewag vir LitNet en die Jakes Gerwel Stigting se Kommadagga-slypskool

$
0
0

LitNet en die Jakes Gerwel Stigting bied van 12 Oktober tot 1 November 2020 ’n mentorskapprogram vir belowende Afrikaanse en Engelse skrywers aan. Die Kommadagga-slypskool, wat gemik is op skrywers wat hulle met die kortkuns besig hou, sluit aan by die instansies se strewe om nuwe skryfwerk aan te moedig.

Die naam van die slypskool verwys na die omgewing waar Jakes Gerwel grootgeword het. Die slypskool word in die Stigting se Paulet Huis op Somerset-Oos gehou en Rachelle Greeff, die bekende skrywer en dramaturg, sal as mentor optree.

Verblyf, vervoer en alle etes vir vyf kandidate op Somerset-Oos is by die program ingesluit. Voornemende deelnemers kan nou aansoek doen om vir dié geleentheid in aanmerking te kom. Aansoeke sluit op Maandag 14 September 2020 om 12:00.

Belangstellendes wat op kortverhale, rubrieke, tydskrifstories, artikels of meningstukke wil fokus en nog nie voorheen ’n boek gepubliseer het nie, kan aansoeke stuur aan theo@jgf.org.za. Die volgende besonderhede moet aansoeke ingesluit word: ’n kort biografiese beskrywing, volledige kontakbesonderhede, een of meer skryfstukke waarop slegs die titel van ’n stuk aangedui word, asook ’n kort motivering hoekom die kandidaat meen hy/sy sal by die projek baat. Volledige besonderhede is hier op LitNet beskikbaar.

Etienne van Heerden, LitNet se stigter-redakteur, sê: “Jakes Gerwel het my in LitNet se beginjare gehelp om ’n borgskap vir die webwerf te kry. Uitstekend dat ons nou, dekades later, met die Stigting kan saamwerk, en ’n bekwame mentor soos Rachelle Greeff kan hê.”

Die uitvoerende direkteur van die Jakes Gerwel Stigting, Theo Kemp, sê: “Ons is trots daarop om ons werksaamhede saam met LitNet te kan uitbrei en die kortkuns-genre te bevorder. Dit is veral opwindend dat ons nie net op die kortverhaal as sodanig sal fokus nie, maar ook op die skryf van artikels, tydskrifverhale en meningstukke – alles maniere om deur skryfwerk ’n inkomste te genereer.”

Rachelle Greeff (Foto: Bernard Jordaan)

Rachelle Greeff, wat haar merk in Afrikaans en Engels gemaak het, was die begeleier van verskeie jong skrywers wat die afgelope agtien maande met gerekende publikasies debuteer het. Rachelle werk in verskeie genres en het al gesogte pryse vir haar kortverhale ontvang. Haar bekroonde toneelstukke Die naaimasjien en Rondomskrik is landwyd gesien en The sewing machine is in 2012 op die Edinburgh Festival opgevoer. In 2002 was sy ’n finalis van The Caine Prize for African Writing, ook “The Baby Booker” genoem. Van haar skryfwerk is ook in Duits, Nederlands en Deens vertaal.

Van suksesvolle kandidate word verwag om werk te lewer vir publikasie op LitNet, en om onderhoude toe te staan. Ingevolge die nasionale rampregulasies rakende die COVID-19-pandemie sal daar van kandidate verwag word om tydens die skrywersverblyf gehoor te gee aan saniterings- en distansiëringsvoorskrifte, en om vrywaringsvorms te teken.

Die Jakes Gerwel Stigting fokus veral op die bevordering en uitbou van die Suid-Afrikaanse letterkunde. LitNet vier vanjaar sy 21ste verjaarsdag, en is sedert 1999 toegewy aan die slyp van nuwe talent.

Lees hier vir meer besonderhede:

LitNet en die Jakes Gerwel Stigting se Kommadagga-slypskool

LitNet and the Jakes Gerwel Foundation’s Kommadagga writing workshop

 

The post Aansoeke ingewag vir LitNet en die Jakes Gerwel Stigting se Kommadagga-slypskool appeared first on LitNet.

Professor Paul de Keyser en Zuid-Afrikaanse dissertaties: Ernst van Heerden promoveert in Gent

$
0
0

Het is bekend dat dankzij de bemiddeling van Lucas Malan de dichtbundels uit de privébibliotheek van de schrijver, criticus en academicus Ernst van Heerden (1916-1997) zijn terechtgekomen in het Poëziecentrum in Gent (https://versindaba.co.za/2014/10/02/54397/). Al eerder is beschreven dat Van Heerden, net als W.E.G. Louw, voor de Tweede Wereldoorlog zijn proefschrift aanvatte aan de gemeentelijke Universiteit van Amsterdam. In de vermelde bijdrage voor Versindaba schreef ik over het studieverblijf van Van Heerden ten huize van Lisette en Marcel de Backer in Gentbrugge (september 1951 tot januari 1953). Enkele jaren na de oorlog, in januari 1953, heeft Ernst van Heerden aan de toenmalige Rijksuniversiteit Gent (met als promotor de neerlandicus en Guido Gezellespecialist Prof Frank Baur) zijn dissertatie verdedigd met als titel Die digterlike beeld, met spesiale verwysing na die poësie van N.P. van Wyk Louw.

Ernst van Heerden

Dankzij archiefonderzoek aan de Universiteit Gent, meer bepaald in de nalatenschap van professor Paul (Pietje) de Keyser, is een document opgedoken waarin bijzonderheden staan over de promotie van Van Heerden. De toenmalige decaan prof M.E. Dumont liet De Keyser, lid van de beoordelingscommissie, weten dat de heer Ernst van Heerden op vrijdag 23 januari om 15 uur in de Academieraadzaal zijn doctoraat zou verdedigen “voor de wetenschappelijke graad van doctor in de Wijsbegeerte en Letteren (groep Germaanse Philologie)”.

Toentertijd was het gebruikelijk dat een promovendus naast de dissertatie ook een reeks bijstellingen uitwerkte en voorlegde aan de promotiecommissie. Interessant zijn de zes stellingen die Van Heerden naar voren bracht. Ik citeer uit de brief van de decaan:

  1. Dr. F.E.J. Malherbe se uitspraak oor D.J. Opperman se epiese gedig Joernaal van Jorik, nl. “Opperman probeer om sin te gee aan die lelike, trouens sy simbool self is dikwels van die aard van ’n fetisj, met iets van die benouende nagmerrie-surrealisme van Achterberg” […] is nêrens uit die gedig te bewys nie.
  2. Volkome onverdedigbaar is Dr. G. Dekker se oordeel oor ’n Totiusdigbundel waar hy skryf: “Uit Donker Afrika getuig van die volgehoue krag, die verdieping en dikwels groter artistieke suiwerheid van Totius se latere kuns.” […]
  3. Dr. Rob. Antonissen se onderskeiding tussen wat hy noem die “zeggingsvers” en die “beeldingsvers” by N.P. Van Wyk Louw, is ongeoorloof. […]
  4. The following thesis of Rossell Hope Robbins is untenable: “The views on life we find in his (T.S. Eliot’s) poetry, with its restricted and limit[e]d imagery … Derive from an obvious hatred of people.”
  5. Of all South African poets who wrote in English, Roy Campbell was the most original innovator in the field of imagery.
  6. Engelse invloed op Afrikaans strek verder as woordeskat en sintaksis en het ook al die Afrikaanse woordaksent aangetas.

Het is niet bekend hoe de promotie is verlopen en welke stellingen Van Heerden uiteindelijk heeft verdedigd. Ik heb in bovenstaand citaat de bronvermeldingen weggelaten die de doctorandus bij de vier eerste stellingen heeft opgenomen. Mogelijk openbaart het universiteitsarchief binnenkort méér bronnen over het verloop van de doctoraatsverdediging.

In ieder geval behaalde Ernst van Heerden in januari 1953 aan mijn alma mater de titel van doctor in de Wijsbegeerte en Letteren. Tijdens zijn verblijf in Gent werkte Van Heerden met gedichten mee aan het Nieuw Vlaams Tijdschrift. Er zijn foto’s gepubliceerd van zijn aanwezigheid bij de viering van Richard Minnes zestigste verjaardag in de Stadsbibliotheek van Gent en aansluitend de lunch in restaurant Britannia op het Sint-Baafsplein (2 december 1951). Over bijna anderhalf jaar in Van Heerdens Gentse verblijf, voorafgaand aan zijn academische aanstelling in Zuid-Afrika, zijn interessante bronnen beschikbaar. Bijzonder is dat hij aan de Witwatersrand-universiteit een opvolger werd van Abel Coetzee, de collega van examinator Paul de Keyser in Gent.

Paul de Keyser als Gents referent in Zuid-Afrikaanse promotiecommissies

De hoogleraar Paul de Keyser (1891-1966), expert op het gebied van het Middelnederlands en de Volkskunde, was een leerling van de bekende geleerde Willem de Vreese, die vanaf 1912 hoofd was van de Gentse universiteitsbibliotheek (https://nl.wikipedia.org/wiki/Paul_De_Keyser_(hoogleraar) en https://www.ugentmemorie.be/personen/de-vreese-willem-1869-1938).

De Keyser was al sinds 1951, op verzoek van Abel J. Coetzee (Witwatersrand-universiteit, Johannesburg), betrokken bij de beoordeling van Zuid-Afrikaanse doctoraten. Zo noteerde ik op basis van het archiefmateriaal de volgende promovendi: D.J. Coetzee (Die Aanwending van Afrikaans in die Diens van die Suid-Afrikaanse Spoorweë, 1951), M.M. van den Heever (’n Stilisties-Grammatiese studie van die vernuwing van die Afrikaanse Prosa tussen die Jare 1900-1930, 1951), C.W. Hudson (Maatskaplike vorms aan die Kaap in die tydperk 1652 tot omstreeks 1795, 1952), M.S. du Buisson (’n Metafisies-religieuse Beskouing van die Mens-Godverhouding toegepas op die Afrikaanse poësie as uitdrukkingsbron daarvan, 1957), W.J.G. Loots (Die herkoms, ontwikkeling en verspreiding van die reisiesverhale, 1961) en A.J. Antonitis (Die Afrikaanse Kunskritiek in die Lig van de Estetiese, zonder jaar). Verder duikt de naam H.J. Schepers op (Kultuurbeeld van die Spoeldiamant in delwersgemeenskappe van Suid-Afrika, zonder jaar). Over dat laatste proefschrift zijn van de hand van De Keyser geen leesverslagen overgeleverd. Prof De Keyser genoot brede bekendheid als volkskundige. Hij schreef onder meer een beoordeling van Coetzees bundel Ons Volkslewe: Volkskundige Opstelle (Monument-reeks, Van Schaik, Pretoria, 1949). Hiervan is het handschrift bewaard gebleven.

De connecties tussen de Gentse universiteit en departementen in Zuid-Afrika, in dit geval Johannesburg, dateren van de jaren vijftig. Ook de taalkundige Edgar Blancquaert liet zich in met de Afrikaanse taalkunde. Het is altijd goed te weten wat voorgangers in de academische wereld in hun onderzoeksgebied hebben geëxploreerd. De geschiedenis leert dat er parallellen zijn in het wetenschappelijk aandachtsgebied tussen toen en nu, tussen Nederlands en Afrikaans.

Dank aan Marc Vermeulen, bestuurslid van de alumnivereniging Bond van Gentse Germanisten, die mij de documenten uit het universiteitsarchief heeft bezorgd.

The post Professor Paul de Keyser en Zuid-Afrikaanse dissertaties: Ernst van Heerden promoveert in Gent appeared first on LitNet.

Nuut by Penguin Random House South Africa: Augustus 2020

$
0
0

Kyk na hierdie nuwe publikasies by Penguin Random House South Africa. Besoek ook hulle webwerf vir nog meer inligting.


Titel: Diep spoor
Outeur: Jeanette Stals
ISBN: 9781485904304

Tydens die Groot Trek laat drie vroue diep spore

Die bekende skrywer van spanningsverhale, Jeanette Stals, gee hierdie maand ’n historiese roman by Penguin Random House uit. Die boek gaan eers in e-boekformaat verskyn en sal in Februarie 2021 in gedrukte formaat verskyn.

Diep spoor vertel die verhaal van drie vroue uit verskillende agtergronde en hul stryd om oorlewing tydens die Groot Trek.

Daar is Katrien, ’n sensitiewe waterverfskilder. Sy en haar man, Stefaans, wou vir hulle ’n lewe op ’n plaas op die Oosgrens maak. Maar toe hulle lewens op die plaas bedreig word, word hulle deel van Hendrik Potgieter se trek na die binneland. Stefaans glo dat hul daar ’n nuwe heenkome sal vind, ten spyte van al die hartseer en swaarkry wat hulle tydens die reis tref.

Dina, ’n slavin, is Katrien se grootste vertroueling. Sy trek saam, haar liefde vir Stefaans ’n geheim wat sy ten alle koste moet bewaak.

Thabisa en haar dogtertjie word ook deel van Katrien-hulle se trek. Wanneer Stefaans by Piet Retief se noodlottige afvaardiging na Dingaan aansluit, onthou sy opnuut die onreg wat sy voorganger, Shaka, haar familie aangedoen het.

In die stormagtige jare voor en tydens die Groot Trek raak dié drie vroue se lewe vervleg in ’n stryd om voortbestaan.

Titel: Waar onthou begin
Outeur: Connie Luyt 
ISBN: 9781485904465

Toe Elfrieda ná ’n lang koma uiteindelik haar oë oopmaak, is haar kop leeg. Angs pak haar toe sy in ’n Durbanse hospitaal besef sy kan níks van haar verlede onthou ná sy voor ’n motor ingehardloop het nie.

’n Terloopse opmerking deur Michael, die neuropsigiater wat na haar omsien, bring ’n flits herinnering: Voor haar sien sy ’n vaalgroen boekie oor die lewe van die ontdekkingsreisiger David Livingstone se vrou, Mary. Met behulp van Michael begin Elfrieda stadig die legkaartstukkies van haar geheue aanmekaar sit.

Maar die onthou bring seer: Soos die herlewing van die tragedie van haar pa se ongeluk tydens ’n vakansie by die see en haar ma se kille verwyt en woede daarna.

Elfie se pad na vergifnis en vrede verby die skok en ontsetting van onthou is lank.

Onderliggend aan haar verhaal loop nog ’n verbeeldingstog: Die grootliks onbekende storie van Mary Livingstone, wie se lewe skaars ’n fluistering in die geskiedenis was.

The post Nuut by Penguin Random House South Africa: Augustus 2020 appeared first on LitNet.

Ma, waar is Ma nou?

$
0
0

Foto: Canva.com

’n Ma is nie iemand wat sommerso wegraak nie. Altans, nie sover ek weet nie. Ons het maar meestal geweet waar ons ma is, en haar gou gekry as ons moes. En nog gouer as ons nie moes nie.

Na Ma se begrafnis het ons geweet waar sy nou rus. Die kopsteen was op, die grasperkie geplant en alles was in orde. Sy, Pa en Ouboet is baie ver van mekaar af ter ruste gelê – maar hulle kon darem op ’n afstand oor die kinders en hulle eie vrot beplanning murmureer.

Wie dit eerste opgemerk het, Lydia, Sandra of ek, weet ek nou nie meer nie. Maar, dit was baie duidelik dat die grafnommers nie oreenstem nie. ’n Jaar of wat na die begrafnis bel Lydia een aand en sê dat Sandra se foto’s wat sy geneem het, nadat sy blomme opgesit het, ’n ander nommer wys as die een wat sy het en wat Pa gegee het. Siende dat hy kort na haar oorlede is, kan ons hom nie juis vra nie. Ek weet die nommers verskil, maar het ook nie gedink daar is veel wat ons aan die sakie kan doen nie.

So verdiep die raaisel. Foto’s word van alle kante ge-SMS, ge-email en bekyk, en nou blyk daar drie verskillende nommers te wees. Nommers 3851, 3852 en selfs eenmaal 3857. Die snaakse gevoel as jy by die graf sit en dit voel nie of Ma daar is nie. Sy het nogal ’n sterk teenwoordigheid gehad, jy het van haar geweet. 

Ons almal gaan sporadies begraafplaas toe om blomme op te sit en stuur dan gedienstig ’n foto aan een van die ander, wat dit weer aan een van die ander kinders sirkuleer. Avbob het al lankal die steen met nommer 3852 opgesit, maar intuïtief voel ons aan daar is fout – groot fout. Maar, behoorlike bewyse ontbreek.

Die vraag is: Wat staan ’n mens nou te doen? Ek begin deur die begraafplaas se kantoortjie te bel. Is hulle seker dat Ma in grafnommer 3852 lê? Pa het dit eers as 3852 opgeteken en toe na 3851 verander. Hy sou tog nie so ’n fout gemaak het nie?

Die verskimmelde karakter in die begraafplaaskantoor se nekhare rys opsigtelik oor die dom vraag en hy is adamant. Dit is beslis reg, hulle maak nie sulke foute nie. As die register sê dít is die nommer, dan is dít die nommer en so is dit dan.

Okay dan, kom ons probeer Avbob. Is hulle seker Ma is in 3852 begrawe? Drie dae later kom die antwoord: Uhm, nee. Hulle rekords dui dit nie aan nie, so hulle is nie 100% seker nie.

Ons familie is maar effe skepties oor hulle vermoëns, want toe Pa en Lydia vir Ma by Avbob moes gaan uitken en hulle die kis se deksel oplig, moes Pa mooi kyk want hy was seker dat sy oë nie reg sien nie. Nee, sê Lydia toe sy ook kyk, Ma lyk dan skielik so jonk en nou baie kleiner as wat sy was. Almal besigtig van nader. O sorry, sê Avbob se mannetjie, verkeerde kis. Die dogtertjie in die kis word vinnig toegemaak en in ’n japtrap word ’n ander kis gepresenteer. Gelukkig dié keer die regte een en jip, daar is Ma.

In alle geval, so kontak ek toe die Ekhurhuleni-munisipaliteit, wat my na die Parkeraad verwys. Niemand blyk te verstaan wat my probleem is nie, dit is net te ondenkbaar. Ek staan vas, is hulle seker wat die nommer en ligging is? Ek heg sommer ’n klomp foto’s aan wat ons onsekerheid verduidelik.

Genadiglik kom ek, na ’n magdom oproepe, by ’n uiters behulpsame en bekwame dame uit wat baie moeite doen en die graf besoek, gewapen met ons foto’s en ander offisiële dokumente. Dae later bel sy terug. Nee, sê sy, sy was self daar met alles en sy kan ook nie kop of stert uitmaak wat daar aangaan nie. Kan ek haar nie in Vanderbijlpark-begraafplaas ontmoet nie? Nouja, van Mafikeng af is dit ’n stywe trippie, maar ek doen dit toe en daar kan nie ek óf sy uitmaak wat aangaan nie. Die grafnommers is deurmekaar en daar lê selfs ’n naambord van ’n onlangse intrekker in die lang gras. The plot thickens, so to speak.

Ek is nou heeltemal oortuig Ma lê nie waar die grafsteen sê sy lê nie. Ma is weg en niemand weet met sekerheid waar sy is nie. 

Ek word dan ook ingelig dat, as die graf oopgemaak word en ek is verkeerd, die kostes R20 000 beloop – vir mý rekening. Skriftelike toestemming word vanaf die familie vereis, en ek stuur briewe vir al die formaliteite namens die familie. Ousus Monica word op hoogte gehou, Lydia van tyd tot tyd en teenoor die res van die familie swyg ons soos die dood.

Om almal vir so ’n aksie daar te kry, is nie ’n grap nie. Dit verg ’n mengelmoes van beamptes van die SAPD, Parkeraad, Gesondheidsdepartement, begraafplaas-personeel, familie, ensovoorts, ensovoorts. ’n Hele kontingent van mense. Uiteindelik is almal vir Maandagoggend half-sewe gereël. Ekhurhuleni sal oopmaak, sodat finaliteit verkry kan word en ek van hulle nekke kan afklim. Ek bid hartlik dat ek reg is en nie ’n klein fortuintjie vir my fout hoef op te dok nie.  

Drieuur die Maandagoggend vertrek ek uit Mafikeng en is net na ses daar. Dit is ’n grou oggend en die mis loop straaltjies teen die grafstene af. Gewis nie ’n oggend vir die onplesierige ritueel nie. Teen half-sewe is die res van die afgevaardigdes daar, niemand juis verheug om daardie tyd van die oggend grafte te moet oopmaak nie. Die grafgrawers begin so ’n halwe meter links van die graf en werk stelselmatig hulle pad ondertoe oop. En so tref hulle die kis.

Nadat almal vort is en ek Ma se naamplaatjie op die kis kon eien, het Avbob verleë om verskoning gevra en onderneem om die kopsteen op die regte plek te plaas. 

Ons familie is bekend daarvoor dat ons sleg kan verdwaal. Gelukkig was Ma darem nie ver weg nie en ten minste het ons haar gekry, al was dit drie jaar later karplaks in die middel van die paadjie tussen twee grafte.

Ek is seker sy lag daar van Bowe af vir ons spulletjie wat nie eens kan sorg dat dié wat na die hiernamaals verhuis, se stoflike oorskot behoorlik rigting hou nie. 

The post Ma, waar is Ma nou? appeared first on LitNet.

Dit skort aan omgeedoepa

$
0
0

Terwyl ek met die navorsing vir hierdie artikel besig was, hoor ek ’n storie. Dit pas presies in by die tema van hierdie skrywe. Die storie is waar, maar alle karakters se identiteit word beskerm.

’n Vrou van in die tagtig en haar ewe bejaarde man doen albei COVID-19 op. Hulle kry behandeling in ’n hospitaal, en wonder bo wonder oorleef albei dit. Die man word ontslaan en die vrou maak haar reg om ook huis toe te gaan. As ’n laaste versoek vra sy die verpleegster om haar te help met ’n bedpan. Die ergerlike verpleegster gooi dit op die bed neer en loop weg. Die vrou, wat swak is na haar verbete stryd teen die virus, probeer maar self regkom. Sy verloor haar balans en val kop eerste van die bed af … morsdood.

Mediese dokters, verpleegsters en ander gesondheidswerkers verdien lof en dank vir hulle onbaatsugtige diens in hierdie moeilike pandemietyd. Volgens die Departement van Gesondheid het sowat 27 000 sulke werkers in die land reeds positief vir die siekte getoets. 240 het self die hoogste prys betaal deur die pasiënte se belange eerste te stel. Ongelukkig is daar net te veel voorvalle waar veral verpleegsters by betrokke is wat dui op ’n gebrek aan omgee by sommiges. En omgee is die een eienskap wat die grootste wonderkuur is.

Ons gesin se lewe is al meer as 25 jaar vervleg met dié van die Mogorosi’s (skuilnaam soos al die ander hier onder).

Anna, die matriarg, was al die jare die sentrale figuur wat, ondanks al die diepe waters, haar familie bymekaar gehou het. Ons het al dikwels gewonder: Hoekom is dit dat ’n swart familie sulke wrang vrugte pluk in ’n bedeling wat veronderstel was om hulle lewens beduidend te verbeter? Ek het al lankal besluit: Hieroor moet geskryf word.

Anna het sewe kinders gehad, maar een is by geboorte dood.  

Die oudste kind is Kagiso, nou al in sy diep veertigs. As jongman het hy bevriend geraak met Lesedi van die Mafikeng-distrik – van waar hy ook gekom het. Lesedi het verwagtend geraak en geboorte geskenk in ’n kliniek. Sy is gou huis toe gestuur, maar het bly sleg voel. Binne dae is sy dood. Dit blyk toe dat ’n gedeelte van die plasenta in die buik agtergebly het na die geboorte. Dit het sepsis en die dood veroorsaak. Om die een of ander vreemde rede is die baba na drie maande ook oorlede.

Met verloop van tyd het Kagiso ’n verhouding  begin met Malebogo van Johannesburg. Hulle het saam ’n kind verwek: Naledi. Malebogo het na ’n tyd TB opgedoen. Tydens ’n opvolgbesoek aan die hospitaal word sy ander medisyne gegee. Dit akkordeer nie met haar nie en sy gaan terug na die hospitaal. Daar word sy aangesê om die volle kursus van die pille te gebruik, dan sal dit regkom. Dit het nie en sy is dood. Naledi woon by haar ouma, Malebogo se ma. Kagiso help waar hy kan, maar dit gaan moeilik.

Die tweede oudste seun was Neo. Hy het Dikeledi in Johannesburg ontmoet, maar sy kom eintlik van Pampierstad af – ’n stowwerige township tussen Jan Kempdorp en Hartswater in die Noord-Kaap. Hy was maar in sy vroeë twintigs en sonder werk toe Dikeledi swanger raak. Sy is na haar familietuiste in Pampierstad vir die bevalling. Sy is onverklaarbaar ’n maand later dood. Die suigelingbaba, Mpho, het by Dikeledi se ma, Kefilwe, gebly. Die familie, en Neo, was te skaam om die ander ouma, Anna, daarvan te vertel. Dit het eers ’n jaar later gebeur. Neo het op ’n dag begin kla van maagpyn. Na ’n gesukkel is hy in die hospitaal opgeneem. Sewe dae later is hy dood – sonder dat die familie ooit ’n verklaring gekry het.

By die begrafnis is Anna deur die ander ouma, Kefilwe, ingelig oor die ware stand van sake.  Toe Anna vir Mpho sien, het Anna geweet: Dis Neo se kind. En skielik was Mpho ’n weeskind en moes Anna inspring om te help – soos oumas maar doen. (Die skokkende omstandighede wat die klein Mpho by die familie moes deurmaak en hoe die onderwysstelsel haar gruwelik in die steek gelaat het, is ’n storie vir ’n ander dag.)

Tussendeur moes Anna vir haar man, Ofentse, sorg. Hy was die bestuurder van ’n pandjieswinkel en het heel goed gevaar. Totdat ’n bus hom raak gery het. Hy was toe in sy veertigs, so 20 jaar gelede. Ofentse het veelvoudige beserings opgedoen en sou nooit weer werk nie. Eers was dit ’n moeisame proses om die nodige mediese sertifikaat te kry sodat hy ’n ongeskiktheidstoelaag kon kry. En toe die drama om die toelaag te kry. Intussen moes hy dikwels hospitaal toe gaan vir behandeling vir die een of ander skeet. Elke keer was dit dieselfde storie: Anna of hulle dogter, Bontle, moes vroeg-vroeg reeds daar wees, maar nogtans is daar ’n tou mense. Die pasiënte word soos skape behandel, en sonder ywer. Maak nie saak hoe dringend jy glo ’n dokter moet jou sien nie, jy sal wag totdat dit die verpleegsters behaag om jou na ’n ondersoeksaal te neem. Bontle is van dieselfde stoffasie as haar ma: sterk gebou en skrik nie vir die duiwel nie. Nou onlangs was dit weer dieselfde storie. Na ure se gewag sien sy dat die verpleegsters luilekker sit en tee drink. Dit was vir haar een te veel.  Sy het daar ingestorm en een van die verpleegsters saamgesleep om aandag aan haar pa te gee.   

Die laaste storie is dié van Boipelo, die jongste seun.  Hy was ’n kranige bofbalspeler. Dermate dat hy ’n kans gestaan het om die Suid-Afrikaanse Jeugspan te haal vir ’n toer na die VSA. Pas na matriek het hy begin om ’n platejoggie by sjebeens te wees. Self het hy nie gedrink nie. Een aand breek daar ’n geveg uit en hy word deur iemand bygedam met ’n stukkende bottel. Sy een hele voorarm is oopgekloof. Hy haal betyds die hospitaal, maar die jong doktertjie doen maar rowwe lapwerk. Van die senuwees in die arm het seergekry en hy verloor gedeeltelike beheer van sy arm. Daarmee is dit die einde van die bofbaldroom.

Boipelo kry nogtans vaste werk. Een aand gaan hy saam met vriende na ’n klub. ’n Skietery ontstaan en ’n dwaalkoeël tref hom in die been. Ernstige sjirurgiese werk is nodig om met ysterpenne en -stutte die bene te heg. Na ’n paar weke lyk dit maar steeds sleg en skeef. ’n Ander dokter ondersoek hom by die hospitaal en sê die eerste dokter het ploeterwerk gelewer. Die been moet van nuuts af gebreek word en weer geheg word as hy ooit behoorlike gebruik wil hê. So is dit toe gedoen. Dit het beter gegaan en na ’n klompie weke kon hy soort van weer loop, maar van hardloop kan hy vergeet.

Die stories van die Mogorosi’s is haas denkbaar. Hoe kan een familie deur soveel emosionele pyn en mediese terugslae  getref word? Dis ’n verhaal van ’n gebrek aan omgee, soos met die Life Esidimeni-skandaal. Dis ’n verhaal van sommige verpleegpersoneel wat nie respek het vir pasiënte nie. Dit ontbreek aan deernis, empatie, meelewing, aanmoediging, openheid, deursigtigheid, eerlikheid, privaatheid, vertroue, betrokkenheid en vriendelikheid.

Nehawu, die grootste vakbond in die gesondheidsektor, dreig om van 3 September af te staak. Mens kan hulle eis verstaan dat beskermingstoerusting éérs aan elke persoon gegee moet word – die gevaar om die COVID-19-siekte op te doen, is groot. Maar eise oor geld? Dit omdat die regering gesê het hy kan nie meer die verhoging van jaar drie van ’n ooreenkoms bekostig nie. Dit terwyl soveel miljoene mense die afgelope weke van inperking finansieel ’n erge knou toegedien is. Afgesien daarvan dat gesondheidswerkers ’n noodsaaklike diens lewer en nie mag staak nie, wys hulle eise dat hulle nie die belange van pasiënte eerste stel nie. Tog is die pasiënt die sentrale persoon in die gesondheidsektor. Anna en haar familie verdien eersteklas mediese sorg.

Dis juis om mense soos sy en haar familie sulke behandeling te gee dat die regering Nasionale Gesondheidversekering wil instel. Deesdae hoor ’n mens min daarvan. Die minister van gesondheid, Zweli Mkhize, het voor die inperking gesê die nuwe stelsel sal na raming sowat R430 miljard kos. Talle kenners en instellings meen dit sal onbekostigbaar wees en twyfel of die diens sal verbeter. Ek ook.  

Die omgee-eienskappe soos hier bo genoem, kan nie met wetgewing afgedwing word nie. Dit gaan oor ’n ingesteldheid, en dít is onberekenbaar waardevol. En dit kos niks.

The post Dit skort aan omgeedoepa appeared first on LitNet.

Olivia Coetzee gesels oor die Jakes Gerwel Stigting en PEN Afrikaans Skrywersresidensie 2020

$
0
0

Tydens Julie 2020 het vyf skrywers hul skrywersresidensie by die Jakes Gerwel Stigting se Paulet Huis in Somerset-Oos voltooi. 

Volgens die Jakes Gerwel Stigting is die fokus van dié residensieprogram (aangebied in samewerking met PEN Afrikaans) veral skrywers wat nuwe stories na die Afrikaanse letterkunde bring en leefwêrelde oopskryf wat nog nie voldoende in die letterkunde gehoor is nie. 

Van links: Jeremeo Le Cordeur, André Trantraal, Veronique Jephtas, Khadija Tracey Heeger en Olivia Coetzee

Menán van Heerden gesels met Olivia Coetzee oor haar ervaring en haar werk. 

Olivia Coetzee

Olivia, jy is die skrywer van die eerste krimi in Kaaps (Innie Shadows). Jy vertaal ook die Bybel in Kaaps op LitNet. Hoe sou jy Kaaps beskryf?

Kaaps is ’n taal op haar eie, ’n experience en kultuur wat diep wortels het waarop al die res van die Afrikaans-variante uit groei. Kaaps het nog baie mure om af te briek. Maa besides al die politiek van Kaaps is Kaaps ’n taal wat nog baie deure vi baie mense gat oepmaak. 

Wat is die grootste struikelblokke wat Kaaps in 2020 in die gesig staar?

Ek dink nog steeds dat ôs face baie struikelblokke in die industry van kuns en vemaak. Die hele storie wat sê dat Kaaps is ’n mengelmoes van Engels en Standaard dink ek sal vi ’n lang tyd by ôs bly as ôs as Kaaps-sprekers nie dit anpak en ôs eie produksies, boeke, musiek vorentoe drukkie. 

Kaaps wôd gesien as eksoties, iets nuuts vi die powers that be. Maa dis ôs taal, ôs kultuur, en die toekoms. 

Jou Jakes Gerwel Stigting en PEN Afrikaans Skrywersresidensie 2020 het onlangs tot ’n einde geloop. Wat neem jy van hierdie ervaring weg? 

Daa is soe baie wat ek kô leer het van myself in my gawe as skrywer, en skrywer van kleur. Die proeses om ’n idee te groei tot in ’n volle storie is die lekkeste ding op die aarde. Die proeses roep ’n mens om jouself net oep te maak vi die storie om deu te kô, en al die editors in my kop te vra om ees stil te bly, want ’n storie het stilte norag om uit te klim, nie net stilte in alle opsigte.

Maa ek wiet oek dat dié is maa net die begin van die wêk. Die eintelike job van die storie in ’n boek in te draai, en ’n boek wat mense sal wil lies, moet nog kô. Maa ek is excited vi wat kô, en ek hoep die lesers gat dieselle voel wanne hulle hulle eie copy van Die Sêcon Coming (working title) optel. Ek is excited om vir die res van die jaar te sit met die boek laat dit kan reg wies in 2021 om uitgewers toe te gan. 

Watter planne het jy vir die toekoms?

Op hierdie oomblik is dit net vêdere wêk an Die Sêcon Coming. En hoepenlik is daa groter dinge wat nog sal gebeu met Innie Shadows, soes ’n vetaling na Engels / Kaapse Engels toe, ’n Audioboek, en hoepenlik ontmoet ek gou ’n draaiboekskrywer wat sal wil saamwêk op Innie Shadows: Die movie

Lees ook

Innie shadows: ’n onderhoud met Olivia M Coetzee

Resensie: Innie Shadows deur Olivia Coetzee

Verskoon my taalgebruik: Naai, nie rêragie! Varrit of lossit!

https://www.litnet.co.za/category/nuwe-skryfwerk-new-writing/bybelinkaaps/

Waarom die Bybel in Kaaps?

Bybel in Kaaps-kompetisie: wenners aangekondig

Luister ook

Jong dramaturge gesels oor Jakes Gerwel Skrywersresidensie

Lees ook op Voertaal

Jakes Gerwel Stigting-skrywersresidensie: ’n onderhoud met Vlaamse skrywer Miriam Van hee

Identiteit en versweë geskiedenisse: ’n onderhoud met Vlaamse skrywer Rachida Lamrabet

The post Olivia Coetzee gesels oor die Jakes Gerwel Stigting en PEN Afrikaans Skrywersresidensie 2020 appeared first on LitNet.


Boeke met Burger: ’n Zoom-gesprek met Louise Viljoen

Jeugboeke met Johannes: ’n Zoom-gesprek met De Wet Hugo

LAPA: Ware Noord deur Elsa Winckler – ’n video

"Ek het maar ’n ding vir papier"– Lucinda Brand gesels oor stopanimasie en haar nuwe enkelsnit

$
0
0

Lucinda Brand (Foto: NDW Photography)

Die talentvolle sangeres en kunstenaar Lucinda se nuwe enkelsnit “Weerloos” is pas uitgereik. Die video van die liedjie is ’n prettige animasie-storie wat Lucinda self gemaak en geredigeer het. Remona Voges het met Lucinda gesels. 

Lucinda, baie geluk met jou nuwe enkelsnit. Die video is ’n animasiestorie wat jy self gemaak en geredigeer het. Waar het die idee vir dié konsep vandaan gekom? En wat het eerste gekom? Die videostorie of die song?

Hey! Baie dankie.

Dit is iets wat ek nou altyd wou doen. Stop motion animation en veral cut out animation het my nog altyd gefassineer. Ek het maar ’n ding vir papier. Hierdie jaar het ek vir myself belowe om meer dinge te doen wat ek nooit tyd voor maak nie. Die inperking het my ook geforseer om bietjie uit die boks te dink en het tyd gebied aangesien alle shows gekanselleer is. Ek het besluit om die animasie aan te pak en as dit werk, gebruik ek dit, en as dit nié werk nie, skiet ek ’n gewone video. Die song het eerste gekom. 

Kan jy asseblief kortliks vertel waaroor die storie/liedjie gaan?

Die storie gaan oor twee mense wat mekaar soos ’n landskap verken en met ’n flits in die hand ’n lig skyn op die ander persoon se mooi eienskappe. Verkenners is almal weerloos as hulle op ’n nuwe plek beland, en so ook mense in verhoudings. Dis moeilik om iemand te leer ken en dis moeilik om iemand toe te laat om jou te leer ken. Wérklik te leer ken. Die inperking het baie mense geforseer om weer hul naastes te leer ken, en ook hulself. 

Hoe het jy die storie geskiet? Waar het jy geleer om dit te doen? Vertel asseblief oor die proses.

Ek het eers al die poppies van papier gemaak, en toe ’n tipe verhoog gebou waarop als afgespeel het. Ek het my koffietafel bo-op ’n tafel geplaas, ’n lig onder die koffietafel vasgemaak en toe my foon bo-op vasgeplak. Dit was als by my huis in my kamer gedoen, wat die donkerste is in die huis. Hier kon geen lig van buite of die tyd van die dag die scenes affekteer nie. Ek moes die poppies en als wat ek wou hê moet beweeg, bietjie vir bietjie skuif, en met elke skuif ’n foto neem. 1601 foto’s maak die hele video op. 

Hoe lank het dit jou geneem om die projek te voltooi?

Twee en ’n half weke. Ek fokus baie op detail … en detail steel tyd. Die ouma in die video het bv Green Cross skoene aan. 🙂

Hoe was die ervaring om met Bouwer Bosch en Peach van Pletzen te collaborate? 

Dit is altyd ’n voorreg om saam met daai twee te werk. Albei werk baie vinnig en is ongelooflik kreatief en effektief. Omdat ek so ’n perfeksionis is, tob ek soms te lank oor ’n ding … maar met hulle gebeur goed vinnig. Dit was lekker!

Die Melktert Kommisie het redelik onlangs weer begin optree na ’n lang periode van stilte. Beplan julle om nog vertonings te hou in die nabye toekoms? Hoe was dit om na soveel jare weer as ’n band saam musiek te maak?

Ons het heelwat vertonings vasgemaak vir die jaar, maar met die inperking en COVID-19 is baie gekanselleer en is ons onseker oor wat voorlê. Ons gaan dit maar week vir week vat en ons sal weer show sodra ons kan. 

Ons klomp van Die Melktert Kommissie is soos familie. Daar is min dinge so lekker soos om saam met hulle op ’n verhoog te wees. Ons ken mekaar só goed en ek het hulle ongelooflik baie gemis die afgelope paar maande. 

Is jy op die oomblik by enige interessante projekte betrokke waarvan jy kan vertel? 

Ek het onlangs saam met Freckle Agency aan ’n Lekkeslaap-advertensie gewerk. Ek was verantwoordelik vir die set design en dressing en dit was ’n wonderlike ervaring. Ek is mal daaroor om goed mooi te maak of interessant te laat lyk. Ek het die eerste keer met muurpapier gewerk … ek sê mos ekt ’n ding vir papier. Verder werk ek aan my online Pilates-klasse wat ek aanbied en ook ’n klomp nuwe kuns. Ek skryf baie musiek en voor die jaar om is wil ek graag nog ’n song en video release. 

Waarna luister jy op die oomblik? 

Ek val altyd terug na ouer musiek soos Johannes Kerkorrel (veral Eet kreef), Amanda Strydom en Gert Vlok Nel. Ek kan nie help nie, maar in tye soos die inperking laat dit my baie tuis voel en maak dit my rustig. Ek hou ook van Ami Faku (’n jong kunstenaar van PE), Carla Bruni en Etta James. As ek teken, luister ek soms jazz en blues of luisterboeke. 

Wie is jou grootste musiekinvloede?

Gert Vlok Nel (wat skryf aanbetref), Brandi Carlile en Counting Crows. Ek word baie deur lirieke geïnspireer.

Kyk ook:

The post "Ek het maar ’n ding vir papier" – Lucinda Brand gesels oor stopanimasie en haar nuwe enkelsnit appeared first on LitNet.

Middeleeuse filosofie: ’n onderhoud met Johann Beukes

$
0
0

Die verskyning van Middeleeuse filosofie, ’n reusewerk van oor die 1 600 bladsye in twee volumes, vergestalt die lewenswerk van Johann Beukes, spesialisnavorser in hierdie dissipline aan die Universiteit van die Vrystaat se Departement Filosofie.

Middeleeuse filosofie omvat die werk van 145 filosowe oor die tydperk vanaf 410 tot 1464, en bied so ’n toeganklike tog omvattende blik op ’n millennium se ontwikkeling in die Westerse intellektuele en kulturele wêreld. 

Persvrystelling: Wêreldgebeurtenis in Afrikaanse filosofie

 

Johann Rossouw [1] voer hier onder ’n gesprek met Johann Beukes[2]  oor die boeke: Middeleeuse filosofie[3]

Foto van Johann Beukes: verskaf

Johann, jy is opgelei in en was ook lank besig met die Franse poststrukturalisme (Foucault, Derrida en Lyotard) asook die Frankfurt-skool se kritiese teorie (veral Adorno). In die vroeë 2000’s het jy egter taamlik radikaal van hierdie ontwikkelinge afskeid geneem – met die uitsondering van Foucault – en begin spesialiseer in Middeleeuse filosofie, wat twintig jaar later sou lei tot jou nuwe boek, Middeleeuse filosofie,van ’n allemintige 1625 bladsye in twee bande. Wat het hierdie radikale wending in jou werk veroorsaak?

Dankie vir die onderhoud, Johann. Ja, dit was nogal ’n drastiese afstandname van ’n 20ste-eeuse trajek waarmee ek goed vertroud was en tot twee dekades gelede nog wel entoesiasties onderskryf het. Teen die einde van die 1990's was ek egter ontnugterd gelaat met wat ek beskou het as ’n konseptuele verarming in poststrukturalistiese en inderdaad "postmoderne" ontwikkelinge in die destydse kontinentale filosofie ‒ ek sluit Adorno natuurlik nie by poststrukturalisme in nie, maar moes sy jonger medeganger Habermas se tydige waarskuwings daaromtrent heelwat vroeër met groter erns geneem het.[4] Die vraag waarmee ek myself uiteindelik gekonfronteer het, was betreklik eenvoudig: Is Westerse filosofie nie veronderstel om meer in te hou as wat dit aan die einde van die 20ste eeu in die gedaante van poststrukturalisme aangebied het nie?    

Uit daardie enkele vraag het natuurlik ’n hele delta van ander vrae oopgespoel: Het Westerse filosofie, wat eens die beste uit die hoër fakulteite van menswees kon ontgin, konseptueel so insolvent geraak dat dit uiteindelik tot bloot ’n dekonstruktiewe taalspel verskraal kon word, om daarmee die sogenaamde "einde van filosofie" aan te kondig – en hoe was dit moontlik dat ek my verlei het om so onkrities en gebrekkig selfkrities aan daardie vernietigende karnaval van die "postmoderne" deel te neem? Sou dit moontlik wees om minstens my eie dwalinge in hierdie opsig te korrigeer deur die ideehistoriese bronne van die Westerse filosofie te herbesoek en te herondersoek? Sou dit moontlik wees om vanuit die vergete en verwaarloosde momente in die ideegeskiedenis ’n vastrapplek te kry om filosofie minstens vir myself as betekenisstigtend te herwin en filosofie in my eie gemoed teen haar skynbaar gelyklopende doodsdrif en doodsangs te verdedig? Wat is daar vanuit die voormoderne periodes te rehabiliteer vir ’n eietydse filosofiese selfbegrip? Met op daardie stadium reeds ’n gevestigde belangstelling in Middeleeuse filosofie, was dit tyd vir ’n nuwe fase in my filosofiese opvoeding en ontwikkeling – maar nou met veel groter beskeidenheid en gereserveerdheid.

Ek ag dit juis beskeie so dat dit nie ek was wat Middeleeuse filosofie gekies het nie – ek het met te min voor haar gestaan om self te kon kies – maar dat dit sy was wat my tot haar kring uitgenooi het. Ek moes haar uitnodiging minstens voorlopig net opneem. Sonder dat ek dit so voorsien het, was ek nou onmiskenbaar in die soepel hande van Boethius (ca 477–524) se Dame Filosofie in De consolatione philosophiae. Sy leer haar studente dat vrye wil nie bepaal, opgehef of ondermyn word deur filosofie nie. Haar studente kan altyd steeds handel en reageer, hetsy vry in ruimtelike ooptes of geboei in kettings. Wanneer die student vir haar kies, bly sy naby en getrou – maar sy verwag dan ook self nabyheid en getrouheid, en juis ook dissipline en toewyding. In hierdie oudwêreldse sin was ek meteens ook in die arms van die eerste vroulike filosoof vanuit die Middeleeue, die onvergeetlike non Héloïse d'Argenteuil (ca 1100–1164), wat in haar Ciceroniese of "radikaal-onekonomiese" liefde vir die grootste dialektikus van die 12de eeu, Petrus Abelardus (1079–1142), as sy minnares en later teensinnige eggenote, daarop aangedring het dat die liefde vir filosofie en die liefde vir die een ware sielsgenoot een en dieselfde liefde is: juis "onekonomies", met liefde nie as ’n middel tot ’n doel of iets met enige instrumentele waarde nie, maar eerder ’n selfherhalende geskenk waarvan die enigste oogmerk is om die metafisies beste in die Ander tot uitdrukking te bring.[5] Dit is die soort filosofie, synde (vir my) opnuut wysbegeerte, wat sedert twee dekades gelede ’n aanspraak op my hele wese gerig het: Ek het sedertdien net een begeerte en dit is om die metafisies beste in filosofie as (vir my) ten diepste ’n hermeneuties-ideehistoriese dissipline tot uitdrukking te bring – maar om dialekties terselfdertyd deur filosofie bemin en verander te word, sodat sy die metafisies beste in my na vore kan bring. Sonder hierdie wedersydse liefde, respek en onekonomiese begeerte is filosofiese arbeid – weer "vir my", ek skryf nie vir ander voor nie – nie moontlik nie: Anders word filosofie net nóg ’n tegniese, "analitiese" dissipline met weinig anders om te bied as verdagte aansprake op "toepaslikheid" en brute instrumentalisme.   

Johann Rossouw

Soos reeds vermeld, het jy ondanks die wending in jou werk nie van Foucault afskeid geneem nie, wat twee vrae laat ontstaan naamlik, waarom het Foucault vir jou belangrik gebly; en hoe, indien enigsins, het sy benadering tot die navorsing en skryf van intellektuele en institusionele geskiedenis gefigureer in die werk aan Middeleeuse filosofie?

Die vermelde Ciceroniese of onekonomiese liefde vir filosofie – en om dialekties bemin te word deur filosofie – kan ek egter nie met my verstaan van eietydse kontinentale filosofie assosieer nie. Filosofie is sedert die vroeë 1960's ontwortel deur bepaalde ontwikkelinge in Franse intellektuele kringe, juis in die soort poststrukturalisme waarvan Lyotard en Baudrillard die vernaamste pleitbesorgers was en waarvan Derrida myns insiens te laat afskeid geneem het om hom van die assosiasie daarmee te kon vrywaar. Juis in daardie chaotiese, post-eksistensialistiese dekades van die laat 20ste eeu, waarin filosofie se probleemoplossende vermoë en maatskaplike onrustigheid opnuut na vore moes tree – in stede van om bloot tot ’n literêr-teoretiese oefening te verword – was sy oënskynlik meer onverbonde aan die "geleefde lewe" as ooit tevore. Waar konseptuele helderheid en die soort forensiese presisie waarop juis Michel Foucault so skerp aangedring het haar kenmerke moes wees, het filosofie vanaf die laaste dekade van die 20ste eeu ’n kegelbal in die "hiperreël-digitale woestyn" van filosofiese agents provocateurs soos Jean Baudrillard geword. Natuurlik en genadiglik is daar nog denkers soos Bernard Stiegler – vir my die belangrikste lewende[6] filosoof – en die tydige en snel ontwikkelinge in die betreklik jong dissipline van tegniekfilosofie, wat die skade wat filosofie die afgelope dekades in terme van die aftakeling van haar konseptuele vermoëns aangedoen is, teengaan. Maar beide Stiegler en tegniekfilosofie is myns insiens diskursief tot ’n beduidende mate afhanklik van die een denker wat hom baie vinnig van enige assosiasie met poststrukturalisme losgemaak het, en dit is Foucault. My versetlikheid jeens poststrukturalisme en "postmoderniteit" gaan trouens op ’n Foucaultiaanse sin vir parrhesia terug ‒ om reguit te praat oor daardie sake wat filosofie sedert die pre-Sokratici geboei het. Dit geld veral vir waarheid, geregtigheid, skoonheid en vryheid, soos deur Aristoteles gerubriseer in kosmologie, epistemologie, metafisika, psigologie en etiek – en onveranderd so in die eerste fase van die skolastiek vanaf die vroeg-12de eeu oorgeneem.    

My ingebedheid in Middeleeuse filosofie vind ek in die samehang tussen Middeleeuse skolastiese eu legein – om goed te praat, om die goeie dinge goed te sê, dit wil sê opbouend te praat – en Foucaultiaanse parrhesia, om reguit te praat en nie voor die verbysterende opgaaf daarvan te huiwer nie. Ek vind op Foucault se aweregs-historiografiese spoor ’n ruimte tussen die briljantheid van die antieke denkers en hulle voorspelbare modernistiese teenhangers: Dit is die ruimte van die "Middeleeue", so bevooroordeeld en pejoratief die benaming ook al is, synde ’n millenniumlange epog waarvan minstens sewe eeue die hoogste volume van konseptuele uitsette in die Westerse geestesgeskiedenis verteenwoordig. Ek betoog ook in my onlangse Foucault-monografie[7] dat sy opvatting van "teenswoordige geskiedenis" ten diepste gerig daarop was om "stiltes van die Ander" oop te skryf en ons daarom bedag maak op die gemarginaliseerde, versweë, vergete en verlore momente in die geskiedenis, wat veroorsaak word deur die identiteitstigtende, uitsluitende en kontinuïteitsbestendigende dinamika van pasklaar sinteses wat op self-immuniserende wyse telkens oorgelewer en aanvaar word. Daarom is die "Foucaultiaanse" gerigtheid van Middeleeuse filosofie ook te vind in die werk se gewilligheid om die Middeleeuse "kanon" teen te gaan en terselfdertyd te verruim, eenkantfigure in die Middeleeuse ideegeskiedenis uit ontoeganklike en spesialisbeperkte ruimtes te gaan haal, die "latent-Oriëntalistiese" onderskeid tussen die Westerse en Oosterse registers, tussen die manlike en vroulike Middeleeuse denkers en tussen Middeleeuse skolastiek en mistiek krities te ondermyn, asook om die tydsgewrig met veel groter presisie te dateer en intern te periodiseer. Foucault word wel ’n paar keer by die naam genoem, maar eintlik is dit ’n Foucaultiaanse Stimmung in terme van die oopskryf van die "stiltes van die Ander" wat konstant aanwesig is in die werk. Uiteraard behoort ’n inleidingswerk sigself nie so openlik te oriënteer aan ’n enkele invloed of posisie nie, maar so onpolemies as moontlik te werk te gaan ten einde nie meer te doen nie, as om weliswaar net "in te lei". Tog is Foucault implisiet daar, op elke bladsy van elke afdeling wat oor so ’n "eenkantfiguur" of "nie-gekanoniseerde" denker handel. Foucault se invloed op my werk in Middeleeuse filosofie is natuurlik ook bepalend aanwesig in die ontledings van Middeleeuse kloosterseksualiteit wat ek in die onlangse verlede die lig laat sien het.[8] 

Fotobron van Foucault: https://en.wikipedia.org/wiki/Michel_Foucault#/media/File:Foucault5.jpg

Foucault is inderdaad die enigste eietydse denker waaroor ek nougeset bly publiseer het na die "wending" in my werk waaroor ons flussies gepraat het. Ek sou nogal vervelig kon uitbrei oor hoe diepgaande Foucault my lewe en werk beïnvloed het, ook buite die onmiddellike konteks van my resepsie van Middeleeuse filosofie. Soveel as wat Foucault dit gehaat het om as ’n "leermeester" beskou te word – sy studente moes op sy aandrang hulle eie pad vind – en veral om as ’n "profeet"[9] geag te word wat oor die een of ander teen-moderne "verlossingsboodskap" beskik, het ek my oor die jare soveel keer in ’n situasie bevind waar ek telkens en opnuut weer moes sê: Foucault was reg. Wat byvoorbeeld met die mensheid in die eerste maande van 2020 gebeur het, in terme van gekamoefleerde politieke onderdrukking, dit is, die onverantwoorde (juridies en andersins) ondergrawing van individuele vryhede wat kwansuis in allerlei gesofistikeerde grondwette "verskans" sou moes wees en die ideologiese manipulasie van die subjek in terme van die opheffing van vryheid van beweging, vryheid van assosiasie en vrye morele keuse, skuilgaande onder "openbare gesondheid", is niks anders nie as ’n bevestiging van die basiese inhoude van Foucault se ontleding van "bio-politiek" in die laat 1970's: Foucault se ontleding van ’n daaraan onderliggende "bio-mag" dui naamlik op die oënskynlik arbitrêre kwantifisering van data rondom bevolkings en bevolkingsgroepe, wat uitmond in kontekslose statistieke wat deur ’n histeriese massamedia (en lank na Foucault, natuurlik ook hedendaagse "sosiale media", wat ek vanweë die selfpubliserende aard daarvan ’n agterlike verskynsel vind) met ononderbroke herhaling sigbaar gehou word om kyker- of sirkulasiesyfers te verhoog, met inbegrip van die skynbare onskuldige oogmerk om "openbare welsyn" deur die "verspreiding van inligting" te bevorder. Foucault sou egter daarop aangedring het dat wie ook al dink dat die internasionale grendels van 2020 oor openbare gesondheid en die welsyn van bevolkings gaan, dit ernstig mis het. Dit mag voorkom of dit oor die bekamping van ’n pandemie gaan en in die praktyk is dit wat bolangs gebeur. Waaroor dit inderwaarheid gaan, na Foucault, is mag, juis gemaskeer as iets anders as mag – in hierdie geval openbare gesondheid – waarin die (staat as) magshebber subjekte panopties onder beheer bring en gesedeerd op hulle plek hou. Die gepaardgaande deïndividualisering of onherkenbaarstelling van die individu deur die gedwonge dra van gesigsmaskers is natuurlik ’n bykomende en letterlik maskerende geskenk aan hierdie eietydse vorm van bio-politiek. Die grendels van 2020 gaan uiteindelik nie oor die bekamping van die terreur van ’n dodelike virus nie, maar oor ’n erger vorm van terreur, naamlik die konstante waarneming, beheer, normalisering en eksaminering van die individu – sodat die individu, nou eenmaal ingehok, vervreem, ononderskeibaar, getraumatiseer en op sy en haar plek gesit, hulleself voortdurend aan die hand van die nuwe norm sal eksamineer en op hulle plek sal hou; asof steeds onder konstante waarneming en direkte beheer. In die meeste Europese lande het hierdie bio-politieke magsuitoefening vanaf Februarie 2020 tot nou (Augustus 2020) betreklik gesofistikeerd plaasgevind, "anoniem", soos Foucault dit sou genoem het: In Suid-Afrika was dit egter Stalinisties onverbloemd, tot op die grens van ’n pedantiese en oplaas potsierlike kwasi-moralisme waartoe die staat sigself veroorloof het. Wat met die voorhande bio-politieke data gaan gebeur nadat die virus uiteindelik ’n wyk geneem het, is vanselfsprekend: Dit sal gebruik word om individue voortgaande te manipuleer en politieke mag sentraliserend te bestendig, soos wat trouens nou reeds plaaslik en elders gebeur. Die bisarre katastrofe om ons heen, hoe ongenuanseerd ek by ruimtegebrek nou ook al Foucault se moontlike reaksie daarop verwoord het, bevestig waarom hy vir my ’n aktuele denker bly wat sy 20ste-eeuse ingebedheid transendeer en sinteties altyd weer bo sy bronne sal uitstyg. Dit is ook juis hierdie soort toepassings van Foucaultiaanse ontledings in tegniekkontekste wat my tot tintelende opgewondenheid oor die toekoms van tegniekfilosofie[10] stem: trouens, so jonk as wat die dissipline is, dink ek dit gaan in die eerste helfte van die 21ste eeu dieselfde sentrale plek inneem as wat hermeneutiek in die filosofiese inhoudsopgawe van die tweede helfte van die 20ste eeu ingeneem het.

Danksy die werk wat nagenoeg die afgelope 100 jaar gedoen is deur denkers soos Etienne Gilson, Henri De Lubac, Yves Congars, Ivan Illich en meer onlangs John Milbank, Graham Ward, Catherine Pickstock en Michael Allen Gillespie, het ’n groeiende gewaarwording posgevat dat die moderniteit as maatskaplike en intellektuele orde sy oorspronge vind in die uitkoms van sekere debatte wat in die hoog tot laat Middeleeuse periodes in die filosofie gevoer is. Wat het jou navorsing vir jou boek vir jou oor hierdie kwessie aan die lig gebring?

Die denkers waarna jy verwys is natuurlik almal gewaardeerde voor- en medegangers – maar veral Gilson is saam met Martin Grabmann vir my die twee reuse van 20ste-eeuse skolastieknavorsing. Ek vermoed dat jou vraag afgestem is op wat "agter" die boek lê; of, tot welke mate so ’n herlesing van Middeleeuse filosofie ’n blik werp op die oorspronge van moderniteit. Daar was nie ruimte in ’n reeds omvangryke inleidingswerk om sistematies daarop te kon reageer nie, maar ek vertoef wel in sommige ekskurse in die boek by bepaalde modernkritiese oorwegings. Ek gebruik byvoorbeeld gereeld die begrip diskursiewe herinnering, waarmee ek bedoel die temperende en versigtige vraagstelling na verwaarloosde en vergete momente uit die geestesgeskiedenis; momente wat, indien dit subtiel herwin of herwaardeer word, ’n geproblematiseerde eietydse konteks van nuwe impetus kan voorsien. Kan ons dalk in die 21ste eeu die hulp van ons Middeleeuse voorgangers inroep, wie se erfenisse deur die moderne vernietiging van die metafisika verdaag is (ongelukkig ook juis deur iemand soos Foucault), om ’n "eietydse metafisika" te verwoord – veral wanneer dit die laat-moderne fragmentering van wesenlike begrippe in die Westerse filosofie is wat ter sprake is (weer, begrippe soos waarheid, geregtigheid, skoonheid en vryheid) – begrippe wat juis nie wegstaan van metafisika nie? Ek vind my daarom digby Danie Goosen se modernkritiese stelling dat "ons menswees ten nouste met metafisiese vraagstelling verweef is".[11] Ek vind my ook naby Umberto Eco[12] se modernkritiese vermaning dat die studie van ons Middeleeuse voorgangers geen geleentheidsbelangstelling behoort te wees nie, maar as ’n "immunologiese voorsorg" behoort te dien teen die gefragmenteerde eietydse opvattinge rondom Self en Ander, identiteit en nie-identiteit, en geregtigheid en gemeenskap.    

Om jou vraag ten opsigte van die invloed van die latere Middeleeue op moderniteit meer direk te antwoord, sou ek kon verwys na die heel laaste periode wat ek in die boek hanteer, wat ek die "post-skolastiese" periode noem. Dit is ook die periode wat vroeg-moderniteit myns insiens grondiger as enige van die ander skolastiese periodes beïnvloed het. Ek moes die begrip ontwikkel om die laaste fase van Middeleeuse filosofie verantwoordelik te dateer, sonder om Middeleeuse filosofie naatloos in Renaissance filosofie te laat opgaan. Die aanbod van die begrip post-skolastiek spruit eintlik uit ’n eenvoudige, tweedelige vraag: Wat het in Middeleeuse filosofie gebeur tussen die afsterwes van Willem van Ockham (1349) en Nikolaus van Kusa (1464), en waarom is hierdie periode van 115 jaar so dwingend onderbepaald in die Westerse ideegeskiedenis? In ’n poging om hierdie dubbelvraag te beantwoord, het ek probeer aandui dat post-skolastiek aansprake rig wat die tendensieuse onderbeklemtoning van die betrokke periode in die navorsingsregister weerspreek. In hierdie 115 jaar het ons dus te doen met die heel laaste, moeisame en ’n komplekse periode in Middeleeuse filosofie, waar die via moderna en logica modernorum reeds duidelik afstand geneem het van die fundamentele premisses van die hoog-skolastiek, oor meer as ’n duisend jaar vanaf die via antiqua et logica vetus van Augustinus en Boethius na Petrus Abelardus, Thomas Aquinas en Johannes Duns Skotus, na die via moderna et logica nova, soos by uitstek gemanifesteer in die kenteorie van die latere Ockham, en betreklik gelyklopend, in die politieke teorie van Marsilius van Padua. Ek het probeer aandui dat post-skolastiek op ’n transformasie van die hoog-skolastiek op grond van ’n selektiewe afskeid daarvan aankom. Hierdie selektiewe afskeid vind ek in "post-skolastiese temas", onder andere in die politiek-teoretiese intensifisering van die via moderna (Padua), die finale skeiding tussen teologie en filosofie en die gevolglike verselfstandiging van die natuurwetenskappe (Thomas Bradwardine), post-skolastiese mistiek (Jan van Ruusbroec), in res institusiekritiek (John Wyclif), transformerende pragmatiek (Gabriel Biel), filosofiese materialisme (Blasius van Parma) en Kusa se dialekties-spekulatiewe mistiek.      

Ek betoog teen ’n tendens in by verre die meerderheid moderne inleidingswerke in Middeleeuse filosofie, naamlik om reguit vanaf Ockham na Kusa te beweeg (laasgenoemde dikwels getipeer as tegelyk die laaste Middeleeuse en eerste Renaissance filosoof), as oorhaastig in die verbygaan van daardie 115 jaar se intellektuele geskiedenis. Hierdie verbygaan word enersyds gestu deur ’n voordatering van Renaissance filosofie, in ’n poging om sowel die gaping tussen Ockham en Kusa sover moontlik te verklein, en andersyds om die selfstandigheid van hierdie periode tussen die hoog-skolastiek en Renaissance filosofie te onderspeel. Ek betoog daarom vir ’n vierdelige onderskeid tussen hoog-skolastiek (met Ockham se parsimoniese nominalisme en die oorgang na Padua se politiek-teoretiese intensifisering van die via moderna as sentrale verwysings), post-skolastiek (met hierdie 115 jaar tussen 1349 en 1464 as dateringsverwysings), Renaissance filosofie (post-Kusa) en vroeg-moderne filosofie (post-Renaissance, dit is Hobbes en Descartes). Natuurlik was die oorgange tussen hierdie periodes ongeslyp en gradueel – maar dit neem nie weg nie dat hierdie periodes selfstandige ideehistoriese aansprake rig en dat sodanige periodiserings profytlik is vir die rehabilitasie van minstens een onderbepaalde periode vis-à-vis ander, sterker gedateerde en minder kwesbare periodes, soos juis die post-skolastiese periode. Binne hierdie argumentatiewe buitelyne bied ek dan besprekings aan van ’n verskeidenheid betreklik ondergekommentarieerde filosowe wat produktief in hierdie periode werksaam was. Met hierdie aanbod (bestaande uit 37 denkers) probeer ek aandui dat post-skolastiek inderdaad ’n moeisame en komplekse, hoewel juis ’n produktiewe periode in die Middeleeuse ideegeskiedenis was ‒ en nie ’n flenterfase in die Westerse ideegeskiedenis waarby verbygegaan kan word in die kenmerkend haastige sprong vanaf 1349 tot 1464 of as ’n triviale voorloper tot die Renaissance en ’n deurgang tot moderniteit nie, maar as ’n periode wat eerbiedig behoort te word in terme van haar eie delikaatheid, sonderlingheid en ’n selfstandig-bydraende uitset tot juis die Latyns-Westerse ideegeskiedenis. 

Ek dui daarby aan dat die Latynse universiteitstradisie gedurende die eerste helfte van die 15de eeu ’n tyd van bestendige intellektuele ontwikkeling was, enersyds gedra deur drie eeue se skolastiese erflatings en andersyds uitgebrei deur die toenemende stigting van Wes-Europese universiteite, naas die gevestigde dominansie van Parys en Oxford, soos Heidelberg en Leuven, wat onderskeidelik in 1386 en 1425 gestig is. Tog word die eerste helfte van die 15de eeu dikwels dikwels beskryf as ’n tyd van intellektuele skaarste, gegewe die intensiteit en omvang van die Aquinas-, Skotus- en Ockham-debatte in die 14de eeu. Die 15de eeu word aansluitend daarby met reëlmaat beskryf as die "eeu van die leerling" eerder as die "eeu van die leermeester", wat die middel-13de tot middel-14de eeue inderdaad was. In stede daarvan om gevestigde filosofiese probleme nuut, kreatief en onkonvensioneel te benader, was die merkbare tendens onder magistri (in die tyd toe wel toenemend doctores genoem) om hulle agter die erfenisse van Aquinas, Skotus of Ockham te skaar en daardie gevestigde teoretiese posisies te verdedig en daarvanuit te polemiseer. Tog is hierdie (soort) opvattinge rakende intellektuele uitsette in die tweede helfte van die 14de eeu en die eerste helfte van die 15de eeu karikatuuragtig en wesenlik nie korrek nie. In hierdie periode was daar inderdaad ook sterk en onafhanklike stemme, wat ek juis in perspektief probeer stel. Dit is ongetwyfeld waar dat daar onder filosowe vanaf die tweede helfte van die 14de eeu ’n tendens ontwikkel het om buite die raamwerk van die universiteitswese te wou werk en dat daadwerklik gepoog is om van die skolastiek afskeid te neem. Institusiekritiek – veral ten opsigte van die kerk en universiteit, maar ook die monargie en die feodale orde – is  juis een van die maatskaplike kenmerke van post-skolastiek, wat nogeens daarop dui dat hierdie periode nie onderwaardeer behoort te word of as ’n vlugtige voorbode tot Renaissance filosofie aangebied behoort te word nie.

Post-skolastiek vervul juis ’n belangrike swaelstertfunksie in die sistematiese, hoewel talmende oorbeweeg vanaf die hoog-skolastiek na Renaissance en vroeg moderne filosofie. Ons het hier dus nie te make met oop gapings tussen die skolastiese periodes en moderniteit nie, maar met transisionele oorgange wat gedra is deur oorgangsdiskoerse – soos juis post-skolastiek. Die moderne weergawe van Middeleeuse filosofie gaan grootliks by die delikaatheid van hierdie afskeid van die Middeleeue verby in haar teleologiese poging om die gewaande kairos van "die moderne gebeure" te verwelkom. Post-skolastiek was egter nie, om die moderne jargon te gebruik, net nog ’n skadukol in die "altyd Donker tyd" waarby verbygegaan sou moes word in die kenmerkend haastige sprong vanaf laat Middeleeuse filosofie na die Renaissance en die vroeg moderne nie. Post-skolastiek bied ek dus ook nie aan as bloot die laaste asem van die skolastiek nie, maar op grond van die selektiewe afskeid van die hoog-skolastiek, die transformasie daarvan. Dit is juis die toenemend nie-religieuse aksente in post-skolastiese sekularisme, mistiek, institusiekritiek en materialisme, wat dit van sowel hoog-skolastiek as Renaissance filosofie onderskei – en vroeë moderniteit myns insiens direk beïnvloed het, sonder noodwendige bemiddeling van die Renaissance.

Fotobron van Étienne Gilson: https://en.wikipedia.org/wiki/Étienne_Gilson#/media/File:Étienne_Gilson.jpg

Jy het in jou intreerede vroeër vanjaar stilgestaan by wat jy beskou as enkele noemenswaardige vakkundige bydraes wat jy met jou navorsing in Middeleeuse filosofie lewer, byvoorbeeld ten opsigte van die tydvakke waarin jy die epog indeel. Gaan asseblief in op hierdie vakkundige bydraes, soos wat dit ook in jou boek neerslag gevind het.

Ek benadruk graag weer dat ’n inleidingswerk nie verstrengeld behoort te raak in vakpolemieke nie. Nietemin is dit moontlik om subtiel standpunt oor bepaalde sake in so ’n inleidingswerk in te neem sonder dat dit noodwendig as polemies beskou sou moes word. Daar is veral drie kwessies wat ter sprake is, wat ek ruim (en wel meer argumentatief) in ander publikasies oor die afgelope paar jaar aangespreek het. Die drie sake het te make met die standaardisering van datering en interne periodisering in Middeleeuse filosofie, die probleem van wat ek as ’n "latente Oriëntalisme" in die dissipline beskou en die probleem van die "kanon" in Middeleeuse filosofie.

Augustinus (Fotobron: Wikipedia)

Wat eersgenoemde betref, is die sleutelvraag: Waar begin Middeleeuse filosofie en watter denkers behoort by die Middeleeuse korpus ingesluit en daarvan uitgesluit te word? Dit is ’n belangrike vraag, want dit bepaal watter denkers wat op die marges van die historiese spektrum staan (met Neoplatonisme patristies-links en die Italiaanse Renaissance modern-regs), in die Middeleeuse korpus hoort. Omdat die oorgang vanaf Neoplatonisme en laat patristiek na die Middeleeue gradueel was, word die Middeleeue soms sover terug gedateer as na Plotinus (ca 204–270) en Porphyreus (ca 234–ca 305), terwyl sommige navorsers die Middeleeue weer vorentoe dateer, so laat as met die aanvang van die Karolingiese Renaissance (742), maar minstens as eers vanaf Boethius (480–524), wat Augustinus (354–430) dan uit die Middeleeuse korpus sluit. Augustinus is die sleutelfiguur in hierdie periodiseringsvraag, want dit is sy posisie in die Middeleeuse ensiklopedie wat altyd in dispuut sal wees, synde óf die eerste Middeleeuse denker (indien my argument dat die eerste geslaagde barbaarse inval in Rome in 410 as die aanvang van die Middeleeue aanvaar word), óf dalk wel die wesenlike deurgangsfilosoof tussen die antieke en die Middeleeue. Daar bestaan in die vaknavorsing geen eenstemmigheid oor Augustinus se plek, hetsy binne of buite, die Middeleeuse korpus nie. Dieselfde gebrek aan eenstemmigheid geld vir die afsluiting van die Middeleeuse korpus en die oorgang na die Italiaanse Renaissance: Indien Nikolaus van Kusa (1401–1464) as die laaste Middeleeuse en eerste Renaissance filosoof of dalk tog as die poortwag van die moderne beskou word, is dit ’n diskursiewe keuse wat altyd eers weer van voor af verantwoord moet word. Omdat willekeur steeds botvier en denkers arbitrêr by die Middeleeuse korpus ingesluit of daarvan uitgesluit word, het ek ’n datering vanaf 410 tot 1464 en ’n sesdelige interne periodisering voorgestel, wat as volg daar uitsien: 

Die post-Romeinse periode (vyfde tot sewende eeue [410 {Alaricus I en die eerste barbaarse inval in Rome} tot 668 {d Konstans II}], met Augustinus [354-430] en Boethius [480-524] as die belangrikste filosofiese eksponente);

Die Karolingiese periode (agtste tot negende eeue [742 {g Karel I} tot 877 {d Eriugena}], met Alcuin [730-804] en Eriugena [815-877] as die belangrikste Latyns-Westerse geleiers van die Karolingiese Renaissance, met inbegrip van die opkoms van Arabiese filosofie in die Ooste en later in Andalusiese Spanje);

Die post-Karolingiese periode (10de tot 12de eeue [877 {d Eriugena} tot 1088 {aanvang van die kruistogte en die opkoms van die universiteitswese}], met Anselmus [1033-1109] en Abelardus [1079-1142] as die mees gevolgryke onder die Latyns-Westerse denkers wat sou baat by die rehabilitering van die antieke erfenis in die Karolingiese Renaissance);

Die vroeg-skolastiese periode (11de tot 13de eeue [1088 {stigting van die Universiteit van Bologna, die eerste Europese universiteit} tot 1225 {g Aquinas}]);

Die hoog-skolastiese periode (13de tot 14de eeue [1225 {g Aquinas} tot 1349 {d Ockham}, met Aquinas, Duns Skotus en Ockham as die beroemdstes onder die hoog-skolastici]);

Die post-skolastiese periode (14de tot 15de eeue [1349 {d Ockham} tot 1464 {d Kusa}]).

Ek onderskei hierdie ses periodes telkens met bepaalde filosofiese en institusionele merkers. ’n Goeie voorbeeld is die onderskeid tussen die Karolingiese en post-Karolingiese periodes, wat op die oog af nou verwant blyk te wees, tog verskil die twee periodes betreklik dramaties. Wat die unieke filosofiese merkers van die post-Karolingiese periode betref, is daar minstens vyf om mee rekening te hou, wat almal te make het met die wyse waarop Aristoteles en Plato in hierdie tyd herwaardeer is: Die grammatikale uitbreiding en ontwikkeling van Aristoteliese logika en die terminologie vanuit daardie logika, wat die basis vir alle intellektuele ordening voorsien het en nou aanvaar is as die enigste medium om daardie ordening te bestendig; die sistematiese ontwikkeling van Platonisme, in terme van ’n direkte invloed op kosmologiese spekulasies vanaf die 11de eeu, met ook ’n indirekte invloed op die filosofiese mistiek vanaf die laat 10de eeu, gebaseer op ’n Neoplatoniese resepsie van Pseudo-Dionisius (ca 500) in die besonder; Augustinus se aangepaste Plato-resepsie word vir die eerste keer die gestandaardiseerde resepsie van Platonisme (Augustinus se resepsie van Platonisme word dus die gekanoniseerde Platonisme van die 10de en 11de eeue); langs hierdie Augustiniaanse ontwikkeling van Platonisme, is Aristoteles se logika, veral met verwysing na die Categoriae, wat wyd bekend was op hierdie stadium, nie langer verstaan as suiwer formele logika nie, maar as logika met ’n filosofiese dimensie; met ander woorde, dat daar ’n korrespondensie tussen logika en ontologie is of behoort te wees; en laastens die opkoms van die dialektiese metode, duidelik so by die "tweede Augustinus", Anselmus (1033–1109) en vermelde Abelardus: hier tref ons ’n spanningsvolle, maar produktiewe samestelling van teologie en filosofie in ’n enkele waarheidsbegrip aan, waarvan Augustinus die Middeleeue se voorloper was (op geen stadium na Augustinus het dialektiek weer gefigureer, tot eers hier in die post-Karolingiese periode nie – en dan wel as ’n grondige filosofiese metode en nie bloot as ’n eksegetiese werksbegrip nie).    

Ek dui gevolglik ook vyf unieke institusionele ontwikkelinge en veranderinge van die Karolingiese na die post-Karolingiese periodes aan, veral in terme van die oorhoofse begrip desentralisering, wat binne hierdie periode in ag geneem moet word: Eerstens, in die negende eeu is Christelike Europa, wat vir alle praktiese doeleindes die hele Frankiese Ryk van Karel II en sy opvolgers ondervang het, onderwerp aan drie afsonderlike en hoogs aggressiewe offensiewe: vanaf die noorde, die Vikings; vanaf die suide (vernaamlik Spanje), Islam; en vanaf die Ooste, die Hongare. Aanvanklik het die herhaalde aanvalle vanaf hierdie drie fronte nie negatief op die Karolingiese howe ingewerk of Karel I se intellektuele Renaissance gekompromitteer nie ‒ onbedoeld het die aanvalle juis tot ’n strenger sentralisering van politieke mag aan die hof van Karel II gelei en die Frankiese ryk eerder versterk as verswak. Hierdie sentralisering was egter onder die volgehoue druk vanuit drie fronte, nie volhoubaar nie. Vanaf die middel-10de eeu was interne politieke fragmentering in die Frankiese ryk onafwendbaar. Die eenheidsdiskoers en sentrale regering van die Karolingiese Renaissance moes plek maak vir ’n partikularisme op haas elke vlak; polities, ekonomies en maatskaplik. Die gemeenskap is radikaal gesentraliseer, deurdat belanghebbendes eerder op plaaslike belange en verhoudinge vir oorlewing en vooruitgang gefokus het, as om die Karolingiese ryk daarmee te vertrou. Uit hierdie fragmentering van politieke mag tree ’n proto-feodale stelsel na vore, wat in die opvolgende feodale ontwikkelinge vir ruim die grootste deel van die Middeleeue, die gangbare sosio-ekonomiese model vir die selfhandhawing van gemeenskappe en streke sou wees. Tweedens, die onmiddellike effek van hierdie proto-feodalisme was fiskale inkortings aan die opeenvolgende keiserlike howe en die opskorting van die ruim stipendia waarmee intellektuele soos Alcuin, Eriugena en baie ander buitelandse vakkundiges sedert die 770's versorg en betaal is. Die effek was voorspelbaar dat sommige denkers na hulle lande en streke van herkoms teruggekeer het. Daar was dus nie net politieke fragmentering aan die post-Karolingiese howe nie, maar ook die daadwerklike verlies aan intellektuele aan die Karolingiese howe self. Derdens, die meerderheid intellektuele het in hierdie tyd nie teruggekeer na die buiteland nie, maar ’n ander (ou en betroubare) institusionele ruimte opgesoek ‒ die kloosters, steeds formidabel funksioneel na Alcuin se herorganisering daarvan vanaf 789, na die Iers-Bisantynse model. Plaaslike landhere was die kloosters in die distrikte en provinsies van die ryk oor die algemeen goedgesind en het die kloosters in samewerking met die monnike en nonne self, effektief in stand gehou. Omdat intellektuele tydens die Karolingiese periode oorwegend aan die keiserlike paleisskool te Aix-la-Chapelle (Aachen) werksaam was, het kloosters oor die algemeen slegs die minimum akademiese voorskrifte van die Alcuin-kurrikulum nagekom. Die kloosters het tydens die Karolingiese periode trouens grootliks gefunksioneer as veilige stoorplekke vir manuskripte, wat vanaf die paleisskool opsetlik in verskeie en geografies-verwyderde kloosters geberg is. Nou herontwaak kloosters as die belangrikste institusionele ruimtes vir intellektuele arbeid. Vir die volgende vier eeue sou feitlik elke sonderlinge stem in filosofie vanuit ’n klaskamer in ’n klooster en vanuit ’n monnike-orde voortkom. By verre die meeste biblioteke, studeerkamers, kopiekamers, klaskamers, slaapkamers en ablusie-geriewe is vanaf die vroeg-10de eeu binne kloosters gehuisves – juis vir filosofiese akademici, wat as monnike by die onderhawige kloosters met hullle eie orde-belydenisse, aangesluit het. Kloosters word daarmee, vir die eerste keer effektief na Alcuin se bedoeling met die herorganisering van die kloosterwese in die Karolingiese ryk, die sentra van geleerdheid; effektief was dit koshuise, waar intellektuele versorg kon word, sonder om formeel aan die streng Benediktyns-Alcuinse reëls te moes konformeer. Hulle moes as geordende monnike die interne orde-reëls gehoorsaam, maar was intellektueel absoluut vry. Vierdens, naas die akademiese herlewing van kloosters, word katedrale vir die eerste keer belangrike ruimtes vir intellektuele arbeid en akademiese oplewing. So het die katedraalbiblioteek te Laon, op daardie stadium nog ’n skadu van die manjifieke gebou wat eers in die 1230's afgerond sou word, ’n filosofieskool begin huisves. Teen die middel van die 10de eeu het die biblioteek vir klaskamers voorsiening gemaak en meer as 300 manuskripte bewaar, waarvan die meerderheid produkte van die Karolingiese Renaissance, maar ook eksegetiese tekste vanuit die patristiek, en tekste vanuit geneeskunde en regsgeleerdheid. ’n Laaste en belangrike institusionele onderskeid tussen die Karolingiese en post-Karolingiese periodes kan gevind word in die opkoms van religieuse dogmatisme binne die filosofieskole van die tyd. In die Karolingiese periode was godsdienstige dogmatisme feitlik in geheel afwesig: Ons vind dit nie in die Weste by Alcuin of Eriugena nie, en ook nie in die Ooste by Alkindi of enige van sy Arabiese opvolgers – Abu’ Mashar, Alrazi, Alfarabi of Isak Israeli – nie. Die kerk, moskee en sinagoge word in die post-Karolingiese periode egter belanghebbende partye in intellektuele ondernemings. Dit was nie meer moontlik om spekulatiewe filosofie onafhanklik van of teen kerkpolitieke inmenging en dogmatiese invloede te immuniseer nie. In die post-Karolingiese periode word godsdienstige tradisies en die dogma wat deur hulle bestendig word, deel van die filosofiese diskoers; in sowel die Ooste by onder andere Ibn Sina (Avicenna) en Algazali as in die Weste by Abelardus en Anselmus. Op soortgelyke wyse onderskei ek ook bepaalde filosofiese en institusionele merkers in oorgange tussen die ander periodes.

Wat die probleem van ’n "latente Oriëntalisme" in die dissipline betref: Ek lees Middeleeuse filosofie sowel "Wes" as "Oos", sowel Latyns as Arabies-Joods, hoewel hierdie insluitende sentiment in by verre die meerderheid van moderne inleidingswerke tot Middeleeuse filosofie afwesig is. Die Arabiese en Joodse denkers word normaalweg bloot verbygegaan en daar word vanuit die Latynse register feitlik konsekwent reguit vanaf Eriugena (815–877) na Anselmus (1033–1109) beweeg. Miskien is die leser gelukkig en word Ibn Sina (Avicenna, Anno Hegirae 370–AH428, 980–1037), Ibn Rushd (Averroes, ca AH520–AH595, ca 1126–1198) en Moses Maimonides (1138–1204) vanuit die Joods-Arabiese sektor dalk ingesluit. Dit getuig myns insiens van ’n "latente Oriëntalisme" in die dissipline, waarmee ek bedoel die diskursiewe opstelling van ’n "Oosterse Ander" ter wille van die bestendiging van ’n "Westerse Self"; of skerper gestel, die skynbaar spontane postulering van ’n dispariteit tussen ’n meerderwaardige Westerse Self en ’n ondergeskikte Oosterse Ander. Min sistematiese inleidingswerke in Middeleeuse filosofie skenk aan hierdie, myns insiens, ernstige metodologiese kwessie aandag: "Oos" hoort skynbaar steeds by "Oos", met al die pejoratiewe ondertone en redaksionele besluite, insluitings en uitsluitings, wat lesings vanuit "Wes" na "Oos" in konvensionele Middeleeuse inleidingswerke kenmerk. Ons werk gevolglik effektief met twee registers in Middeleeuse filosofie en dit is in die 21ste eeu nie langer houdbaar nie. Ek vra my af of vanuit ’n eietydse herlesing van die Middeleeuse intellektuele geskiedenis nie toegegee kan word dat die eerste front van die aanvegting van so ’n latente Oriëntalisme juis vanuit Westerse insluitende voorkeure ten opsigte van die Latynse register behoort te dien nie? Is die Middeleeue nie juis die diskursiewe ruimte, in terme van teks, vertaling en geografie, waarin dit duidelik word dat die Griek in Persië ewe verdwaald en tog ewe gevonde is as die Arabier of Jood in Aleksandrië nie? Moet daar nie meer moeite gedoen word om lesings van uiteenlopende Middeleeuse tradisies – histories, etnies, religieus, linguisties – neweskikkend te lees eerder as etnies onderskikkend of in terme van geografiese voorplasing nie? Miskien is dit die eerste eietydse bydrae van wat ek probeer aandui het as die "Arabiese trajek in Middeleeuse filosofie" ‒ om respyt te bring van ’n hardnekkige sosio-historiese vooroordeel in die Westerse register en miskien te kan meewerk tot ’n sagter genoeglikheid rondom die tekste, vir wat dit is, vir wat daar staan.[13]

Die feit is dat by meer as ’n 150 jaar se ideegeskiedenis verbybeweeg word in hierdie Westers-eiesinnige proses – ’n geskiedenis wat juis grootliks bestryk word deur die intellektuele denkarbeid van ’n beduidende aantal Arabiese en Joodse denkers. Dit word toenemend problematies om Arabiese denkers vanuit die Middeleeue prinsipieel in die filosofiese deeldissipline van "filosofie van Islam" of "Islamitiese filosofie" te rubriseer, terwyl die register van Middeleeuse filosofie gevolglik oorwegend en op enkele uitsonderings na, vanuit die Latyns-Westerse denkers saamgestel word. Dat die gespesialiseerde eksegese van hierdie Arabiese denkers tot daardie Arabiesmagtige deeldissipline hoort, is nie te betwyfel nie. Tog behoort hierdie denkers ook meer oorsigtelik en minder gespesialiseerd in inleidingswerke tot Middeleeuse filosofie aangebied te word, as wat histories die geval was en steeds die geval is. Die vakregister van Middeleeuse filosofie behoort meer moeite te doen om die Arabiese denkers, wat dus gespesialiseerd en effektief vanuit Arabiesmagtige spesialisruimtes nagevors word, in periode-bepaalde werke en oorsigwerke in Middeleeuse filosofie bekend te stel. Daarsonder word die register van Middeleeuse filosofie ernstig ingeperk en is die diskursiewe integriteit van die register myns insiens trouens onder verdenking. Daar word wel stadig vordering gemaak, byvoorbeeld in die betreklik onlangse redaksiewerke van Gracia en Noone (2006)[14] en Hyman, Walsh en Williams (2010)[15]  asook die manjifieke ensiklopedie van Lagerlund (2011)[16] – waar die Arabiese denkers wel grondig tot reg kom. Maar daar is nog baie werk om te doen: Om mee te begin, sou hierdie denkers uit respek vir die selfstandigheid van hulle uitsette nie verder per gelatiniseerde eienaam nie, maar per oorspronklike Arabiese eienaam, en nie per Christelike (of V/AJ) jaarkalender nie maar per Anno Hegirae aangebied kon word, soos wat ek in my werk sover moontlik probeer doen (dus byvoorbeeld nie "Avicenna" nie, maar "Ibn Sina" en "Ibn Rushd" in plaas van "Averroes"; en nie byvoorbeeld "980–1037" nie, maar liewer "AH370–AH428"). Voorlopig is dit nog raadsaam om die gelatiniseerde verwyser en Christelike of Algemene jaartelling ter wille van korrespondensie met die historiese vakregister by te voeg, maar ook dit sal uiteindelik moet verander. Ek werk dus intensief mee tot die verryking van beide registers, met die oogmerk dat die Westerse en Oosterse registers uiteindelik spontaan as onlosmaaklik een met mekaar ontvang sal word, met ander woorde, dat daar uiteindelik net een navorsingsregister in Middeleeuse filosofie sal wees. Dit het na my beskeie mening tyd geword om hierdie latente Oriëntalisme in die dissipline toenemend sigbaar te maak en krities in die navorsing te verreken.

Wat die probleem van die "kanon" in Middeleeuse filosofie betref, sluit dit ook die gespanne en dikwels onproduktiewe verhouding tussen spesialisnavorsing en vaknavorsing in die dissipline in. Die Middeleeuse spesialisnavorsing lewer wesenlike bydraes tot die eksegese van die Middeleeuse korpus en stel die breër vaknavorsing in staat om behoorlik toegerus in die dissipline te kan werk. Tog bly die spesialisnavorsing meesal stil en gedemp binne die spesialisdomeine self en het dit feitlik geen effek op die die gevestigde "kanon" van Middeleeuse filosofie nie. Die spesialisdomeine is geslote, ontoeganklik en volstaan met die uitsette binne die domeine self, met die gevolg dat navorsers binne ’n bepaalde domein nog net met mekaar kommunikeer en die indruk wek dat hulle nie belangstel of die domein die vaknavorsing en daarom die vak self, uiteindelik wel dien nie. Ek aanvaar natuurlik dat dit nie moontlik is om elke noemenswaardige denker uit die Middeleeue in elke inleidingswerk, redaksiewerk of bloemlesing tereg te laat kom nie. Wat ek wel bevraagteken, is dat dit dieselfde denkers is wat met reëlmaat aan die bod gestel word – en dat dit dieselfde denkers is wat met reëlmaat weggehou of onderkommentarieer word. Figure soos Augustinus, Boethius, Abelardus, Anselmus, Aquinas, Duns Skotus en Ockham, beskik oor ’n sekondêre literatuur wat in ’n verskeidenheid van tale reeds onoorsigtelik is. Waarom hierdie "gekanoniseerde" denkers steeds en met oordrewe klem in inleidingswerke aan die orde gebring word, val my as onbillik teenoor die historiese digtheid en omvattendheid van die Middeleeuse epog self op. Dat sommige denkers meer gevolgryk en meer invloedryk as ander denkers was, is waar. Maar geen Middeleeuse denker het in isolasie presteer nie. Dit was juis die sosio-historiese konteks, bemiddel deur baie ander denkers en kontekste, voorafgaande en tydgenootlik tot ’n spesifieke denker, wat daardie denker in staat gestel het om wel ’n prestige uitset te kon lewer – en dit geld juis ook vir die "gekanoniseerde denkers". Die spontane vraag is of daardie konteks buite die spesialisnavorsing verreken word – en die hermeneutiese antwoord daarop is dat dit oorwegend nie die geval is nie. Middeleeuse filosofie se 21ste-eeuse navorsingsfokus behoort myns insiens daarom toenemend in die ondergepubliseerde, eenkantfigure te vestig.

Middeleeuse filosofie word oor die algemeen nie juis aan Suid-Afrikaanse universiteite gedoseer nie en, indien wel, dikwels bra skraps met verwysing na, sê, Augustinus, Thomas van Aquinas en Willem van Ockham. Jy is bekend daarvoor dat jy dink die eietydse Westerse filosofie gaan helaas ewe oppervlakkig met Middeleeuse filosofie om, en tog praat ons hier van meer as ’n duisend jaar se intellektuele arbeid. As jy die oppervlakkige prentjie vir ’n nuuskierige leek moet inkleur, wat beskou jy as die vernaamste temas in Middeleeuse filosofie, en hoe het hierdie temas in hierdie rofweg duisend jaar ontwikkel?

Plato (Fotobron: Wikipedia)

Wat die korrekte inleidingstelling in jou vraag betref: Die grootlikse afwesigheid van Middeleeuse filosofie in die leergange van filosofiedepartemente in Suid-Afrika, veral juis by die histories Afrikaanse universiteite, is vir my ’n raaisel. Ek is nie bewus van ’n plaaslike filosofiedepartement waar antieke filosofie ‒ die Pre-Sokratici, Plato, Aristoteles en moontlik ook Middel-Platonisme en Neoplatonisme ‒ nie grondig gedoseer is en gedoseer word nie. Tog word die mees omvangryke kommentaartradisie(s) oor antieke filosofie, soos juis en veral byeengebring in Middeleeuse filosofie, plaaslik feitlik algeheel verbygegaan. Ek wonder tog of ’n rigiede konfessionalisme in sommige plaaslike Protestantse teologieë (te onderskei van sober konfessionele teologie, wat myns insiens ’n besondere plek binne gesofistikeerde kritiese teologiebeoefening behoort te beklee) nie hierin ’n rol gespeel het nie, asof alles tussen Augustinus en Luther eenvoudig as "Rooms" geag kan word en binne die strak parameters van hierdie konfessionalisme daarom as wegdoenbaar verklaar kon word? Die enigste twee plaaslike universiteite wat Middeleeuse filosofie sistematies voorgraads en op honneursvlak gedoseer het, sover ek weet, was die Universiteit van Kaapstad (grootliks via Marthinus Versfeld) en die Universiteit van die Vrystaat (grootliks via Danie Strauss); by beide teen ’n baie spesifieke agtergrond. By ander Suid-Afrikaanse universiteite is Middeleeuse filosofie sporadies en wisselvallig aangebied; soms ook wel nie by filosofiedepartemente nie, maar dan by teologiefakulteite (normaalweg in die vak kerkgeskiedenis en die deeldissipline dogmengeskiedenis). Ek was bevoorreg om ’n honneursmodule in Middeleeuse filosofie by die Universiteit van Johannesburg vir ’n paar jaar te kon aanbied en is die destydse departementshoof, Hennie Lötter, dankbaar dat hy die meriete daarvan ingesien en daardie ruimte geskep het. Dit mag wees dat ander plaaslike universiteite insgelyks vir ’n paar jaar voorsiening vir die dissipline binne hulle leergange gemaak het. Die werklikheid is egter dat dit nie sistematies was nie en dat Middeleeuse filosofie grootliks verbygegaan is. Waar die dissipline wel doseer is, was dit ook nie deurtastend nie en inderdaad oorwegend ingerig met verwysing na "gekanoniseerde" figure soos Augustinus, Anselmus, Aquinas, Duns Skotus en Ockham. In soverre daar iets is soos "Afrikaanse filosofie", na die werk van Pieter Duvenage[17] van ’n paar jaar gelede, is dit ongetwyfeld so dat filosofie – of wysbegeerte, vir my die inniger woord – in Afrikaans ’n enorme bydrae gelewer het om die jong taal akademies te voed en te slyp. Daar is nie ’n enkele dissipline of deeldissipline in filosofie wat tot op hede nié grondig aan die bod gebring is in Afrikaans nie – dit geld selfs vir analitiese filosofie. Daar bestaan ’n behoorlike register vir elkeen van die kontinentale en analitiese dissiplines in Afrikaans – maar steeds nie vir Middeleeuse filosofie nie. Dit was juis op grond van Duvenage (en sy medewerkers) se interpretasie(s) van "Afrikaanse filosofie" dat ek in 2016 besluit het om hierdie inleidingswerk tot Middeleeuse filosofie in Afrikaans aan te bied en nie soos beplan in Engels nie. Trouens, op daardie stadium was die gevorderde manuskrip in Engels. Ek is met daardie keuse voor die uitdaging gestel om ’n vakregister vir Middeleeuse filosofie in Afrikaans te skep. Vanuit ’n oorwegend Latynse taalomgewing was dit nie maklik om die ten diepste Germaanse karakter van die Afrikaanse taal te handhaaf en miskien ’n beskeie bydrae te lewer tot die ontwikkeling van Afrikaans as wetenskapstaal nie. Maar minstens is ’n eerste poging in hierdie verband nou geboekstaaf. Ek publiseer ook andersins steeds so gereeld ek kan in Afrikaans. Dit is opvallend dat my Europese vakgenote gereeld in hulle moedertale publiseer, veral Duits, Frans, Italiaans en Nederlands. Waar hulle in Engels publiseer, na my waarneming, is dit omdat hulle dan bewustelik met die internasionale vakregister wil korrespondeer. Ek doen dit ook so.    

Wat jou vraag oor die belangrikste temas in Middeleeuse filosofie as sodanig betref, is dit noodsaaklik om met die verskil tussen filosofie en teologie in die (sentrale en latere) Middeleeue rekening te hou. Vanaf die vroeg-12de eeu het dit problematies begin word om sonder meer van 12de-eeuse "filosofie" te praat, juis omdat die teologiese uitset in die vroeg-skolastiese periode baie duideliker as in die post-Romeinse-, Karolingiese- en post-Karolingiese periodes, van die filosofiese uitset onderskei wou word. Dit is trouens die uitstaande kenmerk van die vroeg-skolastiese periode dat, vir die eerste maal in die Middeleeuse ideegeskiedenis, teologie formeel van filosofie onderskei wou word. By Abelardus (1079–1142) was dit reeds ’n faktor, maar na hom was daar ’n toenemende aandrang op ’n minder subtiele en meer gedronge onderskeid tussen teologie en filosofie. Tot op daardie stadium is daar in Middeleeuse filosofie geen onderskeid getref tussen teologie en filosofie nie: Beide het eenvoudig tot die grys domein van "geleerdheid", "kennis" en "wysheid" behoort, wat onproblematies philosophia genoem is. Teologie is feitlik strykdeur onder die liberale lettere van die trivium gerubriseer en selfs tot so laat as by Hugo van St Viktor (1097–1141) word teologie, saam met die ander lettere, nog onder die noemer philosophia gelys. Die begrip teologie is uiteraard nie ’n Bybelse begrip nie en die begrip is trouens reeds sedert Tertullianus (160–220) in die Latynse Weste vermy. In Ad nationes bemerk Tertullianus verantwoordend drie soorte "teologie", op sterkte van die Romeinse ensiklopedis Markus Terentius Varro (Reatinus, 116VAJ–27VAJ), se onderskeid tussen die "gode van die digters", die "gode van die filosowe" en die "gode van die stad". In hierdie Varoniese tradisie is die begrip teologie dus meervoudig gebruik om enige een van hierdie drie begrippe, of ’n kombinasie daarvan, ten opsigte van "die gode", te reflekteer. Juis vanweë hierdie duidelik heidense herkoms daarvan, is die begrip in beginsel deur Tertullianus en die ander kerkvaders vermy; ook deur Augustinus, wat die gebruik van die begrip teologie in Boek VI van De Civitatis Dei skerp kritiseer. Selfs wanneer Augustinus die Platoniste aanprys vir hulle aanbod van God as "sielstransenderend" en as "skepper van die wêreld", spreek hy hulle aan as Dei cognitores ("Godsgeleerdes") en nie theologi ("teoloë") nie. By Abelardus, kort voor die oorgang na die vroeg-skolastiek, tref ons die begrip teologie egter vir die eerste keer aan as verwysend na ’n summa van Christelike leerstellings; of bloot net filosofiese leerstellings wat duidelik Christelik-dogmatiese implikasies inhou, byvoorbeeld leerstellings rondom individualiteit, die persoon van die wese en die wese van die persoon, oftewel, in strenger filosofiese taal, leerstellinge rondom die onderskeid tussen universaliteit en partikulariteit. In sy kommentaar op Paulus se brief aan die Romeine, Expositio in epistolam Pauli ad Romanos, gebruik Abelardus byvoorbeeld gereeld die begrip theologia, soos wanneer hy in die voorwoord van die werk stel dat "die oplossing vir hierdie vrae oorgelaat word aan die eksaminering van wat in my teologie aangetref word". By Albertus Magnus (ca 1200–1280) word die begrip sonder verdere voorbehoude vanaf Abelardus heropgeneem. Albertus gebruik die begrip teologie eerstens wanneer hy Aristoteles in gedagte het: Aristoteles praat immers in sy Metaphysica prontuit van "teologie" en dat die betrokke werk "teologies" is, duidelik so aan die einde van die werk waar hy oor die onbeweegde beweger handel. Albertus vind egter nie net by Aristoteles se gebruik van die begrip teologie aansluiting nie, maar dring daarop aan dat Christelike denkers, wat die "ware God soos in die Skrifte geopenbaar" bestudeer, die begrip teologie behoort te gebruik om hulle studies van filosofiese besinning te onderskei. Rufus van Cornwall (fl 1231–1256), ’n ietwat latere tydgenoot van Albertus,  beperk die begrip egter weer ietwat versigtiger tot die Bybelse tekste self (met ander woorde, iemand soos Paulus is volgens Rufus ’n "teoloog" wat "teologie" bedryf), terwyl die studente van die Bybelse tekste se uitsette nie kan kwalifiseer as "teologie" nie: Enige summa is hoogstens ’n gedeeltelike verklaring of verheldering van iets wat onduidelik is of kan wees vanuit die Bybelse tekste – dus niks meer of anders as net ’n beskeie kommentaar op ’n aspek van die gekanoniseerde tekste nie. In die begin van die 14de eeu in Parys verklaar die Dominikaan Durandus (1270–1334) egter weer dat die begrip teologie ’n "wye en insluitende begrip" is. Wanneer hy retories vra "Is teologie ’n wetenskap?", dui hy aan dat die begrip teologie na nadenke binne die Bybelse tekste self kan verwys (byvoorbeeld, die "teologie van die Prediker" of die "teologie van Jakobus"), na die apologetiese en kategetiese dimensies van dit wat deur die tekste oorgelewer is, sowel as na logiese afleidings van dit wat in die tekste verkondig word. Hierdie insluitende hantering van die begrip teologie, soos deur Durandus verwoord, het in die hoog-skolastiek ook die kenmerkende wyse geword waarop die begrip hanteer sou word, naamlik as ’n wetenskaplike dissipline, onderskeibaar van filosofie, dog aangewese op filosofiese stelreëls (vanuit die trivium), dus logika, grammatika en retoriek.        

Anders as die wisselvallige hantering van die begrip teologie, is die begrip filosofie of philosophia in die Westerse ideegeskiedenis insluitend en gelykmatig hanteer, reeds vanaf Pythagoras, en net so ook binne die Latyns-Christelike Weste van die Middeleeue. Pythagoras wou hom op beroemde wyse nie oorgee aan die pretensies opgesluit in die begrip wysheid nie en het homself beskeie bloot as ’n "student van wysheid", of meer direk vertaal, ’n “liefhebber van wysheid”, verstaan en aangebied. In die Romeinse wêreld het Cicero beroemd na filosofie as die "moeder van die lettere" verwys. Seneca was meer tegnies daaroor en het filosofie volgens die Stoïsyns-Platoniese model in rasionele filosofie (logika), natuurlike filosofie (fisika) en morele filosofie (etiek) ingedeel. ’n Alternatiewe indeling van die filosofiese deeldissiplines was dié van Aristoteles, wat deur Boethius (ca 477–524) vierdelig gedistilleer is as logika, teoretiese filosofie (fisika, wiskunde en "teologie", ’n begrip wat Boethius self vermy het deur eerder na "teologie" as "eerste filosofie" te verwys), praktiese filosofie (etiek, politiek en ekonomie) en poëtiese filosofie. Die Stoïsyns-Platoniese sowel as Aristoteliese model was verdelings van filosofie in ’n streng en tegniese sin van die woord. Alcuin (730–804) sou hierdie tegniese verdelings in die sewe liberale lettere, bestaande uit die drie klassieke lettere, die trivium (logika, grammatika en retoriek) en die vier praktiese lettere, die quadrivium (meetkunde, wiskunde, musiek en astronomie) rubriseer, wat vir eeue daarna nog die standaard kurrikulum vir geleerdheid aan die Karolingiese howe, kloosterskole en katedraalskole, sowel as die Middeleeuse universiteite vanaf die begin van die 12de eeu, sou vorm. Dit is egter presies wat filosofie vir die Middeleeuse denkers tot op hierdie stadium was: geleerdheid in die mees omvattende en insluitende sin van die woord, wat in bogenoemde drie klassieke lettere en vier praktiese lettere, tot uitdrukking gebring is. Filosofie is in die Middeleeue dus enersyds tegnies verstaan, met verwysing na die bronne van die trivium en quadrivium, en andersyds eenvoudig as die inhoud van geadministreerde geleerdheid, wat ’n hermeneutiese, apologetiese en kategetiese voordeel vir die Christelike denkers vanuit die Latynse Weste ingehou het.

Boethius (Fotobron: Wikipedia)

Hierdie verstaan van filosofie, met inbegrip van die toenemende aandrang op die verselfstandiging van teologie vanaf die vroeg-12de eeu by Abelardus, is in die opkomende universiteite van die 12de eeu se studieprogramme geïnkorporeer as ’n onontbeerlike deel van die baccalaureus, in enige van die studierigtings, hetsy by lettere, teologie, regsgeleerdheid, geneeskunde of opvoedkunde. By verre die meerderheid universiteite het trouens ’n baccalaureus in lettere as voorwaarde vir toelating tot en spesialisering by die ander fakulteite gestel, wat beteken het dat nie net filosowe (bedoelende studente wat die magister-graad in lettere behaal het) filosofies geskool was nie, maar dat elke gegradueerde magister, hetsy as regsgeleerde, teoloog, medikus of onderwyser, filosofies grondig onderlê was, in besonder met verwysing na die trivium. By lettere self is die kurrikulum in die 12de eeu stelselmatig uitgebrei om die stroom Aristoteles-vertalings vanuit Arabies na Latyn wat in hierdie tyd beskikbaar geraak het, te inkorporeer. Die ou logika of logica vetus (Porphyreus se Isagoge, sowel as Aristoteles se Categoriae en De Interpretatione, met Boethius se veelvuldige kommentaar daarop) is steeds doseer, met die nuwe logika of logica novus (gebaseer op die 12de-eeuse Latynse vertalings van Aristoteles se Analytica Priora, Analytica Posteriora, Topica en De Sophisticis Elenchis), wat nou die kern van die kurrikulum in logika gevorm het. Dit was egter die beskikbaarstelling in Latynse vertaling van Aristoteles se juis nie-logiese werke in die 12de eeu, wat die onderrig by die fakulteite lettere en teologie ingrypend verander het. Aristoteles se Physica, Metaphysica, De Anima en Nicomachus was nou in Latyn beskikbaar, met grondige Griekse (vanuit die Arabiese vertalings) en Arabiese kommentare daarby. Vir die eerste keer is nagraadse studente by lettere gekonfronteer met ’n "suiwer filosoof", pura et vera. Die beskikbaarstelling van die bykans volledige oorleefde Aristoteles-korpus het die oorgeërfde Christelike lewensbeskouing van die 12de eeu tot in die fondamente daarvan geskud, soveel so dat openbare lesings van hierdie tekste verbied is by feitlik al die universiteite. Eers nadat die Universiteit van Parys hierdie tekste in 1255 deel van die formele kurrikulum vir sowel die baccalaureus- as magister-grade ingestel het, het ander universiteite se lettere-fakulteite begin volg. Van hier af sou lettere-fakulteite feitlik volledig fokus op Aristoteliese filosofie. Van hier af is ’n basiese Aristoteliese struktuur in filosofie gevolg, waarin vyf temas prominent sou vertoon: kosmologie, epistemologie, metafisika, psigologie en etiek (politieke filosofie is in die Middeleeue strykdeur onder laasgenoemde ingedeel). By teologie weer was dit Petrus Lombardus (1095–1160) se vier-volume Sententiae in quatuor IV libris distinctae, wat vir minstens tot die vroeg-16de eeu as die standaardhandboek vir nagraadse studies by alle teologiese fakulteite in Wes-Europa gedien het. Die Sententiae was die mees gedoseerde en gekommentarieerde teologiese teks in die sentrale en latere Middeleeue. Elke nagraadse student in teologie moes sowel blyke van ’n grondige erudisie rondom die teks gee, as in staat wees om self die teks effektief te kon doseer. Daarby is Lombardus se kennislerige posisies in die Sententiae uitgebreid gekommentarieer in die hoog-skolastiek. Die Lombardiese Sententiae val in vier libri uiteen, naamlik die leer aangaande God (of Drie-Eenheidsleer), skeppingsleer, Christologie en sakramentsleer en eskatologie. Dit dui die basiese leergang in teologie in die sentrale en latere Middeleeue aan.

Om jou vraag uiteindelik te kan beantwoord: Die vernaamste temas in Middeleeuse filosofie was in aanloop tot en (meer uitdruklik Aristotelies) vanaf die 12de eeu kosmologie, epistemologie, metafisika, psigologie en etiek, terwyl die teologiese inhoudsopgawe oorwegend bestaan het uit bogenoemde vier afdelings in die Sententiae.

Betreffende die keuse van die nagenoeg 130 meesal ondergekommentarieerde en trouens meerendeels "vergete" filosowe wat jy in jou boek behandel, wat het jou gelei in die keuse van hierdie denkers?

Teen die agtergrond van die pas lang relaas is dit maklik om te antwoord: Ek het denkers wat in een of meer van daardie vyf filosofiese temas ’n onderskeidende bydrae gelewer het en ’n aanduibare (normaalweg geredigeerde) teksspoor nagelaat het, in die boek opgeneem. Hierby moet in ag geneem word dat ’n beduidende aantal magistri in teologie eers ’n magister (’n eietydse doktorsgraad) by lettere verwerf het, voordat hulle na teologie oorbeweeg het – en as sodanig "dubbelgepromoveerd" was in sowel filosofie as teologie. Daar is min denkers wat in die boek aan die woord gestel word wat nie bedrewe was in beide filosofie en teologie nie. Selfs na die vroeg-12de eeu waar begin is om te onderskei tussen filosofie en teologie, was alle Middeleeuse filosowe op die een of ander wyse tog ook maar teoloë. ’n Middeleeuse wêreld sonder God en teologie was ondenkbaar en trouens onbestaanbaar. Daarby kom dan ook die mistici (veral die vroulike denkers), wie se uitsette nie noodwendig met die Aristoteliese temas en skolastiese rubriek ooreengestem het nie.

’n Opvallende aspek van die Latyns-Westerse denkers waaroor jy in jou boek skryf, is dat hulle feitlik sonder uitsondering in kloosters gewoon en gewerk het, wat in skrille kontras staan met die moderne verskynsel van die professionele vakfilosoof aan die sekulêre universiteit. Watter rol dink jy het hierdie kloosteromgewing in die ontwikkeling van die Middeleeuse filosofie gespeel?

Ons sou genuanseerd hieroor moes praat. Ek beskryf die oorgang vanaf die post-Karolingiese (laat 9de tot laat 11de eeue) na die vroeg-skolastiese periode (laat 11de tot die derde dekade van die 13de eeu) met verwysing na die verdieping van die skolastiese metode (as filosofiese merker) en die opkoms van die universiteitswese (as institusionele merker). Die skolastiek sou vanaf die laat 11de eeu, met betrekking tot die verskuiwing van filosofiese arbeid vanaf kloosters en katedraalskole in die post-Karolingiese periode na die opkomende universiteite in die vroeg-skolastiese periode, die bepalende kenmerk van Middeleeuse filosofie tot aan die einde van die 15de eeu, met die aanbreek van die Italiaanse Renaissance in Suid-Europa en die Christelik-humanistiese beweging in Noord-Europa, wees. Middeleeuse filosowe sou vanaf die vroeg-12de eeu toenemend vanuit die jong universiteitswese aan hulle filosofiese arbeid in terme van "professionaliteit" en "loopbane" dink, eerder as "diens" en veral "diens aan teologie” soos wat dit voorheen gesteld was. Waar Middeleeuse filosowe tot op hierdie stadium "gedien" het, hetsy vanuit die keiserlike paleisskole in die Karolingiese periode en vanuit die kloosters en katedraalskole in die post-Karolingiese periode, het hulle nou ’n "beroep" beoefen. Die skolastikus het ongetwyfeld aan homself as ’n professionele eksegeet van die oorgelewerde tekste gedink – en hoewel die meerderheid filosowe steeds aan die een of ander orde verbonde was (in teenstelling met "sekulêre" of orde-onverbonde filosowe), was dit nie meer die orde nie, maar nou die universiteit wat die inhoud van hulle arbeid (in terme van leergange) en die omvang van hulle uitsette (in terme van lesings en publikasies) bepaal het.   

Nietemin het kloosters steeds ’n belangrike rol gespeel vir die denkers vanuit ordes wat kloostergebonde was, oorwegend Benediktyns in oorsprong, onder andere die Cistersiane (byvoorbeeld Bernardus van Clairvaux, 1090–1153), Cluniane (byvoorbeeld Petrus Venerabilis, ca 1092–1156) en Kartusiërs (byvoorbeeld Denis de Leeuwis, 1402–1471; die orde is egter reeds in 1084 deur Bruno van Keulen gestig). Vanaf die

Vroeg-13de eeu was dit egter juis die kloosterongebonde of "mendikaanse" ordes wat in die intellektuele lewe prominent na vore getree het: Veral die Dominikane (Ordo Praedicatorum, "Orde van Predikers" [OP]) en Franciskane (Ordo Fratrum Minorum, "Orde van die beskeie broedergemeenskap" [OFM]) en later ook die Augustiniane (gestig in 1254, Ordo sancti Augustini [OSA]) en Karmeliete (Ordo Fratrum Beatissimae Virginis Mariae de Mone Carmelo [O Carm]), wat almal buite die (op daardie stadium) ekonomies-vooruitstrewende kloosterstrukture gefunksioneer het, van die beginsel van persoonlike eiendomsreg afstand gedoen het, alle persoonlike eiendom ten tye van toetrede tot die orde aan die pouslike patrimonie toevertrou het en vir finansiële ondersteuning en materiële onderhoud van die gemeenskappe waar hulle gedien het, afhanklik was – in ruil vir barmhartigheidswerk in daardie gemeenskappe, veral ten opsigte van siekesorg, armsorg en bejaardesorg. Daar was gedurende die hoog-skolastiek intense en voortslepende konflik tussen die "mendikaanse" ordes en die kloosterordes, veral vermelde Benediktynse sub-ordes – en natuurlik ook tussen die twee mees prominente "mendikaanse" ordes self, die Franciskane en die Dominikane. Hoewel die invloed van die kloosterwese in die latere Middeleeue behoue gebly het, kon dit die wesenlike rol wat kloosteromgewings in veral die post-Karolingiese periode gespeel het, nie ewenaar nie.   

Figure soos die vermelde kloosterorganiseerder Alcuin (730–804) was draers van ’n uiteindelik meer as duisend jaar oue intellektuele hartstog, waarvan navorsing en doseerwerk, vertalings van antieke tekste in oorwegend Latyn, die keurigste kopiërings van antieke en tydgenootlike tekste, die byeenbring en redigering van antieke filosofiese tekste in Grieks en Latyn en veral die bewaring van tekste en intellektuele tradisies midde ontsettende politieke en staatkundige onrus deur Wes- en Suid-Europa, Brittanje en Ierland heen, die vrug was. Kenmerkend van die monnike se intellektuele arbeid was die presisie, deeglikheid en integriteit wat dit gekenmerk het; die vermoë en gewilligheid om filosofies te herkonseptualiseer en die vergange met erns te bejeën. Die monnik, van welke orde ook al, was ’n formidabele bewaarder van wat dit ook al was wat aan hom toevertrou is. ’n Mens hoef ’n goeie inleidingswerk in Middeleeuse filosofie selfs net bolangs te lees om onder die indruk te kom van die rol wat die monnikewese gespeel het in die bewaring en verdieping van begrippe soos waarheid, deug, orde en tradisie. Dit is nie sonder rede nie dat daar na die bestendigende monikkeskole van die negende en 10de eeue juis as "ordes" verwys is. Hulle het orde geskep en ’n sin vir orde bevorder. Die Westerse filosofiegeskiedenis is myns insiens sonder die monikketeenwoordigheid en met die kloosters se unieke klem op sensus communis, onvoorstelbaar. Ek vind die kloosterwese trouens die mees sentrale aspek van die ontwikkeling van die Westerse geestesgeskiedenis sedert die val van Rome. Ek dink nie daar sou sprake kon wees van die skepping, bewaring en ontwikkeling van ’n Westerse samelewingsorde as dit nie vir die kloosterwese was nie.

 Nog ’n opvallende aspek van jou boek is die ruimte wat jy vir vroulike, Joodse en Islamitiese filosowe maak. Wat was jou oorwegings met dié insluitings?

Ons het reeds oor my "een-register" insluiting van die Middeleeuse Arabiese denkers in die boek gesels en hoef miskien nie nou verder daaroor te praat nie. Ek kan dalk net byvoeg dat die Middeleeuse Joodse denkers, op slegs ’n paar uitsonderinge na, nie in Hebreeus nie, maar in Arabies en later natuurlik ook in Latyn geskryf het. Dit is juis op grond daarvan dat Middeleeuse Joodse filosofie in die navorsing grootliks onder die groter rubriek van "Arabiese filosofie" hanteer word.    

Die insluiting van vroulike Middeleeuse denkers in die werk is egter uniek: Selfs nie ’n andersins buitengewoon inklusiewe redaksiewerk soos vermelde Gracia en Noone-uitgawe of Lagerlund-ensiklopedie sluit die vroulike denkers in of konsekwent in nie. Na my beste wete is hierdie die eerste inleidingswerk deur ’n enkelskrywer waar die ses vroulike denkers vanuit die Middeleeue wat ’n grondige teksspoor nagelaat het, onproblematies langs die manlike denkers ingesluit word. Die ses denkers is Héloïse d'Argenteuil (ca 1100–1164), Hildegard von Bingen (1098–1179), Mechtild von Magdeburg (ca 1207–ca 1282), Hadewijch van Antwerpen (fl 1240), Marguerite Porete (ca 1250–1310) en Katharina van Siena (1347–1380). Tullia van Aragona (ca 1510–1556) en Moderate Fonte (1555–1592) se werk behoort na my periodisering onder Renaissance filosofie te sorteer en val dus buite die skopus, datering en interne periodisering van die boek. Daar is wel twee ander indrukwekkende vroulike denkers wat binne my periodisering val, te wete Juliana van Norwich (1342–1416) en Birgitta Birgersdotter (1302/3–1373), wat ek nie in die boek ingesluit het nie – Juliana se uitset was beperk tot teologie en Birgitta was eerder ’n politieke aktivis as ’n filosoof – maar ek het intussen wel ’n geakkrediteerde artikel oor elkeen van die twee vroue se werk aangebied.[18]  

Birgitta Birgersdotter (Fotobron: Wikipedia)

Die wesenlike vraag is natuurlik waarom hierdie ses vroulike denkers wat ek wel in die boek ingesluit het, so opvallend afwesig is in hoofstroom inleidingswerke tot Middeleeuse filosofie? Is dit omdat hulle mistieke denkers was wat nie skolastiese werke aangebied het nie, of omdat hulle vroue was, of omdat hulle feitlik sonder uitsondering nie in Latyn nie, maar in die volkstale (oorwegend Frans, Middelnederlands, Middelhoogduits en Italiaans) geskryf het? Al drie oorwegings is waarskynlik van toepassing. Selfs die manlike mistieke denkers (soos die vader van die Nederlandse mistiek, Jan van Ruusbroec [1293–1381] en vermelde Kartusiër uit Roermond, Denis de Leeuwis [1402–1471]) word grootliks in inleidingswerke verbygaan omdat hulle nie gekonformeer het aan skolastiese voorskriftelikheid nie. Voorts is die spesialisnavorsing wat die Middeleeuse vroulike denkers juis vanuit daardie volkstale ontleed betreklik jonk en het eers vanaf die 1980's werklik momentum gekry. Daarby kan gevoeg word dat feministiese lesings oor die afgelope drie dekades ’n daadwerklike bydrae gelewer het om die interpretasie-moontlikhede van gemarginaliseerde Middeleeuse tekste (geskryf nie net deur vroue nie, maar alle slagoffers van die meedoënlose patriargie in die Middeleeue – juis ook mans) te verruim en te bestendig. Ek maak in hierdie opsig graag gebruik van die lesings van onder andere (wyle) Grace Jantzen, Mary Ellen Waithe en Cornelia Wolfskeel. By al my waardering vir genuanseerde feministiese resepsies van Middeleeuse filosofie, is ek terselfdertyd wel lugtig vir ’n soms karikatuuragtige aanbod van die vroulike Middeleeuse skrywers, juis wanneer hulle anachronisties as "proto-feministies" aangebied word – synde weerstandige dissidente wat van "buite af" ’n vrouehatende, patriargale kerk met fierheid aangedurf het. Selfs die skryfhandeling as sodanig (bloot omdat dit ’n vrou is wat skryf) word dikwels by voorbaat as ’n daad van versetlikheid aangebied, nog voordat die inhoud van die betrokke teks ondersoek is. Anders gestel, geslagtelikheid word voor tekstualiteit gestel, om daarmee ’n ideologiese voorskriftelikheid ten opsigte van die eksegese van hierdie tekste te impliseer. Die probleem is dat hierdie soort lesings tot so ’n mate op die geslag van die betrokke denker fokus, dat dit tot net so ’n mate voorskriftelik en verdagend optree as die patriargale tekste en strukture waarteen dit in die eerste instansie gerig is. Immers, indien ’n vroulike denker as "buitengewoon" en "radikaal" aangebied word bloot omdat sy ’n vrou is, word ander aspekte van die betrokke denker se geslagtelikheid (byvoorbeeld haar seksualiteit) onderspeel. Ek voel my egter bevoorreg om bogenoemde ses vroue by die werk te kon insluit, om daarmee ook die onnodig rigiede onderskeid tussen skolastiek en mistiek in Middeleeuse filosofie krities te kon teengaan. 

Wanneer daar vandag na die Middeleeue verwys word, is dit amper sonder uitsondering na die “donker Middeleeue” Wanneer daar vandag na die Middeleeue verwys word, is dit amper sonder uitsondering na die "donker Middeleeue" (byvoorbeeld deur die geweldpleging tydens die Spaanse Inkwisisie van die sestiende eeu sommer goedskiks en ongegrond as "Middeleeus" voor te hou). Kennelik sal jy skepties oor so 'n taksering van die Middeleeue staan, wat die vraag laat ontstaan wat jy oordeel Middeleeuse filosofie vir ons tyd te sê het.. Kennelik sal jy skepties oor so ’n taksering van die Middeleeue staan, wat die vraag laat ontstaan wat jy oordeel Middeleeuse filosofie vir ons tyd te sê het.

’n Kunswerk uit die sogenaamde Donker Era (Fotobron: Wikipedia)

Die historiese vooroordele teenoor die Middeleeue, synde die "altyd Donker tyd" en "in die middel", is natuurlik wydgaande en diep in die Westerse psige gevestig. Ek weet nie of die vooroordele omkeerbaar is nie, maar dit is die moeite werd om te probeer. Uiteraard het Middeleeuse skrywers nie aan hulleself as "in die middel" van enige iets of enige era gedink nie. Die woord Middeleeus is bloot ’n arbitrêre begrip wat deur humaniste vanuit die Italiaanse Renaissance geskep is om ’n sogenaamde "donker", "onbeskaafde" era tussen die twee "beskaafde", "verligte" eras van die antieke en vermelde Renaissance aan te dui ‒ en die begrip Donker Era of Dark Ages is trouens eers vanaf die 19de eeu as ’n gewilde (en uiteraard pejoratiewe) naam vir die Middeleeue gebruik. Tog bly hierdie sogenaamde "Donker Era", ten spyte van die oënskynlike afwesigheid van "outentieke filosowe" in die moderne sin, die grootlikse afwesigheid van filosofiese werke in gesekulariseerde sin, asook daardie humanistiese vooroordele (maar hoe donker het die "Verligting" nie juis self geword nie?), die langste en ook een van die rykste periodes van filosofiese ontwikkeling in die Weste. Trouens, in terme van volume, konseptuele uitsette, navorsingsintensiteit en gesofistikeerdheid, staan die skolastiese hoogbloei van die 13de en 14de eeue nie terug vir die goue era van Griekse filosofie vanaf die vierde eeu VAJ nie. Wat Middeleeuse filosofie vir ons eie tyd "te sê het" sou myns insiens eerstens moes aankom op die verrekening van hierdie vooroordele – en juis soveel ander vooroordele vanuit instrumentele rasionaliteit en die instrumentele onderwerping van die inwendige en uitwendige natuur wat moderniteit so bepalend kenmerk. Middeleeuse filosofie – wie dit ook al met afstandname of minstens met ’n hermeneutiese verrekening van hierdie vooroordele herwaardeer – werk op die heel minste temperend op die hovaardige filosofiese selfbegrip van laat-moderniteit in.     

Ek vind die gearriveerde selfbegrip van juis laat-moderniteit saam met denkers soos Foucault, Adorno en Stiegler onbegryplik. Was die 20ste eeu enigsins minder donker, gevaarlik en onvoorspelbaar as selfs die donkerste periode in die Middeleeuse geskiedenis, tussen ongeveer 530 en 740? Ek beweer natuurlik nie dat die 20ste eeu noodwendig meer gewelddadig as hierdie of enige ander vorige era was nie, maar dit was wel soveel gevaarliker pretensieus. Rasionaliteit, as die aweregse setel van moderniteit, is byvoorbeeld nooit voorheen só omvangryk en instrumenteel teen die mensheid ingespan as in hoog-moderniteit en laat-moderniteit nie. Die magsrituele van moderne sisteemdenke het die dodelike vermoë gehad om die potensiaal vir bevryding en vooruitgang wat wel nog vanuit die "Verligting" aanwesig was, nie net in bedenklike lig te stel nie, maar substansieel op te skort: terwyl onder andere die handelingstegnologie aansprake op moderne "vooruitgang" toenemend vergroot het, is die individu stelselmatig afgewentel tot ’n verbeeldinglose, oorheersde en self oordeellose apparaat van verwoesting en lyding. Miskien werp Middeleeuse filosofie, synde juis as "donker" deur donker moderniteit verklaar, opnuut lig op die intrinsieke skynkarakter van vooruitgang en die baie skynbeloftes aangaande vooruitgang – miskien dra Middeleeuse filosofie by om moderniteit te ontmasker as ’n diep leuenagtige verskynsel. Maar dan dra Middeleeuse filosofie se aandrang op konseptuele helderheid en kenmerkende sin vir ’n geïntegreerde filosofiese gemeenskapstigting of sensus communis ook by om die "postmoderne" teenwerping op moderniteit as self diep problematies uit te wys. Om die minste daarvan te sê: Die Middeleeue was nie uitsluitlik donker, duister of swart nie. Die Middeleeue was ook wit, lig en groen, in haar eie selfonderbrekende ondersoek na waaragtige kennis – juis in terme van haar beskeie, uitdruklik nie-moderne selfbegrip.  

Laastens en in aansluiting by jou laaste opmerkings, tydens ’n openbare lesing in 2018 het jy in antwoord op ’n vraag oor of jy dink ons kan vandag na hierdie meer geïntegreerde Middeleeuse wêreld terugkeer, aangedui dat dit nie soseer vir jou oor ’n terugkeer na die Middeleeue gaan nie, as oor ’n herwinning van dit wat met die oorgang van laat-Middeleeuse filosofie na moderniteit verlore gegaan het. Wat is volgens jou dit wat spesifiek vandag herwin behoort te word, waarom behoort dit herwin te word, en watter moontlikhede bied so ’n herwinning vir die soeke na ’n sogenaamde alternatiewe moderniteit, eerder as ’n post- of hiper-moderniteit?

Ja, ons kan wel nie teruggaan nie, maar ons kan terugbring. So ’n "terugbring" of "herwinning" lê miskien aan die hart van wat ek probeer doen en in die tyd wat vir my oor is, sal wil bly doen. Geïntegreerde filosofiese gemeenskapstigting of sensus communis is hiertoe vir my die sleutel. Ek wil nie hier[19] op ’n lang en tegniese uiteensetting van die grammatikale en epistemologiese ontwikkeling van die begrip sensus communis ingaan nie, maar dit kom daarop neer dat ek in Middeleeuse filosofie die moontlikheid vind om konseptueel helder, verstaanbaar en deursigtig binne die kulturele, linguistiese en geografiese raamwerk van ’n bepaalde gemeenskap te kan praat. Die begrip sensus communis is in Middeleeuse gedaante formeel afkomstig van die Franciskane in die 14de eeu se heroorweging van die Romeinse en Griekse oorspronge daarvan, oorgeneem deur Vico in die Jesuïete se pedagogiek in die laat 17de en vroeg-18de eeu, en in die latere 18de eeu uiteindelik deur enkele Engelse empiriste heropgeneem, op grond waarvan sensus communis tegelyk as common sense en as community sense aangebied is. Dit sou volgens hierdie ontwikkeling, na my herinterpretasie daarvan, moontlik kon wees om oor die waarheid, geregtigheid, skoonheid, vryheid en so meer van ’n bepaalde saak onproblematies en verstaanbaar binne ’n (altyd reeds-bemiddelde) partikuliere konteks te kan praat en onproblematies verstaan te kan word. Dit gaan dus nie hier oor ’n universaliserende oefening – die waarheid, die geregtigheid en so meer – nie, maar ’n meer beskeie, ingebedde, geïntegreerde en uitdruklik partikuliere waarheidsbegrip.   

Selfs binne ’n partikuliere konteks beteken sensus communis egter nie dat byvoorbeeld die "waarheid" aangaande ’n bepaalde saak onproblematies kommunikeerbaar moet wees of selfs geredelik of gangbaar kommunikeerbaar sal wees nie. As gesunde Menschenverstand of le bon sens beteken sensus communis, synde sowel "voorhande kennis" as "gemeenskapskennis", dat daar sekere dinge is of kan wees wat so helder en duidelik – dus "onbemiddeld", in die sin dat ’n gemeenskap as ’n partikulariteit altyd self reeds bemiddeld is – in selfaanbod is dat dit onmiskenbaar "is wat dit is" en as sodanig aanvaar en geken word vanuit daardie gelokaliseerde partikulariteit (of ’n spesifieke, historiese, linguistiese en geografiese gemeenskap); of juis nie sodanig geken word of kan word nie en afgewys moet word as onverstaanbaar, dubbelsinnig, verdag of leuenagtig. Daar is dus sekere dinge wat in partikuliere sin nie kategories waar is nie, maar juis onkategories waar is – gebeure wat die subjek-in-gemeenskap oorkom of oorval as waar, reg en goed. Partikulariteit impliseer natuurlik nie homogeniteit nie: Ek verstaan goed dat daar steeds konseptuele verskille en kommunikatiewe probleme binne ’n bepaalde partikulariteit kan wees. Daardie intrapartikuliere verskille is hermeneuties egter oorbrugbaar, in terme van wat Duns Skotus (ca 1267–1308) "modaliteite" of "skakerings van kennis" genoem het. Ek het egter nie hoop dat verskille tussen partikulariteite, of interpartikuliere kwessies, hermeneuties anders aangespreek sou kon word as deur ’n wedersydse strewe na ’n minimum konsensus nie.   

Ek vind sensus communis as ’n lewensbeskoulike stemming in die diep-gesakramentaliseerde werklikheidsbeskouing vanuit geheel die Middeleeue (en nie bloot vanaf die 14de eeu nie), waar alles reeds en by voorbaat as tekens van ’n hoër orde geag is. Daarom was konseptuele helderheid en deursigtige filosofiese kommunikasie deur geheel die Middeleeue nie net moontlik nie, maar noodsaaklik. Sou dit dan steeds moontlik wees om in eietydse filosofie oor bepaalde sake, vanuit ’n partikuliere en geïntegreerde gemeenskap se verstaan daarvan, met ’n hoë mate van sekerheid – verum et certum – te kan praat; en daarby die ideale van eu legein en parrhesia te voeg, om die goeie dinge goed, opbouend en sonder voorbehoud te kan sê? Kan ons nog reguit praat in filosofie met die verwagting dat ons minstens in die eie gemeenskap verstaan sal word? En andersom: kan ook interpartikuliere konsensusstigting, dus tussen partikulariteite en gemeenskappe, hiertoe ’n bydrae lewer? Kan sensus communis as genuanseerde kommunikatiewe handeling, gebaseer op ’n anti-skeptiese benadering van gesonde oordeel, nog filosofies plek in die 21ste eeu inneem? Kan die Aristotelies-skolastiese tradisie se bydrae tot die ontwikkeling van sensus communis, waarmee enersyds die sintuie se vermoë om kennis te produseer binne die raamwerk van die fakulteit van die aktiewe intellek, nog vertrou word; en andersyds, kan die maatskaplike georiënteerdheid van sensus communis nog eerbiedig word in ’n wêreld waar weinig van die openbare sfeer oorgebly het?    

Natuurlik sou eietydse pleitbesorgers van post-strukturalisme, en wat dan ook al oorgebly het van die sogenaamde "postmoderne", ernstig op hierdie strewe na konseptuele helderheid en ’n genuanseerde kommunikatiewe handeling in die herwinning van aspekte van ’n Middeleeuse werklikheidsbegrip – sensus communis – teenwerp. Ek was lank genoeg deel van die poststrukturalistiese geselskap om veelvuldige kritiek daarvanuit te kan antisipeer en moes dit trouens al dikwels aanhoor: Daarvolgens sou my gedagtes ’n onversteurde kontinuïteitsopvatting en strewe na ’n nuwe individualiserende mite verraai. Moontlik dui die intense, bykans erotiese liefde vir Middeleeuse kloostergangers in my werk, ook buite-om hierdie boek, op ’n meer grondliggende begeerte, naamlik na ’n verenigde, gefikseerde en gesentraliseerde Self – en sou my werk niks anders verteenwoordig nie as ’n vryval terug in die hoog-moderne. My interpretasie en toepassing van sensus communis sou hiervolgens dui op ’n diepe aangewesenheid op dieptestrukture (betekenis en ’n onproblematiese semiotiek waar weinig spanning tussen verwyser en verwysde bestaan), terwyl ek oppervlaktestrukture (verskynings en die [digitale] laagstellings van beelde op beelde) duidelik wantrou. Ek wys die "hiperreële" oortuiging dat niks onbemiddeld waar kan wees of waar kan wees buite-om beelde en verskynings nie, duidelik af en plaas my daarmee buite die sfeer van ernsname deur "eietydse filosowe" (eintlik literatuurwetenskaplikes, maar nietemin). Alhoewel my herwaardering van Middeleeuse filosofie op Foucault se spoor uitdruklik nie-teleologies en selfs anti-teleologies aangebied word, word ’n histories-liniêre geskiedsbegrip na bewering daarin sigbaar. Nie net vertrou ek die Middeleeuse metanarratiewe van "opeenvolging" en die gesag van tradisie nie – ek is uitgesproke daaroor dat die oorlewing van die Westerse selfbegrip absoluut aangewese is daarop. Daar sou natuurlik veel meer afwysings kan wees van iemand wat klaarblyklik "konstant uit sy konteks probeer ontsnap" en ’n "neurotiese apokaliptiek" bedryf, soos ’n ongewaardeerde medeganger ’n keer na afloop van ’n konferensievoordrag van my beweer het.

Ek voel my nie gedronge om daarop te reageer nie. Die feit dat ek ’n standpunt het, beteken nie dat ek ’n antwoord of veral die antwoord het nie. Ek het wel veel teenvrae. Wat bly oor as daar niks oor is nie? Is ’n byeenbring van tradisies, ouer en jonger, nie een moontlikheid om inderdaad te "ontsnap" van die afgrond waarvoor laat 20ste eeuse kontinentale filosofie ons gebring het nie? Op wat anders as die tradisie kan ons ons beroep wanneer dit, minstens vir mense wat nog met ’n sober filosofiepraktyk besig wil wees, duidelik geword het dat die kritiek van die moderne besig is om sowel moderniteit as die veronderstelde plaasvervanger daarvan te faal – ongeag of dit as "postmoderniteit", ’n "getransformeerde moderniteit" of ’n "hiper-moderniteit" beskryf word? Wat anders as die heroorweging van die gemarginaliseerde, versweë en vergete momente in die geskiedenis bly vir ons oor binne ’n konteks waar slegs tegniek en die digitalisering van die geleefde lewe op die laaste woord (en gesag) aandring? Wat anders as die ideegeskiedenis – ek bedoel eintlik maar die metafisiese tradisie ‒ bly vir ons oor wanneer dit duidelik geword het dat ons voortdurend te min sal hê om daardie tradisie finaal agter te laat?

Eindnotas:

[1] Johann Rossouw is professor in filosofie en departementshoof van die Departement Filosofie, Fakulteit Geesteswetenskappe, Universiteit van die Vrystaat.

[2] Johann Beukes is ereprofessor in filosofie aan die Universiteit van die Vrystaat en verbonde aan die Sentrum vir die Geskiedenis van Filosofie en Wetenskap (CHPS), Fakulteit Filosofie, Teologie en Religiewetenskappe, Radboud Universiteit Nijmegen, Nederland. Vir 'n lys van Beukes se mees onlangse publikasies, sien https://johannbeukes.academia.edu/.

[3] Beukes, J. 2020. Middeleeuse filosofie. Volumes I & II. Pretoria: Akademia. ISBN: 978-0-620-84355-3 & 978-0-620-87894-4.

[4] Vir ’n uitgebreide verantwoording, veral ten opsigte van sy afwysing van die "konseptuele verarming" in poststrukturalisme, sien Beukes, J. 2020. Sensus communis: The relevance of Medieval philosophy in the 21st century. HTS Teologiese Studies/Theological Studies 76(4), Art. #5937, 1–13. https://doi.org/10.4102/hts.v76i4.5937

[5] D'Argenteuil, Héloïse. 1855. Epistola II, Patrologia Latina 178. Migne, J-P (red.), p.153, http://patristica.net/latina; sien ook Cicero, M.T. 1914. De amicitia, IX. Londen: Loeb Classical Library, p. xiv.

[6] Bernard Stiegler (1952–2020) is in die week waarin hierdie onderhoud gevoer is, op 5 Augustus 2020 oorlede. Hierdie grootse modernkritiese denker en voorloper tot hedendaagse tegniekfilosofie se heengaan word diep betreur.

[7] Sien Beukes, J., 2020, Foucault in Iran, 1978–1979. Kaapstad: AOSIS. ISBN: 978-1-928523-28-4.

[8] Sien Beukes, J., 2019. "Foucault se sodomiet": Damianus se Liber gomorrhianus (1049) heropen. HTS Teologiese Studies/Theological Studies 75(4), Art. #5216, 1–13. https://doi.org/10.4102/hts.v75i4.5216; en

Beukes, J. 2020. Intervroulike seksualiteit in die latere Middeleeue: ’n Ideëhistoriese oorsig. Verbum et Ecclesia 41(1), Art. #2074, 1–13. https://doi.org/10.4102/ve.v41i1.2074.

Vir sy hantering van die polemiek rondom die "vierde volume" van Foucault se seksualiteitsgeskiedenis, spesifiek in kritiese aansluiting by die Nederlandse resepsie, sien Beukes, J. 2020. Histoire de la sexualité '4' (Les aveux de la chair): Aantekeninge vanuit die Nederlandse Foucault-navorsing. Verbum et Ecclesia 41(1), Art. #2078, 1–14. https://doi.org/10.4102/ve.v41i1.2078

[9] "I am sure I am not able to provide people with what they expect. I never behave like a prophet – my books don't tell people what to do. And people often reproach me for not doing so (and maybe they are right), and at the same time they reproach me for behaving like a prophet" (Foucault, M. 1991. Remarks on Marx: Conversations with Duccio Trombadori. New York: Semiotext[e], p.11).

[10] Sien byvoorbeeld die Nederlandse tegniekfilosoof Steven Dorrestijn se kritiese toepassing van die "prosesse van subjektivering" in die (sogenaamde) "vierde volume" van Foucault se seksualiteitsgeskiedenis, in Beukes, J. 2020. Histoire de la sexualité '4' (Les aveux de la chair): Aantekeninge vanuit die Nederlandse Foucault-navorsing. Verbum et Ecclesia 41(1), Art. #2078, 11–12. https://doi.org/10.4102/ve.v41i1.2078. Juis as tegniekfilosoof plaas Dorrestijn klem op die implikasies van Foucault se kritiese benadering tot die verhouding tussen bekentenis en dissipline vir ’n meer algemene fokus op die bestuur van en vormgewing aan onsself en ander. Hoe sou hierdie meer algemene fokus gebruik kan word om magsuitoefening in die eietydse samelewing te ontmasker met betrekking tot die invloed van die gekonfigureerde magsrites van tegnologie? Die wending na selfpraktyke in Les aveux de la chair dui vir Dorrestijn op ’n sensitisering vir die invloed van tegniek op mense se selfbegrip, maar ook om "bewustelik en krities om te gaan met die wyses waarop tegniek aan die subjek vorm gee", met ander woorde, wat die verhouding tussen tegniek en subjektivering is. Is ons egter nog in staat om hierdie "invloede van tegniek" te herken? Vir Dorrestijn is dit die wesenlike vraag binne die konteks van die "verleidinge van aanlyn bemarking en beïnvloeding via sosiale media" en stel dit Les aveux de la chair in ons midde as ’n aktuele werk, wat vrae oproep soos "Hoe moet ons die vrye wil (in die 21ste eeu) nog verstaan?" en "Op watter maniere word ons wil deur tegniek afgelei en verlei?".

[11] Goosen, D.P. 2017. Die metafisiese tradisie vandag. ’n Interpretasie van Eric D. Perl. Litnet Akademies 14(3), 557–91 (die aanhaling vanuit p.584).

[12] "It would hardly be a waste of time if sometimes even the most advanced students in the cognitive sciences were to pay a visit to their ancestors. It is frequently claimed in philosophy departments that, in order to be a philosopher, it is not necessary to revisit the history of philosophy. It is like the claim that one can become a painter without having ever seen a single work by Raphael, or a writer without having ever read the classics. Such things are theoretically possible; but the 'primitive' artist, condemned to an ignorance of the past, is always recognizable as such and rightly labelled as naïf. It is only when we consider past projects revealed as utopian or as failures that we are apprised of the dangers and possibilities for failure for our allegedly new projects. The study of the deeds of our ancestors is thus more than an antiquarian pastime; it is an immunological precaution" (Eco, U. 1997. The Search for the Perfect Language. Oxford, Blackwell: p.5).

[13] Sien Beukes, J. 2018. Die Arabiese trajek in die Karolingiese periode in Middeleeuse filosofie. Litnet Akademies 15(3), 502–64, veral 539–40. https://www.litnet.co.za/wp-content/uploads/2018/12/LitNet_Akademies_15-3_Beukes_502-564.pdf;

Beukes, J., 2018. Die Arabiese trajek in die post-Karolingiese periode in Middeleeuse filosofie. Litnet Akademies 15(3), 565–626, veral 601. https://www.litnet.co.za/wp-content/uploads/2018/12/LitNet_Akademies_15-3_Beukes_565-626.pdf

[14] Gracia, J.J.E. en T.B. Noone (reds.). 2006. A companion to philosophy in the Middle Ages. Oxford: Blackwell.

[15] Hyman, A., J.J. Walsh en T. Williams (reds.). 2010. Philosophy in the Middle Ages: The Christian, Islamic and Jewish traditions. Indianapolis: Hackett.

[16] Lagerlund, H. (red.). 2011. Encyclopedia of Medieval philosophy. Philosophy between 500 and 1500. Londen: Springer.

[17] Duvenage, P. 2016. Afrikaanse filosofie. Perspektiewe en dialoë. Bloemfontein: Sun Media. Sien ook Johann Rossouw se boekbespreking: https://www.litnet.co.za/litnet-akademies-resensie-essay-afrikaanse-filosofie-perspektiewe-en-dialoe-deur-pieter-duvenage/

[18] Sien Beukes, J. 2020. Juliana van Norwich (1342–ca.1416) as post-skolastiese teoloog. HTS Teologiese Studies/Theological Studies 76(4), Art. #6001. (In publikasie); en

Beukes, J., 2020. Die politieke aktivisme van Birgitta Birgersdotter (1302/3–1373). Verbum et Ecclesia 42(1), Art. #2134. (In publikasie).

[19] Sien weer Beukes, J. 2020. Sensus communis: The relevance of Medieval philosophy in the 21st century. HTS Teologiese Studies/Theological Studies 76(4), Art. #5937, 1–13; veral pp. 10–12. https://doi.org/10.4102/hts.v76i4.5937

The post <em>Middeleeuse filosofie</em>: ’n onderhoud met Johann Beukes appeared first on LitNet.

Viewing all 22066 articles
Browse latest View live