Quantcast
Channel: LitNet
Viewing all 21789 articles
Browse latest View live

Pasella! Lekker leesstof uit Taalgenoot se Lente 2019-uitgawe

$
0
0

Baie dankie aan die Taalgenoot-redaksie wat dit vir PEN Afrikaans moontlik maak om die taal- en boekverwante inhoud uit dié kwartaallikse tydskrif se Lente 2019-uitgawe hier te deel. Klik gerus op die skakels onder om die artikels gratis in PDF-formaat af te laai.  

  • Spoorlose e-generasie: Met geskrewe kommunikasie wat toenemend digitaal gebeur, skryf Elsabé Brits oor of daar eendag genoeg tasbare artefakte sal wees vir argeoloë van die toekoms om oor ons beskawing te kan leer.  Klik hier vir die artikel in PDF-formaat.
  • Klik-klik van ’n reddingspoging: Wanneer ’n taal sterf, verloor jy ’n hele kultuurskat, maar die N|uu-spreker Katrina Esau wil seker maak haar erfenis word aan die volgende generasie oorgedra. Klik hier vir die artikel in PDF-formaat.
  • Die fiksie van oortuiging: Izak de Vries skryf oor die “geheime” rolspelers wat dikwels tot skrywers se navorsing vir hul boeke bydra. Klik hier vir die artikel in PDF-formaat.
  • ’n Vrou se oorlog: Marchelle van Zyl in gesprek met Marita van der Vyver oor haar jongste roman Grensgeval. Klik hier vir die artikel in PDF-formaat.
  • Leana Lategan van NALN onthul watter vroueskrywers ook onder skrywersname geskryf het en ander verborge stukkies inligting. Klik hier vir die artikel in PDF-formaat.
  • Boeke wat skrywers laat skryf: Zirk van den Berg dink op PEN Afrikaans se uitnodiging na oor daardie Afrikaanse boeke wat hom geïnspireer het om die pen op te neem. Klik hier vir die artikel in PDF-formaat.
  • Die skrywer se dood is die ander se brood: Daardie persoonlike brief of dagboekinskrywing was nooit bedoel vir sommer enigeen se oë nie, maar nou beland dit postuum in ’n topverkoperboek. Catrina Wessels skryf oor die regs- en etiese implikasies. Klik hier vir die artikel in PDF-formaat.
  • Alias die skrywer: Johanna van Eeden skryf oor die verskillende redes waarom skrywers verkies om nie onder hul eie name te skryf nie. Klik hier vir die artikel in PDF-formaat.

Klik hier vir die vorige uitgawe.

’n Nuwe begin. Dis Taalgenoot se tema in hierdie someruitgawe. Om nuut te begin, loop dikwels hand aan hand met waagmoed. Om die verlede agter jou te los en ’n nuwe rigting in te slaan, is nie kinderspeletjies nie. Kyk byvoorbeeld na die NALN-storie oor uitgewers wat teen die grein in gegaan en hul eie ding gedoen het. Die digter Pieter Fourie en die skrywer Madelein Rust het dieselfde soort waagmoed aan die dag gelê. Baie Suid-Afrikaners wat oorsee na ’n nuwe begin gaan soek het, het na hul eie land teruggekeer.

Taalgenoot is propvol stories en rubrieke om jou nuwe jaar mee af te skop.

Wil jy vir Taalgenoot skryf?

Stuur voorstelle en/of voorleggings direk na die redakteur, Johan Jack Smith: JohanS@atkv.org.za

Teken in op Taalgenoot

Teken in op TG en ontvang vier keer per jaar ’n tydskrif propvol interessanthede uit die volkleurwêreld van Afrikaans.

Kontak Lillian Meyer by LillianM@atkv.org.za of 011 919 9112 of volg dié skakel vir die drukbare vorm en besonderhede: www.atkv.org.za/files/tg_-_intekenvorm_2015.pdf

Lees ook:

Artikels en resensies uit Taalgenoot se Herfs 2019-uitgawe

The post Pasella! Lekker leesstof uit <em>Taalgenoot</em> se Lente 2019-uitgawe appeared first on LitNet.


Nou in die verlede: Teignmouth Melvill, Nevill Coghill en die koningin se Vaandel

$
0
0

Teignmouth Mellvill, Nevill Coghill en Jako Bezuidenhout

Lees in hierdie artikel oor ’n gebeurtenis wat vandeesweek in die geskiedenis plaasgevind het.

Woensdag, 22 Januarie 2020

Op 22 Januarie 1879 is die magtige Britse leër een van sy swaarste nederlae deur die Zoeloe-krygers by Isandlwana toegedien. Van die 1 800 Britse en koloniale troepe, is meer as 1 300 uitgewis en daarmee het die hoogs onderskatte Zoeloe-krygers ’n skrikwekkende waarskuwing aan die verwaande, egoïstiese Britse koloniale owerheid gestuur. Dit is terloops hierdie slagting wat die gewilde wyle Johnny Clegg geïnspireer het om “Impi” te skep. Toe dit in 1981 geskryf is, is dit om apartheidsredes deur die destydse Suid-Afrikaanse Radiodiens verbied weens die bedoelde politieke ondertone in die lirieke. Vandag word hierdie lied, ironies genoeg, met die Springbok-rugbyspan vereenselwig (’n assosiasie wat die Engelse rugbyondersteuners steeds sonder twyfel warm onder die kraag sal maak).

Gedurende die laat 1870’s was die hele suidelike punt van Afrika gekenmerk deur politieke onrus, hoofsaaklik gedryf deur die Britse imperialistiese beleid. Die Kaapse koloniale magte het op daardie stadium die amaXhosa verder oos en noord verdryf, en hulle daarmee as ’n politieke rolspeler vernietig; die Transvaal was in die proses om in ooreenstemming met Lord Carnarvon se federale beleid geannekseer te word; en die Britse politici het voorberei om Zoeloeland onder Koning Cetshwayo kaMpande binne te val.

Gedurende hierdie tyd het twee Britse leëreenhede, die Eerste en Tweede Bataljonne van die 24th Regiment of Foot, by die Kaap voet aan wal gesit. Onder hulle was die 36-jarige Eerste Bataljon-adjudant, luitenant Teignmouth Melvill, en die 26-jarige luitenant Nevill Coghill van dieselfde bataljon. Beide manne het, reg of verkeerd, ’n onwrikbare lojaliteit teenoor hulle regiment, koningin en Ryk gehad. Elke bataljon het ’n banier gehad, bekend as die Koningin se Vaandel, as simbool van eenheid en trots van die regiment. Dit het vir die manne alles wat goed en waar is verteenwoordig. Die beslaglegging of verlies van die Vaandel tydens ’n veldslag was vir hulle, soos JA Verbeek dit noem, “… ’n disintegrasie van die regiment”, of die totale vernietiging van die regiment. Dit moes ten alle koste verhoed word.

Dit was Melvill as adjudant se plig om tydens die slag van Isandlwana toe te sien dat sy bevelvoerder, kolonel Pulleine, se opdragte behoorlik uitgevoer word. Coghill se beweging was egter beperk tot sy tent weens ’n beseerde knie. Om 12:30 het dit tot die Britte deurgedring dat hulle aangeval word. Teen 15:00 het hulle teëstand alreeds totaal verkrummel. Volgens oorlewering het Pulleine voor hy gesneuwel het vir Melvill met die verantwoordelikheid opgesaal om met die Vaandel na Natal te ontsnap.

Die ontsnappingsroete is egter deur die Zoeloes afgesny. Een oorlewende het die situasie beskryf as ’n “toneel van totale verwarring … berede en voetsoldate, swart en wit, Engelsman en Zoeloe, almal in ’n wriemelende massa, bewegend deur die kamp na die pad, waar die Zoeloes alreeds die weg na ontsnapping afgesny het”. Die terrein rondom die Buffelsrivier was blykbaar so ongelyk dat “… die Zoeloes net so vining soos die perde kon beweeg, terwyl hulle voor die voet doodmaak”.

Melvill en Coghill het darem daarin geslaag om die rivier te bereik, en Coghill het daarin geslaag om dit te kruis. Maar Melvill het van sy perd afgeval en is deur die sterk stroom meegesleur. In plaas daarvan om weg te ry en so sy eie lewe te red, het Coghill omgedraai en weer by die rivier ingery om Melvill (en die Vaandel) te red. ’n Groep Zoeloes wat met vuurwapens gewapen was, het egter op hulle losgebrand en in die proses Coghill se perd doodgeskiet. Hoewel die twee mans hard teen die stroom moes veg, het hulle tog uiteindelik met die hulp van ander voortvlugtendes die oewer van die rivier bereik. Na ’n klompie meter het Melvill van uitputting inmekaargesak maar die ander beveel om sonder hom voort te gaan. Coghill het egter geweier. Hy het die ander beveel om voort te gaan maar self by Melvill agtergebly.

Intussen het ’n gedeelte van die Zoeloe-mag ’n aanval op die Britse buitepos by Rorkesdrif geloods. Maar hierdie keer was die Britte daartoe in staat om hulle posisies suksesvol te verdedig, al was hulle weer deur ’n geweldige oormag gekonfronteer. Na hierdie veldslag was die lot van Melvill, Coghill en die Koningin se Vaandel steeds onseker. Die Britte het langer as twee weke geneem voor hulle patrollies uitgestuur het om vir oorlewendes te gaan soek. Die “reddingspatrollie”, gelei deur majoor Black, het die pad gevolg totdat hulle die liggame van Melvill en Coghill gekry het waar hulle mekaar tot die dood toe verdedig het.

Desnieteenstaande was die Koningin se Vaandel steeds vermis. Na ’n lang soektog het Black se manne dit uiteindelik die volgende dag ongeveer 450 meter stroomaf gevind. Dit was ’n baie emosionele oomblik. Die 24th Regiment of Foot was bykans in sy geheel uitgewis, maar sy Vaandel het teen alle verwagting in behoue gebly.

Vir hulle dade is aan beide Melvill en Coghill die Britse Ryk se hoogste toekenning vir dapperheid, die Victoriakruis, postuum toegeken. Hulle families moes egter byna dertig jaar daarvoor wag. Vreemd genoeg, volgens die Britse Weermaghoofkantoor, sou hulle veel vroeër vir die toekenning genomineer gewees het as hulle nog geleef het. Hierna het koningin Victoria die neem van die Vaandel na toekomstige veldslae verbied omdat sy geglo het die verdediging van die Vaandel “stel voortvarende jong offisiere onnodig aan gevaar bloot”.

Die Vaandel is uiteindelik na Engeland teruggeneem om in die Brecon Katedraal bewaar te word, waar dit vandag nog gesien kan word.

In ’n tyd waartydens jong mense rigtingloos voel en die gemeenskap deurtrek is met narcisme, is hierdie storie ’n rigtinggewende baken van hoop. Sonder om die tallose wreedhede deur manne in dieselfde uniform as Melvill en Coghill te ontken, moet hulle verhaal vandag dien as ’n universele voorbeeld vir dié wat voel dat die dice vir hulle verkeerd geval het, dat die lewensoormag, die onewewigtigheid van die lewe net te swaar teen hulle gelaai is. En dit sluit die meeste mense in hierdie land in. Daar is oorweldigende beloftes en retoriek waarvan niks kom nie; waardes, ideale en drome is deurlopend onder beleg, soms van onverwagte bronne. Maar wanneer dit vandag gebeur, wys die verlede die pad aan; wink die moed en trou van Melvill en Coghill soos ’n baken om die rigting aan te dui: om in ’n saak te glo en dit te verdedig ongeag die prys; om nooit integriteit prys te gee nie, ongeag hoe hopeloos die situasie lyk; en om die Vaandel aan te gee sodat hoop altyd sal bly voortleef. Al was Melvill en Coghill kolonialiste of selfs imperialiste, was hulle ook ware universele helde, omdat hulle, tot die dood toe, soos NP van Wyk Louw dit stel, “getrou was aan iets”.

En daarin lê hulle waarde vandag: dat hulle die vaandel van hoop effektief aangegee het sodat dit vir ewig kan voortleef.

  • Jako Bezuidenhout het pas sy doktorale proefskrif in geskiedenis by die Rhodes Universiteit ingedien. Hy was tot onlangs aan die geskiedenisdepartement daar verbonde en is tans ’n vryskutnavorser.

 

The post Nou in die verlede: Teignmouth Melvill, Nevill Coghill en die koningin se Vaandel appeared first on LitNet.

Resensie: Die Wonderwese deur Carina Stander

$
0
0

Die Wonderwese
Carina Stander
Uitgewer: Protea
ISBN: 9781485310136

Met Die Bergengel, die eerste roman in haar Gabriëllië-fantasietrilogie, het Carina Stander lesers betower met haar liriese prosa, enigmatiese karakters en unieke storiewêreld.

Vir aanhangers van die genre wat gesmag het na ’n fantasiewerk in Afrikaans wat met trots saam met Tolkien se The Lord of the Rings-reeks op die boekrak uitgestal kon word, was Die Bergengel soos manna uit die hemel.

As kanniedood-aanhanger van fantasie, en nou ook van Carina Stander, het ek met groot afwagting die posbus dop gehou vir my kopie van Die Wonderwese, die tweede boek in die reeks. Maar tog was daar ook ’n greintjie kommer. Hoe volg mens ’n baanbrekerboek soos Die Bergengel op? Hoe moeilik is dit om jou eie nommer 10-skoene vol te staan?

Na die eerste paar bladsye wéét ek. Die Wonderwese is nie sommer net nog van dieselfde nie.

Die opvolgroman is donkerder, digter verweef, meer gemaklik in die liminale posisie iewers tussen digkuns en prosa, fantasie en allegorie. Stander speel met ’n geoefende hand met die taal. Haar slim verwewing van Bybelse tekste, sprokies, filosofiese vraagstukke en tong-in-die-kies verwysings na haar eie digkuns en populêre kultuur dui op ’n volwasse skrywer in volkome beheer van haar kuns.

Met die leser reeds bekend met die geskiedenis, geografie en etniese groepe van Gabriëllië, kan Stander vir eers wegbreek van versigtige wêreldbouery en haar toespits op die komplekse binnewêreld van haar hoofkarakter.

Die sestienjarige Eron Verberger is lankal nie meer die grootoog kind wat saam met sy pa die veilige hawe van Skittering verlaat het om ’n lang klokreis aan te pak nie. Erin, nou ’n volwaardige Voetwerker vir die Geheime Rewolusie teen Vuurstorms, is op soek na die laaste van die agt Geseëndes sodat hy met sy pa in Afrika herenig kan word. Kan hy op die heilige Wonderwese staatmaak om hom te bewaar teen die gevare wat op hom wag? Bestaan dié Teenwoordigheid werklik?

Volgens die nawoord van Die Wonderwese speel die trilogie in op die drie kantikas van Dante Alighieri se Heilige Komedie. Die Bergengel sinspeel op Hel;  Die Wonderwese eggo Purgatorium; en Die Waterplek sal idees put uit Paradys.

Die Wonderwese, as verteenwoordigend van Dante se Purgatorio, bou op die tema van loutering. Soos Dante en Virgil moet reis deur die sewe vlakke van lyding en spirituele groei, is Eron ook een van die “wurms wat geleidelik verander in gevlerkte insekte met engelpluime” (bl 213).

Eron dra die fisieke en sielkundige letsels van sy avonture wat in Die Bergengel uiteengesit word. Sy verminkte hand is nie net aan die donker hebsug van sy aartsvyand Velvel Azazel ’n konstante herinnering nie, maar ook aan die duisternis in homself.

Eron worstel ook met die besef dat die helde in sy lewe miskien nie so leliewit is as wat hy gedink het nie – dat daar baie skakerings van grys tussen die wit van reg en die swart van onreg is.

Soos in Die Bergengel, blaas Stander weer lewe in die natuurwêreld van Gabriëllië. Maar ook hier is die letsels van die Skoonbrand duidelik sigbaar, soos die erosie en hongersnood wat heers oor die eens vrugbare Klaagtermeer.

Die Wonderwese trek vergelykings tussen die menslike en niemenslike slagoffers van die Skoonbrand: tussen die weeskinders van die Lammerhuis en hulle gebroke troeteldiere, tussen die weerloses en armes en die ongenaakbare landskap waaraan hulle uitgelewer word, en tussen Eron se onderdrukte seksualiteit en die onvrugbare natuur.

Die parallelle wat hier getrek word tussen die lyding van die natuur en dié van die mens bied ook ’n sweempie hoop. Eron se geleidelike ontwaking beteken ook die herstel van die natuurlike orde.

Na die loutering kom immers die Paradys.

Vir die ontknoping sal ons natuurlik moet wag vir die laaste boek in die trilogie, Die Waterplek. Hierdie keer sal ek Carina Stander nie so maklik onderskat nie.

Lees ook:

Lesersindruk: Die Wonderwese deur Carina Stander

The post Resensie: <em>Die Wonderwese</em> deur Carina Stander appeared first on LitNet.

Resensie: Sushi en Shosholoza – Rugbyreise en pelgrimstogte in Japan deur Erns Grundling

$
0
0

Sushi en Shosholoza – Rugbyreise en pelgrimstogte in Japan
Erns Grundling
Uitgewer: Queillerie

ISBN: 9780795802133

’n Enkele salm nigiri, só geplaas dat dit lyk soos ’n rugbybal wat geplant is vir ’n stelskop pale toe. Die son sak (of in hierdie geval kom dit waarskynlik op – ons praat immers van Japan) agter ’n versameling bome wat die netjies-gesnyde grasperk waarop die stukkie soesji staan, begrens. Bekyk mens die voorblad van die boek, tesame met die titel, is daar nie veel onduidelikheid oor wat die leser te wagte kan wees nie. Agterop is daar selfs nog méér leidrade:

Sushi en Shosholoza is Erns se verslag oor hierdie reis na Japan. Tussen pelgrimstogte soos Kumano Kodo, die Camino se sustersroete, die uitklim van Mount Fuji en onderhoude met SA rugbyspelers (en sendelinge) in Japan – ook met Dan Carter én Jake White – kry lesers nes in Elders terugflitse na Erns se jeug.

Voor jy nog begin lees, is dit dus heel duidelik dat hierdie boek oor ’n paar baie spesifieke dinge gaan handel: rugby, etlike kilometer se gestappery en baie geselsies met interessante mense. Met ’n lekker ou stukkie heimwee tussenin, net vir die wis en die onwis. Met die 2019-Wêreldrugbybeker toe nog om die draai, het Erns dit goedgedink om sy Elders-Camino-ervaring (sy topverkoperboek Elders, wat handel oor die Spaanse Camino, is vir kykNET verfilm) te herhaal, dié slag met ’n Oosterse geurtjie en ’n stewige skoot rugby daarby. Waar beter as in die land waar genoemde sportgebeurtenis plaasvind? Nêrens blyk dit egter dat hy ’n poging tot ’n Lonely Planet-tipe gids vir ’n voornemende reisiger na Japan gaan voorlê nie. Om die waarheid te sê, indien jy ver genoeg in die boek vorder, sien jy dat hy dit onomwonde stel: “Vroeër jare het ek gedink dit moet een van die lekkerste beroepe wees om te kan reis en gidse vir byvoorbeeld Lonely Planet te kan skryf. Vandag weet ek al daardie detail sou my teen die mure uit dryf” (bl 202).

Asof dit nie genoeg is nie, laat val hy op ’n paar plekke dat hy waarskynlik nie voldoende tyd aan sy navorsing vir hulle reis spandeer het nie: “Hoe kon ek dít nie geweet het nie? Ek wil myself skop dat ek nie vooraf meer deeglike navorsing oor Suid-Afrikaanse spelers in Japan gedoen het nie” (186). Met ander woorde, Erns en sy span was duidelik besig om ook maar baie van hulle aktiwiteite en onderhoude sommer net te wing. Daar is wild en wakker uit die heup geskiet en impulsiewe besluite is geneem wat soms, en soms nie, vrugte afgewerp het. En hoekom nie? Daar is tog nie net één stel reëls vir reisigers en storievertellers nie?

Groot was my verbasing toe ek Marian van Wyk se resensie, “Rys en rugby: Ego duik boek plat”, in Rapport van 22 September 2019 onder oë kry. In ’n neutedop beskou sy Erns se mymeringe, terugflitse, ag, alles wat hy sê en doen, as “irrelevant”, “vervelig”, “oppervlakkig”, “sonder insig”, “angstig” en “egoïsties”. Sjoe. Selfs die berugte Crito kon nie anders as om hierop kommentaar te lewer nie: “Mens snap dat Van Wyk au fait is met Japan en Japanse kultuur; die doel van die resensie is egter om aan te toon of Sushi en Shosholoza ’n goeie, leesbare boek is of nie, en nie om te bewys dat die resensent die boek beter sou geskryf het en ook beter toegerus is om ’n projek soos hierdie aan te pak as Grundling nie.”

Gelukkig het ek die boek gelees voor ek Van Wyk se resensie gelees het, want my beskouing van die boek is heelwat minder brutaal. Ja, Grundling kon waarskynlik met groter begrip (en dalk selfs meer respek) met die Japannese kodes en kultuur omgegaan het. Miskien wás die herhaaldelike verwysings na sy verskeie borge effe lastig. Natuurlik kon hy vir bladsye aanmekaar uitgewei het oor die Japannese se voorliefde vir die absurde, en as hy Anthony Bourdain was, kon hy beslis selfs méér aandag aan die land se vreemde spys en drank geskenk het. Maar, hy het nou nie. En hy is ook nie Anthony Bourdain nie. Erns het wel sy eie, unieke ervaring in Japan gehad en dié boek is die baie genotvolle en leesbare eindresultaat van sy vyf weke in “die land van die opkomende son”. Die doel van die oefening was ondubbelsinnig – Erns wou weer, soos met die Camino, ’n pelgrimstog of twee aandurf, en hy wou praat oor rugby, met rugbyspelers, as dit kon. Check en check. Die weer was hulle goedgesind en die wens om die berg Foedji uit te klim, is ook verwesenlik. Al hierdie genoemde wedervaringe is in ’n gemaklike verteltrant oorgedra, so asof hy sy dag se avonture sommer so oor ’n WhatsApp-stemboodskap met jou deel.

Vroeg-vroeg reeds word Grundling se effe droë en aweregse sin vir humor duidelik, en die toon van die boek slaan sterk deur in paragrawe soos dié:

Met puberteit om die draai en Noord-Transvaal op pad na nóg ‘n Curriebeker-eindstryd, het my ma dit goedgedink om een middag ná skool dr Jan van Elfen se Wat seuns wil weet en Edward Griffiths se Naas Botha-biografie (bloot getiteld Naas) heel diskreet op my bed neer te sit. Ek weet nie wat Freud hiervan sou sê nie, maar ek het albei boeke met groot ywer begin lees, sommer in tandem. Ek het nooit weer dieselfde na meisies óf na Naas Botha gekyk nie. (18)

Indien mens geen belang by rugby het nie, en nie ’n bloue duit omgee wie Dan Carter of Frans “Domkrag” Erasmus is nie, gaan die boek jou bes moontlik verveel. As jy egter saam met die res van Suid-Afrika gejuig het oor die grootse oorwinning van Siya Kolisi en sy manne, sal die verskeie rugbystaaltjies in aanloop tot genoemde oorwinning jou eindelose plesier verskaf. Mens lees verskeie sinne raak en kan nie anders as om breed te glimlag nie. Retrospeksie is mos nét soms ’n wonderlike ding:

“Jy moenie hoop nie,” sê hy [Jake White] met die insig en ervaring van iemand wat al die Webb Ellis-trofee omhoog gehou het. ‘Jy moet gló hulle speel in die finaal. Daar’s ‘n helse verskil. (86)

Die groepwedstryde mag dalk net só uitwerk dat Japan in ‘n kwarteindwedstryd teen die Bokke speel. “Dit sal nogal ietsie spesiaal wees,” sê Wimpie [van der Walt]. “Ek dink die familie sal my dan nie ondersteun vir daai wedstryd nie.” (198) [Dit hét toe so uitgewerk. Sal iemand vir Wimpie vra of sy familie hulle groen-en-goud aangehad het daai dag?]

My oog soek en vind dié woorde op die Webb Ellis-trofee: “1995 SOUTH AFRICA … 2007 SOUTH AFRICA.” Gaan 2019 weer ons jaar wees? (245)

Op Saterdag 2 November 2019 gaan die nuwe wêreldkampioen in hierdie einste stadion die Webb Ellis-trofee lig. Hoe het Jake White gesê? Ek moenie hoop nie, ek moet glo. Bokke, bring die beker huis toe, asseblief. Ons land het dit nodig. (253)

Die Bokke het gehoor gegee en het die beker huis toe gebring. Baie mense is dit eens: Ons land het dié oorwinning bitter nodig gehad.

Sushi en Shosholoza bied ’n vermaaklike vooruitskouende perspektief op hierdie geskiedkundige sportgebeurtenis, deur ’n skrywer met ’n groot voorliefde vir die spel. Verskeie terugflitse na sorgvrye tye saam met sy pa by die Boet Erasmus-stadion en die magteloosheid van ’n OP-ondersteuner in die ’80’s is allermins vervelig of egoïsties. Dis nostalgies en lieflik en presies wat die leser van die boek sou verwag. Daarmee saam kry jy die bonus van soesji in stede van biltong, die Kumano in stede van die Camino, en uiteindelik ’n eiesoortige blik op ’n land wat vir die meeste van ons steeds maar volksvreemd en misterieus is. Die boek en die Wêreldrugbybeker ten spyt.

Lees ook:

Skrywersonderhoud met Ernst Grundling oor Sushi en Shosholoza

The post Resensie: <em>Sushi en Shosholoza – Rugbyreise en pelgrimstogte in Japan</em> deur Erns Grundling appeared first on LitNet.

Bybel in Kaaps: Psalm 2 en 3

$
0
0

Psalm 2

2 Hoekô maak slegte mense in die geheim planne tien die Jirre?

Hoekô dink hulle allerande goed uit wat tog niks baatie?

2 Wêreldleiers proebee belangrik lyk. Hulle proebee saamspan tien die Jirre,
en tien die koning wat Hy spesiaal gekies het. Hierie mense beplan en sê,
3 “Lat ôs in opstand tien hulle kô, en ôs vrymaak van hulle.”

4 Maa God, wat in die hiemel sit, lag lekke vi hulle uit.
 Die Jirre vat hulle vir ʼn gaai.

5 Dit maak die Jirre kwaad en Hy bly nie stillie.
Sy woore lat hulle biewe van kan bang wies.

6 “Ek self het hom as koning angestel op die heilige bêg in Jerusalem.”

7 Kô ek vetel julle wat die Jirre vi my gesêrit,
“Djy is my seun. Van dié dag af is Ek jou Vader.

8 Djy moet net vra, dan sal Ek jou die leier maak oo baie mense, ja,
somme oo die hele wêreld.

9 Djy sal hulle met ʼn ystehand regeer.
Die een wattie na jou luiste nie, gat moeilikheid kry.”

10 Gebruik nou julle vestand, leiers van hierie wêreld, wies wakker.

11 Ken julle plek, en dienie Jirre met respek, maak sy Naam groot.

12 Dien hom nederig. Hou hom tevriede, en moenie Hom kwaad maakie.

As julle Hom kwaad maak, gat julle swaakry, gloe my.
Moet dittie ees proebee nie.
As djy annie kant vannie Jirre gat staan, sal djy nie jammer wiesie.

Psalm 3

1 ʼn Psalm van Dawid toe Dawid van sy seun Absalom weggehaloep het.

 Jirre, kyk net hoe baie mense staan op tien my.
 Soe baie mense wil my seemaak.
Ek het soe baie vyande.

Hulle lag my uit en sê, “God kan hom toggie helpie.”

3 Maa Jirre, U beskerm my van alle kante tien hulle.
Hulle sal my nie in die grond in trappie.
U help my om nie op te gie nie.

4 Ek roep soe hard as wat ek kan vi die Jirre.
Hy hoo my as ek bid. En Hy antwoord my.

5 Innie aand kan ek lekke gat slaap
sonne om te lê en rond rol van warrie.
In die oggend wôd ek rustig wakke,
wan ek wiet die Jirre sal my krag gie
om my proebleme op te los.

6 En al staan daa tien duisend vyande reg rondom my,
gereed om my an te pak, is ekkie bangie.

7 Dan sal ek uitroep na Hom, “Staan op, Jirre! Red my, oe my God!”
En Hy sal hulle monne toeklap, en hulle sleg sê.

8 Dis net die Jirre wat ʼn mens kan red.
Hou tog U hand oo U kinnes, Jirre!

The post Bybel in Kaaps: Psalm 2 en 3 appeared first on LitNet.

Bybel in Kaaps: Psalm 4 en 5

$
0
0

Psalm 4

U kan my veilig lat slaap,
net U kan dit doen.

1 Vi die leier van die koor:
Met snaarmusiek. ʼn Psalm van Dawid,

2 Oe God, U wiet ek is onskullig.
U moet my antwoord en my help
wanner ek roep.
U het my gered toe dit sleg
gegannit met my.
Nou moet U goed wies
vi my, en luiste vi wat ek bid.

3 Mense, hoe lank wil julle anhou om my sleg te sê?

Hoe lank gat julle anhou om lief te wies vi goed
wattie waare hettie, en agte die goed wat vals is angan?

4 Julle moet wiet die Jirre het wonnewêke gedoen vi my wat
in Hom in gloe. Die Jirre hoo my wanne ek roep en vra
dat Hy my moet help.

5 Julle moetie sondig wanne julle kwaad en ontsteld issie.
Wanne julle gat slaap, en julle dink oo die dinge
wat vi julle kwaad gemaak het,
dan moet julle nie daa’oo praatie.

6 Julle moetie regte offers bring vi die Jirre,
en julle moet gloe dattie Jirre julle sal help.

7 Daa is baie mense wat bid en vra,
“Gie ôs nog meedere seëninge, oe Jirre.
Jirre, U moet wee goed wies vi ôs.”

8 U het my bly gemaak, blyer as mense wat baie koring en wyn het.

9 Jirre, ek issie bekommerd wanne ek gat lê en annie slaap raakie,
wan U kan my veilig lat slaap, net U kan dit doen.

Psalm 5

ʼn Gebed vi beskerming

1 Luiste na my woore, oe Jirre,
en hoo my sugte.

2 Luiste na my wanne ek skrie vi hulp,
my God, my Koning!

Ek bid net an U, my God.

3 Jirre, wanne ek in die oggen bid,
dan sal U hoo.
Ek kô staan voo U wanerrie son opkô,
en ek wag dat U my moet help,

4 wan U is ʼn God wattie hou
van vekeere dinge nie.
Slegte dinge gebeurie by U nie.

5 Hoegmoediege mense kan nie naby U kommie,
U haat amal wat slegte dinge doen.

6 U vewoes mense wat lieg,
en U haat mense wat anne mense
doodmaak, of bedrieg,

7 Maa ek kan in U tempel inkô,
wan U is baie genadig.
Ek sal by U heilige tempel laag voo U buig
om U te eer.

8 Jirre, ek het soe baie vyande!
Dis hoekô ek vra dat U my moet lei
om U wil te doen,
U moet vi my wys hoe ek moet liewe.

Ek vra dit, wan my vyande kannie vetrou wôd ‘ie,
hulle wil net afbriek en vewoes.
Hulle dink net oo hoe hulle my kan lat doodgan,
hulle sê vekeere dinge oo my,
hulle wil my in my graf bring.
En wanne hulle mooi dinge sê,
dan is hulle vals.

10 Oe God, U moet hulle straf.
Die planne wat hulle soe maak,
moet hulle self lat sterf.
Dryf hulle weg van U af, wan hulle
doen baie sonde, en hulle staan op
tienoo U.

11 Maa amal wat skuilte vind in U sal heppie wies,
hulle kan altyd met blydskap sing.
Beskerm hulle wat U lief het,
wan dis deu U wat hulle soe gelukkig is.
12 U seën hulle wat na U luiste, oe Jirre,
U liefde beskerm hulle soes ʼn skild.

 

The post Bybel in Kaaps: Psalm 4 en 5 appeared first on LitNet.

Kansvatter. Die rustelose lewe van Ben Viljoen deur Carel van der Merwe: ’n lesersindruk

$
0
0

Carel van der Merwe (foto verskaf) en die omslag van Kansvatter

Titel: Kansvatter. Die Rustelose lewe van Ben Viljoen
Skrywer: Carel van der Merwe
Uitgewer: Protea Boekhuis

ISBN: 1-4853-1056-3

Anybody can make history. Only a great man can write it. (Oscar Wilde)¹

Indien ’n mens na die treffende foto van generaal Ben Viljoen in uniform op die stofomslag van Carel van der Merwe se nuutste publikasie kyk, dan wonder jy onwillekeurig waarom hy in hierdie biografie as ’n kansvatter bestempel word. Sou dit sy allesoorheersende persoonlikheidseienskap wees? ’n Kansvatter is ’n chancer, ’n persoon wat geleenthede uitbuit om sy eie belange te bevorder (Oxford Lexico); dikwels voorgee dat hy oor sekere vaardighede beskik, wat nie waar blyk te wees nie (Collins English Dictionary); misbruik maak van ’n situasie en dit tot sy eie voordeel manipuleer (Webster's New World College Dictionary); ’n oneerlike opportunis (Farlex Free Dictionary). Kan die komplekse menslike persoonlikheid in so ’n eng beskrywende boksie soos “kansvatter” ingedruk word? Wat van die wye spektrum dinamiese interaktiewe fasette wat ’n rol speel in die ontwikkeling van die konstruk persoonlikheid?

Soos deur die neëntien hoofstukke van die boek gewerk word, blyk dit duidelik dat berekende risikoneming wel ’n herhalende patroon in Ben Viljoen se gedrag was. Daar is ook bewyse dat hy by tye flambojant, opportunisties en eksentriek was. Terselfdertyd het hy ook deurlopend ’n hoë mate van terugbonsgeneigdheid ná teleurstellings of mislukkings getoon, wat as ’n persoonlikheidsterkte gesien kan word. Die belangrikste aspek is hoe geïntegreerd Viljoen se persoonlikheidsontwikkeling was. In watter mate het integrasie van waardes, norme, etiek en persoonlikheidseienskappe plaasgevind? Die vraag is moeilik beantwoordbaar, omdat ’n volledige persoonlikheidsassessering nooit op hom uitgevoer is nie.

Ek kan heeltemal verstaan dat die titel gekies is om die bemarkbaarheid van die boek te bevorder, maar die titel laat nie in alle opsigte reg aan die hoofkarakter geskied nie. Meijer (2000:269)² sê tereg: “Ben Viljoen sal in die eerste plek onthou word as die [boere] generaal ... die eer mag hom nie misgun word nie ...” Ek vermoed die woord “kansvatter” knou tot ’n mate die eer van Ben Viljoen. ’n Oneerlike opportunis? Aikôna.

Wat die tegniese aspekte betref, is die boek ’n pragtige versamelaarstuk. Die opsomming op bl 382 vat die inhoud in 289 woorde op ’n briljante en realistiese wyse saam. Viljoen se veelsydigheid en terugbonsgeneigdheid kom hier tot hulle reg. Hierdie opsomming weerspieël ’n raamwerk van beginsels wat uit die lewe van Viljoen na vore tree en wat die leser op hom-/haarself van toepassing kan maak.

Die omvattende werk beslaan 520 bladsye, waarvan die eindnotas en bronnelys nie minder nie as 133 beslaan. Die wye spektrum argivale bronne wat in Suid-Afrika, Brittanje, Mexiko, St Helena, Nederland en die VSA geraadpleeg is, is absoluut verstommend. Voorwaar ’n uitnemende voorbeeld vir enige navorser en aspirantnavorser.

Die teks lees maklik, is humoristies en ernstig wanneer nodig, en die skrywer weet wat met “die ekonomie van woorde” bedoel word. Die teks word met ’n verskeidenheid seldsame foto’s toegelig. Min, indien enige, tik-/drukfoute kom voor. (Op bl 73, vierde paragraaf, word byvoorbeeld na ’n “bow-bow” verwys wat na regte “bow-wow” behoort te wees, met ander woorde die nabootsing van ’n hond se geblaf, of ’n kleuter se benaming vir ’n hondjie.)

Wat nog meer lofwaardig is, is die beskrywing van ’n verskeidenheid opvolgbesoeke (367–71) wat die skrywer bring aan standplase, instansies en persone waarmee Ben Viljoen tydens sy lewe geassosieer was. Die besoeke aan onder andere Krugersdrop en die Krugerdorpse dorpsmuseum, Temboland in die Oos-Kaap, die Mesillavallei in Nieu-Mexiko en die Vrymesselaarsbegraafplaas in Las Cruses skep die idee dat die navorser nie bloot met ’n historiografiese beskrywing tevrede was nie, maar ook bereid was om direkte waarnemings te maak van ’n historiese figuur binne die verskillende kontekste waarin hy destyds funksioneer het.

In die inleiding (20–1) verwys die skrywer na relevante inligting oor Viljoen wat vir hom onmoontlik was om in die hande te kry. Aan die een kant sou hierdie inligting ’n bydrae kon gelewer het tot ’n meer omvattende boek, maar aan die ander kant, indien dié inligting in die toekoms in ’n ander formaat gepubliseer sou word, kan dit eenvoudig as aanvullende materiaal tot die boek beskou word.

Die boek is gebaseer op die doktorale proefskrif³ in geskiedenis van die skrywer. Dit sal interessant wees om te bepaal in watter mate die inhoud van die boek van die inhoud van die proefskrif verskil.

Met hierdie publikasie bewys die skrywer sonder twyfel die deeglikheid, respek en wetenskaplikheid waarmee hy akademiese historiese materiaal hanteer, interpreteer en weergee. Hierdie styl is kenmerkend van wat van ’n vorige Eugène Marais-, kykNET Rapport- en Hiemstrapryswenner verwag sou word.

Die boek word sonder enige voorbehoud sterk vir ’n uiteenlopende leserspubliek aanbeveel.

 

Eindnotas

¹ Wilde, O. 2010. Only dull people are brilliant at breakfast. Londen: Penguin.

² Meijer, JW. 2000. Generaal Ben Viljoen 1868–1917. Pretoria: Protea Boekhuis.

³ Tydens die publikasie van hierdie lesersindruk was die elektroniese weergawe van die proefskrif nog nie op die US Gericke-Biblioteek se databasis beskikbaar nie.

The post <em>Kansvatter. Die rustelose lewe van Ben Viljoen</em> deur Carel van der Merwe: ’n lesersindruk appeared first on LitNet.

LitNet: Ontgroening


Resensie: Klaskamer deur Vita du Preez

$
0
0

Titel: Klaskamer
Skrywer: Vita du Preez
Uitgewer: Wenkbrou
ISBN: 9780799397277

Dit sou onbillik wees om Klaskamer met Fifty Shades of Grey te vergelyk. Die inleidingsparagraaf van laasgenoemde is so swak geskryf dat dit vir sommige van ons boektoemaak beteken het.

Daarteenoor kán Vita du Preez skryf. Sy is bekend vir tradisionele liefdesverhale. En gewild. Met Klaskamer betree Du Preez nuwe terrein. Sy skryf ’n liefdesverhaal waarin die hoofkarakters alternatiewe seks beoefen.

Die voorblad van ’n vrou se hande met swart naels en boeie om haar polse is reeds ’n aanduiding van die tema. Die Wenkbrou-druknaam voorspel ook iets meer gewaagds. ’n Tradisionele liefdesverhaal verwag jy dus in elk geval nie.

Of so ’n verhaal met BDSM gekombineer behoort te word, kan wisselende menings ontlok. Die BDSM-sambreel sluit immers magspel of dominansie en onderdanigheid (“DS”) in. Een deelnemer neem dan beheer oor ’n ander, al is dit nominaal. Sado-masochisme (“SM”) sluit in pyntoediening deur byvoorbeeld wasgoedpennetjies in te span, slae toe te dien, verbaal aggressief te wees, of een of ander intense sensasie te ontlok. Die gebruik van warm waks is ’n voorbeeld. Gebondenheid en dissipline (“BD”) sluit die beperking van beweging (deur middel van byvoorbeeld boeie) in. Pare het seks tydens BDSM-aktiwiteite, maar nie noodwendig nie.

Die Klaskamer-verhaal is doodgewoon. Emma Louw gaan op ’n Karooplaas as au pair werk. Sy ontdek dat die aantreklike Daniel Swart ’n kink is. (Dis iemand wat BDSM beoefen.) Hy is klein Neal, na wie Emma omsien, se pa. Nou wonder mens of ’n vrou soos Emma, wat met weersin vervul is deur Daniel se “donker kant” (so noem sy dit) en daarom vreesbevange is, haar wel sal laat betrek by boeie en swepe. Daniel is boonop ’n beneukte entjie mens, arrogant, manipulerend en ’n beheervraat. Emma verwys selfs na die “donker duiwel”. Dis nie enige vrou wat vir so ’n verhouding kans sien nie, veral nie iemand soos die naïewe Emma wat pas uit ’n onvervulde verhouding kom nie. Sy glo ook fisieke verhoudings sonder ’n emosionele verbintenis is ’n resep vir seerkry. Van ’n emosionele verbintenis met Daniel is daar maar min sprake.

Dis te betwyfel of Klaskamer die “deure van die kink-wêreld vir Afrikaanse lesers sal oopmaak”. Die skrywer spreek dié hoop in die outeursnota uit. Lesers van die Fifty Shades of Grey-reeks is reeds aan BDSM voorgestel. Tydskrifte en koerante het ook oor die aktiwiteite berig. Dan is daar die ware feite.

Eerder as om oral die korrekte BDSM-inligting weer te gee, versterk die roman enkele wanpersepsies. Dis ’n mite dat hierdie vorm van spelmishandeling weird en onmenslik is. Tot dusver het die media die pyn wat die onderdanige beleef, grootliks uit verband geruk. BDSM is buitendien meer teatraal as eg. Wanneer dit volgens etiese riglyne en met ’n omgee-dominant beoefen word, is dit nie mishandeling nie. Soos Jay Wiseman, die Amerikaanse skrywer van SM 101, oor sado-masochisme sê: Dis nie nodig om vasgebind te word, swepe in te span of mondklemme te gebruik om iemand te mishandel nie. In liefdevolle hande kan die toerusting seksuele opwinding meebring. Deelnemers kan die interaksie of “toneel” geniet vir wat dit is: goeie, skoon, erotiese pret. Waar BDSM pyn veroorsaak, word dit noukeurig deur die onderdaan beheer. Anders as wat mens dalk dink, is dit juis die onderdaan wat die grense vooraf duidelik stel.

Die hoofkarakters in Klaskamer bespreek nie vooraf die besonderhede van hul spel nie en in ’n stadium ruk dit totaal handuit. Dít is mishandeling. In ’n gewone liefdesverhaal hoop jy beslis nie dat die vroulike hoofkarakter eerder behoort te vlug nie. Dié resensent was angsbevange vir Emma se onthalwe. Van werklike romanse is daar ook maar min sprake. Die duur geskenke, skaars nadat Daniel vir Emma ontmoet het, getuig eerder van omkopery.

BDSM is in der waarheid sinoniem met vertroue, maar Emma vertrou Daniel nie. Waar vertroue egter wel bo die moontlikheid van leed gestel word, kan dit intimiteit meebring en eroties wees, reken Wiseman. “Baie deelnemers sê dan dat BDSM die liefdevolste, vertroetelendste en intiemste vorm van menslike kontak en spel is.”

Du Preez weerspreek haarself soms. Dat BDSM meestal deur psigies versteurde mense beoefen word, is ’n wanpersepsie. Daniel, die kink, word as ’n emosioneel beskadigde man wat onder meer as kind mishandel is, uitgebeeld. Navorsing toon egter dat die grootste aantal BDSM-beoefenaars beter geestesgesondheid as nie-beoefenaars het. BDSM word trouens nie meer in die gesaghebbende sielkundige handleiding, Diagnostic and Statistical Manual of Mental Disorders, opgeneem nie. Dit sê Klaskamer wel.

Die stelling dat anale seks net deur gay mense beoefen word, is nog ’n wanpersepsie. ’n Vrou hoef ook nie meer te trou omdat sy finansieel afhanklik van ’n man is nie.

Van die korrekte feite oor BDSM wat wel oorgedra word, sluit in:

  • Betrokkenes kom vooraf ooreen oor wat toegelaat word en watter kodewoorde die spel dadelik tot ’n einde moet bring. Nie dat Daniel, die hoofkarakter, hom altyd aan BDSM se reëls steur nie.
  • Ondergeskiktes kan gestraf of beloon word, afhangende van of hulle die reëls nakom of nie.
  • Die BDSM-afkorting en -sambreel word goed verduidelik.
  • Beoefenaars kom uit alle lae van die samelewing.
  • BDSM word nie in mediese kringe as ’n psigiese versteuring beskou nie. Tog is Daniel in vele opsigte ’n beskadigde man.
  • Elke BDSM-verhouding is uniek. (BDSM word ook deur gay mense en tussen vriende beoefen. Selfs poligamiste neem deel.)
  • Die ondergeskikte is in beheer. In Emma en Daniel se geval is dit nie altyd so nie. Hý neem dikwels beheer oor.

In Klaskamer word die navorsing netjies by die verhaal geïntegreer. Net jammer dat die skrywer nie altyd wetenskaplike bronne inspan nie.

Mens wonder of BDSM wel suksesvol as terapie ingespan kan word. Daarvoor is sielkundiges en beraders daar. Tog maak dit in die geval van ’n verkragtingsoorwinnaar sin, soos wat in hierdie roman na vore kom.

’n Vraag wat nie in alle opsigte deur Klaskamer beantwoord word nie, is waarom BDSM so ’n aanhang het. Wat is die positiewe effek daarvan? Volgens die artikel “The Surprising Psychology of BDSM” wat op Times.com verskyn, word deelnemers weggevoer na ’n gewysigde vorm van bewussyn; ’n “vloeistaat”. Jy klim as’t ware uit jou kop, vergeet van die res van die wêreld en fokus geheel en al op waarmee jy besig is. Jy moet ook konsentreer om die aktiwiteite effektief en veilig toe te pas. Deelnemers is daarom mindful. Bewustelikheid kan vergelyk word met die fokus van top-sportmanne en -vroue.

Die bewussynstaat van deelnemers verskil, berig die gesaghebbende Amerikaanse tydskrif Psychology Today. Die ondergeskikte het dan minder pyn, voel vreedsaam en beleef ’n swewende gevoel, terwyl die bewussynstaat van die dominant geassosieer word met gefokuste aandag, die optimale uitvoer van ’n taak en ’n verlies aan selfbewustheid.

Endorfien speel hier ’n rol, reken sommige kenners. Dis ’n neuro-oordragstof, ’n “goedvoelhormoon” wat onder meer pyn verlig. (Soos wanneer jy ná oefening sê jy is “lekker” seer.) Dr Brab Sagarin van Illinois, wat die wetenskap van BDSM bestudeer, vergelyk die effek van endorfien met die euforie wat marathonatlete beleef. So hanteer hulle die pyn.

BDSM het ook ’n effek op die streshormoon kortisol. Die onderdaan se stresvlak styg tydelik, terwyl die dominant s’n afneem.

In BDSM val die klem op kommunikasie. Mens kan “gewone”, oftewel vanilla seks, hê sonder kommunikasie, onderhandeling of emosionele verbintenis, reken Wiseman. Wat BDSM betref, word alles vooraf via duidelike, intieme kommunikasie gereël. Dit skep ’n spesiale erotiese verbintenis. Daar is pare wat reken dat die onderhandeling wat BDSM inhou, hul “gewone” sekslewe verbeter bloot omdat dit openlike gesels inhou.

Van die ander voordele sluit in ’n verbeterde gemoed, verminderde angs en ’n afname in posttraumatiese stres. In hul daaglikse lewens pas deelnemers minder sielkundige sadisme en sielkundige masochisme toe. Indien hulle geneig is tot paranoia, verbeter dit ook, sê van die kenners.

Dié “roman met ’n romantiese storielyn” (soos in die outeursnota vermeld) bevat ’n onrusbarende aantal clichés. Daniel se stem is gereeld “skor”. ’n Glimlag “pluk aan mondhoeke” en “dit voel vir Emma of hy (Daniel) haar rok met sy oë afskil”. Al is Klaskamer nie la-di-da letterkunde nie, sal oorspronklike uitdrukkings en minder (geykte) byvoeglike naamwoorde die skryfwerk na ’n hoër vlak neem. Die skrywer weet immers hoe. Twee voorbeelde: ’n Manlike karakter het ’n rooi gesig “soos ’n veldbrand” en ’n oester word as ’n stukkie “gestolde see” beskryf.

Die sekstonele laat hierdie leser koud. Dis nie eroties nie, maar kan eerder sommige lesers vervreem. Of permanent van BDSM afskrik. Woorde soos “vagina”, “klitoris”, “labia” en “pubis” is darem te biologies. Dit herinner eerder aan pornografie as erotiek. Die twee vingers wat so gereeld by Emma inglip, wek ook nie juis lus op nie. Daarby kan meer oorspronklike woorde geskep word vir “venusheuwel”, “die kern van haar vrouwees” en om oor die “rand van die afgrond geneem te word” (orgasme). Die noem van “orale seks” en die woord “fellasie” tydens ’n “erotiese” toneel slaag ook nie. Emma se taalgebruik is soms ontoepaslik. Dat juis sý van ’n “rebound fuck” praat, is onrealisties.

Die perspektiefwisseling tussen die hoofkarakters word suksesvol toegepas.

Die einde van die roman hou verrassing in. Dis nie heeltemal wat mens van ’n liefdesverhaal verwag nie, maar is verstaanbaar en gepas. Klaskamer is immers die eerste van ’n beplande trilogie.

Vita du Preez verdien lof vir haar waagmoed om die BDSM-tema (in Afrikaans) te takel. As die Fifty Shades-reeks wel vir jou boeiend was, skaf gerus Klaskamer aan.

The post Resensie: <em>Klaskamer</em> deur Vita du Preez appeared first on LitNet.

Skrywersonderhoud: Irma Venter oor Sewe-en-veertig

$
0
0

Remona Voges het met Irma Venter oor skrywerskap en Irma se boek Sewe-en-veertig gesels.

Irma, wat is vir jou die lekkerste deel daarvan om ’n skrywer te wees?

Die lekkerste deel is om skeppend te kan wees; om wêrelde en karakters in die lewe te roep en op papier te sit. En dis heerlik om dit Afrikaans te kan doen.

En die slegste?

Die slegste is dat dit so min betaal – dat die kunste, in enige vorm en oor die algemeen, selde genoeg geld genereer dat dit jou enigste bron van inkomste kan wees. Dit beteken dat enigiemand in ’n skeppende bedryf altyd besonder hard moet werk om die pot aan die kook te hou.

Sewe-en-veertig is die sewende boek in jou S-reeks. Kan jy ’n bietjie meer oor die reeks in sy geheel vertel? Sal diegene wat nog nie van die vorige boeke gelees het nie by die verhaal kan inval? Staan die boek op sy eie?

Die S-reeks fokus op vyf meestal aweregse karakters – Adriana (’n fixer), Ranna (’n konflikfotograaf en moordverdagte, hang af waar in die reeks mens trek), Alex (’n joernalis), Sarah (’n kuberkraker) en Jaap (’n afgetrede polisieman).

Elkeen van die boeke sal tipies twee, dalk drie, van die karakters betrek.

Ek hou daarvan om sterk vrouekarakters te skep en om gendernorme in spanningsverhale te ondermyn. Ek het ook ’n sterk fokus op daardie fassinerende spasie tussen reg en verkeerd, wat beteken dat my boeke altyd spanningsverhale is, maar nie noodwendig polisieverhale nie.

Sewe-en-veertig staan heeltemal op sy eie, al is dit die sewende boek in die S-reeks. As mense egter belangstel in hoe Sarah en Jaap mekaar ontmoet het, kan hulle gerus Skarlaken lees, wat die vierde boek in die reeks is.

Die ander boeke in Irma se S-reeks

Jy’s ’n geweldig produktiewe skrywer. Hoe hou jy jou brein skerp? En wat doen jy wanneer jy nie skryf/werk nie?

Ek is maar so produktief as wat ek kan wees, maar dit raak soms baie moeilik om voltyds te werk en te skryf. As ek enigsins tyd het om rond te loop, hou ek daarvan om te reis en om lekker te eet. Ek is ook voortdurend op soek na die beste flat white in Suid-Afrika.

Kan jy asseblief kortliks vertel waaroor Sewe-en-veertig handel?

Sewe-en-veertig gaan oor die wettige en onwettige insameling en gebruik van data, vriendskap, en die dodelike gevolge van ’n skynbaar onskuldige ontmoeting.

Sewe-en-veertig is in die eerste plek ’n (ont)spanningsroman. Ek skryf boeke omdat ek graag vir mense bietjie ontvlugting wil bied van die alledaagse. Ek wil iemand vir ’n paar uur vermaak.

Nadine Petrick noem in haar resensie oor jou boek dat die Kaap op ’n unieke wyse uitgebeeld word, wat inderdaad die geval is. Hoe kontrasteer die Kaapstad wat op toerismebrosjures verskyn met die Kaapstad wat jy in die boek uitbeeld?

Elke stad het sy donker kant. Ek het in vorige boeke al deeglik oor Johannesburg en Pretoria se ongure karakters geskryf. Dalk was dit bloot Kaapstad se beurt.

Wat ook in Nadine se resensie opgeduik het, is die mate waartoe ek plekke in Sewe-en-veertig opgemaak het.

Die rede hiervoor is om myself te beskerm teen enige regsaksie. Die plekke wat ek uitgedink het, is instansies waar my karakters tipies iets onwettigs aanvang. As ek byvoorbeeld sou sê dat Sarah by ’n bekende sesterhotel se WiFi inbreek sou so ’n instelling dalk daarop aandring dat so iets nooit by hulle sou kon gebeur nie.

Jy het ’n groot fassinasie met data en die beskerming daarvan – ’n tema wat ook in Sewe-en-veertig sterk figureer. Vertel ons ’n bietjie meer daarvan, asseblief.

Ek is ’n sterk voorstander van privaatheid. Suid-Afrikaanse wetgewing doen nie naastenby genoeg om mense se data te beskerm nie. Dit voel vir my asof maatskappye en die staat bloot aanvaar dat hulle alle regte op mens se data het, solank hulle sekere verskonings kan aanbied, bv om jou naam van jou data te ontkoppel, of om gratis WiFi aan te bied. Die ergste van alles is dat hierdie instansies dan nie daarmee foutvind om mens se data te verkoop nie.

Jou data is jou eiendom. As jy dit wíl deel, moet jy daarvoor betaal word.

Dink terug aan die era van briewe. Sou ons daarvan gehou het as iemand by ons posbus gestaan het en al ons briewe oopgemaak en gelees het? Ongenooid by jou voordeur opgedaag het met die presiese produk wat jy dalk wou koop?

Wat is die grootste uitdagings waarvoor jy te staan gekom het met die skryf van die boek?

Die grootste uitdaging bly altyd om die leser aan die raai te hou, en om hom/haar uiteindelik op ’n vermaaklike, geloofwaardige, a-ha manier tot by die laaste bladsy te bring.

Misdaad is so deel van die Suid-Afrikaanse samelewing. Is dit nie geweldig emosioneel uitputtend om, bo en behalwe alles wat mens in die nuus lees, op die radio hoor en op die TV sien, nog verdere navorsing in die veld te moet doen en dan nog ’n storie ook daaroor te skryf nie?

Dit is moeilik om heeltyd met misdaad gekonfronteer te word. Die nuus maak mens moeg. Om voortdurend waaksaam te wees in jou huis, op straat en by jou werkplek maak mens moeg. Ek dink Suid-Afrikaners is chronies moeg en gespanne, en dit vererger toenemend soos ons veilige spasies al hoe kleiner word.

Een van die ergste dele van die skryf van misdaadverhale gedurende die afgelope paar jaar, was die besef van hoe baie die polisiediens se werklike alledaagse ondersoeke verskil van dit wat in boeke beskryf word. Die oorgrote meerderheid van sake kry nie naastenby die behandeling (personeel, forensiese toetse, noem maar op) wat in boeke beskryf word nie.

Tog is daar een groot verskil tussen werklike misdaad en wat ek doen: in misdaadverhale ry die slegte mense aan die pen. Daar is ’n bevredigende oplossing; ’n oomblik van ekwilibrium.

Jy is eintlik ’n joernalis. Waar kry jy tyd om te skryf? En put jy inspirasie uit die werk waarmee jy by jou day job betrokke is?

Ek staan elke oggend baie vroeg op om seker te maak ek kan ’n uur of twee skryf voor ek met my dagtake begin. Dan skryf ek ook deur die dag wanneer ek ook al ten minste 45 minute beskikbaar het. Ek het al op lughawens, vliegtuie, busse en treine geskryf. My gunstelingplek om deesdae te skryf is enige koffiewinkel wat ’n flat white maak wat my asem kan wegslaan.

My werk is ’n voortdurende bron van inspirasie. Ek ontmoet soveel interessante mense, en word aan soveel uiteenlopende omstandighede blootgestel dat ek werklik nie kan help om dit soms in my boeke in te werk nie. Ek doen dit egter nooit direk nie. Dit sou my bronne vervreem en ’n mens moet hulle altyd in ag neem.

Van die interessante stories wat ek al gedoen het, is onder andere ’n ondersoek na gouddiefstal in myne, om in ’n selfaangedrewe voertuig in Duitsland te ry en om Beijing se agterstrate in te vaar op soek na nagemaakte goedere.

As jy drie boeke moet kies wat die grootste impak op jou lewe gehad het, watter boeke sou dit wees?

  • Die klein prinsie – Antoine de Saint-Exupéry
  • Don’t let’s go to the dogs tonight – Alexandra Fuller
  • Written on the body – Jeanette Winterson

Leek ook:

Resensie: Sewe-en-veertig deur Irma Venter

The post Skrywersonderhoud: Irma Venter oor <em>Sewe-en-veertig</em> appeared first on LitNet.

Afrikaans as liminale transnasionale literêre sisteem: ’n Paar gedagtes oor ontlaering uit QwaQwa

$
0
0
......

“Ontlaering van Afrikaans verg ’n voortdurende bewustheid van die grense wat wit bevoorregting (in al sy verskuilde vorme) daarstel.”

......

In Januarie woon Azille Coetzee Ontlaering 2020 by en sy skryf hier oor haar ervaring.

Soveel Afrikaanssprekende studente wat jonk is, swart of bruin is, queer is, vrou is, stel vandag nie daarin belang om die Afrikaanse letterkunde te bestudeer nie. Sommige Afrikaans-departemente aan universiteite moet op veldtogte gaan om studente te werf. Die studente dink Afrikaanse literatuur is simpel, of hulle vind dit vervreemdend, onderdrukkend, en onmoontlik om hulself en hul eie leefwêrelde daarin te herken.

Die Afrikaanse letterkunde as establishment verteenwoordig steeds ’n laer, in formasie getrek om dit wat binne is te beskerm teen dit van buite. ’n Strewe na tydlose suiwerheid, gekenmerk deur vrees vir dit wat vreemd is, melankolie oor alles wat altyd reeds anders is.

Vandag, in ’n wêreld waar die verloop van tyd meedoënloos versnel, en waar ’n soeke na suiwerheid altyd verdag is, is daar ’n argument te maak dat ontlaering van die Afrikaanse letterkunde ’n voorvereiste is vir die voortlewing daarvan. Of dan ten minste vir die morele regverdigbaarheid daarvan, en die relevansie natuurlik.

Dit is met hierdie vraagstuk dat ons (’n groepie akademici en studente) Oos-Vrystaat toe reis in Januarie 2020 vir die tweede Ontlaering-kongres by die QwaQwa-kampus van die UV. Die organiseerders van Ontlaering (waarvan ek nie een is nie) probeer platforms skep waardeur die pedagogiek van die Afrikaanse letterkunde herverbeel kan word deur die Afrikaanse letterkunde te situeer in ’n globale konteks, oor fisiese en metafisiese grense heen. Hulle vra: Hoe kan ons Afrikaanse letterkunde aanbied vir nuwe generasies studente op ’n manier wat die skanse van die laer deurbreek? Hoe word die studie van Afrikaanse letterkunde in verhouding gebring met ander geskiedenisse, tale, literêre tradisies en invloede? Hoe kultiveer ons die soort gemak met beweging, fragmentasie, interne verskil en teenstelling waardeur die Afrikaanse letterkunde sal oopgaan eerder as toe?

Die ligging van die kongres is versigtig gekies om die desentralisering van kennisproduksie te bevorder, om ander soorte denke te stimuleer as waarby ons sou uitkom in Pretoria of Stellenbosch, om die kongres toeganklik te maak vir ’n ander publiek. Die QwaQwa-kampus van die UV is geleë in Phuthaditjhaba, ’n deel van Moshoeshoe se eertydse beroemde Basotho-koninkryk, oorspronklik bewoon deur die San. Phuthaditjhaba beteken “ontmoetingsplek van die stamme” en is histories ’n plek van vermenging en beweging oor grense. Hier is entanglement (in hierdie konteks “verweefdheid”) die mees gepaste intellektuele modus, sê Jared McDonald, visedekaan van Geesteswetenskappe by QwaQwa. Dit gaan daaroor om onsself en die kennis wat ons genereer te verstaan in interafhanklike en dinamiese relasie met wat anders en Ander is, verduidelik hy – sonder om te probeer om die onteiening, uitwissing en geweld van die verlede en die hede te verbloem of te vergeet. QwaQwa is ’n voormalige tuisland van die Suid-Afrikaanse apartheidstaat.

......
“Om oor ontlaering te dink is anders as om te ontlaer. En makliker.”
......

Phuthaditjhaba is ure weg van die lughawe af. Dit is duur om daar uit te kom; jy moet ’n motor hê of huur. ’n Week voor die kongres het deelnemers wat die afstande en gepaardgaande koste onderskat het, begin onttrek. Dit is net ’n klein groepie van ons wat uiteindelik daar uitkom, meestal wit en middelklas. Ontlaering van Afrikaans verg ’n voortdurende bewustheid van die grense wat wit bevoorregting (in al sy verskuilde vorme) daarstel. Die organiseerders neem hulle voor om volgende jaar se kongres in Mowbray in Kaapstad te hou.

Vir die twee dae van die kongres woon ons almal in Clarens. Om die kampus te bereik ry ons soggens vir ’n uur lank deur die Golden Gate Nasionale Park. Die landskap is onheilspellend mooi – elektriese kleure en oeroue rotsformasies van ’n wetenskapfiksiefilm. Daar is tekeninge van die San in die grotte en dinosouruseiers in die klip.

Die kongrestema hierdie jaar is “Transnasionale Pedagogiek: Afrikaans & X – wat is die simboliese, realistiese, en politiese implikasies daarvan om Afrikaans as liminale transnasionale literêre sisteem te bedink en onderrig?” Die praatjies is uiteenlopend as gevolg van al die onttrekkings. Die fragmentasie word ’n tema wat die verskillende referate saambind.

......
“Die laaste vraag waarby ons stilstaan, is of dit belangrik is vir studente en leerders om hulself in die voorgeskrewe tekste te herken.”
......

’n Spreker daag ons uit om te vra wat gebeur as ons aan die Afrikaanse letterkunde in risomatiese verbintenis met ander letterkundes dink, eerder as ’n totaliserende, verdringende penwortel. Ontlaering verg ’n aanvaarding van onsekerheid, dubbelsinnigheid, interafhanklikheid en onstabiliteit, ’n omarming van swerwerskap en verplasing.

Die ontlaering van die Afrikaanse letterkunde is geheuewerk, die ontwrigting van wit nostalgie. ’n Spreker lê vir ons uit hoe Heidi, die Afrikaanse kinderprogram van ouds, ’n oorklanking was van ’n Japannese anime-reeks van die 1970’s (gebaseer op ’n Switserse kinderboek van die laat 19de eeu). Die dinge wat so suiwer wit en Afrikaans voel, is dit selde. 

’n Ander spreker ondersoek Ronelda Kamfer se bundel Grond/Santekraam in die konteks van die kultuurstudie van die Swart Atlantiese en Indiese oseane. Sy lees dit as ’n bundel wat ontstaan nie netjies binne die grense van die Afrikaanse letterkunde nie, maar vanuit die beweging, verplasing, geweld, vermenging en veelvuldigheid van die Transatlantiese slaweroetes as ruimte van gekreoliseerde kulturele konstruksie. ’n Mens sien die invloed van Antjie Krog op Kamfer se werk, maar so ook die komplekse genealogieë en ryk argief van transnasionale swart denke. Die werk van ontlaering vra watter geskiedenisse en betekenisse ons verdring wanneer ons Afrikaanse letterkunde eenvoudig situeer binne die amptelike weergawe van die kultuurgeskiedenis van die (wit) Afrikaner.

......
“Die ontlaering van die Afrikaanse letterkunde is geheuewerk, die ontwrigting van wit nostalgie.”
......

Die ontlaering van die Afrikaanse letterkunde verg ernstige, literêre omgang met die woede in die werk van skrywers soos Kamfer, die skrywers wie se swartheid, vrouwees en weiering om stil te wees in sigself ’n transgressie verteenwoordig in die libidinale ekonomie van die laer. Ontlaering is nie net ’n projek wat witheid uitdaag nie, maar ook manlikheid. Die verdringende penwortel is fallies; in die laer van Afrikaanse letterkunde geld die wet van die (wit) vader. Ontlaering van die Afrikaanse letterkunde en die pedagogiek vereis ’n verqueering, die uitdaging van rigiede binêre teenstellings, ondermyning van die hiërargieë.

Ons kyk die rolprent Die stropers (2018) (gemaak deur Etienne Kallos), waarin ’n Oos-Vrystaatse boeregesin ’n dwelmverslaafde seun aanneem van die strate van Johannesburg af, waar hy ’n bestaan gemaak het deur sekswerk te verrig. Daar is van meet af ’n sterk seksuele energie tussen hierdie aangenome seun en die boerseun van die huis, selfs terwyl hulle meeding vir die eersgeborene se reg om die grond te erf. So lê die film die arbitrêre aard van die eersgeboortereg bloot, die broosheid/vreemdheid van die heteroseksuele manlike bloedlyn, die lukraakheid van die godgegewe reg op grond, die kunsmatigheid van die genderbinariteite, en die geweld wat die instandhouding van patriargale mag onderlê. Die fliek speel af in dieselfde deel van die Oos-Vrystaat waar ons ons bevind vir die kongres; op die skerm flikker dieselfde sondeurdrenkte landskap as die een wat ons omring.

’n Spreker wonder hardop of Marlene Van Niekerk se Agaat, benewens die feit dat dit as die laaste plaasroman getipeer word, nie ook die laaste Afrikaanse literêre roman is nie. Ons verstaan nie meer genoeg oor die ruimtes van Suid-Afrika om dit te kan allegoriseer nie. As van Niekerk dit nie meer kan doen nie, wie kan? Die argument is elegant gestruktureer en aanloklik in die eenvoud daarvan. Maar ons dink daardeur. “Oh please,” sê iemand later die aand, met ’n glas wyn in die hand, net omdat dit nie nou meer moontlik is om weer Agaat te skryf nie, beteken dit nie ons skryf nie ander dinge nie. Die ontlaering van die Afrikaanse letterkunde vereis jeugdige bravade en ongehoorsaamheid.

......
“Ontlaering is nie net ’n projek wat witheid uitdaag nie, maar ook manlikheid.”
......

Die uitdagings verbonde aan die onderrig en dosering van Afrikaanse letterkunde op skole en universiteite word deurentyd bespreek. Die laaste vraag waarby ons stilstaan, is of dit belangrik is vir studente en leerders om hulself in die voorgeskrewe tekste te herken. Baat die tieners van die Noord-Kaapse platteland spesifiek by Anzil Kulsen se jeuglektuur waarin hul eie konteks en gemeenskappe weerspieël word? Nee, is een argument. Die funksie van literatuur is om ons na ander wêrelde te neem, om iets oor die universele menslike kondisie uit te beeld waarmee iedereen identifiseer, onafhanklik van plek en tyd, klas en ras. Maar baie van die jong dosente stem nie saam nie. By studente en leerders wie se subjektiwiteit histories radikaal afwesig is in die wêrelde van die Afrikaanse kanon, gaan jy nooit ’n liefde vir Afrikaanse letterkunde kweek deur die “tydlose” classics voor te skryf nie. Die pedagogiek van die Afrikaanse letterkunde in Suid-Afrika vandag word irrelevant en oorbodig as dit nie kan slaag in die relativering van die wit subjek wat aanspraak maak op universele ervaring nie. In die ontlaering van die Afrikaanse letterkunde is identiteitspolitiek onvermydelik.

Hierdie week is ek terug in Kaapstad, nog ’n laer. Om oor ontlaering te dink is anders as om te ontlaer. En makliker.

Lees meer oor Ontlaering 2018:

Ontlaering: ’n Herverbeel van die pedagogiek van Afrikaanse letterkunde

Lees meer oor transnasionalisme in die Afrikaanse letterkunde op LitNet Akademies, LitNet en Voertaal:

“’n Postkoloniale Umweltkas”: die vraag na ’n transnasionale poëtika in Afrikaans aan die hand van Marlene van Niekerk se Kaar

’n Transnasionale poëtika in Afrikaans: ’n onderhoud met Louise Viljoen

“’n Pouse tussen oorsprong en bestemming”: Heterochronisiteit en laterale transnasionalisme in Marlene van Niekerk se Gesant van die mispels en In die stille agterkamer

Twintig jaar na demokrasie: Realiteitshonger, die populêre wending en transnasionalisme

Tydskrif vir Letterkunde plaas Afrikaans binne die groter konteks van Afrika deur transnasionale literatuurstudie

Suid-Afrikaanse letterkundes en transnasionale bande: in gesprek met Louise Viljoen

Winternachten fokus al hoe meer op transnasionale gesprek in die letterkunde

Poolshoogte-afsluiting: Nuwe ontwikkelinge in die Afrikaanse literatuurstudie

Lees meer oor witwees:

In my vel deur Azille Coetzee: ’n skrywer wat haarself blootlê sodat ons onsself kan sien

In gesprek oor witwees in Suid-Afrika met Melissa Steyn en Christi van der Westhuizen / In conversation about whiteness in South Africa with Melissa Steyn and Christi van der Westhuizen

The volksmoeder, ordentlikheid and whiteness

Sitting pretty: ’n onderhoud met Christi van der Westhuizen

LitNet Akademies Weerdink: Skottelbraai in Ghoema-land: die grense van Steve Hofmeyr se identiteitspolitiek

The post Afrikaans as liminale transnasionale literêre sisteem: ’n Paar gedagtes oor ontlaering uit QwaQwa appeared first on LitNet.

Om Oom te wees (al is ek nie jou oom nie)

$
0
0

Nóú, in my winterjare, kyk ek nostalgies oor my skouer en pieker ’n paar punte van wees en Afrikanerwees – net vir ingeval ’n ou eendag verslag aan die ou Skepper moet doen. (Tegelykertyd hoop ek die memoires kan rigtinggewend deur my nasaat aangewend word.) Dit is egter die korrektheid van my aanname wat bodder.

“Oor die jare het ek in die sweet van my aangesig my brood op verskei maniere verdien:

1.       Koerantafleweraar

2.       Vloerassistent by Woolworths

3.       Kassier by BP Express shop

4.       Handlanger en kabels aanlê op construction sites (ook na verwys as: “draadtrekker”)

5.       Eisehanteerder by POF

6.       Regsadviseur by SAPD

7.       Prokureur

8.       Onderwyser

(Etlike ander is onnoemenswaardig.)

Vir niksseggende beuselagtighede kan ’n mens egter nie goedsmoeds daarop aanspraak maak dat wildvreemdes jou aanspreek as professor of doktor nie, omdat jy nie "hard daarvoor gewerk het" nie. En dit is ook goed so, cause who gives a shit but the parrot. Heelparty Afrikaners wat Vadertjie Tyd maar bloot sy gewone gang laat gaan, eis mettertyd die ongekende kultusstatus van oom of tannie op; steeds plek-plek in die Republiek ’n gesaghebbende titel. Die onderbou van hierdie en soortgelyke kondisionering veronderstel moontlik dat respek ’n eenrigtingstraat is en kweek uiteindelik onderdanigheid en demp kritiese denke. Ek wed meer Afrikaners as enige ander groep betaal hul TV-lisensies, elektrisiteit, tolgeldjies en belasting omdat gehoorsaamheid aan "gesag" by hom ingedril is.

The post Om Oom te wees (al is ek nie jou oom nie) appeared first on LitNet.

Die estetika van ’n skreeu-lelike, “weerlose God”. Skilderkuns as medium in prosesse van teologies-paradigmatiese transformasie – ver-beeld-ende stank (skúbalon) vir skandalige on-dank (skandalon)

$
0
0

Die estetika van ’n skreeu-lelike, “weerlose God”. Skilderkuns as medium in prosesse van teologies-paradigmatiese transformasie – ver-beeld-ende stank (skúbalon) vir skandalige on-dank (skandalon)

Daniel Louw, Universiteit Stellenbosch

LitNet Akademies Jaargang 17(1)
ISSN 1995-5928

Die artikel sal binnekort in PDF-formaat beskikbaar wees.

 

Opsomming

Die Christelike tradisie het dikwels in die Godsvraagstuk op die vraag gekonsentreer: Wie is God? Die Godskonsep, veral die al-mag van God, is in verskillende tradisies omskryf in statiese “omni”- of “almag”-kategorieë wat met ’n oorsaak-gevolg-denkskema werk. Die lydingsvraagstuk, asook huidige prosesse van sosiaal-politieke transformasie, het my genoop om na ’n ander invalshoek te soek. Daar word na die paradigma van estetika gekyk om weg te skuif van omni-kategorieë (God as pantokrator; Almagtige) na omgee-kategorieë (passio Dei). In dié verband word twee skilderye uit die Cross-Roads-reeks wat God se solidariteitsdeernis in ’n plakkerskamp uitbeeld, teologies aan die orde gestel. ’n Prakties-teologiese hermeneutiek van kyk (estetiese optiek) word voorgestel met behulp van begrippe vanuit ’n Pauliniese perspektief soos stank (skúbalon) en vloek – skandalige on-dank en verwerping (skandalon). ’n Dergelike hermeneutiek beweeg weg van die “wie” van God na die “hoe” van God. Die implikasie en argument is dat skilderkuns ’n medium is om God se wese nie te probeer definieer nie, maar slegs esteties te “infinieer” – die sosyn van God in terme van solidariteitsmedelye. Vandaar die teologiese perspektief van ’n skreeu-lelike God: “My God, my God, waarom het u my verlaat?”

Trefwoorde: estetika in skilderkuns; optiek van kyk; praktiese teologie van stank (skúbalon) en skandalige on-dank (skandalon); teopasgitiese teologie; weerloosheid van God

 

Abstract

The aesthetics of divine ugliness: The portrayal of a vulnerable God in the art of painting within processes of paradigmatic transformation in theological thinking – the disgust of filth (skúbalon) and the scandal of malediction (skandalon)

In the dogmatic tradition regarding the essence of God’s involvement with the human predicament of suffering, categories from the Roman and Greek culture are applied most of the time. An example is to be found in the Psalter Hymnal of the Reformed Christian Church: “And as God Himself is most wise, unchangeable, omniscient, and omnipotent, so the election made by Him can neither be interrupted nor changed, recalled, or annulled; neither can the elect be cast away, nor their number diminished.” In this regard, depictions of Christ in traditional iconography are used to bolster Christianity against paganism and heresy. In many doctrinal formulations Christ is portrayed with “omni-” categories like omnipotence and omniscience. God’s El Shaddai (the Hebrew wisdom tradition regarding the splendid majesty of Yahweh’s grace) had been translated into pantokrator categories that depicted Christ as a Roman Caesar. When Christianity was threatened, a kind of divine imperialism was introduced to justify a clerical ecclesiology and maintain dogmatic stances regarding social life problems.

When referring to, for example, the will of God, denominations in their official confessions tend to make use of the very positivistic principle of the uncompromising, rigid will of God (impassibilitas Dei). It happened in the way churches made use of a “natural theology”, specifically in the theological justification of the apartheid ideology. Cultural and racial separation was promoted by referring to diversity in creation. This “natural” kind of hermeneutic was used in order to maintain a discriminatory approach. The need for new paradigms in hermeneutic of human suffering, and the necessity of ideological changes, indicate that fixed formulae used to describe doctrinal stances failed to foster paradigmatic changes. This is why the article proposes the aesthetics of an optic gaze in visual arts as a possible medium for meaningful change. Two paintings from the series Cross-Roads (about the presence of a suffering God in a squatter camp on the Cape Flats) are used to foster a theology of compassionate being-with. To strengthen the applicability of a theopaschitic approach (the passio Dei), two obscure concepts from Pauline thinking (skandalon and skúbalon) are used to promote a paradigm shift, namely from a metaphysical model to a paschitic model of theologising in pastoral caregiving.

Keywords: a practical theology of filthy disgust; aesthetics in visual arts; the optic of a loving gaze; the vulnerability of a suffering God; theopaschitic theology

 

1. Inleiding: Voëlvlugskets van ’n verwarde outobiografie

My teologiese en akademiese loopbaan het in 1978 begin. Kanseltaal was vroom, mooi en verhewe bo enige vorm van platvloersheid. “Omni”-kategorieë is gebruik om God se onveranderlike wil met die verloop van pynlike lewensgebeure te handhaaf: die al-mag (omnipotence) van God; die al-wetendheid (omniscience) van God; die al-omteenwoordigheid (omnipresence) van God. “Al” dan letterlik en figuurlik in superlatiewe terminologie. Sy unieke majesteit van verbondsgenade (El shaddaj) is in Grieks vertaal met pantokrator met die gevolg dat die mag van God by voorkeur gesien is as buitengewone krag en gesag wat verhewe is bokant die vlak van menslike ervaring. Die indruk dat God alles kan doen, het in die Middeleeue selfs gelei tot die ironie van die volgende paradoks: Kan God ’n rots maak wat te swaar is vir God om op te tel? As almag “buitengewone krag” beteken, kan God dit beslis doen. Maar as God te swak is om die swaar rots op te tel, wat het dan van hierdie alles-kan-krag geword?

Die vertaling van El Shaddaj as pantokrator het onder andere ’n mitologies-Hellenistiese asook Romeins-kultiese agtergrond (Inbody 1997). “Ever since, it has been a real danger to fashion God in the image of the ‘cultural gods’ – the imperial rulers of the Egyptian, Persian and Roman empires – the church gave unto God the attributes which belonged to Caesar” (Louw 2000:7; sien ook Inbody 1997:139). Häring (1986:351–72) wys op die verband tussen pantokrator en Aristoteles se siening van potentia. Die dogmatikus Van de Beek beklemtoon verder die assosiasie tussen pantokrator en die Romeinse keiserkultus – God as ’n soort “super-koning” wat heers in terme van die absolute mandaat en dekrete van ’n imperialistiese despoot (Van de Beek 1984:91–2).

Die pantokrator-weergawe het my altyd gepla, omdat dit nie strook met die benadering in die Semitiese wysheidstradisie wat Jahwe verbind het met ’n werkwoord hjh (“om te wees”) en God in meer infinitiewe kategorieë verwoord het. Tot my teologiese ontsteltenis ontdek ek toe Paulus se argument vir ’n “weerlose God” (1 Kor. 1:25). Swakheid, weerloosheid (astheneia) dui op alle vorme van menslike weerloosheid, lyding en broosheid. Die woord astheneia is selfs in die Ou Testament gebruik om dodelike siektes en die swakheid van ouderdom te beskryf (Fretheim 1984:106).

Tydens my opleiding in die Fakulteit Teologie aan die Universiteit Stellenbosch gedurende 1966–9 is dit duidelik aan my gestel dat ek my beslis nie moet inlaat met wilde teoloë soos Jürgen Moltmann wat met geloofsharsings smokkel nie. Sy boek oor die hoop (Theologie der Hoffnung) het in 1966 verskyn. Skielik besef ek, maar daar is ’n ander invalshoek, naamlik die teopasgitiese teologie, wat worstel met die verband tussen God die Vader en God die Seun tydens die kruisroep: “My God, my God waarom het U my verlaat [derelictio]?”

My teologiese dilemma was die volgende: Moes ek swig voor die ewige, onveranderlike raad van God in die yspaleis van ’n ongenaakbare en dikwels noodlottige alles-wil-(oorsaak-gevolg-) skema, of die deernisvolle God met die broosheid van ingewande wat inmekaartrek oor die nood van ’n lydende mensdom (deernisvolle pathos-skema)?

Ek ontdek toe verder dat in die gelykenis van die verlore seun die vader se ingewande (buik en derms; ta splanchna) inmekaar getrek het toe hy op die stoep staan en wag en nie geweet het sy verlore seun is aan die terugstrompel nie. Die innig jammer voel van Luk. 15:20 vertolk ’n intense affek van medelye (esplanchnizomai) en dui op die saamtrekking van die ingewande weens intense bekommernis. “The verb splanchnizomai is used to make the unbounded mercy of God visible” (Esser 1976:598). Wanneer die gelykenis dan teologies geïnterpreteer word, dui die vader-simboliek nie op ’n alwetende godheid nie, maar veeleer op die intense deernis en passie van die vader (passio Dei) as aanduiding van dít wat Brümmer noem ’n konkrete praxis-hermeneutiek van die amicitia Dei (Brümmer 2006:299–302).

Nêrens in die gelykenis word die vaderfiguur voorgestel met ’n soort van alwetendheidspretensie nie. Die inmekaartrek van die ingewande dui op volledige angstigheid sonder ’n soort van positivistiese hermeneutiek wat presies weet dat die verlore seun op pad terug is na die vaderhuis. By wyse van metaforiese spreke: Die vader staan met die knoop van sametrekkende derms en nie met die tegniese kontrolemeganisme van ’n selfoon nie.

My dilemma: Moet ek krag-terme gebruik (met vrome kanseltaal) of barmhartigheidsterme (deernisvolle-sorg-taal) wat dikwels grens aan vloek-paradigmas wat die vasgespykerde kruiseling omhul het terwyl soldate uitdagend spot (kragdadige almag kon hom mos laat afklim het!) en dissipels met apatiese angsbevangenheid op die vlug slaan?

My dilemma was polities-ideologies en sosiaal-kultureel gesproke uiters delikaat. Teologies gesproke het ek geworstel met die vraag: Maar as God die Seun en God die Vader één is, waar was God die Vader met die verlatenheidsuitroep van die Seun? Is God ten diepste tog nie die lydende, swak God van wie Paulus praat nie?

 

2. Wat is teologiese legitimiteit in ’n versplinterde en verwarde wêreld?

Gedurende die tagtigerjare het ek baie gewonder hoe dit moontlik is om langer aan die Fakulteit Teologie, Universiteit Stellenbosch, pastorale en praktiese teologie te doseer terwyl die heersende paradigma binne kultuurverband die ideologie van apartheid was. Drie gebeure het in my nadenke oor die morele implikasie van my teologiese legitimiteit en integriteit ’n rol gespeel.

Gedurende my kinderjare (ek dink dit was 1953–4) het my pa my na ’n politieke byeenkoms in die stadsaal op Ceres geneem. Die spreker was ’n predikant en teoloog van die NG Kerk. Hy was ook op ’n tyd moderator van die kerk. Hy het probeer om die gehoor van die noodsaaklikheid van apartheid en die teologiese regverdiging daarvoor te oortuig aan die hand van ’n voorbeeld vanuit Voëleiland by Lambertsbaai. In sy politieke retoriek het hy verwys na die feit dat die wit voëls en die swart voëls op die eiland apart sit en hoegenaamd nie meng nie. Dit is dus duidelik dat God se wil vanuit die natuur afgelei kan word. So ’n stelling is dan bevestig met die Skrifverwysing vanuit Genesis 11:4–9. Die feit dat God die volkere in ’n taalverwarring laat beland het en oor die hele aarde verstrooi het, het ’n teologiese bewys van apartheid geword. Skriftuur en natuur is versmelt tot die teologiese taal van politieke segregasie. As klein seuntjie van ongeveer nege jaar het ek verward tussen die metafoor van voëls en die menswaardige status van mense gedobber.

Die tweede gebeure was my aanstelling by die fakulteit aan die einde van 1977. Ek het nooit aan die Broederbond behoort nie en was sonder enige politieke affiliasie, behalwe dat ek in ’n Nasionale Party-huis grootgeword het. Op die ou end was daar ’n staking van stemme tussen my en die “regte” kandidaat. Die lot is gewerp en die “verkeerde” kandidaat is aangewys. Die voorsitter was hewig ontsteld en het per geleentheid gesê: “Nou kan jy nie eers meer God en die lot vertrou nie.” By ’n geleentheid in Pretoria het dieselfde persoon die opmerking gemaak dat Louw die laaste spyker in die doodskis van die kweekskool is.

Gedurende 1987 het ek dit oorweeg om te bedank en het ’n hewige gewetenswroeging ontwikkel. Vyf-en-dertig professore van die Universiteit Stellenbosch het op ’n Vrydag in Oktober ’n afspraak met P.W. Botha gehad. Hy was tóé kanselier van die universiteit. Ons wou hom en ander lede van die kabinet wat teenwoordig was, oortuig om Nelson Mandela vry te laat. Ek was een van die persone wat ons sentiment moes oordra. Met ’n ernstige vingervermaning het P.W. Botha na my gewys en as volg gereageer: “Mannetjie, nou sal ek vir jou vertel ...” In my Wynberg-bediening was hy lidmaat van die gemeente. Ek het ook sy kleinkind gedoop. Die aand na die mislukte ontmoeting het ons groep in die Mount Nelson Hotel vergader en vir mekaar gesê: Logika en gesprek (taal en argument) gaan nie die regering oortuig nie. Die enigste opsie wat op ons wag, blyk ’n bloedige revolusie te wees. In 1989 kry P.W. Botha ’n beroerte en die muur val in Berlyn, en Mandela word in 1990 vrygelaat. Dit gebeur twee jaar nadat ek in 1987 in Berlyn by die muur vir die president van Beiere gevra het: “Sal Duitsland ooit verenig?” Sy antwoord was: “Nooit, nooit!”

Waar pas God se ystere wil in by die prentjie van die radikale transformasie van die lewensbestel in Suid-Afrika?

Ek word dekaan met die oorkom van die Verenigende Gereformeerde Kerk (VGK) na die fakulteit in Stellenbosch aan die begin van 2001. Ek het nie geweet hoe om te reageer ten einde ’n groep mense wat vroeër weens apartheid uitgesluit was, welkom te laat voel nie. Ek was nooit deel van die “struggle” nie en het nie die vertroue van die VGK geniet nie. Die kuratorium van die NG Kerk was skepties oor my betrokkenheid, omdat ek nie genoeg “hul saak” gepromoveer het nie. Russel Botma, voormalige rektor van die Universiteit Stellenbosch, het my gereeld daaraan herinner dat baie lidmate in die VGK aan hom die pynlike vraag gevra het: “Wat gaan soek jy in ‘daai plek’?”

In elk geval was daar vir etlike jare geen formele akademiese kontak tussen die Fakulteit Teologie aan die Universiteit van die Wes-Kaap en die Fakulteit Teologie op Stellenbosch nie. Ek het geworstel met die vraagstuk dat isolasie verstikkend is en tot verdere infeksie in die liggaam van Christus lei. Dit voed apatie en antipatie en dra by tot die slytasie van medelye; dit korrupteer die kuns van omgee en gasvrye samesyn. Watter sinvolle alternatief is daar wanneer gesprek en taal nie brûe kan bou nie?

Binne die maalkolk van verwarde belange, die gevoel van teologiese steriliteit en spirituele impotensie (feitlik niemand wou na my teologiese argumente luister en my boeke oor praktiese en pastorale teologie lees of ernstig opneem nie) het ek gewonder of estetika en die skilderkuns nie ’n opsie is om mense te oortuig van hoe belangrik dit is dat ’n radikale houdingsverandering gepaard moet gaan met paradigmatiese verandering op ideëvlak nie. Ideologiese verandering beteken dat van ou uitgediende paradigmas (“zombie categories, volgens Ulrich Beck in Reader 2008:1) ontslae geraak moes word. In sy boek Ideology and utopia wys Karl Mannheim (1966:49) daarop dat konsepte die draers is van idees wat op die ou end praxis bepaal en ’n motiveringsfaktor in praktiese aksies is. “Without evaluative conceptions, without the minimum of a meaningful goal, we can do nothing in either the sphere of the social or the sphere of the psychic” (Mannheim 1966:18).

Vandaar my grondhipotese: Wesenlike verandering begin nie by praktiese dade nie, maar by ’n nuwe en ander idee; ideë dryf en bepaal sinvolle praxis. Met praxis word dan bedoel nie bloot praktiese dade of aksies nie, maar handelinge soos bepaal deur paradigmatiese raamwerke wat ’n bepaalde idee konseptualiseer. Praxis is dan die beskrywing en artikulering van daardie ideë wat handeling motiveer en sinraamwerke verskaf vir transformasie en dinamiese verandering.

Hierdie voorveronderstelling word duidelik onderskryf deur ’n baie onlangse opmerking oor die Amerikaanse betrokkenheid by die politiek in Sirië en Irak. Vick en Hennigan maak in hul artikel in Time (2019:7) oor die dood van die ISIS-leier Abi Bakr Al-Baghdadi die volgende belangrike stelling: “It’s good to take out the leader, but it’s not just a terrorist group – it’s an ideology as well.” Die dood van Al-Baghdadi beteken nie dat die paradigmatiese raamwerk agter die politieke aksies van die Islamitiese staat uitgeroei is nie. Die stryd gaan voort.

Hoe pas God en sy wil in by die tragiek in Bagdad en die huidige rassepolarisasie in Suid-Afrika? Ek begin naarstig soek na ’n alternatiewe invalshoek.

 

3. Die soeke na ’n nuwe prakties-teologiese invalshoek: Die “hoe” van God of die “wese” van God

Ek het begin soek na ’n nuwe invalshoek vir die praktiese teologie; na ’n ander Godskonsep, Godsverstaan, idee oor God se heilsplan, vir sinvolle en menswaardige menswees. In elk geval, my woorde besit geen spirituele en teologiese legitimiteit nie. Daarom het ek intens begin worstel met die volgende praktiese-teologiese vraagstuk: Kan God anders ver-beeld word, want die tradisionele dogmatiese formules kan nie meer die eise van ’n nuwe tydsgewrig akkommodeer nie? Soos wat Taleb dit in sy boek The black swan stel: Die lewe kan nie met voorspelbaarheid en ’n Platoniese verklaringskema benader word nie. Taleb (2010:xxx) noem ’n positivistiese verklaringskema “Platonicity”. “Platonicity is what makes us think that we understand more than we actually do.”

’n Logiese en rasionele verklaringskema kan nie werklik “God” verwoord of voorstel nie. Nog minder pas die Moses-formule oor God, naamlik “Ek is wat Ek is” binne die Aristoteliaanse oorsaak-gevolg-formules. Taleb (2010:120) noem dit die Aristoteliaanse “omdat” – God as ’n verklarende deus ex machina. Die kernprobleem is dat ons steeds deterministies dink: “We are dogma-prone from our mother’s womb” (Taleb 2010:129). Ons wil ons pynlike ervaring van weerloosheid verskans met rasioneel-opgesmukte verklaringsteorieë. “Whenever our survival is in play, the very notion of because is severely weakened. The condition of survival drowns all possible explanations” (Taleb 2010:120).

Logiese formules werk nie. Die etiese benadering strand op die werklikheid van wat Bauman (1995) noem “Moral blindness”. Moet ’n etiese benadering nie aangevul word met ’n ander benadering eerder as om bloot staat te maak op die opsie van ’n nuwe moraliteit nie? Hierdie kernvraag het my na estetika laat kyk as ’n moontlike alternatiewe benadering om op ’n sinvolle wyse kreatief met weerloosheid en onvoorspelbaarheid om te gaan.

Matzker (2008:10) verbind estetika met die teorie oor perspektivisme. Hy beskryf estetika as die optiek van ’n kreatiewe en verbeeldingryke manier van kyk na die werklikheid. Estetika “bemiddel” en wil nie bloot faktisiteit kopieer en direk weergee nie. In dié sin is estetika ’n hermeneutiese bedryf. Dit beskryf ’n daad van betekenis-toekenning (sinduiding) aan objekte binne die wisselende interaksie tussen subjek en objek, indrukke en interpretasies. Estetika werk dan binne verbeeldingryke skakels tussen vorm (eidos, wese, betekenis) en substansie (hýle, ontiese dimensie). “Aesthetics implies acts of symbolisation (to symbolise, from the Greek symbálein = to link to halves) and processes of meaning-making” (Matzker 2008:10).

Die punt is: Estetika werk binne die fragmente van skerwe as bemiddelaar en soort van osmotiese uitruiling tussen die kyker se ervaring en die sien van die objek. Estetika bevorder ’n proses van sinvolle netwerking en verbeeldingryke her-innering. “Aesthetics then expands the horizon of interpretation of human beings; it creates a grammar of mediation. For Plato the mediation points in the direction of a copy of a kind of original image or existing idea. For Aristotle the mediation is in itself a process of signifying in the sense that it functions as a memory (anamnese) of reality” (Matzker 2008:11–2).

Die opsie van estetika laat mens toe om anders met die Godsvraag in teologie om te gaan. Dit soek nie meer God as ’n oer-verklaringsbeginsel en statiese prinsipe agter die empiriese werklikheid ten einde die vraag na die oorsprong van die kwaad teologies te probeer ophelder nie. Gewoonlik word die Godsvraag so oorheers deur die vraagstuk van goed en kwaad, sonde en verlossing dat daar min plek is vir ’n teologie van medelye. Selfs die teologiese bespreking oor Moltmann se formidabele werk oor ’n kruisteologie is gedomineer deur vrae rondom die versoeningsleer (Welker 1979). Rutledge (2015) skryf ’n werk van 669 bladsye oor die kruis. Hy sluit af met temas oor plaasvervanging, oordeel en verlossing sonder om die tema van ontferming (barmhartigheid, medelye, omgee) te gebruik as fokuspunt vir sy dogmatiese invalshoek.

Naas die versoeningsperspektief oorheers etiese vraagstukke soos die verband tussen homofobie en seksuele oriëntasie die teologiese debatte in sinodale sittings. Ek kom vanuit ’n CSV-tradisie met die idee dat dans, swem op Sondag, kaartspel en wyn almal bose gestaltes van die sonde is. Teologiestudente moes in die tagtigerjare teken dat hulle nie sal dans nie ten einde gelegitimeer te kon word.

Maar wat van ’n estetiese aanpak met die fokus op sin, betekenisgewing en lewensvreugde? Iets soos die Augustiniaanse benadering dat mens God moet geniet? “The challenge is for the apostolic faith to capacitate believers to desire and delight in God so that their dignity, relationships to persons and things, and visions of human excellence and a just social order stem from delight” (Charry 1993:102).

Met hierdie vrae in my gemoed het ek my toe tot die optiek van kyk in skilderkuns gewend ten einde teologiese paradigmaskuiwe te kan vertolk en ook aan te wakker. Ek het ook ’n boek oor die ikoniese dimensie in kuns geskryf met die hoop dat die estetiese kyk in skilderkuns, spesifiek oor hoe God en Christus in die skilderkuns voorgestel is, my tot ’n ander Godsverstaan kan lei (Louw 2014). Die teologiese vraag is dan of ’n nuwe manier van ’n estetiese kyk op lewensvraagstukke mense se verbeelding só kan aangryp dat hul Godsvoorstelling kan skuif vanaf statiese definisies oor God na meer dinamiese “infinisies” oor God: God se so-syn met menslike lyding. Die teologiese vraag skuif weg van wie God wesenlik is (dogmatiese definisies oor die eienskappe van God; die vraagstuk van die hoedanigheid van God; Berkhof 1973:117–8), na die praxis van God se hoe-doenigheid – die karakter van God se “hoe”, naamlik, God se omgee, ontferming, deernis en barmhartigheid. Om God te ken, is om sy gesindheid jeens ons te ken (Berkhof 1973:117).

In terme van my vorige teologiese raamwerk het ek besef ’n paradigmaskuif behels ’n konseptuele skuif weg van die pantokrator-God van imperialistiese mag (die Romeinse omnipotentaat van Julius Caesar) na ’n teopasgitiese paradigma van interpretasie. Dit is in dié verband dat Matthews (1993:12) verwys na die “Emperor Mystique” in teologisering. “Both the shape and the power of the images, according to this theory, come from reliance on imagery formerly used to present the emperor.” In plaas van ’n imperialistiese interpretasie van die mag van God, gaan die teopasgitiese interpretasie van die kruis uit van die konsep van ’n meelydende, “swak God”. Die pathos van ’n Pauliniese kruisteologie word dan die invalshoek (1 Kor. 1:25 – die swakheid, astheneia, van God). Ek het selfs gewaag om die tradisionele formule oor teologie, fides quaerens intellectum (faith seeking understanding, geloof wat soek om te verstaan), aan te vul met ’n prakties-teologiese benadering: fides quaerens imaginem (faith seeking imagination, geloof wat soek om verbeeldend te dink; Louw 2016: 109; Cilliers 2012).

Onder die invloed van Thomas van Aquinas is teologisering as ’n hoofsaaklik kognitiewe aangeleentheid beskou. Geloof moet ’n rasionele basis toon: 

Thomas is not willing to say that holy teaching is simply a matter of believing a collection of bits of information that God has revealed. If it is true Scientia, then reason must have some role to play in this activity. It must be a process of, to use St Anselm’s phrase, “faith seeking understanding” (fides quaerens intellectum), in which understanding involves some sort of seeing-the-whole by the interrelatedness of the parts. (Bauerschmidt 2013:143)

Binne die raamwerk van die ortodoksie moes die belydenisse van die kerk daarna streef om die “regte geloof” te formuleer. Die regte geloof moes dan ook die dogma van die kerk binne die raamwerk van ’n uiters klerikale siening van ekklesiologie (die dogma ondersteun die besondere ampte in die kerk) help bevorder. Vandaar die klem op die rol van die intellek in die formulering van die heilswaarheid (Migliore 2004:2). Die leer van die kerk moet teen dwaling beskerm word. Daarom moet die waarheid in duidelike, kognitiewe en rasionele terme gedefinieer word. Positivistiese definisies bepaal klerikale denke, beslis nie die “infinisie” van menswees nie. Teologie is daar om God aan die gang te hou en nie om mense menswaardig te laat lewe nie. Dit wat die Afrika-filosoof en teoloog Kenneth Kaunda in sy boek A humanist in Africa (1967) genoem het Christelike humanisme. “Let the West have its Technology and Asia its Mysticism! Africa’s gift to world culture must be in the realm of Human Relationships” (Kaunda 1967:22). “A person is a person through other people” (Mtetwa 1996:24). In plaas van piramide-denke, dink ’n Afrika-spiritualiteit binne die sirkel van kommunaliteit (Bosch 1974:40).

In die publikasie oor die rol van estetika in die transformering van teologiese denke (Louw 2014, het ek probeer om ’n ander weg te volg as die tradisionele pad van dogmatiese rasionaliteit, naamlik om te kyk na die rol van verbeelding, visie en hoop in geloofsvorming en geloofsvolwassenheid. In plaas van die weg van scientia (logiese en korrek geformuleerde belydenisse van die kerk; Louw 2016:100–3), wou ek delf in die dikwels paradoksale uitsprake van sapientia – die wysheid van die hart wat weet God-is-dáár ten spyte van die empiriese ervaringsbewyse dat hy skynbaar vir sensoriese en affektiewe ervaringe totaal afwesig is. Sapientia, daarenteen, dink nie noodwendig “oordentlik” en kousaal-oorsaaklik oor God nie. Die wysheid kan soms arrogant, byna lasterlik, oor God praat. Dit is dan ook as gevolg van wysheid dat eienaardige gebede van angs, weerstand en woede teenoor God, ’n vroomheid (eusebeia) van hoopvolle verwagting vertolk met behulp van radikale, provokatiewe taal: “Waarom slaap U, Here? Word tog wakker” (Ps. 44:24); God, roer tog ’n slag jou litte!

Ek worstel voorts met die volgende vraag: Is geloof nie per slot van rekening ’n ander manier van kyk, van kreatiewe verbeelding deur middel van ’n hermeneuties-narratiewe interpretasie van die Bybelse verhale ten einde die eskatologiese gebeure van God se bemoeienis met die mens te vergestalt in ikoniese beelde nie? Beelde wat in hul metaforiese en simboliese betekenisraamwerke verwys na die kreatiwiteit van transendentale nadenke. Die gedagte is dan om na beelde en voorstellinge van God te soek wat meer verwys na ’n spirituele benadering waarin teologiese konseptualisering help om gestaltes van die hoop te ontsluit binne die eksistensiële werklikheid van die menslike soeke na sin, geregtigheid, verlossing, bevryding en menswaardigheid.

Daarom die aksent op veral drie moontlike formuleringe oor wat teologie is (Louw 2016: 108–10; Louw 2014:100–2):

  • Teologie is die soeke van geloof om gestalte te gee aan daardie hoop wat sinraamwerke kan verskaf vir ons menslike oriëntering binne die daaglikse werklikheid van lyding, swakheid, weerloosheid, angs en die vrees vir die dood: fides quaerens spem (geloof wat soek na sinvolle gestaltes van die hoop).
  • Teologie is die soeke van die geloof na konsepte, simbole en metafore wat iets kreatief (ver-beeld-ingryk) ver-beeld van die werklikheid van die heil en die genade, medelye, sorg en omgee van God: fides querens imaginem.
  • Teologie is die soeke van geloof om anders na die werklikheid van verganklikheid te kyk, naamlik om die “onsienlike” (Heb. 11:1 en 7:27) te sien; om deur middel van die optiek van ’n estetiese kyk iets te ontdek van die Seun wat volgens Kol. 1:15 die grondtese van die Christelike geloof gelê het, naamlik Christus as beeld van die onsienlike God. Vandaar die formulering: fides quaerens visem – geloof wat soek na ver-beeld-ingryke nuwe visies vir geloofsverstaan. God word in liefde ver-beeld (uitgebeeld) in die lyding van die Seun (Moltmann 1972). Dit is dan ook waarom ek met die volgende teologiese tese begin werk het: God se onsienlikheid, heerlikheid (doksa) en mag (al-mag) kan nie in pantokrator-beelde vanuit die Romeinse keiserryk en keiserkultus voorgestel word nie. Imperialistiese voorstellinge moet vervang word met beelde wat die medelye en omgee van God vergestalt – dit wat Berkhof (1973) noem God se weerlose oormag – die oorrompeling van barmhartigheid. Daarom my voorkeur vir ’n teopasgitiese verstaan van ’n kruisteologie (ta splanchna; Louw 2016:313–7).

In hierdie voorkeur het ek op ’n heel uitsonderlike wyse afgekom op dít wat as die wese van die Christelike geloof geïdentifiseer kan word. Ludwig Feuerbach (’n sogenaamde ateïs) maak in sy boek Das Wesen des Christentums (1904:127) beswaar teen ’n teologiese model ontdaan van pathos. Sy pleidooi is om van ’n strak en abstrakte God-ideologie ontslae te raak. Die fokuspunt van geloof moet die praxis van medelye en omgee wees waarin dit in wese gaan om die heil en welsyn van die lydende mensdom (Feuerbach 1904:283). Sy kredo is dat hy vriende van God in vriende van die mens wil verander.

Vir Feuerbach is die God van die Christelike geloof ’n God met ’n hart vol passie. God is vir hom pure pathos en aldus geprofileer deur lyding, medelye en omgee (die Passion pura, das reine Leiden). Vandaar sy stelling dat ’n God sonder pathos en ’n hart in wese ’n statiese “afgod” is (Feuerbach 1904:127). Feuerbach het my gehelp om te besef dat eintlike, outentieke teologisering begin by die passio Dei. Om hierdie passievolle God voor te stel en gelowiges te help om ’n paradigmaskuif vanaf ’n statiese denke oor God (impassibilitas) na ’n dinamiese, passievolle denke oor God (passio Dei) te bewerkstellig, het ek my tot die estetika van die skilderkuns gewend.

In sy boek Christianity, art and transformation lewer De Gruchy (2001:138) ’n pleidooi dat teologisering opnuut die skakel tussen estetiese oordele en die aard van teologisering sal ontdek: “For some reason the connection between aesthetics and social ethics, between beauty and social transformation, was not apparent to those of us who were engaged as theologians in the struggle against apartheid” (2001:2).

 

4. Die optiek van estetika in skilderkuns: Die spiritualiteit van ikoniese opkerf in stukkende skerwe

In sy soeke na ’n nuwe benadering in praktiese teologie merk Pattison (2013:149–50) op dat ’n prakties-teologiese vernuwing ’n ander “gesig van God” benodig. Hoofstuk 8 van sy boek het die volgende insiggewende opskrif: “Shining up the face of God. Practical theological horizons for enfacement” (Pattison 2013:149). Ten einde vernuwend te dink, stel hy ’n metodologie van kritiese “theological imaginary” (2013:149) voor. Die skopus van optiek in ons Westerse denke is volgens Pattison uiters beperk. Die rede: “The scopic regime of the arrogant eye” (2007:19). Vandaar sy invalshoek: ’n optiek van kyk binne die dimensie van verbeeldingryke estetika. “However, the tradition of a thicker, more sensual kind of theological seeing, not solely based on inward or mystical ideas of vision, might usefully question assumptions about seeing God’s face in the human world” (Pattison 2013:150–1). As gevolg van visuele oorlading en hipervisualiteit maak hy die volgende stelling: “We have so much but see so little” (Pattison 2007:1).

Dit is uiters moeilik om die optiek van estetika te omskryf. Dit is só moeilik dat Picasso as volg gereageer het: Kuns is ’n vorm van lieg ten einde die waarheid beter te verstaan. Daarom is die estetika van ’n optiese loer na die werklikheid in wese ’n radikale ingrepe in die werklikheid (Picasso aangehaal in Huffington 1988:118). Die kunstenaar sny die ervaring van sien op in skerwe. So “vernietig” kuns die ervaringswerklikheid ten einde op ’n verbeeldingryke wyse ’n nuwe gestalte en ander vorm van lewe daaraan te gee. Estetika in byvoorbeeld die visuele kunste laat herleef die werklikheid. Maar hierdie estetiese ingrepe bring stryd en worsteling mee. Op die ou end word kuns dan bepaal deur wie die kunstenaar is, wat sy/haar gesindheid en lewenshouding is (Picasso, aangehaal in Barr 1975:274).

Ek vind die volgende opmerking oor kuns en estetika verhelderend: Kuns is nie die vermoë om bloot iets te maak as gevolg van handvaardigheid nie (kunsvlyt en vakmanskap – craft); dit is ook nie bloot om die werklikheid “mooi” te maak nie. Die estetiese ekstase van verbeeldingryke ontploffing in kuns is ’n manier om sin aan lewe te gee (Spivey 2006:24). Poëtika in kuns en estetika is ’n besef van verwondering: daar is naamlik méér in kyk as dit wat ons empiries en voorhande kan sien. Kuns is ikonies, want dit wil nie bloot ontleed of dissekteer nie; “Not to reflect the visible but to make visible” (Paul Klee in Stone 2003:31). Kuns kerf “mooi” op in stukke ten einde skoonheid beter te ver-beeld.

In Image and spirit beskryf Stone (2003:9–11) kuns as ’n vorm van spirituele asemhaling. Die gevolg is dat dit in kuns nie gaan om bloot sintuiglik-empiriese ervaringe nie, maar om ’n vorm van sin-duiding. Hierdie spirituele dimensie lei daartoe dat kuns (veral skilderkuns) beskryf kan word as ’n estetiese stem wat die onsigbare werklikheid letterlik en figuurlik be-sin. “Art at its best makes concrete what language and especially religious language cannot: that intangible, private or communal moment when we encounter being.” Kuns vroetel daarom tot in die vesels van die menslike siel en is daarom meer onties-belewend as bloot empiries-kykend; “… that is, the ontological, the essence of experience beneath and beyond the surface appearance of things” (Stone 2003:11). Dit is só onties en eksistensieel dat Dissanyake (1992) ’n hele boek wy aan die estetiese tema van die mens as wesenlik homo aestheticus. Die estetiese mens neem vanuit die alledaagse ervaring dinge wat normaal skyn te wees en sien dit dan as abnormaal in dié sin dat dit die alledaagse buitengewoon maak.

Kuns is wesenlik verbind met opwinding en ekstase. Nietzsche beskryf dit as volg: “One is seized by an ecstasy” (Nietzsche 1966:20). Ekstasis in Grieks beteken dan ook om uit die staat van doodgewone normale sloer te tree en met verbeelding ervaring te transendeer. Dit is ’n soort van spirituele “out-of-body experience” (Pentcheva 2010:37).

Dit is duidelik dat skoonheid in kuns oor meer gaan as bloot wat “mooi” (pretty) is. Skoonheid is ’n worstelende wroeging ten einde betekenis/lewensin uit te wring vanuit die spannende paradoks van vormgewing as verwringing, en ver-beeld-ing as vervorming. Die “mooi” in kuns is dan ’n gestalte van die ikoniese, simboliese en metaforiese andersheid wat in die brute massa van ongekarteerde feitelikheid en empiriese voorhandenheid skuil. Só kap Michelangelo die “vormlose” graniet weg om vorm te gee aan die vryheid van die stadstaat Florence. En “sie-daar” (’n optiese kyk), daar staan Dawid! Vir die kyker nakend; vir sommige kykers, soos die Pous, pornografie; maar vir Michelangelo spirituele skoonheid. Hy het dit dan ook duidelik gestel dat hy nooit ooit ’n naakte figuur geskilder of gebeeldhou het nie. Hy het eintlik net siele geskilder. Volmaakte vorm vergestalt die wese en adel (vryheid, ongebondenheid, moed) van die menslike siel (Clark 1974:129). Die skoonheid van die menslike liggaam vergestalt daarom die mooi van die menslike siel. Daarom is naaktheid die anatomie van “mooi siele”.

In beeldhouwerk word die wegkap van marmer die estetika van worstelende skoonheid as ’n manier van singewing binne ’n smeltoond-ervaring van kreatiewe ekstase. As gevolg van kreatiwiteit en ekstase begin in die objek ’n nuwe en ander “idee” gloei as wat die voorhande kyk van die kunstenaar gesien het. By wyse van metaforiese en simboliese spreke kan gesê word dat die idee van die kunswerk begin om in die binneste van die kunstenaar te brand. Daarom stel Picasso dit duidelik: “There is no abstract art. You must always start with something. Afterward you can remove all traces of reality. There’s no danger then, anyway, because the idea of the object will have left an indelible mark” (aangehaal deur Barr 1975:273). Konstruksie begin by dekonstruksie, die aangenaamheid van “sien” (mooi), (die tevredenheid van dit wat ek sien en ervaar is “goed”) by die vloek van stukkend maak (“sondig”). In Picasso se Guernica word die stukkende skerwe van verminkte menslike ledemate ’n teken van die wreedheid van geweld met ’n suggestie van heelmaking as rekonstruksie van bomskerwe.

Artistieke skepping is voorts vernietiging van wat “niks” is, om iets gebore te laat word: creatio ex nihilo. Niks is dan die “iets” van ongevormde massas wat gestalte moet kry sodat daar lig kan skyn deur die “duisternis” van brute massa. Kuns laat die massa van swart lawa gloei met vorm en kleur binne die gepolariseerde paradokse van verheffende verwondering en ontstellende onthutsing. Want estetika onthul, ontmasker ook die lelike en aakligheid van lewe. Mens kan dit skerper formuleer, naamlik dat ’n egte en radikale estetiese blik selfs die diaboliese en kwaad in die optiek van kyk oopvlek. In sy Les Demoiselles d’Avignon ontbloot Picasso ’n soort van barbaarse dekonstruksie wat die kyker hewig kan ontstel: “Five horrifying women, prostitutes who repel rather than attract and whose faces are primitive masks that challenge not only society but humanity” (Huffington 1988:93).

 

5. Die estetika van lelik: Teologiese aakligheid

But we see now through a glass darkly, and the truth, before it is revealed to all, face to face, we see in fragments (alas, how illegible) in the error of the world, so we spell out its faithful signals even when they seem obscure to us and as if amalgamated with a will wholly bent on evil. (Eco 1980:11)

Met hierdie opmerking maak Eco die leser daarvan bewus dat estetika ook met lelikheid, aakligheid en walging te doen het. Dit wat Jean-Paul Sartre (1943) nausea noem.

Lelik bevat elemente van weersin, gewelddadige, weersinwekkende, afskuwelike afstootlikheid (Eco 2007:16): 

In truth, in the course of our history, we ought to distinguish between manifestations of ugliness in itself (excrement, decomposing carrion, or someone covered with the sores who gives off a nauseating stench) from those of formal ugliness, understood as lack of equilibrium in the organic relationship between the parts of a whole. (Eco 2007:19)

Ek moet erken dat ek taamlik geskok was toe ek die volgende titel op een van die sogenaamde nuwe boeke in ’n boekwinkel op ’n lughawe raakloop: The subtle art of not giving a f*ck (Manson 2016). F*ck is dan nie bloot ’n vulgêre vloekwoord nie. Dit beskryf die paradoks van apaties-patosvolle woede en walging oor die onmoontlike eise wat ’n kultuur van kompetisie aan singewing en menswees stel. Dit word ’n estetiese vloekwoord wat antipatiese woede uitspreek oor wat die kwaad van obsessiewe prestasie aan menswaardigheid doen. Die woord f*ck werk soos ’n spirituele elektriese skok en beskryf dan die lelikheid van onmenslike verwringing binne die magteloosheid van zero-ervarings. “The Feedback Loop from Hell has become a borderline epidemic, making many of us overly stressed, overly neurotic, and overly self-loathing” (Manson 2016:7).

Die punt is dat lelik as estetiese kategorie beskryf hoe kwaad en gewelddadige destruksie menswees verwring tot op die punt van angstige woede en mislukkende hulpeloosheid. Toegepas op die vraagstuk van die “hoe” en modus van God se betrokkenheid by die uitsigloosheid van menslike lyding en woedende f*ck-ervaringe, impliseer hierdie insig dat God nie meer bloot beskryf kan word in die kragtige en dikwels despotiese taal en beelde van die Romeinse keiserkultus nie. Waarskynlik is ’n beter alternatief die estetika van lelik waarin die teologiese taal van “vloek” (“vervloek is elkeen wat aan ’n kruishout hang”) op ’n paradoksale wyse iets verwoord van die teologiese “mooi” van wat Paulus noem “die swakheid van God”. Lyding kerf God se aangesig op in aakligheid. Die “weerlose God” is nie “mooi” nie, maar geskend (the beauty in the beast). Dit is waarom die ontmoeting tussen God en mens dan ook beskryf word in die metafoor van die lelike, aaklige, walglike en lydende “kneg van die Here”. Jes. 53:2–5 beskryf dan ook hierdie kneg as ’n dienaar wat nie skoonheid of prag gehad het dat ons na hom sou kyk nie, nie die voorkoms dat ons van hom sou hou nie. Hy was verag en deur die mense verstoot, ’n man van pyn en lyding vir wie mense die gesig weggedraai het. 

In my navorsing oor die verskillende uitbeeldinge van Christus as die gekruisigde, het ek op die volgende uitbeelding van die lelike, aaklige, afskuwelik en verwonde Christus afgekom (foto regs – die naakte skreeu-lelike Christus). Ek het net besef dat hierdie uitbeelding waarskynlik beter klop met die beskrywing van God se lydende kneg en Paulus se weergawe van swakheid (atheneia) van die gekruisigde Seun van God as die romantiek van ’n “mooi”, aanvallige Christus (links).

Figure 1 en 2. Vergelyk die “mooi” afbeelding van ’n Europese Christus (links) (https://www.jesusdaily.com/8-depictions-of-christ-from-around-the-world-jzb/; 4 November 2019 geraadpleeg). (Publieke domein vir navorsing alleen.) Regs is ’n afbeelding van ’n naakte, verwonde, eintlik lelike en afskuwelike Christus, circa 1500–1530. Toestemming: National Museum, Copenhagen. Foto: D.J. Louw (Sien ook Louw 2014:246.) 

Met die estetika van lelik in gedagte het ek besef dat die mooi en romantiese beeld wat dikwels in die Christelike tradisie opgetower is, nie met die lydende kneg van God klop nie. Dit is dan ook die geval dat die Christelike kerk altyd hierdie beskrywing van die kneg van die Here messiaans geïnterpreteer het. Ek het ook besef dat die sagte, rustige uitbeelding van Christus aan die kruis nie werklik met die realiteit van weerloosheid (atheneia) van God en wrede vloek geklop het nie.

Ek het ook reeds voorheen verwys na my worsteling of ek by die Fakulteit Teologie moet aanbly al dan nie. Die isolasie van die fakulteit van Universiteit van die Wes-Kaap gedurende die tagtigerjare het my toe laat besluit om ’n kruisvoorstelling te maak binne die konteks van die plakkerskamp op die Kaapse Vlakte met die baie simboliese naam van Cross-Roads. Die skildery regs beeld dan ook die uitroep van die hoofman oor honderd uit: “Waarlik hy is die Seun van God.” Die skildery links beeld die aaklige roggelkreet van die sterwende, skreeu-lelike Christus uit: “My God, my God, waarom het u my verlaat [derelictio]?” as die skreeu-kreet van verlatenheid.

Figuur 3. Die voorstelling van Christus se kreet van verlatenheid (derelictio) binne die konteks van die plakkerskamp Crossroads, Kaapse Vlakte. Kunstenaar: D.J. Louw.

Figuur 4. Die gekruisigde Christus word uitgebeeld binne die tydperk van die “struggle” en voorvalle van “necklacing” op die Kaapse Vlakte. Hy hang tussen die doringdrade wat radikale apartheid meegebring het; radikale skeiding tussen wit en swart. Heel regs staan die hoofman oor honderd met die uitroep: “Waarlik, Hy is die Seun van God.” Kunstenaar: D.J. Louw.

Ek wou met hierdie Cross Roads-ikone ’n paradigmatiese verskuiwing aanbring oor ons dogmatiese idee aangaande wie en hoe God is: God dan nie voorgestel as die selfgenoegsame, almagsfiguur van ’n Romeinse keiser nie, maar in die paradigma van ’n “lydende kneg” wat radikaal vereenselwig is met die sosiale nood en die lyding van mense as gevolg van die ideologie van apartheid. Daarom is die plakkershuisies in beide skilderye agter doringdraad, want dit is hoe wit en swart in die apartheidsideologie fisiek, sosiaal, polities en ook religieus van mekaar geskei is. Die huisies lyk egter soos gesigte, want agter die masker van sinkplaat skuil egte mense op soek na geregtigheid. Ek wou die astheneia van Paulus se uitbeelding van Jesus as Gekruisigde (1 Kor. 1:25) vertolk en in beeld-taal wys hoe die passio Dei ’n helende dimensie besit: God se barmhartigheid as deelnemende, mede-lydende solidariteit. In die skildery is die ribbebene dan ook só geskilder om die identifikasie met die ellende van die sinkplaatstrukture uit te beeld.

God se almag is in wese ’n solidariteitsmedelye. In plaas van die vertaling van El Shaddaj as pantokrator, wou ek met die skilderye uitbeeld dat El shaddaj nie “al-mag” beteken soos uitgebeeld in militante of apatiese almagsterminologie (“omni”-kategorieë) nie, maar eerder in solidariteits- en barmhartigheidsterminologie. In die ontfermende-Here-terminologie (God is die Here) van Deut. 10:16–18 wou ek met die skildery sê: “Die Here is jou God … die groot God, die magtige wat wonderdade doen, wat vir niemand partydig is nie … God laat reg geskied aan die weeskind en die weduwee. God het die vreemdeling lief en gee vir hom kos en klere” (sien Nuwe Afrikaanse Vertaling 1983). God se almag verbeeld konkreet xenophilia (vriendskap ongeag kultuur, afkoms, ras, klas of gender). Almag rym hier met deernis en ontferming. Barmhartigheid oorbrug xenofobie en bou brûe tussen alle mense binne verskillende kultuurgroepe en multipluralisme.

Dit is te verstane dat in die geskiedenis van die Christelike kerk dit moeilik was om afbeeldinge van God te maak. Die feit dat Eks. 20:4 gelees is as ’n algehele verbod op enige vorm van afbeelding van God, het gelei tot heelwat konflik in veral 700–800 n.C. Van die vroegste afbeeldinge het Christus as herder voorgestel. Latere afbeeldinge het al meer gebruik gemaak van voorstellinge wat in die imperialistiese keiserkultus gebruik is.

Dit is ook duidelik dat in die vroegste ikonografie, soos die bekende voorstelling van Christus Pantokrator in die Hagia Sophia in Istanbul (sien foto onder in die middel), die kleed gedrapeer word soos dié van ’n Romeinse imperialis/keiser. Dieselfde voorstelling kom voor in die St. Katarina-klooster in die Sinaiwoestyn. Die bekende voorstelling van Christus met ’n stralekrans, baard en oë soos in die vroeë kerk se voorstellinge van hom en Ethiopiese ikonografie toon weer ooreenkomste met voorstellinge van Serapis wat in Alexandrië, Egipte gevind is (sien onder links).

Serapis was ’n Grieks-Egiptiese god wat onder Ptolemaios I in die 3de eeu v.C. geskep is om die Grieke en die Egiptenare te verenig. Die kop met wenkbroue en hare is dié van Jupiter met olyftakke om sy hoof soos ’n stralekrans. In 400 v.C. het ’n verdere verband tussen Serapis en die kragtige (al-magtige) Zeus ontwikkel (Mathews 1993:184–5). Die ooreenkoms tussen die latere ikonografie in die Christelike kerk en die Egipties-Griekse ikonografie blyk duidelik in die afbeeldinge hier onder.

Die uitbeelding van die lydende Christus (onder regs) het ek in Cusco, Peru, by ’n kunshandelaar gekoop. Die Inkastamme het baie onder die Spaanse imperialisme gely. Hierdie kruisvoorstelling (Louw 2014:186) verbeeld en vertolk die identifikasie van die weerlose, maar omarmende, God met die uitbuiting en veragting wat die Inkas moes ly. Die Cusco-kruisbeeld vertolk presies wat Paulus met die weerloosheid en swakheid van God in 1 Kor. 1:25 bedoel het. Dit is veel meer vertroostend en ook esteties “mooi” as die kragtigheid en omni-mag van die Hagia Sophia-afbeelding.

Dit is tog merkwaardig hoe pantokrator-afbeeldinge selfs in die belydenisse van die Christelike kerke weerspieël is. In die Psalter Hymnal van die Christian Reformed Church (1959:46) is byvoorbeeld die Kanon van Dordt (artikel 11) opgeneem. “And as God Himself is most wise, unchangeable, omniscient, and omnipotent, so the election made by Him can neither be interrupted nor changed, recalled, or annulled; neither can the elect be cast away, nor their number diminished.” Die kursivering is deur my om aan te dui hoe statiese en gefikseerde kategorieë steeds gebruik word en ’n impak op mense se konseptualisering van God het.

Figure 3, 4 en 5. Die afbeelding van Serapis, links, en Christus-Pantokrator, middel. Die ooreenkoms tussen die twee afbeeldinge toon hoe kultuur-religieuse faktore ’n rol in die vroeg-Christelike ikonografie gespeel het. (Gratis beeld, 5 en 6 vir uitsluitlik akademiese doeleindes. http://en.wikipedia.org/wiki/Christ_Pantocrator; 8 Januarie 2013 geraadpleeg.) Die afbeelding regs (figuur 7), die Cusco-kruisbeeld, verskil geheel en al van die ander twee en beeld die identifikasie van Christus, die Seun van God, met die lyding van die Inkas onder Spaanse imperialisme. Foto: D.J. Louw.

Op ’n eienaardige wyse is dit egter juis God se lelik wat ’n teologiese estetika van “mooi” vergestalt; die mooi van barmhartigheid en die troos van die passio Dei. Skandalon oorbrug menslike verskille en skep ’n nuwe gemeenskap (koinonia). Die Goddelike drama en skandaal van ’n vervloekte bemiddelaar skep ’n ekklesiologie waarin vervloektes en verworpelinge ’n tuiste vind; die kerk vergestalt sodoende ’n xenodochia – ’n veilige hawe vir almal wat verwerp, gekneus, uitgestoot en teen gediskrimineer is.

 

6. Die helende en transformerende estetika van vuiltaal: vloek (skandalon) en drek (σκúβαλon) – die rommelstatus van “stank” onder die kruis

Die kruis beteken eintlik skande, dwaasheid, sinloosheid, non-sense en vloek. Daarom dat Paulus in 1 Kor. 1:23 argumenteer dat vir die Jode ’n gekruisigde Christus ’n aanstoot (skandalon) is en vir die ander kulture totale dwaasheid (mōrian). Die aanstoot van die kruis setel in die feit dat dit alle vorme van menslike prestasie tot selfverbetering, alle vorme van legalistiese wysheid en ’n ekstra van menslike prestasie (’n soort van kompetisie-ekstra wat dien as voorvereiste vir die gawe van genade) nivelleer tot algehele niksheid – drek (skúbalos). Die kruis beteken vloek omdat dit die ergste vorm van veroordeling en verwerping aandui. As mens regtig “mooi” kyk na die kruisgebeure en die onreg wat Pontius Pilatus juridies gesproke pleeg, moet jy eintlik met heilige eerbied sê “f*ck”, want so ’n vulgêre term druk eintlik teologiese walging en weerstand uit – “Damnation, damn you!”

In baie afkeurende taal stel Gal. 3:13 dit dat die kruis ’n vloekhout is. “Vervloek is elkeen wat aan ’n hout opgehang word.” Volgens Deut. 21:22 is enige persoon wat opgehang word deur God vervloek. Volgens Deut. 27:26 hang vloek en skuld met mekaar saam. Wanneer ’n onskuldige onregmatig beskuldig en verneder word, wanneer die naaste verdruk word, dan rus daar ’n vloek op jou. Wanneer die Ou Testamentiese gasvryheid verag word en daar nie reg aan ’n vreemdeling, weeskind of weduwee geskied laat word nie, dan is jy ’n vervloekte (Deut. 27:19).

Skandalon en dwaasheid (mōrian) is letterlik en figuurlik die vuiltaal van die evangelie. Apatie teenoor die nood en lyding van die naaste val in die kategorie van die ergste struikelblok in die legitimering van God se medelye en genade. Omdat Jesus die hóé van God se ontferming in die modus van offerliefde gedemonstreer het, was sy passievolle lyding (passio Dei) voortdurend ’n struikelblok. Die uitdrukking skandalizesthai en tini (om aanstoot te neem en te verwerp) word dan ook in die Nuwe Testament gebruik om die aard van teenstand teen Christus se offerlyding te beskryf (Guhrt 1976:708), veral as dit dan dui op afstomping en wegdrywing. In dié sin is daar ’n verband tussen skandalon en dit wat die Christelike tradisie geestelike luiheid (Engels sloth) genoem het.

Apatie en onverskilligheid, of luiheid, is beskou as een van sewe doodsondes. Die Latynse woord accidia dui op spirituele traagheid en doodsheid. Dit beroof die mens van alle vorme van lewensvreugde en lei tot godsdienstige weersin (Stalker 1901:116–7). Apatie as spirituele traagheid veroorsaak ’n negatiwiteit teenoor alle vorme van sorg (Stalker 1901:126). Apatie en onverskilligheid beskryf as spirituele kategorieë vorme van algehele lewensvermoeienis (life fatigue, O’Neal 1988:15).

Die geestelike luiaard, die mens sonder pathos, word inderwaarheid ’n vervloekte en verval in die hel van algehele hooploosheid en sinloosheid (spirituele apatie). Daarom die opmerking van Dante voor die poorte van die inferno: “All hope abandon, ye who enter here” (Dante 1909, Canto III, 5).

Die ergste vorm van skandalon word gesien wanneer die mens morele uitnemendheid, godsdienstige legalisme, wetsgehoorsaamheid en rituele godsdienstigheid, soos die besnydenis (Gal. 5:11), stel bó die vrymaking van die heil. Dan word die kruis ’n struikelblok (skandalon). Die feit dat God die Seun met ons plekke omgeruil en in ons plek ’n vervloekte (κατάρας) geraak het (Gal. 3:13), verskerp die oordeel oor vorme van geestelike verslapping en afvalligheid (Heb. 6:6–8).

In Fil. 3:7–8 maak Paulus ’n baie sterk stelling naamlik dat alle uiterlike vorme van godsdienstigheid en sosiaal-nasionale status as voorvereiste vir spirituele toewyding (dit wat moontlike die wins, kerdos, van menslike prestasies kan wees) in wese eintlik niks werd is nie en as spirituele verlies (zēmia) beskou moet word. In Latyn verwys zēmia na damnun (Liddell en Scott 1968:344). In vers 8 gaan Paulus só ver om alle vorme van godsdienstigheid as gemors, afval en drek (menslike uitskeiding – σκúβαλα) te beskou (Liddell en Scott 1968:735). Skúbalon verteenwoordig min of meer dieselfde weerstand en woede teen die uiterlike van menslike prestasiedruk wat Manson (2016) as in die woorde van die titel van sy boek noem “the subtle art of not giving a f*ck – a counterintuitive approach to living a good life”.

 

7. Die medelydende taal van twee Cross-Roads-skilderye (die skandalon en skubalon van plakkerskampe)

Onwillekeurig duik die vraag op: Het die skilderyreeks Cross-Roads enige paradigmatiese skuiwe meegebring? Het dit die doodsonde van apatie aangespreek? Ook die apatie wat die ideologie van apartheid by baie Suid-Afrikaners veroorsaak het?

Ek weet nie.

Tog het die Cross-Roads-ikone my eie oë oopgemaak vir die feit dat die ontmoeting met die pyn van die ander ’n spieël word wat my eie ongevoeligheid ontmasker. Levinas merk op: “The idea of the infinite implies in a very poignant sense ‘the infinite of responsibility’; it is a responsibility for subjectivity as structured by and embedded in the being for the other (être pour l’autre)” (Levinas 1968:xvii; my vertaling en parafrasering). Op ’n aangrypende wyse “skilder” Levinas Abraham se pleidooi vir die mense van Sodom (Levinas 1968:xv) en wys op hoedat ’n morale gewete (conscience morale) ons besorg kan maak vir die welsyn en heling van die ander.

Met ’n skok moes ek ontdek dat die “afskuwelike sonde van Sodom en Gomorra” nie die tradisionele verseksualiseerde interpretasie van Gen. 19:5–8 is nie. Die interpretasie beweer verkeerdelik dat die eise van die manne van Sodom om gemeenskap met Lot se gaste te hê, na die sonde van homoseksualiteit en die perversiteit van “sodomisering” verwys. Dit verwys inteendeel na die sonde van apatie en van spirituele onverskilligheid oor die nood en lyding van die verontregte as gevolg van materialistiese gulsigheid. Duidelik stel Eseg. 16:49–50 dit: “Jou suster Sodom se sonde was dat sy en haar dogters selftevrede en rustig in hoogmoed en oorvloed geleef het en vir die mens in nood en die arme niks oor gehad het nie. Hulle was hooghartig en het afskuwelike dinge gedoen” (Nuwe Afrikaanse Vertaling 1983).

Ek het weer na die eerste skildery oor die verlatenheidskreeu (derelictio) van Christus in die plakkerskamp van Cross-Roads gaan kyk. Ek besef toe dat die Christus-figuur ontblotend naak is. Dit is eintlik genderloos en nóg wit, nóg swart. Dit is nie verseksualiseer nie, maar spreek die morele gewete aan, terwyl dit ’n selektiewe moraliteit en die sonde van onverskilligheid met die skokkende taal van skandalon en skúbalon veroordeel as apatiese hooghartigheid. Die Cross-Roads-ikone resoneer steeds binne die raamwerk van die estetiese optiek van Goddelike afskuwelikheid, aakligheid, lelikheid en weerbarstige woede.

Die twee ikone het my egter verder bewus gemaak van die feit dat teologisering meer erns moet maak met God se medelye, soos gedemonstreer in ’n kruisteologie, naamlik dat solidariteitsmedelye mens bring by die pyn van skandalon en die dogmatiese “kanseltaal” van skúbalon. ’n Teopasgitiese hermeneutiek van die kruis trek mens in binne die gemors en vullis van menslike ellende; dit verbind jou onlosmaaklik aan die volgende paradoksale konsepte:

  • Weerstand en weerloosheid: Sonder weerloosheid ontaard weerstand in geweld.
  • Vloek en heil: Sonder heil word vloek dwase selfvernietiging.
  • Apatie en barmhartigheid: Sonder barmhartigheid word apatie sondige vyandigheid.
  • Staurus (kruis) en skúbalon: Sonder kruis word skúbalon (gemors) selfvernietigende mislukking; die mens word ontmasker as potsierlike, siellose mis-baksel.
  • Woede en genade: Sonder genade word woede boosheid.
  • God en kwaad: Sonder God word kwaad die hel (inferno) van selfverwyt.

 

8. Gevolgtrekking en skokkende navorsingsuitkoms

Die vuiltaal van weerbarstige f*ck (Manson: Ek was nooit goed genoeg nie), van mislukkende skúbalon (Paulus: Ek het God se gemeente vervolg en mense in U naam doodgemaak) is soms nodig as “kanseltaal” in akademiese teologisering. Dergelike terme verteenwoordig paradigmaskuiwe in Pauliniese teologisering. Sulke terme word poëtiese gestaltes van ’n nuwe kruis-pathos binne die pastorale praxis van heling; die konsepte verteenwoordig die radikaliteit van medelydende barmhartigheid. Dit help pastorale versorgers om te kan verstaan dat sorg ’n pynlike demonstrasie is van plaasvervanging, plekomruiling; die skerwe van stukkende mense sny die hart van medelye tot deernisvolle solidariteit (pathos).

Bediening van die passio Dei geskied onder die religieuse wete van vervloeking (κατάρας; damnun). Maar in die vervloeking vind daar volgens Luther ’n vrolike ruil plaas: God in my plek (McGrath 1985). En op dié wyse word die religieusiteit van meelydende sorg gedemonstreer as die opoffering van plekvervangende pathos-volle liefde.

In sy boek Moral blindness. The loss of sensitivity in liquid modernity, wys Zygmunt Bauman op die katastrofe van apatie en die sinlose neutraliteit van onverskilligheid (2013:120). In ’n ander publikasie, Life in fragments. Essays in postmodern morality (1995:56), lewer Bauman ’n pleidooi vir liefdevolle toewyding en sensitiewe medelye as teenvoeter vir die weerloosheid van menslike lyding. Om dit wat hy “being-aside” (diskriminerende eksklusiwiteit) noem, teë te werk, is nodig: “being-with” (solidariteit, medelye, saamhorigheid; ’n gevoel van behoort en vriendskap), en “being-for” (intiemheid en die ervaring van medemenslike welsyn) (Bauman 1995:52–3).

Met die skilderye in Cross-Roads wou ek uitbeeld hoe solidariteit in die sosiale lyding van armoede en diskriminerende ideologieë (soos in die geval van die apartheidsideologie) méér benodig as net wees-met, of wees-vir (affektiewe pathos). Beide moet gedra word deur ’n volhoubare, sorgsame medelye wat nie berus op bloot die affek en gemoedstoestand van empatie of simpatie nie. Daar moet gewaak word daarteen dat solidariteitsdemonstrasies nie bloot gewelddadige, emosionele protes is nie. Die duursaamheid van barmhartigheid beteken die offer van: in-die-skoene/plek-van-die-ander (“being-in-the-place-of”); omruiling wat die estetika van ’n pleitbesorger en priesterlike meelewing demonstreer (Abraham se pleiting vir die afskuwelike sondes van die Sodomiete). En al tree afstomping van ontferming (compassion fatigue) en die slytasie van omgee in, konfronteer die passio Dei pastorale versorgers met die ontiese feit: Pathos is wie ek in Christus reeds is; barmhartigheid (esplanchnizomai) is ’n ontiese grondtrek van eusebeia – die vroomheid van toewyding as demonstrasie van Christus se plek-omruilende pathos, van God se kruis-piëta.

Is dit die boodskap van die ikoniese kunswaarde van ’n estetika van Goddelike weerloosheid aan die kruis? Van die Cross-Roads?

Toe die kollegas in die fakulteit van die Universiteit van die Wes-Kaap in 1999 besluit het om wel weer met die Universiteit Stellenbosch se teologiese fakulteit samesprekinge te hervat, het die volgende gesprek voor die twee Cross-Roads-skilderye plaasgevind. Twee afgevaardigdes van UWK het na die skilderye bly kyk. Die een vra toe die ander: En wat soek hierdie goed in die Bloukamer van die Fakulteit Teologie op Stellenbosch? Ek het agter hulle gestaan. Hulle het nie geweet ek is die kunstenaar nie. Hul slotsom was: As sulke skilderye oor die lyding van swart mense in die heiligdom van hierdie wit fakulteit hang, dan moet ons dit tog oorweeg om met die samesprekinge voort te gaan.

As ek nie so skaam was nie, moes ek waarskynlik al destyds nie net binne-in my nie, maar ook luidkeels na buite, vir die ideologie van apartheid “f*ck” gesê het en ook my apatie oor baie jare as sonde bely het. Het ek tóé al maar my binnegoed laat esplanchnizomai net soos dié van die Vader toe Hy sien sy verlore seun kom terug! Moontlik sou my pastorale pleidooie dan vir die gediskrimineerde ander ’n dieper teologiese legitimiteit besit het. Nou besef ek daar is nie woorde vir deernis nie, net dermklanke in die buik van pathos en skerwe in ’n hart vol barmhartigheid.

Wat ons nodig het, is ’n praktiese teologie van die binnegoed geartikuleer deur die pathos van dermklanke.

The idea behind all God-human encounters is compassion – kenotic love as exemplification of promissio, epangelia, eschaton, parrhesia, ta splanchna, rm, and nn. Bowel categories in a theology of the intestines are used to describe the sincerity and the seriousness of God’s compassion and faithfulness. They refer to modality and to the how of God’s being-with. (Louw 2016:570)

 

Bibliografie

Aycock, D.M. (red.). 1988. Apathy in the pew. Ministering to the uninvolved. South Plainfield: Bridge Publishing.

Barr, A.H. 1975. Picasso: Fifty years of his art. Londen: Seeker en Warburg.

Bauerschmidt, F.C. 2013. Thomas Aquinas. Faith, reason and following Christ. Londen: Oxford University Press.

Bauman, Z. 1995. Life in fragments. Essays in postmodern morality. Oxford: Blackwell.

Bauman, Z. en L. Donskis. 2013. Moral blindness. The loss of sensitivity in liquid modernity. Cambridge: Polity Press.

Berkhof, H. 1973. Christelijk geloof. Nijkerk: Callenbach.

Brown, C. (red.). 1976. Dictionary of New Testament Theology, Vol. 2. Exeter: Paternoster Press.

Bosch, D.J. 1974. Het evangelie in Afrikaans gewaad. Kampen: Kok.

Brümmer, V. 2006. Brümmer on meaning and the Christian faith. Aldershot: Ashgate.

Charry, E. 1993. Academic theology in pastoral perspective. Theology Today, 50(1):90–104.

Cilliers, J. 2012. Dancing with deity. Re-imagining the beauty of worship. Wellington: Bible Media.

Clark, K. 1974. Civilisation. A personal view. Londen: British Broadcasting Corporation en John Murray.

Dante, A. 1909. The divine comedy. Inferno (hell), Canto III. New York: P.F. Collier.

De Gruchy, J.W. 2001 Christianity, art and transformation. Theological aesthetics in the struggle for justice. Cambridge: Cambridge University Press.

Dissanyake, E. 1992. Homo aestheticus: Where art comes from and why. New York: Free Press.

Eco, U. 2004. On beauty. Londen: Secker en Warburg.

—. 2007. On ugliness. Londen: Harvill Secker.

Feuerbach, L. 1904. Das Wesen des Christentums. Leipzig: Verlag Philipp Reclam.

Fretheim, T.E. 1984. The suffering of God. Philadelphia: Fortress.

Guhrt, J. 1976. Skandalon. In Brown (red.) 1976.

Häring, H. 1986. Het kwaad als vraag naar Gods macht en machteloosheid. Tijdschrift voor Theologie, 26(4):351–72. 

Huffington, A.S. 1988. Picasso. Creator and destroyer. New York: Simon en Schuster.

Inbody, T. 1997. The transforming God: An interpretation of suffering and evil. Louisville: Westminster John Knox Press. 

Kaunda, K. 1967. A humanist in Africa. Letters to Colin Morris. Londen: Longman. 

Levinas, E.M. 1968. Totalité et infini. Essai sur l'extériorité. La Haye: Martinus Nijhoff.

Liddell H.G. en R. Scott (reds.). 1968. Greek-English Lexicon. Oxford: Clarendon Press.

Louw, D.J. 2000. Meaning in suffering. A theological reflection on the cross and the resurrection for pastoral care and counselling. Frankfurt am Main: Peter Lang.

Louw, D.J. 2014. Icons: Imaging the unseen. On beauty and healing of life, body and soul. Stellenbosch: Sun Press.

Louw, D.J. 2016. Wholeness in hope care. On nurturing the beauty of the human soul in spiritual healing. Wien: Lit Verlag.

Manheim, K. 1966. Ideology and utopia. Londen: Routledge en Kegan Paul.

Manson, M. 2016. The subtle art of not giving a fck. A counterintuitive approach to living a good life. New York: HarperCollins.

Mathews, T.F. 1993. The clash of Gods. A reinterpretation of early Christian art. Princeton, Oxford: Princeton University Press.

Matzker, R. 2008. Ästhetik der Medialität. Zur Vermittlung von künstlerischen Welten und ästhetischen Theorien. Reinbeck bei Hamburg: Rowohlt Taschenbuch Verlag.

McGrath, A.E. 1985. Luther's theology of the cross: Martin Luther’s theological breakthrough. Oxford: Blackwell.

Migliore, D.L. 2004. Faith seeking understanding. An introduction to Christian theology. Grand Rapids, Cambridge: Eerdmans.

Mtetwa, S. 1996. African spirituality in the context of modernity. Bulletin for Contextual Theology in Southern Africa and Africa, 3(2):21–5.

Nietzsche, F. 1966. Thus spoke Zarathustra. Harmondsworth: Penguin.

O’Neal, T. 1988. Understanding the forces behind apathy. In Aycock (red.) 1988.Pattison, S. 2007. Seeing things. Deepening relations with visual artefacts. Londen: SCM Press.

—. 2013. Saving face. Enfacement, shame, theology. Farnham: Ashgate.

Pentcheva, B.V. 2010. The sensual icon. Space, ritual and the senses in Byzantium. University Park: The Pennsylvania State University Press.

Psalter Hymnal. 1959. Doctrinal standards and liturgy of the Christian Reformed Church. Grand Rapids: Christian Reformed Church.

Reader, J. 2008. Reconstructing practical theology. The impact of globalization. Aldershot: Ashgate.

Rutledge, F. 2015. The crucifixion. Understanding the death of Jesus Christ. Grand Rapids: Eerdmans.

Sartre, J.-P. 1943. L’être et le néante. Paris: Gallimard.

Spivey, N. 2006. Wie Kunst die Welt erschuf. Stuttgart: BBC Books.

Stalker, J. 1901. The seven deadly sins. Londen: Hodder & Stoughton.

Stone, K. 2003. Image and spirit. Finding meaning in visual art. Minneapolis: Augsburg Books.

Taleb, N.N. 2010, The black swan. The impact of the highly improbable. Londen: Penguin Books.

Van de Beek, A. 1984. Waarom? Over lijden schuld en God. Callenbach: Nijkerk.

Vick, K. en W.J. Hennigan. 2019. The world after Al-Baghdadi. Time, 11 November, ble. 6–7.

Welker, M. 1979. Diskussion über Jürgen Moltmanns Buch “Der gekreuzigte Gott”. München: Chr. Kaiser Verlag.

 


LitNet Akademies (ISSN 1995-5928) is geakkrediteer by die SA Departement Onderwys en vorm deel van die Suid-Afrikaanse lys goedgekeurde vaktydskrifte (South African list of Approved Journals). Hierdie artikel is portuurbeoordeel vir LitNet Akademies en kwalifiseer vir subsidie deur die SA Departement Onderwys.


The post Die estetika van ’n <i>skreeu</i>-lelike, “weerlose God”. Skilderkuns as medium in prosesse van teologies-paradigmatiese transformasie – ver-<i>beeld</i>-ende stank (<i>skúbalon</i>) vir skandalige on-dank (<i>skandalon</i>) appeared first on LitNet.

The aesthetics of divine ugliness: The portrayal of a vulnerable God in the art of painting within processes of paradigmatic transformation in theological thinking – the disgust of filth (skúbalon) and the scandal of malediction (skandalon)

$
0
0

Abstract

In the dogmatic tradition regarding the essence of God’s involvement with the human predicament of suffering, categories from the Roman and Greek culture are applied most of the time. An example is to be found in the Psalter Hymnal of the Reformed Christian Church: “And as God Himself is most wise, unchangeable, omniscient, and omnipotent, so the election made by Him can neither be interrupted nor changed, recalled, or annulled; neither can the elect be cast away, nor their number diminished.” In this regard, depictions of Christ in traditional iconography are used to bolster Christianity against paganism and heresy. In many doctrinal formulations Christ is portrayed with “omni-” categories like omnipotence and omniscience. God’s El Shaddai (the Hebrew wisdom tradition regarding the splendid majesty of Yahweh’s grace) had been translated into pantokrator categories that depicted Christ as a Roman Caesar. When Christianity was threatened, a kind of divine imperialism was introduced to justify a clerical ecclesiology and maintain dogmatic stances regarding social life problems.

When referring to, for example, the will of God, denominations in their official confessions tend to make use of the very positivistic principle of the uncompromising, rigid will of God (impassibilitas Dei). It happened in the way churches made use of a “natural theology”, specifically in the theological justification of the apartheid ideology. Cultural and racial separation was promoted by referring to diversity in creation. This “natural” kind of hermeneutic was used in order to maintain a discriminatory approach. The need for new paradigms in hermeneutic of human suffering, and the necessity of ideological changes, indicate that fixed formulae used to describe doctrinal stances failed to foster paradigmatic changes. This is why the article proposes the aesthetics of an optic gaze in visual arts as a possible medium for meaningful change. Two paintings from the series Cross-Roads (about the presence of a suffering God in a squatter camp on the Cape Flats) are used to foster a theology of compassionate being-with. To strengthen the applicability of a theopaschitic approach (the passio Dei), two obscure concepts from Pauline thinking (skandalon and skúbalon) are used to promote a paradigm shift, namely from a metaphysical model to a paschitic model of theologising in pastoral caregiving.

Keywords: a practical theology of filthy disgust; aesthetics in visual arts; the optic of a loving gaze; the vulnerability of a suffering God; theopaschitic theology

 

Lees die volledige artikel in Afrikaans

Die estetika van ’n skreeu-lelike, “weerlose God”. Skilderkuns as medium in prosesse van teologies-paradigmatiese transformasie – ver-beeld-ende stank (skúbalon) vir skandalige on-dank (skandalon)

The post The aesthetics of divine ugliness: The portrayal of a vulnerable God in the art of painting within processes of paradigmatic transformation in theological thinking – the disgust of filth (<i>skúbalon</i>) and the scandal of malediction (<i>skandalon</i>) appeared first on LitNet.

Toyota US Woordfees 2020: Chronologiese skrywersfees

$
0
0

Schalk Schoombie, Steward van Wyk en Olivia Coetzee is sommige van die deelnemers aan vanjaar se skrywersfees.

Die Toyota US Woordfees 2020 vind vanaf 6–15 Maart 2020 in Stellenbosch plaas.

Ten einde hulle daaglikse bywoning te beplan, is hier ’n skakel na vanjaar se chronologiese skrywersfees.

Laai die chronologiese boekeprogram hier af.

Hier is die fees se volledige program:

Toyota US Woordfees 2020: volledige program

The post Toyota US Woordfees 2020: Chronologiese skrywersfees appeared first on LitNet.


Opkomende liriekskrywers gesoek vir mentorskap-program | Emerging songwriters wanted for mentorship programme

$
0
0

Die Jakes Gerwel Stigting en die Suidoosterfees bied vanjaar vir die eerste keer ’n mentorskap-program aan vir opkomende liriekskrywers en sangers wat oorspronklike liedjies in Afrikaans, Engels of isiXhosa skep. Dié program word aangebied as uitbreiding van die Suidoosterfees se bestaande Talentsoektog-kompetisie. Met hierdie kompetisie word jaarliks gesoek na nuwe, ongeslypte talent in die Wes-Kaap – hetsy in drama, sang of dans.

Vir die mentorskap-program is die stigting en die fees spesifiek op die uitkyk vir jong kunstenaars wat vars en opwindende lirieke skryf. Die vyf belowendste liriekskrywers sal deur ’n paneel van onafhanklike kenners tydens ’n finale rondte aangewys word. Daarna sal intensiewe mentorskap oor ’n tydperk van drie weke in die stigting se Paulet-skrywershuis op Somerset-Oos aan die vyf kandidate gegee word. Die Paulet-skrywershuis is die sentrum van waar die stigting sy strewe verwesenlik om skrywerstalent in die breedste sin denkbaar te bevorder, en om nuwe stemme te bring na ons ryk literatuur.

Liriekskrywers wat in dié opwindende geleentheid belangstel, moet teen nie later nie as 28 Februarie hulle liedjies en/of videogrepe na Robyn September (Robyn.September@media24.com) in die Suidoosterfees-kantoor stuur.

Die semi-finale sal op 28 Maart in die Waterfront plaasvind, waarna die finaliste aangewys word en mekaar die stryd sal aansê by die Suidoosterfees op Saterdag 2 Mei in Kaapstad se Kunstekaap. Skrywersverblyf in Somerset-Oos word aan die liriekskryf-wenners verskaf van 3 tot 24 Augustus. Die Jakes Gerwel Stigting sal die reis- en verblyfkoste, asook drie maaltye per dag, aan die opkomende kunstenaars voorsien.

Frazer Barry, bekend as musikant, skrywer en voorsanger van Tribal Echo, sal as die mentor optree. Barry is besig om ’n klinkende reputasie in die Nederlande op te bou, waar hy onder meer by die Festival voor het Afrikaans opgetree het. Hy het ook die klankbaan geskep vir die gevierde teaterstuk Krotoa: Eva van die Kaap.

Opkomende kunstenaars sal nie net leiding ontvang in die skep en herskryf van hul lirieke nie; hulle kry ook die geleentheid om saam met Barry aan ’n produksie te werk wat in 2021 by die Suidoosterfees sal debuteer. Uiteenlopende aspekte van die vermaaklikheidsbedryf – onder meer hoe om ’n loopbaan op die been te bring, ’n album op te neem, netwerke te verbreed en ’n nis in die mark te vind – sal tydens die residensie aangespreek word.

Die Suidoosterfees vind vanjaar vanaf 27 April tot 3 Mei plaas. Die volledige feesprogram is beskikbaar by www.suidoosterfees.co.za. Meer inligting oor die Jakes Gerwel Stigting se projekte, asook die Paulet-skrywershuis, is beskikbaar op www.jgf.org.za. Navrae oor die projek kan gerig word aan Theo Kemp, die stigting se uitvoerende direkteur, by theo@jgf.org.za.

***

In 2020 the Jakes Gerwel Foundation and the Suidoosterfees introduce a mentorship programme for emerging songwriters and singers who create original songs in Afrikaans, English and isiXhosa. This programme is an extension of the Suidoosterfees’ existing Talent Search competition. The aim of this venture is to identify and develop raw new talent in the Western Cape annually, be it in drama, song or dance.

With this mentorship programme the foundation and the festival will search for young artists who write fresh and exciting lyrics. The five most promising songwriters will be identified by a panel of independent experts during a final round at the festival. The five candidates will then undergo an intensive three-week mentorship programme at the foundation’s Paulet Writers Residence in Somerset East. The Paulet Writers Residence serves as the centre from where the foundation realises its vision to promote and develop new writing talent in the broadest sense imaginable, and to add new voices to our outstanding body of literature.

Songwriters who are interested in this exciting opportunity, should send their songs and/or video clips to Robyn September (Robyn.September@media24.com) at the Suidoosterfees by 28 February at the latest.

The semi-finals will take place at the Waterfront on 28 March, after which finalists will be chosen for the final round at the Suidoosterfees in Cape Town’s Artscape on Saturday 2 May. Accommodation for the five winning candidates in Somerset East will be provided from 3 to 24 August. The Jakes Gerwel Foundation will cover the emerging artists’ travel and accommodation expenses, as well as three meals per day.

Frazer Barry, renowned musician, writer and lead singer of Tribal Echo, will act as mentor. Barry is currently gaining a sterling reputation in the Netherlands where he often performs – recently at the Festival voor het Afrikaans. He has created the soundtrack for the celebrated Krotoa: Eva van die Kaap.

Emerging artists will not only receive guidance in creating and refining their lyrics; they also enjoy the opportunity to collaborate with Barry on a production that will debut at the 2021 Suidoosterfees. Various aspects of the entertainment industry, like establishing a career, recording an album, creating a network and finding a niche in the market, will be covered during the residency.

The Suidoosterfees will run from 27 April to 3 May 2020. A complete festival programme is available at www.suidoosterfees.co.za. More information about the Jakes Gerwel Foundation and its Paulet Writers Residence can be found on www.jgf.org.za. Enquiries about the project can be directed at Theo Kemp, the foundation’s Executive Director: theo@jgf.org.za.

The post Opkomende liriekskrywers gesoek vir mentorskap-program | Emerging songwriters wanted for mentorship programme appeared first on LitNet.

Skrywersonderhoud: Nataniël oor kunstenaarskap en Kyk na my

$
0
0

Remona Voges het met Nataniël oor  sy boek Kyk na my en oor wat dit beteken om ’n kunstenaar te wees, gesels.

Kyk na my – Herinneringe aan ’n kindertyd
Nataniël
Uitgewer: Human & Rousseau
ISBN: 9780798179935

Nataniël, jy het al talle verhoogwerke, resepteboeke, rubrieke en ander boeke agter jou naam. Wanneer het jy aan die idee gekom om ’n memoir oor jou kinderlewe te skryf? En hoekom wou jy spesifiek op jou kinderjare fokus, eerder as jou lewe as volwassene?

My uitgewer het my herhaaldelik gevra om ’n boek oor my kindertyd te skryf – ek sou nooit self daaraan gedink het nie. Ek het deur die jare soveel stories op die verhoog vertel dat ek nie gedink het daar was nog iets om oor te skryf nie. Ek dink nie daar sal ooit ’n boek wees oor my volwassene-lewe nie – ek het eers twee jaar terug begin om te lewe. Die afgelope paar dekades het ek net gewerk, niks anders nie. Ek het ’n handjievol vriende en woon op my eie in absolute stilte. Daar kan niks méér vervelig wees om oor te skryf nie.

Nataniël in die laerskool (foto: verskaf)

Jy is een van Suid-Afrika se bekendste en mees geliefde storievertellers. Tog kan dit nie maklik wees om terug te klim in die vel van ’n kind of om ’n storie eerstehands deur die oë van ’n jongeling te vertel nie. Wat het jy gedoen om jouself weer terug in jou kinderskoene te sit?

Ek is altyd in my kinderskoene. Dit was die tyd toe ek die wêreld ontdek het, besluit het wat ek wil doen en tyd met my ouma – die mees opwindende mens wat ek nog ooit geken het – kon deurbring. Sodra jy ouer word, word verantwoordelikheid, finansies, verpligtinge en die smagting na prestasie ’n realiteit. Dis geen mense se keuse nie; dis wat die omgewing en oeroue reëls op jou afdwing.

Nataniël as kind by sy sandpunt (foto: verskaf)

Dit is baie duidelik uit die boek en ook in jou ander werk dat jou verbeeldingswêreld reeds as kind aangewakker en gevoed is. Dink jy dat vandag se kinders besig is om die vermoë te verloor om hul verbeelding te gebruik? Indien wel, wat kan ouers doen om dit te voorkom?

Bitter min ouers het ’n benul hoe groot die verbeelding en die waarnemingsvermoë van ’n kind is. In ’n klein koppie gaan meer aan as in ’n hele woonbuurt. As ouers hulle kinders toelaat om te ontdek, hulle foute te maak, hulle fantasieë te probeer uitleef en ook nie skaam te wees oor ’n eiesoortige kind nie, sal daar soveel meer emosioneel gesonde mense op die aarde rondloop.

Jy skryf in die boek daaroor, maar kan jy ons ’n bietjie vertel oor die foto van jou op die voorblad?

Dié foto van Nataniël verskyn op die voorblad van Kyk na my (foto: verskaf)

Ek het die foto ontdek eers nadat ek daaroor geskryf het en besluit om dit op die voorblad te gebruik. Ek was deel van twee operettes op laerskool en dit het my hele lewe verander. Die tweede een was met meer moeite aangebied, maar vir die eerste een moes ons self met ons ouers die kostuums maak. Ek was in my kamerjas met ’n papierkroon en ’n plastiekswaard – dit was die lelikste kostuum op aarde, maar ek was in vervoering en het dit vir dae gedra en my pa forseer om ’n foto te neem.

Dié vraag sluit aan by die vorige een. Jou liefde vir out there-kostuums het reeds op ’n baie jong ouderdom na vore gekom. Wat is van jou mees gewaagde, geliefde of onvergeetlike kostuums? Kan jy ’n bietjie daaroor vertel?

Nataniël op die verhoog (foto: verskaf)

My kostuums is soos lewende wesens – ek het nog almal en elkeen was op sy tyd my favourite. Jou nuutste kostuum moet altyd jou beste wees, anders is daar fout met jou werk. Ons probeer om altyd die voriges te oortref, al moet sommiges eenvoudig wees om by die vertoning te pas. Ek het al in alles verskyn, van g-strings tot 15 meter-jasse. In my beginjare was ek baie dapperder as nou – ek was soms verstom dat gehore bly sit het nadat ek met my verskriklik skraps goed verskyn het. Ek kon hulle nie eens in die argief hou nie, dit was net ’n rek of ’n strik of ’n blaar. Ek het ’n versameling kostuums wat op die oomblik ’n hele gebou beslaan en het geen idee wat eendag daarmee gaan gebeur nie!

Nataniël in een van sy kostuums (foto: verskaf)

Ek dink hierdie is ’n vraag waaroor baie van jou aanhangers wonder: Hoe onthou jy alles in soveel besonderhede? Herbesoek jy die plekke waaroor jy skryf? Of hou jy ’n joernaal aan? Het jy ’n fotografiese geheue? Of is jou hoofbestanddeel ’n gesonde skoot verbeelding?

Ek skryf altyd met verbeelding. Genoeg mense skryf die blote realiteit, maar my geheue is visueel, ek vergeet nooit die detail van iets wat my geroer het nie. Ek kan egter glad nie name onthou nie, nie mense, boeke, liedjies, geregte of plekke nie. Daarvoor moet ek elke keer familie of kennisse bel.

Ek weet dat daar baie is, maar as jy moet kies: Wat is een van jou kosbaarste herinneringe uit jou kinderjare?

Ek dink die ritte saam met Ouma en Oupa van Wellington na die Paarl Die begraafplaas  was net vyf minute ver, maar ons het altyd daar stilgehou en dan het Ouma padkos uitgepak. Vyf minute nadat ons vertrek het. Plaasbrood, frikkadelle, aartappelslaai en koffie met beskuit. Ons het op opvoustoele langs die grys Volksie gesit terwyl die heelal verbyjaag.

Nataniël as skoolseun (foto: verskaf)

Jy is ’n ongelooflik produktiewe kunstenaar. Het jy ’n baie streng roetine as dit by jou werk kom? Hoe lyk ’n werksdag in die lewe van Nataniël?

Ek staan bitter vroeg op en begin skryf. Sodra die eerste personeellid opdaag, is die stilte verby. Soggens bestaan uit vergaderings, repetisies en kooksessies vir nuwe projekte. Namiddae is ek op pad iewers heen vir ’n vertoning; snags kom ek gedaan by die huis, lees vir ’n uur uit een of ander boek en slaap dan vir ’n paar uur. Sondae is ek stoksielalleen om te herstel. Werk is my ding; dis wat ek die meeste geniet.

Vir iemand wat so mooi skryf, is dit kwalik ’n verrassing dat jy self ook baie lees. Watter boeke het jy onlangs gelees en watter sou jy aanbeveel?

Ek lees veral klassieke romans, báie geskiedenis- en debuutromans. Ek lees net Engels, sodat ek my skryfwerk kan verbeter. Op die oomblik lees ek Barbara Kingsolver se Unsheltered en Michael King se Lorien lost.

Dit het my by die lees van jou boek opgeval dat jy baie min oor maatjies of jou sibbe geskryf het. Het jy dit doelbewus so gedoen omdat jy met tye ’n soort randfiguur was? Of het ouer mense jou nog net van altyd af meer interesseer?

Kinders en jongmense het my van kleins af verveel; hulle het te min al beleef. Ouer mense – en hoe ouer hoe beter – was nog altyd fassinerend; hulle het wysheid (nie almal nie, maar dié wat ek opsoek), is vreesloos, eksentriek, reguit en vertel stories; hul huise is vol stokou boeke, voorwerpe uit die hele wêreld en klere wat niks met modes te doen het nie.

Hoe het jy die proses ervaar om op so ’n intieme wyse oor jou kinderjare te skryf? Was dit vir jou moeilik? Voel dit vir jou asof jy deur hierdie skryfproses ’n soort genesing gevind het of sekere dinge aanvaar het wat jy as kind miskien nie kon kleinkry nie?

Ek het gereeld gehuil omdat ek mense of oomblikke mis, nie omdat daar steeds ellende is nie. My storms is jare gelede al in terapie deurleef. My kindertyd was innerlik nie maklik nie. Die wêreld was en is steeds vreemd, maar daar was tye van absolute veiligheid en warmte en fantasie wat in ’n hedendaagse omgewing feitlik onmoontlik is om te herskep.

As kind was daar ’n hele klomp goed wat jou bang gemaak het. Wat maak jou vandag as grootmens bang?

Regerings en politiek. Die aarde word nie regeer deur slim mense nie – slimmes is besig met beter dinge as politiek. Politiek is georganiseerde boosheid, dis nie ’n “rigting” of ’n “talent” nie. Daar moet wragtig groot fout wees met iemand wat dink dis ’n waardige loopbaan. Die onnoselheid, gulsigheid, skelmheid, selfbeheptheid, verwoesting, wreedheid, selfsug, grootheidswaan en ooglopende aakligheid vervul my met vrees. Vieslike spul wêreldwyd.

Jy doen vanjaar ’n show by die Woordfees. Kan jy ons meer daaroor vertel?

Ek is volkome ongemaklik by feeste, almal weet dit. Die onnatuurlike die teater-bubble en die samedromming gee my erge engtevrees, maar so af en toe val my suiker en dan oortuig iemand my om ja te sê. Ek het besluit om iets met net plesier en so min diepte as moontlik op die verhoog te sit, dus musiek uit die swing-era, fantastiese musikante, baldadige stories en soveel aanskoulike kostuums as moontlik.

 

Kom luister by die Toyota US Woordfees na
"Nataniël: Hoekom hulle swing": 10-12 Maart by die HMS Bloemhof Sentrum.

 

Met watter ander projekte hou jy jou op die oomblik besig? Kan lesers uitsien na nog ’n boek – miskien hierdie keer oor jou meer riskante adolessentejare of die nie-so-gemiddelde middeljare?

Daar verskyn ’n boek aan die einde van die jaar, maar beslis nie outobiografies nie. Ek en die pianis Charl du Plessis is vanjaar 20 jaar saam op die verhoog, en daar is verskeie konserte deur die jaar om dit te vier. Daar is ook ’n nuwe televisiereeks waaraan ek binnekort begin werk.

Die kunste is nie altyd ’n maklike bedryf om in te wees nie. Watter raad het jy vir jong kunstenaars?

Emigreer. Gaan oorwin die planeet en maak groot geld.

The post Skrywersonderhoud: Nataniël oor kunstenaarskap en <em>Kyk na my</em> appeared first on LitNet.

Auschwitz-Birkenau: 75 jaar ná die bevryding

$
0
0
 

Hongaarse Jode, vroue en kinders, stap na hulle dood in Auschwitz-Birkenau. Die foto kom uit die Auschwitz-album met sy 193 foto’s wat ’n rekord is van wat in die kamp plaasgevind het in die oorlog. Foto: Wiki Commons.

Op 27 Januarie 2020 is dit 75 jaar nadat die reuse-konsentrasiekamp Auschwitz-Birkenau deur troepe van die Rooi Leër bevry is. ’n Doodskamp waarvan wêreldleiers baie bewus was en niks aan gedoen het nie. Maar voor dié bevryding en daarna het vele ander gebeure afgespeel waarvan daar eers later gehoor is, skryf Elsabé Brits.

’n Vrou wat die Joodse volksmoord oorleef het, het byna op die dag en datum 15 jaar gelede vir my vertel van dit wat haar agtervolg. Nie die honger, dors, koue, vrees of verlies val ál haar familielede nie, maar van oorlewing.

Sy was maar 17 jaar oud en ’n gevangene in Treblinka, noordoos van Warskou – een van die Nazi’s se ses uitwissingskampe. ’n Vrou met wie sy daar bevriend geraak het, het vir haar gesê sy het gesien haar naam is op die doodslys vir die volgende dag. Sy het die lys self getik waar sy in die kantoor onder dwang vir die SS gewerk het.

Dit was die lys met name vir die gaskamer. Almal het daarvan geweet. Daar was nie meer gevoel in haar oor nie. Nie juis nie. Of dan nie wat sy kon beskryf nie. Sy het net die vreeslike dors onthou.

Die volgende oggend toe hulle moes aantree, toe almal getel moes word en die lys name uitgeroep word, is haar naam nie geroep nie.

’n Graf waarin die laaste slagoffers van Auschwitz-Birkenau ter ruste gelê is. Foto: Met vergunning van Auschwitz-Birkenau-gedenkmuseum.

Haar naam is met iemand anders s’n omgeruil. Sy het nooit die vrou daaroor uitgevra nie. Hulle het nooit, ooit daaroor gepraat nie. Wat sê ’n mens tog?

Kort daarna is sy oorgeplaas na Auschwitz-Birkenau. Sy was net ’n paar maande daar toe die Nazi’s op 20 Januarie die krematoria  en gaskamers begin opblaas het om hulle misdade te probeer wegsteek, hoewel sy nie dié datum geweet het nie. Van die store met die mense se besitting wat hulle gesteel het, is aan die brand gesteek, maar daar was so baie, nie naastenby alles kon verwoes word nie.

Toe begin hulle die mense wegneem. Weswaarts. Sowat 56 000 mense is in treine en te voet aangejaag. Diegene wat in die bitter koue kon loop, duisende na Loslau 63 km ver,  en ander na Gleiwitz 55 km ver. Vandag weet kenners die temperatuur was tot –20° C. Ander kampe is ook so ontruim. Dit staan bekend as die Doodsmars.

Tussen 9 000 en 15 000 is doodgeskiet of het net ineengesak. Liggame het langs die pad gestrooi gelê.

Sy het dit gemaak en is uiteindelik deur die Russe na die Rooikruis geneem, waar sy later weer dié vrou in ’n tentedorp gesien het. Die een wat gegee en geneem het.

Dit was daardie hunkering om te lewe, en die kontras van skuld waarmee sy uiteindelik moes saamleef.

’n Lugfoto van die Nazi-doodskamp Auschwitz II-Birkenau. Daar is nog oorblyfsels van die houthutte waarin mense gebly het, met net een wat staan vir besoekers om te sien. Foto: Met vergunning van Auschwitz-Birkenau-gedenkmuseum.

Op 27 Januarie 1945 toe die Rooi Leër by Auschwitz-Birkenau aankom, was daar nog 9 000 mense in die kamp oor, mense wat nie op die Doodsmars geneem is nie en wat van 21 Januarie af aan hulself oorgelaat was. Duisende is net voor die vertrek van die SS doodgemaak.

Die mense is dadelik uit die kamp en na ’n veldhospitaal van die Rooikruis geneem. Onder hulle was 700 kinders. Net 700 was oor van die 230 000 kinders wat soontoe gestuur was.

Die Nazi’s het minstens 1,3 miljoen mense van sowat 20 nasionaliteite na dié kamp gestuur. Van dié is 400 000 geregistreer en in die kamp opgeneem. Altesame 900 000 is vermoor binne ure nadat hulle daar aangekom het. 90% van dié wat vermoor is, was Joodse mense – totaal is sowat ses miljoen.

Een ding wat ’n mens van die Nazi’s moet verstaan, is dat hulle konsentrasiekampe én spesifieke uitwissingskampe gehad het. Hulle het kampe vir almal gehad: miljoene mense, van wie die groot meerderheid Joodse mense was – Pole, Serwiërs, Russe, gay mense, enige gestremdes al was hulle Duits, politieke vyande, intellektuele, kriminele, priesters en Roemeniërs, en enigeen wat hulle as “antisosiaal” geag het.

’n Lugfoto van die reuse-Nazi-doodskamp Auschwitz II-Birkenau met die treinspoor in die voorgrond, wat ’n mens ’n idee gee van hoe groot die plek is. Met vergunning van Auschwitz-Birkenau-gedenkmuseum.

Daar word geraam dat daar teen die einde van die oorlog 1 200 kampe was – meestal is mense onder haglike omstandighede vir dwangarbeid gebruik. Hulle is dood van die honger, siekte, uitputting, koue – alles wat met dwangarbeid saamgaan. Mense is ook baie keer by dié kampe doodgeskiet as hulle te swak geraak het.

Nog voor van die Joodse mense weggestuur is na die kamp, is honderde duisende van hulle dood in die ghetto’s waar hulle geforseer is om te woon, en jare lank al nie meer kon werk vir ’n inkomste nie. Volgens die Jewish Virtual Library word daar geraam dat 1,3 miljoen Jode deur die Nazi’s doodgeskiet in gebiede wat hulle in die Sowjetunie beset het.

Die spesifieke uitwissingskampe met die uitsluitlike doel om dood te maak was: Chelmno (Kulmhof), Belzec, Sobibór, Treblinka, Majdanek, en Auschwitz-Birkenau. Die kampe het weer verskeie subkampe gehad.

Nog voor Auschwitz-Birkenau bevry is, is ook Majdanek net buite Lublin deur die Russe gevind. Hulle het op 23 Julie 1944 as’t ware daarop afgekom. Daar was ’n paar honderd uitgeteerde en siek oorlewendes, maar genoeg bewyse van oorlogsmisdade. Soos die 800 000 paar skoene, dokumente en hope en hope klere. En die alomteenwoordige krematoria en gaskamers.

Hulle het ’n kommissie van ondersoek aangestel en selfs Westerse media na die afgryslike toneel geneem.  Foto’s en films is geneem. Klein beriggies het in koerante verskyn. Daar is geskryf van gaskamers, nadat sogenaamde bewerings toe baie lank reeds oral genoem is.

Maar geen opslae is gemaak nie. Niks nie.

’n Oorspronklike bord wat nog te sien is by Auschwitz-Birkenau. Foto: Met vergunning van Auschwitz-Birkenau-gedenkmuseum.

Wou die gewone mense dit nie glo nie? Of wou hulle nie die Sowjetunie glo nie? Of het hulle nie omgegee nie? Die leiers van die Geallieerde Magte het beslis van die bestaan van die kampe geweet, as die gewone mense dit dan nie geweet het nie, of nie wou glo nie.

Die Geallieerdes was bewus van die vreeslike omvang van die Joodse volksmoord meer as twee jaar voordat die geskiedenisboeke sê hulle het geweet. Nuwe materiaal wat in 2019 deur die Verenigde Nasies bekend gemaak is, wys leiers in Amerika, Brittanje en die Sowjetunie het minstens reeds in Desember 1942 geweet dat twee miljoen Joodse mense reeds vermoor is, en nog vyf miljoen se lewe is in gevaar.

Dié materiaal, wat vir byna 75 jaar nie gesien is nie, was iewers in ’n sogenaamd vergete argief. Kyk http://www.unwcc.org/2019/09/17/early-public-diplomacy-on-the-holocaust-the-united-nations-review. Ten spyte daarvan is baie min deur leiers gedoen om mense te red.

Daar is ’n verslag van ses bladsye wat ontelbare insidente vermeld. Syfers, plekke, alles. “The Germans have, in fact transformed Poland into a vast centre for murdering Jews, not only those of Polish Nationality, but those of other European nationalities too.”

Op 10 Desember het die ministers van buitelandse sake van 26 lande ook ’n dokument, “The mass extermination of Jews in German occupied Poland”, van die Poolse regering wat in ballingskap was, is ontvang.

Dit het die bevryding van Bergen-Belsen deur die Britte geverg om die wêreld uiteindelik aandag te laat skenk. Al was dit te laat. So lank ná die tyd. Op 15 April 1945. Daar was 60 000 sterwende mense wat hulle begroet het.

Buite die hutte was daar hope en hope liggame. Soldate was so desperaat om die mense te help dat hulle hulle dadelik rantsoene begin gee het, wat die mense nog siekter gemaak het. Sommige het daarvan gesterf. Die primêre taak was om lewens te red.

Die bevryding van Bergen-Belsen is een van die mees aangrypende verhale in die geskiedenis van die oorlog. Die tragiese deel is dat 14 000 mense dood is selfs ná die bevryding, ten spyte van groot pogings om te help.

Majoor Dick Williams was een van die eerstes wat daar aangekom het en hy beskryf die hele kamp met 60 000 mense as doodstil. Daar was geen geluid nie. Die son het geskyn, maar daar was net stilte. Sommige mense het op die plek heengegaan toe hulle opstaan.

Ek het nie die vermoë om die verhaal van Bergen-Belse te vertel nie. Luister eerder beide uitsendings van Richard Dimbleby van die BBC. Maak jou oë toe en luister net. Dít is hoe dit regtig was.

Waarom, vra sommige mense, moet ons 75 jaar ná die tyd steeds onthou en herdenk? Of selfs die Tweede Wêreldoorlog. Oortuig my eerder hoekom nie. Veral omdat die leiers van die tyd, mense wat ’n mens sou meen respek moet verdien – figure soos Franklin Roosevelt en Winston Churchill – niks gedoen het nie. Daar is selfs lugfoto’s geneem van sommige van dié kampe. Baie regerings het bloot hulle grense vir mense wat vir hulle lewe probeer vlug het, gesluit.

Dalk is ’n apologie in orde? Al was dit nie my of jou skuld nie.

Jy wis nie geskiedenis uit of vergeet dit nie. Eenvoudig omdat dit die storie van elkeen van ons is. Dit is die storie van mense, van ons almal.

Ons, en ons kinders en hulle kinders, moet juis hiervan weet. Nie net oor die afgryslike wreedheid en diskriminasie nie, maar ook omdat baie mense met baie mag niks gedoen het nie. En omdat daar gewone mense was, behoorlike rolmodelle, wat wel baie gedoen het.

 

Bronne

http://auschwitz.org/en/;  https://theconversation.com/the-forgotten-concentration-camp-left-off-the-holocaust-tourism-circuit-29432 http://www.majdanek.eu/en#; https://www.jewishvirtuallibrary.org https://www.iwm.org.uk/history/the-liberation-of-bergen-belsen http://www.unwcc.org/unwcc-archives

 

Lees ook:

Nou in die verlede: Gedenk Auschwitz, Frans Fischer en Ferdinand aus der Fünten

The post Auschwitz-Birkenau: 75 jaar ná die bevryding appeared first on LitNet.

Is South Africa ready for public unisex toilets?

$
0
0

On Friday, 17 January 2019 DA Western Cape leader Bonginkosi Madikizela took to Facebook to voice his opinion on unisex toilets. Causing quite the uproar, Madikizela proposed that we should do away with male and female toilets at Cape Town International Airport and should have only unisex toilets.

In his Facebook post he stated: “I find it backwards, discriminating and stereotyping that just because you are a male, you must be searched by a male, if you are female you must be searched by a female. What about members of the LGBTQI+ (lesbian, gay, bisexual, transgender, queer or questioning, and intersex)? I am going to challenge this. We must also do away with male and female toilets, we must have unisex toilets.”

His proposal has been met with much criticism from social media users, arguing against unisex toilets on the basis of religion, gender-based violence, privacy and freedom and security of the person.

Various constitutional rights come into play in this regard. Section 10 of the South African Constitution provides that everyone has inherent dignity and the right to have their dignity respected and protected. In this regard it can be argued that it would be in the interest of the LGBTIAQ+ community to provide gender-neutral bathrooms in order to provide inclusivity in relation to one’s basic human needs. Should unisex toilets be implemented, the option for separate male and female toilets should continue to be available too. However, this solution, too, comes with its own issues, as this may raise the issue of stigma being attached to LGBTIAQ+ community members making use of the gender-neutral bathroom. 

In terms of section 9 of the Constitution everyone has the right to equality. One could argue that in order to achieve gender equality the implementation of gender-neutral restrooms could bridge the gap and create a more inclusive space, specifically for transgender persons, who often endure threats and violence for using the “wrong” bathroom or are even denied access to the bathroom based on their gender identity. In this regard the implementation of gender-neutral bathrooms would not only give effect to transgender persons’ right to equality, but also their right to human dignity.

Section 12 of the Constitution provides that everyone has the right to freedom and security of the person as well as the right to bodily and psychological integrity. Unisex toilets create a space where a grown man and a teenage girl could be alone in an empty facility. Not only does this trigger all alarms in terms of sexual assault, but also creates a breeding ground for physical assault, theft and human trafficking. While it may be argued that all of this could occur in a gendered bathroom and that there is nothing stopping someone from entering a bathroom of the opposite sex, the likelihood of these incidents becoming a probability are heightened by the convenience of having both genders making use of a confined space at the same time.

The right to privacy is enshrined in section 14 of the Constitution. Going to the bathroom can be an intimate and private affair. From a tummy bug and food poisoning to the echoing sound of a sanitary towel opening, many prefer as much privacy as possible when in the restroom. The idea of the opposite sex sharing in such intimate experiences can be very daunting, in the same way that going to the bathroom at your friend’s house can be. Unisex restrooms may lead to an increase in people experiencing paruresis, also known as shy bladder syndrome, which is a type of phobia whereby a person is unable to urinate in the real or imaginary presence of others. Ultimately, should unisex bathrooms be implemented, the privacy of all persons should be of great importance, and thus the toilet should be structured in a manner that provides as much privacy to the individual as possible.

Section 15 of the Constitution provides for freedom of religion, belief and opinion. If unisex bathrooms are implemented in public spaces, they will not be as inclusive as they hope to be, as religious groups such as Muslims and Orthodox Jews would not be able to utilise unisex facilities, consequently denying them a basic human service. In the Muslim community, women wash before each of the five daily prayers and require a safe space to remove their hijab, which would not be possible in a gender-shared space. Some Orthodox Jewish women are prohibited from sharing public restrooms with male strangers, particularly during their menstrual cycle. As South Africa is filled with tourists, it is important that our public facilities be suitable not only for locals, but also for tourists. Thus in order to create a welcoming environment to our tourists, we need to ensure that their basic needs are also accommodated.

Section 24 of the Constitution provides that everyone has the right to an environment that is not harmful to their well-being. In light of the anti-gender-based violence movement and increase in femicide, and with the “Dros rapist” incident still so fresh in our minds, females are feeling less and less safe in public spaces. It is no secret that there is a war on women. In a country where a woman is murdered every three hours, one really should consider the safety implications of unisex toilets. The restroom is often a place where females seek refuge, compliment and confide in complete strangers, while maybe even asking the kind stranger whether they have a spare tampon in a time of need. It is also frequently used as a place to breastfeed privately or change a baby’s diaper. While all of this is completely natural, society still places shame on women for these things and thus has made it almost imperative that these necessary natural parts of life be done in secret.

The implementation of unisex restrooms may give effect to section 28 of the Constitution, which states that the best interest of the child is of paramount importance. Through the implementation of unisex restrooms, parents of the opposite sex to their children will be able to accompany their children into restrooms rather than sending them into the restroom unattended. In the same breath, it should be noted that it could create an uncomfortable situation for parents and their children to have to walk past men at the urinal while they are on their way to the toilet and can create a dangerous breeding ground for sexual predators.

Unisex restroom facilities may be implemented in line with constitutional values and rights, provided such implementation includes the option of separate male and female restrooms also being available. Alternatively, public restrooms should be multiple single-toilet facilities equipped with a changing table, disability friendly and gender neutral.

While it could be argued that unisex toilets may be cost-effective and save space, in light of the anti-gender-based violence movement, high crime rates and the current views of the community, I do not think South Africa is in a place where only unisex toilets are available to members of the public. After all, would it really be a “restroom” if most people using it did not feel restful?                                                                                                     

The post Is South Africa ready for public unisex toilets? appeared first on LitNet.

Nou in die verlede: Gedenk Auschwitz, Frans Fischer en Ferdinand aus der Fünten

$
0
0

Lees in hierdie artikel oor ’n gebeurtenis wat vandeesweek in die geskiedenis plaasgevind het.

Maandag, 27 Januarie 2020

Gedurende hierdie week vergader wêreldleiers van oor die hele aardbol in Pole om op 27 Januarie die bevryding van gevangenes uit die Auschwitz-Birkenau-doodskamp 75 jaar gelede te gedenk. Die kamp is geleë in die suide van Pole en word beskou as die grootste Nazi-konsentrasiekamp, opgerig met die doel om slawearbeid te verskaf en vir die uitwissing van “ongewenstes”, alles in belang van die Duitse Nazi-staat. Gevolglik word die datum van die bevryding van gevangenes uit hierdie kamp deur die Sowjetse Rooi Leër gedurende die laaste dae van die Tweede Wêreldoorlog gevier as Internasionale Joodse-volksmoord-herdenkingsdag (International Holocaust Remembrance Day).

Toe die Sowjetmagte in Januarie 1945 by Auschwitz-Birkenau aankom, het die Duitsers alreeds weswaarts gevlug en duisende liggame van gevangenes agtergelaat wat hulle net voor hulle onttrek het, tereggestel het. Dié by wie hulle nie betyds kon uitkom om hulle tereg te stel nie, was in elk geval besig om van honger en ontbloting te sterf. Die Sowjetmagte het ook gaskamers en krematoria in die kamp gevind wat die Nazi’s voor hulle vertrek opgeblaas het in ’n poging om hulle volksmoord toe te smeer.

Die moorde was egter op so ’n groot skaal gepleeg dat dit onmoontlik was om dit weg te steek. Na skatting is minstens 1,3 miljoen gevangenes tussen 1940 en 1945 na Auschwitz-Birkenau gestuur, van wie ongeveer 1,1 miljoen, insluitend 960 000 Jode, daar gesterf het. Dié gevangenes wat nie in die gaskamers gesterf het nie, het gesterf van honger, blootstelling, uitputting, siekte, individuele teregstellings en aanrandings; nog ander het beswyk terwyl hulle aan uiters barbaarse mediese eksperimente onderwerp is.

Auschwitz-Birkenau het ’n belangrike setel vir die sogenaamde Finale Oplossing vir die Joodse Kwessie geword, waarmee bedoel is die totale uitwissing van alle Jode binne die Nazi’s se bereik, selfs ook buite die Europese kontinent. Die gevolg was die stelselmatige moord op ’n geskatte ses miljoen mense.

Soos wat ’n toenemende aantal van hierdie tipe kampe deur die oprukkende Geallieerde Magte ontdek is, het daar ’n al sterker oproep uitgegaan dat dié wat daarvoor verantwoordelik was, tot verantwoording geroep moet word. Uit die staanspoor is verskeie verdagte plegers van hierdie wandade aangekeer om verhoor te word vir oorlogsmisdade en misdade teen die mensdom. Die Neurenberg-verhore (1945–1946) is van die bekendste van die gevolglike verhore. Maar daar is ook verskeie ander verhore gehou om die persone wat die gruweldade gepleeg het, aanspreeklik te hou. Die kampkommandant van Auschwitz-Birkenau, Rudolf Höss, is byvoorbeeld in Pole verhoor, en na sy skuldigbevinding ter dood veroordeel en op 16 April 1947 naby die gaskamers in Auschwitz-Birkenau deur middel van die galg tereggestel.

Soos die jare egter aanstap, vervaag baie van die gruweldade wat die Nazi’s gepleeg het tot net die annale van die geskiedenis. Vandag is die frase “Laat ons nie vergeet nie” daarop gerig om die afgryslikheid van oorlog en die Joodse volksmoord in die kollektiewe wêreldgeheue in te brand. Maar uiteindelik kom dit voor asof dit net ’n leë refrein is wat deur opeenvolgende generasies na mekaar oorgedra word omdat hulle verplig voel om dit te sê, sonder om te verstaan waarom dit gaan. Daar word op ’n goeie voorbeeld van hierdie apatiese houding gewys in ’n onlangse navorsingstuk deur die Conference on Jewish Material Claims Against Germany, waarin bevind is dat twee derdes van die jong Amerikaners wat in die huidige eeu gebore is, geen idee het wat Auschwitz is nie.

Sodanige gebrek aan belangstelling is egter niks nuuts nie. In 1989 het die Nederlandse parlement besluit om twee veroordeelde Nazi-oorlogsmisdadigers, Frans Fischer en Ferdinand Hugo aus der Fünten, kwytskelding te gee. Beide is in 1950 ter dood veroordeel vir die rol wat hulle gespeel het in die dood van ongeveer 10 000 Nederlandse Jode gedurende die Duitse besetting van daardie land. Fischer was betrokke in die opspoor en deportasie van Jode en dit was bekend dat sy “vernuwende” manier om bekentenisse uit sy gevangenes te dwing, was om hulle vir lang tydperke in ’n bad water onder te dompel. Hierdie vorm van marteling het hy spottend sy “U-Boot Spiel” (duikbootspeletjie) genoem. Dit, tesame met sy fanatiese vervolging van die Jode, het hom die bynaam Jude Fischer (Jode-visserman) besorg. Fünten weer was ’n SS-kaptein wat aan die hoof van die Sentrale Kantoor vir Joodse Emigrasie in Amsterdam gestaan het gedurende die oorlog. Hy was verantwoordelik vir die deportasie van alle Nederlandse Jode na konsentrasiekampe, insluitend Auschwitz-Birkenau. Beide hierdie manne se doodsvonnisse is later tot lewenslange gevangenisstraf versag.

Ironies genoeg is beide Fischer en Fünten op 27 Januarie 1989, presies 44 jaar nadat die gevangenes uit Auschwitz-Birkenau ontset is, vrygelaat. Hulle is terug na Duitsland gedeporteer, waar hulle die res van hul dae as bejaardes kon slyt.

’n Apatiese houding teenoor ’n situasie kom gewoonlik makliker voor waar daar nie direkte of nabye betrokkenheid is nie. Suid-Afrikaners moet egter ook teen wil en dank, hetsy as oortreders of slagoffers of albei, ’n lang en bloedige geskiedenis van misdade teen die mensdom in die gesig staar wat lank voor die begin van die vorige eeu ’n aanvang geneem het. Dit het deur die Tweede Vryheidsoorlog tussen Boer en Brit voortgeduur, en het selfs daarna veral op ’n rassegrondslag inslag gevind totdat dit uiteindelik in die Waarheid-en-versoeningskommissie ’n katarsis bereik het. Desnieteenstaande hang die mate van afsku of simpatie wat Suid-Afrikaners vir hierdie oortreders het, steeds tot ’n groot mate af van watter kant van die rasseskeidslyn daarna gekyk word. ’n Goeie voorbeeld hiervan is hoe Suid-Afrikaners na die sluipmoord op Chris Hani, en die plegers daarvan, Clive Derby-Lewis en Janusz Walus, kyk. Derby-Lewis en Walus (toevallig ’n Poolse burger) is beide skuldig bevind aan die moord en, net soos Fischer en Fünten, ter dood veroordeel. Maar met die aanbreek van demokrasie en na die afskaffing van die doodstraf in Suid-Afrika is beide se vonnisse gewysig tot lewenslange gevangenisstraf. Ten spyte van verskeie aansoeke is beide herhaaldelik parool geweier op ’n stadium toe dit normaalweg aan gevangenes met soortgelyke vonnisse toegestaan sou word. Uiteindelik is Derby-Lewis in 2015 op parool vrygelaat nadat hy terminale longkanker ontwikkel het. Hy is dan ook ’n bietjie meer as ’n jaar later oorlede.

Walus is steeds in die gevangenis. Sy mees onlangse aansoek om parool is op 7 Oktober 2019 geweier. Hy is nou alreeds byna 26 jaar agter tralies. Hoewel die meerderheid Suid-Afrikaners waarskynlik sal saamstem dat hy nooit op parool vrygelaat moet word nie, is daar ook ’n groep Suid-Afrikaners wat die mening toegedaan is dat hy net die sondebok gemaak word vir ’n groter sameswering wat die regerende party weier om te erken. Nie een van die twee groepe is bereid om na die ander te luister nie. Solank dit voortduur, staan dit vas dat die foute van die verlede in die toekoms herhaal sal word.

Soos regter Robert H Jackson, hoofaanklaer in die Neurenberg-verhore, tydens sy slotbetoog aangevoer het: “As u van hierdie manne sou sê dat hulle onskuldig is, sal dit net so waar wees as om te sê dat daar geen oorlog was nie, dat niemand vermoor is nie, dat daar geen misdaad was nie.”

Daarom moet alle Suid-Afrikaners op 27 Januarie nadink oor hulle eie bevooroordeeldheid, hulle eie vooroordele, en hulle verlede met moed en eerlikheid in die oë kyk. Want dit is die kernrede waarom Auschwitz-Birkenau onthou moet word: Gedenk die onreg. Gedenk die slagoffers. Gedenk die lyding. Maar gedenk ook die helde, die onverskrokke heldedade. Gedenk dit oor rassegrense heen. Dan sal ware versoening volg. Suid-Afrikaners skuld dit aan hulself.

* Jako Bezuidenhout is 'n Afrikaner en Suid-Afrikaner wat daagliks met die spoke van ons verlede wroeg. Hy het pas sy doktorale tesis in geskiedenis aan Rhodes-universiteit ingedien. Hy was tot onlangs aan die Geskiedenisdepartement daar verbonde en is tans 'n vryskutnavorser.

Lees ook:

Auschwitz-Birkenau: 75 jaar ná die bevryding

The post Nou in die verlede: Gedenk Auschwitz, Frans Fischer en Ferdinand aus der Fünten appeared first on LitNet.

Viewing all 21789 articles
Browse latest View live


<script src="https://jsc.adskeeper.com/r/s/rssing.com.1596347.js" async> </script>