Quantcast
Channel: LitNet
Viewing all 21832 articles
Browse latest View live

Hajime Chitose se klank van verwondering

$
0
0

Stel jou voor ’n voël vlieg van punt A na punt B. Hy mag dalk effens duik of klim, maar sy vlugpad sal op die ou einde meestal reguit wees. ’n Skoenlapper wat dieselfde doen, sal selfs op ’n windstil dag links en regs, op en af fladder. Sy vlugpad sal meer na ’n krabbellyn as ’n reguit streep lyk.

Dis ’n poging om Hajime Chitose se sang te beskryf. Die klank is lig en fladder om die note. Dis ’n falsetto-effek, maar met baie kleiner spronge as iets soos jodel. Eers klink dit amper, soos iemand opgemerk het, asof sy onseker van haarself is. Maar dis dalk eerder ’n klank van verwondering oor die wêreld en lewe wat haar eeue-oue volksliedjies besing.

Die musiekstyl word shima-uta genoem en kom van Amami-Oshima, een van ’n string eilande wat suid van Japan se vier hoofeilande tot naby die Okinawa-argipel strek. Dis ’n plek van wit strande, oeroue manglietwoude, hoë kranse en gesogte sy wat al honderde jare gebruik word om kimono’s te maak.

Shima beteken eiland, maar ook gemeenskap. Okinawa het uitheemse invloede by hulle kultuur ingewerk, maar op Amami-Oshima is ou tradisies jaloers opgepas. Die liedjies wat Hajima sing, klink al geslagte lank dieselfde. 

Sy is op 5 Januarie 1979 gebore. In haar laerskool van vier kinders (almal familie) het sy op aandrang van haar ma die shamisen leer speel. “Ek het op 10 of 11 shima-uta begin verken,” vertel Hajime. “Omdat daar geen bladmusiek vir shamisen is nie, moes ek die liedjies uit die kop leer. Ek het begin sing om dit makliker te maak!”

Op 15 het sy haar eerste kasset opgeneem. Drie jaar later het sy die eiland se grootste musiekprys vir skoolkinders gewen. Die platemaatskappy het begin bel, maar Hajime het hulle nie vertrou nie en besluit sy wil nie ’n sanger wees nie. In plaas daarvan is sy in 1998 na Osaka om soos haar suster ’n skoonheidsterapeut te word. Daar het sy uitgevind dat sy asma het. Die werk met chemikalieë het dit vererger en sy kon nie verder studeer nie.

Net voordat sy terug huis toe is, het sy die een platemaatskappy genader wat destyds na haar huis gekom het om oor ’n kontrak te praat. Op haar eerste album vir hulle het sy vier Engelse liedjies gesing, al kon sy nie ’n woord verstaan nie. Een van hulle was “Birthday” deur die Sugarcubes. “Ek het Björk geken en ek wou uitvind of ek so ’n soort stem het,” sê sy. 

Oor die volgende 20 jaar het Hajime haar klank gevind en ’n geliefde kunstenaar geword. Van haar liedjies is op anime-klankbane gebruik en so het jonger mense haar leer ken. Sy het met oorsese kunstenaars soos Sly & Robbie en Deep Forest saamgewerk en tussendeur was daar suiwer tradisionale albums wat die puriste gelukkig gehou het. Een van haar groot oomblikke was toe sy met die herdenking van die Hiroshima-bom ’n anti-oorloglied, "Dead Girl”, saam met Ryuichi Sakamoto gesing het. Dit was voor die Genbaku-koepel, ’n wêrelderfenisplek en die enigste gebou wat feitlik reg onder die bomontploffing was en nie heeltemal verwoes is nie.

Baie van dié musiek is moeilik om op te spoor, maar al die stroomdienste het minstens 2018 se album, Amami Shima-Uta, en die nuwe Amami Shima-Uta Remix. Dis die beste plek om haar te leer ken, met ses groot name in elektronika wat van haar vorige album se musiek vertolk.

Wat hulle daarmee doen, is fassinerend. Chihei Hatakeyama en wyle Ras G omring haar stem met dromerige, oop ruimtes. Minder gesoute kunstenaars sou dit na spa-musiek laat klink het, maar nie hulle nie. Tim Hecker voer die sang deur ’n “auto-tuner” en Dorian Concept skiet met ’n bonsende ritme ’n ander rigting in. Dan sluit Ryuichi Sakamoto af met ’n melankoliese, spookagtige landskap wat in jou kop bly lank nadat dit klaargemaak het.

Na dié bekendstelling is die oorspronklike album toegankliker. Dis ’n uitdaging vir omtrent enige stel musiekore en ’n mens kan dit nie net laat loop terwyl jy met iets anders besig is nie. Onverdeelde aandag en ’n bietjie geduld maak dit die luister werd.

Daar is glo studies wat bewys dat shima-uta, en veral Hajima se sangstyl, ’n mens laat ontspan. Dalk, of dalk nie, maar haar stem en musiek is iets uit ’n ander wêreld waar ’n mens se gedagtes heelwat ligter word.

Luister na Watasha (Ryuichi Sakamoto remix)

The post Hajime Chitose se klank van verwondering appeared first on LitNet.


Bloemis 

$
0
0

Jou lekkerreuk en vibrasie
spruit werklikwaar ver;
tot in die hemel van natuur 
straal jy uit nes vonkende sterre.

Maar 
jou prag weergalm in jou oë.
Jou oë het die refleksie van ’n
geelbruin sonbraak;
die toorkrag om elke plek ’n 
paradys te maak.

Soos die son in blou lig 
geel grimeer;
sal jy goudbekkig en kuipig 
floreer;
swaaiend in die bries
van ’n lentelied
enorme plesier in my hart verdiep.

Lees ook

Vreugde buite my venster 

The post Bloemis  appeared first on LitNet.

Gespierde Afrikaans

$
0
0

Konklusie of gevolgtrekking? Kontradiksie of teenstrydigheid?

LitNet Akademies wil navorsers graag help om meer gespierde Afrikaans te skryf.

Links is woorde wat dikwels in voorleggings voorkom. Regs is ander voorstelle.

Help ons om hierdie lys uit te brei deur voorstelle te e-pos aan akademies@litnet.co.za. Ons sal sinvolle voorstelle plaas.

Alfabetiese lys van voorstelle

ABCDEFGHIJKL
MNOPQRSTUVWYZ 

A

aan dit

daaraan

Wessel Pienaar

 

aanspreek

die hoof bied, hanteer

Lariza Hoffman

 

addisioneel

bykomend, toegevoeg, aanvullend

Helena Liebenberg

 

adekwaat

toereikend, genoegsaam

 

 

admireer

bewonder

Helena Liebenberg

 

agenda

sakelys

Helena Liebenberg

 

agter dit

daaragter

Henk Boshoff

 

akkommodasie

verblyf

Jo-Ansie van Wyk

 

akkommodeer

insluit, aanpas

Jo-Ansie van Wyk

 

aktiveer

ontketen, veroorsaak, sit aan die gang, gee aanleiding tot

Henk Boshoff

 

allokasie

toewysing, toedeling

 

 

analiseer

ontleed

 

 

analiseer, analise

ontleed, ontleding

 

 

area

gebied, oppervlakte (in tegniese verband)

Pieter GR de Villiers, Stephan Oberholzer

 

argument/ argumenteer

redenasie/ redeneer

Wessel Pienaar

 

arrestasie

inhegtenisname

Wessel Pienaar

 

arriveer

aankom, aanland, opdaag

Henk Boshoff

 

assosiasie

verwantskap, verband; vereniging

Jo-Ansie van Wyk

 

assumpsie

aanname

 

 

attent maak op

aandag vestig op

Henk Boshoff

 

 

 

B

behalwe dit

daarbenewens

Wessel Pienaar

 

bepunt

beoordeel

Wessel Pienaar

braaf

dapper

Wessel Pienaar

 

by dit

daarby

Wessel Pienaar

 

bylaag

bylae (meervoud: bylaes)

Wessel Pienaar

C

 

 

 

 

 

 

D

destruktief

vernietigend

Pieter GR de Villiers

 

detail

besonderhede

Helena Liebenberg

 

determinasie

vasbeslotenheid

 

 

deur dit

daardeur

Henk Boshoff

 

devalueer

geringskat, in waarde verminder/verlaag

Lariza Hoffman

 

difterie

witseerkeel

Helena Liebenberg

 

diftong

tweeklank

Helena Liebenberg

 

disfunksioneel

wanfunksioneel

Wessel Pienaar

 

diskussie

gesprek(voering)

 

 

diskussie

bespreking, gedagtewisseling

Helena Liebenberg

 

distribusie

verspreiding

Helena Liebenberg

 

dispuut

geskil

Naas Steenkamp

 

diverse

uiteenlopende

 

 

domineer, dominasie

oorheers, oorheersing

 

 

 

 

E

ekonomiese indikator(e)

ekonomiese aanwyser(s)

Wessel Pienaar

 

eksisteer, eksistensie

bestaan

 

 

eksploreer

verken

 

 

ekstraordinêr

buitengewoon

Helena Liebenberg

 

ekwator

ewenaar

Helena Liebenberg

 

eleksie

verkiesing

Christo Viljoen

 

 

 

F

fenomeen

verskynsel

 

 

fokus

klem, aandag

Jo-Ansie van Wyk

 

forseer

dwing

Pieter GR de Villiers

 

fragiel

breekbaar (voorwerp)/ broos, tingerig (kindjie)

Wessel Pienaar

 

 

 

G

geassosieer met

verwant aan

Pieter GR de Villiers

 

gedetermineerd

vasberade, vasbeslote

Wessel Pienaar

 

[monoloog] geëindig

afgesluit

Suzette Kotzé-Myburgh

 

gekompliseerd

ingewikkeld

 

 

[die dak] geskaal

na die dak opgeklim

Suzette Kotzé-Myburgh

 

gholfprospekte

gholfvooruitsigte

Suzette Kotzé-Myburgh

 

globaal

wêreldwyd

Christo Viljoen

globale verwarming

aardverwarming

Wessel Pienaar

H

herbivoor

grasvreter/graseter

Helena Liebenberg

 

histories, historikus

geskiedkundig, geskiedkundige

 

 

hofrekord

strafregister

Wessel Pienaar

 

 

 

I

identifiseer

uitwys

Pieter GR de Villiers

 

implementeer

toepas, in werking stel, uitvoer, ten uitvoer bring

Christo Viljoen

 

indikasie

aanduiding

Helena Liebenberg

 

in dit

daarin

Wessel Pienaar

 

industrie

nywerheid, bedryf

Helena Liebeneberg

 

informeer, misinformeer

inlig, waninlig

 

 

informasie

inligting

Helena Liebenberg

 

in lyn met

in ooreenstemming met

Annemarie van Zyl

 

innoveer, innovasie, innoverend

vernuwe, vernuwing, vernuwend

 

 

insidensie

voorkoms

Wessel Pienaar

 

institusie

instelling

 

 

interaksie/ interaktief

wisselwerking / wisselwerkend

Wessel Pienaar

 

interpreteer

vertolk

 

 

intervensie

ingreep, ingryping

 

 

invensie, inventief

uitvinding/vonds, vindingryk/vernuftig

 

 

isolasie

afsondering

Pieter GR de Villiers

 

 

 

J

 

 

 

 

 

 

K

kapasiteit

vermoë

Wessel Pienaar

 

karakteristieke

eienskappe, kenmerke

Wessel Pienaar

 

karnivoor

vleisvreter/vleiseter

Helena Liebenberg

 

kategorie

soort, groep

Pieter GR de Villiers

 

kattebak (van ’n kar)

kis (van ’n kar)

Wessel Pienaar

 

klandestien

ondergronds, ongesiens

Philip Calitz

 

klarifikasie

verheldering, verduideliking

Jo-Ansie van Wyk

 

kompakteer

saampers

verdig

Henk Boshoff

Wessel Pienaar

 

komparatief

vergelykend

Jo-Ansie van Wyk

 

kompeteer, kompeterend

meeding, mededingend

 

 

kompetensie

vermoë

Pieter GR de Villiers

 

kondisie

toestand

Wessel Pienaar

 

konfidensieel

vertroulik

Sarita Friguglietti-de Vaal

 

konflikterend

strydig

Jo-Ansie van Wyk

 

konklusie

gevolgtrekking

Jo-Ansie van Wyk

 

konspirerend

sameswerend

Suzette Kotzé-Myburgh

 

konstruktief

opbouend

 

 

konsulteer

raadpleeg

Christo Viljoen

 

konsultasie

raadpleging, beraadslaging

 

 

konsumpsie

verbruik

Christo Viljoen

 

konstateer

stel

Pieter GR de Villiers

 

konstitusie

grondwet

Helena Liebenberg

 

kontemporêr

eietyds

 

 

kontinent

vasteland

Helena Liebenberg

 

kontradiksie

weerspreking, teenstrydigheid

Jo-Ansie van Wyk

 

kontribusie

bydrae

Jo-Ansie van Wyk

 

kontrole

beheer

Wessel Pienaar

 

kontroleer

nagaan

Wessel Pienaar

 

kontroversie, kontroversieel

twispunt/geskil, aanvegbaar/omstrede

 

 

kousaal

oorsaaklik

Wessel Pienaar

 

kousaliteit

oorsaaklikheid

Jo-Ansie van Wyk

 

kreatief

skeppend

Jo-Ansie van Wyk

 

krimineel (persoon)

misdadiger

Wessel Pienaar

 

kriminele hof/ reg/ saak

strafhof/ -reg/ -saak

Wessel Pienaar

 

kriterium

maatstaf

 

 

kwaliteit

gehalte

Helena Liebenberg

 

kwantifiseer

hoeveelheid bepaal/ omvang bepaal

Wessel Pienaar

 

kwantiteit

getal/ hoeveelheid

Wessel Pienaar

 

 

 

L

landelik

plattelands

Jo-Ansie van Wyk

 

landelike gebied

platteland

Jo-Ansie van Wyk

 

langs dit

daarlangs

Henk Boshoff

 

lateraal

dwars

Wessel Pienaar

 

LED (Light Emitting Diode)

GD of glimdiode

Stephan Oberholzer

 

legende

sleutel (op landkaart)/ verklaring (van simbole)

Wessel Pienaar

 

legitiem

regmatig, wettig

Wessel Pienaar

 

lewendig (live)

regstreeks (uitsaai) of regstreekse uitsending

Jeanetta Clifford

 

lokaal

plaaslik

Helena Liebenberg

 

lompsom

enkelbedrag

Naas Steenkamp

 

 

 

M

magistraat

landdros

Wessel Pienaar

 

maksimaliseer, maksimiseer

maksimeer

Wessel Pienaar

 

malkoeisiekte

dolbeessiekte, malbeessiekte

Wessel Pienaar

 

meerkeusige vraag

meerkeusevraag

Wessel Pienaar

 

meriete

verdienste

Wessel Pienaar

 

met dit

daarmee

Henk Boshoff

 

minimaliseer, minimiseer

minimeer

Wessel Pienaar

 

 

 

N

naby dit

daarnaby

Wessel Pienaar

 

node

nodus (meervoud: nodusse)

Wessel Pienaar

 

nosie

motief, begrip

Pieter GR de Villiers

 

 

 

O

objek

voorwerp

Jo-Ansie van Wyk

 

offisieel

amptelik

Suzette Kotzé-Myburgh

 

omnivoor

allesvreter/alleseter

Helena Liebenberg

 

onder dit

daaronder

Henk Boshoff

 

ondermyn

ondergraaf, ondergrawe

Wessel Pienaar

 

ongereserveerd

sonder voorbehoud

 

 

onstabiel

onbestendig, wisselvallig

Wessel Pienaar

 

oor dit

daaroor

Henk Boshoff

 

op dit

daarop

Wessel Pienaar

 

opinie

mening

 

 

optimaliseer, optimiseer

optimeer

Wessel Pienaar

 

outeur

skrywer

 

 

 

 

P

periferie

rand

 

 

perpetueer

herhaal, voortduur

Jo-Ansie van Wyk

 

posisie

ligging (geografies)/ plek (in span)

Wessel Pienaar

 

posisioneer

plaas, plasing, vestig

Jo-Ansie van Wyk

 

predator

roofdier

Helena Liebenberg

 

prioritiseer

prioriseer

Wessel Pienaar

 

prolifereer

vermenigvuldig, vermeerder

Henk Boshoff

 

 

 

Q

 

 

 

 

 

 

R

realiteit

werklikheid

 

 

reflekteer

i) besin, nadink, oordink, dink
 ii) weerkaats, weerspieël

 

 

reformasie

hervorming

Helena Liebenberg

 

regionalisties

van die omgewing, plaaslik, streeksverband, streeksgebonde

Philip Calitz, Jo-Ansie van Wyk

 

regressie

agteruitgang

 

 

rekommendasie

aanbeveling

Jo-Ansie van Wyk

 

relasie

verband, verhouding

Jo-Ansie van Wyk

 

relatief

betreklik

Naas Steenkamp

 

relevant, relevansie

ter sake, tersaaklikheid, toepaslik(heid)

 

 

resente

onlangse

 

 

respekteer

eerbiedig

Pieter GR de Villiers

 

retrospektief

terugskouend

 

 

rondom dit

daar rondom

Wessel Pienaar

 

 

 

S

seleksie

keur, keuse

Wessel Pienaar

 

selekteer, selektering

kies, keuring

Wessel Pienaar

 

sensitief

gevoelig

Pieter GR de Villiers

 

sisteem, sistematies

stelsel, stelselmatig

 

 

siteer, sitering

aanhaal, aanhaling

 

 

situasie

geval, omstandigheid

Wessel Pienaar

 

situeer

plaas

 

 

sonder dit

daarsonder

Wessel Pienaar

 

spandeer

bestee (geld); deurbring (tyd)

Barend Vos

 

spasie

ruimte

Willem Botha
 

stabiel

bestendig

Wessel Pienaar

 

stamper

buffer

Christo Viljoen

 

subjek

onderwerp

Jo-Ansie van Wyk

 

suggestie

voorstel

Helena Liebenberg

 

suspisie

vermoede

Christo Viljoen

 

 

 

T

tegnikaliteit

tegniese punt

Suzette Kotzé-Myburgh

 

tendensie

geneigdheid

Suzette Kotzé-Myburgh

 

tensie

spanning

Suzette Kotzé-Myburgh

 

terme en kondisies

bepalings en voorwaardes

Wessel Pienaar

 

tipeer

beskryf

Pieter GR de Villiers

 

tipies

kenmerkend

Pieter GR de Villiers

 

tipping point

draaipunt, keerpunt

Jo-Ansie van Wyk

 

tjip

skyfie (soos in mikroskyfie)

Christo Viljoen

 

tot dit

daartoe

Wessel Pienaar

 

transformeer

herskep, verander, omskep

Lariza Hoffman

 

trip

rit

Wessel Pienaar

 

 

 

U

uitdruk

druk (met ’n rekenaar se drukker)

Wessel Pienaar

 

uitlaat

weglaat (van lys)

Wessel Pienaar

 

 

 

V

van dit

daarvan

Henk Boshoff

 

van wat

waarvan

Wessel Pienaar

 

verbaal

mondeling

Stephan Oberholzer

 

verbaliseer

verwoord

Pieter GR de Villiers

 

vir dit

daarvoor

Henk Boshoff

 

vir wat

hoekom, waarvoor

Wessel Pienaar

 

voor dit

daarvoor

Henk Boshoff

 

 

 

W

wen-wen-situasie

wedersyds voordelige uitkoms (geval)

Wessel Pienaar

 

[in die] wild

in die natuur

Suzette Kotzé-Myburgh

 

 

 

X

 

 

 

 

 

 

Y

 

 

 

 

 

 

Z

 

 

 

The post Gespierde Afrikaans appeared first on LitNet.

Sensuur: Nog springlewendig en gesond, dankie!

$
0
0

Onder sensuur: Conrad Botes en Anton Kannemeyer se The erotic drawings of Conrad Botes en The erotic drawings of Anton Kannemeyer (Foto's: verskaf)

As jy gedink het dat sensuur saam met apartheid begrawe is, is jy verkeerd. Sensuur wat destyds deur die owerhede op skrywers en kunstenaars afgedwing is, hoofsaaklik vanweë godsdienstige en politieke oorwegings, het plek gemaak vir nuwe, ewe dodelike muilbandstrategieë. Waar apartheid sensuur geïnstitusionaliseer het, is dit nou individue binne die bedryf wat skrywers en kunstenaars op velerlei maniere stilmaak.

Hiervan kan Conrad Botes en Anton Kannemeyer, stigters van die legendariese Bitterkomix, getuig. Botes en Kannemeyer is onlangs opnuut gesnoer toe hul jongste boeke die lig gesien het. Botes se The erotic drawings of Conrad Botes het saam met ’n herdruk van Kannemeyer se The erotic drawings of Anton Kannemeyer einde 2019 by Soutie Press verskyn.

Die boeke is versamelings van sketse van die gevierde kunstenaars se “erotiese werk” – natuurlik is die verwysing na erotiek in die boektitels ironies; die eksplisiete tekeninge wat daarin opgeneem is, ondersoek en stel snydende vrae oor morele kwessies omtrent hoofsaaklik konserwatiewe waardes wat in die samelewing gehuldig word. Met pornografie as ’n tema stel hul kunswerke vooroordeel en skynheiligheid ten opsigte van seks, godsdiens en politiek met onverbiddelike humor aan die kaak.

Dit is nie die eerste keer dat die kunstenaars met sensuur te doen kry nie. Sedert Bitterkomix in 1992 in die lewe geroep is, het die valbyl vanuit verskeie oorde op Botes en Kannemeyer neergekom. Hul publikasie Gif: Afrikaner Sekskomix, uitgegee deur Ryk Hattingh en Tienie du Plessis se Hond, is in 1994 verban nadat die ou sensuurraad dit as “obseen” afgemaak het. Botes vertel dat hulle nie die geleentheid gehad het om teen die verbanning te appelleer nie. “Die sensuurbase het ons nie daarvan in kennis gestel nie. Destyds het kunstenaars drie maande grasie gehad om te appelleer nadat die verbanning in die Government Gazette aangekondig is. Teen die tyd dat ons besef het Gif is ongewens verklaar, was dit te laat om iets aan die saak te doen.”

Botes en Kannemeyer is ook welbekend vir hul werk in Ryk Hattingh se Loslyf, die Afrikaanse pornografietydskrif wat groot opspraak verwek en deur Afrikaanse lesers opgeraap is. By Loslyf moes hulle die sensuurbedreiging deurentyd in ag neem. Kannemeyer sê: “Alle uitbeeldings van penetrasie, of werk waarin byvoorbeeld honde verskyn het, is afgekeur. Ons het dit aanvanklik nie geweet nie, maar daar was so ’n weird code of conduct van wat toegelaat kon word en wat nie. Dit het te make gehad met waar die tydskrif verkoop is. As die inhoud te erg was, kon dit byvoorbeeld nie in kafees van die hand gesit word nie. Uiteindelik is ’n hele paar van ons drawings afgekeur.”

Die verregse motiewe wat sensuuraksies destyds gedryf het, het intussen plek gemaak vir sensuur wat deur verlinkse sentimente gemotiveer word. “Deesdae word sensuur nie soseer deur die wet toegepas nie, maar eerder deur mense in die boek-industrie, en veral die drukkersbedryf,” sê Botes. “Alles het sedertdien volsirkel gegaan.”

Kannemeyer se Erotic drawings, wat reeds in 2014 die lig gesien het – vyf jaar voor verlede jaar se herdruk en die eerste verskyning van Botes se Erotic drawings – het dieselfde pad gestap. Destyds was Kannemeyer op Jacana, wat boeke in die Bitterkomix-reeks uitgegee het, se publikasielys, maar kort voordat die manuskrip ingelewer sou word, het die uitgewershuis die projek gekanselleer. The erotic drawings of Anton Kannemeyer is daarna deur die Stevenson-galery gepubliseer.

Voordat die Bitterkomix-boeke verskyn het, sou Double Storey, destyds Juta se algemene-boeke-arm, The Bitterkomix Big Bad Handbook publiseer. Publikasie is egter gekanselleer nadat die uitgewer aangevoer het dat die titel nie “by die res van hul publikasielys ingepas het nie”. Volgens Bridget Impey, in daardie tyd Double Storey se uitgewer wat met die boek gewerk het, het sy uit protes teen dié besluit bedank en vir Jacana gaan werk.

In 2019 het Botes en Kannemeyer ’n simpatieke stem gevind in die onafhanklike uitgewery Soutie Press, wat ingestem het om hul boeke te publiseer. Die kunstenaars het saam met die uitgewer na ’n geskikte drukker gesoek, en in die proses hindernisse op die lyf geloop. Vyf drukkerye het nie kans gesien om die Erotic drawings vir Soutie Press te lewer nie, en elke keer is ’n morele standpunt as rede vir die onwilligheid aangegee. Een was ’n gevestigde maatskappy wat voorheen pornografietydskrifte op groot skaal gedruk het. Maar vir Botes en Kannemeyer se tekeninge het hulle nie kans gesien nie.

Uiteindelik is ’n drukkery gevind wat die projek onderneem het, maar dit was nog lank nie die einde van Botes en Kannemeyer se frustrasies nie. ’n Week of wat nadat Soutie Press ’n deposito vir die drukwerk betaal het, het die maatskappy laat weet dat hulle ’n probleem met een van die sketse in Botes se boek het omdat dit kwansuis godslasterlik was. Botes het ingestem om die spesifieke skets te vervang, ironies genoeg deur hierdie werk wat teen sensuur protesteer:

Maar net toe hulle gedink het hul sorge met die drukduiwel is op ’n einde, is nog ’n kwaal geopper. Nóg ’n werk in Botes se boek gee aanstoot – kan dit asseblief uitgehaal of vervang word?

Die kunstenaars het toe saam met hul uitgewer regsadvies ingewin en die drukkery voor ’n ultimatum gestel: óf hulle druk die boek soos dit is en kry klaar, óf die saak word verder in die hof gevoer. Die drukkery was immers nou besig om kontrakbreuk te pleeg.

Uiteindelik is die boek gedruk, maar sonder dat die drukkery se naam daarin verskyn.

Dié scenario het hom uitgespeel enkele weke voordat die boek saam met ’n uitstalling van Botes se werke in Johannesburg se Everard Read-galery bekendgestel sou word. Botes, bekommerd dat die drama met die drukker die bekendstellingsdatum sou vertraag, het die galery deurentyd op hoogte van verwikkelinge gehou.

Hierop het die galery gevra om dringend na die werke wat by die uitstalling ingesluit sou word, te kyk. Toe hulle die kunswerke onder oë kry, is die uitstalling summier gekanselleer. Die rede? Christelike werknemers van die galery het gedreig om te bedank indien die uitstalling sou voortgaan.

In hierdie stadium kon die uitstalling nie meer na ’n ander galery in die stad verskuif word nie, omdat daardie galery in die tussentyd ’n ooreenkoms met ’n ander kunstenaar vasgemaak het. Tyd staan immers nie stil nie.

In 2015 het Kannemeyer ’n soortgelyke ervaring gehad. Die Stevenson-galery, wat ’n uitstalling van sy werk gehuisves het, moes enorme druk trotseer oor die inhoud van Kannemeyer se kuns, in so ’n mate dat hulle eenvoudig nie kans gesien het om verdere uitstallings te akkommodeer nie.

Dis egter nie net in die kuns- en boekbedryf waar Bitterkomix ’n klip in die skoen geraak het nie; Botes en Kannemeyer se werk word jare lank reeds as module uitgesluit van die modernekunsgeskiedenis-kursus aan die Universiteit van Kaapstad. Voor dié uitsluiting is studente telkens met “trigger warnings” gewaarsku dat die Bitterkomix-materiaal wat tydens lesings onder bespreking was, tot ontsteltenis mag lei.

Vir Botes is dié stand van sake ’n steen des aanstoots: “Dit is ’n uiterste vorm van onverdraagsaamheid teenoor vryheid van spraak. En dit word gedikteer deur die far left. Dit gaan nie oor wat reg of verkeerd is nie, dit gaan oor ’n dogma wat reëls neerlê oor wat mág en wat mag nié. As ’n man mag jy deesdae byvoorbeeld nie namens vroue praat nie.”

Kannemeyer voel net so sterk oor die kwessie: “Trigger warnings en sulke kak – ek kan nie glo dosente steur hulle daaraan nie!”

Toe Kannemeyer ’n Ikey-kunsdosent konfronteer omdat hy Bitterkomix nie meer doseer nie, ten spyte daarvan dat hy voorheen in die openbaar die kunstenaars se werk aangeprys het, is hy van arrogansie beskuldig. “Dit wys jou hoe diep die vlak van skynheiligheid deesdae lê.”

Anton Kannemeyer (links) en Conrad Botes (regs) (Afdrukke: verskaf)

Volgens die kunstenaars dring studente daarop aan om beskerm te word teen dinge wat hulle mag ontstel, sonder dat hulle die gevolge van sensuur begryp. “Dis soos om te wil hê apartheid moet terugkom,” sê Kannemeyer. In die vyftien jaar wat hy as kunsdosent gewerk het, het studente dikwels kapsie gemaak teen sy aandrang op kritiese denke met die argument: Hoekom moet ons altyd krities na dinge kyk? Ons wil net gelukkig wees.

“Daar was nog altyd kontroversie rondom my werk,” sê Kannemeyer. “Mediamense en kurators het my nog al die jare ondersteun in terme van dreigende sensuur. Maar ná die aanval op Charlie Hebdo in 2015 het die wêreld teen satire gedraai. ’n Falanks van invloedryke kunstenaars en skrywers, veral in Amerika, was dit eens dat satire dinge te ver gevat het. Verlede jaar het selfs die New York Times besluit om hul redaksionele spotprentkunstenaar in die pad te steek.”

Ook Suid-Afrika is deur dié vloedgolf van politieke korrektheid getref. “Zapiro se dienste by Mail & Guardian is beëindig, en toe ook by die Sunday Times,” vertel Kannemeyer. “Dit is ’n skande dat hy so onder sensuur moes deurloop.”

“Kurators en joernaliste ondersteun my egter al minder,” sê hy. “Mense is bang om as rassiste of vrouehaters uitgekryt te word. Hulle is skrikkerig en trap in hul spoor.” Hy sonder egter Afrikaanse joernaliste soos Elsabé Brits uit vir hul bereidwilligheid om die onderwerp van sensuur sonder skroom aan te durf.

Dat al hierdie verwikkelinge ’n impak op ’n kunstenaar se loopbaan het, is vir Kannemeyer ontstemmend: “In Suid-Afrika is daar nie meer ’n platform vir my werk nie; wel oorsee.” Onlangs het hy en Botes hulle tot guerrillataktieke begin wend om enigsins uitgestal te word. Die splinternuwe, waagmoedige Gallery 131 in Kaapstad het hul werke in 2019 ten toon gestel.

Tans stal Kannemeyer in Frankryk uit, waar hy vind dat kurators, ten spyte van die dogma van politieke korrektheid, ruimte bied vir humor en satire. “Ons het in ’n humorlose tyd inbeweeg; gevolglik word die deur na demokratiese debat gesluit. Maar vir die satirikus is niks heilig nie.

“Die probleem met sensuur is, as jou boeke geïgnoreer word, begin jy werklik vergaan. Mense vergeet van jou, boekwinkels stel nie meer belang nie,” sê hy. “As satiriese kunstenaars het ons altyd konserwatiewe waardes aangeval. Nou is dit die sogenaamde ‘oopkop liberaal’ wat voorskriftelik is oor wat mag gebeur.”

Die feit dat sensuur ná apartheid so vinnig en moeiteloos in die vesel van die hedendaagse samelewing ingebed geraak het, stem die kunstenaars tot kommer. “As ’n sterk konserwatiewe politieke leier na vore kom, het hy nou die perfekte teelaarde om ’n nuwe sensuur toe te pas en in stand te hou.”

Conrad Botes en Anton Kannemeyer se onderwerping aan sensuur demonstreer dat vryheid van uitdrukking steeds onder beleg is, ten spyte van die demokratiese ideale wat in ’n nuwe bedeling nagestreef word. En die monster van sensuur is gevaarliker as wat dit ooit voorheen was. In die verlede het dit ’n herkenbare gesig gehad in die onderdrukkende wetgewing van ’n bose regime. Die monster kon beveg word omdat dit kwylend en grotesk op die trappe van regeringsgeboue waggehou het. Nou is die monster tussen ons. En die monster lyk soos ek en jy. Enigiemand wat nie ’n snars van kuns verstaan nie en aanstoot neem om watter fundamentalistiese rede ook al, kan deur bloot ’n beswaar te opper, ’n kunstenaar- of skrywerstem stilmaak.

En dit mag eenvoudig nie.

Besoek die kunstenaars se webwerwe hier: Conrad Botes; Anton Kannemeyer.

The post Sensuur: Nog springlewendig en gesond, dankie! appeared first on LitNet.

Fay se bekering (Deel 1)

$
0
0

Dit was ’n Maandag toe een van die Joons-kindertjies, die een met die oopbekkie, by my huis aankom en sê Ouma het hom gestuur. Ouma wou weet of ek nie net haar hare wil kom rinse nie. Ek het suke los werkies maar gedoen vir ekstra geld, maar in my binneste het ek geweet dat Ouma ’n storie het wat sy wil vertel.

Ek het vinnig klaargemaak en die Jensen Violet in my handsak gedruk. Die tuinhekkie het nog nie eers behoorlik die toegaan-skreeu gelos nie, of sy skreeu dat ek maar kan inkom, die voordeur is oop.

Sy het sommer so by die bad gebuk en ek het met ’n enamel emmertjie begin spoel. Toe ons amper klaar is, sê ek sy moet partykeer so bietjie heuning aan haar hare sit, sodat dit nie so uitdroog nie, en net daar sê ek ’n ding wat haar laat lag. Sien, Ouma het so manier dat haar skouers eers begin wip dan kom die lag later uit.

“En as Ouma nou so aan die wip gaan?” vra ek ewe onskuldig terwyl ek haar hare spoel en met conditioner invryf. En so begin sy vir my die storie vertel van Fay wat oorkant haar bly met die droeë en gekoekte hare.

Dit was weer een van Dominee se kuiers wat nie ’n huisbesoek was nie, maar net ’n heen-en-weertjie. Ouma vertel dat hulle nog so oor die tuinhekkie staan en kuier, toe Fay Botes by haar huis uitgestap kom, ’n paar blaartjies van ’n bossie of ’n ding afpluk en vinnig weer by die huis instap. Fay Botes bly so skuins oorkant Ouma-hulle in die eenvoudige rooibaksteenhuisie. Ouma vertel dat Dominee eers so stadig en versigtig beginne praat as hy iets op die hart het en dis hoe hy toe die ding begin vat van Fay toe hy sê:

 “Tannie Joey, daardie dame wat hier so skuins oor die pad bly is darem ’n vreemde mens. Ek wil so graag daar gaan besoek aflê. Ek voel dit so in my gees.” Ouma vertel vir my dat dit gevoel het asof al die bloed uit haar are loop, toe Dominee oor Fay beginne praat.

“Ja Dominee, ek verstaan dis soos daai wat hulle sê, die gees wil maar die vlees wil nie.”

“’n Mens kan mos nie so eensaam en alleen deur die lewe gaan soos daardie stomme vrou nie,” begin Dominee torring aan die ding en Ouma wil die ding wegpraat.

“Ag, Dominee, los maar. Die vorige Dominee het ook probeer, maar sy het hom gejaag. Glo vreeslike goed toegesnou. Los maar.”

“Tannie Joey, vandag staan ek as 'n vriend voor Tannie. Hoe sal ek nou die hele ding benader as ek wil gaan huisbesoek doen?”

“Dominee, daardie vrou ken net ellende. Kyk hoe trek sy aan. 

Dis nie rokke of klere nie, dis lappe. Sy draai die goed om haar middel, gooi ’n lap oor haar skouers, bind ’n lap om haar kop en dan nog kaalvoet ook nog. Winter en somer. Daardie hakke is al so gebars soos ’n ou houtvloer wat nooit olie of polish kry nie,” was Ouma se woorde. Ek wou nog sê dat sy moet Vaseline en Grandpa meng en dit aan die hakskene sit, maar ek los vir Ouma dat sy die storie vertel, want ek weet hierdie is ’n lekker storie.

“Sy borsel nooit hare nie en as sy die dag dit moet doen, borsel sy net bolangs, maar onderlangs sit die koeke soos ’n vinknes. Daar moet nog net ’n klein voëltjie by haar kop uitloer, dan is dit sowaar ’n vinknes. En dan wil ek sommer in dieselfde asem sê, dat sy nie te skoon is nie, wel, ek sal nie daar tee drink nie, as ek ek dit dan nou so moet stel. Maar die ding wat almal aan die praat het, is dié dat sy so vroeg, nog voor sonop, uit haar huis kom, al is dit spierwit gekapok, om met haar plante te praat. En as jy nou haar voortuin so van naderby bekyk, sal jy sien daar groei nie blomme nie, maar net groente, kruie, uintjies, bossies en al wat 'n ding is waarmee sy toor. Dis ’n aardigheid Dominee, dis ’n aardigheid.” Ouma en Dominee loer straat-af na Fay se kant toe. So skelm loer soos wanneer ’n skoolkind afskryf.

“Niemand wil naby haar kom nie, te bang hulle word getoor. Dis net die diertjies en insekte wat oral in haar huis en tuin rondloop wat gelukkig lyk. Daar is sprake dat sy ekstra krag kry as dit volmaan is en as ek die dinge so bekyk is dit reeds nou volmaan. Maar laat ek nie my ewemens so beswadder en beskinder nie,” het Ouma gesê.

“Nee, Tannie, dis nie beskinder nie, ons moet haar help, sy moet in die kerk kom,” het Dominee gesê. Mens sal nooit weet of Dominee nou regtig wou gaan bekeer het, of net uit nuuskierigheid uit nie.Ek dink tog maar hy was meer nuuskierig.

Ouma kruis haar arms voor haar bors, vryf haar neus en trek haar oë op skrefies, en beginne vertel. Sy is hier in die Vrystaat gebore. Hier net voor een Kersfees het sy net verdwyn. Geen mens het geweet waar sy haar bevind nie. Net ek het agtergekom dat sy nooit meer uit die huis kom nie. Toe gaan kyk ek en dis toe dat almal begin soek het. Die dorp het ’n soekgeselskap bymekaar geroep en so soek hulle. Al wat man, hond en perd is, is ingespan en die veld in, maar Fay is weg.

“Vir wat? Het ek my daai dag vererg,” vertel Ouma, en dit lyk so asof sy haarself van voor af wil vererg. “Niemand traak oor haar nie, maar nou dat sy weg is, wil julle soek,” het Ouma gesê.

“Op ’n dag kry ek ’n brief in die pos en dis van Fay af. Sommer so in ’n vuil koevert op ’n vuil stuk oefeningboek se bladsy. Sy skryf toe dat sy daar iewers in die Moordenaarskaroo is en dat die grootste ellende die wêreld gaan tref. Sy skryf toe verder dat ons onsself moet regmaak, want die einde is in sig, sy sien dit. Sy het dit in die blare gelees, teeblare … maar dis ’n storie vir ’n ander dag, Dominee.”

Toe Ouma van die teeblare sê, was my nuuskierigheid hoog.

“Tannie, maar hoekom het Fay dan vir Tannie geskryf? Is julle goeie vriende?” wou Dominee weet.

“Nee Dominee, nie goeie vriende nie, maar sy is my niggie van Ma se kant af,” vertel Ouma. Mens, ek was so geskok toe ek verneem dat Fay en Ouma familie is. Jy weet, daar waar ek bly, praat die mense baie oor Fay. Ek weet van sommige mense wat al daar was vir die blare-lees, maar ek sukkel nie met bose goed nie.

Fay het intussen weer die huis ingehol soos ’n wilde bok. En ek is nuuskierig. En daar staan Ouma en ’n geskokte Dominee, voor Ouma se tuinhekkie, stom, met geen woorde te spreek en Fay Botes wat hulle beloer deur haar sitkamervenster. Dominee is toe daar weg sonder om by Fay aan te gaan.

Die volgende dag sien Ouma, waar sy in die voorhuis besig is en ’n mooi uitsig op die straat het, dat Dominee by Fay Botes se erf instap. Kiertsregop, hoed op die kop, gewapen met ’n dik Bybel onder die blad en klein vinnige treetjies. Ja, Dis van pure senuwees, dink Ouma en trek die sun filters so effens weg voor die venster. Ouma stut met haar heup teen die vertoonkas, vol gepak van wintervakansies se ornamentjies uit die wildtuin. Haar regterarm voor haar bors gevou en die linkerarm rus dan op haar regterarm sodat sy haar mond kan vashou met die linkerhand. Pure konsentrasie.

So stap Dominee met die sementpaadjie op, tot by die eerste trappies van die stoep, kyk om, stap effens terug, lig sy hoed op en skuif dit so effens terug. Dan stap hy weer agteruit, net so twee tree, kyk links, dan regs en dan weer tot by die trappie. Hy haal die Bybel onder sy blad uit en hou dit voor sy bors vas. Hy stap met die drie trappies op tot by die deur, lig sy hand en net voordat hy kon klop, draai hy om en stap weg.

Siestog, die stomme Dominee moes seker vol van die bang gewees het, dink ek. Die volgende dag weer selfde ding, totdat hy besluit het om die saak met Ouma te bespreek, aangesien dit haar niggie is.

Dis ’n week later toe Ouma haar tuinhekkie se gebek hoor en nogal die tyd van die oggend wanneer dit storietyd op die transistorradiotjie is.

“Wie is so ontydig? Dis storietyd en dan die resep,” praat Ouma met haarself. Sy het daai gewoonte gehad om so met haarself geselskap te maak. Ons almal weet dat as dit storietyd, resepte en oggend oordenking is, mens nie vir Ouma moet pla nie.

Ouma loer deur die venster en sien dat dit Dominee is, nogal in sy leeraarsgewaad. Hy stap met kort vinnige treetjies met die sementpaadjie op, verby die Pride of India-boom en die rankroos. Klim die vier trappies na die rooi stoep vinnig op, amper soos ’n kalkoen wat wil storm. Hy klop aan die deur, soos waneer jy room styf wil klop vir oor poeding gooi. Vinnige, kort kloppies.

Ouma beduie nogal so met haar hand hoe Dominee geklop het. Ouma maak die deur oop en sy sien sommer die kwellinge op sy gesig. Dalk as sy vriendelik en lig groet, gaan die kwellinge bietjie sak.

“Maar my wêreld, wat ’n verrassing, Dominee, dis nog ver van kollekteerdag af, maar kom in.”

“Nee Tannie, ek kom nie kollekteer nie en ek kom ook nie met die Woord na Tannie toe nie, maar met ’n ander ding wat baie swaar op my rus. Ek het nou al vir weke in gebed gevra dat die Groter Hand my moet krag gee, dat die Heiligheid waarheid kom spreek en dat die ewige Satan se Adder moet wyk, maar niks nie,” begin Dominee. Of Dominee daai groot woorde gesê het en of Ouma dit uitgedink het weet ek nie, maar dis hoogwoorde uit die Woord uit.

“Maar my wêreld Dominee, hoe praat Dominee dan so anders vandag. Ek ken mos nie vir Dominee as iemand wat so hoog praat nie. Hoe nou?”

“Nee Tannie, dis Tannie se Niggie, Fay. Ek probeer tog om by haar uit te kom, om haar tot bekering te bring, haar in die kerk te kry, om die Woord te hoor, maar dis asof daar ’n groot hand my wegdruk en ek onthou toe Tannie se woorde van die toordery. Ek het laasweek probeer, dié week probeer en vandag wil ek weer probeer, maar toe meen ek as ek eers met Tannie kom gesels, kan ons die ding dalk saam aanpak. Dis tog familie van Tannie.”

“Dominee, dit gaan nie baat om na haar toe te gaan nie. Ons almal het al probeer om haar in die kerk te kry, maar sy skop vas. Dit is nou al vir jare dat sy so ’n wil van haar eie het. Ouderlinge, wat nou al langbome toe is, het al probeer, diakens wat nou al ouderlinge is, dominees wat gekom en gegaan het, hulle het almal al probeer en al wat sy sê is: 'Wyk fariseër en los my uit,' dan slaan sy die deur toe. Die Ou Apostoliese profeet het selfs traktaatjies by die hope in haar posbus gaan sit. Sy het dit dan in die middel van die nag gevat en weer onder die kerkdeur gaan instoot, sonder skaamte.”

“Maar Tannie kan mos maar gaan probeer, net om die ys te breek, dan kan ek inkom en dit verder vat.  Kry haar maar net eers sag.” Ouma vertel my dat Dominee so knaend was met die storie, dat sy toe maar ingegee het. Ouma se oë trek op klein skrefies en sy vou haar hande voor haar bors, dan druk sy haar bril met die middelvinger op en sy dink.

“En nou Tannie?  Kan ek vir Tannie water kry?” vra Dominee, “want dit lyk so asof Ouma in ’n tipe van ’n trans in gaan.” Ouma het daardie manier van ’n ver kyk in die oog, so asof sy verder dink as wat dink is.

“Nee Dominee, kom sit dan maak ek tee. Sommer hier in die kombuis, as Dominee nie omgee nie,” en Ouma sit die ketel aan.

Genade, noudat ek daaraan dink. Ouma het my nog nooit ingenooi vir ’n koppie tee by haar tafel nie.  Maar ek verstaan dit tog maar op my manier. Anyway, terwyl die ketel kook, begin Dominee aan Ouma verduidelik wat sy plan is.

Lees volgende week Deel 2

 

Lees ook

Die Joons-kinners

Pluk vir my ’n ster

The post Fay se bekering (Deel 1) appeared first on LitNet.

Press release: The International Clarinet Extravaganza

$
0
0

The second International Clarinet Extravaganza will take place from 28 January until 1 February 2020 at the UFS Odeion School of Music (OSM) in Bloemfontein under the curatorship of Danré Strydom. Strydom founded the bi-annual event, which was successfully presented for the first time in 2016.

Danré Strydom, the clarinet and saxophone lecturer at the OSM stated the main objectives of the festival is to expose South African clarinet players, from beginners to advanced, as well as teachers and lecturers, to international clarinet trends and excellent artistry. Apart from the artistic event's workshops will also be presented regarding technical aspects with reference to mouthpieces, instruments, reeds and other equipment.

The international mentors and soloists for the second International Clarinet Extravaganza will be:

Belgium

Hungary/USA

Participants will receive individual and group masterclasses from the above-mentioned experts as well as other first-rate educators on a daily basis. In addition, they will also have opportunities to play in diverse ensembles and perform in daily concerts.  Special attention will be given to intonation, sight-reading and ensemble playing.

Competitions and prizes

Several prizes are on offer. The best clarinet player of the 2020 extravaganza will receive a full scholarship to attend the annual prestigious clarinet course at the Clarinetsonstage Academy in Mesen Belgium. According to Strydom, a top-notch group of international clarinet masters will be presenting the course 8-11 April 2020.

In addition, a composition competition is presented again and is open to composers of any age and any country. There are three categories - for clarinet and piano, clarinet and string quartet and clarinet, chamber orchestra. The winners will be announced during the opening ceremony and performed during the extravaganza.  Professional recordings will be made and extracts from the compositions will be published in the international clarinet magazine The Clarinet. Entry to the competition is free.

Learners from Gr 1 to 12 can participate in an art competition. The theme is the depiction of a clarinet in any medium and seen from the perspective of the artist.

Entries must be submitted to the OSM at the latest on January 24 at 16:00.

The winners will be announced in the Free State Symphony Orchestra (FSSO) concert on the last night of the festival.

Concerts

During the festival, all participants will have ample performance opportunities. 

Four lunchtime concerts are scheduled, as well as a gala concert by the celebrated Odeion String Quartet with the visiting artists as soloists.  An evening gala concert will be presented in collaboration with the Free State Symphony Orchestra under the baton of Alexander Fokkens premiering the newly commissioned works. The OSM Camerata under the baton of Elsabe Raath will premiere the work for chamber orchestra later this year during the annual OSM Dean’s concert. Every day will commence with a joint clarinet choir rehearsal. The clarinet choir will have a performance toward the end of extravaganza in a shopping mall.

The official accompanists for the extravaganza will be Anneke Lamont and Lesley-ann Matthews of the OSM, Jana Matthee of the North-West University School of Music as well as Cézarre Strydom from the Paul Roos Gymnasium in Stellenbosch.

Participation in the extravaganza costs R800, which includes attending all the concerts and masterclasses as well as a festival T-shirt. Prospective candidates in need of financial assistance can email clarinetextravaganza@gmail.com.

Detailed information about the complete programme and all the international artists and mentors can be acquired from the official Facebook page ZA International Clarinet Extravaganza.

The official partners for the event are the OSM, FSSO, Odeion String Quartet, OSM Camerata, Buffet Crampon and Toms in Bloemfontein. Participation by the international artists and mentors were made possible by the Rupert Foundation and the Bloemfontein International Arts Trust.

The post Press release: The International Clarinet Extravaganza appeared first on LitNet.

Resensie: Tronkhond deur China Mouton

$
0
0

Tronkhond
China Mouton
Protea Boekhuis 
ISBN: 978 1 4853 1085 3

Tronkhond deur China Mouton is ’n tydsdokument wat afspeel teen die agtergrond van die ontstuimige politieke veranderinge in Suid-Afrika; en op die keper beskou, die rol van hondemeesters binne die maksimumsekuriteitgevangenisse dwarsoor die land. Die teks is andersyds geskryf as ’n outobiografiese illusie, ’n oorsig oor die outeur se lewe en loopbaan as werknemer van die departement van korrektiewe dienste.

Die verhaal begin wanneer die 16-jarige China, nog nat agter die ore, diens op Robbeneiland aanvaar en met Nelson Mandela kennis maak. Mouton beskryf dié gevangene as ’n lang, breedgeskouerde man wat uitstekend kon skermboks – die leier van die politieke gevangenes, maar ook ’n vaderlike vertroueling wat saans vir die jong bewaarder hardgekookte eiers afgedop en deur die tralies aangegee het. Mandela het die seun by herhaling aangemoedig om verder te studeer. 

Die verteller was drie dekades lank by die honde-eenheid betrokke, en Tronkhond lewer verslag oor die bloedige en lewensgevaarlike omstandighede waarin bewaarders hulle daagliks bevind. China, bewapen met net ’n knuppel en dienshond, was dikwels op die voorfront van tronkgevegte of phakamas. Die dienshonde word karakters in eie reg: heroïese en gevalle helde, wat inderwaarheid ook lede van die Mag was, maar nooit die erkenning wat hulle verdien het gekry het nie. In teenstelling met die afgryse en brutaliteit van die tronklewe word hierdie opgeleide honde met liefde en deernis geskets. Mouton behou sy saaklike dokumentêre styl maar dis duidelik dat die enigste emosionele anker wat hy dekades lank gehad het, sy honde was. En telkens was die dood van dié geharde bewaarder se beskermers opnuut vir hom ’n slag:

Goedkoop, koste-effektief, besparing. Ek moet my ou grys wolf wat sy lewe vir my sou opoffer, terugvat veearts toe om uitgesit te te word. Ek kan tot vandag toe vir niemand vertel hoe ek daaroor gevoel het en wat ek daarvan dink nie. Ek het ná al die jare nog nie daarmee vrede gemaak nie. Ek is ook nie van plan om ooit daarmee vrede te maak nie. (32)

Mouton vertel ook van sy ervaring as ’n kreefvanger vir ’n fabriek in Elandsbaai, sy belewenis as kadet-brandweerman in Bellville, en die skrywer neem die leser op ’n avontuurreis. Hy ontmoet ’n meisie genaamd Danieta, met wie hy trou, maar ná die geboorte van sy seun, Charl, word hy gekonfronteer met die nuus dat hy breinvliesontsteking het – en die verpletterende tyding dat hy moontlik die res van sy lewe gestrem sou wees. Besoeke aan geloofsgenesers het die seun se toestand onveranderd gelaat. 

Die verhaal berig voorts oor Mouton se liefde vir perde, boks en hegte vriendskappe met kollegas. Die skrywer is ’n mensch en bely met brute eerlikheid dat hy te veel drink, sy vrou verwaarloos en hoe PTSD stelselmatig sy tol begin eis. ’n Interessante kenmerk van die boek is dat Mouton selde veroordelend teenoor enige persoon staan, hetsy moordenaars of gangsters; in stede daarvan probeer hy verstaan wat die dryfvere agter die gevangenes se optrede is. Hy spreek nie net die verdoemdes vry nie, maar soek ook vryspraak vir sy eie persoonlike dwalinge. Op ’n kol het die verteller, terwyl hy ’n drankwinkel bestuur het, hom aan die smokkel van verbode middels skuldig gemaak en hy skryf verfrissend eerlik oor hierdie periode in sy lewe.  

Ook die politieke onrus onder gevangenes tussen 1989 en 1994 kom onder die loep, waartydens die toenemende geweld in gevangenisse as gevolg van die toename in vakbonde bly eskaleer het. Die vooruitsig van die eerste demokratiese verkiesing (1994) het die hoop op amnestie vir tronkstraf laat opvlam – ’n vonk in die kruitvat wat die onderskeie subkulture van bendegeweld tot ’n kataklismiese laagtepunt sou stuur. Mouton, ’n asmalyer, se gesondheid het agteruit gegaan en hy is geteister deur delusies dat sy vervreemde vrou en gesin na hom sou terugkeer. Sy huwelik sou egter onherstelbaar verbrokkel.  

Tronkhond is ’n unieke werk. Te midde van die geweld en wreedheid word die honde sekuur verbeeld as die selflose helde wat met reg ’n rol in die oorgang na ’n nuwe Suid-Afrika gespeel het. 

In die bedankings lys Mouton dan ook die name van sy dienshonde en die boek sluit in ’n figuurlike “muur van herinnering” af:  

Julle was my beste vriende, ek sal julle nooit vergeet nie. 
Storm
Carlos
Wolfie
Smokie
Tekkies
Jockey
Dirkie 
Quin 
Brutus 
Stormer 
Choppie.  

Lees ook:

Skrywersonderhoud: China Mouton oor Tronkhond

The post Resensie: <em>Tronkhond</em> deur China Mouton appeared first on LitNet.

Reisskets: Die hond van Afrika

$
0
0

Mpulungu, Tanganjikameer, Zambië, 2001

Foto ter illustrasie

Ek staan saam met die malende massa en wag op die waardige ou MV Liemba toe dit skielik tussen Mbete en Krokodileiland sigbaar word. Vrydag is Liembadag in Mpulungu, Zambië se enigste hawedorp op die onderpunt van die Tanganjikameer. Die polsende klein hawe gons soos ’n bynes met mense uit elke uithoek van Afrika, en selfs van ver buite die kontinent se grense, wat wag op die groot weeklikse gebeurtenis.

Die reuse vragskip vaar sedert die Eerste Wêreldoorlog op die waters van Tanganjika. Eers was dit ’n oorlogskip, toe ’n sendingvaartuig. In 1916 het die Duitsers die skip tydens die Eerste Wêreldoorlog naby Kigoma gekelder. Die Britte het dit in 1924 ’n vlot gemaak. Deesdae deurkruis die Liemba die 680 kilometer lange vars waters. Sement, pynappels, suiker, passasiers en – so beweer mense – allerhande onheilighede word van hawe tot hawe vervoer. Liembadag is die hoogtepunt van die sosiale kalender; man, vrou en kind fleurig geklee in helder uitrustings met bypassende hooftooisels.

Die MV Liemba (foto: Wikipedia)

Ons kry spesiale toestemming om aan boord te gaan. Vanaf die boonste dek van die skip is my uitsig op Mbete-eiland ongehinderd. Ek word deur die klein eilandjie betower. Dit is skaars 300 meter weg van die vasteland en, ten spyte daarvan, totaal ongerep. Reusagtige bome en digte slingerende rankplante vorm ’n ondeurdringbare ringmuur om die eiland. Dig begroeide rotse val loodreg in die donker dieptes van die meer en hier en daar vertel ’n skoon sandbaaitjie van hoe Afrika eens gelyk het – voor plastiek en oorbenutting sy tol geëis het.

Die sustereiland, Krokodileiland, is daarenteen heelwat verder van die vasteland af, maar is totaal verwoes deur die vissermanne wat daar woon, werk en verwoes. In kontras met Mbete is Krokodileiland kaal gestroop, onooglik, vol plastiek. Op kaarte van die area word Mbete aangedui as Kumbula-eiland, maar die plaaslike Lungu’s noem dit Mbete, na hul voorvader. Dis ’n heilige plek in die Lungu-tradisie en dit is waarom die eiland, anders as Krokodileiland, ongerep gebly het, vertel iemand. Dis verbode terrein; niemand mag daarheen gaan nie.

Wanneer die Lungu’s ’n nuwe hoofman moet kies, word voorvader Mbete se goedkeuring eers gesoek. Die nuut verkose Tafuna moet vóór sy inlywing na Mbete-eiland swem. Die groot toets lê egter nie in die afstand nie. Die meer wemel van krokodille en hoewel die induna’s op bote saam vaar, mag hulle nie die jong Tafuna help nie. Kom hy ongedeerd anderkant uit, keer hy triomfantelik met die boot terug. Maak hy dit nie, was dit die wil van die voorvaders.

Illustrasie van 'n kapenta-vis

Snags, as die gewoel vanaf die hawe en die aangrensende mark na die hoofstraat met sy winkels, restaurante en huise van plesier skuif, verander Tanganjikameer in ’n betowerende spel van sirkelende ligte en verskietende sterre. Donkeraand vaar groot vissersbote een na die ander die hawe uit, tussen die eilande deur na die diep waters. Elke boot sleep ’n streep bakkies kompleet soos ’n moedereend met haar kleintjies agterna. Wanneer waters diep genoeg is, vorm die moederboot en die bakkies ’n wye sirkel en laat sak ’n reusagtige net. Donkernag kruip die bemanningslid op elke bakkie met ’n skerp lig uit sy ongemaklike skuiling. Die ligte lok die miniatuur kapenta-vissies in hul duisende na die oppervlakte. Die net word opgetrek en die kapenta aan boord geneem. Wanneer die vrag vol gelaai is, keer die moedereend en haar kleintjies terug hawe toe.

Laatnag, toe die Liemba lank reeds tussen Mbete- en Krokodileiland verdwyn het en die nagmusiek die inwoners in die rookgevulde kuierplekke vermaak, staan ek op die stil kaai en kyk na die spelende ligte. En toe hoor ek dit: ’n jammerlike gehuil. Ek luister fyn, en ja, dit is ’n hond wat huil. Die klank kom van Mbete-eiland af. Die volgende oggend voor die dorp ontwaak is ek met my verkyker terug op die kaai. Op Mbete gooi die maer Africanis-hond sy kop agteroor en kerm sy nood uit.

Toe die dorp ontwaak, begin ek soek na iemand om die hond met ’n boot te gaan haal. Ek bied goeie geld aan, maar sonder enige sukses. ’n Sekuriteitswag, ’n getroue bron van inligting, verduidelik: Die Lungu is ’n klein stam in Zambië, maar is bekend vir hul onwrikbare tradisies. Mbete was en is ’n groot leier en sy rusplek is heilig. Die ou man knyp sy oë toe teen die skerp lig en gee raad: “Jy sal nie sommer ’n Lungu kry nie. Soek ’n vreemdeling.”

Ek vind uiteindelik ’n Kongolees wat bereid is om die volgende oggend die vaart te onderneem. Die aand huil die hond steeds hartverskeurend, maar vroegoggend soek ek vergeefs met my verkyker. Die hond is nêrens te sien nie. Die hond is stil. Die ou Lungu verklaar met jare se wysheid: “Die hond was te honger en het land toe probeer swem. Die krokodille …”

Weke later, tydens ons laaste naweek in die dorpie, nooi ons ’n paar vriende vir ’n bootrit om die ongerepte eiland. Daar is Ross en Gwen van die koffieplantasie, Anthony en Belinda van die plaaslike visfabriek en Alice, ’n bejaarde non. Die stukkie ongerepte Afrika is ’n vreugde. Ons verkyk ons aan die ongelooflike digte plantegroei, vir eeue onaangeraak deur mensehande. Hier het die natuur sy gang gegaan: sporadiese brande, hewige donderstorms en die ritme van die seisoene. “This is how the Creator meant it to be,” sê Alice in haar swaar Skotse aksent.

Toe ons na ’n uur die nou poort tussen Mbete- en Krokodileiland nader, is ons nat en koud van die sproei, maar dankbaar vir die ongeskonde stukkie Afrika. En toe, eers net ’n vaal kol in die donkergroen, maar gou onmiskenbaar duidelik, sien ons ’n ontboste stuk aarde. Eers maak ons ’n paar hutte uit, toe ’n tiental mense, nog later papiere en plastiekkanne. Ons kyk in ongeloof na die skipper.

“Kongolese vissers. Drie maande gelede, toe ek laas hier was, was daar net twee mans.”

Die wind sny skerp deur ons nat klere. Ons is doodstil, koud en moeg. Alice delf diep in haar mandjie en haal ’n bottle Old Brown Sherry uit. Die bottel gaan van hand tot hand. Die kerk, getrou aan sy opdrag, red die oomblik. Maar die eiland …

Soms, in ’n donker nag, hoor ek hom onophoudelik huil – die hond van Afrika.

Lees ook:

Reisskets: Die dans van die Rooi Romp

The post Reisskets: Die hond van Afrika appeared first on LitNet.


Resensie: The Stellenbosch Mafia – Inside the Billionaires’ Club deur Pieter du Toit

$
0
0

The Stellenbosch Mafia – Inside the Billionaires’ Club
Pieter du Toit

Uitgewer: Jonathan Ball
ISBN: 9781868429189

Gedurende die halfeeu wat die Tweede Wêreldoorlog voorafgaan, sirkuleer daar 'n onrusbarende skryfsel wat uiteensit hoe die Europese en globale Jodedom besig is om stilletjies wêreldoorheersing te beplan. Die skryfsel kry mettertyd stertjies: Afhangende van jou politieke oortuiging kom daar variasies na vore wat die “groot Joodse plan” as die dryfveer agter kapitalisme identifiseer, en ander waarsku weer hoe oproerige arbeiders en radikale politiek die nare heksebrousel van 'n geheimsinnige kommunistiese Joodse komplot is. Maar verskeie kere sedert die eerste publikasie daarvan in Rusland in 1903 bewys teksontleders en plagiaatondersoekers dié anti-Semitiese pamflet as 'n totale versinsel.

Die skryfsel staan bekend as Protocols of the Elders of Zion en is waarskynlik een van die ernstigste en verreikendste gevalle van fopnuus in die moderne era.

Ten spyte daarvan dat soveel kundiges die Protocols as 'n infame leuen bewys het, sou die nywerheidsmagnaat en vername anti-Semitis Henry Ford betaal vir die druk en verspreiding van duisende kopieë in die VSA en het onderwysburokrate in Nazi-Duitsland die Protocols as verpligte leesstof op skoolvlak beveel.

Teen Mei 1945 is ongeveer ses miljoen Jode in Nazi-doodskampe in Oos-Europa vermoor.  

Du Toit se Stellenbosch Mafia het my herinner aan die Protocols. Nie omdat Du Toit self besig is om gevaarlike versinsels oor 'n geheimsinnige groepie Afrikaner-miljardêrs te skep nie, maar juis oor sy poging om die sameflansing van stories, staaltjies, legendes, fopnuus en samesweringsteorieë rondom die geskiedenis van Afrikanerkapitaal te ondersoek.

Onder die omstandighede is hierdie boek 'n welkome verwikkeling, want die Suid-Afrikaanse publiek ly weens die onheilige drie-eenheid van staatskaping, misdaad en trae ekonomiese groei, wat 'n teelaarde is vir gewelddadig-verdelende politici om sondebokke van mense te maak. Wanneer armoede druk, vlug ook die liefde vir waarheid by die agterdeur uit. En in die inligtingsera met sy gepaardgaande sosiale-media-oordaad versprei slegs slimverpakte fopnuus vinniger as 'n Australiese veldbrand.

Die openbare-betrekkinge-firma Bell Pottinger se meedoënlose “witmonopoliekapitaal”-projekkie het Suid-Afrika erg verdeel en die openbare diskoers gekaap. Die Guptas en Jacob Zuma het die rekening betaal vir 'n openbare debat wat deur groot geld en korrupte oogmerke gerig is, eerder as deur demokratiese dialoog en samewerking.

Maar Stellenbosch Mafia is nie 'n poging om foute reg te stel nie. Dit lees ook nie soos 'n stapsgewyse ontbondeling van 'n gevaarlike koeksel versinsels nie. Dit bevat 'n relaas oor die geskiedenis van (sommige van) Stellenbosch se sake-indoenas, maar die boek is nie 'n Giliomee-eske geskiedkundige grootsheid soos Die Afrikaners of Tembeka Ngcukaitobi se The land is ours nie.

Stellenbosch Mafia se probleem is nie soseer dat dit afwyk van gevestigde niefiksiebeginsels nie. Die boek se fundamentele probleem is dat die doel en narratiewe uitvoering daarvan onduidelik is.

Die dun, skarlakenrooi boekie met sy ietwat sensasionele titel herinner op 'n baie ironiese wyse aan die Kommunistiese Manifes van Karl Marx, en die prykende profiele van vier groot Afrikaanse sakemanne (lnr Johann Rupert, Christo Wiese, Markus Jooste en Jannie Mouton) op die voorblad trek op die gerangskikte koppe van Marx, Engels, Lenin en Stalin wat dikwels op propagandaplakkate uit die Sowjet-era te siene is.

Ek kon nie anders as om te giggel oor die subtiliteite hiervan nie, maar gelukkig is dit nie opvallend genoeg dat 'n mens die indruk van uitdruklike vooroordeel kry nie.

Tog is hierdie ondeunde voorblad 'n leitmotief vir die onduidelike trant wat volg. Die voorwoord kon met 'n bietjie skaafwerk 'n opsomming van die boek wees, omdat Du Toit in elke verdere hoofstuk nie ophou liries raak nie oor “Stellenbosch [the] unique town, steeped in Afrikaner political and cultural history ... Its oak-lined streets and Cape Dutch architecture, girded by cobalt-blue mountains ... one of the prettiest towns in the country and an eminently desirable address” (bl xv).

Du Toit se beskrywing kan maklik 'n gesoute reisskrywer van Getaway ore aansit, maar “prentjiemooie Stellenbosch” word weens oordadige herhaling 'n vulsel-refrein, wat 'n mens laat wonder of die boek eerder op die ontvangstoonbank van 'n swierige eiendomsagentskap in Dorpstraat hoort.

Du Toit eindig die voorwoord met 'n doelstelling (xvi): Hierdie stuk werk wil die egtheid van 'n “Stellenbosse Mafia” bepaal, wie die lede daarvan is en waar hul rykdom vandaan kom. Die boek vermeld dus vroeg reeds 'n ondersoekende beweegrede. Gegewe die hoë standaarde van ondersoekende joernalistiek wat al gestel is deur eietydse joernaliste soos Jacques Pauw en Pieter-Louis Myburgh, is dit verblydend dat Du Toit die reikwydte van sy navorsing as volg stel, al is dit nou ook in die negatiewe:

A study like this one, incomplete as it undoubtedly is, cannot rely solely on anecdotes about liquid lunches at the Decameron restaurant or a billionaire importing luxury vehicles and giving them to friends. Nor can it only be about the vanity of Jooste and the inevitability of Steinhoff’s demise.

Die jammerte is dat hierdie staaltjies, gemeet aan die res van die feitebesprekings in die boek, min of meer die somtotaal van Du Toit se ondersoek na 'n mafia beslaan. Meer as die helfte van die boek, dit wil sê 105 uit 193 bladsye, word oorheers deur die Ruperts se persoonlike verhale en korporatiewe herkoms.

Dit maak aanvanklik sin dat meer as een hoofstuk aan die Rupert-verbonde sakeryk gewy word. Die verhaal van Anton Rupert was al voor die verskyning van Ebbe Dommisse se biografie oor die groot sakeman 'n sentrale en vormende oomblik in die geskiedenis van die post-Vryheidsoorlog maatskaplike omgewing en die Afrikaner-oorheerste Suid-Afrika van die anderhalf 20ste eeu. Rembrandt word goed nagespeur en Du Toit slaag daarin om Rupert senior se rol in die maatskappy behoorlik in die konteks van 'n vroeë en latere Nasionale Party-bewind te plaas (bl 55, “The first Afrikaner businessman”). Du Toit gaan ook genuanseerd om met Rupert junior se rol enersyds as polities verligte Afrikaner-sakeman gedurende apartheid en andersyds as vervreemde en teleurgestelde figuur binne die ongedurige, ontsteekte politieke tektoniek van die staatskaping-era.

'n Kernmoment wat nie in die “Rupert-hoofstukke” of die res van die boek voorkom nie, is enige verwysings na die invloed van die finansiële krisis van 2008 op die Suid-Afrikaanse politieke en ekonomiese omgewing. Dit is 'n belangrike geopolitieke oomblik hierdie wat nie net sekere Europese nasies geskok het nie, maar dit het die strukturele swakhede en selfs blatant korrupte gedrag binne die wêreldwye finansiële sektor geopenbaar. Sedert die krisis het die gepaardgaande werk- en haweloosheid en maatskaplike verval gelei tot 'n nuwe era van protespolitiek en ideologiese ekstremisme oral op die spektrum. Vir 'n boek soos Stellenbosch Mafia met sy aanvanklike doelstelling om die bedrading van Afrikanerkapitaal te bekyk, is ten minste 'n konteksskeppende verwysing na hierdie tydperk onontbeerlik.

Na afloop van die “Rupert-hoofstukke” verwag 'n mens dat die boek verder handel oor die verskeie ander gesigte van Afrikanerkapitaal wat as foto’s (net voor die voorwoord) onder die hofie “Cast of Characters” verskyn.

Die leser word ongelukkig teleurgestel, want benewens 'n kort intermissie wat Edwin Hertzog se Medi-Clinic-sakeryk bespreek na afloop van 'n onderhoud met dié privaat gesondheidsmagnaat, stoomrol die boek voort na 'n nuwe afdeling wat byna in die geheel bestaan uit die val van Steinhoff en Markus Jooste. Die “Markus-hoofstukke” sou indrukwekkend gewees het as die werk van James Brent-Styan (van die blitsige Steinhoff en die Stellenbosse Boys-faam) en verwante skrywes nie lankal reeds ons bedkassies vol gelê het nie.

Wat die Markus-hoofstukke nog meer ongeleë maak, is die skynbare kontras wat dit vorm met die Rupert-hoofstukke. Bedoeld of nie, die indruk word gewek dat die leeueaandeel van die boek 'n Rupert-ophemeling is, terwyl die res van die boek dít wat van Steinhoff oorbly, in 'n sterkvloeiende leivoor inskop.

'n Laaste karige appendiks is dan nou ook hoofstuk 13 (bl 181, “Turning new money into old”) wat 'n paar persoonlike staaltjies en vertellings deur die hoofman van Capitec bevat, te wete Michiel le Roux, asook die PSG-man Jannie Mouton. Die hoofstukkie bevat, soos die Rupert-hoofstukke, 'n stel verwerpings van enige toutjiestrekkende Boeremafia. Die tema wat weer hier opduik, is dié van sogenaamde “inkommers” op Stellenbosch met warm geld en die groot manne met hulle ou geld. Dit is nou 'n souserige en ietwat kinderagtige brokkie sensasie hierdie, maar dit dien seker die doel om interne tweespalt onder diegene wat van Afrikanermafioso beskuldig word, uit te wys. Ongelukkig doen dit nie veel meer nie, want samesweringsteoretici soos die ouens met die rooi barette sal jou gou-gou vertel dié tweedrag dui bloot op twee koppe van dieselfde geheimsinnige basilisk.

Ten slotte is Stellenbosch Mafia 'n lekker stukkie navorsing wat blitskennis en insig gee oor Suid-Afrika se rykste Afrikaners. Du Toit kan op die skouer geklop word dat hy probeer het om netelige Boeremafia-aantygings in hierdie era van dezinformatsiya uit te klaar.

Het hy geslaag? Ek twyfel; dit is vermoedelik 'n onbegonne taak. Soos Etienne van Heerden se pragtige en onthutsende roman Die biblioteek aan die einde van die wêreld dit uitwys, leef ons in 'n era van totale onvermoë om dialoog te voer. Soos Van Heerden se Afrikanerkarakter Ian Brand en die stoere Feesmustfall-aktivis Thuli Khumalo illustreer, is daar 'n nukkerige, koppige muur tussen politieke groepe in ons etnies en materieel verdeelde land, waar pogings om die rede aan te wend om die rekord reg te stel of feite uit te wys, uit die staanspoor met dekolonialiserende agterdog bejeën word en verlore raak in aggressie en geskiedkundige pyn.

Maar net soos met die verhaal van die Protocols durf ons nie die geskiedenis misverstaan en toelaat dat onwaarheid en versinsel die rigtinggewer word vir 'n kritieke massa mense nie. Daarom behoort ons pogings soos Stellenbosch Mafia te ondersteun vir sover dit om versigtigheid en verknogtheid aan die ware feite vra.

Terselfdertyd moet hoë bome soos ons Afrikaner-miljardêrs besef dat 'n barmhartige leefwyse hulle nie kwytskeld van kritiek en bevraagtekening in ons demokrasie nie.

Wat my altyd sal pla, is hoe 'n handjievol Afrikaanssprekendes met weinig hulpbronne aanhou om die stryd te voer ter wille van inheemse meertaligheid aan die Universiteit Stellenbosch, terwyl Du Toit se boek getuig van hoe Wim de Villiers, wie se administrasie se ruggraatlose niksdoen regstreeks lei tot Afrikaans se afsterwe as funksionele akademiese taal op Maties, saam met die Afrikaner-miljardêrs by Die Volkskombuis smul (bl xi, “Preface”). Die skyn en kortsigtige elitisme hiervan is skreiend. Ek wag nog dat die gewone middel- en werkersklas-Afrikaner- en Afrikaanssprekende bevolking, wat so maklik deur die rykste Afrikaanse establishment as “kommin” en “verkramp” uitgekryt word, hierdie menere vir 'n slag terugroep aarde toe.

Lees ook:

Resensie: Die biblioteek aan die einde van die wêreld deur Etienne van Heerden

The post Resensie: <em>The Stellenbosch Mafia – Inside the Billionaires’ Club</em> deur Pieter du Toit appeared first on LitNet.

Skrywersonderhoud: Carel van der Merwe oor Kansvatter – Die rustelose lewe van Ben Viljoen

$
0
0

Remona Voges gesels met Carel van der Merwe oor sy boek Kansvatter Die rustelose lewe van Ben Viljoen.

Kansvatter Die rustelose lewe van Ben Viljoen
Carel van der Merwe
Uitgewer: Protea Boekhuis
ISBN: 9781485310563

Carel, baie geluk met jou boek. Dit is ’n lywige stuk navorsing! 

Jy het nog altyd ’n fassinasie met die Anglo-Boereoorlog gehad. Die boek, Donker Stroom – Eugene Marais en die Anglo-Boereoorlog, kom byvoorbeeld ook uit jou pen. Wat is dit omtrent hierdie tydperk in die geskiedenis wat jou so fassineer? 

Ek het nie ’n fassinasie met die Anglo-Boereoorlog as sulks nie, eerder met spesifieke karakters. My romans wat ek voor Donker Stroom geskryf het, handel dan ook geensins oor die Anglo-Boereoorlog nie. Wat Donker Stroom betref, het dit ontstaan uit my belangstelling in Eugène Marais, en spesifiek dit waarmee hy hom besig gehou het in die sowat vyf jaar (1897-1902) wat hy in Londen gewoon het. Hierdie jare oorvleuel die tydperk (1899-1902) waarin die Anglo-Boereoorlog plaasgevind het. Tot my verbasing het ek met my navorsing uitgevind dat Marais ’n groot rol in die aanloop tot die Anglo-Boereoorlog gespeel het, sowel as tydens en in die nasleep van dié oorlog. Vanselfsprekend moes ek toe navorsing oor die Anglo-Boereoorlog doen. 

Kansvatter daarenteen handel oor die lewe van Ben Viljoen, en slegs drie uit die 20 hoofstukke handel oor sy rol in die Anglo-Boereoorlog. Ek het juis in die subtitel – Die rustelose lewe van Ben Viljoen – hom nie generaal Ben Viljoen genoem nie, om aan te dui dat Kansvatter nie net nog ’n boek oor die Anglo-Boereoorlog is nie, maar oor ’n hele lewe, van wieg tot graf.

Wat is dit van Ben Viljoen wat jou verbeelding so aangegryp het dat jy ’n hele boek oor hom geskryf het? Hoe het jou Ben Viljoen-reis begin? 

My belangstelling in Ben Viljoen het geleidelik ontstaan en dit was die gevolg van verskeie prikkels. In my navorsing vir Donker Stroom het ek bewus geraak van die aanvanklike vriendskap en latere vyandskap tussen Ben en Eugène Marais in die voormalige Zuid-Afrikaansche Republiek (ZAR) in die dekade voor die uitbreek van die Anglo-Boereoorlog. Ben het selfs sy eersgebore kind Wynand Eugène gedoop toe hy en Marais nog vriende was. 

Ben Viljoen, sy eerste vrou, Lenie, en hul eersteling, Wynand Eugène, omstreeks 1895 in Krugersdorp. (Transvaalse Argiefbewaarplek)

Die basiese feite oor Ben se lewe het ek op daardie tydstip in die verbygaan ingeneem: die arm trekboerseun uit die destydse Transkei wat eers ’n polisieman aan die Wes-Rand was, toe ’n joernalis en koeranteienaar in Krugersdorp, daarna op 30-jarige ouderdom militêre kommandant van Johannesburg, asook dié stad se verteenwoordiger in die ZAR se Tweede Volksraad. Binne ’n jaar ná die uitbreek van die Anglo-Boereoorlog is hy bevorder tot veggeneraal en daarna assistent-kommandant-generaal van die Transvaalse magte onder kmdt-genl Louis Botha; hy is gevange geneem in die laaste maande van die oorlog en na St Helena verban en emigreer ná sy vrylating na Mexiko en toe Amerika waarna hy uit die Suid-Afrikaanse geskiedenis verdwyn. Reeds tóé was hy ’n interessante karakter uit daardie tydperk wat in my kop vasgesteek het. 

Genl Ben Viljoen (4de van regs agterste ry) en van sy kommandolede in die Pelgrimsrus-distrik in 1901. (Nicol Stassen-versameling)

’n Ander belangrike prikkel was Sonja Loots se roman Sirkusboere wat ek gelees het in die tyd toe ek met navorsing oor Marais besig was. Hierin is Ben een van die hoofkarakters en skets Loots Ben se deelname aan die Boereoorlogskouspel by die 1904 St. Louis World’s Fair in die VSA. Haar uitbeelding van Ben was boeiend: sjarmant, flambojant, impulsief, losbandig en rusteloos. Loots het ook vlugtig verwys na Ben se latere deelname aan die Mexikaanse revolusie en sy aanstelling as Mexikaanse konsul in Duitsland. Definitief nie jou tipiese tradisionele en familievaste, godvresende Boer van sy tyd nie – soos die stereotipe in my kop dit wou hê. Maar alhoewel Sirkusboere ’n feitelike onderbou het, bly dit fiksie. Die saad vir verdere navorsing was egter hierna geplant: Wie was die ware Ben Viljoen, en hoe het dit gebeur dat ’n Afrikaner uit daardie era by sulke uiteenlopende gebeure in soveel verskillende lande betrokke geraak het?

Van links na regs: Kmdt JN Boshoff, genl Piet Cronjé, genl Ben Viljoen en kmdt GM van Dam tydens ’n optrede van die St Louis-Boereoorlogskouspel van 1904. (Benjamin Viljoen III-versameling)

Skyngeveg by Colenso tussen Boere en Britte tydens ’n optrede van die St Louis-Boereoorlogskoupsel van 1904. (Benjamin Viljoen III-versameling)

Ben Viljoen voor sy tent in die Boere se laer tydens die St Louis-Boereoorlogskouspel van 1904. (Benjamin Viljoen III-versameling)

Daar is baie lesers wat nog nooit van Ben Viljoen gehoor het nie. Beskryf sy karakter in ’n neutedop.

Ben was ’n veelsydige figuur, ’n joernalis en skrywer, politikus en Boeregeneraal, kansvatter en pierewaaier, avonturier en showman, vrymesselaar en vrybuiter, rebel en individualis. Toe hy 34 was, het hy homself in ’n outobiografiese artikel verbasend goed beskryf: “[A] man of restless spirit, with an ever-present desire to do something better.” In die wyse waarop hy sy ambisie nagestreef het, was hy aweregs en opportunisties. Hy het ook ’n sterk streep narsisme gehad.

In jou boek vergelyk jy Viljoen met die argetipiese Hermes-figuur. Waarom?

In die Griekse mitologie was Hermes ’n mindere god wat in ’n grot gebore is en van kleins af die ambisie gehad het om tot die kring van die groter Griekse gode toegelaat te word. Hy was ’n buitestander wat van alle middele, geoorloof en ongeoorloof, gebruik gemaak het om ’n gevestigde groep binne te dring en as gelyke erken te word. Hermes is dan ook die argetipe van die sogenaamde truukster, ’n vabond en bekoorder wat in die mites en volksverhale van baie kulture voorkom. Van die kenmerke van truuksters is hul welsprekendheid, geslepenheid, rondswerwery en amoreuse avonture. 

Ben was ’n buitestander toe hy op 18-jarige ouderdom in die ZAR aangekom, en hy het ’n brandende ambisie gehad om opgang in die lewe te maak. Sy eienskappe en werkswyse herinner aan die van die mitologiese Hermes. En soos Hermes is Ben ook in ’n grot gebore! In die Griekse mitologie is Odysseus die ander bekende truukster, ’n veelkantige figuur wat sy karakter na gelang van omstandighede verander het om te oorleef. Odysseus was nie aan ’n vaste identiteit gebonde nie en het met die verhale van sy avonture sy karakter in die oë van ander gevorm, iets wat Ben veral in sy jare in die buiteland gedoen het.

Jy skryf, soos ’n ander navorser oor Viljoen ook uitwys, dat hy nooit ’n volksheld geword het nie, hoewel hy al die eienskappe van een besit het. Hoekom dink jy is dit die geval?

Ben was ’n dapper en prominente jonger generaal in die Boeregeledere; dit was juis hierdie volkshelde wat ná die Anglo-Boereoorlog die nuwe politieke elite van die Afrikaners gevorm het. Vir nasionalistiese Afrikanerhistorici in die vorige eeu was Ben egter ’n problematiese figuur om in die destydse heersende narratief van die Anglo-Boereoorlog en sy nasleep te plaas, en is hy na die kantlyne rangeer. Tekenend hiervan is dat sy oorlogsherinneringe ná die Anglo-Boereoorlog in Nederlands, Duits en Engels uitgegee is, en in 1973 in Engels herdruk is, maar nooit in Afrikaans vertaal is nie. 

Ek glo daar is ’n paar redes hoekom Ben nooit ’n volksheld geword het nie. Eerstens het Ben reeds sedert ná die val van Pretoria in Junie 1900, amper twee jaar voor die einde van die ABO, begin bepleit dat die Boerepublieke met Brittanje vrede moet maak. Hy was baie uitgesproke hieroor, iets wat in leidende Boerekringe nie goed afgegaan het nie. Die omstandighede van sy gevangeneming in Januarie 1902 was vir heelwat Boereleiers dus verdag: kmdt-genl Louis Botha was oortuig dat Ben eenvoudig oorgegee het. Ben se na-oorlogse politieke uitsprake in die Transvaalkolonie en Brittanje het hom ook vervreem van Boereleiers soos genls Botha, Smuts, De la Rey en De Wet. Hy het homself onder meer uitgebeeld as baie meer versoenend teenoor Brittanje as hulle, en ’n breë Suid-Afrikanisme bepleit, eerder as ’n fokus op Boerebelange. Die bekendmaking aan die einde van 1903 van sy buite-egtelike verhouding met May Belfort het sy aansien in die destyds grotendeels Calvinistiese Boeregemeenskap baie skade aangedoen, so ook sy deelname aan die Boereoorlogskouspel by die 1904 St Louis wêreldtentoonstelling. Laastens het sy emigrasie in 1904 na die VSA hom ook uit die volksoog verwyder.

Wat was vir jou van die mees fassinerende ontdekkings wat jy oor dié veelbesproke figuur gemaak het? 

Ek was verbaas oor hoe ernstig Ben se buite-egtelike verhouding met donkerkop Ierse variété-arties May Belfort werklik was. Dit was nie net ’n kortstondige flirtasie nie, maar ’n lang verhouding wat Ben se lewensloop verander het. Toe Ben haar aan die begin van 1899 in Johannesburg ontmoet het, was May reeds ’n vrou met ’n reputasie weens haar gewaagde vaudeville-vertonings op die verhoë van Londen en Parys se variété-teaters en nagklubs. In Parys het sy gereeld opgetree in die nagklub Le Cabaret des Décadents, waar een van die gehoor se gunstelinge haar liedjie “Daddy wouldn’t buy me a bow-bow” was. In dié nommer het sy op die verhoog verskyn met ’n swart katjie in haar arms en aangetrek soos ’n baba. Terwyl sy die katjie saggies gestreel het, het sy dan in ’n miaau-stemmetjie gesing: “I’ve got a pussy cat, I’m very fond of it.” Die dubbelsinnige betekenis hiervan het haar waarderende mansgehoor nie ontsnap nie. Haar private lewe was selfs in hierdie dekadente kringe berug en onder haar bedmaats was ook talle vroue. In Parys het sy ook die oog van Henri de Toulouse-Lautrec gevang, wat haar in verskeie van sy werke uitgebeeld het. ’n Meer onwaarskynlike verhouding kan jy jou kwalik voorstel – die Boeregeneraal en die biseksuele buitelandse verhoogkunstenares.

May Belfort en haar swart katjie soos geskilder deur Henri de Toulouse-Lautrec. (Wikipedia)

Of hul verhouding al in 1899 begin het, kon ek nie vasstel nie, maar volgens May se latere mededelings lyk dit of dit wel het. May is terug na Brittanje voor die uitbreek van die ABO. Kort ná sy terugkeer uit sy krygsgevangeskap op St Helena in Julie 1902 het Ben, toe nog steeds getroud, na Brittanje gereis en haar daar weer ontmoet. Hul verhouding het tot aan die einde van 1903 geduur, en hulle het twee lang skeepsreise saam onderneem, eers van Brittanje na Suid-Afrika, toe later weer terug na Brittanje. Sy en Ben het ook met tye in Londen en Johannesburg saamgewoon. Soos ek in Kansvatter aantoon, was die rede hoekom Ben ná die afloop van die Boereoorlogskouspel by die 1904 St Louis wêreldtentoonstelling nie na Suid-Afrika teruggekeer het nie, die ontydige bekendmaking van hierdie verhouding, eerder as sy openbare uitsprake dat hy nie onder Britse heerskappy wou lewe nie.

May Belfort omstreeks toe Ben Viljoen haar ontmoet het. (Washington Times, 18 Oktober 1902)

In die Britse staatsargiewe het ek ’n geheime verslag ontdek wat lord Kitchener, die Britse bevelvoerder in Suid-Afrika in die laaste fase ABO, aan die Britse oorlogsminister geskryf het. Hierdie was na aanleiding van ’n gesprek wat hy en Ben in Pretoria gehad het kort na Ben se gevangeneming in Januarie 1902. Die inligting in hierdie verslag het my regtig onkant gevang, om die minste te sê.

In Mexiko het ek in verskeie argiewe die uitgebreide korrespondensie tussen Ben en die destydse Mexikaanse president Francisco Madero opgespoor. Die omvang van Ben se betrokkenheid in die Mexikaanse revolusie en latere politieke lewe van dié land het my verras. Madero het ’n baie goeie vriend van Ben geword het nadat Ben hom gehelp het om die bewind van Mexikaanse diktator Porfirio Díaz om te werp, en hom sodoende in staat gestel het om die nuwe president van Mexiko in 1911 te word. Dit is Madero wat Ben as vredeskommissaris onder die Yaqui-Indiane aangestel het, en ook later ’n pos vir hom as Mexikaanse konsul in Duitsland bewerkstellig het. Daar is nog baie ander fassinerende ontdekkings wat ek gemaak het, soos Ben se betrokkenheid in Hollywood en ’n mislukte opstand in Mexiko, maar ek sal maar hier ophou. 

Ben Viljoen (vierde van links), die Mexikaane revolusionêre leier Francisco Madero (vyfde van links) en ander Mexikaanse revolusionêre bevelvoerders ná die slag van Juárez in Mei 1911. (Barbara Fonseca-versameling)

Ben Viljoen (sittende heel regs) en ’n afvaardiging Yaqui-Indiane (staande met hoedens in agterste ry) in Mexikostad in September 1911. (Transvaalse Argiefbewaarplek)

Die subtitel van die boek is Die rustelose lewe van Ben Viljoen. En hoe waar is dié woorde nie. Hy was altyd aan die beweeg, altyd soekend, altyd aan die reis en verken. Kan jy ’n bietjie meer vertel oor die plekke wat Viljoen in sy tyd bewoon het?

Ben is in 1868 gebore, in ’n grot in die destydse Temboeland, naby waar die Oos-Kaapse dorpie Elliot vandag is. Hier het Ben, sy ouers, en sy drie ouers susters vir twee jaar gewoon terwyl sy pa besig was om vir hulle ’n eenvoudige huisie op hul huurplaas te bou. Toe Ben vier was, het die Viljoen-gesin na ’n ander huurplaas getrek, hierdie keer verder oos na die Umtata-distrik van Temboeland, waar hulle vir sowat ses jaar gewoon. Kort ná die uitbreek van die Negende Grensoorlog in 1877 het die Viljoens vir sowat vyf jaar teruggekeer na Robertson, waar sy ouers voor sy geboorte geboer het. Die Viljoens het teruggekeer na hul plaas in die Umtata-distrik toe Ben omtrent 15 jaar oud was.

Met die ontdekking in 1886 van belowende goudneerslae op die Witwatersrand het Ben se pa besluit om sy fortuin daar te gaan soek, en die 18-jarige Ben en sy jonger broer Chris saam met hom geneem. Hier het Ben aanvanklik in Johannesburg gewoon, daarna in Roodepoort, en toe vir sowat tien jaar in Krugersdorp. Kort voor die uitbreek van die Anglo-Boereoorlog in 1899, en ná Ben as tweede volksraadslid vir die Johannesburg-kiesafdeling verkies is, het hy in Pretoria gewoon. Tydens die Anglo-Boereoorlog het Ben was Ben met sy manne aktief in Noord-Natal, sowel as Noord-en Oos-Transvaal. In die laaste paar maande voor sy gevangeneming in Januarie 1902 het hy etlike maande in die relatief rustige Pelgrimsrus gewoon.

Ná sy gevangeneming is Ben vir vyf maande op St Helena aangehou. Met sy vrylating het hy vir ’n kort ruk na Suid-Afrika teruggekeer. Daarna het hy vir die volgende drie jaar voortdurend gereis, eers van Suid-Afrika na Brittanje en Nederland, toe na die VSA en Mexiko, weer terug na Brittanje en Suid-Afrika, toe na St Louis in die VSA, waar hy omtrent die hele 1904 en ’n gedeelte van 1905 gewoon het. 

In 1905 het hy geskei van sy vrou wat hy in Suid-Afrika agtergelos het, en met ’n Amerikaanse vrou getrou. Hulle het toe vir ’n paar maande op ’n Boerekolonie in die noordelike Mexikaanse deelstaat Chihuahua gewoon, voor hulle hulle in die Mesillavallei in die suidwestelike Amerikaanse deelstaat Nieu-Mexiko gevestig het. Hier het hy grotendeels gewoon tot sy dood twaalf jaar later, maar onderbreek deur ’n drie jaar-verblyf in Kalifornië toe hy vir twee Amerikaanse magnate gewerk het, ’n drie- maande verblyf in Europa toe hy ’n Mexikaanse erekonsul in Duitsland was, asook ’n ses-maande verblyf in die westelike Mexikaanse deelstaat Sonora, toe hy ’n vredeskommissaris onder die Yaqui-Indiane was.

Jy het SA en die buiteland letterlik plat gereis al op die spoor van Ben Viljoen. Kan jy ’n uitbrei oor die plekke wat jy besoek het? 

Ek het al die plekke besoek wat ek in die vorige antwoord genoem het, insluitende Wrocław in Pole (destyds bekend as Breslau, toe nog deel van Duitsland) waar Ben in 1912 ’n ruk lank ’n Mexikaanse ere-konsul was. Ek was ook in Karlovy Vary in die Tjeggiese Republiek (destyds bekend as Karlsbad, en toe ook nog deel van Duitsland), asook Bad Reichenhall in Duitsland, by die rusoorde waar Ben probeer verligting kry het vir sy chroniese asma terwyl hy Mexikaanse ere-konsul in Duitsland was. Verder het ek afstammelinge van Ben op Roodeport en Oos-Londen besoek, asook op verskeie plekke in die Amerikaanse deelstate New Jersey, Nevada en Kalifornië.

Die ingang na die grot in die destydse Temboeland waar Ben in 1868 gebore is. (Carel van der Merwe-versameling)

Uitsig oor St. Helena vanaf huis waar Ben as krygsgevange in 1902 gewoon het. (Carel van der Merwe-versameling)

Gedeelte van die plaas waar die Mexikaanse Boerekolonie gevestig is. (Carel van der Merwe-versameling)

Hedendaagse lugfoto van ’n deel van die Mesillavallei waar Ben Viljoen en sy familie grotendeels tussen 1906 en 1917 gewoon het. (New Mexico Farm and Ranch Heritage Museum)

Carel (heel links) en Mexikaanse gids (heel regs) met twee Yaqui-leiers in die Yaquivallei, Sonora, Mexiko. (Carel van der Merwe-versameling)

Hedendaagse foto van Breslau, waar Ben Viljoen in 1912 vir ’n kort ruk die Mexikaanse ere-konsul was. (Carel van der Merwe-versameling)

Hedendaagse foto van die Ben Viljoen se huis in Sierra Madre, naby Los Angeles, waar Ben en sy Amerikaanse vrou in 1915 en 1916 gewoon het. (Carel van der Merwe-versameling)

Van links na regs: Benjamin Johannis Viljoen III, Amerikaanse agterkleinseun van genl Ben Viljoen, sy Indiaans-Amerikaanse vrou, Letitia, en Carel, in Fallon, Nevada, VSA. (Carel van der Merwe-versameling)

Hoe skryf ’n mens só omvattend oor iemand wat jy nog nooit eers ontmoet het nie? Waar begin ’n mens? Wat is die grootste struikelblokke of uitdagings waarvoor jy te staan gekom het tydens die navorsingsproses? Hoe lank het dit jou geneem om die biografie te voltooi? 

Die navorsing van Kansvatter het my ongeveer twee en ’n half jaar geneem, en die skryf so agtien maande. Ek het begin deur alles te lees wat al oor Ben Viljoen geskryf is, en omrede hy self ’n joernalis en skrywer was, ook alles wat hy self geskryf het. Daarna het ek alle historiese werke nagegaan waarin Ben se naam moontlik kon genoem wees. Ek het ook so wyd as moontlik gelees oor die gebeure waarby hy betrokke was, die tydperk waarin hy geleef het, en die plekke waar hy gewoon het, asook lewensverhale en werke van tydgenote van hom. Dit het my in staat gestel om ’n basiese begrip te vorm van wie Ben was en die tydsgees waarin hy geleef het.

Die volgende stap was primêre navorsing. Een aspek hiervan was om waar ek dit nodig geag het vorige skrywers se primêre bronne weer na te gaan, en soms te herinterpreteer. Uit my navorsing vir my Donker stroom het ek besef dat historici en biograwe soms onbewustelik ongemaklike feite oorsien, of selfs doelbewus ignoreer, wanneer dit ongunstig op hul onderwerp reflekteer, of nie inpas by die geheelbeeld wat hulle wil skep nie. In talle gevalle het hierdie proses dan ook nuwe leidrade en primêre bronne na vore gebring wat ek met vrug kon verder navolg. Onder andere het ek daarvan bewus geraak dat in argiewe in Nederland, Brittanje, die VSA en Mexiko daar inligting moet wees wat ander navorsers nog nie ontgin het nie, of slegs gedeeltelik ontgin het.

’n Ander aspek van my navorsing was om al die plekke te besoek waar Ben noemenswaardige tyd deurgebring het, of waar belangrike goed in sy lewe gebeur het. Ek het gevind dat dit op ’n manier my laat voel het dat ek deur Ben se oë kyk, en dat dit my gehelp het om myself in sy kop te verbeel. Soms het ek met hierdie besoeke ook inligting opgediep wat ek nie andersins sou nie. Afstammelinge was ’n ander belangrike bron – hul stories, alhoewel soms aangedik oor die jare, het my ’n goeie idee gegee van hoe Ben deur hulle onthou word. Persoonlike briewe en foto’s in familieversamelings het gehelp om insae in Ben se private lewe te gee. ’n Belangrike vonds in die VSA was ’n dagboek van Ben wat hy gehou het toe hy Mexikaanse ere-konsul in Duitsland was. Natuurlik het hy dit nie vir publikasie geskryf nie, en sy ongesensorde gedagtes het my insig in sy karakter gegee. Die grootste struikelblok waarvoor ek te staan gekom het, was om feit van fiksie te onderskei in wat Ben self geskryf het, en in wat tot dusver oor hom geskryf is. 

Daar is al baie hieroor geskryf, maar wat dink jy maak van ’n skrywer ’n goeie biograaf?

Ek twyfel of ek bevoeg is om ’n behoorlike mening hieroor uit te spreek, aangesien Kansvatter my eerste volwaardige biografie is. Ek kan wel sê dat ek met die skryf van Kansvatter tot ’n groot mate Hans Renders, die Nederlandse deskundige oor die skryf van biografieë, se riglyne vir die skryf van ’n ideale biografie probeer volg het:

[It] is well written, with a form that owes to journalism. It must make it also clear that a life can only be understood in its relation to a whole historical context. The research methodology must include use of all available resources, with oral sources approached in an even-handed way, and every assertion substantiated by a source, which is the norm both in journalism and history. The subject’s private life should be used to explain and provide context for what is public.

Verder glo ek ’n skrywer het nuuskierigheid en deursettingsvermoë nodig om ’n volledige biografie te skryf. Jy moet elke moontlike leidraad opvolg, want soms kry jy nuwe inligting in die mees onverwagse plekke. ’n Biograaf moet ook die versoeking probeer weerstaan om ongemaklike feite te ignoreer en sy onderwerp te verheerlik. Aan die ander kant moet hy of sy ook nie onnodig krities wees nie. Ek het probeer om met empatie oor Ben te skryf, en om myself in sy skoene te plaas en te verstaan hoekom hy opgetree het soos hy opgetree het, maar sonder om van sy meer problematiese handelinge te probeer goedpraat.

In hoe ’n mate dink jy stem die beeld van die huidige generasie Afrikaners ooreen met dié van Ben Viljoen, indien enigsins? Dink jy jonger lesers sal aanklank by die boek vind juis as gevolg van sekere ooreenstemmings?

Ben was ’n vrydenkende wêreldburger en nou nie juis baie godsdienstig nie. Volk en vaderland was vir hom minder belangrik as eiebelang. Hy was nie plekgebonde nie; waar hy ’n geleentheid gesien het, het hy gegaan. Hy het hom nie gesteur aan tradisie of die kerk se voorskrifte nie, en was aanpasbaar en bereid om nuwe uitdagings aan te pak. Hy het ook geredelik met ander etniese en taalgroepe oor die weg gekom. Ek glo dit beskryf ’n beduidende deel van die huidige jonger generasie Afrikaners, en dat hulle moontlik hieroor meer geredelik by Ben Viljoen sal kan aanklank vind eerder as by een van die meer tradisionele figure uit daardie era.

Jy tree op by vanjaar se Toyota US Woordfees. Wil jy ’n bietjie meer daaroor vertel?

Ek praat op Maandag, 9 Maart 2020 om 09:30 in die Boektent met Fransjohan Pretorius, een van Suid-Afrika se bekendste geskiedkundiges en skrywer of redakteur van agt boeke oor die Anglo-Boereoorlog. Ons gaan gesels oor hoe ek Ben se spore gevolg het van Suid-Afrika na St Helena, Europa, Mexiko en die VSA, en wat ek daar uitgevind het. Ons sal onder meer doen aan die hand van foto’s wat ek in die argiewe en familieversamelings gevind het, asook foto’s wat ek self geneem het.

Koop jou kaartjies vir Kansvatter en siruksboer hier

The post Skrywersonderhoud: Carel van der Merwe oor <em>Kansvatter – Die rustelose lewe van Ben Viljoen</em> appeared first on LitNet.

Skrywersonderhoud: Derick van der Walt oor Toring van Jasmyn

$
0
0

Naomi Meyer gesels met Derick van der Walt oor Toring van Jasmyn, wat in 2019 die Sanlamprys vir Jeuglektuur verower het.

Toring van Jasmyn
Derick van der Walt

Uitgewer: Tafelberg
ISBN: 9780624087519

Derick, jy is ’n gesoute skrywer – van volwasseneromans én van jeugboeke. Waar het jou idee vir Toring van Jasmyn ontstaan?

Dit gaan behoorlik absurd klink, en as iemand anders dit vir my gesê het, het ek my oë gerol. Ek het regtig een nag in 2016 gedroom oor ’n Afrikaanse gesin van Pretoria wat in Istanbul vakansie hou en toe word die mooi blonde dogter ontvoer.

Waar die droom vandaan gekom het, het ek nie ’n koekie se clue nie. Ek het nooit aan Istanbul as ’n moontlike vakansiebestemming gedink nie. Die plek was nie eers in my gedagtes nie.

Maar ek het die volgende oggend gewonder of ek nie dalk iets beet het nie. Ek kyk deesdae met ander oë na drome!

Duidelik het jy baie navorsing rondom Turkye gedoen – jou karakters beleef die stad met al sy geure en smake. Het jy onlangs daar gereis? Of hoe het jy jou navorsing gedoen?

Ja, ons is ná die droom vir 10 dae Istanbul toe. Dis moeilik om oor ’n plek te skryf as jy nie weet hoe dit proe, ruik, klink en voel nie.

Soos Murphy dit wou hê, het die staatsgreeppoging plaasgevind in Istanbul en Turkye se hoofstad, Ankara, die eerste nag toe ons in Istanbul oornag het. Ek het dwarsdeur al die drama geslaap en nie ’n helikopter of ’n masjiengeweerskoot gehoor nie. Mense is doodgeskiet op die brug naby ons hotel en daar was benoude Suid-Afrikaners wat nie kon land uit nie. Vlugte is gereeld gekanselleer en hulle was bang.

Ons het die volgende oggend, soos die meeste ander toeriste, versigtig en onrustig om die blok gestap, nie seker wat om te verwag nie. Ons kon tog nie vir 10 dae in die hotel sit nie. Orals het mense soos gewoonlik rustig die sypaadjies voor hulle restaurante afgespuit en voorraad is uit afleweringsvoertuie die restaurante ingedra.

Teen 12 die middag was dit business as usual in Istanbul. Die strate het gewemel, die restaurante was vol en die toeriste het gekoop dat die biesies bewe. Die mense van Istanbul beweeg duidelik vinnig aan. My mond het letterlik oopgehang.

Maar dit was toe ’n heerlike vakansie. Dis ’n wonderlike stad en relatief goedkoop vir ons Suid-Afrikaners om in vakansie te hou.

Foto: Pixabay

Wat vir my so oulik was, is hoe jy ’n uitdrukking soos "dis nie iets om oor huis toe te skryf nie" verplaas na ’n jeugdige karakter: "My rapport was nou nie juis iets om op Facebook te sit nie." Is daar jongmense in jou lewe – mense wat jy hoor praat, of wie se leefwêrelde jy ken?

My drie seuns is nou al uitgevrete, maar ons het vriende en familie wat steeds tieners het. Ek bly in voeling, hoewel ek nie dink dis nodig nie. Ek skryf oor mense – hulle ouderdomme is nie belangrik nie.

Ek en Lenie het ’n jaar en ’n half gelede vir die eerste keer oupa en ouma geword, van ’n tweeling nogal: Lea en Daniël. Dis die begin van ’n nuwe siklus Van der Waltjies. Ek mag dalk selfs in die toekoms vir jonger kinders skryf, iets wat nie nou vir my gemaklik gebeur nie.

Hoe verskil dit vir jou om vir jongmense en vir volwassenes te skryf? Is daar groot verskille aan die manier om ’n boek te benader?

Hoegenaamd nie. Die ouderdom van die karakters en die potensiële lesers is vir my bloot toevallig. Ek het nog nooit gedink ek skryf uitsluitlik “jeugboeke” nie. Ek vermoed dat ek meer volwasse lesers het as jongelinge.

Dit is wel lekker om karakters van jou eie ouderdom te skryf, het ek ontdek toe ek Daan Dreyer se blou geranium geskryf het. Jy weet wat in dáárdie koppe aangaan.

Dink jy baie jongmense lees nog boeke?

Ek dink nie so nie. Tóg sê die juffrouens en menere dat jy steeds kinders kry wat met ’n boek onder die arm op die speelgrond rondloop. My boeke Lien se lankstaanskoene, Willem Poprok en Hoopvol is voorgeskryf en ek raak regtig bewoë as skole my nooi om oor dié boeke te praat en die kinders sê vir my hoe baie hulle hierdie stories geniet het. Dis hoofsaaklik Engelssprekende tweedetaalleerders van Afrikaans wat deur my voorstedelike Afrikaans moes worstel.

’n Mens voel dan dat daar tog ’n punt aan die geskrywery was. Dit was nie sommer maar net lekker ou storietjie-storietjie nie.

Foto: Pixabay

Ek het nagedink oor Turkye as land terwyl ek jou boek gelees het en ek is seker enige jong leser van jou boek sal ook so maak. Het jy doelbewus daarop probeer wys dat daar ook in ander lande misdaad of gevare of terreur bestaan in vergelyking met hierdie land van ons, waar dit so bitterlik gevaarlik is? Of was dit nie so beplan nie?

Ek glo dat ’n mens nie doelbewus ’n lessie of ’n prekie in enige skryfwerk moet insluit nie. (Almal ruik dit gou.) Dus, nee, ek wou nie iets spesifiek sê nie. Ek het glad nie aan ooreenkomste en verskille tussen Suid-Afrika en Turkye gedink nie.

Miskien wel dat mense, veral jongmense, oral maar dieselfde drome en vrese het, al is die kultuur heeltemal anders as waaraan jy gewoond is.

Nie alle boeke skryf ewe lekker nie. Waaraan ek nou werk, is nogal ’n sad spulletjie en ek weet dit gaan my vir maande in ewige mistroostigheid hê. Dit was lekker om Toring te skryf. Ek was vir maande in my kop in Istanbul op vakansie.

Jou boek lees soos ’n opwindende soort spanningsverhaal. Al is dit nie naelbytspanning nie, laat jou proloog tot die storie mens heeltyd bang wees dat die karakters nie oukei gaan wees nie. Wil jy kortliks vertel wat was vir jou die belangrikste aspekte van die storie – dit wat jy beplan het, of dit wat dalk net organies so ontwikkel het?

Ek het niks beplan nie. Ek het lank gesukkel om ’n storielyn oor die “ontvoering” te bedink. Daarom het ek die manuskrip eenkant gesit en eers Tussen vriende geskryf wat in 2018 by Quellerie verskyn het.

Die toneel waar Marcus vir Meryem geld in die hand stop om haar broer in ’n mooi plek te laat begrawe as hy sou doodgaan, was die eerste stukkie wat ek geskryf het. Ek het geweet dit is die rigting waarin die einde gaan mik.

Ek het ook aanvanklik geskryf dat een van die karakters doodgaan. Maar ’n mens raak geheg aan jou karakters en ek het gou besluit ek kan dit nie aan die karakter en die lesers (en myself) doen nie.

Van beplan versus organiese ontwikkeling gepraat: Hoe skryf jy aan ’n storie – beplan jy dit vooraf, of ontwikkel dit soos wat jy skryf?

In my “regte” werk word my lewe gerig deur sperdatums, sommiges weekliks. Ek kan dus nie stilsit nie. As dit by kreatiewe skryf kom, het ek geen stelsel nie. Dit gebeur so tussendeur.

Ek beplan absoluut niks nie. Dis ’n organiese proses. Daar is gewoonlik darem ’n storie in my kop en ek weet presies waar dit gaan eindig, hoe die hoofkarakter se kop werk en wat die “atmosfeer” van die storie gaan wees.

Ek het pas met ’n nuwe boek begin en die eerste ding wat ek geskryf het, was die heel laaste sin. Ek weet daai sin gaan nie verander nie. Hoe om daar te kom, is natuurlik ’n ander en ’n baie lang storie. Maar dis vir my die lekker van skryf. Dis ’n groot avontuur en ek weet glad nie wat gaan gebeur nie. Dis vir my óók ‘n verrassing.

Het jy ’n skryfroetine en hoe lank het dit jou geneem om die storie te skryf?

Soos hier bo gesê, het ek hoegenaamd geen roetine nie. Aan die begin het dit my baie benoud gemaak. Ek wou op ’n tyd soos Deon Meyer, voordat hy voltyds begin skryf het, elke oggend vieruur opstaan om te skryf voordat ek werk toe gaan. Nee, ek is doodeenvoudig net te lui en te koulik in die winter.

Ek het nou vrede daarmee gemaak dat dit is hoe dit altyd gaan wees en ek kou nie meer my polse daaroor nie. Die ongeordenheid werk vir my.

Ek hou nie boek nie, maar ek het so min of meer so ses tot agt maande (so aan en af en give and take) hieraan geskryf.

Wat was jou gunstelingboeke as kind en as tiener? En waarom?

Op laerskool was ek mal oor alles wat Elsabé Steenberg geskryf het. Dié vrou verdien ’n mooi monument. Ek onthou van haar boeke soos Bergpad na Eden en Die heuningwolk nog in besonderhede. Ek vermoed sy het ’n groot invloed op my skrywerasies gehad. Dis waarskynlik haar menslike stories en karakters wat met my gepraat het.

Ek het ook Cor Dirks se Uile-reeks baie geniet. Maar nee vir die vervelige en verspotte Trompie- en Saartjie-gedoentes.

Op hoërskool het ek volwasseneliteratuur gelees. In graad 8 het ek my ma se Lady Chatterley’s lover skelm gelees en ’n jaar later John Steinbeck per ongeluk ontdek. My plan is steeds om al sy boeke te herlees. Ek dink hy het ook my denke oor stories beïnvloed. Ai, daai mooi stories oor gewone mense wat moet sink of swem. My gunsteling was East of Eden.

The post Skrywersonderhoud: Derick van der Walt oor <em>Toring van Jasmyn</em> appeared first on LitNet.

Sleutels tot ’n suksesvolle, volhoubare fees

$
0
0
Engelina du Plessis se navorsingsartikel “Wat maak ’n wynfees suksesvol? Die Robertsonvallei-storie” bied interessante insigte vir elkeen wat betrokke is by of belangstel in feeste. Dit kan hier in LitNet Akademies gelees word. Melt Myburgh het Engelina gepols oor die geheime wat verseker dat feeste suksesvol en volhoubaar is.

........

Engelina, jou navorsing fokus op twee wynfeeste wat jaarliks in Robertson in die Wes-Kaap aangebied word: Wacky Wine en die Wine on the River. Hoe het dit gebeur dat jy spesifiek op dié twee feeste gekonsentreer het? Het jy ’n verbintenis met Robertson?

Ons navorsingseenheid, TREES, doen al die afgelope 10 jaar bemarkingsnavorsing by albei die feeste. In 2018 het die PUK-Kanselierstrust van die Noordwes-Universiteit befondsing aangebied om my navorsing uit te brei, waarna ek toe op die plaaseienaars van die gebied as produkeienaars van wyntoerisme begin fokus het. ’n Goeie werksverhouding tussen die navorsers en bestuur het aanleiding gegee tot die uitbreiding van die navorsing wat in die toekoms sal voortduur.

Feeste is uiteraard ’n baie algemene verskynsel in Suid-Afrika, en ook wêreldwyd. Byna elke dorp spog met ’n fees van een of ander aard. Is daar nie te veel feeste in die land nie?

Dit is ’n vraag waaroor daar baie gesels word en, soos die artikel ook uitwys, beleef hierdie aantal feeste verskeie uitdagings om suksesvol te wees en mededingend te bly, omdat baie van hierdie feeste binne die Suid-Afrikaanse konteks primêr om dieselfde mark meeding.

Engelina du Plessis

Watter kardinale aspekte moet feesorganiseerders in gedagte hou om dié mededinging om dieselfde mark as struikelblok te voorkom?

Binne hierdie mark is daar wel verskillende ouderdomme, geslagte, tale, ens, wat verskillende behoeftes openbaar. Kleiner feeste kan poog om ’n nismark te teiken, gefokus op ’n spesifieke demografiese groep. Voorbeelde van hierdie tipe nismarkfeeste is Oppikoppi, Woordfees, Stilfees en die Oesterfees, om ’n paar te noem. Met hierdie feeste word ’n spesifieke doel bereik en daarom trek dit ’n baie spesifieke groep mense. Met die groter feeste gaan hierdie benadering nie noodwendig suksesvol wees nie en kan prys, toegangsbeheer en programsamestelling ’n manier wees om die mark wat die fees bywoon, te manipuleer en te reguleer.

Die groot uitdaging van enige fees is om iets unieks te bied wat hul mededingende voordeel bevestig.

In jou artikel maak jy dit duidelik dat die sukses van ’n fees bepaal word deur faktore wat volhoubaarheid verseker. Wat is die belangrikste dinge wat feesorganiseerders in gedagte moet hou om te verseker dat die fees nie onder gaan nie?

Resultate dui daarop dat die regte mark, ’n verskeidenheid produkte en ’n persoonlike diensaanslag van die belangrikste faktore is wat aanleiding gee tot ’n suksesvolle wynfees wat ook volhoubaar is. Natuurlik kom alles op die bestuur neer.

Jy wys in die artikel op sleutelfaktore wat feesorganiseerders in gedagte moet hou om sukses te verseker, naamlik “bemarking, produkte gekoppel aan die fees, die program en die algemene bestuur daarvan”. Waar, dink jy, skiet feeste die meeste tekort as dit by hierdie aspekte kom?

Ek dink nie dis ’n kwessie van tekort skiet nie, maar dalk eerder dat daar nie die regte balans is tussen die faktore wat bestuur moet word en die mark wat na die feeste getrek word nie. Dit kom alles neer op die dag van die fees, waar daar uitstekende diens aan die besoeker gelewer moet word. Om die besoekers tevrede te hou moet verskeie aspekte, soos gehalte kos, parkering, vermaak, ablusie en soveel meer, gebied en bestuur word. Bemarking moet spesifiek wees tot die mark wat die organiseerders en wynplaaseienaars wil trek, anders ontstaan daar ’n gaping tussen die verwagtinge van wat die fees bied en wat die besoekers ontvang. Deur middel van navorsing kan feeste spesifiek bepaal wie die mark is en wat hul behoeftes en siening ten opsigte van die spesifieke fees is, en sodoende kan hul behoeftes bevredig word.

Wyntoerisme het spesifiek ’n positiewe impak op feesbestemmings. Watter voordele trek gemeenskappe uit dié vorm van toerisme?

Verskeie wyngebiede gebruik toerisme om hul wyne te bemark en bewustheid van hul produkte te skep, asook om ’n bydraende inkomste vir wynplase te bewerkstellig. Die feeste dien ook as ’n trekpleister om besoekers na ’n area te lok wat voorheen nie so welbekend was nie. Met die fokus op die gebied, byvoorbeeld Robertson, bou die wynfeeste gemeenskapstrots en -identiteit en bevorder dit stedelike vernuwing en kultuurontwikkeling. Verskeie nuwe gastehuise en restaurante het die lig gesien na die vestiging van die feeste.

Dit bevorder die beeld van die bestemming. Die ekonomiese en sosiale voordele van wynfeeste, sowel as ander feeste, speel ’n belangrike rol ter bevordering van gebiede en dorpe met betrekking tot die verbetering van infrastruktuur, die verbetering van bemarkingstrategieë, asook die bevordering van plaaslike en organisatoriese bestuursvermoëns. Gedurende hierdie tydperk word vele werksgeleenthede geskep, wat ongetwyfeld as ’n groot pluspunt beskou word.

Waaraan skryf jy die geweldige groei van die “fees-en-gebeurtenis-sektor” hier te lande toe?

Ek dink tog daar steek baie waarheid in die frase “Afrikaners is plesierig” en dit geld vir alle Suid-Afrikaners. Die navorsing bevestig in ’n mate hierdie stelling en het bewys dat feeste bydra tot die toenemende behoefte wat mense toon om verskillende kunsvorme, kultuurervarings, tale en tradisies te ervaar. Feeste bied unieke geleenthede om ’n spesifieke kultuur te vier en bied ook terselfdertyd ’n diep betekenis vir deelnemers en besoekers. Die viering van kultuur is een van die redes waarom soveel verskillende feeste in Suid-Afrika ontwikkel het.

Hoe verskil wynfeeste in die algemeen van musiekfeeste, kunstefeeste en kultuurfeeste?

Wynfeeste verskil van ander feeste omdat die primêre fokus op wyn is. ’n Wynfees kan gedefinieer word as ’n geleentheid wat aan besoekers gebied word om wynplase, wingerde en wynkelders te besoek en om meer omtrent die eienskappe van druiwe en die wyndistrik te leer. Binne hierdie milieu kan ’n wynfees die ervaring van verskeie toerismeprodukte binne die wyndistrik ook aanbied, wat ’n unieke ervaring aan besoekers bied. Dit sluit wyn, restaurante, kulture, kuns, opvoeding en reis in, asook ’n fokus op die landskap, besienswaardighede, geskiedenis, erfenis en die wynproduksieproses.

Seisoenaliteit speel uiteraard ’n belangrike rol in die aanbod wat ’n fees vir die publiek kan gee. Wil jy hierop uitbrei?

Seisoenaliteit is een van die redes waarom bestemmingsbestuurders (DMO’s) feeste ontwikkel het. Feeste fokus daarop om toeriste buite piektye na ’n bestemming te lok en dien as ’n alternatief vir toerisme-seisoenaliteit.

Een van die grootste faktore wat enige fees suksesvol maak, is ongetwyfeld om lojaliteit onder besoekers te bewerkstellig. Hoe kan feeste dit regkry?

Lojaliteit is ’n navorsingsveld in eie reg en vorige navorsing wat spesifiek op die lojaliteitsaspekte teenoor feeste gefokus het, het die volgende faktore geïdentifiseer: ’n plek waar mense hulself kan geniet; waarde vir geld; die feesprogram en verskeidenheid van produkte (by ’n wynfees is dit die verskeidenheid wyne); bekende persone verbonde aan die fees; en natuurlik kwaliteit diens.

In jou artikel raak jy die kwessie van toegangsfooie aan. Wine on the River bied bv ’n dagtoegang- of ’n naweekkaartjie aan feesgangers. Sou jy sê dit is ekonomies meer sinvol vir ’n fees, eerder as ’n kaartjie-per-aanbieding benadering?

Dit is ongetwyfeld die beter opsie om naweekkaartjies te verkoop waar die besoeker voel dit is vir hom die moeite werd om ’n groter deel die fees by te woon en waarde vir geld te kry met die afslagprys wat die naweekkaartjie bied. Die besteding oor drie dae is vir seker meer as oor een dag, en tog is feeste se doelwit om ook ’n positiewe ekonomiese impak te verseker.

In die artikel maak jy aanbevelings ten opsigte van sleutelsuksesfaktore vir wynfeeste. Op grond van jou eie ervaring van feeste wat jy al bygewoon het, watter van hierdie is die belangrikste?

Ek dink die grootste aanbeveling is skarebeheer (crowd control). As bestuurders die vloei en handeling van besoekers gedurende ’n fees kan manipuleer, kan ’n suksesvolle fees verseker word. Met ander woorde, feesbestuurders moet op die dag genoegsame ingangs- en toegangspunte, ablusiegeriewe, voedselpunte, sitplekke, parkering en inligting aan besoekers verskaf, om maar ’n paar aspekte te noem.

As jy in ’n neutedop raad vir feesorganiseerders het, wat sou dit wees?

Dit kom daarop neer dat ’n kommervrye, gemaklike fees met ’n unieke ervaring aan besoekers gebied word en lojaliteit teenoor die fees gevestig word.

Lees ook:

Wat maak ’n wynfees suksesvol? Die Robertsonvallei-storie

The post Sleutels tot ’n suksesvolle, volhoubare fees appeared first on LitNet.

Pasverskyn: Kyk na my deur Nataniël

$
0
0

Titel: Kyk na my – Herinneringe aan ’n kindertyd
Skrywer: Nataniël
Uitgewer: Human & Rousseau
ISBN: 9780798179935

Met hierdie unieke boek vertel Nataniël die verhaal van ’n kindertyd in drie klein dorpies en een groot voorstad, ’n era waartydens reëls blindelings gevolg is en oor ’n jong seun met ’n oorweldigende vrees vir die gewone. Kyk na my is Nataniël se eerste volwaardige memoir.

The post Pasverskyn: <i>Kyk na my</i> deur Nataniël appeared first on LitNet.

FMR-resensie: Toy van Carnarvon deur Stephen le Roux

$
0
0

Titel: Toy van Carnarvon
Skrywer: Stephen le Roux
Uitgewer: Naledi
ISBN 9781928518044

Hierdie resensie is op 15 Januarie 2020 in Boekkeuse olv Amanda Botha uitgesaai.

Ek wil sommer my bespreking van Stephen le Roux se Toy van Carnarvon begin met ’n uitdrukking wat die hoofkarakter Toy dikwels gebruik: Om hierdie ware verhaal te lees, was vir my sommer “vet pret”!

Stephen le Roux, alias Toy, roep vir ons sy skoolloopbaan – van sy voorskoolse tyd tot matriek – in die jare sewentig en tagtig op Carnarvon in die Karoo voor die gees. Sy pa het spoorlyne op afgeleë plekke deur die Karoo help bou, maar was toe reeds oorlede. Ma Kate is die ferm versorger en hou vir Toy, soos die ouer kinders Babs, Willem, Ockie, Ernie en Marietjie, op die regte pad. Hier is ook tonele met die onderwysers en hulle interessante gewoontes en byname soos Jassie, Tieties, Pannetjies, Koos Lyf en Fossiel. Die inwoners van die dorp en van elders tree op. Ook die plaasmense.

Toy beleef avonture saam met sy tjommies, soos Gotie, Tarzan, Pierre, Tjommie-Jan, Theo, Poensie en Pokkels en die hakkelende maar wyse Wilro. Dan kom ons uit by Toy se seksuele ontwaking saam met meisies soos Isabel, Retha en Zelda as hulle hul so vas teen hom aandruk, so wonderlik met hulle tonge kan werk. Ná ’n vryery met Zelda op die grasperk en ook op die rusbank op ’n Saterdagaand glo hy: “Vroumense is genoeg om ’n mens van jou kop af te dryf en beheer te laat verloor” (222).

Die skrywer, Stephen le Roux, gebruik kontrasterings baie goed in die intrige. Toy kon met geld van vakansiewerk en sy hardwerkende ma die begeerlike tweedehandse Honda-motorfiets by oom Frikkie koop. Toy ervaar die vreugde só: “Toe ek ’n paar uur later in die bad lê, voel ek soos die rykste man op aarde” (214). Toy sê vir sy geliefde hond Laska wat hom langs die bad met valkoë dophou: “Wat wil ’n man nou meer hê? ’n Mooi bike en ’n mooi hond, dis seker al? ’n Mooi girl daarby sal seker die cherry op die koek wees.”

(Terloops, hy en Laska ervaar iets heel ongewoons langs die dorpsdam. Oumeneer Hough, “amper negentig en pankop, maar nog kiertsregop en lank soos ’n paal”, daag met sy vroutjie met die grys bolla daar op. Oumeneer doen dan iets onbesonne. Wees op die uitkyk daarvoor teen die einde van die boek!)

Aan die een kant die genietinge. Nou die kontras daarmee (bl 226 tot 228):

Die sirkus kom na Carnarvon. Toy gaan kyk na die diere agter tralies. Die ape veg om die toffies wat hy vir hulle voer. Dan oorreed die besonder vriendelike sirkusakrobaat hom om hom na sy groot woonwa te vergesel en hom daar met ’n klein werkie te help in ruil vir toegangskaartjies.

Die akrobaat laat hom eers na Playboy-tydskrifte kyk voor hy eers sy hand op Toy se been sit en toe sy arm om Toy se lyf.

Toy as die ek-verteller vereenselwig hom so met sy jeugervarings dat dit jou absoluut oortuig, laat glimlag of ontroerd laat.

Dit is bv so oortuigend dat die leerders in die laer grade (toe standerds genoem) nog nie té gewaagde uitdrukkings gebruik nie. Maar hoe ouer hulle is, hoe krasser en lekker gekruie raak die uitdrukkings.

Dis ’n boek vir hondeliefhebbers (kyk hoe hy sy honde hanteer; vir Witvoet, Bollie en Laska). Bollie beskryf hy as “die pragtigste, wollerige, goudbruin hondjie” met “lang, sagte ore wat teen die kant van sy gesiggie afhang” en “met die twee mooiste, grootste ligbruin oë” (85). Dis ook ’n boek vir mense wat in stoomtreine belangstel (bv bl 71, 72, 75, 76 en vanaf bl 88), of graag op motorfietse by strande opdaag (bl 156, 157, 163 en 164).

Voor ek nog lof gee, moet ek net gou kla dat die teksversorging dikwels onbevredigend is. Hier lees jy vas teen anglisistiese konstruksies en leestekens wat ontbreek of verkeerd gebruik word. Tydspronge word wel soms met ’n wit reël aangedui, maar ’n volgende keer weer nie, sodat ons die gedeelte moet herlees om uit te vind wat gebeur wanneer waar. Vreemdtalige woorde word net soms gekursiveer. Woorde word ongemotiveerd binne dieselfde sin of paragraaf herhaal.

............

“Wat wil ’n man nou meer hê? ’n Mooi bike en ’n mooi hond, dis seker al?”

............ 

Ek is beïndruk deur Le Roux se vermoë om jou as leser deur ’n toneel te neem en jy dan ’n bietjie later in ’n volgende toneel besef hoe alles eintlik subtiel op ’n klimakssituasie afgestuur het. Ek volstaan met ’n enkele voorbeeld. Juffrou Esterhuizen, of dan die kwaai juffrou Essie met die skerp gesig “soos ’n kwartpond kaas”, raak bekommerd omdat die leerders bang is om Engels te gebruik (60).

Toy word bv vir lesse by tant Sielie gestuur. Dié is ’n stokou, afgetrede Engels-juffrou wat in ’n bouvallige huisie woon. Die leser beleef hoe Toy baie onwillig die kursus volg in die vertrek wat so oud en muf ruik. Tog verbeter sy Engels. Tant Sielie kom ’n rukkie later te sterwe.

Ná heelwat ander gebeurtenisse kry ons op bl 70 die toneel waar Toy in die Engelse kerk moet sing, op die klavier deur die “ronde” sangjuffrou begelei. Sy moed wil-wil hom begewe. Maar aan die einde klap die gehoor vir hulle hande. “Toe ek gaan sit, tik iemand my met ’n stokkerige vinger op die skouer. Toe ek omdraai om te sien wie dit is, kyk ek vas in ons kwaai juffrou Essie wat van oor tot oor glimlag. ‘Mooi gesing, Toy,’ fluister sy toe die pastoor weer begin praat.”

  • Stephen le Roux se Toy van Carnarvon is ’n publikasie van Naledi.

The post FMR-resensie: <i>Toy van Carnarvon</i> deur Stephen le Roux appeared first on LitNet.

Riana Scheepers (1957–)

$
0
0

goed van Riana Scheepers

Oor erkenning: “Enige skrywer wil erkenning hê en weet hy lewer ’n produk wat vir iemand anders waardevol is. Ongelukkig lewe ons in ’n samelewing wat erkenning meet aan geld en goed. Natuurlik is dit goed om finansiële vergoeding te kry. Tog moet ’n skrywer ontvanklik wees vir die erkenning wat soms op onverwagse maniere na jou toe kom. Wanneer ek stories skryf vir die nuutgeletterde vroue en ek sien hoe word my skepping gebruik om hulle te leer lees, vervul dit my. Ek het iets gedoen wat nie in geldwaarde gemeet word nie, maar meer werd is as al die prysgeld wat ek al ooit gekry het.” (Taalgenoot, Mei 2003)

Aan die einde van die eeufeesvieringe van die Anglo-Boereoorlog: “Ek wens die Afrikanervrou toe dat hulle kaalvoet én katvoet sal loop. Kaalvoet, omdat sy die dapperheid en deursettingsvermoë moet hê om oor enige Drakensberg van die toekoms te loop, en sal moet baklei vir dít wat vir haar belangrik is. Katvoet, omdat sy die wysheid moet hê om op te tree met vroulikheid, waardigheid en ’n fyn ontwikkelde sin vir eerlikheid en regverdigheid teenoor álmal in ons skitterland onder die Suidersterre.” (Volksblad, 3 Junie 2002)

Oor leesgewoontes op skool: “Alles! Gelukkig het niemand, nie my ma of my onderwysers, my van volwasse boeke probeer weghou nie. Ek het Brink en Breytenbach gelees toe almal na hul asems gesnak het. Ek het van poësie tot liefdesverhale en biografieë gelees.” (Rapport, 6 Mei 2001)

“Ons het dit nie toe geweet nie, maar ek besef nou eers hoe arm ons grootgeword het. Daarom is ek so dankbaar teenoor my ma dat sy vir my boeke gekoop het. Ek weet nie hoe sy dit kon regkry met die bietjie geld wat sy gehad het nie. Ek weet nie of ek eenvoudig beslag gelê het daarop nie, maar daar was altyd die gevoel dat die boeke in die huis mý boeke was.” (Beeld Plus, 22 September 2001)

KKNK-rede: “Ek weet nie wat my toekoms as skrywer is nie. Dit bekommer my ook nie meer so baie nie. In die verlede het ek nogal arrogante uitsprake gemaak oor die toekoms van ons taal en ons land. Ek doen dit nie meer nie, want ek het vir myself ’n nuwe taak gestel. Ek wil in hierdie land bly sodat ek kan voortgaan met my werk, om te skryf in die taal van my hart en my niere.” (LitNet)

“My vertalings het my oor die wêreld geneem; dis ’n groter beloning as die geld wat ek so verdien. Ek is ’n reisiger, wil altyd elders wees. Ek weet wat my boeke vir Europese lesers bied: ’n gees en sfeer uit ’n donker, diep oerbron, die Afrika-grond. Van my wonderlikste ervarings was om te sien met hoeveel verwondering ’n Europese leser my verhale lees – en intens ontroer word. Ek dink tóg ons leef in Afrika met ’n groter emosionele register. ’n Verhaal is nie net ’n reis nie, maar ook ’n deur – na ’n mens se hart.” (Die Burger, 10 Desember 2007)

Passies van Riana: “Dennebolle. Soos ander mense klippe en skulpe versamel, so dra ek dennebolle na my huis aan. Vir my is dit gepoleerde hout, saad, ’n beeldhouwerk wat kunstig uitgebeitel is ... dis ’n simfonie van simmetrie en struktuur. ’n Dennebol verander. Die stywe korf van ’n toe dennebol gooi maande later in jou huis sy luike oop en kletter sy pitte uit, soos ’n vrou wat wasgoed oopskud en uitsprei. ’n Dennebol is een van die lieflikste dinge wat God gemaak het.” (Sarie, 17 November 1999)

“Maar wat my die meeste beïnvloed het, omdat dit van my ’n skrywer gemaak het, was die stories wat my swart ouma vertel het. Saans in die hut of om die vuur het Juba se Zoeloesprokies in my ’n bewuswording van Afrika gekweek. Dit gee ’n mitiese dimensie aan my skryfkuns, eintlik aan my hele lewe.” (Cultureel: suppl NRC Handelsblad, 17 Oktober 1997)

Oor dit titel Feeks: “Ja, die woord feeks is nogal ’n baie provokatiewe woord. Jy het oombliklik ’n emosionele reaksie daarop. Wat vir my belangrik is, is dat die woord fee en die woord heks saamgetrek word in die woord feeks. Ek is heeltemal oortuig daarvan dat daar in elke vrou ’n bietjie heks is, en ek dink dit is reg ook, die vrou is nog steeds ’n misterieuse wese. Net so is daar ook die misterie, die towerkrag, die ligtheid en die bewondering vir iets so mooi en so vlugtig en so pragtig soos ’n feetjie.” (Kaapse Bibliotekaris, Maart/April 2000)

In 1992: “Ek skryf nie om mense gerus te stel nie, want ek glo niks kan die werklikheid mooier maak nie. Hoekom moet ’n mens die politieke geweld in Natal mooi maak? Skryf is ook vir my ’n persoonlike daad. Ek skryf oor dit wat my bang maak.” (Beeld, 12 Maart 1992)

Oor feminisme: “Ek het nie ’n behoefte om my oortuigings in die publiek uit te blaker nie, maar vroueregte lê my na aan die hart. Ek is ’n slegte feminis. Ek loop nie met plakkate nie. Vroue moet hulself vind. Hulle moet hul regte gebruik, want niemand gaan dit sommer vir hulle gee nie.” (Beeld, 12 Maart 1992)

Hoe versoen sy haar akademiese loopbaan met haar skryfwerk, en wat van die ewige vraag oor beïnvloeding? “Dit is inhiberend. Dit maak jou oorbewus van stylfoute en ek vind akademiese taal tog so kunsmatig en blasé.” (Beeld, 12 Maart 1992)

“Die grootste spronge wat ek nog geneem het, die onverantwoordelikste dinge wat ek nog aangevang het, het die grootste dividende gelewer.” (Rooi Rose, 10 Maart 1993)

In 1995 oor die toekoms van Afrikaans: “Ek het ’n onverbiddelike geloof in die taal en sy vitaliteit. Wat dalk Afrikaans se redding gaan wees, is juis dié dat dit minder op TV gebruik gaan word. Jy gaan weer geslote gemeenskappe kry wat Afrikaans suiwer praat sonder kontaminasie van Engels. Hoekom praat die Namakwalander sulke mooi Afrikaans? Hulle was afgesonder.” (Sarie, 29 Maart 1993)

“Ek stem saam met die stelling dat Afrikaans vir Nederlanders ’n opening, ’n wye venster na ’n onbekende wêrelddeel kan wees. Die eksotiese van Afrika – die milieu, die volstrek viriele landskap ... Wanneer ek oor erotiek skryf, is dit in ’n ander konteks as wanneer hier in Nederland daaroor geskryf word. Die tema sal nooit uitgeskryf wees nie. Dis ’n ander konteks: die erotiese belewing van ’n landskap, die spanning tussen wit en swart wat so lank nie ‘mag gewees het nie’.” (Die Burger, 24 Oktober 1996)

Oor haar fassinasie met Jeanne d’Arc: “Vir my verteenwoordig Jeanne d’Arc die soort vroue by wie ek aanklank vind en oor wie ek graag skryf – doelgerigte, begeesterde vroue, nie noodwendig mooi en gewilde vroue nie, maar vroue met vuur.” (Rapport-Boeke, 7 Oktober 2012)

“’n Gemsbok op ’n rooi Kalahari-duin is vir my die kroon op God se skepping, soos ook ’n berg en ’n boom, want hulle gehoorsaam die natuurwette. Die mens nié. Veral nie diegene wat die aarde stroop nie. Menseregte sê elke mens is geregtig op x-aantal water, lug, kos, grond ... maar wie luister ooit na die grondwet van die aarde?” (Beeld, 30 September 2009)

“Partykeer is iets so na aan jou hart, so pynlik en intens, dat jy nie daaroor kan skryf nie, maar jy weet jy moet. Dan skryf ek in die derde persoon. En wanneer iets my fassineer, soos prostitute of nonne, vertel ek hul verhaal in die eerste persoon.” (http://nb.bookslive.co.za/blog/2009/09/11/riana-scheepers-deel-geheime-oor-katvoet)

“’n Goeie kortverhaal is volgens Scheepers net so dig verweef soos ’n gedig. Jy kan dit weer en weer lees om betekenisse te ontsluit. As sy simbole in haar verhale gebruik, is dit altyd met ’n spesiale doel.” (http://nb.bookslive.co.za/blog/2009/09/11/riana-scheepers-deel-geheime-oor-katvoet)

Watter skrywer inspireer haar? “Elke skrywer op aarde. Party intimideer my, party inspireer my, party maak my só vies dat ek terstond besluit om ’n beter produk te wil lewer. Ek lees wyd en in alle genres, en by elkeen kan jy iets leer – ook wat jy nié moet doen nie.” (Vrouekeur, 15 Junie 2018)

“As ek die ruimte goed ken; intiem ervaar het, dan het ek ’n verhaal. Dan ontwikkel die karakters vanself. As ek my ruimte ken, kan ek skryf.” (Vrouekeur, 15 Junie 2018)

Gebore en getoë 

Wilhelmina Adriana Scheepers, gebore op 9 Desember 1957 in Vryheid, KwaZulu-Natal as die derde van vier kinders, stam uit ’n familie van formidabele vroue. Sy sê self dat sy maar ’n flou skadu van haar ma Myra is. Haar ma, wat in die destydse standerd 8 (vandag graad 10) uit die skool is om geld te verdien, is ’n goeie mens, ’n platjie, ’n stout mens en iemand met ’n fantasievermoë, vertel Riana aan Suzette Truter.

Sy kom uit ’n spoorwegwerkersgesin en haar pa is oorlede in ’n treinongeluk toe sy ses was, vertel sy aan Suzette Truter (Sarie, 29 Maart 1995) Op aandrang van haar oupa trou haar ma later met haar pa se jonger broer, Adriaan. Riana se jongste seun is na hom vernoem.

Sy word groot in Vryheid in Noord-Natal saam met die Zoeloekinders en woon van haar negende tot elfde jaar in Pongola. Dit is daar waar sy leer Zoeloe praat het en waar haar stories vandaan kom.

Riana het ’n ryke verbeeldingswêreld as kind gehad, vertel sy aan Suzette Truter: “Ek het nie soos ’n dogtertjie grootgeword nie, en ek is bly daaroor. Ons het hard grootgeword. Ek het nie speelgoed gehad nie; ons was regtig wild. Ek het ’n foto van myself in standerd vier met twee sulke stywe vlegsels en jeans. Lelik, hoor. Ons is nie in valletjies uitgedos nie. My lekkerste maats was swart kinders. As jy van ’n kreatiewe wêreld praat, moet jy kyk hoe speel hulle.

“My helderste indrukke is van aande dat ek na die Zoeloe-verteller se hut gegaan het. Die vertelritueel is ’n tradisie wat verlore raak. Selfs daar in die stat het hulle nou TV-stelle wat met batterye werk.”

Riana voltooi haar laerskoolloopbaan in Pongola en in 1975 skryf sy matriek aan die Hoërskool Vryheid, waar sy ook hoofmeisie is. Sy verwerf provinsiale kleure vir atletiek, swem en sierduik.

Sy wou van kleintyd af skryf. Sy onthou dat sy die afskuwelikste gedigte oor die dood op skool geskryf het – alles in reaksie op haar pa se vroeë dood. Toe sy ses was, het sy geweet hy is in die hemel, maar as adolessent was sy baie kwaad vir haar pa oor hy dood is. Sy het in 1972, toe sy vyftien jaar oud was, ’n gedig aan haar stiefpa geskryf, en dit is later in haar eerste digbundel, Met die taal van karmosyn, opgeneem.

Op skool vul sy haar sakgeld aan deur vir die tienerblad van Huisgenoot te skryf. Eenkeer neem sy onder drie verskillende name aan ’n opstelwedstryd deel en wen eerste, tweede en derde prys. Met hierdie geld koop sy boeke, want sy is altyd baie lief vir lees. Sy word op die platteland groot met die lug en die ruimte, en gelukkig met baie boeke.

Haar onderwyser op skool, Danie Jacobs, het al haar werk gelees en beoordeel en wou op ’n stadium ’n bundel met haar skryfwerk uitgee. Vandag is sy baie bly dat dit nie gebeur het nie en dat sy eers werklik as volwassene begin skryf het.

Verdere studie en werk

Na matriek gaan Riana na die Universiteit van die Oranje-Vrystaat (UOVS), waar sy haar inskryf vir ’n BA-graad in kommunikasiekunde, met Afrikaans-Nederlands. Sy verwerf haar graad cum laude in 1978 en in 1984 haar honneursgraad, ook cum laude. In 1987 behaal sy haar MA-graad (cum laude) onder leiding van Hennie van Coller met ’n proefskrif getiteld “’n Onderskeiding tussen leë en betekenisdraende tekens in die literêre kommunikasieproses, geïllustreer aan die hand van Koos Prinsloo se ‘Die jonkmanskas’”.

Tydens haar jare aan UOVS blink sy nie net op akademiese gebied uit nie, maar ook op vele ander terreine: In 1976 wen sy die eerstejaarsredenaarskompetisie en word die Volksblad-prys vir beste eerstejaarstudent in Afrikaans-Nederlands aan haar toegeken; in 1977 word sy verkies tot primaria van Huis Wag-’n-Bietjie en tot redaktrise van die Irawa, tot voorsitter van die Afrikaans-Nederlandse Vereniging en in 1978 tot die Studenteraad, en wen sy die DF Malherbe-prys vir die beste derdejaarstudent in Afrikaans-Nederlands. Dieselfde eer val haar te beurt in 1984, toe sy aangewys word as beste nagraadse student in Afrikaans-Nederlands. Terselfdertyd word sy ook aangewys as die beste honneurstudent op die kampus. In 1985 ontvang sy die Oom Lokomotief-beurs vir haar MA-studie en in 1986 ontvang sy ook die SANRA-prys vir kreatiewe skryfwerk (prosa).

In 1979 trou sy met Dirk Botha, ’n sakeman van Bloemfontein, en twee kinders, Floris en Adriaan, word uit die huwelik gebore. Sy en haar man skei in 1988.

Vanaf Januarie 1985 tot Maart 1988 werk Riana as akademiese assistent aan die UV se Departement Afrikaans-Nederlands. In 1988 vertrek sy om as lektrise klas te gaan gee aan die Universiteit van Zoeloeland tot April 1990, waarna sy lektrise word aan die Universiteit van Kaapstad – ’n pos wat sy beklee tot die einde van 1994. In 1995 word sy aangestel as skakelredaktrise by Tafelberg Uitgewers. In 1998 vertrek sy na Stellenbosch en bring sy die Stellenbosse Skool vir Skryfkuns en Kreatiewe Denke op die been. Sy is in daardie tyd ook Afrikaans-onderwyser aan Paul Roos Gimnasium. Nadat sy in die laat 1990’s by Paul Roos bedank het, het sy besluit om meer tyd in haar huisie op Paternoster deur te bring (vertel sy aan Stephanie Nieuwoudt, Beeld, 22 September 2001).

Riana se eerste bundel kortverhale, Die ding in die vuur, verskyn in 1990 en sy het onmiddellik ’n impak op die Afrikaanse letterkundige toneel. Die bundel word in 1991 bekroon met die ATKV-prys vir goeie gewilde prosa en in 1992 ontvang sy ook die FAK se Kaaplandse Helpmekaar-prys vir Ontspanningsleesstof.

Riana het oor die toekenning van die ATKV-prys aan Laetitia Pople (Beeld, 12 Maart 1992) gesê dat dit soos ’n “bliksemstraal uit die hemel was. Ek het dit glad nie verwag nie.”

Met die ontvangs van laasgenoemde prys sê Riana: “Skryf is ’n eensame werk. Skryf is die werk van stukkende mense – en ’n mens verwag nie dat jy bekroon sal word vir die stukkende woorde van jou belewenisse nie” (Rapport-Tydskrif, 18 Januarie 1998).

Die ding in die vuur se oorsprong lê in Zoeloeland, vertel Riana aan Laetitia Pople (Beeld, 12 Maart 1992): “Daar het ek grootgeword en my verstand gekry. Dit was die mense wat die naaste aan my was. As dit skemer word, het ek ook aan die ugogo (storieverteller) se voete gesit en luister soos die kinders in die slotverhaal van Die ding in die vuur:

‘Die kinders wag. Ongeduldig, maar sonder om ’n woord te sê. Hulle weet dat haar siel eers moet saampraat met die mense en die dinge van die storie voordat sy kan begin’.”

Nadat Riana klaar studeer het, is sy terug na Zoeloeland – hierdie keer het sy ’n Westerse verwysingsraamwerk en uitkyk saamgeneem. En dít was hierdie fassinerende kombinasie van twee wêrelde wat uitgeloop het op Die ding in die vuur. Sy het net vier maande nodig gehad om dit te skryf.

“Die stories is in die storieverteltradisie van Afrika geskryf, waarin onder meer die wêreld van die Zoeloevrou en kind geskets word, maar veral wêrelde in stryd met mekaar. Soos om tegelyk ’n Europeër en Afrikaan te wees,” skryf Laetitia Pople.

Oor Riana se debuutbundel skryf Joan Hambidge (Beeld, 28 November 1990) dat dit “al die kompleksiteite van ons wit bestaan uitlig. Dit is wat my betref ’n besonderse debuut. Me Scheepers maak ons as lesers daarop attent dat ons stryd op hierdie kontinent nie vervlak moet word tot ’n politieke ‘struggle’ nie, maar dat ons ons moet oorgee aan die paradoks van ons Westerse en Afrika-bestaan. (...)

“Hierdie twaalftal verhale sluit onder meer by ’n Zoeloe-verteltradisie aan en is terselfdertyd hoogs modern en selfs post-modernisties in aanbod. (...)

“Die verhale word meesterlik vertel; telkens met die suggestie van ’n (Afrika-)oerwêreld. Soos die blakerteks dan ook sê: die skryfster het ook die vermoë om soos haar ugogo skielik in die vuur te spoeg.

“Die opposisie tussen skrif en spraak word insgelyks knap uitgewerk in hierdie verhale. Dit gaan primêr om die beswering van pyn en die driftige. Die vermoë om ’n droomwêreld op te roep, blyk ook ’n gawe van hierdie skryfster te wees wat veral in die kragtige slotverhaal ‘Abantu oNgoy‘ nie alleen die belangrikste motiewe van hierdie bundel saamsnoer nie, maar veral ’n goeie opsomming gee van ál die konflikte in ons samelewing. Dit is ongetwyfeld verhale met vuur.”

In Insig van Februarie 1991 skryf Louis Venter: “In die Afrika waarvan Riana Scheepers in haar debuutbundel vertel, is daar nie tyd of plek vir week gedagtes of vrae of huiwering nie. Wie Afrika as tuiste het, moet leer leef sonder luukses: die luukse van sinisme of privilegie, die luukse van ’n gekwelde gewete, van jammerhartigheid, van mededoë. Afrika vertroetel niemand nie, nie wit of swart nie, nie vrou of kind of man nie. (...)

“Die beste verhaal in die bundel, een wat in Afrikaans klassiek gaan word, het nie ’n vrou nie maar ’n kind as hooffiguur. ‘’n Kind en ’n vis’ is ’n verhaal met ’n pragtige geheim wat ek nie hier gaan verklap nie. Net dit: Elisabeth Eybers se opvatting dat skoonheid gebore word uit gemis, het in die verhaal uitgegroei tot ’n ongedwonge stukkie simboliek.

“Die laaste twee verhale in die bundel is verteltegnies interessant. In die een word die werklike geweld in Suid-Afrika uitgespeel teen die sisteem van die Afrikaanse literêre kritiek se manier van dink en skryf oor geweld. In die slotverhaal word die folkloristiese ugogo as sekondêre verteller gebruik om te vertel in ’n taal en oor ’n wêreld wat die witmens maar halfpad begryp.

“Die verhale in Riana Scheepers se Die ding in die vuur het goeie en selfs gedugte vertelkwaliteite. Soms is daar egter momente waar die verteller vertellerig en selfs ’n bietjie vertonerig raak; soms kry die leser die gevoel dat die teks die laaste bietjie effek uit ’n gegewe wil wring. Die wil om ekspressionisties te skryf en om mense te tipeer eerder as te individualiseer, maak die verhale soms grof en afstandelik. Maar die bundel dra baie bewyse van Scheepers se talent en verdien ’n uitgebreide leserskorps.”

In 1991 verskyn haar tweede kortverhaalbundel, Dulle Griet, en weer bly die bekronings nie agterweë nie. Sy ontvang daardie jaar se Eugène Marais-prys. Die titel van die bundel het sy oorsprong by ’n skildery van Pieter Breughel wat Griet uitbeeld waar sy vlug deur ’n landskap wat deur oorlog geteister is, terwyl sy haar aardse besittings styf teen haar lyf vashou. Die borsplaat en swaard in haar hand is ’n blyk van haar paraatheid.

Riana verduidelik aan Laetitia Pople (Beeld, 12 Maart 1992): “Hierdie skildery is vir my tekenend van ’n weerlose vrou wat terugveg, al word sy deur die lewe geslaan. Solank ons net handelend optree en nie in ’n hopie gaan sit nie. Jy moet jou eie saak beredder.”

Riana se kortverhale is in die storieverteltradisie van Afrika geskryf, waarin onder meer die wêreld van die Zoeloevrou en -kind geskets word, maar veral wêrelde in stryd met mekaar – soos om tegelyk ’n Europeër en Afrikaan te wees.

In die commendatio by die oorhandiging van die Eugène Marais-prys sê DH Steenberg: “Die belofte wat op te merk was in Die ding in die vuur, is vervul in die tweede, ryper bundel Dulle Griet, want hier is die bindkrag die sentrale vrouetema en die subtiele vroueperspektief. Die titel en titelverhaal verkondig dit reeds: die vrou in ’n dikwels onbehaaglike situasie.”

JP Smuts is in Rapport (1 Desember 1991) van mening dat Scheepers in Dulle Griet voortbou op die deeglike basis wat sy met haar eerste bundel gelê het. Dit is nie net die gehalte van enkele verhale wat beïndruk nie, maar ook die baie goeie samestelling van die totale bundel.

Smuts het voortgegaan: “As ’n mens egter een gemene noemer moet uitsonder wat die verhale in die bundel saambind, is dit die vrou. Die vrou is die naamlose sentrale personasie in baie van die verhale, Sy is minnares en prostituut; sy is eensaam en verlate binne ’n verkilde huwelik en ook daarbuite ná ’n egskeiding; sy is lesbiër, moeder, ontwakende dogter, burgerlike gesinsmens – in talle gestaltes is sy in hierdie bundel aanwesig. En alles word op die een of ander wyse saamgetrek in die sentrale figuur uit die Breughel-skildery ‘Dulle Griet’.

“Maar Dulle Griet moet ook binne die konteks van die hele skildery gesien word. Sy is die vrou wat gierigheid verpersoonlik en omring is van groteske gestaltes: monsters wat, in die idioom van Jeroen Bosch, die hel oproep en onder meer vraatsug, ydelheid en onreinheid verteenwoordig.”

Smuts het sy bespreking so afgesluit: “Nie al die verhale staan ewe sterk nie. Van die korter tekste mis die gedrongenheid en digtheid wat so eie is aan die werklike goeie kort-kortverhaal, en die slotverhaal raak algaande voorspelbaar en is te lank vir wat dit bied.

“In die sterkste toon Riana Scheepers egter dat sy ’n rasegte en taalvaardige verteller is wat op ’n dwingende slot kan afskryf, en in die strukturering van die bundel tot ’n sinryke geheel oortref sy haar debuutbundel. Die aanvanklike belofte tree met hierdie bundel in groter vervulling. Riana Scheepers is klaar een van die belangrikste jonger stemme op die terrein van die Afrikaanse kortverhaal.”

Ook AP Grové (Beeld, 30 Desember 1991) het voorbehoude gehad oor enkele verhale waarin die teenstellings kru en blatant aangebied is, met ander (soos “Poison”) wat weer te melodramaties vir hom was, maar hierdie kritiek geld nie vir die hele bundel nie: “Wat ’n mens ná die lees oorhou, is die besef dat ons hier ’n hoogs intelligente bundel het, ’n bundel met heelparty boeiende verhale wat in ’n helder, vitale prosa geskryf is. Waar dit hier gaan om die onregte wat die vrou moet verduur, meen ek dat Riana Scheepers ’n sterk verweer besit, naamlik die talent om as skryfster die insigte waartoe sy deur waarneming, belewing en besinning gekom het, in lewende gestaltes te ban en in ’n oortuigende struktuur vas te vang.”

Hierdie twee bundels word in 1995 as ’n bloemlesing in Nederlands vertaal deur Riet de Jong-Goossens onder die titel Dulle Griet. Riana se volgende kortverhaalbundel, ’n Huis met drie en ’n half stories (1994), word ook in Nederlands uitgegee, onder die titel Onbevlekte ontvangenis. ’n Herdruk van hierdie twee bundels word later in Nederlands uitgegee as Die ding in die vuur met die aardigheid dat die kortverhaal “Die ding in die vuur” in hierdie bundel ontbreek.

In ’n Huis met drie en ’n half stories staan die vrou, soos in Scheepers se vorige kortverhaalbundels, weer sentraal, skryf Marthinus Beukes in Die Volksblad (3 Julie 1995). “Die vrou proklameer in hierdie verhale haar posisie sekuur soos beliggaam op die voorblad, asook in die slotwoorde van die laaste verhaal: ‘ek stap uit. Volkome vrou.’

“Die bundeltitel het ’n duidelike tweeledige betekenis, want nie alleen bring Scheepers in haar bundel drie afdelings met verskillende gestaltes van die vrou in die verhale saam nie, maar dit dui verder op die vlakke in ’n huis (= ‘storeys’). Scheepers stel hierdeur dus duidelik dat haar huis (dus die bundel én haar liggaam) uit verskillende vlakke (dus ook dimensies) gebou is.”

Foto: Pixabay.com

Vir Beukes is daar ’n verskil in die uitbeelding van die vrou in ’n Huis met drie en ’n half stories, aangesien die vrou meer menslik verbeeld word. Sy is nie meer so aggressief teenoor die man nie en hy word ook met meer deernis geteken sonder “om deur haar pen gekastreer te word”.

Beukes beskou die verhaal “Pa” as die hoogtepunt van die bundel. In hierdie verhaal molesteer die pa die dogter, maar dit word op só ’n sensitiewe manier vertel dat “die dogter se fantasie oor haar pa ’n poëtiese kwaliteit verkry sonder om te vervreem”.

In Rapport van 11 Desember 1994 beskryf Cecile Cilliers Riana Scheepers as “by uitstek eksponent van la condition féminine”. Sy ontgin veral die vrou se seksualiteit en dít word gedoen sonder om aggressief te wees, met deernis en met realisme én humor oor die vrou.

“In ’n Huis met drie en ’n half stories dek sy ’n wye tematiese veld, kies sy én kind én volwassene tot karakter, werk sy oortuigend met die verhoudings tussen mense. Sy beweeg ook van familievertellings op die Natalse platteland tot ’n lesbiese verhaal in ’n Middeleeuse gemoderniseerde klooster tot verhale met Bybelse temas. Daar is min verhale in die bundel, nie twintig nie, en sommige van die stories is weinig meer as indrukke, sketse. Sommige verhale is ook nie goed genoeg nie, het te min om die lyf. ‘Beeste’, byvoorbeeld, en ‘Klipsop’. Ander ontgin nie die gegewe nie, soos ‘Ses’, en ‘God se bruid’.

“Maar die titelverhaal is ’n boeiende, bevredigende samevoeging van uiteenlopende elemente tot ’n gesnoerde geheel. ‘Pa’ is ’n verrassende nuwe blikhoek op kindermolestering, en ‘Elikser’ is aangrypend. Die twee Bybelse verhale, veral ‘Jefta se kind’, is die hoogtepunt van die bundel. Riana Scheepers verander wat ’n tragedie moes wees in ’n triomftog vir die vrou (let op kind, nie dogter nie, in die titel). Dis ’n erotiese verhaal waarin nie seksualiteit die belangrikste element is nie, maar vryheid, onafhanklikheid. Sy vermeng praat- en skryfstyle met groot sukses. Die bundel is yl, maar hierdie verhaal vergoed daarvoor. (...)

“Riana Scheepers het ’n besondere gawe. Selde die ervarings wat agter haar lê, en wat haar ongetwyfeld toegerus het vir haar vertellings, selde die bykans wrede wegbreek van die geykte vrou – ter wille van die finale bevryding behou sy ’n frisheid van siening en ’n helderheid van segging wat haar ’n skynbaar blywende onskuld gee. Sy skryf so natuurlik oor die allerverskriklikste dinge. Soos dit hoort.”

Riana gaan in 1992 na die Universiteit van Wroclaw in Pole, waar sy ’n lesing oor die Afrikaanse letterkunde aanbied. Met haar terugkoms in Suid-Afrika stel sy ’n reeks radiopraatjies oor haar besoek aan Pole saam wat oor die Afrikaanse sender van die SAUK uitgesaai word. In Junie 1992 woon sy die Feministiese Boekebeurs in Amsterdam by nadat sy by ’n kursus vir dosente in Nederland was.

Dit is egter in 1994 dat Riana ’n huishoudelike naam word in baie Afrikaanse en Suid-Afrikaanse huise met die verskyning van haar eerste Katriena-boek, Haai Katriena, wat vertel jy my nou! “Met Katriena se stories loop ek al lank. Elke vrou met ’n huishulp kan ten minste een storie oor haar vertel. Verlede Desembervakansie, toe tref die karakter my, en in plaas daarvan om in die wonderlike weer op die strand te gaan lê, het ek letterlik die hele vakansie geskryf,” vertel sy aan Suzette Truter (Sarie, 29 Maart 1995).

Nog twee boeke oor Katriena volg: Nou lieg jy mos, Katriena! en Katriena, néé. Die karakter Katriena word ook vir die verhoog verwerk met die aktrise June van Merch in die titelrol en word tydens die KKNK van 2000 opgevoer.

Riana Barnard skryf (Volksblad, 1 Mei 1995) dat Katriena die ou Suid-Afrika op sy kop keer: “Sy is nie meer die stemlose kombuisbediende sonder sê nie. Inteendeel; sy foun haar vriendinne, help haarself aan die blik koekies en gee soms raad en leiding vir die arme Mevrou. (...)

“Sy lewer sosiale kommentaar wat deurgaans met deernis gelaai is en sonder die skerpheid wat satire kenmerk. Daarom is Katriena ’n karakter wat heling en versoening bring vir haar lesers. Die literatuur is so dikwels ingespan as wapen in die ‘struggle’. Hoe heerlik om ’n vrolike en vermaaklike teks te vind waarin selfs resepte gebruik word om ganse gelykheid te kommunikeer: ‘’n poeding vir ’n poeding’, soos Katriena sê.”

Vir Lucas Malan (Rapport, 27 Augustus 1995) bring Katriena en Riana Scheepers saam-saam “’n lighartiger blik op ons alledaagse bestaan wat versmorend ernstig geword het”, en Maureen Joubert (Insig, September 1995) skryf: “Scheepers vat ’n bekkige char stewig vas, sonder tierlantyntjies en geheel en al geloofwaardig. Sy laat haar in lewende lywe voor die leser staan, groot en aards en vol wysheid. Van Katriena wil ons nie afskeid neem nie.”

Riana se eerste roman, Die heidendogters jubel, verskyn in 1995 en word in dieselfde jaar in Nederland gepubliseer as De heidendochters juichen.

Nadat die roman voltooi is, vertel Riana aan Suzette Truter, het sy hard aan Die heidendogters jubel gewerk. “Ek het dit letterlik drie, vier keer oorgeskryf van voor af. Dit het my drie jaar geneem. Ek het gedink dit sal maklik wees om ’n roman te skryf, maar ek het my misgis.

“Die storie gaan oor ’n jong meisie wat ingesmokkel word in ’n weermagkamp. Dit gebeur regtig. Hulle noem so iemand ’n ‘wip’ en sy kruip dae lank weg in die warm, bedompige kamer en slaap dan snags by haar kêrel.

“Ek het drie jaar navorsing gedoen. Ek was in kampe, het onder beddens ingekruip en in troepe se kaste gekyk. Ek het oorlogboeke gelees. Met só ’n roman kan jy nie verbykom met min navorsing nie.”

In Beeld van 27 Julie 1995 in haar rubriek “Op my literêre sofa” beskryf Joan Hambidge Die heidendogters jubel as ’n “literêre ramp”. Sy skryf: “Dit lees soos ’n versameling van urban legends oor die army. ’n Mens kan nie glo dat ’n skrywer wat haarself nog altyd so behendig aan die subteks bedien het, sulke platvloerse, onsubtiele en agterlike prosa kan pleeg nie. Die leser lees egter klaar, waarskynlik omdat die beginsel wat Julia Kristeva vir ons uitgespel het, the power of horrors, hier ter sprake kom.

“Die leser word in Die heidendogters jubel vasgeklem as voyeur terwyl die vertellende ekshibisionis ontslae raak van al sy lewenswyshede. Die vraag is: lees ’n mens agter die mag van die groteske/aaklige aan, of is jy as literator gedoem tot die lees van die slotakkoord? (...)

“Scheepers het nog altyd ’n welverdiende plek binne ons kortkuns gehad, maar miskien het Eduan Swanepoel gelyk gehad toe hy in die De Kat-resensie van haar laaste kortverhaalbundel gesê het dat sy eerder ’n populêre skryfster is. Kennelik het haar Haai Katriena, wat vertel jy my nou-aanslag begin afsmeer aan haar ernstige skryfwerk, want Die heidendogters jubel is ’n verleentheid vir haar oeuvre. (...)

“’n Mens gru nie omdat dit ’n grensverhaal is nie. Ook nie omdat jy met die oorlog gekonfronteer word nie. Nog minder omdat dit boerenóiens is wat katelkaperjolle uithaal. ’n Mens gru omdat elke toneel so oerbekend is.”

JC Kannemeyer (Rapport, 28 Mei 1995) was van die min kritici wat positief geskryf het oor Die heidendogters jubel. Hy het dit beskryf as ’n “briljante kort novelle, sowel wat die bou as die subtiele gebruik van die natuurlike, dikwels kru ‘army’-taal en die uitbeelding van ’n uiteindelik vreeslose vrou. Ná die reeks sekservarings met die luitenant, telkens aan die einde van ’n hoofstuk, is die lesbiese toneel hoogs funksioneel om die finale omdop van waardes en die teenstand van die hoofkarakter teen ’n ander soort varsheid te onderstreep. Dit is een van die knapste tegniese grepe wat in ons hedendaagse verhaalkuns ken.”

Riana is van mening dat dit skrywers se plig is om diegene wat nie so goed onderleg is in die letterkunde nie, meer oor hul werk te vertel. Sy verduidelik hierdie stelling aan Gawie Keyser (Die Burger, 24 Oktober 1996): “Die heidendogters jubel het in Suid-Afrika ’n verskriklike kwaai reaksie ontlok. Wanneer ek rustig met ’n leeskring gesit en gesê het waar dit vandaan kom – daar was werklik vroue wat tyd in weermagkampe deurgebring het – dan was daar ’n soort begrip vir die situasie; daar was nie dadelik afkeer nie, hulle het weer gaan lees.”

Riana besoek in 1996 Amsterdam op versoek van haar Nederlandse uitgewer, Bert Bakker, en in dieselfde week word ’n bundel kortverhale van haar wat spesiaal vir die Nederlandse mark uitgegee is, bekendgestel. Riana is in die Nederlandse mark een van die suksesvolste Afrikaanstalige skrywers. Haar werk word uiters gunstig deur Nederlandse resensente ontvang en haar suksesvolle optredes oor die Nederlandse radio en televisie gee haar die erkenning wat skrywers in hierdie kompeterende lesersmark nodig het.

Oor hierdie verbintenis met Nederland sê Riana aan Gawie Keyser (Die Burger, 24 Oktober 1996): “Ek voel emosioneel betrokke by my herkoms hier. In 1701 het my voorvader na Suid-Afrika gegaan. Ek hou van die Nederlanders en vind aansluiting by die ruimheid van gees.”

Oor kritiek dat sy dalk as Eurosentries beskou kan word, reageer Riana teenoor Keyser soos volg: “Ek is nie meer ’n Europeaan nie; ek is ’n Afrikaan. My gene ... iemand vra of ek swart bloed in my familie het. Ek sê beslis, maar ek weet nie wie nie.

“Die spanning tussen Afrika en Europa is juis een van die temas in my werk. Ek’s ’n Afrikaan en die spanning wat dit met Europa veroorsaak, is wonderlik.”

Oor die baie aandag wat sy in Nederland op daardie tystip ontvang het, het sy aan Keyser verduidelik dat sy seker is dat dit as gevolg van die tema is waaroor sy geskryf het. “In die Afrikaanse letterkunde was die swart karakter ’n karikatuur, ’n randkarakter. Ek is nie die eerste skrywer wat daaraan aandag gegee het nie, maar die politieke klimaat was reg vir swart mense as hoofkarakters in my debuutbundel.”  

Intussen werk Riana onverpoosd aan haar PhD oor Die verhouding feit:fiksie in die kortverhaalbundels van Koos Prinsloo en na drie jaar behaal sy dit in 1997 en in 1998 word haar proefskrif gepubliseer as Koos Prinsloo: die skrywer en sy geskryfdes. Sy en Koos was jeugvriende.

In sy bespreking van Koos Prinsloo: die skrywer en sy geskryfdes (Tafelberg, 1998) skryf LS Venter (Beeld, 7 Desember 1998) dat hierdie omvangryke studie oor Prinsloo ’n baie welkome toevoeging tot die Afrikaanse literatuurkritiek is. “Werklik indringende publikasies oor skrywers se werk en nie net oor hul lewe nie is in Afrikaans so skaars soos hoendertande. Scheepers rym in haar boek die biografie met die literêre kritiek, omdat die sentrale onderwerp daarvan die relasie tussen lewe en literatuur, werklikheid en fiksie is. Haar uitgangspunt bly egter steeds die skrywer Koos Prinsloo en nie die mens nie.”

Vir Venter is daar oorhaastige en gerieflike veralgemenings en gevolgtrekkings, maar dit is ’n werk wat baie leesbaar is en daarby ook ’n waardevolle toevoeging tot die Afrikaanse literatuur.

In Die Burger van 13 Januarie 1999 is Helize van Vuuren die resensent van Koos Prinsloo: die skrywer en sy geskryfdes. “Scheepers tipeer Prinsloo se werk as postmodernisties, dikwels met ’n outobiografiese inslag sodat die grens tussen werklikheid en fiksie vervaag. (...)

“Die boek is gegrond op Scheepers se doktorale proefskrif. Ongelukkig is die spore van dié akademiese werksaamheid nie voldoende weggewerk nie. Die leser word gekonfronteer met ’n swaartillende eerste hoofstuk wat weinig verhelderend is. As hierdie wolkerige obstakel (bladsye 3–33) egter eers agtergelaat is, bied die werk ’n intensiewe speurtog deur die oeuvre van Prinsloo, wat berus op deeglike, feitelike navorsing en analise van sentrale tekste. ’n Indeks wat naslaan vergemaklik, ontbreek egter. (...)

“Scheepers se Prinsloo-studie sal sekerlik nie vir alle lesers toeganklik wees nie. Vir die literêr-geskoolde of geïnteresseerde leser en navorser is hierdie boek egter ’n onmisbare bronne-teks, al is dit jammer dat die bruikbaarheid verswak word deur die afwesigheid van ’n indeks met sleutelwoorde. Dit is nietemin ’n belangrike eerste boek-lengte ondersoek van die oeuvre van ’n merkwaardige en omstrede Afrikaanse skrywer.”

In 1998 stel Riana die kortverhaalbloemlesing Dogters van Afrika saam. Sy het net ’n naweek nodig gehad om hierdie werk saam te stel, want oor die jare is so spontaan oor die vrou, die diepste wese van die vrou, geskryf. Die verhale was dáár; die samestelling daarvan was vir haar voor die hand liggend. Die bundel word ook in Nederlands vertaal deur Riet de Jong-Goossens (Rapport-Tydskrif, 18 Januarie 1998).

Riana vertel aan Stephanie Nieuwoudt dat sy nie vir skrywers wou vra om ’n storie spesifiek vir hierdie bundel te skryf nie, want dan sit sy dalk met stories wat sy nie wil opneem nie, maar verplig voel om te aanvaar. Sy het dus op ’n Vrydagmiddag deur haar kortverhaalbundels begin werk en teen Sondagaand het sy haar seleksie gedoen.

Al is die titel van die bundel Dogters van Afrika, wou sy nie net verhale van vroulike skrywers insluit nie, maar ook verhale deur manlike skrywers. “As net vroue oor vroue skryf, raak die perspektief verdraai. Ek wou ook die manlike perspektief kry,” verduidelik sy aan Nieuwoudt (Beeld, 2 Desember 1997). “Daar was reeds drie belangrike Afrikaanse versamelwerke oor vroue – Rachelle Greeff se Lyfspel, Vrouevertellers van Annemarié van Niekerk en Vrou:Mens van Corlia Fourie. Nie een van dié boeke het ’n manlike stem nie. Dogters van Afrika is die eerste vroueboek waarin die verhale van manlike skrywers ook opgeneem is.”

Sy gaan voort: “Nie een van die verhale is gekies omdat die skrywer lesbies, gestrem, manlik, vroulik, wit of swart is nie. Dit is suiwer ’n persoonlike keuse. Ek het die mooiste verhale in Afrikaans in die boek saamgevat.”

Riana verlaat Tafelberg Uitgewers in 1998. Sy is nie daar weg oor onenigheid nie. Daar was konflik, maar nie só dat sy gevoel het sy moet bedank nie. Sy het bloot te hard gewerk en het gevoel dat haar eie kreatiewe prosesse tot stilstand “geknars” het (Rapport, 16 Mei 1999).

In dieselfde tyd is sy ’n gas op die televisieprogram Maak ’n las en vertel sy ’n grappie met ’n knalwoord as treflyn. “Die wye kritiek daarop het my twee nagte se onophoudelike trane gebring” en sy is lank in die pers daaroor bygekom. Oor hierdie voorval laat Riana haar soos volg uit: “Ons het nog g’n stuk gevorder sedert die Middeleeue nie. Dis waaroor my kortverhaalbundel [Feeks] gaan: dat die feeks verdelg is omdat sy nie hul idee van ’n vrou was nie. Dit was die intensiteit van die aanval op my wat ontstellend is. Dit was die intensiteit wat veroorsaak het dat die vroue in die Middeleeue verbrand is.” (Rapport, 16 Mei 1999)

Riana sluit ’n jaar lange kontrak met die stigtersredakteur van die Christelike tydskrif Finesse, Maretha Maartens, om ’n maandelikse rubriek aan hulle te lewer. In Mei 2000 word die kontrak summier opgeskort nadat daar, volgens Finesse, klagtes van lesers was oor Riana se boeke, asook na aanleiding van ’n artikel in Rooi Rose waarin Riana sê dat sy neutraal staan teenoor Paasfees. Finesse beweer dat Riana nie ’n Christen is nie. Maretha Maartens het intussen uitgetree as redakteur van die tydskrif en Coenie Schoeman word die uitgewer.

Riana was baie verbaas oor hierdie besluit van die uitgewers, want sy het goeie reaksie van die lesers op haar rubriek gehad. In ’n brief aan Vanessa Schoeman, die assistentredakteur, skryf sy: “Ek het nog nooit met my Christenskap te koop geloop nie, omdat ek weet dat ek feilbaar is (...) Liefdeloosheid en morele veroordeling is steeds met ons, veral uit die geledere van die Groot Christene wat (skynbaar) self sondeloos is en daarom só maklik die oordeel oor ander kan vel” (Volksblad, 8 Junie 2000).

In 1999 verskyn Riana se volgende kortverhaalbundel onder die titel Feeks. Mabel Erasmus (Volksblad, 24 Januarie, 2000) skryf dat dit ’n boek is wat menswees in Suid-Afrika in daardie tyd wil besweer, maar ook bevestig en vier.

“Daarom wil ek dit by lesers aanbeveel as ’n talisman vir die toekoms wat vir baie van ons die gevoel van verswelging gee. (...)

“Die woordeboekbetekenis vir feeks, naamlik, ‘bitsige, nydige vroumens – kwaadwillige hellefeeks’, mag misleidend wees; dit sou die indruk kon wek dat die boek ’n uitdagende of sogenaamde ‘feministiese’ teks is waaraan sekere mense ’n broertjie dood het. Die boek as somtotaal omvat egter veel meer as verhale oor karakters wat aan hierdie beskrywing voldoen; dit is ’n inklusiewe, genuanseerde bundel en daarom behoort die titel liefs gelees te word as meerduidige samestelling van fee (’n vrou wat haar toorkrag positief inspan) en heks (’n vrou wat toorkuns beoefen, meestal tot nadeel van die medemens – aldus die woordeboek).

“Die twee magiese elemente word subtiel vermeng; byna elke verhaal spoel iewers oor die grense van die rasioneel-ervaarbare werklikheid en versterk sodoende die betowering van Scheepers se voortreflike woordkuns. (...)

Feeks bevat die gesamentlike betowering en towerkrag van die knap literêre teks. Laat ons maar katvoet loop vir die hiperpragmatisme (ook in akademiese kringe) wat letterkunde se rol en waarde geringskat. (...) Vir my straal die boek in geheel medelye, moed, hoop en troos uit – kwaliteite waarsonder niemand die nuwe eeu kan aandurf nie.”

Ook Gretel Wybenga is positief oor Feeks (Rapport, 23 Januarie 2000). Ook hier is die vrou die sentrale tema, soos in Scheepers se vorige bundels, maar in hierdie verhale is daar sprake van “ander verborge, en soms donker, kragte met sy oorsprong in ’n diepgewortelde oerkennis wat die rasionele voorafgaan”.

Wybenga gaan voort: “In die woord ‘feeks’ manifesteer die betekenis van sowel helleveeg as heks, wat hier nie noodwendig sinonieme is nie. Reeds vanaf die eerste verhaal, in die magiese teenwoordigheid van ’n inheemse oorbel wat ook op die voorblad pryk, word die heks verbind aan die Afrika-gegewe. Om dié rede moet die heks, soos in Westerse kulture, nie net in die bose sin van die woord begryp word nie, maar die heks is ook medisynevrou, sjamaan, en die gewer van goeie dinge. (...)

“’n Verblydende aspek van hierdie bundel is dat Scheepers haar nou uitgebreid en oortuigend begeef op die terrein van die magiese, wat wel ’n waagstuk kan wees as die outeur nie daarvoor toegerus is nie. Dié tendens is ook toenemend opvallend, onder andere in die werke van André Brink. Miskien is ons verwaterde Westerlinge nou eers, hier teen die eeuwisseling, in staat om die ware stem van Afrika te hoor.

“Hierdie sterk bundel se stramien is somber en die spontane speelsheid en byna improvisatoriese indruk van die tipiese Scheepers-verhaal minder opvallend. Die somberheid word ook uitgesê met die oorwegend donker en treffende voorblad, en die swart titelblad, en selfs met die onvrolike foto van Scheepers (koponderstebo!) op die agterblad.”

Riana se eerste digbundel, Met die taal van karmosyn, verskyn in 2001. “Dis ’n viering van die liefde en die feit dat my taal aan my teruggegee is. In die agt jaar wat ek in ’n verhouding met ’n digter was, het ek my doelbewus daarvan weerhou om in die artistieke ruimte waarin hy beweeg het, in te gaan. Die einde van die verhouding was traumaties, maar dit was ook ’n skeppende bevryding.” Dit is ’n nuwe liefde wat haar taal vir haar teruggegee het: “Die man is nie ’n letterkundige nie, maar hy praat die mooiste, ongebreidelde Afrikaans,” vertel Riana aan Stephanie Nieuwoudt (Beeld, 22 September 2001).

Die meeste van die gedigte in Met die taal van karmosyn is vir die nuwe geliefde geskryf. En, vertel Riana verder aan Nieuwoudt, die titel is gekies om by die baie passievolle toon van die gedigte te pas. Op die voorblad is ’n foto van die skrywer met die mond wat baie prominent vertoon. “Die prominente mond is vir my beduidend van die sensuele en die taal wat ek teruggekry het. Die bundel is uiteraard meer intiem as my ander werk. Met poësie speel jy nie speletjies nie. Dis die rouste en eerlikste vorm van literatuur.”

Vir Joan Hambidge (Die Burger, 2 Oktober 2001) is Met die taal van karmosyn as debuut nie treffend nie. Maar daar is ’n handvol gedigte wat “onthoubaar is tussen verse wat nog gewoon indrukke is (en waarskynlik te na aan die digter of die ervaring staan)”.

Vir Hambidge is die verse wat die beste is, dié wat agter die “woord-net” gebeur, maar haar gevolgtrekking is dat Scheepers eerder ’n kortverhaalskrywer as digter is.

TT Cloete skryf in Rapport (4 November 2001) dat die hoofindruk wat die bundel by die leser laat, die taal van karmosyn of van erotiek is. Maar dit beteken nie dat hierdie gedigte die beste groep verse in die bundel is nie. “Inteendeel. Die erotiese gedigte laat hulle te swaar geld en soms te egosentries, en te veel in die trant van dergelike gedigte van enkele ander digters van die jongste tyd. (...)

“Daar is ook gedigte van ’n heeltemal ander aard in hierdie afdeling, soos ‘Sappho was verkéérd’ of ‘Swartland: wintermiddag’ met sy skerp teenstellings. Dit is verse wat verskil van die meeste gedigte in hierdie afdeling, omdat dit nie van vervulling alleen praat nie maar van verydeling, van pyn wat met die liefde gepaardgaan en wat ’n meer verwikkelde karakter daaraan gee. ’n Veelkantigheid wat nietemin in heel eenvoudige taal verwoord is. (...)

“Party van die liriese gedigte praat onmiddellik met jou, maar hulle, soos ander wat ’n mens direk aanspreek en eerder bloot beskrywend is, verloop ongelukkig dof, en meestal hang dit saam met die oormaat kort, saaklike en onortodokse verse wat min ritmiese moontlikhede skep. (...)

“Die reisgedigte staan miskien nie verniet aan die slot van die bundel nie en is gedigte wat dalk moontlikhede inhou vir toekomstige ontwikkeling.”

Riana Scheepers se eerste jeugboek, Die blinde sambok, word ook in 2001 gepubliseer en ontvang in 2003 die ATKV-Kinderboekprys vir die ouderdomsgroep 10 tot 12 jaar. Hierdie toekenning is baie spesiaal vir Riana omdat dit die kinders self is wat die keuse maak. Leon de Villiers, ’n jeugboekskrywer, se reaksie op die prys is dat die kinders vere voel vir die skrywer, maar mal is oor die storie, en Riana stem volmondig met hom saam. Die Nederlandse vertaling van Die blinde sambok getiteld Scorpioenkind was op die kortlys van die Vlaamse Kinderjurieprys (Taalgenoot, Mei 2003).

Die blinde sambok het as hoofkarakter ’n meisiekind met ’n seunsnaam, Gideonette, wat ’n regte rabbedoe is. Die hele familie het gehoop dat sy ’n seun sou wees wat die familienaam kon voortdra. Toe sy gebore is, was haar pa baie teleurgesteld – nie net omdat sy ’n dogter was nie, maar ook twee maande te vroeg gebore is en baie swak was. Maar niemand het besef dat die kleine meisiekind ’n wil van haar eie het en dat sy besluit het sy gáán lewe nie. Sy kry ’n beste vriend, Bhubesi, op die plaas en saam beleef hulle baie avonture.

Wat Gideonette egter nie geweet het nie, is dat daar ’n “vloek” op die familienaam Gideon rus – almal wat dié naam het, gaan in fratsongelukke dood . Maar, vertel Riana aan Dawid de Bruyn (Rapport, 6 Mei 2001), Gideonette oorleef omdat sy ’n onblusbare drang het om te leef. “Uiteraard is dit ’n fiktiewe verhaal, maar die insidente wat beskryf word, is outobiografies. Ek was ’n onhebbelike kind. En my pa is ook dood toe ek ses was.”

Riana het baie geïrriteerd geraak oor die jeugboeke wat altyd een of ander sosiale probleem aanpak, sê sy aan Stephanie Nieuwoudt in ’n onderhoud. “Daar is altyd alkohol- of dwelmmisbruik of ma wat vir pa slaan. Ek wou ’n outydse jeugverhaal skryf met outydse Trompie-rige pret. Ek het nie probeer om ’n politieke stelling te maak nie, maar die Bhubesi in die boek het wel bestaan. Hy was my pêl op my oupa se plaas.”

In 2017 het Hanneke Schutte Die blinde sambok verwerk tot ’n film getiteld Meerkat Maantuig. Dit was een van die prente wat in 2017 meegeding het in die Silwerskermfees se kompetisie en het weggestap met die prys vir die beste kinematografie. Anchen du Plessis het die rol van Gideonette vertolk en Schutte was die regisseur.

Die film is ook oorsee bekroon, met die volgende pryse:

  • Wenner van die FIPRESCI Critics Prize by die Schlingel Filmfees in Duitsland 
  • Wenner van Best International Feature by die Schlingel Filmfees in Duitsland 
  • Wenner van die Festival Honors Award for Outstanding Achievement in Filmmaking  Feature Film, Newport Beach Filmfees in Amerika 
  • Wenner as die beste film vir kinders en die jeug, Spirit of Fire Film Festival, Siberië  
  • Wenner Beste Kinematografie, SAFTA (South African Film and Television Awards)

In 2006 word Die avonture van Wilde Willemientjie gepubliseer en word dit verwerk vir die teater. Dit word in 2006 by die KKNK onder regie van Niel Rademan opgevoer en ontvang die Kanna vir die Beste Kinderteater. Sy skryf vir kinders, want “ek wil vir ’n slim kindjie met al die wysheid van die hemel in sy oë wonderlike stories lees van goeters wat gril, spoke wat in bome swaai, seerowers wat in die wingerd sit, geeste in klippe met ’n sagte stem wat nét ’n kind kan hoor.”

Wilde Willemientjie se avonture het nie net by een boek en een opvoering gebly nie. Ander titels is Wilde Willemientjie, ’n walvis, ’n seerower en die maan (2007) en Die verdere avonture van Wilde Willemientjie (2009). In 2007 het Wilde Willemientjie ook ’n draai by die Volksblad-kunstefees gemaak saam met die walvis, die seerower en die maan.

Scheepers is ook die skepper van Arboreta, die heks met die groen hare, ’n baie wyse en vriendelike heks wat vir die bome in haar woud sorg.

“Sy het ’n talent om haar te kamoefleer, en sy besit ook sekere toorkragte, wat slim aangewend word teen diegene – stoute kinders, gewoonlik – wat haar woud wil verniel. Die gawe groen heks is egter bekommerd, want sy is al baie oud en wie gaan na die woud omsien wanneer sy nie meer daar is nie?” skryf Jeanne Calitz in Die Burger (26 Junie 2008).

Calitz beskryf die storie as pragtig en dromerig en een wat in die smaak van ses- en tienjariges sal val: “Ook volwassenes sal egter iets waardevols in die verhaal kan vind, al is dit bloot om vir ’n wyle te ontsnap in ’n vriendelike groen wêreld. Eenvoudig maar ráák in haar beskrywings, het ek later kompleet begin voel (of is dit wens?) ek kan daardie sagte, suisende woudgeluide hoor.

“’n Mens het veral ook waardering vir die feit dat Scheepers daarin slaag om ’n boodskap oor omgewingsbewaring oor te dra sonder om een oomblik prekerig te klink. (...) Ons jongklomp moet leer om respek te hê vir die aarde en sy mooie wonders, veral in hierdie tye van snelle stedelike groei, besoedeling en aardverwarming. En Arboreta is die perfekte onderwyseres.”

In September 2002 trou Riana met Johann Loubser en hulle gaan bly op De Compagnie net anderkant Wellington in die holte van die Wamakersvallei. Op hierdie plaas doen vroue hul dinge. Riana is plaasbestuurder, bemarker, asook inslapende digter. Sy werk saam met die vroue in die wingerd. Sy doen dit “omdat iets gebeur het wat ek aan niemand kan verduidelik nie. Ek word deel van die beskeie mag van vroue wat die nederigste werk op aarde doen. Hulle dink nie meer dis snaaks, dié mevrou wat saam met hulle inval nie, hulle bly nie meer stil as ek nader kom nie. Ek hoor van hul huise, hul kinders, wie de afgelope naweek vir wié geskel het, wie se man ’n vuilis is, en wie se kinders gruwelik is” (Rooi Rose, Augustus 2003).

Haar passie vir Afrikaans tree ook hier na vore toe hulle op die wynetikette vir hulle wyn moes besluit. Hierdie etikette word oorwegend in Afrikaans gedruk.

Riana is, benewens haar gewone skryfskole, ook nóú betrokke by geletterdheidsklasse vir volwassenes in die plaasgemeenskap. Sy bied ook ’n kursus in Skryfkuns en Kreatiewe Denke op De Compagnie aan.

In 2003 word drie van haar boeke by die Antwerpse Boekebeurs bekendgestel: die Nederlandse vertaling van haar digbundel, asook die vertaling van Die blinde sambok en Verstaan my verlangste, ’n bloemlesing van Afrikaanse liefdesgedigte. Sy en die Vlaamse letterkundige Jooris van Hulle stel die bundel saam. Die gedigte is in Afrikaans met Nederlandse verklarende aantekeninge.

De Compagnie se huidige plaasbestuurder, Mattewis Thabo, se vrou Nicci is ’n opgeleide kleuterskoolonderwyseres. Sy help die kinders op die plaas na skool met lees- en skryfwerk. Riana vra haar om stories vir die kinders te skryf. So skryf Nicci in vir die Bloemfonteinse Skrywersvereniging se jaarlikse skryfwedstryd en word die eerste prys aan haar toegeken.

In 2005, met die viering van De Compagnie se driehonderdjarige bestaan, skryf Riana ’n kortverhaalwedstryd uit en word die beste inskrywings deur haar en Nicci gebundel in Die melkweg het ’n ster laat val (2006). Vir die bloemlesing ontvang hulle ’n prys van die Departement van Landbou wat erkenning gee aan die kulturele baanbrekerswerk wat hulle onder plaaswerkers doen. Riana ontvang ook in 2006 die Patrick Petersen-gedenkprys vir haar opheffingswerk onder plaaswerkers en haar bemagtiging van vroue.

In 2006 vereer die Rapportryers Riana met ’n erepenning vir haar rol in die uitbou van Afrikaans en die visie van die Rapportryersbeweging.

Sy is ook ’n baie gewilde rubriekskrywer wat gereeld vir Die BurgerVolksblad en Beeld bydraes gelewer het. Hierdie bydraes is in 2003 en 2005 gebundel in onderskeidelik My voete loop na Wellington en ’n Engel in my huis.

Oor My voete loop na Wellington skryf Cecile Cilliers (Die Burger, 6 September 2003) dat hierdie bundel rubrieke meestal met die skrywer self te make het. En dit kan, volgens Cilliers, problematies wees, aangesien die skrywer makliker belangriker as sy stof raak en dit tot “selfbeheptheid en selfkoestering” kan lei, wat ongelukkig in hierdie bundel te bespeur is.

Maar gelukkig, skryf Cilliers, is daar drie eienskappe waaroor Riana beskik wat hierdie bundel red: haar sin vir humor, haar vermoë om ’n storie te herken én dit te vertel en haar taalgebruik. “Afrikaans blom uit Scheepers se pen.”

Oor haar volgende versameling rubrieke, ’n Engel in my huis, vertel Riana onder meer van haar vissershuisie aan die Weskus, asook van haar huis op die wingerdplaas. Maar daar is ook ander huise ter sprake, sowel as sketse oor plekke in Suid-Afrika en oorsee waarheen sy gereis het.

In Literator (Augustus 2006) skryf SF Greyling dat al die bydraes nie op dieselfde standaard is nie, maar dat dit te verwagte is in ’n versameling van hierdie aard.

“Bydraes soos ‘Mathilda se storie’ (p 12) laat ’n afgeronde en universele indruk. Ander bydraes is veel persoonliker en kom soms sentimenteel oor. Lesers verskil egter en elkeen sal waarskynlik ’n gunsteling in die bundel hê. (...) Die vertellings is kort, wat dit ideale leesstof maak wanneer ’n mens net ’n paar minute beskikbaar het. Dit is waarskynlik hoe dit gelees moet word – so proe-proe en een of twee op ’n slag. Elke vertelling bied die leser veel om te geniet, om oor na te dink, en met ’n vars blik na die wêreld te laat kyk.”

In 2009, so tussen al die rubrieke, kinder- en jeugverhale en poësie, verskyn Riana se volgende kortverhaalbundel, getiteld Katvoet, haar eerste bundel in tien jaar.

Sy verduidelik aan Elise Tempelhoff (Beeld, 30 September 2009) dat Katvoet groen is: “Katvoet is omgewingsbewus in die sin dat die karakters in die sleutelverhale leer om meer aards, meer primordiaal, maar natuurlik, maar intuïtief te leef.

“My bewustheid van die omgewing kom van kleintyd af. Ek het op ’n plaas grootgeword en was nog altyd omgewingsbewus – in dié sin dat ek nog altyd na aan die natuur wou woon. Sedert ek in die Wamakersvallei woon, het dit méér geword, het ek dit reggekry om te doen wat ek wil – om meer ekologies bewus te wees.

“Ons het te veel goed, gaar te veel op, kry te veel Kerspresente, leef te oordadig. Ek kan presies dieselfde luukshede om my hê met veel minder besittings. Ek glo dat ons almal uit die natuur moet haal wat jy nodig het, maar niks oorbodigs moet wegvat nie. Ons koolstofvoetspoor is te groot. Die kultuur om te stroop – meer te vat as wat nodig is – is al eeue lank met ons. Ek wil graag hê ons geslag moet leer om minder te mors en meer bedagsaam te wees jeens die natuur.”

Die vrou in die titelverhaal in Katvoet leer om instinktief soos ’n kat te leef, in die nag, omdat sy besef dat dit geestelik goed vir haar is. “Sy leer om meer op haar sintuie, en veral haar sesde sintuig, aanspraak te maak. Sy leer die natuur ken terwyl die natuur sy geheime en wonderwerke vir haar oopmaak.”

Riana vertel aan Tempelhoff dat die natuur en die bewustheid van die natuur ook in die ander verhale belangrik is: “Dit gaan veral oor die eenwording van die karakters met die natuur en die mens in simbiose met die natuur.”

In haar resensie (Beeld, 16 November 2009) skryf Susanne Harper dat katte ’n belangrike rol speel in Katvoet. “Volgens die skrywer self in ’n radio-onderhoud gaan dit hier oor katte, hetsy dit nou ’n luiperd, huiskatte of skuurkatte is. (...) ’n Pragtige stuk is die titelverhaal waar die vrou vergelyk word met ’n kat waarvan die sintuie in die nag verskerp. Maar ’n kat is altyd ’n slim, maar ook ’n slu dier.

“Volgens Scheepers moet die skrywer ook dikwels slim en slu wees. Volgens haar, in ’n ander onderhoud, bewonder sy die kombinasie van intelligensie en sluheid wat ’n kat het en sien sy dit as ’n verbysterende eienskap wat elke skrywer moet hê.

“Hiermee saam gaan die tema van die bonatuurlike, reïnkarnasie en die wonderwerke. Die kortverhale in hierdie volwasse bundel toon die ligte, elegante en sinistere aanslag van die kat. (...)

“Die bundel is ook vernuwend en eksperimenteel. Eienaardig en eksperimenteel is die gebruik van kleinletters aan die begin van ’n verhaal en ’n titel van ’n verhaal wat oorloop in die eerste sin. Sinne sonder werkwoorde is volop, so ook die opeenstapeling van gegewens waar dit funksioneel aangewend word. Die magiese, die onmoontlike en surrealistiese elemente kom in verskeie verhale voor (...). Sulke toweragtige, soms surrealistiese momente, kom dikwels verfrissend teen die slot van ’n verhaal voor.”

Saam met Ampie Coetzee beskou Harper hierdie bundel as Riana Scheepers se beste tot op daardie stadium.

Hierna begewe Riana haar op ’n heel ander gebied toe sy besluit om DJ Opperman se destydse Kleuterverseboek wat in 1957 op die rakke verskyn het, in ’n nuwe gedaante aan Afrikaanse kinders bekend te stel.

Sy vertel aan Izelle Venter in Huisgenoot (11 Junie 2009) dat sy stomverbaas was toe sy besef hoe oud Kleuterverseboek is. “Dis dan amper so oud soos ek! Dit bly ’n wonderlike boek, maar dit was tyd vir iets nuuts ook.”

Sy het toe vir Suzette Kotzé-Myburgh, ’n baie ervare boekredakteur, gevra om te help en só is dié “moet-hê-boek” gebore. Riana se hooftaak was om bydraes in te samel en saam met Suzette die keuring te doen, terwyl Suzette verantwoordelik was vir die redigering.

In die nuwe bundel, met die titel Nuwe kinderverseboek, is byna 300 nuwe kinderverse in Afrikaans opgeneem. Heelwat van die 113 digters wat bydraes gelewer het, het nog nooit met rym of ritme te doen gehad nie, en rym en ritme is juis van die vereistes wat nie net aan kleuterpoësie gestel word nie, maar ook aan verse vir volwassenes – “die ritme, metrum en rym moet perfek wees. Dis glad nie maklik nie,” vertel Suzette.

Onder die debuutdigters is daar ’n ingenieur, huiswerker, finansiële joernalis en heelparty mammas en pappas en ook oupas en oumas. Die jongste digter was maar tien jaar oud toe sy gedig gekies is. En Hennie Aucamp het vir die eerste keer vir kinders gedig, wat vir hom ’n heel nuwe ervaring was. Vir Suzette was die redigering wat sy vir Nuwe kinderverseboek gedoen het, baie moeilik.

Die verse is volgens ouderdom in drie afdelings ingedeel (2 tot 4, 5 tot 7, 8 tot 10) met elke afdeling wat sy eie illustreerder gehad het, wat bygedra het tot die plesier wat die verseboek sal gee aan almal wat dit gaan lees.

Riana en Suzette sê vir hulle is die belangrikste element van hierdie boek dat dit pret moet wees om dit te lees. “En die pret is nie net tot kinders beperk nie, maar selfs ernstige grootmense sal dit geniet.”

André P Brink (Beeld, 4 Mei 2009) beskryf Nuwe kinderverseboek as “genoeglik” met “oorspronklike, verfrissende en fleurige illustrasies wat uitmuntend aanpas by die belangstellings en verbeeldingswêreld van kinders in ’n bepaalde ouderdomsgroep. In ’n werk van dié aard is illustrasies van byna ewe veel belang as teks en ek moet eerlik sê die NKV is kort en klaar een van die mooiste kinderboeke wat ek nog in Afrikaans gesien het.”

Ná bogenoemde twee versamelbundels van haar rubrieke, versamel Adriaan Meyer, Riana se jongste seun, van haar kortverhale wat in haar vorige vyf bundels opgeneem is. Sy vertel aan Solette Stander (Boeke-Rapport, 7 Oktober 2012) dat hierdie bundel, getiteld Die vrou in die vuur, haar oeuvre verteenwoordig.

“’n Versamelbundel gee lesers ’n goeie idee van hoe ’n mens as skrywer ontwikkel en gegroei het deur die jare. Toe ek nou agterna vir elke kortverhaalbundel ’n inleiding moes skryf, het ek self ook ’n goeie blik op my werk gekry en kon ek duidelik sien wat die invloede op my werk was.”

Met die publikasie van die biografie Purper en kaneel, komyn en smarag: die kleurvolle lewe van Hannetjie de Clerq lewer Riana weer eens bewys van haar veelsydigheid as skrywer. Oor hoe dit gebeur het dat sy spesifiek hierdie skilder se biografie geskryf het, vertel Riana aan Laetitia Pople (Die Burger, 17 Oktober 2012) dat sy die eerste maal van De Clerq se werk bewus geword het in die 1980’s toe sy skilderye van haar op die destydse Bloemfonteinse kunsmark gesien het. Veral een het tot haar gespreek, maar sy het as student nie die R40 gehad om dit te koop nie.

De Clerq het gesien sy stel baie belang in die werk, en vir Riana gesê sy kan dit neem en haar afbetaal wanneer sy die geld het. En só het hulle vriendskap begin.

Riana vertel self verder: “’n Jaar of wat voor Hannetjie se 50ste verjaardag het sy my gevra om haar lewensverhaal te skryf. Nie ’n biografie as sodanig nie, maar ’n bestekopname van haar lewe in samehang met haar ontwikkeling as kunstenaar. Sy wou nie hê dat dit nóg ’n kunsboek moes wees wat swaarwigtig, vol akademiese uitsprake en totaal onleesbaar is nie.

“Sy wou hê dat ek as woordkunstenaar die belangrikste momente in haar lewe as kortverhale skryf. Die teksgedeeltes is in die derde persoon geskryf en handel oor ‘die kind’, ‘die meisie’, ‘die student’, ‘die vrou’ en ‘die kunstenaar’. Die boek is oor ’n tydperk van twee jaar geskryf oor vele potte tee en glase wyn.

“Ek en Hannetjie het feitlik weekliks ’n afspraak gehad – óf ek was by haar in haar soel tuin, óf sy by my op die plaas. Sy het my broksgewys haar lewe vertel – en hoe meer sy vertel het, hoe meer dinge het sy natuurlik onthou, dus was dit nie ’n lineêre gesprek wat ’n netjiese begin tot einde gehad het nie.”

Daar was sekere oomblikke in haar lewe wat Hannetjie self beskryf het en vir Riana skryf sy “hierdie ongelooflik beeldryke sinne, net so mooi en evokatief soos haar skilderye. Ek het besluit dat dit my verhale moet begelei – vandaar die teks in die eerstepersoonsperspektief.

Purper en kaneel, komyn en smarag is ’n titel wat vertel van haar kleurryke lewe, ’n lewe wat nie net kleur is nie, maar ook geur en tekstuur en wysheid – en diepte.”

Tanya O’Connor skryf in Rapport Boeke (4 November 2012): “Purper en kaneel, komyn en smarag is die lewensreis van ’n vrou wat haar lewe gelééf het, eerlik soos haar kunswerke, maar dis ook die verhaal van die vriendskap tussen twee siele wat met ’n enkele kyk met mekaar gesels. Dit is wat my sal bybly: Die besondere band tussen kunstenaar en skrywer, iets wat ek keer op keer vind op die blaaie van dié boek.”                

Riana skryf vanaf twee-uur in die nag tot so vyf-, sesuur, wanneer die donker ure van die nag aan haar behoort. “Dit is die magiese uur waarin ’n mens weerloos, hipersensitief en vatbaar vir die bonatuurlike is.” Dit help ook dat sy die mooiste studeerkamer in die wêreld het – die ou kombuis van ’n huis waar die vuur in die vuurherd in die winter nooit ophou brand nie.

Adriaan, Riana se jongste seun, volg beslis in sy ma se gewilde voetspore. Hy is ’n dramaskrywer en sy drama oor Koos Prinsloo, Prinsloo Versus, word in 2004 tydens die KKNK bekroon met die Jong Kanna vir Beste Studenteteater.

Oor dinge wat haar ontroer sê Riana aan Solette Stander (Boeke-Rapport, 7 Oktober 2012) dat daar verskeie dinge is waarin sy geïnteresseerd is en wat haar aanraak – “soos die geweldige impak van kinderpoësie op gestremde en nie-gestremde kinders, en so ook die energie van opkomende kunstenaars. Dit is vir my wonderlik om met nuweling-skrywers te werk, want hoe meer energie ’n mens uitdeel, hoe meer ontvang jy ook.

“Die simbiose tussen die natuur en die mens se geesteslewe interesseer my ook. Daarom skryf ek graag oor die heks-figuur – oor vroue wat uitgestoot word omdat geglo word hulle is boos. In werklikheid was baie van die vroue wat deur die samelewing as hekse uitgekryt was, bloot vroue wat ’n besondere aanvoeling vir die natuur gehad het.”

In 2013 brei Riana haar oeuvre verder uit met die publikasie van haar eerste kookboek, Vallei van melk en heuning. Die bestanddele van die resepte kom uit haar plaastuin op De Compagnie, en die vleis van hulle plaas Klipkraal in die Tankwa-Karoo. Die resepte is goed wat sy elke dag op die plaas maak met niks aanstellerigs of volksvreemd nie, vertel sy aan Maryke Roberts (Vrouekeur, 14 Februarie 2014). “Ek is nie ’n sjef nie en my boek het eerder die weelderigheid van eenvoud as boodskap.”

Haar uitgewer by LAPA, wat Vallei uitgegee het, vertel aan Roberts: “Vallei van melk en heuning word opgedeel in seisoene en die produk wat op daardie tydstip op die plaas en uit die omgewing beskikbaar is. Dit sluit ’n wye verskeidenheid van resepte in: van geurige elke-dag-kos, tot uithalergebak om enige gas te beïndruk. Maar altyd toeganklik, eerlik en onpretensieus. Tussen die resepte deur vertel Riana stories, en maak dit meer as net ’n resepteboek, inderwaarheid ’n inspirerende lekkerleesboek wat jy nie net in die kombuis gaan lees nie.”

Riana vertel aan die kookboekversamelaar en huiskok Errieda du Toit (Boeke-Rapport, 2 Februarie 2014) dat die skryf van hierdie kookboek vir haar die hardste werk was wat sy nog ooit gedoen het: “Behalwe dat alles perfek moes wees en elke resep getoets (en getoets en getoets) moes word, was die stilering en fotografie daarvan ’n tydsame maar wonderlike proses. Maar die skryfproses van kookboek en literêre teks is eintlik presies dieselfde: Ek het maar net die verhale geskryf waarvan die hoofbestanddeel die produkte van my plaas is” (Boeke-Rapport, 7 Oktober 2012).

In 2017 verskyn Riana se tweede kookboek onder die titel Smeul: drie vroue, een kombuis. Hierdie een skryf sy saam met Marietjie Koekemoer en Leonie Scholtz. Op Maroela Media skryf Louise Viljoen dat die resepte in vier afdelings ingedeel is, naamlik Weergalose Weskus; Karooland, hartland; Diep, diep in die donker woud; en Sprokie vir ’n stadskind. Die resepte is op die regterkant van die bladsye gedruk met volkleurfoto’s aan die linkerkant.

Viljoen vertel dat sy die boek van die rak afgehaal het net om na iets te soek en twee uur later het sy nog daar gestaan: “Die pragfoto’s is verleidelik en maak jou honger én lus. Die groot verskeidenheid resepte van oor die aardbol smeek om beproef te word. Dis egter die teks wat in sprankelende harts-Afrikaans geskryf is deur vroue wat kán, wat soos ’n sagte karos oor my skouer kom lê het en ek het my skaamteloos verlustig aan hulle geselsies en vertellings oor kos.”

Riana se volgende roman, Stormkind, word in 2018 deur Tafelberg gepubliseer. In Stormkind leer ons vir Jana ken. Toe sy drie jaar oud was, het haar ma tydens ’n kuier in Ierland spoorloos verdwyn. Op sy plaas Stormkloof in die Boland treur haar pa, Kleinstorm, na ’n paar jaar nog altyd oor sy vrou wat so mooi fluitmusiek kon maak.

Vir Jana is die gemis na haar ma net so erg. In die nag volg sy die geroep van die wind na buite. Sy vrees nie die storm nie, want die geluid wat die wind maak laat haar dink aan die klanke wat haar ma uit haar fluit kon optower.

!X’uri word deel van Jana se lewe toe die tyd kom om haar ma te gaan soek. “!X’uri en Jana ontdek die veld deur die vyf sintuie en voltrek haar omskakeling na natuurkind met ’n klein Boesman-ritueel, waar die eerste lit van die pinkie afgekap word. !X’uri verduidelik vir Jana dat Boesman-babas op ’n jaar hul pinkielit opoffer sodat die kind nie doodgaan nie,” skryf Maryke Roberts in Vrouekeur van 15 Junie 2018.

Riana vertel aan Roberts dat die Boesmans, anders as ons, meer sensueel na die aarde kyk: “Met die afkap van haar pinkie se lit, word StormJana volledig ’n kind van die aarde.

Stormkind is die verhaal van twee dogtertjies wat dalk nie eens regtig bestaan nie. Ek het as kind ’n verbeeldingsmaatjie gehad. Jana is ’n wit dogtertjie met ’n bos rooi hare en ’n groot hartseer. Toe gee ek vir haar ’n Boesmandogtertjie as begeleiertjie. Ek hou van karakters wat vyf jaar oud is; hulle het nog nie binnestrukture nie.”

Dat sy hierdie spesifieke storie moes skryf, het met ’n draai by Riana uitgekom. Maryke Roberts skryf dat Riana eendag onder ’n “reuse-verknotte wilde olienhoutboom in die Wamakersvallei se skadu” gestaan het, toe iemand haar vertel dat dit is waar die jagters destyds vergader het, voor hulle op hul jagtogte om Boesmans te jag, vertrek het.

“Ek was geskok,” vertel Riana aan Roberts, “veral toe ek raaklees dat die laaste permit om Boesmans te jag, in 1924 uitgereik is. ’n Permit was tien sjielings per Boesman. Ons het almal ’n generiese kennis van die Boesmans, maar geen diepliggende verstaan nie. Kuns word nooit uit flou emosies gebore nie. Met Stormkind was dit die emosies van woede en afgryse en droefnis wat my beetgepak het toe ek meer van die Boesmans se geskiedenis te wete gekom het. Ek kan nie regmaak wat in die verlede gebeur het nie, maar ek kan – as kunstenaar – op ’n baie nederige manier iets van hierdie merkwaardige volk se kultuur probeer terugroep.

“Ek weet dit is gevaarlik in ons politieke bedeling om oor ander mense te skryf, maar ek wou nie oor my huidige realiteit – ’n vrou in haar vroeë sestigs – skryf nie. Ek wou ook nie oor die Boesmans skryf nie, maar ek wou hulle terugbring dat ons daaroor kan gesels. Toe skep ek ’n sprokieskarakter, ’n vyfjarige rooikopdogtertjie, want ek is gefassineer deur die psige van ’n kind.

“Ek het met verskeie nasate van die Boesmans gesels en eerstens by hulle uitgeklaar of hulle Khoi of San genoem wou wees. ‘Ons is Boesmans,’ was hul antwoord, daarom my keuse van woord.”

Riana het al ander boeke geskryf waarin die kultuur van Afrika as teenpool gesien kan word vir die Westerse kultuur, en hieroor vertel sy verder aan Maryke Roberts: “Die feit dat ons in ’n land met verskillende volke en kultuurgroepe woon, is vir my as skrywer ’n onmeetlike bron van inspirasie. Ja, natuurlik bring hierdie situasie konflik mee, maar geen groot kuns word uit oppervlakkighede (of flou emosies!) gebore nie. Kuns word uit spanning gebore.”

Sy het nie aanvanklik gedink dat daar in Stormkind verskillende kulture teen mekaar afgespeel word nie, maar dit het maar net so ontwikkel. “’n Resensent het onlangs die opmerking gemaak dat ek stemlose mense, randfigure, stem gee. Ek beskou dit as ’n enorme kompliment, maar ek beplan dit nie so nie.

“Dit is net asof hierdie stemlose karakters hulself in my lewe aanmeld. Met Stormkind wou ek magiese energie in ’n eenvoudige storie saambring, want ek was tegelykertyd gefassineerd met baie dinge: magiese realisme, natuurkragte, die geheimlewe van kinders, vergifnis – en dit alles in die styl van die sprokieverteller.”

Sedert sy en Jana en !X’uri so verbind geraak het aan mekaar, kyk Riana met ander oë na die veld. “Ek kyk fyner, ek luister meer bedag, ek leef versigtiger. Ek het 12 jaar lank aan hierdie boek geskryf – ’n leser het gesê dit is ’n hele skoolloopbaan. Ja, dit is, en ek het dalk meer in dié tyd as op skool geleer.”

Oor Stormkind skryf Francois Bekker in Beeld (12 Maart 2018): “Riana Scheepers is een van ons veelsydigste skrywers. Hierdie resensent assosieer Scheepers graag met ’n letterkunde wat vergete en selfs verstote Suid-Afrikaners met haar skryfwerk wil terugskryf sodat ons hulle nie slegs onthou nie, maar erken as deel van ons land en sy geskiedenis.

Stormkind is tegelykertyd ’n magiese raaisel-en-plaasroman wat boei en betower. Getrou aan die tradisie van die plaasroman wek die roman ’n gevoel van nostalgie by die leser. Dis ’n milieu waar familietradisie, aardsheid en die diep menslike by mekaar aansluit.

“Jana se soektog beur nie net vorentoe nie; die skrywer diep ook die familiegeskiedenis op. Wat uitkristalliseer, is die verhaal van vyf formidabele vroue wat bo die manlike karakters uittroon. Dit is vroue wat beheer neem oor hul leefwêreld. Letjie Stamboom wat vir Jana se ouma gewerk het, is een van die lieflikste karakters in hierdie storie. En soos toeka is dit nog altyd !X’uri wat haar verskyning maak om rigting aan te dui. Want wysheid oftewel intuïsie is ’n oeroue ding. (...)

“Stormkind is nie ’n tipiese wydopgesette roman nie. Stilisties lees baie van die hoofstukke soos vinjette wat sorg vir ’n vinnige en boeiende leestempo. Dit is ’n virtuose teks wat die leser onmiddellik by die verhaal intrek om nie te laat los tot by die laaste bladsy nie.

“Enersyds blom die verhaal in sy eenvoud. Andersyds skitter die woorde en beelde binne hierdie roman se magiese metafoor soos stukkies van sterre wat aarde toe geval het.”

Elbie Adendorff was die resensent van Stormkind op LitNet en sy sluit haar bespreking as volg af: “Die roman toon weer eens Scheepers se meesterlike en byna poëtiese taalgebruik: ‘nagloopkind’, ‘bloedrooi robyne’, ‘matjiesmure’, ‘sterklip’, ‘Die hele lug is vol musiek’ en ‘Die Melkweg lê in ’n dik roomstreep oor die lug’. Treffend is die stormbeeld wat ’n deurlopende motief word: die voorblad verbeeld ’n windverwaaide gesig; die plaas se naam is Stormkloof; daar is Kleinstorm en Oustorm en Stormjana; en tussendeur is daar alles wat met storms verband hou: weerlig, wind, donderweer. Die verhaal begin met ’n storm in Afrika en eindig met ’n storm in Ierland – dit verskaf ’n redelik sikliese verloop aan die roman.

“Die taalgebruik is so beeldend dat mens as leser die gebeure sintuiglik beleef: jy hoor en voel die wind wat verwoed waai; jy hoor en sien die weerligblitse; jy sien vir Tarsis wat ronddwaal in die nag; en jy sien vir Raka in Ierland. Die leser word magies ingesleep in die wonderwêreld wat Scheepers skep.

“In die roman kom intertekstualiteit voor: daar is verwysings na sprokiesverhale, byvoorbeeld: ‘Ek sal blaas en ek sal blaas tot ek jou huisie omblaas, grom die gruwelike wolf.’ Jana se hond se naam is Raka. Hy beskerm haar en pas haar op en volg Jana orals waar sy gaan – hy is selfs in Ierland om haar te beskerm toe sy haar ma in die stormweer gaan soek. Daar is verwysings na ’n Bruce Springsteen-liedjie en ’n tradisionele Ierse liedjie. Voor in die boek is ’n aanhaling uit DH Lawrence se gedig ‘Cypresses’ wat ook na die belangrike tema van voorvaarders en die geheimenisse van die lewe verwys.

“Scheepers het haar al bewys as ’n meesterskrywer van jeugverhale, kortverhale en volwasseneverhale. Sy stel in Stormkind nie teleur nie. Sy skryf toeganklik en oop vir die leser en neem ons op ’n magiese reis oor die landskappe van Afrika en Ierland.”

Op Kersdag 2018 is Riana se opdrag-Kersdrama, ’n Wonderwerk vir Kersfees, op RSG opgevoer en uitgesaai. Sy het dit lossies op ’n ware gebeurtenis gebaseer. Sarah, ’n weduwee, en haar gesin woon op ’n plot en maak ’n bestaan deur ’n klein boerdery en dít wat sy op die plot kan verbou en verkoop by haar padwinkeltjie. Hulle het net ’n bakkie as vervoermiddel. Eendag is daar ’n krisis en sy en haar gesin moet van die plaas af vlug. Op een of ander wonderbaarlike manier kry Sarah dit reg om die bakkie met haar huis se sleutel aan te skakel.

Riana vertel van die oorspronklike insident waarop sy die storie gebaseer het: “Dit het regtig so gebeur dat tannie Bettie Nysschen, ’n bekende en geliefde figuur van buite Wildernis, haar huisdeur se sleutel gebruik het om haar bakkie oop te sluit en weg te ry nadat haar huis aan die brand geslaan het. (Egter nie tydens Kersfees nie.) Die res van die gebeure en karakters is fiktief.”

Die regisseur, Johan Rademan, brei ook ’n bietjie verder uit: “Ná die geweldige brande wat Knysna en George aan die Tuinroete die afgelope twee jaar deurgemaak het, bring ons ook hulde aan die inwoners van die dorpe en omliggende dorpe wat met die volle omvang van die vreesaanjaende vure gekonfronteer is.

“Uit die as en roet van die dorpies het die lewe nuwe betekenis gekry en het baie mense als wat hul ooit gehad het verloor. Lewensverlies was aan die orde van die dag en daarom is die drama, nie net oor die Kersfeestema nie, maar ook in die brandseisoen in die Kaap, so gepas en aangrypend.

“Riana Scheepers vang die kleindorpse-karakters stewig vas en omskep hul tot die juwele wat hul is. Die akteurs het werk van hoogstaande gehalte gelewer en met Joanie Combrink (Sarah Barnard), Mariechen Vosloo (Marie Barnard), Dean Balie (Wilhelm Barnard), Anrich Herbst (Krisjan Maritz) en Rolanda Marais (Leentjie) het dit gevoel of ek met die A-span werk.”

In 2015 verhuis Riana en Johan na Wildernis in die Suid-Kaap waar Riana, benewens haar eie skryfwerk, nog steeds skryfkursusse aanbied en skrywers begelei.

Publikasies: 

Publikasie

Die ding in die vuur

Publikasiedatum

1990

ISBN

0798630658 (sb)

Uitgewer

Pretoria: HAUM-Literêr

Literêre vorm

Kortverhale

Pryse toegeken

  • ATKV-prys 1990  
  • FAK-ontspanningsprys 1991

Vertalings

  • Nederlands deur Riet de Jong-Goossens 1994 
  • Spaans

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Dulle Griet

Publikasiedatum

1991

ISBN

0624

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Kortverhale

Pryse toegeken

Eugène Marais-prys

Vertalings

Nederlands 1994

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

’n Huis met drie en ’n half stories

Publikasiedatum

1994

ISBN

0624 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Kortverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Nederlands as Onbevlekte ontvangenis 1995

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Haai, Katriena, wat vertel jy my nou!

Publikasiedatum

1994

ISBN

079932132X (sb)

Uitgewer

Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Kortverhale

Pryse toegeken

Rapportryers se erepenning

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Die heidendogters jubel

Publikasiedatum

1995

ISBN

0624033816 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Nederlands 1995

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Nou lieg jy mos, Katriena!

Publikasiedatum

1995

ISBN

079932230X (sb)

Uitgewer

Pretoria: Van der Walt

Literêre vorm

Sketse

Pryse toegeken

Rapportryers se erepenning

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Die verhouding tussen outobiografiese feit en fiksie in die kortverhaaloeuvre van Koos Prinsloo

Publikasiedatum

1997

ISBN

 (hb)

Uitgewer

Kaapstad: AW Scheepers

Literêre vorm

Doktorale tesis

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Katriena, néé

Publikasiedatum

  • 1998 
  • 2004

ISBN

  • 1919765018 (sb) 
  • 0799331988 (sb)

Uitgewer

  • Pretoria: Fundi Boeke
  • Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Sketse

Pryse toegeken

Rapportryers se erepenning

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Koos Prinsloo: die skrywer en sy geskryfdes

Publikasiedatum

1998

ISBN

0624036731 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Literêre kritiek

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Feeks

Publikasiedatum

  • 1999 
  • 2000

ISBN

0798139846 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Kortverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Nederlands 2000

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Blinde sambok

Publikasiedatum

  • 2001 
  • 2003
  • 2018

ISBN

0624039803 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Jeugverhaal

Pryse toegeken

ATKV-Kinderboekprys 10 tot 12 jaar 2003

Vertalings

Nederlands Scorpioenkind

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Met die taal van karmosyn

Publikasiedatum

2001

ISBN

0798142111 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Nederlands vertaal deur Jooris van Hulle 2003

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

My voete loop na Wellington: ’n rubriekkeur

Publikasiedatum

2003

ISBN

1869190319 (sb)

Uitgewer

Pretoria: Protea Boekhuis

Literêre vorm

Sketse

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

’n Engel in my huis: ’n rubriekkeur

Publikasiedatum

2005

ISBN

1869190912 (sb)

Uitgewer

Pretoria: Protea Boekhuis

Literêre vorm

Sketse

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Die avonture van Wilde Willemientjie

Publikasiedatum

2006

ISBN

0798146141 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Kinderboeke

Pryse toegeken

Kanna-prys as beste kinderproduksie in 2006 (Verhoogproduksie)

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Arboreta, die heks met die groen hare

Publikasiedatum

2008

ISBN

 9781869191467 (sb)

Uitgewer

Pretoria: Protea Boekhuis

Literêre vorm

Kinderboeke

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Die verdere avonture van Wilde Willemientjie

Publikasiedatum

2009

ISBN

9780624047346 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Prenteboeke

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Katvoet

Publikasiedatum

2009

ISBN

9780798151078 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Kortverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Katriena, vertel! Hartstories uit die kombuis (’n keur uit die vorige bundels + nuwe stories)

Publikasiedatum

2012

ISBN

9780799351699 (sb)

Uitgewer

Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Kortverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Die vrou in die vuur: ’n keur uit die verhale van Riana Scheepers, saamgestel deur Adriaan Meyer

Publikasiedatum

2012

ISBN

9780798158329 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Kortverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Purper en kaneel, komyn en smarag: die kleurvolle lewe van Hannetjie de Clerq

Publikasiedatum

2012

ISBN

9780799356489 (sb)

Uitgewer

Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Biografie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Vallei van melk en heuning

Publikasiedatum

2013

ISBN

9780799356472 (sb)

Uitgewer

Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Kookboek

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Smeul: drie vroue, een kombuis. Saam met Marietjie Koekemoer en Leonie Scholtz

Publikasiedatum

2017

ISBN

9780799382754 (sb)

Uitgewer

Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Kookboeke

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Stormkind

Publikasiedatum

2018

ISBN

9780624084303 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Jeugfiksie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Adendorff, Elbie: Stormkind deur Riana Scheepers: ’n resensie https://www.litnet.co.za/stormkind-deur-riana-scheepers-n-resensie

Bekker, Francois: Riana Scheepers boei https://www.pressreader.com/south-africa/beeld/20180312/281513636669852

Book chats with Salome: Stormkind deur Riana Scheepers https://w3b5ite.wixsite.com/bookchats/post/stormkind-deur-riana-scheepers

Green, Phyllis: Sprokiesverhaal ontsluit die magiese van die lewe https://www.netwerk24.com/Sarie/Myself/Boeke/sprokiesverhaal-ontsluit-die-magiese-van-die-lewe-20190611-2

Luisterboek: Stormkind deur Riana Scheepers https://www.netwerk24.com/Vermaak/Boeke/luisterboek-stormkind-deur-riana-scheepers-20190930

Pepler, Dave: US-Woordfees: Riana Scheepers - Stormkind https://www.facebook.com/NBPublishers/videos/us-woordfees-riana-scheepers-stormkind/10156094994985279

Stormkind – Riana Scheepers https://leeskring.wordpress.com/2018/05/31/stormkind-riana-scheepers

Stormkind by Riana Scheepers https://www.goodreads.com/book/show/39151596-stormkind

 

Riana Scheepers as samesteller
  • Dogters van Afrika: verhale oor Suid-Afrikaanse vroue. Kaapstad: Tafelberg, 1997 [ISBN 062403593X (sb)]; Nederlandse vertaling deur Riet de Jong-Goossens  
  • Treffertekste. Kaapstad: Maskew Miller Longman, 2000, 2002 [ISBN 9780636019461 (sb)] (2000-uitgawe saam met Viljoen; 2002-uitgawe saam met Daniel Hugo) 
  • Verstaan my verlangste100 liefdesgedichten in het Afrikaans. Saam met Jooris van Hulle. Davidsfonds Literair, 2003 [ISBN 9789063064754 (sb)] 
  • Verlore paradyse. Saam met Nico Snyman. Kaapstad: Maskew Miller Longman, 2006 [ISBN 9780636070516 (sb)] 
  • Die melkweg het ’n ster laat val; saamgestel deur Riana Scheepers en Nicci Thabo. Kaapstad: Human & Rousseau, 2006 [ISBN 9780798146883] (Spesiale prys van die Departement Landbou vir die kulturele bydrae wat dié publikasie in die landbougemeenskap gelewer het, 2006) 
  • Liebenberg, Danila: Riana Scheepers praat reguit
  • Marais, Willemien: Prettige uur met baie pitkos[verhoogproduksie] 
  • Pakendorf, Gunther: Herinnerings aan tyd op die plaas 
  • Van Taak, Sophia: Nostalgiese hunkering na geboortegrond 
  • Wybenga, Gretel: Nieskrywers sorg vir leesgenot 
  • Nuwe kinderverseboek; saamgestel saam met Suzette Kotzé-Myburgh. Kaapstad: Tafelberg, 2010 [ISBN 9780624046769 (sb)] 
  • Die Afrikaanse skryfgids; saam met Leti Kleyn. Johannesburg: Penguin, 2012 [ISBN 9780143530152 (sb)]
  • Spoorvat: Jeugherinneringe van Afrikaanse skrywers; saam met Leti Kleyn. Pretoria: LAPA, 2013 [ISBN 9780799360318 (sb)] 
  • Rympies vir pikkies en peuters; saam met Suzette Kotzé-Myburgh en Gertie Smit. Kaapstad: Tafelberg, 2015 [ISBN 9780624074281 (sb)] 
  • Rympies vir kleintjies en kleuters; saam met Suzette Kotzé-Myburgh en Gertie Smit. Kaapstad: Tafelberg, 2017 [ISBN 9780624081920 (sb)] 

’n Keur van biografiese artikels oor Riana Scheepers beskikbaar op die internet

  • Brand, Gerrit: Verhaal is deur na mens se hart
  • Diedericks, Erla-Mari: Riana kook met kombuistaal 
  • Keyser, Gawie: Scheepers maak vensters wyd oop vir Nederlandse lesers 
  • Lewende Legendes
  • Pople, Laetitia: Ek skryf oor wat my bang maak – Scheepers 
  • Pople, Laetitia: Ugogo begin Kaaps vertel 
  • Riana Scheepers – as mens
  • Verster, Francois: In creative company
  • Van Zyl, AJ: Die spanning tussen weerloosheid en weerbaarheid soos vergestalt in die vrouefigure van Riana Scheepers
  • Van Zyl, Johan: Skryfskool ontkiem in Riana se kop 

’n Keur van artikels deur Riana Scheepers beskikbaar op die internet

  • Brief aan mev RC Sempe: Herontplooiing van NALN se personeel 
  • Om Afrika te skryf. In Afrikaans. KKNK-rede
  • Publikasiedatum: 16 Januarie 2020

The post Riana Scheepers (1957–) appeared first on LitNet.


Press release: The Mother City Comedy Festival is back – bigger and better than ever

$
0
0

Following the wild success of the inaugural first year, the mother of all comedy festivals, the Mother City Comedy Festival returns by popular demand to the Baxter Studio Theatre from 11 to 29 February 2020.

With more than 45 comedians performing in 40 shows over three weeks, it’s even bigger and better than ever! 

Produced by Siv Ngesi, in collaboration with Taylor Made Productions, the Mother City Comedy Festival celebrates stand-up comedy in all its forms, presenting a full spectrum of different comedic styles.

From left: Yaseen Barnes, Angel Campey, Stuart Taylor and Dalin Oliver

With two shows daily, and three on weekends, the Festival will once again get audiences up close and personal with their favourite comedians while introducing them to some of the country’s most exciting upcoming talents. Comedy-lovers are spoilt for choice during this fabulous festival of funniness.

“We had such a phenomenal response to the first Festival, we’ve made the programme longer, bigger and even better,” says co-producer Siv Ngesi. “The Festival proved to be not only a great event for comedy connoisseurs to get their fix, but also a key platform for newer stars to have the opportunity to perform at a major Cape Town venue.”

“This year’s line-up features a diverse mix of performers from stalwarts of the comedy industry such as Nik Rabinowitz, Joey Rasdien and The Goliaths to rising stars such as Chantal Jax and Kate Pinchuck,” says co-producer Stuart Taylor.

“We’ve also extended the styles of comedy to include Afrikaans and Vernac shows, musical comedy with the Brothers Streep, live sketch comedy with online star Simon Orgill and the award winning Daniel Richards performing sketches by Mike Van Graan. We are also proud to feature Life Time Achievement winner, Soli Philander, as well as Pan-African comedy star, Long John the comedian.”

  • Tickets cost from R120 to R150. Bookings can be made at Webtickets www.webtickets.co.za or selected Pick n Pay stores. 
  • For discounted school or group block bookings, fundraisers or charities contact Carmen Kearns on 021 680 3993 or email her at carmen.kearns@uct.ac.za
  • For the full line up, visit: Facebook 
  • Join the conversation: Twitter: @mother_comedy / Instagram: @MotherCityComedyFestival

The post Press release: The <i>Mother City Comedy Festival</i> is back – bigger and better than ever appeared first on LitNet.

Dood by die doop en ander ontgroeningsverhale

$
0
0

Jaco Jacobs

Ontgroening. Oriëntering. Inisiasie. Insouting. Inlywing. Doop.

Noem dit wat jy wil. Die afgelope paar jaar was ek nogal, naïef genoeg, onder die indruk dat dié belaglike tradisie by skole en universiteite grotendeels stopgesit is nadat dit soveel keer onder die soeklig gekom het in die media; nadat soveel kinders en gesinne se lewe in die naam van “onskuldige pret” hel gemaak of verwoes is; nadat daar male sonder tal uit owerheidsgeledere druk uitgeoefen is om enige vorm van ontgroening by akademiese instellings te staak.

Maar selfs voordat die dood van ’n graadagtseun tydens ’n sogenaamde “oriënteringskamp” van Parktown Boys’ High vandeesmaand die kwessie opnuut op die voorgrond geplaas het, het ek weer al hoe meer begin hoor van sulke praktyke by skole.

En dit steek my dwars in die krop.

Die meeste mense wat ek ken, weet van ’n nare ontgroeningstorie of twee.

Ek het my skooljare in ’n klein Karooskooltjie deurgebring, waar ek in (die destydse) standerd ses relatief lig daarvan afgekom het. Ons moes ’n paar dae lank pouses gruisklippies laat “resies jaag” oor die die warm plaveisel met behulp van slegs ons neuse, hande agter ons rug gehou; elke seun moes “toutjie kou” met ’n meisie totdat julle lippe aan mekaar raak en ons moes elkeen vir ’n matrikulant van die teenoorgestelde geslag ’n hartstogtelike liefdesverklaring skryf en dit hardop voorlees. Afgesien van ’n bietjie skade aan my neus en ego, was ek oukei.

Die kinders wat in die koshuis was, het dit nie so maklik gehad nie.

Veral die seuns.

Daardie eerste ruk in standerd ses het van my klasmaats fluister-fluister kom vertel van die dinge wat gebeur saans as die ligte afgaan.

Ek vermoed die meeste Afrikaanse mans van my generasie ken sulke stories.

Stories oor kinders wat geslaan is – met lyfbande, met rottangs, met rugbystewels.

Stories oor seuns wie se geslagsdele met Deep Heat gesmeer is, of wat gedwing is om dit aan hulleself te doen.

Stories oor kinders wat nag ná nag uit die slaap gehou, gevloek, verkleineer en geterroriseer is; uit hulle beddens gesmyt en gedwing is om in die gange of storte te slaap.

Stories oor kinders wat gedwing is om allerhande vreeslike konkoksies te drink.

En kom ons wees eerlik: dit is nog lank nie eens die ontstellendste van die dinge wat tydens ontgroening in sommige skoolkoshuise gebeur het en waarskynlik steeds gebeur nie. Ek weet van ouens wat op skool veel, véél erger dinge moes deurmaak.

Maar dit word stilgehou.

In my studentejare het ek vryskutartikels vir ’n plaaslike koerant geskryf. Op ’n kol het die ma van ’n eerstejaarstudent my genader nadat hulle ten einde raad besluit het om hul seun uit die universiteitskoshuis te haal. Ek het saam met die seun en sy ouers gaan koffie drink. Hy het my vertel hoe hy nag ná nag aangerand en geteister en verkleineer is; hoe eerstejaars se kamerdeure deur dronk seniors afgeskop is en hulle afgedreig is om stil te bly. Sy ouers het vertel hoe magteloos hulle was om iets aan die saak te doen; oor skouers wat net opgetrek is as hulle kla. Ek, voortvarende, nat-agter-die-ore wannabe-verslaggewer, het ’n berig daaroor geskryf en dit aan die koerant voorgelê. Dit is nooit gepubliseer nie.

In ’n ander voorval het ek gesien hoe een van my pelle, ’n paar jaar jonger as ek, deur seniors in sy universiteitskoshuis met ’n stewel geslaan is tot hy pimpel en pers was. Hy was te bang om iets daaroor te sê. Stories oor “ontgroeningskampe” buite die stad waar studente gedwing is om te drink tot hulle bewusteloos is, en met krieketkolwe en ander voorwerpe geslaan is, was volop.

Waarom word hierdie dinge doodgeswyg?

Waarom laat ouers wat self deur hierdie soort hel is, toe dat hulle kinders in die naam van “tradisie” voortgaan om aan sulke praktyke blootgestel te word en dit op hul beurt weer aan ander te doen?

Waarom hou sommige skoolhoofde en beheerliggaamlede en onderwysers, wat van beter behoort te weet, hulle blind vir dié soort praktyke, of verdedig dit selfs aktief of vee dit onder die mat in?

Hoekom bestáán daar hoegenaamd nog in die jaar 2020 iets soos ontgroening?

By party skole, verneem ek, word daar deesdae eerder verwys na ’n “verwelkoming” vir die graadsesse, ’n gemoedelike, prettige bekendstelling aan die nuwe skool en sy waardes – en as dit so toegepas word, onder behoorlike, verantwoordelike volwasse toesig, is daar sekerlik nie fout daarmee te vind nie. Maar my gesonde verstand sê vir my geen “verwelkoming” behoort ’n kind op enige manier te verkleineer of ongemaklik of minderwaardig te laat voel nie. Geen “verwelkoming” behoort hom soos ’n “sot” te laat voel, sy menseregte aan te tas of hom te dwing om iets teen sy sin te doen nie. ’n “Verwelkoming” behoort ’n kind gerus te stel dat hy/sy in ’n nuwe skool veilig gaan wees en beskerm gaan word teen boelies; dit behoort nie sy/haar eerste kennismaking met en blootstelling aan daardie einste boelies te wees nie.

“Ek is destyds ontgroen, en ek het niks daarvan oorgekom nie,” is ’n argument wat baie mense opper. Of: “Ag, ek het op die ou end sterker ander kant uitgekom.”

Met alle respek, hierdie debat gaan nie oor jou nie. Dit gaan oor daardie kinders wat nié die vernedering en emosionele en fisieke teistering kan hanteer nie. Die kinders wat nié heel aan die ander kant uitkom nie.

Ek gee nie om of dit ’n “onskuldige” groentjiekamp is of ’n ontgroeningsweek waar ’n skool se graadsesse vriendelik verplig word om ’n paar nagte in die koshuis deur te bring nie. Ek gee nie om of dit seuns of meisies is nie. Ek gee nie om of dit deel is van ’n eeue oue skool- of koshuistradisie nie.

Te duiwel met tradisie.

Een kind se lewe, een kind se welstand, is belangriker as enige tradisie.

Jy laat eenvoudig nie kinders aan ander kinders se genade oor nie. Jy as verantwoordelike volwassene in wie se sorg kinders toevertrou is, skep nie doelbewus ’n gulde geleentheid vir boelies om te doen wat hulle die graagste doen nie. Jy laat nie toe dat kinders hoegenaamd verneder of verkleineer of aangerand word bloot – en veral nie – omdat hulle jonk en nuut in ’n skool is nie. Party sal dalk eendag om die braaivleisvure grappies daaroor maak. Vir ander laat dit lewenslange letsels.

En as jy as skoolhoof, onderwyser, beheerliggaamlid of ouer bewus is daarvan of vermoed dat hierdie soort praktyke by jou skool plaasvind, en nie bereid is om daarteen op te staan en jou stem dik te maak nie, is jy ook aandadig wanneer daar die dag iets gaan skeefloop.

The post Dood by die doop en ander ontgroeningsverhale appeared first on LitNet.

Hoop ten spyte van

$
0
0

Bettina Wyngaard

’n Week gelede het ek op Tafelberg gestaan.

Dis uitsig is iets ongeloofliks. See en berg met ’n arendsuitsig oor die stad self en Robbeneiland in die verte. Dis maklik om net die mooi te sien en te vergeet van die woelinge wat op die grond aangaan. Dis maklik om tussen toeriste te staan wat vertel van hul “safari” waarop hulle die middag gaan. Weliswaar net na Aquila, maar hul opgewondenheid steek aan. Dit help om die bekende deur ander se oë te ervaar. Maak nie saak hoe mooi of wonderlik enigiets is nie, word genoeg daaraan blootgestel en mens raak dit gewoond. Toe ek in die Kaap gebly het, het ek die eerste twee weke elke dag op my woonstel se balkon gesit en my vergaap aan die berg. Binne ’n maand het ek dit nie meer raakgesien nie. Dis daar. Dit was gister daar; dit sal môre weer daar wees.

Noudat ek op die platteland bly, probeer ek minstens een keer ’n jaar opgaan. Ek doen dit om myself te herinner aan alles wat mooi is in ons land. Waar anders kan mens binne die bestek van een dag berg, see, wingerde, wildsplase en wêreldgehalte restaurante besoek?

Dan kom daar die stormsterkte-winde, en die donderweer wat die elektrisiteit uitslaan. Tafelberg word gesluit. Geen kabelkarre gaan op nie, en klimmers word gewaarsku dat hulle eerder tuis moet bly. Video’s van die Kaapse Dokter wat motorfietse omwaai doen die rondes op sosiale media.

Dan word mens herinner aan Eskom se onvermoë om die basiese te doen. Ons was vir omtrent 22 uur sonder elektrisiteit. Dis ongerieflik, maar dis nie so erg nie. Eskom se foutaanmeldingsdiens kon nie die klagtevolumes hanteer nie. Ons het later maar moed opgegee en vertrou dat iemand sal agterkom ’n hele dorp is sonder krag. Tien minute nadat die kragtoevoer herstel is, kry ons ’n SMS van Eskom dat hulle bewus is van die fout en dit sal probeer herstel.

Intussen kry ons boodskappe dat die watertoevoer na die dorp onder druk is, dat daar pompe gebreek het, en dat ons water spaarsamig moet gebruik.

’n Dief word op heterdaad betrap in ’n gebied waar misdaad hoogty vier, en keelvol inwoners kap sy hand af. Twee vriende raak in ’n stryery oor dwelms betrokke, en steek mekaar met messe. Al twee sterf later aan hul wonde. Elke dag stroom groepe jong mans na een van die drie plaaslike skrootwerwe om hul gesteelde goed te verkwansel. ’n Persoon wat onder die invloed bestuur, ry vier mense om. Neem die polisie hom in hegtenis? Nee wat, dit was vier bergies wat omgery was. Niks ernstigs nie.

Die polisie besluit om ’n lasbrief uit te reik om ’n bepaalde eiendom te deursoek. Binne ure nadat dit besluit was, en voor die lasbrief uitgereik kan word, is daar intense aktiwiteit by die eiendom. Goed toegedraai in komberse word haastig weggery.

Hoe het die skelms geweet wat besluit is in ’n vergadering waar net polisiebeamptes teenwoordig was?

Wegholbrande woed vir dae, en die geluid van helikopters wat water aandra, raak deel van die daaglikse agtergrondmusiek. Die eerste stakings van 2020 begin, en die kanse dat die N2 gaan sluit, word by die oomblik groter.

En die stilte van die politieke leiers dawer.

Hierdie is ’n kykie in die lewe van een plattelandse dorp in die Overberg. Daar is niks merkwaardigs of spesiaal aan die dorp nie. Dis bloot waar ek bly. Daar is honderde soortgelyke dorpe in die land. In elkeen speel tonele soos hierdie af. In elke afsonderlike geval is dit seker nie so erg nie, maar die kumulatiewe effek is skrikwekkend.

Dan word dit moeilik om te onthou hoekom ons land wonderlik is. Die oorweldigende gevoel is dat ons op die rand van ’n afgrond staan. Dis net ’n kwessie van tyd voordat ons tuimel. Korrupsie, misdadigheid, inkompetentheid. Die trifekta van ons alledaagse realiteit in die meeste dorpe.

En die regering, op plaaslike, provinsiale en nasionale vlak, lyk nie of hulle die mas opkom nie.

Maar dan hoor mens fantastiese verhale van gewone dorpenaars wat skouer aan die wiel sit en self iets doen. Hulle het besluit hulle wag nie meer vir die politieke leiers om iets te doen nie, hulle doen dit self. Hier word slaggate reggemaak. Daar word ’n gemeenskapstuin aangeplant om honger aan te spreek. Op ’n ander plek begin gewone mense in hul skole programme om die kinders te help met maatskaplike probleme. Elders begin mense met ’n projek om hul dorp op te ruim en te verfraai.

Dink net, as elkeen wat ’n misdaad sien plaasvind, iets doen, sal misdadigers vinnig besef hulle moet ophou. Hulle maak staat op ons stilswyende medewerking.

As elkeen wat ’n stukkie rommel sien, dit optel en in ’n drom gooi, sal ons dorpe skoon wees. Nog beter, as elkeen kies om in die eerste plek nie rommel te strooi nie, sal ons dorpe skoon wees. As die gemeenskap saamstaan en protesteer by al die huise waar dwelms en drank onwettig verkoop word, sal die verkope vinnig ophou. As ouers ophou om hul kinders se skelmstreke weg te steek en goed te praat, gaan oneerlikheidsmisdade skerp afneem.

Ons moet ophou kyk na die regering om enigiets te doen. Dis gewone mense wat die verskil maak. Elkeen, maak nie saak hoeveel invloed jy het nie, kan ’n verskil maak. Die kumulatiewe effek van mense wat positiewe bydraes in hul onmiddellike omgewing maak, kan ’n hele dorp verander.

Dis wat my hier in 2020 hoop gee. Gewone mense, elkeen besig om net sy of haar stukkie aarde reg te trek. Saam.

The post Hoop ten spyte van appeared first on LitNet.

Resensie: Doodslied vir Duitsland deur Philip Kerr

$
0
0

Doodslied vir Duitsland
Philip Kerr (vertaal deur Zirk van den Berg)
Uitgewer: Jonathan Ball
ISBN: 978186842-8847

Nadat Kerr sy voltydse skryfloopbaan met March Violets, die eerste Bernie Günther-speurverhaal, in 1989 afgeskop het, het daar altesaam meer as 30 boeke uit sy pen gevloei. Hier sluit sy repertoire onder meer misdaadfiksie, historiese romans en kinderliteratuur in. Dit is egter steeds die Bernie Günther-speurreeks waarvoor lesers hom onthou en wat steeds as van sy mees geliefde en gerekende werke beskou word.

Die eerste drie verhale van die Bernie Günther-speurreeks is aanvanklik in Engels as March Violets (1989), The Pale Criminal (1990) en A German Requiem (1991) uitgegee. Lesers kon egter sedert 2018 Philip Kerr-speurplesier in Afrikaans geniet nadat Zirk van den Berg die eerste twee romans in Afrikaans vertaal het. In 2019 het Doodslied vir Duitsland (A German Requiem) op die hakke van sy twee vertaalde voorgangers gevolg. Saam vorm die drie genoemde romans die Berlin Noir-trilogie. Doodslied vir Duitsland is dan die laaste en finale deel van die Berlin Noir-trilogie.

Berlin Noir. Die leser besef vinnig waarom dié trilogie se naam so besonder gepas is. ’n Donker intrige, binne ’n swartgallige 1947-milieu, wag op die leser binne hierdie historiese speurverhaal.

Na die Tweede Wêreldoorlog word Berlyn as ’n sakesiklus van behoefte en gierigheid beskryf; nie die soort plek waar die gemiddelde mens homself wil bevind nie. Die siele wat hulself wel in Berlyn bevind, kan kies om op een van die volgende drie maniere hul brood te verdien: as spioen, as swartmarksmous, of as prostituut. Af en toe kom mens wel ’n uitsondering teë. Bernie Günther, privaat speurder, is een van hierdie uitsonderings.

Kerr-lesers is bekend met Bernie Günther – wel met ’n jonger en skraler weergawe wat laas in Doodsbleek, wat in 1939 afspeel, te siene was. Nou, agt jaar later, is dit 1947 en is Günther as privaat speurder weer in aanvraag. Hierdie keer word hy versoek om een van sy ou kennisse, Emil Becker, se onskuld te bewys. Hoewel laasgenoemde nie as ’n “kinderkranskindjie” beskryf word nie, is Becker hierdie keer regtig foutiewelik deur die militêre polisie in Wene in hegtenis geneem. Hy word van die moord op ene dr Linden aangekla – ’n misdaad wat tot sy teregstelling kan lei indien hy skuldig bevind sou word. Becker glo egter vas dat Günther sy onskuld kan bewys en bied hom in ruil hiervoor $5 000 aan. Gelukkig vir Becker glo Günther die beskuldigde se storie, wat oënskynlik so “geloofbaar sleg” vertoon, en hy stem in om die saak te ondersoek.

Aangesien Becker in Wene is en die moord ook hier plaasgevind het, vereis die ondersoek dat Günther na Wene reis. Na ’n paar jaar in die wrakstukke van ’n na-oorlogse Berlyn klink die ligte en vrolike Wene aanvanklik soos die ideale wegkomkans. Dit is wel slegs aanvanklik, want Günther word deurlopend nie deur die gemoedelikheid en landelike sjarme van Wene bekoor nie. Wene leer Günther tydens sy speurondersoek wel dat private speurwerk ’n gekompliseerde besigheid kan raak, dat lyne tussen reg en verkeerd kan versmelt en dat waarheid en leuen soms dieselfde begin lyk.

Na agt jaar kry die leser steeds met dieselfde siniese, sardoniese en sarkastiese Bernie Günther te doen. Sy kenmerkende droë humorsin is ook na agt jaar steeds stewig op sy ou plek vasgeanker. “Om inligting uit ’n tert te kry, is nooit maklik nie. Dit kan wees soos om ’n vloekwoord uit te non te kry” (263) is byvoorbeeld een van Günther se vele droë kwinkslae wat die leser sal geniet. Hoewel ouer en gryser het Günther steeds ’n “vrek goeie polisieman” gebly – ’n ironiese maar eerlike kompliment wat een van die grootste Nazi-oorlogsmisdadigers self vir Günther gee. Interessant genoeg skets Kerr wel Günther as ’n karakter wat ontuis in die rol van die tradisioneel-heldhaftige speurder sal voel. Nee, ’n engel- en kinderkransagtige speurder was en is Günther steeds nie in Doodslied vir Duitsland nie. Hiervan getuig sy vele rook- en drinksessies, sy erotiese slaapkamersessies (sonder sy vrou) en sy vermoë om belangrike inligting rakende sekere moordtonele vir sy vrou te verswyg.

In Kerr se eie woorde het hy Günther geskryf om juis as weerspieëling van sy eie donker kant te dien. Dis juis in hierdie opsig dat Kerr ook daarin slaag om Günther as veelvlakkige karakter en antiheld te skets. Aan die een kant weerspieël Günther se eie spoke, vrese en twyfel die neerdrukkende Duitse atmosfeer waar almal besig is om vir die land se vele ongestrafte sondes te ly. Terselfdertyd is Günther se gesonde strewe na reg en geregtigheid tog vir die leser ’n hoopvolle baken in ’n land wat duidelike en lelike oorlogletsels oorgehou het.

In die geheel gesien ontwikkel daar gemengde gevoelens teenoor die karakters in Doodslied vir Duitsland. Die skrywer skep geloofwaardige karakters wat in ’n Europese omgewing na die oorlog deurleef is – baie van hulle (oënskynlik) deur die omgewing opgebruik. In hierdie opsig kry die leser wel met fassinerende karakters te doen wat meer moes doen as leef. Oorleef was belangriker. Verder gebruik Kerr ook effektiewe en kragtige beskrywings om werklik vreesaanjaende karakters te skep – karakters wat met hul “los glimlagte, koue en swart gevriesde oë” jou as leser laat ys. Hier was die beskrywing van ’n weersinwekkende karakter met sy glimlag wat herinner aan die “kleur en vorm van ’n geroeste kraan” (295) ook verrassend treffend.

Aan die ander kant sou ek graag deurlopend nader aan die karakters in die roman wou voel. Soms het ek (vreemd genoeg) op ’n afstand van die karakters gevoel wat empatie op plekke bemoeilik het. Kerr werk deur die loop van die verhaal spaarsamig met details wat werklik ’n intieme blik op die karakters se psige en denke bied. Dit wil nie sê dat ’n dieperliggende perspektief op karakters se psige in die geheel ontbreek nie, maar dat Kerr wel versigtig hiermee werk. Terugskouend is Kerr se spaarsamigheid egter geslaagd, omdat hy nooit sy karakters op ’n sensasionele manier aan die leser “verkoop” nie.

Wat karakterverhoudings in die roman betref, sal die leser ook die interessante dinamiek geniet wat tussen tradisioneel “goeie” en “bose” karakters heers. Hier dien die onkonvensionele verhouding tussen Günther en Nebe (alias Alfred Nolde) as voorbeeld. Die onkonvensionele aard van hul verhouding sorg dan ook vir ’n onverwagte en onvoorspelbare kinkel of twee ...

Betreffende die oorlogmilieu was dit interessant om te sien hoe behendig Kerr die milieu personifieer. So word daar byvoorbeeld beskryf hoe die nag die verrigtinge met “donker gevoelloosheid” (276) dophou wanneer Günther homself in ’n lewensgevaarlike situasie nader aan die einde van die roman bevind.

Die skril, ooglopende kontras tussen Wene en Berlyn was ook reeds vanaf die intrapslag vir my fassinerend – die verwonde Berlyn teenoor Wene se knus gemoedelikheid. As buitestaander is dit wel geloofwaardig dat Günther die vermoë toon om die stad deur ander oë as sy inwoners te beleef. Hy is nie beïndruk met Wene se stroperigheid wat aan die onderkant van die stad se sjarmante fasade weggesteek is nie. Dit is ook insiggewend wanneer hy opmerk dat Wene se argitektuur en sy mense ’n belangrike ooreenkoms deel – beide is goed met fronte voorhou (53). Hier is die implikasie dat die leser nie die waarheid op die oppervlak (ook binne die speurkonteks van die roman) sal vind nie. Die milieu se vermoë om die leser subtiel hieraan te herinner word oortuigend deur Günther se skerp waarnemings vasgevang.

Dit is reeds vroeg duidelik dat Günther nie doekies omdraai met wat hy wel in ’n gekwetste Duitsland waarneem nie. Kerr se vermoë om wêreldbooshede outentiek oop te vlek, is dikwels sigbaar. Deur die speurder se oë beleef die leser bandelose immoraliteit (meisies word selfs op ’n punt met konyne vergelyk) en die blootstelling aan brutaliteit en wreedheid is nêrens sagkens uitgebeeld nie. Op sommige plekke is die blootstelling so tasbaar ontstellend dat die leser maklik afgestoot kan word. Ter illustrasie hier is die walgende toneel waartydens Günther met ’n vrou kennismaak wat fungus van die muur aftrek om dit te eet. Hiertydens sê sy dat hulle nie honger lei nie, want die Here voorsien. Die rou maar eerlike perspektief waarop Kerr die leed van Europa hier ten toon stel getuig van bedrewe skryfvernuf.

In die roman word die fiktiewe (Günther se speursaak) dus vervleg met ’n ontnugterende na-oorlogse (nie-fiksionele) realiteit. Die slim manier waarop die vervlegting plaasvind onderskei Doodslied vir Duitsland van die gemiddelde speurroman.

In die geheel gesien is Doodslied vir Duitsland ’n genotvolle roman. Kerr weef die drade van die intrige bevredigend saam om aan die einde vir ’n interessante verassing of twee te sorg. Kerr wys deurlopend dat hy weet hoe om ’n vindingryke intrige te bou waar die haarfyn spanningslyn die leser deurentyd op sy tone hou. Die roman bied ook waardevolle sosiale kommentaar wat deur Günther as hardebaardspeurder gelewer word. Dit is ’n roman wat temas soos kollektiewe skuld, die mens se oorlewingsdrang en selfbehoud (teen watter koste?) op ’n fassinerende manier verken. Sodoende word die leser met waardevolle stof tot nadenke gelaat. Na die lees van die roman kon ek verstaan waarom Bernie Günther nog altyd by sy lesers in aanvraag was.

Ek sal nie Doodslied vir Duitsland onthou weens die kortstondige opwelling van adrenalien tydens die onthulling van die skuldige(s) nie. Miskien eerder wel vir die ru beeld op wreedheid, of die manier waarop hy dit regkry om ’n ontnugterende na-oorlogse realiteit met die fiksionele te vervleg. Dít onderskei Doodslied vir Duitsland van die gemiddelde speurroman.

Die roman word nie vir lesers aanbeveel wat liggewig speurverhale op die rusbank geniet nie. ’n Leser wat waardering toon vir droë humor, slim speurwerk, goed nagevorste feite en wat lief is vir ruimtes buite sy gemaksone sal by hierdie roman kan aanklank vind.

Lees ook:

Philip Kerr se Hans-Nazi’s is donker Berlynse noir

The post Resensie: <em>Doodslied vir Duitsland</em> deur Philip Kerr appeared first on LitNet.

Resensie: Suiker Britz – Dossier van 'n speurbaas deur Anemari Jansen en Stefaans Coetzee

$
0
0

Suiker Britz – Dossier van 'n speurbaas
Anemari Jansen en Stefaans Coetzee
Uitgewer: Penguin
ISBN: 9781776094707

Suiker Britz was byna net so 'n groot legende in die polisie as wat Piet Byleveld was. Hy het 'n luisterryke en opwindende loopbaan as polisieman, speurder en hoof van die polisie se moord-en-roof-eenheid gehad. Suiker was by van die opspraakwekkendste sake in Suid-Afrika se misdaadgeskiedenis betrokke. Talle kollegas en joernaliste sal hom as 'n regte “ouskool polisieman” onthou – 'n polisieman in murg en been.

Hierdie boek neem mens ver terug na gevalle wat dekades gelede koerantopskrifte oorheers het, soos die Kerkstraat-bomontploffing en die ondersoeke na van Suid-Afrika se berugste misdadigers, soos Dirk Coetsee, André Stander, Die Wit Wolf Barend Strydom, die berugte pedofiel Gert van Rooyen en die gehate Dirk Prinsloo. Dis natuurlik krimi- of misdaadreeksverslaafdes se kos!

Die hartseerste was die sake waarin hy sy eie vriende en kollegas in die polisie se misdade moes ondersoek. Dit kon nie vir hom maklik gewees het nie, maar dit was sy werk.

In ondersoeke na die sake waarin kollegas van moord aangekla is, het Suiker aan die media vertel dat hy hoop dat hy nooit weer met sulke sake te doen sal kry nie.

Die grootste deel van die boek word in koerantverslaggewerstyl geskryf. Feitelik. Mens sou graag meer oor Suiker, die onverskrokke polisieman, as mens wou lees soos wat daar vernuftig in die inleiding geskryf is. Daar word heelwat afleidings gemaak oor wat Suiker byvoorbeeld oor 'n spesifieke saak moes gedink het, en die dialoog is soms skraps. Mens het egter begrip daarvoor dat die onderhoude vir die boek 'n jaar voor Suiker se selfdood in 2018 gevoer is toe hy reeds baie moeg en siek was. In van die hoofstukke vertolk hy nogal 'n groot rol as dienaar van die gereg, maar in ander word daar skaars na hom verwys – so asof sy teenwoordigheid 'n toevalligheid was.

Dalk het mens iets meer outobiografies verwag, 'n boek met meer persoonlike gegewens, maar nou ja, die titel dui immers daarop dat dit oor die dossier van 'n speurbaas handel. En hier het die skrywers goed daarin geslaag om die verhale op te diep. Hulle het van talle bronne, meestal mediaberigte, gebruik gemaak en het ook toegang tot Suiker se waardevolle argief met plakboeke en persoonlike aantekeninge gehad waarop hulle moes staatmaak.

By koerante word egter altyd gesê: “Human interest verkoop.” Daar is wel interessante gegewens oor Suiker se streng opvoeding en hoe sy “gatvelle gewaai het” as die tuinwerk nie op datum was nie. Sy grootwordjare was inderdaad in die era van “'n Pak op sy tyd is soos brood en konfyt.” Reeds toe al het sy vasberadenheid of hardkoppigheid na vore gekom, soos toe die hoof hom ses houe gegee het en hom daarna gevra het hoe dit was, waarop hy ewe hardekwas geantwoord het: “Gee my nog ses.” Al was dit 'n geval van “My gat brand soos vuur.”

Lekkerleesdele is waar vertel word hoe reeds hy op 16-jarige ouderdom in die sestigerjare, gedurende die era van “ducktails en Brylcreem”, polisiekollege toe is. As hy kon, het hy opgemerk, sou hy reeds op tienjarige ouderdom 'n speurder geword het. Hy moes aan adrenalienverslawing gely het, want hy het vertel dat hy aan die einde van sy loopbaan honderde dae se opgehoopte verlof gehad het. Hy wou nie met vakansie gaan nie, want hy was te bang dat hy iets misloop.

Die inleiding is vir my een van die interessantste hoofstukke in die boek. So het hy vertel dat hy gedurende sy loopbaan daarin geslaag het om 69 moordsake op te los waar die oortreders “na die hangpaal gestuur is”.

Die hoofstuk oor die moordbendes, getiteld “Vlakplaas se sweepklappers”, behoort baie mense se belangstelling te prikkel, maar daar is min verwysings na Suiker self.

In die hoofstuk getiteld “Die hondeman wat 'n moordbendelid en bevelvoerder van Vlakplaas geword het” maak mens kennis met Dirk Coetzee. Suiker vertel dat Dirk niks van hom gehou het nie. Hy skryf byvoorbeeld in sy kantlynaantekening dat die brand van lyke Coetzee se modus operandi geword het

Insiggewend is die feit dat die macho Suiker nie net 'n gedugte speurder was nie. Hy het ook empatie gehad, wat blyk uit die hoofstuk getiteld “Die seun met die satansmerk”. Hy het sy sesde sintuig gevolg met Natie Chinner, die hoërskoolseun wat sekere beserings self aan sy liggaam toegedien het omdat hy 'n gehoor wou gehad het. Suiker het die seun se ouerhuis besoek en besef dat daar huismoles was. Hy het na die seun uitgereik en soos 'n vaderfiguur vir die seun geword. Jare later was die einste kind 'n advokaat.

Adrenalienbelaaide inligting word verskaf in die storie oor hoe Suiker vir André Stander gejag het. Vir hom het hy ook goed geken, want hulle het saam 'n dwelmkursus bygewoon. Soos wat die geval met talle skelms is, was André glo “‘n vreeslike aangename ou”.

Nou ja, pas maar op as iemand te sjarmant is. Die tronk loop oor van hulle. Daar word gesuggereer dat die feit dat Stander se mooi vrou hom 'n fortuin gekos het, dalk 'n motivering vir sy rooftogte was. Interessante afleiding, want dis iets wat mens dikwels by vroue sien wat weens bedrog aangekla word. Hulle pleeg misdade om hul geliefdes te bederf en te behou.

Mens lees ook met groot aandag die inligting oor die pad wat Suiker met Micki Pistorius geloop het. Suiker beskryf haar as  “'n flippen maergat meisiekind wat soos 'n spataar lyk”. In een van haar boeke beskryf sy hom weer as “'n kort oorgewig man, met 'n welige snor en wakker blou oë en 'n opregte glimlag”. Dit is duidelik dat daar groot wedersydse respek en bewondering was.

Dis egter vreemd dat Suiker tjoepstil oor Gert van Rooyen was. Hierdie hoofstuk laat meer vrae as antwoorde. Hy het Gert egter in suiwer, onverdunde polisietaal gewaarsku hoe hulle hom gaan opfoeter as hy nie die kinders uitlos nie. Daar word bespiegel dat Suiker uiters gefrustreerd was oor die feit dat hy die ouers se lyding dekades lank na die ses meisies se verdwyning moes aanskou. Dalk was dit waarom hy nie graag oor die saak gepraat het nie? Daaroor kan mens egter net wonder. Mens sou verkies dat hy spraaksamer daaroor sou gewees het.

Suiker is baie meer uitgesproke oor Dirk Prinsloo en vertel dat hy die man nooit vertrou het nie. Sy speurderinstink het hom van die begin af vertel hy is “skelm” nadat hy by Suiker Britz Consultants aangeklop het nadat Suiker die polisiediens verlaat het. Die arrogante Dirk het hom so kwaad gemaak dat hy hom in sy kanon in gestuur het.

Suiker word nie net as 'n held opgehemel nie. Die skrywers bespiegel ook oor sy menslike swakhede. Vrae oor hom word gevra, soos die feit dat hy ondanks die selferkende moordenaars se verklarings nie daarin kon slaag om die moord op Griffiths Mxenge vir die Harms-kommissie op te los nie. Reguit vrae soos: “Waarom nie? Is daar van Britz ook verwag om die saak onder die mat te vee?”

Hulle meen dis 'n ope vraag of hy aan die toesmeerdery van polisiekriminaliteit aandadig was. Was dit 'n geval van polisielojaliteit? Dit is dalk dinge wat lesers nie wil lees nie, want vir talle was Suiker 'n held. En helde mag nie voete van klei hê nie. Tog is dit nodig om ter wille van objektiwiteit eerlik oor sulke aspekte te skryf.

Suiker word dus nie altyd as 'n engel uitgebeeld nie, want baie vrae, soos oor sy werksmetodes en motiewe, word gevra, omdat hy volgens Dirk Coetzee lojaal teenoor die apartheidbestel was. Nie dat 'n misdadiger se naam altyd heel bo op die integriteitslys pryk nie. Daar is glo selfs in 'n stadium 'n ondersoek deur die destydse minister, Sydney Mufamadi, gelas na Suiker se gebrek aan sukses in die hantering van polities-verwante sake. Sy gewone misdaadondersoeke was veel suksesvoller as sake waar politieke moorde ter sprake was, word geskryf. In teenstelling daarmee word dan weer vertel dat die kleur van die slagoffers vir hom nie saak gemaak het nie. Daar word ook geskryf dat dit hom destyds in die krop moes gesteek het dat sy speurwerk deur die apartheidsregering se politieke agenda gedwarsboom is. Was hy dus werklik lojaal teenoor die apartheidsregering, of het hy maar onder dwang sekere sake onder die mat gevee? wil die skrywers weet. En hoe objektief kan jy wees as jy vriende en kollegas moet aankeer?

Baie van die inligting in die boek sou boeiender gewees het indien die skrywers meer diepgaande onderhoude met Suiker kon gevoer het, maar mens het begrip daarvoor dat dit helaas nie moontlik was nie. Dit is jammer dat die tydsberekening dalk nie heeltemal reg was nie.

Ek sou die boek nogtans vir krimilesers aanbeveel – veral diegene wat in ons misdaadgeskiedenis belangstel. Ek is bly ek het dit raakgelees.

Lees ook:

Skrywersonderhoud oor Suiker Britz: dossier van ’n speurbaas

The post Resensie: <em>Suiker Britz – Dossier van 'n speurbaas</em> deur Anemari Jansen en Stefaans Coetzee appeared first on LitNet.

Viewing all 21832 articles
Browse latest View live


<script src="https://jsc.adskeeper.com/r/s/rssing.com.1596347.js" async> </script>