
Fotobron: Unsplash
Dit is een van die grootste ironieë dat die regering tydens ’n vernietigende pandemie soos COVID-19 juis nou besluit het dat ’n basiese inkomste toelaag (BIG) vir miljoene honger arm mense nie bekostigbaar is nie.
Dit terwyl Lindiwe Zulu, minister van maatskaplike ontwikkeling, uit die bloute aangekondig het ’n nuwe toelae is “terug op die tafel” en sal “na Oktober” uitbetaal word.
Volgens berigte het die nasionale tesourie ook niks daarvan geweet nie. Die minister het glo nie ’n mandaat om ’n BIG aan te kondig soos sy reeds gedoen het nie.
Met die vernietigendende uitwerking van COVID-19 op werkloosheid en die sluiting van veral klein-, middelslag- en mikro-ondernemings (KMMO’s), sou dit heel veilig wees om te argumenteer dat ’n BIG presies is wat Suid-Afrika nou nodig het.
’n BIG gaan die land glo R200 miljard per jaar kos, maar tans het ons nie ’n enkele sent daarvoor begroot nie. Die Rapport-joernalis, Jan de Lange, sê tereg, “selfs al moet ons dit gaan leen, gaan dit ’n goeie idee wees. Dis geld wat uiters sorgvuldig en produktief bestee (moet) word. Dit sal ’n kragtige stimulus vir ons wankelende ekonomie wees.”
COVID-19 vra menslike en ekonomiese opofferings, maar waar is die regering se opofferings om te sorg dat diegene wat ’n werk of ’n KMMO verloor het, ten minste kos op hul tafel het?
Daar is tasbare bewyse dat staatsdepartemente soos maatskaplike ontwikkeling en arbeid en werkskepping in hul pligte vaal om hul werk te doen om weerlose, arm mense teen hongerte te beskerm.
Meer as die helfte van die ongeveer 3 miljoen Suid-Afrikaners wat reeds hul werk verloor het, wag nog op die werkloosheidsversekeringsfonds (WVF) om uit te betaal.
’n Navorsingsverslag van die Universiteit van Kaapstad het uitgewys hoe Zulu se departement hul plig versuim het om die spesiale COVID-19-toelae van R350 se uitbetaling vir ten minste vier weke vertraag het. Volgens dié verslag was dit alles voorkombaar.
Miljoene arm mense wat kosnood ervaar wag nog op dié toelae, dit terwyl maatskaplike ontwikkeling aangekondig het dat geen uitbetalings terugwerkend gedoen gaan word nie.
Dit beteken as jy in Mei aansoek gedoen het, maar eers in Augustus uitbetaling kry, gaan jy nie vir Mei, Junie en Julie betaling ontvang nie. Dit is totaal onregverdig teenoor mense wat niks het om te eet nie.
Verder word dié spesiale toelae net tussen Mei en Oktober uitbetaal, het die regering herhaaldelik al gesê.
Kom ons hoop politieke druk neem toe – veral uit die geledere van die linksgesinde vakbonde vir wie die regering geneig is om die knie voor te buig – wat die regering sal dwing om die toelae te verleng.
Die regering moes egter al in 2000 ’n BIG ingestel het omdat Suid-Afrika ekonomies gesond was en ’n relatiewe ryk land is. Die weiering van die ANC om werklike hulp aan arm en minderbevoorregte mense te verskaf, is ’n voorsetting van dié organisasie se mislukte makro-ekonomiese filosofie wat sedert 1996 geld, toe dié organisasie die progressiewe Heropbou- en Ontwikkelingsprogram (HOP) met die konserwatiewe GEAR (Groei, Indiensneming en Herverdeling) vervang het.
GEAR, of te wel fiskale konserwatisme deur die ANC-regering, veral die vennootskap tussen oudpres Thabo Mbeki, Trevor Manuel (toe minister van finansies) en Tito Mboweni (toe president van die Reserwe Bank) tussen 2003 en 2008, het die ekonomie gemiddeld met 5% per jaar laat groei.
Die begrotingsurplusse van dié ekonomiese bloeitydperk het ons wel goed voorberei en beskerm teen die wêreld ekonomiese inploffing van 2008, wat gevolg het na die ineenstorting van die beleggingsfirma, Lehman Brothers, in Amerika.
Manuel was egter te konserwatief (of miskien is suinig die regte woord) om die lewensomstandighede van arm Suid-Afrikaners te verander. Die genoemde begrotingsurplusse is nooit vir infrastruktuurontwikkelingsprojekte of gratis tersiêre onderrig (soos in die vorm van die huidige NSFAS) gebruik nie, maar liewer vermors op die Uitgebreide Openbare Werke-program (UOWP) wat in 2004 in die lewe geroep is.
Die UOWP was bedoel as ’n intervensieprogram om massiewe ongeskoolde en arbeidsintensiewe werksgeleenthede te skep, maar kon min of geensins geskoolde werksgeleenthede vir ’n moderne ekonomie skep nie. Dit is reeds hier waar die probleem lê, omdat die UOWP geensins aan die uitdagings en vereistes van globalisering en die vierde nywerheidsrewolusie voldoen nie.
Die globale moderne ekonomie vereis geskoolde arbeid. Ons ongeskoolde arbeid hier in Suid-Afrika kan ongelukkig nie internasionaal meeding nie.
Verder is die begrotingsurplusse tussen 2003 en 2008 nooit gebruik om die lewensgehalte van die armes te verbeter of om ’n BIG in te stel nie, maar dit is liewer gespaar vir die Zumba-bewind. Soos ons weet is die land leeggesteel deur staatskaping en korrupsie tydens die “verlore nege jare”.
Soos Suid-Afrika in die 2000’s ryker geword het, het die regering veral na die wêreld ekonomiese inploffing van 2008 beleggings in munisipale infrastruktuur verdubbel. Met ander woorde, in ’n bodemlose put gegooi tot so mate dat ons skuldvlakke tot 52% van die Bruto Binnelandse Produk (BBP) gespring het.
Dié onbedoelde gevolge van verhoogde investering in munisipale infrastruktuur kon verhoed gewees het as kundiges soos ingenieurs, argitekte, stadsbeplanners en projekbestuurders eers aangestel is om te verseker die nodige kundigheid is in plek. Meer moes ook gedoen gewees het om korrupsie op munisipale vlak te bekamp.
Die ander probleem was die uitbreiding van die regering se salarisrekening op al drie regeringsvlakke. Die bedoeling kort na die 2008 wêreld ekonomiese krisis was goed, omdat die staat werk wou skep vir diegene wat hul werk verloor het, maar dit moes net vir ’n bepaalde tydperk gegeld het. Op langtermyn is dit nie volhoubaar nie en nou sit ons met ’n massiewe probleem van ’n té groot salarisrekening vir staatsamptenare wat die land in ’n geldkrisis en ook arbeidsontrus kan dompel.
Ook het Pravin Gordhan, wat in 2009 minister van finansies onder Jacob Zuma geword het, begin om groot bedrae geld op Eskom en SAL te bestee. Volgens kommentators is Gordhan se spandabelrigheid in ooreenstemming met sy ideologiese uitgangspunte dat ’n regering alle probleme moet oplos deur te spandeer. As dit so is, dan moet ons seker verstaan hoekom SAL na COVID-19 gaan voortbestaan onder Gordhan as minister van openbare ondernemings.
Die ANC se ander twee makro-ekonomiese beleidstukke naamlik ASGISA (Bespoedigde en Gedeelde Groei Inisiatief vir Suid-Afrika) en die Nasionale Ontwikkelingsplan (NOP) was en is ook ’n mislukking. Oor die NOP het Mbeki op ’n keer aan die hand gedoen dat dit nie eintlik ’n plan is soos dit veronderstel is om te wees nie, maar liewer ’n visie sonder ’n implementeringsplan.
Die waarheid is dat die huidige ekonomiese trajek waarop ons is, ons moontlik oor die afgrond kan druk en waaronder die arm en honger mense die ergste gaan ly.
’n BIG sou ’n verskil kon maak.
The post COVID-19: ’n Basiese inkomstetoelaag vir armes is juis nou nodig appeared first on LitNet.