Hammie
Ronelda Kamfer
Uitgewer: Kwela
ISBN: 9780795707582
Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer geskryf en aan LitNet gestuur.
1. Inleiding
Die bundel Hammie deur Ronelda Kamfer is een van die digter se eerlikste bundels. Die verteller en verhalende elemente van die bundel, gaan bespreek word met die veronderstelling dat die verhaalelement in poësie oor die "onderskeidende ervaring" van die spreker handel en nie oor die kollektiewe of subjektiewe ervaring nie, volgens Naudé (2010:114) – die spreker in die geval Ronelda Kamfer.
Die feit dat die verhaal op die voorgrond geplaas word en dan die illusie skep dat die gedig self die ervaring is, gaan ondersoek word aan die hand van gedigte uit hierdie bundel. Die poëtiese tegnieke wat in die gedigte gebruik is, word verbloem deurdat daar ’n sterk fokus op die verhaalelement is. Oplaas is die veronderstelling dat die verhaal in sy geheel die beeld of metafoor word.
2. Begrippe
Narratologie verwys na die teorie en sistematiese studie van die "verhaal" volgens Currie (2011:6). Dit kan ook as ’n versameling van teorieë van verhale, narratiewe tekste, beelde, perspektiewe, gebeure en kulturele artefakte wat ’n storie vertel, gesien word. So ’n teorie help om die vertellings te verstaan, te ontleed en te evalueer (Bal 2009:4).
Die verteller kan gesien word as die diskursiewe instansie wat die vertelling in ’n epiese teks tot stand bring: direk deur in die vertellerteks aan die woord te kom om oor die storiegebeure en die personasies te berig, en indirek deur die vertelling te redigeer waar personasies se woorde (dialoog) of gedagtes (innerlike monoloog) as personeteks gesiteer word (Venter 2013).
Volgens Herman (2011:1) is verhalende elemente elemente wat ’n verhaal interpreteerbaar as ’n verhaal maak. Die opeenvolging van gebeure, ligging, wêreldskepping/afwyking en hoe dinge werklik is, kan as vier van daardie elemente geïdentifiseer word. Volgens Hühn (soos aangehaal deur Van der Berg 2016:10) kan daar drie narratiewe elemente in poësie voorkom, naamlik sekwensialiteit, bemiddeling en intrige.
Volgens Hühn (soos aangehaal deur Van der Berg 2016:50) kan die onderskeidende ervaring van die spreker deur subjektiwiteit gekenmerk word, maar dit kan eerder as ’n persoonlike ervaring gesien word. ’n Subjektiewe ervaring is wat ’n individu dink of glo (Train ea 2007:181). Die onderskeidende kenmerke wat deel vorm van die onderskeidende ervaring, is kenmerke wat een ding anders as ’n ander maak (Train ea 2007:180).
Kollektiewe ervaring is gewortel in gedeelde patrone van aksie en gedrag. ’n Gevoel van ’n gesamentlike bewussyn kom uit sulke aksiepatrone (Von Contzen en Alders 2015:226). Verder behels die kollektiewe ervaring emosies en gedagtes wat deur ’n groep gedeel word, maar in hul gedagtes versteek is (Grethlein 2015:124).
2.1 Verteller
Alhoewel Ronelda Kamfer die digter van die bundel is, is sy ook die verteller sowel as die fokalisator. Volgens Hühn (soos aangehaal deur Van der Berg 2016:11) skep dit ’n effek van onmiddellikheid, spontaniteit en geloofwaardigheid as die vertelling en fokalisering aan dieselfde agent toegeskryf word. Sy gaan in die bespreking as die "spreker" bekend staan en daar gaan ondersoek ingestel word na haar onderskeidende ervaring.
2.2 Verhalende elemente
Die narratiewe elemente wat in die gedigte in Hammie voorkom, kan in terme van sekwensialiteit, bemiddeling en intrige bespreek word na aanleiding van Hühn se navorsing (Van der Berg 2016:10).
2.2.1 Sekwensialiteit
Volgens Hühn (2010:19) verwys sekwensialiteit na die koherente, oorsaaklike of sinvolle strukturering van gebeure om sodoende ’n poëtiese intrige tot stand te bring.
Die sogenaamde poëtiese intrige word gekenmerk deur geestelike gebeure soos die ontstaan en ontwikkeling van persepsies, verbeelding, begeertes, vrese, herinneringe of emosies (Hühn 2010:19).
In Hammie blyk die spreker se gevoelens duidelik in "Seymor" (bl 39). In haar woorde "die oggend toe ek die ICU instap het ek gehuil" kan die hartseer aangevoel word.
In "Minesweeper" gebruik sy hartseer in ’n vergelyking (54). Die vergelyking vorm dan die beeld. Daar word direk in die gedig op die hartseergevoel gefokus. Sy verwys tot na "huil" met die woorde "met die honde wat huil in die verte".
Herinneringe onder geestelike gebeure wat die poëtiese intrige tot stand bring, word ook in die gedigte gevind. In "Lae lewens" vertel sy ’n verhaal, maar herinneringe word opgeroep om die verhaal oor te dra (20). "[D]aar was ’n vrou in my lewe" dui op die verlede en "sy het" dui aan dat die gebeure reeds plaasgevind het.
Verder berus die gebeure in die gedigte op twee elemente soos wat deur Hühn (2010:19) veronderstel word. Die eerste element is tematiese of omstandigheidskontekste (Hühn 2010:19). Die dood word as sentrale tema raakgesien.
In "Overberg" maak die spreker melding daarvan dat sy by haar ma se eie begrafnis is (25): "my ma was by haar eie begrafnis" is die droom waarvan daar melding gemaak word.
In "Bang" vertel "drie dae lank is my ma dood" hoe lank die spreker se ma al afgestorwe is (26), en "totdat my ma ophou bestaan het" dui die finaliteit van die dood aan.
In "Dis wat die dood doen" vertel die spreker van die volle implikasies van die dood (31). Sy vertel wat dit aan ’n individu oor die algemeen doen. Haar eerstehandse kennis omdat haar eie ma oorlede is, maak dit meer geloofwaardig.
Na die spreker se ma se dood het daar sekere dinge verander. In "Ma" vertel sy "eerste het die hekke afgeval" (32).
In "Saamdood" maak die spreker melding daarvan dat sy op ’n manier saam met haar ma gesterf het (44); "my ma is dood, ek is saam haar" druk dit uit.
Die spreker vertel van gebeure voor haar ma se dood in "As seer nie meer seer is nie" (47). In die eerste versreël maak sy dit duidelik dat die gebeure voor haar ma se dood afgespeel het. "’n Week voor my ma se dood" dui daarop dat haar ma se dood steeds op die voorgrond is en dat dit in ag geneem moet word saam met die vertelling wat plaasvind.
In "Imagine as Hammie moen doodgaan" vertel die spreker oor haar vooropgestelde idee van hoe sy sou reageer as haar ma ooit moes sterf (62). "[W]anneer jy klein is imagine jy soms hoe jy sal voel as jou ma doodgaan," begin die vertelling van die vooropgestelde idee.
In "Die bome bloei" vertel die spreker van die gebeure wat by haar ma se begrafnis plaasgevind het (83); "by my ma se begrafnis het ons al haar blomme saam in die graf laat afsak" vertel van die gebeure.
Die sterk fokus op die dood van haar ma bind al die gedigte tot ’n eenheid. Aangesien die spreker die gebeure uit haar oogpunt beskryf, interpreteer die leser dit in terme van Kamfer se onderskeidende ervaring (hoe sy dit beleef het). Die vertellings word dus self die metafoor of beeld.
Die tweede element waarop Kamfer se gedigte berus, is die reeksmatigheid wat meegebring word deur gevestigde konvensionele prosedures en stereotipiese prosesse (Hühn 2010:19).
In "Waters waar rus is" is daar talle beelde en prosesse wat as vergelykings deur die spreker gebruik word (30). Om te huil word vergelyk met die proses van vuur doodmaak in strofe een. Die skrywer vergelyk bid met die aksie van drink as jy klaar dronk is in strofe twee, en "om te lag terwyl jy in pyn is is soos om in ’n lae gety te slaap" dui die vergelyking in die laaste strofe aan.
In "Saamdood" vergelyk die spreker die bloeddrukmasjien met ’n verkeerslig. Die proses waarin haar ma doodgegaan het word indirek met die loop van verkeer en dan die stop by die verkeerslig vergelyk met die woorde "die nag toe ek langs haar bed gesit het het die bloeddrukmasjien soos ’n rooi verkeerslig gelyk in ’n wêreld waar geen groen bestaan nie."
Die beelde en prosedures wat as vergelykingsmiddele gebruik word, is uniek aan Kamfer en hoe sy dit beleef. Weer eens kom haar onderskeidende ervaring ter sprake en die verhaal word op die voorgrond geplaas.
2.2.2 Bemiddeling
Volgens Hühn (2010:19) is bemiddeling verantwoordelik vir die sintagmatiese en paradigmatiese organisering van die narratief. Onder bemiddeling is daar vier agente, naamlik die biologiese skrywer, die organiserende, implisiete teksinstansie, die spreker en die protagonis (Hühn 2010:20) Die biografiese skrywer in Hammie is Ronelda Kamfer. Sy word ook as die spreker, verteller en fokalisator in die gedigte geïdentifiseer. Dus skep dit die effek van onmiddellikheid, spontaniteit en geloofwaardigheid. Regdeur die bundel is daar die implisering dat die digter haar ma mis ondanks al die konflik wat daar in hulle verhouding was. Haar ma se stem is steeds lewend as gevolg van die gedigte wat deur haar dogter geskryf is. In "Wees lief vir mekaar, kyk agter haar, Neldie, sy is jou suster ..." kom die leser agter watter groot rol die ma steeds in haar dogter se lewe speel, selfs al is sy oorlede (95). Die protagonis in die bundel is beslis Ronelda Kamfer. Al die gebeure draai om haar en hoe sy die wêreld om haar tydens haar grootwordjare beleef het asook die gebeure na haar ma se dood. Dit vorm haar onderskeidende ervaring.
Die ruimte wat in die gedigte geïdentifiseer word, speel ’n noodsaaklike rol in die vertelling wat plaasvind (Hühn 2010:20). In "Jirre waa’s my ma" dink die spreker terug aan die verskillende ruimtes waar sy haar ma oor die jare se Kersdae gesien het (18). Alhoewel dit konkrete ruimtes is, speel die herinnering aan die ruimtes in haar gedagtes af. Dit maak die ruimtes abstrak. Pick n Pay, die strand en haar ma se kombuis word as die ruimtes gesien.
In "Immigrant" vertel die digter hoe hulle uit Eersterivier getrek het om in Blackheath te gaan bly (23). Die twee konkrete ruimtes word deur die verloop van die gedig met mekaar vergelyk.
Die ruimte waarvan daar in "Onrus" gepraat word, word net na verwys as "waar sy is". Daardie ruimte dui waarskynlik op die plek waar haar ma haar nou na haar dood bevind.
In "Nag II" is die ruimte in die spreker se droom geleë (43). Haar ma kom terug vanaf die "huis" waar sy haar nou bevind. Dit is haar nuwe ruimte, alhoewel abstrak.
In "Torring" vertel die spreker van die ruimte waar sy en haar ma baie tyd deurgebring het (49). Dit kan as ’n konkrete ruimte gesien word – "as ek en sy alleen by die huis was het dit gevoel asof ons mekaar nie sien nie," vertel sy van die ruimte waar hulle saam geleef het.
In "Bellville" kom die leser agter dat die ruimte waarvan daar gepraat word, ’n werklike ruimte is. Die aanname dat die leser moontlik weet waar Bellville geleë is, ondersteun die sukses van die vertelling. In hierdie opsig maak Kamfer op die leser se gedeelde ervaring staat om die gedig te interpreteer, maar sy het die gedig uit haar onderskeidende ervaring geskryf.
2.2.3 Intrige
Volgens Hühn (2010:20) verwys intrige na die semantiese volgorde en koherensie in die gedig en die wêreld wat daardeur geskep word. Die intrige kan volgens hom in terme van die volgende kategorieë beskryf word: tematiese ontwikkeling, die struktuur, die protagonis, die vertelling, die funksie van die vertelling vir die spreker en die aard van die gebeure en die posisie daarvan op die vlak van die storie of die diskoers.
In "Fluit-fluit in kamer 3" vertel die spreker van ’n aandjie uit (27). Die spreker staan as protagonis in die vertelling. Die gebeure word vanuit haar perspektief vertel: "ek wil nie saamgaan nie" en "ek is paranoid sit met my kop in my hande" laat blyk hoe die spreker oor die gebeure voel.
In "Box cutters" word die gebeure van een oggend wat die spreker nie kan onthou nie, vertel (36). Misdaad wat as niks afgemaak word, ontwikkel as tema deur die gedig. Die spanning bou op vanaf "een het my van agter gegryp" tot by "toe jaag hulle vinnig weg". Die ironiese gebeur in die slotstrofe: Die ouma gee nie werklik om wat gebeur het nie. Dit gaan teen die leser se verwagting in.
"Die skoonmakers" vertel van een subintrige van die spreker se lewe (38). Die vertelling word in segmente verdeel op grond van die ouderdom van die spreker. Dit skep ’n georganiseerde struktuur vir die vertelling. Die funksie van die vertelling is vir die spreker belangrik. Sy wil aan die leser oordra hoe sy gekondisioneer is om te glo wat sy glo.
In "Getuienis" word die gebeure van ’n regte getuienis in die kerk ontbloot (58). Mishandeling en die samelewing wat sy oë daarvoor sluit, ontwikkel as hooftemas deur die gedig. Die spreker vertel van die gebeurtenis juis om die ironie van die situasie uit te wys. Die feit dat dit in ’n kerk is en sy as ’t ware haar geloof verloor, word ook uitgehef.
In "Sy naam moet Ethan wees" vertel die spreker van die dag toe daar op haar suster se babaseun se naam besluit is (79). Die vertelling gee die leser ’n kykie in die gemoedelikheid tussen die leser en haar mense.
2.3 Die verteller se onderskeidende ervaring
Die verteller en spreker in Hammie is Ronelda Kamfer. Die verhaalelement in poësie handel volgens Naudé (2010:114) meer oor die onderskeidende ervaring van die spreker as die kollektiewe of subjektiewe ervaring. Kamfer se onderskeidende ervaring is dus die fokus. Haar onderskeidende ervaring wat in Hammie te voorskyn kom, beïnvloed dus direk die verhaalelement in haar gedigte.
Volgens Naudé (2009) fokus die onderskeidende ervaring steeds op universele toepasbaarheid. Volgens hom wil die onderskeidende ervaring by universaliteit uitkom deur middel van die onderskeiding van die onderskeidende ervaring en die diep persoonlike ervaring. Daar word dus nie van die gedeelde ervaring gebruik gemaak nie.
Kamfer se gedigte moet geïnterpreteer word deur na haar ervaringswêreld te kyk. Sy dig oor die verhouding tussen haar en haar ma. Die vertellings van hulle verhouding is baie persoonlik en soms morbied. In "As seer nie meer seer is nie" kom die leser iets te wete oor die verhouding tussen ma en dogter (47): "ek ignore my ma die heel naweek" bewys dat hulle soms nie goed oor die weg gekom het nie. Lesers het meestal klaar ’n vooropgestelde en gevestigde persepsie van hoe ’n ma en dogter verhouding werk. Hulle interpreteer dit dus vanuit hul eie ervaringswêreld. Die vertelling gaan net meer suksesvol wees as die leser kan insien dat Kamfer se persepsie persoonlik en relatief is.
Die digter verwerk die dood van haar ma deur die skryf van die gedigte. Die toonaard van haar gedigte word as "melankolies" en "ontstellend" beskryf (Jacobs 2018:9). Daardie woorde beskryf hoe sy haar grootwordjare op die Kaapse Vlakte beleef, asook die gebeure rondom haar ma se dood.
Volgens Ramson (soos aangehaal deur Culler 2017) praat die digter oor die algemeen nie as hom- of haarself nie, maar as ’n aangenome karakter. Die digter praat ook nie in die werklikheid nie, maar in ’n aangenome situasie. Dus maak lesers eers seker watter karakter en situasie aangeneem word as hulle die gedigte lees. Verder lê daar die moontlikheid in hierdie ontleding om kritiese te verstaan, te verbeel en te geniet.
In Hammie is dit egter moeilik om ’n onderskeid te tref tussen die spreker en die karakter wat sy aanneem. Die leser vereenselwig die twee onmiddellik met mekaar. In "Slapende honde" praat die spreker oor haar skryfwerk (59). Die leser weet dus die karakter wat aangeneem is, is ’n skrywer: "my uitgewer het gerush tot by my sodat ek my kontrak kon teken" dui op haar skryfwerk.
Die leser van poësie probeer die leefwêreld van die spreker herstruktureer en daarvan sin maak. Die gedig of vertelling moet eerder beleef word as om op die spreker te fokus (Culler 2017). Dit sal dan bewerkstellig dat die verhaal in sy geheel die beeld of metafoor word. In "Disney days" vertel Kamfer byvoorbeeld die verhaal van ’n meisie wat sy op skool geken het (45). Sy vertel die verhaal uit haar oogpunt. Tot ’n sekere mate word die leser gedwing om die teks op ’n spesifieke manier te interpreteer, omdat Kamfer se onderskeidende ervaring nie ruimte vir ’n ander interpretasie laat nie.
Naudé (soos aangehaal deur Van der Berg 2016:50) sê hy gebruik die verhaalelement om soos ’n beeld te funksioneer sodat ’n sekere metaforiese of simboliese betekenis deur middel van daardie verhaalelement tot stand kom. Hy meen ook dat die spreker se ervaring van die gedig uitgelig word deur die ek-verteller. ’n Tydlose oomblik word dus deur ’n kousale verband geskep. Die onderskeidende ervaring is onherhaalbaar. Dit is wat die konsep uniek maak. In Hammie is die ek-spreker heeltyd aan die woord. In "Tronk-teaparty" is die ek-verteller duidelik aan die woord (51): "ek het grootgeword" dui op die ek-verteller. Dit maak die vertelling meer geloofwaardig omdat dit as eerstehands beleef word. Die leser voel soos ’n vlieg teen die muur.
2.4 Verbloeming van poëtiese tegnieke en fokus op verhaal
Volgens Naudé (Van der Berg 2016:50) word die poëtiese tegniek in die gedig verbloem om ’n verteenwoordigende ervaring te skep. Die verhaal word dan op die voorgrond geplaas. As daar op die verhaal gefokus word, is dit vir die leser makliker om met die ervaring te identifiseer. In "Jirre waa’s my ma" fokus die leser so op die verhaal wat vertel word dat die strofes aaneen gelees word (18). Die strofes wat sekere tydperke of ruimtes verteenwoordig, word vir ’n oomblik op die agtergrond geskuif omdat die leser die verhaal wat vertel word, wil volg. Die poëtiese tegnieke vervul steeds hul funksie om letterkundige waarde tot die gedig toe te voeg, maar die fokus is meer op die verhaal.
’n Praatstem en -toon word gebruik om die narratiewe poësie meer ’n universele ervaring te maak. Lewensgetrouheid word bewerkstellig omdat die vertelling ongemedieerd en meer natuurlik voorkom. Die praatstem verbloem die poëtiese styl, maar dit is beslis nie afwesig nie. Dit plaas net die verhaal op die voorgrond, volgens Naudé (Van der Berg 2016:50). Kamfer se digterstem en taal is eerlik, plat op die aarde en gemaklik. Dus dra dit by tot die universele ervaring van haar gedigte, veral in Hammie. Die titelwoord Hammie is op sigself gebruikerstaal wat nie algemeen bekend is in alle streke in Suid-Afrika nie. Vir die digter is dit egter bekend en algemeen. Dus gebruik sy dit as aanspreekvorm vir haar ma.
Kamfer gebruik ook nie Standaardafrikaans as digtaal nie. In "Ek koop vir my ma nice goed al is sy nie meer hier nie" word "middle-aged", "nice" en "anties" gebruik (alhoewel "antie" nou ’n erkende Afrikaanse woord is). Dit laat die verhaal vloei en maak dit meer geloofwaardig. Weer eens word die woorde op grond van Kamfer se eie onderskeidende ervaring gebruik. Haar woordeskat is ongekunsteld.
Tog gaan poësie nie net oor die narratief wat die gedigte bevat nie. Soms word die narratief ’n metafoor, en die verhaal sal niks beteken as daar nie klem op genoemde metafoor gelê word nie. In ander gevalle word die narratief ’n uitgebreide metafoor waarvan al die narratiewe elemente metaforiese betekenis kan kry. ’n Narratief wat wyd bekend is, sal aan die gedig die moontlikheid vir baie metafore bied. ’n Verhaal wat intertekstueel in ’n gedig geaktiveer word, skep raamwerke waarin eindelose interpretasies gemaak kan word (Du Plooy 2010:10). In "Braille" word daar ’n verhaal intertekstueel geaktiveer.
Volgens Du Plooy (soos aangehaal deur Van der Berg 2016:13) is daar ’n verbinding tussen die tyd en ruimte in die narratief. Dit vorm dan ’n eenheid. Soms plaas die verhaal stremming op die poëtiese tegnieke wat gebruik word en veroorsaak tekstuele spanning tussen sin- en versbou.
3. Samevatting
Ronelda Kamfer is die skrywer van die gedigte in Hammie. Sy is ook die verteller en fokalisator in die verhaal. Dit dra by tot die geloofwaardigheid van die vertelling in elke gedig.
Sekwensialiteit word in die bundel bewerkstellig deur ’n sterk fokus op gevoelens van hartseer en herinneringe wat opgeroep word. Haar ma se dood en die verwerking daarvan staan sentraal as tema in die bundel. Bemiddeling as ’n element van narratologie in poësie word deur ruimte tot stand gebring. Kamfer maak gebruik van konkrete ruimtes, soos die Kaapse Vlakte waar sy grootgeword het, asook abstrakte ruimtes, soos haar gedagtewêreld.
Alhoewel Kamfer nie haar ma se kompliment in "Humble brag" kon aanvaar nie, moet sy gekomplimenteer word op haar ongekunstelde, unieke en eerlike vertellings. Die leser kan Hammie soos ’n boek lees. Kamfer se lewensomstandighede, ervarings, grootwordjare en die gebeure rondom haar ma se dood word so aangebied dat die leser die gebeure kan volg. Kamfer se stem is duidelik hoorbaar in die vertellings.
Die verhaal wat in die gedigte in Hammie vertel word, vorm as ’n geheel die beeld of metafoor. Dit gebeur omdat die verhaal op die voorgrond geplaas word. Dit skep dan die illusie dat die gedig die ervaring self is. Ronelda Kamfer se onderskeidende ervaring word beklemtoon deur die verhaalelement. Daar word nie soseer op die subjektiewe of kollektiewe ervaring gefokus nie. Omdat Kamfer die spreker sowel as die digter is, word die effek intenser beleef. Dit moet egter in gedagte gehou word dat Kamfer se onderskeidende ervaring moontlik van kollektiewe of subjektiewe ervarings afhanklik is waarvan die leser nie bewus is nie.
Kamfer kry dit goed reg om die verhaal op die voorgrond in elke gedig te plaas. Sy doen dit in so ’n mate dat die poëtiese tegnieke verbloem word. Hammie is ’n lewende voorbeeld van waar die verhaalelement in poësie op die onderskeidende ervaring van die digter fokus.
Bibliografie
Bal, M. 2009. Narratology: Introduction to the theory of narrative. 3de uitgawe. Toronto: University of Toronto Press.
Culler, J. 2017. Theory of the lyric. https://www.idunn.no/nordisk_poesi/2017/02/theory_of_the_lyric. Datum gebruik: 20 Februarie 2019.
Currie, M. 2011. Postmodern narrative theory. 2de uitgawe. Londen: Palgrave Macmillan.
Du Plooy, HJG. 2010. Narratology and the study of lyric poetry. Literata, 31(3):10.
Grethlein, J. 2015. Social minds and narrative time: collective experience in Thucydides and Heliodorus. Narrative, 23(2):124.
Herman, D. 2009. Basic elements of narrative. 1ste uitgawe. Oxford: Wiley-Blackwell.
Hühn, P. 2010. Plotting the lyric: Forms of narration in poetry. Literator, 31(3):19–20.
Kamfer, R. 2016. Hammie. 1ste uitgawe. Kaapstad: Kwela.
Naudé, C-P. 2009. Die verhaalelement in liriese verse. https://versindaba.co.za/2009/07/05/die-funksie-van-die-verhaal-element-in-die-liriese-vers. Datum gebruik: 18 Februarie 2019.
—. 2010. Slegs aanskyn: Vertelling as tegniek in die liriese vers. Stilet, 22(2):114.
Train, B, R Ahmed, C Bandawe, K Cockcraft, F Crous, K Greenop, M Seedat, M Stacey, M Tomlinson, J Tommy en B Dale-Jones. 2007. Inleiding tot die sielkunde: ’n nuwe benadering. 1ste uitgawe. Kaapstad: Maskew Miller Longman.
Van Contzen, E en M Alders. 2015. Collective experience in narrative: Conclusions and proposals. Narrative, 23(2):226.
Van der Berg, D. 2016. Die verskillende verskyningsvorme van die narratiewe poësie by Charl-Pierre Naudé en Loftus Marais. Magisterverhandeling, Universiteit Stellenbosch.
Venter, LS. 2013. Literêre terme en teorieë. http://www.literaryterminology.com/index.php/28-v/260-verteller-epiek. Datum gebruik: 16 Februarie 2019.
![]()
Lees ook:
Resensie: Hammie deur Ronelda S Kamfer
Postkoloniale feminisme in die Afrikaanse poësie: Die debute van Ronelda S. Kamfer, Shirmoney Rhode en Jolyn Phillips
The post ’n Bespreking van die verteller en verhalende elemente in <i>Hammie</i> deur Ronelda Kamfer, met ’n fokus op die onderskeidende ervarings van die spreker appeared first on LitNet.