Quantcast
Channel: LitNet
Viewing all 21515 articles
Browse latest View live

Commemorating Women’s Day 2020: Hoe kan ôs tien period poverty baklei virrie benefit van vrouens en meisies in need?

$
0
0

Tasneem Daniels

……….

“Athraa en Ayesha het al twie proclaim dat ‘our womanhood often costs us our careers, education, safety and far too often even our lives’. Hulle gloe dat equality kannie bereik wôd nie unless daa genoeg awareness ee’s is oorie inequalities in ôse communities.”

……….

Is soe ha’tseer om te sien hoe baie mense nog sukkel innie lockdown. Nie ammal wat swaa kry hettie geleentheid om betaal te wôd deurie government se COVID-19 relief funds nie, en – as usual – ôse eie mense moet opstaan om ôse eie mense te help. Daa’s soe baie mense wat hulle eie charities en fundraisers hou om communities te feed. Een charity waa’mee ek baie impressed is at the moment is my vriend Athraa Fakier en haa sister Ayesha se Reusable Pad Drive vi girls in need in Driftsands, Mfuleni – ’n black township in Kaapstad.

Hierie drive het my oë oepgemaak – kan djy as ’n vrou imagine hoerit is om sonner sanitary pads te sit assit daai tyd vannie maand is? Ôs privileged vrouens varrit soe vi granted, nie net dat ôs ’n salary verdien om sanitary pads te afford, maa oek dat ôs net in Clicks kan loep en ôse baskets vol maak met pads en toiletries van ve’skillende brands en ranges.

According to the drive awareness poster wat Athraa en Ayesha uitgesit’t, baie vrouens bly uit die wêk uit en meisies bly uit die skool deur period poverty. Ek’t immediately gedink oo my vorige teaching days, ve’al as wanner ek Lewensorientering vi skoolkinners ge’teach’t. Puberty, sex education ennie sexual reproductive system wôd geleer vanaf graad 5 en 6 in primary skool. Hierie vakke is geleer in ’n baie intellectual manier wat skool learners force om detached te wies vannie practicality vannie situation. Ôs expect dat jong meisies van daai ouderdom die technical terms moet define in ’n skool exam paper – for three points explain what an ovary is, for ten points explain the menstrual cycle. Ôs pay niks attention annie realities van hierie meisies innie klaskamer: Voel hulle gesond genoeg om innie klas te wies? As hulle siek voel of energy ve’loo, het hulle medication vannie huis af? Het hulle pads hierie maand? Het hullle skoon onderklere, en ekstra klere as hulle deur hulle skool uniform bloei? Het al die jong skoolmeisies ’n ma, of ’n ouma, of ’n suster byrie huis wat vi hulle kan advise oo menstrual care, en kan hulle sanitary pads en menstrual care products bekostig?

Azra and Ayesha’s pad drive – the socio-economic circumstances that young girls and women face in the townships.

Toe ek op skool was, hettie skooluniform-ding vi my baie frustrated gemaak. My high school principal was so strict dat ôs meisies nie evens ’n broek kan dra nie – ôs moet aire ’n skoolrok dra innie somer of ’n skirt innie winter. Dit is ve’al baie important om warm en gemaklik te bly wanneer djy op jou periods is, ve’al as djy period cramps het – obviously hettie skool principals en skool management teams nie aan jong menstruating meisies gedink wanner hulle daai “code of conduct” vir skooluniforms saamgesit hettie!

……….

“Hoe maklik issit vi ôs privileged vroumense om hierie inequalities te overlook want dit affect vi ôs nie?”

……….

As ek weer t’rug dink wanner ek die attendance list gemerk’t, maak’t sin hoekom elke twiede meisie vi drie of vier dae absent gewies’t – dit was deur period poverty. Ek dink dat dit oek die skool se responsibility is om menstrual care facilities en programmes te host om jong meisies se academic liewens maklik te maak wanner hulle op hulle periods is. Sick bays moet altyd available wies as ’n meisie wil vi ’n bietjie rus tydens haar period. Free sanitary pads – ten minste een pe dag – moet available wies vi meisies during school hours. En vi skole wat uniform checks doen, hulle moet seker maak dat die needs van menstruating meisies is provided for when doing these checks – hulle moet nie ve’niet net die meisies detention toe stuur as hulle nie die regte uniform aan’t nie.

Ek hou vannie poster se slogan: “Being a woman should not come at the expense of anything.” Athraa en Ayesha het al twie proclaim dat “our womanhood often costs us our careers, education, safety and far too often even our lives”. Hulle gloe dat equality kannie bereik wôd nie unless daa genoeg awareness ee’s is oorie inequalities in ôse communities. Die susters sê oek dat dit die responsibility is van non-black women of colour om te recognise dat ôs privileges het wat baie swat vrouens en meisies, ve’al wat innie townships bly, nie het nie – dis wat hulle ge’motivate om funds te raise en vir hierie meisies reusable pads to koep. Tot equality normal is, sê hulle, gaan hierie drives altyd nodig wies.

……….

“Al vrouens moet equal access het aan hierie opportunities, en dissie responsibility van privileged mense om deel te wies van equal opportunity distribution, soes innie example van hierie Reusable Pad Drive.”

……….

Athraa het oek ’n verse vannie Qu’ran gequote om haar motivation virrie drive te express: “Oh you who believe! Stand out firmly for justice, as witnesses to Allah, even if it be against yourselves, or your parents, or your kin, be he rich or poor. Allah is a Better Protector to both (than you)” (4:135). Hierie verse kom uit die Qur’anic chapter “An-Nisa” wat beteken “The women”. Athraa sê dat hierie verse gie direction vi haar liewe, ennit remind vi haa nie net dat ôs tien injustices moet baklei nie maa oek dat ôs moet promote wat reg is. Hierie verse sê oek dat daa niks gaps moet wies tussen rykes en armes nie. “We have a responsibility to contribute to social change in whichever way we can,” sê Athraa.

Ek is baie proud vir hierie twie susters te ken en van hulle te leer. Hoe maklik issit vi ôs privileged vroumense om hierie inequalities te overlook want dit affect vi ôs nie?

Foto: Canva.com

Hierie conversations oo privilege remind vi my oek aan ’n video op social media waar ’n facilitator vi jongmense leer dat as djy certain socio-economic privileges het, as djy ’n dak oo jou kop het, as jou ouers nie divorced issie, as jou familie nie opgebriek issie, is djy ahead of the race, en dan moet anners wat hierie privileges nie het nie, opcatch – ’n terrible reality om in te liewe! Is soe ’n simple concept, maar ek’t baie aan Ayesha se woore geluiste: “We understand that when a woman is given an opportunity, she’ll succeed.” Al vrouens moet equal access het aan hierie opportunities, en dissie responsibility van privileged mense om deel te wies van equal opportunity distribution, soes innie example van hierie Reusable Pad Drive.

Dis omtrent 11 jare since ek my matric klaa gemaak’t. Ek dink nou aan daai tye wanneer ôs meisies, as skoolkinners, vi mekaa ’n pad vra assit daai tyd vannie maand is en ôs het ôse sanitary pads byrie huis ve’giet. Dan kryp-kryp ôs met ôse hanne in ôse sakke, onner die tafels om sieke te maak dat ôse meneers of juffrous nie vir ôs sien nie, asof ôs ashamed moet wies dat ôs menstruating meisies is en dat ôs mekaa moet help! Is ’n comforting feeling om te wiet dat ôs altyd op ôse sisterhoods at a bad time kan rely – maar hoe lyk daai reality vi swat meisies op skool wat nie het nie? Hoe lyk daai sisterhood circles in sukke scenario’s? Is soe ironic op ’n anne manier hoeveel suffering is associated met menstruation en hoe “poverty” met “periods” associated kan wies. Die menstrual cycle is deel vannie reproductive cycle – to give birth and give life. In reflection van Women’s Day dink ek dat vrouens en jong meisies eintlik die ultimate alchemists is – ôs wiet hoe om pyn tot power te bring. Somehow despite hierie inequalities, en despite hoe duur sanitary pads kan wies vi ammal van ôs, ôs vind ’n manier om te thrive despite the odds – en daai is cause for celebration op Women’s Day!

The post Commemorating Women’s Day 2020: Hoe kan ôs tien period poverty baklei virrie benefit van vrouens en meisies in need? appeared first on LitNet.


Monty Hall en intuïsie

Lovecraft country – a review

$
0
0

Atticus Black, a young black man, joins his friend and uncle on a road trip in the 1950s to find his missing father.

Buckle your seatbelt for this new HBO show. Lovecraft country is wholly unpredictable and quite crazy at times, but it carries an emotional weight that keeps all of its almost-conflicting elements together.

It is unpredictable due to a batshit crazy script (based on the original novel by Matt Ruff) and a willingness to tackle race, gender and sexuality without fear – without the constraints of the current dialogue around these issues. Throw in some magic and the supernatural, and you are presented with a fresh, at times shocking take.

That same crazy script provides the actors with unbelievable dialogue (and narration) and poignant moments, on which they build spectacular performances. Jurnee Smollett-Bell (Birds of prey (and the fantabulous emancipation of one Harley Quinn)), who is the actual lead, Jonathan Majors (The last black man in San Francisco) and all the supporting players bring their A game. Smollett-Bell and Majors both possess a physicality (and swagger) that is essential to their roles. The scene where Jurnee lays into a number of cars with a baseball bat would not have been that powerful or believable without it.

It goes without saying that the camerawork and grading are top-notch, the styling is impeccable and the soundtrack is perfectly curated. It is 2020. It is HBO.

There are two or three scenes that felt a bit pedestrian and should have perhaps ended up in the trash can. But then, who cares about a few duds among such a collection of raw, boundary-pushing, emotionally devastating, horror-filled and absolutely exhilarating scenes carefully strung together to make one of the most exciting shows of 2020?

Watch the trailer here:

The post <em>Lovecraft country</em> – a review appeared first on LitNet.

Waaroor gaan vandag se laaities eendag gesels?

$
0
0

Daardie dag toe Drikus uit die onderhoof se kantoor gekom het met so ’n snaakse uitdrukking op sy gesig, terwyl hy sulke geluide maak wat van intense pyn getuig, sal my altyd bybly.

Presies hoe erg die pyn is, sou ek ook kort daarna uitvind toe die rottang my op die boude getref het. Deksels seer, dis wat. Dit was in my standerd 6-jaar en ons – ons was ’n hele spul seuns wat daardie dag pak slae gekry het – se sonde was dat ons nie die Saterdag gehelp het om op te ruim ná die laaste rugbywedstryd nie.

Nou, weens die situasie van omtrent geen sport weens die COVID-19-pandemie nie, dink ek baie kere aan die herinneringe wat ’n mens aan sport het – veral uit jou kinderdae.

Soos daardie Saterdae in standerd 4 toe ek by Adelaars-rugbyklub in Rietfontein in die Pretoriase Moot gaan speel het. Ons het geweet ons gaan verloor, die kere wat ons teen Harlequins, Tuks of daardie spanne gespeel het. Ons was immers meer agter ons eie doelpale terwyl ons wag vir ‘n doelskop-poging as êrens anders op die veld.

Langs die veld was altyd ’n oom wat bevele vir sy seun – wat op die veld was – geskreeu het. Tydens rustyd sou die oom sy seun uit die kringetjie, waar ons saam met coach gestaan het, getrek het en so paar meter weg indringend met hom gepraat het. Die seun sou niks gesê het nie en net vir sy voete gestaar het.

Wanneer die tweede helfte begin het, sou sy pa hom op die skouer geklop het en iets sê soos: “Gaan wys hulle. Maak my trots.” En hom ’n paar slukke van die koeldrank uit ’n bottel laat drink het.

Een keer, ná ’n wedstryd toe ek my fiets gaan haal het – die rooi fiets wat teen die paal vasgemaak is, moes ek ’n sleutel vir ’n oom vat. Hy het in die kroeg aan die verste kant gesit. Dit was effens donker daarbinne en die plakkaat van Lion Lager teen die muur het onheilspellend gelyk.

Dit was nie sommer net vir instap nie, jy moes die ooms ordentlik groet, waarna een iets oor die wedstryd gevra het. Hulle was besig om te gesels oor die kragmeting daardie middag tussen Noord-Transvaal en Transvaal.

Hulle gesprek was driftig. Eenkant het ’n koerant gelê, wat die een oom skielik nader gesleep het. “Dis nie wat hy (Quintus van Rooyen?) hier sê nie.” Dit het nie gelyk of almal saamstem nie, en die ooms het mekaar omtrent doodgepraat.

Een oom, hy het kalm gelyk, het ’n sigaret uit ’n pakkie in sy bosak gehaal. Hy het dit teen die kroegtoonbank gekap, aangesteek en die eerste rook in die rigting van die plafon geblaas.

“Laat ons maar sien,” het hy oplaas gesê. Daar was iets gesaghebbend aan die manier waarop hy dit gesê het, so asof hy iets geweet het wat niemand anders weet nie. En daardie middag sou ons baie mooi gesien het. Sien hoe Naas Botha die Rooibontes die soveelste keer in trane het.

Waarskynlik een van die beste oomblikke in my matriekjaar was toe ons die cool dudes (dis nou die manne wat ernstig rugby gespeel en in die eerstespan was) een dag tydens touchies in ’n LO-periode geklop het.

Die “veld” was so dwars oor die krieketveld, met skoene wat aan die kant die lyne aangedui het. Wat die sege spesiaal gemaak het, is dat die cool dudes die “wedstryd” ernstig benader het.

By ons kant van die “veld” was dinge meer ontspanne. Ons vleuel het daar naby die “kantlyn”  – soos die ’n goeie vleuel betaam – gestaan. Die verskil is dat ons vleuel so nou aan dan aan die sigaret wat in sy hand was getrek het. Dit terwyl die LO-onderwyser saamgespeel het.

Die vleuel het selfs gedurende die wedstryd die bal gekry en doellyn toe genael –sigaret en al! Latere jare het ek dikwels gewonder of daardie onderwyser regtig niks van die rokery gesien het nie. En of hy dit dalk nie wou sien nie.

Daar is baie herinneringe, soos toe ons deel was van die 50-jarige viering van die Noord-Transvaal Rugbyunie, almal uitgevat in ’n T-hemp – met as ek reg onthou ’n afbeelding van ’n madeliefie op die linkerbors.

Of die onderwyser by een van die skole in die omgewing wat glo eendag tydens ’n oefening gesê het: “Dan keer ons maar weer terug na die basics.” Daardie woorde het latere jaar gereeld in gesprekke opgeduik. Jy moes omtrent iemand soek wat die woorde eerstehands beleef het, tog was dit woorde wat omtrent oral gehoor is. Dit het latere jare opgeduik in gesprekke om ’n braaivleisvuur waar oor die “goeie oud dae” gepraat is – so teen die derde bier as dinge begin nostalgies raak.

Deesdae kan ek nie help om te wonder waaroor die laaities wat grootword tydens die COVID-19-pandemie eendag gaan gesels nie.

The post Waaroor gaan vandag se laaities eendag gesels? appeared first on LitNet.

Persvrystelling: Die Boer – by die huis: Emma van Heyn, Met slenterslag na Shanghai

$
0
0

Vir 315 aande agter ’n vleuelklavier vasgevang. Een van die 2019-Woordfees-juwele, Met slenterslag na Sjanghai, gaan oor Emma van Heyn se jaar lange ervaring as ’n nuut aangestelde musikant in ’n splinternuwe hotel in die verre noorde van Shanghai, China.

Op die ouderdom van 22 lê die wêreld voor haar. Haar natuurlike inskiklikheid lei haar op ’n ontdekkingsreis wat niemand ooit sou verwag het nie, Emma inkluis.

Foto: Nina Smit

Dit is nie slegs ’n musiek-show nie, dis ’n progressiewe storievertelling wat aan jou hart sal ruk.

Emma begelei haarself op klavier, sintetiseerders en ander elektroniese elemente wat sy self skep. Daar is ’n perfekte balans van treffers (oud en nuut) en sy druk ook haar unieke stempel met oorspronklike musiek af.

Sy transformeer haar musiek om haar unieke styl te komplimenteer.

Foto: Nina Smit

Vervaardig deur Emma van Heyn, regie deur Christine Truter, ontwerp deur Janeske Rademan, tegnies deur Charl van Heyningen.

Wat mense oor Met slenterslag na Shanghai te sê het:

“Ons het hier te doen met ’n uitsonderlike talent. Haar stem, haar teenwoordigheid op die verhoog, haar eiesoortige skoonheid, haar talent as performer en liedjieskrywer. Sy is eerlik, rou, skroom nie om haar hart en siel te ontbloot nie. Dit gebeur net so nou en dan, ’n paar keer in jou lewe as jy gelukkig is, dat jy in ’n vertoning van ’n jong kunstenaar is en besef dat jy moontlik die geboorte van ’n groot loopbaan aanskou. Hierdie is een van daardie kere. Gaan, gaan en beleef Emma van Heyn. Luister wat sy met haar eie musiek en bekende liedjies maak. Wees een van die mense wat eendag kan sê: Ja, ek het haar al in 2019 raakgesien.” – Ilza Roggeband, Die Burger/Netwerk24

“Pas na Emma van Heyn geluister en dis so lank na Lesley Rae Dowling se eerste show die eerste keer dat ek weer voel ek het die fynkrag van ’n besonder genuanseerde skepvernuf raakgeluister. So lekker. Ek het na haar geluister, nie geweet wie dit was nie, en moes als stop en almal stilmaak om te luister. Verfrissend en ongewoon gesofistikeerd in ’n see van middelmatigheid. ’n Skaars ervaring van talent, skeppingsvernuf en geslypte werksdissipline wat ’n mens in jou spore halt.”

Foxwood Theatre | Emma van Heyn | Met slenterslag na Shanghai | 20–25 Augustus 2020 19:00

The post Persvrystelling: Die Boer – by die huis: Emma van Heyn, <i>Met slenterslag na Shanghai</i> appeared first on LitNet.

Persverklaring: Aksie van die burgerlike samelewing – Saam die toekoms in met Afrikaans

$
0
0

2020 sal vir altyd onthou word as die jaar van die pandemie en van uiters moeilike ekonomiese uitdagings wêreldwyd! Behalwe die pandemie, was daar ook ander uitdagings vir organisasies en maatskappye. Dit was om aanpassings te maak sodat die werksaamhede op ’n ander manier voortgesit kan word.

Die ATR het vinnig aangepas en sodoende sy werksaamhede uitgebrei. Die Vrouedag-webinaar, wat op Vrydag 7 Augustus plaasgevind het, is ’n sprekende voorbeeld hiervan. Vyf-en-veertig persone van regoor die land het ingeskakel by hierdie aanlyn seminaar met die tema: “Afrikaans as ’n waardevolle hulpbron – selfs al verengels die skole en universiteite”.

Bo, van links: Debra Meyer, Annelise de Vries en Surette van Staden. Onder, van links: Jolyn Phillips, Zahn Hulme, Marlie Coetzee en Merlyn van der Rheede.

Die soektog het geval op die invloed wat die vrou en ma het op die kind. As die ma die regte taalbesluite neem, word die saadjie van meertaligheid ook geplant. Moedertaal en meertaligheid bepaal die toekoms van die kind. 

Die gesprekleier was Debra Meyer, verbonde aan die Universiteit van Johannesburg. Annelise de Vries van Solidariteit het oor “Afrikaans binne die werks- en besigheidsomgewing” gesels. Sy het daarop gewys dat ongebore babas in die laaste tien weke van swangerskap hul moeder hoor en dan ook haar stem na geboorte herken. Ook dat die taal wat kinders by hul moeders hoor, hul emosies, kritiese denke en vaardighede vir meertaligheid vorm. Haar gevolgtrekking is dat Afrikaans wel ’n plek in die besigheidsomgewing het en dat moeders daarom sentraal staan in die debat oor moedertaalonderrig.  

Surette van Staden van die Universiteit van Pretoria se tema was “Afrikaans as leerhulpbron”. Sy het daarop gewys dat toetse getoon het dat moedertaalonderrig wel voordelig is, maar dat daar ’n konteks moet wees wat bevorderlik is vir moedertaalonderrig.

Jolyn Phillips van die Universiteit van Johannesburg se bydrae het gehandel oor “Afrikaans as gedeelde taalerfenis”. Sy het beklemtoon dat ons empatie met mekaar moet hê ten einde te verstaan waarvandaan ons kom en waarheen ons op pad is met Afrikaans.

Zahn Hulme van die Atterbury Trust, se onderwerp was Afrikaans, “’n hupstoot vir ’n beter toekoms”. Volgens Zahn bring ’n taal jou terug na wie jy is. Dis ’n anker en skep ’n band met jou voorgeslagte. Dis deel van ’n mens se identiteit en laat jou behoort.

Marlie Coetzee van VivA Afrikaans – Virtuele Instituut vir Afrikaans, het oor “Afrikaans as familie- en onderrigtaal” gesels. Marlie het gewys op die belang van inisiatiewe wat ons as ’n taalfamilie vir Afrikaans doen. Sy het vertel dat VivA verantwoordelikheid neem vir taalbevordering en moedertaalonderrig deur die daarstelling van innoverende en praktiese projekte. Haar slotsom was dat Afrikaans as familie- en onderrigtaal ’n bate is vir die bevordering van ’n meertalige Suid-Afrika.

Die sprekers het oortuigend aangetoon dat Afrikaans ’n hulpbron van onberekenbare waarde is, al verengels skole en universiteite. Die terugvoer was deurgaans positief. Van die kommentare is: “Fantasties gereël, baie dankie”, “Pragtige, verrykende webinaar. Dankie aan alle betrokkenes vir hul insette” en “Baie dankie aan elke spreker en die ATR vir die inisiatief. Insiggewend en opbouend. Mag die taal van ons hart voortleef en bly ontwikkel.”

The post Persverklaring: Aksie van die burgerlike samelewing – Saam die toekoms in met Afrikaans appeared first on LitNet.

Persvrystelling: Neville Alexander-prestige-eerbewyse – Oproep om benoemings

$
0
0
Taalmonument bied R40 000 vir onbesonge taalhelde

As deel van die vieringe van die Afrikaanse Taalmuseum en -monument (ATM) 45ste bestaansjaar nooi hierdie instelling die publiek om geskikte kandidate te benoem vir die vierde Neville Alexander-prestige-eerbewyse ter waarde van R20 000 elk. 

Volgens Michael Jonas, direkteur van die ATM, is dié eerbewyse ’n poging om erkenning aan die onbesonge helde van Afrikaans en veeltaligheid te gee én om taalprojekte te bevorder. Alexander (1936-2012) was ’n bekroonde taalkundige, aktivis, opvoedkundige en akademikus wat hom sterk vir veeltaligheid en moedertaalonderrig in Suid-Afrika beywer het. 

“Die eerbewyse sal toegeken word aan mense of organisasies wat hul tyd en lewe daaraan wy of gewy het om Afrikaans vir almal toeganklik te maak en die taal as ’n medium gebruik om samehorigheid en nasiebou te bevorder,” sê Jonas.

In 2018 is Suzie Matlhola van Johannesburg en Ernest Loth van die Paarl in Bloemfontein met die prys bekroon. Matlhola se passie vir Afrikaans en haar onwrikbare werk om die taal aan onder andere nie-moedertaalsprekers in Soweto te onderrig, het van haar een voor die hand liggende keuse gemaak. Die pogings van Loth – ’n dramaturg en motiveringspreker – om Afrikaans op alle vlakke en op alle plekke te bevorder, onder meer met sy dramatekste “Eendag is daar” en “Donkerland” wat in skoolhandboeke opgeneem is, het hom die ander prys laat verower.

“In 2018 was die bekende Johan Lenake, ’n kenner van Afrikaans en ander Afrikatale, die gasspreker. Hy het die voordele van meertaligheid beklemtoon en hoe om ouers te oortuig dat dit in die beste sosio-ekonomiese belang van hul kinders is,” sê Jonas. “In hierdie 45ste jaar van ons bestaan wil ons voortgaan om die ontwikkeling van die tale van Afrika te bevorder deur mense daaraan te herinner wat in hierdie verband met Afrikaans bereik is.”

Die wenners sal op 10 Oktober 2020 tydens die ATM se 45ste verjaardagvieringe en die Neville Alexander-gedenklesing deur die voorsitter van die raad vereer word. Die twee wenners ontvang ’n sertifikaat en prysgeld van R20 000, geborg deur Naspers, wat ten behoewe van relevante taalprojekte aangewend kan word. Ander vorige wenners sluit die fakulteit onderwys van die Kaapse Skiereiland Universiteit van Tegnologie (Wellington), Sabina Dumas, Susan Smith, Elizabeth Dennise van Schalkwyk en Woorde Open Wêrelde in.

  • ’n Elektroniese benoemingsvorm is by die ATM beskikbaar en die benoemings, vir individue of organisasies, moet die ATM teen Maandag, 7 September 2020, bereik by Posbus 498, Paarl 7646, of per e-pos by admin@taalmuseum.co.za.
  • Vir meer inligting, sien www.taalmonument.co.za, skakel 021 863 0543/872 3441 of stuur ’n e-pos na kommunikasie@taalmuseum.co.za. 

...........

Neville Alexander Prestige Awards: Call for nominations
Taalmonument offers R40 000 for unsung language heroes

As part of the celebrations of the Afrikaans Language Museum and Monument’ (ATM’s) 45th anniversary, the council invites the public to nominate suitable candidates for their fourth Neville Alexander prestige awards worth R20 000 each.

According to Michael Jonas, director of the ATM, these awards attempt to acknowledge the unsung heroes of Afrikaans and multilingualism, and to promote language projects. Alexander (1936-2012) was an award-winning linguist, activist, educator and academic who strongly advocated multilingualism and mother-tongue education in South Africa.

“The awards will be bestowed on people or organisations that have devoted or are devoting their time and life to making Afrikaans accessible to all and using the language as a medium to promote cohesion and nation-building,” says Jonas.

In 2018 Suzie Matlhola of Johannesburg and Ernest Loth of Paarl were awarded the prize in Bloemfontein. Matlhola’s passion for Afrikaans and her unwavering work to teach the language to non-mother tongue speakers in Soweto, among others, made her the one obvious choice. The efforts by Loth – a playwright and motivational speaker – to promote Afrikaans at all levels and in all places, among others with his drama texts “Eendag is daar” and “Donkerland” that have been included in school textbooks, landed him the other prize.  

“In 2018 the renowned Johan Lenake, an expert on Afrikaans and other African languages, was the guest speaker and emphasised the benefits of multilingualism and how to convince parents that this is in the best socio-economic interest of their children,” says Jonas. “In this, the 45th year of our existence, we wish to continue to promote the development of the languages of Africa by reminding people what has been achieved in this regard with Afrikaans.”

The winners will be honoured by the chair of the board on 10 October 2020 during the ATM’s 45th birthday celebrations and the Neville Alexander memorial lecture. The two winners will receive a certificate and R20 000 prize money, sponsored by Naspers, which can be utilised for relevant language projects. Other previous winners include the faculty of education at the Cape Peninsula University of Technology (Wellington), Sabina Dumas, Susan Smith, Elizabeth Dennise van Schalkwyk, and Woorde Open Wêrelde.

The post Persvrystelling: Neville Alexander-prestige-eerbewyse – Oproep om benoemings appeared first on LitNet.

Francois Smith se Kleinste ramp denkbaar gaan boei, terroriseer

$
0
0

Groot opwinding heers in die literêre wêreld met die verskyning van Francois Smith se roman Die kleinste ramp denkbaar – ses jaar na die trefferdebuut Kamphoer. Melt Myburgh het met die skrywer gesels.

....................

Francois Smith (Foto: Mlungisi Louw)

 “Die tipe boek wat boekklubs gaan terroriseer en fynproewers sal laat juig.”

Só beskryf Jonathan Amid verlede week op Facebook Francois Smith se nuwe roman, Die kleinste ramp denkbaar.

Smith se tweede roman het pas verskyn, ses jaar ná sy hoogs suksesvolle debuut, Kamphoer – volgens Joan Hambidge “geskryf met ’n onuitwisbare pen”. Kamphoer het soos soetkoek verkoop, het gesogte pryse ontvang en verskeie vertalings beleef, en Sandra Prinsloo was Susan Nell in die verhoogweergawe van die boek.

Teen dié agtergrond moet Francois Smith sekerlik senuweeagtig oor die ontvangs van Die kleinste ramp denkbaar wees?

“Senuagtig is ek inderdaad!” sê hy. Maar dis nie Kamphoer se sukses wat aan die nerwe knaag nie. “Allermins. Ek het trouens al begin dink dat ek bloot ’n volgende boek sal skryf om net nie weer ’n leserskring oor Kamphoer hoef toe te spreek nie.” Smith probeer nie blasé klink nie; om ’n boek te publiseer is in elk geval ’n senutergende storie.

“Soos Virginia Woolf wil ek ook net onder ’n besembos gaan wegkruip totdat alles verby is. Selfs wat die publisiteit betref, is ek ook maar my pa se kind. Ek onthou goed hoe onwillig hy was om sy ramme te adverteer – hy was ’n boer – omdat reklame vir hom soos brag geklink het.”

Francois is ook boonop dosent in kreatiewe skryfkuns aan die Universiteit van die Vrystaat. Om te moet publiseer – vakwetenskaplik en andersins – is die kruis wat skryfleermeesters aan tersiêre skryfskole dra. “Dit is beslis een rede waarom ons, ek en Henning Pieterse, moet aanhou publiseer,” vertel hy. “Gelukkig is ek geneties of kultureel – of deur die gode – belas met die noodsaak om te skryf.”

Francois vertel dat die idee vir Die kleinste ramp denkbaar posgevat het toe hy Kamphoer geskryf het. Tydens ’n wintervakansie op sy grootwordplaas het ’n erge griep hom oorval en hy moes spreekkamer toe op die dorp. “Dit was die dokter wat sedert my skooldae op Rouxville was, ’n lieflik eksentrieke man wat so ’n lang rooi Mercedes gery het en die een Van Rijn-sigaret na die ander gerook het; my selfs ’n inspuiting gegee het met die sigaret in die ander hand. Hy was ook ’n geweldige geselser en onophoudelik het hy gesels, oor buffeljagavonture in Mosambiek, oor Dooyeweerd se kommentaar op Paulus se sendbriewe …”

Die doktersbesoek het die skrywer bygebly en hy het begin notas maak, “kennelik met die opset om eendag daaroor te skryf”. Francois onthou Karel Schoeman se sêding dat niks aan die toeval oor te laat is nie. Dié waarheid is onlangs weer bevestig toe hy John Banville se The book of evidence uit die rak haal en die inskripsie en aantekeninge wat hy daarin geskryf het toe hy die eksemplaar in 2014 op McGregor gekoop het, lees. “Die boek moes my reeds smeulende gedagtes behoorlik laat vlamvat het, want agterin is ’n hele rits notas wat ek gemaak het oor ’n boek-in-wording, en een wat ek toe al Kleinste ramp genoem het.”

Volgens een van die notas wou Francois ’n “intelligente maar koelbloedige man” as hoofkarakter hê wat meegesleep word deur ’n “ongekultiveerde maar sexy vrou met ’n gevaarlike, onvoorspelbare instink”. Die kleinste ramp denkbaar het uiteindelik iets heel anders geword, deels omdat “polisieromannetjies” vir Francois ’n vroeë leesliefde was – “soos wat Don Quixhot s’n ridderromannetjies was”.

Gustav van Aardt, die hoofkarakter vanuit wie se perspektief die verhaal aangebied word, is ’n dokter wat op ’n plaas buite ’n plattelandse dorpie woon. Op ’n dag kruis die geneesheer se pad met dié van ’n doodsiek polisieman, Frans Schuin, wat deur ’n bosluis gebyt is. En van hier af aan word die leser aan ’n verskeidenheid karakters op die dorp bekendgestel, elkeen met ’n bepaalde ingesteldheid teenoor die polisieman.

Van Aardt probeer sin van alles maak te midde van die verval wat in die dorp waarneembaar is. “Op ’n heel instinktiewe vlak,” sê Francois, “is die boek gemoeid met ’n geheim – die geheim van die lewe op daardie dorp, wat ’n mens seker kan sien as ’n soort Suid-Afrika in die kleine. Dis ’n dorp wat verval, maar ook op allerhande maniere nuut en anders word.” Van Aardt reageer op hierdie vreemdheid met weersin en irritasie, totdat die polisieman verskyn en die afstandelikheid plek maak vir verwondering, sê Francois. “Dit is asof daardie polisieman vanuit die dokter se onbewuste ontsnap het en hy hom noodgedwonge moet volg, omdat hy die sleutel het tot die geheim van lewe en dood. Die dokter word egter heeltemal onbewustelik gelei deur sy fantasie en sy haas kwylend begerende oog. Hy hoor ou, ou stemme, hy dool rond in mites,” vertel hy.

“Dis ’n oeroue fantasie van die mens,” verduidelik Francois, “dat daar ’n sekere soort kennis is wat net deur die bose ontsluit kan word, dat die ware lewensgeheime net toeganklik is vir monsteragtige figure soos die polisieman Schuin.”

Volgens Jonathan Amid gaan lesers uitgeboul word deur die “uitsonderlike taalgebruik, die ragfyn detail, die absolute sensoriese maalkolk en estetiese waardering wat manifesteer regdeur die teks”. Louise Viljoen se bespreking van die roman in Sondag se Rapport beaam die opwinding oor die teks. Sy voorspel dat Die kleinste ramp denkbaar as “’n literêre hoogtepunt in ’n vreemde jaar” beskou gaan word.

In 2015 het Francois Smith die ATKV-Prosaprys vir Kamphoer ontvang. (Foto: Naomi Bruwer, Izak de Vries)

Lesers sal ’n fout maak as hulle die “ramp”-verwysing in die titel toeskryf aan die manier waarop die skrywer na die wêreld kyk. “Ek is ’n ongeneeslike optimis,” verklaar Francois. “Die Cheetahs kan vyf minute voor die einde 33–0 agter wees, dan glo ek steeds hulle het ’n kans om te wen.” Die rampspoed waarin die wêreld op hierdie oomblik vasgevang is, het buitendien min met die boek uit te waai; die skryfwerk was immers voor dié pandemie klaar.

Vir Francois sluit die roman aan by dit wat aan die hart van Skandinawiese speurverhale lê, naamlik “dat hierdie boeke in wese gaan oor die onderskeid tussen dit wat skyn is en dit wat werklik is”.

’n Groot verskeidenheid van karakters word in die roman beskryf, onder meer mevrou Troskie, met haar “talkpoeier-grimas van minagting”; Dannhauser van Heerden, ’n plaasboer wat die dokter vir passasies lank deur ’n nagsigteleskoop laat kyk; Gretel Tredoux, die dorp se sinusoïdale prokureur met haar Duitse herdershond; Roberto Ojeda, ’n Kubaanse dokter aan wie Van Aardt die verskriklikste leuen vertel; Portia Klaas, die ylende polisieman se bot kollega …

Hoe het hierdie galery personas tot stand gekom?

“Ek het ’n kerntoneel gehad waarin ’n dokter en ’n polisieman was,” vertel die skrywer, “en ek moes gaan sit en uitwerk wat daar aan daardie toneel was wat my ’n poort sal bied tot ’n wêreld wat groot genoeg is vir ’n roman.

“My aanvanklike idee, my oertoneel, was piepklein en die meeste van wat die roman geword het, moes ek ontdek. Die mees voor die hand liggende manier om dit te doen, was om van daardie oertoneel uit te beweeg buitentoe. Ek moes byvoorbeeld die mense ontmoet wat daar in die spreekkamer was toe die dokter die oggend inkom; en voordat die pasiënte aangekom het, was daar mos die vrou by ontvangs …”

In daardie stadium van skryf moes Francois as gevolg van ’n rugprobleem heelwat tyd in dokters se spreekkamers deurbring. En dit is waar hy twee ontvangsdames teëgekom het van wie lesers in die boek afbeeldings sal vind: “die kriptorassistiese ou ene, en dan ook die nuwe ene wie se wonderlike geheime agter die toonbank verskuil is.

“Wanneer jy gaan sit om ’n boek te skryf, aktiveer jy die onbewuste en dan word bykans alles wat jy ervaar gesif en gekeur vir die bruikbaarheid daarvan in jou verhaal.”

Sandra Prinsloo het die rol van Susan Nell in die verhoogweergawe van Kamphoer vertolk. (Foto: Eye Poetry vir die Vrystaat Kunstefees)

Francois moes deeglik navorsing doen om Gustav van Aardt se dokterstem geloofwaardig te maak. “Dinge werk op papier ietwat anders as in die werklikheid, en skryf is allermins ’n spieël wat jy op die sypaadjie voor Pep Stores opstel. Jy moet wel agterkom wat om te doen om daardie spieëlillusie te skep. Hierdie illusie word egter versplinter as jy feitefoute maak, en die ding is dat ek van die medisyne nie veel weet nie. As ek dus daardie arme poliesman die verkeerde antibiotika laat kry het byvoorbeeld, sal enigeen wat ’n bietjie van hierdie klas ding af weet die boek dadelik neergooi.

“Maar dit gaan ook oor iets meer as die empiriese werklikheid. Dit gaan veral oor die geloofwaardigheid van die perspektief van daardie dokter, wat op ’n bepaalde manier tog ’n tipe verteenwoordig. Ek het hiervoor taamlik gelees, onder meer die Amerikaanse dokter-digter William Carlos Williams se stories en sketse oor sy ervarings as huisdokter.”

Gilbert Gibson, Bloemfontein se dokter-digter, moes die manuskrip fynkam vir onakkuraathede. “Die een ding wat hy byvoorbeeld vir my gesê het, is dat dokters nie op loop gaan met of opgeklits raak oor simptome wat ons gewone sterflinge die pipperellekoors sal laat kry nie. Dokters sê byvoorbeeld nie iemand haal hortend asem nie, of hulle gebruik nie die een of ander gelade adjektief nie; hulle sê bloot ‘asemhaling onreëlmatig’.”

Vir Francois is dit belangrik dat lesers deur sy verhaal meegevoer word. “Ek dink as ’n skrywer die roman as medium kies, moet hy hom steur aan storie, aan plot, aan intrige. Die storie moet op die oppervlak werk en hierdie oppervlakverhaal moet op sigself heeltemal bevredig. Daarmee bedoel ek nie dat alles klinkklaar en glashelder moet wees nie, dis nie die soort boek wat ek wou skryf nie, maar as jy vasgenael kan bly lees en dáárdeur vervul raak met die een of ander vorm van onrus of vae vermoedens, dan is dit vir my genoeg.”

Hy beskou dit as ’n bonus as lesers iets kan maak van al die verwysings, intertekste en simbole in die narratief. “Maar die boek moet nie by hierdie bonus staan of val nie. Ek het ook self ervaar dat indien jy nie regtig weet wat om te skryf nie, dan begin jy met allerhande slimmighede, met mitologiese verwysings en daardie klas van ding.”

Oor die neerskryf van gewaarwordinge sê Gustav van Aardt in Die kleinste ramp denkbaar: “Dit is soos ’n droom, as jy dit nie dadelik neerskryf nie, begin jou geheue dit uitwis sodra jy weg is uit die sfeer van die droom.” Geld hierdie benadering ook vir Francois Smith?

“Ek het meestal ’n notaboekie byderhand, veral in die skryffase, waarin ek so gou moontlik goed neerskryf wat ek sien, lees, hoor en ook droom, ja, en dan is dit goed wat my opval omdat dit om die een of ander rede belangrik is. Waarom dit belangrik was, moet ek dan later probeer agterkom, veral wanneer ek vermoed dat dit belangrik is vir ’n bepaalde boek wat ek skryf. Jy loop in Pick n Pay en jy sien ’n vrou in haar handsak grawe, of jy draf by ’n slaghuis verby en ruik gesaagde been, of jy hoor ’n man teen ’n boom urineer, daardie soort ding.”

Die resultaat van Francois Smith se arbeid is ambisieus en groots – ’n produk wat fynproewers beslis baie vreugde gaan besorg, en wat leeskringe hopelik nie te veel die skrik op die lyf sal jaag nie. ’n Boek waaroor Jonathan Amid voornemende lesers as volg waarsku: “Jy kan hierdie roman ongelukkig net een keer vir die eerste keer lees.”

 

The post Francois Smith se <i>Kleinste ramp denkbaar</i> gaan boei, terroriseer appeared first on LitNet.


RE:

$
0
0

RE: Anna Verwey

Geagte mevrou Vermaak

Ek erken hiermee ontvangs van die kurrikulumuitleg, handboeke en leesboeke. Soos u versoek het, sal ek weekliks verslag doen oor haar vordering met taalvaardighede, kuns-en-kultuur-opdragte en wiskunde. Verder sal ek ook laat weet oor haar gesondheid en algemene gemoedstoestande.

Na ons vorige gesprek in u kantoor oor my bevoegdheid om tuisonderrig vir Anna te gee, wil ek sommer nou al laat weet hoe dit met haar gaan. Ons het onlangs al leesboekies verbrand en om die vuur gedans uit pure vreugde en die bevrydende besef dat sy nooit weer sulke twak hoef te lees nie. Susan kry ’n nuwe pop. Regtig? Hier is ’n voorstel vir ’n meer relevante verhaal. Susan kry nuwe hoop vir die lewe na sy gediagnoseer is met Arterial Septal Defect. Ek lees daagliks vir haar voor uit Cormac McCarthy se The road. Heel gepas vir ’n pa se stryd om vir ’n kind ’n beter lewe te probeer gee. Sedertien skryf Anna haar eie stories, en haar vaardigheid itv storielynvorming en karakterisering is noemenswaardig. Kuns-en-kultuur-begrippe is nog in die beginstadium aangesien daar geen sulke begrippe in die vyf jaar wat sy in u skool was, gevestig is nie. Die “kuns” in u kantoor (aka selfhelp-printouts van Pinterest af) dui op die onderwysdepartement se kollektiewe beskouing van wat “kreatief” is. Haar wiskunde het dramaties verbeter en sy tel al soos ’n droom. Vandag is ons al by 34 – heel toevallig die aantal dae wat ek haar al tuis onderrig. Dit is ook die aantal dae wat haar “maatjies” anderpad kyk as sy nader kom.

Groete

John

 

Re: Project icecream

John, I need an extra 5k tonight or the deal is off. Don't fuck around, 'cause I don't.

Mister X

 

RE: Anna peetouers

Yebo

Ek weet actually nie hoe om dankie te sê vir julle bereidwilligheid om Anna se peetouers te wees nie. Dis moerse lekker om te weet jou eie broer is up for it. Na Deirdre se dood het ek ’n paar klippe laat val en een hiervan is om te verseker dat Anna oukei gaan wees indien iets voorval. Ughh! Klink aaklig om dit so te sê, maar you know what I mean. Aangeheg is al die docs vir die lewensversekering stuff. Jy moet net teken en terugstuur. Jammer vir die admin.

Ek skuld jou ’n bottel Jack.

Lekker

John

 

RE: Project icecream

Mister X

The agreement was that you get everything sorted for the 15k cash I gave you last week. If this doesn't go through, rest assured that I will spill all the beans and track you down. This is about my kid. So please get this sorted asap.

John

 

My allerliefste, Deirdre

Dit is so verfrissend om ’n brief te kan skryf en alles uit te blaker. Verskoon maar as dit jou swaarmoedig maak daar op die ander plek in die heelal. Dinge is maar net heavy.

Ons mis jou. Ek en Anna speel gereeld jou gunstelingmusiekstuk: Tchaikovsky se “Dance of the Sugar Plum Fairy.” Sy trek haar balletrokkie aan en ek buig laag, neem haar hand en dan is ons op ’n groot verhoog. Sy raak so gou moeg dat ons bykans na elke draai gou ’n break moet vat vir ’n bietjie asemskep.

Die dokter sê daar is ’n 90%-kans dat dit hierdie keer gaan werk. Die chirurg wat laasjaar die botch job gedoen het, die een met die mooi hemde en spikey hare … hy was bloot oneerlik. G'n mention van die risiko's nie. Ek het elke liewe sent wat ek gehad het, vir hom gegee. En by almal geld geleen. Ons pensioen is in sy sak. Ek mis jou kalm hand op my skouer. Jy sou geweet het wat om te doen.

Soos ek hier sit en skryf, hoor ek hoe swaar sy asemhaal. Ons leef maar van two-minute noodles en tuna. So nou en dan is daar geld vir bacon en eggs en ’n bier vir my.

Ek is verskriklik lief vir jou en wanneer Anna vra wat met ’n mens se siel gebeur na jou lyf dood is, dan tel ek haar op my skoot en begin maar neurie. Liefde kan ’n leemte vul, maar nie ’n gat in ’n kind se hart toestop nie. Die operasie is oor ’n paar weke. Ek is bang. So, so bang. Met wie gaan ek dans as die operasie uitfok?

John

 

RE: Anna Verwey

Geagte mevrou Vermaak

Dit gaan baie goed met Anna. Sy is steeds moeg, maar ons streng akademiese roetine hou haar aan die gang.

Ons dae begin douvoordag om nege-uur. Sy kom by my kamer in en slaan my met ’n kussing oor my kop en spring op die bed. Iets wat ons beide weet totaal en al aanvaarbaar is in ons huishouding. Dan volg die hersiening van belangrike lewenskeuses. Rwandese koffiebone moet altyd growwer gemaal word as Ethiopiese bone. Hierna volg dagbeplanning en droomuitleg. Leuens en verdraaiing van werklike drome van die vorige aand word aangemoedig vir die doel van absurditeit en karakterontwikkeling.

Elke les word noukeurig nagesien en punte word gegee vir vordering. Swak storielyne en herhaling van vorige drome word swaar gestraf met drie bladsye se dramatiese voordrag uit Graeme Smith se biografie. En ons werk ook pret by die strafproses in, byvoorbeeld: Elke keer wanneer die woord “bat” of “batting” verskyn, moet daar met gepaste klanke die swiervlug van ’n vlermuis uitgebeeld word.

Gebruik gerus hierdie werkswyse in u skool. Dit sal uitnemendheid verseker.

Groete

John

 

RE: John Testament vir Anna

Beste Ma en Pa

Dankie vir die teken van hierdie dokument. Julle is reg, dit is vreemd dat ek nie iets agtergelaat het vir Kobus nie. Hy is my broer, maar hulle het nie plek op hulle erf vir ’n 1998 Toyota Corolla met ’n uitlaatpyp wat meer rook as ’n staalfabriek nie. Die kar is max R15k werd en dit gaan direk na Anna se universiteitsfonds toe. Sy kry al my boeke, maar die selfhelpgoed wat tannie Sonja vir my elke jaar vir Kersfees gee en dan kom kyk of ek dit op my boekrak het, moet asb in die donkerste hoek van die aardbol opgeskeur en vertrap word. Verder kry sy maar goed soos die printer en die art deco bank in die sitkamer. O ja, Deirdre se trourok en haar trouring gaan na Kobus toe tot sy 18 is.

John

 

RE: Project icecream

John

We are good to go. But need the 5k. We got a guy in the office that needs to do the final clearance. He usually charges 10k to do the job. So count yourself lucky. You have until tonight to do this. Btw, should you decide to track me down or fucking open your mouth on anything … I know where you live. And I also know more about you than you think.

Mister X

 

RE: Bredell Property Management

Geagte meneer Bredell

Ek vra verskoning dat ek nog nie die huurkontrak vir volgende jaar vir u gestuur het nie. Weens persoonlike omstandighede gaan ek dit ongelukkig moet kanselleer. Die kontrak bepaal dat sou ek minder as twee maande kennisgewing gee, ek die helfte van die deposito verloor. Sal u asseblief so gaaf wees om die oorblywende R8 000 aan my terug te betaal? Moenie worry oor die rente nie. Wanneer sal u hierdie kan uitsorteer?

John

 

My allerliefste, Deirdre

Ons was vandag weer by die dokter. Hy sê Anna verswak redelik drasties. Die bloed wat nie suurstofryk is nie, kies blykbaar kortpad en meng met die ander bloed wat wel suurstof het. Haar voete is daagliks meer geswel en haar konsentrasie hou nie langer as vyftien minute nie.

Op ’n ander noot: Daai pienk fiets wat jy vir haar op haar vierde verjaarsdag gekoop het, het gister weer ’n bietjie die buitelug gesien. Ons het maar die kantwieletjies weer vasgesit en interessante outfits gekies vir die tog deur die woonbuurt. Victorian top hat en ’n geborduurde sambreel. Als vir R200 by die Crazy Store. Sy is ’n natural met die Britse aksent. Ek het gesê: “Dear Anna, would you be so kind as to accompany me to my abode for an afternoon cup of tea?” Sy het van haar fiets afgeklim en gecurtsy: “John, I will be delighted to join you. Shall we go horseriding in the afternoon?”

Anyway. Ons mis jou baie en ek is verskriklik bang. Nie net oor die operasie nie.

 

RE: Anna Verwey

Geagte mevrou Vermaak

Ek volg net op aangaande die versoek om die R2 350 skoolfonds wat my nog verskuldig is. Net weer in kort: Anna se laaste maand by die skool voor sy siek geword het, was in Mei en ek het aan die begin van die jaar betaal tot Junie. Wanneer sal hierdie vereffen word?

 

RE: Project icecream

John

I got the money, thanx. All clear. I will SMS you the login details and the name you must use for all admin. If you do not send the email on the date and time we agreed on, you will die.

Mister X

 

RE: Anna peetouers

Ahoi, Brother

Ma sê julle gaan binnekort weg vir twee weke. Is daar nie dalk ’n kans dat julle net kan uitstel met ’n week nie? Ek hou ’n groot party vir wanneer Anna uit die hospitaal kom en ek wil baie graag hê julle daar moet wees. Asseblief, man. Doen dit vir haar.

Ns. Ek verskaf bier.

 

RE: John Testament vir Anna

Beste Ma en Pa

Sorry ek mail nou, my foon is nie lekker nie.

Ek en Anna mis julle baie. Kan ons nie dalk sommer vanaand gou ’n draai maak so 19:00 se kant nie, dan eet ons iets? Gaan nie ’n draai by die winkel kan maak nie, maar ek nooi julle sommer nou al vir die party wat ek hou vir Anna as sy uit die hospitaal uit kom.

Laat weet gerus!

Ns. Anna is mal oor steak.

 

My allerliefste, Deirdre

Ek kan nie meer nie. Het die week ons flat begin oppak en ek het gister op die vloer gaan lê en huil. Slaap al vir sewe ure straight. Ek het ook vir my broer en my ouers gejok. Daar sal nie ’n party wees nie, want ek het nie eens meer ’n flat dan nie. As jy hier was, sou jy net daai mondhoeke van jou getrek het en gesê het ek moet chill want alles is vir ons dogter.

Ek is in diep moeilikheid, lief. Oor ’n week val alles uitmekaar. Behalwe Anna. Sy begin ’n nuwe lewe. Op alle fronte. Ek was nog nooit so gefokus nie. Stuur emails en vul vorms in om seker te maak alles is reg vir als wat na die operasie gaan gebeur.

Lief, ek is so so bang. Ek is bang hulle slaan my. Ek is bang Anna cope nie. Ek is bang almal verwerp my. Hulle gaan my slaan, Lief. En alles net vir ’n kind met ’n gat in haar hart.

Al wat ek eintlik wil doen is om ’n roomys saam met haar op die strand te eet. Net nog een laaste keer na sy uit die hospitaal kom. Ek twyfel of dit gaan gebeur. Ek wil saam met haar stap op die strand, en dan miskien as sy al krag het, saam met haar in die vlak water staan en spring en skree as ’n brander ons vang.

Nog twee, drie dae voor sy onder die ligte gaan lê en lomerig raak van die narkose.

Ek is bang, Lief. Bang vir alles.

Roomys saam met Anna. Dis al wat ek wil hê.

 

Out of office: John Verwey

To whom it may concern

I will be unavailable until further notice.

Regards

John

 

Deirdre

Anna is gesond!

Ek kan nie nou lank skryf nie. Sy het weer haar arms om my nek gegooi en onbedaarlik gehuil. Nog slaperig. Sy lyk al hoe meer soos jy.

My liefste, liefste mens. Hoe lyk dit in die hemel? Dink jy daar is ’n plek vir my?

 

RE: Pa en Ma

Ek is jammer oor als.

Dit is nie julle skuld nie.

Ek is baie lief vir julle. Kyk asb mooi na Anna.

 

RE: Anna peetouers

Brother

Ek is jammer oor alles.

Jy hoef my nie te vergewe nie. Kyk mooi na haar. Vat haar vir ’n roomys op die strand as jy kans kry. Sien jou wanneer ek jou sien.

 

Dokter Carr

Ek het onlangs baie e-posse geskryf, maar hierdie een doen ek met die hand. Sonder jou hande sou Anna nie vanoggend haar arms om my nek gegooi het en daarop aangedring het dat ons Muizenbergstrand toe gaan nie. Sy is tans by my broer. Die uitstappie sal ’n paar jaar moet wag.

Dit sal my tot op my sterwensbed toe pla dat ek nie die moed het om jou in die oë te kyk en te sê wat ek lankal moes nie. ’n Stranduitstappie kos sowat ’n R100 en die operasie wat u gedoen het om my kind aan die lewe te hou, min of meer twee honderd keer soveel. Ek het by jou gesteel. Dit is verskriklik. Ek het dit beplan en dit is nog erger. Wat die ergste is, is dat ek jou verraai het vir ’n draairoomys.

Ek is jammer. En sal vir nog baie jare wees.

 

Anna Verwey: Mediese fonds no: CB89453

Geagte meneer Cremer

My foon is al vir ’n paar dae af. Ek is seker u sal verstaan.

My naam is nie Steven McDonald nie en my dogter se naam is nie Deirdre nie.

Hiermee verklaar ek, John Verwey, dat, weens die hulp van die veragtelikste man op aarde, my dogter binnekort weer netbal sal kan speel sonder dat die opposisie vir haar lag as sy op die veld gaan sit en hyg.

Ek stel dit hier op skrif dat ek nie enige persone se name sal noem of betrek by my bedrog nie.

Ek neem volle verantwoordelikheid hiervoor.

Indien jy ooit tyd in jou besige skedule het om mense uit te buit wat jou twee Ferrari's befonds (ja, ek het hierdie gegoogle), vat jou dogter wat dieselfde ouderdom as Anna is (google), vir roomys op die strand. ’n Hart hou nie vir ewig nie.

Jy hoef nie te worry oor saaknommers nie.

Ek is op pad polisiestasie toe.

John

 

Lees ’n kort onderhoud met Wilken Calitz oor “RE:” hier:

Korona-kortverhaalfees: Wilken Calitz oor "RE:"

Al die verhale van LitNet se Korona-kortverhaalfees is hier beskikbaar:

Korona-kortverhaalfees

 

The post RE: appeared first on LitNet.

Korona-kortverhaalfees: Wilken Calitz oor "RE:"

$
0
0

Wilken, vertel asseblief hoe jy aan hierdie verhaal gekom het en waar jy was toe jy dit geskryf het.

Ek het so ’n paar maande gelede met ’n hartchirurg gesels en hy vertel my van ’n ma wat haar kind na hom toe gebring het vir ’n operasie. Die seuntjie was op sy einde en hierdie dokter was hul laaste uitweg. Na al die mediesefondsadministrasie afgehandel is, is die operasie gedoen en die kind het herstel.

’n Maand of wat later besoek die ma weer die dokter. Sy gaan sit voor hom en sê: “Dokter, ek is nou gereed om tronk toe te gaan want ek het nie ’n mediese fonds nie; al die papierwerk is vervals.” Die dokter was so oorweldig deur die liefde wat sy vir haar kind gehad het dat hy die hele ding net laat vaar het. Ek het self ’n dogtertjie en sal sonder twyfel dieselfde doen as sy nou moes siek word.

Ek het direk na die gesprek met die dokter gaan sit en die verhaal neergepen, maar uit die oogpunt van ’n pa en ’n dogter. My woonstel in Wynberg, waar ek sit en werk, kyk uit oor die rugkant van Tafelberg en is 200 meter van die plaaslike polisiestasie af. Tydens die skryf het ek heeltyd geskrik as ek polisiesirenes hoor!

Het jy die verskillende “boodskappe” of stemme apart geskryf en agterna in die verhaal byeengebring, of het alles in die volgorde gebeur soos wat dit in die verhaal verskyn?

Ek het nie enige ander inligting oor die dokter se storie nie. Dit is soms ’n goeie ding om net die basics te weet. Ek moes dus gaan dink aan hoe om ’n logiese en interessantste verloop van gebeure te skep. As ’n ouer weet hy gaan moontlik tronk toe oor ’n maand of twee, is daar ’n magdom dinge wat in plek moet val: Wie kyk na jou kind? Wat gebeur met jou eiendom, jou kar en jou werk?

“RE:” is basies ’n klomp back-and-forth e-posse tussen al die rolspelers wat hy betrek om sy plan te laat slaag. Mister X is ’n bedenklike figuur uit die onderwêreld wat die mediese fonds se vervalsing behartig. Hulle dreig mekaar heeltyd en die stemtoon in hierdie e-posse is kras en gepas vir die scenario’s. As hy met sy broer korrespondeer is dit weer ontspanne en “Ahoi, brother,”-tipe taalgebruik. Met die dokter is die taalregister weer formeel.

Die volgorde waarin die gebeure geskied en die e-posse gestuur en ontvang word, het redelik maklik in plek geval. Wat wel moeilik was, was om die plot line so op te stel dat die leser heeltyd wonder wat volgende gaan gebeur. Ek dink die rol van ’n skrywer is om ’n deurdagtige skattejag te beplan. Elke brokkie inligting is ’n leidraad en die laaste skat (laaste sin of woord) moet jou katswink slaan.

Jou romandebuut Swart swaan het vanjaar by Penguin verskyn, net toe die nasionale inperkingsmaatreëls ingestel is. Het die pandemie en gevolglike inperking jou pret as skrywer bederf?

Vreemd genoeg, het die kieme se manewales my ’n goeie skeut skryfpret besorg. Voor lockdown het ek van een show na ’n volgende gejaag en nooit tyd gehad om net te sit en lekker te skryf nie. Soos ek hier sit, is ek opgewonde om vanaand te begin timmer aan ’n nuwe toneelstuk. Niks jaag my nie en niks stres my uit nie.

Daar is egter ook ’n keersy tot inperking. Stories klop by mens aan terwyl jy besig is met alledaagse dinge: in die banktou wag, ’n bier drink in ’n restaurant, wanneer iemand jou beursie steel en weghardloop. Daai oomblikke wanneer iemand iets onverwags sê of doen, kwyn uit die aard van saak wanneer jy net in jou woonstel is vir maande aaneen. Ek dink ek is weer reg vir die rat race. Net vir so twee maande sodat ek ’n paar storie-idees kan gaps.

 

Lees Wilken Calitz se kortverhaal, “RE:”, hier:

RE:

Al die verhale van LitNet se Korona-kortverhaalfees is hier beskikbaar:

Korona-kortverhaalfees

 

The post Korona-kortverhaalfees: Wilken Calitz oor "RE:" appeared first on LitNet.

Vonnisbespreking: Grondwetlike skadevergoeding as "nominale" en "verswaarde" skadevergoeding in dringende aansoeke

$
0
0

Vonnisbespreking: Grondwetlike skadevergoeding as “nominale” en “verswaarde” skadevergoeding in dringende aansoeke
Ngomane v Johannesburg (City) 2020 1 SA 52 (HHA)

Emile Zitzke, Skool vir Regte, Universiteit van die Witwatersrand

LitNet Akademies Jaargang 17(2)
ISSN 1995-5928

Die artikel sal binnekort in PDF-formaat beskikbaar wees.

 

Abstract

Constitutional damages as “nominal” and “aggravated” damages in urgent applications

The case of Ngomane tells the story of how the Johannesburg municipality removed and destroyed the possessions of homeless people without lawful authority. The victims of this unlawful conduct brought an urgent application for the return of the property, return of similar substituted items, and/or further relief. One of the questions before the court was whether the further or alternative relief requested could include an award of damages. On the damages front, the High Court found its hands tied because a claim for unliquidated damages at common law is not allowed in urgent application proceedings. Furthermore, it found that a claim for constitutional damages would be too difficult to determine on the facts before it. In the Supreme Court of Appeal, the common-law-damages claim was similarly dismissed but an award for constitutional damages was made. The reason for this was ultimately that the constitutional rights to property and dignity of the homeless people were violated and so an appropriate and effective remedy had to follow. Despite the difficulty of assessing the extent of damage (given the vagueness of the descriptions of property and the probable low economic value of such property) the court awarded what I argue to be “nominal damages” for the property damage. Additionally, the court awarded what I call “aggravated damages” for the dignity infringement attached to the intentional and wanton disrespect shown to the affected community. In this case discussion, I argue that this award for constitutional damages ought to be welcomed to the extent that constitutional damages (as nominal and aggravated damages) were awarded in this case to bridge the gap between an inadequate law of civil procedure and the effective vindication of constitutional rights. However, I also argue that the scope of the judgment should be restricted to urgent applications on similar facts.

Keywords: aggravated damages; constitutional damages; damages; delict; nominal damages; transformative constitutionalism 

Trefwoorde: delik; grondwetlike skadevergoeding; nominale skadevergoeding; skadevergoeding; transformatiewe grondwetlikheid; verswaarde skadevergoeding

 

1. Inleiding 

Die verhaal van Ngomane v Johannesburg (City) 2020 1 SA 52 (HHA) speel af op die middelmannetjie onder die R31-snelwegbrug op Endstraat in Johannesburg. ’n Hawelose gemeenskap het onder hierdie brug vir hulself ’n tuiste geskep. Hul beddens is uit bokse en plastiekvelle of ou matrasse gemaak. “Kamers” is met houtpalette afgebaken. Soggens, wanneer die gemeenskap die strate ingevaar het op soek na werk, is die kamers en beddens afgetakel en netjies op die middelmannetjie gepak, saam met die gemeenskap se ander besittings wat kos, klere, komberse en stukkende tasse ingesluit het (parr. 1–2).

Op ’n dag het die Johannesburgse Metropolisie by die middelmannetjie opgedaag, die besittings van die hawelose mense op ’n trok gelaai en toe verdwyn. Dit was onduidelik of die gemeenskapslede deur die beamptes uitgeskel is en of sommige van hulle met pepersproei bygekom is. Desnieteenstaande vind hierdie geval sonder ’n hofbevel en sonder enige betekenisvolle deelname van die betrokke gemeenskap plaas (par. 3). Die voorval word deur ’n barmhartige omstander op video opgeneem. Die video wys hoe die beamptes die hawelose gemeenskap se matrasse, komberse, tasse en rugsakke onverskillig en onbedagsaam op die trokke gooi (par. 6). Die hof a quo bevind dat die video ook aantoon dat die beamptes moes besef het dat die items wat op die trokke gegooi is van ’n “huishoudelike aard” vir die hawelose mense sou wees (par. 7).

Die stad se verduideliking vir die gedrag van die beamptes is dat hulle besig was met ’n “skoonmaakoperasie”, waar slegs “vullis” verwyder is en geen “waardevolle items” weggeneem is nie. Die verwydering van rommel in openbare plekke deur die stad se beamptes word deur die stad se munisipale wetgewing toegelaat. Die stad is verder van mening dat geen uitsetting of sloping van enige wonings plaasgevind het nie (par. 5).

Die hawelose gemeenskap vereis op ’n dringende basis dat die stad die goedere waarop beslag gelê is, terug moet gee, of dat soortgelyke goedere aan die gemeenskap gegee word, tesame met enige ander verligting wat die hof bereid is om toe te ken.

In wat volg word die uitspraak van die Johannesburgse Hoë Hof kortliks bespreek. Die hof het bevind dat die hawelose gemeenskap nie met enige eis ten opsigte van hul eie regte kon slaag nie. Hierdie uitspraak kan as “grondwetlik gebrekkig” bestempel word. Dit beteken ruweg dat die hof die saak beslis volgens ’n regsmetode ingevolge die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika, 1996 sonder dat die substantiewe waardes en transformatiewe visie van die Grondwet verwerklik word (sien bv. Zitzke 2017:105; Zitzke 2018a:498; Zitzke 2018b:182–3).

Daarna word die uitspraak van die Hoogste Hof van Appèl bespreek, waarin grondwetlike skadevergoeding aan die hawelose gemeenskapslede toegeken is. Hierdie uitspraak vertoon ’n duideliker grondwetlike glans. 

Alhoewel hierdie uitsprake sekerlik die meeste gevolge vir die sakereg inhou, is die fokus van hierdie bydrae op die gevolge van die gewysdes vir die deliktereg. Die uiteindelike doel van hierdie bydrae is om die Hoogste Hof van Appèl se redenasie ten opsigte van die grondwetlike skadevergoedingsvraagstuk beter te verstaan en moontlik in sekere opsigte te verdedig. Die twee vorme van die grondwetlike skadevergoeding wat by ’n dringende aansoek ter sake blyk te wees, is na my mening “nominale skadevergoeding” (nominal damages) en “verswaarde skadevergoeding” (aggravated damages).

 

2. Hoë Hof 

Die Hoë Hof het in Ngomane v City of Johannesburg Metropolitan Municipality 2017 JDR 0822 (GJ) teen die applikante se eerste twee bedes bevind. Die hawelose gemeenskap kan nie ingevolge die mandament van spolie die teruggawe van hul besittings eis nie omdat die beskrywing van die sake te vaag is en omdat die goedere reeds na vullishope geneem is. Die regsbeginsel is dat sake wat vernietig is nie deur die besitsherstelbevel ingevolge die mandament geëis kan word nie (parr. 12–13). Die hof bevind ook dat die eis vir lewering van plaasvervangende goedere deur geen regsbeginsel ondersteun kan word nie (par. 15). Of hierdie bevindings aangaande die sakereg korrek is of nie, val buite die omvang van hierdie bespreking.

Die hof verduidelik dan dat die toepaslike remedie in beginsel ’n deliktuele aksie vir skadevergoeding behoort te wees. Volgens die siviele prosesreg kan daardie skadevergoedingseis egter nie op ’n dringende basis versoek word nie. Alhoewel hierdie eis in beginsel tot die applikante se redding sou kon kom, sou die eis egter waarskynlik in praktiese terme nie slaag nie aangesien die besittings van die hawelose mense min of geen waarde gehad het nie en omdat die goedere in generiese terme in die hofstukke beskryf is sonder enige betekenisvolle besonderhede om die waarde daarvan te kon bepaal (par. 15).

Die onwaarskynlikheid dat die hawelose mense met ’n deliktuele eis sou slaag, gekoppel aan die dringendheid om hul omstandighede te verlig, lei dan die hof om te fokus op die diskresie van die hof om na goeddunke verligting te skenk. Twee belangrike remedies word in hierdie opsig oorweeg.

Die eerste alternatiewe remedie is om grondwetlike skadevergoeding vir die verwydering van die besittings van die hawelose mense toe te ken. Die hof bevind eenvoudig dat die remedie in hierdie geval onvanpas was omdat die hof verdere bewyse en argumente aangaande beleidsoorwegings oor hierdie remedie verlang het (par. 36). Hoekom die hof nie mero motu die toepaslike beleidsoorwegings kon oorweeg nie, is onduidelik. 

Die tweede alternatiewe remedie is om ’n bevel nisi uit te reik waarvolgens die hof duidelike voorskrifte bepaal oor die prosedure wat gevolg moet word wanneer die stad beslag wil lê op die besittings van hawelose mense. Die voorskrifte is daarop gemik om meer respek vir die hawelose mense te betoon. Dit omvat redelike navraag aangaande die identiteit van die haweloses, waar daardie persone hulle bevind, die opberging van die besittings in plaas van die vernietiging daarvan en relevante kennisgewings oor waar die opgebergde sake gevind kan word (par. 39). Volgens die hof was dit die enigste gepaste remedie.

Die bevel nisi is sekerlik ’n bevinding wat verwelkom kan word aangesien dit in die praktyk die rol van ’n mandamus vervul, waarvolgens die regte van hawelose mense in die toekoms beter beskerm sal kan word, veral in hierdie geval waar voor-die-hand-liggende stappe nie gedoen is om die goedere en menswaardigheid van hawelose mense te beskerm nie. Ongelukkig is hierdie uitspraak egter minder indrukwekkend met betrekking tot die vraag oor grondwetlike skadevergoeding. 

As ’n vertrekpunt, word die hof se bevindings aangaande die ontoepaslikheid van ’n deliksaksie in hierdie geval ondersteun. Volgens ons siviele prosesreg kan ’n eis vir ongelikwideerde skadevergoeding nie as ’n dringende aansoek gebring word nie. Dit is hoofsaaklik omdat sodanige aansoeke in beginsel handel oor gevalle waar die feite van die saak betwis word (sien bv. Theophilopoulos e.a. 2012:130). Gegewe die dringende aard van hierdie geval − waar die heenkome en slaapplek van die hawelose mense vir die volgende nag op die spel is − laat die verwerping van die deliktuele eis (op grond van die prosesreg) die hawelose gemeenskap in ’n ondraaglike toestand, veral omdat dit voor die hand liggend is dat hul eiendomsreg en menswaardigheid aangetas is.

Selfs al kon die hawelose gemeenskap in hierdie geval op ’n dringende basis ’n deliktuele eis instel, moet die hof gelyk gegee word dat die slagoffers sou sukkel om die waarde van hul vernietigde besittings te bewys, wat op ’n oorwig van waarskynlikheid bewys moet word (sien bv. Jowell v Bramwell-Jones 2000 3 SA 274 (HHA) par. 22). 

As daar aanvaar kan word (1) dat die siviele prosesreg aanvaarbaar is ten opsigte van dringende aansoeke en die verhouding daarvan met eise vir skadevergoeding, (2) dat die hawelose gemeenskap in die praktyk nie met sukses ’n normale, nie-dringende deliksaksie sal kan instel nie en (3) dat die eiendomsreg en menswaardigheid van die hawelose gemeenskap aangetas is, dan behoort daar ingevolge artikel 38 van die Grondwet ’n ander doeltreffende en voldoende remedie geskep te word om tot die redding van die slagoffers te kom. 

Die Suid-Afrikaanse reg verskaf geen duidelikheid oor presies wanneer grondwetlike skadevergoeding toegeken behoort te word nie. ’n Paar beginsels oor wanneer grondwetlike skadevergoeding onvanpas is, is egter duidelik. Na die beslissing in Fose v Minister of Safety and Security 1997 3 SA 786 (KH) staan dit vas dat grondwetlike skadevergoeding nie toegeken sal word om die staat deur middel van skadevergoeding te straf nie. Daar is ook gesag dat waar ander effektiewe remedies vir die skending van menseregte bestaan (soos bv. gemeenregtelike skadevergoeding), daardie remedies eerder gebruik moet word in plaas daarvan om grondwetlike skadevergoeding toe te ken (sien bv. Minister of Police v Mboweni 2014 6 SA 256 (HHA)), terwyl ander hofsake die standpunt huldig dat grondwetlike skadevergoeding ’n remedie van eerste rang kan wees (sien bv. MEC for the Department of Welfare, Eastern Cape v Kate 2006 4 SA 478 (HHA)). Die spesifieke elemente wat bewys moet word om te slaag met ’n eis vir grondwetlike skadevergoeding bly egter steeds onduidelik. In President of the Republic of South Africa v Modderklip Boerdery 2005 5 SA 3 (KH) is grondwetlike skadevergoeding byvoorbeeld toegeken sonder enige direkte verwysing na skuld, onregmatigheid en kousaliteit. In daardie geval het die hof die volgende faktore in ag geneem om die aanspreeklikheid vir grondwetlike skadevergoeding te bevestig: die ongrondwetlike skending van ’n grondwetlike reg (parr. 38–51); die benarde omstandighede en swaarkry van die betrokke partye; die staat se algemene onhulpvaardigheid (par. 53); en die gebrek aan ander doeltreffende remedies (parr. 61–4). Hierdie faktore aangedui in Modderklip moet ten minste in ag geneem word om te bepaal of grondwetlike skadevergoeding in die geval van Ngomane ’n gepaste remedie sou wees. In Ngomane is die onmiddellike toekomstige swaarkry van die hawelose gemeenskap duidelik genoeg, asook die staat se onsimpatieke houding teenoor die slagoffers. Die enigste uitstaande kwessie is die ongrondwetlike skending van die grondwetlike regte van die slagoffers.

In handveslitigasie word ’n twee-stapondersoek soos volg gedoen (sien Chaskalson e.a. 2013:7). Daar moet eerstens bevestig word dat ’n grondwetlike reg geskend is, sodat ’n prima facie saak uitgemaak kan word. Toegepas op Ngomane is die vraag dan of die grondwetlike eiendomsreg en die reg op menswaardigheid prima facie deur die staat geskend is. Indien wel, is die volgende stap, ingevolge artikel 36 van die Grondwet, of daardie skending van die regte (wat effektief ’n beperking van die regte is) geregverdig kan word in ’n oop en demokratiese samelewing gegrond op die waardes van menswaardigheid, gelykheid en vryheid. (Terloops, hierdie twee-stapondersoek van handveslitigasie is ’n interessante weerspieëling van die gemeenregtelike bepaling van onregmatigheid waar ’n regsbelang geskend is, soos verduidelik deur Neethling en Potgieter 2015:45.) 

Om te bepaal of die vernietiging van die besittings van die hawelose mense op ’n skending van artikel 25 van die Grondwet neerkom, moet volgens Slade (2019:37) die spesifieke metodologie vir grondwetlike eiendomsregtelike dispute gevolg word soos neergelê in First National Bank of South Africa t/a Wesbank v Commissioner, South African Revenue Service; First National Bank of South Africa t/a Wesbank v Minister of Finance 2002 4 SA 768 (KH) (hierna “FNB”). Hier sal in die besonder op artikel 25(1) van die Grondwet gefokus word. 

Daardie artikel bepaal: “Niemand mag eiendom ontneem word nie behalwe ingevolge ’n algemeen geldende regsvoorskrif, en geen regsvoorskrif mag arbitrêre ontneming van eiendom veroorloof nie.” Ontneming word in FNB (par. 57, my vertaling) beskryf as “enige inmenging met die gebruik, genot of benutting van privaat eiendom”. Onlangs het die Konstitusionele Hof in die deliktuele aangeleentheid van Loureiro v iMvula Quality Protection 2014 3 SA 394 (KH) par. 56 verklaar dat die veroorsaking dat goedere onopspoorbaar verdwyn, wat tradisioneel onder die beginsels vir Aquiliese aanspreeklikheid verhaalbaar is, op ’n skending van die grondwetlike beskerming van eiendomsreg neerkom. Die duidelikste voorbeeld van ontneming moet sekerlik die verwydering en vernietiging van iemand se goedere wees. Dus kan daar geargumenteer word dat die handeling van die stad in Ngomane op ’n ontneming van eiendomsreg neerkom.

Slade (2019:39) verduidelik dat daar drie komponente aan hierdie grondwetlike bepaling oor ontneming verbonde is. Eerstens moet bepaal word dat die saak of sake in dispuut “eiendom” vir doeleindes van artikel 25 is. Tweedens is die vraag of ’n algemeen geldende wet die ontneming toelaat. Derdens is die vraag of die ontneming volgens daardie wet arbitrêr is al dan nie. Indien daar ’n skending van artikel 25(1) was, is die volgende stap, soos alreeds hier bo aangedui, om te bepaal of die skending ingevolge artikel 36 van die Grondwet geregverdig kan word. As die skending van artikel 25(1) nie volgens die beperkingsklousule geregverdig kan word nie, is die beperking ongrondwetlik (FNB parr. 58–9). 

Die grondwetlike beskerming van die eiendomsbegrip strek baie verder as net onroerende goedere. In FNB (par. 48–56) bepaal die Konstitusionele Hof dat liggaamlike, roerende sake soos motors binne die soepele betekenis van grondwetlike eiendom val. Dus sou die matrasse, komberse en rugsakke van die hawelose mense in Ngomane ook grondwetlike beskerming as eiendom geniet. 

Die verwydering en vernietiging van vullis word deur munisipale wetgewing toegelaat (sien Stad van Johannesburg Metropolitaanse Munisipaliteit Publieke Gesondheid Munisipale Wetgewing, gepubliseer onder Kennisgewing 830 in die Gautengse Provinsiale Buitengewone Koerant Nommer 179 van 21 Mei 2004). Hierdie munisipale wetgewing verwys egter nie na die verwydering en vernietiging van die goedere van hawelose mense wat op sypaadjies of soortgelyke plekke gelos is nie. Om hul goedere as “vullis” te beskryf, is onsensitief, onmenslik en onakkuraat. Net omdat iets dalk vuil of van min waarde is, beteken nie noodwendig dat dit vullis is nie. Goedere word vir doeleindes van die sakereg as ’n saak geklassifiseer, selfs al het dit slegs sentimentele en nie finansiële waarde nie (Muller e.a. 2019:26). “Vullis”, soos die term in die munisipale wetgewing gebruik word, kan moontlik regtens gelykstaan aan res derelictae. Die besittings van die hawelose mense wat op die middelmannetjie gelos is, kan nie as res derelictae bestempel word nie: sowel fisiese beheer as die animus possidendi moet laat vaar word voordat die saak as verlate beskou kan word (Muller e.a. 2019:305–6), en in Ngomane is die animus duidelik nooit laat vaar nie. Dus is die “algemene regsvoorskrif” waarop die munisipaliteit blykbaar gesteun het as gesag vir die vernietiging van die eiendom nie van toepassing op hierdie geval nie. Dit dui daarop dat die munisipaliteit die ontneming sonder enige wetlike gesag bewerkstellig het. Die vraag oor die arbitrêre aard van die wetgewing ontstaan gevolglik nie. Derhalwe was daar ’n prima facie skending van artikel 25(1) van die Grondwet.

Die vraag is dan of die munisipaliteit kon slaag met ’n argument dat hierdie beperking van die reg teen ontneming ingevolge die beperkingsklousule geregverdig kan word. Artikel 36(1) van die Grondwet maak voorsiening dat eiendomsregte deur middel van algemeen geldende regsvoorskrifte beperk kan word. Aangesien die munisipaliteit op geen wetlike bepaling staat kon maak om hul gedrag te regverdig nie, was die ontneming nie geregverdig nie. Ingevolge artikel 36(2) is die beperking van eiendomsreg in Ngomane dus ongrondwetlik.

Omdat daar geen algemeen geldende regsvoorskrif is waarvolgens die eiendomsreg ontneem is nie, sou hierdie ontneming ook nie kon neerkom op ’n grondwetlike onteiening soos beoog deur artikel 25(2) van die Grondwet nie.

Soos vroeër gemeld, is daar onduidelikheid in ons reg oor watter elemente bewys moet word om te slaag met die eis om grondwetlike skadevergoeding. Selfs ingevolge die gemeenregtelike deliktereg is dit egter in hierdie geval duidelik dat oorsaaklikheid, skuld en onregmatigheid teenwoordig is. As die stad nie die goedere vernietig het nie, sou die logiese gevolg daarvan op ’n oorwig van waarskynlikheid wees dat die hawelose mense nog in besit van hul goedere sou wees. Dus is daar ’n feitelike skakel tussen die handeling en die skade (sien Lee v Minister of Correctional Services 2013 2 SA 144 (KH) par. 41). Daar is ’n noue, selfs direkte, feitelike verband tussen die stad se optrede en die grondwetlike skade wat deur die slagoffers gely is. Die gevolgtrekking dat die stad se handeling hier die regsoorsaak van die skade was, sou nie onregverdig of onbillik wees nie (sien Fourway Haulage SA v SA National Roads Agency 2009 2 SA 150 (HHA) parr. 30–5; mCubed International v Singer 2009 4 SA 471 (HHA) par. 27). Die stad se werkers het met dolus directus opgetree (Neethling en Potgieter 2015:133), deur positiewe dade en sonder enige geldige regverdigingsgronde. Volgens die gemenereg sou hierdie tipe handeling waarskynlik as onregmatig bestempel word (sien Fagan 2019:244). Die oorweldigende prentjie wat geskets word, is ’n beleidsargument ten gunste van aanspreeklikheid vir grondwetlike skadevergoeding.

’n Soortgelyke argument kan geopper word oor die beweerde pepersproei en skeltaal waarmee die hawelose mense hanteer is wat hul menswaardigheid betref. Die beweerde hardhandige behandeling van die hawelose mense in hierdie geval sou hul sin van eiewaarde aantas wat, volgens Le Roux v Dey 2011 3 SA 274 (KH) (par. 138), beskerm word deur die reg op menswaardigheid in artikel 10. As daar geen wettige gesag was vir die verwydering en vernietiging van die goedere van die hawelose mense nie (soos hier bo verduidelik), het die hawelose mense die reg gehad om daarteen te protesteer aangesien dit ’n onregmatige aanval op hul goedere was (Naude & Du Plessis v Mercier 1917 AD 32, 37–8). Gevolglik was enige mondelinge of fisieke aanvalle op die hawelose mense sonder enige regverdiging (wat in ’n oop en demokratiese samelewing aanvaar kan word) en dus ongrondwetlik. 

Die uiteinde is dan dat die eiendomsreg en die reg op menswaardigheid van die hawelose mense ongrondwetlik deur die stad beperk is en dat hierdie mense dringend geregtig was op praktiese hulp.

Dit is onduidelik waarom die hof nie bogenoemde beleidsoorwegings kon oorweeg en grondwetlike skadevergoeding toeken nie. Die gevolg is dat grondwetlike regte geskend is sonder enige effektiewe remedie. Ubi ius ibi remedium word in die agtergrond geneurie (sien bv. Engelbrecht v RAF 2007 6 SA 96 (KH) par. 21). Dit is om hierdie rede dat die uitspraak van die Hoë Hof as grondwetlik gebrekkig bestempel kan word: Daar word dikwels na die Grondwet verwys, en die menseregtelike politoer word dus dik aangesmeer, maar die grondwetlike vereiste vir ’n doeltreffende remedie in die geval van ’n skending van regte is afwesig. Die poging om die bepalings van die Grondwet toe te pas, word verwelkom maar die resultate van die toepassing laat veel te wense oor. Daarvoor moet ’n mens gaan soek in die appèlhofuitspraak, wat volgende bespreek word.

 

3. Hoogste Hof van Appèl

Regterpresident Maya, wat die eenparige uitspraak van die hof lewer, bevestig die bevindings van die Hoë Hof dat die mandament van spolie nie toepaslik is in ’n geval waar roerende sake vernietig is nie (par. 18). Om redes wat nie heeltemal duidelik is nie, bevind die hof ook dat ’n vervanging van die vernietigde sake in hierdie geval nie toegeken sou kon word nie (par. 20). Die sakeregtelike kwessies daargelaat, vestig die hof dan die aandag op die grondwetlike skadevergoedingsaangeleentheid.

Die hof het die toegewing deur die stad dat die verwydering en vernietiging van die hawelose mense se roerende sake onregmatig was (par. 14), verwelkom (par. 18). Oor die mondelinge en fisieke aanvalle op die hawelose mense bevind die hof egter dat die videomateriaal van die voorval geen aanranding of mishandeling aantoon nie (par. 13). Volgens die hof kan daar dus nie aanvaar word dat sodanige aanvalle wel plaasgevind het nie. 

Daar word egter bevind dat die stad die eiendomsreg van die haweloses arbitrêr (willekeurig) ingevolge artikel 25(1) van die Grondwet ontneem het, asook dat artikel 14(c) oortree is wat die beslaglegging op besittings ingevolge die reg op privaatheid verbied. Hierdie kombinasie van die eiendoms- en privaatheidskendings dui “minagting” en “vernedering” aan wat “ontsteltenis” veroorsaak het en wat in ’n grondwetlike menswaardigheidskending beliggaam word (par. 21).

Gevolglik is die stad se gedrag ten opsigte van die hawelose mense onregmatig en ongeldig ingevolge artikel 172 van die Grondwet, wat gepaste regshulp ingevolge artikel 38 van die Grondwet verlang. Die Fose-saak word aangehaal om te beklemtoon dat howe ’n wye diskresie het om te bepaal watter regshulp in ’n gegewe geval gepas sal wees, wat nuwe grondwetlike remedies kan insluit (par. 22).

Die hof eggo die Hoë Hof se sienings oor die waarskynlike mislukking van ’n toekomstige gemeenregtelike deliksaksie omdat die eiendom se waarde baie laag is en die roerende goedere nie duidelik beskryf kon word nie (parr. 24–5). Hierdie feit, gekoppel aan die dringende nood van die hawelose mense as gevolg van die grondwetlike skade wat hulle opgedoen het, veroorsaak dat die hof grondwetlike skadevergoeding toeken. Die hawelose mense was bereid om R1500 elk te aanvaar vir die “verlies van hul eiendom en die onreg wat hulle gely het” (par. 26, my vertaling) en wat die hof sien as die skending van hul eiendomsreg en menswaardigheid (par. 27). Die bevel nisi van die Hoë Hof bly in stand ten spyte van hierdie bevinding. Dus word daar sowel herstellende (oftewel korrektiewe) geregtigheid as toekomsgerigte regshulp verleen. Soos reeds in deel 2 van hierdie bydrae voorgestel, word die toekenning van grondwetlike skadevergoeding deur die hof verwelkom. Na Ngomane moet daar egter gevra word onder watter omstandighede hierdie tipe grondwetlike skadevergoeding vir die krenking van eiendomsreg en menswaardigheid toegeken behoort te word.

’n Leser mag byvoorbeeld wonder of daar nou twee gelyklopende strome van skadevergoeding in ons reg bestaan waarvolgens ’n eiser in die algemeen mag kies tussen ’n eis vir grondwetlike skadevergoeding en eise gebaseer op die gemeenregtelike lex Aquilia en actio iniuriarum. Om redes wat binnekort duidelik sal word, is my argument dat die Ngomane-konstruksie van grondwetlike skadevergoeding beperkend uitgelê moet word om slegs op ’n eng spektrum van gevalle van toepassing te wees waar die gemenereg en/of siviele prosesreg in die pad staan van die doeltreffende beskerming van die regte van delikslagoffers.

Dit beteken nie dat die Ngomane-saak van min waarde is nie. Die uiteinde van Ngomane is ’n briljante voorbeeld van die waarde wat die Grondwet kan toevoeg tot ons begrip van aanspreeklikheid vir die skending van regte waar die gemenereg en siviele prosesreg ten koste van weerlose mense in ons gemeenskap te kort skiet.

In die volgende deel van hierdie bydrae verduidelik ek eers in meer besonderhede wat presies die beperkende uitleg van Ngomane moet behels. Daarna verduidelik ek waarom Ngomane nie as gesag aanvaar behoort te word vir die skepping van ’n gelyklopende stroom van skadevergoeding nie. Ruweg is my betoë vir ’n beperkende uitleg van Ngomane slegs dat die beginsels nie noodwendig ’n verwarring en ontworteling in ons reg behoort te bewerkstellig nie. Soos wat die regsfilosoof Karl Klare verduidelik (1998:150), word die Suid-Afrikaanse regstelsel onder die Grondwet bestempel as “transformatief” (dit wil sê, progressief en ontwikkelingsbehoeftig). Transformasie, volgens Klare, val iewers tussen die ekstreme etikette van “revolusie” (waar huidige regsbeginsels en strukture heeltemal vernietig word) en “bewaring” (waar bestaande regsbeginsels en strukture minimaal ontwrig word).

 

4. ’n Beperkende toepassing van die Ngomane-toekenning

My argument is dat die Ngomane-saak slegs van toepassing behoort te wees op die volgende feitelike konstruksie: 

  1. ’n Dringende aansoek waar ’n bede vir ongelikwideerde skadevergoeding, aan die hand van die gemeenregtelike deliktereg, sivielprosesregtelik ontoelaatbaar is (die uitvloeisel is dus dat Ngomane nie van toepassing behoort te wees op nie-dringende aksies waar ’n gemeenregtelike remedie toelaatbaar is nie);
  2. Die geval handel oor saakvernietiging wat neerkom op ’n onregverdige ontneming van eiendomsreg wat ongrondwetlik is (die uitvloeisel is dus dat Ngomane nie van toepassing behoort te wees op gevalle waar die mandament van spolie of ’n soortgelyke remedie van toepassing kan wees nie); en
  3. Die saak wat vernietig is, het min ekonomiese waarde en/of dit is moeilik om die presiese waarde van die saak te bepaal; dus sal ’n deliktuele aksie waarskynlik onsuksesvol wees. 

Die reël is dat op hierdie feitelike konstruksie grondwetlike skadevergoeding aan gegriefde applikante toegeken mag word in die vorm van nominale skadevergoeding en/of verswaarde skadevergoeding. 

Die begrip nominale skadevergoeding word aan die Anglo-Amerikaanse reg ontleen. Wanneer ’n reg gekrenk is maar die skade minimaal is of die bewyse van die omvang van die skade onduidelik of onvoldoende is, bepaal die Anglo-Amerikaanse reg dat ’n klein bedrag skadevergoeding aan die slagoffer toegeken moet word as ’n openbare en simboliese erkenning en beskerming van daardie reg (sien bv. Bauer 1935:133; Okpaluba 2012:135). Die klein bedrag skadevergoeding kan in Amerika so min as een dollar wees (Grealish 2018:734). In die Ngomane-geval was die toekenning van grondwetlike skadevergoeding vir die vernietiging van eiendom egter nie bloot ’n simboliese gebaar nie. (’n Verklaring van regte volgens artikel 38 van die Grondwet kan in ons reg daardie simboliese doel dien.) In Ngomane was ’n billike dog klein bedrag toegeken wat ’n skadevergoedende funksie vervul het, alhoewel vir ’n onbepaalbare omvang van skade. Die skadevergoedende funksie van hierdie toekenning het ’n wesenlike impak op die heenkome van die hawelose mense in Ngomane gehad, en was dus nie bloot simbolies van aard nie. Al het die hof nie die terminologie van nominale skadevergoeding gebruik nie, blyk dit dat dit nie vreemd sal wees om voor te stel dat die hof hierdie tipe skadevergoeding, ontleen aan die vreemde reg, deur middel van die Grondwet toegeken het nie.

Hierdie toekenning van grondwetlike vergoeding vir nominale skade dui op ’n belangrike ontwikkeling van ons reg. Die standpunt van Neethling en Potgieter (2015:245) is dat die huidige gemeenregtelike deliktereg nie nominale skade vergoed nie. Dendy (2018:12, 22) voer egter aan dat daar gesag in die Suid-Afrikaanse gemeenregtelike deliktereg is vir die toekenning van vergoeding van nominale skade, maar dat dit in die onlangse geskiedenis prakties in onbruik verval het omdat die howe sedert 1935 verklarings van regte mag uitreik. Of die gemenereg in die toekoms ontwikkel moet word om, in die loop van ’n nie-dringende aksie, vergoeding van nominale skade toe te laat in gevalle waar die omvang van die skade onduidelik is ten spyte van die aanwesigheid van ’n duidelike regskending, is ’n vraag wat vir nou daar gelaat kan word. 

Maar wat van skadevergoeding waar menswaardigheid aangetas word? Weereens word ’n analoog in die Anglo-Amerikaanse reg gevind wat voorsiening maak vir die toekenning van aggravated damages oftewel verswaarde skadevergoeding. Beever (2003:89) verduidelik dat wanneer sekere torts gepleeg word, daar ’n gelyktydige krenking van menswaardigheid plaasvind. Berryman (2004:1521) gaan so ver as om te beweer dat hierdie menswaardigheidsfokus van verswaarde skadevergoeding die huidige toonaangewende perspektief van die begrip is. Omdat die Engelse reg nie ’n aparte delikseis vir menswaardigheidskendings erken nie (Murphy 2010:360), word hierdie vorm van skadevergoeding dan bykomend tot die “gewone” skadevergoeding toegeken as ’n indirekte vorm van die erkenning van menswaardigheid.

Vir Beever (2003:92) bestaan die menswaardigheidskrenking hier nie in die krenking van die slagoffer se gevoel van selfwaarde nie. Ons het dus nie te doen met die Suid-Afrikaanse klassieke begrip van menswaardigheid onder die actio iniuriarum nie. Die krenking hier gaan oor die slagoffer se objektiewe waarde en morele reg op respek wat veral geskend word wanneer ’n dader opsetlik die regte van ’n ander verontagsaam (Beever 2003:89; Murphy 2010:362). Opsetlike onregmatige dade omvat ’n absolute minagting van die slagoffer se regte; met ander woorde, dit is asof die dader glo dat die slagoffer glad nie die betrokke reg het nie. Dit is dus moontlik in die Engelse reg dat verswaarde skadevergoeding vir die krenking van menswaardigheid toegeken kan word selfs in gevalle van opsetlike saakbeskadiging (Murphy 2010:369) terwyl die Suid-Afrikaanse gemeenregtelike deliktereg wegskram daarvan om ’n skakel tussen menswaardigheid en eiendom te erken (sien bv. Union Government (Minister of Railways and Harbours) v Warneke 1911 AD 657, 665). Die idee blyk dus te wees dat die verswaarde skadevergoeding ’n aanvullende rol speel by die toekenning van vergoeding vir gewone vermoën- of nie-vermoënskade. Verswaarde skadevergoeding in ’n geval van saakbeskadiging kan dus ’n analoë rol speel as verswarende faktor wat in ag geneem word by die berekening van vergoeding vir nie-vermoënskade onder die actio iniuriarum (sien in hierdie opsig ook Bailey 2018:passim).

Die Hoogste Hof van Appèl in Ngomane beslis dat hardhandigheid aan die kant van die stad en die gebruik van vuil taal nie in hierdie geval bewys kon word nie. Die feite was anders as dié wat in die klassieke voorbeeld van die actio iniuriarum van toepassing is. ’n Mens het in Ngomane te doen met die objektiewe menswaardigheid van die hawelose mense wat die stad aangetas het deur hul opsetlike en onregmatige dade, of − soos die hof dit uitdruk − die “minagting”, “vernedering” en “ontsteltenis” wat in hierdie geval met die opsetlike en onregmatige eiendomsregtelike skending gepaard gegaan het. Dit is op hierdie gebied waar die menswaardigheidskending lê. Of verswaarde skadevergoeding deur ’n ontwikkeling in ons gemeenregtelike deliktereg toegelaat moet word, is ’n vraag wat ons vir eers kan systap.

Nou dat ’n mens ’n beter begrip het van wanneer die Ngomane-beginsel van toepassing behoort te wees, en wat dit in regsvergelykende terme beteken, word daar dalk nog gewonder waarom ’n beperkende interpretasie van Ngomane hier voorgestaan word.

Die Konstitusionele Hof het in Pharmaceutical Manufacturers Association of SA: in re ex parte President of the Republic of South Africa 2002 2 SA 674 (KH) par. 44 aangedui dat daar na demokratisering slegs een regstelsel in Suid-Afrika bestaan, naamlik ’n regstelsel onder die gesag van die Grondwet. Daar kan volgens die Konstitusionele Hof nie twee gelyklopende regstelsels bestaan waar een die waardes van die Grondwet omhels en die ander een nie. 

Toegepas op die gemeenregtelike deliktereg, beteken dit dat die deliktereg nie ’n ongrondwetlike boodskap mag uitbasuin nie, want daar is vandag slegs een Suid-Afrikaanse regstelsel. Op ’n meer praktiese vlak beteken dit dat die gemeenregtelike deliktereg toegepas moet word solank as wat dit in ooreenstemming met die doelstellings van die Grondwet is. Waar die gemenereg strydig met enige grondwetlike bepalings is, behoort die gemenereg ontwikkel te word (sien bv. artt. 8 en 39(2) van die Grondwet). Hierdie interpretasie van ’n beginsel van ’n enkele regstelsel gegrond op Pharmaceutical Manufacturers is onlangs ook indirek ondersteun deur die hof in Mboweni asook Komape v Minister of Basic Education 2020 2 SA 347 (HHA).

In Mboweni wou die eisers grondwetlike skadevergoeding eis vir die skending van die reg op ouerlike sorg ingevolge artikel 28. Die Hoogste Hof van Appèl bevind dat die eisers eerder moes steun op gemeenregtelike regshulp in die vorm van ’n eis vir verlies van ’n broodwinner, of, indien daardie remedie te kort skiet aan die gees en doelstellings van die Grondwet, moet die gemenereg in hierdie rigting ontwikkel word (par. 22). 

In Komape word betoog dat grondwetlike skadevergoeding toegeken moet word omdat die gemenereg nie voorsiening maak vir die emosionele verlies (bereavement of grief) van ’n familie wat ’n lid onder tragiese, onregmatige omstandighede verloor nie. Die hof bevind dat die gemenereg wel indirek die emosionele verlies van familielede in ag neem by die toekenning van skadevergoeding weens ’n emosionele letsel. Gevolglik verskaf die gemenereg ’n toepaslike en effektiewe remedie sonder dat grondwetlike skadevergoeding benodig word (parr. 57–63; sien ook Neethling 2020:532–3). Die holistiese prentjie wat geskets word, is dat grondwetlike skadevergoeding ’n remedie van laaste rang is wat slegs gebruik mag word waar ander bestaande (en ontwikkelde) remedies prakties ondoeltreffend blyk te wees (sien ook Zitzke 2019:827–9).

 

5. Slot 

In Ngomane het die wisselwerking van die prosesreg en gemeenregtelike deliktereg nie tot regshulp vir die slagoffers gelei nie. Om die prosesreg te ontwikkel ten einde voorsiening te maak vir ongelikwideerde skadevergoeding sal moontlik die beginselstruktuur van ons prosesreg ontwrig, wat nie noodwendig die doel van hof-gedrewe grondwetlike regsontwikkeling is nie (sien veral Carmichele v Minister of Safety and Security 2001 4 SA 938 (KH) par. 55). Dus was die toekenning van grondwetlike skadevergoeding in werklikheid ’n deliktuele remedie van laaste rang in Ngomane. In die geheel, is Ngomane se bevinding konsekwent met Mboweni en Komape, asook wat ons oor die algemeen kan beskryf as ’n grondwetlik-transformatiewe benadering tot bronne van die deliktereg en regshulp. Om daardie redes word die appèlhofuitspraak verwelkom.

Alhoewel ek geargumenteer het dat Ngomane slegs van toepassing behoort te wees op ’n eng spektrum van soortgelyke feite, vervul die beslissing ’n belangrike rol deur ’n gaping te vul wat deur die prosesreg en gemeenregtelike deliktereg geskep is waardeur slagoffers van regskendings andersins bedroë sou afkom. Ngomane mag egter die grondslag lê vir die ontwikkeling van die gemeenregtelike deliktereg in die toekoms in soverre dit die inlywing van nominale en verswaarde skadevergoeding betref. Ek beklemtoon dat in die geval van nie-dringende aksieprosesse waar nominale en verswaarde skadevergoeding geëis word, ’n gemeenregtelike ontwikkeling eers oorweeg moet word voordat ’n mens op die bus van grondwetlike skadevergoeding spring. Dit is egter moontlik ’n transformatiewe ontwikkeling wat ons gemeenregtelike deliktereg nog in die toekoms sal beleef.

 

Bibliografie

Bailey, J. 2018. Aggravated damages or additional awards of solatium: A distinction without a difference? Edinburgh Law Review, 22(1):29–54. 

Bauer, R.S. 1935. Are small compensatory damages merely nominal? Notre Dame Lawyer, 10(2):133–40.

Beever, A. 2003. The structure of aggravated and exemplary damages. Oxford Journal of Legal Studies, 23(1):87–110.

Berryman, J. 2004. Reconceptualizing aggravated damages: Recognizing the dignitary interest and referential loss. San Diego Law Review, 41(4):1521–50. 

Chaskalson, M., G. Marcus en M. Bishop. 2013. Constitutional litigation. In Woolman en Bishop (reds.) 2013.

Dendy, M. Damages. 2018. The law of South Africa. Vol 14. 3de uitgawe. Durban: LexisNexis. 

Fagan, A. 2019. Aquilian liability in the South African law of delict. Kaapstad: Juta. 

Grealish, M.B. 2018. A dollar for your thoughts: Determining whether nominal damages prevent an otherwise moot case from being an advisory opinion. Fordham Law Review, 87(2):733–66.

Klare, K.E. 1998. Legal culture and transformative constitutionalism. South African Journal on Human Rights, 14(1):146–88.

Muller, G., R. Brits, Z-Z. Boggenpoel en J.M. Pienaar. 2019. Silberg and Schoeman’s the law of property. 6de uitgawe. Durban: LexisNexis.

Murphy, J. 2010. The nature and domain of aggravated damages. Cambridge Law Journal, 69(2):353–77.

Neethling, J. 2020. Deliktuele vergoeding weens verlies (“bereavement”) as gevolg van ’n sterfgeval in die familie. LitNet Akademies, 17(1):527–35. https://www.litnet.co.za/vonnisbespreking-deliktuele-vergoeding-weens-verlies-bereavement-as-gevolg-van-n-sterfgeval-in-die-familie/.

Neethling, J. en J.M. Potgieter. 2015. Neethling-Potgieter-Visser law of delict. 7de uitgawe. Durban: LexisNexis.

Okpaluba, C. 2012. Vindicatory approach to the award of constitutional and public law damages: Contemporary Commonwealth developments. Comparative and International Law Journal of Southern Africa, 45(2):127–57.

Slade, B.V. 2019. The effect of avoiding the FNB methodology in section 25 disputes. Obiter, 40(1):36–46.

Theophilopoulos, C., C.M. van Heerden en A. Boraine. 2012. Fundamental principles of civil procedure. 2de uitgawe. Durban: LexisNexis.

Woolman, S. en M. Bishop (reds.). 2013. Constitutional law of South Africa. 2de uitgawe. Kaapstad: Juta.

Zitzke, E. 2016. Realist evolutionary functionalism and extra-constitutional grounds for developing the common law of delict: A critical analysis of Heroldt v Wills 2013 2 SA 530 (GSJ). Tydskrif vir Hedendaagse Romeins-Hollandse Reg, 79(1):103–20. 

—. 2018a. A “constitutionally wanting” obiter on omissions. Tydskrif vir Hedendaagse Romeins-Hollandse Reg, 81(3):497–510.

—. 2018b. “Constitutionally wanting” reasoning in the law of intestate succession: A critique of categorical objectivism, the achievement of inequality, and a jurisprudence of pride. Tydskrif vir die Suid-Afrikaanse Reg, 1:182–196.

—. 2019. Critiquing the Komape decision. Tydskrif vir die Suid-Afrikaanse Reg, 4:814–29.

 

Vir foto’s van ’n soortgelyke geaffekteerde gemeenskap sien:

https://www.timeslive.co.za/news/south-africa/2019-02-19-life-under-the-m2-motorway-in-joburg-filth-drugs-hardship-and-love/

 


LitNet Akademies (ISSN 1995-5928) is geakkrediteer by die SA Departement Onderwys en vorm deel van die Suid-Afrikaanse lys goedgekeurde vaktydskrifte (South African list of Approved Journals). Hierdie artikel is portuurbeoordeel vir LitNet Akademies en kwalifiseer vir subsidie deur die SA Departement Onderwys.

The post Vonnisbespreking: Grondwetlike skadevergoeding as "nominale" en "verswaarde" skadevergoeding in dringende aansoeke appeared first on LitNet.

Vonnisbespreking: Quo vadis ondernemingredding?

$
0
0

Vonnisbespreking: Quo vadis ondernemingredding?
National Union of Metalworkers of South Africa obo Members v South African Airways (SOC) Limited (In Business Rescue) saaknr. J424/20 (AH)

Stefan van Eck, Departement Handelsreg, Universiteit van Pretoria en André Boraine, Fakulteit Regsgeleerdheid, Universiteit van Pretoria

LitNet Akademies Jaargang 17(2)
ISSN 1995-5928

Die artikel sal binnekort in PDF-formaat beskikbaar wees.

 

Abstract

Quo vadis business rescue?

The South African Airways (SAA) has been in business rescue since December 2019. During the rescue process, the business rescue practitioners gave SAA employees a section 189(3) notice to dismiss on grounds of operational requirements in terms of the Labour Relations Act 66 of 1995. In South African Airways Van Niekerk J of the Labour Court held that it was procedurally unfair to issue such a notice before a business rescue plan was tabled in terms of the Companies Act 71 of 2008. This decision was confirmed by Phatshoana J of the Labour Appeal Court. The authors review the historical period during which labour law has influenced the fields of insolvency and company law before they consider whether the Labour Court was correct in its interpretation of the Companies Act. We also mention instances where the Labour Appeal Court placed the emphasis on particular aspects. The South African Airways case is yet another example of where the courts had to grapple with the alignment of the provisions of different legal disciplines and the decisions provide suggestions to business rescue practitioners and policy makers following this ruling. 

Keywords: business rescue plan; business rescue practitioner; business rescue process; Companies Act; dismissal based on operational requirements; Labour Relations Act; section 189(3) notice; South African Airways

Trefwoorde: artikel 189(3)-kennisgewing; Maatskappywet; ondernemingreddingsplan; ondernemingreddingspraktisyn; ondernemingreddingsverrigtinge; ontslag weens operasionele redes; Suid-Afrikaanse Lugdiens; Wet op Arbeidsverhoudinge

 

1. Inleiding

Die Suid-Afrikaanse Maatskappywet 71 van 2008 (die Maatskappywet) is meer as ’n dekade gelede herskryf en is op 1 Mei 2011 in werking gestel (Delport 2019:442). Die oogmerke van die Maatskappywet sluit onder andere in die doeltreffende ondernemingredding en herstel van maatskappye wat finansieel in nood verkeer (art. 7). Hierdie doelstelling gaan hand aan hand met die belangrike beginsels van ekonomiese groei, werkskepping, die behoud van bestaande werksgeleenthede en oorwegings van maatskaplike geregtigheid.

In die saak onder bespreking het regter Van Niekerk van die Arbeidshof onlangs beslis dat ’n ondernemingreddingspraktisyn (reddingspraktisyn) werknemers nie weens operasionele redes mag ontslaan voordat daar ’n ondernemeningreddingsplan (reddingsplan) opgestel is wat vir sodanige afleggings voorsiening maak nie. Hierdie uitspraak is in South African Airways (SOC) Limited (In Business Rescue) v National Union of Metalworkers of South Africa obo Members 2020–07–09 saaknr. JA32/2020 (AAH) gelyk gegee. Die Arbeidshof se uitspraak het felle kritiek ontlok en die doel van die bespreking is om hierdie uitspraak te ontleed en om aanbevelings te maak oor hoe die uitspraak in die praktyk toegepas moet word. Daar word slegs enkele opmerkings oor die Arbeidsappèlhofuitspraak gemaak in soverre dit iets van waarde vir dié bespreking byvoeg.

South African Airways (AH) word teen die agtergrond van tersaaklike beginsels van die insolvensie- en ondernemingreddingsreg bespreek soos dit tans in die Suid-Afrikaanse reg toepassing vind.

 

2. Die status van werknemers in insolvensie en ondernemingreddingsreg 

2.1 Insolvensiereg 

Ongeveer 20 jaar gelede is daar wysigings aan die Insolvensiewet 24 van 1936 aangebring wat onder andere daarop gemik was om die status van werknemers te verbeter in omstandighede wanneer die boedel van die werkgewer gesekwestreer is of in die geval waar ’n maatskappy of beslote korporasie vanweë die onvermoë om skuld te betaal, gelikwideer is (Boraine en Van Eck 2003:1840). Hierdie wysigings is aangewakker deur artikel 23(1) van die Grondwet van 1996 wat die reg op billike arbeidspraktyke as ’n fundamentele reg bevorder (Van Eck, Boraine en Steyn 2004:902). Daar moet ook op gelet word dat Suid-Afrika toe nog nie ’n behoorlike ondernemingreddingskultuur of -proses gehad het wat daarop gerig was om ondernemings wat werksgeleenthede bied, te probeer rehabiliteer eerder as om dit te likwideer nie. Hierdie ontwikkelings het ’n hele paar jaar gelede plaasgevind voordat die Maatskappywet nuwe ondernemingreddingsprosesse na Suid-Afrika gebring het (Loubser 2010:2–3). 

Wat die insolvensiereg aanbetref, het artikel 38 van die Insolvensiewet voorheen bepaal dat dienskontrakte met die aanvang van sekwestrasie of likwidasie van die werkgewer summier en deur regswerking beëindig word. Wat die arbeidsreg betref, het die Wet op Arbeidsverhoudinge 66 van 1995 (WAV) egter wel gepoog om die status van die werknemers van insolvente werkgewers te beskerm. Artikel 197 het bepaal dat indien die besigheid van ’n insolvente werkgewer na ’n nuwe werkgewer as ’n lopende onderneming oorgedra is, die voormalige werknemers se dienskontrakte na die nuwe werkgewer sou oorgaan. Hierdie bepaling het tot vele uitlegprobleme aanleiding gegee. Artikel 38 van die Insolvensiewet het immers bepaal dat dienskontrakte in die gesketste omstandighede beëindig sou word. Hierdie kwessie het tot verdere regshervorming gelei (vgl. SA Agricultural Plantation & Allied Workers Union v HL Hall & Sons Group Services Ltd (1990) 20 ILJ 399 (AH); Lombard en Boraine 1999:300). 

Voormelde regshervormingsproses was daarop gemik om in die geval van hul werkgewers se insolvensie ’n verbeterde maatskaplike pakket aan werknemers te bied (Kunst e.a. 2019, par. 5.21.10; Bertelsmann e.a. 2019, par. 12.6). Die nuwe pakket het ingesluit dat dienskontrakte na die wysiging van artikel 38 van die Insolvensiewet met die aanvang van sekwestrasie of likwidasie opgeskort word. Die werknemers ontvang voorts werkloosheidversekeringstoelae tydens sodanige periode van opskor­ting, waartydens hulle ook nie hul dienste hoef aan te bied nie. Voormelde artikel 197 van die WAV is ook gewysig om voorsiening daarvoor te maak dat werknemers, of hul verteenwoordigers, geregtig is om kennis van die sekwestrasie- of likwidasie-aansoek te ontvang. Die voormalige artikel 100 van die Insolvensiewet is ook deur artikel 98A vervang wat die voorkeureise van werknemers teen die insolvente boedel van die werkgewer verbeter het. Hierdie pakket het vanaf 1 Januarie 2003 gegeld, hoewel sommige van die bepalings al reeds voor hierdie datum in werking getree het (Boraine en Van Eck 2003 ILJ 1840; Kunst e.a. 2019, par. 5.21.10).

Wat was die beweegrede vir die wysiging van artikel 38 van die Insolvensiewet? Om die vraag te beantwoord, moet eers daarop gelet word dat artikel 38(4) van die Insolvensiewet die finale kurator of likwidateur magtig om dienskontrakte onderworpe aan sub­artikels 38(5) en 38(7) van die Insolvensiewet te beëindig. Die dienskontrakte mag egter nie beëindig word tensy die kurator of likwidateur eers in konsultasies met relevante partye, soos geregistreerde vakbonde, getree het nie met die oog daarop om voorstelle ter behoud of redding van die besigheid te ontvang (art. 38(5)).

Tensy die kurator of likwidateur en ’n werknemer ooreengekom het op die voortgesette indiensneming van sekere werknemers, word alle opge­skorte dienskontrakte outomaties 45 dae na die aanstelling van die finale kurator of likwidateur beëindig (art. 38(6)). Artikel 197A van die WAV bepaal egter steeds dat waar die onderneming selfs in sulke omstandighede as ’n lopende saak aan ’n nuwe werkgewer uit die insolvente boedel oorgedra word, die dienskontrakte (of voormalige dienskontrakte) deur regswerking na die nuwe eienaar oorgedra word.

Ter samevatting moet daarvan kennis geneem word dat hierdie pakket van wysigings bykans 20 jaar gelede, en ook voor die invoering van ondernemingredding in die Maatskappywet van 2008, plaasgevind het. Dit was reeds ’n duidelike boodskap van beleidmakerskant: Onder die vaandel van billike arbeidspraktyke was die vertrekpunt dat werknemers tydens sekwestrasie en likwidasie op beter beskerming geregtig behoort te wees.

2.2 Ondernemingredding

Tesame met ontwikkelings in die insolvensiereg het die Maatskappywet in 2011 ondernemingredding ingevoer wat ook die regte van werknemers voorop stel. Die behoud van werksgeleenthede is van groot belang ingevolge hierdie proses. (Oor die proses in die algemeen, sien Kunst e.a. 2019, hfst. 18.)

Ondernemingredding kan deur ’n besluit van die direkteure of deur ’n hofbevel geïnisieer word (artt. 129 en 131 van die Maatskappywet). Die proses is geskik ? gepas? indien die maatskappy in finansiële nood verkeer en dit blyk dat daar ’n redelike vooruitsig is om die maatskappy te rehabiliteer sodat dit weer as ’n solvente onderneming kan voortgaan, of andersins, indien die instel van die ondernemingredding ’n beter opbrengs aan skuldeisers sal bied as wat die geval sou wees indien die maatskappy gelikwideer sou word (vgl. die art. 128(1)(b) definisie van “ondernemingredding”). ’n Reddingspraktisyn word aangestel wat die beheer en bestuur van die maatskappy oorneem (art. 140). Die direkteure verrig voortaan hul take onder beheer van die reddingspraktisyn. Vanaf die aanvang van die ondernemingredding geld ’n moratorium waartydens skuldeisers nie hul eise teen sodanige maatskappy deur gewone regsprosesse kan afdwing nie (art. 133).

Die hooftaak van die reddingspraktisyn is om binne die raamwerk van die Maatskappywet ’n reddingsplan te ontwikkel en in werking te stel. Die skuldeisers is die hoofbelangegroep wat uiteindelik oor die aanvaarding van die reddingsplan moet stem. Werknemers is egter ook in bepaalde omstandighede ’n kategorie van onafhanklike skuldeisers van die maatskappy wat in dié hoedanigheid ’n stem mag uitoefen. Indien dit vir die reddingspraktisyn sou blyk dat die reddingspoging nie kan slaag nie, moet stappe gedoen word om die maatskappy te likwideer (art. 141(2)).

Werknemers geniet sekere regte ingevolge die bepalings van die Maatskappywet. Eerstens: Werknemers se dienskontrakte wat tydens die aanvang van die ondernemingredding bestaan het, bly van krag behalwe indien dit ingevolge statutêre bepalings beëindig word (art. 136(1) van die Maatskappywet). Tweedens: Werknemers het ’n spesiale voorkeureis met betrekking tot hul vergoeding en ander eise wat na aanvang van ondernemingredding betaalbaar raak, welke bedrae as na-aanvangsfinansiering ’n voorkeur geniet. Derdens: Ten opsigte van sodanige eise wat voor aanvang van die reddingsverrigtinge ontstaan het, word die werknemers as onversekerde voorkeurskuldeisers hanteer. Vierdens: Vakbonde wat enige werknemers van die onderneming verteenwoordig, of daardie werknemers wat nie aldus verteenwoordig word nie, is self ingevolge artikel 144(3)(a)–(f) geregtig op die volgende: 

  • om aan enige hofverrigtinge deel te neem wat tydens die reddingsverrigtinge kan ontstaan
  • om ’n komitee van werknemerverteenwoordigers te vorm
  • om tydens die ontwikkeling van die reddingsplan deur die reddingspraktisyn geraadpleeg te word, en voldoende geleentheid te kry om enige sodanige plan te hersien en ’n voorlegging soos beoog in artikel 152(1)(c) op te stel
  • om teenwoordig te wees op, en ’n voorlegging te doen aan, die vergadering van die houers van stemdraende belange voordat daar oor enige voorgestelde reddingsplan, soos beoog in artikel 152(1)(c), gestem word
  • om tesame met skuldeisers te stem oor ’n mosie om ’n voorgestelde reddingsplan goed te keur, in die mate waarin die werknemer ’n skuldeiser is, soos beoog in subartikel 144 (1)
  • indien die voorgestelde reddingsplan verwerp word, om voorstelle te maak vir ’n alternatiewe plan of om ’n aanbod te maak om die belange van een of meer geaffekteerde persone te verkry, op die wyse soos beoog in artikel 153. 

Die reddingspraktisyn is in die algemeen geregtig om tydens ondernemingredding die werking van kontrakte geheel of gedeeltelik op te skort, of met instemming van die hof te beëindig. Hierdie bevoegdheid geld egter nie ten opsigte van bestaande dienskontrakte nie (art. 136(2)A). Soos in paragraaf 3.4 hier onder volledig bespreek, het die uitleg van artikel 136(1)(a) en (b) egter verskillende vraagstukke na vore gebring.

’n Reddingsplan moet voldoen aan al die voorskrifte van die Maatskappywet en dit moet in beginsel binne 25 besigheidsdae na die reddingspraktisyn se aanstelling gepubliseer word, behalwe indien die hof, of die meerderheid van skuldeisers ingevolge artikel 150(5), tot ’n langer tydperk instem.

’n Vergadering om die toekoms van die maatskappy te bespreek moet binne tien besigheidsdae na publikasie van die reddingsplan gehou word, waarvoor minstens vyf besigheidsdae kennis aan geaffekteerde persone gegee moet word (art. 150(1), (2)). Die reddingsplan kan dan aangeneem word by wyse van ’n stem, en stemdraende belange word bepaal deur die waarde van ’n skuldeiser se eis soos voorsien in artikel 145(4).

2.3 Samevatting

Deur die ontwikkeling van werknemersregte na aanleiding van bogenoemde wysigings aan insolvensieregbepalings en met die invoering van ondernemingredding in die Maatskappywet saam te vat, kan die slotsom bereik word dat daar ’n duidelike klem op die behoud van ondernemings met gepaardgaande werksgeleenthede waargeneem kan word. Werknemers en hul vakbonde geniet besondere beskerming en hulle kan ’n beduidende rol tydens ondernemingredding speel. Artikel 23(1) van die Grondwet het as inspirasie vir hierdie wysigings gedien en dit sou verwag kon word dat dit ook ’n rol sal speel by die uitleg van ondernemingreddingsbepalings in soverre dit werknemers se posisie raak.

 

3. Uitspraak

3.1 Die feite, die regsvraag en die beslissing 

Die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) verkeer die afgelope aantal jare onder geweldige finansiële druk. In die onlangse verlede het die SAL oorleef slegs omdat sy enigste aandeelhouer, die Suid-Afrikaanse regering, groot bedrae geld in die onderneming gestort het. Die SAL is op 5 Desember 2019 onder ondernemingredding geplaas. Ten einde onkostes te besnoei het die betrokke reddingspraktisyns op 6 Februarie 2020 vlugte en dienste op verskeie internasionale en binnelandse roetes verminder.

Teen middel-Februarie 2020 het die National Union of Metalworkers of South Africa en die South African Cabin Crew Association (applikante, of die vakbonde) ’n dringende aansoek by die Arbeidshof ingedien en aangevoer dat die besluit om vlugte te verminder, nietig was. Die rede hiervoor, so is beweer, was dat die reddingspraktisyns nog nie ingevolge artikel 189(3) van die WAV ’n uitnodigingskennisgewing om oor personeelvermindering te konsulteer, uitgereik het nie. Regter Moshoana van die Arbeidshof wys die aansoek van die hand. Die hof beslis dat alhoewel die reddingspraktisyns aanvaar het dat werkverliese onvermydelik is, hulle nog nie ingevolge artikel 189(3) van die WAV die afdanking van werknemers beoog (contemplate) het nie.

Die reddingspraktisyns het op 9 Maart 2020 ’n artikel 189(3)-kennisgewing uitgereik. Sodanige kennisgewing dien as sneller en voorvereiste vir enige personeelvermindering ingevolge die WAV. Op die oog af moes dié kennisgewing die beswaar van die vakbonde tydens die aansoek om ’n interdik uit die weg geruim het. Weens die SAL se grootte het hierdie beoogde aflegging onder ’n grootskaalse aflegging ingevolge artikel 189A van die WAV geval. Dit het tot gevolg dat die Arbeidshof ’n toesighoudende rol beklee (art. 189A(13)). Hierdie bepaling magtig die Arbeidshof om tydens sodanige afleggings in te gryp deur bevele uit te reik wat ten opsigte van prosedurele onbillike afleggings halt roep.

Soos wetlik voorgeskryf, is senior kommissarisse van die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA) as fasiliteerders aangestel en die 60-dae- statutêre moratorium op afleggings gedurende die fasiliteringstydperk het in werking getree (art. 189A(3), (7)). Die COVID-19-pandemie het egter die reddingsproses ontwrig. Op 15 Maart 2020 het die President ’n nasionale ramptoestand verklaar wat tot ’n reisverbod en die sluiting van lughawens aanleiding gegee het. Op 20 Maart 2020 het die reddingspraktisyns aangekondig dat die reddingsplan ingevolge die Maatskappywet tot 29 Mei 2020 uitgestel is.

Die KVBA se fasiliteerders het gepoog om bemiddelingsvergaderings tussen die SAL en die vakbonde te belê. Die vakbonde het egter geweier om aan die vergaderings deel te neem. Hulle het aangedring dat die konsultasieproses voortydig was, aangesien die reddingspraktisyns nog nie ’n reddingsplan voorgelê het nie.

Volgens die reddingspraktisyns het die reddingsproses teen daardie tyd reeds misluk. Hulle het tot die slotsom gekom dat daar slegs een van twee opsies was, naamlik enersyds ’n ontbindingsproses (winding-down) wat die beëindiging van werknemers se kontrakte deur middel van ooreenkoms sou behels, of andersyds ’n aansoek om die likwidasie van die SAL (South African Airways AH parr. 9, 19).

Die reddingspraktisyns het intussen ’n aanbod aan SAL-werknemers gerig om vrywillige skeidingspakkette te aanvaar. Enkele werknemers het dit aanvaar. Die vakbonde het egter ’n aansoek by die Arbeidshof ingedien om die vermelde artikel 189(3)- kennisgewing van 9 Maart 2020 tersyde te stel. Dit het die hof genoop om die billikheid van die afleggingsproses onder die loep te neem. 

Die vakbonde het aangevoer dat sowel die aanbod vir vrywillige skeidingspakkette as die konsultasieproses wat op 9 Maart 2020 by die SAL begin is, prosedureel onbillik was. Hulle het geargumenteer dat enige kennisgewing van die aanvang van konsultasies ingevolge artikel 189(3) van die WAV ongeldig, of in die alternatief onbillik is, tensy en totdat ’n reddingsplan vir oorweging aan die skuldeisers aangebied is. Dit was gemene saak dat geen ondernemingreddingsplan op daardie stadium gefinaliseer was nie.

Die kernvraag was dus of ’n reddingspraktisyn wat kragtens die Maatskappywet aangestel is, toegelaat word om werknemers te ontslaan weens die bedryfsvereistes van die werkgewer voordat ’n reddingsplan wat afleggings in die vooruitsig stel, daargestel is. Die reddingspraktisyns het aangevoer dat daar geen beperking op hulle is om die SAL-werknemers af te lê voor die opstel van ’n reddingsplan nie en die vakbonde wou die teendeel bewys. 

Die Arbeidshof het op 7 Mei 2020 uitspraak gelewer waarin die SAL se kennisgewing ingevolge artikel 189(3) van die WAV nietig verklaar is weens die nienakoming van artikel 136(1) van die Maatskappywet. Regter Van Niekerk bevind ingevolge artikel 189A(13) van die WAV dat dit vir ’n reddingspraktisyn prosedureel onbillik is om ’n artikel 189(3)-kennisgewing uit te reik voor die daarstelling van ’n reddingsplan. Die regter verduidelik in ’n obiter dictum dat “it may well be that the production of a business rescue plan, even in draft form is sufficient” (South African Airways AH par 34). Soos reeds vermeld, is hierdie uitspraak op 9 Julie 2020 deur die Arbeidsappèlhof bevestig.

3.2 Jurisdiksie en belange-oorwegings

Die reddingspraktisyns het beweer dat die Arbeidshof nie die magtiging het om aangeleenthede wat uit die Maatskappywet voortspruit, te bereg nie (South African Airways AH par. 4). Dit was hul standpunt dat arbeidshowe se funksies tot die uitleg en toepassing van arbeidswetgewing beperk word. Die Arbeidshof het sonder gewag, en heeltemal tereg, korte mette met die jurisdiksionele argument gemaak. Dit is heeltemal korrek dat Suid-Afrika se arbeidshowe nie met inherente jurisdiksie soortgelyk aan dié van die hoë siviele howe beklee is nie. Gevolglik kan arbeidshowe nie uitvoering aan wetgewing soos die Maatskappywet gee waar sodanige magtiging nie uitdruklik in die wetgewing vervat is nie. Die oorsprong van hierdie aansoek was egter nie die Maatskappywet nie, maar artikel 189A(13) van die WAV, wat aan die Arbeidshof ’n inmiddelse bevoegdheid gee om oor die billikheid, en nie die regmatigheid nie, van werkgewers se afleggingsprosesse toesig te hou. Die Konstitusionele Hof het dit reeds by ’n vorige geleentheid bevestig dat die arbeidshowe se jurisdiksie gemoeid is met die billikheid van werkgewers se optredes en nie met die geldigheid of regmatigheid daarvan nie (vgl. Steenkamp v Edcon Ltd 2016 37 ILJ 564 (KH)). 

Die reddingspraktisyns se volgende argument was dat indien die vakbonde se aansoek in hierdie saak sou slaag, dit die ontbinding, of likwidasie, van die SAL uitstel, wat uiteindelik hul finansiële verknorsing sou verdiep. Dit sou uiteindelik tot skuldeisers en werknemers se nadeel strek (South African Airways AH par. 23). Hul argument het voorts gelui dat indien die afleggings opgeskort sou word totdat ’n reddingsplan voorgelê is, dit dan die belange van werknemers verkeerdelik tot bo dié van ander belanghebbers soos skuldeisers en aandeelhouers sou verhef (South African Airways AH par. 34). 

Die reddingspraktisyns het twee nuwe jurisdiksionele argumente by the Arbeidsappèlhof geopper. Eerstens: Artikel 133(1) van die Maatskappywet verbied enige regsverrigtinge teen ’n maatskappy wat onder ondernemingredding is, tensy die reddingspraktisyns uitdruklik tot sodanige regstappe toestemming verleen. Regter Phatshoane het die onderliggende vraag tot hierdie argument oopgelaat deur te bevind dat die reddingspraktisyns hierdie beswaar reeds tydens die Arbeidshofverrigtinge moes geopper het (South African Airways AAH par. 19). Tweedens: Artikel 189A(17) van die WAV vereis dat enige aansoek ingevolge artikel 189A(13) ingedien moet word binne 30 dae na kennisgewing van die diensbeëindiging van werknemers se dienskontrakte weens ’n aflegging. Die Arbeidsappèlhof het hierdie argument ook verwerp. Regter Phatshoane beslis dat artikel 189A se algemene raamwerk ’n situasie beoog ingevolge waarvan die arbeidshowe ’n oorkoepelende toesighoudingsrol vervul wat enige tyd tydens afleggings uitgeoefen kan word (vgl. South African Airways AAH par. 18; Banks v Coca-Cola SA – A division of Coca-Cola Africa (Pty) Ltd 2007 28 ILJ 2748 AH). Hierdie bykomende argumente voor die Arbeidsappèlhof het derhalwe geen invloed op die uitkoms van die saak gehad nie.

3.3 Grondwetlike uitleg

Regter Van Niekerk benadruk van meet af dat artikel 136(1) doelgerig (purposively) teen die agtergrond van Suid-Afrika se grondwetlike bedeling geïnterpreteer moet word. Artikel 23(1) van die Grondwet bepaal dat elkeen die reg op billike arbeidspraktyke het. Die Konstitusionele Hof het in 2003 bevestig dat werksekerheid (security of employment) ’n onderliggende element van elkeen se reg op billike arbeidspraktyke is (vgl. National Education Health & Allied Workers Union (NEHAWU) v University of Cape Town 2003 3 SA 1 (KH) par. 42). Dit is hierdie vertrekpunt wat die regter oorgehaal het om te bevind dat “if there is an interpretation of s 136(1) that better promotes the preservation of work security, that interpretation ought to be preferred” (South African Airways AH par. 28). Die hof vat voorts Suid-Afrika se hedendaagse wetsuitlegreëls soos volg saam (South African Airways AH par. 26):

In Cool Ideas 1186 CC v Hubbard and Another 2014 (4) SA 474 (CC), the Constitutional Court set out the canons of interpretation of statute in the modern era: ... the words in a statute must be given their ordinary grammatical meaning, unless to do so would result in an absurdity. There are three important interrelated riders to this general principle, namely:

      1. that statutory provisions should always be interpreted purposively;
      2. the relevant statutory provision must be properly contextualised; and
      3. all statutes must be construed consistently with the Constitution, that is, where reasonably possible, legislative provisions ought to be interpreted to preserve their constitutional validity. 

In die bespreking wat volg is dit duidelik dat South African Airways AH presies hierdie metode van wetsuitleg as padkaart gevolg het. Hierdie benadering is in die breë ook deur the Arbeidsappèlhof gevolg. Regter Phatshoane voeg egter by dat dit verkeerd sou wees om ter wille van ’n doelgerigte konstitusionele uitleg die ondubbelsinnige woorde van die Maatskappywet te ignoreer (South African Airways AAH par. 27). Ons sê meer hieroor in paragraaf 3.5. 

Tensy daar met die grondwetlike benadering fout gevind word, sal dit moeilik wees om regverdiging te vind waarom die Arbeidshof se beslissing verkeerd is. Die Grondwet stel dit onomwonde dat alle howe die beginsels soos in die Handves van Menseregte vervat in ag moet neem wanneer wetgewing geïnterpreteer word (art. 39). Artikel 23(1) van die Grondwet maak uitdruklik vir die beskerming van werknemersregte voorsiening, terwyl daar nie soortgelyke voorsiening vir die beskerming van skuldeisers en aandeelhouers se belange in die Grondwet bestaan nie (Van Niekerk en Smit 2019:41).

3.4 Artikel 136(1) van die Maatskappywet

Die artikel waaroor die saak gehandel het, bepaal soos volg:

136. Uitwerking van ondernemingredding op werknemers en kontrakte. – 

(1) Ongeag enige bepaling van ’n ooreenkoms tot die teendeel –

(a) bly werknemers van die maatskappy onmiddellik voor die aanvang van daardie verrigtinge tydens ’n maatskappy se ondernemingreddingsverrigtinge op dieselfde bepalings en voorwaardes in diens, behalwe in die mate dat –

(i) veranderings in die gewone gang van natuurlike afname plaasvind; of
(ii) die werknemers en die maatskappy, ooreenkomstig toepaslike arbeidswetgewing, op verskillende bepalings en voorwaardes ooreenkom; en

(b) is enige afdanking van enige sodanige werknemers beoog in die maatskappy se ondernemingreddingsplan onderhewig aan artikels 189 en 189A van die Wet op Arbeidsbetrekkinge, 1995 (Wet No. 66 van 1995), en ander toepaslike indiensnemingsverwante wetgewing. (Beklemtoning bygevoeg.)

Soos hier bo vermeld, moet woorde van ’n statuut hul normale betekenis gegee word. Regter Van Niekerk beklemtoon dat artikel 136(1) uit twee dele bestaan. In die eerste deel bevestig artikel 136(1)(a) dat alle werknemers van die maatskappy wat onmiddellik voor die aanvang van die ondernemingredding in diens was, geregtig is op dieselfde bepalings en voorwaardes wat voor die proses van toepassing was. Die Arbeidshof verwys hierna as die verstekstand van sake (default position; South African Airways AH par. 26).

In die woorde van 136(1)(a), “[O]ngeag … ’n ooreenkoms tot die teendeel – … bly werknemers van die maatskappy onmiddellik voor die aanvang van daardie verrigtinge … op dieselfde bepalings en voorwaardes in diens.” Met ander woorde, tensy ’n andersluidende ooreenkoms bereik word, mag werknemers nie tydens besigheidsredding afgelê word nie. Daar is egter twee uitsonderings op hierdie beginsel. Dit is toelaatbaar dat “veranderings in die gewone gang van natuurlike afname” mag plaasvind (art. 136(1)(a)(i)) en die werknemers en die maatskappy mag op alternatiewe bepalings en voorwaardes ooreenkom (art. 136(1)(a)(ii)).

Die hof merk op dat daar ’n oënskynlike teenstrydigheid, of spanning, tussen die eerste en die tweede deel van die artikel bestaan. Artikel 136(1)(b) bepaal dat wanneer enige afdanking van werknemers plaasvind, soos “beoog in die maatskappy se ondernemingreddingsplan”, dan moet dit plaasvind onderhewig aan artikels 189 en 189A van die WAV. Hoe word die verstekstand van sake, wat geen afleggings toelaat nie, en die afleggings wat ingevolge die tweede deel vermeld word, met mekaar versoen?

Die vakbonde het geargumenteer dat die tweede deel slegs na afloop van die ondernemingreddingsproses ter sprake kan kom (South African Airways AH par. 33). Artikel 132(2) van die Maatskappywet bepaal dat dit plaasvind wanneer ’n reddingsplan voorgestel en deur die belanghebbendes afgekeur is, of wanneer ’n reddingsplan aanvaar en aan uitvoering gegee is.

Regter Van Niekerk stem nie volkome met die vakbonde se argument saam nie. Die hof was nie daarvan oortuig dat personeelvermindering eers na afloop van die ondernemingreddingsproses mag plaasvind nie. Die regter gee egter die vakbonde gelyk in soverre daar ten minste eers ’n reddingsplan ter tafel gelê moet word wat afleggings in die vooruitsig stel alvorens daar met enige afleggingsproses begin mag word. Artikel 136(1)(b) bepaal immers dat “enige afdanking van enige sodanige werknemers beoog in die maatskappy se ondernemingreddingsplan” aan die bepalings van die WAV moet voldoen. Anders gestel: Daar moet ten minste eers in ’n konsepreddingsplan in die vooruitsig gestel word dat werknemers moontlik om operasionele redes ontslaan kan word, alvorens daar ’n artikel 189(3)-kennisgewing gegee mag word (South African Airways AH par. 34). In hierdie geval het daar nog geen reddingsplan van enige aard die lig gesien nie. Volgens die hof is daar ook geen bepaling in die Maatskappywet wat magtiging verleen dat ’n kennisgewing van beoogde afleggings gegee mag word voordat ’n reddingsplan opgestel is nie (South African Airways AH par. 34).

Die Arbeidshof kom tot die gevolgtrekking dat artikel 136(1)(b) vereis dat die nodigheid om weens operasionele oorwegings te ontslaan noodwendig in die reddingsplan gewortel moet wees. Die reddingspraktisyn is nie by magte om werknemers af te lê indien daar nie ’n reddingsplan is nie. Regter Van Niekerk lê ook klem daarop dat die tweede deel, soos vervat in artikel 136(1)(b), nie soos die ander twee gevalle in subartikels 136(1)(a)(i) en (ii) as ’n uitsondering van die verstekposisie aangedui word nie (South African Airways AH par. 35). Aangesien ’n reddingsplan nie aanvaar is teen die datum waarop die kennisgewing van artikel 189(3) uitgereik is nie, staan die hof die bevel toe wat deur die vakbonde aangevra is. 

Die hof het egter die vakbonde se beswaar teen die ooreenkomste met sommige van die werknemers ingevolge waarvan hulle tot afleggingspakkette ooreengekom het, van die hand gewys. Regter Van Niekerk steun heeltemal tereg op een van die uitsonderings van die verstekstand van sake. Artikel 136(1)(a)(ii) bepaal uitdruklik dat die werknemers en ’n maatskappy op alternatiewe bepalings en voorwaardes mag ooreenkom solank dit nie in stryd met ander wetgewing is nie.

3.5 Oogmerke van die Maatskappywet

Met verwysing na die bekende 1920-Appèlhofsaak, Dadoo Ltd v Krugersdorp Municipal Council 1920 AD 530, 543 bevind die Arbeidsappèlhof dat dit verkeerd sou wees om onder die dekmantel van doelgerigte wetsuitleg die ondubbelsinnige bewoording van bestaande wetgewing te ignoreer (South African Airways AAH par. 21). Regter Phatshoane bevind in wese dat dit vir regters onnodig sou wees om antwoorde in ’n doelgerigte uitleg van artikel 136(1) te soek, aangesien die bedoeling om werknemersbelange tydens reddingsverrigtinge ten alle koste te beskerm, duidelik in die Maatskappywet uiteengesit word.

Die Arbeidsappèlhof verwys onder andere na artikel 136(1)(b) wat bepaal dat wanneer enige aflegging van werknemers plaasvind, dit moet geskied soos “beoog in die maatskappy se ondernemingreddingsplan”. Die hof bevind dat die woorde “‘contemplated in the company’s business rescue plan,’ in my view, signifies the existence of a corporate rescue plan which would conceptualise the commercial rationale for the retrenchments of the employees” (South African Airways AAH par. 31).

Die Arbeidsappèlhof bevind voorts dat artikel 150(2) van die Maatskappywet dit duidelik stel dat die reddingsplan onder andere moet uiteensit wat die gevolg van die redding sal wees op die getal werknemers en hul diensvoorwaardes (South African Airways AAH par. 32). Die hof aanvaar die vakbonde se argument wat behels dat om afleggings toe te laat voordat ’n reddingsplan dit in die vooruitsig stel, soortgelyk daaraan sou wees om die spreekwoordelike kar voor die perde te span (South African Airways AAH par. 26). 

3.6 Wisselwerking tussen die twee konsultasieprosesse 

Daar dien op gelet te word dat sowel die WAV as die Maatskappywet vir konsultasieprosesse met die werknemers of hul verteenwoordigers voorsiening maak. Buiten om te bevind dat daar eers eenstemmigheid oor die inhoud van die reddingsplan ingevolge die Maatskappywet moet wees alvorens die WAV se artikel 189(3)- kennisgewing gelewer mag word, het die arbeidshowe in die South African Airways-sake geen verdere duidelikheid oor die wisselwerking tussen die twee konsultasieprosesse gegee nie. 

Artikel 189(1) van die WAV bepaal dat sodra ’n werkgewer die moontlike aflegging van werknemers voorsien, daar met ’n hiërargie van rolspelers geraadpleeg moet word. Dit moet eerstens geskied met diegene wat in ’n kollektiewe ooreenkoms uitgestippel word. Indien daar geen kollektiewe ooreenkoms is wat die kwessie aanspreek nie, moet met ’n werkplekforum gekonsulteer word. Indien daar geen sodanige forum is nie, moet vakbonde wie se lede moontlik deur die aflegging geraak kan word, geraadpleeg word. In die afwesigheid van enige van die voormelde rolspelers moet die werknemers of hul verteenwoordigers direk geraadpleeg word. Die raadplegende partye moet tydens ’n sinvolle en konsensussoekende proses poog om onder andere ooreenkoms te bereik oor: maatstawwe om die ontslag te vermy of om die aantal werknemers wat daardeur geraak sal word, te verminder; die seleksiemaatstaf vir aflegging; en die skeidingsbetalings vir sodanige werknemers (art. 189(2)). Die sneller vir hierdie proses is egter die skriftelike artikel 189(3)-kennisgewing deur die werkgewer wat die ander partye uitnooi om te konsulteer oor die rede vir die ontslag, die alternatiewe wat die werkgewer oorweeg het, die aantal werknemers wat moontlik geraak sal word en dies meer.

Buiten die inhoud waaroor gekonsulteer moet word, beskryf die WAV ook die prosedure. Die werkgewer moet die ander konsulterende partye die geleentheid gee om voorleggings oor die gemelde aspekte te maak (art. 189(5)). Die werkgewer moet die voorleggings oorweeg en indien daar nie met die voorstelle saamgestem word nie, moet redes verskaf word (art. 189(6)(a)). Indien die werknemers of hul verteenwoordigers skriftelike voorstelle gelewer het, moet die werkgewer ook skriftelik daarop reageer (art. 189(6)(b)). 

Wat ondernemingsredding betref, en soos reeds vermeld, het werknemers of hul verteenwoordigende vakbonde na gelang van die geval en ingevolge die Maatskappywet die reg om met die reddingspraktisyn te vergader om geraadpleeg te word en om insette te gee met die oog op die daarstel van die reddingsplan (art. 148, 149 en art. 150(1)). Ingevolge artikel 148(1) van die Maatskappywet moet die reddingspraktisyn binne 10 dae na sy of haar aanstelling ’n eerste vergadering met werknemerverteenwoordigers belê. Die reddingspraktisyn moet voorsit en tydens die vergadering moet die werknemerverteenwoordigers ingelig word of die praktisyn glo dat daar ’n redelike vooruitsig is om die maatskappy te red. Die werknemers mag ook besluit om ’n werknemerskomitee aan te stel (art. 144(3)(c) gm art. 148(1)(b)). Indien saamgestel, is die werknemerskomitee ingevolge artikel 149 daarop geregtig om:

  • die reddingspraktisyn oor enige aangeleentheid rakende die ondernemingreddingsverrigtinge te raadpleeg sonder om aan die praktisyn voor te skryf of opdragte te gee
  • verslae rakende die ondernemingreddingsverrigtinge namens werknemers te ontvang en te oorweeg 

en moet sodanige komitee onafhanklik van die reddingspraktisyn optree om billike en onbevooroordeelde verteenwoordiging van werknemers se belange te verseker.

Die reddingsplan moet ingevolge artikel 150(2)(c)(ii) die uitwerking, indien enige, vermeld wat die reddingsplan moontlik op die werknemertal en die werknemers se diensbepalings en -voorwaardes sal hê. Werknemers het ook die geleentheid om enige konsepreddingsplan te hersien en is dan ook daarop geregtig om ’n voorlegging, soos beoog in artikel 152(1)(c) van die Maatskappywet, voor te hou wanneer die reddingsplan vir goedkeuring oorweeg word. 

Nóg die Maatskappywet nóg die WAV verwys na die wisselwerking tussen die twee konsultasie- of raadplegingsprosesse nadat ’n onderneming onder ondernemingsredding geplaas is. Daar word egter aan die hand gedoen dat met die saamlees van die twee stukke wetgewing, dit tans ondubbelsinnig vereis word dat daar aan beide wette se voorgeskrewe prosesse voldoen moet word. Na aanleiding van die South African Airways-sake is dit ook vir ons duidelik dat die konsultasieproses ter finalisering van die reddingsplan voor die proses ingevolge die WAV moet geskied. Daar word aan die hand gedoen dat die WAV nie die reddingspraktisyn verhinder om tydens inligtingsessies en raadpleging oor die reddingsplan te vermeld dat afleggings ’n moontlikheid is ten einde byvoorbeeld ’n deel van die onderneming te red nie. Werknemers het egter die geleentheid om insette te gee met die oog daarop om die beste bedeling te probeer daarstel. Dit moet egter in ooreenstemming met die oogmerke van artikel 7 van die Maatskappywet geskied wat vermeld dat ondernemingsredding die regte en belange van alle betrokke belanghebbendes in ag moet neem. Daar moet dus gepoog word om alle belanghebbendes se belange in ewewig te bring. Uiteraard geskied hierdie proses teen die agtergrond van ’n onderneming wat reeds in finansiële nood verkeer en gaan al die belanghebbendes nie noodwendig alles kry waarop hul meen hulle geregtig is nie. Die voortgesette indienshouding van al die werkers en die betaling van alle eise van skuldeisers sal dikwels nie moontlik wees nie. Die afweging van belange geskied teen die agtergrond daarvan om die beste van ’n finansieel slegte situasie te probeer maak. Ten spyte daarvan dat dit tot oënskynlike duplisering van konsultasieprosesse aanleiding gee, is dit belangrik dat die reddingspraktisyn die formele artikel 189(3)-uitnodiging eers na afloop van die konsultasies ingevolge die Maatskappywet waartydens die reddingsplan gefinaliseer word, moet rig.

 

4. Alternatiewe benaderings tot die arbeidshowe se standpunt

Die reddingspraktisyns het betoog dat regter Van Niekerk die benadering behoort te volg wat in ’n ander Arbeidshofbeslissing, Solidarity Obo BD Fourie v Vanchem Vanadium Products (Pty) Ltd; In re: National Union of Metalworkers (NUMSA) Obo Members v Vanchem Vanadium Products (Pty) Ltd 2016–03–22 saaknr. J385/16 & J393/16 (Vanchem), gevolg is. In Vanchem het die Arbeidshof ook ’n aansoek ingevolge artikel 189A(13) van die WAV deur vakbonde oorweeg om die billikheid van ’n personeelverminderingsproses te bepaal. In hierdie geval het die vakbonde ter elfder ure by wyse van ’n gewysigde kennisgewing van mosie die argument geopper dat dit ingevolge artikel 136 van die Maatskappywet onregmatig is om werknemers in die afwesigheid van ’n reddingsplan om operasionele redes af te dank. 

In wat duidelik ’n obiter dictum was, het regter Lagrange in Vanchem ook met die interpretasie van artikel 136(1) geworstel wat ’n oënskynlike teenstrydigheid in subartikels 136(1)(a) en 136(1)(b) bevat. Vanchem het beslis dat die twee inderdaad onversoenbaar is, tensy een van die toelaatbare uitsonderings, naamlik die een wat in artikel 136(a)(i) vervat is, vir personeelvermindering voorsiening maak. Hierdie uitsondering bepaal dat ten spyte van die verstekstatus, dit wel toelaatbaar is dat “veranderings in die gewone gang van natuurlike afname [kan] plaasvind”. Regter Lagrange bevind dat enige regmatige personeelvermindering ingevolge die WAV wel by die begrip natuurlike afname inbegryp moet word (Vanchem par. 36).

Die Arbeidshof was reg om nie op hierdie obiter-benadering van Vanchem te steun nie. Die regter het ondersoek ingestel na die begrip veranderings in die gewone gang van natuurlike afname en het korrek bevind dat dit slegs omstandighede soos aftrede en bedankings insluit, maar nie ook regmatige personeelvermindering ingevolge die WAV nie. (Vgl. South African Airways AH par 29 waar die hof steun op Barker en Holtzhausen 1996:10 se beskrywing van attrition of labour om te beteken “[a] natural decrease in the labour force of an enterprise resulting from, inter alia, the death, retirement or voluntary resignation of employees”.)

In die tweede plek het South African Airways AH terloops daarop gewys dat die artikel 189(3)-kennisgewing in Vanchem se geval uitgereik was en fasilitering reeds ingevolge artikel 189A aan die gang was teen die tyd dat die werkgewer onder ondernemingredding geplaas is (South African Airways AH par. 37). Die regter maak nie groot gewag van die feit dat die artikel 189(3)-kennisgewing voor of na die aanvang van die ondernemingreddingsverrigtinge gegee is nie en dat hierdie ’n aangeleentheid is wat nog deurgetrap sal moet word om te bepaal of dit wel ’n verskil aan afleggings gedurende ondernemingreddings sal maak of nie.

Daar is veral uit die geledere van reddingspraktisyns fel kritiek teen regter Van Niekerk se uitspraak gelewer. Badenhorst en Ray het selfs gesê dat die uitspraak reddingspraktisyns sal ontneem van die reg om afleggings te doen en dat dit die einde van ondernemingredding tot gevolg sal hê (vgl. Badenhorst en Rey 2020)

Die skrywers wys daarop dat die Arbeidshof die regsvraag met artikel 23 van die Grondwet as uitgangspunt oorweeg het en byvoorbeeld nie artikel 140(1)(a) van die Maatskappywet in ag geneem het nie. Hierdie bepaling dra die volle bestuursbeheer oor die maatskappy van sy direksie en voorafbestaande bestuur na die reddingspraktisyn oor. Die bevoegdhede bestaan afgesien van die algemene bevoegdhede ingevolge die Maatskappywet tensy dit uitdruklik deur die wet uitgesluit word. Dus lui die argument dat die reddingspraktisyns net soos die direksie die bevoegdheid het om afleggings in werking te stel, solank hulle aan die bepalings van die WAV voldoen. Hierdie punt lei die skrywers dan daartoe om te vra hoekom artikel 136(1)(b) afleggings sou verbied voor ’n reddingsplan aanvaar is. Dit sou, volgens hulle, meer regte aan die werknemers bied as waaroor hulle voor inwerkingstelling van die ondernemingreddingsverrigtinge beskik het en dus neerkom op ’n verontagsaming van die balansering van regte van al die geaffekteerde persone wat deur die ondernemingredding geraak word.

Volgens Badenhorst en Rey bevestig artikel 136(1)(b) slegs dat indien die aanvaarde reddingsplan voorsiening maak vir afleggings, hierdie artikel bloot bevestig dat die maatskappy steeds die WAV moet nakom vir sodanige afleggings, maar nie die reddingspraktisyn se bevoegdhede in dié verband inkort nie. Hulle verwys ook na artikel 150(2)(c)(ii) van die Maatskappywet wat bepaal dat die voorgestelde reddingsplan die uitwerking, indien enige, wat die plan moontlik op die werknemertal en die werknemers se diensbepalings kan hê, moet uiteensit. Dit sal dus ook voorgestelde afleggings moet bevat. Dus is hul slotsom dat die Maatskappywet nie beoog om afleggings voor die reddingsplan te verbied nie, maar slegs om toe te sien dat afleggings wat in sodanige plan beoog word, nie op onbillike of onregmatige wyse geskied nie. 

Verder wys hulle daarop dat die standpunt van die hof tot gevolg sal hê dat vele ondernemingreddingsverrigtinge voortaan kan faal deur die verdere finansiële druk wat dit op die reddingsproses sal plaas. Dit sal byvoorbeeld tot gevolg hê dat die reddingspraktisyns verdere finansiële verpligtinge met betrekking tot die werknemers sal hê wat die uitgawes sodanig sal verhoog dat die reddingspoging nie meer haalbaar mag wees nie. Dit sal veroorsaak dat reddingspraktisyns nie meer die bevoegdheid sal hê om die interimuitgawes van die maatskappy te besnoei met die oog op die daarstel van die redding van die maatskappy nie.

Die hof se standpunt dat ’n vrywillige skeidingspakket voor die daarstel van ’n reddingsplan deur die reddingspraktisyns aan werknemers aangebied kan word voordat sodanige plan voorgelê is, maar dat aflegging dan volgens die hof verbied is, maak nie vir die skrywers sin nie. Hulle slotsom is dat die werknemers se regte beskerm word, maar dat dit nie ’n moratorium op afleggings insluit soos deur die hof beslis nie. In dié opsig, en om die redes aangevoer, is die uitspraak dus volgens Badenhorst en Rey verkeerd. Nietemin is die standpunte van die skrywers natuurlik nou, en veral na die uitspraak van die AAH, vir eers van bloot akademiese belang. Reddingspraktisyns sal voortaan hul praktyke in die lig van die bestaande uitleg van artikel 136(1)(b) van die Maatskappywet moet rig.

 

5. Ontleding 

Die Arbeidsappèlhof het reeds bevind dat die beslissing van die Arbeidshof korrek was. Daar word betwyfel dat die reddingspraktisyns op konstitusionele gronde teen hierdie uitspraak sal appelleer. Die Arbeidshof het egter ’n aantal belangrike kwessies belig en die laaste woord is nog nie oor hierdie aangeleenthede gespreek nie. 

Die bepalings rakende ondernemingredding is tot die Maatskappywet toegevoeg gedurende ’n ontwikkelingsfase van die Suid-Afrikaanse reg waartydens werknemersregte uitgebrei is, en aansluitende dissiplines soos insolvensiereg en maatskappyreg is sterk hierdeur beïnvloed. Dit behoort reddingspraktisyns dus nie te verras dat bepalings soos hierdie in die Maatskappywet grotendeels vir werknemers, en nie die skuldeisers en die aandeelhouers nie, sal bevoordeel.

Bykomend hiertoe skep die Grondwet ’n raamwerk vir wetsuitleg wat noukeurig deur die Arbeidshof nagevolg is. Die Handves vir Menseregte plaas besondere klem op die beskerming van werknemersregte, en dieselfde kan nie ten opsigte van die regte van werkgewers, skuldeisers en aandeelhouers gesê word nie. Soos deur die Arbeidsappèlhof beklemtoon is, is die bewoording van die Maatskappywet duidelik in soverre dit werknemersregte tydens reddingsverrigtinge voorop stel. 

Dit is egter ons standpunt dat die wetsopstellers van die reddingsbepalings in die Maatskappywet wel groter duidelikheid ten opsigte van die wisselwerking van die artikel 189(3)-kennisgewing in die WAV en die totstandkoming van die reddingsplan kon gebied het. Hierdie toedrag van sake het daartoe aanleiding gegee dat die verantwoordelikheid om een of ander sinvolle uitleg aan twee oënskynlik botsende bepalings in artikel 136(1) met mekaar te versoen, op die skouers van ons regters geplaas is. In konteks van die spesifieke bewoording van die Maatskappywet teen die agtergrond van Suid-Afrika se wetsuitlegmodel kan daar egter nie fout gevind word met die uitspraak nie.

Soos sake tans staan, is dit duidelik dat reddingspraktisyns wel onder verhoogde druk geplaas word. Wanneer die verpligtinge van werkgewers in normale omstandighede by personeelvermindering ingevolge die WAV met dié van reddingspraktisyns tydens ondernemingredding met mekaar vergelyk word, is daar duidelik meer vereistes wat op reddingspraktisyns geplaas word. Tydens artikel 189-afleggings is daar bloot ’n verpligting om kennis van beoogde afleggings te gee; daar moet behoorlik met die aangewese verteenwoordigers gekonsulteer word en alternatiewe tot afleggings moet behoorlik oorweeg word. Daar word egter geen addisionele verpligting op hulle geplaas om eers op ’n volhoubaarheidsplan, of ’n ooreenkoms dat dit nodig is om af te lê, of iets dergeliks, tot stand te bring nie. Buiten die vereistes van artikel 189 waaraan voldoen moet word, word dit tans van reddingspraktisyns verwag om ’n reddingsplan te formuleer alvorens daar met afleggings begin mag word.

Daar dien op gelet te word dat regter Van Niekerk bloot aangedui het dat ’n kennisgewing deur die reddingspraktisyn om ’n konsultasie ingevolge artikel 189 of 189(A) te lewer voortydig sou wees en prosedurele onbillikheid sou daarstel in die afwesigheid van ’n reddingsplan. Die regter het egter versuim om dit duidelik te maak of sodanige plan ’n reddingspraktisyn se voorgestelde plan sou kon insluit, en of dit slegs ’n reeds goedgekeurde plan behels (South African Airways AH par. 34). Dit kom dus voor of daar onduidelikheid oor hierdie belangrike aspek kan ontstaan wat óf deur verdere gewysdes óf deur die wetgewer uit die weg geruim sal moet word.

Dit is nie die taak van ons regters om beleidsoordele te vel oor die vraag of die reddingsmodel waarop die argitekte van die Maatskappywet ooreengekom het, goed of sleg vir die instelling van ondernemingredding is nie, selfs al steek daar waarheid in Badenhorst en Rey se waarskuwings dat die interpretasie wat die hof aan artikel 136(1) van die Maatskappywet verleen het, ’n groot terugslag vir ondernemingredding sal wees aangesien die belange van werknemers, skuldeisers en aandeelhouers nie gepas gebalanseer word nie. Dit bly immers die rol van beleidsmakers en nie van ons regters nie om sodanige beleidsake reg te stel.

Dit kan egter toegegee word dat ’n moontlike punt van kritiek teen die uitspraak kan wees dat ten spyte van die standpunt van die hof dat dit slegs die rol van die Arbeidshof is om die billikheid van afleggingsprosesse te evalueer, die hof hoofsaaklik op regmatigheids- en wetlikheidsoordele konsentreer. Die hof kon egter, soos wat dit in billikheidsondersoeke gepas is, op al die omringende omstandighede ag geslaan het. Die hof het byvoorbeeld nie veel klem gelê op die feit dat dit die vakbonde se aanvanklike beswaar was dat daar geen artikel 189(3)-kennisgewing gegee is voordat vlugte gekanselleer is nie. Dit is ook nie in die uitspraak in ag geneem dat die vakbonde duidelike pogings aangewend het om die fasiliteringsprosesse deur die KVBA in die wiele te ry nie.

Soos aangetoon, word die uitspraak van die Arbeidshof, soos deur die Arbeidsappèlhof gehandhaaf, wel in beginsel gesteun. Daar is belangrike lesse vir reddingspraktisyns in die uitsprake opgesluit. Ten spyte van die duidelikheid wat die uitsprake van die arbeidshowe gebring het, is daar steeds aspekte wat die wetgewer beter kan reguleer, soos hier onder kortliks aangedui.

 

6. Quo vadis reddingspraktisyns?

Vir solank die uitspraak staan – en die kans is goed dat dit nie verder op appèl geneem sal word nie – word daar aan die hand gedoen dat reddingspraktisyns groter dringendheid aan die opstelling en vrystelling van reddingsplanne moet gee, asook om sover redelikerwys moontlik by die voorgeskrewe tydraamwerke van die reddingsverrigtinge te hou. Daar moet duidelik gestel word dat afleggings voorsien word, maar nie ’n uitgemaakte saak is nie. Uit die aard van die saak sal die plan ook vermeld dat enige afleggings, indien dit sou plaasvind, onderhewig aan die WAV se billikheidsoorwegings sal geskied. In hierdie konteks word ook voorgestel dat reddingspraktisyns steeds geen keuse het as om wel met die werknemers soos in die Maatskappywet voorgeskryf, te konsulteer nie. Dit is ons standpunt dat dit nie noodwendig gesien kan word as ’n konsultasie met die oog op beëindiging van die dienskontrakte nie, maar dat die doel is om die werknemers in te lig en ook hul insette met betrekking tot die reddingsverrigtinge te bekom. Trouens, die reddingspraktisyn is verplig om sodanige konsultasies te voer.

Voorts, indien dit duidelik word dat werknemersverteenwoordigers geensins daarvoor te vinde is dat afleggings deel van die verrigtinge vorm nie, en dat die nodige steun tydens stemmingsvergaderings nie van die skuldeisers sal kom nie, behoort reddingspraktisyns dringend die balansstaat van die ondernemingredding aan te pas. Indien daar dan geen redelike vooruitsig bestaan om die maatskappy te red sonder om reeds vroeër afleggings te oorweeg nie, soos dit blykbaar die praktyk voor die uitspraak was, behoort reddingpraktisyns likwidasie te oorweeg soos in artikel 142(2)(a) voorsien. 

Dit kan natuurlik gebeur dat artikel 189-kennisgewings reeds voor reddingsverrigtinge ’n aanvang neem, aan werknemers gestuur word. Enersyds sal dit in so ’n geval dan moontlik ook ’n vraag word of die reddingspraktisyn met die proses kan voortgaan, en daar word aan die hand gedoen dat die implikasies van die uitspraak in die South African Airways AH-saak ook in dié geval oorweeg sal moet word wanneer die geleentheid voorkom. Andersyds word aan die hand gedoen dat sodanige proses nie aangemoedig moet word en dalk met voorbedagte rade geïnisieer word voor aanvang van reddingsverrigtinge in die hoop dat dit die uitleg in die saak onder bespreking sal fnuik nie. Daar is geen waarborg dat so ’n vooraf kennisgewing enige invloed op die interpretasie van artikel 136 sal hê nie en die arbeidshowe sal waarskynlik deur die manipulasie van prosesse sien indien dit nie in die normale gang van sake gebeur het nie.

 

7. Slotsom en aanbevelings

Daar moet toegegee word dat daar wel duidelike en logiese gronde bestaan vir die uitspraak in die South African Airways AH-saak. Wat die gesketste uitlegprobleem met die tersaaklike bepalings van die Maatskappywet betref, en gelees teen die agtergrond van die beskerming van werknemers, is daar sin in om aan te voer dat by reddingsverrigtinge die Maatskappywet wel verg dat daar ten minste ’n reddingsplan moet wees voordat aflegging gestalte kry. Ons stel egter voor dat dit belangrik is dat daar ook duidelikheid moet kom oor die vraag wat die status moet wees van die plan ingevolge waarvan afleggings geskied. Dit sal waarskynlik meer sin maak dat die wet eerder na ’n goedgekeurde as ’n voorgestelde plan moet verwys. Dit sal moontlik die taak van die wetgewer word om duidelikheid hieroor te bring.

Soos aangetoon, bestaan daar egter ook strydige argumente. Die reddingspraktisyn word, anders as die bestuurders van die maatskappy voor die inwerkingstelling van die reddingsverrigtinge, nie direk aan bande gelê om met afleggings te begin – selfs al is ’n artikel 189(3)-kennisgewing uitgereik – voordat daar ’n reddingsplan ter tafel gelê is nie. Daar word egter aan die hand gedoen dat daar steeds verder aandag aan die kwessie deur die wetgewer verleen moet word.

Soos in paragraaf 2 aangetoon, het daar gedurende die afgelope 20 jaar ’n nuwe benadering met betrekking tot die hantering van dienskontrakte na sekwestrasie of likwidasie ontwikkel. Soos beskryf, in die geval van insolvensie skort sekwestrasie of likwidasie bestaande dienskontrakte op wat egter wel na die aanvang daarvan beëindig kan word deur die kurator of likwidateur of deur regswerking sonder dat daar enige artikel 189(3)-kennisgewings gegee hoef te word. Die dienskontrak kan egter wel gered word indien die besigheid gered sou kon word en waar dit as lopende onderneming aan ’n nuwe werkgewer vanuit die insolvente boedel van die sogenaamde ou werkgewer sou oorgaan. Dit gebeur ook ten opsigte van dienskontrakte wat reeds ingevolge die werking van artikel 38 van die Insolvensiewet verval het. Dit is duidelik dat in die geval van insolvensie van die werkgewer ’n artikel 189(3)-kennisgewing geen doel dien nie, want sekwestrasie of likwidasie is in beginsel ’n aanduiding dat voortsetting van sodanige kontrakte basies onmoontlik is.

Nietemin, dié aspek word nie deur die Maatskappywet behandel nie en intussen is dit duidelik dat afleggings in die reël steeds ingevolge artikel 189 van die WAV behoort te geskied. Daar word voorts voorgestel dat die Maatskappywet in dié opsig, en ook in lig van die South African Airways AH-saak, gewysig kan word deur byvoorbeeld duidelik aan te toon dat afleggings mag plaasvind slegs nadat ’n reddingsplan reeds aanvaar is. Maar daar behoort nietemin ook deeglik besin te word oor die vraag of dit in alle gevalle wenslik is, en of die reddingspraktisyn nie in bepaalde gevalle waar dit noodsaaklik blyk te wees om die maatskappy uiteindelik van likwidasie te red, tog voor daardie stadium reeds met formele afleggings kan begin nie.

Indien insolvensieverrigtinge met formele reddingsverrigtinge vergelyk word, moet daar ook aanvaar word dat laasgenoemde verrigtinge ingestel word wanneer die maatskappy in finansiële nood verkeer en dit reeds die risiko loop om dalk vorentoe gelikwideer te word. Die vraag kan dus gevra word of die aanvang van ondernemingredding nie op sigself geag behoort te word ’n tipe artikel 189(3)-kennisgewing te wees nie, gesien teen die agtergrond van die finansiële nood waarin die maatskappy verkeer. Dit kom voor of daar moontlik onnodige duplisering van konsultasies kan wees indien daar voor die voorlegging van die plan ingevolge die Maatskappywet oor die daarstel van die plan met werknemers gekonsulteer moet word en dan weer nadat die plan aanvaar sou wees oor die afleggings waartydens die artikel 189-prosesse van die WAV gevolg moet word. Daar word aan die hand gedoen dat hierdie belyning en moontlik ook die bevoegdhede van die reddingspraktisyn in ’n ondernemingreddingsituasie straks heroorweeg behoort te word.

In dié verband kan daar ook kennis geneem word van Loubser (2010:122–3) waar sy in haar doktorale proefskrif, wat reeds lank voor die gewysde onder bespreking geskryf is, soos volg redeneer: 

Although this is clearly foreseen in this provision, there is no attempt to assist the practitioner in the process. If a business rescue practitioner wants to retrench employees or change their conditions of service, he has to follow the full procedure prescribed by the Labour Relations Act that a solvent and healthy company has to follow – even if these retrenchments are in terms of the rescue plan. Although I am not arguing for the same situation as in liquidation, I believe that at least if the retrenchments are part of a rescue plan, some attempt should have been made to facilitate unavoidable retrenchments. Just as in the case of judicial management, liquidation now remains the easier option if retrenchments are inevitable.

(Vgl. Joubert 2018:73 vir soortgelyke waarnemings met verwysing na verskeie ander jurisdiksies.) 

Die kwessie rakende die status van artikel 189(3)-kennisgewings wat reeds voor die aanvang van reddingsverrigtinge uitgereik is, behoort tydens die daaropvolgende reddingsverrigtinge ook aandag te geniet. 

Die vraag moet ook nog beantwoord word of die moratorium op regsverrigtinge tydens reddingsverrigtinge ingevolge die Maatskappywet ook die arbeidshowe aan bande behoort te lê of nie. (Vgl. Joubert 2018:72 waar vermeld word dat “[t]he interplay between the section 133 moratorium and labour-related matters became the subject of various court cases and created uncertainty and confusion as to the effect that the moratorium will have on employment contracts and claims by employees”.)

Nietemin, dit sal die taak van die wetgewer wees om op goeie gronde sodanige aspekte te oorweeg. Intussen sal reddingspraktisyns moet uitvoering gee aan die implikasies van die uitspraak. Daar word toegegee dat dit nie altyd moontlik gaan wees om by die voorgeskrewe tydperke vir die verskillende fases van die oorweging, opstel en aanvaarding van die reddingsplan te hou nie en dat uitstel verleen kan word, soos dikwels die geval is, maar dit moet deurgaans onthou word dat dit ’n belangrike faktor bly en in ag geneem moet word by die hantering van bestaande dienskontrakte deur die reddingspraktisyn. 

Ten slotte is dit dus duidelik dat die aangeleentheid herbedink moet word en dat daar ’n logiese en sinvolle statutêre reëling daargestel moet word.

 

Bibliografie

Badenhorst, W. en C. Rey. 2020. COVID-19 – NUMSA v SAA – The death knell to successful business rescue? https://www.bdo.co.za/en-za/insights/2020/covid19/covid-19-numsa-v-saa-the-death-knell-to-successful-business-rescue (27 Junie 2020 geraadpleeg).

Barker F. en M. Holtzhausen. 1996. South African labour glossary. Kenwyn: Juta.

Bertelsmann, E., R.G. Evans, A. Harris, M. Kelly-Louw, A. Loubser, M. Roestoff, A. Smith, L. Stander. 2019. Mars: The law of insolvency in South Africa. Kaapstad: Juta.

Boraine, A. en B.P.S van Eck. 2003. The new insolvency and labour legislative package: How successful was the integration? Industrial Law Journal, 24:1840–68.

Delport, P.A. 2019. Henochsberg on the Companies Act of 2008 (2019-bywerking). Durban: LexisNexis. 

Joubert, E.P. 2018. A comparative study of the effects of liquidation or business rescue proceedings on the rights of the employees of a company. LLD-proefskrif, Universiteit van Suid-Afrika.

Kunst, J.A., A. Boraine en D.A. Burdette. 2019. Meskin: The law of insolvency. Durban: LexisNexis.

Levenstein, E. 2019. South African business rescue procedure (2019-bywerking). Durban: LexisNexis. 

Lombard, S. en A. Boraine. 1999. Insolvency and employees. De Jure, 32:300–14. 

Loubser, A. 2010. Some comparative aspects of corporate rescue in South African company law. LLD-proefskrif, Universiteit van Suid-Afrika.

Van Eck, B.P.S., A. Boraine en L. Steyn. 2004. Fair labour practices in South African insolvency law. South African Law Journal, 121(4):902–25.

Van Niekerk, A. en N. Smit. 2019. Law@work. Durban: LexisNexis.

 


LitNet Akademies (ISSN 1995-5928) is geakkrediteer by die SA Departement Onderwys en vorm deel van die Suid-Afrikaanse lys goedgekeurde vaktydskrifte (South African list of Approved Journals). Hierdie artikel is portuurbeoordeel vir LitNet Akademies en kwalifiseer vir subsidie deur die SA Departement Onderwys.


The post Vonnisbespreking: Quo vadis ondernemingredding? appeared first on LitNet.

Graad 9 Eerste Addisionele Taal – Taaloefening en memo met Best Books

$
0
0

Best Books en Alta Engelbrecht se Eksamenhulp: Graad 9 Taal­ en leesoefenboek vir Afrikaans Eerste Addisionele Taal sal leerders se taalvaardighede op ’n interaktiewe manier ontwikkel. Dit bevat taal­ en begripsoefeninge, sommer alles­in­een. Dit sal graad neges se taalkennis (van woordsoorte, klankleer en sinsleer tot betekenisleer) verryk en hulle help om Afrikaans maklik onder die knie te kry. Die lees­ en begripsoefeninge in hierdie boek bevat uittreksels uit die jongste jeugboeke vir lekkerleesgenot terwyl jy leer.

Hierdie oefenboek:

  • is saamgestel volgens die vereistes van die KABV.
  • bied begripstoetse.
  • bied agt hoofstukke met taaloefeninge.
  • bied oefenvraestelle vir toets­ en eksamenvoorbereiding.
  • is gebruikersvriendelik.
  • bevorder taal­ en leesvermoë.
  • bied toeganklike opsommings van taalkonvensies en ­strukture.
  • bevat Engels en Afrikaans as instruksietaal.

Die oefenboek bou op die basiese taalstrukture en ­konvensies wat jy alreeds begin leer het en ontwikkel jou kennis van Afrikaans as addisionele taal.

Die antwoordstel is op www.bestbooks.co.za beskikbaar.

Eboeke is beskikbaar by Amazon, Takealot, Kobo, itsi Store en Snapplify.

Gedrukte boeke kan bestel word by: Takealot, Loot, Raru, EB Online en die itsit Store.

As toonaangewemde boekhandelaars nie voorraad het nie, vra gerus die winkelbestuurder om dit te bestel.

Om ’n voorsmaak te kry van wat die boek jou bied, klik hier vir die volgende uittreksels:

The post Graad 9 Eerste Addisionele Taal – Taaloefening en memo met Best Books appeared first on LitNet.

Die portret

$
0
0

Foto: Canva.com

(Met apologie aan Oscar Wilde)

Dis dagbreek en ek is wakker, maar nog loom en effens suf. Die lig skyn grys deur my gordyne en verder aan ruis die see en kweel die meeue. Die selfoon sê dis 06:30. Ek moet opstaan, want die taxi kom my sewe-uur vir my afspraak by die kliniek haal.

Pant van die duvet in hand, werp ek dit van my af en swaai my bene oor die kant van die bed en sit. My linkerknie pla weer. Ek stut my hande op die matras en stoot myself orent.

Buite kom die wind oor die see in en bring ’n kilte mee. Daarom trek ek my warm aan tot ek gestewel en gespoor uiteindelik reg is om te vertrek. Deur my sitkamervenster kan ek sien dat daar steeds niks by Nalin se huis oorkant die straat aangaan nie. Sy is nou al vyf dae gelede vort.

Die taxi is stiptelik en voer my weg die kliniek toe. Die toelatingsprosedure by die kliniek vind ek vermoeiend: die toelatingsklerk by een van drie hokkies is die ene vrae en nommers.

Die krankemente van die pasiënte in die wagkamer wissel van vanselfsprekend tot misterieus. Party het krukke of arms in hangverbande, ander is bloeddrukgevalle, terwyl die gehoes die grieperiges, of erger, die teringgevalle uitwys. Ekself sit nou al weke lank met ’n pyn in my ingewande waarvoor die kwak my verligting moet gee.

Die meeste pasiënte is alleen en somber, maar daar is ook babbelbekke wat onsinnige gesprekke met die ongelukkiges, wat langs hulle beland het, aanknoop. Om diesulkes se geselskap te besweer, kies ek ’n sitplek heel onder op die onbesette end van die twee rye stoele.

Die wagkamer is driekwart vol. Ek sit en bekyk die pasiënte tersluiks. Die tydverdryf word onderbreek toe Nalin tot my verbasing lui-lui in my ry afgestap kom en terstond een van die oop sitplekke in die middel aan die oorkant kies om te gaan sit. Wat sou háár makeer?

Nalin het steil swart hare wat tot in die waai van haar nek hang. Die gesig is spits. Die oë is donkerbruin. Die neus dun en geboë. Die mond en lippe is vol en sensueel. Die lyfie is rietskraal en die borsies punterig en net pieringgrootte. Sy is maksimum een meter vyftig. Petite is die woord. Sy dra ’n swart denim, ’n rooi bloes en ’n blou anorak met kunspels, wat soos die pels van ’n Arktiese vos lyk, om die kragie.

Sy skilder en is deur die kunsgalery op die vakansiedorpie waar ons bly, genooi om as residentskilder vir twee jaar daar deur te bring. Dis die Prima Artica-kunsgalery.

Toe sy opkyk en in my rigting kyk, lig ek my hand in ’n groetgebaar, maar sy glimlag net en ignoreer my verder. In stede open sy haar swaar wit leerhandsak en haal ’n klein oopskeursakkie uit, skeur dit oop, en druk die inhoud in een handpalm uit. Die leë sakkie laat val sy op die vloer en begin haar hande ywerig met die vloeistof uit die sakkie invryf. Sy kyk afgetrokke rond, terwyl sy besig is. Ek verwag dat sy sal buk en die leë sakkie optel, maar sy ignoreer dit, open weer die handsak en haal ’n tydskrif uit. Sy blaai eers afgetrokke daardeur en toe begin sy daarin lees. Sonder om te staar, hou ek haar dop. Sy is vir my mooi en baie aantreklik. Die afsydigheid wat sy teenoor my openbaar, ontstel my. ’n Mens sou sweer ek het haar iets aangedoen! Maar as dit is hoe sy die situasie wil hanteer, het ek nuus vir haar: twee kan die speletjie speel. Geanker bly ek dus waar ek is en probeer om so min moontlik in haar rigting te kyk.

Die vloei van pasiënte na die spreekkamers is stadig. Die tyd sleur verby. Dan slenter ’n groot seun met deurmekaar hare, ’n rooi gesig, ’n ring in die oor, swaar diksoolstewels en ’n swart denim van bo tot onder in. Hy lyk terneergedruk, maar miskien voel hy net die effek van ’n laat aand saam met die manne. Tot my verbasing stap hy direk na Nalin toe en gaan sit langs haar.

Sy kyk op en lees weer verder. Uit die hoek van sy mond sê hy iets vir haar en sy antwoord, maar ek kan nie uitmaak wat hulle sê nie. My eerste indruk is dat hulle vreemdelinge vir mekaar is. In die eerste plek is sy baie meer geïnteresseerd in die artikel wat sy lees, as in hom. Ten tweede sit hy kop onderstebo en, ná die aanvanklike paar woorde, toon hulle zero belangstelling in mekaar. Ek kyk weer rond, veral in die rigting van ontvangs vanwaar pasiënte geroep word. Toe ek weer kyk, sit hy ken op die bors en slaap.

’n Mens moet pootuit wees om sommer so weg te dommel. Nalin reageer ewe onverwags. Sy kyk na hom, bêre die tydskrif in die dieptes van haar handsak, skuif oor na hom toe en vly haar teen hom aan. Sy stut haar kop op sy skouer en sluit haar oë. Die mooie Nalin en daai willewragtag! Onbeskaamd staar ek hulle aan. Haar onderkaak sak en die mond gaan ’n entjie oop. Sy slaap ook vas. Minnaars het baie rus nodig.

Sy bring hom saam met haar terug kothuis toe. Dis ’n stormagtige tyd. Die straatjie weergalm met rockmusiek. Hulle baklei en skree, lag en jil en swem in die see. Soms, as sy op die stoep skilder, sit hy met waaiende bene op die stoepmuurtjie en drink bier terwyl hy die wêreld bekyk. Ek loop ook onder sy blik deur. As ek uitgaan, staar hy my aan en ek wonder waar sy aan die lummel kom. As ek my hoed lig, wuif Nalin argeloos vir my. Ek word nie oorgenooi nie en ek is ook nie van plan om my voete daar te sit, terwyl hy daar is nie. Dan een môre, kry ek ’n pamfletjie onderdeur die voordeur: Nalin stal eersdaags in die Prima Artica-kunsgalery uit. Dis ’n woonhuis waarvan binnemure uitgeslaan is om uitstallokale te kon maak.

Ek woon nie die amptelike opening by nie, maar in die namiddag van dag twee van die uitstalling, dos ek my uit en stap na die galery toe. Daar is niemand wat ek ken nie. Ek stap deur lokaal nommer een. Dis alles taferele van die see en duineveld. Die soort wat die plaaslike inwoners sal koop.

Saal nommer twee is portretstudies. ’n Vyftal kunskykers is aan die punt van die saal om die laaste studie saamgedrom.

“Die oë!” sê ’n vrou.

“Hy lyk so wys!” sê ’n ander.

“Ou top …” waag ’n jongman.

My nuuskierigheid is geprikkel. Ek luier al met die doeke af in hulle rigting. Hulle versit na lokaal drie toe. Ek gaan staan voor die doek. Dis van ’n man wat sit. Die blou oë val my eerste op. Hy kyk voor hom uit. Die oë is wakker en ondersoekend. Maar die gesig is oud. Daar is diep kepe in die wange en ’n frons tussen die wenkbroue. Die nekvel vorm ’n kalkoenkeel. Die skouers is rond en hang vooroor. Die hemp wat hy aan het, is effens te groot, maar die magie wys nogtans onder die kledingstuk. Hy sit met sy bene gekruis ─ die bene is lank en maer, soos die van ’n sprinkaan. Dis die portret van ’n man in sy laaste wakkerjare. Dis ek! Dis ’n portret van my!

Ek is lelik en oud. Geskok deur wat ek sien, draai ek om en stap met lang treë na die uitgang toe. 

In my kothuis sluit ek die voordeur, stap kamer toe en gaan sit op die bed. Ek sit ’n wyle so, dan registreer die klanke van Chopin se Poolse Ballade in my ore. Dit kom in die stil vroegaand aangesweef van oorkant die straat af. Dis die musiek wat Nalin altyd speel en waaraan ek gewoond is en waardeer. Dit beteken hý is vort. Geen elektriese kitare en tromme meer nie. Maar die musiek het die bekoring daarvan vir my verloor. Dis bloot melankolies, soos die figuur wat na my terugstaar uit die spieël gemonteer in die middel van die hangkas.

The post Die portret appeared first on LitNet.

Die klein jakkalsies wat die wingerd vreet: Hoe Engelse taalhegemonie stil-stil insluip

$
0
0

......

“Dit blyk dat Engelse onderskrifte soos ’n koloniale grenslyn op Afrikaanse films ingebrand word; soos ’n tatoe van onderdanigheid.
’n Vlaggie van meerderwaardigheid wat wapper oor die ‘onverstaanbare’ brabbeltaal van die Afrikaanssprekende koloniale onderdane.”

......

’n Week gelede kyk ek vir die eerste keer die hoog-aangeskrewe Afrikaanse film Kanarie (2018) met Schalk Bezuidenhout. Ek is nie die mees danige fliekvlooi nie, en verkies eerder die langer, verwikkelde storielyne van ’n goeie reeks. Nietemin, ek het groot waardering vir die Afrikaanse filmbedryf, wat met regisseurs soos Christiaan Olwagen en Daryne Joshua (Noem my skollie, 2016; Die storie van Ellen Pakkies, 2018) en akteurs soos die ontslape Elize Cawood met die grootstes in die wêreldfilmbedryf kan skouer skuur.

Terloops, mense wat die bedryf se films as amateurwerk afskiet, het nie begrip vir die kort geskiedenis van die Afrikaanse filmbedryf nie. Hollywood het die oordonderdende materiële kragte van Amerikaanse ekonomiese mag en sy uitvoerproduk van Amerikaanse fliek-Engels, wat vir filmkykers wêreldwyd oor die jare ’n standaard geword het. Die filmbedryf in Amerika kom boonop al vir meer as ’n eeu aan, terwyl Afrikaans nog in haar letterkundige kinderskoene was. Natuurlik gaan die Afrikaanse filmbedryf nog lank neem om wasdom te bereik, en niemand kan die vordering ignoreer nie. Diegene wat dit doen, is oningelig of moedswillig blind.

Terug by Kanarie. Die film is ’n belangrike voorbeeld van Afrikaanse films oor die laaste vyf jaar wat voorheen onoorkombare grense oorgesteek het. Kanarie verryk Afrikaans met ’n belangrike filmgedrewe ontdekking van queer-identiteit, in besonder binne die Afrikaner-Afrikaanssprekende gemeenskap. Dit verdien om heel eerstens as ’n fyn opgawe van sosiale dinamiek en maatskaplike verhoudings binne die Afrikaanssprekende wêreld te vertoon.

Terwyl ek die film kyk, raak ek geïrriteerd met die onderskrifte, wat in Engels voorkom. Die dikwels onvertaalbare aspekte van die dialoog flikker heeltyd in my oë en trek my aandag van Bezuidenhout, Jacques Bessenger, Beer Adriaanse en Hannes Otto se uitstaande akteurswerk af.

Ek kliek op die stroomdiens se skakeltjie om die onderskrifte af te sit. Dit werk nie. Die wit Engelse skriffie hou aan rol. Ek soek nog skakels, druk nog knoppies. Niks verander nie. Ek soek vinnig na ander Afrikaanse films en reekse: Die regsreeks Fynskrif en die Grensoorlog-film Seun het ook onverwyderbare Engelse onderskrifte.

Die hele petalje het my weer aan die dink gekry oor die indringende oorheersing van Engels in Suid-Afrika. Waarom kan ek op soveel Hollywood- of buitelandse films die onderskrifte na willekeur aan- en afskakel? Ek skakel oor na ’n Russiese reeks, Khozhdeniye po mukam (2017), en die Vlaamse De Bende van Jan de Lichte (2018). In daardie reekse kan jy na willekeur tussen ander tale en onderskeidelik Russiese en Vlaamse onderskrifte, selfs gesproke taal, verander. Beide reekse het Engelse, Spaanse en Franse opsies vir onderskrifte of dialoog.

Dit blyk dat Engelse onderskrifte soos ’n koloniale grenslyn op Afrikaanse films ingebrand word; soos ’n tatoe van onderdanigheid. ’n Vlaggie van meerderwaardigheid wat wapper oor die “onverstaanbare” brabbeltaal van die Afrikaanssprekende koloniale onderdane.

......

“Ons word stadig maar seker ’n buitepos van koloniale Engelstalige hegemonie, wat self ’n toeval van die geskiedenis is. ’n Toeval wat Suid-Afrikaners met selfvertroue in ons moedertale moet teenstaan. Anders klink Suid-Afrika oor ’n paar eeue, of dalk selfs dekades, soos die arme Ierland, waar net ’n fraksie mense die inheemse Ierse taal Gaelies kan praat, tot ’n hele nasie se ongemak. Dieselfde gebeur in Belarus, ’n buurland van Rusland, waar jare se Russiese taal- en politieke hegemonie tot ’n absurde taaltoestand gelei het waar net omtrent 20% van die nasie Belarussies praat.”

......

In ’n land met ’n gedetailleerde taalklousule in haar Grondwet sou ’n mens hoop dat ’n soeke na gelykwaardige balans en verteenwoordiging van amptelike tale in die openbare ruimtes nagestreef sou word. Ek het al op hierdie forum geskryf oor hoe die voortgesette oorheersing van Engelstaligheid hierdie grondwetlike strewe na veeltaligheid ondermyn. Ek het dikwels al geswets oor hoe openbare universiteite, soos die Universiteit Stellenbosch waar ek studeer het en steeds by betrokke is, lippediens aan veeltaligheid bewys en geen proaktiewe stappe doen om die grootste streekstaal in die provinsie, Afrikaans, en die groeiende Afrika-taal Xhosa in die akademie in te burger nie.

Ek het ook al probeer diagnoseer waarom Suid-Afrikaners so slaafs is vir Engelstaligheid. Die regerende party het beslis ’n kragtige historiese verbintenis met Engels. Die vroegste stigterslede van die ANC was die alumni van ’n Engelstalige koloniale opvoedingstelsel, veral die Anglikaanse en ander sendinggemeenskappe. Hulle het Engels, heel ironies, as gunstige instrument in ’n omgewing van Britse imperiale kolonialisme en groeiende geïnstitusionaliseerde rassediskriminasie beskou. Hierdie ou verbintenis met Engels, wat boonop die nemesis van die vroeë Afrikanernasionalisme was, het beslis ook vir ANC-lede in ballingskap ’n sekere problematiese “status” in die oë van Engelssprekende weldoeners en mede-aktiviste in Brittanje en elders gegee. Die houding dat ’n swart Afrikaan wat goed met die koloniale taal kan omgaan, ’n “opgevoede” of “beskaafde” individu is, is tot die wortel toe besmet met koloniale rassisme, ’n feit wat verskeie van die ou amaRespectables en hul nadoeners soos die jintelman Thabo Mbeki (en sekerlik Panyaza Lesufi) klaarblyklik ontgaan het.

Onder Afrikaners spesifiek het daar iewers tussen die einde van die sanksies en die oopstelling van internasionale markte ’n nougesette houding posgevat dat ’n taal net daarvoor goed is om die individu te kan help om ekonomies suksesvol te word. Engels oorheers wêreldmarkte, en dit volg dus logies dat Engels jou gaan ryk maak. Diegene wat geëmigreer het, sit in voormalige Britse kolonies soos Kanada, Nieu-Seeland en Australië. Te min mense skenk aandag aan die gemeenskaplike aard van taal: Die Afrikaanse taal is nie bloot ’n instrument nie, maar ’n dinamiese sameskepping en opgaaf van kennis deur mense wat sekere lewenservaringe deel. Ons skep saam aan Afrikaans. Die taal weerspieël haar sprekers, van alle kleure en geure, se versugtinge, insigte en ervaring van die realiteit. Sy is terselfdertyd ’n tikmasjien en ’n argief.

Om Engels as meerderwaardig te ag “vir werksdoeleindes” word blitsvinnig ’n domino wat omslaan op tersiêre onderrig, hoërskoolonderwys, laerskole, voorskooltjies. Gemeenskapskoerante, soos die eens tweetalige Laevelder/Lowvelder uit my tuisstreek, word deur Afrikaanssprekende joernaliste se toedoen feitlik geheel en al verengels. Afrikaans is nou net af en toe goed genoeg vir enkele klessefaaids en die sportblaaie. Jong Afrikaanse dokters weet nie meer wat om jou diagnose in Afrikaans te noem nie. Prokureurs in die oorwegend Afrikaanse Wes-Kaap kan nie eens meer ’n aansoek op landdroshofvlak, die mees basiese forum van geregtigheid, in Afrikaans bring nie.

Ons word stadig maar seker ’n buitepos van koloniale Engelstalige hegemonie, wat self ’n toeval van die geskiedenis is. ’n Toeval wat Suid-Afrikaners met selfvertroue in ons moedertale moet teenstaan. Anders klink Suid-Afrika oor ’n paar eeue, of dalk selfs dekades, soos die arme Ierland, waar net ’n fraksie mense die inheemse Ierse taal Gaelies kan praat, tot ’n hele nasie se ongemak. Dieselfde gebeur in Belarus, ’n buurland van Rusland, waar jare se Russiese taal- en politieke hegemonie tot ’n absurde taaltoestand gelei het waar net omtrent 20% van die nasie Belarussies praat.

Ons is regtig ons eie grootste vyand, want as Afrikaanssprekendes is ons deel van die stilswyende kabaal wat die klein jakkalsies toelaat om ons taalwingerd stukkie vir stukkie te verwoes. Afrikaanstaligheid gaan waarskynlik nie veld verloor deur dramatiese, drakoniese regerings of wette nie; dit gebeur eerder deur hierdie klein treetjies agteruit, om die metafoor by Waldimar Pelser van Rapport te leen.

Dit is waarom onverwyderbare Engelse onderskrifte op Afrikaanse films ’n stille teken van onderdanigheid en meerderwaardigheid is.

Daar is wesenlik niks minder aan die Afrikaanse taal nie. ’n Toekoms van digverweefde, gedekolonialiseerde veeltalige regverdigheid is heeltemal moontlik as ons kreatief en proaktief te werk gaan.

Maar dan moet elke Afrikaanssprekende sy en haar oë vir die klein jakkalsies en mikro-aggressie van koloniale Engelstaligheid open.

The post Die klein jakkalsies wat die wingerd vreet: Hoe Engelse taalhegemonie stil-stil insluip appeared first on LitNet.


Hoe dit is met Steve is beslis nie hoe dit is met die res van ons nie.

$
0
0

As ek moet eerlik wees ervaar ek nog altyd interne konflik oor my Afrikaner-identiteit. Wat beteken die Afrikaner-etiket in Suid-Afrika vandag en hoekom sukkel ek met tye om trots te wees daarop? Ek dink deel van wat my die meeste pla, is die feit dat daar publieke Afrikanerstemme bestaan wat soveel verdelende geraas maak namens “die Afrikaner” en dat daar niks in my is wat met hulle narratiewe resoneer nie. Die persoon wat myns insiens die meeste verdeling bring, is Steve Hofmeyr. Hierdie video, wat ek ongelukkig onlangs onder oë gekry het, vang dit vas:  

Ek was aanvanklik so kwaad vir myself dat ek die play-knoppie gedruk het dat ek begin rondkrap het vir iets wat my gaan laat beter voel. Ek kom toe gelukkig op ’n briesie vars lug af in die vorm van hierdie video:

Dankie Schalk en dankie Betereinders.

Betereinders se video het my laat besef dat dié van ons wat identifiseer as Afrikaners en nie met Steve saamstem nie, dit moet duidelik maak. Daarmee saam moet ek ook my dankbaarheid uitspreek teenoor mense soos Bouwer Bosch, Christi van der Westhuizen en Antjie Krog wat, soos Betereinders, die tipe Afrikaners verteenwoordig wat ek nastreef om te wees. Hulle maak my trots. Steve maak my skaam. Dis hoekom ek besluit het om hierdie artikel te skryf. Steve dink hy het die reg om namens ons almal te praat en hy het nie. Ek wil dit so duidelik as moontlik maak: Steve Hofmeyr praat nie vir my nie; hy het nog nooit nie en sal ook nooit nie.

Ek verskil fundamenteel met elke liewe woord wat uit Steve se mond kom in hierdie video, maar ek wil graag die volgende uitlig:

Dis werklik hartseer om moorde met mekaar te moet vergelyk om ’n punt te probeer maak. Moord is of was nog nooit hoegenaamd aanvaarbaar nie, ongeag ras, kultuur of etnisiteit. En dit sal altyd die geval wees. Die feit dat wit Suid-Afrikaners ook in Suid-Afrika vermoor word, is tragies en ’n onreg, net soos enige ander moord. Dit is egter ook ’n onreg dat swart lewens globaal steeds in 2020 nie soveel waarde het soos wit lewens nie en daarom is #BlackLivesMatter relevant. Ek gaan nie ’n vergelyking trek wanneer dit kom by mense se lewens nie, maar daar is genoeg bewyse hiervoor. Tot swart lewens nie werklik soveel saak maak soos wit lewens nie, gaan #BlackLivesMatter relevant bly.

Steve noem dit ’n verleentheid dat “meneer #BlackLivesMatter wit akteurs, spelers, en wie ook al benodig om hom te vertel dat sy lewe matter”.

Ek dink ook dis ’n verleentheid. Ek dink dis ’n verleentheid dat dit hoegenaamd nodig is en dat ons as die globale samelewing nog nie ware rassegelykheid kon meebring nie. As Afrikaner wil ek ’n aktiewe rol speel in die strewe na rassegelykheid.

“Hoe laag is jou verwagtinge, meneer #BlackLivesMatter-terroris, dat jy nie kan asemhaal tot ek om verskoning vra dat ek wit is nie?”

Hierdie uitlating verstom en verwar my. Wie het gevra dat ons moet jammer sê dat ons wit is? Ons kan dit tog nie verander nie. #BlackLivesMatter gaan juis oor dit: Dat black lives moet matter. “Meneer #BlackLivesMatter” is ook nie ’n terroris nie, maar ’n aktivis. Daar is ’n wesenlike verskil.

“Hoe voel dit om skaamteloos te moet stroom na die lande en skole en stelsels wat jy kastig verag, Siya Kolisi?”

Eerstens, moet asseblief nie met my Springbok-kaptein en een van die beste Suid-Afrikaanse leiers van ons tyd mors nie.

Tweedens, dit is juis die probleem. Hoekom is die goeie skole en stelsels in 2020 steeds histories wit instansies? Hoekom is dit die enigste opsie vir toegang tot geleenthede? Dis die vrae waarin ek, as Afrikaner, belangstel en die verandering waarvan ek wil deel wees.

Steve se laaste uitlating in sy video was vir my die ergste: “Ek buig die knieg voor net een God en as jy hierdie neerhalende hand ooit na my volk uitsteek sal ons dit wegklap met die minagting wat dit verdien.”

Ek glo dat as Jesus steeds op aarde was hy ’n #BlackLivesMatter-aktivis sou wees.

Watter volk praat Steve van? Die Afrikaners met wie ek assosieer en identifiseer dink nie soos Steve nie. Ons is deel van ’n groter volk: die Suid-Afrikaanse volk. Dit bestaan uit swart, wit, bruin en Indiërs. En as elkeen se lewe nie soveel saak maak soos myne nie, gaan ek dit nie so aanvaar nie.

Mense soos Steve eien hulself die reg toe om namens die Afrikaner te praat en glo dat deur dit te doen hulle ons verteenwoordig. Ek wil kan trots wees op my Afrikanerskap en nie toelaat dat wat dit beteken namens my besluit en gedefinieer word nie. Ons kry elke dag die geleentheid om deur ons aksies deel te wees van versoening of verdeling. Kom ons staan op teen die verdeling wat Steve aanhou saai en kies versoening.

The post Hoe dit is met Steve is beslis nie hoe dit is met die res van ons nie. appeared first on LitNet.

Skoon wasgoed-rubriek: Die groot blydskap

$
0
0
  • Frederik de Jager skryf tweeweekliks ’n boekerubriek vir LitNet.

Dit is nie maklik om ’n boek vir publikasie aanvaar en uitgegee te kry nie. Die kanse teen jou is so steierend hoog opgestapel dat dit ’n wonder is dat enigeen die moeite doen om ’n roman te skryf.

Mens kan dié stelling met syfers bewys. Toe ek die uitgewer van die Umuzi-druknaam by Random House Struik was, het ons ’n bietjie statistiek gehou. Minder as twee persent van alle manuskripte wat aan ons gestuur is, het uiteindelik boeke geword. Later, by Penguin, het dié syfer steeds geklop.

’n Bietjie agtergrond hieroor: In ’n klein mark soos Suid-Afrika is die winsgrense oor die algemeen te dun vir skrywersagente om ook ietsie van ’n boek se verdienste vir hul eie sak af te skep. In die Noordelike Halfrond en in ander groot markte soos Australië kom jy egter nie maklik iewers sonder ’n agent wat jou verteenwoordig nie.

’n Agent kry jy ook nie sommerso nie. Dié moet jy eers gaan soek en bereid wees om jou skeppende siel aan kneusings te waag soos jy jou teen toe deure vasloop, en dan maar steeds aan te hou hamer aan deure. Agente word oorval van hoopvolle skrywers en hulle is dus hoogs selektief. ’n Goeie agent is nog moeiliker om te vind, want so een kan nog meer kieskeurig wees, en boonop met minder skrywers klaarkom omdat hulle beter verdien.

Julian Friedmann van die vooraanstaande Londense agentskap Blake Friedmann, wat sterk bande met Suid-Afrika het, sê in ’n TED Talk hulle ontvang jaarliks 6 000 versoeke van skrywers, waarvan hulle ses aanvaar. “My werk,” sê Julian, “is om nee te sê.”

Neem ’n agent jou aan, loop smous sy met jou boek. Sy stuur dit uit aan redakteurs by uitgewerye van wie sy weet dat hulle in die verlede soortgelyke boeke aangekoop het. (Vir “sy” lees ook “hy”, maar ek dink daar is meer vroue in dié beroep.) Oor die jare het hulle ’n werks- en vertrouensverhouding opgebou. Die agent weet waarvan die redakteur hou en die redakteur weet die agent stuur hom altyd goeie goed. Boonop kom die manuskrip reeds klaar ontwikkel en versorg by die redakteur aan, want ’n knap agent is ook letterkundige raadgewer en teksversorger.

Dis lekker om ’n boekredakteur in ’n sterk mark te wees.

Dis nie mooi nie, maar wel betekenisvol dat die Noordelike Halfrond altyd bo op die wêreldkaart is en ons in die suide onder. Die helling loop in baie opsigte afdraand na ons toe. Uitgewers hier het dit moeiliker. Nie alleen moet hulle self sif deur ingestuurde manuskripte wat alphoog in die kantoor opgestapel raak nie, maar hulle moet ook self die moeisame en tydrowende ontwikkelingswerk doen waar daar belofte is maar nog nie prestasie nie.

En ek oordryf nie oor die berge manuskripte nie. By ons was dit in die honderde maandeliks. Met redaksiespanne tot op die been gesny, soos in elke vertakking van die gedrukte woord, moet daar ’n stelsel wees. En daardie stelsel moet soos ’n industriële voerband werk, anders lees die hele redaksiekantoor 168 uur per week net manuskripte – en 168 is al die ure in ’n week.

Nie so romanties as wat mense mag dink dat dit in redaksiekantore gaan nie. Slim mans met hoë voorkoppe in tweedbaadjies wat met die voete op ’n deurmekaar lessenaar stip lees aan meesterstukke, pyp in die mond. Vlymskerpgeslypte vroue wat met hulle brille op net nog aantrekliker lyk, ’n skrywer oorkant die glasblad op staalbokkies wat as werkstafel dien, in vervoering oor haar insig in die manuskrip en, man of vrou, ’n bietjie verlief.

Nee, nie so nie.

In werklikheid word daar op industriële skaal nee gesê. Veel, veel meer as ja. Dit is nie moontlik om elke probeerder op die sielvolste manier van die hand te wys nie. ’n Vorm van ’n vorm is nodig. Waar ek my eerste pos as fiksieredakteur gekry het, was daar ’n legger met standaardantwoorde vir ’n hele reeks situasies.

Mens probeer die bewoording per geval darem ’n bietjie aanpas, maar die strekking is meesal: Dankie, maar dit is nie waarna ons op die oomblik behoefte het nie. Jy wil mense nie brand nie, hul intelligensie nie beledig nie, hulle nie terminaal ontmoedig nie, maar ook in hemelsnaam iemand nie aanmoedig as dit duidelik is hy het geen hoop as skrywer nie.

Vir uitgewers is die grootste verskrikking daardie manuskrip wat, selfs na die felste afwysing, telkens twee keer langer terugkom met ’n verduidelikende dekbrief van tien bladsye en ’n skrywer wat aandring op ’n persoonlike afspraak met die redakteur.

En dan was daar die keer toe ’n geleerde maar onervare jong redakteur by my kantoor inloop, haar oë so groot soos pierings. ’n Man wie se manuskrip sy afgewys het, dreig om homself om die lewe te bring as ons nie sy boek uitgee nie. Wat moet sy vir hom sê? Ek sal maar liewer verswyg wat ek aan die hand gedoen het.

Mense sal dink ons boekmense is sinies op ’n aanverwante manier waarop gesoute joernaliste sinies raak oor alles wat hulle van die lewe sien. Ek dink aan die komiese skrywer Alexander McCall Smith wat by die destydse boekefees van die Mail & Guardian gesê het: “Wanneer mense na my kom en sê hulle het ’n boek in hulle, antwoord ek: Hou dit daar!”

Dis nie so maklik om te skryf as wat mense dink nie, en jy kan daardie reël in die Bybelboek Mattewis net so na die boekskryfbesigheid oordra: Baie is geroep, maar min uitverkies.

Tersyde: Dit het my altyd gehinder dat geen magisterstudent so ver ek weet nog daarin belang gestel het om ’n studie te doen oor letterkunde wat nié gepubliseer is nie. Die akademiese letterkunde is ’n salonoefening in die geëtiketteerde verbruik van gepubliseerde en daarom gevormde literatuur. ’n Fynproewersklub, en goed en wel.

Maar dit is ook van belang watter en watse tekste nooit gepubliseer word nie. Die afgekeurde korpus tekste verteenwoordig die oorweldigende meerderheid van wat in ’n bepaalde tyd in en oor ons plek in die wêreld geskryf is. Van die ligste tot die swaarste, die valsste tot die egste, die luimigste tot die ernstigste. Daar is aan die afsnypunt tussen wat die paal haal en wat moet agterbly altyd ’n element van die arbitrêre, en dis buitendien ’n verskuiwende grens. Nog minder is dit altyd reg gekalibreer.

Is dit nie massief belangrik – laat staan nog interessant – om te weet wat gaan alles by daardie seekoei aan waarvan ons net die haartjies op die ore sien uitsteek bo die water nie?

Maar terug na die saak voorhande. Daar is dus goeie rede om bly te wees as jy die oproep of die e-pos kry om jou te sê jou boek is vir publikasie aanvaar. Selfs, wil jy glo, in my vroeë jare ’n brief in die pos. Ek, wat aan die een kant van die draad genoeg kere nee gesê het om my karma vir altyd teen my te draai, was ook al aan die ander kant, waar ek van sowel nee as ja geantwoord is. Ja is lekkerder.

Mense reageer volgens hul persoonlikheid wanneer jy hulle met dié nuus bel. Jy kry die stoïsyne wat jou, die uitgewer, skoon verleë laat wanneer jy opgewonde bel en hulle jou met onverstoorde bedaardheid aanhoor. Daarteenoor kry jy iemand soos die uwe. Nieteenstaande die ou inkhond wat ek is, was ek so uit my vel toe ek self die jawoord oor ’n voorgestelde boekie kry dat ek die uitgewery se onthutste grootbaas sommer op straat bygedam en met jubilasies gebombardeer het.

My treurigste oordrag van ’n gunstige uitgeebeslissing was toe ek die skrywer op ’n Vrydagmiddag nie gebel kry nie. Daardie aand kry ek die nuus dat hy dié middag in ’n motorongeluk oorlede is. Die blyste wat ek iemand ooit gehoor het, was toe ek Carol Campbell, skrywer van die afgebeelde Karretjiemense, bel met die nuus.

Dit was in die eerste helfte van 2012. Die manuskrip het by ’n buiteleser, Mike Nicol, uitgekom. Mike, een van hierdie land se beste skrywers en ’n uitmuntende boekredakteur, het my gebel en gesê ons moet eenvoudig dié boek uitgee, hy het lank laas iets gelees wat hom so aangegryp het.

Die verhaal was oor die armstes van die Karoo, ontheemde mense wat van die een plek na die ander trek in hul donkiekar. Daar kleef ’n sekere romantiek aan die paar oorblywende nomade, verskynsels van ’n vergange era in ons tyd. Die werklikheid, daarenteen, is keihard. Dit is deel van die verdienste van die boek dat dit nie verromantiseer nie, maar dié reeds verslane mense die onwaardigheid van klewerige sentiment spaar deur met ’n simpatieke maar reguit oog te kyk.

Die verhaal is aangrypend en ondraaglik spannend: oor ’n vrou se vergeefse pogings om weg te bly van Leeu-Gamka waar sy weet die een wat haar inwag haar gaan lem. En die toestand dat haar kinders se geboorte nie geregistreer is nie en hulle buite die staat se reddingsnet val. Die manuskrip was in Engels geskryf, en die Engelse titel, My children have faces, vertel van die groot anonimiteit waarin ongeletterde, ongeregistreerde mense aan die verste buitewyke van ’n moderne samelewing smoor.

En wie was Carol Campbell dan, ’n Engelssprekende persoon wat so vertroud oor sulke oer-Afrikaanse mense skryf? Nie een van ons het van haar geweet nie. Dit het geblyk sy was ’n joernalis wat saam met haar gesin enkele jare in Prince Albert gewoon het, waar hulle ’n vulstasie besit het. Carol het gedoen wat alle goeie storievertellers doen: Sy het met mense gepraat en na hulle geluister.

Daar was veral een groepie – losweg ’n gesin – wat van tyd tot tyd aan die kant van die rybaan staanplek vir hul karretjie gekry het terwyl hulle in die dorp iets probeer verkwansel, iets probeer koop. Carol het met hulle bevriend geraak en die verhaal geweef teen die agtergrond van die wêreld wat sy deur hulle oë geleer ken het.

Ek weet die vraag oor kulturele appropriasie wil sigself hier op die voorgrond stoot. Dat ’n wit vrou, en nog Engelssprekend daarby, hierdie mense se verhaal vertel (al is dit fiksie). Dit is ’n ingewikkelde kwessie om in een of twee paragrawe te bespreek. Deur die uitgee van die boek het ons as uitgewers (Umuzi) kennelik ’n bepaalde posisie ingeneem. Die toetssteen vir ons was die vraag of daar waarheid in die boek was.

Om nog nader aan dié waarheid te kom, het ons gevoel die boek moet ook in Afrikaans bestaan. Kirby van der Merwe het ’n baie troue vertaling van die boek gedoen – trou aan sowel die bronteks as die doeltaal, Karoo-Afrikaans.

As daar enige omstredenheid oor die outeurskap en toe-eiening was, is ek onbewus daarvan. In besprekings, onder meer deur iemand soos Michael le Cordeur, word die boek geprys sonder vermelding van so ’n probleem.

Maar om die donkie eers weer vóór die karretjie in te span: Toe ek Carol bel om haar in te lig dat ons haar boek wil uitgee, moes ek die foon weg van my oor af hou of my oortromme skeur. Toe sy uiteindelik genoeg bedaar het dat sy kon praat, was dit steeds in ’n modus waar jille en snikke soos salms teen die stroom van haar sinne deur die water vleg.

Ek het afgelei sy was bly.

Die boek het in 2013 verskyn, ná ek in 2012 weg is by Umuzi om my by Penguin aan te sluit. Carol het my ’n eksemplaar laat stuur waarin sy op die titelblad geskryf het: “Whatever happens in my life I will always have that phone call from you.” 

Miskien was daar iets profeties aan haar blydskap oor die nuus en die inskripsie voorin haar boek. Dit het buitengewoon goed gegaan met veral die Afrikaanse vertaling, waarvan daar meer as 20 000 eksemplare verkoop is.

Twee jaar later loop ek haar by ’n boekefees op Prince Albert raak, so opreg en beskeie soos ek haar leer ken het. “I am a well-known person now,” sê sy, “and all because of that phone call.”

Intussen het haar tweede boek, Esther’s House, in Suid-Afrika en die VSA verskyn. Dit is ook deur Kirby vertaal (’n Huis vir Esther). Sy was by die fees om dié te promoveer. En sedertdien is haar derde Karooroman, The tortoise cried its only tear (2019), nie net in Engels en Afrikaans uitgegee nie (Die skilpad se laaste traan), maar ook in Nederlands (Een schildpad huilt maar één traan).

Carol woon die afgelope paar jaar, soos ek, op ’n eiland. Shetland is so ver van die wye en dorre Karoo verwyder as wat dit moontlik is om jou te verbeel, maar ek is seker sy het haar storiehart reeds daar in die Noordsee-folklore ingeweef.

Lees ook

Skoon wasgoed-rubriek: Die glibberige woord

Onsigbare mense van die Karoo op reis na identiteit

The post Skoon wasgoed-rubriek: Die groot blydskap appeared first on LitNet.

Die klippe praat al harder

$
0
0

Toe president Donald Trump vroeg in Julie vanjaar met vuur en swael die VSA se Onafhanklikheidsdag in ’n amfiteater voor die ikoniese Mount Rushmore-koor-in-die-kleine vier, was daar onvermydelik talle lae subteks. Die Pahá Sápa- (oftewel Black Hills-) bergreeks net buite die gehuggie Keystone in die suidweste van die deelstaat Suid-Dakota dra immers swaar aan simboliek en betekenis.

Maar laat ons by die teks self – dít wat Trump uitdruklik aan die gehoor gesê het – begin. Voor hom was daar steil opgestapelde rye oop gesigte wat, volgens die seremoniemeester Mary Hart, ’n voormalige mej Suid-Dakota, van heinde en verre aangekom het. Êrens tussen 7 000 en 8 000 siele. Diegene wat uit die deelstaat se hoofstad Fort Pierre die lang pad Keystone toe aangedurf het, sou drie ure lank gereis het. Dalk was daar selfs ’n Coen-agtige gesig of twee uit die legendariese dorp Fargo, in Noord-Dakota, wat met die aanryslag vir agt-en-’n-half uur op die pad sou gewees het.

Ja, oop, skoon gesigte, want byna sonder uitsondering het die vergaderdes hul COVID-19-maskers êrens langs die pad verloor. Inderwaarheid het Kristi Noem, die deelstaat se Republikeinse goewerneur, vooraf maskers en afstandhandhawing by die geleentheid in die ban gedoen.

Maar die pandemie, wat byna drie miljoen Amerikaners toe al onder lede had, van wie 130 000 se lewens geneem is, het president Trump so ver hy kon uit sy spraakbelle gehou. Eerder had hy dit oor wat hy as ’n linkse kulturele revolusie getipeer het, wat tans die Amerikaanse Revolusie tot ’n val dreig te bring. Presies wat hy met die idee van “die Amerikaanse Revolusie” in gedagte het, is nie volkome duidelik nie.

Wat egter wel weens die onlangse opvlamming van die Black Lives Matter-beweging in die VSA al hoe meer daar in gedrang is, is anachronistiese beelde wat die leiers van die Gekonfedereerde State van Amerika (1861–65) eerbiediglik in herinnering roep. Die Konfederasie het uit sewe suidelike deelstate bestaan wat in 1860 en 1861 eensydig hul lidmaatskap van die VSA opgeskort het. Met Abraham Lincoln, die nuutverkose president van die VSA, se walgooiery teen die uitbreiding van slawerny was hulle nie gediend nie.

Die rondwapper van die Konfederasie se vernaamste vlag – ’n witbesterde vlootblou kruis wat kruisbeen oor ’n rooi agterdoek span – is al vir geruime tyd iets wat hewige emosie ontlok. In baie ordentlike kringe word dit as ’n tipe sosiale oorlogverklaring beskou. In omtrent dieselfde tydsgewrig, vroeg-Julie, het ’n videogrepie juis op sosiale media geveldbrand uit ’n 1988-episode van The Golden Palace, ’n sitkom wat met ’n deel van die oorspronklike rolverdeling uit The Golden Girls vertak het, waarin Don Cheadle se karakter die argetipiese southern belle Blanche Devereaux die een en ander oor die vlag leer.

Só is dit ook met die Wit Mag-handgebaar gesteld: die duim en wysvinger wat ’n sirkel vorm terwyl die ander drie vingers uitdagend oopvlerk. Met Trump se voorstelslag het die gloedblonde Mary Hart (Mary Johanna Harum gedoop) rasieleieragtig tegelykertyd met beide haar hande daardie teken langs haar in die lug gemaak. Natuurlik het sy dit later, toe die media haar daaroor pols, met die Gaslight-erige verontskuldiging verduidelik: Dit was blote toeval; sy was die onskuld vanself.

(’n Interessante kameetjie uit Hart se biografie is dat sy van ’n uitwaaiering Noorweërs afstam. Weens haar pa se werk het sy as kind baie jare in onder meer Denemarke deurgebring. Sy praat vlot Deens.)

Trump se toespraak, daarenteen, was natuurlik in Trompengels – en boonop in die majeurtoon. Van die ou troop van ons en hulle was dit deurspek. Diegene wat hom durf teëstaan, het hy voorspelbaar genoeg as “slegte, bose mense” afgemaak. En sy teenstanders sluit ’n verskeidenheid minderhede in, vernaam swart Amerikaners. Namate 3 November 2020 naderspoed, sal dié tema, van verskillende Amerikaanse kampe, onvermydelik al hoe skriller word.

Maar die ruimte wat dáár by die Mount Rushmore National Memorial rondom Trump uitgestrek het, het vir die ingewydes ewe luid en duidelik as sy woorde gepraat. Hoog teen die swerk agter die verhoog waarop hy sy toespraak gelewer het, pryk immers vier bekende 18 meter hoë gesigte, uit graniet gekap. Van links na regs tuur die presidente George Washington (1732–99; die eerste president: 1789–97), Thomas Jefferson (1743–1826; die derde president: 1801–09), Theodore Roosevelt (1858–1919; die 26ste president: 1901–09) en Abraham Lincoln (1809–65; die 16de president: 1861–65) knus teen mekaar ingenestel, maar met elk se oë so half en half in sy eie windrigting gewend.

Lincoln, wat vir die afskaffing van slawerny verantwoordelik was, en Roosevelt, wat net meer as ’n eeu gelede die presidentsamp beklee het en ’n breedweg progressiewe beleid van stapel laat gaan het, is in die huidige tydsgewrig nog betreklik aanvaarbaar. (Tog word wandade uit hul onderskeie rekords al hoe meer opgehaal om te wys dat hulle ook allermins leliewit was.)

Washington en Jefferson, daarenteen, het self oor linies slawe beskik. Aanvanklik was Washington redelik kritiekloos daaroor – ’n houding tipies vir ’n boer in die deelstaat Virginia, waar sy landgoed Mount Vernon geleë was. Alhoewel hy gaandeweg al hoe ernstiger bedenkinge oor die instelling begin koester het, het hy dié gedagtes merendeels privaat gehou. In breë trekke kan dieselfde van Jefferson gesê word.

Tog sal Washington en Jefferson deur vandag (en môre) se morele prisma al hoe minder grasie gegun word op grond daarvan dat dit alleen weens die realpolitik van hul dag was dat hulle nie méér op die politieke arena gedoen het om slawerny af te skaf nie.

Ewe indringende kritiek teen die vier gesigte wat teen Mount Rushmore uitgekerf is, is die feit dat hulle enigsins daar – op daardie einste plek – is. Dat as daar gesigte daar móét wees – wat vir baie inheemse Amerikaners allermins duidelik is – hulle nie die gesigte van inheemse leiers is nie. Die ruie gebied rondom Mount Rushmore is immers van oudsher met die geskiedenis van ’n aantal inheemse groepe verweef. Dit was ’n gebied waar verskeie stamme om den brode gejag het; vir baie van hulle was en bly dit heilige grond.

Vanaf 1776, toe die Lakota-stam (wat een van die drie groot takke van die Sioux-volk is) die gebied by die Cheyenne-stam weggeraap het, was dit onder húl vaandel. In 1868 het die regering van die VSA met onder meer die Lakota die Tweede Verdrag van Fort Laramie gesluit. Artikel 2 van die Verdrag roep die Great Sioux Reservation in die lewe, wat groot dele van wat vandag Suid-Dakota is, onder meer die Black Hills, ingesluit het en sodoende daardie grond vir die “absolute and undisturbed use and occupation of the Indians” opsy gesit het.

Dít was maar vir enkele jare die toedrag van sake totdat die legendariese George Armstrong Custer in 1874 op ’n regeringsending daarheen in die einste reservaat goud ontdek het. Voorspelbaar genoeg het dit ’n goudstormloop ontketen, wat die regering oogluikend toegelaat het. Uiteindelik het die regering, verraderlik genoeg, die Black Hills-gebied teruggeneem en die Fort Laramie-verdragspartye elders heen verskuif. Verdrag? Watter verdrag?

Kortom: Dis allermins verrassend dat Mount Rushmore – wat boonop na ’n wit spekuleerder vernoem is – ’n omstrede monument is. Maar hoe gemaak met die vier founding fathers wat rysig daar sitgemaak is om konsuis die prestasie van die Amerikaanse demokrasie te versinnebeeld? Hoe bring ’n mens ’n ry klipbeelde wat uit ’n granietberg uitgekap is tot ’n val?

*

Maar nog is dit nie die einde nie.

’n Verdere troebel subteks lê opgesluit in die kunstenaar wat vir die ontwerp en bou van die Mount Rushmore-gedenkmonument verantwoordelik was: ene Gutzon Borglum (1867–1941).

Die idee vir die beelde het oorspronklik by die plaaslike geskiedkundige Jonah LeRoy “Doane” Robinson (1856–1946) ontspring as ’n slim manier om toeriste na die ietwat uit-die-pad-uit deelstaat te lok. Mettertyd sou hy by die beeldhouer Borglum uitkom, wat die projek in 1927 sou opneem – toe president Calvin Coolidge in ’n patriotiese gloor die eerste sooi kom omdolwe het. Met Borglum se afsterwe vroeg in 1941 was die reuseprojek reeds byna voltooi. Vanaf die middel-1930’s was sy seun Lincoln Borglum assistentbeeldhouer. Toe sy pa sterf, neem hy die leisels in die pylvak by hom oor.

John Gutzon de la Mothe Borglum is in 1867 in St Charles, toe in die Idaho-gebied, wat eers in 1890 deelstaatstatus verwerf het, gebore. Sy ouers was beide nuwe aankomelinge uit Denemarke. In 1809 het sy pa, Jens Møller Haugaard Børglum, in die dorpie Børglum in die kommune Hjørring in die verre noorde van Denemarke sy eerste lewenslig gesien. In 1820, toe Jens ongeveer 11 jaar oud was, het die eerste lede van die Kerk van Jesus Christus van die Heiliges van die Laaste Dae uit Salt Lake City in wat toe die Utah-gebied was, met sendelingstawe in Denemarke aangekom.

Gou is ’n gemeente in die hoofstad Copenhagen in die lewe geroep. Kort voor lank het die kerk se invloed wyer uitgekring – en ook vir Jens in sy vaarwater meegeswiep. Saam met ander bekeerlinge het Jens in ongeveer 1861 metterwoon uitgewyk na die Nuwe Sion wat buite Salt Lake City in aanbou was.

Met ’n mooi toeval neem Hans Christian Andersen in die sprokie “Die biskop van Børglum en sy manne”, wat ook in 1861 verskyn het, die dorpie as ’n vertelruimte op. Die sprokie handel oor ’n bose, gryplustige biskop wat aan die hand van ’n dorpenaar omkom – ook ene Jens.

Eers het onse Jens met net sy vrou Ida na die VSA gereis. ’n Jaar later het hy Ida se jonger suster Christiane ook laat kom. Sý word sy tweede vrou en Gutzon se ma. In sy roman Black Hills (2010) neem Dan Simmons dié boeiende historiese gegewens onder die loep.

Ná sy kindertyd in Utah en Kansas reis die begaafde jong Borglum vroeg in die 1880’s Europa toe om in die beeldhoukuns onderrig te word. In The Washington Post van 2 Julie 2020 skryf Diane Bernard: “There, Borglum became fascinated with art on a grand scale with nationalistic subjects, which suited what many described as his bombastic, egotistical personality.”

Met sy terugkeer Amerika toe pak hy ’n aantal monumentale beeldhouwerke aan wat figure uit die land se geskiedenis vererend in herinnering roep. Die vernaamste daarvan is die gedenkmonument vir die Gekonfedereerde State buite Atlanta, by Stone Mountain, ’n projek wat hy in 1915 aangepak het. Dié reusebeeld, in basreliëf uit die berg gekerf, is van drie leiers van die Konfederasie. Dit is geldelik deur die berugte voorstanders van wit heerskappy, die Ku Klax Klan, wat toe aan’t herrys was, gesteun. Ironies genoeg was dit juis ook tóé dat die KKK deur die skeppende werk van die kostuumontwerpers van regisseur DW Griffith se 1915-rolprent The birth of a nation sy moderne kledy op die koop toe gekry het: die onheilspellende wit kleed-en-punthoed-met-gate-vir-uitloer.

Bernard haal uit John Taliaferro se 2002-boek Great white fathers: The story of the obsessive quest to create Mount Rushmore aan. In ’n brief wat hy in die vroeë 1920’s aan ’n vriend stuur, skrywe Borglum: “Is it true you joined the Ku Klux Klan? I hope so. They’re a fine lot of fellows as far as I can learn and if they elect the next President, by gosh I’m going to join ’em.”

*

In die dorpie Sturgis, ’n halfuur se ry ten noorde van Keystone – deur Rapid City – kom daar die afgelope klompie dae derduisende motorfietsentoesiaste – bikers – uit elke uithoek bymekaar. Vir die 80ste uitgawe van die Sturgis Motorcycle Rally.

Maskerloos adem hulle die lug in wat die wêreld se bakermat van vryheid omgeef – nes ’n grondwetlike krisis dreig, ontketen deur inheemse mense wat, as COVID-19-teenvoeter, die maskerlose motorfietsers toegang tot hul reservate weier.

*

Die geskiedenis is almal die wêreld oor aan’t inhaal. Tog blyk dit dat nie almal dit besef nie.

Berigte doen immers tans die ronde dat Trump jare gelede al by Noem aangevly het – met die versugting dat sý gesig ook uit Mount Rushmore se klip gebeitel word.

The post Die klippe praat al harder appeared first on LitNet.

"Los ons kinders uit!" sê skrywers aan pedofiele

$
0
0

Fotobron: Canva

Kort nadat ek dié baie interessante en insiggewende voorlegging deur Rushiella Songca en Michelle Gail Karels op LitNet Akademies (Regte) onder oë gehad het waarin geregtelike en wetgewende reaksies op seksuele misdade deur en teen kinders in Suid-Afrika en die potensiële gebruik van herstellendegeregtigheidspraktyke ondersoek word, het ’n kopie van Protecting your child from predators (Bethany House) op my lessenaar beland.

Geregtelike en wetgewende reaksies op seksuele misdade deur en teen kinders in Suid-Afrika en die potensiële gebruik van herstellendegeregtigheidspraktyke

Die lees van hierdie boek, asook die onlangse mediadekking oor die Britse sosiale vlinder Ghislaine Maxwell wat op 2 Julie 2020 in hegtenis geneem is op verskeie aanklagte watverband hou met die seksuele mishandeling van jong vroue en meisies deur Jeffrey Epstein, het my diep geraak.

’n Gedeelte van die klagstaat teen Maxwell lees volgens hierdie artikel glo só:

From at least in or about 1994, up to and including at least in or about 1997, Maxwell assisted, facilitated, and contributed to Jeffrey Epstein's abuse of minor girls by, among other things, helping Epstein to recruit, groom, and ultimately abuse victims known to Maxwell and Epstein to be under the age of 18. The victims were as young as 14 years old when they were groomed and abused by Maxwell and Epstein, both of whom knew that certain victims were in fact under the age of 18.

Seksuele predatore is daarop uit om jag te maak op ons kinders. Hierdie aanslag word by die dag feller en is tekenend van die siek samelewing waarin ons (en die res van die wêreld) leef. Die bovermelde voorlegging deur Songca en Karels stel dit só: “Seksuele misdrywe teen kinders en seksuele misdrywe deur kinderoortreders is ’n multidimensionele verskynsel wat veroorsaak word deur maatskaplike, ekonomiese en ander faktore.”

Daar gaan haas nie ’n dag verby dat daar nie berig word oor nóg ’n kind (selfs babas!) wat seksueel misbruik is nie. Ons lees ook gereeld van persone wat gearresteer word omdat hulle kinderpornografie besit of versprei. Songca en Karels beklemtoon:

Alhoewel die media en statistiekverslae dui op ’n toename in die aanmelding van gevalle van seksuele mishandeling van kinders, is ons van mening dat daar baie meer gevalle is wat nooit aangemeld word nie. Mediaberigte is gewoonlik gegrond op gerapporteerde sake en waar die oortreders óf skuldig bevind is aan die misdrywe óf skuld aan die misdrywe erken het. Ongerapporteerde sake gaan dus vir die strafpleging verlore.

Al hoe meer volwassenes, soos die oudpolitikus Pierre-Jeanne Gerber, kom ook na vore en erken dat hulle as kind seksueel misbruik is. Lees gerus Jean Oosthuizen se artikel hieroor wat op Voertaal verskyn het:

Oud-LP sê boer het hom as kind gemolesteer

Wat veral onrusbarend is, is die feit dat pedofiele as doodgewone, goeie mense onder ons skuil, boonop dikwels in vertrouensposisies waar hul maklik toegang het tot kinders. Gewoonlik is hulle ook nie gesiglose vreemdelinge nie, maar juis mense (manlik of vroulik) wat aan hul slagoffers bekend is.

Latayne C Scott, ’n bekroonde skrywer van Christelike lektuur, en Beth Robinson, ’n gelisensieerde en professionele berader, gee in Protecting your child from predators waardevolle wenke aan ouers om ouderdomtoepaslike gesprekke met hul kinders te hê oor seksuele predatore wat op loer mag lê. Scott en Robinson is dit eens dat kinders bemagtig kan word om krygerharte (warrior hearts) te hê, maw kinders kan geléér word om gereed te wees (en die moed te hê!) om met gesag “Nee!” te sê wanneer ’n molesteerder hulle nader.

Seksuele misdrywe teen kinders figureer ook dikwels in plaaslike letterkunde. Suid-Afrikaanse skrywers wat standpunt inneem teen die seksuele misbruik van kinders is onder andere Hans du Plessis, Fanie Viljoen, Christine Barkhuizen-Le Roux, Wendy Maartens en Sidney Gilroy. Hierdie dapper skrywers het in hulle onlangse boeke die kollig geplaas op pedofiele wat op kinders se onskuld teer. Hiermee dek hulle die tafel vir ’n broodnodige gesprek oor hoe ouers én kinders bemagtig kan word om ’n standpunt in te neem teen molestering en ook hulp kan kry.

Die opstand van Poppie Nel (LAPA)

Hans du Plessis se Die opstand van Poppie Nel vertel die aangrypende verhaal van ʼn meisie wat sedert haar kinderjare deur die pastoor van hulle kerk religieus mislei en seksueel misbruik word. Die pastoor oortuig haar dat alles wat tussen hulle gebeur, die wil van God is en deur boodskappe direk van die hemel af aan hom geopenbaar is. Poppie gesels oor haar ervaring met ene dominee Lukas en só ontdek die leser hoe sy oor etlike jare heen seksueel voorberei is (in Engels praat hulle van sexual grooming) deur haar molesteerder. Hieroor merk Du Plessis tereg op: “Verkragting is ’n daad, molestering ’n proses.” Op die voorplat ruk die volgende opmerking die leser tot stilstand en bring die gruwel van hierdie misdaad tuis: “Die wreedste moord van alle moorde is dié waar die slagoffer ná die moord moet bly lewe.”

Dit was vir Du Plessis emosioneel uitputtend om die boek te skryf, en hy het meer as een keer oorweeg om tou op te gooi. Die wete dat die werklike Poppie, wie se lewensverhaal die inspirasie agter die roman is, daarop reken dat die oopskryf van haar verhaal ander slagoffers kan help, het hom laat deurdruk. Hy het ook jare tevore ʼn student wat nóg erger seksuele misbruik ervaar het, gehelp om as terapie haar ervaring neer te skryf. Verder het hy navorsingsartikels en studies oor die onderwerp gelees en met joernaliste gesels wat sulke hofsake moes dek, byvoorbeeld met Veronica Fourie wat die Timothy Omotoso-verkragtingsaak vir die SAUK dek.

Sy raad aan slagoffers is: “Praat, praat, praat! As jou ouers jou nie glo nie, praat met ʼn onderwyser of bel die hulplyn.”

Klikbek (Human & Rousseau)

Sidney Gilroy se spanningsverhaal Klikbek is volgens hom ’n familieportret van moderne Suid-Afrika. ’n Groentjiespeurder kry opdrag om na ’n skatryk, vermiste boer te soek. Hy vind egter baie meer as waarop hy gereken het op die Vrystaatse dorpie Rhynveld, waar donker familiegeheime en -vetes met verwoestende gevolge swaar op die nageslagte druk. ’n Karakter wat as kind seksueel misbruik is, word uitgebeeld as ’n gekwelde jong man, deurmekaar oor sy eie seksualiteit en kwalik in beheer van sy gevoelens en, uiteindelik, sy lewe. Sidney reken die kruks lê juis daarin dat mans, gebroke mans, nie sommer gebroke is om geen rede nie. Iets moes met hulle gebeur het; of iemand moes betrokke gewees het.

Hy noem dat kindermolestering as sulks nie bedoel was om ’n sentrale tema in die boek te wees nie. Hy wou manlikheid in sy verskillende vorme, en veral die ongeskrewe broederband tussen mans (van klein seuntjies tot volwasse mans) ondersoek. Hy wou kyk na die toksisiteit wat dit in die samelewing teweeg kan bring en jong seuns in gekwelde volwassenes kan verander. Navorsing het hom egter laat besef dat kindermolestering sentraal staan in die uitkomste om gebroke mans vir die samelewing te lewer.

Tydens die skryf van Klikbek, het Sidney met drie volwasse mans – ’n baie suksesvolle besigheidsman, ’n sukkelaar en ’n professionele sportspeler – gesels wat as kinders gemolesteer was. Die gevalle is nooit aangemeld nie. Van al drie is verwag om dit op hulle eie te hanteer. Die besigheidsman is glo al vier keer geskei, die sukkelaar is ’n alkoholis met ’n paar kriminele sake teen hom, en die professionele sportster ’n gay man in die kas met ’n voorliefde vir dwelms. “Die mans het geredelik oor hulle ervaringe gesels (solank anonimiteit gewaarborg was) en die detail soms erg visueel oorgedra. Ook die onderliggende woede, nie teenoor die molesteerder nie, maar eerder teenoor mense wat nie na hulle wóú luister destyds nie of vir wie hulle te bang was om vir hulp te nader. Onderwysers. Dominees. Ouers. Sportafrigters. Ooms. Almal juis die mans wat ons as bewaarders voorhou.” Dit was vir hom baie hartseer dat die algemene gevoel onder dié drie was “dat dinge eerder daar gelaat moet word want dit is die verlede, maar sterkte met jou boek. Wie weet? Miskien help dit iemand.”

Sidney voel sterk daaroor dat veral mans introspeksie moet doen oor hoe daar met slagoffers van seksuele misbruik omgegaan word. Die samelewing faal dikwels seuns wat gemolesteer is/word. “Manlikheid en seksualiteit loop hand aan hand. Op ’n manier vee ons as samelewing die molestering van seuns onder die mat in. Dit is duidelik uit my navorsing dat dit te make het met die toekomstige seksuele status van die seun en sy manlikheid as volwassene, gemeet aan voorafopgestelde standaarde.” Daar moet die nodige empatie wees met die volwasse man wat as kind onder ’n seksuele predator deurgeloop het.

Sy raad aan volwassenes wat as kind gemolesteer is, is: “Die verlede is ’n truspieëltjie. Die dinge daarin lyk nader as wat dit werklik is, maar dit maak dit nie minder eg nie. Konfronteer dit. Kry hulp. Dit is nie wie jy is nie. Dit is wat aan jou gedoen was.” Vir ouers sê hy: “Praat met kinders oor seks. Seuns én meisies. Moenie meer vertel as wat hulle vra nie as jy bang is jy druk jou kind ryp. Maar maak dit duidelik hul liggaam is hul eie en wat daarmee gebeur is alleenlik hul keuse. Nie ’n grootmens s’n nie. Nie Pappa of Mamma se keuse nie. Nie ander maatjies se keuse nie. Nie vriende of ooms of tannies se keuse nie. Hulle s’n alleen. Hulle het die sê. Ek lê in die aand wakker oor wat die een slagoffer gesê het: ‘Hy was ’n grootmens. Ek het nie geweet ek mag nee sê nie.’”

My naam is Prins, ek slaap met die lig aan (Human & Rousseau)

Christine Barkhuizen-Le Roux se roman My naam is Prins, ek slaap met die lig aan vertel die verhaal van volwasse mans wat as seuntjies deur ’n koshuisvader seksueel misbruik is. ’n Sielkundige vergesel ’n oudpasiënt toe dié ’n pelgrimstog onderneem na die dorp van sy kinderjare – dieselfde plek waar haar man, ’n predikant met ’n drankprobleem, vandaan kom. Dit is die aangrypende storie van hoe mans selfs baie jare nadat hulle gemolesteer is, nog getraumatiseerd is deur die verwoestende uitwerking wat dit op hulle lewe het. In my resensie oor die boek wat op Maroela Media verskyn het, skryf ek dat Barkhuizen-Le Roux haar lesers se oë oopmaak “vir hoe slinks ’n pedofiel sy slagoffers manipuleer sodat van hulle selfs dekades ná die misbruik soms nog sukkel om die ‘goeie’ oom wat hulle onskuld gesteel het te sien vir wie en wat hy werklik is – ’n monster wat op kinders teer.”

Hoewel dit ’n uiters ontstellend ervaring vir Christine was om die boek te skryf, het sy deurgedruk. “Dit het my sielkundig en fisiek sleg beïnvloed – maar ek is geen oomblik spyt dat ek dit gedoen het nie. Ná optredes kom daar mans na my toe en kom sê met trane wat loop dat hulle ook gemolesteer is.”

Pierre-Jeanne Gerber beaam: “Christine se boek het my finaal oortuig en die moed gegee om die saak so ver as moontlik te neem, veral om die pedofiel te ontbloot. Baie van sy slagoffers, dié wat my gekontak het en dié wat nie die moed het om hulself te identifiseer nie, kan dan vir oulaas sien dat hierdie pedofiel nie met al die smart weggekom het nie. Indien ek die saak sou los, sou ek al daai ander slagoffers in die steek gelaat het.”

Christine se raad aan slagoffers is: “Práát! Kry hulp. Jy was nooit skuldig nie – al wou die oortreder jou só laat glo. Jy as mens is veel meer as net ’n slagoffer. Daar is hoop, en jy het ’n toekoms. Deur berading en terapie kan jy gehelp word om hierdie onreg en pyn te verwerk.”

Drie hoera’s vir Denver (LAPA)

Wendy Maartens se kinderboek Drie hoera’s vir Denver is in Engels, Xhosa en Zoeloe vertaal en vergestalt dít wat sy as onderwyser saam met haar leerders beleef het. Die boek handel oor klein Denver wat begin hakkel nadat oom Jaap by hom en sy ma kom bly. Hy vertel vir juffrou Lea wat gebeur en tóé eers kom die misbruik tot ’n einde.

Wendy is as kind gemolesteer. Sy het lank met die trauma geworstel voordat sy professionele hulp gekry het. Sy het dit baie uitdagend gevind om Drie hoera’s vir Denver te skryf, maar die gedagte dat sy dalk daardeur één kind minder alleen kon laat voel, het dit vir haar die moeite werd gemaak. Sy het die pyn wat die gevoel van isolasie meebring wanneer iemand gemolesteer word, opnuut intens beleef. “Jy loop met hierdie ding wat jy self sukkel om te verwoord. Wat nog te sê oorvertel.”

Sy wil graag hê dat kinders moet weet dat dit nie net ooms is wat seksuele misbruikers kan wees nie, maar ook tannies en ander kinders. “Mishandeling beteken nie altyd dat iemand seergemaak word nie. As iemand iets aan jou doen wat jy weet verkeerd is of waarmee jy ongemaklik is, is dit ’n vorm van mishandeling en het jy die reg om op te tree.”

Die dag toe die draak kom (Human & Rousseau)

Fanie Viljoen se kinderboek Die dag toe die draak kom word uit beide seuns én meisies se oogpunte benader en vertel die verhaal van sibbe wat deur hulle ma se nuwe kêrel misbruik word. Die boek, wat daarin slaag om kinders op hulle begripsvlak teen seksuele misbruikers te waarsku, is ook in Engels beskikbaar. Dit leer hulle hoe om hulp te soek wanneer hul wel met so n persoon te doen kry. Ouers kan die boek ook gebruik as aanknopingspunt om oor hierdie moeilike onderwerp te gesels.

Die fliek Spotlight het Fanie geïnspireer om hierdie boek te skryf. Spotlight handel oor die seksuele misbruik van kinders in die Rooms-Katolieke Kerk. Hy beskryf ook die skryfproses as uitdagend. Dit was vir hom belangrik dat die boek vir ouers én kinders bruikbare inligting sou verskaf. Hy gee riglyne oor hoe om die boek saam met die kind te lees en te gebruik. Hy wys op gevaartekens, gee raad oor hoe om die kind te beskerm, en wat om te doen as ’n kind misbruik word. ’n Rympie help kinders onthou wat om in ’n onveilige situasie te doen. Die verskil tussen veilige en onveilige aanraking word verduidelik, en dan is daar ook die Veilige Hand-reël wat help om ’n ondersteuningstelsel te skep.

Hoe weet ek my kind word gemolesteer?

Kweek ’n vertrouensverhouding met jou kind en hou die kommunikasiekanale oop. Jou kind moet die vrymoedigheid hê om met jou oor enigiets te kan gesels sonder veroordeling en met die wete dat jy sal glo wat hy of sy jou vertel. Gesels dadelik met jou kind indien jy vermoed dat iets skort.

“Tekens dat jou kind dalk seksueel misbruik word: Seksuele praatjies of gedrag, selfstimulasie, speel met speelgoed op ’n seksuele manier, eksplisiete beskrywings van seksuele dade, uitermatige bewustheid van geslagsdele, klagtes oor pyn, kneusplekke of snymerke aan geslagsdele of mond, bloed in die kind se onderklere, gereelde blaasinfeksies, gereelde hoofpyne of siekteklagtes, seksueel oordraagbare siektes, swangerskap by ouer meisies, ’n skielike verandering in gedrag; depressie, die kind wil van die huis af wegloop, die kind vermy volwassenes of raak klouerig, drastiese woede-uitbarstings, slaapprobleme, ’n verandering in eetgewoontes, groot geheimsinnigheid en ’n skielike afname in klasdeelname en prestasie.” (Uittreksel: Die dag toe die draak kom, Fanie Viljoen, Human & Rousseau)

Die skrywers van Protecting your child from predators noem nóg gevaartekens waarop ouers ag moet slaan, naamlik: Kinders wat misbruik word, kan dalk buitengewoon skaam wees om voor ander te ontklee; hulle sal dalk sekere individue probeer vermy of nie langer wil deelneem aan eens geliefkoosde aktiwiteite nie; hulle kan die bed nat- of vuilmaak, selfmoordgedagtes koester of hulle afsonder.

Nie alle kinders wat seksueel misbruik word, sal hierdie gevaartekens openbaar nie. Dit is waarom dit so belangrik is dat kinders moet wéét dat hulle kán en mág en móét praat.

Moenie stilbly nie!

Skrywers soos Hans du Plessis, Sidney, Christine, Wendy en Fanie plaas die kollig op seksuele misbruik van kinders. Hulle boeke beland in ons voorkamers en slaan enige taboes wat daar nog mag bestaan oor hoe openlik ons daaroor kan en mag praat, bloedneus. Ouers en kinders word bemagtig en aangemoedig om ’n standpunt in te neem teen die monsters in ons samelewing wat nie hulle kloue van ons kinders afhou nie.

Fanie beklemtoon: Volgens wet móét ’n mens seksuele misbruik rapporteer. Jy het nie ’n keuse nie. Jy kan ’n vonnis van tot vyf jaar gevangenisstraf opgelê word indien jy dit stil hou. Rapporteer seksuele misbruik direk by die polisie. Jy kan dit ook by die skoolbeheerliggaam, kinderbeskermingsdienste of die Departement van Maatskaplike Ontwikkeling aanmeld. Indien die rapportering te goeder trou plaasvind, kan jy nie later deur die aangeklaagde gedagvaar word nie. Christine wys ook daarop dat die persoon wat seksuele misbruik aanmeld se identiteit beskerm word.

Dit is belangrik dat jy kalm bly en nie emosioneel voor jou kind reageer sou dié wel erken dat hy of sy seksueel misbruik word nie. Kry onmiddellik professionele hulp en meld die misbruik aan. Fanie verduidelik dat jou kind vir omtrent ’n halfdosyn mense in die stelsel sal moet vertel wat gebeur het. Jou kalmte en onderskraging sal dus die wêreld se verskil maak vir jou kind. Wendy is dit met hom eens dat jou reaksie ’n bepalende faktor is in die kind se hantering van die voorval.

Hoe beskerm ek my kind?

Beskerm jou kind deur dié bedag daarop te maak dat daar wel persone is wat op ’n onveilige manier aan kinderlyfies wil vat. Skets moontlike scenario’s of gebruik rolspel, maar oefen jou kind daarin om alarm te maak indien ’n persoon vatterig raak, met onwelvoeglike voorstelle kom of hulle ongemaklik laat voel. Leer jou kind hoe om hard en duidelik NEE! te sê en dadelik vir jou daarvan te vertel sonder om bang te wees vir jou reaksie. Ook as iemand die kind dreig of wil omkoop om ’n geheim te hou. Onthou, jý moet aan jou kind die verskil uitwys tussen aanvaarbare en nie-aanvaarbare gedrag. Die kind kan nie altyd self die onderskeid tref nie. Dit is byvoorbeeld aanvaarbaar om ’n geheim te hou omdat julle ’n verrassingspartytjie reël, maar dis nie aanvaarbaar indien iemand sy tong in jou mond druk en dit dan ná die tyd afmaak as per ongeluk en jou aansê om stil te bly daaroor nie.

Laat vaar jou inkennigheid oor die onderwerp en hou ouderdomstoepaslike gesprekke met jou kind oor seks. Wees betrokke in jou kind se lewe. Weet altyd waar jou kind is, saam met wie die kind is en wat hulle daar doen. Seksuele predatore skuil ook aanlyn. Leer jou kind hoe om veilig aanlyn te wees en om nie persoonlike inligting te deel nie. Die goue reël is om wakker en waaksaam te wees. Dit kán met jou kind gebeur. ’n Boek soos Protecting your child from predators sal jou help om jou kind paraat te maak sonder om die kind vreesbevange te maak. Dankie aan elke dapper skrywer wat nie skroom om bewusmaking te skep oor die gevaar waarin ons kinders verkeer nie!

Kry hier inligting en hulp

Laai Solidariteit Helpende Hand se Maatskaplike Hulp Handleiding hier gratis af. Hoofstuk 1 bevat uitstekende inligting oor die beskerming van kinders.

www.samsosa.org

www.jellybeanz.org.za

www.childlinesa.org.za

Myths and Facts About Male Sexual Abuse and Assault

Kinderlyn: 08000 55555

SA Polisiediens – Stop Misdaad: 0860 010 111

The post "Los ons kinders uit!" sê skrywers aan pedofiele appeared first on LitNet.

Lesersindruk: Wolk deur Hannes Brand

$
0
0

Wolk
Hannes Barnard
Uitgewer: LAPA
ISBN: 9780639600604

Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer geskryf en aan LitNet gestuur.

Wolke van verandering eerder as winde van verandering, dis wat hierdie boek vir sy leser bring. Wolke is besonderse verskynsels en het elk ’n klassifikasie – van Cumulonimbus tot Cirrus. Wolke word al sedert 1803 geklassifiseer op grond van hul vorm en hoogte. Verskeie weer-en klimaatverskynsels beïnvloed ons lewe en hierdie Wolk is nie ’n uitsondering nie ‒ of is dit ’n vooruitwysing?     

Die skrywer

Hannes Barnard maak sy debuut in 2019 met Halley se komeet, wat afspeel in Suid-Afrika in die 1980’s. Daarenteen speel Wolk in die nabye toekoms af en bied ’n nuwe perspektief op ’n moontlike apokalips.

Wolk

Die leser word aanvanklik onkant gevang deur die titel, want die openingshoofstuk val met die spreekwoordelike deur, dwarsdeur die huis.

“Hoe lyk die einde? Soos daardie swart-en-oranje wolk op die horison wat elke dag naderkom?” (bl 5). Dit klink asof die apokalips aangebreek het en die hoofkarakters die aankondiging gemis het. Watter ander situasie op aarde vereis dat mens tuna, graanvlokkies en ingelegde koejawels saam sal eet? En wat het ’n wolk daarmee te doen? Die antwoorde op hierdie vrae, lê in daardie wolk.

Hierdie roman is nie net anders met sy titel nie, maar ook hoe die verhaal vertel word. Die verhaal in geheel word deur die perspektief van die twee hoofkarakters, Xandr en Rufus, vertel. Dit dra by tot die vinnige pas van die boek en die gedurige verskuiwing van perspektief kan vir sommige lesers steurend wees. Tog is dit ’n tegniek wat tradisioneel effektief in historiese fiksie gebruik word en die vertel van verhale uit drie of meer perspektiewe vergemaklik. Dit is dalk ongewoon om hierdie verteltegniek in ’n jeugroman te gebruik, maar dit bring iets nuuts na die tafel. Gewoonlik word hierdie tegniek gebruik om verskillende verhaallyne bymekaar te bring, maar in Wolk word daar wedersyds oor dieselfde verhaallyn vertel. Sodoende word ’n baie “kort” verhaal uitgebou tot ’n spannende roman.  

Wolk ontgin ook die tema van vriendskap met ongewone kinkels in die kabel en trek daarmee die jonger leser se aandag. Veral wanneer die vriendskap moontlik kan lei tot ’n klassieke tienerromanse. Maar gaan dit gebeur of nie? Jy sal moet lees om uit te vind.  

Dié van ons wat maaitjies gemaak het nog voor ons behoorlik uit ons doeke was, saam kleuterskool toe is en saam op skool was, sal hierdie boeke kan waardeer. Volwassenes kan ook gerus die boek lees. Die van ons wat gelukkig is om saam met ’n maat groot te word, kan kosbare herinnerings en nostalgie in hierdie boek vind. Sommige vriendskappe hou ’n leeftyd en vriendskap is ’n tema wat al verskeie boeke geïnspireer het. Beslis ’n goeie rede om Wolk aan te skaf.

Wolk se unieke kenmerke

Die plasing van die klimaks, of dalk eerder die eerste verwysing na die klimaks binne die oorkoepelende verhaallyn, laat Barnard se roman uitstaan. ’n Tegniek wat ook in Halley se komeet goed benut word.

Wolk hanteer die werklike klimaks wat in die titel gesuggereer word baie vroeg in die verhaal. Maar die gevaartekens of die opbou van die klimaks word gedestabiliseer, omdat dit amper heeltemal weggelaat word. Die twee hoofkarakters weet nie eers daarvan nie, totdat dit te laat is. Hulle mis amper die grootste katalisator in die hele verhaallyn – die wolk.

Hierdie roman herinner nogal sterk aan ’n Entwicklungsroman. Hierdie vorm verwys na ’n verwante vorm van die Bildungsroman. Dit verwys na ’n roman waar die verteller of hoofkarakter groei tot volwassenheid, wat gewoonlik ’n persoon se hele lewensverhaal insluit. ’n Goeie voorbeeld hiervan is Charles Dickens se Great expectations, waar Pip se lewensverhaal vertel word. Stilisties is daar gewoonlik twee vertellers in hierdie verhale, ’n volwasse- en kinderweergawe van dieselfde karakter.   

Wat die Entwicklungsroman anders maak is dat dit oor ’n korter tydperk afspeel as die Bildungsroman. Laasgenoemde se tydperk kan van ’n dag tot ’n week wees en daar is ’n enkele verteller, die persoon wie se reis na volwassenheid die leser meemaak. The catcher in the rye (1951) word gereeld hier as ’n ideale voorbeeld voorgehou.  

In Wolk is daar ook die vreemde karakter, Jeremy Furter, wat vir Rufus by die kafee teister en dreig. Op die oog af blyk hierdie karakter niksseggend in die verhaal te wees. Net soos Magwitch in Great expectations. Alhoewel Magwitch ten einde goeie bedoelings gehad het, kan Jeremy Furter moontlik as ’n barometer dien vir die ontwikkeling van Rufus en Xandr se verhouding, hulle eie volwassewording en die naderende wolk.  

Wolk kan as ’n nuwe, eiesoortige Entwicklungsroman beskou word. Waar daar twee vertellers is, elke met hul eie ontwakings en openbarings, met ’n oop einde. Die skrywer ontgin ’n baie ou en gevestigde genre deur nuwe strukturele elemente by te voeg en iets opwindend in Afrikaans te skep ‒ dit lees met dieselfde opwinding as reekse soos Divergent en The hunger games. Al is dit reekse, wonder ek wat van Rufus en Xandr gaan word, meneer die skrywer?

Laastens word aktuele kwessies soos klimaatsverandering, natuurrampe as gevolg van klimaatsverandering en tienerworstelinge met respek in die verhaal ingeweef. Die apokalips-gevoel en die groot verwoesting, bring ’n tipe realistiese gevoel na vore wat vandag se jeug dalk mee kan vereenselwig. Veral in verband met vraagstukke soos dié van Greta Thunberg se opinies oor klimaatsverandering.

Wolk is beslis ’n lekkerleesboek vir die bank of leeshoekie. Die samevloei van alledaagse jongmenskwessies maak die boek toeganklik en innemend vir jong volwasse lesers. Die dubbelsinnige ervaring van, “hierdie karakters verstaan my” en die nostalgiese ervaring van “ja, ek onthou”, is eie aan die Entwicklingsroman en moontlik die sleutel tot die sukses van baie romans vir jong volwassenes wat tans op die mark is.

Gaan vind jóú wolk in hierdie boek!

Verwysings:

Barnard, H. 2019. Halley se komeet. Wenkbrou: Pretoria.

Entwicklungsroman. Literêre terme en teorieë aanlyn. Beskikbaar aanlyn:  http://www.literaryterminology.com/index.php/lemmas/22-o/1064-ontwikkelingsroman  [Besoek op 31 July 2020]

Lees ook:

Wolk: ’n onderhoud met Hannes Barnard

The post Lesersindruk: <em>Wolk</em> deur Hannes Brand appeared first on LitNet.

Viewing all 21515 articles
Browse latest View live


<script src="https://jsc.adskeeper.com/r/s/rssing.com.1596347.js" async> </script>